GVSA Vyfig Jaar Britse Bestuur 1806-1854

 M.A.S. Grundlingh, M.A., D. Phil

Algemene toestand van die kolonie

Die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 het ‘n blywende uitwerking op die lotgevalle van die kolonie en van Suid-Afrika in die algemeen ingelui. Hierdie keer sou dit nie weer ‘nt ydelike militêre besetting wees nie, maar die vestiging van ‘n vreemde owerheid oor ‘n Hollandssprekende koloniale bevolking. Net soos in Kanada was hier in Suid-Afrika ‘n bevolking van nie-Britse herkoms wat gedurende die vorige anderhalwe eeu diep wortel geskiet en reeds al die kenmerke van ‘n volk met ‘n eie identiteit gedra het.

Die nuwe kolonie het ook ‘n slawebevolking gehad wat die blankes in getalsterkte oortref het. Daar was ook duisende ontstamde Hottentotte wat onder die dun verspreide blankes gewoon of rondgeswerf het. Op of buite die noordelike en oostelike grense het roofsugtige Boesmans en Bantoes onsekere en onveilige toestande geskep en veral die oosgrens was ‘n gedurig knaende vraagstuk.

As gevolg van die Kompanjiesbeleid was die Kaap ibn verskeie opsigte ekonomies en politiek agterlik en die verligte Bataafse bewind het geen kans gehad om ‘n blywende nuwe orde te skep nie. So het die Britse gesag die erfgenaam geword van allerlei netelige vraagstukke en dit was ‘ n ope vraag of die veroweraar beter in staat sou wees om hulle op te los. Ongelukkig vir die blanke koloniste het die strategiese waarde van die Kaap met die oog op Brittanje se groot Oosterse belange swaarder by die veroweraar geweeg as die heil en welsyn van sy bewoners.

Dit ook ook moeilik anders in ‘n tyd toe Engeland in ‘n langdurige oorlog teen Napoleontiese Frankryk gewikkel was.  Tydens die besetting van die Kaap kon niemand vooruit sien hoe lank die stryd teen die sterkste militê moondheid op die Europese vasteland sou duur nie. Net soos Engeland alles in sy vermoë gedoen het om Napoleon uit Egipte te verdryf, sou hy ook geensins toelaat dat die Kaap in die hande val van Nederland, op daardie oomblik ‘n land feitlik onderhorig aan Frankryk.

Die nuwe bewind en die koloniste

Die aanvanklike doel van die besettende moondheid was nie kolonisasie nie en in die voorwaardes van oorgawe het Brittanje die koloniste beloof om die bestaande wette, voorregte en godsdiens te waarbog. De Mist se kerkorde en die verbeterde Bataafse administrasie in die binnelandse distrikte is eweëens behou, maar die sentrale regeringstelsel moes plek maak vir ‘n outokratiese eenmansbewind. Enkele Hollandse amptenare wat hulle al reeds met die bewind versoek het en gereken is as behorende tot die Anglomanne, het diens onder die Britte aanvaar. Aanvanklik het die Britse owerheid ook geen ingrypende veranderings aangebring nie en die gewone lewenswyse van die koloniste is nie aangetas nie. Ekonomies was toestande selfs beter as tevore, want oorlogsomstandighede het ‘n ruimer mark vir koloniale produkte geskep.

Die regeringsvorm

Gedurende die eerste jaar van die besetting het genl. Baird ‘n militêre bewind gevoer, maar in 1807 is die eerste burgberlike goewerneur benoem. Hy was graaf Caledon wat tot 1811 aan die Kaap gebly het. Die regeringsvorm was outokraties met die goewerneur as die hoof van die uitvoerende, wetgewende en regterlike mag. Daar was selfs nie eers ‘n raadgewende liggaam om sy gesag te kontroleer nie. Deur middel van proklamasies het hy wetgewende mag uitgeoefen en hy was slegs aan die minister van Kolonies in Londen verantwoordelik.

Weens die groot afstand tussen die Kaap en Europa en die tyd wat met korrespondensie verlore gegaan het, het beheer vanuit Londen nie veel beteken nie. Die goewerneur kon vrywel handel na goeddunke. Prakties was hy daarby verplig om in baie gevalle beslissings te doen in afwagting van latere bekragtiging uuit die verre moederland. Intussen het soveel tyd verstryd dat ministeriële aanwysings weinig sin gehad het.

Die grense van die kolonie

Toe die Kaap in Britse hande oorgegaan het, het die kolonie uit die Kaapse distrik en die distrikte Stellenbosch, Tulbagh, Swellendam, Graaff-Reinet en Uitenhage bestaan. Administratief gesien, was dit moeilik om ‘n groot gebied wat in slegs ses distrikte verdeel was, behoorlik te bestuur. Die kolonie het ‘n groot oppervlakte beslaan – vanaf die Atlantiese oseaan in die weste tot die Visrivier in die ooste terwyl die noordelike grens van Namakwaland ooswaarts langs die Sakrivier geloop het en daarna noordoos na Plettenbergsbaken naby die latere Colesberg en die Stormberge.

Dit was een van Caledon se eerste take om die kolonie in kleiner distrikte te verdeel. Hy het die noordelike deel van Stellenbosch by Tulbagh gevoeg met ‘n assistent-landdros te Jan Disselsvlei (Clanwilliam). Die oostelike deel van Swellendam is as die aparte distrik, George, verklaar. Daarbenewens moes Stellenbosch die gebied suid en oos van die Hottentots-Hollandberge aan Swellendam afstaan. Ook in hierdie gebied is ‘n assistent-landdros benoem met setel te Swartbergbad (Caledon).

Instelling van Rondgaande Howe

‘n Belangrike hervorming wat Caledon ingevoer het, was die instelling van Rondgaande Howe. Volgens ‘n proklamasie van 16 Mei 1811 moes ‘n kommissie van die Hooggeregshof van tyd tot tyd die verskillende drosdye besoek en sake verhoor wat buite die regspraak van die landdroste geval het. Die nuwe howe het in ‘n groot behoefte voorsien, want deurdat die hoëre regspraak aldus na die afgeleë distrikte gebring is, het dit die koloniste die moeite en koste bespaar om die lang reis na die Kaap te onderneem.

Die rondgaande howe het ook ‘n nuttige kontrole oor die werksaamhede van die landdroste uitgeoefen en deur hulle verslae oor die algemene opvoedkundige, godsdienstige en maatskaplike toestande in die buite-distrikte die owerheid in Kaapstad op hoogte van sake gehou. Caledon se administratiewe en regterlike verbeteringe het die houvas van die sentrale regering op die binneland versterk en die weg gebaar vir die toepassing van ‘n beleid van sentralisasie wat later so kenmerk van die Britse bestuur was.

Die regsposisie van die Hottentotte

‘n Saak, en die toekoms sou uitwys hoe belangrik dit was, wat Caledon se ernstige aandag geniet het, was die posisie van die Hottentotte in die kolonie. Vanaf die eerste jare van die Hollandse bewind en dwarsdeur die 18de eeu is die Hottentotte beskou as ‘n onafhanklike volk onder die gesag van sy eie stamhoofde, beskerm deur die regering. Maar veral a.g.v. die groot pokke-epidemies van die 18de eeu en die kontak met die blankes het die stamorganisasie reeds lankal verdwyn. Die Hottentotte het grondlose, swerwende loonarbeiders geword en sommige het ‘n niksdoende heenkome by sendingstasies gevind.

Caledon se proklamasie van 1809

Op 1 November 1809 het Caledon ‘n proklamasie uitgevaardig waarvolgens die koloniale wette voortaan ook op die Hottentotte toegepas is. Dit het beteken dat hulle wel as onderdane van die Staat behandel is, maar as ‘n spesiale klas wie se vryheid van bewering beperk is. Om rondlopery te beperk en arbeidsame gewoontes te kweek, het die proklamasie bepaal dat elke Hottentot ‘n vaste verblyfplek moes hê en dit nie sonder ‘n pas van sy werkgewer of landdros of fiskaal mag verlaat nie. Caledon se doel was nie net om die Hottentotte deur ‘n bestendiger lewenswyse op te hef nie, maar ook om in die tekort aan ongeskoolde werkers te voorsien, ‘n tekort wat veral na die stopsetting van die oorsese slawehandel dwarsdeur die ryk deur die Britse parlement in 1807 ook vir Kaapkolonie ‘n ernstige vraagstuk geword het. Maar die proklamasie het ook die belange van die Hottentotte beoog, want dit het bepaal dat wanneer ‘n Hottentot hom aan ‘n blanke verhuur het, sy diensvoorwaardes behoorlik in ‘n amptelike huurkontrak neergelê en geregistreer moes word. Sulke kontrakte sou slegs vir ‘n jaar geldig wees en lone moes stiptelik uitbetaal word.

Filantropiese reaksie

Caledon se wetgewing t.o.v. die Hottentotte wat deur sy opvolgers later aangevul is, het heftige reaksie van filantropiese kant uitgelok. In hierdie opsig was veral die Londense Sendinggenootskap deur sy woordvoerders Van der Kemp en Read van die sendingstasie Bethelsdorp bedrywig, want hulle het dit as ‘n skending van menseregte beskou en selfs ‘n bedekte vorm van slawerney. Read het die agitasie ingelei deur ‘n brief aan sy genootskap in Engeland waarin hy gekla het dat die Hottentotte ‘n onmenslike behandeling van die kant van die blankes moes verduur. Hy het selfs hoë amptenare waaronder die goewerneur en landdros Cuyler van Uitenhage, beskuldig van pligsversuim deurdat hulle niks gedoen het om ‘n einde te maak aan die onreg en verdrukking nie. Read het beweer dat hy en Van der Kemp bewus was van meer as h onderd gevalle van moord in die distrik Uitenhage alleen. Hierdie sensasionele brief is in Engeland gepubliseer en dit is deur die bekende filantroop Wilberforce onder die spesiale aandag van die ryksregering gebring. Onder Caledon se opvolger sou dit ‘n belangrike nasleep hê.

Die oosgrensvraagstuk

Soos sy voorgangers het ook lord Caledon met die vraagstuk van die oosgrens te doen gekry. Die toestand was sorgwekkend, want die Kôsas wat nog altyd in die Suurveld was, het selfs deurgedring na die distrikte Graaff-Reinet en Uitenhage. Roof en moord was aan die orde van die dag. Die landdroste Stockenström en Cuyler van die twee distrikte respektiewelik, het die regering dringend en herhaaldelik versoek om kommando’s te organiseer om die indringers te verdryf. Ook kol. Collins wat in opdrag van Caledon ‘n uitgebreide ondersoek na toestande in die oostelike distrikte ingestel het, het aanbeveel dat die Kôsas oor die Visrivier teruggedryf moes word. Maar Caledon het geweet dat drastiese optrede en ‘n oorlog met die inboorlinge erg ongewild by die ryksoutoriteite in Londen sou wees en hy het berus in die toestand met die nuttelose raad aan die koloniste om hul vee goed op te pas en vuurwapens alleen in selfverdediging te gebruik. Die Goewerneur se grensbeleid was klaarblyklik ‘n mislukking soos hy openlik aan sy opvolger erken het toe hy op die punt gestaan het om die land te verlaat.

Optrede deur sir John Cradock

Die nuwe goewerneur, sir John Cradock (1811-1814), was ‘n soldaat en oortuig dat slegs militêre optrede die toestand sou verhelp. In Oktober 1811 het hy lt-kol. Graham beveel om na die Suurveld te gaan en met ‘n gemengde mag, bestaande uit Britse soldate en ‘n kommando koloniste, die kolonie van indringers te suiwer. Graham het hom goed van sy taak gekwyt en gedurende die somer van 1811-1812 die Kôsas stelselmatig oor die Visrivier verdryf. Teen die einde van Februarie 1812 was die sg. “Vierde Kafferoorlog” iets van die verlede en Cradock kon met voldoening die sukses van sy optrede aan die ryksregering berig. Sy volgende taak sou wees om die Kôsas te verhinder om terug te keer en daarvoor het die Goewerneur ‘n aantal versterkte punte of forte, met die nuwe dorp Grahamstad as hoofkwartier, langs die Visrivier opgerig en deur soldate laat beman.

