Kersfees in Pretoria
Pretoria, 12 Desember 1899 – 1 Januarie 1900
“Ons hoop om oor sowat ‘n maand ‘n noenmaal by die White Hart in Pretoria te nuttig. …”
Luitenant Reggie Kentish aan sy moeder, naby Ladysmith, 12 Oktober 1899
“Ons eet in die middag om eenuur en dit bestaan uit brood en boeliebief … groente, kaas, vars vleis … en die dorpsmense loop voor ons hok heen en weer en kyk na ons asof ons koddige voorwerpe is. …”
Luitenant Kentish aan sy moeder, Staatsmodelskool (Krygsgevangenekamp), Pretoria, 9 November 1899
Hoofstuk-aanhef Luit. Kentish-moeder 12 Okt, 9 Nov 1899, Kent
.— — —
Hoofstuk 22
“Die God van ons voorvaders het ons vandag ‘n skitterende oorwinning besorg. …”(1) “Gister was nie alleen ‘n pragtige oorwinning vir ons burgers nie, maar ‘n nuwe gees is gebore. …”(2) Soos die krygstelegramme – en 900 Britse krygsgevangenes – na Pretoria stroom, bevestiging van die feit dat die vyand by Colenso, Magersfontein en Stormberg teruggestoot is, kon ander volke miskien ‘ n dag lank feesgevier het. Kruger se mense is nie so nie: miskien te beskeie, of te Godvresend.
(1)Botha-Staatsekretaris 15 Des 1899, Ley 713 (no 54)
(2)Fichardt-President 12 Des 1899, Ley 713 (no 11)
Op die front is daar weliswaar jolyt – sport, burgers wat ironies “Soldiers of the Queen” sing, en die Zarp-orkes speel “Maggie Murphy’s Home”.(3) Die Boere se heliograaf by Tugela terg die Engelse met boodskappe soos “How is Mr Buller today? What has Mr Buller done that Roberts is coming out?”(4)
(3)Standard Diggers’ News 12, 28 Des 1899. Volksstem 28 Des 1899
(4)Symons aangehaal Breyt III, 7
Maar in die hoofstad, altyd vroom en Godvresend, lui die kerkklokke net vir die dooies. Op Dinsdag, die dag ná Magersfontein, is daar ‘n Staatsbegrafnis. Winkels is gesluit; die vierkleure hang halfmas aan die Staatsgeboue; en ‘n spesiale trein stoom Pretoria binne en bring doodskiste van gesneuwelde burgers.
‘n Optog van 120 koetse, met inbegrip van dié van die Staatsekretaris, rammel na Kerkplein. Vyfduisend mense staan langs die strate, hoofsaaklik vroue en hul swart bediendes; die meeste van die mans is op die front. Militêre oorwinning bring vir almal gemengde gevoelens. Vir die volk is daar ‘n dubbele skok: verligting en trots oor hul prestasies, bitterheid oor die prys wat betaal is.(5)
(5)Volksstem 14 Des (Pretoria 13de) 1899
Die optog volg vier kiste – Pretoria se eie deel van die stuk of honderd Boere en buitelandse vrywilligers wat tot dusver hul lewens vir die twee republieke neergelê het. Net vier kiste (en een van die gesneuwelde burgers is buitendien ‘n Joods-Amerikaanse uitlander uit Ohio),(6) maar dit is byna meer as wat Pretoria kan verduur.
(6)Ibid 13 Des (Pretoria 12de) 1899
“Nieteenstaande gister se oorwinnings,” skryf een van die koerante, “is die gevoel van droefheid oor die treurige verliese … hewiger as ooit.”(7) In verhouding tot hulle getalle was die prys van hul oorwinnings vir die Afrikanervolk trouens swaarder as die prys van nederlaag vir die Engelse.(8) Buitendien, in hulle oë, geslagte lank al omring deur swart vyande, is die dood van ‘n blanke, selfs dié van ‘n blanke vyand, nooit rede tot jolyt nie.
