S.P. Engelbrecht, D.D., en I.D. Bosman, M.A., D. Litt.
In die begin van die sewentigerjare was Groot-Brittanje veel meer in staat om aandag te skenk aan gebeurtenisse oorsee en in besonder aan sy koloniale ryk in Afrika. Die verswakking van Frankryk deur die opkoms van Duitsland het beteken dat Brittanje ten minste tydelik van ‘n gevaarlike mededinger ontslae was, terwyl Duitsland ten minste gedurende die volgende dekad geen konkurrent was nie.
Nuwe Britse imperialisme
Dit het die voorwaarde geskep vir ‘n nuwe Britse imperialisme wat byna ongehinderd kon ontplooi en in skerpe reaksie tot die ou liberale “laat-maar-vaar-beleid” gestaan het. Die tyd van die Manchester-skool was verby, en hoewel die Liberale Party nie so ver gegaan het as die Manchester-skool nie, het Disraeli in 1872 in ‘n rede die Liberale oor hul beleid t.o.v. Engeland se koloniale ryk aangeval. Hy het hulle beskuldig van ‘n poging om die Britse Ryk af te takel. Maar, het hy gesê, dit het misluk. Hoekom?
Alleen deur die simpatie van die kolonies vir die moederland. Die kolonies het beslis dat die Ryk nie vernietig sou word nie. Elke minister versuim sy plig as hy nalaat om die Britse koloniale ryk op te bou “and of responding to those distant simpathies which may become the source of incalculable strength and happiness to this land”.(1) Disraeli se woorde het ingeslaan.
(1)Selected Speeches of the Earl of Beaconsfield
Die Gladstone-bewind het ná 1870 nie meer sterk gestaan nie. Met gebruikmaking van die verwarring wat die Frans-Duitse Oorlog geskep het, het Rusland eensydig die Traktaat van Parys (1856) m.b.t. die demilitarisasie van die Swart See opgesê. Op die Konferensie van Londen is dit daarby gelaat. Eweneens het Engeland aan die Verenigde State van Amerika toegegee in die Alabama-geskil.
Dergelike toegewings het Engeland se prestige laat daal. In Februarie 1874 is ‘n algemene verkiesing gehou en die Konserwatiewe onder Disraeli het met ‘n sterk meerderheid die bewind oorgeneem. Lord Carnarvon was sy minister van kolonies. Hy was goed onderleg in koloniale sake. Die Federasie van Kanada in 1867 het hy voltooi. Vir die Suid-Afrikaanse geweste het hy ‘n soortgelyke nouer aaneensluiting beoog, maar hier sou sy federasieplan die wind van voor kry.
Verantwoordelike bestuur in Kaapkolonie
In 1872 het die Kaapkolonie verantwoordelike bestuur gekry. Die nuwe grondwet het voorsiening gemaak vir ‘n verkose parlement van twee Huise, nl. die Wetgewende Raad en die Wetgewende Vergadering met ‘n kabinet daaraan verantwoordelik volgens Britse model. John Molteno het Eerste Minister geword en hy was vasbeslote om die selfbeskikkingsreg van die kolonie oor sy binnelandse aangeleenthede ten volle te handhaaf. Juis hierdie standpunt sou hom in botsing bring met die Britse departement van kolonies en meer bepaald met Carnarvon oor sy federasieplan.
In dieselfde jaar het Thomas François Burgers President van die Suid-Afrikaanse Republiek geword. Geen staatshoof in Suid-Afrika het ooit in moeiliker omstandighede sy taak aanvaar nie. In die land self het hy die volle vertroue van die oorgote meerderheid van die bevolking geniet. Hy was vol ideale, maar hy het veel teen hom gehad om hierdie ideale te verwesenlik.
As predikant van Hanover in die Kaapkolonie was hy met bepaalde kerkbesture, Sinode en Ring, in botsing, en hy was verplig om vir beskerming van sy regte na die burgerlike regbank te gaan. Hy het die sake gewen – een daarvan het selfs tot voor die Geheime Raad in Londen gedien.
In Transvaal was die toestande allesbehalwe rooskleurig. Die Keate-uitspraak het verwarring in die land gebring, terwyl die finansiële toestand van die staat uiters sleg was en op ekonomiese gebied was min vooruitsigte op verbetering. Die toestand van die onderwys was agterlik. Eenheid was daar nie onder die bevolking nie.
Hier het bygekom dat Engeland daaraan begin dink het om Tansvaal, so nie onder Britse gesag nie, dan tog wel binne die Britse invloedsfeer te bring, maar vir die verwesenliking hiervan was Burgers ‘n struikelblok. Hy was energiek en ‘n idealis en as hy sy planne sou deurvoer, sou dit beteken dat Transvaal sterker sou word en van Engeland sou wegdryf i.p.v. onder die Britse invloedsfeer te kom. Van Engelse kant moes uit die aard van die saak alles gedoen word om Burgers se planne te laat misluk. Die Lydenburgse goudvelde het sedert 1873 ‘n stroom van avonturiers na Transvaal gelok. Dit was die eerste uitlander-element wat ter wille van eiebelang hulp van buite wou inroep om die gesag van die staat te fnuik.
Die ontdekking van diamante het die aandag van die wêreld, en van Brittanje in die besonder, op die Suid-Afrikaanse binneland gevestig, en met die Keate-uitspraak het die wedloop tussen Transvaal en Engeland begin. Dit het gegaan oor niks minder nie as die vraag of die Republiek ‘n selfstandige Afrikaanse staat sou bly en of dit sou opgaan in ‘n groter Britse geheel. Die uitslag van hierdie wedloop sou vanself die verdere lotgevalle van die Oranje-Vrystaat bepaal.
In die noorde van Afrika het die besit van ‘n groot deel van die aandele in die Suez-kanaal die Britse invloedsfeer gevestig, en in die suide sou ‘n absorpsie van die twee Boere-republieke nuwe moontlikhede open. Eindelik sou noord en suid mekaar ontmoet en daarmee die geweldige Afrikaanse vasteland onder Britse beheer staan met onmeetlike rykdomme daarby.(2) Die inlywing van Transvaal met sy groot potensiële rykdomme, en straks van die Vrystaat, het op die program gestaan. ‘n Federasie van Suid-Afrikaanse gebiede moes in die lewe geroep word.
(2)Vgl. i.v.m. die eksploitasie van Afrika Het Afrika-Vraagstuk, deur prof. Dr. C.M. Kan, 1909
Burgers vs. Barkly
Die werktuig van Carnarvon in Suid-Afrika was sir Henry Barkly, van 1870 tot 1876 Hoë Kommissaris van Brits-Suid-Afrika. In Suid-Afrika sou Barkly en Burgers teenoor mekaar staan. Albei wou ‘n verenigde Suid-Afrika hê wat Engels sou wees en onderworpe aan Engeland, terwyl Burgers ‘n verenigde Afrikaanse republiek met ‘n eie vlag beoog het. Barkly en Burgrs was die draers van twee uiteenlopende ideale. Die twee ideale het vir die eerste keer gebots toe Burgers kort ná sy inswering as president vir staatsake in Kaapstad moes wees en sy besoek was by sir Henry Barkly. By sy afskeid het Barkly gesê: “I shall be most happy to assist you in bringing about your idea of a United South Africa”, waarop Burgers diplomaties geantwoord het dat hy alle vertroue in ‘n humane politiek stel, waardeur alle geskille vir goed sou verdwyn.
Stryd teen die Keate-uitspraak
Die begin van die stryd ná die Keate-uitspraak was ‘n stryd met die pen. Burgers het begin om ‘n studie te maak van die geskiedenis van die betwiste gebied en het op 27 Desember 1873 ‘n sterk bewoorde skrywe daaroor tot Barkly gerig. Op 31 Augustus 1874 het hy weer ‘n uitvoerige dépêche tot Barkly gerig. Dit was so vernietigend dat al wat Barkly kon doen, was om die aftog te blaas. Hy het op 22 September geskryf dat hy geen tyd gehad het om op die dik brief van Burgers in te gaan nie en daarom die hele saak na Richard Southey, luitenant-goewerneur van Griekwaland-Wes, verwys, waarmee dit doodgeloop het. Die Keate-uitspraak is dan ook nooit toegepas nie.