Cradock se grondbeleid

Een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die kolonie was die nuwe stelsel van grondbesit wat Cradock in 1813 afgekondig het. Dit was ‘n deel van sy beleid om bestendige toestande in die grensdistrikte te skep. Hy het nl. die ou leningsplaasstelsel wat tot dusver die vernaamste faktor was in die snelle uitbreiding van die kolonie, afgeskaf en vervang deur ‘n nuwe erfpagstelsel. Dit moes dien om die boere vaste aan die grond te bind en rondtrekkery te verminder deurdat hulle voortaan die eiendomsreg op hul plase verkry het. Daarby is gemeen dat as die plase kleiner en duurder word, dit deur eiendomsbelasting ‘n verhoogde staatsinkomste in die hand sou werk en ook plek laat vir Britse koloniste van buite. Dit was juis Cradock se oogmerk om deur immigrasie en kolonisasie ‘n digter blanke bevolking, veral in die Suurveld, te vestig en daardeur die verdediging van die oosgrens te vergemaklik. Voorlopig was dit weens die Napoleontiese oorlog nog nie moontlik om grootskeepse immigrasie aan te pak nie, maar sy grondstelsel het die weg voorberei.

Die sekerheid wat die boere verkry het wat hulle grondbesit betref, het ongetwyfeld baie daartoe bygedra om die trekboere aan die grond te bind en baie van hulle het aansoek gedoen o m eiendomsreg op die leningsplase wat hulle bewoon het, veral in die noordoostelike dele van die kolonie. Sulke plase het voortaan as rekwesplase bekend gestaan. Ongelukkig moes hulle weens die tekort aan landmeters soms baie lank wag voordat die grond op hulle name getransporteer is en om daardie rede het party wat ongeduldig geword het, tog later weer begin trek, selfs oor die grense waar droogtes, en die verwoesting deur sprinkane en trekbokke gesaai, hulle daartoe dwing.

Die Swarte Ommegang

Cradock se militêre optrede teen die Kôsas was nie juis gewild by die ryksbewind in Engeland nie, want die Britse regering het vasgehou aan die beleid van “vrede tot elke prys” en het origens sterk onder die invloed van die Barrowtradisie gestaan. Juis in hierdie tyd is die uitwerking gevoel van die agitasie van Van der Kemp en Read. Die ryksregering kon die druk van filantropiese kant nie weerstaan nie en in Augustus 1811 is Cradock gelas deur lord Liverpool, die minister van kolonies, om die klagtes oor diemishandeling van Hottentotte deeglik te ondersoek en die skuldig swaar te straf. Die Goewerneur het sy opdrag uitgevoer en dit was Read se taak om die nodige bewysstukke en getuies te lewer. Sy kollega Van der Kemp wat in Desember 1811 oorlede is, kon nie meedoen nie.

Van owerheidsweë is alle hulp aan Read verleen en landdros Cuyler wat ook in die gedrang was omdat die sendelinge sy integriteit in twyfel getrek het, het uit sy pad gegaan om selfs onbenullige sakies onder die aandag van die hof te bring. Op sy versoek is hy ook onthef van sy plig om as kroonvervolger op te tree wanneer sake uit sy distrik dien. In sy plek is Gerard Beelaerts van Blokland, ‘n regsgeleerde van onbesproke karakter wat tydens die Bataafse bewind as fiskaal en sedert 1806 as sekretaris van die hooggeregshof gedien het, as kroonvervolger benoem.

Die rondgaande hof, bekend as die “Swarte Ommegang” weens die groot aantal sake waarin nie-blankesbetrokke was, het die distrikte Graaff-Reinet, Uitenhage en George besoek en die sittings het byna vier maande geduur. Vir die koloniste van daardie distrikte was die tyd baie ongeleë, want terwyl meer as vyftig lede van blanke gesinne aldaar as aangeklaagdes gedagvaar is en honderde ander as getuies moes verskyn, moes een-derde van die weerbare burgers aan die bewaking van die oosgrens deelneem. Die omtrek was in beroering, want sommige van die beskuldigdes het uit fatsoenlike families gestam.(1)

(1)Vgl. Theal, History of South Africa since 1795; Vol. I, bl.262

Die uitwerking

Die hof het meer as vyftig sake teen blankes verhoor. Hieronder was vyftien mans en twee vroue aangekla van moord en dertien mans en twee vroue van aanranding op Hottentotte of slawe. Die res is beskuldig van wederregtelike terughouding van vee, lone of Hottentot-kinders. Sommige van die klagtes het betrekking gehad op gebeurtenisse in die verre verlede en ‘n groot deel het voortgespruit uit die vrugbare en gestimuleerde verbeelding van lostongige Hottentotte sowel as die kwaadwilligheid van onewewigtige negrofilistiese dwepers. Dit is wel waar dat daar in die pioniersgemeenskap van die Kaapse grense soos elders in Amerika en selfs in ‘n fabrieksland soos Engeland gevalle van mishandeling van werkers en bediendes voorgekom het, maar dit word algemeen aanvaar dat die Kaapse koloniste nie hardvogtiger opgetree het as hulle blanke tydgenote elders nie en dat die gekleurdes in die Kaapkolonie dit in die algemeen beter as elders gehad het.

Die uitspraak van regters Strubberg en Cloete laat geen twyfel oor die feit dat die blanke koloniste as gemeenskap ernstig beledig is deur die beskuldigings wat hulle ten laste gelê is nie. Slegs in enkele gevalle het die regters persone skuldig gevind en wel van mindere misdade. Geen enkele geval van moord is bewys nie en op die ander aanklagte is meeste mense onskuldig geoordeel. Na sorgvuldige oorweging van die hele geval het die regters in hulle verslag aan die Goewerneur ‘n verdoemende oordeel oor die sendelinge van Bethelsdorp uitgespreek. Dit het o.a. gelui:

“As die here Van der Kemp en Read die moeite gedoen het om saaklik en onpartydig die verskillende stories te o ndersoek wat aan hulle vertel is, sou baie van hierdie klagtes, wat binne sowel as buite die kolonie soveel lawaai veroorsaak het, ook deur hulself as louter denkbeeldig beskou gewees het, en sou bygevolg nog die regering, nog die geregshof daarmee lastig geval gewees het.”(2)

(2)Records of the Cape Colony, Vol. IX, bl.68-69

Wat Bethelsdorp betref, het die regters op die skrille teenstelling gewys wat tussen die sendingstasie en dié van die Morawiërs te Genadendal bestaan het. Op Bethelsdorp sou “die natuurlike toestand van barbarisme skynbaar die plek van beskawing en maatskaplike orde ingeneem het … sou luiheid en ledigheid en bygevolg vuilnis en smet tot volmaaktheid gegroei het”.(3)

(3)Records of the Cape Colony, Vol. IX, bl.74-75

Die “Swarte Ommegang” het veel bygedra tot die verslegting van die verhouding van koloniste tot die Britse owerheid. Die Afrikaners het gekrenk en beledig gevoel deur die valse aanklagte van hul nie-blanke bediendes wat aan ‘n grondige ondersoek onderwerp is terwyl hul eie klagtes teen nie-blankes veelal geen aandag geniet het nie. Hulle goeie naam is beswadder en daar het ‘n hewige reaksie, veral teen die sendelinge van die Londense Sendinggenootskap, ontstaan. Lank na die opsienbare hofsake het daar by sommige mense selfs ‘n vooroordeel teen die sending as sodanig ontwikkel. Die verbittering in die gemoedere van die koloniste het nie gou bedaar nie.

Beweerde verkoop van die Kaap aan Engeland

Indien die koloniste gehoop het dat die Britse bewind slegs tydelik van aard was, dan het daardie hoop vervlieg toe Nederland in Augustus 1814 gedwing is om kragtens die bepalings van die vrede van Parys vir goed afstand van die Kaap te doen. As deel van die algemene vredeskikking aan die einde van die Napoleontiese oorloë het die Britse en Nederlandse regerings ‘n ooreenkoms aangegaan i.v.m. die toekomstige verdediging van die Suid-Nederlandse grens teen moontlike Franse aggressie. Engeland het onderneem om geldelike hulp te verleen. Ook Swede en Rusland was by die saak betrokke en saam met ‘n deel van Nederlands-Guiana het die Kaap in Britse hande oorgegaan. Dit was geen kooptransaksie nie soos die Britse buitelandse minister, lord Castlereagh, beweer het, bloot om sy parlement te oorreed om die nodige finansiële voorsiening te maak. In der waarheid het die Kaap in Britse hande oorgegaan deur verowering, internasionale erkenning en met noodgedwonge toestemming van Nederland.(4)

(4)Records of the Cape Colony, X, bl.145; Oor die hele aangeleentheid sien ibid, I, II, IX en X, asook J.E. Heeres, Heeft Nederland de Kaap verkocht? Ook Hansard XX|I, bl.715-716; ook Hoek, Herstel van het Nederlandsch Gezag over Java; M.L. van Deventer Het Nederlandsch Gezag over Java en Onderhoorigheden sedert 1811 tot 1820, Dl. 1

Koms van lord Charles Sometset

Die vrede wat op die Napoleontiese oorloë gevolg het, het die geleentheid gebied om bestendiger toestande aan die Kaazp te skep. Die eerste goewerneur onder die nuwe bedeling was lord Charles Somerset (1814-1826), ‘n oortuigde Tory en egte produk van die reaksionêre tydsgees. Hy het die konserwatiewe anti-rewolusionêre regering in Brittanje verteenwoordig en ook in sy persoon het hy sterk outokratiese neigings geopenbaar. Een van die eerste sake wat hy aan die Kaap moes hanteer, was ‘n gepoogde opstand van ‘n aantal boere naby die oosgrens.

In die vallei van die Baviaansrivier het ‘n veeboer, Frederik Bezuidenhout, in afsondering gewoon. As  produk van sy tyd en omgewing het hy met die deugde van die pionierslewe ook die ondeugde besit. Hy was ‘n man sonder vrees, vol selfvertroue en weinig agting vir die owerheid. Toe een van sy kleurlingbediendes hom van mishandeling aangekla het, is hy gedaag om voor die hof op Graaff-Reinet te verskyn. Hy het geweier om gehoor te gee selfs nadat hy herhaalde kere gewaarsku is. Uiteindelik op 16 Oktober 1815, is ‘n twaalftal Hottentot-soldate onder aanvoering van ‘n blanke luitenant gestuur om hom in hegtenis te neem. Hy het hom in verweer gestel, daar is oor en weer geskiet en Bezuidenhout is dodelik getref.

Die Slagtersnek-rebellie

Die gebruikmaking van Hottentot-soldate om ‘n blanke in hegtenis te neem, was veral in ‘n tyd toe die naklanke van die Swarte Ommegang nog nie weggesterf het nie, seker onverstandig, maar die hele voorval sou miskien uit die wêreld gewees het as Johannes Bezuidenhout nie by die graf van sy broer wraak gesweer en ‘n aantal mense in die omgewing oorreed het om te rebelleer nie. Veel sukses het die sameswering nie gehad nie, want die grensbewoners was in die algemeen nie bereid om aan te sluit nie. Slegs ongeveer sestig man het die wapen opgeneem. Hulle het geen sterk leier gehad nie en was bowendien taamlik besluiteloos oor hoe om te werk te gaan. ‘n Onverkwiklike poging om hulp van die Kôsahoof, Gaika, in te roep, het misluk omdat die sluwe opperhoof nie ‘n sprong in die duister wou waag nie.

Die owerheid het drasties opgetree. Op 18 November het landdros Cuyler met ‘n gemengde mag van dragonders die rebelle by Slagtersnek aangetref en deur die bemoeiinge van kmdt. Nel is hulle oorreed om die wapens neer te lê. Daar was geen bloedvergieting nie, maar enkele leiers soos Johannes Bezuidenhout, sy swaer Faber asook twee Botmas het met h ul gesinne die wyk geneem in die rigting van Kafferland. Hulle is ingehaal deur ‘ n regeringsmag en na ‘n kort geveg waarin Bezuidenhout gedood is,is die ander gevange geneem. Dit was die einde van die opstand.

Die gevangenes is op Uitenhage verhoor deur ‘n spesiale kommissie van die Hooggeregshof bestaande uit regters Willem Hiddingh en Pieter Diemel. Van die 47 aangeklaagdes is 39 skuldig bevind en gevonnis. Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, Stephanus Botma, Abraham Botma,Theuns de Klerk en Willem Krugel is ter dood veroordeel. Die res is gestraf met verbanning na ander distrikte, boetes en tronkstraf. Willem Krugel is begenadig. Op 9 Maart 1816 het die ander vyf die galgdood op Slagtersnek gesterf ten aanskoue van hul vriende en familie.

