A.J.H. van der W, M.A., D. Phil
Die Groot Trek is ongetwyfeld een van die gewigtigste gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika. Groot nuwe gebiede is binne minder as een geslag deur ‘n klein en dun verspreide blanke bevolking binne die kring van die Wes-Europese beskawing gebring. Nuwe state het ontstaan, en uit albei omstandighede het maatskaplike en staatkukndige probleme ontwikkel wat aan die weefsel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sy eienaardige patroon verleen. Maar nie alleen dit nie. Die Trek is van meer as plaaslike betekenis weens sy groot aandeel in die handhawing van ‘n rassuiwere blanke gemeenskap in Suid-Afrika, en weens sy oorwegende aandeel in die bestendiging van ‘n Hollands-Afrikaanse kultuur en die gedagte van die noodwendigheid van die voortbestaan van ‘n staatkundig vrye en selfstandige Afrikanernasie, draer van die oorgeërfde en in die bodem gewortelde Afrikaanse kulttuur.
18de-eeuse trekbeweging en Groot Trek: onderskeid
Hierdie groot volksbeweging met sy verreikende gevolge word soms beskou as die regstreekse voortsetting van die 18de-eeuse trek van die veeboere na die binneland, slegs in tempo verhaas deur ‘n bykomende ophoping van griewe teen die beleid van die nuwe Engelse bewind. Die Groot Trek onderskei hom egter baie duidelik van die vroeëre trekbeweging, nie alleen in omvang en organisasie nie, maar veral in dryfvere en bedoeling. Die een was ‘n suiwer ekonomiese; die ander hoofsaaklik ‘n staatkundige beweging.
Die 18de-eeuse trek het weliswaar groot invloed uitgeoefen as voorbereidende faktor. Dit het die geharde Afrikaanse baanbreker gekweek, ‘n mens met min behoeftes, en met die selfstandigheid en handigheid om in daardie behoeftes grotendeels self te voorsien uit die betreklik skrale materiaal wat die bodem hom gebied het. Dit het die Afrikaner wat die binneland bewoon het, liggaamlik en sielkundig mobiel gemaak en in hierdie mobielmaking lê opgesluit die noodwendige voorwaarde vir die praktiese moontlikheid van die latere groot volksbeweging, die vorm wat die verset teen die beleid van die nuwe Britse bewind ten slotte aangeneem het. ‘n Regstreekse oorsaaklike verband bestaan egter nie.
Die verkeerde beskouing dat die Groot Trek in hoofsaak ‘n voortsetting was van die beweging van die veeboere, wat reeds langer as ‘n eeu aan die gang was, is veral te wyte aan die feit dat dié trek in die 19cde eeu en selfs gedurende die Groot Trek nog onverpoos voortgegaan het.
Vestiging in Noord-Kaapland
Nadat die voorste veeboere in die vorige eeu teen 1780 aan die Vis;rivier teen die Bantoes gestuit het, was verdere uitbreiding van die grense ooswaarts onmoontlik. In die noorde was die wêreld onherbergsaam en ongeskik vir verdere uitbreiding op daardie tydstip. Agter die Sneeuberge tot aan die Oranjerivier het nog mooi weivelde gelê met voldoende water. Hier het die verbitterde vyandigheid van die Boesmans ‘n gereelde uitbreiding en bewoning langer as 20 jaar teëgehou. Toe egter in die begin van die 19de eeu ‘n beter verhouding tot die Boesmans geskep is, kon die uitbreidingsdrang van die veeboere nie langer teëgehou word nie. Die gebied van die Nuweveldberge, tot aan die Kareeberg en aan die benedeloop van die Ongers- en die Brakrivier, en die strook land agter die Sneeuberge tot aan die Oranjerivier is in besit geneem.
Oranje word oorgesteek
Die Engelse regering, net soos die Kompanjiesregering in sy later jare, was sterk gekant teen verdere uitbreiding van die kolonie; maar ook hy moes swig voor die drang van omstandighede. In 1822 het hy die voldonge feit erken en die grenslyn in die noordooste verskuif tot aan die Stormbergspruit en die Oranjerivier, in die noorde tot aan die Kareeberg – ‘n oppervlakte van sowat 130 000 vk. km. Hierdie amptelike uitbreiding van die grense het nie eens tydelike verligting gebring nie, want dit was slegs ‘n toevoeging tot die kolonie van reeds bewoonde plase. Nouliks was die grense vasgestel of dit het geblyk dat die regering nie in staat was om dit te handhaaf nie. Reeds van 1819 af het boere met hul vee af en toe oor die Oranjerivier getrek om tydelik weiveld te soek in tye van droogte. Van 1825 af het hierdie gewoonte toegeneem. Boere het gereeld heen en weer oor die rivier getrek. In die begin het hulle getrek en teruggekom, maar dit het nie lank geduur nie of hulle het in Transoranje begin agterbly.(1)
(1)P.J. van der Merwe: Die Noordwaartse Beweging van die Boere voor die Groot Trek, pp. 130-134, et passim
Sedert 1830 het meer en meer boere hulle metterwoon gevestig in Transoranje en veral gedurende en ná die groot droogte van 1837 en 1838 het hul getalle sterk toegeneem. Die meeste het hulle gevestig aan die Modder-, Riet- en die Kafferrivier, maar sommige het so ver noord as die Vetrivier gaan woon. Onder hulle was daar mense uit verskillende distrikte, maar die groot meerderheid het verhuis uit die distrik Colesberg en ‘n klein minderheid uit die noordelike wyke van Graaff-Reinet – uit die gebied dus van die 19de-eeuse trekboere. Hulle het Michiel Oberholzer, oud-veldkornet uit die wyk Winterveld, wat hom in 1837 in Transoranje gevestig het, as leier erken. Teen 1842 het sy groep bestaan uit 350 weerbare manne, dus gewis ver oor die duisend siele. Teen 1844 het tussen die Oranje- en die Modderrivier alleen 1 500 blankes gewoon.
Hierdie mense het, soos hul 18de-eeuse voorgangers, die Kolonie met hulle as’t ware op die trekpad saamgevoer. Hulle het geen begeerte gehad om hulle aan die Kaapse gesag te onttrek nie en het gehoop dat, soos steeds in die verlede, die Koloniale regering maar weer daartoe sou oorgaan om die grense uit te brei om hulle te omsluit. Die kulturele band met die ou Kolonie het hulle, so goed en so kwaad as dit gegaan het, probeer bewaar deur hul kinders in Colesberg te laat doop en die Nagmaal te gebruik wanneer ‘n besoekende predikant die dorpie aangedoen het. Hulle het belastings daar gaan betaal tot 1837, toe die Kaapse regering geweier het om dit langer te ontvang, omdat hy die verblyf buite die amptelike grense van die Kolonie nie wou aanmoedig nie. Ook het hulle hul benodigdhede in die Kolonie gaan koop en hul slagbeeste aan Koloniale slagtersknegte verkoop. Kortom, hulle het in alle opsigte gelewe soos Koloniale burgers van die distrik Colesberg.
Trekboere lojaal aan koloniale owerheid
Dié mense het hul lojale gevoelens ook nooit onder stoele en banke weggesteek nie. In 1842 kon veldkommandant N.J. van der Walt en veldkornet Joubert, wat oor die Oranjerivier gestuur was om die gevoelens van die trekboere te toets, rapporteer dat “sy wenschen, smeeken en hoopen dat het gouvernement zonder uitstel zyn bescherming over hen uijt strekt”. ‘n Maand later het Oberholzer en 192 van sy volgelinge in ‘n Memorie die Goewerneur gesmeek om hulle nooit anders te wil beskou as Britse onderdane, wat die Kolonie nie verlaat het om teen Haar Majesteit se gesag te muit nie, maar alleen uit nood om ‘n bestaan vir hul gesinne te vind. Hulle smeek tewens dat hul gevoelens aan “onser aller genaadige Kooninggen van Groot Brittanje” bekend gemaak sal word, met die nederige versekering dat hulle nooit geprobeer het om hulle aan Haar Majesteit se Christelike wette te onttrek nie, en dat hulle steeds bereid bly om dié wette en alle ander billike wette te gehoorsaam.(2)
(2)Vgl. P.J. van der Merwe, op. cit., p. 356
Hierdie houding van die trekboere, in teenstelling met die besliste en dikwels militante republikanisme van die Voortrekkers, hoef geen verbasing te wek nie. Die noord-oostelike hoek van die Kolonie, van waar hulle gekom het, het buite die aanvalsterrein van die Kôsas geval, en die inwoners het die ellende wat die oostelike grensdistrikte moes verduur, dus vrygespring. Hulle het betreklik geïsoleer gewoon, min met die regeringsgesag in aanraking gekom en daarom minder politieke griewe ontwikkel.
Wel was daar onder hierdie mense ook ‘n aantal wat hulle met die doel en strewe van die Voortrekkers vereenselwig het, en selfs met die georganiseerde trekke meegereis het. Bekende voorbeelde is die Krugers, Casper Jan Hendrik en sy jong seun Paul, later president en onverbiddelike voorvegter van republikeinse vryheid, asook sy oom Gert, wat saam m et sy broer Casper ‘n belangrike rol in die stigting van die Voortrekkerstaat in Transvaal gespeel het. Maar hulle was uitsonderinge. Die meerderheid het hulle jare lank afsydig gehou van die ideale van die republikeine om ‘n eie staat te stig en uit te bou. En dit vorm ‘n uiters belangwekkende vraag, in hoeverre hierdie groep en sy nakomelinge verantwoordelik was vir die neiging in die latere Oranje-Vrystaat voor 1870 om politiek liewer met die Kaapkolonie as met die noordelike Voortrekker-buurstaat saam te werk.
Voortrekkers: ander dryfvere
In besonder skerpe teëstelling met die ongeorganiseerde trekwyse van die trekboere, met hul suiwer ekonomiese motiewe en veral hul passiewe en lojalistiese houding teenoor die Britse regering, staan die organisasie, die dryfvere en die politieke bedoeling van die Voortrekkers.
Uit die voorafgaande het geblyk dat die trek van die veeboere uit Colesberg sedert omstreeks 1830 die natuurlike voortsetting was van die drang na nuwe bestaansruimte, wat die veeboere reeds langer as ‘n eeu besiel het. Dit het heeltemal spontaan plaasgevind en is gelei deur individue of deur geïsoleerde families. Die Groot Trek daarenteen was ‘n georganiseerde beweging in groepe wat onder erkende leiers gereis het. Hulle het self geen belang gestel in die gebied van die trekboere nie. Dié het hulle links laat lê en getrek na gebiede ver van die Koloniale grense verwyder. Hul motiewe en bedoellinge is aan ons oorgelewer deur talryke briewe en verklaringe van Voortrekkerleiers en gewone burgers, sowel as van min of meer onsydige waarnemers wat buite die beweging gestaan het.
Dit lê voor die hand dat die opgegewe motiewe veel sal verskil. Dit het in besonderhede verskil van gesin tot gesin;dikwels waarskynlik van individu tot individu, maar, soos by alle groot volksbeweginge, was daar ‘n leidende idee aanwesig wat, hoewel vaag, half bewus en verward by individue, tog met klaarheid as gemeenskapsgedagte tot uiting gekom het by die groep. Sonder om vir eers te let op afwykende besonderhede, sal die algemeen gevoelde oorsake van ontevredenheid met die Britse beleid ondersoek word en dan die vorm wat die reaksie teen dié beleid aangeneem het.
