P.J. van der Merwe, M.A.,D. Litt
Jan van Riebeeck het groot baanbrekerswerk aan die Kaap verrig, maar tog het die verversingspos in die begin nie aan sy doel beantwoord nie. Die skippers het gedurig gekla oor die Kaapse drinkwater, wat nooit skoon was nie. Ook is beweer dat daar nie altyd genoeg vleis in voorraad was nie. Wat nog te kry was, was oneetbaar, maer en taai. Die gevolg was dat die Kaap geen gewilde aanlêplekwas nie en dat skippers dikwels verbygevaar het.
Verversingspos stel teleur
Ook die bewindhebbers was nie met die Kaap tevrede nie. Ondanks Van Riebeeck se optimistiese verslae het die verversingspos nie eens genoeg kos opgelewer om in sy eie behoeftes te voorsien nie. Die Kommandeur het die bewindhebbers wysgemaak dat aan die Kaap genoeg graan geproduseer kon word om uitvoer na Batavia moontlik te maak, maar tot hul teleurstelling het dit geblyk dat rys steeds ingevoer moes word. Voorts het die Kaap nie genoeg ingebring om die onkoste wat aan die nedersetting verbonde was, te dek nie, en die direkteure wou natuurlik uit elke onderneming direkte wins maak.
Die aantal skepe wat aan die Kaap van verversings voorsien is, en die duisende siek matrose wat daar genesing gevind het, het die voortbestaan van die nedersetting beslis geregverdig. Maar blykbaar het die Kompanjie die waarde van die Kaap as hersteloord onderskat. Inderdaad was dit moeilik om die waarde wat gesonde bemanning en die herstel van siekes vir die Kompanjie gehad het, na waarde te skat. Sulke waardes kan nie maklik in terme van geld bereken word nie.(1)
(1)Vgl. Godée Molsbergen: Jan van Riebeck, p.94
Teen die tyd dat Van Riebeeck die Kaap verlaat het, het die Kompanjie nog niks meer as ‘n blote verversingspos met die stigting daarvan beoog nie. Wagenazar, Van Riebeeck se opvolger, moes sorg dat daar altyd goeie drinkwater, vars vleis en groente vir die skepe beskikbaar was, enmoes probeer om genoeg graan vir die onderhoud van die nedersetting te produseer. As hy hierin kon slaag, skryf Joan Maetsuijcker in Desember 1662, dan was die Kompanjie se doel met die Kaap verwesenlik. Die vernaamste taak van Van Riebeck se opvolgers was dus om die produksievraagstuk op te los – iets waartoe die eerste Kommandeur nie in staat was nie.
Kompanjie boer self
In hierdie tyd het die Kompanjie die produksie van lewensmiddele nog in groot mate self behartig. Die Kompanjie het vee aangehou, graan gesaai en groot tuine bewerk, maar oor die algemeen was sy boerdery-ondernemings nie baie geslaagd nie. Dit moes aan gehuurde knegte en slawe oorgelaat word, wat geen persoonlike belang by die werk gehad het nie en meestal onbetroubaar was. Op die veeruil met die Hottentotte kon die Kompanjie ook nie vir vleislewerensie staat maak nie, want dit het op ‘n baie wisselvallige grondslag berus. Die Hottentotte het nie gereeld hul vee na die Kaap gebring nie. Gevolglik moes lang togte metdie oog op die veeruil na die binneland onderneem word. Hierdie ekspedisies het ook nie genoeg opglewer om in die Kompanjie se behoeftes te voorsien nie. Buitendien kon in oorlogstyd niks van die veeruil met die Hottentotte verwag word nie. In hierdie omstandighede is die hoop gekoester dat die vryburgers langsamerhand die Kompanjiesboerdery en die veeruil, wat groot onkoste meegebring en nie die gewenste resultate opgelewer het nie, oorbodig sou maak.
Vryburgers stel ook teleur
Aanvanklik het dit nie gelyk of daar van kolonisasie veel verwag kon word nie. Van Riebeeck se opvolger was selfs bitter teleurgestel met die vryburgers. Hy het beweer dat hulle niebehoorlike aandagaan hulle werk gegee het nie en hulle herhaaldelik van luiheid beskuldig. Toe hy die Kaap verlaat, het hy dit betreur dat hy geen Chinese kon kry om as koloniste te gebruik nie. Vyf-en-twintig arbeidsame Chinese gesinne, het hy verklaar, sou meer werd wees as vyftig van die soort koloniste wat aan die Kaap te vinde was.
Inderdaad het die eerste Kommandeurs rede gehad om ontevrede te wees met die mensemateriaal waarmee hulle moes koloniseer. Gedurende die eerste jare, toe daar nog nie koloniste uit die moederland oorgebring is nie, moes die Kommandeurs tevrede wees met Kompanjiesoldate wat bereid was om hulle as vryburgers aan die Kaap te vestig. Baie van hierdie mense was nie in die wieg gelê om boere te word nie, met die gevolg dat ‘n geringe persentasie van dié aan wie vrybriewe uitgereik is, hulle permanent aan die Kaap gevestig het. Sommige het versoek om weer in die Kompanjie se diens opgeneem te word. Ander het hulle op die retoerskepe versteek en na die moederland ontvlug. Enkele wat nie gedeug het nie, is uit die Kaap verban.
Moeilikhede van vryburgers
Diegene wat agtergebly het, het voor talryke moeilikhede(2) te staan gekom. En dit was werklik nie alles hulle skuld dat die landbou so stadig gevorder het nie. Die koloniste het wel grond verniet gekry, maar dit was onbewerkte grond wat baie arbeid vereis het. Aan die Kaap was dit juis baie moeilik om arbeiders te kry. Die nomadiese Hottentotte was nie baie geskikte landbou-arbeiders nie en was aanvanklik onwillig om van hul ou lewenswyse af te sien en by die koloniste te gaan werk. Die vryburgers was dus verplig om gebruik te maak van soldate, wat van die Kompanjie geleen is. Hierdie vorm van arbeid was egter baie duur. Buitendien was dit nie altyd moontlik om genoeg knegte te kry nie.
(2)P.J. van der Merwe: Die Trekker in die Geskiedenis van die Kaapkolonie, pp.1-20; L. Fouché: Die Evolusie van die Trekker
Slawe-arbeid
Deur die invoer van slawe is die arbeidsvraagstuk uiteindelik doeltreffend opgelos, maar slawe-arbeid was ook maar duur, en tot die jare tagtig van die 17de eeu was daar altyd ‘n tekort aan slawe. Ander faktore wat belemmerend op die ontwikkeling van die landbou gewerk het, was die gebrek aan landbougereedskap en trekvee. Ook die wispelturigheid van die klimaat het daartoe bygedra om die lewe vir die vryburgers suur te maak. Die suidoostewind het dikwels in die oestyd onophoudelik gewaai en herhaaldelik die boere gevoelige verliese laat ly
Om alles te kroon, is die koloniste die voorreg van ‘n ope mark ontsê. Die pryse is nie op natuurlike wyse deur vraag en aanbod gereël nie; maar die Kompanjie, aan wie die koloniste al hul produkte moes verkoop, sou self die pryse vasstel. Ongelukkig vir koloniste was die Kompanjie ‘n handelsliggaam wat direkte winste – nie die ontwikkeling van kolonies nie – beoog het. Die gevolg was dat die pryse wat die Kompanjie die eerste jare vir graan betaal het, so laag was dat die koloniste nie met wins kon produseer nie.
Vryburgers se griewe
As gevolg van hierdie faktore het die landbou gedurende die eerste jare ná Van Riebeeck se vertrek nie baie vooruitgang gemaak nie. En as die Kompanjie rede gehad het om ontevrede te wees met die koloniste, dan het hulle ook rede gehad om ontevrede te wees met die monopolistiese beleid van die Kompanjie en teleurgestel te wees met hul omstandighede. Hulle het gehoop om ‘n ruim bestaan in die landbou te vind en hulle gou deur die winsgewende veeruil met die Hottentotte te verryk. Die veeruil is egter gesluit en die landbou kon hulle geen ordentlike bestaan bied nie. In normale omstandighede het die opbrengs van die oes nouliks die hoë produksiekoste gedek. ‘n Misoes het ellende beteken. Die gevolg was dat die vryburgers, ondanks al hul swaar werk, al dieper in die skuld geraak het. Selfs die arbeidsaamste vryburgers het in ‘n toestand van beklaenwaardige armoede verkeer,
In hierdie omstandighede hoef dit geen verbasing te wek dat die koloniste ‘n groeiende afkeer van die akkerbou ontwikkel en die neiging geopenbaar het om ander middele van bestaan te soek nie. Baie het die landbou heeltemal laat vaar, digby die Fort gaan woon en die een of ander ambag beoefen. Die meeste stadbewoners het ‘n tweede beroep beoefn. Hulle het losieshuise aangehou, deur middel waarvan hulle besoekers uitgemergel het en waardeur hulle in staat gestel is om smokkelhandel met die skepe te dryf. In 1687 berig Bax dat geen derde van die vryburgers hulle op die akkerbou toelê nie. Hierdie bewering word die volgende jaar deur sy opvolger gestaaf, wat verklaar dat nouliks 22 uit die 66 burgergesinne aan die Kaap as akkerbouers in die regte sin van die woord beskou kan word. Onder die res was daar ‘n paar tuiniers en partikuliere veehouers, maar die groot gros het hulle met bedrywighede buite die boerdery besig gehou.
Gebrek aan bougrond
‘n Ander moeilikheid in die weg van die uitbreiding van die koringbou aan die Kaap was die gebrek aan vrugbare bougrond in die omtrent van die fort. As gevolg hiervan het die regering begin vrees dat daar nooit genoeg graan om in die behoeftes van die Kompanjie te voorsien, aan die Kaap geproduseer sou word nie – vandaag die regering in die begin van die jare sewentig tot uitbreiding na die binneland oorgegaan het. Die eerste stap in dié rigting was die stigting van ‘n Kompanjiespos te Hottentots-Holland.