Die galg by Slagtersnek het ‘n lang skaduwee oor die geskiedenis van die Afrikaanse volk gewerp, nie alleen weens die harde lot van die veroordeeldes nie, maar ook die manier waarop die vonnis voltrek is. Die galgoue het nl. gebreek en die half-bedwelmde manne is vir die tweede keer opgehang. Die  uitwerking van die gebeurtenis was blywend en het grootliks bygedra tot die afkeer van die Afrikaners van die Britse bewind. Jare later het Voortrekkers in Natalaan kommissaris Cloete wat hulle met Brittanje probeer versoek het, verklaar: “Ons kan Slagtersnek nooit vergeet nie.”(5) Slagtersnek het lank daarna nog soos ‘n muur tussen Afrikaner en Engelsman gestaan.

(5)H. Cloete, History of the Great Boer Trek, bl.29

Somerset en die oosgrens

Soos sy voorgangers het ook Somerset met die lastige oosgrensvraagstuk te doen gekry. Sy voorganger se beleid van volslae skeiding tussen wit en swart kon nie gehandhaaf word nie. Veediefstalle het toegeneem en in 1817 het die Goewerneur persoonlik na die grens gegaan. In teenwoordigheid van Gaika e.a. hoofde is nuwe maatreëls afgekondig. Eienaars van gesteelde vee kon voortaan, vergesel van soldate, die spore oor die grens volg tot by ‘n Kafferkraal en dit terugneem. Indien die vee nie te voorskyn kom nie, kon die spore verder gevolg word of skadevergoeding geëis word van die betrokke kraal. Dit het beteken dat die hoof van so ‘n kraal eintlik verantwoordelik gehou is vir die diefstal, ‘n stelsel van gemeensklaplike verantwoordelikheid waarmee die Bantoes vertroud was.

Die Vyfde Kafferoorlog

Veediefstalle het egter nie verminder nie. Inteendeel lis die Bantoes tot weerwraak aangespoor. ‘n Fout van die Goewerneur was om, onkundig omtrent die interne verhoudinge in Kafferland, vir Gaika as opperhoof te erken. Die ou vyandskap tussen hom en Ndlambe (Slambie) het weer opgevlam en toe Gaika die onderspit gedelf het, het Somerset hom militêr gesteun. Ndlambe was teen hjierdie kombinasie nie bestaan nie. Sy aanhangers moes 23 000 beeste prysgee en toesien dat Gaika nie minder as 9 000 daarvan kry nie.

Dit was die sein vir Ndlambe se volgelinge om die kolonie binne te val. Vroeg in 1819 het 18 000 Kôsas, gelei deur Makana, die grens oorskry en sover hulle getrek het, geroof, gebrand en gemoor. Makana het dit selfs gewaag op 22 April 1819 om Grahamstad helder oordag aan te val. Die aanval is deur die klein garnisoen afgeslaan en Somerset het ‘n strydmag bestaande uit 1 900 soldate en eweveel burgers op die been gebring om die kolonie van invallers te suiwer. Teen die einde van Augustus 1819 was die oorlog met die vernietiging van Ndlambe se mag verby. Die Bantoes is uit die gebied tussen die Vis- en Keiskammariviere verdryf.

In teenwoordigheid van Somerset het die westelike Kôsas wat Gaika as opperhoof erken het, toegestem dat die grens tussen hulle en die kolonie voortaan die Keiskamma en sy boloop, die Tyume, sou wees. Die gebied daarvandaan tot aan die Visrivier is verklaar tot ‘n neutrale gebied, ‘n bufferstrook tussen wit en swart. Origens is ‘n reeks forte, die vernaamste waarvan Fort Willshire was, langs die Keiskamma opgerig om die Kôsas uit te hou. Deur sy optrede het Somerset getoon dat hy niks van die inboorlilnge sou verdra nie en hom nog minder deur die filantrope van stryd sou laat bring.

Somerset se verengelsingsbeleid

Gedurende hierdie jare het die Goewerneur alle pogings tot sy beskikking in die werk gestel om die kolonie stelselmatig Brits te maak. Sy voorganger, sir John Cradock, het reeds in 1811 aan graaf Liverpool geskryf dat dit wenslik was om die heerskappy van die Hollandse stelse te beëindig “deur die versigtige en voortdurende invoering van dieselfde wette, dieselfde beginsels en dieselfde instellinge van die moederland”.(6)

(6)Records of the Cape Colony, VIII, bl.220-221

Reeds op 20 Februarie 1813 het ‘n regeringskennisgewing in die Cape Town Gazette and African Advertiser gewys op die voordele van ‘n uitgebreide kennis van die Engelse taal vir enigiemand wat in die regeringsdiens wou tree. By nuwe aanstellings sou ‘n kennis van Engels ‘n “onvermydelike voorwaarde” wees. Met die sekerheid dat die Kaap deur internasionale erkenning ‘n vaste Britse besitting was, kon Somerset die staatsdiens stelselmatig verengels. Die kapitulasie-voorwaardes van 1806 was slegs met die oog op ‘n tydelike militêre besetting.

Invoer van Skotse predikante

‘n Engelse staatsdiens was egter nog geen versekering dat die koloniste self sou verengels nie. Daarvoor was subtieler metodes nodig en daartoe het kerk en onderwys die geleentheid gebied om die nodige veranderings van die grond af in te voer. In die destydse uitgestrekte Kolonnie was daar slegs nege Hollandse kerke waarvan ses binne 130 km van Kaapstad was. Die stigting van nuwe gemeentes, veral in die buitedistrikte, was dringend nodig, maar weens die tekort aan predikante was dit ondoenlik. Hoewel die tekort maklik uti Nederland aangevul kon word, het die Britse owerheid verkies om predikante van die Skotse Presbiteriaanse Kerk wat groot ooreenkoms met die Calvinistiese Ned. Geref. Kerk gehad het, in te voer.  Manne soos di. Evans, Taylor en Thom was die voorlopers van ‘n hele aantal Skotse predikante wat ‘n werkkring in die Afrikaanse kerk gevind het. Ander predikante wat na ‘n tydelike verblyf in Nederland om die taal te leer, na Suid-Afrika gekom en bekendheid verwerf het, was Andrew Murray, Henry Sutherland, Colin Fraser en George Morgan.

Ná Somerset se vertrek in 1826 is die beleid voortgesit en in 1834 was nie minder as dertien van die 23 predikante Skotte nie. Ongelukkig vir die Britse bewindhebbers het hulle verengelsingspoging van die kerk slegs in ‘n geringe mate geslaag. Die meeste Skotse predikante het met verloop van tyd nie alleen Afrikaans geword nie, maar enkele van hulle en hul nageslag het baie verdienstelike werk op die gebied van die kerk en die onderwys van die Afrikaner verrig.

Die onderwys

Ook op die gebied van die onderwys het Somerset geleentheid gevind om ‘n stelsel van vrye Engelse skole in die lewe te roep, waar Engelse en Skotse onderwysers die hoogste woord sou voer en aan die Afrikaanse kind onderwys sou gee. Engelse en Skotse predikante en onderwysers is ingevoer, nie alleen met die doel om die evangelie te verkondig en aan die Afrikaanse kind onderwys te gee nie, maar ook met die doel om die Engelse taal hier amptelik in te voer. In dié verband het ds. George Thom, wat van Somerset opdrag gehad om predikante en onderwysers in Brittanje vir Suid-Afrika te werf, in Januarie 1821 ‘n insiggewende brief aan die Goewerneur geskryf: “As dit ooit ons wens is om die Engelse taal in die geregshowe in die stad en op die platteland in te voer – iets wat elke Engelsman begeer – dan is dit hoog tyd dat nuwe en verstandige maatreëls getref word om ons taal in te voer.”(7)

(7)Vertaal uit Records of the Cape Colony, XIII, bl.389

Dit is waarskynlik om hierdie rede dat dit vir Engelse en Skotse onderwysers soos Rose-Innes, Rattray, Robertson e.a. nie nodig was om eers ‘n tydjie in Nederland te vertoef en ‘n bietjie kennis van die Hollandse taal op te doen nie. Dit is waarskyn ook om dieselfde rede dat van beskikbare onderwysers in Nederland nie gebruik gemaak is nie.

Engels as enigste amptelike taal

Gerugsteun deur ‘n memorandum van die onderminister van kolonies waarin hy verengelsing sonder meer en die vervanging van Hollands deur Engels bepleit, het Somerset op 5 Julie 1822 sy bekende taalproklamasie uitgevaardig. Hiervolgens sou Engels met ingang van 1 Januarie 1827 die enigste amptelike taal in die geregshowe wees, en in alle ander regeringskantore reeds met ingang van 1 Januarie 1825; voorts sou alle regeringstukke en biefwisseling van 1 Januarie 1823 af in Engels opgestel en gevoer word. Deel van hierdie proklamasie kon egter nie op die bepaalde tyd toegepas word nie; en regters, landdroste en heemrade is nog 1828 toegelaat om Hollands in hul verrigtinge te gebruik.(8)

(8)Records of the Cape Colony, CVII, bl.24

Uitwerking van die beleid

Aanvanklik het die Hollandse koloniste hulle nie teen die verbritsingsbeleid verset nie. Hulle was ordeliewende mense, wat hulle met voldonge feite maklik versoen het. Voorts moet dit nie uit die oog verloor word nie dat die destydse Afrikaners, van wie die oorgrote meerderheid boere was wat ‘n afgesonderde lewe op hul plase gevoer het, heel weinig met die verbritse staatsdiens in persoonlike aanraking gekom het. Ook het dit hulle aan leiding en organisasie ontbreek om kragtige weerstand te bied teen die verbritsing van ‘n staatsdiens waarvoor hulle nooit groot liefde gehad het nie. Vir die stedelike Afrikaner in Kaapstad wat ‘n lewensbestaan in die staatsdiens gesoek het, was die bevoorregting van Engels wel ‘n belemmering, maar die geleentheid was daar om kennis op te doen van hierdie taal, wat toe ook reeds die handelstaal van die kolonie geword het. Geen wonder dat veral die stedelike Afrikaner beteklik maklik die slagoffer van die verbritsingsbeleid geword het nie.

Die invoer van Skotse predikante was vir Somerset nog nie genoeg nie. Ook die taal van die Hollandse kerk moes deur Engels vervang word. Vandaar dat die ingevoerde onderwysers selfs nnie oor die elementêre kennis van die Hollandse taal wat die Skotse predikante in Nederland opgedoen heet, beskik het nie. In die vrye Engelse skole is Hollands amptelik nooit as skoolvak okf voertaal erken nie. Op heirdie wyse wou Somerset Hollands uitskakel en dit selfs in sy sterkste vesting – die kerk – ondergraaf en deur Engels vervang.

Hiervoor was die koloniste op die lange duur nie te vinde nie. Vir hulle was dit noodsaaklik dat Hollands op skool geleer moes word, ten einde die kinders tot lidmaatskap van die kerk voor te berei. Vir hulle was godsdiensonderrig deur ‘n ander taal as Hollands ketters. Vandaar dat die vrye Engelse skole misluk het, hoofsaaklik omdat die Engelse en Skotse onderwysers nie oor genoegsame kennis van die Hollandse taal besik het nie. Baie van die ou koloniste was ontevrede met die regeringskole en het hul kinders weggeneem, “omdat onze moedertaal, Hollandsch”, aldus De Zuid-Afrikaan van 12 Oktober 1832, “er niet in geleerd wordt”.

Die Regsoktrooi van 1827

Toe die reeds genoemde Taalordonnansie van Somerset in 1828 in werking getree het, het ook die Regsoktrooi van 1827 van krag geword. Laasgenoemde was ‘n uitvloeisel van die werk wat die Kommissarisse van Ondersoek tydens h ul driejarige verblyf aan die Kaap verrig het. Hiervolgens is die ou Hollandse regstelsel òf afgeskaf òf radikaal verander, okm vervang te word deur een wat op Engelse lees geskoei is en vir die nuwe Britse koloniste nie vreemd was nie.  ‘n Nuwe en onafhanklike Hooggeregshof (Supreme Court), bestaande uit ‘n hoofregter en drie regters, is in die lewe geroep. Voortaan sou regters opgeleide vakmanne wees, wat deur die Kroon aangestel sou word en nie deur die goewerneur nie. Strafregtelike sake sou voor ‘n regter en jurie dien, en lg. sou uit minstens ses en hoogstens nege lede bestaan. Die regsprosedure sou voortaan Engels wees. In dieselfde jaar het ‘n ander ordonnansie bepaal dat die laer geregshowe, nl. dié van landdroste en heemrade, afgeskaf en deur resident-magistrate en siviele kommissarisse vervang sou word, om onderskeidelik die regterlike en die bestuurlike werk van die gewese plaaslike laer howe te doen.