Manifes van Retief
Van al die Voortrekkerleiers sowel as individue van wie ons getuienis besit, was Piet Retief ongetwyfeld die man met die beste algemene ontwikkeling en die grootste politieke ervaring. Hy het daarby in verantwoordelike ampte as veldkornet en veldkommandant die moeilikhede van die grensbewoners intens meebelewe. Van Voortrekkerkant kan sy getuienis derhalwe as die mees gesaghebbende beskou word. In sy bekende Manifes, wat die kern van die inhoud van sy talryke briewe bevat, word die oorsake van dieontevredenheid onder vier hoofde ingedeel:
1.Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vabonde wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op dié manier deur inwendige beroeringe gekwel word nie.
2.Ons kla oor die gevoelige verliese wat ons genoodsaak is om te ly deur die vryverklaring van ons slawe en die ergerlike wette wat daar m.b.t. hulle gemaak is.
3.Ons kla oor die stelselmatige en aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van die Kaffers en ander kleurlinge, en besonderlik deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.
4.Ons kla oor die onregverdige blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone, onder die dekmantel van godsdiens – persone wie se getuienis in Engeland geglo word tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel; en ons voorsien a.g.v. hierdie vooroordeel niks anders as die totale ondergang van die land nie.(3)
(3)Vertaling van die oorspronklike in die Grahamstown Journal van 2 Feb. 1837
Geskiedenis van Boshof
Retief se getuienis word in hoofsaak bevestig deur J.N. Boshof, magistraatsklerk van Graaff-Reinet, wat in 1839 die Voortrekkers in Natal besoek en sy lot by hulle ingewerp het. As magistraatsklerk het hy ruimskoots geleentheid gehad om op die hoogte te kom van die besondere moeilikhede en die gevoelens van die bewoners van die oosgrens. In Natal kon hy hom verder vergewis van die griewe van die mense, en aangesien sy hele latere loopbaan bewys dat hy allesbehalwe onsimpatiek gestaan het teenoor die Engelse gesag in Suid-Afrika, kan sy getuienis in hoë mate as onpartydig en gesaghebbend beskou word. Die oorsake, behandel in sy reeds gemelde brief van 17 Februarie 1839, kan saamgevat word onder twee hoofde:
I WANTROUE IN DIE KOLONIE EN VERAL IN DIE IMPERIALE REGERING
As redes vir die wantroue word aangegee, eerstens, die vermindering in waarde van die Koloniale munteenheid, die riksdaalder – wat deur mense, gewoond om hul spaarpenninge op te gaar, beskou is as ‘n aanslag op ‘n deel van hul eiendom – en die verliese gely deur die onbillike wyse waarop vergoeding vir die vrygemaakte slawe bereken en uitbetaal is. Die boere het hulself as bedroë en beroof van hul wettige eiendom beskou en die regering en die Britse parlement openlik daarvan beskuldig. Wat die saak nog vererger het, was die feit dat die noodsaaklike wetgewing teen rondlopery, ná die befryding in 1834 deur die Wetgewende Raad aangeneem, op grond van vertoë deur dr. Philip nie bekragtig is nie – ‘n duidelike bewys dat daar geen beskerming sou wees teen rondlopery nie, die grootste aanmoediging tot alle ernstiger misdade.
Die weiering van die regering om ingrypend op te tree teen rondlopery van Kôsas, Boesman, Korannes en ander, en die verbod op selfbeskerming met vuurwapens behalwe in die duidelikste gevalle van selfverdediging, het die oortuiging by die koloniste gewek dat die Engelse regering met voorbedagte rade daarop uit was om die blanke bevolking te onderdruk, “as every new law or ordinance in which the black population was concerned betrayed the most tender and paternal care for them, and disregard of the interests of the Whites”
Die inval deur Bantoes in 1834, die verliese daardeur gely en die nie-betaling van die beloofde skadeverboeding ná die oorlog, nadat die burgers hul diensplig met groot opoffering getrou nagekom het, het hulle geruïneer en verbitter. Die dépêche van lord Glenelg aan sir Benjamin D’Urban waarin boonop die skuld vir die inval o;p die skouers van die koloniste gelê word, het hulle laat wanhoop aan die toekoms. Dit het ook diegene wat nog geaarsel het, laat besluit om te trek. Eindelik het die feit dat die regering kaart en transport op grond wat reeds jare afgemeet was, weerhou het, die vermoede laat ontstaan dat die een of ander plan, n adelig vir hul belange, in die skild gevoer word. In hierdie verband wys ook luitenant-goewerneur Andries Strockenström, in ‘n brief van 12 Januarie 1839 aan die Goewerneur, daarop dat die partydigheid en onregverdigheid van die administrasie by die verdeling van grond, en die laksheid en verwarring wat daar geheers het by die uitreiking van grondbriewe, die grondslae van alle vertroue geskok en ‘n diepe agterdog teenoor die planne van die regering gewek het.
II WANVERHOUDING TUSSEN HEER EN KNEG
Volgens Boshof het die emigrante self verklaar dat hulle in die Kolonie geen beheer oor hul bediendes gehad het nie. Die owerheid het hom nie aan die aangeleentheid gesteur nie en klagtes by veldkornette en magistrate was vergeefs. Oortreders kon moeilik voor die hof gebring word en dikwels was die boer verplig om self straf toe te dien – met die risiko om ‘n wetsoortreding te begaan. Gekleurde bediendes het geweet dat die owerheid hulle feitlik teen hul meesters in beskerming geneem het en het om dié rede al hoe astranter geword. Moeg van die uittarting het die boere verkies om te trek.(4)
(4)Bird: Annals of Natal, Dl. I, p. 511 (Afrikaanse vertaling van die skrywer)
Die vyfde punt van Retief se Manifes kom onregstreeks op dieselfde saak neer: “Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die beginsels van ware vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal toesien dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vasbeslote om behoorlike wette in te stel ter onderdrukking van misdade, en om ‘n behoorlike verhouding te bewaar tussen heer en diensbode.”
Die verstoring van die verhouding tussen heer en diensbode het swaar geweeg, soos maar te duidelik blyk uit die veelvuldige en eenstemmige getuienisse van Voortrekkerleiers. Onder die Hollandse bewind was die verhouding tussen heer en kneg van ‘n byna feodale voogdy-aard. Afgesien van die feit dat die sosiale skeidslyn streng gehandhaaf is, het die boer sy slawe en vrye bediendes beskou enigsins in die lig van onmondige kinders. Die loon van die vrye bediendes was gering, maar hulle is met kleding en voedsel versorg. In baie gevalle is hul geestelike welvaart ook nie verwaarloos nie, en is hulle toegelaat om tydens die daaglikse huisgodsdiens in die deur van die woonkamer neer te hurk. As die bediende verbrou het, is hy gestraf, dikwels met ‘n pak slae, en so tot sy plig gebring.
Dit is goed om te onthou dat dit ‘n tyd was toe die vaderlike gesag selfs teenoor die kinders met die uiterste strengheid en soms selfs hardvogtigheid uitgeoefen is. By pligsversuim of oortreding is die tugroede nooit gespaar nie. Dat daar gevalle voorgekom het van mishandeling, ly geen twyfel nie, want die grensboere was geen buitengewone gemeenskap van engele nie. Maar afgesien van die berigte van ‘n paar bevooroordeelde sendelinge, wat hulle dikwels laat mislei het deur los praatjies, is die getuienis van selfs hooggeplaaste Engelse ampsdraers dat die lot van die Kaapse slaaf en bediende ver van sleg was.
Hierdie voogdy-verhouding is, met die beste bedoelling van menslikheid, deur lord Caledon vervang deur ‘n kontrakverhouding. Voortaan sou die boer nie meer self die tug mag handhaaf onder sy bediendes nie. In die uitgestrekte en dun bewoonde grensdistrikte, skraal voorsien van regsamptenare, het dit tot oneindige en tergende moeilikhede gelei, soos voldoende blyk uit die insiggewende beskrywing van Boshof. Die moeilikhede het daarby nadelig teruggewerk op die goeie verhouding tussen heer en diensbode.
Gelykstelling van blank en gekleurd
Ten slotte gee Boshof nog as oorsaak “van ondergeskikte betekenis” dat gekleurdes aangemoedig was om hulle op gelyke voet met blankes te beskou in hul goedsdiensoefening, en die vermoede dat dit die doel van die regering was om bloedvermenging tussen blankes en gekleurdes aan te moedig. Belangwekkend is in hierdie verband die getuienis van Anna Steenkamp, ‘n broerskind van Piet Retief. Sy gee o.m. as rede van die Trek aan die onregverdige vrystelling van die slawe, wat egter nie soseer ‘n regstreekse oorsaak was nie as die gelykstelling met Christene wat sy as strydig beskou het met die wet van God en die natuurlike onderskeid van afkoms en geloof. Sy het verklaar dat dit ondraaglik was om onder so ‘n las te buk en daarom het hulle liewer padgegee om so des tebeter hul geloof en leer in suiwerheid te bewaar.(5)
(5)Dagboek van Anna Steenkamp (Uitgegee deur ‘n paar samewerkers, Pietermaritzburg, 1939)
Die Boerevolk van die 18de en 19de eeu het sy geestelike leiding byna uitsluitend gesoek en gevind in die Heilige Skrif, en die geskiedenis van Israel met sy goddelike roeping en die daaruit spruitende bevel om hom apart te hou van die heidense nasies, het ‘n onuitwisbare indruk op die volksgemoed gemaak. Die idee van geroepenheid, van apartheid, van die taak om hulle vry te hou van vermenging met die heidense volke, het in die weefsel van hul godsdiensopvattinge gewortel en vorm inderdaad die diepste ondergrond van die kragtige rassebewustheid van die Voortrekkers, hul nasate en geesverwante. Daarby was die heidense stamme lede van die donkerkleurige rasse, deur die Voortrekkers vereenselwig met Gam se geslag en geag te staan onder die vloek op Kanaän, wat die kneg der knegte van sy broers sou wees.
Hul praktiese lewenservaring het hierdie oortuiging verder versterk. Die lewe van pioniers was een onafgebroke stryd teen die ongetemde natuur en teen barbaarse stamme, wie se beskawingspeil ver benede hulle s’n gestaan het. Die individu sowel as die groep moes veg of ondergaan, en in dié stryd is ‘n groepsbewussyn en rassegevoel in besondere mate bevorder.
Vervreemding van koloniste deur regering se kleurbeleid
Die gelykstellingspolitiek van die Engelse regering onder filantropiese en liberalisteise invloed,wat sy toppunt bereik het in Ordonnansie 50 van 1828, het teen die fundamentele opvattinge van die Afrikaners ingedruis en hulle met kommer vir die toekoms vervul.
Die onsekerheid van lewe en besit in die oostelike grensdistrikte; die ondraaglike verliese daardeur, sowel as deur die ontoereikende skadevergoeding vir die bevryde slawe, gely; die verstoring van die behoorlike verhouding tussen heer en bedien; sosiale en politieke gelykstelling van blankes engekleurdes – dit was, in die oë van die grensbewoners, die wrange vrugte van die Engelse kleur-en grensbeleid.