(7)Ibid
(8)Breyt I, 233-6, 258-60, II, 170-4, 221-2, 320-2. OH I, 462-70
Toe Kruger sy mense die dag ná Colenso toespreek, was dit vir hom onnodig om na die Engelse dooies te verwys. Dit is Dingaansdag, Geloftedag, die dag toe die Heer deur die vernietiging van Dingaan en sy Zoeloes by Bloedrivier gewys het dat Hy ‘n verbond met die Voorttrekkers gesluit het.
Vir die 61ste keer vier Kruger die groot fees. In die propvol Dopperkerkie skuifel hy na die preekstoel. Sy oë knipper pynlik, sy swart pak begin soos ‘n sak aan hom hang, sy stem is hees en tenger; nogtans is hy die versinnebeelding van uitdagende krag. Miskien het hy sy teks geneem, soos ‘n spreker elders daardie dag, uit Exodus 15:9-10. “Die vyand het gesê: ‘Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle. …’ Soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.”(9)
(9)Standard & Diggers’ News 15, 20 Des 1899
Vir Kruger is daar inderdaad ‘n merkwaardige patroon in sy lang lewe. Bloedrivier, Majuba, nou Colenso. Drie keer, in die groen Natalse heuwels, het die Here hulle van hul vyande verlos. Vandaar die oorweldigende eenvoud van sy beroep op die volk: Vertrou op die Here; Hy sal Sy mense beskerm soos Hy jul voorvaders teen Dingaan beskerm het.”(10)
(10)Sien toespraak 2 Okt 1899 aangehaal P. Kruger Memooirs II, 433-5
Natuurlik was eenvoud nie ‘n kenmerk van Kruger se gemoed nie. Ewe min was daar ‘n direkte verband tussen Dingaan se lot en dié van die Engelse. Kruger wil ‘n ooreenkoms met die Empire hê, die finale skikking wat die ZAR vryheid sonder voorbehoude sou gee. Dit was nog altyd die oogperk van Kruger se bemoeiinge.
Terwyl hy uur ná uur in sy kantoortjie in die Staatsgebou swoeg, van 8-uur in die môre, wanneer die eerste telegramme van die oorlogsfronte gereed lê, tot 11-uur snags,(11) kom hy voor ‘n buitengewoon moeilike strategiese dilemma te staan. Hoe kan hy taktiese welslae in werklike strategiese oorwinnings verander en albei, op die ou end, in ‘n troefsetel aan die konferensietafel?
(11)P. Kruger Memoirs II, 347-8
Kan hy, enersyds, Colenso in ‘n tweede en beter Majuba verander? Of moet dit ‘n afslytingsoorlog teen die Engelse wees, van die soort wat die Romeinse genl. Fabius teen Hannibal gevoer het, waarin konvensionele militêre doelwitte skaars aandag kry en alles ondergeskik gestel word aan die (negatiewe) oogmerk om die volksgees in oorwinning én nederlaag ongebroke te bewaar.
Die eerste alternatief, ’n nuwe Majuba, kon verleidelik gelyk het. Die parallelle tussen die gebeurtenisse van 1881 en 1899 is byna bonatuurlik. In albei oorloë het Joubert ‘n Britse generaal vermorsel – Colley in 1881, nou Penn Symons – deur hom in die noordelike hoek van Natal vas te keer. Daarna het die oorlog afgehang van die lot van die Britse ganisoene – destyds binne die ZAR, nou op sy grense – wat deur Boeremagte vasgekeer is.
Die Britse publiek se reaksie op die rampe van 1881 en die jongste rampe is baie dieselfde: ‘n uitbarsting van vernedering en patriotisme; die aandrang dat ‘n militêre held moet gaan red wat te redde is – in albei gevalle genl. Roberts – en die uitstuur van ‘n groot hulpekspedisie. Op hierdie punt begin verskille intree.
