BO Die Beleg binne die beleg

Die beleg binne die beleg 

Kimberley, 9 – 17 Februarie 1900

“Jou lae, verdomde, gemene brak, Kekewich, jy weier my op jou risiko.”

Cecil Rhodes aan kolonel Kekewich, 10 Februarie 1900

Hoofstuk-aanhef C. Rhodes -Kekewich aangehaal Kekewich se amptelike verslag van Roberts DO 105/14

.— — —

Hoofstuk 27

Ook binne die poorte van Kimberley het sake snel beweeg. Daardie desperate telegram waarin Kekewich die indruk gewek het dat Rhodes dreig om die dorp oor te lewer, was die klimaks van die beleg binne die bleg, die vier maande lange magstryd tussen Kekewich en die kolos.

“Was enige ander Britse bevelhebber al ooit in ‘n moeiliker posisie?” vra maj. O’Meara, die garnisoen se inligtingsoffisier.(1) Kekewich se predikament is bepaald ongewoon. Dit is maklik genoeg vir Roberts om te sê hy kan Rhodes gryp en in die tronk gooi as hy moeilikheid maak. Maar wie moet die bevel afdwing?

(1)O’Meara Kekewich 120

Soos Kekewich ‘n bietjie flouerig in ‘n nota aan Roberts antwoord: “In een sin is die sleutel tot die militêre situasie hier Rhodes, want ‘n groot meerderheid van die tuiswagte, Kimberley Light Horse en vrywilligers (die geïmproviseerde koloniale garnisoen) is werknemers van De Beers.(2)

(2)Kekewich-R 11 Feb 1900. Sien ook Kekewich-R 9 Feb 10 vm, 4 nm 1900, Bobs 23 (IV) 5(b). O’Meara 120. R se get RCSAW II, 462

Kortom, Rhodes is De Beers en De Beers is Kimberley – of in elk geval die Engelssprekende gedeelte van Kimberley. Hoe kan ‘n handjievol Britse troepe ‘n halwe dorp arresteer? Dit is die klassieke probleem van die nuwe imperialisme – hoe moet die imperiale wil op ‘n selfbesturende blanke kolonie afgedwing word – ‘n dilemma wat deur Rhodes se kolossale ego tot goedkoop melodrama vervlak is.

Kekewich vind dit nie snaaks nie. Dit waar dat hy dink Rhodes bluf. En hier was hy seker reg. Bluf was by Rhodes ‘n geliefde taktiek. Bluf het al sowel vir as teen hom gewerk. Dit het Jameson op sy inval laat vertrek en Chamberlain op die pad na oorlog geplaas. Dit is ook waar dat Rhodes, ondanks sy algemene roekeloosheid, versigtig genoeg was om die oorgawe-dreigement nooit eksplisiet te stel nie.

Wat gebeur het, was die volgende: Daardie Vrydag, 9 Februarie, lê die burgemeester by Kekewich se hoofkwartier naby die Kimberley Club besoek af. Hy waarsku hom dat Rhodes van plan is om ‘n openbare vergadering te belê waarop hy wil protesteer dat hul so lank neem om op te daag.

Dit sal op selfmoord neerkom, antwoord Kekewich. In ‘n slag om Kimberley kan inwoners beseer of gedood word. Daar is ook ‘n gevaarlike groot aantal Afrikaners onder die bevolking – miskien die helfte van die 20 000 blankes – en daar word berig dat party van hulle ‘n beweging op tou gesit het om die dorp te laat oorgee. Met ‘n openbare vergadering sal Rhodes reg in die Boere se hande speel.(3)

(3)O’Meara 109-10. Kekewich dagboek 9 Feb 1900, Kek

Rhodes self daag later daardie oggend by Kekewich se hoofkwartier op. Hy is in ‘n vuil bui. Die doel van die vergadering sal wees om die dorpenaars se menings aan Lord Roberts oor te dra, deel hy Kekewich mee. Kekewich antwoord (heeltemal tereg) dt hy hierdie menings reeds onverdoeseld aan Lord Roberts oorgedra het; en daarmee verbied hy die vergadering amptelik.

Rhodes begin gewelddadig raak en hy dreig om die vergaderings in weerwil van die verbod te hou tensy Kekewich binne 48 uur “volledige en definitiewe” inligting oor Lord Roberts se planne bekend maak. “Voor Kimberley oorgee,” gil hy, “sal ek sorg dat die Engelssprekendes weet wat ek hiervan dink.” Toe storm hy by die kantoor uit.(4)

(4)O’Meara 111. Kekewich dagboek, MS sit

Die volgende dag keer hy tot die aanval terug. ‘n Lang, bombastiese hoofartikel uit die Daimond Fields Advertiser, die plaaslike koerant, beland op Kekewich se lessenaar. Die AdvertiserI behoort aan Rhodes. “Waarom Kimberley nie kan wag nie,” lui die voortvarende opskrif. “Die openbare en militêre owerheid verstaan geen snars van Kimberley se aansprake op die Britse Ryk nie, aansprake wat deur die heldhaftige ywer van sy burgers bevestig is.