Kommandeur Borghorst het al in 1668 sterk onder die indruk van die vrugbaarheid van die grond en die geskiktheid van die weiveld in hierdie streek gekom. Twee jaar daarna het kommissaris Van den Brouck die Kommandeur verlof gegee om die land by Hottentots-Holland onder bewerking te bring. Hoewel die Here XVII ook die plan goedgekeur het, het dit nog tot 1672 gesloer voordat dit uitgevoer is. In Oktober van daardie jaar is 13 Kompanjiesamptenare na Hottentots-Holland gestuur om daar ‘n Kompanjiespos te stig. Die vernaamste doel hiermee was uitbreiding van die koringbou.
Boere na binneland
‘n Paar jaar later het die vryburgers die Kompanjie se voorbeeld gevolg en teen die end van die jare sewentig het die eerstes hulle in die binneland gevestig. In 1677 het ‘n paar boere by Houtbaai grond in lening ontvang en twee jaar later het ander boere hulle op leengrond by de Tygerberg gevestig. Hierdie toekenning is is ook gemaak met die doel om die graanbou uit te brei. Teen hierdie tyd het die eerste partikuliere veeboere ook hul verskyning in die binneland gemaak. In Januarie 1678 kry Jochem Marquaart en Hendrik Elberts die reg om hul vee in Hottentots-Holland te laat wei. Kort daarna word Henning Hüsing en Claas Gerrits toegelaat om in die omtrek van die Steenberg ‘n veeboerdery te begin. Later in die jaar word ook aan Cornelis Bothma weiregte toegeken.
So het die verversingspos aan die Kaap langsamerhand ongemerk in ‘n landboukolonie ontwikkel a.g.v. die begeerte van die Direkteure om die produksievraagstuk op te los. Die inbesitneming van grond, wat hiermee gepaard gegaan het, was ‘n bykomstige toevalligheid. Enige imperialistiese strewe was by die Kompanie afwesig. Toe Jan van Riebeeck in 1657 aarselend begin koloniseer het,was die Kompanjie se bedoeling nie om aan die Kaap ‘n goot kolonie te stig nie: die oogmerk met die nedersetting was suiwer en alleen om die handel met Oos-Indië te bevorder.
Kompanjie se houding verander
Kort nadat Jan van Riebeeck Suid-Afrika verlaat het, het die Kompanjie egter sy houding t.o.v. kolonisasie aan die Kaap gewysig. Dit was omdat oorlog tussen Nederland en Engeland uitgebreek het. Die Verdrag van Breda (1667) het geen blywende vrede gebring nie. Ná ‘n jaar is die oorlog hervat en tot die end van die 17de eeu was Holland byna gedurig met Engeland en Frankryk in stryd gewikkel. Die moontlikheid dat die Kaap aangeval kon word, was dus glad nie uitgesluit nie. Daarom het dit gebiedend noodsaaklik geword om die nedersetting, geleë op een van die mees strategiese punte op die handelsroete na Oos-Indië, in ‘n beter staat van verdediging te bring. Die Kasteel is voltooi en die garnisoen aansienlik versterk. Dit het egter ekstra uitgawe beteken – iets wat vir die bewindhebbers nie welkom was nie. In hierdie omstandighede het die opvatting ontstaan dat die vermeerdering van die burgerbevolking aan die Kaap die vermindering van die garnisoen moontlik sou maak, wat ‘n aansienlike besparing sou meegring.
Gebrek aan immigrante
Immigrasie na die Kaap het egter hierna maar drupsgewys plaasgevind, want daar was vir Nederlanders in die 17de eeu weinig aanleiding om hul vaderland te verlaat en oor die see ‘n heenkome te gaan soek. Daar was geen werkloosheid in Nederland nie. Die land was welvarend en kon maklik aan al sy kinders ‘n bestaan bied. Die gewone rede vir immigrasie, nl. die begeerte om deur verhuising die materiële omstandighede te verbeter, was dus afwesig. Ook ander prikkels om te emigreer, bv. die begeerte om deur verhuising aan politieke of godsdienstige vervolging te ontsnap, het ontbreek. Diegene wat nog begering was om te verhuis, het liewer na Oos-Indië gegaan. Die arm Kaap, wat maar ‘n onsekere toekoms gebied het, het ‘n geringe aantrekkingskrag vir immigrante gehad.
In hierdie omstandighede is dit lig te begryp dat die bewindhebbers soms daaraan getwyfel het of hulle ooit genoeg koloniste vir die Kaap sou kry. Eenkeer is selfs oorweeg om d.m.v. vrygemaakte slawe die bevolking aan die Kaap te vergroot en op dié wyse die produksievraagstuk op te los. Die groot gebrek aan Nederlanders wat bereid was om na die Kaap te verhuis, verklaar ook waarom die Kompanjie so ruim van vreemdelinge gebruik gemaak het om die Kaap te bevolk, ondanks die feit dat dit gevaarlik vir die Kompanjie kon word as die nedersetting sy Nederlandse karakter sou verloor.
Duitsers in oorwig
Die oorgrote meerderheid van die vreemdelinge wat hulle gedurende die eerste jare aan die Kaap gevestig het, was Duitsers. Om aan die ellende wat op die verwoesting van die Dertigjarige Oorlog gevolg het, te ontsnap, het baie Duitsers verhuis. Hierdie emigrante is in Nederland verwelkom, want die klein landjie se reusagtige oorsese handelsondernemings het meer mense vereis as wat sy eie bevolking kon oplewer.
Baie van hierdie Duitsers is soldate in die Kompanjiesdiens opgeneem, en sommige het hulle later as vryburgrs aan die Kaap gevestig. Ook het Duitsers regstreeks uit Europa na die Kaap geëmigreer. Hoewel enkele regstreeks uit Duitsland gekom het, het die meeste al jare in Holland gewoon en was hulle dikwels al met Hollandse vroue getroud. Op hierdie wyse het baie Duitsers na die Kaap gekom. Teen die end van die 17de eeu was, volgens prof. Moritz, tussen een-vyfde en een-sesde van die koloniste aan die Kaap mense van Duitse afkoms.(3)
(3)E. Moritz: Die Deutschen am Kap, p.80
Hierdie Duitsers is volkome deur die Nederlandssprekende koloniste geassimileer. Hulle het na die Kaap gekom as enkelinge, sonder ‘n leier, en het nie met mekaar of met die moederland kontak behou nie. Neders, so nou verwant aan Duits, was hier die amptelike taal en is ook in kerk en skool gebruik. Voorts was Duitse boeke skaars en koerante het ontbreek. Die gevolg was dat die Duitsers aan die Kaap baie gou hul taal verleer en heeltemal verhollands het. Baie van die oorspronklike Duitse koloniste is vandag nouliks van hul herkoms bewus.
Tekort aan vroue
‘n Ander moeilikheid i.v.m. die kolonisasie aan die Kaap was die groot gebrek aan blanke vroue. Jare lank was daar in die jong kolonie ‘n groot wanverhouding tussen die geslagte, wat baie nadelig vir die natuurlike vermeerdering van die bevolking was. Buitendien was die eenlopende persone maar ‘n vlottende bevolkingselement. In daardie dae kon ‘n kolonis eers as permanent gevestig beskou word nadat hy getroud was. In dié omstandighede het die Kaapse Kommandeurs herhaaldelik die bewindhebbers versoek om vroue na die Kaap te stuur. Baie min vroue was bereid om alleen na die Kaap te kom.
Weesmeisies na Kaap
Ná 1664 het die Here XVII verskeie pogings aangewend om weesmeisies oor te haal om na die Kaap te verhuis. Hulle sou nie alleen nie, maar in geselskap van ander emigrante en onder behoorlike geleide na Suid-Afrika gaan. Verder sou hulle toegelaat word om ná verloop van vyf jaar na die moederland terug te keer indien hulle dit verkies. Maar ook met die weesmeisies het die Kompanjie min welslae gehad. Teen die end van die 17de eeu het af en toe ‘n groepie na die Kaap gekom, maar nooit meer as sewe of agt tegelyk nie. Aan die Kaap het hulle min moeite ondervind om geskikte mans te kry. Gewoonlik is hulle ‘n paar weke ná hul aankoms met vooraanstaande burgers getroud.
Koms van Simon van der Stel
Terwyl die Kaap só besig was om van ‘n verversingspos tot landboukolonie te ontwikkel, het die nedersetting ‘n nuwe Kommandeur gekry, wat meer as al sy voorgangers kolonisasie en uitbreiding na die binneland bevorder het. Hy was Simon van der Stel, wat op 12 Oktober 1679 sy pligte aanvaar het. Die nuwe Kommandeur was ‘n man van groot betekenis in ons geskiedenis en het die Kaap byna 20 jaar geregeer. Hy het met kop en skouers uitgesteek bo sy voorgangers, wat ná die vertrek van Jan van Riebeeck mekaar so vinnig opgevolg het dat geeneen van hulle juis sy stempel op die ontwikkeling van Suid-Afrika kon afdruk nie.
As amptenaar was Van der Stel bekwaam, vlytig en betroubaar. Die bewindhebbers het hom wel af en toe oor die een of ander berispe, dikwels daaroor gekla dat hy hulle nie genoeg op die hoogte hou van wat aan die Kaap gebeur nie, en soms in skerp taal hul ontevredenheid uitgespreek oor die “gansch magere inhoud” van sy briewe aan hulle Maar ten spyte hiervan het die Kompanjie sy werk gewaardeer en het die bewindhebbers nooit hul vertroue in hom verloor nie.
Kommandeur word Goewerneur
In 1685 het kommissaris H.A.van Reede aan hom – by wyse van erkenning vir die groot dienste wat hy aan die Kompanjie bewys het en in afwyking van die algemene beleid van die Kompanjie – ‘n groot plaas geskenk. In 1691 het die bewindhebbers hom Goewerneur van die Kaap gemaak en die volgende jaar is sy status nog eens verhoog toe hy as Extraordinaris Raad van Indië benoem is. En toe hy eindelik versoek het om uit die diens van die Kompanjie te tree, is sy oudste seun as sy opvolger aangestel.
