A.J Böeseken, M.A., D. Phil
Toe Jan van Riebeeck op 5 April 1652 op 32-jarige leeftyd aan die hoof van die stigtingsvloot die Tafelberg in sig gekry het, het skepe van die Generale Vereenighde Nederlantsche G’octroyeerde Oostindische Compagnie, kortweg bekend as die V.O.C., reeds bykans vyftig jaar om die Kaap gevaar. Selfs voor die stigting van die V.O.C. het Nederlandse vlootvoogde, net soos die Portugese seevaarders, name gegee aan berge, baaie, kape en eilande. Af en toe het Nederlandse admiraals van Portugese oorsprong op hul kaarte verander. So het Aguada de Sao Bras Mosselbaai geword en het Joris van Spilbergen die baai aan die voet van Tafelberg, wat in 1503 na Antonio de Saldanha genoem is, in 1601 Tafelbaai genoem, terwyl die ouer naam, Saldanhabaai, gaandeweg oorgegaan het op die meer noordelik geleë baai. Die eilande waaraan Van Spilbergen die name Cornelia en Elisabeth gegee het, is later verander in Robben- en Dasseneiland onderskeidelik.
Nederlandse en Engelse seevaarders aan die Kaap
Gedurende die eerste helfte van die 17de eeu het veral Nederlandse en Engelse skepe Tafelbaai binnegevaar en was daar selfs sprake van samewerking tussen die Oos-Indiese Kompanjies van die twee lande. In Augustus 1619 het die Here XVII die vraag bespreek of hulle “gemeijnder hant” ‘n fort aan die Kaap sou bou, of dat elkeen “een fort apart” sou oprig. Hulle het besluit om die Engelse Kompanjie mee te deel “dat dese Compe mede was geresolveert de voorz. Plaets aen de Caep te verseeckeren, maar dat deselfde geern soude weten op wat manieren de Engelschen dat souden genegen sijn te doen, ‘t sij met voortplantinge van Colonien, of met fortificatie en besettinge van krijgs volck of andersints en oock op wat plaetse men de voorsz. Colonie of fort soude willen bevatten”. Die advokaat van die Kompanjie, Willem Boreel, het in hierdie tyd herhaaldelikna Engeland gegaan om planne met die Engelse Kompanjie te bespreek.(1) Die Direkteure van die Engelse Kompanjie was ten gunste daarvan dat elkeen ‘n klein verkenningskip sou uitstuur, terwyl die Nederlandse Bewindhebbers gemeen het dat die skepe van die jaarlikse retoervlote die beste sou wees om die nodige verkenningswerk te doen.
(1)Pieter van Dam: Beschrijvinge van de Oost-Indiese Compagnie, Eerste Boek, deel I, b l. 271-272
Van Saldanhabaai tot Tafelbaai is die kus ondersoek. Die keuse het op die land “bij ‘t Soet revierken” in die Tafelvallei geval, maar verder as planne het dit voorlopig nie gekom nie en ná 1623 het die felle stryd tussen die Nederlandse Engelse handelsliggame in die Ooste alle samewerking tussen hulle in ander wêrelddele onmoontlik gemaak.
Gevare aan die Kaap: Vyandige Hottentotte
Hoewel niemand die Kaap nog in besit geneem het nie, het die V.O.C. tog alles in sy vermoë gedoen om die kosbare vlote te beskerm en op die lang reise heen en weer na die Ooste van die nodige verversing te voorsien. In 1633 het hulle die eiland St. Helena en in 1638 die eiland Mauritius in besit geneem.(2)
(2)Mr. Dr. C. Smit: Diplomatieke Geschiedenis van Nederland, pp. 36-37. (s’Gravenhage, 1950)
Skepe van die vlote het Tafelbaai ook dikwels besoek, hoofsaaklik om ruilhandel met die Hottentotte te dryf, partymaal met noodlottige gevolge. So skryf Antonio van Diemen en sy Raad in in 1638 aan die Here XVII dat veertien lede van die bemanning van die Son aan die Kaap die lewe verloor het “daeronder den coopman Speckx … sijnde van d’inwoonderen vermoort, alsoo niet nae behooren op hoede waren ende hun te verre t’landtwaert in vertrouwden op hope van beesten te becomen, welcke in groot getal door die van Saldania achter den Taeffelbergh waren gedreven”.(3)
(3)Dr. W. Ph. Coolhaas: Generale Missiven, van Gouverneurs-Generaal en Raden aan Heren XVII, deel I: 1610-1638. (‘s-Gravenhage, 1960). Dit was koopman Cornelis Specx; sien brief van 22 Des. 1638, p. 731
‘n Ander ramp wat skepe in Tafelbaai kon tref, was die gevaar van skipbreuk. In 1632 staan in die Dagregister van Batavia opgeteken: “’t Jacht Groll heeft door storm de Caep de bonne Esperance niet connen aendoen waerdoor in soodanigen swaricheijt gevallen in dat in de straet van Sunde gecomen zijnde, niet mactich is geweest sijn ancker te winde.:(4)
(4)Dagh-register van het Casteel Batavia 1631-1634, p, 86 (29 Jun. 1632)
Blykbaar was die bemanning heeltemal uitgeput. Die behoefte aan ‘n halfwegstasie op die lang reis tussen Amsterdam en Batavia is dus terdeë gevoel. Vir dié doel was die ligging van Mauritius nie so geskik as dié van die Kaap nie, terwyl besoeke aan St. Helena moeiliker geword het vanweë mededinging van Engelse skepe.
