GVSA Oorheersing en Vrywording 1877-1884 

I.D. Bosman, M.A., D. Litt.

Die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek was ‘n voldonge feit. Die politieke gevolge van die Groot Trek was ten dele ongedaan gemaak; oor die suster-republiek ten suide van die Vaalrivier het nou die swaard van Damokles gehang. Thomas François Burgers het van die toneel verdwyn. Die Transvaalse gevolking was lamgeslaan. Tog was daar een ligpunt. Die manne wat nou in Transvaal na vore gekom het, was beproefde kinders van die Groot Trek. Daar was Paul Kruger, wat sedert die burgeroorlog van die vroeë sestigerjare goot naam gemaak het. In die onverkwiklike dae het hy kommandant-generaal geword; in Maart 1877 vise-president.

Daar was Piet Joubert, as staats- en krygsman van kleiner formaat as Kruger en tog bestem om in die komende tye roem te verwerf. Daar was M.W. Pretorius, wat geleentheid sou kry om hom van die donker skaduwee wat die Keate-uitspraak oor sy loopbaan gewerp het, te ontdoen. Hy sou weer optree as een van die leiers van sy volk en also gerehabiliteer word. Dit was een van die vernaamste gevolge van die anneksasie dat dié manne aan die spits van die volk gaan staan het.

Dit is ‘n merkwaardige omstandigheid dat die Transvalers nie op 12 April 1877 die Britse vlag by sy hysing neergehaal en Shepstone met sy 25 konstabels oor die land se grense gesit het nie. Trouens, F. Wolmarans, later voorsitter van die Volksraad, het met sowat 400 man in Pretoria opgedaag om Shepstone met sy gevolg die land uit te dryf. Met moeite het die Uitvoerende Raad hom beweeg om van sy plan af te sien.(1)

(1)Dr. W.J. Leyds: De Eerste Annexatie van Transvaal, p. 174(n)

Die Uitvoerende Raad het hiervoor allerlei redes gehad. Transvaal was ongetwyfeld inwendig verswak. In pres. Burgers het die volk geen vertroue gehad nie; die Sekoekoeni-oorlog het die strydmiddele vand ie jong republiek, wat tot dié tyd reeds ‘n moeilike bestaan gevoer het, uitgeput; en aan die oosgrens was die Zoeloes, met Shepstone in Transvaal, ‘n ernstige gevaar.(2)

(2)Ibid. Bl. 273. Sien ook M. Heyns: Om die Vryheid van Transvaal 1877-1881, p. 15 (onuitgegewe verhandeling)

Baie het onder die indruk verkeer dat Groot-Brittanje die anneksasie ongedaan sou maak as die Britse regering net die werklike feite kon verneem. Tog bly die gebeurde onbegryplik, gesien in die lig van Transvaal se geskiedenis voor en monmiddellik ná die anneksasie. Die Transvalers mag hulle in 1877 van geweld onthou het omdat hulle Brittanje geen rede wou gee tot voortgesette anneksasie nie. Aan die ander kant was dit juis die maklike anneksasie wat Britse staatsdmanne laat glo het dat die meerderheid van die volk Britse tussenkoms verwelkom het, soos Shepstone beweer het.

Kruger en Jorissen na Londen

Die anneksasie is onder protes aanvaar in ‘n besluit van die Uitvoerende Raad op 11 April 1877. Die wyse van verset teen Shepstone se daad is deur Burgers in sy proklamasie en protes op die dag van die anneksasie kortliks aangedui. ‘n Afvaardiging bestaande uit S.J.P. Kruger en dr. E.J.P. Jorissen sou na Europa en Amerika gestuur word “ten einde daar de regten desvolks te verdedigen en te trachten langs vreedzamen weg de zaak op te lossen”.(3)

(3)Ibid, p. X

Om die uitvoering van hierdie plan nie te beswaar nie, het die President, uit naam en op advies van die Uitvoerende Raad, versoek dat niemand hom aan geweld skuldig sou maak nie. En of die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek nog in stand was en nog kon beveel, is alle burgers vermaan om die besluit van die regering te gehoorsaam en die regering te help om die orde te bewaar en bloedvergieting te voorkom.

Op tweërlei wyse het die proklamasie daartoe bygedra om die gemoedere van die teleurgestelde burgers in bedwang te hou: vir eers dat ‘n beroep in naam van hul eie regering op hulle gedoen is, en ten tweede omdat die burgers van hulle kant niks wou doen om die moontlik einduitslag van ‘n deputasie na Londen in die weg te staan nie.

In ooreenstemming met die inhoud van die besluit van 11 April van die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek(4) en van pres. Burgers se proklamasie en protes van 12 April 1877 is gehandel. Kruger en Jorissen het op 10 Mei na Londen vertrek. In Kaapstad het hulle nog sir Bartle Frere ontmoet, wat hulle afgeraai het om te gaan met die versekering dat dit nutteloos sou wees. Dit het die deputasie egter nie ontmoedig nie – ook nie die petisie van ‘n aantal persone, meestal Engelse wat gevra het die anneksasie nie herroep moes word nie.

Die sending van Kruger en Jorissen was vooruit tot mislukking gedoem. Die anneksasioniste het Carnarvon uit Suid-Afrika op die hoogte gehou. Of die inligtinge wat hulle hom verskaf het, gegrond was, het hulle nie gevra nie. Shepstone was vooraan. Vyf dae ná die anneksasie het hy daaroor aan Carnarvon verslag gedoen.(5)

(5)Staats Courant van de Zuid-Afrikaansche Republiek, 1881, p. XI

Daar is voorgegee dat die meeste Transvalers met anneksasie tevrede was en dié wat nie was nie, besef het dat dit onvermydelik was. Pres. Burgers, het hy geskryf, h et by sy afskeid van die amptenare ‘ n beroep op hul lojaliteit aaan die nuwe bestuur gedoen; die amptenare in Pretoria, die lede van die Uitvoerende Raad inklus, het skriftelik ingewillig om onder Britse bestuur te dien, behalwe Paul Kruger, wat na Londen afgevaardig; die proteste van die Uitvoerende Raad en President was net om die ontevredenes te sus. Hy self, so gaan hy voort, is met die grootste respek bejeën.

Daar is 40 000 Transvalers, en hy het die land met ‘n polisiemag van 25 man geannekseer. Dis genoeg bewys, beweer hy, dat hy maar net die wense van die volk uitgevoer het. Eindelik verseker hy Carnarvon dat ‘n regverdiger Bantoebeleid ook van die 800 000 Bantoes gehoorsame onderdane sou maak. Selfs Kruger en Jorissen sou hul sending net beskou as die uitvoering van ‘n plig wat hulle opgedra is en bereid wees om getroue Britse onderdane te word.

Ook sir Bartle Frere het aan Carnarvon inligting verskaf soos hy dit graag wou hê. Daar was in Transvaal of daarbuite geen simpatie met, of belangstelling in, die deputasie nie; hy twyfel of iemand in Transvaal gevind kon word wat die anneksasie ongedaan sou wil maak. Verder stel hy Kruger en Jorissen voor asof hulle eintlik niemand verteenwoordig nie.(6) In dieselfde gees as die geskrifte van Shepstone en Frere, het veral ‘n klompie Britte in Transvaal ‘n petisie opgestel en gehamer op die ou kreet: die Bantoe-beleid van die Republiek is ‘n gevaar vir die vrede in Suid-Afrika.(7)

(6)M. Heyns: Die Vryheidsoorlog 1877-1881, p. 81 en verder

(7)Ibid

Die sending by Carnarvon

Ná hul aankoms in Londen het Kruger en Jorissen lord Carnarvon persoonlik gaan spreek. Hom is verseker dat die groot meerderheid van die burgers van die Suid-Afrikaanse Republiek teen die anneksasie was en hulle op die Sandrivier-Konvensie beroep. Carnarvon was nie te beweeg nie. Die burgers kon hul regte en voorregte behou, maar die herstel van die staatkundige onafhanklikheid was uitgesluit. Carnarvon wou selfs nie die aanleidende oorsake van die anneksasie bespreek nie – dit sou net tydverkwisting wees.

Kruger se versoek om ‘n volkstemmking is ook van die hand gewys, onder voorwendsel dat die meerderheid se gevoelens sedert die deputasie se vertrek uit Suid-Afrika t.g.v. inlywing by die Britse Ryk geswaai het. Carnarvon het allerlei berigte voorgelê om die Boere-afvaardiging hiervan te oortuig. Blykbaar het dit ook die vir Carnarvon gewenste uitwerking gehad, want daarna was Kruger en Jorissen se houding nie meer beslis nie en Carnarvon het homself wysgemaak dat die saak vir goed van die baan was.(8) Die afgevaardigdes het nog Nederland besoek om die toestand te verduidelik, maar afgesien van die plan om ander Europese lande aan te doen. Teen die einde van 1877 was hulle in Transvaal terug.

(8)Ibid., p. 90 en verder

Dat die verslag wat die deputasie op 5 Januarie 1878 in Pretoria oor sy sending uitgebring het, teleurstellend was, lê voor die hand. ‘n Deel van die aanwesige burgers by dié geleentheid was ontevrede met die afgevaardigdes self en wel omdat Kruger en Jorissen lord Carnarvon nie weerspreek het nie toe lg. beweer het dat die meerderheid van die bevolking met die nuwe toestande tevrede was. Ten tweede het die bugers dit die deputasie kwalik geneem dat Jorissen van Carnarvon sekere voorregte onder Britse bestuur gevra het.(9) Die gevoelens het hoog geloop en dit het duidelik geblyk dat daar Transvalers was wat nie in die anneksasie sou berus voordat geprobeer was om met wapengeweld daarvan ontslae te raak nie.