“… Ons verduur ‘n beleg wat nou byna so lank duur soos die beleg van Parys. … Is dit onredelik, wanneer ons vroue en kinders geslag en ons geboue aan die brand gesteek word, om te verwag dat ‘n groot Britse leër iets meer moet uitrig as om die aangesig van agt- of 10 000 Boertjies ledig te bly sit?”(5)

(5)Diamond Fields Advertiser 10 Feb 1900. O’Meara 112-13, 144-6

Dit is een van Rhodes se kenmerkende literêre produksies, kru en egosentries. Dit is ook ‘n flagrante breuk van militêre sensuur. Kekewich gelas die inhegtenisneming van die redakteur, maar verneem dat Rhodes hom in een van sy myne weggesteek het. Kort daarna storm Rhodes self by die hoofkwartier in en tart die ongemaklike Kekewich deur hom mee te deel: “Jy het ‘n openbare vergadering verbied, maar ek het tog ‘n vergadering gehou; dit is deur die 12 vooraanstaande burgers van Kimberley bygewoon.”

Kekewich probeer Rhodes paai deur vir hom Roberts se jongste taktvolle boodskappe te wys. Nie goed genoeg nie, sê Rhodes, en dring daarop aan dat ‘n lang versoekskrif, deur die 12 waardige burgers opgestel, aan Roberts gestuur moet word. Kekewich onderneem om ‘n samevatting daarvan te stuur.

Hierop verloor Rhodes sy humeur heeltemal. Hy beskuldig Kekewich daarvan dat hy hom in die duister hou oor die hulppogings, hy herhaal sy bekende beledigings teen die Britse leër. Ten slotte bal hy sy vuis, storm op Kekewich af skree in sy skril stem: “Ek weet met watter verdomde rot-boodskappe jou seiners hulle tyd mors. Jou lae, verdomde, gemene brak, Kekewich, jy weier my op jou risiko.”

Rhodes is ‘n groot man en sy gebalde vuis skiet oor die skouers van die burgemeester en van ‘n stafoffisier wat toevallig voor Kekewich se lessenaar staan. Kekewich kom orent – sy gesig doodsbleek en sy oë vlammend, volgens ‘n getuienis. Miskien sou hy Rhodes platgeslaan het. Maar Rhodes swaai skielik om en haas hom na die deur, met die burgemeester in aller yl agterna.(6)

(6)O’Meara 113-15. Kekewich se tel is in R-L 12 Feb 1899, VT no 156E. Kekewich dagboek 10 Feb 1900, Kek

‘n Lagwekkende situasie, maar nie vir Kekewich nie. Dit bevestig sy vermoede dat Rhodes die hele dorp in gevaar stel.Toe hulle Rhodes ‘n geheime kabel wys met die absoluut vertroulike nuus dat Roberts reguit na Kimberley opruk, lees Rhodes die nuus van die trappies van die Kimberley Club aan verbygangers voor.(7)

(7)O’Meara 117-18

Daar was ‘n werklike rede vir die instorting van die dorpenaars se moreel. Op Woensdag 7 Februarie om 11.00 vm. word ‘n sinistere nuwe geluid in alle dele van die dorp gehoor. Op hierdie dag ry Roberts in die postrein van Kaapstad, al langs daardie smal enkelspoor wat 600 myl deur die wildernis van die Groot Karoo strek.

In Kimberley het die mense al gewoond geraak aan die geluid van gewone kanonkoeëls. Meer as 7 000 koeëls uit die Boere se kanonstellings op die lei-groen slakhope langs die Kamferdammyn, Carter’s Ridge en ‘n halfdosyn ander plekke, het in sy breë, stillerige strate nergeplons. Die koeëls, wat deur 9-ponders en 15-ponders gevuur is, het weinig skade aangerig. Party het nie gebars nie. Party is versmoor in die slakhope op die Britse perimeter. Die belangrikste gevolg was ‘n lughartige handel in ou granaatdoppe deur curio-jagters.

Dit is weliswaar onaangenaam om nie te kan terugvuur wanneer daar op jou geskiet word nie. Die garnisoen se eie artillerie is heeltemal nutteloos. Hulle is 7-ponders – Rhodes noem hulle “pop-guns” – wat nie naby die Boerestellings kan kom nie.

Toe het George Labram, De Beer se geesdriftige Amerikaanse ingenieur, daarin geslaag ho m sy eie 4-duim-kanon ate ontwerp en dit in De Beers se werkswinkel uit ‘n groot staalstaaf te bou. Long Cecil, soos die kanon onmiddellik gedoop is, maar sy bek vir die eerste keer op 19 Januarie oop en braak ‘n bom van 28 pond wat vyf myl deur die lug trek en langs die pompstasie in die Boere-laer inslaan.(8)

(8)Kekewich dagboek 19 Jan 1900, Kek. O’Meara 103-4. Ashe 112-14 (met foto)

Nou, daardie Woensdag, kom die Boere se antwoord op Long Cecil, en die spreker is hul eie Creusot van 6 duim, Long Tom. Om elfuur sien die wagoffisier op die uitkyktoring ‘n rookwolkie naby die mynwiel van die Kamfersdammyn uitpeul; toe begin granate van 90 pond op die dorp val.