Die strategiese belangrikheid van die Kaap was vanselfsprekend. Dit kon alleen wanneer daar geen konkurrensie met vreemde moondhede was nie, buite rekening gelaat word. Nadat Karel I op 30 Januarie 1649 onthoof was en Cromwell in Engeld aan die bewind gekom het, was dit vir almal duidelik dat die vreedsame betrekkinge tussen die twee lande spoedig beëindig sou word.
Stranding van die Haerlem
Dit was dus verstaanbaar dat die Bewindhebbers van die Kamer van Amsterdag in 1649 weer gedink het aan ‘n plan om die Kaap in besit te neem. Die tydstip om meer inligtinge oor die Kaap in te win, was gunstig. Die bemanning van die retoerskip Nieuwe-Haerlem, wat op 25 Maart 1647 in Tafelbaai gestrand het, is, nadat hulle ruim ‘n jaar aan die Kaap vertoef het, deur die retoervloot van Wollebrandt Geleynssen de Jongh na die vaderland teruggebring. Onderkoopman Leendert Janszen, wat met goed sestig man die fortjie Zandenburg in Tafelvallei gebou het, het in sy “Remonstrantie” baie vertel oor die “dienst, voordeel ende proffyt” wat die Kompanjie van die bou van ‘n groter fort en die aanlê van ‘n tuin aan die Kaap kon verwag.(5) Die dokument is op 26 Julie 1649 aan die Kamer van Amsterdam oorhandig en onderteken deur Leendert Janszen en Matthys Proot.(6)
(5)C. 409: Inkomende Br., 1649-1660, pp. 1-14
(6)Van Matthys Proot weet ons nie veel nie. Sy naam kon nie op die monsterrol van die Haerlem voor nie. In een van die dokumente wat Theal afgeskryf het, staan die volgende: “Dat aan Matthys Proot betaelt sulle werden voor sijn pretentiën van vacatien in d’ besoigne wegen de saecke van Cabo de bona Esperance voorgevallen 250 guldens, waertoe de camer tot Amsterdam geauthoriseert is.” (V.C. 58). Die M in Matthys Proot se handetekening onder die Remonstrantie lyk op die eerste gesig op ‘n N, sodat daar in die verlede dikwels foutief na hom verwys is as Nicolaes Proot.
Remonstrantie van Janszen en Proot
Janszen en Proot het in hierdie Remonstrantie die bou van ‘n fort en die aanlê van ‘n tuin aan die Kaap sterk aanbevel. Dit sou sonder onkoste, selfs met voordeel kan geskied, was hul mening. Net sestig tot sewentig man sou nodig wees. Water was volop en die grond so vrugbaar dat broente en vrugte in oorvloed gekweek kon word. Beeste, varke en skape kon maklik aangeskaf en aangteel word, sodat daar vir almal melk, botter en kaas sou wees. Sodra ‘n landingskaai gebou is, sou dit nie meer nodig wees dat die matrose tot oor hul nek in die water moet loop om vars water vir die reis te gaan haal nie. Die gesondheid van die skeepsvolk sou verbeter en die Kompanjie minder skade ly. Verder het hulle goeie verwagting van die traankokery, asook van die walvis-, robbe- en visvangs gehad.
Vervolgens wys hulle daarop dat die waarde van die eiland St. Helena vir die Kompanjie sterk verminder het. Nie alleen het die varketeelt deur die aanteel van wild geworde honde baie agteruitgegaan nie, maar Engelse skepe het gewoonlik voor die aankoms van die Kompanjie se vlote die eiland aangedoen, sodat daar geen ryp vrugte meer gevindkon word nie. Tewens was hulle daarvan oortuig dat die oponthoud van die skepe aan die Kaap van korter duur sou wees as die tyd wat nodig was om die skeepsvolk op St. Helena te ververs.
Die gevaar van skipbreuk in die Kaapse waters kon aansienlik verminder word deur die gebruik van loodsbootjies. Die inboorlinge, sê hulle verder, was nie so gevaarlik soos party mense wou voorgee nie. Dit was moontlik dat hulle “de Nederlantse spraeke” sou kan aanleer en hul kinders kon later as bediendes gebruik word en ‘n Christelike opvoeding kry. As laaste oortuigingsmiddel spreek hulle hul verwondering uit dat die Spanjaard en die Portugees die Kaap nog nie gebruik het om aanvalle op die Kompanjie se skeepvaart te doen nie.