Die grofste karakterfout waarvan die geskiedenis Simon van der Stel beskuldig, was sy groot liefde vir wêreldsgoed, wat veral gedurende die laaste jare van sy lewe sterk op die voorgrond getree het. Dit wil ook uit sy briewe voorkom of sy geesdrif vir die werk aan die Kaap met verloop van tyd enigsins afgekoel het. Waarskynlik het dit in verband gestaan met die feit dat sy pragtige plaas, wat hy Constantia genoem het, langsamerhand al hoe meer sy tyd en aandag in beslag geneem het. Tog kan nie beweer word dat die Goewerneur se boerdery-ondernemings tot growwe pligsversuim aanleiding gegee het nie. Die het blykbaar ook nie die koloniste benadeel nie, want hulle kon nog altyd ‘n afset vir hul produkte vind. Die enigste beswaar wat daarteen ingebring kon word, is dat dit ‘n slegte voorbeeld vir sy seun was.
Bevolking raak gevestig
Toe Simon van der Stel kommandeur word, het ‘n reusetaak op hom gewag. Die produksievraagstuk was nog nie opgelos nie en daar was, ondanks honderde vrybriewe, slegs sowat 22 burgergesinne wat hulle ernstig op die akkerbou toegelê het. Tog was daar ook baie faktore in die Kommandeur se guns. Ten gevolge van ‘n aanhoudende proses van natuurlike seleksie is persone aan wie vrybriewe verleen was, langsamerhand uitgesif. Diegene wat nie vir die landbou geskik was nie, het die Kaap verlaat of hulle in Kaapstad gaan vestig. Dié wat ten slotte op die land agtegebly het, was geharde en arbeidsame boere.
Voorts het gedurende Simons van der Stel se ampstermyn die ouer geslag, wat oor die see aangebring was, langsamerhand uitgesterwe. ‘n Nuwe baanbrekersgeslag, wat hier gebore was en geen ander vaderland geken het nie, het stadigaan op die voorgrond getree. Hierdie mense het in Suid-Afrikaanse omstandighede grootgeword en hulle bygevolg beter aangepas. So het Simon van der Stel ten minste ‘n kern van egte, bodemvaste koloniste gehad, met wie hy die kolonisasie van Suid-Afrika voorsit.
Kompanjie tree liberaler op
Verder het die Kompanjie, nadat hy sy houding t.o.v. kolonisasie en uitbreiding van die Kaap enigsins gewys het, liberaler gteenoor die koloniste begin optree. Graanpryse is aansienlik verhoog en m.b.t. gereedskap en trekvee is die koloniste ruimer gehelp. Ten slotte is die arbeidsvraagstuk ogelos. Langsamerhand is genoeg slawe ingevoer – gedurende die jare tagtig hou klagtes oor gebrek aan slawe eindelik op – en met verloop van tyd het Hottentot-arbeid, ten gevolge van die ontstamming van die inboorlinge, ook al hoe meer op die voorgrond getree. Veral in die oestyd het die Hottentotte hulle naderhand troepsgewyse by die koloniste kom aanbied. So het die omstandighede waarin die vryburgers gewerk het, langsamerhand gunstiger geword, totdat in die loop van die jare tagtig die meeste van hul eerste moeilikhede verdwyn het. Geen wonder dus dat die kolonie gedurende die ampstermyn van Simon van der Stel tot bloei gekom het en dat die koloniste oor die algemeen welvarend en meer tevrede was nie.
Stigting van Stellenbosch
Toe Simon van der Stel sy pligte aanvaar het, het die nedersetting aan die Kaap bestaan uit ‘n aantal plasies aan die voet van Tafelberg, die Kompanjiesposte by Saldanhabaai, Hottentots-Holland en Tygerberg en ‘n paar verspreide opstalle van boere wat tydelik in die binneland gevestig was. ‘n Paar weke later het die Kommandeur ‘n reis na die binneland onderneem om die Kompanjie se buitepos by Hottentots-Holland te inspekteer. Hy het met ‘n omweg na die Kaap teruggekeer en op sy terugreis in ‘n pragtige vallei, op ‘n eiland tussen twee lope van die Eersterivier, gekampeer. Die skoonheid van die natuur en die vrugbaarheid van die bodem het ‘n gaie gunstige indruk by die Kommandeur gewek. Hy het besluit om daar ‘n nuwe nedersetting te stig en die plek sy eie naam te gee.
By sy terugkeer in die Kaap is bekend gemaak dat die boere in “Stellenbosch” plase kon kry. Hulle sou soveel grond as wat hulle kon bewerk, in volle eiendom ontvang en hul vee kon hulle opo onuitgegewe Kompanjiesgrond laat wei. Vir hierdie voorreg het die boere, net soos in die Kaapse distrik, niks betaal nie. Hulle was net verplig om ‘n tiende van die graan wat hulle na die Kaapse mark gebring het, aan die Kompanjie af te gee.
Die boere in die Kaapse distrik het gou op die aanbod van die Kommandeur gereageer. Voor die end van 1679 het die eerste boer hom al in Stellenbosch gevestig. Vroeg die volgende jaar het agt ander gesinne sy voorbeeld gevolg. Die vrugbaarheid van die grond en die ruim weivelde het weldra nog meer koloniste uit die Kaapse distrik gelok, met die gevolg dat die bevolking van Stellenbosch vinnig vermeerder het. Stellenbosch is nie oorspronklik as ‘n dorp aangelê nie, maar ten gevolge van die digte samewoning van die koloniste het ‘n dorp weldra ontstaan.
Landdros en Heemrade
In 1682 is ‘n kollege van vier Heemrade op Stellenbosch in die lewe geroep. Die lede het twee jaar sitting gehad. Elke jaar het die helfte afgetree en die vakatures is deur die regering aangevul uit ‘n dubbele lys wat die kollege self opgestel het. Die bevoegdhede van hierdie liggaam is aanvanklik nie duidelik omskryf nie. Dit het hom hoofsaaklik met die beslegting van kleiner geskille onder die burgers besig gehou. Langsamerhand het dit al hoe meer bestuurlike funksies gekry, totdat die kollege van Landdros en Heemrade die plaaslike bestuur op die platteland waargeneem het.
Eie Kerk en skool
Op 28 September 1683 het die koloniste van Stellenbosch hulle met ‘n versoekskrif tot die Politieke Raad gewend. Hulle het verklaar dat die gemeenskap al tot 30 gesinne aangegroei het, maar dat hulle nog geen skool het waarin hul kinders opgevoed kan word nie. Weens die groot afstand was dit verder vir hulle onmoontlik om die kerk in die Kaap by te woon. Die gevolg was dat die kinders wild grootgeword het en die volwassenes deur geestelike agteruitgang bedreig is. Hulle het dus die Politieke Raad versoek om iemand aan te stel wat gedurende die week hul kinders kon onderrig, Sondag die godsdiensoefening kon lei en die siekes besoek. Voorts het hulle die Politieke Raad gevra om hulp te verleen i.v.m. die oprigting van die nodige geboue.
Hierdie billike versoek het die regering dadelik toegestaan. Daar is besluit om op koste van die Kompanjie ambagsliede na Stellenbosch te stuur om daar ‘n onderwyserswoning en ‘n skool te bou. Die koloniste moes net die boumateriaal verskaf. Toe die geboue klaar was, is Sybrand Mankadan, wat jare lank die gemeenskap getrou gedien het, na Stellenbosch gestuur om die poste van onderwyser, voorleser en sieketroostes te vul. Aldus het Stellenbosch langsamerhand ‘n selfstandige gemeenskap geword.
Drakenstein gestig
Agt jaar daarna (in 1687) het die Kommandeur dit wenslik gevind om nog ‘n nedersetting in die binneland te stig. Daar was teen daardie tyd ‘n aantal koloniste wat nog geen plase gehad het nie. Hul getalle is vergroot deur die verlening van vrybriewe aan ‘n klompie soldate wat met die retoervloot van 1687 aangekom het. In hierdie omstandighede het die Kommandeur oor Helshoogte gery en aan die nuwe boere grond langs die Bergrivier gegee. Hierdie nedersetting het hy Drakenstein genoem na die landgoed van Van Reede, Heer van Mijdrecht, ‘n hoë amptenaar van die Kompanjie wat die Kaap ‘n paar jaar tevore besoek het. So het Simon van der Stel met verloop van tyd die kolonie na die binneland uitgebrei, met die bedoeling om deur die bewerking van nuwe, vrugbaarder bougrond die produksie te vergroot.
Bevordering van immigrasie
Die vernaamste moeilikheid wat Van der Stel i.v.m. die uitvoering van sy kolonisasieplanne ondervind het, was die gebrek aan geskikte koloniste. Soldate wat wou boer, was maklik te kry, maar die Kommandeur het geweet dat ongetroude soldate nie altyd goeie boere uitmaak nie. Hy wou egte koloniste hê, vlytige landbouers uit die moederland. Hy het geen geleentheid laat verbygaan om die bewindhebbers oor koloniste lastig te val nie. Ten gevolge van sy herhaalde versoeke het die Here XVII in 1685 weer ‘n ernstige poging aangewend om emigrasie na die Kaap te bevorder.
Oral in die Verenigde Provinsies is stelselmatig vir emigrasie reklame gemaak en baie gunstige voorwaardes is vir aspirant-emigrante gestel. Vir die tog na die Kaap sou hulle niks betaal nie. Daar sou hulle verniet plase ontvang, so groot as wat hulle kon berwerk. Vee, saad en landbougereedskap sou op krediet teen inkoopsprys aan hulle verskaf word. Die koloniste sou egter nie toegelaat word om ná die eerste teleurstellings na die moederland terug te keer nie. Hulle moes hulle verbind om minstens 15 jaar aan die Kaap te bly. Indien hulle daarna na Europa wou terugkeer, moes hulle teen ‘n vasgestelde tarief vir hul oortog betaal. Ook moes emigrante die eed van trou aan die State-Generaal, die Prins van Oranje en die Oos-Indiese Kompanjie aflê.