In werklikheid is dit Ladysmith se ou vriend, die Long Tom van Gun Hill, die kanon wat genl. Hunter en sy stropers in die nag van 8 Desember vol skietkatoen gegprop en toe blykbaar stukkend geblaas het. Maar Long Tom het uit die doderyk teruggekeer, sy loop etlike duime korter, ná ingrypende herstelwerk in die spoorwegwinkel in Pretoria en ‘n lang reis na Kimberley.(9)

(9)De Villebois-Mareuil War otes 2341 e.v. O’Meara 107. Macnab Fench Colonel 120-30. Sternberg Experiences of Boer War 143-5

En die ou staatmaker doen wat die Boere verwag het. Daar is paniek in Kekewich se hoofkwartier: die telefoniste, meestal burgerlikes, laat vat. Verskeie geboue word aan die brand gesteek. Kekewich vind die geluid van die ontploffings oorverdowend, byna letterlik, en hulle word gevolg deur ‘n onheilspellende, seurende gehuil soos die verwronge bomskerwe deur die lug trek.

Soos party van sy teenhangers in Ladysmith doen Kekewich dadelik stappe om die gevolge van die blits te verminder. ‘n Wag word op die uitkyktoring gepos. Sodra hy die rook van die granaat sien, swaai hy ‘n vlag. En beuelblasers speel “G” (skuil) op hul beuels. ‘n Mens het dan 15 sekondes om in loopgrawe of slote, in die slakhope of spoorweguitgawwrings te skuil.

Maar in drie dae bereik Long Tom meer as die ander ses kanonne in vier maande. Op die Woensdag skiet Long Tom 22 keer, wond ‘n Kleurlingkind noodlottig en beseer ‘n dorpenaar; op Donderdag is daar 30 granate, met nog ‘n man dood, vier mense en ‘n kind beseer; op Vrydag 74 granate, en vier dooies, met inbegrip van George Labram, die vader van Long Cecil.(10)

(10)O’Meara 106-9, 111. Kekewich dagboek 7 Feb 1900, Kek. Ashe 119-34

Gedurende die beleg was Labram almal se besieling. Sy merkwaardige uitvindings het die mense opgebeur: die uitkyktoring van 155 voet, die fabriek vir die produksie van koue vleis, 1 400 kubieke voet in omvang; die watervoorraad uit die Wesseltonmyn; die tuisgemaakte granate vir die 7-ponders en eindelik Long Cecil.

Kimberley is byna alles aan George Labram verskuldig. Hy was ‘n teenstelling tot Rhodes: beskeie, opgewek (die meeste oggende het hy by die uitkyktoring opgeklim om Kekewich te gaan opbeur) – bowenal diskreet. Maar hy was te trots om te skuil. Hy is dood toe hy hom die Vrydagaand in sy kamer in die Grand Hotel vir aandete geklee het.

Hy is uit die puin langs die wasbak gesleep; die helfte van sy kop is afgeskiet en sy bors en dye is verbrysel. Honderde mense woon die begrafnis by, wat die aand gehou word om die granate te ontwyk. Maar LongTom se projektiele hou aan met kom. Private huise, die spoorweg en die hospitaal – niks is veilig nie.(11)

(11)Ashe 134-42

Vir baie mense is hierdie nagblits die laaste strooi. Bedags kan ‘n mens ten minste sien waar die granate land. In die donker word al die skrikwekkende geleuide vergroot: die alarmroep op die beuel, die knal van die ontploffing, die gehuil van die bomskerwe.

Op ‘n dag moet dr. Ashe, die dorp se mediese beampte, sy skuiling verlaat en ‘n paar pasiënte besoek. Terwyl grond en klippe om hom rammel, hurk hy by ‘n sinkheining, maar kom ongedeerd daarvan af. In die hospitaal sien verskrikte pasiënte hoe ‘n struk skrapnel deur een van die sale bars.(12)

(12)Ashe 140-2

Die opgehoopte spanning van die beleg was ernstig, hoewel (of miskien omdat) so min gebeur het. Die gebrek aan nuus, veral nuur oor planne om hulle te kom help, vererger die knaende vermoede – wat duidelik in die Advertiser se histeriese hoofartikel na vbore kom – dat die buitewêreld hul pogings nie waardeer nie. Die verdedigers van Ladysmith ge gesein: is ons lamsakke of helde? Miskien het dieselfde gedagte by die mense van Kimberley opgekom.