Die Transvaalse regering het met al die groot Bantoekapteins aktes van territoriale sessie gesluit, en in die gebied wat die uitspraak aan die Republiek wou ontneem, jurisdiksie bly uitoefen asof daar nooiot so ‘n uitspraak was nie. Southey het as luitenant-goewerneur van Griekwaland-Wes die onderkapteins teen die groot kapteins opgesteek. Dit het baie moeilikhede veroorsaak, maar die Bantoes het meer en meer besef dat die hele agitasie van Engelse kant i.v.m. daardie gebiede nie was om dit onder hul beheer te laat nie en dat die Keate-uitspraak aan hulle geen reg laat geskied het nie. Daarom het hulle later verkies om liewer onder die beskerming van die Republiek te staan.
Die Transvaalse regering het dus die oorwinning behaal, maar dit is die vraag of hierdie oorwinning, wat van die goeie reg van die Republiek getuig het, nie ‘n faktor was wat Engeland beweeg het om langs ‘n ander weg, minder tasbaar met alle regverdigheid in stryd, die onafhanklikheid van die Republiek te vernietig nie, waardeur dus die anneksasie-planne verhaas is. Om die komende storm af te weer, wou Burgers die binnelandse toestande verbeter deur die finansiële sake op ‘n gesonde grondslag te plaas en die land sodoende ekonomies sterk te maak, en daarmee ook onafhanklik. Hy kon dit alleen doen as daar ‘n goeie handelsverkeer met die buiteland was, terwyl dit alleen weer moontlik was as die land d.m.v. ‘n eie spoorweg met ‘n nie-Britse seehawe verbond was.
Burgers se geldelike beleid
Een van die swakste punte in die Republiek was die treurige toestand van die geldsake. Dit was een van die eerste aangeleenthede wat aangepak moes word as die President sy planne wou laat slaag. Daar was geen geld in die land nie en die Republiek het geen krediet gehad nie. In 1857 was daar al sprake om papiergeld uit te gee, maar so ver het dit nie gekom nie. Die regering het sy toevlug geneem tot die uitreiking van mandate – d.i. skuldbewyse. In 1864 was daar nie slegs baie in omloop nie, maar dit was nie eens bekend hoeveel dit bedra het nie, want in die jare 1862 tot 1864, ‘n tyd van verwarring op staatkundige gebied, is daar nie behoorlik boekgehou nie.
Toe Pretorius in 1864 weer president word, nadat in die voorafgaande twee jaar feitlik niemand aan die bewind was nie, het hy bekend gemaak dat die houers van die mandate hulle by die regering moes aanmeld, sodat vasgestel kon word hoe goot die staatskuld was. Die Volksraad het besluit dat al die mandate wat voor 5 Desember 1863 uitgereik was, aan die landdroste bekend gemaak moes word, anders sou dit veral. Die groot moeilikheid met die mandate was dat dit nie geldig was as ruilmiddel nie en dat net die staat dit kon aanneem.
In 1865 het die Volksraad definitief besluit dat ná 1 September van daardie jaar geen mandate meer uitgereik sou word nie. ‘n Kommissie is aangestel wat moes probeer vasstel hoe groot die skuld van die land was, maar in 1866 kon hierdie kommissie nog geen verslag uitbring nie.
In 1865 het die amptenare geweier om hul salarisse in mandate te ontvang, want hulle kon daar niks mee doen nie. Die Volksraad het toe die regering gemagtig om papiergeld tot ‘n bedrag van 140 000 riksdaalders uit te gee. Aangesien die gebruik van riksdaalders buite die grense moeilikhede meegebring het, is in 1866 besluit om dit deur pontnote tot ‘n waarde van £12 000 (R24 000) te vervang. Die buitelandse handelaars het geweier om hierdie note as betaalmiddel aan te neem, en die binnelandse handelaars het hul pryse verdubbel. In 1867 is meer note ter waarde van R40 000 uitgereik.
In dieselfde jaar het die Volksraad bevind dat die Tesourier-generaal nie boekgehou het i.v.m. die beheer van die landsgeld nie! Ook het pres. Pretorius R2 740 meer aan papiergeld laat uitreik as wat die Volksraad toegestaan het. Dit het ‘n storm in die Volksraad veroorsaak, wat egter weer besweer is. Daarop is besluit om ‘n verdere uitgifte van R92 000 aan papiergeld te doen. Geen wonder dat pres. Pretorius in sy Aanspraak by die opening van die Volksraad in 1868 gekla het dat daar ‘n “gebrek aan vertroue in die regering” was nie. Hy het gevoel dat die uitgifte van note noodlottig was en het daarom aan die hand gegee om die verpande plase geleidelik te verkoop en die note omet die opbrengs in te wissel.
Pretorius het in 1871 ten gevolge van die Keate-uitspraak bedank en D.J. Erasmus het as fungerende president opgetree totdat die nuwe president, T.F. Burgers, gekies is. Hierdie fungerende president het in sy Aanspraak by die opening van die Volksraad in 1872 die hoop uitgespreek dat die note deur ‘n lening van klinkende munt vervang kon word, want die regering het steeds van sy beste amptenare verloor en moes dubbel soveel as die normale pryse vir sy behoeftes betaal, wat tot groot nadeel van die land gestrek het.
Papiergeld ingewissel
Toe Burgers aan die bewind kom, was hy vasbeslote om hierdie toestand te beëindig, want hy het alte goed besef dat hy niks van sy voorgenome planne om die land teenoor Engelse anneksasieplanne sterk te maak, sou kan uitvoer as die finansies in so ‘n erbarmlike toestand bly nie. Hy wou die wenk van die fungerende staatspresident ten uitvoer bring, en het aan die hand gegee om ‘n bedrag van R120 000 te leen en die note daarmee te vervang. Die Volksraad het dit goedgekeur.
Die inwisseling van die note het in 1873 plaasgevind nadat die lening by die Cape Commercial Bank verkry was. Hierdie lening het die Republiek in die buiteland weer krediet gegee en verskeie binnelandse moeilikhede is daarmee voorkom. Die landskuld was nie alleen in ‘n ronde som bekend nie, maar daar is ook voorsiening gemaak vir afbetaling. Jaarliks sou R6 000 afgelos word en binne 20 jaar sou die geheel gedelg wees.
Ontedekking van goud by Lydenburg
Die jaar 1873 het nog ‘n verdere belofte vir die Republiek op ekonomiese gebied ingehou. In daardie jaar is in die Lydenburgse wêreld spoelgoud ontdek. Baie delwers het daarheen gestroom en dit was die begin van die latere Uitlander-probleem. Hierdie delwers het ‘n eie koerant opgerig onder die naam The Gold Fields Mercury, wat gedien het as verhoog van waar die Republiek bestook is. Ten tyde van Burgers se aanvaarding van die presidentskap was daar, behalwe die Staatscourant, net een koerant in die land, die Engels georiënteerde Transvaal Advocate and Commercial Advertiser, ‘n tweetalige blad wat op Potchefstroom verskyn het.
Oprigting van De Volkstem
Burgers het die noodsaaklikheid van ‘n goeie Hollandse koerant, ‘n Boerekoerant, besef. In Augustus 1872 het hy in Kaapstad inligting ingewin en met die heer Jan F. Celliers, wat in die redaksie van Het Volksblad in Kaapstad werksaam was, onderhandel om in Pretoria ‘n koerant te stig wat die standpunt van die Republiek sou voorstaan. Hiervoor was taamlik veel voorbereiding nodig, maar die einduitslag was dat op 8 Augustus 1873 De Volkstem in Pretoria sy verskyning gemaak het. Hierdie blad was ‘n baie groot steun vir Burgers teen The Transvaal Advocate, sowel as teen The Gold Fields Mercury.