(9)Ibid., pp. 100-101

Pogings om Carnarvon te oortuig

Die hoop dat die onafhanklikheid deur vreedsame middele herwin kon word, het aanleiding tot minder drastiese besluite gegee. Dié hoop is gesterk deur die oortuiging dat lord Carnarvon werklik deur Shepstone, die pers e.a. mislei was omtrent die gevoelens van die meerderheid oor die anneksasie. Die eerste stap en, soos hulle gehoop het, die laaste moes wees om Carnarvon reg in te lig. Daarom is op die vergadering in Pretoia besluit om memories voor en teen die anneksasie te laat teken. Om uitvoering aan die besluit te gee, is ‘n Volkskomitee onder voorsitterskap van M.W. Pretorius, gewese Staatspresident, gekies.

Die Volkskomitee het onmddellik aan die werk gegaan en reeds op 7 Januarie ‘n skrywe aan Carnarvon gerig, waarin die saak van Transvaal met erns en oortuiging bepleit en die Britse minister andermaal verseker is dat slegs ‘n nietige minderheid Shepstone se anneksasie toejuig. Die bewyse sou gelewer word deur handetekeninge van die burgers.(10)

(10)Ibid., pp. 108-109

Die Pretoriase byeenkoms, asook die vergadering van 23 Januarie wat Paul Kruger op die plaas Naauwpoort in die distrik Potchefstroom toegespreek het, het onmiskenbaar getoon dat hul onafhanklikheid die Transvalers erns was. Die kragte teen anneksasie het dag na dag aktiewer geword. Op Naauwpoort is ook ‘n kommissie benoem om memories voor en teen die inlywing te laat teken.

Op 4 April 1878 het die twee kommissies ‘ n gesamentlike vergadering op Doornfontein in die distrik Pretoria gehou. Die gesamentlike kommissie is versterk deur verteenwoordigers uit Lydenburg en verder met lede uit Middelburg, Wakkerstroom, Heidelberg, Utrecht, Marico en Rustenburg. Op Doornfontein is die memorie wat aan lord Carnarvon voorgelê sou word, opgestel.

By dié geleentheid is die naamtekening op dié versoekskrifte getel, waaruit geblyk het dat 6 591 teen en 587 vir anneksasie gestem het. Dit is beskou as die bewysstuk wat Carnarvon sou oortuig en hom die anneksasie sou laat herroep. Die gesamentlike kommissie hetdaarop ‘n tweede afvaardiging gekies. Die keuse het op Piet Joubert en Paul Kruger geval.

Tweede afvaardiging na Londen

Die tweede afvaardiging het sy taak met nuwe moed aanvaar. Voor hul vertrek het hulle ‘n afskrif van die memorie aan Shepstone gestuur met die versoek om hulle te help in hul “onafhanlikheidstrewe”. ‘n Paar weke later het hulle dieselfde gedoen met sir Bartle Frere, goewerneur van die Kaapkolonie en Hoë Kommissaris. Op Frere se versekering dat die Britse vlag vir altyd oor Transvaal sou wapper, het Piet Joubert genatwoord: “Oor die land miskien; oor die volk nooit!” Intussen het Shepstone vrees probeer inboesem deur protesvergaderings as onwettig te bestempel en het hy M.W. Pretorius as voorsitter van die Volkskomitee met geregtelike stappe gedreig.(11)

(11)Ibid., p. 115

Shepstone en Frede se houding was ‘n slegte voorteken vir die uitslag wat die tweede deputasie gewag het. Groot-Brittanje moes hom immers deur verteenwoordigers ter plaatse laat lei, want hulle was die beste ingelig. Uit die houding van sir Michael Hicks-Beach, wat intussen lord Carnarvon as minister van kolonies opgevolg het, het geblyk dat ook hy gewapen was met inligting wat die syfers van die volkstemming sou weerlê. Hicks-Beach het Kruger en Joubert uit die staanspoor geen aanmoediging gegee nie. Op sy vraag aan Kruger of die Britse leeu ooit weer laat los wat eenmaal in sy kloue te lande kom, was die antwoord: “Die Vrystaat”.(12) Kruger het sy geskiedenis geken.

(12)J.F. van Oordt: Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek, p. 210

Maar die tye het sedert 1854 verander. Die Vrystaat was arm; Transvaal was ryk aan natuurlike hulpbronne. Die Vrystaat se grense is gedurig deur die Basoeto’s bedreig; Transvaal se inboorlingbleid was ‘n gevaar vir die bestaan van alle blankes in Suid-Afrika, ook vir die Britse Kolonies – ten minste so het Shepstone e.a. informante van die Imperiale regering beweer. Die Vrystaat se inwoners, wit en swart, het spoedig en herhaaldelik getoon dat hulle die Britse gesag nie geëerbiedig het nie; Transvaal het dit verwelkom, ondanks die petisie met 6 600 stemme uit ‘n moontlike 8 000 teen die anneksasie.

Joubert en Kruger het vertrou dat die Britse leeu dié keer ook sy prooi uit sy kloue sou laat ontsnap, as hy maar op die hoogte van die ware toestand gebring sou word. Op versoek van Hicks-Beach het die deputasie die klagtes van die Boere op skrif testel. Daar is gehoop om hom te oortuig dat die meerderheid van die Transvaalse bevolking teen die anneksasie was. Die bewys was daar. Hieruit vloei voort dat Shepstone sy opdrag te buite ggaan het, want hy moes alleen annekseer as die meerderheid van die volk en die Volksraad dit begeer het. Die volk het eers ná die anneksasie geleentheid gehad om hom ondubbelsinnig daarteen te verklaar. Die Volksraad het dit reeds in Februarie voor die aanhegting gedoen en onder protes het die Uitvoerende Raad en pres. Burgers Shepstone laat begaan.

Die Britse minister was egter nie te beweeg nie. Hy het nie soveel waarde aan die syfers van die volkstemming geheg nie; inteendeel, hy het meer geloof aan oordrewe koerantberigte geheg, wat dit voorgestel het asof Shepstone met toejuiging deur ‘n groot deel van die Transvalers verwelkom was, i.p.v. net deur die uitlanders op die dorpe en ander wat hom geglo het toe hy beweer het hy kom as ‘n vriend wat wou help om die moeilikhede op te los.

Die moeilikhede met Sekoekoeni, die dreigende Zoeloe-gevaar – die eerste was reeds met sukses onderdruk, die tweede het voor die anneksasie nie bestaan nie – was ander reeds deur Hicks-Beach genoem, en deur Kruger en Joubert, sonder om hom te oortuig, weerspreek. Hicks-Beach het nog eens die afgesaagde en ongegronde beskuldiging dat slawehandel deur die Republiek gedoog word, nieteenstaande die Sandrivier-Konvensie, na vore gehaal. Ook sou Tansvaal sy grens wederregtelik tot aan die Ngami-meer uitgebrei, die Keate-uitspraak verwerp en Swaziland onder sy beskerming geneem het. Die deputasie het ook dié beskuldigings weerlê;(13) en teen die end van Oktober die terugreis na Suid-Afrika aanvaar. Dit was baie duidellik: die Imperiale regering was nie bereid om die herstel van die onafhanklikheid van Transvaal te oorweeg nie.

(13)Heyns, op. cit., p. 141 en verder

Besluit van Wonderfontein

Kruger en Joubert het oor hul sending verslag gedoen op 10 Januarie 1879 by Wonderfontein, in die distrik Potchefstroom. By dié geleentheid was twee- tot drieduisend Transvalers teenwoordig. Hulle het ‘n plegtige verbond geslouit om nie te rus totdat die onafhanklikheid van Transvaal herwin was nie.(14)

(14)Leyds: De Eerste Annexatie van Transvaal, p. 294

Die besluit is geneem in omstandighede wat bestem was om verreikende gevolge te hê. Daar was sommige wat onmiddellik tot wapengeweld wou oorgaan, maar Kruger, Joubert, M.W. Pretorius e.a. het daarop gewys dat die tyd vir die uiterste stap in die vryheidstrewe nog nie ryp was nie. Sir Bartle Frere was in Natal om ‘n Zoeloe-oorlog met welslae te volvoer. Piet Joubert is daarheen afgevaardig, om die Britse verteenwoordiger in Suid-Afrika te verseker dat die Transvaler nie bereid was om hulle aan die gesag van Brittanje te onderwerp nie.

Frere was in ‘n moeilike posisie. Die behoud van die Britse prestige in Suid-Afrika het op die spel gestaan. Deur middel van ‘n skrywe van Shepstone het hy hom tot Paul Kruger om hulp teen die Zoeloes gewend, maar Kruger het geantwoord dat die gewenste samewerking nie verwag kon word tensy die anneksasie herroep word nie. Op 4 Februarie het Piet Joubert sir Bartle Frere in ‘n swartgallige stemming Pietermaritzburg aangetref, treurende oor die nederelaag wat die Zoeloes van Cetshwayo die Britse troepe by Isandhlwana twee weke tevore toegedien het.

