J.A. Wiid, M.A., D. Phill
Gedurende die kwarteeu wat die Jameson-inval (1896) voorafgegaan het, het ontwikkelinge en veranderinge in Suid-Afrika plaasgevind so diepgaande en ingrypend soos die land sedert die Groot Trek nie geken het nie. Die ontdekking van die Kimberleyse diamante en die Witwatersrandse goud, die paddastoelagtige verrysing van groot binnelandse stede en afsetgebiede in landstreke wat vroeër as waardeloos beskou was, die snelle ontwikkeling en uitbeiding van die verkeerswese, die binnestroming van vreemde kapitaal en vreemde mense van allerlei slag – dit alles het die historiese gebeurtenisse in Suid-Afrika in ‘n rasende ontwikkelingstempo laat plaasvind en aan ons vaderland ‘n nuwe aansien en wese gegee.
Dit lê voor die hand dat gebeurtenisse wat so diep ingegryp het in die staatkundige, ekonomiese en sosiale struktuur van Suid-Afrika, ook die stemmige lewenswyse in die Britse Kaapkolonie sou versteur. Hierdie kolonie het steeds die politieke lewe van ‘n onmondige gevoer en gevolglik, soos menige sleg versorgde en agterlike land, sy beste seuns as emigrante verloor.
Waarom hierdie staatkundige onmondigheid? Waarom het die Kaapkolonie, met sy gevestigde Europese bevolking wat reeds in die 17de eeu sy oorsprong het, eers in 1853 ‘n eie parlement en nie voor 1872 ‘n eie regering ontvang nie – terwyl tog die veel jeugdiger Australiese en Nieu-Seelandse kolonies heelwat vroeër die regte van selfbestuur geniet het?
Die Kaapse grondwet voor 1872
Die faktore wat sedert 1853 selfbestuur vir die Kaapkolonie teëgewerk of bevorder het, is in ‘n vorige hoofstuk behandel. Hierdie faktore, in die moederland sowel as in die Kolonie, kon selfbestuur wel vertraag, maar geensins keer nie. Die grondwet van 1853 het die kiem van selfvernietiging gedra en het genoeg bewys gelewer dat dit onbruikbaar was. Die herhaalde botsings en dooie punte tussen die verteenwoordigende wetgewende gesag en die benoemde uitvoerende gesag, veral gedurende die bewind van die outokratiese sir Philip Wodehouse, het getoon dat ‘n parlement sonder parlementêre regering onder die Britse stelsel ‘n konstitusionele onding is.
Vandaar dat selfs Downing Street omgeswaai en ‘n bondgenoot van John Molteno, die groot kampvegter vir selfbestuur in die Kaapkolonie, geword het. Nie langer die nie-blanke bevolkingsmeerderheid en die nie-Britse meerderheid onder die koloniale blankes nie, maar die koue logika van onweerlegbare feite sou die deurslag gee. As die Kaapse koloniste hulle nie deur regeerders van bo woulaat regeer nie, so het die Britse regering geredeneer, dan moes hulle toegelaat word om die verantwoordelikhede van selfbestuur te dra. Dit sou terselfdertyd ‘n verligting van die Imperiale laste beteken in ‘n tyd toe die ontdekking van diamante en die uitbreiding van die Kaapse grense nuwe sorge en nuwe verantwoordellikhede tot gevolg gehad het.
Ontwikkelling ná 1870
Teen 1870 het Suid-afrika in die algemeen, en die moederkolonie in die besonder, ‘n nuwe tyd van ontwikkeling tegemoet gegaan. Die langdurige depressie wat gedurende die bewind van Wodehouse so swaar op die algemene toestand van die Kolonie gedruk en in geen geringe mate die wrywing tussen regering en parlement vererger het nie, is gevolg deur jare van voorspoed.
Sir Henry Barkly, Wodehouse se opvolger, kon in Junie 1871 aan die Britse regering berig dat goeie seisoene, gepaard met die opbloei van die handel weens die ontdekking van diamante, die landsinkome meer as R200 000 bo die geraamde bedrag laat styg het en dat, i.p.v. ‘n verwagte tekort, ‘n oorskot van meer as R70 000 getoon kon word.
Dit was dus in gunstige omstandighede dat die nuwe goewerneur sy amp aanvaar het. Die Kolonie was ook gelukkig dat hy nou vir die eerste keer ‘n goewerneur gekry het wat die saak van verantwoordelike bestuur gesteun het. Uit die briefwisseling tussen Barkly en die Britse minister van kolonies, lord Kimberley, blyk duidelik dat die Imperiale regering sowel as sy verteenwoordiger in die Kolonie die saak van selfbestuur goedgesind was.
Toe die Parlement in April 1871 vergader, het Barkly in sy openingsrede veel aandag aan die toekomstige regeringsvorm geskenk. Die herhaalde botsings tussen sy voorganger en die Parlement was vir hom genoeg bewys dat die stelsel van verteenwoordigende regering, wat 17 jaar op die proef gestel was, “has been found … to work inharmoniously and unsatisfactorily, alike to the governing and to the governed”.
Aangesien die Kaapse parlement geweier het om groter magte aan die Kroon af te staan, soos wat Wodehouse verlang het, was daar volgens Barkly slegs een oplossing moontlik, en dit was “to carry the system of Parliamentary Government to its natural and legitimate consequences by rendering the Executive responsible, through the medium of its principal officers, to the Legislature, and thus enabling it, so long as these retain the confidence of that body, to shape the course of public business, and act promply and efficiently whenever the necessity arises, in anticipation of subsequent approval.”(1)
(1)Annexures to the Votes and Proceedings of the House of Assembly 1871, A-’72, aangehaal deur W.J. Blignaut in sy ongepubliseerde verhandeling: Die Invoer van Verantwoordelike Bestuur in die Kaap Kolonie 1872, p. 136
Besware teen selfbestuur
Hoewel Barkly namens homself en die Britse regering die saak van verantwoordelike bestuur so duidelik gestel en so sterk aangeprys het, was daar in die Kolonie nog altyd ongelowige Thomasse wat skepties teenoor selfbestuur gestaan het. Die vernaamste teenstand het dié keer van Barkly se Uitvoerende Raad gekom. In die gees van Wodehouse het manne soos Griffith, Southey, Davidson, Cole en Graham, almal lede van die Uitvoerende Raad, hul besware teen selfbestuur in twee skrifstukke wêreldkundig gemaak.
In hierdie stukke word die vroeëre besware teen selfbestuur slegs herhaal en beklemtoon en Barkly het tereg aan Kimberley die standpunt van hierdie teenstanders beskryf “as synde die mening van diegene van wie gesê mag word dat hulle die meerderheid van die ouer koloniste van Engelse herkoms verteenwoordig”.(2) Dit is moontlik dat ook oorweginge van persoonlike aard tot die houding van die Uitvoerende Raad bygedra het. Onder verantwoordelike bestuur sou hul onverteenwoordigende en derhalwe onverantwoordelike magsposisies tot die verlede behoort.
(2)G.H. 31/11, Nr. 53, Barkly aan Kimberley, 1.6.1871, aangehaal deur W.J./ Blignaut, op. cit., p. 138
Debat oor wysiging van grondwet
In die Wetgewende Vergadering het Molteno andermaal ‘n voorstel, gesekondeer deur Watermeyer, ingedien waarvolgens verantwoordelike bestuur aan die Kolonie toegestaan sou word. By die indiening van hierdie voorstel in Junie 1871 het Molteno ‘n toespraak gelewer waarin die voordele van selfbestuur en die nadele van die bestaande stelsel ‘n deeglike uiteensetting gevind het.
Om teenstanders van selfbestuur te beïnvloed, het Molteno se mosie ‘n voorstel behels waarvolgens ‘n kommissie aangestel sou word om in te gaan op die moontlikheid van ‘n verdeling van die Kolonie in drie of meer provinsie en daarna van ‘n federasie van hierdie provinsies. Met dieselfde doel is ‘n artikel in die wetsontwerp ingevoeg waarvolgens die goewerneur die mag sou hê om persone as ministers aan te stel wat nie lede van die Parlement was nie.
Ná lang en lewendige debatte is Molteno se voorstel, met enkele wysigings, soos die skrapping van die bepaling dat lede van die uitvoerende mag nie noodwendig lede van die wetgewende liggaam hoef te wees nie, deur die Wetgewende Vergadering aangeneem. Die wetsontwerp het die beginsel van verantwoordelike bestuur ten volle beliggaam. Groot was die teleurstelling onder die voorstanders van selfbestuur toe die wetsontwerp in die ander kamer, die Wetgewende Raad, met 12 teen nege stemme verwerp is. Volgens Barkly was dit nie die meriete van die saak nie, maar die ou stryd tussen die Oostelike en die Westelike Provinsie wat hier die deurslag gegee het.
Tot dusver was die stryd vir verantwoordelike bestuur hoofsaaklik binne die Parlement gevoer. Teen die jaar 1871 egter het ook die kiesers lewendig in die saak belang begin stel. Versoekskrifte voor en teen selfbestuur is oor die hele Kolonie geteken en na die Parlement gestuur. Die stygende belangstelling van die Koloniste was ‘n gunstige voorteken.
Parlement stem vir selfbestuur
In Augustus 1871 het Barkly die Parlement verdaag en in sy slotrede sy leedwese uitgespreek dat die wetsontwerp insake selfbestuur deur die Hoërhuis verwerp is. Nòg hy nòg Kimberley sou egter die saak hierby laat. Toe die Parlement die volgende jaar weer vergader, het die Goewerneur in opdrag van die Britse regering in sy openingsrede verklaar dat daar belangrike sake was waaroor die wetgewende liggame moes besluit, en die belangrikste hiervan was “that of an amendment in the defective and unsatisfactory relations established between the legislative and executive government under die Constitution Act of 1854”.(3)
(3)Annexures to the Votes and Proceedings of the House of Assembly, 1872, AI-’72, aangehaal deur W.J. Blignaut, op. cit., p. 154
Sir Henry Barkly was so oortuig van die noodsaaklikheid van selfbestuur, dat hy die wetsontwerp tot wysiging van die grondwet as ‘n regeringsmaatreël by die Wetgewende Vergadering ingedien het. Ná lang debatte oor die voor- en nadele van selfbestuur, het die Wetgewende Vergadering met 35 stemme teen 25 en die Wetgewende Raad met 11 stemme teen 10 die wetsontwerp aangeneem. Hoewel die teenstanders van verantwoordelike bestuur d.m.v. versoekskrifte aan die Imperiale regering nog ‘n vergeefse poging aangewend het om die wetsontwerp te laat skipbreuk ly, het dit in 1872, ná die goedkeuring van die Koningin, die grondwet van die Kaapkolonie geword.