Soos by Ladysmith was die Boere se mees vernietigende wapens die klassieke wapens van ‘n beleg: uithongering en siekte. Kort ná Kersfees begin Kimberley “die byt voel”, soos dr. Ashe dit stel. “Eindelik,” skryf hy op 10 Januarie in sy dagboek:

“… –  begin ons die beleg ‘n bietjie skerper aanvoel. Op Maandag moes mense wat wou gaan vleis haal, hoor dat net die helfte daarvan beesvleis sou wees; dié wat nog wou hê,sou perdevleis moes neem. Baie mense is net met beesvleis huis toe. … Ek het my stuk perd geneem en ons het dit daardie aand geëet. As ek nie wis wat dit was nie, sou ek dit seker nie van bief kon onderskei het nie. Dit was heeltemal sag en smaaklik, en tog moes ek dit inprop. .. Ek was seker nog nie honger genoeg nie.”(13)

(13)Ashe 93-4

As ‘n besoekende dokter was Ashe versiende (en welgesteld) genoeg om sy spens in die eerste paar weke van die beleg vol te mak. Hy het nog ‘n paar maande se meer oor; hy saai beet en mielies in sy tuin en weldra het hy oorgenoeg groente.(14)

(14)Ashe 78-92

Maar vir die meeste van die dorpenaars is die beleg-dieet onsmaaklik en saai, en dit word toenemend so. Ná Kersfees het die militêre owerheid in Kekewich se opdrag al die voorrade beesvleis, meelblom, suiker, ens. opgekommandeer. Rantoesoenkaartjies is uitgereik en vleis, brood en groente is teen vaste pryse in die mark aan lang toue blanke dorpenaars verkoop. (Die swartes moes elders toustaan.)

Weelde-artikels soos melk, botter, sout en kaas is alleen uitgereik aan dié wat ‘n doktersertikaat kon toon. Voorspelbaar genoeg is die rantsoene vir die soldae die hoogste en vir die swartes die laagste: ‘n pond brood en ‘n halfpond vleis per dag vir die garnisoen; 12 en  vier onse onderskeidelik vir blanke dorpenaars; skaars ‘n pond mielies vir die swartes.

Die blanke dorpenaars trek hul neuse nie lank vir perdevleis op nie; dit verteenwoordig meer as ‘n derde van die beskikbare vleisvoorraad (164 183 pond perdevleis, 269 455 pond beesvleis en 45 653 pond skaapvleis is volgens Kekewich se syfers in die twee maande ná Januarie geëet). Die nie-blankes word die ergste getref, want selfs dié wat dit kan bekostig, mag geen vleis of groente koop nie.(15)

(15)Ashe 83-9. O’Meara 100-1

Kindersterftes, 50 persent onder die blankes, is onder die nie-blankes katastrofaal. In die vier maande tussen Oktober en die middel van Februarie sterk Kleurlingkinders teen ‘n tempo van 93,5 persent, volgens offisiële statistieke.(16) In Afrika was en is kindersterftes ‘n deel van die lewe. Wat die beleg anders gemaak het, was die sterfgevalle, aan skeurbuik, onder die “mynkaffers”; die 10 000 swartes wat in Kimberley se kamponge onder ‘n sifdraad-dak ingehok moes bly.

(16)Kimberley MO aangehaal Kekewich get RCSAW III, 560

Om te sê dat Rhodes sy swart werkers opsetlik van die honger laat doodgaan het, sou belaglik wees. So iets sou in Rhodes se oë erger as ‘n misdaad gewees het; dit sou swak besigheid gewees het. Want die swart myners was De Beers se belangrikste bate, afgsien van die diamante self; sonder ‘n gereelde toevoer van so ‘n enorme hoeveelheid goedkoop swart arbeid sou gee diamantmyn werkbaar gewees het nie.

Nietemin, in die sakebeginsels waarvolgens die Kimberleyse kampongs bestuur is, was daar weinig ruimte vir sentiment. Die waarheid is dat die naturelle – Zoeloes, Basoeto’s, Fingo’s e.s.m. – besig was om te verhonger. Hulle is vir die diamantmyne gewerf; nou is hulle tydelik oortollig. Net ‘n paar het daarin geslaag om te ontsnap, en al kos wat die res van hulle kry, is ‘n paar onse mielies.

Groente groei in Suid-Afrika vinnig. Die Wesseltonmyn kon 250 000 gelling water per dag verskaf, en die druiwe aan daardie myl lange wingerdlaning wat in Kenilworth, Rhodesse modeldorp, geplant is, was vroeg in Februarie al ryp.(17)

(17)Ashe 91

Boordenstoevolle mandjies vrugte is na die Sanatorium Hotel aangedra; druiwe, kaalperskes, gewone perskes vir meneer Cecil, ‘n huldeblyk aan die groot man se vernuf en onblusbare gees. In die kampongs kry 1 500 swartes skeurbuik; hiervan sou ‘n derde noodlottig wees. Verhongerde mense lê met opgeblaasde buike onder die sifdraad rond – hoor die gedempte geknal van die kanonne, wag om te sterf.(18)

(18)Kimberley MO aangehaal Kekewich tap. Ashe 98-9. H. Wilson With the Flag II, 393

Een ding moet die dorpenaars vir die Boere sê: hier in Kimberley (anders as in Ladysmith) veg die vrome burgers nooit op Sondag nie. Stiptelik om 11.15 nm. (11.55 nm. ZAR-tyd) maak Saterdag se laaste granaat sy opwagting. Dan rus Long Tom oor die Sabbat.