Joubert het hom die Wonderfonteinse besluit meegedeel. Maar Frere het, soos Carnarvon en Hicks-Beach, andermaal die versekering gegee dat nasionale onafhanklikheid vir Transvaal onmoontllik was. Hulle moes liewer in eie belang kom help in die styd teen die Zoeloes. Selfbestuur kon hulle kry, maar nie staatkundige vryheid nie. Frere het egter beloof om na Transvaal te kom en self met die toestande daar kennis te maak.(15)

(15)Ibid., pp. 174-179

Volksvergadering by Kleinfontein

Na aanleiding van Joubert se verslag het die Volkskomitee ‘n openbare vergadering vir 18 Maart by Kleinfontein, sowat ses uur te perd van Pretoria, belê. Op die byeenkoms was vier- tot vyfduisend Boere teenwoordig. Meer as drie weke het verbygegaan voordat Frere sy verskyning onder hulle gemaak het. Trouens, hy was eers van plan om na Pretoria deur te reis sonder om Kleinfontein aan te doen. Hy het hom egter laat beweeg om hulle tog te ontmoet.

Die tyd dat hulle op Frere gewag het, was nie nutteloos nie. In dié dae het Joubert verslag gedoen van sy besoek aan Frere in Natal en die Transvalers het hul voorneme om vir die onafhanklikheid te stry, met nog meer nadruk as tevore bevestig. Die nouere omgang van soveel mense met mekaar het daartoe bygedra dat hulle beter oor die werklike toestand ingelig kon word, en groter eensgesindheid is bewerkstellig.

Shepstone deur Lanyon opgevolg

Owen Lanyon, van 1875 tot 1879 Administrateur van Griekwaland-Wes, wat Shepstone kort tevore op 4 Maart as administrateur van Transvaal opgevolg het, het in dié tyd ‘n poging aangewend om die Transvalers van hul ywer om staatkundige onafhanklikheid te herwin, te laat afsien deur hulle die voordele van Britse bestuur voor te  hou en ‘n swart beeld van toestande  in Transvaal voor die anneksasie te skilder. Hy het niks nuuts te beduie gehad nie,(16) en Kruger hom hom reguit gesê dat hy geen goeie begrip van die saak toon nie.

(16)Manfred Nathan: Paul Kruger, p. 136

Die indruk wat die burgers van Lanyon opgedoen het, was nie vleiend nie. Hy was afsydig en aanmatigend. Dit was ‘n flater aan die kant van die Britse regering om ‘n offisier uit Wes-Indië, waar hy bevel gevoer het oor ‘n regiment swart soldate, as heerser oor die Transvalers aan te stel. Lanyon se voorkoms het by hulle die indruk gewek dat hy negerbloed in sy are gehad het.(17)

(17)Van Oordt, op. cit., p. 242

In sulke delikate omstandighede was hy seker nie die gewenste man nie. Sy  ongewildheid was nie die oorsaak van die verset nie: dit het veel dieper gesit. Selfs Frere, vriendelik en tegemoetkomend, so bekwaam en gesien dat die Koloniste hulle gevlei gevoel het toe hy Goewerneur van die Kaapkolonie en Hoë Kommissaris van Suid-Afrika geword het, kon die Transvalers nie van hul vryheidstrewe laat afsien nie.

Frere op Kleinfontein

Op 10 April het Frere op Kleinfontein aangedoen. Die kille beleefheid wat hy daar bespeur het, het nie gerusstellend op hom ingewerk nie. Twee dae later het hy ‘n Boerekomitee van 23 man, met M.W. Pretorius as voorsitter, ontmoet. Aan die einde van die bespreking het Frere onderneem om ‘n memorie deur die Boere opgestel, aan Koningin Victoria te stuur. Die memorie is nooit deur die Britse regering beantwoord nie.(18) Frere het allerlei beloftes omtrent selfbestuur, die gebruik van die Hollandse taal, die Vierkleur en die opmeting van ‘n spoorweg na Delagoabaai gemaak, en die adminisstrasie op ‘n beter voet probeer bring.

(18)Staats Courant van de Z.A.R

Sy beleid t.o.v. die Zoeloes het sir Bartle Frere intussen in onguns by die Imperiale regering gebring.(19) Sy gesag is daarom tot die Kaapkolonie en aangrensende gebied beperk, terwyl sir Garnet Wolseley hom as Spesiale Kommissaris in Transvaal en Zoeloeland vervang het. Frere het nog opdrag gehad om vir die konfederasie van die Suid-Afrikaanse geweste te ywer. Dit was ‘n nuttelose taak. Meegevoel met Transvaal het in die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie by die dag toegeneem. Dit het die Transvalers nie tot toegewing gestem nie. Selfs die inkorting van Frere se gesag was ‘n aansporing tot verset.

(19)E.A. Walker: A History of South Africa, p. 384

O.V.S. en die anneksasie

Die anneksasie het van die begin af ‘n geweldige indruk in die suster-republiek, die Oranje-Vrystaat, gemaak. As die invloed van pres. Brand nie daar was nie, sou die Vrystaat ongetwyfeld sy stem baie sterk laat hoor het. Brand se invloed, en die hoop op welslae van die sending van die Transvaalse afvaardiging na Londen, het die gemoedere in die Vrystaat in bedwang gehou. Ook was daar die vrees dat ‘n onversigtige woord of daad die Vrystaat dieselfde lot as Transvaal kon laat deel. Gevolglik is in die sitting van Mei 1877 slegs ‘ n mosie van simpatie aangeneem met die vertroue dat “de zending der deputatie door het volk en de regeering der Zuid-Afrikaansche Republiek met goed success mogen worden bekroond”.(20) Die bewoording was in die gees van Brand: ‘n kragtiger voorstel sou sy goedkeuring nie weggedra het nie.

(20)J. van der Merwe: Die Oranje-Vrystaat en die Britse Pollitiek in Suid-Afrika in die Tyd van President J.H. Brand 1864-1888 (onuitgegee), p. 304

Op die vergadering van Kleinfontein het die Transvalers ‘n stuk opgestel waarin hulle ‘n beroep op die Vrystaat gedoen het om sy stem teen die anneksasie te laat hoor. Na aanleiding hiervan het die Vrystaatse Volksraad in Mei 1879 die vertoue uitgespreek dat die pogings van die Transvalers tot ‘n bevredigende uitslag sou lei en die “terugbekoming van hun onafhanklijke Volksbestaan”.(21) Die bewoording moes vir Brand gevaarlik gelyk het, en toe hy die volgende dag op hierdie voorstel wou terugkom, het die Volksraad geweier.(22) ‘n Beskuldiging van Lanyon dat die Vrystaat Transvaal van ammunisie voorsien het, is deur pres. Brand ontken.

(21)Volksraadsnotule O.V.S., 14 Mei 1879

(22)Soos bg., 15 Mei 1879

Brand het die Britse anneksasie aanvaar. Hy was bitter teleurgestel oor die anneksasie, want dit sou die verwesenliking van sy lieflingsplan, ‘n verenigde Suid-Afrika, indien nie heeltemal skipbreuk laat ly nie, ten minste uiters bemoeilik en verder in die verskiet verskuif. Maar Transvaal was nou Brits, en so het hy dit regtens aanvaar.

Volksgevoel ontwaak

Maar onmmiskenbaar het die anneksasie die Afrikaners van noord tot suid wakker geskud en die nasionale eenheidsgevoel versterk. Die Afrikaanse nasionale bewussyn het ontwaak. Die Kaapkolonie het ook in beweging gekom. J.H. Hofmeyr het reeds veel vir die Afrikaner se belange in die Kaapkolonie deur sy Boerebeskermingsvereniging gedoen, en ds. S.J. du Toit het in 1879 met ‘n nuwe beweging, die Afrikaner Bond, gekom. Die Bond het tot doel gehad ‘n verenigde Suid-Afrika onder eie vlag. Nie net Kolonialers nie, maar ook burgers van die Republieke kon lid van die Afrikaner Bond word.

Di Patriot

Die Afrikaanse nasionale beweging het ‘n nuwe tydperk ingetree. Die invloed van die Kaapse Afrikaners se simpatie en dié van hul orgaan, Di Patriot, het nie uitgebly nie. Lede van die Wetgewende Raad en Vergadering en van die Kaapse stadsraad het ‘n onderhoud met sir Bartle Frere gehad. Die lede van die deputasie wou slegs ‘n oplossing uit die moeilikhede aan die hand doen. Die hele kwessie moes op ‘n konferensie bespreek word en as die meerderheid teen die Britse bestuur was, moes Transvaal weer onafhanklik verklaar.

Sir Bartle Frere was nie min verleë nie, want die optrede van die deputasie kon slegs die Transvalers in hul stryd bemoedig. Hy het belowe dat hy die wense van die deputasie aan die Imperiale regering bekend sou maak. Self kon hy hieroor geen besluit neem nie. Kaapland se houding het die Volkskomitee, wat nog altyd wakker geloop en aan die beweging teen anneksasie leiding gegee het, gesterk.

