GVSA Kruger en Rhodes 

A.N. Pelzer, M.A., D. Phil.

Gebore in die Kaapkolonie in die teenswoordige distrik Steynsburg op 10 Oktober 1825, het Paul Kruger sy vormingsjare in pioniersomstaqndighede deurgemaak. Toe hy maar nege jaar oud was, het sy vader die Oranjerivier oorgesteek en ‘n ruk aan die Caledonrivier vertoef, om hom in 1836 by die trek van Hendrik Potgieter aan te sluit. Onder hom was Paul net ná sy elfde verjaardag in die slag van Vegkop teen die Matebele betrokke. Die jaar daarop het sy vader saam met die trek van Retief na Natal gegaan, maar ook dié gebied binne enkele maande, ná die slag van Italeni verlaat, en hom, behalwe ‘n kort verblyf te Ohrigstad, blywend agter die Magaliesberge gevestig. Hier het Paul Kruger sy volkome selfstandigheid aanvaar. Op 17-jarige leeftyd het hy onder-veldkornet geword en tien jaar later genl. A.W.J. Pretorius se veldkornet na Sandrivier vergesel.(1)

(1)Biografiese aantekeninge ontleen aan dr. H.S. Pretorius: Afkoms van Paul Kruger, Historiese Studies IV, p. 218 en verder

Daarmee het hy tot die openbare lewe van sy volk toegetree en hom weldra onderskei as iemand met buitengewone begaafdheid. Grotendeels moet dit aan hom toegeskryf word dat ‘n botsing tussen pres. M.W. Pretorius en ‘n Vrystaatse kommando onder Boshof in 1857 vermy is.(2)

(2)J.P. la Grange Lombard, Paul Kruger die Volksman, pp. 64-65

Uit die burgerwoelinge van die jare sestig het hy as kommandant-generaal te voorskyn getree en sy gehegtheid aan wet en orde as stelreël vasgelê vir sy hele latere optrede. Uit die eerste nasionale krisis wat met die Shepstone-bewind ingelui is, het hy as Staatspresident van die Suid-Afrujaabse Rpubliek te voorskyn getree.

‘n Kennis van die anneksasietydperk is vir ‘n beter begrip van Kruger as staatsman van groot belang. Dit het hom die eerste geleentheid gegbied om, in belang van sy staat, na buite op te tree. Vir die eerste keer kon hy die vryheid en ongebondenheid van daardie staat as noodsaaklike voorwaarde van alle onderhandelings vaslê – ‘n beleid wat hy deurgaans gehandhaaf het.

Met die oog op die voorgaande is dit baie duidelik dat die persoon van Kruger ten nouste verbonde is aan die wording van die Suid-Afrikaanse Republiek, wat juis, omrede van sy intieme aandeel in die groei en ontwikkeling daarvan, met reg die “Kruger-staat”, sy staat, genoem kan word. Van die begin af was hy op die voorposte en persoonlik betrokke by elke belangrike gebeurtenis in die wordingsproses – gebeurtenisse wat voorgeval het tussen sy eie jeug en rypheid, endaarom onuitwisbare indrukke nagelaat het. Dieselfde gebeurtenisse, wisselende lotgevalle van die gemeenskap waarvan hy deel gevom het, het ook sy vorming bepaal.

Teenstelling met Rhodes

Dit kan nie van sy groot tydgenoot aan die teenoorgestelde kant, Cecil John Rhodes,(3) gesê word nie. Geen bande van bloed of bodem het hom aan Suid-Afrika gebind nie. Sy uiteindelike koms na Suid-Afrika was ook nie die gevolg van ‘n besondere bekoring wat die land op hom uitgeoefen het nie, maar net soos sy latere vriend en handlanger, L.S. Jameson, is hy om gesondheidsredes hierheen gestuur. Met die jare het hy groot vermoë op die diamantvelde van Kimberley versamel, wat hom in die jare negentig ‘n jaarlikse inkomste van ongeveer R2-miljoen besorg het.(4)

(3)Vindex stel die geboortedatum op 7 Julie 1853. Vgl. Vindex, Cecil Rhodes, His Political Life and Speeches, p. 2. Hierin staan hy egter alleen.

(4)Basil Williams, Cecil Rhodes, p. 114

Namate sy besit groter geword het, het hy, getrou aan sy opvatting dat geld mag bring, politieke aspirasies ontwikkel. Voordat hy egter aktief begin deelneem het aan die politieke aangeleenthede van sy aangenome vaderland, is hy in 1878 terug na Oxford om ‘n mate van akademiese opleiding te geniet.

Nadat Griekwaland-Wes in 1880 by die Kaapkolonie ingelyf is, is Rhodes in 1881 gekies as eerste parlementslid vir die plattelandse kiesafdeling Barkly-Wes, nie ver van Kimberley nie. Daarmee het sy politieke loopbaan begin, en ook daarin het hy groot sukses ondervind: In Julie 1890 het hy op 37-jarige leeftyd, ná die val van die ministerie Sprigg, Eeste Minister van die Kaapkolonie geword, om self, ongeveer vyf jaar later, ná die Jameson-inval tot ‘n val te kom.

Stellig het ons hier met ‘n man van groot formaat te doen. Die lof wat W.T. Stead hom toeswaai waar hy sê: “He was one of the few men neither royal or noble by birth who rose by sheer force of character and wil to real, although not to titular, Imperial rank,”(5) is nie in elke opsig misplaas nie. Rhodes se sukses moet daaraan toegeskryf word dat hy van sy kommersiële aanleg gebruik gemaak het om die kanse, ekonomies sowel as andersins, wat sy nuwe vaderland hom gebied het, ten volle te benut. Suid-Afrika het van hom gemaak wat sy eie vaderland nie kon nie.

(5)W.T. Stead, The last will and Testament of Cecil J. Rhodes, p. 51

Voortrekkerkind, van jongs af op die trekpad, het vroeg ‘n groot verantwoordelikheidsgevoel ontwikkel en  opgegroei  in noue aanraking met die natuur. Die lotgevalle van sy nasie in voor- en teenspoed het hy aanvaar as ‘n openbaring van die Goddelike wil. Juis omdat ook hy geglo het God Almagtig is die bestuurder van die menslike lotgevalle het hy hom geredelik onder Sy leiding gestel. Die oorwinning van Amajuba was vir hom “het werk van onzen grooten generaal Jezus Christus”.(6) Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het hy sy burgers aangespoor met die woorde: “Laat ons dus strijden in den naam des Heeren tot het einde toe. De Heer toch is onze opperbevelhebber.”(7)

(6)Toespraak op Paardekraal 16.12.1896

(7)Toeligting op sy Aanspraak voor Volksraad, 7 Mei 1900

So word hy volkome bewus van sy afhanklikheid van en nietigheid teenoor God. Van so iemand alleen kan die vermaning kom: “Roem dan niet, want wat hebt gij, waqt gij niet ontvangen hebt?”(8) By die Christelike lewens- en wêreldbeskouing word die mens se lewensverhouding bepaal deur sy verhouding teenoor God.

(8)Freesrede te Paardekraal, gehou op 16.12.1891

In die geval van Kruger vind ons dieselfde eenvoud in elke lewenshouding terug. Eenvoudig was hy in sy daaglikse omgang ook teenoor hoë besoekers van elders, eenvoudig in sy kleredrag, eenvoudig in sy ete en drinke. En tog, met dieselfde eenvoud het hy hom in die geselskap van die Engelse adel en in sy vergadersale van Europese diplomate begeef en, sonder om iets van sy persoonllikheid prys te gee, hom oral gehandhaaf.

Vormingsjare van Rhodes

Toe Rhodes in Suid-Afrika aankom, was hy weens sy jeug en die prikkelvrye pastorie-atmosfeer waarin hy opgegroei het, nog ‘n heeltemal ongevomde seun, wat persoonlik die voorkeur gegee het aan die predikantsberoep – ‘n keuse wat aan die begeerte van sy vader beantwoord het. Sonder koers of rigting,  het hy op die diamantvelde beland en daar gedurende  die grootste deel van sy belangrike vormingsjare vertoef.

Die invloede wat hy daar ondergaan het, het sy skoolloopbaan van vroeër en selfs die streng godsdienstige opvoeding in die ouerhuis, heeltemal oorskadu: “It was in the university of the miniature world of the diamand fields, in the working out of the law of the suvival of the fittest, that his real education was obtained.”(9) Dit blyk ook n.a.v. wat W.T. Stead oor hom skryf(10) dat Rhodes gedurende hierdie jare ontwyfelbaar onder invloed van die Darwinistiese leer gestaan het.

(9)Vindex, op. cit., p. 12

(10)W.T. Stead, op. cit., p. 95

Seker is dit dat daar ‘n verskuiwing in die rangorde van sy waardebegrippe plaasgevind het. Ten minste sy godsdienstig-sedelike ontwikkeling het ten gevolge van sy verblyf op die diamantvelde ernstig skade gely en hom in groot mate ‘n onewewigtige persoonlikheid gemaak. Die besit van geld het hom nie alleen in staat gestel om die verwesenliking van grootse ideë na te streef nie, maar sy hele lewlenshouding in ‘n bepaalde rigting gestuur. Hoewel die versameling van geld en die ophoping van besit by hom byna ‘n obsessie geword het, wou hy dit nie vir egoïstiese doeleindes aanwend nie en was hy, streng genome, geen materialis nie.

Hy was ‘n man met groot ideë en hoewel hulle aanvanklik nog vaag en onduidelik was, het hy, vir sover ons bekend, hulle in 1877 vir die eerste keer op skrif testel. Hy stel hom daarin ten doel, “the furtherance of the British Empire, for the bringing of the whole uncivilised world under British rule; for the recovery of the United States; for making the Anglo-Saxon race but one Empire”.

Rhodes en die Britse Ryk

Dieselfde jaar toe hy hierdie woorde geskryf het, het hy sy eerste testament opgestel, waaruit dieselfde dromersmentaliteit blyk. Daarin het hy sy ganse vermoë ter beskikking van die Britse minister van kolonies en Sidney Shippard, prokukreukr-generaal van Griekwaland-Wes,gestel en hulle volmag verleen o.m. “to use the same for the purposes of extending British rule throughout the world … the consolidation of the empire, the restoration of the Anglo-Saxon unity destroyed by die schisme of the 18th century … and, finally, the foundation of so great a Power as to hereafter render wars impossible and to promote the best interest of humanity.(11)

(11)W.T. Stead, op.cit., bl. 61

Rhodes was van mening “that we are the first race in the world, and that the more of the world we inhabit, the better it is for the human race”.(12) Treffend steek hierby af die beskeidenheid van ‘n Paul Kruger, wat hom, by geleentheid van ‘n feesrede voor die Duitse gemeenskap in Pretoria op 26 Januarie 1895, as volg uitgelaat het: “Ik was steeds gewoon geweest om deze Republiek als een klein kind te beschouwen …”(13)

(12)Stead. Op. cit., p. 58

(13)J.F. van Oordt: Paul Kruger en de Opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek, p. 609

Sy doelstellinge in S.A.

Van Rhodes se grootse ideë, soos die hereniging van Engeland en Amerika in die een of ander verband en die oprigting van ‘n soort 19de-eeuse volkebond, is nòg gedurende sy lewe nòg daarna iets verwesenlik; en net so min is daar ooit ‘n poging aangewend, òf deur die testateur òf deur een van sy erfgename, om maar iets in dié rigting te doen. Dit wil egter voorkom of Rhodes, nadat hy hom met politieke aangeleenthede begin besig gehou het, ‘n baie groter werklikheidsbesef gekry het as voorheen, toe sy sukses op die geldmark by hom die gedagte van ‘n soort menslike almal laat ontstaan het. Sy persoonlike optrede het alleen in verband gestaan met die deel van sy algemene doelstelling wat betrekking gehad het op uitbreiding van die Bitse Ryk, meer in die besonder t.o.v. Suider-Afrika.