Die dorpenaars rus nie. Voor die beleg was die dorp op Sondae altyd so ‘n dooierige plek, want die dae van die diamantstormloop is lankal verby en Kimberley is baie ordentlik. Daardie Sondag, 11 Februarie, is daar frenetiese pogings om bomskuilings te bou voor die bombardement Maandag hervat word. Baie blankes doen vir die eerste keer in hul lewe swaar hande-arbeid, want daar is nie genoeg volk om die werk te doen nie.(19)

(19)Ashe 142-7

Dr. Ashe rammel in ‘n skotskar deur die strate. Hy dra ‘n vuil, grys flenniebroek en ‘n groot slap hoed. Hy sit op ‘n hoop vuil sakke. Hy vind sy fort baie “lekker”: ‘n skuiling wat met groot mynstutte en met sandsakke versterk is; sewe voet in die vierkant en sewe voet hoog; dit bevat beddens, ‘n spieël, ‘n horlosie en ‘n klompie boeke; lakens is teen die mure vasgespyker en aan een laken is ‘n foto van Kitchener met ‘n groot diamant-borsspeld geheg.

Dit is, skryf hy in sy dagboek, ‘n Sondag wat hy nie maklik sal vergeet nie. “Net waar jy gaan, bou die mense forte en jy hoor oral die geklinkgel van plaatstaal, spoorstawe, ysterdwarslêers, ens.” Mense prop hul sandsakke met die eerste en die beste materiaal vol – growwe kombuissout vir ‘n kruidenier se fort, meelblom  vir dié van ‘n bakker – en in die Maleise lokasie skop ‘n vernuftige Koelie ‘n hond uit sy hok en hurk daar, so teken Ashe aan, “soos ‘n koninkie in daardie agterplaas”.(20)

(20)Ashe 147

Ook die ander, beroemder Koning van Kimberley was nie ledig nie. Dit is duidelik dat die twee groot diamantmyne, diep genoeg om die hele wêreld van diamante te voorsien, ook ‘n skuilplek teen Long Tom kan bied. Hoewel die myne nie werk nie, is daar nog genoeg steenkool vir die stoomenjins wat die mynhysers en die elektriese dinamo’s aandryf; en aangesien De Beers hom weinig gesteur het aan die bevel waarvolgens kos opgekommander is, het die myne ook ‘n goeie voorraad boeliebief en kondensmelk.

Daardie middag verskyn kennisgewings op prominente plekke in die dorp, en ‘n perdekar met dieselfde boodskap ry in die strate rond:

SUNDAY.I RECOMMEND.WOMEN AND CHILDREN.WHO.DESIRE.COMPLETE.SHELTER.TO. PROCEEDTO.KIMBERLEY.AND.DE BEERS SHAFTS.THEY.WILL.BE.LOWERED AT ONCE IN THE MINES FROM 8 O’CLOCK.THROUGHOUT.THE.NIGHT.LAMPS.AND GUIDES.WILL.BE.PROVIDED. – C.J. RHODES(21)

(21)O’Meara 122. Ashe 148

Dit is ‘n tipiese teatrale gebaar deur die groot man: om die bevolking na ‘n veilige hawe in De Beers se skatkelders te bring. En die mense gaan, hulle gaan. Daar was gerugte oor beoogde bombardemente: 20 nuwe Long Toms, in elk geval gaan Maandag ‘n swart dag wees. Nou aanvaar die publiek dat Rhodes oor definitiewe inligting beskik, en ‘n ware paniek breek los.

Natuurlik, as Rhodes Kekewich in sy vertroue geneem het, kon ‘n paniek voorkom gewees het – en dan sou iemand miskien ook gesorg het vir toereikende sanitêre geriewe in die myne. Maar nee, Rhodes het Kekewich niks gesê nie en nou vlug die mense van Kimberley na die skagtorings asof hul laase uur aangebreek het, met kinders en bondels beddegoed agterna.

Daardie hele aand, van 5.30 tot ná middernag, tol die groot mynwiele soos die hysers in die dieptes afsak en weer opkom. In die mynskagte is daar onbeskryflike tonele: 2 500 vroue, kinders en babas in die myngalerye, so styf saamgepak, 1 200 voet onder die oppervlak, dat dit dr. Ashe aan ‘n kolonie seemeeue herinner wat hy in Linconshire geken het; jy kan jou voet nêrens neersit sonder om op ‘n jong voël te trap nie.(22)

(22)Ashe 165-8

In die Sanatorium Hotel verlustig Rhodes hom in sy triomf. Weliswaar bring Maandag en Dinsdag ‘n antiklimaks in die vorm van ‘n baie halfhartige bombardement. Maar Rhodes is besig om die toneel te berei vir die laaste bedryf van die groot belegdrama; die aankoms van die kavallerie. Tog gee Rhodes homself die hoofrol. Hoewel sy dreigemente om Kimberley aan die Boere oor te gee, nog steeds die hele strategie van die oorlog beduiwel, sien die kolos homself as die held.