Nuwe besluite by Wonderfontein

Op 10 Desember 1879 en die daaropvolgende dae is ‘n volksvergadering, deur dié komitee belê, weer op Wonderfontein gehou, nieteenstaande Solseley se verbod daarop. Daar is die soewereiniteit van die koningin van Engeland openlik deur 6 000 burgers gerepudieer. Belangrike besluit is op die 15de geneem: Die volk van die Suid-Afrikaanse Republiek was nog nooit onderdane van die Britse konining nie en wil dit ook nie wees nie; die volk verlang dat die regering van die Republiek so spoedig moontlik sy werksaamhede sal hervat en dat die Volksraad so spoedig moontlik byeengeroep word; en eindelik beloof die volk om die onafhanklikheid tot die dood toe te verdedig.(23)

(23)Staats Courant van de Z.A.R., 1881, p. XII

‘n Nasie het nou tot volle ontwaking gekom. Die stryd kon begin. Op 15 Desember is nog meer voorgestel.(24) Niemand sou iets koop van, of verkoop aan, enige persoon wat saamwerk met die Britse regering teen die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Republiek nie. As die anneksasie nie teen 6 April ongedaan gemaak word nie, sou alles wat in die Engelse taal geskryf en in burgers van die Republiek se besit was, vernietig word. Engelse skole sou verder nie ondersteun word nie; in die huise sou die Engelse taal geweer word; en geen gasvryheid sou aan Engelse of hul ondersteuners betoon word nie.

(24)Heyns, op. cit., p. 234

Die Volkskomitee wou graag die besluit uitvoer, maar tyd was nodig om die voorlopige maatreëls te tref. Die volgende vergadering is vir 6 April by Paardekraal belê, by welke geleentheid die Suid-Afrikaanse Republiek herstel sou word.(25) Die Wonderfonteinse byeenkoms en wat daar plaasgevind het, het die bewys gelewer dat die tyd van mooipraat, memories, deputasie en onderhandelinge verby was. Byna drie jaar is ‘n politiek van lydelike verset sonder gevolg toegepas. Die wapens waarvan sommige dikwels al melding gemaak het, sou nou opgeneem word.

(25)Ibid.,p. 233

Sir Garnet Wolseley was intussen genoodsaak om, nieteenstaande alles wat Shepstone voorheen oor die Boere en Sekoekoenite sê gehad het, die wapens teen die Bapedihoofman op te neem. Ná ‘n bloedige stryd het Wolseley in Desember as oorwinnaar na Pretoria teruggekeer. Hy was ontevrede omdat die vergadering by Wonderfontein, ondanks sy verbod, tog gehou was. Hy moes iets doen. Daarom het hy W.E. Bok en M.W. Pretorius laat arresteer. Hulle was onderskeidelik sekretaris en voorsitter van die Volkskomitee en ondertekenaars van die brief wat hom die besluite van Wonderfontein bekend gemaak het. Spoedig was minstens 300 burgers onder die wapen om Pretorius te bevry; Bok was reeds uit op borgtog. Slegs Pretorius se dringende versoek en Kruger se pleidooi om geen geweld te gebruik nie, het ‘n botsing op dié tydstip verhoed. Pretorius is ook op borgtog vrygelaat en kort daarna het die Britte hom ‘n setel in die Uitvoerende Raad aangebied. Hy het, soos Kruger reeds voorheen gedoen het, dit geweier.(26)

(26)Ibid., p. 235

Wolseley het dwang gebruik en toe weer die aanloklikheid van ‘n posisie van gesag aan die voorsitter van die Volksraad aangebied. Die Brit was blykbaar in die nou, maar ook die Boere-voormanne was met die Volksbesluite van Wonderfontein ‘n bietjie verleë. Dit was geen kleinigheid om die besluite uit te voer nie. Dit was ook nie wenslik nie, want omstandighede was t.g.v. verdere uitstel. In Groot-Brittanje was die Liberale Party teen die anneksasie van Transvaal gekant. Gladstone het dit in sy verkiesingsveldtog baie duidelik gestel. Die tweede deputasie het reeds daarvan kennos geneem en daar was rede om aan te neem dat Gladstone die verkiesing sou wen.

Die Boere het hul vertroue in hom gestel. Hy het dit waansinnig genoem dat vrye onderdane van ‘n monargie die vrye onderdane van ‘n republiek wil dwing om ‘n burgerskap teen hul sin te aanvaar. “Is it not wonderful to those who are freemen … that we are to match upon another body of freemen, and against their will to subject them to despotic government.”(27)

(27)Leyds, op. cit., p. 319 en 386

Die Liberale Party het in Groot-Brittanje die verkiesing gewen en Gladstone het aan die bewind gekom. Maar soos elke regering in sekere mate verplig is om die erfenis van sy voorganger te aanvaar, was dit ook hier die geval. Die leier van die opposisie het as eerste ministers anders oor die anneksasie gedink, en op ‘n skrywe van Mei 1880 van Kruger en Joubert geantwoord dat sy regering die teruggawe van Transvaal nie by die Koningin kon aanbeveel nie.(28) So het die hoop op Gladstone ook beskaam.

(28)Manfred Nathan, op. cit., p. 147

Afvaardiging na Kaapkolonie

Intussen is die vergadering wat vir 6 April 1880 belê was, uitgestel en is Kruger en Joubert deur die Volkskomitee in Maart na die Kaap afgevaardig om te probeer om die konfederasieplan van sir Michael Hicks-Beach te laat skipbreuk ly. Want as ‘n konfederasie van die Suid-Afrikaanse gewese eenmaal tot stand kom, sou dit nog moeiliker gaan om die anneksasie van Transvaal ongedaan te maak. In die Kaapkolonie is Kruger en Joubert deur hul volksgenote met ope arms ontvang. Paarl, Malmesbury e.a. plekke het groot belangstelling aan die dag gelê. Die Kaapse parlement het Hicks-Beach se konfederasieplan laat verongeluk. Die sending uit Transvaal het geslaag.(29)

(29)Ibid., p. 146

Soos so dikwels voor dié tyd en daarna, het Groot-Brittanje se verteenwoordigers in Suid-Afrika die Imperiale regering verkeerd ingelig. Sir Garnet Wolseley was een van  hulle. Die afwesigheid van wapengeweld en van opruiende en onverantwoordelike taal, en die toesegging van die burgers om die belastings onder protes te betaal, het hy vir tevredenheid aangesien, en in dié sin aan die Britse regering verslag gedoen.

Onder hierdie toestand van skynbare onderdanigheid is voorbereidsels vir die komende stryd in stilte getref. Om geen aandag te trek nie, is wapens en ammunisie drupsgewyse versamel. Daar moes egter handelend opgetree word, en andermaal is ‘n vergading van die volk belê, dié keer  by Paardekraal vir 8 Januarie 1881.

Die Britse regering het tot die insameling van belastings oorgegaan. ‘n Sekere P.L. Bezuidenhout het geweier om gehoor te gee aan ‘n dagvaarding om agterstallige belasting. ‘n Groter bedrag is aangegee as wat  hy verskuldig was, het hy verklaar. Die hof op Potchefstroom het beslag gelê op sy wa om dit ten bate van die eis teen hom te verkoop. Kommandant Piet Cronjé, die latere man van Doornkop en Paardeberg, het egter met ‘n aantal burgers opgedaag, die balju verdryf en die wa teruggeneem. Dit was ‘n daad met ‘n doel, geneem in die volle bewustheid van wat die gevolge sou wees.

Uit Potchefstroom het berigte Piet Cronjé bereik dat ‘n Britse mag uitgestuur sou word om hom gevange te neem. Met ‘ n aantal manskappe het hy by Schoonspruit laer opgeslaan. Daar het Paul Kruger hom besoek, en ook George Hudson, koloniale sekretaris van Transvaal. Hudson het van die geweld i.v.m. die wa-voorval gepraat, van die weiering om belastings te betaal en Cronjé en Bezuidenhout as die skuldiges genoem. Hierop het Kruger opgestaan en eindelik die hoë woord gespreek. Hy het aan Hudson gesê hy moet verstaan dat dit nie meer ‘n saak tussen die Britse regering en Cronjé en Bezuidenhout en die wa is nie: dit is nou ‘n saak tussen die Britse regering aan die een kant en die Suid-Afrikaanse Republiek aan die ander kant. “I understand,” het Hudson geantwoord.(30) En saam met Hudson het iedereen dit ook so verstaan.

(30)Herinneringe van Generaal Piet Cronje, in Engels vertaal deur kapt. Jack Hindon. (Private versameling)

Suid-Afrikaanse Republiek herstel

Gebeurtenisse het mekaar hierna snel opgevolg. Paul Kruger en Piet Joubert het onmiddellik ‘n vergadering van die Volkskomitee vir 1 Desember belê. Die Komitee het die volksvergadering van 8 Januarie 1881 vervroeg tot 8 Desember 1880 en Paardekraal as versamelplek bepaal. Ondanks die proklamasie van sir Owebn Lanyon wat die vergadering verbied het, was daar op die bepaalde dag reeds vier- tot vyfduisend Transvalers byeen. Drie dae later is besluit om uitvoering te gee aan die besluite van 15 Desember 1879 op Wonderfontein.

Die ou Volksraad, wat in sulke treurige omstandighede in april 1877 verdaag was, het op die 13de van hierdie belangrike Desember maand weer vergader asof hy nog altyd die hoogste wetgewende gesag van Transvaal was.(31) Trouens, volgens ‘n uitspraak van regter Kotzé wás hy dit. Die Britse regering het geen haas getoon om aan die aangebore begeerte van die Boere om hulself te regeer, bevrediging te gee nie.