In 1881 het Gladstone se Liberale pas aandie bewind gekom, met die belofte om die Konserwatiewe se anneksasie van Transvaal vier jaar tevore ter syde te stel. In 1899 is daar ‘n Konserwatiewe Regering wat beloof het om die Empire te konsolideer. In 1881 was dit twyfelagtig of Gladstone deur Majuba as sodanig gehelp of gehinder is in die skikking wat sou volg.(12)
(12)Gardiner Harcourt I, 379-81. Annual Register 1881
In 1899 was dit seker dat die Boere se militêre welslae wonder verrig het vir die saak van die jingo’s in Engeland; en die klein minderheid wat in ‘n onderhandelingsvrede glo, is verder verswak.(13)
(13)Sien CB-Bryce 10 Nov 1899, CB 412 11/61. J. Wilson 314-15
Kruger was miskien nie ingelig oor al die verfyninge van die Britse politieke lewe nie, maar die Transvaalse koerante het oorgenoeg Britse politieke berigte geplaas en Kruger moet hierdie droewige waarhede goed genoeg verstaan het.(14)
(14)Sien Volksstem 1899 passim
Die gees van John Bright is dood, het een van sy amptenare gesê toe die oorlog uitbreek.(15) Dit is waar. Selfs Henry Labouchère, die mees uitgesproke lid van Gladstone se vleuel van die Britse Liberale party, het nou verklaar dat hy glo in die dogma van “my land reg of verkeer”. Die gevaar dat Brittanje voor die ander groot moondhede verneder word, het hy gesê, oorskadu die morele nadele.(16)
(15)Hancock, Smuts I, 106, 568
(16)Thorold Labouchère 385-414
Die druk van die Britse openbare mening is natuurlik maar een van die maniere waarop Brittanje na die konferensietafel gedwing kan word. ‘n Ander moontlikheid is die openbare mening in ander lande, m.a.w. deur die een of ander soort intervensie. Maar ook hier was Kruger nie naïef genoeg om dit as waarskynlik te beskou nie. Ewe min was hy van plan om in hierdie stadium valse hoop te wek deur voor te gee dat hy daarin glo.
Dr. Leyds, die ZAR se gesant in Brussel, sukkel al maande lank om Brittanje se konkurrente – Frankryk, Duitsland en Rusland – teen Engeland saam te snoer. In ‘n onderhoud wat in Johannesburg herdruk is, het hy ‘n Franse koerant daardie herfs meegedeel: “Ons geniet oral in Europa steun. Ek weet dit en ek kan dit sien. Maar Europa sal nie namens ons tussenbeide tree nie, in elk geval nie nou al nie.”(17)
(17)Dr. Leyds aangehaal Echo de Paris herdruk Standard & Diggers’ News 9 Des 1899
Dr. Leyds het in werklikheid maar min bereik: ‘n paar honderd buitelandse vrywilligers het aan die kant van die burgers geveg, ‘n aantal lande het klein ambulansspanne vir die oorlogsfront verskaf. Albei was van praktiese hulp en nog nuttiger as tekens van morele steun, soos die klein kontingente wat reeds deur Brittanje se blanke kolonies gestuur is.(18)
(18)Daar was sowat 2 000 buitelandse vrywilligers, meestal Uitlanders reeds in die ZAR. Sien ook Breyt I, 62-8, 73
Maar Nederland, wat om klaarblyke redes die nouste met die Boere saamgevoel het, was geen militêre moondheid nie. Frankryk en Rusland was wel, maar hulle moes lig loop vir die Britse vloot. In werklikheid het hulle aangebied om – vriendskaplik – tussenbeide te tree mits Duitsland sou saamspeel. Duitsland wou nie.(19)
(19)Vir moontlike buitelandse inmenging sien Sal A/121/40-6
Om albei redes – ‘n gebrek aan morele steun in Engeland en ‘n gebrek aan militêre steun op die vasteland – is daar geen kans dat Colenso of die ander oorwinnings vanself in nuwe Majuba kan verander nie. Kan die Boere dan hul welslae opvolg en teen die Engelse in Natal en die Kaapkolonie opruk terwyl die Engelse nog nie hul balans herwin het nie?