Molteno Eerste Minister
Nadat die Goewerneur hom sonder sukses tot verskeie vooraanstaande persone soos Southey, Porter en Solomon gewend het om ‘n regering saam te stel, is die taak aan J.C. Molteno opgedra. Hierdie groot kampvegter vir selfbestuur het die eerste Premier van die Kaapkolonie geword. Sy kabinet was as volg saamgestel: Hy self was Koloniale Sekretaris; dr. White, Tesourier; J.H. de Villiers, Prokureur-Generaal; C.A.Smith, Kommissaris van Kroonlande en Publieke Werke; en Charles Brownlee, Sekretaris van Naturellesake. Die drie eersgenoemdes was al lank voorstanders van selfbestuur, Smith ‘n bekende teenstander daarvan en Brownlee, as siviele kommissaris van King William’s Town en kenner van die Bantoes in die Oostelike Provinsie, iemand wat voorheen nie aan die politiek deelgeneem het nie.
Die wet (Constitution Ordinance Amendment Act, 1874)(4) waardeur die beginsel van volle verantwoordelike bestuur praktiese toepassing in die Kaapkolonie gevind het, is van groot konstitusionele betekenis.
(4)G.W. Eybers: Select Constitutional Documents Illustrating South African History 1795-1910, pp. 63-64
In die eerste plaas het dit die posisie van die goewerneur grondig verander. Terwyl die verantwoordelikheid van die regering voorheen alleen in die goewerneur gesetel en hy alleen aan die Britse regering verantwoordelik was vir sy doen en late, moes hy voortaan sy plige uitvoer met die advies en goedkeuring van die kabinet ter plaatse. Daar het dus ‘n verskuiwing van verantwoordelikheid van die goewerneur na die ministerie plaasgevind. Ná 1872 sou die outokratiese optrede van ‘n goewerneur soos
Wodehouse anachronisties en onkonstitusioneel wees.
Die gondwet van 1872 het nie slegs die posisie van die goewerneur nie, maar veral die samestelling en die bevoegdhede van die Uitvoerende Raad wesenlik verander. Voortaan sou die ministers lede van die Parlement wees, en hulle sou alleen as ministers kan fungeer solank hulle die vertroue en steun van die meerderheid van die Parlement en veral van die Laerhuis sou geniet. Die uitvoerende mag word derhalwe regstreeks aan die wetgewende mag ondergeskik en verantwoordelik gemaak. Die ministerie word ‘n uitvoerende komitee van die parlement – m.a.w., ons kry nou parlementêre regering.
Gevolge van selfbestuur
Die invoer van selfbestuur het ook tot gevolg gehad dat die Kolonie vootaan self verantwoordelik sou wees vir die handhawing van die binnelandse rus en orde en vir die verdediging van sy grense teen invalle van Bantoes. Dit is presies wat die Imperiale regering met die vermindering van sy troepe en sy begunstiging van verantwoordelike bestuur verlang het. Deur die Sprigg-regering, wat 1878 die Molteno-regering opgevolg het, is die nodige wetgewing deurgevoer wat vir die binnelandse verdediging van die Kolonie voorsiening gemaak het.
Die totstandkoming van selfbestuur het ook ander belangrike gevolge gehad. Die onverkwiklike separatisme, wat soveel jare vertragend op die ontwikkeling van die Kolonie ingewerk het, is eindelilk, afgesien van enkele sporadiese stuiptrekkings later, deur die nuwe grondwet vernietig. Nie alleen het verteenwoordigers van die Oostelike en die Westelike Provinsie saam in dieselfde parlement en kabinet gedien nie, maar ook die herindeling van kiesafdelings in 1874 het ‘n end aan die onnatuurlike politieke verdeling van die Klonie in twee provinsies gemaak.
Die nuwe grondwet het nie net aan die afskeidingsbeweging ‘n einde gemaak nie, maar ook nadere aaneensluiting met ander Suid-Afrikaanse geweste in die hand gewerk. Die voorstanders van ‘ n Suid-Afrikaanse federasie het in die nuwe grondwet ‘n gunstige voorteken gesien. Hulle het met reg geoordeel dat die onafhanklike Boererepublieke makliker vir nadere aaneensluiting met ‘ n selfregerende Kaapkolonie as met ‘n Wodehouse-kolonie te vinde sou wees.
Voordat die saak van ‘n Suid-Afrikaanse gewestelike federasie behoorlik geleentheid gekry het om in Suid-Afrikaanse bodem wortel te skiet en van hier uit gepropageer te word, het lord Carnarvon, die Britse minister van kolonies en opvolger van lord Kimberley, die saak in die war gestuur. Dié Britse minister, vir wie koloniale federasie ‘n troetelkind was, het op voortvarende en onoordeelkundige wyse te werk gegaan en federasie aan Suid-Afrika opgedwing. Hy het nie begryp dat so iets nie in Brittanje nie, maar in Suid-Afrika self sy oorsprong moes hê; dat die nuwe grondwet aan die Kaapse regering ‘n mondigheid verleen het wat nie sommerso oor die hof gesien kon word nie; en dat die Republieke nog nie die Britse anneksasie van Basoetoland en die diamantvelde vergeet het nie.
In plaas van ‘n aaneensluiting van Suid-Afrikaanse geweste en die vermindering van Imperiale verantwoordelikhede in Suid-Afrika – die hoofoorsaak van Carnarvon se federasie-ywer – was die gevolge ‘n Shepstone-anneksasie van Transvaal, verbittering en versterkte teenstand teen federasie hier te lande en groter verantwoordelikhede en sorge vir Brittanje in Suid-Afrika.
Die Bantoevraagstuk
Die selfstandige standpunt wat die Kaapse regering insake Carnarvon se federasieplanne ingeneem en gehandhaaf het, het veel goeds vir die toekoms beloof. Die uitskakeling van die Imperiale faktor, wat deur die nuwe grondwet in die hand gewerk is, het aan die Kaapse regering geleentheid gegee om ‘n nasionale beleid m.b.t. Suid-Afrikaanse vraagstukke te volg. Die vernaamste van hierdie vraagstukke was sonder twyfel dié van die Bantoes. Hierdie vraagstuk, wat in die verlede die oorsaak van soveel wrywing tussen die Imperiale en die Koloniale standpunt was, het nou ‘n aangeleentheid van die Kaapse regering geword. Dit was hoog tyd, want die Bantoevraagstuk het reeds lank opgehou om ‘n grensvraagstuk te wees.
Die ontdekking van die Kimberleyse diamantvelde en die aanlê van spoorlyne tussen hawestede en die nuwe eldorado, het ongeskoolde Bantoe-arbeid meer as ooit tevore in die ekonomiese huishouding van die Kolonie ingeskakel. Tienduisende Bantoes, losgeruk uit hul stam- en gesinsverband, en op die diamantvelde in die geleentheid gestel om vuurwlapens aan te skaf, het meer as ‘n ekonomiese probleem geskep. Dit het die Kolonie ondervind toe hy die Basoeto’s in 1878 wou ontwapen. Basoetoland het in opstand gekom, met die gevolg dat die Switserland van Suid-Afrika ‘n Britse protektoraat geword het.
Moeilikhede met die Transkei
Die twee ander Bantoegebiede waarmee die Kaapkolonie te doen gehad het, was Brits-Kaffrarië en die Transkei. Eersgenoemde was binne die grense van die Kolonie. Die Kaapse regering is met ‘n erfenis uit die Imperiale tydperk belas. Vir die Transkeise gebiede, wat teen 1894 volledig by die Kolonie ingelyf is, het die nuwe Kaapse grondwet groot betekenis gehad.
Onder leiding van Charles Brownlee, belas met Bantoesake in die eerste Kaapse kabinet, is ‘n verligte beleid van differensiasie ingevoer, wat later elders in Suid-Afrika navolging gevind het. In dié verband kan slegs beklemtoon word dat die nuwe grondwet die Kolonie in die geleentheid gestel het om, vry van Imperiale inmenging, ‘n eie kleurbeleid in belang van blankes sowel as van nie-blankes uit te werk en toe te pas. Dat ‘n dergelike beleid nie konsekwent toegepas is nie, moet aan ander faktore toegeskryf word.
Finansiële beleid
Die nuwe grondwet was veral van groot betekenis vir die finansiële beleid van die Kolonie. Die wantroue en gevolglike wrywing tussen wetgewende en uitvoerende mag in die tyd van Wodehouse, het plek gemaak vir vertroue en harmonieuse samewerking – vandaar dat parlement en kabinet onverdeelde aandag kon wy aan die veranderde ekonomiese toestande wat op die ontdekking van diamante gevolg het. Dit geld veral die verkeerswese.
Waar partikuliere inisiatief vroeër weens gebrek aan kapitaal gesukkel het om ‘n kort spoorlyn te bou en in stand te hou, het die regering nou die saak van spoorverbindinge tussen die hawestede en die diamantvelde ter hand geneem. Die gevolg was dat die verkeerswese – d.w.s. spoorweë en telegraaflyne – in die jare ná 1872 geweldig uitgebrei het. Ook hier het die uitskakeling van die Imperiale faktor, in die persone van onverantwoordelike amptenare, ‘n nasionale beleid in die hand gewerk.