Koms van die Hugenote
Van hierdie gunstige voorwaardes is nie baie gebruik gemaak nie. Die volgende paar jaar het emigrasie nog maar drupsgewys voortgegaan, totdat daar in 1688 plotseling ‘n groot instroming van Franse vlugtelinge was. Om die omstandighede te begryp waarin die plaasgevind het, is dit nodig om kortliks aandag te gee aan gebeurtenisse in Europa. In die tweede helfte van die 17de eeu het Lodewyk XIV weer begin met die verdrukking van Protestante in Frankryk, wat onder die bewind van Hendrik IV tydelik gestaak was. Langsamerhand is hul regte al hoe meer ingekort en allerlei pogings is aangewend om hulle te dwing om tot die Katolieke geloof terug te keer. Eindelik het die Franse koning in Oktober 1685 die Edik van Nantes, wat aan Protestante in Frankryk ‘n groot mate van godsdiensvryheid verleen het, herroep. Hierdeur is die Protestante weer aan meedoënlose vervolging blootgestel. Hul kerke is vernietig, hul predikante is verban en selfs huisgodsdiens is verbied. Dit het daartoe aanleiding gegee dat duisende hul besittings agtergelaat en uit Frankryk gevlug het, hoewel die wet dit uitdruklik verbied en swaar strawwe voorgeskryf het. Die meeste vlugtelinge het ‘n tuiste gevind in Engeland, Duitsland en Switserland. Heelparty het later na Amerika geëmigreer.
Toe Nederland ná 1685 deur vlugtelinge wat in die grootste nood verkeer het, oorstroom is, het die Here XVII van hierdie gulde geleentheid gebruik gemaak om koloniste vir die Kaap te werf. Die vlugtelinge sou juis baie geskikte koloniste wees, omdat baie van hulle landbouers was en ‘n uitstekende kennis van wynbou en olywekwekery besit het. Die Kompanjie het besluit om vir die Franse vlugtelinge wat bereid was om na die Kaap te verhuis, dieselfde voorwaardes te stel as vir ander koloniste. Voorts is aan die vlugtelinge belowe dat ‘n predikant wat die Franse taal magtig was, saam met hulle uitgestuur sou word, en ten slotte is ‘n geldelike voorskot aan Franse emigrante uitbetaal. Aspirant-koloniste moes net die gebruiklike eed van trou aflê en hulle verbind om ten minste vyf jaar aan die Kaap te bly
Die Hugenote het in klein groepies met verskeie skepe na die Kaap gekom. Die eerste groep het op 13 April 1688 met die Voorschoten in Suid-Afrika aangekom. Kort daarna het ander skepe met Hugnote aan boord Tafelbaai binnegevaar. Die oorgrote meerderheid van hierdie immigrante het tussen April 1688 en Januarie 1689 aangekom, hoewel daarna nog af en toe ‘n paar gesinne gevolg het, totdat hul gtal ongeveer 150 was. Op 22 Junie 1700 het die bewindhebbers op versoek van die Kaapse regering besluit om nie meer Hugenote na Suid-Afrika te stuur nie.
Aan die Kaap is die Hugenote baie gasvry ontvang. Hulle het dit inderdaad nodig gehad, want die meeste was brandarm. Die Kompanjie het hulle die eerste paar maande van lewensmiddele voorsien en boumateriaal vir huisies verskaf. Die Heemrade en Burgerrade het waens beskikbaar gestel om die nuwe koloniste na hul plase te vervoer. Die ou ingesetenes het ruim bygedra tot ‘n fonds wat geskep is om aspirant-boere op die been te bring. Sommige het goedere gegee en ander geld, elkeen na sy vermoë.
In die dokumente word nie gesê hoeveel die koloniste bygedra het nie, maar Simon van der Stel verseker ons dat die burgers se gifte hulle tot eer gestrek en die Hugenote baie gehelp het. Selfs uit Batavia het daar ‘n onverwagte antwoord op Van der Stel se oproep tot hulp gekom. Die kerkraad van Batavia het ongeveer R2 500 gestuur om onder die Hugenote verdeel te word. Hierdie geld het voorheen aan die armefonds van die kerk op die eiland Formosa behoort en is aan die regering in Batavia oorhandig nadat die Hollanders verplig was om die eiland te ontruim.
Van der Stel se beleid teenoor Hugenote
Hoewel Van der Stel die Hugenote viendelik ontvang en goed behandel het, was hy tog eintlik jammer dat hulle nie Nederlanders was nie. Hy was ‘n vurige nasionalis en wou graag aan die Kaap ‘n suiwer Nederlandse kolonie met Nederlanders as omgangstaal laat ontwikkel. Hierdie ideaal kon soveel Franse miskien verydel het. Hy moes egter tevrede wees met die koloniste wat die Here XVII vir hom gestuur het. Al uitweg was om hulle so vinnig moontlik te denasionaliseer, dus te verhollands. ‘n Dergelike beleid was heeltemal in ooreenstemming met die wense van die Here XVII wat geensins van plan was om ‘n Franse kolonie aan die Kaap te hê nie.
Met die doel om assimilasie deur die gevestigde bevolking te bespoedig, het die Kommandeur gesorg om die Hugenote nie bymekaar te vestig nie, maar om hulle soveel moontlik onder die ou koloniste te versprei. Sommige het in die distrik Stellenbosch plase gekry,k maar aan die oorgrote meerderheid is in die Bergriviervallei grond toegeken. Die name van die bewoners van Franschhoek, Drakenstein, die Paarl en Wellington, asook die name van baie ou plase, herinner ons vandag nog baie sterk aan die feit dat hierdie steke deur Hugemnote gekoloniseer is.
Hugenote ontevrede
Hoewel die vlugtelinge in die vrugbaarste en mooiste deel van die kolonie gron verniet gekry h et, was hulle nie daarmee tevrede nie. Hulle het daarteen beswaar gemaak dat hulle van mkaar geskei was en het versoek om bymekaar te mag woon – juis wat die regering wou verhoed. Aan die versoek is dus nie voldoen nie en sommige Hugenote was so ontevrede hieroor dat hulle geweier het om die grond te neem wat aan hulle toegeken was. Pleks daarvan het hulle by ander in diens getree.
‘n Tweede saak wat ontevredenheid gewek het, was die kerklike reëling. Die Kompanjie het wel in Nederland ‘n Fanse predikant, ds. Pierre Simon, aangestel om die Hugenote na die Kaap te vergesel, maar hulle het geen aparte kerk gekry nie. Drakenstein sou ‘n deel van die Stellenbosse gemeente uitmaak en sou onder die kerkraad van Stellenbosch val, hoewel Stellenbosch nog geen geordende prdikant gehad het nie. Verder is bepaal dat ds. Simond om die beurt op Stellenbosch en Drakenstein in Frans sou preek, terwyl die siektetrooste van Stellenbosch ‘n preek en die gebruiklike gebede op Drakenstein sou voorlees wanneer ds. Simond op Stellenbosch was, en op Stellenbosch sou optree wanneer die predikant op Drakenstein kerk gehou het. Elke drie maande sou ds. Simond die dienste in die Kaap waarneem terwyl die predikant van Kaapstad op Stellenbosch die sakramente bedien.
Dit was ongeveer die mees ekonomiese gebruik wat in die besondere omstandighede van twee predikante en ‘n sieketrooster gemaak kon word, maar hierdie reëling het begryplikerwys die Franse nie tevrede gestel nie. Hulle wou hul eie gemeente en eie kerkraad hê, met hul eie predikant. Op 28 November 1689 het hulle ‘n afvaardiging van vyf lede o.l.v. ds. Simond en Jacques de Savoye na die Kasteel gestuur om die saak aan Simon van deel voor te lê.
Hugenote “op hul plek gesit”
Die Kommandeur het die Politieke Raad bymekaargroep en in die vergadering ‘n verwoede aanval op die “franse gewaande Vlugtelingen” gemaak, “dewelke onder schijn van den geloovs-dwang hares konings T’ ontgaan” na ander lande gevlug het “ten einde om onder den dekmantel als ijveraars, ledemaaten en voorstanders van ‘ Protestantsche geloov een leuij en vaddig leven te leiden”. Vervolgens het die Kommandeur voorspel “dat se bij d’aankomst van haar verwagte Praedicant en meerder getal harer Landsluijden wel gesind souden sijn hun eigen Magistraat, Opperhoofd en Prince van den Landde te kiesen en hun also de gehoorsaamheid de se an d’ E. Comp schuldig waren t’ onttrekken”.(4)
(4)C 6: Resolutien, 28.11.1689, pp.311-312
Hierop is eenparig besluit om die afgevaardigdes voor die vergadering te laat verskyn en hulle die les te lees. Aan ds. Simond is ‘n gedrukte formulier van die eed wat alle vryburgers moes aflê, gegee en gevra om dit te lees. Daarna is die afgevaardigdes ernstig gewaarsku om hulle volgens genoemde eed te gedra, tevrede te wees met die bestaande kerklike reëling en die Kommandeur nie weer met dergelike vermetele versoeke lastig te val nie.
Die Franse moes voorlopig hierin berus, maar hulle het nog nie moed opgegee nie. Vyf maande tevre is ‘n versoekskrif aan die Here XVII gestuur, waarin die Hugenote se griewe blootgelê is. Miskien sou die uitslag hiervan gunstiger wees. Die vrsoekskrif is in Desember 1690 deur die bewindhebbers in Nederland oorweeg en die Franse se vrsoek om in Drakenstein ‘n kerk te mag stig, is toegestaan. Hulle het ook ‘n kerkraad gekry, maar daarin sou twee Pollitieke Kommissarisse sitting hê en di aanstelling van ouderlinge en diakens sou aan die goedkuring van die Politieke Raad onderworpe wees. Belangrike sake moes verder aan die Kaapse kerkraad voorgelê word, waarheen die Drakensteinse kerkraad in dergelike gevalle afgevaardigdes sou stuur.