Hierdie ingrypende regterlike en bestuurlike veranderinge was in menige opsig noodsaaklike verbeteringe. Die instelling van ‘n onafhanklike hooggeregshof, bestaande uit opgeleide vakmanne, en die invoering van die juriestelsel het sonder twyfel die algemene goedkeuring van alle seksies van die bevolking weggedra. Die juriestelsel veral was so gewild dat in die Boererepublieke later daarvan gbruik gemaak is. Die afskaffing van die howe van landdroste en heemrade het egter geen byval gevind nie. Vir die Hollandse koloniste was die vernietiging van hierdie plaaslike liggaam ‘n grief. Hiermee het hulle in plaaslike aangeleenthede die seggenskap verloor wat hulle sedert die dae van Simon van der Stel geniet het. Hoewel die Kommissarisse van Ondersoek ook die afskaffing van die Romeins-Hollandse regstelsel aanbeveel het, en Engelse regsgeleerdes sedertdien herhaaldelik daaraan getorring het, is dit fundamenteel nie aangetas nie en beroep Suid-Afrikaase regters en advokate hulle vandag nog op Voet en die Corpus Juris.

Afskaffing van Burgersenaat

‘n Ander regeringsliggaam wat in hierdie tyd (1 Januarie 1828) die slagoffer van die Britse sentralisasiebeleid geword het, is die Burgersenaat. Hierdie liggaam, wat sy oorsprong in die Burgerrade van die Kompanjiesbewind gehad het, was ‘n soort munisipale raad vir Kaapstad, waardeur die koloniste nie alleen ruime verteenwoordiging in plaaslike aangeleenthede geniet het nie, maar wat ook as skakel tussen hulle en die sentrale regering gedien het. Die afskaffing van die Burgersenaat en die oorname van sy bevoegdhede deur die sentrale regring het nie in die smaak van die koloniste geval nie. Dit is wel waar dat die sentrale regering nie langer uit een man, die goewerneur, bestaan het nie. In 1825 immers is ‘n benoemde Raad van Advies, bestaande uit amptenare, in die lewe geroep om die goewerneur behulpsaam te wees. Drie jaar later is selfs twee koloniste, sir John Truter en kapt. Andries Stockenström, tot lede van die Raad van Advies benoem om die plekke van die twee amptenare in te neem.

Instelling van die Raad van Advies

Hoewel die despotiese een-man-regeringsvorm, met sy wetgewing by wyse van proklamasie, ná 1825 plek gemaak het vir ‘n goewerneur en sy benoemde Raad van Advies, met sy wetgewing wat die naam van ordonnansies gedra het, is dit moontlik om die betekenis van hierdie konstitusionele verandering te oordryf.

Ook ná  1825 het die Kaapse goewerneur oor erg uitgebreide bevoegdhede beskik, wat deur geen liggaam of persoon hier te lande nie, maar alleen deur die Imperiale regering aan bande gelê kon word. Vir koloniste wat tot die veroweraarsvolk behoort het en aan ‘n parlement en parlementêre regering gewoon was, kon die Kaapse regeringsvorm nie anders as ondraaglik wees nie. In die despotiese lord Charles Somerset het die Britse setlaars van 1820 dan ook hul vernaamste vyand in Suid-Afrika gevind.

Immigrasie

Die aankoms van duisende Britse immigrante in Suid-Afrika is ‘n vername gebeurtenis gedurende die regeringstyd van Somerset. Sedert die dae van Caledon is herhaaldelik aan immigrasie uit Engeland gedink,  maar die gedagte het vir die eerste keer vrugte afgewerp toe Benjamin Moodie in 1817, met toestemming van die Imperiale regering, ‘n paar  honderd ingeboekte Skotse leerjongens na die Kaap gebring het. Die meeste was werktuigkundiges, wat sterk in aanvraag was aan die Kaap, sodat Moodie sowel as sy immigrante goed by die saak gevaar het. Die welslae van hierdie onderneming het die Imperiale owerheid beweeg om aan die kolonisasiemoontlikhede van Suid-Afrika daadwerklik aandag te skenk.

Tot dusver het die langdurige Napoleontiese oorloë emigrasie uit Brittanje op groot skaal onmoontlik gemaak. Die beëindiging van die stryd het nie alleen gunstige toestande vir landverhuising geskep nie, maar die na-oorlogse ontwrigting op ekonomiese, sosiale en politieke gebied het emigrasie positief in die hand gewerk. Vir Brittanje sou dit veral die Verenigde State van Amerika en die Britse kolonies Kanada, Australië en Nieu-Seeland wees, wat as afsetgebiede vir werklose en ander minder gewenste bevolkingselemente sou dien.

Ten gevolge van die herhaalde versoeke van Kaapse goewerneurs om meer Britse immigrante, het die Imperiale owerheid besluit om ‘n deel van die emigrasiestroom na Suid-Afrika te lei. Dergelike immigrante sou nie alleen dien om die Britse bevolkingselement teenoor die oorwegend Hollandse bevolking te versterk en derhalwe die Britse houvas op die strategies belangrike voorpos van Indië te verstewig nie, maar hulle sou ook bydra om die lastige en dure oosgrensvraagstuk op te los.

Vandaar dat die Imperiale parlement in 1819 die bedrag van R100 000 gestem het om Britse emigrasie na Suid-Afrika te bevorder. Hierdie bedrag mag nietig lyk, maar in ‘n tyd toe emigrasie met staatsteun en stelselmatige kolonisasie nog in hul kinderskoene gestaan het, was dit ‘n betekenisvolle gebaar van die Imperiale parlement.

Die 1820-Setlaars

Die Britse setlaars van 1820, bestaande uit 3 124 siele, het met groot geesdrif en hoë verwagting na Suid-Afrika gekom. Geen wonder nie, want selfs die Goewerneur het die landstreek tussen die Boesmans- en die Visrivier beskryf as “gelykende op ‘n reeks parke, bedek met ‘n groen tapyt waarop die natuur in eindelose verskeidenheid geplan het met een woord, die pragtigste en vrugbaarste in die hele kolonie”.(9)

(9)Vertaal uit J.E. Edwards: The 1820 Settlers in South Africa, bl. 43

In hierdie aardse paradys sou elke setlaar ‘n volgens Britse maatstaf uitgestrekte landgoed, nl. 42 hektaar grond, in erfpag ontvang en sou hy gedurende die eerste tien jaar van die jaarlikse paggeld vrygestel wees. Voorts sou die Imperiale regering aan die setlaars gratis oortog na die Kaap verskaf, sowel as landbougereedskap, saadkokring en voedselrantsoene teen inkoopprys. Elke geselskap van honderd gesinne kon ook ‘n predikant saambring, en die Kaapse regering sou sy salaris betaal.

Drukkende toestande in die moederland en die gunstige voorwaardes wat aan emigrante gebied is, het tot gevolg gehad dat die regeringskantore oorstroom is deur aansoeke van mense wat begerig was om na Suid-Afrika te emigreer. Die owerheid het nie met die individuele applikant onderhandel nie, maar alleen met die hoofde van geselskappe. So ‘n hoof was iemand wat onderneem het om met ten minste nege ander getroude of ongetroude mans na die Kaap te gaan. ‘n Dergelike geselskap, vroue en kinders inkluis, sou kosteloos vervoer en op die reis versorg word.

Deur die hoof van so ‘n geselskap moes vir elke manlike meerderjarige die bedrag van R20 by die regering gedeponeer word. Hierdie deposito sou in drie paaiemente aan die hoofde terugbetaal word, nl. een derde ná aankoms in Suid-Afrika, een derde drie maande later. Die Imperiale regering het geen verdere verpligting onderneem nadat die emigrante in Suid-Afrika geland het nie. Dit was die deposito-geld wat aangewend sou word om hulle oor hul eerste moeilikhede te help.

Leemtes en gebreke in die skema

Die hele onderneming, sowel sy organisasie as sy uitvoering, het aan ernstige leemtes en gebreke mank gegaan. Vir eers het die keuring van emigrante – ‘n taak wat veral op die skouers van die geselskapshoofde gerus het – veel te wense gelaat. In plaas van geoefende landbouers, soos Somerset dit vir die Suurveld bedoel het, is te veel verarmde stedelinge toegelaat om na die Kaap te kom. Hierdie mense het niks van boerdery geweet nie en hoe sou hulle dan in Suid-Afrika – ‘n land wat hoë eise aan die boeregemeenskap stel – ‘n goeie bestaan kan maak?

Die Imperiale regering self het nieoor genoegsame kennis van kolonisasie in Suid-Afrika beskik en het nie alleen geen inligting aan die emigrante verskaf nie, maar ook versuim om noodsaaklike voorbereidende maatreëls vir die ontvangs en vestiging van so ‘n groot getal landverhuisers te tref. Die Imperiale gesagvoerders het slefs versuim om die Kaapse goewerneur behoorlik in te lig omtrent die getal wat sou kom. Toe daar meer as 3 000 geland het i.p.v. die ongeveer 2 000 wat hy verwag het, was hy nie daarop voorberei nie.

Probleme van die setlaars

‘n Ander bron van ontevredenheid was die grootte van die grond wat aan elke setlaar toegeken is. Die owerheid se doel met die uitgee van plasies van 42 ha elk was om te sorg vir ‘n digte bevolking wat as ‘n goedkoop grensverdedigingsbolwerk teen die Bantoes moes dien. In ‘n land soos Suid-Afrika met sy ekstensiewe boerdery was sulke plasies onbestaanbaar. Dit was soveel meer die geval wat betref immigrante wat totaal onkundig was met plaaslike toestande. Geen wonder dat hulle nie ‘n behoorlike bestaan kon maak nie en bitter ontevrede was.

Toe die setlaars in Suid-Afrika land, was Somerset met verlof in Engeland. Die waarnemende goewerneur, sir Rufane Donkin wat maar 2 000 immigrante verwag het en nou eensklaps met die 3 000 onder 57 hoofde te doen kry, het in menige opsig in stryd met Somerset se planne gehandel. Volgens die oorspronklike plan moes al die setlaars in die Suurveld gevestig word. Op las van die Imperiale regering egter moes Donkin die Iere, wat ‘n baie klein groepe gevorm het, die Skotte, wat ook nie ‘n groot getal was nie, en die Engelse wat die groot meerderheid uitgemaak het, apart hou.

Bygevolg het die Iere in Clanwilliam grond gekry, terwyl die Skotte en Engelse na Algoabaai deurgestuur is. Hierdie Clanwilliamse Ierse nedersetting was van die staanspoor af ‘n treurige mislukking. Hul leier Pakrer was ‘n selfsugtige spekulant; en toe sy ietwat fantastiese handelsplanne op niks uitloop nie, het hy die blaam op die Kaapse regering gewerp. Wat die Ierse nedersetting betref, het ook die regering ingesien dat die bodem en klimaat van Clanwilliam nie vir intensiewe kolonisasie geskik was nie. Vandaar dat die meerderheid van die Iere ook na die Suurveld gestuur is, waar die Engelse en Skotte reeds gevestig was.

Die nuwe koloniste in die Suurveld

Ook in die Suurveld was die lot van die Britse setlaars aanvanklik geensins benydenswaardig nie. Afgesien van die flaters wat die owerheid begaan het, moes die nuwe koloniste ook ander beproewings deurmaak. Die graan wat hulle met soveel harde arbeid en hoë verwagtinge gesaai het, is reeds in die eerste jaar deur ‘ n soort roes, wat vroeër onbekend in Suid-Afrika was, verwoes. Behalwe roes het ander rampe soos droogte, oorstroming en sprinkane gedurende die volgende  drie jaar die setlaars swaar getref.

Vir baie was die eerste kennismaking met Suid-Afrika ‘n groot teleurstelling. Met hul deposito-geld opgebruik en deur hongersnood bedreig, het die toekoms vir die meeste donker gelyk. Selfs die bestes onder hulle, mense met karakter, energie en kapitaal, het dit aanvanklik baie moeilik gehad; en as die Kaapse regering nie hulp verleen het nie, sou min van hulle langer aan die grens oorgebly het. In werklikheid het baie al gou hul plase verlaat en as handwerkers en  handelaars ‘n beter heenkome probeer soek.