Die partypolitiek
Die nuwe grondwet het egter nog iets veronderstel. Dit was politieke partye en partyregerings, want verantwoordelike bestuur het die Britse stelsel van parlementêre regering na Suid-afrika gebring. Een van die kenmerkendste eienskappe van hierdie stelsel is die vooraanstaande rol wat die met mekaar botsende en strydende politieke partye speel. Daarsonder is die Britse stelsel van parlementêre regering vandag nog ondenkbaar en onverklaarbaar. Geen wonder dus dat ook in die Kaapkolonie politieke partye en die partypolitiek ná 1872 hul verskyning gemaak en hul stempel op die ontwikkeling van die staatkundige organisasie baie duidelik afgedruk het nie.
Politieke agterstand van die Afrikaner
Hoewel daar reeds voor hierdie tyd politieke groeperinge in die Kolonie was, soos o.m. uit die stryd om verantwoordelike bestuur geblyk het, kon daar van georganiseerde politieke partye in die huidige sin nog geen sprake wees nie. Daarvoor was die onmondigheid van die konstitusionele status van die Kolonie en die politieke onrypheid van die Afrikaanssprekende meerderheid veels te groot. Hiervoor dra Brittanje grotendeels die skuld.
Reeds kort ná die besetting van die Kaap in 1806 is met ‘n beleid van stelselmatige verengelsing begin. Op die gebied van taal, kerk en skool is die Afrikaners van hul nasionaliteitsregte beroof. Regering, die regspleging en die ekonomiese lewe is verengels. Die gevolg was dat die Afrikaner langsamerhand ‘n vreemdeling in sy eie land geword en mettertyd onverskillig teenoor politieke aangeleenthede begin staan het. Toe die Kolonie eindelik in 1853 ‘n eie parlement kry, het dit die plattelandse distrikte moeilik geval om parlementêre kandidate te vind wat die taal van die praathuis – d.w.s. die Engelse taal – magtig was. Toe die kiesafdeling Albert ‘n sekere Ackerman, wat geen Engels kon spreek nie, na die Parlement stuur en ‘n petisie indien met die versoek dat aan hom toegelaat word om sy eie taal te gebruik, is die versoek geweier. Die Londense Times het selfs ‘n artikel gepubliseer waarin “die lae planne van diegene wat dit gewaag het om so ‘n voorstel te steun”, sterk veroordeel.(5)
(5)J.H. Hofmeyr: Het Leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan), p. 159
Volgens wyle J.H. Hofmeyr, die biograaf van “Onze Jan”, het dit alles tot gevolg gehad dat “binnen zeer korte tijd, de parlementsleden verschaft werden door de Kaapstad, Grahamstad en Port Elizabeth. Het was de gewoonte, dat een handelaar in de kiesafdeling een rekwisitie onder zijn buren rondzond, gericht aan een of ander ‘schijnend licht’ onder de rechtsgeleerden of kooplieden in een van deze grotere steden woonachtig, en de boeren, weinig daarvan afwetend en zich met de politiek van die plaats waar hij niet woonde bemoeide, zegevierend gekozen”.(6)
(6)Ibid., p. 160
In hierdie omstandighede het die Afrikaanssprekendes, wat destyds sowat driekwart van die blanke bevolking van die Kolonie uitgemaak het, voor die jare sewentig slegs sowat een-derde van die parlementslede verskaf.
Die beleid van verengelsing wat die Britse owerheid in Suid-Afrika gevolg het, het dus daarin geslaag om die belangstelling van die Kaapse Afrikanerdom in landsake dood te maak. Die Afrikanerdom self egter kon nie op hierdie manier doodgemaak word nie. Die biograaf van “Onze Jan” vergelyk hierdie taaiheid van die Afrikanerdom, veral wat die handhawing van sy taal betref, met die Bybelse braambos wat gebrand het sonder om verteer te word.
Hierdie lewenskrag, net soos met die Groot Trek, het hom weer in die jare sewentig laat geld. Die langdurige stryd met Wodehouse, die uiteindelike oorwinning by die totstandkokming van verantwoordelike bestuur, waardeur die hinderlike Imperiale faktor in sekere mate gekortwiek is, die onbillike Britse inlywing van die diamantvelde en die feit dat in die noorde onafhanklike Boere-republieke bestaan het – dit alles het die Kaapse Afrikanerdom tot nasionale selfbewussyn geprikkel. Afrikaners in die Kolonie het destyds ook oor eie nuusblaaie soos De Zuid-Afrikaan en Het Vollksblad beskik, waardeur nasionale selfbewussyn en belangstelling in die landsake, wat vroeër so dood was, kragdadig gewek en aangewakker is.
Genootskap van Regte Afrikaners
In die atmosfeer van hierdie nasionale ontwaking het in 1875 ‘n vergadering van Afrikaanssprekendes in die Paarl plaasgevind waar “Di Genootskap van Regte Afrikaners” gestig is, met die doelstelling “om te staan vir ons taal, ons nasi en ons land”. Dit was hierdie genootskap wat hom beywer het vir die erkenning van die Afrikaanse taal en die eerste koerant in Afrikaans, Di Patriot, in 1876 uitgegee het. Dit was hierdie koerant wat in 1879 die stigting van ‘n Afrikanerorganisasie of -bond op politieke gebied bepleit het.
Die Boereverenigings
Voordat ‘n dergelike politieke “bond” tot stand gekom ht, is reeds in 1873 ‘n begin gemaak met die stigting van Boereverenigings deur Afrikaanssprekende boere in die Oostelike sowel as die Westelike Provinsie. Hoewel die ontstaan van hierdie verenigings in suiwer ekonomiese beweegredes – die beskerming en bevordering van boerderybelange – gelê het, openbaar hulle die eerste tekens van ‘n saamhorigheidsgevoel en organisasiedrang by die Afrikaanssprekende volksdeel. Ook is dit nie moontlik om suiwer grense tussen ekonomiese en politieke aangeleenthede te trek nie.
Dit was ook met die boereverenigings die geval en dit is opmerkllik dat manne soos J.H. Hofmeyr (Westelike Provinsie) em D.P. van den Heever (Oostelike Provinsie), wat by die oprigting daarvan ‘n vooraanstaande rol gespeel het, later die leiers van die politieke organisasie van die Kaaplandse Afrikanerdom geword het.
Die bedrywighede van die Boereverenigings het hul deel vroeg reeds uitgestrek tot aangeleenthede van nie-ekonomiese aard, soos ruimer staatsteun vir die onderwys, federasie van Suid-Afrikaanse geweste, skeiding tussen die Westelike en die Oostelike Provinsie, erkenning van Hollands as landtaal in die Parlement, benoeming van kandidate vir die Parlement, en so meer.
Hierdie Boereverenigings het, wat o rganisasie en beleid betref, nie by regering en parlement die nodige gewig gedra om aan hul doel te beantwoord nie. Hulle is dan ook net van historiese betekenis, omdat hulle die eerste organisasievorme was deur middel waarvan die Kaaplandse Afrikanerdom hom op gebiede wou laat geld waar hy tot nog toe geen seggenskap geniet het nie.
Dié onafhanklike Boereverenigings was in elk geval nie in staat om te verhinder dat die Sprigg-regering nuwe laste op die boeregemeenskap gelê het nie. Toe ‘n wetsontwerp wat ‘n belasting van 4-1/2c per liter op Kaapse brandewyn in die vooruitsig gestel het, in die Parlement voorgestel is, het daar dadelik proteste van alle kante ingestroom. Die Hollandse pers het sterk geprotesteer en op dorpe soos Stellenbosch, die Paarl en Wellington is protesvergaderings van wynboere gehou.
Toe die wetsontwerp tog aangeneem is, het Di Patriot aan die hand gegee “deat die boere almal soos een man na die Goewerneur moes opgaan en hom versoek om die ontwerp nie te bekragtig nie”. Toe dit alles niks gehelp het nie, het die nuusblad in groot, vet letters ‘n oproep aan die boere geplaas om eenparig te weier om brandewyn te stook of te verkoop en geen kandidaat te verkies wat nie beloof om teen die Aksynswet te stem nie.
Die Boerebeskermingsvereniging
De Zuid-Afrikaan was van mening dat die voorstelle van Di Patriot onuitvoerbaar was, omdat dit te swaar finansiële laste op die boere sou lê. Hy het aan die hand gedoen dat ‘n vereniging, na die voorbeeld van die “Anti-Corn Law League” in Engeland, opgerig word met die doelstelling om invloed by verkiesings uit te oefen. Hierdie voorstel van De Zuid-Afrikaan het algemene byval gevind, en kort daarna is die “Zuidafrikaanse boeren Beschermings Vereniging” gestig, wat sou dien as sentrale organisasie vir die beskerming van alle boerderybelange.
Hoewel die Boerebeskermingsvereniging hom in die volgende parlementêre verkiesings wel deeglik laat geld het, het gebeurtenisse in die noorde, soos die Vryheidsoorlog van die Transvalers, die belangstelling van die Kaaplandse Afrikaners in ‘n ander rigting gestuur. De Zuid-Afrikaan het hierdie gebrek aan belangstelling in die Vereniging toegeskryf aan “een natuurlijke staatkundige vadzigheid, het Afrikaansch karakter eigen, die wel bij wijlen kan worden geëlectriseerd tot een soort van zenuwachtige bedrijvigheid, dog enkel om onmiddellijk daarop weder in een doodschen slaap te dommelen. Hef by een accijns-belasting, en men loopt te hoop naar het Parlement, men houdt vergaderingen in massa, men roep, ‘Weg met Sprigg! Weg met Upington!’ … Maar een paar jaren verloopen, die schok trilt niet meer door de leden, en men aanschouwt … een onverschillligheid even magteloos als de zenuwaanval van zoo kort geleden weldadig was.”(7)
(7)De Zuid-Afrikaan, 23.11.1880, aangehaal dleur G.J. Smit in ‘n ongepubliseerde verhandeling: Die Afrikaner Bond in sy wording in die Kaapkolonie, p. 15
Die Afrikanerbond
Hoewel herdie oordeel van De Zuid-Afrikaan oor die “natuurlike straatkundige vadsigheid” van die Afrikanerdom ‘n belangrike kern van waarheid bevat en histories ook verklaarbaar is, het die opsienbarende gebeurtenisse wat deur die ontdekking van diamante ingelui is, die Kaaplandse Afikaners voor probleme gestel wat organisasies soos Boereverenigings en die Boerebeskermingsvereniging nie in staat was om op te los nie.