Die oortuiging wat gaandeweg ontstaan het dat die regering met die teerste besorgdheid vervul was alleen vir die gekleurde bevolking, en die totale ondergang van die blanke bevolking met onverskilligheid sou aansien, was ongetwyfeld die grondoorsaak van die wantroue in, en die ontevredenheid met, die Engelse bewind.(6) Dit het die finale stoot gegee tot daadwerklike oiptrede.
Terselfdertyd ly dit geen twyfel nie, hoewel die Voortrekkers self daaroor ‘n byna volledige stilswye bewaar, dat ‘n reeks gebeurtenisse deur al die jare heen voor die Groot Trek kumulatief gewerk en die algemene grondslag vir die ontevredenheid met ‘n bewind wat van die begin af as ‘n onwelkome indringer beskou is, geskep het.
(6)Vgl. J.N. Boshof in Bird, op. cit., p. 508
Die “Swarte Ommegang” van 1812 – die vervolging van ‘n groot aantal eerbare families op aanklagte ingebring deur bediendes o.l.v. dweepsieke en liggelowige sendelinge – het deur die grensgebied verontwaardiging gewerk. Hoewel die hof die koloniste, op ‘n paar uitsonderings na, in die gelyk gestel het, het die vernedering algemene verontrusting gebaar en ‘n merk op die volksgemoed gelaat wat nie maklik uitgewis sou word nie. Die herinnering aan hierdie gebeurtenis was nog vars in die geheue toe die verknoeide teregstelling aan die galg van Slagtersnek’n nuwe skok gebring het. Geslagte lank het dit in die volksgeheue voortgeleef as die “simvool van hardvogtige onderdrukking”.
Beleid van verengelsing
Die vervanging van Hollands deur Engels as amptelike landstaal en die afskaffing van die howe van landdros en heemrade, waarmee die koloniste vertroud was, en wat hulle selfs ‘n mate van seggenskap in die sake gegee het, is met volslae stilswye ontvang. Die nasionale bewussyn was nog n ie so sterk ontwikkel dat dit tot ‘n bewuste reaksie kon lei nie. Tog het die nuwe landstaal die verkeer met die administrasie bemoeilik; en die onbekende regsprosedure, met die vreemde taal van die nuwe howe, hoe goed hulle origens ook al was, het regsverkryging bemoeilik. Die groot meerderheid van die blanke bevolking het hulle vreemdelinge in hul eie land begin voel.
Trek die enigsgte uitweg
Nog voor die jaar 1834 het die ontevredenheid met die Britse bewind sy hoogtepunt bereik. Tot dan toe, so skryf W.J. Pretorius, was daar geen organisasie waardeur die begeerte om hulle aan die gesag van die Britse regering te onttrek, ten uitvoer gebring kon word nie.(7) Hierdie reaksie op die moeilikhede in die Kaapkolonie, nl. om weg te trek, is belangwekkend.
(7)Bird, op. cit., p. 230
Dit was nie die eerste keer dat die ontevredenheid van die koloniste teen hul regering hoog opgelaai het nie. In die vorige eeu, in 1779, het hulle langs konstitusionele weg, volgens die ou Hollandse gebruik van petisionering, verbetering in die ekonomiese toestande en groter politieke seggenskap probeer verkry. Dit was egter grotendeels die werk van die meer gevestigde koloniste van die weste.
In 1795 het die inwoners van die grensdistrikte, die vaders van die geslag van die Voortrekkers, tot daadkragtige verset oorgegaan en binne die grense van die Kolonie hul eie bestuur, vry van die gesag van die Kompanjie, opgerig. Hierdie stap was nouliks gedoen toe internasionale verhoudinge dit vernietig het. ‘n Paar sporadiese opstande daarna het slegs die vrugteloosheid van verset aangetoon. Teen 1834 het haar niemand meer gedink aan politieke agitasie as redmiddel nie. Die ou gebruik van petisionering het hulle as nutteloos beskou, omdat hul vryande in Engelad geglo is, “tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel. Met die Engelse gebruike was hulle onbekend. Afgesien van die feit dat die trekneiging in die Afrikaners se bloed gesit het, was die enigste uitweg inderdaad om ‘n eie onafhanklike staat te probeer stig buite die grense van die Kolonie.
Piet Retief, wat in staat was om die beweging soos niemand anders nie op te som, maak daar hoegenaamd geen geheim van nie: “Ons verlaat die Kolonie met die volle versekering dat die Engelse regering niks meer van ons te vorder het nie en ons, sonder verder bemoeiing, sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.” In een van hul eerste amptelike briewe, gedateer 21 Julie 1837, het Piet Retief as Goewerneur en Gerrit Maritz as President-regter van die Raad van Politie aan sir Benjamin D’Urban laat weet dat die Trekkers “als een vrye en onafhanelyk volk willen werkend worden”.(8)
(8)Gepubliseer in Preller: Voortrekkermense, II, pp. 280-281
Politieke motiewe van Trekleiers
Ander Voortrekkerleiers het hierdie besliste doelstelling met kragtige ondubbelsinnigheid vertolk. Reeds voor sy vertrek uit die Kolonie spreek Andries Pretorius die gedagte uit dat die Trek van God gewil is, en, as dit Hom behaag, sou die Trekkers in die land waarheen hulle verhuis “tot een volk worden en ter Syne eere leeven”.(9)
(9)Voortrekker-Argiefstukke 1829-1849, bl. 27. Vgl. D.W. Kruger: Die Weg na die See, in Argief-Jaarboek vir S.A. Geskiedenis, Eerste Jaargang, Deel I, p. 52
‘n Paar jaar later skryf hy aan die Kaapse Goewerneur dat hy hom aan geen moondheid ter wêreld nie, en minste van almal aan Engeland, sal onderwerp. Hy voeg daarby dat hy geen Engelsman is en hoop om nooit een te word nie. Hy het sy woord gestand gedoen. Potgieter was met dieselfde vryheidsgees besiel. Op 3 Desember 1838 het hy die Kaapse Goewerneur in kennis gestel dat die Trekkers hulle as vrye burgers beskou, om te gaan waarheen hulle verkies. Hulle begeer slegs wat ander nasies reeds besit. Later verklaar hy aan sir Harry Smith dat hulle liewer opnuut van die eiendomsreg op hulle grond afstand sou doen, “hoewel hetzelve te doen ons zeer smartlijk zoude vallen”, as om Britse onderdane te word. Eerder sou hulle verder trek, “tot wij een stukje gronds vinden waar wy vry kunnen blyven”.(10)
(10)D.W. Krüger, op. cit., p. 50
Hul strewe na en reg op politieke onafhanklikheid is origens deur die Natalse Volksraad in 1841 en 1842 met krag uiteengesit.(11) Ten slotte is hierdie idealistiese gemeenskapsmotief met klaarheid en insig vertolk deur die Volksraad van Lydenbug in ‘n brief aan De Oude Emigrant van 3 April 1860. In hierdie brief word verklaar dat hulle getrek het “om evenals onze voorgeslachten en alle Europeesche natien voor ons gedaan hebben, een eigen land, en een eigen regeringsvom te bekomen en op te righten, en om ons daardoor vry te houden van alle wetten en gewoonten van andere natien, die met ons geweten en nationaal gevoel strydig en in ons oog onbehoorllijk zyn…”
(11)Sien Bird, op. cit., Vol. I, p. 657 en p. 694
Dryfvere nie-materieel
Dit kan aanv aar word dat by sommige enkelinge stoflike behoeftes, in die begin altans, oorweginge was. Sarel Cilliers, wat, in sy opgawe van die oorsake van sy uittog, die weiering van die Kaapse Goewerneur om aqan ‘n petisie om grond in Transoranje gevolg te gee, voorop stel, is hiervan ‘n voorbeeld. Dit is egter goed om te onthou dat Cilliers en die families by hom eintlik tot die trekboere behoort het, en dus mense was wat deur die stroom van die Groot Trek opgevang en meegesleur is.
“Grondhonger” speel in die Groot Trek as sodanig ‘n wesenlik ondegeskikte rol. Selfs hul groot vyand, dr. Philip, hoewel hy die grondvraagstuk i.v.m. die trekboere in Transoranje noem, skryf i.v.m. die Voortrekkers: “I had heard of cone of them who adopted this course from necessity. None of them who were at a loss for a provision of their families within the Colony. Most of them were in posession of large herds and flocks. They were the proprietors of their own farmswhich they held at fair prices.”
Die Groot Trek was in sy wese die eerste groot mobilisasie van ‘n deel van die Afrikanervolk met ‘n weloorwoë en goedbegrepe doel: die stigting en uitbou van ‘n vrye en staatkundige onafhanklike staat, waarin hulle volgens eie tradisies en onder eie wette kon leef.
Verkenning van die binneland
Vir ‘n groot, georganiseerde beweging was voorbereiding nodig. Veral was kennjis van toestande in die noorde en ooste nodig. Die wêreld moes verken word, met die oog op ‘n geskikte woongebied, voordat die wiele kon begin rol. Die reis van dr. Andrew Smith en sy terugkeer in 1834, het, volgens Cloete, die aandag van die boere op Natal gevestig. Jagpartye van veeboere in Transoranje het begin van geskikte gebied in die noorde.
Meer besonderhede was egter nodig en in die loop van 1834 is drie kommissies uitgestuur om te verken, deur die bemoeiinge verval van Piet Retief(12) en Gert Maritz, volens W.J. Pretoius, wat self lid van een van die kommissies was. Een kommissie, onder Pieter Lafras Uys, vergesel van later bekende Trekkers soos Karel Landman, Johannes de Lange en Jacobus Moolman, het deur Kafferland gereis na Port Natal. ‘n Tweede, onder Scholtz, het na die Soutpansberg gegaan en ‘n derde, onder Johannes Andries Pretorius, noordweswaarts na die Dorsland,maar sy verslag was ongunstig.
(12)Vgl. Egter H.B. Thom: Die lewe van Gert Maritz, wat dit betwyfel of Retief in die uitstuur van kommissies wel ‘n aandeel gehad het
Voorbereidsels vir die trek
Teen die einde van 1834 en vroeg in 1835 was die kommissies terug. ‘n Omvangryke taak het nou voorglê: Die beweging moes aangewakker en planne onderling bespreek word. W.J. Pretorius verklaar dat Maritz in die land rondgery het om die mense aan te vuur en om planne te beraam. Daar kan aangeneem word dat ander leiers dieselfde gedoen het en dat daar onderling graadpleeg is.
Intussen het die Kafferoorlog in 1835 uitgbeek, met al sy verwoesting en ellende. Dit het die trekbegeerte aangewakker, maar die uitvoering van die trekplanne vertraag. Eers in 1836 kon in alle erns met die voorbereiding begin word. Plase moes verkoop word, meestal ver onder die waarde, of verruil word vir ‘n wa of waens, want elke gesin het twee of drie nodig gehad vir die groot onderneming; kosvoorrade moes aangevul, genoegsame kledingstowwe vir ‘n lang tyd ingekoop en tente aangeskaf word; agterstallige belastings moes aangesuiwer word “opdat ‘n Goevernement niets meer van de mensen zou te vorderen hebben”.(13)
(13)Gesiteer deur P.J. Venter: “ Hoe die Trek Voorberei is”, Die Huisgenoot, Gedenkuitgawe, Des. 1938, p. 47
Houding van die owerheid
Ten slotte was daar die probleem hoe om genoeg kruit en lood te verkry. Die owerheid het allerlei struikelblokke in die weg gelê, want hy was van meet af teen die Trek gekant. Die verlies van soveel van die beste koloniste uit die grensdistrikte en van soveel weerbare manne was nie slegs ekonomies nadelig nie, maar sou die weerbaarheid van die Kolonie verswak en die gevare wat dit bedreig het, vergroot. Daarby was die magsopenbaring van die koloniste vir die regering beslis onaangenaam, veral waar dit hom voor ‘n voldonge feit geplaas het.