Donkin het ingesien dat die plasies te klein was en dat die landbou as sodanig weinig beloof het, aangesien ‘n goeie mark in die grensdistrikte ontbreek het. Vandaar dat hy die plase vergroot en veeboerdery toegelaat het en dus radikaal van Somerset se militêr-strategiese planne vir die nedersetting afgewyk het.

Dit was ‘n geluk vir die setlaars dat hulle in die beginstadium nie deur ‘n Bantoe-inval oorweldig is nie. Die oorlog van 1819 het voorlopig hierdie invalle gestuit. Groot dank is die setlaars ook aan die Hollandse koloniste verskuldig, wat in die jongste oorlog die spit moes afbyt en gehelp het om die Suurveld vir die setlaars bewoonbaar te maak. Dit was ook die Hollandse koloniste wat aan die nuwe immigrante gedurende hul eerste moeilike jare ‘n helpende hand gereik het.

Ná die eerste paar moeilike jare het dit beter met die setlaars gegaan. Diegene onder hulle wat boere gebly het, het groter plase gekry en hulle ook op die veeboerdery, en later veral op die wolboerdery, toegelê. Ander wat nie as boere gedeur het nie, het as ambagslui en handelaars in die dorpe goed verdien. Albanie, soos die setlaarlandstreek genoem is, het fluks gevorder. Grahamstad het vinnig gegroei en op politieke en kulturele gebied weldra die belangrikste dorp in die Oostelike Provinsie geword. By Algoabaai het, onder die mure van Fort Frederick, ‘n nuwe hawestad verrys, waarin sir Rufane Donkin die naam Port Elizabeth, ter ere van sy oorlede vrou, gegee het.

Politieke betekenis van die setlaars

Die politieke belangrikheid van die Britse setlaars is in die verlede dikwels oorskat. Dit is voorgestel asof hulle die mense was wat konstitusionele vryhede en demokratiese regte na Suid-Afrika gebring het. In hierdie verband is dit goed om te onthou dat baie min van die mense behorende tot die klasse waaruit die setlaars gekom het, voor die Reform Act van 1832 in Brittanje die stemreg geniet het. Die emigrante het dus in hul eie moederland geen politieke seggenskap gehad nie. Aan die ander kant is dit waar dat hulle mense was wat aan ‘n liberaler regeringsvorm as die outokratiese regering van Somerset gewoond was. Hulle was in Brittanje gewoond aan ‘n parlement en aan parlementêre regering, hulle was ook gewoond aan konstitusionele middele soos openbare vergaderings en ‘n vrye pers, wat hulle in staat gestel het om hul mening vryelik uit te spreek. Onder hulle was daar kampvegters soos Burnett, Pringle en Fairbairn, wat vir vryheid gestry het.

Dit lê voor die hand dat die verset teen Somerset se bewind van hulle, en nie van die verowerde Hollandse koloniste nie, sou uitgaan. Laasgenoemdes se skynbare onverskilligheid t.o.v. politieke aangeleenthede mag nie vertolk word asof hulle met die doen en late van die nuwe bewind akkoord gegaan het nie. Die geskiedenis van die jare dertig bewys die teenoorgestelde.

Botsing met Somerset

Dit is vanselfsprekend dat die nuwe koloniste vroeër of later met die reaksionêre bewind van Somerset in botsing moes kom. Dat die botsing vroeër plaasgevind het, moet aan die Goewerneur se onsimpatieke houding teenoor die stoflike nood van die setlaars toegeskryf word. In teenstelling met Donkin, het Somerset alles gedoen wat hom die vyandskap van die nuwe koloniste op die hals moes haal. Nie alleen het hy maatreëls van Donkin t.o.v. die immigrante buite werking gestel nie, maar hy het ook die kontrakte tussen die setlaars en die groepshoofde deur dwang probeer handhaaf, in sover hy eersgenoemdes gewaarsku het dat hulle in hegtenis geneem sou word indien hulle nie hul grond verlaat. Die reg om  hul grond te verlaat, kon alleen verkry word as die landdros ‘n pas uitgereik en die btrokke groepshoofde hul toestemming verleen het. Die owerheid het verder gedreig om die grond terug te neem indien meer as een vyfde van die lede van ‘n groep die grond sou verlaat. Voorts het die Goewerneur onmiddellik ná sy terugkoms aan die Kaap tot die uiterste stap oorgegaan deur alle openbare vergaderings in die kolonie te verbied.

Hoewel hierdie krasse maatreëls verslap het namate toestande bestendiger geword en die setlaars tot verhaal gekom het, het die verhouding tussen die Goewerneur en die nuwe koloniste nooit opgehou om gespanne te wees nie. Laasgenoemdes het in Somerset die verpersoonliking van tirannie en korrupsie gesien en hom die skuld vir al hul terugslae en teleurstellings gegee, terwyl die Goewerneur van sy kant die setlaars as ‘n boel “radikale” en “rewolusionêre” verafsku het.(10)

(10)Edwards: The 1820 Settlers in South Africa; Cory: The Rise of South African Vol. II; Theal: Records of the Cape Colony, Vols,. XXXI-XXXV

Die botsing tussen die koloniste en Goewerneur wat die meeste opspraak verwek het, is die stryd i.v.m. ‘n vrye drukpers. Tot 1823 was die staatskoerant die enigste gereelde publikasie wat in Suid-Afrika verskyn het. Onder die setlaars was daar veral twee manne, Thomas Pringle en John Fairbairn, wat meer skryftalent as sin vir boerdery gehad het. Met goedkeuring van die Goewerneur het hulle, in samewerking met ds. Abraham Faure, daartoe oorgegaan om ‘n tweetalige maandblad, die South African Journal, of, soos die Hollandse uitgawe geheet het, die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, op te rig. Met ‘n drukker, George Greig, het Pringle en Fairbairn ooreengekom om ook ‘n weekblad, die South African Commercial Advertiser, uit te gee.

By albei publikasies is ‘n belofte aan Somerset gedoen dat alle kontensieuse onderwerpe van politieke en persoonlike aard vermy sou word. Somerset was uit die staanspoor die nuwe nuusblaaie nie goedgesind nie, en behalwe Faure se Tijdschrift, wat alle strydvrae vermy het, het albei die Engelse tydskrifte byna onmiddellik ná hul ontstaan die Goewerneur se gramskap verwek. Dit was veral die Commercial Advertiser se verslag van ‘n opsienbarende lastersaak wat die krisis verhaas het.

Die pers

In Mei 1824 het die fiskaal insage in die drukproewe van die volgende uitgawe van die blad, asook ‘ n waarborg van 10 000 riksdaalders, van die uitgewer geëeis. Greig was nie van plan om onder hierdie beperkinge sy blad voort te sit nie, en in die volgende uitgawe is kortweg aangekondig dat die publikasie daarvan “voorlopig” gestaak is tot tyd en wyl die owerhede in Brittanje en aan die Kaap anders oor die saak sou oordeel.

Die Goewerneur het hierdie aankondiging as ‘n uittarting beskou en die koerant nie alleen stopgesit nie,maar Greig gelas om die kolonie binne ‘n maand te verlaat. Greig sowel as Pringle, wat ook met die Goewerneur gebots en die publikasie van die South African Journal gestaak het, is hierop na Londen, waar hulle met die ministerie van Kolonies die agitasie teen die Kaapse Goewerneur aangevuur het. Die Imperiale minister, graaf Bathurst, was Greig se saak goedgesind; en, met ‘n geskrewe waarborg in sy sak, dat alleen die Goewerneur-in-Rade voortaan die mag sou hê om ‘n koerant in die ban te doen as daartoe grondige redes bestaan, is hy terug na die Kaap, waar die South African Commercial Advertiser, onder redaksie van Fairbairn, weer verskyn het.

Vryheid van die pers

Hiermee was die vryheid van die pers nog geen voldonge feit nie, want in Mei 1826 het die Advertiser in die oë van die Goewerneur weer gesondig deur ‘n uittreksel uit die Londense Times te plaas sonder om die bron aan te dui. Die saak het soveel beroering veroorsaak dat Bathurst vir Bourke, die opvolger van Somerset, gelas het om greig se drukpers te sluit. Fairbairn is bygevolg na Engeland, waar hy,  ná veel gesukkel en gedraal, in Julie 1828 die versekering gekry het dat die drukpers aan die Kaap voortaan buite die beheer van die goewerneur en sy raad sou wees. Die stryd om die vryheid van die pers was gewonne.

In die stryd om die vryheid van die drukpers en in die veldtog teen die Goewerneur wat daarmee gepaard gegaan het, was dit die nuwe koloniste en hul bondgenote in Brittanje wat die hoofrol gespeel het. Die outokratiese Somerset het in sy eiegeregtigheid nie besef dat die invloed en mag van die regerende “High Tories”, sy geesverwante en beskermers, in die moederland aan dietaan was nie. Die opkoms van die vooruitstrewende “Young Tories”, o.l.v. ‘n man soos Canning, en veral die groeiende mag van die liberale Whig-opposisie het die begin van die einde van Somerset se heerlikheid aangekondig. Ook die steeds heftiger wordende kritiek van dr. John Philip en Exeter Hall het baie daartoe bygedra om die gesag van die Goewerneur te ondergraaf.

Dit ly geen twyfel nie dat Somerset meer vyande as vriende gemaak khet en dat sy bewind afgesien van die oordrywinge van sy Exeter Hall- en setlaarvyande, aan ernstige gebreke soos tirannie en korrupsie mank gegaan het. Die Goewerneur is in die Britse parlement skerp aangeval, en sy doen en late het onder die vir hom skroeiende soeklig gekom van die Colebrook-Bigge-kommissie, wat gedurende 1823 – 1826 aan die Kaap vertoef en ‘n deeglike ondersoek na allerlei regeringsaangeleenthede ingestel het.

Hoewel die Hollandse koloniste, ten spyte van Slagtersnek en die verbritsingsbeleid van Somerset, nie daadwerklik aan die agitasie teen die Goewerneur deelgeneem het nie, is hulle gedurende hierdie tyd ook op ekonomiese gebied deur regeringsmaatreëls swaar getref. Die waardevermindering van die Kaapse geld waarvoor die Kommissarisse van Ondersoek die skuld ook op Somersetgelaai het, is een voorbeeld.

Inflasie van die papiergeld

Met die verowering van die Kaap in 1806 het die Britte die papier-riksdaalder as die vernaamse geldeenheid, met die nominale waarde van ongeveer 41c, hier aangetref. Hierdie betaalmiddel is gedurende die laaste jare van die Kompanjie ingevoer; en die eerste Britse sowel as die Bataafse bewind het die hoeveelheid papiergeld roekeloos vermeerder, sonder om daarvoor te te sorg dat dit deur realiseerbare sekuriteit bedek is. Ook die Britse bewindhebbers ná 1806 het dié onverstandige geldbeleid gevolg, sodat die papier-riksdaalders van 2 086 000 in 1806 tot 3 102 204 in 1825 vemeerder is. Die onoordeelkundige vermeerdering van ongedekte papiergeld, sonder dat die ekonomiese ontwikkeling van die land dit geregverdig het, het onvermydelik tot inflasie en depresiasie van die riksdaalder gelei. Vandaar dat die waarde van die riksdaalder, wat in 1814 nog 22-1/2c was, in 1818 tot 17-1/2 en in 1825 tot 15c gedaal het.

Die roekelose vermeerdering van die papiergeld en die daaropvolgende inflasie was nie die enigste oorsaak van depresiasie nie. Aander faktore soos die ongunstige handelsbalans, die na-oorlogse handelslapte, veral ná die dood van Napoleon  en die verdwy ning van St. Helena as afsetgebied vir Kaapse produkte, en die oprigting van ‘n diskontobank aan die Kaap, het almal hul deel tot die waardevermindering van die riksdaalder bygedra. Dit staan egter vas dat Somerset deur sy spandabelheid, deur sy versuim om middele teen inflasie aan te wend en deur sy ligsinnigheid om telkens sy toevlug tot die drukpers en die druk van meer papiergeld te neem, veel skuld aan hierdie finansiële debakel het.