Reeds in 1879 het ds. S.J. du Toit, die geniale redakteur van Di Patriot, die stigting van ‘n “Afrikaner Bond” op politieke gebied bepleit “waarin al wat Afrikaner is sig kan thuis voel en samewerk tot di heil van ‘n Verenigde Suid-Afrika, waar geen nasionaliteit ons van mekaar kan skei, maar waarin almal wat Afrika erken as hulle vaderland samewoon en werk as broeders van een huis, al is hulle van engelse, hollandse, franse of duitse afkoms, met uitsluiting alleen van di wat van Engeland praat as hulle home of van Holland en Duitsland as hulle vaderland, wat hier net hulle bveurs wil vul met Afrikaanse welvaart, om dit dan in Europa te gaan verteer”.(8)
Di Patriot, 20.1.1879, aangehaal deur A.H. de Swardt in ‘n ongepubliseerde verhandeling: Rhodes en die Afrikaner Bond, p. 6
Ook J.H. Hofmeyr (Onze Jan), wat so ‘n vername aandeel gehad het in die oprigting en voortbestaan van die Boereverenigings, het in die kwyende belangstelling vir die Suid-Afrikaanse Boerebeskermingsvereniging die bewys gesien dat die Kaaplandse Afrikanerdom ‘n ander organisasie nodig gehad het, en dat die tydgees ‘n ander organisasie noodsaaklik gemaak het. Reeds in 1879 het hy daarop aangedring omn die artikel in die konstitusie van die vereniging waardeur die pollitiek uitgesluit is, te skrap, maar meer as ‘n vrome wens het dit voorlopig nie geword nie.
Eerste Vryheidsoorlog se invloed
Intussen het die tydsgees die stigting van ‘ n politieke organisasie onder die Kaaplandse Afrikaners in die hand gwerk. Die seëvierende Vryheidsoorlog in Transvaal het die n asionale gevoel onder Afrikaners van Tafelberg tot aan die Limpopo geweldig laat opvlam. Vir die Afrikanerbond, wat ds. S.J. du Toit in sy blad voorgestel en gepropageer het, was die geesdrif baie groot. Oral in die Kolonie het mense daartoe oorgegaan om Bondstakke te stig, selfs nog voordat ‘n behoorlike stigtingskongres plaasgevind het. ‘n Vurige republikanisme het hom van die stigter van die nuwe bond meester gemaak. Di Patriot het begin skryf oor afskeiding van die Kolonie van die Britse Ryk en het die spot gedryf met versigtige Bondsmanne wat nie bereid was om so ver te gaan nie.
Tot hierdie vesigtige maar nugtere mense het Hofmeyr behoort. Vir hom “was daar geen spreke, althans niet voor de eerste 50 of 100 jaar, om onder de Engelse vlag uit te gaan”. As John Henry Hofmeyr het hy in die verengelste atmosfeer van Kaapstad opgegroi. Hy het afskeiding van die Ryk dus nie as “praktiese politiek” beskou nie, hoewel hy geredelik toegegee het “wij konden niet altoos lopen aan de leiband van Engeland”.(9)
(9)J.H. Hofmeyr: Het Levn van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan), p. 227
Nuwe Afrikanerbond
Innerlike verdeeldheid het dus die Kaaplandse Afrikanerdom bedreig en Hofmeyr het ingesien dat ‘n dergelike ramp alleen voorkom kon word deur die Bond en die Beskermingsvereniging te laat saamsmelt en dan die regte leiding daaraan te gee. Op kongresse, bestaande uit verteenwoordigers van die twee liggame, wat onderskeidelik op Cradock in 1882 en richmond in 1883 gehou is, het die vereniging van die twee organisasies in die Afrikanerbond ‘n voldonge feit geword. Op die kongres in Richmond was daar ook afgevaardigdes uit die Vrystaat en Tansvaal, waar reeds baie takke van die Bond bedstaan het.
Die konstitusie van die nuwe organisasie het uit twee dele bestaan, nl. ‘n algemene konstitusie vir die hele Suid-Afrika, en ‘ n “provinsiale konstitusie” vir die Kaapkolonie. Dat die Bond aan Suid-Afrika en nie slegs aan die Kolonie gedink het, blyk oor uit sy doelstelling: “Om een ware patriotisme te stichten als voorbereiding tot zyn einddoel, een Verenigd Zuid-Afrika, en het geloof dat dit einddoel bereikt kan worden door Afrikaners aan te moedigen op politiek, zowel as maatschappelik gebied, op die voorgrond te treden.”(10)
(10)Konstitutie Afr. Bond en Boeren Beschermings Vereniging, aangehaal deur A.H. de Swardt, op. cit., pp,. 5-12
Die voorstel van D.F. du Toit, ‘n broer van ds. S.J. du Toit, dat die Bond se strewe sou wees na ‘n verenigde Suid-Afrika onder eie vlag, is deur die kongres, onder invloed van Hofmeyr, wel verwerp. Tog kon die voorsteller later die volgende getuig: “Al had men zich huiverig betoond de woorden ‘eigen vlag’ in de constitusie op te nemen als horende bij het einddoel der beweging, of zoals men gezegd had de eindbestemming van Zuid-Afrika, toch wist spreker wel dat verreweg de meesten die woorden op hun harten droegen.”(11)
(11)De Zuid-Afrikaan, 31.5.1883, aangehaal deur A.H. de Swardt, op. cit., p. 11
Die Kaaplandse Afrikanerdom was nou eindelik saamgesnoer in een groot politieke organisasie, met takke oor die hele Suid-Afrika versprei. Die saamhorigheidsgevoel wat hom in die jare tagtig van die Kaap tot aan die Limpopo van die Afrikanerdom meester gemaak het, die bestaan van twee onafhanklike Boere-republieke in die noorde, die nasionale bewuswording van die Kaaplandse Afrikaners in die totstandkoming van die Bond o.l.v. Jan Hendrik Hofmeyr – dit alles is feite wat Britse imperialiste binne en buite Suid-Afrika tot nadenke gestem het.
So was dit dat, ongeveer gelyktydig met die stigting van die Afrikanerbond, ‘n man op die Suid-Afrikaanse politieke toneel verskyn het wat alles sou doen om Suid-Afrika en die Afrikanerdom vir die bevordering van die Britse Ryksbelange te win. Hierdie man was Cecil Rhodes.
Cecil John Rhodes
Cecil John Rhodes, in 1853 as seun van ‘n Engelse predikant in Engeland gebore is, het op 16-jarige leeftyd om gesondheidsredes na Suid-Afrika verhuis, om hom saam met ‘n broer op die kantoenbou in Natal toe te lê. Met hierdie onderneming het dit nie goed gegaan nie en so het Rhodes Natal verlaat om in die begin van die jare sewentig, saam met duisende ander fortuinsoekers, sy geluk op die pas ontdekte diamantvelde, waar die stad Kimberley later ontstaan het, te gaan soek.
Hier het sy merkwaardige organisasievernuf en finansiële genie tot ontplooiing gekom. Hy was een van die eerstes wat vooruitgesien het dat die walle tussen die kleims sou instort; dat die delwerye tot myne sou ontwikkel; en dat die kapitaalkragtigste die grootste voordele uit die diamantontdekkings sou haal. Vandaar dat hy ‘n sterk maatskappy gestig en die aandele opgekoop het waar kleims ingestort het. So het hy die eintlike besitter van die De Beers-myn geword, waar die produksiekoste d.m.v. moderne masjinerie verminder en verbasende skatte uitgehaal kon word.
Stigting van De Beers
Rhodes was binne enkele jare reeds ‘n skatryk man, maar dit het hom geensins bevredig nie. Met Barney Barnato, wat beheer oor die geweldige ryk Kimberley-myn gehad het, is ‘n ooreenkoms getref en die samesmelting van diamantmaatskappye ‘n stap verder gevoer totdat Rhodes, die “Great Amalgamator”, in 1888 daarin geslaag het om die “De Beers Consolidated Mines, Ltd.” Tot stand te bring. D.m.v. hierdie magtige maatskappy, wat die hele diamanthandel binne en buite Suid-Afrika sou beheers, het Rhodes die rykste en magtigste man in die land geword. Ná die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde het Rhodes ook hier sy geweldige geldmag vergroot deur die stigting van ‘n goudmynmaatskappy, “The Consolidated Goldfields of South Africa”.
Rhodes se ideale
Rhodes het hom geensins net besig gehou met die inpalming van rykdomme nie. Rykdom was vir hom ‘n middel tot ‘n doel, nooit ‘n doel op sigself nie. Nie rykdom as sodanig nie, maar die onbegrensde uitbreiding van die Britse Ryk was sy doel. Om hierdie doel te bereik, het hy sy gebrekkige skoolopleiding aangevul deur studie aan die Universiteit van Oxford, in 1881 lid van die Kaapse Parlement as verteenwoordiger van Barkly-Wes geword en ‘n houvas op die dagbladpers verkry, sodat sy standpunt en doelwit die nodige openbaarheid kon geniet en sy ideë versprei kon word.
As ‘n man van genie en visie het Rhodes binne ‘n kokrt tyd daarin geslaag om hier te lande sowel as in Brittanje magtige politieke en finansiële konneksies op te bou. Hy het die verpersoonliking van die Britse imperialisme en die groot kapitaal in Suid-Afrika geword, al het die wêreld en veral die Afrikanerdom hom destyds nog nie in hierdie lig gesien nie.
Rhodes en die Bond
Rhodes was skerpsinnig genoeg om in tge sien dat die Kaaplandse Afrikanerdom en sy politieke organisasie, die Afrikanerbond, ‘n faktor was waarmee rekening gehou moes word, indien hy sy planne wou deurvoer. Vandaar dat hy groot waarde aan samewerking met Jan Hendrik Hofmeyr, leier van die Bond, geheg het. ‘n Dergelike samewerking was ook glad nie so moeilik nie. Rhodes was in sy omgang met Afrikaners nie die hooghartige Brit wat alles op “koloniaals” neersien nie. Toe die herstel van die regte van die Hollandse taal in die Kaapse parlement voorgestel is, was dit Rhodes wat die voorstel gesteun het.