In 1878 reeds deel hy dit as sy voorneme aan Jameson mee: “To occupy the Hinterland of the Cape, and all the territory he could beyond,” en “afterwards the unification of South Africa, which he saw in the future one great people possessed of full self-government, yet united to our other colonies as a loyal member of one vast Imperial Federation.”(14)

(14)Vindex, op. cit., p. 9

Eintlik ‘n drieledige doelstelling. Ten opsigte van die laaste deel – sy gedagte aan ‘n Imperiale federasie – kan elleen opgemerk word dat hy sy tyd hierin ‘n hele aantal jare vooruit was, Die voorafgaande dele is belangriker omdat dit hom uiteindelik in botsing gebring het met Kruger, kampvegter van die noordelike onafhanklikheidsgedagte. Met die formulering van Rhodes se standpunt het die konflik tussen hom en Kruger ontstaan wat geleidelik ontwikkel het totdat dit met die Jameson-inval tot uitbarsting gekom het.

Rhodes se werk t.b.v. die Britse Ryk was so groot dat hy meer as eens die grootste Ryksbouer van die 19de eeu genoem is – en nie ten onregte nie. Die imperialisme het hom gestreel en beslag gelê op sy hele wese. En tog, hoewel self Imperialis by uitstek, het hy, oppervlakkig beskou, ‘n dubbelsinnige houding aangeneem teenoor wat hy self genoem het “the Imperial Factor, that is, Downing Street”. Dat sy houding teenoor die departement van kolonies in die begin van die jare tagtig ‘n verandering ondergaan het, blyk reeds daaruit dat hy in 1882, met die opstelling van sy tweede testament, N.E. Pickering(15) tot enigste erfgenaam benoem en die minister van kolonies uitgelaat het.

(15)Pickering was ‘n jong amptenaar in diens van die De Beers-maatskappy in Kimberley. Om een of ander rede was Rhodes buitengewoon geheg aan hierdie jong man. Vgl. Verder by Stead, op. cit., p. 62

Sy uitgangspunt

Rhodes wou Suid-Afrikaanse toestande vanuit ‘n koloniale standpunt benader, sonder die tussenkoms van “the amateur meddling of irresponsible and ill-advised persons in England”. Nadat die Hollands-sprekende koloniste sedert die dae voor die Groot Trek tevergeefs daarteen in verset gekom het, kom Rhodes as die eerste Egelsman en beklemtoon “that people born and bred in this Colony, and descended from those who existed in this country many generations ago, are much better capable of dealing with the various matters that arise than people who have to dictate from some thousands of miles away”.(16)

(16)Sarah Gertrude Millin: Rhodes., p. 62

Tot hierdie standpunt het die Imperiale regering in die eerste plaas self aanleiding gegee. Toe Rhodes begin optree het, was dit maar betreklik onlangs dat lord Palmerston hom in die openbaar uitgespreek het teen die Konvensie-beleid van 1854, en nog korter gelede dat Brittanje openlik die nuwe imperialisme as koloniale beleid aanvaar het, toe koningin Victoria op 1 Januarie 1877 tot “Empress of India” uitgeroep is. Klaarblyklik het Brittanje nie onmiddellik daarna oor voldoende geskoolde amptenare beskik om die nuwe beleid uit te voer nie en was die politiek van die dag nie altyd afkomstig van Downingstraat nie, maar wel van laag besoldigde amptenare oorsee.

Met reg kon dr. Leyds kla oor “het grievende onrecht, door Britsche ambtenaren begaan”.(17) Buitendien moet nie uit die oog verloor word nie dat die Britse politiek nie aan die staat as sodanig verbind word nie, maar aan bepaalde persone. Hul ampstermyn is in die reël betreklik kokrt van duur, maar veral in tye van spanning verskyn en verdwyn hulle voortdurend.

(17)W.J. Leyds: Het insluiten van de Boeren-Republieken, Deel I, pl. VII

Behalwe dit, is in die voorafgaande jare ‘n heele aantal flaters deur Downingstraat begaan. Gladstone se toegewinge aan pres. Kruger is as ‘n oorgawe beskou, wat hom die beskuldiging op die hals gehaal het dat hy die Britte in Suid-Afrika verraai het om partypolitieke redes tuis.(18) Ten gevolge van dit alles het by Rhodes, met sy duidelik geformuleerde doelstellinge, ‘n afkeer ontstaan van onbekwame inmenging van elders. Buitendien het hy gehoop om, met die uitskakeling van Downingstraat, Transvaal hanteerbaarder te maak en die Hollands-sprekende koloniste van die Kaapkolonie aan sy kant te kry.

(18)E.B. Iwan-Muller: Lord Milner and South Africa., p. 417

Die Imperiale faktor

Rhodes se houding teenoor die Imperiale faktor was vir die politieke ontwikkeling in Suid-Afrika van groot belang, omdat  hy ten gevolge daarvandaarin geslaag het om ná 1887, totdie Jameson-inval altans,die politieke groepering in die Kaapkolonie nie langs rasselyne te laat plaasvind nie. Met die  uitskakeling van die Imperiale faktor het hy die Kaapkolonie in die plek daarvan gestel en sou hy dit gebruik om sy beoogde gebiedsuitbreiding en uiteindelike unifikasie van die Suid-Afrikaanse geweste te bewerkstelling.

In 1878, toe hy Jameson sy politieke oogmerk meegedeel het, het hy daaraan toegevoeg, “and to do this through the Cape Colony”.

In ‘n toespraak van Augustus 1883, een van die belangrikste wat hy in die Kaapse parlement gehou het, het Rhodes i.v.m. die moeilikhede wat toe in Betsjoeanaland gaande was, die Kaapse Wetgewende Vergadering gewaarsku dat, “if it departs from the control of the interior, we shall fall from the position of the paramount State of South Africa, which is our right in every scheme of federal union in the future,to that of a minor state”.(19)

(19) Vindex, op. cit., p. 69.  Agt jaar later waarsku hy die Afrikanerbond teen dieselfde gevaar; vgl. Ibid., p. 270

Met ander woorde, beheer oor of, nog beter, besit van “this Bechuanaland territory … the Suez Canal of the trade of this country, the key of its road to the interior”, ag hy noodsaaklik om ‘n uiteindelike vereniging van Suid-Afrikaanse state in die een of ander vorm, maar in elk geval “as a portion of the British Empire” te bewerkstellig.

Die eenheidsideaal

Hierdie twee sake is so ongelyksoortig dat aan die opregtheid van sy bedoelinge wel ‘n mate van geregverdigde twyfel geheg kan word. Rhodes se kommersiële aanleg het dit vir hom onmoontlik gemaak om enige oorweging aan ‘n saak te gee as daar nie stofllike voordeel uit te verkry was nie. Dikwels, nadat hy die taak van die Kaapkolonie geformuleer het soos hierbo weergegee, het hy in sy toesprake beklemtoon dat hy ‘n staatkundige unie van al die suid-Afrikaanse state beoog; en net so dikwels het hy plegtig verklaar dat die selfstandige bestaan van die twee Republieke hom nie hinder en dat hulle onafhanklikheid nie aangetas sal word nie.

In ‘n ander geleentheidstoespraak, hierdie keer direk op die onderwerp af, wat hy op 20 Mei 1886 in die Kaapse parlement gehou het, het hy die aap uit die mou gelaat met die opmerking dat “commerce should come first, and union will follow”.(20) Die Kaapkolonie moes die “paramount State” van Suid-Afrika word en ‘n dominerende posisie teenoor die ander state en kolonies inneem.

Die strewe van Kruger

Teenoor die beleid van Rhodes staan die selfstandigheidstrewe van Kruger, wat selfs nie van onderhandelinge met die Oranje-Vrystaat wou weet tensy die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Republiek gewaarborg word nie.(21)

(21)Verslag Verrichtingen der H.Ed. Deputatie afgevaardigd naar den Oranje Vrystaat, 1887.

Dieselfde jaar toe Rhodes sy leer van dominasie van die Kaapkolonie gepredik het, het Kruger in die noorde, tydens die verkiesingsveldtog van 1883, in sy program van aksie sy beleid teenoor eksterne aangeleenthede so oortuigend gestel, dat dit vir elkeen baie duidelik dat voortaan rekening gehou moes word met die teenstelling tussen ‘n noordelike en ‘n suidelike standpunt. Die beleid wat hy daar vasgelê het, is van so groot belang dat dit hier vollediger aangehaal moet word. Die kern daarvan kom op die volgende neer:

“Met betrekking tot de buitelandse politiek zal ik steeds alles in mijn vermogen aanwenden om met die Suzereine macht van Groot Brittanje en haar vertegenwoordiger alhier in vreedzame samenwerking te blijven, voorzover zulks geschieden kan zonder krenking van de duurgekochte rechten der Republiek. Evenzo zal ik steeds mijn hartelike ondersteuning schenken aan elke poging ener nauwere verbinding tussen die staten en kolonieën van Zuid-Afrika ter kweking van een Zuid-Afrikaanse natie, doch alweder zonder de rechten en vrijheden der Republiek prijs te geven.”(22)

(22)J.P. la Grange Lombard, op. cit., p. 148. Tien jaar later laat hy hom in dieselfde gees uit op ‘n vergadering op Boksburg, 12.10.1893. Vgl. Van Oordt, op. cit., p. 573

Strewe tot selfstadigheid

‘n Volstrekte selfstandigheid sou dus teenoor Broot-Brittanje gehandhaaf word; en waar Kruger Rhodes en die Imperiale faktor, ondanks die onderskeid wat Rhodes self gemaak het, as identiek beskou het, is dit begryplik dat hy dieselfde h ouding aangeneem het teenoor Rhodes se gedagte van ‘n “groter Kaapkolonie”. Daarom dat Kruger sy staat se onafhankllikheid ook in ekonomiese opsig wou handhaaf, en weer met Rhodes verskil het. Weliswaar het Kruger, daartoe gedwing deur die armoede van die Republiek en die aanvanklike teleurstellende vertraging van die plan om spoorwegverbinding met Delagoabaai te verkry, in 1885 onderhandelinge voorgestel met die oog op ‘n tolverbond met die Kaapkolonie en die verlenging van die spoorweg van Kimberley na die Republiek, maar die aanbod is verwerp.

Die ontdekking van die Witwatersrandse goudveld die jaar daarop het die bordjies verhang en Kruger in staat gestel om ‘n beleid van ekonomiese selfstandigheid konsekwent deur te voer. Toe aan die end van die jare tagtig van die Kaapkoloniese kant verskeie pogings aangewend is om tariefmure te vervang deur ‘n algemene volverbond, het Kruger hardnekkig bly weier om daaraan deel te neem, enersyds omdat hy die inkomste nodig gehad het vir die instandhouding van sy staat, maar veel meer nog omdat, deur deelname aan so ‘n tolverbond, zou de Z.A. Republiek afhankelijk zijn van de havens van Haar Majesteits Kolonïen”.(23) Kruger se selfstandigheidsgtrewe het dit vir hom onmoontlik gemaak om hier met Rhodes saam te werk.

(23)Verslag Verrichtingen H.Ed. Deputatie na O.V.S.