Uit die brief aan die Kaapse regering waarin hierdie besluit bekend gemaak is, het egter baie duidelik geblyk dat die bewindhebbers in Nederland Simon van der Stel se assimilasiebeleid ten volle gesteun het. “Aengaende de scholen, daer van de voorn. Predicant Simond mede vermaen doen,” skryf die Kamer van Amsterdam op 17 Desember 1690, “sullen wij UE. trag en te bestellen eenige schoolmeesters beijde de talen Fransch en Duijts spreeckende, om aen Stellenbosch en Draeckensteijn respe. geplaetst te worden, en de kinderen off jeugt so wel van Fransche alsNederlandsche ouders te leren en te instrueren, des sullen de voorsz. Schoolmeesters daertoe hebben te arbeijden om de kinderen van Fransche ouders gebooren voor alle de Nederduijtsche tale te doen leeren lesen en verstaen, om door dat middel onse natie te meer te werden ingelijft. Tot dien eijnd sullen U.E. de Colonies aldae soo Fansche als Nederlanders niet ieder natie bijeen maer onder malkanderen gemelleert doen woonen off plaetsen beijde aen Stellenbosch en Draeckensteijn…”(5)
(5)C 418: Inkomende Briewe: Kamer van Amsterdam – Goewerneur, 17.12.1690, pp.842-843
Hoewel die owerheid dus uit die staanspoor ‘n beleid teenoor die Hugenote gevolg het wat uiteindelik assimilasie in die hand sou werk, was dit aanvanklik nie die bedoeling om die Franse met beweld daartoe te dwing nie. Daar was bv. in die in die begin geen sprake van verbanning van die Franse taal uit kerk en skool nie, maar met verloop van tyd het die bewindhebbers hul betreklik ruimhartige houding teenoor die Hugenote gewysig. Hiertoe was daar inderdaad genoeg rede. Die Hugenote was mense wat almal tot dieselfde nasie behoort, dieselfde taal gepraat en vir dieselfde ideale gely het. Hulle het as ‘n g roep onder ‘ n erkende leier na die Kaap gekom en het hier naby mekaar gewoon. Hulle was lede van dieselfde kerklike gemeente en het gedurig kontak met mekaar gehou. Dit is dus geen wonder dat die Hugenote aan die Kaap ook ‘n groep gevorm het en ‘n duidelike strewe na nasionale selfbehoud aan die dag gelê het nie.
Dit het die Kommandeur verontrus. Hy het gevrees dat die Hugenote ‘n georganiseerde opposisieparty sou vorm as hulle Frans bly, en heel gou het hy hulle van ontrou verdink. In 1691 het hy hulle vergelyk met die Kinders van Israel wat, deur Gods hand in die woestyn gevoed, nog steeds na die vleispotte van Egipte verlang het. Wantroue teenoor die Hugenote is veral bevorder deurdat in 1688 weer oorlog tussen Nederland en Frankryk, deswtyds aartsvyande, uitgebrek het. Daar moes gedurig met die moontlikheid van ‘n Franse aanval op die Kaap rekening gehou word. Dié vrees kon des te makliker verwesenlik word, omdat Franse skepe dikwels by die Kaap verbygevaar het na Indië. In hierdie omstandighede kon ‘n Franssprekende bevolkingselement aan die Kaap ‘n groot gevaar vir die nedersetting word. Daar is gevrees dat die Hugenote se simpatie aan die kant van die land van hul herkokms gelê het en dat hulle miskien aan die Franse hulp sou verleen as laasgenoemdes die Kaap sou aanval.
Denasionalisering van Hugenote versnel
Dit hoef dus geen verbasing te wek dat die bewindhebbers langsamerhand daartoe oorgegaan het om ‘n beleid van bewuste denasionalisering teenoor die Hugenote te volg nie. Dit is in 1701 onomwonde geformuleer toe die aanstelling van ds. Simond se opvolger ter sprake gekom het. Deur die gebruik van die Nederlandse taal in kerk en skool moes Frans heeltemal in onbruik raak en langsamerhand uitsterwe. Wel sou ‘n tweetalige predikant as opvolger van ds. Simond uitgestuur word, maar hy sou alleen in Hollands preek. Hy moes slegs Frans ken “om de bejaarde Colonier dewelcke onse tale niet kennen door besoeckingen, vermaningen en vertroostingen te kunnen dienen”.(6)
(6)C 425: Inkomende Briewe, Kamer van Amsterdam – Kaapse regering, 20.9.1701, p.393
Met die verbanning van hul taal uit die kerk was die Hugenote baie ontevrede, want meer as driekwart van die lede van die Drakensteinse gemeente kon ‘n Hollandse preek nie verstaan nie. Hulle het dus die owerheid versoek om die nuwe predikant, ds. Becq, opdrag gegee om al om die ander Sondag in Frans te preek. Die bewindhebbers in Nederland was nie baie begerig om die versoek toe te staan nie, maar het dit darem aan die Kaapse regering oorgelaat om na goeddunke te handel.
Die Kaapse regering het toe, verstandig genoeg, nie geprobeer om die besluit om Frans uit die kerk te verban, streng toete pas nie. In 1718 is Franse dienste nog in Drakenstein gehou. Hierdie tegemoetkoming het egter geensins vir die Franse taal aan die Kaap regte ingehou nie. In 1709 het dit vir die Franse nog duideliker geword toe die predikant en kerkraad van Drakenstein gelas is om voortaan hul briewe aan die regering en ander kerklike stukke in Nederlands op te stel.
Frans verloor die stryd
In dié omstandighede is dit lig te begryp dat die Franse taal in Suid-Afrika op die duur die ongelyke stryd teen Nederlands nie kon volhou nie. Langsamerhand moes dit uitsterwe. Die Hugenote – aldus Theal – het nooit meer as een-sesde van die burgerbevolking of een-agtste van die totale blanke bevolking aan die Kaap uitgemaak nie. Daar het dus vir die gevestigde koloniste weinig aanleiding bestaan om Frans aan te leer. Die Hugenote, daarenteen, het betreklik gou Nederlandssprekend geword. Sommige het al Nederlands geken toe hulle hier aangekom het. Dieander was verplig om die taal aan te leer, omdat dit in die sakelewe, asook vir omgang met die gevestigde koloniste, nodig was. In 1723 was daar maar sowat 25 persone in die Drakensteinse gemeente wat Nederlands nie verstaan het. En hulle was almal bejaard. Die kinders van die Hugenote het al almal Nederlands geken en namate die twee volke ondertou en tot een nasie saamgesmelt het, het die Franse taal ongemerk in onbruik geraak – ‘n proses wat, volgens Dehérain, verhaas is deur die vroeë vertrek van ds. Simond na Europa. Die Hugenote se kinders het nog Frans geken, maar hul kleinkinders was hierdie taal nie meer magtig nie. Die gevolg was dat, nadat die oorspronklike Franse vlugtelinge en hul kinders uitgesterwe het, Frans nie meer aan die Kaap gepraat is nie.
Betekenis van Hugenote se koms
Die koms van die Hugenote aan die Kaap was ‘n belangrike gebeurtenis in die kolonisasie van Suid-Afrika. In 1688 het die blanke bevolking van die nedersetting – volgens Theal – slegs 573 siele bedra. Van hulle was 254 mans, 88 vroue en 231 kinders. Weens die wanverhouding tussen mans en vroue sou die natuurlike bevolkingsaanwas deur geboorte uiters langsaam wees. Daarom was die plotselinge instroming van 150 Franse vlugtelinge, in ‘n tyd toe dit baie moeilik was om mense te vind wat bereid was om hierheen te verhuis, ‘n belangrike histoiese gebeurtenis.(7)
(7)Vgl. Ook C.G. Botha, The French Refugees at the Cape, waarin die vernaamste stukke wat op die Franse vlugtelinge betrekking het, gepubliseer is
Ten gevolge van die uitbreiding na die binneland, waardeur vrugbaarder grond bewerk is, en die aanwas van die burgerbevolking, het die produksie onder die bewind van Simon van der Stel vinnig toegeneem. In 1685 het die toestand al gunstig begin lyk en drie jaar later kom die Kommandeur meld dat hy die akkerbou al sover gebring het dat daar 3 664 mud graan – genoeg vir die volgende twee jaar – op die solders was. Daar was ook nog graan op die buiteposte van die Kompanjie en by die vryburgers in hul huise in voorraad. Die noodsaaklikheid om rys in te voer, het voorlopig verdwyn en die Kaap was nie meer vir sy kosvoorraad van invoere afhanklik nie. Die Kaap het dus in die jare tagtig eindelik aan sy doel begin beantwoord. Maar voordat dit gebeur het, moes die verversingspos eers tot ‘n landboukolonie ontwikkel.
Kompanjie staak eie boerdery
Die uitbreiding van die partikuliere boerdery aan die Kaap het langsamerhand die Kompanjiesboerdery onnodig gemaak en die Kompanjie kon met gerustheid daartoe oorgaan om dit af te skaf. Hierna was al lank uitgesien, want die Kompanjie se boerdery-ondernemings het hom baie duur te staan gekom en was nooit winsgewend nie. In 1695 het die bewindhebbers toe aan die Kaapse regering opdrag gegee om trapsgewys die Kompanjiesboerdery tot niet te maak. Met die uitvoering van hierdie odrag het die amptenare nog ‘n paar jaar gesloer, totdat die bewindhebbers in 1699 weer instruksies gestuur het om die akkerbou en veeboerdery aan die Kaap heeltmal aan die koloniste oor te laat. Selfs die verbod op veeruil is opgehef, sodat vleisleweransie heeltemal in die hande van die koloniste was.
Afsetprobeer ontstaan
In die laaste jare van Simon van der Stel se bewind was die eerste tekens van die chroniese afsetvraagstuk, wat gedurende die 18de eeu sou ontwikkel, al bespeurbaar. Die Kaapse mark vir landbouprodukte was beperk. Uitbreidingsmoontlikhede was gering. Ons wyn was destyds weens die swak gehalte nie vir uitvoer geskik nie. Ons graan kon nie op die Europese mark meeding nie. Gevolglik was die boere afhanklik van die beperkte uitvoer wat na Batavia moontlik was. Toe die Oos-Indiese regering in 1695 geweier het om die Kaap se oorskotgraan te koop, omdat Batavia uit die Ooste goedkoper voorsien kon word, het groot voorrade graan in die Kompanjie se skure in die Kaap begin bederf. Die boere het met die hande in die hare gesit en was verplig om dadelik hul graanbou in te krimp. Gelukkig het die Here XVII die jaar daarop die posisie gered: Batavia het opdrag gekry om weer Kaapse graan te koop.
Begin van veeboerdery
Met so ‘n beperkte mark vir landbouprodukte was dit van groot belang dat daar ‘n ander vorm van boerdery aan die Kaap was wat vir byna onbeperkte uitbreiding vatbaar was, nl; die veeboerdery.(8) Daarmee het die boere van die begin af meer sukses gehad as met die akkerbou. Ten tyde van Simon van der Stel se koms was daar al boere wat groot troppe skape gehad het. Teen die end van die 17de eeu was die veeboerdery al ‘n belangrike bron van welvaart. Oral in die kolonnie kon ryk veeboere aangetref word. Volgens die jaarlikse opgawes, wat meestal veels te laag was, het Henning Hüsing in 1692 nie as 5 300 skape besit nie, terwyl verskeie ander boere meer as 1 000 besit het, en kuddes van 500 ‘n doodgewone verskynsel was.