Die Kompanjie besluit ten gunste van ‘n halfwegstasie
Al hierdie argumente t.g.v. ‘n besetting van die Kaap is deur die Kamer van Amsterdam na die Kamer van Seeland gestuur, met die opdrag om ‘n beskrywingspunt op te stel vir die volgende vergadering van die Here XVII. Dié vergadering is op 20 Augustus 1650 gehou en daar is besluit “dat d’ instructie ende ‘t gunt meer tot dit werck behoort, geprepareert sal werden door die Heeren gecommitteerdens tote Haechse besoignien omme ter naester vergadering in Maert A° 1651 te brengen ende aldaer dit werck tot sijn besluijt te brengen”. Daarop is op 20 Maart 1651 die ontwerp van ‘n instruksie vir die Kommandeur van die Kaap deur genoemde Here bespreek en besluit dat die Kamer van Amsterdam verantwoordelik sou wees vir die uitrusting van ‘n fluitskip na Tafelbaai. Hulle het Matthys Proot as moontlike Kommandeur aangewys.
Waarom Leendert Janszen in hierdie verband nie genoem, en Matthys Proot nie ons eerste Kommandeur geword het nie, is onbekend. Wat ons wel weet, is dat Jan van Riebeeck hom aangemeld het om as hoof van die Kaapse verversingspos weer in diens van die Kompanjie te tree. Voordat die Bewindhebbers van sy aanbod gebruik gemaak het, is die here Voet, Van Loon, Carpentier en Munter deur die Kamer van Amsterdam aangewys “omme haer t’ informeren op den persoon ende comportementen van Jan van Riebeeck”, en daarna is lg. gevra om sy oordeel oor die “Remonstrantie” van Janszen en Proot te boekstaaf.
Jan van Riebeeck: Oordeel oor die Remonstrantie
Uit die antwoord, wat deur Jan van Riebeeck in Junie 1651 onderteken en tot die Bewindhebbers van die Kamer van Amsterdam gerig is, blyk dat hy ‘n persoon met ‘n gesonde, besadigde oordeel was. Hoewel hy saam met die retoervloot van De Jong slegs agttien dae aan die Kaap vertoef het, was hy in staat om ‘n selfstandige oordeel te vorm. Wat die ligging van die fort en die karakter van die inboorlinge betref, het hy nie mer Janszen en Proot saamgestem nie. Die fort moes hoër lê, maar, sê hy, as hulle eers aan die Kaap is, sou dit makliker wees om die regte ligging aan te wys. Die Hottentotte leef “sonder consciëntie” en die fort moes dus redelik defensief wees, ook met die oog op moontlike aanvalle van Engelse, Franse, Deense of Portugese mededingers. Dat hy, ondanks sy jeug, iemand was met ‘n veelbewoë verlede, blyk duidelik uit sy antwoord. Nie alleen het hy Barbados en Groenland, Japan, Noord-China, Batavia, St. Helena en die Kaap besoek nie, maar hy gee blyk van ‘n skerp opmerkingsgawe en die vermoë om die kennis wat hy versamel het, prakties toe te pas. Die water aan die Kaap, skryf hy, is heelwat beter as dié op St. Helena, wat swawelagtig is. Op Barbados het die verdediging van die nedersetting deels bestaan uit “haegdoornen”. Hierdie goedkoop en tog doeltreffende verdediging sou, meen hy, ook aan die Kaap toegepas kan word. Die klimaat aan die Kaap toon baie ooreenstemming met dié van Japan en veral Noord-China, “welcke plaetse van alderhande soorten van vruchten en vee overvloeijen”. Ook dit weet hy uit eie ervaring. Indien die kokospalm aan die Kaap sou grou, sou hulle behalwe arak en kokosolie ook goeie varkvoer hê, soos in Batavia.
Hy sinspeel daarop dat sy kennis van die handel met Japan hom aan die Kaap goed van pas sou kom. Hy twyfel nie dat goeie pryse betaal sou word vir beesvelle wat gedroog en op mekaar gepak word, soos in Siam, en noem die pryse wat tydens sy verblyf in Japan vir allerhande soorte velle betaal is. Tewens verwag hy goeie resultate van die robbe- en walvisvangs, want baie hout is nie nodig vir traanbrandery nie. Ook dit weet hy uit die praktyk: “alsoo voor desen in Groenlant gweest ende wel gesien hebbe, hoe men daer meede te werck gaat.”
Waar hy die aanhalings van Janszen en Proot met goedkeuring herhaal, maak hy hier en daar ‘n klein toevoeging wat van ‘n helder insig getuig. Dit is goed dat loodsbootjies gebruik word om die Kompanjie se skepe te beveilig, maar, voeg hy daaraan toe, dit is “alsdan oock niet ondienstig dat aen Comps. Schepen een seijn bevolen, ende ‘t volck aen Cabo bekent gemaeck werdt … opdat ons loots volcq niet eeniger tijt door oncunde aen vreemde schepen ende alsoo in eenige onser geveijnsde vrienden ofte vianden handen comen te vervallen”. Wat die inboorllinge btref, keur hy dit goed dat hulle die Nederlandse taal sal leer. Nog beter sou wees dat die Christelike leer onder hulle versprei word, soos deur Janszen en Proot aanbeveel; maar in hierdie opsig sou ‘n goeie predikant die beste diens kan bewys, voeg hy sy eie raad daarby “als U.Ed. haer die oncosten gelieffden te getroosten”. Daarenbowe sou “een goet leeraer” ook tot stigting van die Kompanjie se dienaars uitstekende arbeid kan verrig.