Die prokureur-generaal het, toe hy om regsadvies gevra is, prontweg verklaar dat die regering nòg die reg nòg die mag besit het om sy onderdane te verbied om te verhuis. Daar het niks oorgebly nie as om staat te maak op die ondoeltreffende “Cape of Good Hope Punishment Act”, wat aan Britse magistrate jurisdikse verleen het oor Britse onderdane in onbesette gebiede en om daarop aan te dring dat die koloniste Britse onderdane bly, waarheen hulle ook mag gaan.
Pogings is aangewend om die Trek te verydel deur tegemoetkominge te verhaas. D’Urban het by die Britse regering op betaling van skadevergoeding vir die gelede verliese aangedring, die uitgifte van grondbriewe verhaas, nuwe magistrate met tweetalige instruksies aangestel om die verkryging van reg te vergemaklik en te bespoedig, en meer troepe in die Wintrberge gestasioneer om die land tebeskerm. Dit was almal noodsaaklike hervorminge, wat egter te laat gekom het om nog enige uitwerking te hê.
Intussen is soveel struikelblokke as wat moontlik was, in die weg van die beweging gelê. Die siviele kommissarisse het die beheer oor die verkoop van kruit en lood gehad. In 1834 is ‘n ordonnansie uitgevaardig wat bepaal het dat niemand meer as 4-1/2 kg kruit mag besit of vervoer nie. Die bepaling is nou streng toegepas. Veldkornette moes toesien dat niemand die Kolonie verlaat met sy voeëre slawe, nou ingeboekte knegte, en meer as die bepaalde hoeveelheid kruit nie. Desondanks het die meeste Trekkers daarin geslaag om op die een of ander wyse groot hoeveelhede kruit en lood te bekom en oor die grense te vervoer.
Die oorgrote meerderheid van die Voortrekkers het uit die oostelike grensdistrikte gekom, wat onder die voortdurende skaduwee van die Bantoegevaar geleef het: Uitenhage, veral die wyke Boesmansrivier en Olifantshoek; Albanie, veral die wyk Winterberg; Somerset-Oos, veral uit die wyk Oos-Rietrivier, en Cradock, waaronder Tarka en Graaff-Reinet. Beaufort-Wes, hoewel buite die onmiddellike gevaarsone geleë, het ‘n aansienlike getal gelewer. Baie van hulle, o.a. die groot getal gesinne De Beer en De Klerk, was famililielede van die mense wat betrokke was by die Slagtersnekopstand.
Wie was die Voortrekkers?
Onder die Trekkers was daar heelwat mense wat volgens die begrippe van die tyd as welgesteld bestempel kon word. Party het heelwat geld besit, maar hul welstand is veral gemeet aan die groot getalle klein- en grootvee wat hulle besit het. Sommige was minder gegoed en selfs arm. Oor die algemeen was die Voortrekkers verteenwoordigend van die gevestigd en welvarende boere.
Sir Benjamin D’Urban beskryf hulle as behorende tot die oudste en fatsoenlikste inwoners van die betrokke distrikte – onverskrokke, geduldig, arbeidsaam, ordeliewend en godsdienstig, die bebouers van die grond, die verdedigers en belastingbetalers van die land. Aan die ander kant word hulle deur sir Harry Smith, ‘n wispelturige man op wie se oordeel ‘n mens nie altyd staat kan maak nie, maar wat die grensboere betreklik goed geken het, beskryf as mense met sterk vooroordele, veral wat die regering betref, uiters gesteld op wat hulle beskou as hul regte, gedurig in geskille met mekaar gewikkel en vervul met onderlinge wantroue, wat grotendeels gelei het tot die rampe wat hulle later oorval het.
In albei getuienisse steek daar waarheid: Die twee fasette van dieselfde edelgesteente. Dit ly geen twyfel nie dat die Voortrekkers as groep bestaan het uit mense van hoogstaande sedelike en godsdienstige karakter, gehoorsame en wetsgetroue burgers, ervare en onverskrokke verdedigers van hulle land. Hulle was grensboere, self baanbrekers wat uit pioniersgeslagte gestam het. Op hul uitgestrekte dun bevolke land, en ver verwyder van die gesag van ‘n regering, wat onbekwaam was om hulle te steun of te beskerm in die onafgebroke strydteen die ongetemde natuur en barbaarse stamme, was elkeen aangewese op eie inisiatief, vernuf en wakkerheid. Geleentheid om te leer saamwerk, om onderling oorleg te pleeg, behalwe in kleiner en groter kommando’s, was daar min.
Hierdie lewensomstandighede, wat geslagte lank geduur het, het die individualisme, inherent in hul ras en godsdiens, uitermate versterk. Dit was terselfdertyd hul krag en hul swakheid. Hulle het min boekgeleentheid besit, maar was toegerus met ‘n onoortreflike kennis van hul besondere omgewing en met gesonde politieke verstand. As vegsmanne was een man van hulle meer werd as vyf van ‘n meer gevestigde en gekoesterde Europese gemeenskap, maar in die krisis-ure van die gemeenskaplike onderneming en die volksbestaan het dit dikwels gehaper aan samewerking, met soms noodlottige gevolge.
Tsjaka se rol: Trekkers bevoordeel
Deur ‘n merkwaardige sameloop van omstandighede, het die Trek op ‘n uiters geskikte oomblik plaasgevind om sy welslae te verseker. Jare voordat aan die groot volkverhuising gedink is, het in die noordoostelike kusstrook van Suid-Afrika ‘n reeks gebeurtenisse begin onder die Bantoestamme wat bestem was om ‘n bepalende invloed op die geskiedenis van die emigrante te hê. Dit het begin met die opkoms van die bekende krygsman-tiran Tsjaka as hoof van die Amazoeloe in die gebied oorkant die Tugelarivier omstreeks 1817. Hy het groot veroweringsplanne gehad. Hy het die dissipline en krygsmetodes van sy stam verbeter en, so toegerus, begin om met ongeëwenaarde wreedsheid die Zoeloe-assegaai te doop in die bloed van die stamme na die noorde en suide. Niemand is gespaar nie, behalwe die jong mesieis en jong manne wat as lasdraers van sy leërs moes dien. Voordat hy in 1828 vermoor is, het sy impi’s die stamme oor sy noordelike grense tot aan Delagoabaai en suidwaarts tot aan die Umzimvubu uitgeroei of verdryf. Onder hulle was die groot Amangwani-stam, wat oorkant die Buffelsrivier gewoon het, en die Amahlubi, tussen die Buffels- en die Tugelarivier. Dingaan, nie minder wreed as sy voorganger nie, het Tsjaka opgevolg en sy heersersbeleid voortgesit.
Volksverhuising van Bantoestamme
Die golwe van die mensestorm wat in die Natalse kuslande gewoed het, het weldra oor die Drakensberge heen geslaan en die rustige bestaan van die hoëveldse stamme versteur. Die Amahlubi, in 1821 uit hul stamlande aan die Tugela gestoot, het oor die berge gevlug en die Batlôkwa oor die Wilge- en Molenrivier, in die huidige distrik Harrismith, aangeval en heeltemal verdryf. In hul vaart het hulle al die stammetjies wat aan die boloop van die Vaalrivier gewoon het, meegesdleur; en in een groot horde onder hul leidster, Mantatisi, die Vaalrivier deurwaad om verwoesting en dood te saai onder talryke vreedsame Bakwena-stamme oorkant die rivier. Dit word aangeneem dat nie minder as 28 stammetjies vernietig is nie voordat die moordtog deur die Bangwaketse gestuit en gedwing is om suidwaarts af te swenk. Op hul pad het hulle nog die Barolong en Batlapin verdryf.
Eindelik is hulle in Junie 1823 naby Kuruman deur ‘ n bende Griekwas onder Waterboek en die Koks aangeval en verslaan. Die groepe het uiteengespat en die oorblyfsel van die Batlôkwa onder Mantatisi en haar seun Sekonyela is terug na die Bo-Caledon, waar hulle voortgegaan het met die verwoesting van die stammetjies wat nog aan die westelike helling van die berge oorgebly het. Duisende het hul knopkieries en assegaaie ten prooi geval, en ander het gevlug. Dié wat hulle skuil gehou het, het oorgegaan tot kannibalisme. Behalwe die Batlôkwa in die hoë noordooste, ‘n skrale en armoedige oorblyfsel van die Bataung onder Makwana aan die Vetrivier en die Barolong ondeer Moroka, wat hulle op Thaba Nchu gevestig het, was die noordelike Transoranje ontvolk, ‘n woeste wildernis.
Verdere verwoesting deur Silkaats
Nog groter verwoesting is aangerig deur Silkaats, wat hom die onguns van sy opperheer, Tsjaka, op die hals gehaal en met ‘n afdeling Zoeloes onder sy bevel uit Zoeloeland weggevlug het. Hy het Transvaal in die ooste binnegetrek en die Bapedi aangeval. So ver as wat hy gegaan het, het die doodsbeendere oor die velde verspreid gelê. Tussen hom en die impi’s van Tsjaka moes ‘n wildernis geskep word. Eindelik het hy ‘n aantal militêre krale in die huidige distrik Marico tussen Mosega en Kapain gebou en daarvandaan die omringende land verwoes. Wat Mantatisi gelaat het, het die prooi van die Matabele geword. Van die Bapedi- en Bakwena-stamme kon slegs klein oorblyfsels hulle red deur skuiling te soek in klowe, bosse en grotte, waar ‘n nuwe vyand, hongerte, hulle geteister het.
Toestande in die noorde
Toe die Voortrekers in die noorde verskyn, was die toestand dus so: In die Natalse kuslande het die militêre heerser van die Zoeloes die septer geswaai oor die hele gebied van Delagoabaai tot aan die Umzimvubu, behalwe oor die land van die Swazi’s. Aan Port Natal het ‘n klompie Engelse handelaars en nedersetters met hul Bantoegevolg gewoon. Die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu was feitllik ontvolk. Wes van die berge was die stamme in die Noordelike Transoranje, met uitsondering van die Batlôkwa en die Bataung, vernietig of verdryf. Die oorblyfsel van die Bataung het daarby in daaglikse vrees vir die Matebele, wat die gebied gereeld geplunder het, geleef. In die berge in die ooste was die bekwame en geslepe Mosjesj besig om met ‘n paar klein stamme as kern, aangevul deur duisende vlugtelinge, die later so gedugte Basoeto-mag op te bou.
Noord van die Vaalrivier het ‘n tweede militêre heerser, Silkaats, die mag uitgeoefen. Behalwe sy Zoeloes, wat in militêre statte gewoon het en by wie baie van die jong meisies en manne van die oorwonne stamme ingelyf is, was die land, behalwe in die noorde, vrywel ontvolk. Hier en daar het klein oorblyfsels van die oorspronklike stamme hulle in skuilhoeke versteek.