(8)Vir die ontwikkeloing van die veeboerdery en die trek na die binneland, sien P.J. van der Merwe: Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaap-kolonie, pp.20-59.. Vgl. Ook H.B. Thom: Die Geskiedenis van die Skaapboerdery in Suid-Afrika, en A.J.H. van der Walt: Die Ausdebnung der Kolonie am Kap der Guten Hoffnung (1700-1779)
Veeboerdery ‘n bybedryf
Aanvanklik was veeboerdery aan die Kaap ‘n soort bybedryf, wat met akkerbou gepaard gegaan het. Die veeteelt was egter van die begin af meer gewild as akkerbou. Dit was in die eerste plaas baie voordeliger. Dit het nie soveel gekos om ‘n skaap te ruil of te teel as om ‘n mud koring te produseer nie, en albei het sowat diselfde markwaarde gehad. Daarby het die veeboer geen moeilikheid met die vervoer van sy produkte na die mark ondervind nie, terwyl dit vir die graanboer, veral in die binneland, baie moeite en onkoste meegebring het. Ook het veeboerdery nie soveel liggaamlike inspanning as akkerbou vereis nie.
As gevolg hiervan het baie vryburgers wat as landbouers begin het, hulle langsamerhand al hoe meer op veeboerdery toegelê. Party het die akkerbou heeltemal laat vaar. Ander koloniste het eiendomsgrond ontvang, maar dit onbewerk laat lê of verkoop en veeboere geword. Veral vir jong beginners sonder kapitaal het die veeboerdery ‘n groot aantrekkingskrag gehad, aangesien dit nie veel aanvangskapitaal vereis het nie. Die vee wat nog nodig was om ‘n boerdery mee te begin, kon hulle maklik in die hande kry. Hulle kon om die helfte vee vir ander boere laat aanteel, as knegte vee by ryk boere verdien of vee van die Hottentotte ruil. Die Plakkate het die veeruil wel verbied, maar dit het tog gebeur. Op hierdie wyse het die veeboerdery geleidelik ‘n selfstandige bedryf geword. Uit die opgaaflyste blyk dat hierdie proses al in die jare sewentig van die 17de eeu aan die gang was. Voor die end van daardie eeu was die veeboerdery as ‘n aparte bedryf, los van die akkerbou, al betreklik sterk ontwikkel.
Teenstand van Van der Stel
Hierdie ontwikkeling het Simon van der Stel met al sy mag teengewerk. Hy was bang die trekkery oor die grense tot verwaarlosing van die akkerbou sou lei. Verder moes die koloniste naby mekaar woon, sodat hulle in tyd van gevaar maklik gewaarsku en bymekaargebring kon word. In hierdie verband het Van der Stel nie alleen aan buitelandse vyande gedink nie; hy het die Hottentotte ook nog nie heeltemal vertrou nie.
Die Goewerneur het hom egter tevergeefs teen die ontwikkeling van die selfstandige veeboerdery verset. Ná 1700 het dit al hoe moeiliker gegaan om ‘n afset vir wyn en graan te vind, terwyl die veeboerdery nog vir groot uitbreiding vatbaar was. Teen die end van Simon van der Stel se bewind het daar al enkele halfnomadiese veeboere in die binneland rondgeswerwe en hul getalle het ná 1700 vinnig toegeneem.
So het die grondslag waarop kolonisasie en uitbreiding aan die Kaap plaasgevind het, geleidelik verander. Gedurende die 17de eeu het die landbouer die uitbreiding na die binneland gelei. Ongemerk het die veeboer egter op die voorgrond getree, en so het voor die end van die 17de eeu die pionierstipe ontstaan wat gedurende die volgende eeu die stille uitbreiding na die binneland sou lei.
Willlem Adriaan van der Stel
In 1699 het Simon van der Stel sy amp neergelê en is hy deur sy oudste seun opgevolg. Hiermee het ‘n nuwe tydperk in die ekonomiese geskiedenis van die Kaap aangebreek, want Willem Adriaan van der Stel het heeltemal gebreek met die ekonomiese politiek wat sy vader 20 jaar gevolg het. Terwyl Simon van der Stel alles in sy vermoë gedoen het om die ekstensiewe veeboerdery teen te werk, het sy seun die groot veeboer-pionier geword. Hy het die veeboerdery aangemoedig en die verspreiding van die veeboere in die binneland verdedig.
Veranderde toestande het hierdie beleidsveranderinge geregverdig. Die produksievraagstuk wat Simon van der Stel soveel hoofbrekens besorg het, het stadigaan vir ‘n afsetvraagstuk begin plek maak. Weens beperkte afsetmoontlikhede was daar in akkerbou nie meer groot uitbreidingsmoontlikhede nie. Die vraag na vleis was egter taamlik goed, en buitendien was ‘n veeboer nie so afhanklik van die mark as ‘n akkerbouer nie. Dit het die Goewerneur laat insien dat die veeboerdery ‘n baie belangrike rol in die toekoms sou kon speel.
Uitbreiding versnel
Kort ná sy aankoms aan die Kaap het Willem Adriaan van der Stel tot verdere uitbreiding van die kolonie oorgegaan. ‘n Inspeksiereis het aan die lig gebring dat daar ‘n aantal koloniste sonder grond was, terwyl die koloniste by Stellenbosch en Drakenstein reeds te dig bymekaar gewoon het. Boonop het kort tevore ‘n aantal nuwe immigrante aangekom, wat ook nog grond moes kry. Die Goewerneur het besluit om aan hulle grond te gee in ‘n pragtige vallei tussen die Obikwa- en die Witsenberge, wat ‘n baie gunstige indruk op hom gemaak het. In 1700 het die eerste koloniste na die “Land van Waveren” vertrek. Die mans het vooruitgegaan om die land skoon te maak, terwyl die vroue en kinders later sou volg. Hierdie keer het die uitbreiding nog geskied op die grondslag van die eiendomsplaas, bedoel vir landbou. Daarna het die veeboer die land op die grondslag van weilisensies beset, terwyl die landbour agterna gekom het. Selfs in die Land van Waveren kon die koloniste hulle aanvanklik byna net op die veeboerdery toelê. Weens vervoermoeilikhede was landbou onmoontlik.
W.A. v.d. Stel se eie boerdery
Kort nadat Willem Adriaan van der Stel goewerneur aan die Kaap geword het, het hy self op uitgebreide skaal begin boer.(9) Dit was al manier waarop ‘n amptenaar aan die Kaap sy karige salariskon aanvul. Hier was dit nie moontlik om, soos in Indië, uit partikuliere handel wins te maak nie. Willem Adriaan was inderdaad nie die eerste regeringshoof wat die boerdery hier aangepak het nie. Jan van Riebeek het reeds ‘n groot plaas besit en in sy tyd het ook verskeie ander amptenare geboer.
(9)In verband met die kwessie Van der Stel is veelvuldige gebruik gemaak van Het Dagboek van Adam Tas, uitgegee deur prof.L. Fouché
Om die vryburgers teen konkurrensie te beskerm, het die Here XVII dit egter in 1668 uitdruklik belet. Amptenare aan die Kaap kon tuine vir eie gebruik bewerk, maar sou nie toegelaat word om grond te besit en op groot skaal te boer nie. Teen die skenking van Constantia aan Simon van der Stel het die Here XVII nie beswaar gemaak nie. Die Heer van Mijdrecht het kragtens sy instruksie net soveel mag as die Here XVII besit en buitendien is gevoeldat Simon van der Stel op grond van buitengewone dienste op ‘n besondere guns aanspraak kon maak.
Nogtans het die Kompanjie nie heermee afgewyk van sy voorgeskrewe beleid insake die boerdery van amptenare nie, want in ‘n brief van 27 Junie 1699 aan die Kaapse regering verbied die Here XVII weer uitdruklik lede van die Politieke Raad en die Raad van Justisie om produkte aan die Kompanjie te lewer.
In hierdie omstandighede kokm dit enigsins vreemd voor dat kommissaris Wouter Valkenier, wat nie volmag daartoe gehad het nie, in 1700 aan verskeie amptenare grond in eiendom verleen het. Willem Adriaan het 343 ha in Hottentots-Holland ontvang. Hierdie plaas het hy in 1703 aansienlik vergroot deur as goewerneur ‘n stuk van 100 ha aan Jan Hartog uit te gee en dit later as partikulier weer van hom te koop.
Omvang van sy boerdery
Hierdie groot plaas het die Goewerneur nou bewerk soos min boere dit kon doen. Hy het daar ‘n pragtige woonhuis op gebou en weldra het allerlei buitegeboue hul verskyning gemaak. Ná ‘n paar jaar het hy al byna 53 ha onder wingerd gehad. Daar sou meer as ‘n halfmiljoen stokke op gestaan het – sowat ‘n kwart van sy totale getal wynstokke in die kolonie – wat uiteindelik oor die 600 lêer wyn per jaar sou kan lewer. Daarby het die Goewerneur baie koring gesaai. In 1705-06, toe die totale koringopbrengs van die koloniste 4 331 mud was, het die Goewerneur 1 100 mud gewen. Ook het die Goewerneur met vee geboer en spoedig het hy honderde beeste en duisende stuks kleinvee besit, wat hy op verskeie veeposte oos van die Hottetots-Hollandberge laat wei het. Hier, in die teenswoordige distrik Caledon, is koloniste nie toegelaat om met hul vee te kom nie: dit is vir die persoonlike gebruik van die Goewerneur uitgehou.
Dit spreek vanself dat die Goewerneur op so’n groot plaas baie arbeiders nodig gehad het. Hy self het sowat 200 slawe besit, maar na bewering het hy ook van ‘n aantal Kompanjieslawe gebruik gemaak en sowat 60 blanke knegte, wat deur die Kompanjie betaal is, op sy plaas laat werk. Hieronder was Jan Hartog, die baastuinier, wat die tuine van Vergelegen moes uitlê en oor die ander toesig moes hou. Die hout, yster e.a. boumateriaal wat die Goewerneur nodig gehad het, het hy uit die Kompanjie se pakhuise laat haal. Hoeveel hy daarvoor betaal het, weet niemand nie. Om die materiaal na Vergelegen te laat vervoer, het hy boere gekommandeer, sodat dit hom niks gekos het nie.