Waardevermindering van die riksdaalder

Die vasstelling in 1825 van die riksdaalder se waarde op 15c het groot ontevredenheid uitgelok. Nie alleen die Kaapse regering nie, maar ook die geldskieters en handelaars het verliese gely. Veral onder die Hollandse koloniste was die ontevredenheid met die Imperiale regering vry algemeen. Hulle het die vasstelling van die riksdaalder se waarde op 15c as troubreuk van die owerheid beskou en het veral in Graaff-Reinet onmiskenbaar vyandige gevoelens aan die dag gelê.(11)

(11)Records of the Cape Colony, XXIII, p.411

Ordonnansie No. 50

Vir die Kaapse koloniste, en vral vir die Afrikaners, sou daar weldra nog meer redes tot diepgaande ontevredenheid ontstaan. Onder genl. Richard Bourke (1826-1828), wat gedurende Somerset se afwesigheid as goewerneur waargeneem het,  is die Kaapkolonie deur ‘n vloedgolf van negrofilisme oorweldig. Vir dr. John Philip, wat nie goed met Somerset oor die weg kon kom, was dit ‘n gulde geleentheid om saam met die filantropies gesinde Bourke sy wil te laat segevier. In April 1828 het Philip se groot werk Researches in South Africa verskyn, en in dieselfde jaar het Ordonnansies 49 en 50 die lig gesien.

Deur Ordonnansie 49 het Bourke alle wette herroep wat die Bantoes belet het om oor die grens te gaan. Reeds in 1826 het Bourke gelas dat niemand meer toegelaat sou word om vee uit Kafferland te gaan haal nie, dat militêre ekspedisies gestaak en Somerset se “reprisal system” beëindig moes word. Die hele oosgrens- en Bantoebeleid van die verlede is sodoende deur ‘n plaasvervangende regeringshoof omvergewerp.

Met die Hottentotte-wetgewing van Bourke se voorgangers het dit nie anders gegaan nie. Deur Ordonnansie 50 is die Hottentotte-wetgewing van Caledon, Cradock en Somerset vernietig. Voortaan mog geen vrye bewoner van die Kaapkolonie op grond van kleur in sy bewegingsvryheid, woonreg, lewenswyse of werk beperk of tot arbeid gedwing word nie. Voorts kry alle Hottentotte, Boesmans en vrye gekleurdes, net soos gewone burgers van die land, die volle reg om grond te besit. Dr. Philip het alle rede gehad om hoogs tevrede te wees, veral nadat hy dit reggekry het om aan hierdie ordonnansie ‘n bepaling toe te voeg dat ditnie sonder toestemming van die Imperiale regering verander mog word nie.

Ordonnansies 49 en 50, veral omdat hulle nie vergesel is van wetgewing wat die koloniste teen rondswerwende en leeglopende nie-blankes beskerm het nie, kon nie anders as griewend op die ou koloniste inwerk nie. Daaroor laat die getuienisse van die Voortrekkers enige jare later geen twyfel nie. Ewe tergend was die slawewetgewing wat van tyd tot tyd die lig gesien het.

Maatreëls m.b.t. slawerny

Met die verowering van die Kaap in 1806 het die Britte slawerny as instelling hier aangtref. Die instelling was byna so oud as die Kaapse nedersetting self en het dus tyd gehad om in die ekonomiese en maatskaplike lewe van die kolonie diep wortel te skiet. Tog het die slawerny aan die Kaap in belangrike opsigte radikaal verskil van dié in ander dele van die wêreld. Vreemde besoekers en reisigrs, kommissarisse van ondersoek, regters en goewerneus is dit deurgaans eens dat die slawe aan die Kaap, op enkele uitsonderings na, goed behandel is. Anders as in tropiese plantasiekolonies, soos die Wes-Indiese eilande, waar die winsmotief oorsaak was dat slawe-arbeid wreed uitgebuit is, het die Kaapse slawe in ‘n aangename klimat geleef en die werk van gewone plaasarbeiders en huisbediendes gedoen. Hier het die slawe nie, soos op die Wes-Indiese eilande, in spanne onder toesig van ‘n drywer met ‘n sweeg geswoeg nie. Aan die Kaap was daar geen ryk plantasie-eienaars nie wat in weelde in die moederland geleef het onderwyl die plantasie-opsigters en hul handlangers na hartelus kon bak en brou. In die Kaapkolonie was die slawe-eienaar ook die slawe-opsigter en was dit in sy eie belang om sy slawe menslik te behandel.

Dit was ongelukkig dat die gesagvoerders in Brittanje nie met die verskil tussen die slawerny in Wes-Indië en in Suid-Afrika rekening gehou het nie. Vandaar dat slawewetgewing in Londen wat vir Wes-Indië bedoel was, ook op die Kaapkolonie toegepas is. Die gevolg was ‘n reeks slawewette wat nie alleen ‘n irriterende uitwerking op die koloniste gehad het nie, maar in sommige gevalle ook die goeie verhouding tussen baas en slaaf vertroebel het. Hierdie tergende slawewetgewing het ‘n aanvang geneem toe Somerset in 1816 ‘n proklamasie uitvaardig waarvolgens die slawe geregistreer moes word. In ‘n proklamasie van 1823 is die werkdae en werkure van slawe vasgestel, en is daar voorsiening vir hul kos en klere gemaak. Volgens hierdie proklamasie kon getroude slawe nie apart verkoop word nie, en is daar voorsiening gemaak vir die verspreiding van die Christelike godsdiens onder hulle. Voorts is die aantal houe beperk wat hulle as lyfstraf mog kry, en het hul getuienisse in die geregshowe geldigheid geniet.

In die volgende jare het meer en meer wetgewing die lig gesien waarvolgens die regte van die slawe uitgebrei en dié van die base oor hul slawe ingekort is. So is daar in 1826 ‘n “Slave Protector” in Kaapstad en “Assistant Protectors” in die buitedistrikte aangestel, en is die slawe aangemoedig om hul klagtes na hierdie beskermhere te bring. Die gevoel teen hierdie maatreël was so sterk dat die burgerlike lede van die Burgersenaat in Kaapstad en die heemrade in Stellenbosch geweier het om by die voorlees van die ordonnansie teenwoordig te wees.

Kort hierna is openbare vergaderings in Kaapstad en Graaff-Reinet gehou, waar besluite t.g.v. gestadige emansipasie aangeneem en die owerheid versoek is om die regte van slawe-eienaars nie verder in te kort nie. Ook van hierdie besluite, soos die vrystelling van alle vroulike slawekinders by geboorte, sonder vergoeding van die eienaars, asook ‘n voorstel dat alle manlike slawekinders by geboorte vry moes wees, maar met vergoeding, het die Britse owerheid geen notisie geneem nie, hoewel hulle tog ‘n redelike grondslag vir ‘ n billike oplossing van die slawevraagstuk gebied het.

In plaas van  tegemoetkoming het die owerheid met nog tergender regulasies voor die dag gekom. So is daar in Augustus 1830, n.a.v.’n Britse kabinesorder, o.m. bepaal dat elke slawe-eienaar ‘n strafboek (“punishment record book”) moes aanhou, waarin hy duidelik moes optreken welke strawwe hy aan sy slawe toedien en wat hy twee maal per jaar aan die slawebeskermer moes voorlê. Hierdie bepaling het ‘n groot opskudding onder die koloniste veroorsaak.

Deur bemiddeling van goewerneur sir Lowry Cole (1828-1833) is hierdie vir die veraf wonende koloniste in die uitgestrekte binneland haas onuitvoere maatreël in 1832 aansienlik versag. Hiervolgens sou slawe-eienaars wat verder as 30 km van Kaapstad en Grahamstad gewoon het, nie meer die strafboek hoef aan te hou nie.

‘n Ander uiters ongewilde kabinetsorder uit die jaar 1831 het die arbeidsure van die slawe tot nege per dag beperk (6 vm. Tot 6 nm., met drie uur oor vir maaltye en rus) en die slawebeskermhere gelas om op alle tye en plekke die slawe te besoek en ondersoek na  hul welstand, woonplek, ens., in te stel. Die gemoedere in die kolonie het ten gevolge van hierdie maatreël so hoog geloop dat die Goewerneur dit gerade geag het om openbare vergaderings te verbied. ‘n Jaar later, nadat die gemoedere ietwat bedaar het, het Cole toegelaat dat ‘n openbare vergadering in Kaapstad gehou word.

Tweeduisend slawe-eienaars, van wie sommige uit afgeleë plekke soos Hexrivier en Swellendam gekom het, het op 17 September 1832 die vergadering bygewoon. Die verrigtinge is deur die grootste ordelikheid en eensgesindheid gekenmerk, maar die verset was nietemin baie beslis teen die inmenging van die Imperiale regering, wat vir die Kaapse slawe nuwe arbeidstoestande wou skep, terwyl die bestaande arbeidsvoorwaardes in menige opsig reeds beter was as dié van fabriekswerkers en agterbuurtbewoners in Brittanje self.

Nie alleen is die oortuiging uitgespreek dat die Britse kabinetsorder onregverdig was en die Kaapse toestande nie genoeg in aamerking geneem was nie; maar daar is ook besluit dat ‘n gekose wetgewende raad vir die kolonie ingestel moes word, en dat die slawe-eienaars dan self sou help om die lot van hul slawe te verbeter en uiteindelik die stelsel af te skaf. ‘n Versoekskrif om die herroeping van die jongste kabinetsorder (2 November 1831) is deur meer as 3 000 slawe-eienaars onderteken aan die Britse koning gestuur.

Hoewel die Kaapse goewerneur magteloos was om iets in stryd met Imperiale kabinetsorders te doen, en die Britse regering onwillig was om die koloniste tegemoet te kom, het lg. uiteindelik tog ‘n mate van sekerheid en verligting gevind toe dit bekend geword het dat die Britse parlement in Augustus 1833 ‘n wet gemaak het waarvolgens daar ná 1 Desember 1836 geen slawerny meer in die Britse kolonies mog bestaan nie. Ook die verdere bepaling dat die vryverklaarde slawe ‘n inboektyd wat nie langer as 1 Augustus 1828 sou duur nie, by hul base moes deurmaak, sowel as die vasstelling van die skadevergoeding op R40 000 000, het waarskynlik meegewerk om die koloniste met hul lot te versoen. Verdere ontnugtering het egter vir baas sowel as slaaf gewag.

Vrystelling van die slawe

Die nuwe goewerneur, sir Benjamin D’Urban (1834-1838), moes die vrystellingswet uitvoer. Bygevolg is kommissarisse aangestel om vas te stel hoeeveel slawe daar aan die Kaap was en om hulle te waardeer. Volgens hul verslag, wat teen die end van 1834 verskyn het, was daar 39 021 slae met ‘n waarde van R6 081 580. Met hierdie skadevergoeding was die eienaars nie heeltemal tevrede nie; maar groot was hul ontnugtering toe hulle in 1835 verneem dat slegs R2 494 802 vir die Kaapse slawe beskikbaar was. Meer ontnugteringe het gevolg toe bekend gemaak is dat alle uitbetalings in Londen sou geskied en wel nie in kontant nie, maar in Britse 3-1/2%-staatspapiere. Voorts sou alle administrasiekoste i.v.m. die vrystelling van die kompensasiegeld afgetrek word, en elke eis moes van seëls ter waarde van R3 voorsien wees.

Die gevolg van dit alles was verbystering aan die Kaap. Baie verbande is opgeroep; oorsese agente en spekulante het die verwarring van die koloniste uitgebuit deur hul eise vir ‘n appel en ‘n ei op te koop. Baie slawe-eienaars het bygevolg slegs een vyfde en selfs minder die kapitaalwaarde van hul slawe gekry. Vermoënde families, veral die patriargale huishoudings in die Westelike Provinsie, is so verarm dat baie die ernstige ekonomiese krisis n ie te bowe gekom het nie. Ook die veeboere in die buitedistrikte het gely. Hulle het wel veel minder slawe as die landbouers van die Boland gehad, maar onder hulle was daar ook aansienlike slawe-eienaars.

Vir die Kaapkolonie met sy klein blanke bevolking, wat in 1819 slegs ongeveer 42 000 groot was, was dit geen kleinigheid om meteens meer as drie miljoen rand te verloor nie. Dit was hoofsaaklik die Afrikaanssprekende koloniste wat hierdie las moes dra, aangesien die Britse nedersetters van 1820 nie toegelaat is om slawe aan te hou nie. Dit is veral ook die Afrikaanssprekende koloniste wat die meeste gely het ten gevolge van die leeglopery van die vergrote vry gekleurde bevolking. Goewerneurs soos Cole en D’Urban het wel deeglik die noodsaaklikheid van ‘n wet teen leeglopery ingesien. Hulle was egter magteloos solank Ordonnansie 50 as landswet gegeld het en dr.Philip en sy ondersteuners die vertroue van die Imperiale regering geniet het.