Toe Burgers aan die bewind kom, was die onderwys op ‘n lae peil en hy wou dit so gou as moontlik verbeter, ten einde die geestespeil van die bevolking te laat styg en amptenare vir die staatsdiens in die Republiek self op te lei. In 1874 het hy sy onderwyswet by die Volksraad ingedien. Dit was die eerste in sy soort in Transvaal en het baie studie vooraf geverg. Burgers war hieroor selfs met vriende in Nederland in verbinding.
Die wet het voorsiening in die stigting van drie soorte skole: plaasskole, dorpskole en ‘n middelbare skool, of gimnasium, in Pretoria, later op Potchefstroom en op ander plekke as dit nodig sou word. Hierdie middelbare skole was noodsaaklik vir die opleiding van amptenare en onderwysers. Hierdie wet het meer as enige ander voor sy tyd voorsiening gemaak vir die seggenskap van die ouers by die aanstelling van onderwysers d.m.v. skoolkomitees, wat deur die ouers self gekies sou word. Die ouers het hieronder meer regte gekry as wat hulle vroeër gehad het.
Die Volksraad het die wet met geesdrif ontvang en die kommissie wat uit die Raad benoem was om hieroor te rapporteer, het onder toejuiging gesê dat die wet, “wanneer eenmaal behoorlijk in werking, van onberekenbaar nut voor die jeugd zijn moet”.
Besware teen die onderwyswet
Maar tog was dit nooit gewild nie. Die nodige personeel om dit dadelik in werking te stel, het ontbreek. Eers in 1876 het Burgers daarin geslaag om ‘n superintendent van onderwys en twee leerkragte vir die gimnasium in Pretoria te kry. Dwas nog dat die ondergrondse propaganda van Engelse kant om die land te annekseer,(3) in 1876 al so ver gevorder was dat ook hierdie wet aangegryp kon word om die doel te bereik.
(3)S.P. Engelbrecht, Th. Fr. Burgers, pp. 134, 139-143
Die eerste stap in die hele anneksasieplan was om pres. Burgers in onguns te bring en daarmee alles wat hy probeer tot stand bring het, om sodoende verwarring te veroorsaak en dan die verskoning te hê dat dit vir die res van Suid-Afrika gebiedend nodig was om van buite in te gryp en die orde te herstel deur die land oor te neem. Een van die heftige propagandamiddels teen Burgers was hierdie onderwyswet.
In 1876 het memories teen die wet ingestroom. Daar is beweer dat die wet sou verbied om gedurende die skoolure in die Bybel te lees en Bybelgeskiedenis te leer. Ook is beweer dat die wet teen die vryheid van godsdiens was! Toe die gimnasium in Pretoria geopen is, het die Engelse en die Engelsgesinde element daar dadelik ‘n opposisie-inrigting geopen, asook een teen die laer skool, met leerkragte wat uit Amerika ingevoer is. Die binnelandse verdeeldheid het die republiek verswak en die moontlikheid van Britse inmenging versterk. Tog ly dit geen twyfel nie dat Burgers se onderwysbeleid veels te liberaal was vir die deursnee Transvaler en die meeste opponente het ter goeder trou gehandel.
Burgers se spoorwegplan
‘n Ander blangrike beleidspunt van Burgers was sy plan om ‘n spoorweg na Delagoabaai te bou. Reeds die Voortrekkers het intuïtief gevoel dat ‘n verbinding met die see vir hulle ‘n lewensvereiste was – ‘n vereiste vir die verwesenliking en instandhouding van hul ideale om onafhanklik te kan bly. Daar was net twee moontlikhede om met die see en so met die buitewêreld in verbinding te wees, en dit was deur Port Natal of deur Delagoabaai. As hulle dit nie kon doen nie, dan sou hulle van die Britse seehawens afhanklik wees.
Ná die anneksasie van Natal het net Delagoabaai oorgebly. Hierdie baai het eers deur die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Republiek betekenis gekry. In die sestigerjare was daar reeds ‘n, vir daardie dae, aansienlike handel tussen die Republiek en die Portugese aan die baai. Maar dit het in 1867, ná die verlating van Schoemansdal, ‘n gevoelige teenslag gekry.
Ná die traktaat van 1869 tussen die Replubliek en Portugal, waardeur Portugal se aanspraak op Delagoabaai erken is, was die geskil tussen Engeland en Portugal oor dié baaie nog nie opgelos nie, en uiteindelik is die saak besleg deurdat die ingeroepe skeidsregter, die Franse president MacMahom, in 1875 uitspraak gedoen het waardeur Delagoabaai aan Portugal toegewys is.
In 1870 het die Volksraad die regering gemagtig om konsessies aan te gaan om ‘n pad te maak wat geskik sou wees vir “trek- en ander machines” tussen die Portugese grens en ‘n sentrale punt in die Republiek. Pres. Burgers het egter die gedagte uitgespreek dat die bou van ‘n spoorweg wensliker sou wees. Die saak is nader ondersoek en die Volksraad het die regering gemagtig om ‘n spoorweg te probeer bou wat die Republiek met die Portugese hawe sou verbind.
Burgers het besef dat ‘n spoorweg na Delagoabaai alleen nie genoeg waarborg sou wees nie. Hy het vooruit geweet dat daar van Engelse kant ‘n agitasie teen die spoorweg sou kom. As dit nie hierdeur sou misluk nie, sou Engeland probeer om Delagoabaai self in die hande te kry. Daarom wou Burgers in elk geval probeer verhinder dat dit vroeër of later gebeur. Met die oog hierop het hy op 12 Junie 1873 in ‘n geheime sitting van die Volksraad voorgestel “om het gevoelen van den Raad te vernemen of hij, in het belang van het Land en deszelfs onafhankelijkheid genegen is Delagoa-Baai aan te koopen als eene bezitting van de Z.A. Republiek”.
Die Volksraad het ingestem met die oortuiging van die President dat dit in die belang van die onafhanklikheid van die land was om Delagoabaai in besit te kry, of dat dit die eiendom van ‘n ander moondheid sou word wat in staat sou wees om die onafhanklikheid van die land te help handhaaf. Met die oog hierop is aan Burgers opgedra om na Europa te gaan en, indien nodig, ook na Amerika. Dit was egter nie moontlik om dadelik te handel nie, want die MacMahon-uitspraak het nog nie geval nie.
Burgers na Europa
Intussen het ‘n konsessie aan ene Moodie i.v.m. die bou van ‘n spoorweg verstryk, sonder dat ‘n maatskappy opgerig was, endaarop het Burgers aan die hand gegee dat die staat self die spoorweg bou. Die Volksraad het besluit om ‘n buitelandse lening van R600 000 hiervoor aan te gaan en die President te magtig om self na Europa te gaan en die nodige traktate te sluit. Hy het hierin ‘n geleentheid gesien om die Republiek in Europa bekend te maak.
Burgers het in April 1875 in Europa aangekom. In Nederland het hy veel belangstelling vir die Republiek gewek. Ook in België en in Portugal het hy in dié opsig geslaag. In Engeland het daar egter in stygende mate ‘n gevoel ontstaan om sy planne te laat misluk, want die welslae daarvan sou verwesenliking van Carnarvon se federasieplanne belemmer.