(31)Staats Courant van die Z.A.R., 1881, p. XII

Dat die Transvaler in blote selfbestuur, sonder volslae staatkundige onafhanklikheid, sou berus, was ondenkbaar. Die Britse regering het in elk geval nie versoening langs dié weg probeer bewerkstelllig nie. Transvaal het gebuk gegaan, eers onder die willekeurige bestuur van Wolseley en Lanyon, en later meer bepaald onder dié van Lanyon.(32)

(32)C.W. de Kiewiet: The Imperial Factor in South Africa, p. 247 en verder

Die herstelde Volksraad het die bestuur van die land opgedra aan ‘n driemanskap: Paul Kruger, M.W. Pretorius en P.J. Joubert. Die Suid-Afrikaanse Republiek was herstel! Heidelberg is as voorlopige setel van die regering gekies en die regering het daarheen verhuis. In naam van die volk van die Republiek en “onder biddend opzien tot God”, het die driemanskap as die voorlopige opperbestuur van die Republiek op 16 Desember ‘n proklamasie uitgevaardig: “Wij geven dus aan iedereen te kennen, dat op den 13den December 1880 de Regeering is hersteld.”(33)

(33)Staats Courant., 1881, art. 31

Vyandelikhede by Potchefstroom

Op dieselfde Geloftedag in 1880 het die eerste skoot geval. Piet Cronjé was met ‘n burgerkommando op Potchefstroom om die proklamasie te laat druk. Die Britse garnisoen het homself in staat van verweer gestel en deur ‘n skoot uit ‘n Engelse kamp is kmdt. Robbertse van Rustenburg gewond. Die eerste Voortrekkerdorp in Transvaal het die toneel van stryd geword. Ná ‘n paar skermutselinge op die dorp het Clarke, die Britse spesiale kommissaris op Potchefstroom, hom op die 18de oorgegee. Kol. Winsloe, in bevel van die Engelse kamp buite Potchefstroom, het hom nie deur Clarke se oorgawe gebonde geag nie en die gevegte is voortgesit. Winsloe het hom eers op 21 Maart 1881 oorgegee. Ook Rustenburg was vroeg in die Boere se besit, maar die kamp buite die dorp het tot die einde uitgehou.

Op die dag nadat die vyandelilkhede openlik uitgebreek het, het die reering uit Heidelberg van sir Owen Lanyon die oordrag van die landsbestuur aan die driemanskap binne 48 uur geëis.(34) Lanyon se verwerping van hierdie ultimatum van “rebelle” het die oorlog amptelik aan die gang gesit.

(34)Ibid., p. XV

Op die vernaamste Transvaalse dorpe was Britse garnisoene gestasioneer. Die een in Lydenburg was onder bevel van kol. Philip Anstruther. Om sy opmars na Pretoria te belet, is kmdt. Frans Joubert (daarna bekend as “Frans Held”) uitgestuur. Joubert het Anstruther se afdeling reeds aan die Honderivier by Bronkhorstspruit aangetref. Anstruther se afdeling het uit 257 man bestaan; Joubert het 200 man onder hom gehad. Die Britse bevelhebber is versoek om nie verder te trek nie. Getrou aan sy bevele het Anstruther volgehou dat hy na Pretoria gaan. ‘n Hewige geveg van minder as 20 minute het plaasgevind. Self dodelik gewond, het Anstruther beveel om die wit vlag te hys. Sowat twee-derdes van sy manne was dood of gewond. Die res is gevange geneem. Twee burgers het gesneuwel. Die buit was aansienlik. Wapens en ammunisie was veral waardevol.(35)

(35)Theal: History of South Africa 1873-1884., Vol. II, p. 120

Boere se oorwinning by Laingsnek

Die gevaar vir die Republiek was nie soseer die Britse garnisoene in Transvaal nie: die Britse troepe in Natal moes belet word om die land binne te dring. Dié taak het kmdt.-genl. Piet Joubert op hom geneem. Die opperbevelhebber van die Britse strydmag was sir George Pomeroy Colley. Genl.Joubert het aanvanklik 800 man tot sy beskikking gehad, terwyl genl. Colley aan die hoof van 1 400 gestaan het. Met drie- tot vierhonderd man het Joubert by Laingsnek posisie ingeneem. In die besonder gunstige posisie vir verdedingsdoeleindes het hy hom verskans. Drie en ‘n half myl verder het Colley sy kamp by Mount Prospect opgeslaan.

Op 28 Januarie 1881 het hy sy kamp met ongeveer 1 100 man verlaat en teen die Boere by Laingsnek opgeruk. Ses veldkanonne en twee vuurpylbuise het op Joubert se kommando losgeb rand en aansienlike skade aangerig. Die Britte het dapper geveg. Hul ruitery het selfs daarin geslaag om die Boere se stellings binne te dring, maar so dodelik was die geweervuur van die Transvalers dat Colley verplig was om dié nag die aftog te blaas. Ná berekening was die verliese aan Britse kant sowat 240 offisiere en manskappe. Die Boere se verliese was 14 dood en 28 gewond.(36)

(36)Staats Courant van de Zuid-Afrikaansche Republiek, 9 Februarie 1881, Deel I, No. 5, p. 22

Die Boere het hul oorwinning met ‘n inval van 250 man onder genl. Nicolaas Smit in Natal opgevolg. Die bedoeling was om Colley se verbinding met Pietermaritzburg af te sny. Dit sou sy posisie baie bemoeilik en daarom het hy op 8 Februarie met ongeveer 400 man in die rigting van die Boerekommando opgeruk. Die twee troepe-afdelings het op dié dag by Skuinshoogte, naby Ingogo, slaags geraak. Slegs die naderende duisternis, saam met swaar reënbuie, het ‘n einde aan die dat se stryd gemaak.

Daardie aand het Colley na sy kamp by Mount Prospect teruggetrek. Sy verliese was 76 dood en 67 so ernstig gewond dat hulle op die slagveld bly lê het,. In vergelyking met die vyand was die ongevalle aan Boerekant, net soos by Laingsnek, betreklik gering, nl. agt dood en ses gewond.(37)

(37)Theal, op. cit., bl. 123. Sien ook Staats Courant 2 Maart 1881, p. 34

Kaapse steun vir Transvalers

Die Transvalers, wat met soveel dapperheid geveg het, het sedelike steun uit die twee Britse kolonies ontvang en meer as dit uit die suster-republiek. John X. Marriman, die Kaapse staatsman, het kort ná die aanvang van die Vryheidsoorlog gewaarsku dat die stryd in Transvaal weerklank onder die Afrikaners in Kaapland sou vind en dat die vergote bloed in Transvaal die saad sou wees van voortdurende bitterheid tussen Boer en Brit in Suid-Afrika.(38) Die predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaapkolonie het hulle vier dae voor die slag van Amajuba in dieselfde gees uitgespreek en daarby gevoeg dat Transvaal met niks minder as sy onafhankilikheid tevrede sou wees nie.(39)

(38)Argief-Jaarboek 1940, Deel. I, pp. 265-266

(39)Staats Courant 16 Maart 1881, p. 45

O.V.S. se aandeel

Pres. Brand het die Vrystaters se vertroue gehad. Maar mettertyd het hy sy vat oor hulle t.o.v. Transvaal verloor. Toe die oorlog openlik uitbreek, het hy die Vrystaat afsydig verklaar en verhoed dat die Volksraad besluite neem wat die staat by Briuttanje in gedrang kon bring. Maar die Vrystaatse burgers self het hul gevoelens nie verberg nie. Party het hulle by die Transvalers aangesluit, o.a. kmdt. C.J. de Villiers, wat aan Brand laat weet het dat hy hom self moes kom haal as hy hom daar wou weg hê. Kruit en ammunisie is na Transvaal gesmokkel. Hospitaalbenodigdhede, klerasie en geld is gestuur.(40)

(40)J. van der Merwe, op. cit., p. 331

Brand se vredespoging

Namate die Vrystaat meer openlik Transvaal begin steun het, het pres. Brand hom meer as ooit beywer om ‘n einde aan die oorlog te maak. Dit was nodig, as hy die Vrystaat uit die gevegte wou hou. Die gevaar was groot dat die oorlog tot ‘n stryd tussen Afrikaners en Engelse oor die hele Suid-Afrika kon ontwikkel. Reeds in Desember 1880 het Brand op Colley ‘n beroep gedoen om oorlog te voorkom.

Van alle kante is Brand genader as die aangewese man om ‘n oplossing wat die partye sou bevredig, te vind. Hy was bereid om as bemiddelaar op te tree. Onder sy invloed het lord Kimberley meer versoenend geword. Hy het Colley op 8 Februarie versoek om pres. Brand te vra om aan die Transvalers mee te deel dat, as hulle die wapens neerlê, Brittanje alles in sy vermoë sou doen om ‘n blywende oplossing uit die moeilikhede te vind.