Daar was dus aan die kus en in die binneland groot onbewoonde gebiede. Die Voortrekkers sou ook nie te doen kry met honderde klein stamme nie, maar slegs met ‘n paar magtige militêre heersers. Hoewel hierin groot gevare geskuil het, het dit sake baie vereenvoudig. Vir die onderdrukte stamme was die koms van die blankes ‘n seën, wat vir hulle die weg tot ‘n nuwe lewensbestaan geopen het.
Onderwys die laaste bedryf van die groot Bantoe-tragedie in die noorde afgespeel is, het die Trek in beweging gekom.
Trichardt en Van Rensburg aan die spits
Die trekgeselskappe van Trichardt en Van Rensburg kan beskou word as die voorlopers van die georganiseerde trekbeweging. Die Trichardts was ‘n welgestelde en gesiene familie in die oostelike grensdistrikte. Carel Trichardt, die vader van die Voortrekker, het as burgeroffisier ‘n vername aandeel gehad in die Kafferoorloë van die vorige eeu, sowel as in die verset in Graagg-Reinet, eers teen die Oos-Indiese Kompanjie en daarna teen die Engelse. Sy seun Louis het in aansien gekom as veldkornet in die distrik Somerset-Oos. Saam met soveel ander het hy jare lank die ergernis en ellende, veroorsaak deur die Britse beleid, beleef; en toe daardie beleid in 1828 gekulmineer het in die afkondiging van Ordonnansies 49 en 50, was sy maat vol.
In 1829 het hy sy seun, Carolus, met ‘n groot kudde vee na Kafferland gestuur terwyl hy agtergebly het om sy sake in orde te bring. In 1833 het hy hom by sy seun aan die Swart Kei gevoeg, waar hy grond van Hintsa gehuur het. In daardie geweste het hy in aanraking gekom met die Uys-kommissie. Toe Hintsa in 1835 met die Britse owerheid in botsing kom, het die Trichardts saam met ‘n paar ander families noordwaarts oor die Grootrivier getrek.
Naby die Vaalrivier het hulle die geselskap van Lang Hans van Rensburg, wat min of meer gelyktydig met hulle uit die Kolonie vertrek het, aangetref. Met ‘n groot draai, om die Matebele-krale, is die twee trekkies as aparte eenhede, maar in voeling met mekaar, oor Suikerbosrand deur Trichardtspoort, en so langs die Olifantsrivir op tot by Strydpoort. Trichardt het daar ‘n ruk vertoef, terwyl Van Rensburg met agt gesinne vooruit gegaan het om aanraking te soek met die Portugese hawens. Nooit sou ‘n blanke hierdie mense weer sien nie. Erens aan die Limpopo is hulle deur ‘n impi Kaalkaffers (voortvlugtende Zoeloes), waarskynlik met die medewerking van die Knopneus Sakana, tot die laaste man, vrou en kind uitgemoor.
Trichardt het stadig noordwaarts gereis op die waspore van Van Rensburg en eindelik tot staan gekom aan die Doringrivier in die buurt van die latere Schoemansdal en die huidige dorp Louis Trichardt.
Die Potgieter-trek
Intussen het kort op die hakke van die voorste trekkers die eerste werklik belangrike trek in beweging gekom o.l.v. Andries Hendrik Potgieter. Op jag, in die stryd met die Boesmans in die Colesbergse wêreld en op kommando’s teen die Bantoes, het hy ervaring opgedoen in die aanvoering van mense. In Tarka was hy ‘n man van aansien, hoof van sy getalsterke familie wat in die buurt gewoon het. Hy was streng godsdienstig en daarby konserwatief en sekuur in sy opvattinge en handelinge. Sy beslistheid het soms aan koppigheid gegrens. Hoekig van persoonlikheid, het hy hoë agting en trou by sy onmiddellike volgelinge afgedwing, maar dit soms moeilik gevind om met ander oor die weg te kom.
Hoewel daar geen haat teen die Engelse as sodanig by hom te bespeur was nie, het hy die vaste oortuiging gehuldig dat moeilikhede alleen voorkom en die onafhanklikheid van die Trekkers bestendig kon word, as alle aanraking met hulle vermy word. Daarom het hy sy oë gevestig op die binneland en die hoë noorde, met ‘n onafhanklike verbinding met die buitewêreld oor die Portugese hawens, liewer as oor Natal, waar die aanwesigheid van Engelse handelaars hom met agterdog vervul het.
Potgieter het die Kolonie teen die einde van 1835 verlaat. By hom was daar 35 weerbare manne, maar die getal is geleidelik vergroot deur nuwe gesinne wat aangesluit het. In die buurt van die huidige Smithfield het Sarel Cilliers aan die hoof van ‘n aantal gesinne bygekom. Hier het ook Stephanus, Gert en Casper Kruger met hul gesinne aangesluit. Agter die skape van Casper Krugr was daar sy tienjarige seuntjie, Paul.
Die verenigde trek, wat nou 200 siele getel het, is by Thaba Nchu verby en het aan die Vetrivier in die nabyheid van die huidige Winburg die verhongerde oorblyfsel van die Bataung, wat hulle hier uit vrees vir die Matebele skuil gehou het, aangetref. In sy Manifes het Retief die toekomsprogram vasgelê in die woorde: “Ons sal geen volk molesteer en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregtig beskou om ons persoon en eiendom te verdedig tot die uiterste toe teen enige vyand.” Potgieter het geheel in die gees hiervan gehandel. Van die Bataung-hoof Makwana het hy die noordelike Tansoranje geruil vir 29 beeste en die belofte om die Bataung teen die Matebele te beskerm.
Nadat hy ‘n vaste staanplek vir sy mense verwerf het, het hy met ‘n kommissie van elf man, onder wie Sarel Cilliers, noordwaarts gereis om verbinding te soek met Trichardt om die wêreld in die noorde deur te kyk. Op 30 Junie was hy onder die Soutpansberg, waarna hy die land nog verken het tot oor die Limpopo. Hier het hy Portugese smouse van Inhambane aangetref.
Dit was Juliemaand, die wêreld was gesond en aantreklik en die vooruitsigte op verbinding met die Portugese aan die kus redelik. Hier was ‘n geskikte oord vir ‘n duursame nedersetting. Dit is byna seker dat Potgieter en Trichardt ooreengekom het dat Trichardt daar sou wag op die “agterste mense”. Potgieter het nog die noordelike roete na Lourenço Marques met Doors Buys bespreek en op sy terugreis verkenningswerk gedoen, maar die toestand van sy perde het hom gedwing om onverrigter sake terug te keer na sy mense in Transoranje.
Trichardt het ‘n jaar lank aan die Soutpansberg geduldig op die koms van Potgieter gewag. Van die dramatiese gebeurtenisse meer suidwaarts het hom geen enkele berig bereik nie. Wat met die agterste mense gebeur het, was vir hom ‘n raaisel. Van die noodsaaklikste lewensmiddele was daar genoeg, maar anders het dinge by hulle knap begin raak. Hy het besluit om nie langer te wag nie maar na die Portugese aan Delagoabaai te trek. Ná ‘n moeisame tog oor die berge en deur die Laeveld het hy op 13 April 1838 die baai bereik. Daar het hy en die meeste van sy mense aan malaria beswyk en net ‘n klein oorblyfsel van dié Trek kon hom later by sy landgenote in Natal voeg.
Botsing met Silkaats
Intussen is Potgier se aandag in die Noord-Vrystaat en in Wes-Transvaal in beslag geneem deur ‘n stryd wat ontbrand het met Silkaats. Reeds in 1836 het die voorhoede van die Potgieter-Trek die Vaalrivier oorgesteek, maar die Trekkers het nie rekening gehou met Silkaatse, wat hul koms met agterdog en vrees afgewag het nie.
In Augustus 1836 het hy ‘n impi van ongeveer 1 000 man afgestuur op die voorste Trekkers. Nadat hulle ‘n jaggeselskap uit die Kolonie onder Erasmus platgeloop het, het hulle afgestorm op die Trekkers aan die Vaalrivier. Die Liebenbergs is by Liebenbergkoppie, naby Parys, oorval en byna almal uitgemoor. Verder af langs die rivier kon ‘n ander groep o.l.v. Botha en Steyn hulself handhaaf en die Matebele afweer. Die eerste bloed het gevloei. Twee dae later het Potgieter met sy geselskap uit die noorde aangekom. Wat sy planne t.o.v. die Soutpansberg op hierdie tydstip ook al was, was daar toe aan niks anders te dink nie as beveiliging teen die onverwag opgeduikte gevaar. In aller yl is boodskappers uitgestuur om die mense aan te sê om laer te trek.
Slag van Vegkop
Minder as twee maande later, op 16 Oktober, het die verwagte aanval gekom. Met 6 000 man, goed toegeruste krygsvolk, het die indoena na Kalipi die laer by Vegkop aangeval. Hy is met bloedige verliese teruggeslaan, maar het al die vee met hom saamgeneem: honderd perde, 5 000 beeste en 50 000 skape. Van die Trekkers is veertien man gewond en twee gedood. Vir die oorwinning is dus duur betaal. Die kommandant self is in sy familie sowel as sy persoonlike besit gevoelig getref. Die oorwinning was behaal, maar die mense was gestrand. Hul toestand het kritiek begin raak toe hulle gelukkig afgehaal en na Thaba Nchu teruggevoer is deur Maritz, wat intussen daar aangekom het, met die hulp van Moroka en die Wesleyaanse sendeling Archbell.
Die Maritztrek
Die nuwe trek wat uit Graaff-Reinet aangekom het, het ‘n aanmerklike versterking van die gemeenskap in Transoranje beteken. Die aanvoerder, Gert Maritz, was in Graaff-Reinet welbekend as leier op kerklike gebied en as goeie wamaker en skerpsinnige sakeman. Vir sy tyd was hy ‘n man van ontwikkeling. Hoewel hy nie maklik teenstand verdra het nie, was hy in die persoonlike omgang van beminlike geaardheid. Die agting wat hy onder die Natalse Trekkers geniet het, word bewys deur die algemene rou wat deur sy skielike dood veroorsaak is. As krygsman en staatsman het hy egter geen diepe stempel op die geskiedenis van die Groot Trek afgedruk nie. Sy kennis van administratiewe sake was egter van wesenlike nut.
Eerste regsordening van die Voortrekkers
Dit is tekenend vir die eerbied van die grensboere vir ‘n behoorlike regsordening dat hulle ná die aankoms van Maritz nie meer tevrede was met die kommando-organisasie wat tot nou toe gedien het nie. Net twaalf dae ná die aankoms van die nuwe mense is ‘n voorlopige Burgerraad van sewe lede in die lewe geroep met Maritz as President en Regter, en Potgieter as “Leger-Kommandant” d.w.s. militêre hoof. Die eerste en dringendste vraagstuk was Silkaats. Terugslaan, maar nie verslaan nie, het sy mag soos ‘n donker onweerswolk aan die gesigseinder gestaan. Dit sou moeilik gaan om die verenigde trek met al die vee byeen te hou, maar selfs ‘n mate van verspreiding was gevaarlik. Buitendien was die aanvaller met ‘n groot hoeveelheid van die vee van die Potgieter-mense weg.