Spoorweglening misluk
Van Engelse kant is in dieselfde jaar besluit om in Transvaal stemming teen Burgers op te wek en sy invloed te breek. Europa moes alles aangewend word om sy planne te laat misluk. Burgers het dan ook daar met groot moeilikhede te kampe gehad. Toe hy eindelik daarin slaag om met Portugal die nodige verdrae oor die bou van die spoorweg te sluit, en in België die nodige voorbereidende maatreëls met fabrieke te tref vir die lewering van die spoorwegmateriaal, is die spoorweglening in Holland vir inskrywing opgestel. Die stille propagande uit Londen was egter so doeltreffend dat die lening nie volteken is nie.(4)
(4)Ibid., p. 190; ook pp. 220-244
Teen R120 000 h et hy spoorwegmateriaal aangekoop, wat later ongebruik moes lê en teen groot verlies van die hand gesit is. Burgers het deurgetas, want as hy sou draal, sou dit beteken dat die Engelse planne makliker sou seëvier. Hy is na Transvaal terug, in die verwagting dat die lening intussen volteken sou word.
Die aspirasies van die energieke president het lord Carnarvon se federasieplan in die weg gestaan. Trouens, Carnarvon het die beheer oor die departement van kolonies op ‘n ongunstige tydstip vir sy planne oorgeneem. Die Vrystaat was aan die een kant nog gekrenk oor die anneksasie van Basoetoland, terwyl daarenteen die Basoeto-gevaar wat in die dae van pres. Boshof en sir George Grey gedreig het om die land in die arms van die Kaapkolonie te dryf, verwyder was. ‘n Seer van meer resente datums vir albei republieke was die anneksasie van die diamantvelde.
Afrikaners in die Vrystaat en Tansvaal is nader na mekaar en verde4r weg van Brittanje gedryf. Die Kaapkolonie wou as selfregerende Britse kolonie eers nog sy staanplek vind voordat hy die leirskap in ‘n goter geheel op hom neem. Die Kaapkolonie was ook nie bereid om die voordele wat hy uit die doeane-tariewe verkry het, met ander te deel in ruil vi die bykomende Bantoevraagstukke in Natal nie.(5)
(5)Cambridge History of the British Empire, Vol. III, South Africa, p. 458
Die Langalibalele-opstand
Maar juis in Natal het die Langalibalele-episode Britse staatsmanne die geleentheid verskaf om vir ‘n gemeenskaplike Bantoebeleid vir die state en kolonies in Suid-Afrika uit te kom. Langalibalele was hoof van die Hlubi. Lede van dié stam het versuim om vuurwapens wat hulle aangeskaf het in Kimberley, waar hulle gewerk het, tuis te laat registreer. Dit was in stryd met ‘n Natalse ordonnansie. Langalibalele het geweier om op ‘n dagvaarding in Pietermaritzburg te verskyn. ‘n Gewapende mag is teen hom uitgestuur. Met sy stam het hy op die vlug geslaan. In die agtervolging het gevegte plaasgevind. Langalibalele het na Basoetoland ontken, maar is deur Molapo uitgelewer.
‘n Swaar straf is Langalibalele en sy stam opgelê. Hy self is met verlof van die Kaapse parlement as banneling na Robbeneiland gestuur. Dr. John Colenso, biskop van Natal, het as kampvegter vir die Hlubi ‘n beroep op die Imperiale regering gedoen. ‘n Groot opskudding in Engelse politieke kringe het gevolg. Carnarvon, vooraf daarvan bewus dat ‘n herroeping of wysiging van die vonnis die Kaapse regering sowel as Natal teen hom in die harnas sou jaag, het beveel dat Langalibalele na die vasteland oorgeplaas word.(6)
(6)C.J. Uys: In the Era of Shepstone, p. 88 en verder
Carnarvon het die Natalse Bantoebeleid skerp afgekeur. Dat dit alles die Natallers se geesdrif vir Britse intervensie ne hul gedagte in die rigting van samewerking met die Republieke gestuur het, lê voor die hand. Carnarvon het besef dat plaaslike Bantoebeleid, ins tryd met opvattinge in Brittanje, die oorsaak kon wees van afvalligheid van Britse kolonies. Konfederasie, het Britse staatsmanne gemeen, kon die middel wees om so ‘n gebeurlikheid te verhoed.
Sending van Froude na S.A.
Carnarvon was nou meer vasbeslote as ooit om die beleid van konfederasie deur te voer. James Anthony Froude, vername Engelse geskeidskrywer en vriend van Carnarvon, het op aandrang van lg. Suid-Afrika besoek. Froude moes van die geleentheid gebruik maak om inligting oor toestande hier in te win. Van Kaapstad, waar hy in September 1874 aangekom het, het hy na Port Elizabeth gereis en daarvandaan na Natal, Pretoria, Kimberley en Bloemfontein. Dit was ‘n vlugtige reis, maar dit het hom nietemin ‘n persoonlike ontmoeting besorg met Molteno, pres. Burgers, Richard Southey (luitenant-goewerneur van Griekwaland-Wes) en pres. Brand.
Hoewel Froude voorgegee het dat hy in partikuliere hoedanigheid en vir sy eie gerief die reis onderneem het, was dit tog duidelik dat daar ‘n amptelike taan aan verbonde was. In toesprake in Bloemfontein en Port Elizabeth het hy allerlei uitlatings gemaak wat vleiend vir die Republiek was, maar seker nie bestem om politieke gevoelens te kalmeer nie.(7)
(7)Historiese Studies, Jaargang I, No. 3, p. 37 en verder
Terug in Londen het Froude aan Carnarvon verslag gedoen. Carnarvon het ook uit ander bronne meer inligting wat hom aangemoedig het, ontvang. Ryk goudvelde in Transvaal was die daaglikse gesprek. Twee-derdes van die van die bevolking, het Southey beweer, was die Britse regering goedgesind; word Transvaal ‘n Britse kolonie, het sir Henry Barkly getuig, dan is ook die kwessie van Griekwaland-Wes sowel as Natal se grensmoeilikhede opgelos; en tussen twee Britse kolonies, Transvaal en Natal, kon Zoeloeland makliker bedwing word. En eindelik sou die afsondering van die Vrystaat dié land tot aansluiting by die Britse kolonies dwing.
Carnarvon se konferensiestel
Die uitkoms hiervan was die bekende dépêche van 4 Mei 1875 aan sir Henry Barkly. Carnarvon het ‘n konferensie tussen die verskillende Suid-Afrikaanse geweste voorgestel. Voorop het hy ‘n bespreking van die Bantoevraagstuk geplaas, maar bygevoeg dat, indien by die onderhandelinge tussen verteenwoordigers van die betrokke gebiede “the all-important question of a possible union of South Africa in some form of confederation should arise”, die Britse regering dit sou verwelkom.
Vroeg in Junie was die dépêche in besit van Molteno, aan wie Barkly dit oorhandig het. ‘n Week later sou Froude self in Kaapstad aankom, dié keer as openlike afgesant van Carnarvon. Moltenowas onthuts, Carnarvon het taktloos te werk gegaan. Deur self die verteenwoordigers op so ‘n konferensie aan te wys, het hy die onvergeeflike flater begaan om ‘n aparte afgevaardigde vir die oostelike distrikte van die Kaapprovinsie te benoem. Dit het die afskeidingsbeweging in dié distrikte nuwe lewe ingeblaas en hierteen het Molteno hom verset. Sy weiering om die Kaapkolonie aan die voogestelde konferensie te laat deelneem, is deur die Kaapse parlement goedgekeur.
Dit het Froude nie van stryk gebring nie. Hoewel Molteno gewaarsku het dat Foude mededelinge aan die Kaapse koloniste insake Carnarvon se dépêche alleen deur die koloniale regering moes doen, het Froude weer opsienbare toesprake gehou. Die kerngedagte was ‘n aanslag teen Molteno en sy regering.
Reaksie in S.A.