Die selfstandigheidsideaal van Kruger is deur Rhodes ten onregte aangesien vir ‘ n strewe na ‘n Suid-Afrikaanse Boererepubliek in teenstelling tot ‘n Suid-Afrikaanse unie onder die Bitse vlag – ‘n verskuiwing van die swaartepunt in Suid-Afrikaanse aangeleenthede van die suide na die noorde, van Kaapstad na Pretoria. Dat dieselfde imperialisme soms ook van Afrikaanse kant aan Kruger toegedig word, is welbekend en vind sy orsprong in die slotparagraaf van die skrywe deur die Transvaalse regering gerig aan die President en Volksraad van die Oranje-Vrystaat, gedateer 7 Februarie 1881, wat as volg lui:

“Hetzxij wij overwinnen, hetzij wij sterven: de Vrijheid zal in Afrika rijzen als de zon uit die morgenwolken, als die vrijheid rees in de Vereenigde Staten van Noord-Amerika. Dan zal het zijn van Zambezi tot aan Afrika voor den Afrikaner.”(24) Dit is goed moontlik dat Kruger die gedagte van ‘n groot Boere-republiek, omvattende die hele Suider-Afrika, goedgesind was. Aktief het hy die gedagte egter nooit gepropageer nie, eenvoudig omdat dit lynreg in stryd was met sy onafhanklikheidsideaal vir die Suid-Afrikaanse Republiek.

(24)Vgl. Staats Courant, Z.A.R., 16 Februarij 1881, p. 26

Waarvoor hy hom wel beywer het, was vir nouer samewerking tussen die twee Boere-republieke in die noorde. Op ‘n byeenkoms wat in Oktober 1887 tussen verteenwoordigers van die twee Republieke in Bloemfontein plaasgevind het, het Kruger hom uitgespreek t.g.v. ‘n gemeenskaplike Republikeinse spoorwegpolitiek, en daarom ‘n verbinding tussen Bloemfontein en Pretoria enersyds, met die Portugese hawe Delagoabaai andersyds. Vir hierdie voorstel was pres. Brand nie te vinde nie, maar wat Kruger met Brand nie kon bereik nie, het hy in Maart 1889 mnet sy opvolger, Reitz, bereik.

Rhodes se diplomasie

Namate die onafhanklikheidsideaal van Kruger duideliker geblyk het, het Rhodes besef dat sy oorheersingsideaal nie sonder meer in die noorde aanvaar sou word nie, en dat hy ten minste met teenkanting, waarskynlik met verset, te doen sou kry.Daarom het hy sy politieke bedrywigheid in die Kaapkolonie gedurende die jare tagtig in ‘n ander rigting begin stuur. Ná die uitskakeling van die Imperiale faktor, wat as versoeningsmaatreël, teenoor Transvaal altans, nie die gewenste resultaat opgelewer het nie, moes die Afrikaners in Kaapland, wat so byna ‘n stok in die wiel van sy Betsjoeanaland-kar gesteek het, ten minste geneutralliseer en, indien moontlik, na sy kant oorgebring word in die komende stryd teen Transvaal.

Dit was te meer noodsaaklik, aangesien die Engelse groep aan die Kaap, ná die bewindsaanvaarding van Gladstone, geen verenigde front getoon het nie. Ook in hierdie geval het Rhodes met sy gewone selfvertroue te werk gegaan en ‘n diplomasie aan die dag gelê waarvoor hy krediet moet ontvang. Soos so dikwels die geval is, het die foute van sy teenstander hom ‘n hele ent oor die weg gehelp om sy diplomasie te verwesenlik.

Die beskermingspolitiek van Kruger het by die Kaapse Afrikaners ‘n verdringing van nasionale sentiment deur ‘n gevoel van eiebelang tot gevolg gehad; en hierdie gevoel het Rhodes handig aangewakker deur die bevoorregting van Hollanders in die Republikeinse staatsdiens pertinent onder die aandag van die Kaapse Afrikaners te bring.(25)

(25)Vgl. Die syfers by P.R. Botha, Die Staatkundige Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Republiek onder Kruger en Leyds, p. 360-362

Dat Rhodes se doel hierdeur sekerlik bevorder is, blyk baie duidelik uit ‘n skrywe in Di Patriot van 4 November 1887 waarin verklaar word: “Di gees van uitsluiting wat nou di Transvaal besiel, staat di ware vereniging groteliks in di pad.”(26)

(26)Aangehaal by J. Albert Coetzee, Politieke Groepering in die wording van die Afrikanernasie, p. 149

Afrikanerbond aan sy kant

Bewus van die agrariese agtergrond van die Afrikaner, het Rhodes doelbewus die belange van die land- en wynbouende deel van die bevolking begin voorstaan. Hy het ‘n Bantoebeleid gevolg wat hy feitlik van die Boere oorgeneem het en in verband daarmee, eers met die “Franchise Bill” (1892) en daarna met die Glen Grey-wet (1894), die simpatie en steun van die Afrikanerbond gewin.

‘n Ander rede waarom hy die steun van die Kaapse Afrikaners gekry het, was omdat sy politiek van “Colonial Supremacy”: noodwendig ook vir hulle belange bevorderlik was. Daarby moet in sy guns gereken word dat hy Kaapstad, en nie Londen nie, as uitgangspunt van sy politiek geneem het. Die sterk uitlatinge wat hy meer as eens gebesig het om die onvermoë van Brittanje aan te dui om Suid-Afrika, 9 600 km weg, te regeer, was in volkome ooreenstemming met hul eie sienswyse en “klonken den Afrikaner alz muziek in de ooren”.(27)

(27)N. Hofmeyr, De Afrikaner-Boer en de Jameson-inval, p. 74

Sy beleid om Afrikaners en Engelse in Stellaland, in teenstelling met wat Warren wou, op ‘n voet van volslae gelykheid te behandel, het hom bo alle verdenking geplaas. Geen wonder dat hy met sy aangename persoonlikheid en ongedwonge voorkoms, die hart van die Afrikaners gewin het nie en deur hulle as die “jong burger” aangedui is. Sy werklike bedoelinge was volkome anders as wat hy graag wou voorgee.

In verband met sy verhouding tot die Kaapse Afrikaners het Olive Schreiner hom o.m. die vraag gestel: “Why do you make friends of such men?” – daarmee bedoelende die Bondsleiers. Rhodes se antwoord was: “Those men my friends? They are not my friends! They are my tools, and when I have done with them I throw them away!” Hierdie antwoord van Rhodes het aan die vrou teenoor wie hy gestaan het, die verdoemende oordeel ontlok: “The perception of what his character really was in its inmost depths, was one of the most terrible revelations of my life”, en sy voeg daaraan toe dat sy agter die masker van innemendheid “the worms of falsehood and corruption” kon waarneem.(28)

(28)Plomer, op. cit., pp. 120-121

Rhodes en Betsjoeanaland

Rhodes se eerste geleentheid om invloed uit te oefen in die gebied wat hy beskou het as by uitstek Koloniale belangesfeer, kom in die begin van die jare tagtig toe ‘n aantal Bantoestamme aan di e suidwestelike grens van die Suid-Afrikaanse Republiek in ‘n reeks o nluste en stamgevegte betrokke was. In die suide het die stryd gewoed tussen Massouw, ‘n Koranna-hoofman, en Mankoroane, van die Batlapin-stam, terwyl Moshwêtê en Montsioa, in die noorde , teenoor mekaar te staan gekom het in ‘n stryd om opperheerskappy in die Barolong-stam.

Wat die uiteindelike teenstelling by voorbaat aangedui het, was dat die strydende partye in ‘n pro-Boere en ‘n pro-Engelse groep verdeel was. Aan die end van 1881 het Mankoroane, aangehits deur Engelse agente, wat selfs vir hom vrywilligers gewerf het, Massouw aangeval. Hy het op sy beurt, met ‘n belofte om hulle met grond te beloon, om Boerehulp gevra. In die begin het hy net ‘n paar Boere-vrywilligers gekry, maar mettertyd was daar sowat 300.

Op 26 Julie 1882 het die hoofde egter self ooreengekom en daar is bepaal dat, in geval van toekomstige moeilikhede, die Suid-Afrikaanse Republiek die enigste arbiter sou wees, en dat hulle nooit die beskerming van ‘n ander land as die Suid-Afrikaanse Republiek sou inroep nie. Die Boere-vrywilligers, wat hul beloofde grond ontvang het, het daarop  ‘n vaste bestuur vir die verworwe gebied in die lewe geroep, Gert van Niekerk tot voorsitter van die bestuur benoem, die gebied Stellaland genoem en dit op 6 Augustus 1883 tot onafhanklike republiek uitgeroep. Die dag daarop is die grense daarvan geproklameer.

Die Land Gosen

Verder noord het die stryd ‘n soortgelyke verloop gehad. Ná die nederlaag van sy teenstander in Oktober 1882, het Moshwêtê aan die Boere-vrywilligers grond toegeken, waarvan by die vredesluiting spesiaal vir dié  doel deur Montsioa afstand gedoen is. In Desember van dieselfde jaar het die Boere-leier, Nic. Gey van Pittius, by wyse van proklamasie, die grense van die nuwe blanke gebied aangewys en dit Land Gosen genoem.

Die ooreenkomste waartoe die Bantoes onderling gekom het, het egter geen blywende vrede tot gevolg gehad nie, hoofsaaklik omdat toekomstige inmenging van buite nie gelyktydig uitgeskakel kon word nie. Veral Bethell, Engelse raadgewer by Montsioa, ‘n persoon wat ook by Mankoroane onrus gestook het en wat deur Rhodes aangedui is as “a firebrand (who) simply wants fighting”(29), was daarvoor verantwooredelik dat die vrede so kortstondig was.

(29)Rhodes aan Scanlen in tel. Van 16.6.83. Vgl. Afskrifte, Rhodes-Dokumente

So erg het die toestand geword dat Kruger op 8 Mei 1883 in sy eerste toespraak as staatspresident op die gevaarlike toestand aan die suidwesgrens gewys het, en in verband daarmee op ‘n wysiging van die Konvensie van Pretoria aangedring het, omdat dit “nu gebleken is dat sommige artikelen een practischen toets niet hebben kunnen doorstaan”. N.a.v. die grenstoestande het Kruger, Smit en Du Toit as afvaardiging na Londen gegaan waar hulle in November 1883 aangekom het.

Onderhandelinge in Londen

In hul samesprekinge in Londen het die Deputasie graaf Derby, minister van kolonies, daarop gewys dat die onluste aan die wesgrens teruggevoer moet word tot die Keate-uitspraak, waardeur Mankoroane en Montsioa ten onregte tot groot opperhoofde verklaar was, en onregverdig grond van Massouw en Moshwêtê weggeneem was. Die bestaande griewe is daarna bestendig en nog vermeerder toe in 1881, met die Konvensie van Pretoria, op voorstel van kol. Moysey(30), ‘n uiters willekeurige wesgrens vir die Republiek aangewys is.

(30)Kol. Moysey was ‘n offisier in die Britse leër en het by meer as een geleentheid ‘n afkeurenswaardige rol gespeel deur die naturellestamme teen mekaar op te swweep. Sy onrus-stokery aan die wesgrens tydens die Eerste Vryheidsoorlog was bedoel om die Engelse troepe in Natal verligting te verskaf.

Nòg met die belange van die R|epubliek nòg met dié van die Bantoes is rekening gehou en “getrouwe onderdanen der Zuid-Afrikaansche Republiek (werden) tegen hun wil daarvan afgesneden en de stammen zelve werden uiteengescheurd”. Die grenslyn van 1881 het die gebied van Moshwêtê sowel as Massow middeldeur gesny – ‘n reëling waarteen albei opperhoofde, juis omdat hulle Republikeinse beskerming verwag het, beswaar gemaak het.

Die Deputasie het graaf Derby verder daarop gewys dat die grens, ten gevolge van die vyandigheid van die inboorlinge, nog nooit opgemeet kon word nie en dat Shepstone voorheen, toe hy met dieselfde onrus en moeilikheid te doen gekry het, voorgestel het dat die gesag van die Transvaalse regering uitgebrei moet word oor die hele gebied, wat die ou grense daarvan ingesluit het.