Hy het weliswaar nie gerus gevoel oor die republikeinse strewe van sommige Afrikanerleiers nie, maar toe ds. S.J. du Toit, die vernaamste voorstander van ‘n republiek, die Kolonie verlaat om Direkteur van Onderwys in Transvaal te word en Hofmeyr, nou die onbetwiste politieke leier van die Kaaplandse Afrikaners, hom teen hierdie republikeinse strewe uitgespreek het, was ook hierdie ernstige struikelblok in die weg van samewerking tussen Hofmeyr en Rhodes verwyder.
Strewe van J.H,. Hofmeyr
Hoewel Hofmeyr die republikeinse strewe in die Kolonie op hierdie tydstip nie as praktiese politiek beskou het nie, was hy tog daarvan oortuig dat die regsteekse bemoeiing van Brittanje in Suid-Afrikaanse aangeleenthede die vernaamste oorsaak van die veelvuldige botsings tussen parlement en Regering in die Kaapkolonie en tussen Brittanje en die Boere-republieke uitgemaak het. Die Britse inlywing van Basoetoland en die diamantevelde het hom in hierdie oortuiging gesterk.
Vir hom was dit duidelik dat, indien parlementêre regering vir die Kaapkolonie enige betekenis sou hê, die Kaapse parlement nie deur Downingstraat of deur Imperiale amptenare voor voldonge feite geplaas moes word nie. Vir hom het verantwoordelike bestuur weinig of geen betekenis gehad as die handeling van die Kaapse parlement bepaal word deur Imperiale faktore waaroor die plaaslike wetgewing absoluut geen beheer gehad het en waarvoor hy bygevolg geen verantwoordelikheid kon dra nie.
Vandaar dat Hofmeyr die Imperiale faktor uit die politieke lewe van Kaapland wou uitskakel. Hiermee het die groot meerderheid van Engelssprekendes in die Kolonie nie akkoord gegaan nie. By hulle het die oorsese “Home” nog altyd die swaarste geweeg. Vir hulle het daar geen botsende belang tussen Brittanje en die Kolonie bestaan wat nie in ooreenstemming met die Imperiale standpunt aangesuiwer kon word nie. Rhodes, daarenteen, het ‘n ander taal gepraat. Soos Hofmeyr het ook hy voor die dag gekom met die leuse: Ons moet die Imperiale faktor in Suid-Afrika uitskakel. “Onze Jan” het hierdie woorde van Rhodes vir goeie munt aangeneem, en so is samewerking tussen die twee manne verder in die hand gewerk.
Betsjoeanaland
In die vraagstuk van Betsjoeanaland, wat in die begin van die jare tagtig die oorsaak van groot opgewondenheid was, is hierdie samewerking op die proef gestel. Amptelik het nòg die Britse nòg die Transvaalsse regering met die gebeurtenisse in Betsjoeanaland iets te doen gehad. Britse imperialiste in Suid-Afrika het egter ongerus begin raak. Die handelsweg of sendelingpad na die Zambezi-bekken het deur hierdie gebied geloop. Weswaartse uitbreiding van die Boere sou hierdie “Suez-kanaal” na die noorde, soos Rhodes dit genoem het, kan afsny en ‘n uitbreidingspolitiek vir die Kaapkolonie moeilik maak.
Dit was veral Rhodes wat die potensiële waarde van Betsjoeanaland begryp het. Reeds in 1883 het hy in die Parlement daarop aangedring dat die Kaapse regering moes ingryp. Dit was by hierdie geleentheid dat hy die historiese woorde gebruik het: “Ek sien in Betsjoeanaland die Suez-kanaal van die handel van die Kaapkolonie, die sleutel van sy pad na die binneland”
Die Kaapse parlement, op grond van sy ondervinding in buitegrense-aangeleenthede soos die inlywing van Brits-Kaffrarië, Basoetoland en die diamantvelde, was nie geesdriftig nie. Daarop het die Imperiale regering sy Hoë Kommissaris, sir Hercules Robinson, opdrag gegee om ‘n resident-kommissaris aan te stel, wat die Britse gesag in Betsjoeanaland sou verteenwoordig. Die nuwe amptenaar was die sendeling Mackenzie, ‘n vurige Imperialis, wat spoedig ‘ n hopelose mislukking van die saak gemaak het. Mackenzie is teruggeroep, en Rhodes, wat hom heftig aangval en die strydkreet: “Die Imperiale faktor moet uitgeskakel word,” weer eens aangehef het, het hom opgevolg.
Hy was nou in die gunstige geleentheid om sy beleid: “Geen duim grond vir Transvaal nie,” uit te voer. Toe die voortvarende ds. S.J. du Toit as plaasvervanger vir genl. Piet Joubert op versoek van die Goseniete ‘n soortgelyke stommiteit as Mackenzie begaan het deur die Vierkleur in hulle republiek te hys, het in Rhodes se handel gespeel. Hoewel pres. Krugr, op grond van die Londense Konvensie, Du Toit se anneksasie gerepudieer het, het Rhodes en die Hoë Kommissaris (Robinson) gevoel dat die Britse prestige in Betsjoeanaland deur kragtige maatreëls verseker moes word.
Die verskyning van die Duitsers in Suidwes-Afrika het vir Rhodes sorge gebaar. Die gedagte dat boere en Duitsers miskien oor Betsjoeanaland mekaar die hand kon reik, was vir hom verontrustend. Vandaar dat juis die man wat die Imperiale faktor wou uitskakel, die hulp van die Downingstraat ingeroep het om die Britse aansien te handhaaf. Teen die sin van die Kaapse ministerie en die Afikanerbond het Rhodes en Robinson op Imperiale intervensie aangedring. Aan hierdie oproep is gehoor gegee, en die gevolg was ‘n militêre vertoning onder sir Charles Warren, wat sonder verset die hele Betsjoeanaland by die Britse ryk ingelyf, die Suez-kanaal na die noorde” oopgehou en die natuurlike weswaartse uitbreiding van Transvaal in die kiem gesmoor het.
Tog het Rhodes deurtentyd só opgetree dat die Afrikaners van die Bond hom nog altyd as hul vriend beskou het. So het hy die vyandige optrede van Warren en Mackenzie tenoor Afrikaners in Betsjoeanaland – die inhegtenisneming van G.J. van Niekerk, administrateur van Stellaland, en die verbeurdverklalring van die Stellalanders se grondregte – heftig gekritiseer. Sy kritiek het selfs tot die Kaapse regering gestrek, sodat die Eerste Minister, sir Thomas Upington, hom in die Wetgewende Vergadering daaraan moes herinner dat hulle twee dit volkome eens was oor die saak, behalwe dat Rhodes Imperiale magsvertoning aanbeveel het, terwyl hy (Upington) altyd van mening was dat die hele moeilikheid van Betsjoeanaland uit die wêreld gemaak kon word sonder dat dit vir een enkele soldaat nodig was om Engeland te verlaat.
Rhodes het in die geval van Betsjoeanaland, soos by ander geleenthede, teenoor die Bond die argument gebruik dat die Kaapkolonie die “oorheersende staat” in Suid-Afrika was, en dat die politieke leiding in Suid-Afrikaanse aangeleenthede van die Kolonie behoort uit te gaan. Voorts het hy teenoor die Bond die moontlikheid beklemtoon dat die binneland in Transvaalse besit deur hoë invoerregte vir die Kaapkolonie gesluit sou wees. Eindelik het hy aan die bondslede die ideaal van ‘n verenigde Suid-Afrika voogehou – ‘n ideaal waarvan die verwesenliking dan deur Transvaalse isolement in gevaar gestel sou wees.
Rhodes en die Kaapse Afrikaners
Met hierdie en dergelike argumente het Rhodes, o ndanks Betsjoeanaland, daarin geslaag om die gwestelike patriotisme van die Kaaplandse Afrikanerdom te streel en meer en meer die vertoue van Jan Hofmeyr en die Bond te win. En dit het nie by argumente alleen gebly nie: ook met die daad het hy hom aan die kant van die Bond geskaar. Toe daar in die sitting van 1886 ‘n versoekskrif teen Sondagtreine ingedien is, het hy dit saam met Bondslede gesteun. In dieselfde sitting het hy ‘n voorstel van Hofmeyr t.g.v. godsdiensonderwys gedurende die gewone skoolure gesteun, omdat dit dan sou dien om “rassegeskille uit te wis”.
Dit was egter veral sy steun aan die opheffing van die aksynsbelasting wat hom in hierdie tyd prominent onder die aandag van die Bond gebring het. By die feesviering in die Paarl wat op die opheffing van die gehate aksyns gevolg het, was Rhodes aanwesig. In ‘n redevoering by hierdie geleentheid het hy so reg na die smaak van die Afrikaners gepraat. Nie alleen het hy die opheffing van die aksyns verdedig nie, m aar hy het ook onderwerpe soos die verhoging van kiesvereistes, beskermende invoerregte en die verhouding tussen die Kolonie en die “suster-republieke” aangeroer en hom met die standpunt van die Bond vereenselwig. N.a.v. hierdie soetsappige redevoering het prof. Jan Lion Cachet destyds die volgende geskryf: “Mijn ou schoolmeester heeft altijd aan mij gezegd een mens moet met heuning vliegen vangen en niet met azijn.”
Die nie-blanke kiesreg
Rhodes se verwysing in sy Paarlse toespraak na die verhoging van die kiesavereistes staan i.v.m. die beleid teenoor nie-blankes in die Kolonie. Dit is bekend dat die standpunt van Afrkaans- en Engelssprekendes teenoor nie-blankes in baie opsigte verskil het. Hierdie uiteenlopende standpunte het t.o.v. die kiesreg tot uiting gekom. ‘n Groot aantal Kleurlinge en Bantoes het by die totstandkoming van die Kaapse parlement die stemreg gekry, en al gou is van Afrkaanssprekende kant beswaar hierteen gemaak.