Froude het die Kaapkolonie deurreis en in Port Elizabeth, waar hy onder die separiste en federaliste was, het hy openlik teen Molteno en t.g.v. die separiste uitgekom. In ‘n buitengewone sitting van die Kaapse parlement, of in ‘n nuwe verkiesing, het hy gehoop dat Molteno verslaan sou word. Barkly het op dié wenk gereageer en die Parlement vir ‘n buitengewone sitting op 10 November byeengeroep. Dit het gelyk of Froude se bemoeiinge met sukses bekroon sou word. Die stemming in die Parlement het ongetwyfeld teen Molteno gegaan, toe ‘n tweede dépêche van Carnarvon Kaapstad bereik. Op 22 Oktober het hy aan Barkly geskryf dat hy afsien van ‘n konferensie in Suid-Afrika, omdat die konfederasiesaak hier voldoende bespreek was en dat hy nou t.g.v. so ‘n konferensie in Londen was. Dit het die stryd in die Kaapse parlement oor die voorgestelde konferensie beëindig. Molteno was van ‘n waarskynlike nederlaag gered.
In uitvoering van Carnarvon se versoek het Barkly die dépêche van 4 Mei amptelik aan die ander Britse geweste en aan die Republieke gestuur. Die Wetgewende Raad van die bankrotte Griekwaland-Wes het die voorstel van Carnarvon met dank ontvang en ‘n konferensie verwelkom. Ook Natal wat, net soos die Kaapse oostelike distrikte, die geleentheid gesien het om verantwoordelike bestuur te kry, was gewillig.
Pres. Brand van die Vrystaat het sy bereidwilligheid te kenne gegee om die Volksraad te beweeg om aan die voorgestelde konferensie deel te neem, maar nie sonder ernstige voorbehoud nie. Die besprekingspunte moes duidelik gestel word: die Bantoevraagstuk en die handel in vuurwapens en ammunisie. Maar met ‘n verteenwoordiger van Griekwaland-Wes wou hy nie aan dieselfde tafel sit nie. Solank die diamantveldkwessie onopgelos bly, was hy nie bereid om by die Volksraad aan te beveel om ‘n verteenwoordiger na die konferensie te stuur nie.
Carnarvon se uitnodiging het die Suid-Afrikaanse Republiek bereik tydens Burgers se afwesigheid in Europa. Genl. Piet Joubert, waarnemende Staatspresident, was bereid om samewerking by die Uitvoerende Raad aan te beveel, maar afgevaardigdes sou die oog moet hou op die besondere belange van die Republiek. Besondere aandag moes bestee word aan groter eenvormigheid in ‘n Bantoebeleid vir die hele Suid-Afrika.
Uit die antwoorde van pres. Brand en waarnemende pres. Joubert het iedereen verstaan dat ‘n beleid van konfederasie wat enigsins die onafhanklikheid van die Republieke sou aantas, nie hulle medewerking sou kry nie. Maar intussen was lord Carnarvon se poging reeds tot mislukking gedoem deur Froude se onbesonnenheid, sy eie flaters en Molteno se onverbiddelike verset teen enige veronagsaming van die konstitusionele regte van die Kaapkolonie.
Toe Burgers in April 1876 in Transvaal terugkom, het hy in baie opsigte ‘n toestand aangetref wat uiters teleurstellend was. Die engelse propaganda het in alle stilte die openbare mening teen hom gaand gemaak, met die doel om sy planne te laat misluk, want die vernietiging van die Republiek se selfstandigheid was ‘n belangrike punt op lord Carnarvon se program. Dit was alleen nog nie uitgemaak of dit in die vorm van ‘n federasie of volslae anneksasie sou geskied nie.
Die Sekoekoeni-oorlog
Die president het die land feitlik op oorlogsvoet met Sekoekoeni gevind. Bitse agente het die opperhoof in die geheim van gewere en ammunisie voorsien.(8) Die doel was om Burgers ‘n politieke neerlaag te besorg. ‘n Oorlog sou vir hom uiters ongeleë kom, want dit sou sy planne in die war stuur en die bou van ‘n spoorweg vertraag, en dit sou verhinder dat die ontbrekende geld daarvoor in Nederland verkry word: Burgers moes val, want met hom sou die Republiek val. Die President wou daarom alles doen om ‘n oorlog teen Sekoekoeni te verhoed, want hy het geweet “dat grooter gevaren het land dreigen dan een opstandige Kafferstam”.(9)
(8)T.F. Burgers, pp. 193-195
(9)Burgers-papiere, Kopie brieweboek 1876
Die Volksraad het egter op 16 Mei bsluit om oorlog te verklaar. Die land was nie daarvoor gereed nie. Hoewel Burgers vrede begeer het, is die Republiek daarin gedwing. Toe die oorlog ‘n voldonge feit was, het Burgers hom met mag daarin gewerp en met al sy kragte geprobeer om dit spoedig met welslae te beëindig. Die regering het egter baie moeilikhede ondervind. In 1873 was besluit om die pos van kommandant-generaal in vredestyd af te skaf. Maar nou met die uitbreek van die oorlog het die Republiek die ernstige nadele ondervind. Daar was geen militêre leier nie. Burgers het probeer om ‘n kommandant-generaal te kry en het die pos dadelik aan die vroeëre kommandant-generaal, Paul Kruger, aangebied, maar hy het beslis geweier. Ook Piet Joubert was ongeneë in due gewigtige pos te aanvaar. Burgers het toe self as opperbevelhebber met die kommando’s saamgegaan, terwyl oud-president M.W. Pretorius en Nicolaas Smit die generaals was.
In die begin was daar ‘n terugslag en die kommando’s is huis toe. Burgers kon nie toelaat dat die oorlog op ‘n mislukking uitlop nie en het, ná magtiging deur die Volksraad, die oorlog met vrywilligers voortgesit, met ‘n gunstige uitslag, sodat Sekoekoeni hom uiteindelik onderwerp het. Hy het erken dat hy ‘n onderdaan van die Republiek was, onderneem om skadevergoeding te betaal en die grense, deur die regering vasgestel, te eerbiedig.
Gevolge van die oorlog
Dit was die Sekoekoeni-oorlog wat Carnarvon die geleentheid gegee het om die anneksasie van Transvaal deur te dryf. Van hierdie aangeleentheid kon hy gebuik maak om die openbare mening in Brittanje teen die Republiek op te sweep. Hy het gemeen, soos hy aan sir Henry Barkly skryf, dat die toestand ná Burgers se terugkoms uit Europa ‘n nuwe wending geneem en dat grond blykbaar bestaan het vir die bewering dat ‘ n aggressie-oorlog op groot skaal op tou gesit is. Dit sou noodlottig wees, nie slegs vir die Republiek nie, maar ook vir die ander blanke gebiede, het Carnarvon gesê. ‘n Algemene Bantoe-oorlog kon die gevolg wees. Pres. Burgers moes gewaarsku word dat die Republiek die verantwoordelikheid sou moet dra.
Uitbreiding van die Republiek se grense sou nie gedoog word nie. Carnarvon het hom nie vooraf van die werklike feite vergewis nie. Sekoekoni was die aggressor en hy het op grond van die Republiek gewoon. Maar in stryd met die Sandrivier-Konvensie het hy in besit van vuurwapens en ammunisie gekom. Hy het hom sterk gevoel en die Republiek uitgetart.
Froude, wat Suid-Afrika onmiddellik ná die mislukking van die federasie-poging in November 1875 verlaat het, het Carnarvon meegedeel dat konfederasie nie aanneemlik was vir die Kaapkolonie en die Republieke nie. Konfederasie moes langsaam en vanself kom en uit die vrye wil van die Suid-Afrikaanse gemeenskappe self gebore word.(10)
(10)Uys, op. cit., p. 166
Die Londense konferensie
Maar Carnarvon was reeds vasbeslote om Transvaal, noudat die oudste, rykste en digs bevolkte Britse kolonie daarvoor te vinde was nie, as hefboom te bruik om die verskillende Suid-Afrikaase gewese onder Bitse vlag byeen te bring. Die konferensie wat hy op 22 Oktober 1875 aangekondig het, sou gehou word. Die afgevaardigdes se name is genoem: vir die Kaap Molteno, vir Griwaland-Wes Froude, vir Natal Theophilus Shepstone.