Baie historici dink so, en kritiseer die Boere dat hulle nie hierdie strategiese beleid ingeslaan het nie.(20) Kruger was in beginsel t.g.v.die opsie, en Steyn ook; des te meer die jonger geslag Boere, Smuts se vriende, Fischer en Grobler.
(20)Breyt II, 359
Maar was dit prakties? Genl. Cronjé, bevelhebber by Magersfontein, is gevra om Methuen se kommunikasielinies te onderbreek. Gryp Belmont weer, sê Steyn, maak dit ‘n sterktepunt en hou voorrade of versterkings van Methuen weg.(21) Neem 1 500 van jou beste manne, sê Kruger, met ‘n goeie kanon, “skiet die Engelse pantsertein stukkend” en breek die spoorweg agter die Engelse op.(22)
(21) Breyt II, 354
(22) Breyt II, 355
Onmoontlik, antwoord Cronjé. Die terrein is te plat vir offensiewe aksie; daar is geen water nie; die kommando’s en hul perde is uitgeput. En wat van ‘n regstreekse aanval op Methuen, sê Kruger, dit is “nie ‘n bevel nie” voeg hy by, “maar net ‘n voorstel”. Met ‘n getalsoorwig van myna vyf teen een teen hom, wieer Cronjé bot.
Kruger maar net antwoord dat “iets gedoen moet word” anders sal die Engelse Cronjé by Magersfontein vaspen en ander troepe stuur om hom te omsingel.(23) Maar nòg Kruger nòg Steyn voel genoeg vertroue in die moontlikheid van ‘n werklik offensiewe strategie om Cronjé te vervang deur een van die twee generaals, De la Rey of De Wet, wat so ‘n strategie kon toegepas het nie.
(23) Breyt II, 355-6
Dit was bepaald ‘n fout, soos spoedig sou blyk, om ‘n man soos Cronjé in so ‘n belangrike posisie te laat. Dit is egter ‘n ander vraag of De Wet of De la Rey Methuen baie lank sou kon afgesny het. Uit die beskikbare getuienis lyk dit asof die Boereregerings, soos hul Engelse teenhanger, nie besef het hoe die nuwe oorlogstoestande – hierdie oorlog van rooklose, langafstand-magasyngewere in die hande van die voetsoldate in loopgrawe – die taktiese ewewig dramaties in ie guns van die verdedigers laat swaai nie. Gevolglik het hulle ook die probleme en moeilikhede van ‘n offensiewe strategie onderskat.(24)
(24)Henderson Science of War 371-2
Op 15 Desember het Kruger Botha se roerende telegram oor Colenso ontvang: “Die God van ons vadere het ons ‘n skitterende oorwinning besorg.” Uitstekend, antwoord Kruger.(25) Waarom kasty jy dan nie die vyand “terwyl die vrees nog so groot” in hul harte is nie?
(25)Kruger-Botha Ley 713 15, 16 Des 1899 (nos 9 en 59). Breyt II, 358
Onmoontlik, antwoord Botha (net soos Cronjé vroeër): “Daar is geen heuwels (om Buller se kamp by Frere) of enige bedekking tussen ons en die vyand nie, en ek is bang om iets te onderneem wat die vyand sal moed gee as dit vir ons verkeerd gaan.”
Meer ter sake, die burgers se moraal, altyd wisselvallig, sou heeltemal kon instort as hulle op so ‘n waaghalsige onderneming uitgestuur moes word.(26)
(26)Botha-Kruger 17 Des 1899, no 3 Ley 713. Breyt II, 358-9. Kruger-Botha 17 Des 1899, no 4 Ley 713. Breyt II, 359
Geen ander Boereleier in die veld het meer waagmoed of ‘n helderder kop as Botha gehad nie. As hy gedink het buller is te sterk om aan te val, wie kan sê dat Cronjé verkeerd was om dieselfde van Methuen te sê – en die Boereregerings verkeerd om nie op ‘n teenoffensief aan te dring nie?