Dat dit nie Van Riebeeck se plan was om die res van sy dae aan die Kaap te slyt nie, blyk aan die einde van sy betoog, waar hy die hoop uitspreek dat hy “nae ‘t voltrecken van verhaelde saecke aen Cabo de Boa Esperance” vir ander werk na Indië gestuur sou word om “aldaer meerder preuve van capitaler diensten” te mag lewer.(7)
(7)C. 409: Ink.Br., 1649-1660, p. 23. Ook Dr. E.C. Godée Molsbrgen: De Stichter van Hollands Zuid-Afrika, Jan van Riebeeck, pp. 206-221
Nadat die Bewindhebbers van die Kamer van Amsterdam besluit het om Van Riebeeck se aangebode dienste te aanvaar, is hy teen ‘n salaris van 75 gulden per maand aangestel “als koopman en opperhoofd, gaande met het schip de Drommedaris naer Cabo de bona Esperanza”. Gerusstellend is daaraan toegevoeg dat dit van hom verwag word om slegs so lank te bly “tot dat het werk in goede orde gebracht zal zijn”.(8)
(8)Eers in 1654 het hy die titel van Kommandeur gekry en is sy salaris tot 90 gulde per maand verhoog. In 1657 is dit tot 130 gulde verhoog. Sien in hierdie verband ook Godée Molsberge, op.cit., p. 72
Van Riebeeck: Sy vroeëre loopbaan
Die man wat as gesagvoerder oor die stigtingsvloot, as opperhoof en later as Kommandeur aan die Kaap gewerk het, was die seun van Anthony van Riebeeck en Elisabeth, dogter van Anthonisz van Gaesbeeck, notaris, prokureur en later schepenbugeester van die stad Culemborg.(9) Daar is Jan van Riebeck op 21 April 1619 gebore. Die familie van sy moeder, haar vader en grootvader het gewoon in die huis “op den hoeck van de Agter- of Molenstraet, genaemt de Fontein”.(10)
(9)Mr. P.J.W. Beltjes, Jan van Riebeeck, zijn voor- en nageslacht, p. 11-13
(10)Aanwinste 1362 (xiii) Kaapse Argief, stukke uit die Gemeente-Archief, Schiedam
Uit verskeie dokumente wat in die Argief van Schiedam bewaar gebly het, blyk verder dat Meester Anthony van Riebeeck chirurgyn was en dat hy Culemborg in 1622 verlaat het om hom met sy vrou en kinders in Schiedam te vestig. Daar is Jan se suster, Geertruyd, in 1623 gebore, asook twee broers wat jonk gesterf het. Sy moeder het hy op 7 November 1629 verloor. Sy is op 10 November in die Groote Kerk in Schiedam begrawe.(11)
(11)Soos no (9), p.11
Sy vader, wat in daardie jare chirurgyn van die regiment van kolonel Morgan in Schiedam was, het in September 1630 ‘n huis in die Lange Kerkstraat gekoop en met Elsge Burgers h ertrou. Daar bestaan geen dokumentêre bewyse, maar ook geen rede om te vermoed dat Jan nie in die huis saam met sy ouers in die Lange Kerkstraat in Schiedam gewoon het nie.
Daar was egter swerwersbloed in die geslag van Van Riebeeck. ‘n Broer van sy vader, Pieter, het reeds in 1580 sy geboorteland verlaat en het nie teruggekeer nie. Anthony Janszoon het eweneens gaan reis. In 1636, toe hy reeds 48 jaar oud was, het hy sy huis in die Lange Kerkstraat verkoop(12) en as chirurgyn na Groenland gegaan. ‘n Jaar later is hy na Wes-Indië. Moontlik het Jan hom op hierdie reise as chirurgynsleerling vergesel. Toe Anthony egter op 1 Mei 1639 in Pernambuco in Brasilië oorlede is(13), was sy seun Jan as onderchirurgyn op die skip Het Hof van Holland op pad na die Ooste.
(12)Sien Aanwinste 1362 (xiii), Kaapse Argief, stukke uit die Gemeente-Archief, Schiedam: Recht. Arch. Inventarus no. 338, p.253 verso
(13)Soos no (9), p. 4
Loopbaan in die Ooste
Deur die deeglike navorsing van dr. E.C. Godée Molsbergen is Van Riebeeck se loopbaan in die Ooste goed bekend. Ons weet hoe hy twee dae voor sy 20ste verjaardag(14) vertrek en aan die kus van Sierra Leone skipbreuk gely het.(15) sy reis is byna ses maande vertraag en eers op 2 Januarie 1640 het hy daardie berugte “graf van die blankes” met die Sutphen verlaat en Batavia in Julie 1640 bereik.