Sjampanje, perskes en druiwe word vir die oorwinningsbanket  ter ere van Genl. French en die kavallerie-divisie aangedra en, nog belangriker, ter ere ere van die oorlogskorrespondente. Rhodes het altyd uitgeblink in sy hantering van persmanne, selfs as hy nie hul koerante besit nie.

Wat Kekewich betref, daardie lae, verdomde, gemene brak, Kekewich – Rhodes is nog nie met hom klaar nie, hoewel hy binne enkele weke sou kon sê: “Kekewich? Wie’s hy? ‘n Mens onthou nie die man wat jou stewels skoonmaak nie.”(23)

(23)O’Meara 133. B. Gardner Lion’s Cage 191

Die groot kavallerie-stormloop daardie selfde Donderdag, 15 Februarie, het soos ‘n torpedo oor die veld gesnel. Dit was skitterend; die Duitse militêre attaché, wat later die amptelike Duitse gesiedenis van die oorlog sou skryf, het dit as meesterlik bestempel.(24)

(24)Waters War in South Africa I, 146-7

Maar was dit nie byna te skitterend nie? Om te ontplof, moet ‘n torpedo tog iets tref, anders gaan al sy energie verlore. French se kavallerie galop deur daardie reusagtige stofwolk voort. Op pad steek hulle spiese deur ‘n handjievol Boere (en raak ‘n handjievol van hul eie manne kwyt); verder doen hulle Cronjé se masjerende burgers geen kwaad nie.

Dit is waar dat dit nie Roberts se hoofdoel was om die vyand aan te val nie; French moes eenvoudig soos die wind na Kimberley ry en dit gaan red. Hoe anders kon die opdragte gewees het as dit nie vir Rhodes was nie. French se 5 000 man is die enigste groot mobiele mag wat Engeland in Suid-Afrika het, ‘n  unieke instrument vir die opspoor en jag van ‘n beweeglike vyand en hul minder-beweeglike belegkanonne. Maar nee, die manjifieke 5 000 moet volkome onnodig oor die veld op selfvernietiging afstorm.(25)

(25)French dagboek 9-16 Feb 1900, Fren. Kapt. Bellew dagboek 15-17 Feb 1899, Bel. Haig-Lonsdale Hale 2 Mrt 1900, Haig 203-4. French het swak keuring en behandeling van remonte die skuld gegee. Sien French-bevelhebbers 18 Mei 1900 en French-R 1 Des 1902, wat verliese van perde verstrek 11-17 Feb 1900 totaal 341, Bobs 23 IV, OH II, 26-7, 37-8, 92-6

Die merkwaardige feit is dat die stormloop – selfs oor ‘n paar myl – vir so baie Britse kavallerie-perde te veel was. Hul opgeblaasde karkasse lê langs French se triomfantelike roete verstrooi: deur die Boerelinies by Susanna (die Boerevesting oorkant die Premiermyn), deur die doringdraad, en dan weer oor die grens na die Kaapkolonie en voort na Kimberley.

Dit is nie net dat baie kavallerie-perde ongeakklimatiseer is nie; ook die ruiters moet nog leer dat hulle nie soos op ‘n vosjag oor die veld kan galop nie; en gedresseerde kavallerie-perde is onvervangbaar.(26) Die ongevalle in terme van dooie of uitgeputte perde was so groot dat die kavallerie-divisie as ‘n doeltreffende krygsmag feitlik vernietig is.

(26)Sien Childers se kommentaar Arme Blanche 96-117. Vgl. Goldmann 95-6

Intussen wag Kimberley met ingehoue asem vir die einde van die ontbveringe van 124 dae. Omstreeks etenstyd vuur Long Tom sy laaste granaat. Om 3.30 nm. deel iemand dr. Ashe mee dat die kavallerie-divisie van die Beaconsfield-slakhope sigbaar is. Dr. Ashe kan dit nie glo nie. Hulle bevestig dit by die klub. Ashe stap dadelik uit en gaan koop die grootste Union Jack wat hy kan kry, toe hang hy dit aan ‘n lang paal van die veranda op die tweede verdieping.