By verstek, ten minste, het Kruger nou die tweede van die twee strategiese opsies gekies: om ‘n afslytingsoorlog teen die Engelse te veg. Op militêre gebied beperk die twee republieke hulle nou tot pogings om die vordering van die twee hulpekspedisies te belemmer en om die drie beleërde garnisoene – Ladysmith, Kimberley en Mafeking – te druk vir al wat hule werd is.
Dit is nie ‘n strategie waarmee Kruger ‘n setel by die konferensietafel kan verwerf nie – in elk geval nie regstreeks nie. Om al drie garnisoene gevange te neem – White, Kekewich en Baden-Powell s’n, ‘n totaal van byna 13 000 Britse gereelde troepe – sal die engelse ‘n ontsettend vernederende hou toedien.(27)
(27)Britse gereelde troepe (m.i.v. nie-kombattante) by Mafeking 20, by Kimberley 600, by Ladysmith 12 250. Die syfers verwys na die begin van elke beleg. Sien SD I, 333, OH II, 45-6, 601
In streng militêre terme sal dit Buller en Roberts se taak egter ietwat makliker maak. Sonder hierdie komplikasies kan hulle reguit oor die oop Vrystaatse vlaktes op Bloemfontein afpyl.
Kruger betreur Botha en Cronjé se onvermoë om die vyand te kasty, maar hy versoen hom gou met die gedagte. Dit is ten slotte afslytingsoorloë wat vir die Boere die natuurlikste is, nie alleen onder die kommando’s in die veld nie, maar onder die volk as geheel. Kruger self veg al 18 jaar ‘n diplomatieke afslytingsoorlog teen die Engelse; hy het sy sterker teenstander probeer uitput soos hy as jong jagter menige leeu uitgeput het.
Die ZAR is nou gereed vir ‘n oorlog wat “die mensdom sal laat terugdeins”. Die republiek se grootste krag lê in sy selfgenoegsaamheid, wat geen strategiese Britse vlootblokkade van invoere deur Mosambiek kan belemmer nie.(28)
(28)In werklikheid het die Britse Kabinet M en Buller, wat in blokkade van sowel kos- as wapentuiginvoere na die ZAR voorgestaan het, geveto. Sien Garvin III, 493-4
Kruger se staat, as militêre moondheid gesien, is op drie nie-militêre hoekstene gebou. Die eerste was die pro-Transvaalse Uitlanders, ‘n belangrike minderheid van die manne wat hul fortuin in hierdie nywerheidstaat met die wêreld se rykste goudmyne kom soek het. Die uitskop van die pro-Britse Uitlanders, wesenlik op militêre gronde, het die nywerheidsdoeltreffendheid beslis verswak.
Maar die treine van die NZASM loop nog – deur Hollanders beman. Hulle is die strategiese sleutel tot alle kommunikasies en in hul spoorwegwerkwinkels word die Boere se veldkanonne deskundig bedien en herstel (met inbegrip van ‘n Creusot, ‘n Long Tom, wat, soos ons sal sien, op 8 Desember by Ladysmith beskadig is).(29)
(29)E.T. Cook Transvaal 274-5. Kb no. 623, 624, 625
Ook die Transvaalse dinamietbedryf floreer. Dit is georganiseer deur die Franse en Duitse sakemann wat die monopolie verkry het. Nou is dit ‘n godsgawe, want sowel geïmproviseerde Mauser-koeëls as Krupp- en Creusot-bomme word daar gemaak.