Die hele samestelling van hierdie sg. konferensie het ‘n mislukking gewaarborg. Molteno het geen opdrag van die Kaapse parlement gehad om konfederasie of Bantoebeleid te bespreek nie. Hy het slegs gegaan om die Griekwaland-Wesse kwessie te bespreek. Dit was ook waarvoor Brand na Londen gegaan het, hoewel hy ook kon deelneem aan besprekings oor die handel in vuurwapens en ammunisie en ‘n algemene Bantoebeleid vir Suid-Afrika. Transvaal was nie verteenwoordig nie.
Die diamantvelde-kwessie, vir sover dit die Vrystaat geraak het, het ‘n nuwe wending geneem. Regter Strockenström het in Maart 1876 in ‘n Landhof in Griekwaland-Wes ‘n uitspraak gedoen wat daarop neerkom dat die diamantvelde die regmatige eiendom van die Oranje-Vrystaat was. Dit was ‘n uitspraak van ‘n Britse hof. Brand het verwag dat ‘ n oplossing nou sonder moeilikheid t.g.v. die Vrystaat gevind kon word. Op 6 Mei 1876 was hy reeds in Engeland. Op die 15de het hy sy opwagting by die minister van kolonies gemaak om die Vrystaat se reg op te eis. Carnarvon was vriendelik en toegeeflik, mits Brand die konfederasieplan sou steun. Brand kon federasie nie bespreek nie. Hy wou niks beloof en wou die Vrystaat se posisie nie prejudiseer nie. Vir Carnarvon was dit egter van belang om Brand se vriendskap te win. Hy het hom £90 000 (R180 000) aangebied vir die diamantvelde en Brand het dit aanvaar.
Pres. Brand het ná sy besoek aan Londen geen griewe meer teen die Britse staatsmanne gehad nie, maar ter bevordering van konfederasie het hy op die konferensie geen bydrae gelewer nie. Trouens, die skikking tussen hom en Carnarvon het Molteno, wat Londen besoek het om eindelik oor die insluiting van die diamantvelde te beraadslaag, geskok. Die skuld van Griekwaland-Wes was skielik R180 000 groter. Molteno se lus tot medewerking het verdwyn.(11)
(11)De Kiewiet: The Imperial Factor in South Africa, p. 89
Die konferensie, of wat daarvoor moes deurgaan, het op 3 Augustus 1876 begin, onder voorsitterskap van Carnarvon self en met sir Garnet Wolseley as ondervoorsitter. Maar die man op die konferensie wat Shepstone. Op 31 Julie het hy in Londen aangkom. Dieselfde dag nog het hy Carnarvon opgesoek, by wie hy in die paar dae daarna ook sir Garnet Wolseley en Froude ontmoet het. Die verteenwoordigers het etlike kere vergader. Besluite wat oor Bantoe-aangeleenthede geneem is, was ‘n dooie letter en van konfederasie het vir eers niks gekom nie.
Intussen is die openbare mening in Engeland opgesweep met verhale van ‘n bankrot Transvaal, van regeringloosheid, van dreigende Bantoe-oorloë en van die magteloosheid van die Republiek. Die verhale is in die dagbladpers en in blouboeke gepubliseer. Na die geloofwaardigheid van die inhoud en die betroubaarheid van die informante het die Britse regering blykbaar nie gevra nie, en na diegene wat tot versigtigheid gemaan het, is nie geluister nie.
Britse propaganda teen Transvaal
Maar Carnarvon en Shepstone sou eers kyk hoe die Sekoekoeni-oorlog ontwikkel. Op 25 Augustus het sir Henry Barkly getelegrafeer dat Sekoekoeni pres. Burgers verslaan het en dat ‘n vergadering op Lydenburg besluit het om Brittanje te versoek om Transvaal in besit te neem. Ná die misluke konferensie het Carnarvon hierin sy kans gesien en, handelende op grond van sulke twyfelagtige inligting, het hy Shepstone, wat intussen tot ridder geslaan was, met die eerste posboot na Suid-Afrika truggestuur met die geheime opdrag om Transvaal te annekseer, as die bevolking of ‘n aansienlike deel daarvan of die Volksraad ten gunste daarvan was. Aan Disraeli skryf Carnarvon dat hy vertrou om ‘n oorlog te voorkom en die Suid-Afrikaanse Republiek met ‘n enkele slag in besit te kry.
Sending van sir Bartle Frere
Op 13 Oktober het Carnarvon ook die hulp van die 62-jarige bekwame en gesiene sir Bartle Frere ingeroep. Frere moes Barkly as Goewerneur van die Kaapkolonie en Hoë Kommissaris van Suid-Afrika opvolg. In hom het Carnarvon die regte man gesien om sy konfederasieplan deur te voer en hy het Frere ook die eerste goewerneur-generaalskap in die vooruitsig gestel. Om Frere se taak te vergemaklik, het Carnarvon onmiddellik begin om ‘n “South African Confederation Bill” op te stel. Daarin is voorsiening gemaak vir die federasie van twee of meer van die kolonies en state in Suid-Afrika, as hulle dit verkies en vir die regering van so ‘n unie of federasie.
Shepstone en die Zoeloes
Die promotor van die Suid-Afrikaanse konfederasie het hy sy planne dus goed agtermekaar gehad. Maar ongelukkig vir Shepstone was die Sekoekoeni-gevaar by sy aankoms in Natal reeds verby. Hy moes egter annekseer, en hy moes oortuigende redes hê, en by voorkeur ‘n rede i.v.m. die Bantoes. Dit het hy gevind in Cetshwayo se Zoeloes. In die Zoeloes het daar ‘n potensiële gevaar vir die Republiek geskuil.
Sedert die begin van die Groot Trek in Natal en Transvaal was die betrekkinge tussen die inboorlingstate en die Boere deur die soek na ‘n hawe bepaal. In 1846 reeds is grond van die Swazi’s noord van Swaziland gekoop. Verder het die Swazi’s in 1855 ‘n smal gebied aan die noordelike oewer van die Pongolarivier aan die Republiek afgestaan. Dit moes ‘n buffergebied tussen Swazi- en Zoeloeland vorm. Vir die Boere was die streek van groot belang t.o.v. hul beleid om met die see in verbinding te kom. Ongelukkig vir die Suid-Afrikaanse Republiek is die grond nie dadelik deur burgers van die Republiek bewoon nie. Die grense is ook nie voor 1866 behoorlik vasgestel nie.
Betrekkinge tussen die Republiek en Swaziland was vriendskaplik, selfs bondgenootskaplik. Die Swazi’s het op die steun van die Republiek gereken as Sekoekoeni of Cetshwayo die veiligheid van hul land sou bedreig. Onderlinge stryd en vrees vir die Zoeloes het die Swazi’s verder in die arms van die Republiek gedryf en in 1875 is Swaziland by die Republiek ingelyf, maar as ‘n Swazi-reservaat. Hierdie skikking het die Republiek nader aan die see gebring, sy posisie teenoor moontlike Britse bemoeiinge in Swaziland versterk en die Swazi’s teen die Zoeloes in beskerming geneem.
Die Zoeloes was vir die Swazi’s gevaarlike bure, maar met die Boere het hulle op goeie voet verkeer sedert Panda in 1840 sy kroon aan Andries Pretorius te danke gehad het. In 1852 het hy aan sy weldoener ‘n strook grond van die Drakensberg tot aan Bloedrivier en langs die Wit Umfoloi tot aan die see afgestaan. Die Boere se drang na die see kon bevredig word. As gevolg van botsings tussen die Bantoes onderling en die afsterwe van die twee groot leiers, A.H. Potgieter en A.W.J. Pretoria, is die grense nie onmiddellik bepaal nie. In die vyftiger- en sestigerjare is een kommissie na die ander benoem en meer ooreenkomste aangegaan, maar min is t.o.v. vaste grense bereik tot 1864, toe die afbakening eindelik plaasgevind het.