Strafekspedisie teen Silkaats
Teen die end van die jaar was alles gereed vir ‘n strafekspedisie teen Silkaats. Vroeg in Januarie 1837 het ‘n kommando, gelei deur Potgieter en Maritz, uitgetrek en reeds die 17de is die militêre vesting Mosega verras en die Matebele nadie noorde verdryf. Hoewel die militêre mag van Silkaats nie vernietig is nie, was dit ‘n belangrike oorwinning en baie geroofde vee is teruggeneem.
Ongelukkig het die goeie verhouding wat aanvanklik tussen Potgieter en Maritz bestaan ht, nou verander in onenigheid en spanning. Oor die oorsake van die spanning is min bekend. Soms word aangeneem dat dit ontstaan het ten gevolge van die verdeling van die buitvee, net soos daar onenigheid was oor hierdie kwessie ná die tweede veldtog teen Silkaats. Hierdie opvatting word nie deur die getuienis van tydgenote bevestig nie. Dit is waarskynlik dat die spanning ontstaan het ten gevolge van verskille in temperament tussen die twee leiers, geprikkel deur onenigheid oor die leiding van die eerste kommando, of deur Martiz se simpatieke houding teenoor die sendelinge, of miskien oor die bestemming van die Trek.(14)
(14)Vgl. Thom, op. cit., pp. 138-140 en p. 175
Die Retieftrek
Einde Maart was die derde groot groep Trekkers in aantog onder aanvoering van Piet Retief. Gidse is teruggestuur om hulle na die ander laers te lei. Maritz het Retief self tegemoegegaan en by hom daarop aangedring om hom as leier van die algemene trek te laat kies. By hierdie vrsoek het Potgieter se mense hulle aangesluit, en ná enige aarseling het Retief toegestem. Anders as Potgieter, Maritz en Uys, was hy veel meer as blote groepleier. Reeds in die Kaapkolonie was hy meer as net kommandant van die wyk Winterberg: hy was in werklikheid die nie-amptelike leier en die algemene voorspraak van die hele boeregemeenskap van die grensdistrikte by die regering. Meer as iemand anders het hy daarom die algemene hoogagting en vertroue geniet. Sagaardig en taktvol, was hy daarby ‘n man van sterk persoonlikheid en groot deursettingsvermoë. Self blank opreg, was hy miskien genieg om te veel vertroue in die eerlikheid en opregtheid van sy medemens te stel. Uit sy briefwisseling met Stockenström veral blyk sy goot sedelike oorwig. Sy ervaring in die grensdistrikte en sy kennis van die Engelse politiek het origens sy natuurlike aanleg as leier aangevul.
Die najaar en winter van 1837 was ‘n groot en uiters gewigtige tyd in die geskiedenis van die Groot Trek. Tussen Thaba Nchu en die Vetrivier was daar nou ongeveer 5 000 siele, waaronder 1 500 weerbare manne, byeen. Gewigtige besluite, wat tot ver in in die toekoms sou reik, moes geneem word aangaande die toekomstige bestuur en eindbestemming van die Trekkergemeenskap. Hieroor was daar lank geen eenstemmigheid nie. Daar was onderstrominge van persoonlike eersug en antipatie, maar dit was nie erger as wat in enige gemeenskap ter wêreld in dieselfde omstandighede sou voorgekom het nie. Wesenlik het die geskille gewortel in beleidsverskille, sonder dat dit ontwikkel het tot onoorbrugbare persoonlike vyandigheid. Die vraagstukke waaroor in mindere of meerdere mate verskil van mening geheers het, was die eindbestemming van die Trek; die trekkoers wat gevolg sou word; die aard en inrigting van die voorlopige bestuur; en die vraagstuk van kerklike bediening.
Retief as leier gekies
Effens langer as vier maande nadat die eerste bestuursreëling by Thaba Nchu getref was, is op 17 April, kort ná die aankoms van Retief, by geleentheid van ‘n volksbyeenkoms ‘n nuwe verkiesing van ampsdraers gehou. Deur hierdie vergadering is Retief gekies tot Goewerneur,d.w.s. staatshoof, terwyl die hoogste militêre leiding ook aan hom opgedra is. Aan hom is derhalwe toegeken die funksies wat vier maande vroeër aan Maritz en Potgieter onderskeidelik toegewys was. Die Burgerraad het bly voortbataan in sy tweeledige hoedanigheid as wetgewende en regsprekende liggaam. Maritz het sy posisie as voorsitter en magistraat, of landdros, behou. Potgieter is nie herken nie. Voortaan was sy status slegs dié van kommandant van sy trek.
Onenigheid oor bestemming van Trek
Die trekgroepe het nou, met Potgieter vooraan, stadig in die rigting van die Vetrivier beweeg, en ‘n reeks volksvergaderinge is gehou, o.m. om oor die eindbestemming van die Trek te beraadslaag. Dit was ‘n vraagstuk van groot toekomsbelang en ingrypende meningsverskille het geheers. Potgieter het van die begin af die binnelandse hoëveld en noorde as bestemmingsoord voor oë gehad. Met die Portugese aan die oostelike hawens sou die nodige handelsbetrekkinge aangeknoop word, terwyl die hawens terselfdertyd die begeerde onafhanklikeverbindingskanaal met die buitewêreld sou vorm. Trichardt, met wie Potgieter van die begin af voelling gehou het, het aan die Portugese kommandant van Lourenço Marques gesê dat hy hom in die Kolonie voorgeneem het om na die Portugese kus te trek.
Sarel Cilliers, wat hom in Transoranje by Potgieter aangesluit het, en met wie hy in die Colesbergse wêreld ongetwyfeld reeds oorleg gepleeg het, het by sy oortog oor die Oranjerivier aan veldkornet Joubert verklaar dat hy en sy mense “een streek veld wil soeken soo naa aan die portigese Cantoor dat sey die ken bereyken om hun kruit, kleederen en soo voort van daar te hebben…”.(15) Die grondmotief van hierdie doelstelling was agterdog teen die Engelse handelaars in Port Natal, die enigste ander beskikbare hawe.(16) Om hierdie doel te verwesenlik, het Potgieter grond geruil van Makwana, met Trichardt onder die Soutpansberg raad gehou en die tiran van die hoëveld, wat hom as ‘n ernstige gevaar vertoon het, in sy eie sterkte aangetas.
(15)P.J. van der Merwe: Die Noordwaartse Beweging van die Boere voor die Groot Trek, p. 370
(16)Vgl. G.S. Preller: Voortrekkermense, I. P. 107
Retief, daarenteern – en met hom was Maritz en Uys – het die oog gehad op die ontvolkte wêreld tussen die Tugela en die Umzimvubu in Natal. Nie alleen het hierdie skone streek met sy sagte klimaat gelok nie, maar Retief wou die handelsb etrekkinge met die Kolonie handhaaf, en Port Natal sou as eie hawe die nodige verbindingskanaal met die buitewêreld vorm. Die aanwesigheid van ‘n paar Engelse handelaars in die baai het hom min kommer besorg.
Die onsekerheid het ‘n ruk geduur. Hulle het, so verklaar Sarel Cilliers, gehink op twee gedagtes, of hulle soug aan na Natal of na Soutpansberg. Eindelik het hulle ooreengekom om eers na Natal te trek en hulle daar van ‘n seehawe te verseker. Ook Potgieter het ingestem om met Retief saam te trek na Natal, sonder egter om sy aansprake op die gewilde en verowerde gebied te laat vaar.(17) Teen die begin van Augustus was die hele trek in beweging langs die Sandrivier op ooswaarts.
Kerklike verskille
Terwyl die beraadslaginge oor die trekkoers aan die gang was, het verskille oor kerklike en bestuursake die kop uitgesteek. Dit is bekend dat die Voortrekkers nie daarin geslaag het om ‘n predikant te beweeg om aan die groot volksonderneming deel te neem nie. Met Maritz het egter saamgetrek sy swaer, Erasmus Smit, ‘n gebore Hollander, wat tot 1822 in diens van die Londense Sendinggenootskap gestaan het en daarna as onderwyser werksaam was. Aan hom is die vooruitsig om as leraar van die trekgemeenskap bevestig te word, voorgehou.
Daar was egter onder die mense by Thaba Nchu, eral van Potgieter se volgelinge, ‘n aansienlike getal wat begberig was om eerw. Archell, Wesleyaanse sendeling by Moroka, van wie hulle baie vriendelikheid geniet het, as predikant te beroep. Hierdie tweespalt het heelwat onaangenaamheid veroorsaak. Ná sy aankoms en verkiesing tot Goewerneur het Retief die knoop probeer deurhak deur Smit as predikant te laat bevestig. Toe dit op 23 April sou plaasvind, het ‘n stoornis in die gemeente voorgekom en is die plegtigheid uitgestel. Ná ‘n maand van onsekerheid kon hy eindelik op 21 Mei bevestig word. Daarmee was eerw. Smit in sy ampsbediening verseker, maar die soseer gewenste eensgesindheid het nog uitgebly.
Ampsdraers ingesweer
Op 6 Junie is met groot ;plegtigheid die ampsdraers wat op 17 April verkies is, in die laer van Piet Retief aan die Vetrivier ingesweer. Daarna is nege artikels aangeneem. Van elke persoon wat hom by die gemeenskap wou voeg en in die beoogde gebied wou vestig, is ‘n eed vereis om alle betrekkinge met die Engelse sendinggenootskappe te vermy, en om die verkose kerklike sowel as burgerlike ampsdraers te eerbiedig en te gehoorsaam. Vir diegene wat sou weier om hierdie eed af te lê, sou daar geen plek of voorregte in die toekomstige onafhanklike maatskappy wees nie.
Erasmus Smit het God gedank, omdat vrede en eensgesindheid mekaar ontmoet het, “en die volkschaar zich mocht beroemen ‘n vereenigd leger te zyn”. Ongelukkig was dit makliker vir die 140 man wat by die plegtigheid aanwesig was om die besluite te neem as om algemene aanvaarding daarvan, en gehoorsaamheid daaraan, af te dwing.
Verset van Uys-groep
Die eerste openlike teken van verset het gekom toe die Uys-groep, wat intussen aangekom het, op 14 Augustus saam met enkele ander persone, altesame 170 man, ‘n verklaring uitgereik het waarin hulle o.m. sê dat hulle besluit het om hulle nie te onderwerp aan enige wette, deur ‘n paar persone ingestel, wat daarop bereken was om hulle van ‘n staat van ballingskap te verneder tot een van slawerny nie. “Wanneer,” so gaan die stuk voort, “ons ons doel bereik en op die plek van ons bestemming aankom, vertrou ons om al ons medeburgers daar bymekaar te sien, om dan deur die openbare stem daartoe oorte gaan om ons hoof-regeerders te kies en aan te stel, behoorlike wette te maak en oor die algemeen te besluit oor wat nodig en nuttig is vir land en volk.”
Dat ook Maritz ontevrede was, blyk uit ‘n ope brief wat hy op 1 Februarie 1838 aan die Trekkers geskryf het. Hy het beweer dat Retief hom as goewerneur heeltemal te veel mag toegeëien het.(18) Retief het sy bes gedoen om di geskille by te lê, maar sonder sukses. Op 13 September is ‘n laaste groot volksvergadering gehou. Potgieter en Uys was aanwesig en die geskille is bespreek, maar nie uit die weg geruim nie. Die Trek is verder na Natal sonder dat die begeerde eenheid in leiding en bestuur bereik is.