En die myne kan weer in produksie gestel word, al is dit teen ‘n verminderde tempo. Die koolmyne is nodig om die mobiele vermoë te verskaf waarop die spoorweë en die nywerhede staatmaak. As die agt goudmyne weer aan die gang gesit word, sal hulle die totale koste van die oorlog kan dra – sowat £100 000 per maand.(30)
(30)Volksstem 30 Jan 1900. The Friend 18 Des 1899. Times (tweeweeklikse uitgawe) 12 Jan 1900 haal Laffans Agency (Pretoria) 19 Des 1899 aan
Maar wie gaan in die myne werk? Die vraag bring ons by die twede, minder sigbare hoeksteen: die enorme reserwes swart arbeid. Toe ‘n jong Walliese parlementslid, David Lloyd George, verwys het na ‘n oorlog teen twee volke met ‘n totale bevolking van minder as dié van Flintshire en Denbighshire, het hy die onsigbare meerderheid vergeet: die swartes. Na skatting was daar in 1899 sowat 754 000 swartes in die ZAR en nog 130 000 in die Vrystaat.(31)
(31)Volgens die Britse regering se ramings pas voor die oorlog was daar in die ZAR 108 800 Hollanders, 180 000 ander blankes, 754 000 naturelle. Maar baie van die 180 000 nie-Hollanders was ook nie Engelse nie, en baie had nou vertrek. SJ 6 Des 1899. Sien Marais 1-3
Dit is waar dat ‘n klompie met die pro-Britse Uitlanders in die groot uittog uit die Rand gvlug het: myners uit Basoetoland, Natal en die Kaapkolonie. Maar meer as 10 000 “mynkaffers” bly nog oor – meer as genoeg om die steenkool- en goudmyne teen ‘n verminderde tempo aan die gang te hou.(32) In die ZAR hang alles in die laaste instansie van die goudmyne af. En al die goudmyne is op hul beurt afhanklik van ‘n voorraad goedkoop swart arbeid.
(32)Standard & Diggers’ News 9, 14 Des 1899
Daar was ‘n grondliggende ironie i.v.m. die oorlog wat die Britse finansiers Beit en Wernher nie sou geamuseer het nie. Die sterkste enkele rede waarom hulle daardie geheime bondgenootskap met Milner gesluit het, een waardeur Brittanje en die ZAR elkeen ‘n botsing-koers ingeslaan het, was om die koste van swart arbeid aan die Rand te verminder.(33)
(33)SA Kamer van Mynwese, Jaarverslae 1897-9 (Johannesburg)
Dit was met verontwaardiging dat hulle vroeër vyftig tot sestig sjielings ‘n maand vir swart myners moes betaal (al was dit veel minder as die lone van blanke Suid-Afrikaanse myners of dié van die mededingende myne in Australië en Kalifornië). Hulle het die onbevoegdheid en korrupsie van Kruger se regering die skuld gegee vir die “skandalig” hoë lone van die swart Randse mynwerkers.(34)
(34)Ibid
Maar oorlogsregulasies het die Randse mynbedryf ingrypend verander. Met ‘n pennestreep is swart mynerslone tot ‘n maksimum van ‘n pond ‘n maand verminder. Swartes wat onwettig in die lokasies woon, is opgekommandeer, soos die myne self, en gedwing om te werk.(35)
(35)Standard & Diggers’ News 9 Des 1899
Dit was ‘n drastiese oplossing – ‘n soort slawe-arbeid – en dit was een wat die Engelse mynbase lankal wou hê die Boere moet inslaan. Nou is die rolle met mening omgekeer. Die Boere koggel die Britse mynbase dat hulle belaglik was. Hulle, die boere, weet hoe om “ferm” op te tree.
Die Standard and Diggers’ News, wat vir die pro-Transvaalse Uitlanders praat, kraai die hardste. “Die einste mense wat kastig nog nooit enige bestuursvermoë of nywerheidsinsig aan die dag kon lê nie – d.w.s. die Boere – los die hele probleem in ‘n middag oop, sit die Kaffer op sy plek … en stig dwarsoor die Witwatersrand ‘n gesonde en stewige nuwe orde.”(36)
(36) Standard & Diggers’ News 14 Des 1899
Die oorgrote meerderheid van die stuk of 700 000 swartes woon natuurlik nie in die lokasies en werk nie in die myne nie. Hulle woon in krale oor die lengte en breedte van die land; hulle is die bron van die Boere se goedkoop arbeid op die vee- en ander plase. En op hierdie plase verskyn die derde hoeksteen van Kruger se staat: die onwrikbare Boerevrou.