Brand het die Boere-voormanne tot onderhandelinge aangespoor. Paul Kruger het hierop gehandel en was bereid om die Natalse stellings te ontruim as die anneksasie herroep en die Britse garnisoene uit Transvaal verwyder word. Daarna kon ‘n koninklike kommissie van ondersoek op die hele aangeleentheid ingaan.(41)

(41)Staats Courant 2 Maart 1881, p. 33

Lord Kimberley is van Kruger se voorstelle verwittig. Hy het Colley meegedeel dat die kommissie met uitgebreide magte benoem sou word as die verset gestaak word. As die Boere die voorstel aanvaar, moes Colley die vyandelikhede beëindig. Vyf dae later, op 21 Februarie, ht colley ‘n wapenstilstand onder dié voorwaardes aangebied. Hy het die Boere 48 uur tyd gegee omdaaroor te besluit. Kruger was toe juis weens moeilikhede met inboorlinge by Rustenburg uit Heidelberg afwesig en kon nie onmiddellik op Colley se voorstel antwoord nie.(42)

(42)Ibid

Colley was begerig om die garnisoene in Transvaal te ontset. Hy moet ook besef het dat sy reputasie op die spel gestaan het indien met opstandige “Bitse onderdane” ‘n vrede deur onderhandeling gesluit sou word, sonder dat hy sy neerlae gewreek het. In die nag van 26 Februarie het hy ‘n waagstuk onderneem wat hom die volgende dag sy lewe gekos het.

Die geveg op Amajuba

Laingsnek word deur die bergpunt Amajuba beheers. As Colley in besit van Amajuba kon kom, dan sou die burgers verplig wees om die stellings by Laingsnek te ontruim, en die weg na Transvaal sou oop wees. In die stilte van die nag het Colley daarin geslaag om met sowat 550 man net voor dagbreek die berg te beset. Dit was ‘ n onaangename verrassing vir Piet Joubert en sy manne, toe hulle op Sondagoggend, die 27ste, die “Rooibaadjies” op Amajuba gewaar. Hulle moes daar af, het kmdt.-genl. Joubert beveel.

In die vaste vertroue dat God hulle lei, het 150 Boere, deur burgeroffisiere D. Malan, S. Roos en J. Ferreira aangevoer, Amajuba bestyg. Teen die middel van die dag was 70 tot 80 man op die kruin van die berg. Die geveg was warm en kort. Die Britte het paniekerig geraak en het in verwarring gevlug. Die dappere sir George Colley het tevergeefs geprobeer om hulle te keer. Hy self met 92 offisiere en manskappe het die lewe gelaat; 134 offisiere en manskappe is gewond, 53 is krygsgevangeg eneem. Aan Boerekant was die verliese een dood en vyf gewond.(43)

(43)Heyns, op. cit, p. 379

Dit was die einde van die gewapende stryd. Die eerste skote het op 16 Desember 1880 te Potchefstroom geval. Amajuba, op27 Februarie 1881, was die laaste slag.

By Potchefstroom het Winsloe se kamp die beleg teen genl. Cronjé uitgehou. Ook die ander beleërde dorpe – Pretoria, Lydenburg, Rustenburg, Marabastad, Marhinus-Wesselstroom en Standerton – het die verset volgehou. By hierdie plekke is meer as 2 000 burgers onder die wapen vasgehou. Die aantal weerbare manne op dié tydstip was sowat 7 000, van wie minder as die helfte onder die wapen was. Aan die Natalse grens was 1 200man, en al hoe meer Vrystaatse burgers het hulle begin aansluit. Die oorlog kon dus nog lank en swaar wees wanneer al die magte ingewerp word.

Die Britse houding

Die Boere-oorwinnings het die Britse regering in ‘n uiters moeilike posisie geplaas. Daar is om wraak geroep. Ter wille van sy prestige kon Brittanje alleen aan ‘ n vredesluiting deelneem as dit “peace with honour” was. Sedert die begin van die oorlog is die Britse strydmagte versterk. Hulptroepe het uit Indië, Gribraltar e.a.dele van die Ryk in Natal aangekom. Meer is gestuur en meer kon gestuur word,maar Brittanje was in geen populêre oorlog betrokke nie, en die Gladstone-bewind was tot vrede geneig. Die meerderheid van sy eie party was egter teen die herstel van die Suid-Afrikaanse Republiek se staatkundige vryheid.(4)

(44)Argief-Jaarboek 1940, Deel I, p. 271

Maar Gladstone het ook tuis sy Ierse vraagstuk gehad. En die afkeer van die Britse optrede in Transvaal het onder die Afrikaners in die Britse kolonies steeds toegeneem, sodat lord Kimberley, minister van kolonies, vir openlike aansluiting by die Republiek gevrees het. Daar was nog altyd die gemeenskaplike Bantoegevaar. Die strydende partye het vrede verwelkom. Op die dag ná die slag van Amajuba, en onbewus van Colley se dood, het Kruger gunstig op sy voorstelle geantwoord.(45)

(45)Staats Courant 2 Maart 1881, p. 33

Pres. Brand was diep teleurgestel dat nog meer bloed vergiet was. Hoe lank sou hy die Vrystaat uit die stryd kon hou? Op 7 Februarie nog het Paul Kruger se staatsekretaris, W. Eduard Bok, ‘n beroep op die Vrystaatse President en Volksraad gedoen om steun . Met die gevleuelde woorde: “Hetzij wij overwinnen, hetzij wij sterven, de vrijheid zal in Afrika rijzen als de zon uit die morgenwolken…” het hulle aan die Vrystaat en aan die wêreld bekend gemaak dat Transvaal bereid was om die stryd vir sy vryheid enduit te voer. Asof geïnspireer, het Brand verseker dat, as Transvaal hom tot onderhandelinge bereid verklaar, en hom so selfs ná sy oorwinnings die minste betoon, die Republiek sy onafhanklikheid onder sekere voorwaardes sou terugkry. Brittanje kon alleen ‘n vrede sluit wat betaamlik was vir sy posisie in die wêreld.(46) Dit was vir Brittanje ‘n saak van eer.

(46)J. van der Merwe, op. cit., p. 331

Wapenstilstand

Genl. Piet Joubert en genl. Sir Evelyn Wood, wat Colley vervang het, het ingestem om die stryd te staak en op 6 Maart is ‘n wapenstilstand gesluit. Kort daarop het die Imperiale regering onderneem om die Boere-voormanne nie as rebelle te vervolg nie, maar met hulle te onderhandel as die wettige verteenwoordigers van die volk. Daarna is sir Hercules Robinson, sir Henry de Villiers en sir Evelyn Wood as lede van die koninklike kommissie benoem en hul opdrag in breë trekke bekend gemaak.

Oor die samestelling van die kommissie het die vredesonderhandelinge by Laingsnek byna skipbreuk gely. Die Transvaalse voormanne het daarop aangedring dat twee van vyf lede Transvalers moes wees en die Britse regering was nie daarvoor te vinde nie. Ten tweede het die Engelse verteenworodigers daarop aangedring dat die Boere die stellings moes ontruim en die kommando’s ontbind, terwyl die Boere die teeneis gestel het dat die Britse garnisoene eers Transvaalse grondgebied moes verlaat.(47)

(47)Heyns, op. cit., p. 388

Lord Kimberley wou geen Boere in die kommissie toelaat nie. Die Transvaalse gebied sou ingekrimp word. Oor die bestuursvorm wat die land sou kry, het hy hom nie duidelik uitgespreek nie. Alles het by die Boere die indruk gelaat dat hul goeie reg vertrap en alles waarvoor hulle gestaan het, aan die eer van die Britse kroon opgeoffer sou word. Sake het ‘n ernstige wending geneem. Dr. Jorissen het ‘n stuk opgestel wat sedertdien as die Derde Proklamasie bekend geword het. Die Transvalers was bereid om die stryd te hervat en liewer die land te vernietig as om hulle te onderwerp. Hul voorbeeld was Willem van Oranje.

Bemiddeling van Brand

Op dié tydstip het pres. Brand op die toneel verskyn waar die onderhandelinge gevoer is. As onpartydige vriend en raadgewer het hy die vergadering tussen die Boere en die Britse verteenwoordigers op 21 Maart 1881 bygewoon. Die Transvalers het afgesien van die eis om verteenwoordiging in die kommissie en onmiddellike verwydering van die Britse garnisoene in Transvaal.

‘n Ooreenkoms is bereik waardeur Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius onderneem het om Britse susereiniteit te aanvaar. In die woorde van sir Evelyn Wood het dit beteken “the country has entire self-government as regards its own affairs, but that it cannot take action against or with an outside power without the permission of the Suzerain”. ‘n Britse resident sou in die hoofstad ontvang word en die reëling van die betrekkinge tussen Transvaal en Groot-Brittanje en die Bantoes sou aan die koninklike kommissie oorgelaat word. Die reg van Transvaal op volkome selfbestuur is erken. Die regering van die land sou binne ses maande in die hande van die Boere oorgaan.(48)

(48)Staats Courant 30 Maart 1881, p. 47

Koninklike kommissie se werk

Die oorlogstoestand was verby en alles het weer onder die gewone beskerming van die wet geskied. Die koninklike kommissie het sy werksaamhede aanvaar. Van Boerekant is aan die beroemde driemanskap, met dr. Jorissen en nog drie ander, opgedra om die Transvaalse belange voor die kommissie te behartig. Die kommissie het sy sittinge in Newcastle in Natal begin en dit later in Pretoria voorgesit. Die resultaat van sy arbeid is in ‘n ontwerp-ooreenkoms, wat as die Konvensie van Pretoria bekend geword het, saamgevat.