Transvaalse voorstelle

Om die moeilikhede finaal uit die weg te ruim, het die afgevaardigdes aan die hand gedoen dat “de historische rechten der Republiek door verovering, door proclamatie en door herhaalde overdracht van die wettige Hoofden verkregen, behooren te worden erkend. Aan het verzoek der belanghebbenden, om opgenomen te worden in de Zuid-Afrikaansche Republiek, behooren geene moeilijkheden te worden in den weg gelegd”(31) – m.a.w., op ‘n herstel van die Republiek se grens in ooreenstemming met die proklamasie van pres. M.W. Pretorius van 26 April 1868(32), en op selfbeskikkingsreg vir die betrokke inboorlinggroepe word aangedring.

(31)Groenboek Z.A.R. oor die Londense Konvensie, pp. 28-30

(32)Leyds-Argief, 993, p. 21

Verskeie omstandighede het die besoek van die Deputasie begunstig. Die Gladstone-regering wat sedert 1880 aan die bewind was het die gebeurtenisse van 1880-81 nie vergeet nie. Met die Zoeloe-moeilikhede van 1879 vars in hul geheue, en ‘n langdurige ervaring van Basoeto-moeilikhede, was die Britse minister huiwerig om nogmaals in Suid-Afrikaanse Bantoe-aangeleenthede in te gryp. Buitendien was die Kaapse regering onder Scanlen, net soos die departement van kolonies in Londen, gekant teen gebiedsuitbreiding en het hulle die groep Imperialiste wat om waark vir Amajuba geroep het, heeltemal oorskadu.

Afrikanerbond se houding

Jan Hendrik Hofmeyr, wat, ná die Afrikaner-konsolidasie van September 1883, met die Afrikanerbond ‘n faktor van groot belang geword het, het die betwiste gebied as Transvaalse invloedsfeer beskou en teen inmenging gewaarsku. Op hierdie tydstip was die Kaapse Afrikaners nog in volle simpatie met Kruger se selfstandigheidsideaal. In sulke omstandighede het die historiese reg van die Republiek baie gewig gedra en sou die Deputasie waarskynlik sukses behaal het as dit nie was dat slegs een persoon, Rhodes, juis toe besig was om met verbasende handigheid na weerskante toe te speel.

Weerstand van Rhodes

Rhodes se vermoë tot kragtige optrede blyk uit die wesgrens-moeilikhede seker beter as uit enige ander saak. Met slegs die floue steun van sir Hercules Robinson, staan hy aanvanklik vrywel heeltemal alleen aan Engelse kant, om uiteindelik sy doel te bereik. Vir hom was die probleem van die twee nuwe republiekies dat hulle die weg na die noorde versprer het.(33)

(33)L.A. 993, p. 23

Terwyl hy op 16 Augustus 1883 plegtig in die Kaapse parlement verklaar: “We want to get rid of the Imperial factor in this question, and to deel with it ourselves, jointly with the Transvaal”(34) was hy besig om die halfhartige Scanlen deur ‘n ononderbroke reeks briewe en telegramme tot groter kragdadigheid aan te spoor.  “Don’t part with one inch of territory to Transvaal … The interior road runs at present moment on the edge of Transvaal boundary,” lui dit in een van sy vetroulike briewe aan die Kaapse Eerste Minister.

(34)A.P. Newton, The Unification of South Africa, I, p. 92

Nog later vra hy ernstig: “Stop Derby from allowing to annex: they have the pluck of bankrupts and, given the right, they would annex up to Egypt tomorrow!”  Blykbaar om Scanlen te streel en hom tot onmiddellike aksie te laat oorgaan, speel hy hom af teen die Imperiale faktor: “You must turn their flank by accepting this question as a Cape one.”(35)

(35)Kopie van Rhodes se persoonlike korrespondensie gedurende hierdie jare – onvolledig. Hierdie afskrifte berus in die Staatsargied  te Pretoria.

Scanlen was egter om verskeie redes huiwerig om op hierdie laaste wenk te reageer. In die eerste plaas het hy getwyfel aan die handelswaarde van die gebied ten noorde van die Koloniale grens. Die siviele kommissaris sowel as die verteenwoordiger van Kimberley in die Kaapse parlement het verklaar dat hulle dikwels van so ‘n handel gehoor het, maar aan die bestaan daarvan twyfel. Buitendien was hy bewus van ‘n sterk gevoel van simpatie in die Kaapkolonie vir die Relpubliek se saak. Liewer as om sy eie posisie in gevaar te stel, het Scanlen verkies om die Imperiale faktor te handhaaf en regstreeks by Derby, in die gees van die Rhodes-briefwisseling, daarop aangedring om nie aan die wense van die Deputasie gehoor te gee nie.

Besluit van lord Derby

Na aanleiding hiervan, en uit vrees dat die Boere deur uitbreiding weswaarts die ooswaartstrekkende Duitsers sou ontmoet, om aldus ‘n sluitboom teen Britse noordelike uitbreiding te vorm, het Derby ‘n nuwe grensskikking voorgestel. Dit sou vir die Republiek wet gebiedsuitbreiding op die ooreenkoms van 1881 beteken het, maar tog kon die Deputasie hom nie daarmee vereenselwig nie, omdat die besware teen die vorige grenslyn ook in die nuwe voorgekom het.

Verset en teenkanting het Derby ook by voorbaat uitgeskakel deur die aanvaarding van die nuwe grenslyn ‘n sine qua non te maak vir die bespreking van ander, ewe belangrike kwessies waarvoor die afvaardiging na Londen gekom het. Op 18 Desember 1883 laat hy die lede per brief baie duidelik verstaan dat, indien hulle nie met sy grensreëling kan vereenselwig nie, dit onmoontlik sou wees om met die onderhandelinge voort te gaan. In die omstandighede het vir die afgevaardigdes niks anders oorgebly nie as om die grens, soos later duidelik in die Londense Konvensie omskryf, te aanvaar.

Die ooreenkoms in Londen het die moeilikhede aan die wesgrens nie beëindig nie, en daardeur is die Imperiale faktor in Suid-Afrika herstel. Ingevolge die ooreenkoms kon Brittanje, ná die ratifikasie van die Londense Konvensie ‘n kommissaris benoem om, in oorleg met amptenare van die Republiek, ten behoewe van vrede langs die nuwe wesgrens op te tree. Derby het egter die fout begaan om nog lank voor die bekragtiging, op aanbeveling van sir Hercules Robinson, die sendeling Mackenzie, ‘n bekende by die Bantoes maar onbemind by die Boere sowel as by die Koloniale regering, op 12 April 1884 tot Kommissaris van Betsjoeanaland te benoem.

Mackenzie het met meer haas as oorleg te werk gegaan. Sy ooreenkoms met Montsioa, wat intussen weer in ‘n stamstryd gewikkel geraak het teen Moshwêtê, ondersteun deur Gey van Pittius en die Rooigronders, het die Imperiale regering gevaarlik gekompromiteer. Dit het sy ontslag bewerkstellig en verdere Imperiale inmenging noodsaaklik gemaak, toe Warren in November 1884 opgedra word om die Goseniete van Rooigrond, wat van geen ondrwerping aan die Britse gesag wou weet nie, met militêre geweld te verjaag.

In die tydperk tussen die ontslag van Mackenzie en die koms van Warren, het Rhodes, in oorleg met genl. Piet Joubert, geprobeer om rus en orde in die noorde te bewerkstellig. Daarna het pres. Kruger met sy voorwaardelike proklamasie van 18 September 1884, toe hy Moshwêtê sowel as Montsioa onder beskerming van die Republiek gebring het, dieselfde probeer doen. Geeneen het sukses behaal ne, en aan die oorywerige Warren, met sy militêre mag van meer as 4 000 man, is dit gelaat om die honderd of minder  opstandige Gosen-republikeine te onderwerp. Voordat die finale slag geval het, het Warren, wat sy troepe vooruit was, in geselskap van Rhodes en Mackenzie pres. Kruger e.a. Transvaalse ampsdraers by Veertien Strome ontmoet, waar op 24 en 26 Januarie 1885 samesprekinge plaasvind oor die afbakening van die nuwe grens.

Ontmoeting tussen Kruger en Rhodes

Dit was die eerste persoonlike ontmoeting van die twee groot teenstanders, Kruger en Rhodes. Hul houding  teenoor mekaar by hierdie geleentheid was geen aanduiding van wat dit later sou word nie. Weens die teenwoordigheid van Warren, verteenwoordiger van die Imperiale faktor, het Rhodes geen uitgesproke vyandige houding teen die Republiek aangeneem nie – ‘n omstandigheid wat toe, net soos dikwels by ander geleenthede, die indruk gewek het dat hy ‘n Afrikanervriend was. Die moontlikheid van ‘n misverstand het hy self ook in hierdie geval deur ‘n skrywe aan lord Harris(36) uit die weg geruim, waar hy verklaar dat sy vernaamste doel was om die binneland te behou en Transvaal te omsingel.

(36)Lord Harris was op hierdie tydstip ondersekretaris vir Indië

Rhodes verkry sleutel tot noorde

Die tweedaagse konferensie, wat vrywel geen praktiese resultaat opgelewer het nie, het ook Warren se taak beëindig. Dietroepe kon ná hul aankoms nie meer vir die doel waarvoor hulle gestuur was, gebruik word nie en het net gevoelens opgejaag. Twee maande later, op 23 Maart 1885, het die Hoë Kommissaris die deel van Betsjoeanaland ten weste van die nuwe wesgrens van die Suid-Afrikaanse Republiek tot aan die 22ste graad suiderbreedte tot Britse protektoraat geproklameer. Die deel daarvan ten suide van die Moloporivier is op 30 September van dieselfde jaar Brits-Betsjoeanaland genoem en het ‘n kroonkolonie-bewind gekry, waarna dit op 16 November 1895 by die Kaapkolonie ingelyf is. Die Republiek se wesgrens was ingesluit en Rhodes se pad na die noorde beveilig.

Matebeleland

Van hierdie nuwe geriewe het Rhodes weldra, op ‘n manier aan hom eie, gebruik gemaak. Kenmerkend is dat hy, wat sy noordelike utibreiding betref, wel groot ideale gekoester het, maar die inisiatief altyd in ander hande gelaat het om te geleëner tyd, met sy gebruiklike intriges, teenstand van allerlei aard uit te skakel. Dieselfde jaar toe die Betsjoeanaland-kwessie “gereël” is, het Lobengula, opvolger van Silkaats as heerser oor die magtige Matebele-stam, by die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek daarop begin aandring om die traktate wat sy vader met die Boere gesluit het, te vernuwe. Aanvanklik het hy nie veel sukses behaal nie, omdat pres. Krugergevoel het dat ‘n noordelike belangstelling noodwendig die swaartepunt van die ooste, en veral Delagoabaai, sou verskuif.