Toe die voorhoede van die hulpkolonne eindelik opdaag – die Tigers en ‘n klompie Scots Greys – is daar tonele waarin alle inhibisies verdwyn: die dames sleep byna die voorste man van sy perd af, “ordentlike” dames omhels ‘n stowwerige soldaat. Bydie klub word die bevryding kalmer aanvaar. “Almal was te diep ontroer,” sê Ashe, “om lawaai te maak.”(27)

(27)Ashe 171-3

Ook Rhodes is diep ontroer – mar lawaaieriger. Hy hou sy eie private party in die Sanatorium. Terwyl Kekewich ‘n berede mag probeer saamstel om Long Tom te probeer impalm, het Rhodes ‘n groter prys ingepalm: genl. French se aandag. Rhodes het gebreke, maar hy is wel ter tale.

French is ‘n geharde soldaat, en Roberts moet hom meegedeel het dat Rhodes se manewales die hele strategie van die oorlog in gevaar gestel het. Tog is ‘n halfuur by Rhodes se party in die hotel genoeg om French kop en pootjies in Rhodes se pot te kry.

Toe Kekewich genl. French eindelik in die Sanatorium Hotel opspoor, kom hy op die volgende toneel af. Een van sy stafoffisiere sou later skryf: “Toe ons na die gebou aankom, hoor ons uitbundige geluide en baie stemme in die saal …. In die saal was die tafels vol allerlei luukses, sjampane vloei vryelik en vir ons, wat met die skamelste rantsoene genoeë moes neem, baie weke al, was hierdie vertoning van hierdie delikatesses ‘n groot verrassing.”(28)

(28)O’Meara 133-4. Kekewich dagboek 15 Feb 1900, Kek

Nog verrassings lê voor. Kekewich stuur ‘n boodskap waarin hy sê dat hy homself amptelik by French wil aanmeld om  opdragte te ontvang. Rhodes hoor hiervan, druk deur die menswemasse en skree: “Jy kan French nie sien nie. Dit is my huis dié, loop hier uit.” (In werklikheid is dit nie Rhodes se huis nie, maar De Beers s’n, soos byna alles in Kimberley.)

Kekewich steur hom nie aan die kolos nie, stap by die trappe op en gesels in ‘n private kamer met French. Presies wat daar gebeur het, is onduidelik, Maar dit was ‘n ysige onderhoud. Kekewich was nie baie welsprekend nie en hy het waarskynlik die slegste daarvan afgekom. Hy is daarvan beskuldig dat hy parmantig en baasspelerig teenoor  Rhodes was.(29)

(29Ibid

Twee dae later word Rhodes se triomf verseël. Toe Kekewich in sy kantoor in die hoofkwartier in Lennoxstraat aankom, sit iemand anders by sy lessenaar. Kol. Porter, bevelhebber van die 1ste Kavallerie-brigade, is in sy plek as garnisoenbevelhebber aangestel. Sonder om Kekewich van die afdanking te sê, het French op dringende bevele van Roberts weggejaag.(30)

(30)O’Meara 137. Kekewich dagboek 16-17 Feb 1900, Kek

Milner en Rhodes het ‘n strategiese flater begaan deur ‘ n garnisoen in Kimberley te plaas. Deur die dorp te ontset, het French hierdie flater min of meer uitgewis. Vir die garnisoen was die prys nie hoog nie – afgesien van die sterftesyfer onder jong blanke kinders en naturelle van alle leeftye. Die militêre prys van die oorwinning is deur die hulpekspedisies betaal: eers Methuen se verliese, nou die vernietiging van die kavallerie-divisie as ‘n doeltreffende krygsmag.

“’n Week gelede was ek in bevel van die beste berede regiment in die Britse leër,” skryf ‘n kavallerie-kolonel daardie week, “en nou is dit absoluut verniel.”(31) Dieselfe geld die ander regimente. In alle dele van die divisie is die perde in ‘n jammerlike toestand. Die laaste strooi was French se totaal ondoeltreffende poging,  op die 16de, om die Long Tom in te palm.(32)

(31)Kapt. Bellew tap. Maj. Allenby-vrou Feb 1900, All

(32)Sien nota 25

En tog, die volgende dag bevestig Napoleon se dictum dat die kant wat die minste flaters maak, die oorwinning behaal. Want op 17 Februarie begaan die Boere ‘n flater wat al die Britse flaters in die skadu stel, met inbegrip van die fiasko van Lord Roberts se transportreëlings, die verlies van die konvooi en die effektiewe uitwissing van French se kavallerie-divisie.

*** *** ***

Kimberley is bevry; De Beers se “onwrikbare” voorsitter glimlag breed en deel sjampanje vir die pers uit; en die gordyn verrys op ‘n strategiese situasie wat ingrypend verander het. Sedert die Boere-opmars in die middel van November gestuit is, word die Engelse getalsoorwig ál groter.

Tot dusver kon die Engelse nog nie ten volle van hierdie oormag gebruik maak nie; nou kan hulle. Drie maande se grotendeels defensiewe klipmuurtaktiek is verby en oor die Vrystaatse grense hang daar enorme stofwolke, wolke wat die son en maan verhul, die stof van Lord Roberts se invalsleër.