Die Konvensie van Pretoria

Die konvensie is op 3 Augustus 1881 deur die lede van die koninklike kommissie aan die een kant en deur die driemanskap aan die ander kant onderteken. Van dié dag af het Transvaal weer volkome selfbestuur verkry, onderworpe aan die susereiniteit van die Britse kroon en aan ‘n reeks voorwaardes, waarvan die volgende die vernaamste was:

Die gebied sou voortaan bekend wees as die Transvaalstaat. Die Britse kroon sou die reg hê om ‘n Britse resident, met sekere omskrewe magte en pligte, aan te stel. Verder sou die Kroon die reg hê om in tyd van oorlog troepe deur Transvaal te stuur, eindelik die reg van beheer oor die buitelandse betrekkinge van Transvaal, met inbegrip van die sluiting van verdrae. Wette betreffende Bantoes moes ter bekragtiging aan die Britse resident voorgelê word.

Die skulde wat voor die anneksasie gemaak is, en die wettige uitgawe vir die bestuur van die staat sedert die anneksasie aangegaan, sou deur die Transvaalse regering gedra word, benewens sekere skadevergoeding wat bepaal sou word. Die wesgrens van die Republiek word ingekort. ‘n Gekokse Volksraad moes die konvensie binne drie maande bekragtig, anders sou dit van nul en gener waarde wees.(49)

(49)G.W. Eybers: Select Constitutional Documents Illustrating South African History, pp. 455-463

“Wy teekenen deze Conventie met een zwaar hart.”(50) So was dit. Daar was rede voor. Maar voortsetting van die stryd sou na;sionale selfmoord beteken het. Die koninklike kommissie het minder toegegee as wat die Boere uit die voorwaardes van Laingsnek verwag het. Ook die kommissie was gebonde. Die Engelse volks moes tevrede gestel word. Die Britse eer moes gered word – en die Britse eer was meer as die Transvaalse reg. “Gij vecht voor de eer, wij voor ons recht,” sou Piet Joubert nie sonder aanleiding nie eenmaal aan sir Evelyn Wood gesê het.

Wy teekenen deze Conventie met een zwaar hart.”(50) So was dit. Daar was rede voor. Maar voortsetting van die stryd sou nasionale selfmoord beteken het. Die koninklike kommissie het minder toegegee as wat die Boere uit die voorwaardes van Laingsnek verwag het. Ook die kommissie was gebonde,. Die Engelse volks moes tevrede gestel word. Die Britse eer moes gered word – en die Britse eer was meer as die Transvaalse reg. “Gij vecht voor de eer, wij voor ons recht,” sou Piet Joubert nie sonder aanleiding nie eenmaal aan sir Evelyn Wood gesê het.(51)

(50)Heyns, op. cit., p. 404

(51)J.F. van Oordt, op. cit., p. 348

Konvensie bekragtig

Ook die Volksraad sou die konvensie met ‘n swaar hart bekragtig. Die besware teen die konvensie was so opvallend dat die lede se aandag nie kon ontgaan nie. Met erkenning van die Britse susereiniteit – ‘n vae woord, vir allerlei uitlegte vatbaar – en die reëling van die diplomatieke verkeer met die buiteland, was die onafhanklikheid nie volkome herstel nie; die vestiging in Pretoria van ‘n Britse resident (‘n konsulêre verteenwoordiger is iets anders) h et te veel bemoeiing in die binnelandse bestuur van die land in die vooruitsig gestel; die inkorting van grondgebied aan die wesgrens en die skuldelas wat op Transvaal gelê is; die vrye deurvoer van Britse troepe deur Transvaal in tyd van oorlog, was soveel voetangels vir die toekoms.(52)

(52)Volksraadsnotule 23 September 1882 en volgende dae

Voor die goedkeuring van die konvensie het die driemanskap in opdrag van die Volksraad nog op 3 Oktober per telegram die Britse regering gevra om af te sien van die bepalinge omtrent die magte wat vir die Britse kroon voorbehou is, en die magte en pligte wat aan die Briste resident toevertrou word.(53) Tien dae later het Gladstone geantwoord dat hy geen wysigings kon aanvaar nie en dat die konvensie nou in die praktyk getoets moes word.

(53)Ibid., 5 Oktober 1881, art. 57

Die Volksraad het die konvensie hierop goedgekeur. Dit het die toets van die praktyk nie deurstaan nie. Gedagtig aan die meer as vier jaar van Britse anneksasie, het die volk die konvensie, ondanks die beperkinge wat op sy staatkundige vryheid gelê is, met ‘n gevoel van dankbaarheid aanvaar.

Spoedig het die onuitvoerbaarheid van die konvensie egter geblyk. Die eerste haakplek het hom, onmiddellik nadat die konvensie in werking getree het, voorgedoen. In die onderhandelinge wat die konvensie voorafgegaan het, en in die artikels van die konvensie self, is steeds van die Transvaalstaat gepraat. Maar die naam Suid-Afrikaanse Republiek het ‘n mooi klank en ‘n geskiedenis van 30 jaar gehad. En die regering van die vrygeworde staat het dadelik die naam in eer herstel. Van Britse kant is beswaar gemaak. Dit sou skending van die konvensie wees. Brittanje het vasgehou aan “Transvaal-staat”; die Volksraad en regering aan “Suid-Afrikaanse Republiek”.(54)

(54)Argief-Jaarboek 1941, Deel I, pp. 296-298

Vroeg in die jaar ná die vredesluiting was daar verdere tekens van toekomstige wrywing. Die groot Geloftefees van 1881 op Paardekraal, bygewoon deur minstens 10 000 feesgangers en ook deur Hudson, die Britse resident, het goed verloop. By die feesmaal is volgens program op die Koningin van Brittanje ook ‘n heildronk ingestel. Hudson was in sy skik. Maar ná Nuwejaar 1882 het dit hom opgeval dat die onafhanklikheid, die Volksraad en die driemanskap in dié volgorde op die lys van heildronke die voorrange geniet het.

Dit het hom gekwel of hy reg gedoen het deur die feesmaal in dié omstandighede by te woon. Hy het leiding van sir Hercules Robinson gevra. Robinson het hom tot lord Kimberley gewend, wat aanbeveel het dat die resident in die vervolg hom eers daarvan moes vergewis of die Koningin by sulke geleenthede met die verskuldigde eerbied behandel sou word voordat hy ‘n uitnodiging aanneem.(55)

(55)Ibid., pp. 294-296

Uit sulke nietighede blyk in watter rigting daar beweeg is. Dit was duidelik dat die politieke orde in Suid-Afrika met die vernietiging van die Sandrivier-Konvensie versteur was. Die Pretoria-Konvensie het dit nie reggemaak nie. Die politieke rus en orde kon alleen herstel word as teruggegaan word na die plegtige Traktaat van Sandrivier. En dit wou Brittanje nie doen nie.

Die inkrimping van die Republiek se grense deur die Keate-uitspraak is deur pres. Burgers reeds voorkom deur die ooreenkomste met die betrokke Bantoehoofde om die verlore gebiede aan die Suid-Afrikaanse Republiek af te staan.(56) Hoewel die Britse regering hierdie afstand van grondgebied nooit erken het nie, is dit hoogs waarskynlik dat Brittanje die gebied as ‘n deel van Transvaal sou beskou het as hy die geleentheid daartoe tydens die anneksasieperiode verkry het.

(56)S.P. Engelbrecht, op. cit., p. 129

Die wesgrens-kwessie

Die koninklike kommissie het hier die saad vir toekomstige botsing gesaai. Onoordeelkukndig is ‘n grenslyn deur die betwiste streek bepaal en wel so dat inboorlinghoofde wat buite die Republiek geval het, aanspraak gemaak het op die onderdaanskap van hoofmanne binne die Republiek se grense. Dit het tot onderlinge stryd onder die Bantoes gelei. Burgers van die Republiek het aan die stryd deelgeneem.(57) Dit is van owerheidsweë belet, maar sonder gevolg.

(57)J.A.I. Agar-Hamilton: The Road to the North., p. 188

Hoogstens het kmdt.-genl. Piet Joubert daarin geslaag om die vrede binne die grense van die Republiek te bewaar. Die Transvaalse regering het versoek dat Brittanje tussenbeide moes tree en die orde herstel, of die hele aangeleentheid vir ‘n oplossing aan die Suid-Afrikaanse Republiek oorlaat. Die Britse regering was nie bereid om een van die voorstelle te aanvaar nie en het aangedring op handhawing van die onmoontlike grenslyn soos deur die konvensie vasgelê, en op onsydigheid van die Republiek.(58)

(58)Pieterse, Transvaal en |britse Susereiniteit, pp. 311-312

Die posisie van die Republiek was besonder moeilik. Volgens die konvensie kon hy nie sonder tussenkoms van die resident teen swart buurstate optree nie. Maar ‘n oplossing, hoe ook al, moes gevind word. Deur bemiddeling van blanke vrywilligers, en daartoe beweeg of gedwing, het Mankoroane, opperhoof van die Batlapin, in September 1882 sy gebied aan die Republiek afgestaan. David Massow, opperhoof van die Korannas, het dieselfde gedoen. In Oktober van daardie jaar het die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek die hoofmanne kennis gegee dat die sessies aanvaar word.