Die gebeurtenisse aan die suidoosgrens van die Republiek in 1885 en daarna, toe Engeland besig was met die omsingeling van die Nieuwe Republiek, het die regering in Pretoria gewaarsku om gebuik te maak van die vryheid hom gegun in art. IV van die Londense Konvensie en wat daarop neerkom dat, in teenstelling tot die ooste en weste, onbeperkte vryheid, sonder enige inmenging van Engeland, aan die Republiek gelaat word om noordwaarts uit te brei. Met hierdie ooreenkoms as waarborg van Britse neutraliteit, het P.J. Grobler, verteenwoordiger van die Transvaalse regering, Lobengula besoek en met hom op 30 Julie 1887 ‘n traktaat gesluit waardeur aan elke persoon, mits voorsien van ‘n pas van die Staatspresident, reg van toegang tot die gebied en beskerming gedurende sy verblyf verleen is deur die inboorlinghoof, wie se volstrekte onafhanklikdeur die Republiek erken is.(37)

(37)Vir die inhoud van die traktate raadpleeg Leyds, Insluiten, II, p. 361 en p. 363

Die Moffat-verdrag

Rhodes, wat die noorde as Britse, meer in die besonder as sy eie invloedsfeer opgeëis het, is deur die Groblertraktaat onmiddellik tot optrede gebring, daarin tot groter haas aangespoor deur die verhale van fabelagtige goudrykdomme in die geb ied ten noorde van die Kimpopo. Sy aandrang om ‘n Britse protektoraat oor die hele gebied te verklaar, het op die teenkanting van die Hoë Kommissaris, bewus van die Imperiale regering se onwil om verantwoordelikheid in daardie rigting te aanvaar, skipbreuk gely. Tog het sir Hervules Robinson onderneem om die sendeling Moffat te gebruik om die aansprake van die Republiek te neutraliseer en, indien moontlik vir Engeland voordele sonder verplgtinge in die noordelike Bantoegebied te verkry. Moffat, goed bekend met die Matebele-stam, het ook daarin geslaag om op 11 Februarie 1888 die wispelturige inboorlingvors oor te haal om met hom ‘n traktaat aan te gaan, waarin hy onderneem het om aan geen persoon of staat van sy grond af te staan sonder uitdruklike voorkennis van die Hoë Kommissaris nie.

Die Moffat-traktaat het Rhodes slegs ‘n opsie en geen besitreg oor die betrokke gebied verleen nie, maar het die Imperiale regering in dié mate gekompromitteer dat die departement van kolonies, met sy onverskillige houding en suinige beleid ten aansien van gebiedsuitbreiding, heeltemal gewillig sou wees om Rhodes, met sy miljoene, volmag te laat om na goeddunke te handel.

Nog voor die finale ondertekening van die Moffat-traktaat het Rhodes van die Imperiale regering se flouheid gebruik gemaak en, in oorleg met Beit, die eerste goudjagter, ene Fry, na Lobengula gestuur om minerale-konsessie van die swart potentaat te verkry. Deur ‘n ernstige siekte was Fry verplig om onverrigter sake terug te keer, waarna Rudd, Maguire en Thompson met dieselfde opdrag na die noorde gestuur is.

Ná drie maande van onderhandeling het hulle daarin geslaag om, teenoor talle ander konsessiejagters, in November 1888 ‘n omvattende konsessie vir die ontginning van alle delfstowwe in die koninkryk van Lobengula te kry. Hul sukses was ongetwyfeld groot, maar kan stellig nie aan diplomasie toegeskryf word nie. Die moord op Grobler, konsul van die Suid-Afrikaanse Republiek in Matebeleland, moes aan aanhitsing van Rhodes se trawante toegeskryf word, soos pres. Kruger geglo het.(38)

(38)Gedenkschriften van Paul Kruger, p. 121. Grobler is, op sy terugreis van Lobengula om sy vrou af te haal, deur ‘ n bende van die Bamangwato voorgekeer en vermoor. Aangesien die Bamangwato onder Britse beskerming gestaan het, kon hierdie voorval tot ernstige verwikkelinge llei. Om dit te vermy, het die Republikeinse regering hom neergelê by ‘n skikking waarin opperhoof Kgama beloof het om vergoeding te betaal aan mev. Grobler.

Dit het baie besware by Lobengula uit die weg geruim, terwyl die afwyking van die onderlinge verstandhouding tussen blankes om vuurwapens uit die hande van die inboorlinge te hou, ook ‘n rede vir die welslae was. Behalwe die koninklike salaris van R2 400 per jaar en ‘n stoomboot op die Zambezi, het Lkobengula 1 000 gewere en 100 000 patrone as vergoeding ontvang.

Oprigting van die B.S.A. Company

Met ‘n afskrif van Lobengula se kapitulasie het Rhodes hom vir die soveelste keer na Londen gehaas, om hierdie keer die seën van die Imperiale regering te ontvang. ‘n Enkele oomblik het die Imperiale faktor weer opgeduik toe Chamberlain en Mackenzie op ‘n kroonkolonie-bestuur vi die gebied aangedring het, maar hul hoop is verydel toe lord Salisbury,  uit finansiële oorweginge, op 29 Oktober 1889 beheer met vrywel onbeperkte mag oor die gebied per oktrooi aan die British South Afrca Company van Rhodes toegeken het.

Vergeefse Transvaalse protes

Vir die Republiek het die sake nogmaals verkeerd ontwikkel toe hy, met die oprigting van die Chartered Company, ook aan sy noordgrens Britse buurskap verwerf het. Al wat Kruger kon doen, was om, in navolging van Engelse voorbeeld, op grond van die Londense Konvensie daarteen te protesteer. Dit het aan die end van 1888 gebeur, toe die Staatsekretaris die Britse regering amptelik meegedeel het dat die Moffat-traktaat sowel as die uitsluitend Engelse invloed oor Matebeleland nie erken word nie,  o.m. omdat “daardoor de Republiek ten noorden zou zijn ingesloten en zulks in strijd zou zijn met den geest der onderhandelingen gevoerd bij de Londensche conventie”.(39) Met ander woorde, die Republiek grond sy aanspraak op ‘n mondelinge ooreenkoms en reken begryplikerwys, maar heeltemal ten onregte, op ‘n gevoel van goeie trou ook in die diplomasie.

(39)Vgl. Skrywe van Bok van Beelaerts van Blokland, 11.10.88, by L.A. 20, BB. 2391/88

Uit die antwoord van die Britse regering blyk onmiskenbaar dat die argumente van die Republikeinse regering geen ernstige oorweging in Londen ontvang het nie. Op 23 Maart 1889 het die Hoë Kommissaris die regering in Pretoria laat weet dat “at the time of the conclusion of the Convention of London, Her Majesty’s Government did not bind themselves or engage not to extend British influence to the northward of the Republic”; en verder: “In conclusion I am directed … to point out that it is not by the recent declaration of Her Majesty’s Government as to exclusive British influence, but by the declaration of the South African Republic in article 2 of the Convention of London that the South African Republic is ‘enclosed’ and ‘its growth and extension’ and development to the northwards kept back!”(40)

(40)Hoë Kommissaris aan Staatsekretaris, 23.3.89 L.A. 20, BB. 792/89

Volgens die bedoelde artikel 2 onderneem die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek om die grense van die Republiek soos in artikel 1 bepaal, stiptelik te handhaaf. Artikels 2 en 4 is dan ook in groot mate teenstrydig en kan moeilik langs mekaar in een ooreenkoms bestaan. Die groot verskil tussen Londen en Pretoria in hierdie aangeleentheid was dat, waar eg. ‘n beroep gedoen het op die letter van die ooreenkoms, lg. te veel gereken het op die gees waarin die ooreenkoms tot stand gekom het.

Die Republiek en Zoeloeland

Heeltemal anders was dit met die oosgrens gestel, want, ofskoon hier ook oor die hele lengte van die grens Bantoes aangetref is, was die begeerte om oor hulle beheer uit te oefen, slegs van sekondêre belang. Die primêre oorweging hier was dieselfde as sedert die dae van die Groot Trek, nl. onafhanklike verbinding met die see. Baie duidelik blyk die verskil in waarde tussen noord en oos vir die Republiek uit die voorstel van pres. Kruger, dat hy van enige uitbreiding na die noorde sou afsien, mits hom ‘n vrye hand gelaat word in die ooste.

In oostelike rigting het daar, met St. Luciabaai, Kosibaai en Delagoabaai nie te ver van die Republiek verwyder nie, drie moontlikhede bestaan om ‘n vrye uitweg na die see te vind. Hoewel St. Luciabaai en Kosibaai as hawens onbelangrik geag kan word, het pres. Kruger, ten spyte van druk wat o.a. deur dr. Leyds op hom uitgeoefen is, tog hartstogtelik aan die gedagte om hulle vir die Republiek te besit, bly vashou. Dit kan alleen daaraan toegeskryf word dat die gebruik van die Portugese besitting Delagoabaai die republiek nie die volstrekte onafhanklikheid sou veleen wat Kruger begeer het nie.

Stigting van “Nieuwe Republiek”

St. Luciabaai, die hawe waarop die Republiek die meeste aanspraak gehad het, was ook die eerste wat hy finaal verloor het. Ten gevolge van die Zoeloe-oorlog van 1879 en die wanbeheer van die Engelse ná afloop daarvan, was die Boere, veral in die grensdistrikte, verplig om in te gryp en die vrede te herstel. As vergoeding vir hulp aan Dinuzulu het hulle ‘n stuk grond in Zoeloeland grensende aan die Suid-Afrikaanse Republiek verkry, waar in 1884 die “Nieuwe Republiek” amptelik in die lewe geroep is. Byna onmiddellik daarna het nie minder nie as vier groepe – die Suid-Afrikaanse Republiek, Engeland, Duitsland en die Nuwe Republiek – gewaande belange in St. Luciabaai, wat as moontlike  invoerpoort vi die nuwe staatjie kon dien, ontdek.

Van al die aansprake was dié van die Suid-Afrikaanse Republiek,gegrond op ‘n afstandsakte van Panda aan die Boere in 1840, histories die oudste; dié van die Nuwe Republiek, gegrond op ‘n vrywillige afstand van Dinuzulu, juridies die suiwerste. Vir Engeland egter het slegs die aanspraak van Duitsland as groot moondheid in aanmerking gekom – ‘n aanspraak wat hy sonder moeite, met die belofte van steun in Wes-Afrika by die Golf van Guinee, afgekoop het.

Britse anneksasie van Zoeloeland

Die twee Republieke is daarna eenvoudig genegeer en op 28 Julie 1885 is die betwiste hawe deur Engeland geannekseer nadat die Bitse vlag reeds op 18 Desember van die vorige jaar vir die eerste keer daar gehys was. By hierdie anneksasie het Engeland geen ander belang gehad nie as om ‘n eventuele verbinding van die Nuwe Republiek met die see onmoontlik te maak. Om die Nuwe Republiek heeltemal te isoleer, is in Mei 1887 Britse soewereiniteit oor Zoeloeland afgekondig, nadat Derby drie jaar vroeër nog geweier het om dit te doen.

Toe die Nuwe Republiek in 1888 ‘n deel van die Suid-Afrikaanse Republiek word, het Engeland alleen daartoe ingestem indien die Londensie Konvensie op die nuwe uitbreiding toegepas word en die groter Suid-Afrikaanse Republiek onderneem om “voor immer” afstand te doen van enige aanspraak op ‘n protektoraat oor Zoeloeland, geheel of gedeeltelik.

Met Kosibaai was die geval enigsins anders. Om besit oor die hawe te vekry, sou die Republiek agtereenvolgens beheer moes gekry het oor Swaziland, geleë in die suidoostelike hoek van die Republiek; Tongaland, aan die ooskus ten suide van Mosambiek, en oor die tussenliggende gebied van Zambane en Mbekisa. Swaziland het sonder twyfel binne die invloedsfeer van dieRepubliek geval. In geografiese opsig vorm dit deel van die Relpubliek; by twee vorige geleenthede, in 1846 en 1855, het die Boere ooreenkomste met die Swazi’s aangegaan terwyl Mbandine, met sy troonbestyging in 1875, opnuut sy Republikeinse onderdaanskap erken het.

Die kans vir Brittanje om in te gryp en in troebel water te vis, het egter ontstaan toe die Swazi’smet die Konvensies van 1881 en 1884 onafhanklik verklaar is. Gedurende die jare tagtig het Brittanje nie hiervan gebruik gemaak nie, terwyl selfs ‘ n redelike kans bestaan het dat die regte van die Republiek ten gevolge van die besoek van sir Francis de Winton aan Swaziland erken sou word.