(18)Ons Tijdschrift, 3de Jaargang, Julie No. 1898-1899, p. 118
Potgieter se tweede veldtog teen Silkaats
Vir Potgieter was daar intussen nog werk om te verrig op die hoëveld. Eers het hy, sonder sukses, geprobeer om in aanraking te kom met Trichardt, om hom van die nuwe wending te verwittig. Onderwys Retief weg was op sy eerste besoek aan Port Natal en Dingaan, het Potgieter gewerk aan die organisasie van ‘n tweede kommando teen Silkaats, wat nog steeds ‘n gevaar agter die rug van die Trekkers was. Hy het die medewerking verkry van Maritz en Uys, terwyl Andries Pretorius, wat toe net op ‘n verkenningsreis by die Trekkers aangekom het, saamgegaan het, sonder om egter daadwerklik aan die gevegte deel te neem.
Op 14 November het die verenigde kommando van 360 burgers, onder aanvoering van Potgieter en Uys, die Matabele by Enselsberg in Marico aangetref en in ‘n negedaagse veldslag tot anderkant die hoofstat Kapain verdryf. In aller yl het Silkaats tot oor die Limpopo gevlug, om hom daar vir goed te vestig. Daarmee was een van die skitterendste en mees beslissende veldslae uit die tyd van die Groot Trek gelewer. Deur ruil en deur verowering het die noordelike Transoranje en die grootste gedeelte van Transvaal ter beskikking van die Voortrekkers oop gelê.
Maritz, Potgieter en Uys het daarna op die waspore van Retief ooswaarts getrek en in Januarie 1838, toe Retief op die punt was om op sy tweede besoek na Dingaan te vertrek, was al die trekke, ook Potgieter met ‘n gedeelte van sy mense, reeds onder die berg in Natal.(19)
(19)Vgl. Dagboek van Erasmus Smit, 20 Jan. 1838, Voortrekkermense, II, p. 167; Deel III; p. 6 en p. 24. Die biograwe van Potgieter verklaar dat hy beslis geweier het om saam tegaan na Natal.Ná die slag van Kapain het hy met ‘n klompie van sy mense die berg slegs oorgegaan met die doel om ivoor en velle vir benodigdhede in Port Natal te verruil. (Sien C. Potgieter en N.H. Theunissen, Hendrik Potgieter, pp. 96-97.) Dit is ‘n vernuftige vinding, wat egter op geen enkele bewysgrond berus het nie.
Retief na Dingaan
Retief was intussen ywerig besig om die weg vir ‘n nedersetting in Natal te berei: om ooreen tekom met die Engelse by Port Natal en omvan Dingaan vreedsame toesegging van woongebied te verkry. Met dié doel voor oë het hy op 6 Oktober 1837 uit sy laer Natal toe toe vertrek.
Die Engelse in Port Natal
In Port Natal het hy ‘n sonderlinge toestand aangetref. Sedert 1824 het daar ‘n stuk of dertig Engelse handelaars elk met ‘n Bantoegevolg, gewoon. Aan hulle is by verskeie geleenthede, eers deur Tsjaka en toe deur Dingaan, die land om Port Natal afgestaan. Kapt. Allen Gardiner, wat in 1835 daar aangekom het, het hom hard maar tevergeefs beywer om die Britse regering te beweeg om die gebied in te lyf. Al wat hy kon verkry, was ‘n aanstelling as magistraat oor sy mede-Engelse onder die magtelose “Cape of Good Hope Punishment Act” – iets waaraan hulle sterk aanstoot geneem het.
Die meeste mense in hierdie groepie het die kms van die Boere hartlik verwelkom. Hulle het daar voortdurend gewoon in die skaduwee van Dingaan se “onophoudelike en ydele dreigemente”. Een en ander maal moes hulle selfs voor sy gramskap vlug. Onder leiding van Alex Biggar het veertien van hulle ‘n adres aangebied, waarin hulle Retief verseker het van hul begeerte om die Trekkers as vriende en uiteindelik as goeie bure te ontvang.
Wat het hulle hieronder verstaan? Dit blyk uit wat later bekend geword het. Biggar en sy aanhangers het die oog gehad op samewerking met die Boere in die stigting van ‘n eie regering; John Cane het Dingaan aangeraai om die gebied om die hawe vir die Engelse uit te hou en die res aan die Boere af te staan; Gardiner het al sy invloed gebruik om Dingaan te beweeg om geen enkele duim grond aan die Trekkers af te staan nie.
Toe Retief vertrek het op sy verdere reis na die Zoeloe-koning, was die toestand swaar belaai met toekomsmoontlikhede en toekomsmoeilikhede waarvan hy, gelukkig vir sy gemoedsrus, die draagwydte nog nie besef het nie. In die begin van November het hy by die hoofstat van Dingaan aangekom en die sendeling Francis Owen, wat hom kort tevore deur bemiddeling van Gardiner daar gevestig het, ontmoet.
Die onderhandelinge het goed afgeloop. Dingaan het hom bereid verklaar om grondgebied af te staan, mits Retief eers sy goeie trou sou toon. Hy moes die beeste wat geroof is deur volgelinge van Sekonyela, terugbesorg. Die trouhartige Boere-goewerneur het heeltemal onder die indruk gekom van die goeie trou van die Zoeloe en aan die voorwaarde voldoen. Op 11 Januarie 1838 was hy al weer met die beeste, wat hy sonder slag of stoot van Sekonyela geneem het, terug in die laers aan die Natalse voet van die berg.
Tot sover het hierdie soekers na ‘n nuwe land waarlik buite alle hoop en verwagting groot sukses gehad. Weliswaar moes hulle die dood van ‘n paar lotgenote op die voorposte betreur, maar die groot en gevaarlike Silkaats, wat hulle sonder rede aangeval het, moes daarvoor onmiddellik en swaar boet. Die gebied wat hy verwoes en waaroor hy met geweld geheers het, het hulle erfdeel geword.
Dingaan, die geweldenaar van Natal, het hul eerste kommissie goed ontvang en die stille verwagting het bestaan dat weldra die laaste skof afgelê sou wees. Hul blye verwagting is egter versomber deur ‘n vae voorgevoel van naderende onheil, veroorsaak deur allerlei skrikberigte en gerugte dat Dingaan intussen van gevoelens verander het en van plan was om vyandig op te tree. Dit het nie aan stemme ontbreek wat Retief afgeraai het om te gaan nie, of aangeraai het om altans iemand anders, wat minder onmisbaar was, te stuur. Maar hy was onbeweeglik. Wel het hy self gevrees dat Dingaan sedert sy eerste besoek teen hom beïnvloed kon wees, maar tog het hy geen oomblik getwyfel aan die goeie gesindheid van die Zoeloe-opperhoof nie. Watter indruk sou dit buitendien maak as hy nou ‘n ondergeskikte “indoena” na Dingaan stuur? Hy sou self gaan, maar alleen vrywilligers saamneem.
Die moord op Retief
Op 25 Januarie het hy met 67 man, vier jong seuns en ‘n stuk of dertig gekleurde agterryers, vertrek om op 3 Februarie voor Ungungundlovu af te saal. Retief het ‘n traktaat van grondafstand, gedateer 4 Februarie,maar waarskyn die 3de opgestel, klaar in sy sak gehad. Volgens Bantoegebruik het die onderhandelinge met waardige traagheid, onderbreek deur speelvertoninge en krygsdanse, gevorder. Op Dinsdag, 6 Februarie, was alles gereed. Die traktaat sou onderteken word en Retief is genooi om met al sy mense, ongewapen, soos dit hoort, die plegtigheid by te woon en sommer afskeid te neem. Die traktaat is onderteken, maar die afskeid het ‘n weersinwekkende moord op die weerlose manne geword.
In die bitterheid van hul gemoed was die geloof onder die Trekkers algemeen dat die moord plaasgevind het op aanstigting van ‘n paar Engelse. Wel staan dit vas dat Gardiner en Owen invloed op Dingaan probeer uitoefen het om geen grond aan die Trekkers af te staan nie selfs dat hulle die Zoeloehoof laat verstaan het dat die Boere nie Britsgesind was nie, maar daar bestaan geen bewyse dat hulle hom tot moord aangehits het nie.
Die moordblad het by Dingaan self ontstaan en sy vernaamste motief was vrees vir die Boere, wat reeds getoon het dat hulle sterker as Silkaats was en klaarblyklik gekom het om hulle metterwoon in Natal te vestig. Hulle was ‘n georganiseerde krygsmag, ‘n potensiële bedreiging wat met lis en geweld afgeweer moes word. Dit was metodes wat nie vreemd aan Dingaan was nie en hy het geglo dat van Engelse kant daar geen steun vir die Trekkers sou wees nie.
Die moord by Bloukrans
Die dood van Retief en sy manne was ‘n verpletterende slag, maar dit was slegs die eerste stap in Dingaan se plan om die Trek in Natal in sy kiem in bloed te smoor. In die nag van 16 Februarie het die Zoeloes die voorposte van die alte geruste laers langs die hele linie van die Bloukransrivier tot aan die Rensburgspruit bekruip en verras. ‘n Ontsettende toneel van dood en vernietiging het gevolg. Teen die oggend was die verdediging egter in volle gang: die Zoeloes is gestuit en tot oor die Tugela teruggedryf. Tog het hulle daarin geslaag om 25 000 beeste en ‘n klomp skape mee te voer. Die fyn deurdagte plan het misluk. Van ‘n volslae vernitiging van die Trekkers deur verrassing sou geen sprake meer wees nie. Maar die prys wat betaal is, was ontsettend. By die gevoelige stoflike verliese was die verlies aan menselewens vir die klein gemeenskap byna verpletterend: by Dingaanstat die vertroude Goewerneur met meer as 60 weerbare manne en ‘n dertigtal bediendes; by Bloukrans en Boesmansrivier 40 mans, 56 vroue, 185 kinders en 250 bediendes.
Ekspedisie teen Dingaan
Die toestand teen die end van Februarie was dus ver van rooskleurig. Die Zoeloemag van tussen agt- en tienduisend man ervare krygsvolk was in die nabyheid. Elke dag kon ‘n aanval verwag word wat, selfs al sou dit afgeweer word, hulle nader aan die bedelstaf kon bring deur die wegvoering van hul oorgeblewe vee. Hulle moes òf die gevaar verwyder òf vlug. Die meerderheid, en daaronder veral die vroue, wou die met dure offers gekoopte land nie sonder slag of stoot verlaat nie.
Alle hoop was gevestig op Uys en Potgieter, die bedwingers van Silkaats. In aller yl en in oorleg met die Engelse by Port Natal, wie se veiligheid ook ernstig in die gedrang gekom het, is ‘n veldtog gereël. Soos vroeër teen die Matebele, sou ‘n ligte perdekommando die Zoeloe-mag opsoek en aanval, terwyl die Engelse met hul Bantoegevolg van die kus af selfstandig sou optree.
Op 6 April het die Boerekommando in twee afdelings onder Potgieter en Uys die Tugela in die rigting van Ungungundlovu oorgesteek. Oorkant die Buffelsrivier by Italeni is hulle in ‘n lokval gelei en, weens die moeilike terrein en deur gebrek aan samewerking, gedwing om die wyk te neem met agterlating van tien dooies, onder wie Piet Uys en sy 13-jarige seun, Dirk. Ses dae daarna het die Engelse met die Zoeloes slaags geraak aan die Tugela en ná ‘n verwoede geveg, wat amper die hele dag geduur het, is hulle op die vlug gedryf met die verlies van ongeveer duisend van hul Zoeloe-volgelinge en dertien blankes, onder wie Robert Biggar, die aanvoerder, ‘n seun van Alexander Biggar, en John Cane.