Natuurlik het die Britse resident hierdie stap van die Republiek as ‘n skending van die konvensie bestempel. En dit was dit ook. Maar op een of ander wyse moes ‘n einde aan die verwarring aan die suidwestellike grens gemaak word. Die konvensie het die grense van die Republiek vastel en dié sou nou gewysig word; die regering het met Bantoes buite sy grense onderhandel – ‘n saak wat vir Brittanje deur sy resident in die konvensie uitgehou is. Maar Brittanje het geen beter oplossing aangebied nie. Op hierdie punt moet die bepalinge van die konvensie verantwoordelik gehou word. Omstandighede, daardeur in die lewe geroep, het bewys gelewer dat die tyd vir hersiening van die konvensie aangebreek het. Langer as ‘n jaar het die vraagstuk van die suidwesgrens die verhouding tussen Brittanje en die Suid-Afrikaanse Republiek gespanne gehou.

Lord Kimberley opgevolg

Voordat die Britse regering verdere stappe gedoen het, het lord Derby in Desember 1882 lord Kimberley as minister van kolonies opgevolg. Tot nog toe het susereiniteit te veel beteken toesig  hou in die ongunstige sin van die woord en die gedagte aan samewerking geheel en al uitgesluit. Onder Derby se leiding sou daar verandering ten goede kom.

Tot ‘n deel van die Britse pers en publiek en Britse staatsliede het die oortuiging ook langsamerhand deurgedring dat die konvensie ‘n onbevredigende reëling van die moeilikhede in Transvaal was. Paul Kruger, wat in 1883 tot President verkies was, gesteun en aangemoedig deur dr. E.J.P. Jorissen, wat so veel vir Transvaal in dié dae beteken het, het sy geloof in die regskapenheid van Britse staatsmanne soos Gladstone uitgespreek, maar ook die onrusstokers wat van die Bantoes ‘n speelbal gemaak het om die goeie betrekkinge tussen Brittanje en die Suid-Afrikaanse Relpubliek te bedef, as oorsaak van al die moeilikhede aangekla.

Derde afvaardiging na Londen

Die tyd was gunstig om wysiginge van die konvensie te opper. In nie-amptelike hoedanigheid is Jorissen vooruit na Engeland. Nadat hy Derby gepos en dié se mening oor Transvaalse toestande verneem het, het hy sy regering ingelig, en ‘n oplossing vir die vernaamste besware teen die Konvensie van Pretoria in die vooruitsig gestel.(59)

(59)Dr. E.J.P. Jorissen: Transvaalsche Herinneringen, 1876-1896, pp. 124-126

Op 14 Junie 1883 is die Britse regering gevra of hy ‘n deputasie van Transvaal sou ontvang om oor hersiening van die konvensie te beraadslaag. Nede dae later het Brittanje ingestem. Die Volksraad het dadelik gehandel en in Julie reeds is pres. Kruger, ds. S.J. du Toit, superintendent van onderwys in Transvaal, en genl. Nicolaat Smit as afgevaardigdes benoem. Ewald Esselen het as sekretaris opgetree.

Van belang is dat Derby sir Hercules Robinson na Londen ontbied het. T.C. Scanlen, Kaapse premier, was ook daar en tewens juis eerw. John Mackenzie(60) van die Londense Sendinggenootskap, wat in Transvaal die reputasie gehad het dat hy altyd die Bantoes se belange beskerm het, reg of verkeerd.(61)

(60)Agar-Hamilton, op. cit., p. 261

(61)Theal: Op. cit., p. 160

Belangrike sake het op afhandeling gewag: herroeping van Britse susereiniteit; afskaffing van die magte van die resident; vermindering van die bedrag wat die Republiek as skuldelas in 1881 moes onderneem; en die netelige suidwesgrenskwessie. Hierdie kwessie het die konferensie lank gerek en daaroor is die minste sukses behaal.

Kruger en sy geselskap het in November in Engeland aangekom. Ná ‘n persoonlike onderhoud met lord Derby het hulle op sy versoek ‘n memorandum oopgestel. Hierin is die griewe en die wense van die Suid-Afrikaanse Republiek gemotiveerd en duidelik weergegee. Derby het die Transvaalse sienswyse en voorstelle oor die grenskwessie nie onderskryf nie, en as voorwaarde gestel dat dié saak eers afgehandel moes word voordat ander punte vir bespreking in aanmerking kom.

Derby het hom hierin laat lei deur sy vernaamste raadgewer, Robinson. As die lede van die deputasie nie bereid was om saam te stem oor die wesgrens nie, dan het hy geen voordeel gesien in onderhandelinge oor die ander punte nie. Waarom, vra hy, moes die Britse regring die skulde verminder, die susereiniteit prysgee, die beheer oor Transvaal se diplomatieke verkeer laat vaar en afsien van al die ander beperkinge van die Pretoriase Konvensie, as Transvaal nie bereid was om toegewinge te doen nie.(62)

(62)Argief-Jaarboek 1940, Deel I, p. 328

Die Londense Konvensie

Dit was duidelik dat die Britse staatsmanne die Sandrivier-konvensie nie wou herstel nie, maar, in ruil vir die toegewing van die Republiek se kant t.o.v. die wesgrens, gereed was om groot toegewings van hulle kant te doen. ’n Nuwe konvensie sou tot stand kom.

Die Londense Konvensie wasveelmeeras net ‘n hersiening van die Pretoriase Konvensie. Eindelik, op 28 Januarie 1884, is die saak afgehandel. Scanlen was in Londen om te pleit vir die behoud van die groot handelsweg na die noorde. In Suid-Afrika het Cecil Rhodes, toe nog in die begin van sy loopbaan, die idee van ‘n “pad na die noorde” warm gehou. Die grenslyn is deur dié handelsweg bepaal.

Slegs ‘n deel van die gebied van die Korannas onder David Massouw en van die Barolong onder Moshwêtê is aan die Republiek gelaat. Meer sou Derby nie toegee nie. Die aanbod van ‘n neutrale handelsweg of van beskerming van die Britse handel het hy nie aanvaar nie. Aan Transvaalse gebiedsuitbreiding na die weste, ook op grond wat op Silkaats verower was in die vroeë dae van die Groot Trek, is paal en perk gestel. Die weg na die noorde moes vir Brittanje vry gehou word.

Die winste vir die Republiek in vergelyking met die Konvensie van Pretoria was nietemin groot. Die ondraaglike en vae susereiniteit van die Britse kroon het uit die nuwe konvensie verdwyn. Daaroor kon geen twyfel bestaan nie. Uit die besprekinge wat die Londense Konvensie voorafgegaan het, sowel as uit die inhoud van die konvensie self en die mening van die staatsregsgeleerdes, blyk hierdie feitlik onomstootlik.(63) Die Suid-Afrikaanse Republiek was weer ‘n soewerein onafhankllike staat. Ook die naam Suid-Afikaanse Republiek is erken. Vir dit alles kon veel opgeoffer word, ook die wesgrens met sy belofte van toekomstige moeilikhede.

(63)Ibid, p. 335 en verder

Besonder hinderlik was die bepaling dat die Suid-Afrikaanse Republiek geen verdrag of ooreenkoms met enige staat of volk behalwe met die Oranje-Vrystaat, nòg met enige Bantoestam oos of wes van die Republiek kon sluit tensy Brittanjue dit goedkeur nie. Vir sommige lede van die Volksraad het hieraan nog te veel die reuk van susereiniteit gekleef. Dit was lastig, maar so ‘n verdrag moes ná voltooiing deur Brittanje verwerp word as dit in stryd met die Britse belange of met die belange van Britse besittings in Suid-Afrika was.

Verwerping van so ‘n verdrag sou nie maklik sonder goeie gronde geskied nie, want ook die staat waarmee die verdrag aangegaan was, kon gebelg voel as Brittanje sou weier. In die regte gees toegepas, kon die bepaling in sy uitwerking net so bevorderlik wees vir die belange van die Suid-Afrikaanse Republiek as vir dié van Brittanje. Behalwe oor die grenskwessie was die Volksraad teleurgestel oor die skuldreëling. Maar ook hiermee was dit gunstiger gesteld – dit is met R254 000 verminder. “Die Deputasie kon geen berge versit nie,” het pres. Kruger tereg aan die Volksraad gesê.

Nog meer is bereik. Die Republiek kon weer sy eie diplomatieke verteenworodigers benoem en erkenning aan buitelandse verteenwoordigers in die Republiek verleen. Die reg is voor 1884 deur Brittanje betwis, maar ná die Londense Konvensie is die Republiek se diplomatieke verkeer gereël sonder Britse tussenkoms. ‘n Britse resident met pligte en bevoegdhede t.o.v. Transvaal se Bantoebeleid is afgeskaf en vervang deur ‘n amptenaar met konsulêre status. Die reg van Brittanje om troepe in tyd van oorlog deur Transvaal te voer, het ook verval.

Alles was nie bereik nie, maar tog veel. Net die beperking op die sluiting van traktate het oorgebly. Die Konvensie van Londen is op 27 Februarie 1884 onderteken en deur die Volksraad op 8 Augustus van dié jaar bekragtig. Die Sandrivier-traktaat is nie herstel nie, maar een veel meer in die gees daarvan as dié van Pretoria van 3 Augustus 1881 het in die plek daarvan gekom.

Transvaal was weer vry!

Die Transvalers het met ‘n saamhorigheidsgevoel soos hulle tevore nie geken het nie, uit die stryd gekom.(64) Indien in vrede gelaat, sou hulle nou veel vermag. Hulle het die manne gehad … en die Transvaalse bodem was ryk!

(64)S.P. Engelbrecht: Thomas François Burgers, p. 216

— — — oOo — — —