In die begin van die jare negentig het daar ‘ n skielike verandering in die betrekkinge tussen die Republiek en Engeland gekom, wat in die eerste plaas, aan die benoeming van sir Henry Loch, ‘n hooghatrige Brit, tot Hoë Kommissaris toegeskryf moet word. Kort daarna het Rhodes Eerste Minister van die Kaapkolonie geword. Swaziland en die Republiek se regte daar is onmiddelllik ‘n onderwerp van onderhandeling gemaak, waarin Rhodes ‘n baie belangrike aandeel gehad het, soos duidelik blyk uit die kommersiële grondslag van die Swaziland-konvensies, veral van die eerste.

Swaziland-konvensies

Met hierdie ooreenkoms het rhodes se geoktrooieerde maatskappy vry spel in die noorde verkry, nadat die Republiek van alle aansprake in daardie rigting afstand gedoen het. Rhodes het gedink aan ‘n ekonomiese uinie en bevoorregting van Kaapse handelsware, met die voorwaardelike inwilliging van die Republiek om deel te neem aan ‘n tolverbond met die Kaapkolonie. Verder wou hy die spoorweë uit die Kaapkolonie en Natal tot aan die Transvaalse grens verleng.

Dit alles was nou nader aan verwesenliking as ooit. In ruil vir al hierdie toegewinge is ‘n verbinding met Kosibaai langs ‘n 5 km breë strook deur Swaziland, die gebied van Mbkisa en Tongaland, vir die Republiek in die vooruitsig gestel.(41) Tongaland is reeds in Julie 1887 deur sir A. Havelock, goewerneur van Natal, onder Britse invloed gebring.(42)

(41)Vgl. Artt. 10, 8, 23 en 11 van die eerste Swaziland-konvensie: Staats Courant, Z.A.R. 27 Augustus 1890. Merkwaardig in hierdie ooreenkoms is die moontlikheid wat dit laat vir uiteenlopende vertolking van die artikels m.b.t. die Republiek se deelname aan ‘n tolverbond. Artt. 19 en 20 weerspreek mekaar regstreeks.

(42)SSa 14, R. 8952/87

Die ooreenkoms van 1890 was, behalwe dat dit die teenstelling tussen Kruger se onafhanklikheidstrewe en Rhodes se oorheersingsideaal d.m.v. ‘n tolunie baie duidelik aan die lig gebing en vir die eerste keer direk teenoor mekaar gestel het, volkome waardeloos. Selfbehoud het Transvaal verbied om sonder ‘n eie seehawe aan ‘n tolunie deel te neem; en ná sy afsydige houding het Brittanje van die teenstrydige bewoordinge in die eerste konvensie gebruik gemaak om die verbinding met Kosibaai in die derde Konvensie nog verder op te skokrt deur die bepaling dat die Republiek, wat gelyktydig ‘n mate van jurisdiksie sonder die reg tot inlywing oor Swaziland gekry het, geen spoorweg buite die oosgrens van Swaziland mog sonder ‘n verdere konvensie nie.

Die vrywel niksbeduidende hawe Kosibaai, met die spoorwegverbinding daarheen, sou dus gebruik word om die vir die Kaapkolonie so nadelige Transvaalse isolement op te hef, terwyl die politiek van “belofte op uitstel” wat Brittanje in dié verband gevolg het, niks anders beoog het nie as om die Republiek van die see af weg te hou.

Britse inlywing van gebied van Zamb ane en Mbekisa

Tereg merk P.R. Botha op dat Bittanje hierdie verdere konvensie nie werklik “beoog” het nie, omdat hy in April 1895, slegs twee maande ná die bekragtiging van die derde Swaziland-konvensie, daartoe oorgegaan het om die grond van Zambane en Mbekisa in te lyf, en die toekenning van altans ‘n deel van hierdie grond aan die Suid-Afrikaanse Republiek sou juis die onderwerp van bespreking by die “verdere” konvensies gewees het.

Die inlywing van die gebied het plaasgevind ondanks uitdruklike verklarings deur Zambane sowel as Mbekisa dat hulle vry en onafhanklik was; ondanks hul ewe uitdruklike versoek om onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Republiek gebing te word;(43) en ondanks die feit dat hulle reeds jare tevore vir die meeste van hul volk  heeltemal vrywillig hutbelasting aan die Republiek begin betaal het.(44)

(43)SSa 14, R. 2409/89

(44)L.A. 18

Vergeefse Transvaalse protes

Vir die Republiek, wat die anneksasie beskou het “als een onvriendschappelijke daad” en “gericht tegen deze Republiek” – ‘n opvatting waaraan die volksraad van die Oranje-Vrystaat toegevoeg het dat dit “ten gevolge moet hebben de vertraging en stremming van eene zoo zeer gewenschte betere samenwerking en verstandhouding tusschen de verschillende Staten en Koloniën van Zuid-Afrika” – het niks anders oorgebly nie as om amptelike te protesteer, wat gebeur het in ‘n telegram aan die Hoë Kommissaris van 27 April1895.

In die antwoord wat die Republiek deur toedoen van die Britse agent, sir J.A.de Wet,  ongeveer twee maande later bereik het, regverdig die Bitse regering sy daad deur, ouder gewoonte, na artikels 1 en 4 van die Londense Konvensie te verwys, en daaraan toe te voeg dat desondanks verskeie onderdane van die Republiek, deur verdrae en andersins, ‘n houvas op die gebied probeer verwerf het – verdrae dikwels verkry is onder valse voowendsels en bedreiging van die betrokke Bantoe-groepe.

Hierdie bskuldiging was onwaar, soos geblyk het uit ‘n ondersoek wat Lucas Meyer, spesiaal deur die Uitvoerende Raad afgevaardig, ter plaatse na die beweerde gevalle van dwang en onreëlmatigheid gaan instel het. Inteendeel, navraag by Zambane en sy indoenas het aan die lig gebring dat ene Saunders, ‘n persoon in Britse diens, hom aan allerlei onreëlmatighede in die Bantoegebied skuldig gemaak het – dieselfde Saunders wat die Boere by die Hoë Kommissaris aangekla het.(45)

(45)L.A. 18

Britse protektoraat oor Tongaland

Toe hierdie onvriendelike daad op 30 Mei gevolg is deur die uitroeping van ‘n Britse protektoraat oor Tongaland, was die kanse om Kosibaai ooit te bereik, finaal van die baan en die omsingeling van Transvaal kompleet. Die hoop van die Republiek om ‘n eie seehawe te besit, het vervaag – so ook Rhodes se ideaal om Transvaal in sy tolunie te kry. Sonder dat een van hulle in hierdie stadium op ‘n definitiewe oorwinning aanspraak kon maak, was pres. Kruger sonder twyfel die beste daaraan toe. In die uur van sy oorwinning het Rhodes die nederlaag gely. Deur die omsingeling wat hy help bewerkstelllig het, het hy Kruger gedwing om sy enigste hoop te vestig op die neutrale Portugese hawe, waardeur hy wel nie onbeperk selfstandig kon wees nie, maar in elk geval selfstandig genoeg om sy isolement teenoor die Kaap te handhaaf.

In Paul Kruger se beleid om die staatkundige en ekonomiese onafhanklikheid van sy republiek te handhaaf, het Delagoabaai ‘n belangrike rol gespeel. Vandat hy die bewind aanvaar het, het Kruger hom beywer vir ‘ n regstreekse spoorverbinding tussen die Portugese hawe en Pretoria. Solank die republiek arm en swak was, was dit nie maklik om die nodige kapitaal daarvoor te vind nie, maar ná die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde in 1886 en die ontwikkeling van Johannesburg, het die posisie ingrypend verander.

‘n Konsessie wat die republiek aan ‘n groep Nederlandse belangstellendes met die oog op die bou van die spoorweg verleen het, het tot die stigting gelei van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij. Die nodige kapitaal, Nederlands en Duits, is gvind en die werk is kragdadig aangepak. Hoe meer dit gevorder het, hoe minder was Kruger en sy regering geneë om tot ‘n vergelyk te kom met die Kaapkolonie wat alles in sy vermoë gedoen het om sy eie lyne na Johannesburg te verleng.

Kruger het, daarenteen, die waarde besef van ‘n eie nasionale spoorlyn wat vir byna sy hele lengte oor Transvaalse grondgebied loop met die gevolglike voordele van doeane- en vraggelde wat die Transvaalse skatkis gestort word. Op daardie wyse was die Portugese hawe, onafhanklik van Britse beheer, en ‘n eie nasionale spoorlyn ‘n waarborg vir die vryheid van Transvaal, Dit moes ten alle koste beskerm word.

Namate die spoorlyn gevorder het, het die Kaapse regering met Rhodes aan die spits en gesteun deur die Britse owerheid sy pogings verdubbel om die Transvaal te dwing sy plek in ‘n Suid-Afrikaanse ekonomiese eenheid in te neem. Paul Kruger se herkiesing tot Staatspresident in 1888 en weer in 1893 h et Rhodes se planne nie begunstig nie. In Januarie 1894 het die oosterlyn Waterval-Onder bereik en oor die hoëveld is vinnig gevorder in die rigting van die hoofstad en in Oktobermaand het die eerste trein uit die ooste Pretoria binnegestroom.

In Januarie 1895 is ‘n gereelde diens tussen Lourenço Marques en Pretoria oopgestel en daarmee het ‘n lang gekoesterde ideaal van Kruger in vervulling gegaan. Die formele opening het in Juliemaand plaasgevind. Die spoorlyn van Durban na Johannesburg is in dieselfde jaar oopgestel, terwyl Kruger reeds in 1982, toe die welslae van sy eie spoorweg verseker was, toestemming verleen het tot die verlenging van die Kaapse lyn oor Bloemfontein en Vereeniging na die goudstad. Die eerste trein uit die suide het Johannesburg in September 1892 bereik.

Rhodes se vergeefse strewe na Delagoabaai

Deeglik daarvan bewus dat die Republiek, met Delagoabaai om op terug te val, ekonomies onaantasbaar was, het Rhodes die jaar voordat finale slag in Swaziland geval het, sy reuse-besit as lokaas aan die behoeftige Portugal voorghou, om met behulp daarvan besit oor die hawe self te verwerf. By die klein Portugal het gehegtheid aan sy swaar verworwe koloniale besit swaarder gewees as Rhodes se beurs. Buitendien het die Duitse imperialisme in Suid-Afrika ook een keer Transvaalse belange bevoordeel: Berlyn het baie duidelik te kenne gegee dat anneksasie van Portugees-Oos-Afrika, selfs met verlof van Lissabon, nie toegelaat sou word nie.(46) Rhodes moes nogmaals die aftog blaas.

(46)E.A. Walker, Lord de Villiers and his Times, p. 252

Hierdie en ander teleurstellings wat gedreig het om sy lewensdoel te verongeluk, het in Rhodes se lewe ‘n ‘n merkwaardige verandering bewerkstellig. Voorheen sien ons in hom die politikus wat handige diplomasie kon aanwend; ná 1894 herken ons alleen maar die geweldenaar. Ná sy laaste besoek aan pres. Kruger in 1894 het hy ontwyfelbaar tot die gevolgtrekking gekom dat die enigste hoop om hom van ‘n algehele mislukking te vrywaar, in ‘n onderwerping van die Republiek geleë was.

In hierdie stadium was dit ook al volkome duidelik dat Rhodesië geen noemenswaardige goud sou oplewer nie. Inmenging in die inwendige aangeleenthede van die Republiek sou Rhodes dus die kans bied om twee vlieë met een klap te slaan en, behalwe die verwesenliking van ‘n lewensideaal, ook nog sy kompanjie te red.