(14)|Sy geboortedatum is bekend na die publikasie van prof. Dr. D.B. Bosman se Brieven van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana, p.17
(15)Dr. E.C. Godée Molsbergen: De Stichter van Hollands Zuid-Afrika, Jan van Riebeeck, hoofstukke 2-5, waaraan ook die volgende feite ontleen is.
Ná sy aankoms in Batavia het Van Riebeeck, waarskynlik op aanrade en deur bemiddeling van die Goewerneur-generaal, Anthonie van Dimen, wat ook van Culemborg afkomstig was, besluit om as “assistent tot de penne” in die kasteel Batavia tot die Algemene Sekretari toe te tree. Sy ywer het die aandag getrek. Nie alleen word sy naam telkens genoem onder diegene wat betaling vir oortydwerk ontvang het nie, maar reeds in Mei 1642 het hy kans gekry om Atjeh te besoek as sekretaris van ‘n deputasie. En nog geen jaar later nie het hy as onderkoopman na Nagasaki in Japan vertrek. Hy i s aanbevel as “sijnde van goet naturel, heeft capaciteijt genoegh omme de voorvallende saecken te registreren, maar sagen gaern in den handel wierde gestijleert”.
Sy opleiding in die handel het hy veral deur wisselende werksaamhede gekry – eers op Decima, die eilandjie voor Nagasaki; toe in Tonkin , die stad wat aan die Chinese behoort het en waar die V.O.C. in 1637 ‘n handelstasie geopen het. Op sy tweede reis na Tonkin het Van Riebeeck die Nederlandse fort Zeelandia op die huidige Formosa besoek. In Tonkin het hy nie alleen ‘n deeglike kennis van die handel opgedoen nie, maar ook die Tonkinse taal leer lees, praat en skryf. Ná die dood van onderkoopman Abraham Weijns en die vertrek van die opperhoof Antonie van Brouckhorst is hy in 1645 as waarnemende opperhoof van Tonkin aangestel.
Die tye was moeilik, maar hoewel die stryd in China tussen die kwynende Ming-dinastie en die Mantsjoe-Tartare op hierdie tydstip fel gewoed het, waardeur die handel in die gedrang geraak het, het die boeke van die Kompanjie se Tonkinse faktory groot winste getoon. Van Brouckhorst was by sy terugkeer in Desember 1645 dan ook so tevrede oor die taktvolle optrede van sy jong plaasgevanger dat hy hom in Julie 1646 andermaal in sy plek agterlaat het. Weer het Van Riebeeck goeie sake gedoen en is sy rang verhoog tot koopman en sekunde, dit is tweede persoon in die Politieke Raad van Tonkin.
Met reg kon hy nou verwag om ná Van Brouckhorst se aftrede as sy opvolger aangestel te word, maar toe lg. se versoek om af te tree, toegestaan is, het Van Diemen se opvolger geskryf dat die Goewerneur-generaal en Rade tot hul leedwese “Comp’s machtige capitalen ende directie op de jongelingen ende aanqueeckelingen van de Tonkinse Negotie niet willen vertrouwen, door dien dat bevonden hebben eenige met Particulieren handel sijn besmeth, ende dienvolgende ons de selve (om haer verdiende straff te ontfangen) naer Batavia sult toesenden, sijnde den Coopman Riebeecq ende den ondercoopman Heycop”.(16)
(16)Uit Missive van die Goewerneur-generaal en Rade aan die opperhoof in Japan, Willem Verstegen, en Raad te Nagasaki, 11 Julie 1647. Van Riebeeck het hierdie brief in Nagasaki gelees, waar hy einde September 1647 saam met Van Brouckhorst aangekom het
Dit wil voorkom of Van Riebeeck se jeug bygedra het tot die besluit om hom te herroep, nieteenstaande hy met ‘n maandgeld van 55 gulden gehelp het om gedurende die jare 1643-’47 vir die Kompanjie ‘n wins van 14 ton goud op di tonkinse handel te maak. Wat die aard en omvang van Van Riebeeck se partikuliere handel was, weet ons nie, maar dit is bekend dat Goewerneur-generaal Cornelis van der Lijn en veral sy vriend Francois Caron, asook twee van sy regters in Batavia self op groot skaal handel gedryf het vir eie gewin. Swaar is Van Riebeeck nie gestraf nie, aangesien hy slegs die salaris van twee maande en sewe dae ingeboet het. Dit was egter ‘n gevoelige slag dat hy nie verlof kon gekry het om na Tonkin terug te keer nie. Sy terugreis na die vaderland, met behoud van rang en maandgeld, op De Coningh van Polen, wat agttien dae aan die Kaap vertoef het om die skipbreukelinge van die Nieuwe-Haerlem in te skeep, het vir hom nuwe moontlike geopen, waarvan hy egter voorasnog nie bewus was nie.