Op hierdie manier het Willem Adriaan Vergelegen tot ‘n modelplaas omgeskep waarop die kolonie trots kon wees. Van die skenking van die grond en sy boerdery-ondernemings het die Here XVII egter niks geweet nie.
Boerdery van ander amptenare
Die ander amptenare het in die spore van die Goewerneur gevolg. Die sekunde Samuel Elsevier, die fiskaal Johan Blesius en ds. Petrus Kalden het almal goot plase besit, terwyl geringe amptenare soos Starrenburg, De Wet en Ten Damme plase van die gewone grootte (51 ha) gehad het. Die amptenare het saam ruim die helfte soveel grond besit as al die koloniste en hulle was deurgaans flukse boere.
Die boerderybedrywighede van die amptenare moes onvermydelik tot pligsversuim aanleiding gee. Die Goewerneur het weke agtreen op Vergelegen deurgebring, sonder om hom te bekommer oor wat in die Kaap aangaan – en dit ondanks herhaalde waarskuwings van die bewindhebbers om dag en nag op sy hoede te wees vir moontlike vyandelike aanvalle. Nederland was destyds in die Spaanse Suksessie-oorlog betrokke, en ‘n Franse aanval op die Kaap kon elke dag verwag word. Ook ds. Kalden het sy werk verwaarloos “gemerkt hij hem vrij meer met zijne landerijen bemoeit als met den Predikstoel!”. Later het hy beweer dat sy besoeke aan Zandvliet nie net i.v.m. die boerdery gestaan het nie: hy wou kwansuis Hottentots geleer het,met die oog op sendingwerk. Uit die dokumente van die tyd blyk tog dat hy ‘n wakker boer was.
Koloniste maak beswaar
Die koloniste het weldra teen die boerdery van amaptenare beswaar begin maak, omdat dit die koloniste hul bestaansmoontlikhede ontneem het. Die mark vir landbouprodukte was in die begin van die 18de eeu uiters beperk. Die kolonie was reeds deur ernstige oorproduksie bedreig. Enige konkurrensie het die koloniste met gewisse ondergang bedreig. En toe het die amptenare op so ‘n uitgebreide skaal gaan boer dat hulle alleen die hele mark kon voorsien, selfs al was daar geen boere nie. In hierdie verband het sekunde Elsevier in 1705 aan die Goewerneur gesê “dat er over drie of vier jaar geene vryburgers meer aan die Kaap vannoden waren; en dat er voor hen (die amptenare) kans was, om met hun vieren of vijfen de maatschappije en die Kaap van alles te voorzien”.(10)
(10)Fouché: Het Dagboek van Adam Tas, bl.330
Monopolies van amptenare
Nie alleen was die amptenare groot leweransiers nie: vanweë hul amptelike posisie was hulle by magte om die mark te monopoliseer. Die amptenare moes vir die Kompanjie koop, en begryplikerwys sou hulle aan mekaar se produkte voorkeur gee. Hulle het die Kompanjie se pakhuise met hul eie produkte gevul en daarna die boer met sy produkte verleë laat staan. Daarby kon hulle hul produkte verkoop teen pryse wat hulle self vasgestel het. Gevolglik het hulle soms byna twee keer soveel as die boere vir hul graan gekry. Ook i.v.m. lewering aan vreemde skepe het die amptenare die boere gedurig voorgespring. Die burgers moes spesiale verlof van die Goewerneur kry om prudukte aan vreemde skepe te verkoop, en dergelike lisensies is gewoonlik nie verleen voordat die amptenare al hul produkte verkoop het nie. Die bevoorregte posisie van die amptenare het die onwettige konkurrensie nog onbilliker gemaak.
Betrekkinge versleg
In hierdie omstandighede kon daar geen hartlike betrekkinge tussen die amptenare, wat hulself die egte kinders van die Kompanjie genoem het, en die koloniste, wat hulle as die onegte kinders van die Kompanjie bestempel, bestaan nie. Na gelang die amptenare die koloniste uit die mark verdrywe het, het die ontevrednheid gegroei en eindelik het dit tot ‘n klimaks gelei toe die Goewerneur in 1705 die wynpag onder nuwe voorwaardes laat opveil het. Tot op dié tydstip was die reg om wyn aan die Kompanjie te lewer, in vier dele verpag. Dit het die boere teen die willekeur van die pagter beskerm. In 1705 het Willem Adriaan egter besluit om die wynpag eers in vier dele en daarna onverdeeld te laat opveil en dan die hoogste aanbod aan te neem. Hieroor was die boere so ontevrede dat die meeste van hulle die pagplek verlaat het toe die nuwe voorwaardes bekend gemaak is. So het die wynpag in die hande gekom van ene Phijffer, ‘n bekende skelm, wat al weens wangedrag gegesel en vir ses jaar verban was.
Koloniste se klagskrif
Die ontevredenheid oor die wynpag het die beker laat oorloop. Onmiddellik daarna het die koloniste, wat hulle deur ‘n gewisse ondergang bedreig gevoel het, om hul regte begin veg. Onder leiding van Adam Tas het hulle ‘n uitvoerige klagskrif opgestel, wat aan die bewindhebbers in Nederland gestuur sou word. Hierin het hulle gekla oor die groot grondbesit van die amptenare, hul uitgebreide boerdery-ondernemings en die pligsversuim wat hiermee gepaard gegaan het. Hulle het die Goewerneur daarvan beskuldig dat hy op sy plaas 60 Kompanjiesdienaars en 100 Kompanjieslawe gebruik het en dat hy boumateriaal uit die Kompanjie se pakhuise geneem het waarvoor hy niks, altans baie minder as die koloniste, betaal het.
Verder het hulle beweer dat die Goewerneur vee van die Hottentott geruil het, soms met geweld, terwyl die veeruil gesluit was; dat hy partikuliere handel drywe in wyn, en dat hy oor die 400 wolskape van die koloniste afgepers het sonder om hulle iets daarvoor te betaal. Hulle het beswaar gemaak teen die manier waarop die wynpag opgeveil was; hulle het vertel dat die burgers die Goewerneur met geskenke moes omkoop voordat hy erfgrondbriewe uitreik, en gekla dat hy hulle verplig om gratis vir hom transport te ry. Die burgers moes hom “eerst en alvorens … rijkelijk met geschenken … begroeten” voordat hulle grond kon kry. Ten slotte het hulle verklaar dat die kolonie deur totale ondergang bedreig word as dit só sou voortgaan.
Daar bestaan verskil van mening oor die grond vir die klagtes teen Van der Stel.(11) Een ding staan egter soos ‘n paal bo water: die Goewerneur en verskeie ander amptenare het hulle met die boerdery besig gehou en as konkurrente van die vryburgers opgetree. Dit was al genoeg om hulle by die Kompanjie in die moeilikheid te bring.
(11)Sien F.C. Dominicus: Het Ontslag van W.A. van der Stel
Terwyl die burgers hul kans afgewag het om hul klagskrif na Nederland te stuur, het die Goewerneur agtergekom dat daar ‘n beweging teen hom was. Die vorige jaar (1705) is ‘n dergelike klagskrif aan die Hoë Regering in Indië gerig, wat met die retoervloot van 1706 die Goewerneur versoek het om op die klagtes te antwoord.
V.d. Stel slaan terug
Van der Stel het nou vermoed dat die koloniste ook na Nederland ‘n klagskrif sou stuur. Dit wou hy tot elke prys voorkom. In elk geval moes hy maatreëls vir sy eie verdediging tref. Sy eerste stap was om ‘n getuigskrif te laat opstel waarin hy voorgehou word as ‘n eerbare, deugsame en godsdienstige man – ‘n goeie rgeerder wat hom altyd in die belang van die kolonie beywer en die boere steeds help om ‘n afset vir hul produkte te kry. Om vir hierdie stuk ondertekenaars te werf, het hy die Kapenaars – arbeiders, slawe en vissers inkluis – na die Kasteel genooi en hulle daar gasvry onthaal. Nadat hy hulle rojaal op tabak, wyn en bier getrakteer het, is hulle versoek om die stuk te onderteken. Enkele het geweier, maar die meeste het geteken. Hulle het blykbaar nie almal presies gweet wat daaragter skuil nie. Buitendien het die stadsburgers nie baie griewe teen die Goewerneur gehad nie: hulle was immers nie boere nie.
Op die platteland het landdros Starrenburg gewapen onder die “buitenlieden” rondgegaan om hulle te oorreed om te teken. Hiermee het hy maar min sukses gehad. Soms was sy ontvangs allesbehalwe hartlik. By die huis van Francois du Toit in Drakenstein het Starrenburg sowat 15 Franse probeer oorhaal om die getuigskrif te teken. “Abraham Bleusel aan ‘t spreeken raaken, zeijde ronduijt dat hij zijn naam wel wilde teekenen, maar eerst zijne klagten daarboven schrijven, en als hij dat niet doen mochte dan wilde hij niet teekenen. Op dit zeggen van deesen man” – teken Adam Tas verder in sy dagboek op – “gingen de menschen daar bijeengekomen slenteren, zonder datter iemand van hen wilde teekenen, zodat den Landdrost hier zeer kaal afgekomen is, aangesien zijne drijgementen niet hebben mogen gelden”.(12)
(12)Fouché: Het Dagboek van Adam Tas, 20.2.1706, p.146
Ondanks die sterk verset teen sy bewind het die Goewerneur eindelik daarin geslaag om sowat 240 handtekeninge vir sy getuigskrif te kry. Hierdie handtekeninge het nie die beste klas in die kolonie verteenwoordig nie. Daaronder was die name van slawe en bannellinge, en daar is rede om te vermoed dat sommige van die handtekeninge vervals is.
Teenstanders aangekeer
Die Goewerneur se volgende stap was om Adam Tas onverwags gevange te laat neem en op sy skryftafel beslag te lê. Met behulp van stukke wat hy daarin gevind het, was dit moontlik om vas te stel wat die inhoud van die klagskrif was en wie die vernaamste ondertekenaars was. Daarna is verskeie ander leiers van die beweging ook gevange geneem en is besluit om vyf van hulle na die moederland te stuur om daar hul klagtes voor te lê en hulle te verdedig teen aanklagte van sedisie en rebellie wat die regering teen hulle sou inbring.