Die oorweldigende vraag waarop Cronjé moet antwoord, is dit: waar sal Roberts toeslaan? En nie net: in watter rigting nie? Sal Roberts net Boeregebied probeer gryp of gaan hy die vyand self probeer gryp?

Noudat die statiese spelkampanje misluk het, het Cronjé se eie strategiese rol wel gevaarlik geword, maar tog vol geleenthede. Sedert die uitwissing van die Britse kavallerie kan hy veilig al langs die spoor na Mafeking noordwaarts terugval. Of hy kan Roberts se logge kolonnes oskarre en muilwaens voorlê en sy kommunikasies deur guerrilla-oorlog gésel. Derdens kan hy ooswaarts oor die oop veld terugval en die verwagte aanslag op Bloemfontein help keer.(33)

(33)OH II, 80-1

Maar wat hy ook al doen, daar is een wet van die natuur, een ysere wet wat die Boer nooit vergeet nie, die antwoord op oormag is groter beweeglikheid. M.a.w., veg tot die laaste loopgraaf, maar wanneer ‘n nederlaag dreig, verlaat die loopgraaf en vlug. Dit was hierdie strategiese instink wat die Boere so ‘n gedugte militêre volk gemaak het en dit was hierdie instink wat Piet Cronjé, die vos, paradoksaal sou vergeet.

In elk geval kies Cronjé nou die derde, mees riskante strategiese opsie. Op die aand van 15 Februarie, terwyl Rhodes sy groot party in Kimberley hou en Roberts die rampspoedige besluit neem om die konvooi by Watervaldrif te laat vaar, begin Cronjé met sy aftog. Sowat 5 000 Transvalers en Vrystaters verlaat eindelik die vestingwerke om Magersfontein, hul tuiste vir die afgelope twee-en-‘n-half maande.

Cronjé se knapste bevelhebbers – genls. J.S. Ferreira en Christiaan de Wet – het albei in beginsel beswaar gemaak teen die roete wat Cronjé gekies het: oos al langs die dig-begroeide walle van die Modderrivier na Bloemfontein. De Wet het teen dié tyd natuurlik al met sy guerrillaveldtog begin. Nou ry Ferreira noord oor die veld anderkant Kimberley en bly in die omgewing. Hy is bekommerd oor hoe Cronjé sal vaar.(34)

(34)Ibid II, 81-2

In die begin bly die geluk aan Cronjé se kant. Op die 15de, in helder maanlig, gaan sy vyf myl lange optog van oskarre en ossewaens slegs enkele myle noord van genl. Kelly-Kenny se 6de Divisie verby waar hulle by Klipdrif aan die Modderrivier staan. Ongelooflik genoeg sien geeneen van die Engelse die lang rye waens nie.(35)

(35)Ibid II, 81. Kelly-Kenny dagboek 15 Feb 1900, Kell

Hoewel hy 78 gelaaide voorradewaens agtergelaat het (wonderlike buit vir Roberts se honger troepe), was Cronjé koppig genoeg om sy hele laer by hom te hou en dit beperk die spoed van sy aftog tot dié van ‘n os: sowat 10 myl per dag.(36)

(36)Ibid II, 87

Op die 16de haal Kelly-Kenny se infanterie Cronjé se agterhoede in. Maar daardie aand glip Cronjé uit hulle vingers en die logge trein ossewaens beweeg weer alleen in die veld. Eindelik tree French se oorblywende kavallerie – die 1 500 uit die oorspronklike 5 000 wat nog fiks genoeg is om diens te doen –(37)  tussenbeide.

(37)Ibid II, 97. G. French Life of French 83-5/ Haig-Lonsdale Hale 2 Mrt 1900, MS sit.

Op ‘n wenk van kapt. Chester Master van die Tigers agterhaal hulle sy agterhoede naby Perdebergdrif, sowat 20 myl noordoos van Ramdam.(38)

(38)

Cronjé is nou nog nie in groot gevaar nie, mits hy aanhou beweeg. Hy sou French se troepe opsy kon geveeg het – hoewel hy waarskynlik nie besef het dat dit maar 1 500 man sterk is nie. Hy kon sy swaar bagasie (en die vroumense wat in elke laer boer), agtergelaat en noord gery het om by Ferreira aan te sluit,. Hy sou by De Wet kon aansluit. Maar hy doen dit nie.

In ‘n bui van selfvernietigende traagheid wat Sir George White waardig sou gewees het, roep hy halt – asof hy vasbeslote is om deur Roberts se 30 000 infanterie ingehaal te word. Twee nagte nadat hulle die groot doolhof van loopgrawe en slote by Magersfontein verlaat het, grawe Cronjé se manne weer diep in die aarde in – slote vir perde, osse, vroue, alles, in die dertig-voet-diep wit sandwalle van die rivier by Paardeberg.(39)

(39)OH II, 100-9, EGO

Maar die ou vos het nie ‘n nuwe gat gevind nie. Hy het ‘n staalstrik gevind, en nou steek hy sy kop daarin.

—oOo—