Reeds met die ontstaan van die Afrikanerbond het stemme opgegaan om die verkryging van die stemreg moeiliker te maak en ‘n besluit in dié rigting is ook weer op die Bondskongres van 1886 geneem. Die Sprigg-regering, wat grootliks van die Bond se stem afhanklik was, het in die jare wetgewing ingedien met die doel om die kiesvereistes te verhoog.
Rhodes, wat reeds in die sitting van 1886 ‘n voorstel ingedien het dat die Bantoes ‘n hutbelasting behoort te betaal, het hom nou in die debat oor die verhoging van kiesvereistes volkome aan die kant van die Bond geskaar. Hy het hom vereenselwig met die standpunt van die Afrikaner, waarvolgens die Bantoe die onmondige en die blanke sy aangewese voog is.
In ‘n merkwaardige toespraak het hy sy steun aan die wetsontwerp gemotiveer. Sy toespraak het so ‘n indruk oop die bond gemaak dat Rhodes voortaan beskou is as die man wat die netelige vraagstuk van Bantoekiesreg sou oplos. In parlementêre en openbare toesprake van hierdie tyd het Rhodes hom in so ‘n mate met die Afrikanerstandpunt vereenselwig, dat hy gaandeweg die bynaam “die jong burger” gekry het.
Samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr
Die samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr het ook in die algemene verkiesing van 1888 tot uiting gekom. By hierdie geleentheid het Rhodes dit reggekry dat verskeie van sy Engelse vriende setels met die steun van die Bond gewen en dat Engelse kiesers vir sommige van Hofmeyr se kandidate gestem het.(12)
(12)B. Willliams: Cecil Rhodes, p. 185
Hy het selfs ‘n premierskap onder Jan Hofmeyr voorgestaan en het die stigting van ‘n nuwe party teen die Bond, waarvan daar destyds sprake was, teengewerk. Dit was egter nie Hofmeyr wat Eerste Minister van die Kaapkolonie sou word nie. Toe die Sprigg-regering in 1890, a.g.v. sy spoorweguitbreidingsplan ten bedrae van R20 miljoen, ‘n nederlaag in die Parlement gely het en moes bedank, het Rhodes Eeste Minister geword. Vir Hofmeyr, die maker en breker van regerings, het die premierskap geen aantrekkingskrag gehad nie.
In die dae toe die partytug nog nie was wat dit vandag is nie en die partykoukus h om nog geen diktatoriale magte aangematig het nie, was die Bond nie so sterk dat hy oor ‘n veilige meerderheid in die Parlement beskik het nie. Die Bond het dus nog gehandel volgens die leuse van Di Patriot by ‘n vorige verkiesing: “Na di Parlement, maar ni in di ministerie ni.” Die bekwame leier van die Bond het sy mag en invloed op ander en subtieler maniere laat geld.
Hy het selfs Rhodes se aanbod om ‘n portefeulje in die nuwe kabinet waar te neem, van die hand gewys, ofskoon dit eintlik hy was, volgens Merriman, wat Rhodes tot staatsman en politikus gemaak het. Hofmeyr het sy steun aan die nuwe regering beloof, wat ook ‘n paar Bondslede bevat het, en Rhodes het dadelik, ná aanvaarding van sy amp, bekend gemaak dat sy kabinet van plan was om ‘n “suiwer Suid-Afrikaanse politiek te volg.(13)
Hansard, 1890, bl. 149, aangehaal deur A.H. de Swardt, op. cit., p. 48
Betekenis van Rhodes se politiek
Die samewerking tussen Hofmeyr en Rhodes is sonder twyfel die belangrikste politieke gebeurtenis in die Kaapkolonie sedert die totstandkoming van verantwoordelike bestuur en voor die Jameson-inval, waar hierdie politieke vriendskap sy einde gevind het. Deur die steun van die Kaaplandse Afrikanerdom is Rhodes tot ‘n politieke magsposisie verhef wat tot dusver ongekend in die geskiedenis van die Kolonie was. Rhodes het sy politieke afhanklikheid van die Bond besef. Hy het geweet dat die Bond sy regering kon maak of breek. Vandaar dat hy sy bes gedoen het om op goeie voet met Hofmeyr en die Bond te bly. Dit was nie moeilik nie, solank hy die vertroue van die Kaaplandse Afrikanerdom geniet het.
Dit was vir die Kaaplandse Afrikanerdom ook nie moeilik om hom te vertrou nie. Rhodes het nie die standpunt van ego Romanus sum van die trotse Romein ingeneem nie. Hy was geen hooghartige en ongenaakbare Brit wat op allerlei seremonies gesteld was nie, maar ongekunsteld en nederig, in die omgang net die man om die vertroue van Afrikaners te win. Hierdie ongekunsteldheid wat by Rhodes en die Afrikaner so natuurlik was, het wedersydse agting in die hand gewerk en versterk.
Die Rhodes-regering het veel gedoen om die belange van die Kaaplandse Afrikanerdom te bevorder. Die kieswet van 1892 was een van die eerste vrugte van die samewerking tussen premier Rhodes en die Bond. Volgens hierdie wet is die okkupasie-bevoegdheid van die kieser van R50 tot R150 verhoog; die salalrisvereiste sou R100 bly; en ‘n beskawingstoets i s gestel dat kiesers hul naam moes kan teken en hul adres en beroep moes kan skryf.
Hoewel die regte van reeds geregistreerde kiesers gewaarborg is, het dit geblyk dat daar ‘n vermindering van 3 348 gekleurde kiesers teenoor ‘n vermeerdering van 4 506 blanke kiesers was. Die kieswet is dus beskou as ‘n stap vorentoe en in belang van die blanke beskawing in Suid-Afrika. In sy beleid teenoor nie-blankes was Rhodes so weinig negrofilis dat Hofmeyr hom in hierdie verband eenmaal beskryf het as “iemand wat in beginsel ‘n beter Bondsman was as nege-tiendes van die Bondslede”.(14)
(14)Di Patriot., 9.4.1890, aangehaal deur A.H. Swardt, op. cit., p. 55
Die Glen Grey-wet
Dit was juis onder die bewind van Rhodes dat belangrike Bantoe-wetgewing tot stand gekom het. Die Glen Grey-wet van 1894, wat sy naam aan die landstreek Glen Grey in die distrik Queenstown dank, het voorsiening gemaak vir individuele Bantoe-grondbesit en verteenwoordigende naturellerade vir hierdie streek. Die wet het die standpunt van die Bond beliggaam, nl. dat die Bantoe ‘n onmondige is, wat in sy grondbesit teen blanke grondspekulante beskerm moet word, sonder dat grondbesit hom die stemreg besorg. In die Bantoerade sou die inboorling selfbestuurlike ondervinding opdoen. Rhodes self het die Glen Grey-wet “’n Bantoe-wet vir Afrika” genoem,, en hoewel hierdie benaming te ambisieus was, het die wet tog later uitgebreide toepassing in die Transkei gevind.
Veral op die gebied van die boerdery, die vernaamste welvaartbron waaruit die Afrikanerdom ‘n bestaan gemaak het, het die Rhodes-regering verdienstelike werk gelewer. In die sitting van 1894 het die bekende Brandsiektewet ter beskerming van die Kolonie se kuddes sy verskyning gemaak. Hierdie wet het bepaal dat kuddes wat met brandsiekte besmet is, geïsoleer en onder toesig van inspekteurs gedip moes word.
Hierdie ingrypende wet, veral die uitvoering daarvan, het sterk verset onder die skaapboere gewek en die samewerking tussen Rhodes en die Bond moes ‘n moeilike toets deurmaak. Die regering, in die oortuiging dat die wet bevorderlik was vir Kaapland se belangrikste bedryf, die wolskaapboerdery, het voet by stuk gehou, hoewel kleiner toegewinge van tyd tot tyd gemaak is. Die teenstand teen die Brandsiektewet het nietemin voortgeduur tot dat die Jameson-inval die aandag van die skaapboere in ‘n ander rigting gestuur het.
Bevordering van die landbou
Ook op minder strydwekkende gebied het die Rhodes-regering die belange van die boerebevolking, waaruit die meeste Bondslede gekom het, bevorder. Rhodes was verantwoordelik vir die instelling van ‘ bn behoorlike departementvan landbou en het veel gedoen om boerderymetodes te laat verbeter. So het hy die Amerikaanse “ladybird” laat invoer om ‘n plaag te bestry wat die sitrusboorde bedreig het. Hy het deskundiges uit Kalifornië laat kom om leiding te gee i.v.m.vrugteverpakking vir uitvoer, en het Suid-Afrikaners na die buiteland gestuur om landboumetodes daar te bestudeer.
Toe die filloksera die wynbou bedreig, het hy Amerikaanse stokke aan die boere verskaf, omdat die mening destyds was dat dergelike stokke nie vir die plaag vatbaar is nie. Rhodes het deurgaans die waarde van die Kaapse wynbedryf begryp en warme belangstelling daavoor getoon.
Ook het hy goeie Arabiese perde laat invoer en baie gedoen om die Kaapse perderas te verbeter en die uitvoer van perde na Indië te bevorder. Voorts het hy sybokke laat invoer om die Kaapse angora-stapel te verbeter. Die bewering van Rhodes se biograaf, Basil Williams, dat die Kaaplandse boere “seker nooit ‘ n Eerste Minister gehad het wat so besorg oor hulle belangewas nie”, is nie ongegrond nie.(15)
(15)B. Williams, op. cit., p. 193
Die samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr, wat gedurende die jare voor 1896 so ‘n groot invloed op die politieke geskiedenis van die Kaapkolonie in die besonder en van Suid-Afrika in die algemeen gehad het, was egter nie onvertroebeld nie. Rhodes het weliswaar deur sy sg. uitskakeling van die Imperiale faktor, deur sy beklemtoning van Suid-Afrikaanse federasie en deur sy verligte binnelandse beleid in die Kaapkolonie daarin geslaag om die vertroue van Hofmeyr en die groot meerderheid van Kaaplandse Afrikaners te win. Maar hy het ook,deur die suide se belange insake invoerregte en spoorweguitbreiding na die noorde op die v oorgrond testel, daarin geslaag om tussen die Afrikaners van die Republiek en die Kolonie ‘n wig in te dryf.