Terug in sy vaderland
Terwug in Nederland het hy die Here XVII tevergeefs versoek om die vernietiging van sy vonnis in Batavia en geen nuwe aanstelling het gevolg nie. Nadat hy Amsterdam op 10 Augustus 1648 “Gode lof kloek en gesond” bereik het, het hy in Schiedam, waar sy moeder begrawe was, sy bruid ontmoet: Maria de la Queillerie, die 19-jarige dogter van ds. Abraham Quevellerius, predikant van die Waalse kerk en seun van Chrétien de la Queillerie, wat as veldprediker na Nederland gekom het.(17)
(17)Vir verdere besonderhede oor Maria de la Queillerie en haar voorgeslag sien die biografie van Mr. W.C. Mees: Maria Quevellerius – huisvrouw van Jan van Riebeeck – en haar omgeving
Die huwelik is op 28 Maart 1649 deur ds. Theodorus Leeuwius in Schiedam ingeseën en daarna het die egpaar in Amsterdam gaan woon, eers ‘n paar maande in die huis bekend as “de Samaritaan” op die Egelantiersgracht en daarna op die Nieuwe Waal.(18) Daar is hul eerste seun, Anthony, op 13 Maart 1650 gebore en sewe dae later in die Suiderkerk gedoop.(19). Lambertus, gebore op 11 Augustus 1651, is in die Nieuwe Kerck gedoop, maar nog geen maand later nie het die oudste seuntjie gesterf. Hy is in die Suiderkerk begrawe.
(18)Mr. P.J.W. Beltjes: Jan van Riebeeck, zijn voor- en nageslacht, p.12
(19)Al die biografiese gegewens oor Jan van Riebeeck soos deur homself opgeteken in sy aantekeninge, uitgegee deur prof. Dr. D.B. Bosman: Briewe van Johanna Maria van Riebeeck en Riebeeckiana, pp.25-32
Koms na die Kaap
Die volgende aantekening in Van Riebeeck se eie dagboek lui soos volg: “Den 14 December ben ik, huysvrouw en soontje Lanbertus nevens 2 nichtjes, dogters van mijn moeders suster, Lijsbeth en Bastiaantje na Texel gevaren en den 16 dito aan ‘t schip den Drommedaris aan boort gekomen omme daarmede in dienst van d’ Oost-Indische Compagnie, volgens conditie in Julii passato met d’Heren Bewindhebberen van d’ opgemelte compagnie gemaakt, te varen na de Cabo de Boä Esperanca in compagnie van de schepen Reyger, Walvis, Oliphant en Hope (daar mij ‘t commando over bevolen was).”(20)
(20)Ibid., p.26
Die twee instruksies wat hy saamgekry het, het sy taak duidelik omlyn.(21) In die aanvullende instruksie van 12 Desember 1651 is hy gewaarsku om op sy hoede te wees teen vreemde nasies, veral die Portugese, en om die gebied waar die Kompanjie hom sou vestig, duidelik af te baken en in kaart te bring. Almal wat hulle buite hierdie afgebakende gebied wou vestig, moes met rus gelaat word. Veral uit hierdie laaste instruksie blyk dat die doel van die stigting aan die Kaap nie gebiedsvermeerdering of magsuibreiding was nie, dog slegs die beveiliging van die vlote en die versorging van die skeepsvolk beoog het.
(21)Ibid. P.26
Aankoms aan die Kaap: Eerste moeilikhede
Twaalf dae na ontvangs van hierdie instruksie, die dag voor Kersfees, het die Drommedaris, die Reyger en die Hope daarin geslaag om Texel met die regte wind en gety te verlaat. Die Walvis en Oliphant, teken Van Riebeeck in sy dagboekie aan, kon nie volg nie, “omdat te diep gingen”. Ná ‘n voorspoedige reis het die Drommedaris en die Reyger op Saterdag, 6 April, in Tafelbaai voor ander gelê en teen die aand van die volgende dag het Van Riebeeck self geland om ‘n geskikte plek vir die fort aan te wys. Sy keuse het geval op “een seer bequaem ende hoogachtig vlack pleijn … dicht aen de Soete rivier”. Hiermee het die stigtingswerk begin.
Sewe jaar later het Van Riebeeck in ‘n brief aan die Here XVII ‘n beskrywing gegee van daardie moeilike begin: “… den Commandeur Riebeecq in den jare 1652, dato 6 ende 7en April alhier met de schepen Drommedaris, Reijger ende Jachjen Goede Hoope op een so dorre schale weijde, sonder woonplaets aengelanght … omme alhier conform uEd. Instructie op te maken soodanige fortresse als tot Comps. Intentie noodigh … mochte wesen, met niet een man die ergens kennis van had, doch wel veele siecken … invougen het werkck met maer ongeveer 90 swacke veroncundige van de zee scheurbuijckig ende sieckelijcke coppen heefte begonnen aen te vangen, ‘t welck soo raeuw was als alde wereld oijt ende oijt wel is bewust gewees, ende dienvolgens sigh daeromme selffs als Ingenieur, graver, hovenier, boer, timmerman, metselaer, smith etca aen ‘t werck hebbende begeven.”(22)
(22)Sien Godée Molsbergen vir volledige inhoud in “De Stichter van Hollands Zuid-Afrika, Jan van Riebeeck, pp.70-73
Ongetwyfeld beklemtoon Van Riebeeck hier die moeilikhede om deur teenstelling sy prestasies sterker te laat uitkom. Wat sy eie aandeel in die werksaamhede van die stigtingsjare betref, het hy homself egter die juiste perspektief gesien. Almal wat die Dagverhaal en die Briewe van die eerste tien jaar rustig bestudeer, sien telkens weer die sterk persoonlikheid van die Kommandeur, wat op elke gebied baanbrekerswerk gedoen het.