Instelling van Wetgewende Raad

Die vrystellling van die slawe was nie die enigste taak wat sir Benjamin D’Urban aan die Kaap moes verrig nie. Die Britse regering wat hom na Suid-Afrika gestuur het, was ook die Whig-regering wat die triom van die groot Reform Act van 1832 beleef het. Die nuwe Goewerneur het tot taak gehad om die regeringsliggame van die kolonie in ‘n liberaler koers te stuur.

Wat die sentrale regering betref, het die Raad van Advies in 1834 plek gemaak vir ‘n Wetgewende Raad waarin, naas die hoogste amptenare, vyf tot sewe benoemde koloniste sitting gehad het. Hoewel die wetgewende inisiatief nog in hande van die goewerneur was, en die nuwe raad dus alleen kon bespreek wat die goewerneur aan hom voorgelê het, was sy magte tog veel groter as dié van die Raad van Advies. Die toestemming van die Wetgewende Raad was nodig om wette te maak, al het hierdie wette nog die naam ordonnansies gedra.

Die konstitusionele ontwikkeling van 1834 was sonder twyfel ‘ n verbetering, aangesien die drie staatsmagte nou duidelik as tevore geskei is. Aan die ander kant het die gekose element nog altyd in die wetgewing sowel as ind ie uitvoering ontbreek, en het die Imperiale regering nog jare lank hardnekkig geweier om hierin ‘n verandering te bring. Dieredes vir hierdie weiering was die nie-blanke meerderheid, wat nie aan die genade van die blanke minderheid oorgelaat kon word nie, asook die meerderheid van die Afrikaanssprekende oor die Engelse koloniste.

Plaaslike bestuur

Belangriker was die ontwikkeling op die gebied van plaaslike bestuur. In 1836 het die sentralisasie wat op die afskaffing van die howe van landdroste en heemrade gevolg het, plek gemaak vir plaaslike selfbestuur. Dorpe in die Kaapkolonie het die reg gekry om hul plaaslike aangeleenthede te reël d.m.v. munisipale rade, wat deur die belastingbetalers gekies is. In 1843 het o ok die plaasbewoners, deur die stigting van weërade, die reg van verteenwoordiging gekry. Dit is uit hierdie weërad dat die huidige afdelingsrade in 1855 gebore is.

Die konstitusionele veranderings sowel as die vloedgolf van filantropisme wat die Kaapkolonie oorweldig en in Ordonnansies 49 en 50 en in die slawe-emansipasie sy hoogtepunt bereik het, kon die kolonie nie teen nuwe verwoestende Kafferoorloë vrywaar nie. Drie weke ná die vrystelling van die slawe was die Sesde Kafferoorlog in volle gang.

Die Sesde Kafferoorlog

Die oorsake van hierdie oorlog was vir ‘n groot deel geleë in die weifelende grens- en Bantoebeleid van die verskillende goewerneurs. Bourke het afgebreek wat Somerset opgebou het terwyl Cole weer Bourke se maatreëls omver gewerp het. Noodwendig het die Bantoes die aarseling en onsekerheid van die owerheid as die swakheid van die witman vertolk en daar was ‘n toenemende neiging onder hulle om in die neutrale gebied te gaan woon. Ook veediefstalle het onrusbarend toegeneem en die Goewerneur was verplig omn strafekspedisies uit te stuur.

Sodanige optrede teen twee  hoofde, Ebo en Tyali,was die onmiddellike aanleiding tot ‘ n nuwe oorlog. Op 21 Desember 1834 het 15 000 Kôsas die binneland binnegeval en die grensbewoners totaal onvoorbereid gevind. Daar is 22 blanke mans vermoor en 456  huise afgebrand terwyl 5 700 perde, 115 000 beeste en 161 000 skape na Kafferland weggevoer is. Dit was die grootste slag wat die grensboere nog getref het. Hulle moes oorhaastig hul plase verlaat en beskerming in Grahamstad en in laers soek. Die betrokke distrikte was ‘n verlate wildernis.

Toe die berig Kaapstad op Kersaand bereik, het sir Benjamin D’Urban vinnig gereageer deur die bevelhebber van die leër, lt. kol. Harry Smith, wat net soos hy ‘n veteraan van die Napoleontiese oorloë was, onverwyld na die grense te stuur om die verdediging te organiseer. Smith het die afstand van 1 000 km na Grahamstad te perd in ses dae afgelê. Hy is gevolg deur D’Urban wat alle beskikbare magte gemobiliseer en self die opperbevel op hom geneem het. ‘n Mag van meer as 3 000 man, die helfte soldate en die helfte burgers, het die kolonie van vyande gesuiwer en daarna is die Kôsas in hulle eie gebied aangepak.

Die uitslag van die oorlog was nooit in twyfel nie. Onder die bekwame bevel van die Goewerneur, het die koloniale strydkragte reeds teen die bgin van April die verset van die westelike Kôsas, die Rarabes, gebreek. Hiermee was die oorlog nog nie vdrby nie. Ook met die oostelike Kôsas onder Hintsa, moes afgereken word. Hintsa het naamlik met sy westelike stamgnote geheul. D’Urban het op 15 April 1835 oor die Keirivier getrek en voor die end van die maand moes Hintsa om vrede smeek. Dit is toegestaan op voorwaarde dat hy o.m. dadelik ‘n boete van 25 000 beeste betaal. Hy self is intussen as gyselaar aangehou, maar is later toegelaat om met ‘n klein militêre mag onder Smith uit te gaan om sy boete te help insamel. Dit was op hierdie ekspedisie dat Hintsa geprobeer het om te ontsnap en bygevolg deur ene Southey doodgeskiet is.

Die nuwe grensreëling

Die dood van Hintsa en veral D’Urban se nuwe grensreëling h et groot opgewondenheid in filantropiese kringe veroorsaak. Uit hierdie reëling is dit duidelik dat die Goewerneur vasbeslote was om ‘n end aan die chroniese grenswoelinge te maak. Die gbied tussen die Keiskamma en die Kei is geannekseer en die “Province of Queen Adelaide” genoem. Goedgesinde Bantoes is toegelaat om daarin te woon, maar hul hoofde sou onder toesig van ‘n Britse resident – kol. Smith – staan.

Met Kreli, die seun en opvolger van Hintsa, is ooreengekom dat hy die oproerige Rarabe-hoofde in die Transkei sou opneem. Dit het egter onmoontlik geblyk om hierdie hoofde te beweeg om daarheen te gaan, en bygevolg moes ander reëlings getref word. Die Rarabes is toegelaat om in die “Province of Quen Adelaide” te bly woon,maar as Britse onderdane. Die hoofde behou nog ‘n mate van hul gesag, en die gewoontereg van die Bantoes word gehandhaaf, maar almal en alles is ondergeskik aan die Britse resident, wat in King William’s Town sy setel gehad het. By die Bantoehoofde is blanke regeringsagente aangestel.

Besware van filantrope en teruggawe van Queen Adelaide se provinsie

Hoewel die grensreëling van D’Urban die geesdriftige goedkeuring van die koloniste weggedra het, is dit in filantropiese kringe skerp veroordeel. Die propagandaveldtog wat Philip in Engeland gevoer het, en veral die getuinies van hom en Stockenström voor die Britse parlementêre komitee, die bekende “Aborigines Committee”, het by die Imperiale regering die deurslag gegee. Vandaar dat die filantropies gesinde lord Glenelg, wat bowendien nie behoorlik deur die Kaapse goewernaeur ingelig was oor die jongste afwyking van sy oorspronklike grensreëling,  op 26 Desember 1835 sy berugte dépêche na die Kaap gestuur hier.

In hierdie sendbrief het die Britse minister nie alleen die geweldpleging van die Bantoes geregverdig en in die koloniste en die Kaapse gesagvoerders die skuldiges gesien nie, maar ook die hele grensreëling van D’Urban omvergewerp. Die geannekseerde Provinsie van Koningin Adelaide moes aan die Bantoes teruggegee word, en kapt. Andries Stockenström is as luitenant-goewerneur vir die Oostelike Provinsie aangestel om die Rarabes van die eed van getrouheid aan die Engelse koning vry te stel, die grens van 1819 te herstel en ‘n nuwe grens- en Bantoebeleid in te lui.

Die Groot Trek

Die ingryping van Glenelg was die laaste strooi in diekumulatiewe oorsake wat gelei het tot die Groot Trek. Vir die Kaapse koloniste was emigrasie nie alleen die doeltreffendste vorm van protes teen ‘n hele boel opgehoopte amptelike verongelykinge nie, maar ook die enigste uitweg wat na ‘n hoopvoller toekoms kon lei. Dit was nie die owerheid se skuld dat die Groot Trek nie van nog groter formaat was nie.

Die emigrasie van duisende Afrikaners, die afskaffing van die kommandostelsel en die uitvoering van die nuwe Glenelg-beleid, met die erkenning van inboorling-soewereiniteit en die sluiting van verdrae van vriendskap en bondgenootskap met sg. soewerein onafhanklike opperhoofde, het geen blywende vrede aan die oosgrens geskep nie. Die inboorlinge het in die nuwe beleid die gevolg van swakheid gesien en sodra die herinnering van hul jongste loesing vervaag het, souveeldiefstalle en grensoorskrydings hervat word.

Reeds sir George Napier (1838-1844), die opvolger van D’Urban en die man wat die Glenelg-beleid moes help uitvoer, het ten gevolge van ‘n besoek aan die oosgrens teen die middel van die jaar 1838 tot die oortuiging gekom dat nie die koloniste nie, soos Glenelg beweer het, maar die Bantoes die oorsaak van die jongste oorlog was. Hy het tevergeefs by Glenelg ingetree om die koloniste geeldtelik te vergoed vir die skade wat hulle gely het en wat op meer as R600 000 bereken is. Hy het die hoofde gewaarsku dat hy van Somerset se weerwraakstelsel gebruik sou maak as daar geen verbetering kom nie. Napier was dan ook verplig om meermale strafekspedisies na Kafferland testuur.

Die Oorlog van die Byl

Eers tydens die bewind van ‘n nuwe goewerneur, sir Peregrine Maitland (1844-1847), het die uitdagende houding van die opperhoof Sandile ‘n nuwe Kafferoorlog onvermydelik gemaak. In 1846 het die sg. Oorlog van die Byl uitgebreek. Die onmiddellike aanleiding tot die oorlog was Sandile se weiering om ‘n Bantoe wat ‘n byl gesteel het, en die Bantoes wat die dief met geweld uit die hande van die polisie bevry en daarby moord gepleeg het, aan die owerheid uit te lewer. Die werklike oorsaak moet egter in die Glenelg-Stockenström-Philip-beleid gsoek word.

Hierdie oorlog het, soos die vorige, rampspoedig vir die blankes begin. Nadat kol. Henry Somerset, die grenskommandant, by Burnshill ‘n ernstige nederlaag gely het, het die inboorlinge in groot getalle die kolonie binnegeval. Dit was ‘n herhaling van die ou storie: boere, handelaars en sendelinge in die grensdistrikte is geplunder en uitgemoor; groot skade is aangerig. ‘n Veldtog van 21 maande teen die Bantoes is gestrem, eers deur ‘n buitengewone droogte en daarna deur oorvloedige reëns. Gelukkig het die Goewerneur die steun van die hele kolonie agter hom gehad. Met 3 000 Engelse soldate en 8 500 burgers onder die wapens, kon die ou skoonmaakproses weer ‘n aanvang neem. Die kommandant-generaal van die burgerkommando’s was niemand anders as Andries Stockenström nie, wat hom in hierdie oorlog grehabiliteer het.

In Augustus 1846 het Maitland oor die Kei getrek en in Oktober daarin geslaag om die Transkeise opperhoof Kreli oor te haal om hierdie rivier as die wesgrens van sy gebied te erken. Hy was ook van plan om die gebied tussen die Kei en die Keiskamma, die ou “Province of Queen Adelaide”, onder Britse soewereiniteit te plaas. Voordat Maitland hierdie gebied volledig kon onderwerp, is hy in Februarie 1847 deur sir Henry Pottinger opgevolg. Hierdie goewerneur, hoewel hy naas die burgers nog 5 000 Engelse soldate tot sy beskikking gehad het, was vir die taak nie opgewasse nie; en toe hy in Desember 1847 deur sir Harry Smith opgvolg is, was die Rarabe-stamme nog nie onderwerp nie.