Die perskampanje van die “Argus”-groep was die eerste aanduiding van ‘n radikale ommeswaai in sy beleid. Elke gebeurtenis sou hy aangryp om ‘n militêre botsing met die Republiek uit te lok, en die kans hiertoe het gou gekom as wat hy selfwaarskynlik vermoed het.

Die voltooiing van die hooflyne van die kus na Johannesburg het direk aanleiding gegee tot ‘n tariefoorlog – hoofsaaklik tussen die Kaapkolonie en die S.A. Republiek. Dit het geleidelik erger geword en sy toppunt in 1895 bereik met die driwwegeskil. Toe die Kaapse regering, in ‘n poging om verkeer van die Transvaalse oosterlyn na hom te lok, die tariewe op sy trajek tot by Vereeniging grootliks verlaag het, het die N.Z.A.S.M. geantwoord deur die vraggeld op die trajek van die Kaapse lyn van Vereeniging na Johannesburg wat hy beheer het, sodanig te verhoog dat die oosterlyn nog in staat was om mee te ding.

Die Kaapse regering het daarop gereageer deur die goedere aan die Vrystaatse oewer van die Vaalrivier op ossewaensoor te laai en per pad verder te vervoer. Die N.Z.A.S.M. was teen hierdie kompetisie nie bestand nie en om sy “nasionale” spoorlyn te hulp te kom, het Kruger en sy regering tot die drastiese stap orgegaan om die driwwe deur die Vaalrivier te sluit. Dat Transvaal reg gehad het om die driwwe te sluit, ly geen twyfel nie; verstandig was dit egter nie.

Die oneweredige verlaging van tariewe op die spoorlyne van die Kaapkolonie na die Vaalrivier was ‘n noodmaatreël van die ergste graad, wat die toets van die tyd onmoontlik kon deurstaan. Nie alleen sou die groot aantal ossewaens gedurende die wintermaande voor onoorkomelike moeilikhede te staan kom nie, maar die veel korter Delagoabaai-lyn het so groot voorsprong op die Kaapse lyne gehad, dat verlaagde tariewe hulle op die duur nie doeltreffend sou kan beskerm nie.

Van hierdie voorval het Rhodes gebruik gemaak om op oorlog met die Republiek af te stuur. Bewus dat die Kaapkolonie die saak alleen nie sou kan bolwerk nie, was hy gretig om die gesmade Imperiale faktor vir sy doel te gebruik, soos duidelik blyk uit die Kaapse kabinet se versekering aan Chamberlain dat, in geval van oorlog, die Kaapkolonie die helfte van die onkoste sou dra.(47) Kruger, wat van die dwriwwe-geskil nie ‘n saak van gewapende botsing wou maak nie, het toegegee aan Chamberlain se ultimatum en daardeur Rhodes se planne nogmaals in die war gestuur.

(47)Vindex, op. cit., p. 454

Rhodes en die uitlanders

Hierdie teenslag het Rhodes nie van sin nie, maar alleen van taktiek laat verander. Nogmaals het hy die Imperiale faktor sowel as sy ministeriële kollegas opsy geskuif en in die diepste geheim, met die hulp van ‘n aantal vertroude handlangers, ‘n poging aangewend om die Republiek van binne te ondermyn. Joseph Chamberlain, die minister van kolonies, was persoonlik volkome op die hoogte met Rhodes se planne wat hy amptelik sou steun indien dit slaag. Om hom in sy agitasie behulpsaam te wees, het Rhodes gerieflik gebruik gemaak van die “Transvaal National Union” wat in 1892, sonder die steun of medewerking van die Randse kapitaliste, opgerig is. In die begin het dit selfs aansluiting gesoek by die liberale minderheid onder die Boere en, by die verkiesing van 1893, die kandidatuur van Joubert gesteun.

Weldra, namate dit seker geword het dat diep goudmynskagte lonend sou wees, het die kapitaliste groter belangstelling begin toon. ‘n Permanente uitlander-bevolking was daarmee vir die Rand verseker, en noodwendig het dit ‘n begeerte by sekere magnate gewek om beheer uit te oefen oor die wetgewing van die land. Daarmee het die “National Union” van karakter verander, ‘n groepsvereniging geword in belang en uitsluitlik onder beheer van ‘n kliek van hoogstens 80 persone wat, om hul eie oogmerke te bevorder, gewaande belange van die uitlander-gemeenskap in Johannesburg tot voorwerp van besondere sorg gemaak het.

Hul vernaamste taak was om die foute van die regering, wat stellig bestaan het en wat aan die plotselinge verandering van ‘n agrariese in ‘n myn-en nywerheidsgemeenskap toegeskryf moet word,deur ondergrondse agitasie in ‘n opsetlik verkeerde lig by die vreemdelinge-element voor te stel en tot bittere griewe te verhef. Terselfdertyd, toe die opstandsgedagte gevoed is, is kapitalistiese belange uitgebrei, tal van die mynmaatskappye opgerig en het die aandelewaarde in die Republiek van R60 miljoen in 1894 tot R300 miljoen in September 1895 gestyg.

Omdat ‘n aandeel in, of nog beter, beheer oor(48) die regering hul uiteindelike doel was, was die stemregkwessie wel die vernaamste stok in die uitlander-hand – dieselfde stemreg waarvan Lionel Phillips, oproermaker by uitstek, gesê het: “I do not think many people dare a fig about it.” Maar juis die onophoudelike aandrang op “groter” stemreg het die regering in Pretoria gewaarsku waar ombetyds te keer.

(48)Op 9 Augustus 1910 het Jameson ‘n toespraak in Durban gehou waar hy o.m. die volgende oor die doel met die Strooptog gesê het: “If a further proof were wanted, I had in my pocket at that time supposing we were to succeed in our aim, the names of those who would be the new Executive, and the President was not to be an Englishman, but the most advanced Progressive man we knew at that time, Lucas Meyer, President of the Volksraad.” Vgl. Berig in The Standard van 11 Aug. 1910, ook by L.A. 91a

Die tegemoetkoming aan die uitlanders t.o.v. die stemreg, wat met die instelling van die Tweede Volksraad sy hoogtepunt bereik het, het vanselfsprekend besware laat ontstaan, maar vir die onafhanklike voortbestaan van die Republiek was dit noodsaaklik. Hoewel die uitlanders nog ver in die minderheid was, en dit onwaarskynlik was dat almal uit vrye beweging van die stemreg gebruik sou maak, moes met die snel toenemende vreemdelinge-bevolking in die toekoms rekening gehou word – te meer daar die regering kennis gedra het van Rhodes se metodes in Kimberley, “where he had extinguished political liberty and reduced the majority of the voters to the level o f mere slaves of De Beers”.(49)

(49)F. Reginald Statham, Paul Kruger, p. 257

Op die konferensie met die verteenwoordigers van die Oranje-Vrystaat, Fischer en Kleinveld, op 2 Januarie 1896, het Kruger sy h ouding i.v.m.die uitlander-stemreg geregverdig deur hul daarop te wys dat, “alhoewel er vele knappe en getrouwe menschen op die Randzijn, zijn er ook eene menigte van alle nationaliteiten waaronder velen misschien die uit te gevangenisschen gevlucht zijn, en zulken kunnen tog het stemrecht niet krijgen”.(50)

(50)L.A. 628, No. 29

Dat teenoor hierdie suiwerheid van motiewe geprobeer kan word om, soos Headlam doen,(51) die President se houding aan ‘n poging “to save himself from being swept from power by mildly progressive new voters likely to support his rival Joubert” toe te skryf, kan wel beweer word,maar bewys dit egter nie.

(51)The Cambridge History of the British Empire, VIII, pp. 554-555

In hul aanvalle op Kruger het sy teenstanders, binne sowel as buite die Republliek, altyd van die foutiewe veronderstelling uitgegaan dat die uitlanders ‘n meerderheid van die bevolking verteenwoordig het en eenparig in hul eise was. In’ntelegram aan die New York World beweer Rhodes dat, teenoor die 14 000 Boere, 100 000 Engelse in die Republiek woonagtig was.

Ook sir Jacobus de Wet, Britse Agent in Pretoria, het ‘n foutiewe opgawe van die verskillende groepe se sterkte verstrek. Volgens hom was daar in 1894, behalowe die 15 558 ander vreemdes, 62 509 Britse onderdane in die Republiek, terwyl die burgerlike bevolking slegs 70 861 getel het. Hierteenoor kan die amptelike syfers, soos deur E. Lippert aan die Daily Chronical meegedeel, gestel word. Dit toon dat daar, teenoor 150 408 Republikeinse burgers, in 1896 slegs 75 720 uitlanders, van wie 41 275 Engelse, in die Republiek was.(52)

(52)Vgl. P.R. Botha, op. cit., p. 352; Muller, op. cit., p. 418; L.A. 628; G.R. 152/96

Dat die minderheidsgroep buitendien glad nie eenparig was nie, getuig verskeie omstandighede. Die beste bewys hiervoor is wel die gebrekkige steun wat die opstandsgedagte ontvang het. Nie alleen het die oorgrote meerderheid ‘n volstrekte neutraliteit bewaar en, waar enigsins moontlik, in stampvol treine die veiligheid van die grens opgesoek nie, maar baie het, nadat ‘n botsing onvermydelik was, hulle vrywillig by die regering vir diens teen die opstandelinge kom aanmeld.(53)

(53)Vgl. Botha, op. cit., p. 391; ook L.A. 629

Soos so dikwels gebeur het, is die beweerde eenheid onder die uitlanders as onwaar bewys. In Maart 1896 het Rhodes Milner in Londen meegedeel dat een van die redes waarom hy met die Jameson-inval begin het, was omdat in die Republiek ‘n klein maar groter wordende groep Engelse was wat vyandig tenoor die Imperial verbintenis gestaan het. Daarom moes hy optree “to effect a revolution in the Transvaal before that minority had grown into a majority”.

Jameson-inval misluk

Van die onwaarhede oor die uitlanders se beslistheid en eenparigheid was Rhodes en sy handlangerkliek die grootste slagoffers. Toe Jameson met sy stropersbende die Sondagnag, 39 Desember 1895, van Pitsan vertrek het, het hy niks minder as ‘n opstand van die vele vreemdelingegemeenskap in Johannesburg verwag nie. Op 2 Januarie, nadat Jameson hom onvoorwaardelik oorgegee het, was Johannesburg, ten spyte van die “National Union” en die “Reform Committee”,oorwegend passief. Geesdrif buite die enge kring van samesweerders kon nie gewek word nie.

Die strooptog, waarvan so geweldig baie afgehang het, het as ‘n klug geëindig. Net soos Carnarvon sy federasieplanne in die laaste instansie met geweld wou verwesenlik, wou Rhodes sy doeleindes ook met geweld bereik. Slegs een verskil bestaan tussen die twee gebeurtenisse: die laaste was ‘n baie groter mislukking as die eerste. In daardie opsig was Shepstone ‘n beter werktuig as Jameson, wat senuagtig en oorhaastig in sy optrede was en, ondanks ‘n hele reeks bevele, ter elfder ure besluit het om sy eie kop te volg.

Interessant is die hele episode ook sover dit verskille in Britse kringe t.o.v. Suid-Afrikaanse aangeleenthede veroorsaak het. Die lot van die uitlanders, wat aan die opstandelinge ‘n gemeenskaplike belang kon verskaf het, was sekondêr – primêr was die belange van die kapitalistiese groepe, wat nie alleen uiteenlopoend was nie, maar selfs teenoor mekaar te staan gekom en uiteindelik verdeeldheid in eie kring veroorsaak het. Veral die Rhodes- en die Ecksteingroep het meegeding om die beheer oor die Randse goudmyne.