Eerste regeringstelsel
As gesagvoerder was hy voorsitter van die Politieke Raad. Die eerste vergadering van hierdie bestuursliggaam het aan boord van die Drommedaris plaasgevind. Ook het Van Riebeeck gedurende die reis na die Kaap drie maal die skippers van die Reyger en die Goede Hoop aan boord van die Drommedraris laat kom om ‘n Breëraadsvergadering te belê,(23)
(23)Sien Res. van die Politieke Raad, deel I, pp.1-3
Die eerste vergadering, wat op 8 April aan die Kaap gehou is, was ook so ‘n Breëraadsvergadering. Op dié vergadering is besluite geneem i.v.m. die bou van die fort en die optrede teenoor die Hottentotte. Verder is reglemente vir matrose, soldate en ander amptenare opgestel.(24)
(24)Ibid., pp.3-4
So was die regeringstelsel aan die Kaap feitlik ‘n voortsetting van die skeepsbestuur.Wanneer daar geen besoekende skepe in die hawe gelê het nie, het die opperhoof, die sekunde, die sersant en die boekhouer saam ‘n bestuursliggaam gevorm, later bekend as die Politieke Raad. Die sekretaris, wat die resolusies moes boekstaaf, het geen stem gehad nie. Sodra gesagvoerders en skippers van besoekende skepe die raadsvergaderinge bygewoon het, was die persoon wat die hoogste rang in diens van die Kompanjie beklee het, voorsitter van die Raad.
Voedseltekort
In 1656 het die Bewindhebbers aan die admiraals van retoervlote uit die Ooste besondere magte gegee om as kommissarisse aan die Kaap op te tree. Hulle moes by hul terugkeer in die vaderland oor die Kaapse “ommeslag” aan die Here XVII verslae voorlê, en hul opdragte moes deur die Kaapse Kommandeur en sy Raad uitgevoer word. Eiemagtig kon hul egter nie handel nie, want hulle kon nie optree sonder om die Kommandeur en die Raad te raadpleeg nie.
Gedurende die eerste jare van Van Riebeeck se bewind moes hy sy weg vind sonder instruksies van besoekende kommissarisse. Alles het van sy eie inisiatief afgehang. Binne die omlyning van vrede met die Hottentotte en lae koste is sy taak slegs hier en daar aangestip. Dat die verversingspos so spoedig in ‘nkolonie sou ontwikkel, het die Here XVII seer seker nie in hul opdragte in die vooruitsig gestel nie. Die besluit om vryburgers aan die Kaap te laat woon, is deur omstandighede noodsaaklik gemaak. Hoewel Van Riebeeck vinnig gevorder het met die bou van die fort en die huisvesting van sy mense,(25) was die Kaap vir sy eie voedsel van invoer afhanklik. Toe die retoervloot van 1654 verbygeseil het, het Van Riebeeck, om ‘n ramp te voorkom, die jag De Tulp na St. Helena en De Roode Vos na Madagaskar gestuur, terwyl ‘n ander jag, De Haes, in Julie met provinsie uit Batavia oor Mauritius aangekom het.