Koms van sir Harry Smith

Sir Harry Smith (1847-1852), soos van hom te verwagte was, het baie energiek opgetree. As bevelvoerende offisier onder sir Benjamin D’Urban tydens die Sesde Kafferoorlog was hy in die oostelike grensdistrikte geen onbekende nie. Hy was die man wat D’Urban gehelp het om die grensreëlings te tref wat destyds in Downingstraat en Exeter Hall so ongewild was. Aan hierdie man, wat intussen militêre roem in Indië n ‘n baronetstitel verwerf het, is dit opgedra om ‘n nuwe grensbeleid in te voer. Dadelik ná sy aankoms aan die Kaap het hy na die grens vertrek. Die onderwerping van die Rarabe-hoofde het gou gvolg en op 17 Desember 1847 is ‘n nuwe oosgrens vir die Kaapkolonie geproklameer. Hierdie grens het geloop langs die Keiskamma, die Tyhume en die Swart Kei, dan oor die Stormberge langs die Kraairivier tot by die Oranjerivier, dan weswaarts langs hierdie rivier tot by die Atlantiese Oseaan.

Proklamasie van Brits-Kaffrarië

‘n Week later, in teenwoordigheid van die meerderheid van die Bantoehoofde, het Smith die gebied tussen die nuwe koloniale grens en die Keirivier tot Britse grondgebied geproklameer. Hierdie gebied, die vroeëre “Province of Queen Adelaide”, het die naam “British Kaffraria” gekry. Dit is dus nie by die Kaapkolonie ingelyf nie en het ‘n aparte Bantoe-reservaat uitgemaak wat onder ‘n hoofkommissaris, lt-kol. Mackinnon, gestel is. King William’s Town was sy regeringsetel en hy het onder die oppergesag van die Britse Hoë Kommissaris gestaan – ‘n amp wat vir die eerste keer in Suid-Afrika deur Pottinger, Smith se voorganger, beklee is. ‘n Aantal militêre  poste is opgerig en Mackinnon moes, met die steun van ‘n militêre mag, die orde onder die nuwe Bantoe-onderdane handhaaf en, met behulp van sendelinge, die beskawing onder hulle bevorder. Die hoofde wat ‘n eed afgelê het dat hulle sy bevele sou gehoorsaam, moes hom daarby behulpsaam wees.

Sir Harry Smith se grensreëlings kon geen duursame vrede bring nie. Die impulsiewe Goewerneur het, sonder om ‘n deeglike studie van die administrasie van ‘n Bantoegebied te maak, nie alleen oorhaastig en oppervlakkig te werk gegaan nie, maar ook diep ingegryp in die hele lewenswyse van die naturel. So het hy die h oofde laat belowe dat hulle sou help om die geloof aan toordokters en die lobolastelsel uit te roei. Die hoofde was seer seker nie van plan om hierdie beloftes na te kom nie. Teen 1850 was dit vir almal duidelik dat die Bantoes deur toordokters aangevuur, hulle vir ‘n nuwe oorlog klaargemaak het.

Die Agtste Kafferoorlog

Die onmiddellike aanleiding tot hierdie oorlog was nog ‘n onbesonne daad van die Goewerneur. Toe hy in Oktober 1850 weer in die geannekseerde gebied vertoef, het hy ‘n bevel aan die hoofde gestuur om hom te kom ontmoet. Niemand het opgedaag nie. Hierop het sir Harry kennis gegee dat hy Sandile nie langer as opperhoof van die Rarabe erken nie en dat Charles Brownlee, ‘n Engelse inwoner van Brits-Kaffrarië, en iemand wat die Kôsas buitengewoon goed geken het, in Sandile se plek aangestel word.

Die oorlog het spoedig hierop gevolg. ‘n Klein Engelse mag wat uitgestuur was om Sandile te arresteer, is in die Boomahpas oorrompel. Op Kersdag 1850 het die Bantoes ‘n aantal militêre dorpies uitgemoor en verbrand. Die Goewerneur self het met moeite ontsnap. Hierop het hulle die kolonie binnegeval: roof, dood en verwoesting was weer die lot van die grensdistrikte. Die Goewerneur se grensreëlings het in puin gelê.

Smith het hierdie keer voor ‘n baie moeilike taak gestaan. Nie alleen die inboorlinge van Brits-Kaffrarië nie, maar ook die Transkeise inboorlinge, sowel as baie Katrivier-Hottentotte, het teen die witman geveg. Die Goewerneur het daarenteen nie oor genoegsame magsmiddele beskik nie. Die Imperiale regering, wat onthou het dat die vorige Kafferoorlog die Britse skatkis R2 miljoen gekos het, hwas huiwerig om meer troepe te stuur. Selfs die koloniste was nie geesdriftig in hul steun nie; hulle het van Smith se inmengingsbeleid gehou nie en die swaar van die vorige oorlog was nog te vars in die geheue.

Smith deur Cathcart vervang

Toe die oorlog ten gevolge van dit alles te lank sloer, het die Imperiale regering ongeduldig geword en sir Harry Smith deur sir George Cathcart (1852-1854) vervang. Die nuwe Goewerneur het in ‘n gunstiger posisie as sy voorganger verkeer. Nie alleen het hy meer troepe tot sy beskikking gehad en het die burgers hom beter ondersteun nie, maar ook die Kôsas was reeds uitgeput. Cathcart was dus in staat om die oorlog met krag voort te sit. In Februarie 1853 het Kreli om vrede gevra en ook die ander hoofde het gedurende die volgende maande die stryd gestaak. Kreli moes ‘n swaar veeboete betaal, maar sy grondgebied het hy behou. Die inboorlinge in Brits-Kaffrarië is verplig om die Amatola-streek te verlaat en nader aan die kus te gaan woon, waar daar minder natuurlike skuilplekke was. Die gebied is vir blanke koloniste beskikbaar gestel en die dorp Queenstown is daar aangelê.

Aan die administratiewe stelsel van Smith in Brits-Kaffrarië het Cathcart nie veel verander nie. Die hele administraise het nog soos vroeër ‘n militêre stempel gedra. Dit sou die taak wees van die volgende Goewerneur, sir George Grey (1854-1861) om dit ingrypend te wysig.

Dit is veral die grens- en kleurbeleid van die owerheid wat die oortuiging by die koloniste gesterk het dat hulle hul eie belange beter kon behartig as wat die voortdurend wisselende outokratiese goewerneurs in Kaapstad en die gebrekkig ingeligte ministers van kolonies in Londen dit kon doen. In Brittanje het ‘n Liberale ministerie onder lord John Russel in 1846 aan die bewind gekom, Hierdie Imperiale regering was nie ongeneë, soos die Australiese kolonies bewys, om liberaler konstitusionele toegewings aan oorsese geweste toe te laat nie.

Anti-bandiete-beweging

Ten gevolge van die toenemende onwil in Australië om die invoer van Britse bandiete verder toe te laat, het die Imperiale regering van tyd tot tyd gedurende die jare veertig ernstig oorweeg om die Britse tronke in Suid-Afrika te ontlas. Aan die Kaap het owerheid en onderdane in geen onduidelike taal daarteen geprotesteer nie, met die gevolg dat die Imperiale gesagvoerders van hul  planne moes afsien. Met die toenemende politieke en ekonomiese moeilikhede in die Britse Eilande en die gelyktydige verset van Australië om as aflaaiplek vir Britse misdadigers te dien, het die Imperiale tronke so oorvol geword dat die minister van kolonies, lord Grey, sonder meer sy Suid-Afrikaanse kroonkolonie tot ‘ n aflaaiplek vir bandiete geproklameer het.

Toe sir Harry Smith op 8 November 1848 hierdie proklamasie in die Wetgewende Raad bekend maak, was die ontsteltenis en verontwaardiging groot. Onder die koloniste is dadelik ‘n agitasie op tou gesit, protesvergaderings belê en versoekskrifte na Engeland gestuur. Die Goewerneur, wat simpatiek teenoor die standpunt van die koloniste gestaan het, het hom in ampelike briewe aan die Imperiale regring in dieselfde gees uitgelaat.

Toe, ten spyte van dit alles, berig ontvang is dat die eerste skip die Neptune, met 282 bandiete aan boord, tog aan kom was, het die opgewondenheid onder die koloniste geen perke geken nie. In Mei 1849 is  ‘n groot verteenwoordigende vergadering op die Parade in Kaapstad gehou; en o.l.v. manne soos J.B. Ebden, H. Roos en J. Fairbairn is ‘n vereniging en ‘n sterk waaksaamheidskomitee gestig om die spontane verset van die koloniste verder te organiseer en doeltreffender te maak.

Die lede en ondersteuners van die Anti-Bandietvereniging, wat by hierdie geleentheid gestig is – en hulle het byna alle koloniste ingesluit – het ‘n eed afgelê dat hulle geen wek aan bandiete sou gee nie en alle handelsbetrekkinge en maatskaplike verkeer met diegene wat in enige oopsig iets vir die bandiete doen, sou afbreek. Winkels, banke en versekeringsmaatskappye het alleen sake gedoen met persone wat teen die invoer van bandiete was. Baie vrederegters en veldkornette het bedank, asook vier benoemde lede van die Wetgewende Raad. Die Anti-Bandiete-vereniging het ‘n uiters doeltreffende boikot-beweging geword.

Dit was in hierdie gespanne atmosfeer dat die Neptune op 19 September 1849 Simonsbaai binnegeseil het. Die opvarendes was nie almal werklike misdadigers nie. Onder hulle was daar bv. Ierse politieke veroordeeldes en mense wat hulle tydens die Ierse hongersnood aan die een of ander vergryp skuldig gemaak het. Vir die koloniste egter was dit ‘n beginselsaak; dit was nie die bandiete as sodanig nie, maar die beginsel van die Londense proklamasie wat beveg moes word.

Sir Harry Smith het in ‘n ongemaklike posisie verkeer; persoonlik was hy ook teen die invoer van bandiete, maar amptelik kon hy die bevele van die Imperiale regering nie verontagsaam nie. In die hoop dat lord Grey van sy voorneme sou afsien en die bandiete elders heen sou stuur, het Smith die koloniste probeer gerusstel met die belofte dat geen bandiet van die Neptune toegelaat sou word om te land nie.  Hierdie versekering het die uiterstes onder die anti-bandiete nie tevrede gestel nie.  Hulle was nou selfs dubbel waaksaam. Hulle het besluit om geen voedselvoorrade aan staatsamptenare te verstrek nie, uit vrees dat sulke voorrade die Neptune ten goede sou kom. Die Goewerneur het toe gedreig om beslag op lewensmiddele te lê. Dit was onnodig om hierdie dreigement uit te voer, aangesien daar ‘n klein klompie mense was wat eie voordeel hoër as die openbare belang geag het en in die geheim goeie sake gedoen het. Hul name was weldra bekend en is op ‘n swart lys geplaas. Alle omgang met hulle is vermy.

Intussen het die Neptune met sy bandietevrag in Simonsbaai voor anker gelê. Die dae het weke en die weke het maande geword. Elke dag was vir Kaapstad feitlik ‘n Sabbatsdag, aangesien die gewone bedrywighede tot stilstand gekom het. Uiteindelik, op 21 Februarie 1850, het die Neptune, op bevel van die Imperiale regering tot groot vreugde van die koloniste die Kaapse waters verlaat en na Van Diemensland gevaar. Die Kaapse koloniste het ‘n kwaai toets skitterend deurstaan en ‘n glorieryke oorwinning behaal.

Hierdie oorwinning van die Kaapse koloniste is ‘n mylpaal in ons vaderlandse geskiedenis. Mense wat met soveel durf en vasberadenheid vir ‘n beginselsaak kon optree, het nie ‘n kroonkolonie-regeringsvorm verdien nie. Dit het die Imperiale gesagvoerders ingesien – vandaar die nuwe grondwet van 1853. Die episode van die Anti-Bandiete-beweging is ook van belang omdat Afrikaans- en Engelssprekendes, plattelanders en stedelinge vir die eerste keer skouer aan skouer gestaan het om ‘n gemeenskaplike gevaar af te weer.

— — — oOo — — —