Die herhaalde lojaliteitsbetuiginge van die Bond jeens die Britse vlag, een van die hoekstene van samewerking tussen die Bond en Rhodes, het nie juis daartoe bygedra om die vertroue van Transvalers en Vrystaters in hul suidelike stamgenote te versterk nie. Dit was egter veral Rhodes se imperialistiese uitbreidingsdrang, gepaard met sy grootkapitalistiese bedrywighede, alles ten nadele van die onafhanklike boere-republieke, wat hoe langer hoe meer die rots gevorm het waarop die samewerking tussen hom en die Bond skipbreuk sou lei.
Die diamantbedryf
In 1888 reeds het Rhodes daarin geslaag om die diamantmaatskappye in die magtige De Beers Consolidated Mines te amalgameer, met homself as voorsitter en besturende direkteur. Teen hierdie tyd was hy ook reeds geïnteresseerd in die Witwatersrandse goudveld, waar hy die Goldfields Company, later die Consolidated Goldfields of South Africa, gestig het.
Toe Rhodes dus met die steun van die Bond premier van die Kaapkolonie word, was hy reeds die verpersoonliking van politieke en finansiële mag, ongeëwenaard in die geskiedenis van Suid-Afrika. Alles was na sy hand, want selfs in Brittanje, waar dit nie altyd maklik was om tussen sy persoonlike en sy imperialistiese doelstellinge te onderskei nie, het die regeringsleiers geredelik na hom geluister en het die geldmag van ‘n Rothschild hom gesteun.
Rhodes se uitbreidingsplanne
Van hierdie vir hom gunstige konstellasie het die “groot amalgamator” gebruik gemaak ten einde ook die “groot conquistador” te word. In die akte van die De Beers-maatskappy was reeds bepaal dat die winste ook gebruik kon word om noordelike uitbreiding te bevorder en vir ander doeleindes in belang van die Britse Ryk.
Rhodes, in voortsetting van sy Betsjoeanaland-beleid,het nog steeds sy blik na die noorde gerig en in Matebeleland ‘n doelwit vir sy uitbreidingsdrang gevind.In dieselfde jaar toe die De Beers-maatskappy gestig i s, het die Moffat-traktaat tot stand gekom waardeur Lobengula, koning van die Matebele, hom verbind het om geen traktate met enige staat sonder toestemming van die Britse Hoë Kommissaris aan te gaan nie. Enkele maande daarna het Rudd, Maguire en Thompson, wat in nou verband met Rhodes gestaan het, al die minerale-regte in die gebied verkry. In ruil hiervoor het Lobengula, volgens Engelse gewoonte, ‘n maandelikse salaris, gewere en patrone en ‘n gewapende stoomboot op die Zambezi-rivier ontvang. Die dag vir die konsessiejagters het aangebreek.
In die jaar daarop (1889) het Rhodes die “British South Africa Company” gestig en van die Britse parlement ‘n oktrooi ontvang waaronder uitgebreide regeermagte aan die maatskappy verleen is. Oorlog en daadwerklike besetting van Matebeleland het spoedig gevolg en Lobengula moes getuig: “Ek het gedag julle kom om goud te grawe, maar nou blyk dit dat julle my land wil steel.” Rhodes het sy sin gekry: ‘n Uitgestrekte gebied, waar die hoogste woord gevoer het, het Bits geword en is Rhodesië genoem.
Oor Rhodes se anneksasie van Matebeleland, net soos indertyd oor die Britse inlywing van Betsjoeanaland, het die Boere-republieke geen illusies gehad nie. Die vaag hier egter is: Hoe het Hofmeyr en die Bond op die imperialistiese bedrywighede van hul Eerste Minister ten koste van hul stamverwante in die Republieke gereageer?
By die Kaaplandse Afrikanerdom was daar geen geesdrif vir Rhodes se uitbreidingsplanne in die noorde nie. ‘n Koerant uit hierdie dae het oor die moontlikheid uitgewei dat die tyd aangebreek het dat die weë van Rhodes en Hofmeyr uitmekaarloop, ten gevolge van eg. se planne insake uitbreiding na die noorde. Di Patriot het seker ook die m ening van baie Kaaplandse Afrikaners vertolk toe hy te velde getrek het teen die nuwe kompanjie en “mnr. Rhodes, di vader van di groot landvatting Kompeni”.
Baie Bondsmanne, hoewel hulle al die implikasies van Rhodes se landhonger nog nie kon begryp nie, het nietemin gevoel dat die inlywing van Matebeleland by die Britse Ryk ‘n onreg teenoor die stamverwante Transvaal was. Dit is opmerklik dat rhodes in hierdie saak sy vriend Hofmeyr nie in sy vertroue geneem het nie, maar hom, met die oktrooi van die “Chartered Company” reeds in sy sak, voor ‘n voldonge feit gestel het. Hofmeyr self het van die standpunt uitgegaan dat uitbreiding na, en ontwikkeling van, die noorde deur Transvaal en die Kaapkolonie gesamentlik moes geskied.
Rhodes, wat deeglik daarvan bewus was dat sy politieke mag in die Kaapkolonie van die steun van die
Bond afhanklik was, het sy imperialistiese bedrywighede in die noorde so onskuldig moontlik voorgestel. Soos in die geval van Betsjoeanaland, sou ook sy Chartered Company in belang van die Kaaplanders en die totstandkoming van ‘n Suid-Afrikaanse federasie werk. Teenoor Transvaal sou hy nie die minste bose bedoellinge gehad het nie. Deur die stigting van die Chartered Company sou hy juis, so reg na die smaak van Hofmeyr, die gevaar van die Imperiale faktor uitgeskakel het.
Om die bedenkinge van die Bond teen sy noordelike avontuur verder onskakdelik te maak, het Rhodes die voorsitterskap van die plaaslike direksie van die maatskappy aan Hofmeyr aangebied – ‘n aanbod wat van die hand gewys is. Voorts het Rhodes die Bond verseker dat alle laste en verantwoordelikhede in die noorde deur sy maatskappy alleen gedra sou word, terwyl die seuns van die Kaapkolonie, as die aangewese koloniste vir Rhodesië, daar ‘ n heenkome sou vind. Vooraanstaande lede van die Bond is deur Rhodes beweeg om aandele in die Chartered Company te neem, daar hy gretig was om hulle in sy ondernemings te interesseer.
Rhodes het dus andermaal daarin geslaag om die Bond tot sy standpunt oor te haal. In plaas van ‘n breuk tussen hom en Hofmeyr, was dit lg. se steun wat die verlenging van die spoorlyn van Kimberley na Mafeking, soos Rhodes dit gewens het, moontlik gemaak het. Toe die Sprigg-regering in Julie 1890 moes bedank, was dit die steun van die Bond wat dit vir Rhodes moontlik gemaak het om Eerste Minister te word.
Swaziland en Transvaal
In dieselfde jaar het Hofmeyr as agent van die Britse Hoë Kommissaris (sir Henry Loch) na Pretoria afgereis om met die Transvaalse regering oor die ondertekening van die eerste Swaziland-konvensie te onderhandel. Verskeie netelige onderwerpe soos Transvaalse aanpsrake op Swaziland, ‘n toegang tot die see, ‘n eie seehawe vir die Republiek en ‘n tolverbond is by hierdie geleentheid bespreek. Die konvensie was vir Transvaal onbevredigend, en die publikasie daarvan “bracht op het hoofd van de heer Hofmeyr alle mogellike vervloekingen en scheldwoorden, die de Transvaalse nieuwsbladen machtig waren, neder”, aldus die biograaf van Onze Jan, wat ook vermeld dat pres. Kruger by hierdie geleentheid aan Hofmeyr sou gesê het: “Gij zijt een verrader, een verrader van de Afrikaner-zaak.”
Hierdie aanval op Onze Jan was nie heeltemal verdien nie en sy biograaf teken die posisie waarin hy geplaas is as volg:(16) Hier is een Konventie (met die opstellen waarvan hij absoluut niets te doen gehad had); ze moet onveranderd getekend worden, of anders komt daar oorlog. Zijt gij bereid uw populariteit in ‘t spel te zetten en te trachten het dokument getekend te krijgen, of wilt gij Zuid-Afrika in een bittere strijd gedompeld zien?”
(16)J.H. Hofmeyr, op. cit., p. 448-449
Wat hier van belang is, is die feit dat Onze Jan, waarskynlik geïmponeer deur die sabelgekletter van die Hoë Kommissaris, aan samewerking met Rhodes, ten nadele van Transvaal, die voorkeur gegee het en hom onwetend deur die Engelse laat gebruik het. Dit is verklaarbaar, want in die begin van die jare negentig het baie vooraanstaande Afrikaners, onder wie ook pres. Reitz van die Oranje-Vrystaat, Rhodes nog volkome vertrou. Selfs ds.S.J. du Toit, vurige republikein en vader van die Afrikanerbond, wat van 1882 tot 1889 direkteur van onderwys in Transvaal was, het nou begin oorhel na Rhodes.
Nadat Du Toit in Gransvaal met wat hy die “Hollander-kliek” noem, in botsing gekom het, het hy hom weer in die Paarl kom vestig en hom in steeds meerdere mate as ondersteuner van Rhodes met die redaksiewerk van Di Patriot besig gehou. Die samewerking tussen Hofmeyr en Rhodes is dus nie versteur deur die uitbreiding in die noorde ten koste van Transvaal nie, maar wel is die wig tussen die Kaaplandse en die Transvaalse Afrikanerdom dieper ingedryf.