Die Boere-kommando’s het miskien ‘n geheime wapen in die vorm van die graaf; maar die volk as geheel het ‘n geheime wapen in die vorm van die wieg. Demograwe vryf hul oë wanneer hulle die ZAR se geboortesyfer probeer bepaal. Die vloedgolf Uitlanders, die goudstormloop self, kon skaars opweeg teen die eenvoudige, taai, volhardende bevolkingsaanwas van die landelike boer.(37)
(37)Sien opm. Van Selous, die ontdekker, aangehaal Standard & Diggers’ News 9 Des 1899
Niemand wis naasteby hoe die getalle staan nie. Voor die uittog van 1899 moet daar onder die Uitlanders meer potensiële kiesers gewees het as wat daar Boeremans was. Maar nou, ná die uittog, is die volk ongetwyfeld in die meerderheid. Kruger se eie familie was ‘n voorbeeld van die Boervrou se toewyding. In 1900 had hy 156 oorlewende kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.(38)
(38)Fisher Kruger 235
Natuurlik doen die vrou hier by die eeuwending meer as om die kind te wieg. Sy bestuur die huis, sy werk op die plaas; mev. Kruger melk nog altyd op die werf agter die President se ampswoning in Pretoria die koeie.(39)
(39)Meintjes Kruger 125
Teen dié tyd het oorlogsnoodsaak ‘n magdom “manswerk” op die skouers van die Boerevroue gelaai. Hulle speel voorman op die plase, sorg dat gesaai en geoes word, pas die vee op.(40) Hulle pak gereeld mandjies kos vir seuns en mans aan die front. Pretoria is daardie Kersfees vol vroue: by die Staatsbegrafnis drom hulle op die sypaadjies saam; op Kerkplein is vroue in beheer van die ossewaens waarmee die mense Nagmaal toe kom.(41)
(40) Standard & Diggers’ News 25 Des 1899
(41) Standard & Diggers’ News 14, 25 Des 1899. Times (weeklikse uitgawe) 12 Jan 1900 haal Laffans (Pretoria) 19 Des 1899 aan
Die lojale Uitlander, die swartman en die vrou. Van die drie is die laaste die onwrikbaarste fondament van Kruger se staat. Op sy ergste, as die afslytingsoorlog ‘n guerilla-oorlog word, sal die Uitlanders van weinig nut wees, die swartes moontlik ‘n las. Alles sal dan van die Boerevrou afhang, soos dit van haar afgehang het toe die ZAR nog ‘n landelike staat was.
Maar in dié stadium is ‘n guerrilla-oorlog nog ver van Kruger se gedagtes. Hy hunker nog na die een of ander offensiewe aanslag. Op Nuwejaarsdag stuur hy vir Joubert (tydelik van sy siekbed terug) ‘n telegram waarin hy sy voorstelle herhaal. Hierdie keer word hy beloon.
Die krygsraad besluit om die offensief op 6 Januarie te hervat. ‘n Gesamentlike mag van 4 000 burgers sal die Platrand suid van Ladysmith stormloop (dieselfde rant wat die engelse Wagon Hill en Ceasar’s Camp noem).
Botha (wat Buller intussen by die Tugela besig sou hou) is verheug oor die plan. “Nou is die tyd,” kabel hy aan Kruger, “nou veral, voor die Engelse se getalle en moreel deur die aankoms van Robers en Kitchener versterk word.”(42)
(42)Botha-Kruger 2 Jan 1900 aangehaal Breyt III, 11-12
—oOo—