Die “National Union”, Lionel Phillips e.a. wat tot lg. groep behoort het, het ‘n oorheersing van Rhodes in Johannesburgse kapitaal-aangeleenthede gevrees en kon hom geen onbeperkte gesag in hierdie aangeleentheid laat nie. Daarom het hulle met Rhodes en sy groep, wat “het hijschen van de Britse vlag tot eene conditie zine qua non” gemaak het, verskil en hulle vir die behoud van die Republikeinse regeringsvorm verklaar.

Hierdie meningsverskil word duidelik weerspieël in die haastige oor en weer stuur van kode-telegramme tussen suid en noord gedurende die laaste dae voor die opstand. Toe telegramme alleen Rhodes nòg tot toegewing nòg tot optrede kon bring, het Leonard en Hamilton hom persoonlik aan sy woning by Kaapstad gaan besoek. Rhodes het egter die situasie ontwyk en het op die kritieke Saterdagmiddag ontspanning gaan soek op sy ponie in die berge agter Groote Schuur.

Min gebeurtenisse in ons geskiedenis het so ‘n verreikende en omvattende utiwerking gehad as die Jameson-inval. In die tydsbestek van ‘n paar dae is langsaam en kunstig opgeboude verhoudinge omvergegooi. Totver buite die grense van Suid-Afrika het dit sy invloed laat geld en in die eerste plaas van Brittanje, danksy die gesagsmisbuik van persone aan wie se sorg sy goeie naam toevertrou was(54), “the laughing stock of the civilized world” gemaak.(55)

(54)Ten minste drie vooraanstaande persoonlikhede was hieraan aandadig: Rhodes as Eerste Minister van die Kaap-Kolonie;sir Henry Loch, voorheen Hoë Kommissaris,wat met sy voorkennis van die opstand selfs hulp aan die opstandelinge verleen het; en die Minister van Kolonies, Chamberlain .T.o.v. lg. se aandeel bestaan daar groot meningsverskil. In 1897 het Rhodes self egter beweer dat “Joseph Chamberlain knew everything that went on; he was up to his neck in everything appertaining to the question of the Raid.” Vgl. Mededeling van C.A.V. Conybeare in Westminster Gazette van 9.5.01. Ook by L.A., 981a

(55)E.B. Iwan-Muller,op. cit., p. 427

Duitsland en die Republiek

Die telegram van die Duitse Keiser aan pres. Kruger van 3 Januarie 1896, wat op sy beurt reperkussies sou hê, is die beste bewys hiervan. Dat hierdie telegram nie bloot op ‘n gevoel van agting vir die persoon van die President berus het nie, is baie duidelik. Op 30 Desember 1895 het dr. Leyds, wat om gesondheidsredes in Duitsland vertoef het, in ‘n vertroulike skrywe aan Montagu White, Konsul-generaal van die Republiek in Engeland, berig “dat Duitschland nogmaals aan Engeland heeft te kennen gegeven dat het status quo der Republiek moet worden bewaard”.(56)

(56)L.A., 91a

Hierop het White twaalf dae later, nadat die ergste storm sedert die versending van die telegram oorgewaai het, geantwoord “er bestaat dezelfde beslistheid, dat inmenging van Duitschland in de Afrikaamnsche quaestie niet zal worden geduld”; terwyl hy as sy persoonlike mening daaraan toevoeg “dat het bijna tot oorlog kwam tusschen Engeland en Duitschland”.(57)

(57)L.A., 628, G.R. 93/96

Die geskil tussen die twee groot moondhede is daarmee nie uit die weg geruim nie, want twee maande later het Montagu White aan die Staatsekretaris van die Republiek laat weet dat van Britse kant geprobeer is om toenadering tot Frankryk te bewerkstellig. “Men sprak openlijk van het evacueeren van Egypte en concessies aan Frankrijk, en dat kan natuurlijk alleen met een vijandig oogmerk zijn tegen Duitschland.”(58)

(58)L.A. 628, BB. 17/96

Vir Rhodes was die afloop van die sgtrooptog vernietigend. ‘n Tyd lank was hy die sondebok van die Empire, na wie selfs sy mindere niegehuiwer het o m met modder te gooi nie. Namate die geb eurtenis in die verlede vervaag het, het hy hom in groot mate in die guns herstel. Lyk of Jameson se nederlaag en sy eie terugslag Rhodes vir die eerste keer bewus gemaak het van sy eie onvolmaaktheid.

In die uiteindelike unifikasie van die Suid-Afrikaanse state het hy nog geglo,maar besef dat dit alleen deur die so dikwels miskende Imperiale faktor bewerkstellig kon word. En met die besef van hoe beperk sy eie moontlikhede in der waarheid was, was sy gewone selfvertroue op gevoelige wyse geskok. Ná sy laaste mislukking het hy Stead meegedeel “that he absolutely refuses to take any initiative in the matter again”.

Onvoorwaardelik het die man wat voorheen net kon dikteer, die maatreëls aanvaar wat Milner in Suid-Afrika sou kom toepas: “I support Milner absolutely without reserve. If he says peace, I say peace, if he says war, I say war. Whatever happens, I say ditto to Milner.”(59)

(59)W.T. Stead, op. cit., pp. 107-108

Nadat hy deur die noodlot ru van sy hoë voetstuk afgeruk was, het sy hele lewensdoel vervaag en het sy politieke ideaal blykbaar soos ‘n kaartehuis inmekaar getuimel. In 1899 het hy vir die soveelste keer sy testament herroep en vir die eerste keer nugter in sy uiteindelike wilsbeskikking geword. Van sy grootste ideë van Britse eenheid en superioriteit merk ons in die laaste testament niks. In plaas van die skepper van ‘n nuwe Britse Ryk te wees, stel hy hom tevrede om die grootste donateur van Oxford te word.

Saam met Rhodes se val as Eerste Minister van die Kaapkolonie, het die resultaat van sy grootste politieke sukses verkrummel. ‘n Rassestryd wat sedert sy samewerking met die Afrikanerbond sluimerend was, het nou weer teuelloos sy verskyning gemaak. Dit het nie alleen die politieke verhouding in elk kolonie of staat bepaal nie, maar die verskillende state en kolonies ook onderling verdeel. Natal se afsydigheid het toegeneem: Voortaan sou hy alleen vir ‘n kommersiële verbintenis te vinde wees, terwyl die gedagte aan federasie voorlopig heeltemal van die baan was.

President Steyn verkies

In die Vrystaat het ‘n nuwe nasionalisme sy verskyning gemaak, wat ‘n kompromis tussen Boer en Brit by voorbaat uitgeskakel het. In Maar 1896 is Steybn met ‘n geweldige meerderheid oor sy liberale teenstander, Faser, tot Staatspresident van die Oranje-Vrystaat gekies. Daarmee moes die suidelike oriëntasie in die Vrystaat finaal swig teen die gedagte van nouer samewerking met die Suid-Afrikaanse Republiek. Presies twee jaar later is met die stigting van die Federale Raad die intieme samewerking van die twee Republieke op verskillende gebiede aangevoor.

Noodwendig het die inval die felste reaksie in die Suid-Afrikaanse Republiek uitgelok. Kruger, wat grys geword het in diens van die staat, het op sy oudag politieke volmag verkry. Die vertroue van die volk in hom was onbeperk en vir die stelselmatige bewapening van die Republiek, waartoe hy alle rede gehad het, het hy die volle steun van die burgers ontvang.

Om Jamesonen sy stropers aan Brittanje uit te lewer om hulle straf te ontvang, was ‘n slim set van die President en met sy begenadiging van die leiers van die “Reform Committee” wat deur ‘n hof ter dood veroordeel is, het Kruger se reputasie as wyse staatsman ten toppunt gestyg. Die uitlanders is die swye opgelê – van federasie of unie was daar geen sprake meer nie.

Reaksie in Kaapkolonie

Anders as in die Vrystaat, Natal en Transvaal was die politieke uitwerking van die inval in die Kaapkolonie. Terwyl dit elders die bevolkingsgroepe in politieke opsig gekonsolideer en verenig het, het dit in die Kaapkolonie juis die verskille beklemtoon en tot groepvoming aanleiding gegee. Hofmeyr, vertroueling van Rhodes, was ontnugter. Ná afloop van die inval verklaar hy op ‘n eetmaal van familielede en intieme vriende: “Ik sta thans weer waar ik in 1881 strond!” Dieselfde verandering was by sy organisasie, die Afrikanerbond, merkbaar. Die eersvolgende kongres is op Burgersdorp gehou en nie  op Mafeking nie,en daar is o.m. ‘n kragtige voorstel teen die vrybuiters en t.g.v. die Republiek aangeneem.

Met die rehabilitasie van Hofmeyr en die Afrikanerbond het die Engelssprekende koloniste ook reggekry wat hulle voorheen tevergeefs probeer doen het. In 1883 en 1884 het hulle, danksy Hofmeyr se konsekwente volharding om nooit self ‘n kabinet saam te stel nie, maar altyd een van die Engelse groepe te steun, tevergeefs geprobeer om ‘n enkele poltieke organisasie te vorm. In 1896 het die verhouding verander.

Die Afrikanergroep, grootliks ontnugter, het hom nou gestel teenoor die Engelse groep, waardeur lg. kans gekry het om te verenig. Buitendien het die felste imperialiste wat Rhodes voorheen vanweë sy gewaande Afrikaner-simpatieë gewantrou het, nou weer vertroue in hom gekry.Sy beleid, wat met Jameson skipbreuk gely het, het hulle die geleentheid verskaf om tot eenheid van optrede te kom.

Op 1 Februarie 1896 is ‘n vergadering op Kei Road, naby Oos-Londen, gehou waar die “Anglo-African League” gestig en waar “allegiance to the British flag” as eerste beginsel aanvaar is. Aanvanklik het dit ‘n vereniging gebly met uitgesproke Britse simpatieë, maar twee maande later, op 28 Maart, het dit ‘n breër grondslag en ‘n nuwe naam gekry: die “Loyal Colonial League”,en is dit tot uitgesproke politieke organisasie omgevorm.

Op die eerste kongres op 26 en 27 Mei 1896 op Queenstown gehou, is die naam  nogmaals verander in “South African League”,en as grondbeginsel is aanvaar “its unalterable resolve to support the existing supremacy of Great Britain in South Africa”. Die organisasie het hom verbind “to oppose any attempt that may be made to weaken or destroy its supremacy”.(60)

(60)J. Albert Coetzee, op. cit., p. 196 en verder

So het dit ‘n opposisie-organisasie geword deurdat lidmaatskap aan Bodslede ontsê is. Dit het weer die Imperiale faktor in Suid-Afrika ingevoer, deurdat dit aangesluit het by die “African League” in Londen, en omdat dit voornemens was om d.m.v. die Hoë Kommissaris ‘n skakel met die Britse minister van kolonies te hê. Dit het presies gepas in die kraam van Chamberlain wat self ‘n sterk voorstander van die Imperiale faktor was en koloniale aangeleenthede onder sy direkte beheer en toesig wou hou.

Met die aanvanklike nederlaag van Rhodes se planne word een van die interessantste hoofstukke in ons nasiewording afgesluit. Die botsing tussen Kruger en Rhodes kan nie op persoonlike kwessies gefundeer word nie, maar berus op ‘n diepgaande verskil in lewensbeskouing  Hierdie verskil is duideliker en die botsing soveel intenser omdat ons nie in die eerste plaas te doen het met die lewensbeskouing van twee losstaande individue nie, maar juis omdat die ganse wese, doel en strewe van twee nasionale groepe wat deur omstandighede teenoor mekaar gestel is, daarin tot uitdrukking kom.

— — — oOo — — —