Voorts het die Goewerneur ‘n kommissie uit die Raad van Justisie laat saamstel om die leiers van die beweging te vervolg en h ulle oor te haal om hul beskuldigings teen hom terug te trek. In dié kommissie het die vernaamste amptenare teen wie die beskuldigings van die koloniste gerig was, sitting gehad. ‘n Kolonis op wie se lojaliteit die Goewerneur kon staatmaak, sou die koloniste verteenwoordig. Starrenburg – en nie die fiskaal nie, wie se werk dit eintlik was – sou as openbare aanklaer optree. Om ‘n skyn van regverdigheid te wek, het Willem Adriaan nie self op die regbank sitting geneem nie, maar het hom nogtans laat geld. Hy het in ‘n kamer naasaan gaan sit, sodat hy die verhoor goed kon volg. Telkens as ‘n moeilike punt geopper is, het Starrenburg hom gaan raadpleeg. Die Goewerneur e.a. amptenare het hulle dus die reg toegeëien om as regters in hul eie saak op te tree.
Opstandiges gedreig
Hierdie partydige regbank het vrvolgens alles in sy vermoë gedoen om die beskuldigdes te oorreed om hul aanklagte terug te trek. Een vir een is die gevangenes voor die regbank gebring en ondervra. Tensy die gevangene bevredigend geantwoord het, is hy na die sel teruggebring. As h y ná ‘n sekere tyd dit nog nie herroep het nie, is hy bedreig met die Donker Gat – ‘n stikdonker, ongeventileerde, onderaardse sel in die Kasteel, waarteen ‘n gevangene se gesondheid nielank bestand was nie. Selfs die dreigemente om gevangenes op brood en water te sit, om die pynbank te gebruk of hulle na Mauritius te verband, is gebruik.
Uit vrees vir wat met hulle kon gebeur, het sommige gevangenes al by die eerste verhoor “bevredigende” antwoorde gegee. Ander moes eers weke in ongesonde selle deurbring voordat hulle wou ingee. Van der Heiden, Jacques de Savoye en P. De Meyer moes selfs met die Donker Gat kennis maak en twee ander burgers moes op ‘n skip, wat klaar was om na Mauritius te vertrek, geplaas word voordat hulle bekentenisse wou onderteken.
Op hierdie manier het die Goewerneur verskeie gevangenes afgepers. Hierdie bekentenisse, wat “kortheidshalwe” eers vermink is, het die Goewerneur saam met sy eie verdediging en ‘n aanval op die verbann burgers, na Nederland gestuur.
Klagskrif uitgesmokkel
Die klagskrif van die burgers is met dieselfde vloot na die moederland oorgebring. Met die hulp van dr. Abraham Bogaert het die koloniste dit aan boord gekry en toe die skip veilig op die ope see was, het Bogaert die stuk aan Henning Hüsing oorhandig.
Ná die vertrek van die retoervloot ht die Goeswerneur met die vervolging van die burgers voortgegaan. Teen hierdie tyd was die hele boerebevolking van Stellenbosch en Drakenstein al in die harnas teen die Goewerneur. Alleagting vir die gesag vand ie regering het verdwyn en die arme Starrenburg moes heelwat onaangenaamhede verduur. Nie net mans nie, maar ook die vroue het die wêreld vir hom moeilik gemaak. By ‘n sekere geleentheid het hulle hom goed vertel wat hulle van hom en sy baas gedink het en die aand het hy verslae aan die Goewerneur geskrywe: “…de wijven zijn alsoo gvaarlijk als de mans, en zijn niet stil”.(13) Gedagvaardes het geweier om voor die hof te verskyn en die burgerbevolking het lydellike verset toegepas. Niemand wou inligting verskaf of kos aan die soldate verkoop nie.
(13)Aangehaal in Gie: Geskiedenis van Suid-Afrika, I, bl.133
Toe die klagskrif van die burgers die moederland bereik, was die Kamer van Amsterdam reeds besig om ondersoek na die gedrag van Willem Adriaan van der Stel in te stel, want dit was nie die eerste keer dat klagtes oor hom die Direkteure bereik het nie. Die kommissie wat met die ondersoek van die saak belas was, het net op die retoervloot sit en wag om nuwe inligtinge wat lig op die saak kon werp, te kry.
Optrede van Here XVII
Die Here XVII het vinnig en beslis opgetree en die saak t.g.v. die koloniste beslis. Goewerneur Willem Adriaan van der Stel, sekunde Samuel Elsevier, ds. Petrus Kalden en landdros Starrnburg is uit hul ampte ontslaan en na die moederland teruggroep. Die burgers is vrygespreek van die aanklagte van sedisie, muitery en rebellie wat die Goewerneur teen hulle ingebring het. Die verbanne burgers is op koste van die maatskappy na die Kaap teruggestuur, een die Kaapse regering is gelas om die gevange burgers onmiddellik vry te laat. Die wynpag en vleispag sou weer soos voorheen onder verskillende pagters verdeel word. Die Goewerneur se plaas moes in vier dele verdeel en verkoop word. Die geboue sou teen ‘n skatting oorgeneem word.
Gevolge van geslaagde verset
Die geslaagde verset van die koloniste teen Willem Adriaan en sy kliek het verreikende gevolge gehad. Vir eers het dit samewerking tussen die blanke volkselemente bevorder. In die begin van die 18de eeu het die Franse en Nederlanders aan die Kaap nog in skerpe teenstelling teenoor mekaar gestaan. Die doelbewuste pogings van die Kaapse regering om die Hugenote te verhollands, het verset uitgelok en verbitttering gewek. Die Hugenote se kliekerigheid en hul strewe tot nasionale selfbehoud het weer die koloniste vererg. In hierdie omstandighede het rassehaat weldra weelderig getier. Die gevoelens het so hoog geloop dat die Franse op ‘n openbare vergadering besluit het om nie met Hollandse koloniste te trou nie. Sommige van di koloniste sou so ver gegaan het as om te verklaar dat hulle liewer ‘n stukkie brood aan ‘n Hottentot of ‘n hond sou gee as aan ‘n Hugenoot!
Hollanders en Franse nader aan mekaar
Die groeiende ontevredenheid oor die wanbestuur van Willem Adriaan het egter weldra die twee bevolkingsdele nader aan mekaar gebring.(14) Gedurende die verset van die koloniste teen die Goewerneur het Hugenote en Hollanders skouer aan skouer gestaan om korrupsie en tirannie te beveg. Van die 63 ondertekenaars van die klagskrif was, volgens prof. Fouché, 31 Franse. Die res was Nederlanders en gebore Afrikaners.Van die nege koloniste wat verban is, was drie Nederlanders, drie gebore Afrikaners en drie Franse.
(14)Fouché: ibid, pp.336-362
Gedurende die vervolging van die koloniste, stip Kolbe verder aan, het een Fransman, een Hollander en een Afrikaner die lewe ingeskiet. Hierdie merkwaardige toeval simboliseer die pragtige samewerking wat daar gedurende die verset teen Willem Adriaan van der Stel onder die verskillende seksies van die bevolking aan die Kaap bestaan het. Hulle het ‘n gemeenskaplike vyand gehad om te beveg, ‘n gemeenskaplike doel om te bereik, en dit het hulle die verskille laat vergeet en hulle geleer om saam te staan.
Geen ander faktor het soveel daartoe bygedra om die Hugenote en die ou koloniste in Suid-Afrika tot een nasie te laat saamsmelt as hul gemeenskaplike verset teen Willem Adriaan nie. Hoe onderlinge waardering gedurende die stryd geleidelik toegeneem het, blyk duidelik uit die dagboek van Adam Tas. Prof. Leo Fouché, wat die belangrike dokument uitgegee het, wys daarop dat Tas in die begin taamlik onverskillig praat oor die “Fransen”. Hul troue ondersteuning en onmisbare hulp laat egter gou sy toon hartliker word. Langsamerhand praat hy van Bleusel as ‘n “trouwhartig stuk”, van Du Toit as ‘n “patriot”, van die Hugnote as “onze Franse broers”.
Ná die geslaagde stryd teen die skraapsugtige en tirannieke goewerneur het Franse en Hollanders in Suid-Afrika as Afrikaners saamgewerk. Hulle verskille het vinnig verdwyn, en voor die end van die 18de eeu kon die Hugenote se nakomelinge nog net op grond van hul name van die ander koloniste onderskei word.
Ekonomiese gevolge
Ook op ekonomiese gebied het die stryd teen die Goewerneur belangrike gevolge vir die kolonie gehad. Die oorwinning van die boere het die vraag beslils wat plaaslike amptenare hulself gestel het: of die Kaap hom in die toekoms tot ‘n amptenarepos of ‘n kolonie sou ontwikkel. Maar aan die ander kant het die botsing die swak afsetmoontllikhede aan die Kaap so sterk onder die aandag van die bewindhebbers gebring dat in 1707 besluit is om nie meer emigrante kosteloos na die Kaap te vervoer nie. Dit het beteken dat die bevolkingsgroei aan die Kaap in die vervolg hoofsaaklik van eie aanwas afhanklik sou wees.
Nuwe mylpaal in gskiedenis
Teen 1707 het die Kaapkolonie dus ‘n belangrike mylpaal in sy ontwikkeling bereik. Die verversingspos wat Jan van Riebeeck hier agtergelaat het, het tot ‘n kolonie ontwikkel. Die heterogne volkselemente was vinnig op pad om tot ‘n nasie saam te smelt en die afsny van die bevolkingstoevoer uit Europa het hierdie proses vergemaklik. Die koloniste wat in die land gebore is en geen kulturele of ander kontak met die moederland gehad het nie, sou voortaan die draers van die kolonie se ontwikkeling wees. Afgesonder van die res van die wêreld sou hulle gou ‘n eg Afrikaanse karakter kry.
Ten slotte het die beperktheid van die mark vir landbouprodukte die ekonomiese ontwikkeling van die kolonie in ‘n rigting gestuur wat snelle uitbreiding na die binneland sou bevorder. Die veeboer tree meer en meer op die voorgrond en sou in die 18de eeu die draer van die beskawing van blankes na die binneland wees.
— — — oOo — — —