Onenigheid verskerp
Die eerste veldtog teen Dingaan was ‘n rampspoedige mislukking. Skrik en ontsteltenis het die mense beklem en, treurig genoeg, die ou partygevoelens met nuwe heftigheid laat opvlam. Potgieter is die sondebok gemaak van die roemlose nederlaag by Italeni. Hy is in die laers van Retief en en Maritz openlik beskuldig van lafhartigheid en selfs verraad. Altyd maar halfhartig in sy belangstelling vir Natal, en nou in sy eer gekrenk, het hy besluit om terug te trek na die wye land wat hy geruil en help verower het. Die twiste van die vorige winter het nou in die teelaarde van teenslae en vernedering welig opgeskiet en wrange vrugte gedra. ‘n Paar dae ná Italeni is Potgieter met oor die 160 man, hul families en vee terug oor die Drakensberg.
Donkerste tyd in trekgeskiedenis
“Onze staat is hachelijk en allerbetreurenswaardigst,” het Erasmus Smit ‘n maand tevore in sy dagboek aangeteken, en nou was alles nog soveel erger. Die najaar en winter van 1838 was inderdaad die droewigste en donkerste tyd van die hele Tekgeskiedenis. Die Trekgemeenskap het weliswaar oorgegaan tot die reorganisasie van die bestuur, en op 28 Maart 1838 is Maritz deur ‘n volksvergadering in sy amp van President-regter herbevestig en ook aangestel as Weesheer. ‘n Volksraad is gekies en op 25 Mei is die bestuursinstellinge op vaste grondslag geplaas deur instruksies wat met die medewerking van J.N. Boshof opgestel is vir die “Raad van Representanten” (Volksraad) en die burgeramptenare.(20)
(20)Vgl. Preller: Voortrekkermense, II pp. 188 en 207; A.J. du Plessis: Die Republiek Natalia, in Argief-Jaarboek, 1942, I, p. 163
Andries Pretorius ontbied
Om dié rede is op 18 April ‘n boodskapper na Andries Pretorius, wat toe al weer terug was in Graaff-Reinet, gestuur om sy hulp in te roep. Hy was ‘n welgestelde man van aansien in sy omgewing, wat in 1835 as militêre aanvoerder op die voorgrond gekom en in 1836 kommandant geword het van sy afdeling. Sy naam was by die meeste grensboere seker nie onbekend nie, en tydens sy besoek aan die laers in 1837 sou sy indrukwekkende voorkoms, sy kragtige en tog innemende persoonlikheid ‘n gunstige indruk nagelaat het. Buitendien was dit bekend dat hy van plan was om hom uiteindelik by die Natalse gemeenskap aan te sluit.
Maande het verloop voordat hy kon kom en intussen moes die ongeriewe van die lewe in versterkte militêre laers verduur word. Die aanhoudende vrees vir ‘n nuwe aanval en oortollige reëns, gepaard met epidemiese siektes, het die uithouvermoë tot die uiterste beproef. Die lewe het net weer sy normale gang begin gaan, sover dit moontlik was in die laerlewe, toe die Zoeloes op 15 Augustus weer toegesak het op die voorste laer aan die Boesmansrivier, later bekend as Veglaer. Onder aanvoering van die wakkere kommandant Hans de Lange kon die vyand ná ‘n driedaagse geveg afgeslaan word. ‘n Maand later is Maritz, nog in die bloei van sy jare, oorlede.
Inbesitname van Port Natal
Die belangrikste politieke gebeurtenis in hierdie tyd van afwagting was ‘n proklamasie, uitgevaardig deur hoofkommandant Landman namens die emigrante, waardeur die hawe Port Natal en die omliggende land, tot groot ontsteltenis van die Kaapse goewerneur, sir George Napier, formeel in besit geneem is. Dit toon dat die Natalse Trekkers, selfs in die donkerste dae, hul ideaal bestendig voor oë gehou het. Die proklamasie is uitgevaardig in oorleg met die oorgeblewe Engelse in die baai, en Alexander Biggar en William Cowie is aangestel onderskeidelik as landdros en veldkornet. Voordat hierdie stappe egter van werklike betekenis kon word, moes Dingaan se mag vernietig word.
Koms van Andries Pretorius
Daarom is die koms van Pretorius, wanneer opnuut die inisiatief geneem sou kan word, met ongeduld en spanning afgewag. Op 22 November het hy eindelik die laer aan die Klein Tugela binnegery “als een weltoegeruste, gesabelde en gepistoolde dragonder”. Hy het geen gras onder sy voete laa groei nie. Op die 25ste is hy formeel as Kommandant-generaal aangestel; twee dae daarna was hy in die veld op pad na Bloedrivier. Op hierdie veldtog het Pretorius hom laat ken, nie alleen as taktikus en vegsman nie, maar ook as skitterende organiseerder en mensekenner. Die ervaring het geleer dat dit gevaarlik was om die Zoeloes op hul eie terrein met ‘n perdekommando aan te pak. Daarom is besluit om dit met ‘n wa-laer, vergesel van ruiters, te waag.
Waar Pretorius het veral op toegelê het, was die aanwakkering van gehoorsaamheid, eendrag en geesdrif, behoorlike tug en volgehoue waaksaamheid. Wat ook maar gedoen kon word om welslae te verseker, is op hierdie veldtog gedoen. Maar daar is nie alleen op mensekrag vertrou nie. In die vaste geloof dat God regeer, het die kommando, onder aansporing en leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers, op Sondag, 9 Desember, by Wasbank byeengekom en ‘n plegtige gelofte afgelê dat, indien dit God sou behaag om aan hulle die oorwinning te gee, hulle ‘n Huis tot gedagtenis van Sy naam sou oprig, en die dag van die oorwinning bekend sou maak tot aan die laaste nageslag, opdat dit ter ere van God gevier mag word. Die Gelofte is daarna elke aand herhaal.(21)
(21)Vgl. E.G. Jansen: Die Voortrekkers in Natal, p. 75 en verder vir ‘n kritiese bespreking van die datum en plek van die gelofte.
Op die 13de is die aanwesigheid van ‘n groot Zoeloemag vasgestel nie ver van die rampspoedige Italeni af nie. Op die 14de en 15de was die Boere-ruiters in aanraking met die hoofmag van die Zoeloes onder Dambuza en Mhele, Dingaan se hoof-indoenas. Opnuut is die beproefde taktiek aangewend. Daar is geprobeer om die Boere na onbegaanbare terrein te lok, waar die versteekte regimente hulle ingewag het. Pretorius was egter vasbeslote om die geveg op sy eie plek en wyse te laat plaasvind. Op ‘n uiters geskikte plek aan die Ngome, die latere Bloedrivier, ‘n sytak van die Buffelsrivier, het hy laer getrek, terwyl sterk ruiterafdelings die Zoeloes dopgehou het.
Slag van Bloedrivier
Daar het op Sondag, 16 Desember 1838, die beroemde slag van Bloedrivier plaasgevind. In die vroeë môre het tussen tien- en vyftienduisend Zoeloes, ervare vegters vol selfvertroue, met die grootste doodsveragting die ongeveer 460 Boere aangeval. Die Zoeloes was nie bestand teen die taaie vasberadenheid die moordende goeweervuur van die Boere en die skitterende krygstaktiek van hul aanvoerder nie. Teen die middag was die hele swart massa op die vlug. Op die slagveld het oor die 3 000 dooies gelê, terwyl in die Boerelaer drie lig gewondes, onder wie die Kommandant-generaal met ‘n wond aan die hand, verpleeg moes word. In die Zoeloes se herinnering leef die slag van Bloedrivier as die een waarvan hulle nooit herstel het nie. Dit was die begin van die einde.
Dieselfde aand nog is krygsraad gehou, en vroeg die volgende oggend was die kommando reeds weer met versnelde pas in ‘n suidoostelike rigting op pad na die hoofstat, 100 km ver. Op die 20ste het hulle ‘n paar kilometer van Ungungundlovu af uitgespan en die stat verlate en aan die brand gevind. Op Hloma Amabutho het hulle die beendere van Retief en sy manskappe aangetref en herken aan die stukke klere wat daar nog aan vasgekleef het. In Retief se bladsak, tussen ander stukke, was ongeskonde die Akte van Afstand van grondgebied aan die emigrante, onderteken deur Dingaan en sy indoenas.
Die Zoeloe-vors het hom intussen met sy volk en sy vee tot agter die Entonjaneni-rand oor die Wit Umfolozi teruggetrek, ‘n woeste streek, selfs vir ‘n perdekommando moeilik bereikbaar.
Pretorius en sy kommandante het voor ‘n uiters moeilike beslissing te staan gekom. Die Zoeloes het weliswaar ‘n gedugte nederlaag gely, en hul hoofstat was vernietig, maar hul mag, hoewel kwaai geknak, was nie gebreek nie en geen enkele stuk van die geroofde vee is teruggevind om die weduwees en wese in die laers mee te vergoed nie. Menigeen het egter opgesien teen ‘n agtervolging van die vyand in ‘n byna onbegaanbare streek, waar die lot van Uys en Potgieter hulle so maklik kon tref. Tog het die gevoel dat die taak deurgevoer moes word, die oorhand behou. Pretorius self het baie las gehad van sy beseerde hand, en so het op die 27ste ‘n kommando van 300 man uitgetrek, onder bevel van kmdt. Karel Landman, in ‘n poging om ‘n eindbeslissing af te dwing.
Hierdie tog het byna op ‘n verpletterende treurspel uitgeloop. Landmanmet sy manne het in ‘n hinderlaag beland en kon hulle slegs red uit die omarming van 5 000 Zoeloe-krygers, met die verlies van ses man, onder wie hul getroue bondgenoot, Alkexander Biggar. In hierdie geveg het veral kmdt. Hans de Lange hom deur sy krygsvernuf en beslistheid onderskei. Die Zoeloes kon daarop roem dat hulle die aanval afgeslaan het, maar hul verliese was so groot dat die uitslag van die geveg uiters ontmoedigend op dié volk teruggewerk het.
Die gebeurtenisse van die volgende jaar het dit bewys. Dingaan het dit nooit weer gewaag om na sy ou hoofstat terug te keer nie. Panda, ‘n jonger broer van Tsjaka en Dingaan, het met ‘n groot gevolg van sy broer se oorheersing weggeb reek en is deur die Trekkers as regerende Zoeloe-opperhoof erken. Met sy medewerking is Dingaan verdryf, om êrens ten noorde van Pongola ‘n roemlose dood te sterf deur ‘n Swazi-assegaai.(22)
(22)Vir die volledige beskrywing van die slag aan Bloedrivier, die slag van die Wit Umdfolozi en die dood van Dingaan, vgl. G.S. Preller: Andries Pretorius, 1937, p. 25 en verder.
Daarmee het die Trekkers die eerste groot skof op die weg van ‘n eie selfstandige staatkundige bestaan afgelê. Die bodem was verwerf vir die nuwe staatsgebou. Met die bouwerk self kon begin word.
— — — oOo — — —