Cetshwayo
Teen dié tyd was Cetshwayo, die toekomstige Zoeloe-vors, ‘n krag in Zoeloeland. Dit was duidelik dat die betrekkinge gespanne geword het. Zoeloeland was in beroering oor die grenslyn. In 1866 is die lyn t.g.v. Zoloeland gewysig; en so ook die grens aan die Pongola, waar Zoeloeland, nieteenstaande die ooreenkoms tussen die Republiek en Swaziland in 1855, ook op grond aanspraak gemaak het. In die stuk grond wat aan die Pongola oorgebly het, het die Republiek plase uitgegee, maar weens die ontevredenheid in Zoeloeland het hiervan weinig tereg gekom. Die grenskwessie kon maar nie geskik word nie. Daarom het die Uitvoerende Raad van die Republiek luitenant-goewerneur Keate van Natal se aanbod om arbiter op te tree en die geskille te besleg, aanvaar, maar moeilikhede oor die diamantvelde het hierdie plan laat doodloop.
Die belangstelling van Natal en van verantwoordelike Britse amptenare en staatsmanne in Suid-Afrika vir Zoeloeland was ‘n faktor in die verslegting van betrekkinge tussen die Boere en die Zoeloes. By name kan Shepstone genoem word, wat steeds volgehou het dat die Republiek aanspraak gemaak het op grond waarop dit geen reg had nie.
Shepstone se kans het in 1872 met die dood van Panda gekom. Cetshwayo, wat steeds probeer het om die Republiek en Natal teen mekaar af te speel, het pres. Burgers sowel as Shepstone genooi om by sy kroning teenwoordig te wees. Burgers kon nie kom nie en Shepstone het die kroning waargeneem. Soos Zoeloeland onder Panda, sedert sy kroning in 1840 deur Andries Pfretorius, as ‘n soort vasalstraat van die Republiek beskou is, so sou Zoeloeland onder Cetshwayo meer na Natal oorhel. Die grenskwessies by die Buffelsrivier en die Pongola tussen die Zoeloes en die Republiek was in Natal se guns.
Tog het die Suid-Afrikaanse Republiek nooit in botsing met die Zoeloes gekom nie. Nouliks was Shepstone in Natal terug, of hy laat aan Cetshwayo weet dat sy koms geen samewerking met die Boere beoog nie. Shepstone het ‘n stryd tussen die Zoeloes en die Swazi’s verwelkom, want dit sou ‘n oorlog beteken ook met die Suid-Afrikaanse Republiek en hom so die geleentheid verskaf om met genoeg rede te annekseer. Hy kon dan aan die Engelse publiek verduidelik dat anneksasie nie alleen Transvaal uit die hande van die Zoeloes gered het nie, maar ‘n algemene oorlog teen die Bantoes voorkom het. Of die Zoeloes ooit ‘n aanval op die Republiek sou gewaag het, kan nie uitgemaak word nie; en as hulle dit wel gedoen het, is dit te betwyfel of hulle iets sou bereik het. Die Boere het hulle in elk geval nie gevrees nie.
Shepstone na Pretoria
Uit Pietermaritzburg het Shepstone op 20 Desember 1876 pes. Burgers van sy voorgenome besoek aan Pretoria ingelig. Sonder om op ‘n antwoord te wag, het hy ‘n paar dae later vertrek, om op 22 Januarie 1877 sy verskyning in die Republiek se hoofstad te maak. Daar is hy, danksy die ovasies van ‘n aantal Engelse, met ‘n sekere mate van ophef ontvang.
Die tyd van sy aankoms was vir Shepstone uiters gunstig. Burgers se eerste ampstermyn was nagenoeg ten einde en ‘n nuwe presidentsverkiesing was op hande, wat aan vyandige groepe opnuut kans gegee het om onrus te stook. Die onsekerheid en verwarring het Shepstone ten volste uitgebuit, deur ‘ n afwagtende houding aan te neem en nie dadelik met sy werklike bedoelinge voor die dag te kom nie. In sy eerste samesprekinge met die Uitvoerende Raad het Shepstone voorgegee dat die doel van sy besoek was om sekere vermeende griewe uit die weg te ruim. Toe dit later blyk dat geen sodanige griewe bestaan nie, was Shepstone verplig om op ‘n reguit vraag van Burgers nader aan te dui wat sy bedoeling was.
Daaruit het duidelik geword dat hy sekere besware teen die finansiële toestand van die Republiek gehad het; dat die binnelandse bestuursapparaat nie volkome na sy sin was nie; en dat hy gereken het dat die Republiek nie in staat was om die Bantoes binne sy grense in bedwang te hou nie. Indien hierdie besware nie op ‘n, vir hom, bevredigende wyse uit die weg geruim kon word nie, het hy Bugers te verstaan gegee dat hy tot anneksasie sou oorgaan. Juis omdat hy die onafhanklikheid van die Republiek wou red, was Burgers bereid om toegewings te doen, en met dié doel het hy die Volksraad byeengeroep.
Shepstone se laaste beswaar is nog gedurende sy verblyf in Pretoria en voordat hy tot anneksasie oorgegaan het, uit die weg geruim toe Sekoekoeni uit eie beweging om vrede kom vra het en ‘n vredestraktaat met hom in die begin van Februarie 1877 gesluit is. Ten opsigte van die ander besware het die noodlottigheid van die heersende verdeeldheid duidelik gebly.
Die Volksraad het in die uur van nasionale nood ‘n vyandige houding teenoor bykans elke voorstel van die President aangeneem, geweier om die finansiële toestand van die land voorrang in sy besprekinge te gee en Burgers se voorstel tot grondwetshersiening sowel as dié vir ‘n staande mag ter beteueling van opstandige inboorlinggroepe, van die hand gewys. Vanselfsprekend het dit Shepstone rede gegee om van die inwendige swakheid van die Republiek te praat.
Hervormingspoging van Burgers
Ondanks teenkanting het Burgers voet by stuk gehou, die opposisie oorwin en die Vollksraad tot aanname van sy voorstelle beweeg. Die Volksraad het die Uitvoerende Raad daarna met volmag beklee om die hervorminge deur te voer en verder met Shepstone te onderhandel en self verdaag. Die kans om die land te annekseer op die, deur hom voorgegewe gronde, was Shepstone daarmee ontneem. Vasbeslote egter om nie te rus totdat die Republiek heeltemal ondermyn was nie, het hy nie geaarsel om met Cetshwayo se Zoeloes en Sekoekoeni se volk te heul en hulle teen die Republiek af te speel nie.(12)
(12)Engelbrecht, op. cit., pp. 316-329
Burgers, wat ná die verdaging van die Uitvoerende Raad met slegs die twyfelagtige steun van staatsekretaris Swart vrywel alleen gelaat is om die stryd te stry, het besef dat dit ‘n verlore stryd was, te meer nog omdat die burgers geweier het om die opgelegde oorlogsbetlasting te betaal, waardeur die finansiële toestand van die staat inderdaad hopeloos geword het. Die President het sy geloof in die Republiek verloor soos sy byrgers reeds al hul vertroue in hom verloor het.
Shepstone het van die begin af, net soos Milner later teenoor pres. Kruger, bedrog gepleeg. Annekseer sou hy, kom wat wil. Daarom het hy ‘n aantal griewe bedink wat van alle grond ontbloot was, net om die werklike motief tot anneksasie te bedek. Nie Transvaal se armoede nie, maar juis sy potensiële rykdom; nie sy swakheid wat gehelp moes word nie, maar juis sy krag, wat gevrees is, was die rede tot anneksasie. Met die Republiek se minerale rykdom en die gebruik van ‘n onafhanklike seehwawe wat burgers se Delagoabaai-spoorlyn moontlik sou gemaak het, kon die Republiek tot die sterkste mag in Suid-Afrika uitgroei en die Engelse kolonies oorskadu. Dit moes tot elke prys verhinder word.