Agterdog teen Rhodes
Die samewerking tussen Rhodes en die Bond was egter nooit onvoorwaardelik nie. Hofmeyr het, soos reeds vermeld, die republilkeinse ideaal, as nie tot die praktiese politiek behorende nie uit die program van die Bond geweer en lojaliteitsbetuiginge aan die Britse koningin en die Union Jack in die plek daarvan gestel. Rhodes, van sy kant, het nog altyd die uitskakeling van die Imperiale faktor beklemtoon en het dadelik, ná die aanvaarding van die premierskap, aan die Parlement bekend gemaak dat sy regering van plan was om ‘n “suiwer Suid-Afrikaanse politiek” te volg. Sou albei kante aan hierdie voorwaardes voldoen?
Selfs in die jare toe die politieke samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr die vrugbaarste was vir die Kaapkolonie, het dit aan kritici wat die vrede nie vertrou het, nie ontbreek nie. Afgesien van die Transvalers, wat reeds in die Betsjoeanalandse geval redes gevind het om Rhodes te wantrou, was daar ook in die Kaapkolonie en selfs onder bondslede sommige wat krities teenoor Rhodes gestaan het. Voor sy omswaai was Die Patriot die mondstuk van diegene wat in Rhodes se uitbreidingsplanne ‘n toekomstige gevaar gesien, die val van die Sprigg-regering betreur en teen Rhodes-Hofmeyr-regering gewaarsku het.
Daar is beskuldigings gemaak dat Bondsbeginsels verwater of opgeoffer was; dat die omkopery op groot skaal plaasgevind het; en daar is selfs aan die hand gedoen dat die lidmaatskap van die Bond beperk moes word. In die Rhodes-regering self het dit aan harmonieuse samewerking ontbreek. Volgens minister Merriman is “alles, beginsels en alles, aan die Chartered Company opgeoffer”, terwyl twee ander ministers, Sauer en Innes, gedreig het om te bedank.(17)
(17)Merriman Papers, 1891/65 en 1891/79, in die S.A. Openbare Biblioteek, Kaapstad. Cronwright Schreiner skryf oor “the demoralisation of public life caused by Mr. Rhodes and his methods”. Merriman Papers, 1895/20. (A.H. de Swardt, op. cit., p. 118). Reeds in Di Patriot van 9.4.1891 het Jan Lion Cachet geskryf: “Zo ‘n skatrijke eerste minister, die met cheques speelt, is taamlik lastig. Hy schiet ‘n mens zoo maar dood. Het kan wel gebeuren dat later meer menschen dit zullen inzien.” A.H. de Swardt, op. cit., p.60
Die Adendorff-trek
Rhodes en Hofmeyr se standpunt t.o.v. die Adendorff-trek het nie alleen in die Republieke nie, maar ook in die Kolonie die gemoedere verder in beroering gebring. Daar was nou eenmaal baie Afrikaners, selfs in Kaapland, wat Rhodes se uitbreidingsbedrywighede in die noorde met agterdog bejeën het, al het lg. nog so dikwels beklemtoon dat hy dit alles as “Kaapse Kolonis” gedoen het. Rhodes self dra skuld aan hierdie agterdog, want op die eerste Bondskongres in Kimberley, nadat hy premier geword het, het hy in ‘ n toespraak o.m. die volgende gesê: “Wat my betref, sou ek graag ten suide van die Zambezi geen aparte, onafhanklike state sien nie; maar ek sou daarvoor sorg dat die kaart van die land so daar uitsien dat daar geen stryd met hierdie state sal wees nie.” Hierdie woorde was vir misverstand vatbaar.
Dat Hofmeyr by dit alles in die gedrang gekom het, lê voor die hand. Hy het hom sonder twyfel in ‘n ongemaklike, enigsins tweeslagtige posisie bevind. Hy was in die eerste plek Kapenaar en leier van die Bond, wat sy vernaamste krag getrek het uit die wyn- en landboudistrikte, waarvan die ekonomiese belange nie altyd dieselfde as dié van Transvaal was nie. Hy het hom deur Rhodes se voorspieëlinge dat sy uitbreiding na die noorde Kaapkolonie ten goede sou kom, laat verlei om Rhodesse imperialistiese aspirasies nie teen te werk nie.
Hoewel dit moeilik sal gaan om te bewys dat Hofmeyr hom deur ander oorweginge as opregtheid en getrouheid aan die belange van die Kaapkolonie laat lei het, staan dit nietemin vas dat sy samewerking met Rhodes hom by ‘n deel van sy eie volgelinge onder verdenking geplaas het. In ‘n adres wat hom in 1891 aangesien is en wat van hoofagting getuig, heet dit o.m.: “Gij hebt u bloot gesteldaan misverstand en zelfs verwijten van wege een sectie van de politieke partij waartoe gij behoort.”(18) Die krietiek wat in stygende mate teen Rhodes gerig is, het ook Onze Jan getref.
(18)Di Patriot, 19.11.1891m aangehaal deur A.H. de Swardt, op. cit., p. 82
Die samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr sou nie baie langer duur nie. Die gerammel van die naderende storm was duidelik hoorbaar vir diegene wat nie horende doof was nie. In die Kaapkolonie het meer en meer mense, selfs Bondsmanne, begin insien hoe gevaarlik dit kon wees om ‘n multi-miljoenêr, met al sy ander magsposisies, as Eerste Minister te hê. Die vrees het meer en meer veld gewin dat Rhodes van sy magsposisie as premier misbruik kon maak om kapitalisties-imperialistiese belange ook buite die Kolonie te bevorder.
Daar was mense soos Merriman, wat in toenemende mate die woord “korrupsie” i.v.m. Rhodes gebruik het. “Elke man het sy prys,” is ‘ n gesegde uit daardie tyd wat sy oorsprong by Rhodes sou gehad het. Die storm wat die Logan-kontrak veroorsaak het, skyn op ‘n gebrek aan vertroue in die finansiële bestuur van die Rhodes-regering te dui. In die steeds toenemende agitasie onder Transvaalse uitlanders teen die Kruger-regering is die hand van Rhodes gesien. Origens was daar baie Bondsmanne wat die Brandsiektewet van die Rhodes-regering nie vergeet het nie. Hoewel daar ook baie Bondsmanne was wat nog gedink het dat hulle Rhodes gebruik, het meer en meer net die teenoorgestelde gedink en ook geglo.
Rhodes op sy hoogtepunt
En Rhodes? In die jaar 1895 het hy die toppunt van sy mag bereik. Sy geweldige suksesse het hom oormoedig gemaak. Sy eie invloed by Hofmeyr en die Bond het hy oorskat. Die steun van die Bond in die driwwe-vraagstuk het hom laat dink dat sy taktiek van verdeel en heers teenoor die Afrikanerdom meer geslaag was as wat dit werklik was. Die omswaai van ds. S.J. du Toit van anti-Rhodes na pro-Rhodes en die bitsige aanvalle van Die Patriot op die Transvaalse regering het waarskynlik daartoe bygedra dat Rhodes sy invloed by die Afrikaners oorskat het.
Sy aanslag teen Transvaal
Origens was daar niemand in die Kaapkolonie om Rhodes te keer nie. Hofmeyr het sy parlementêre loopbaan om gesondheidsredes laat vaar en die bejaarde Hoë Kommissaris, sir Hercules Robinson, was nie die man om Rhodes te beteuel nie. Die oormoedige Rhodes het weldra ook oorhaastig geword. Waarom nie ‘n Shepstone naboots nie? Het hy dan nie op die Witwatersrand, d.w.s. in die hartjie van die Republiek, in Rhodesië, in Betsjoeanaland, in Griekwaland-Wes en in die Engelse Natal magtige en gewilllige werktuie nie? En as die Bond hom steun, wie in die Kaapkolonie sou dan teen hom wees? Miskien die Progressiewe Party, sy parlementêre opposisie? Of sou die Imperiale regering hom keer? Dit moet geredelik toegegee word dat Rhodes voor ‘n geweldige versoeking gestaan het. Voor hierdie versoeking het hy geswig.
Die Jameson-inval
In die laaste dae van Desember 1895 het toe die gebeurtenis plaasgevind wat die hele wêreld in beroering gebring het: die Jameson-inval. Daar bestaan geen twyfel oor die medepligtigheid van Rhodes aan die Jameson-inval nie. Die gewoonlik versigtige Hofmeyr het dan ook vinnig gehandel. Vir eers het hy dadelik die volgende telegram aan pres. Kruger gestuur: “Ik hoop uw burgers zullen zich kwijten als helden tegen Jameson’s vrijbuiters.”(19)
(19)J.H. Hofmeyr, op. cit., p. 538
Voorts het Hofmeyr bewerkstellig dat die Hoë Kommissaris ‘n proklamasie teen Jameson uitgevaardig het. Met Rhodes het Hofmeyr finaal gebreek. Nie minder heftig nie was die reaksie van die Bond. Op die groot Bondskongres van 1896 op Burgersdorp het adv.F.S. Malan, destyds redakteur van Ons Land, ‘n voorstel ingedien waarin die Jameson-inval o.m. beskryf word as “een verraderlijke aanslag, niet alleen op de Zuid-Afrikaansche Republiek, maar op de geheele Afrikaner nationaliteit”.Die samewerking tussen Bond en Rhodes het tot die verlede behoort.
Rhodes bedank as premier
Rhodes self moes as Eerste Minister van die Kaapkolonie bedank; sy politieke mag was gebreek. In ds. S.J. du Toit en die Progressiewe Party het hy egter nuwe bondgenote gekry. Die Progressiewe Party is juis in die begin van die jare negentig gestig om die “remskoen”-regering van Rhodes te opponeer. Dit het veral bestaan uit die Engelse elemente wat vroeër verantwoordelike bestuur teengewerk het en wat sir Henry Barkly destyds as konserwatief bestempel het.
Die Jameson-inval en Rhodes se medepligtigheid daaraan is ‘n gebeurtenis van die allergrootste politieke betekenis. Die inval het die Afrikaners oor die hele Suid-Afrika verenig soos nooit tevore nie. Voorts het dit die aansien van die Afrikaners verhoog en dié van die Britte grootliks benadeel. Die gevolg was dat die Imperiale regering weer ingegryp het. Hierdie keer was sir Alfred Milner, die nuwe Hoë Kommissaris, sy man.
Suid-Afrika het aan die vooraand van groot onheil gestaan….
— — — oOo — — —