Anneksasie van Transvaal
Die slot van hierdie drama het vinnig verloop. Nadat Shepstone die President op 9 April sy finale besluit meegedeel het om tot anneksasie oor te gaan, het Burgers, nadat hy homself kon ortuig dat hy geen steen onaangeroerd gelaat het om sy staat se onafhanklikheid te red nie, op 11 April plegtig teen die voorgenome anneksasie geprotesteer.
Frere is op 16 April in Kaapstad, waar hy op 31 Maart 1877 aangekom het, van Shepstone se anneksasiedaad van 12 April verwittig. Hy was verras. Baie struikelblokke het op die weg van die verwesenliking van sy seinding gelê. Transvaal het onmiddellik geagiteer vir die herstel van sy onafhanklikheid; die Vrystaat wou niks verder van konfederasie hoor nie; en, o.l.v. ds. S.J. du Toit en J.H. Hofmeyr, het die Kaapkolonie Shepstone se optrede veroordeel. Ook Molteno het sy ou afkeer van Imperiale bemoeiing in Suid-Afrikaanse sake nie verberg nie.
Probleme aan oos-grens
Frede se teenwoordigheid was spoedig in Transvaal vereis, maar in die Bantoegebiede aan die Kaapse oosgrens het in Augustus 1877 onluste uitgebreek en die Hoë Kommissaris moes daar aandoen op sy reis na die noorde. Die Gelekas het met die Fingo’s gebots. Uit King William’s Town het Frere hulle ontbied, maar die Fingo’s het geweier om te kom. Oorlog het uitgebreek (die Negende Kafferoorlog) en met behulp van Temboes en Fingo’s is die Galekas oor die Bashee teruggedryf. Kaapse polisie het Gaika-veediewe juis toe agtervolg. Dit het oorlog ook met die Gaikas, nou bygestaan deur die terugkerende Galekas, beteken. Ná ‘n harde stryd is die Gaikas en Galekas onderwerp, maar dit het ‘n jaar van Frere se tyd in beslag geneem voordat hy aan konfederasie kon dink.
Intussen het hy die sonderlinge stap gedoen om Molteno, wat met hom oor die oorlogvoering verskil het, uit sy amp as Eerste Minister te ontslaan. Gordon Sprigg het hom opgevolg en dié was meer tot medewerking met Frere geneig. Maar terselfdertyd is Frere se posisie verswak deur die bedanking van lord Carnarvon.
Moeilikhede met Cetshwayo
Die Bantoe-onluste in alle dele van Suid-Afrika op dié tydstip het by Frere die idee laat posvat dat Cetshwayo die bron van al die onheil was. Frere het self na Natal gegaan om ondersoek in testel. Van oral het gerugte ingekom omtrent koelbloedige moorde in Zoeloeland, met goedkeuring of op bevel van die Zoeloe-vors. Eindelik is ‘ n paar vlugtelinge uit Zoeloeland op Natalse gebied gevange geneem en om die lewe gebring. Met hierdie geval het Cetshwayo niks te make gehad nie, maar Frere het hom verantwoordelik gehou en op 11 Desember 1878 geëis dat Cetshwayo binne dertig dae die moordenaars uitlewer, skadevergoeding betaal, die militêre stelsel van die Zoeloes afskaf en die leër ontbind. Die sendelinge moes ook weer in Zoeloeland toegelaat en ‘n Britse resident daar ontvang word.
Die ultimatum is deur Cetshwayo verwerp. ‘n Belangrike rede waarom die Zoeloehoof teen die Britse owerhede gekant geraak het, was omdat hulle ná die anneksasie van Transvaal nie langer sy aansprake op Transvaalse grondgebied gesteun het nie. Britse magte het Natal binnegeruk. Die Zoeloes is verslaan, maar nie voordat die grootste oorlog teen Suid-Afrikaanse inboorlinge gevoer was nie en die verskriklike slagting by Isandlwana, waar oor die 800 blankes en bykans 5 00 Bantoes in die Britse mag gesneuwel het. Deur die heldhaftige verdediging van Rorkesdrif is Natal van ‘n inval gered.
Die Britse openbare mening en die Britse regering het die blaam op Frere gewerp, wat die slagoffer geword het van omstandighede wat nie sy skepping was nie, en van toestande wat lank voor sy koms voorberei was. Die doel waarvoor hy na Suid-Afrika gestuur was, sou hy nie verwesenlik nie.
Sir Garnet Wolseley Hoë Kommissaris
Sir Garnet Wolseley is in sy plek as Hoë Kommissaris vir Transvaal en Natal benoem. Voor sy aankoms is die Zoeloes reeds in Julie by Ulundi verpletterend verslaan en Cetshwayo gevange geneem. Wolseley het Zoeloeland in dertien dele verdeel en oor elke deel ‘n nietige hoofman aangestel – ‘n skikking wat uit die staanspoor ‘n mislukking was. Die grootpraterige Wolseley is daarop na Transvaal, waar hy die bevolking verseker het dat die herstel van Transvaal se onafhanklikheid net so onmoontlik was as dat die Vaalrivier na sy bron kan terugvloei. Wolseley se houding het goter gisting in Transvaal veroorsaak.
Ook Sekoekeni het van die begin af die Britse bestuur uitgetart. Shepstone het ná ondersoek nou tot die gevolgtrekking gekom dat die Bapedi nie onafhanklik was soos hy vroeër beweer het nie en geëis dat Sekoekoeni die voorwaardes met pres. Burgers aangegaan, moes nakom. Die opperhoof het geweier en Shepstone het militêre hulp uit Natal gevra. Die Britse mag het min uitgerig. Eers teen die einde van 1879, nadat Wolseley administrateur Shepston as goewerneur van Transvaal vervang het, is die Bapedi-opstand onderdruk en Sekoekoenie as gevangene na Pretoria vervoer.
Disraeli deur Gladstone vervang
Die Liberale Party in Engeland het munt geslaan uit die onveilige Imperiale beleid van Disraeli se regering, nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook in Turkye en Afganistan. Disraeli en sy regering is deur Gladstone in treffende verkiesingstoesprake en in die Britse parlement veroordeel. Disraeli het hom op die volk beroep en is by die verkiesing in April 1880 verslaan. Die Liberale het die bewind oorgeneem met ‘n meerderheid soos daar lank nie gewees het nie. Gladstone het die nuwe kabinet gevorm.
Dit was nog nie die einde van die federasiepoging nie. Ook die Liberale regering was bereid om daarmee voort te gaan. In Mei 1880 het sir Bartle Frere die saak in sy openingsrede aan die Kaapse parlement voorgedra. Sprigg het voorgestel dat ‘ n konferensie gehou word, o.m. om ‘n nadere unie van die Britse kolonies te bespreek. Die voorstel is afgestem. Frere was spyt, maar het erken dat die toestande in Zoeloeland en in die geannekseerde Transvaal dit onwenslik gemaak het om verder op nouer aaneensluiting van die Britse kolonies aan te dring.
Einde van federasieplan
Op 12 Augustus 1880 is Frere, die mislukte konfederator, teruggeroep, en op 30 Desember het lord Kimberley, minister van kolonies in Gladstone se kabinet, sir Hercules Robinson, die nuwe Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, versoek om die Kaapse ministerie te probeer beweeg om die konfederasie-idee te laat vaar. Voortaan moes so ‘n beweging gebore word uit die oortuiging van die kolonies dat hul staatkundige en stoflike belange dit vereis.
Twee weke tevore reeds het die Eerste Vryheidsoorlog uitgebreek.
— — — oOo — — —