(25)Die eerste blanke kind, Bernert Willemsz Wijlant, seun van Willem Barentsz Wijlant, die sieketrooster, is reeds op 6 Junie 1652 in die nog half voltooide fort gebore. Van Riebeeck se eie seun, Abraham, sy derde kind, is op 18 Oktober 1653 in die fort gebore en is op Kersdag van dieselfde jaar gedoop
Hoewel Van Riebeeck freeds gedurende die eerste maand van sy verblyf aan die Kaap met geesdriftige verlange uitgesien het na die koms van “bouwlieden” of boere, onverskillig of dit nou “eenige getroude chinesen ende andere vrije mardijckers ofte oock wel Nederlanders was(26), het die Here XVII in hul brief van 6 Oktober 1654 met ‘n positiewe voorstel voor die dag gekom. Hulle het verduidelik dat hulle ‘n onderhoud gehad het met skipper David Claes Swaegh, wat saam met Van Riebeeck ‘n tog na “’t Hout baijken” gemaak het. Skipper Swaegh het in Amsterdam vertel dat die houtbaai uitstekend geskik was om “rijs, coorn ende andere vruchten … te telen” en “dat enige huijsgesinnen van hier see dienstigh soude wesen” om daar te boer. Voordat hulle hiertoe oorgaan, wou die Here XVII egter eers weet wat die Kommandeur en sy Raad van die voorstel dink.(27)
(26)Bosman en Thom: Daghregister gehouden by den oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck, deel I, p.32
(27)C. 409: Ink Br., 1649-1659, 6 Oktober 1654, pp.255-257
Moontlikheid van kolonisasie
Van Riebeeck se antwoord was ondubbelsinnig. Hy het die moontlikheid van kolonisasie ook reeds oorweeg, skryf hy in sy brief van 28 April 1655, “maer niet gedacht dat u Ed. Aen dese plaets tot enige colonie soude inclineren”, aangesien “niet anders gemeent oft derselver ooghmerck was maer om genoechsame verversinge voor u Ed. Aencomende scheepen aen te focken…”(28)
(28)C. 493: Uitg. Br., 1652-1661, 28 April 1655, pp.394-397
Noudat hy egter sien dat die Here XVII “tot colonie te stabiliseren schijnt gesint te wesen”, gebruik hy al sy oorredingskrag om hulle verder van die wenslikheid te oortuig. Hy verduidelik dat, hoewel die suidoostewind die koringoes in die Tafelvallei elke jaar desimeer of heeltemal laat misluk, die nie nodig sou wees om meer as drie tot ses kilometer van die fort goed beskutte bouland te soek nie. Om huisgesinne uit die vaderland uit te stuur, sou baie duur wees en hy betwyfel dit sterk of vlytige, geskikte gesinne gewillig sou wees om te emigreer. In Indië, skryf hy, het die ervaring met vryburgers reeds geleer dat hulle “soo haest de sack vol hebben, maer soecken weder na ‘t vaderlant te gaen”. Uiters prakties stel hy voor dat die Kompanjie eers met drie tot vier huisgesinne ‘n proef kan neem en wel met “de sulcke die hier reede gewent ende ‘t land bekent sijn” – d.w.s., met amptenare. Hy wys ook op die noodsaaklikheid om die vryburgers behoorlike middele van bestaan te waarborg.
Landbouproewe by ‘t Ronde Bosje
Deeglike voorbereiding was noodsaaklik en Van Riebeeck wou wag totdat slawe ingevoer en proewe met nuwe bouland geneem en met welslae bekroon was. Gevolglik het hy, toe die Here XVII in hul brief van 30 Oktober 1655 toestemming verleen het tot die “in vrijdom stellen” van dienare van die Kompanjie wat ingewillig het om minstens tien jaar aan die Kaap te bly woon, nie dadelik van hierdie toestemming gebruik gemaak nie.(29) Eers het hy by “’t Ronde Bosje” proewe geneem met die saai van koring, hawer en gars. Dit is op 24 Mei in die Dagregister aangeteken. Op 25 Julie het hy self “noch wat lant” daar gaan uitsoek om tabak te plant, “welck cruijdt hier fraai aert”.(30) In Oktober het hy herhaaldelik die graanlande by “’t ronde doornbosjen” besoek. Ook die vrugbaarheid van die grond by “den Leeuwenbergh achter bij den zeecant” word deeglik ondersoek.
(29)C. 409: Ink. Br., 1649-1659, 30 Oktober 1655, p.474. In hierdie antwoord op Van Riebeeck se skrywe van 28 April, het Here XVII byna al Van Riebeeck se voorstelle aanvaar en van hul eie tentatiewe voorstelle in hul brief van 6 Oktober 1654 afgesien
(30)C. 584: Origineel Dagregister, 1655-1658, 25 Julie 1656, p.100
Eindelik, toe hy oortuig was dat die proefneming by Rondebosch goed vorder, het hy besluit om geskikte amptenare aan te moedig om vryburgers te word: “latende met eenen met hem mede gaen op een wagen alle de nederlantse vrouwe van de caep: om dewelcke dan een goet stuck ‘t landt is in gereden als mede in ‘t bos &a tot derselver plaisier bijsonderlijck te scheppen in den wasdom van het coren, tabacq, Turxce ende andere boonen, aen ‘t ronde doorn-bosjen soo schoon ende treffelijck staende, offt selffs in ‘t vaderlandt was…”(31)
(31)Ibid., 5 Dese,ber 1656. P.139
Die koring is gesny en ‘n geskikte plek vir ‘n beeskraal en ‘n redoute of skans is deur die Kommandeur self bepaal en eindelik, in Februarie 1657, is die eerste vrybriewe uitgereik aan amptenare wat gewilllig was om die voorwaardes te aanvaar. Ten ooste van die Verse Rivier, eers bekend as die Amstel en later as die Liesbeek, is grond toegewys aan vyf persone, wat as Harmanskolonie die plasie “Groenevelt”bewerk het. Aan die westekant van die riviertjie het die “Hollantsen thuijn” gelê, waar ‘n geselskap van vier persone, “Stevenscolonie”, moes boer.(32)
(32)C.584: Origineel Dagverhaal, 1655-1658, 19, 20 en 21 Feb. 1657, pp.154-157. Die name van die burgers op Groenevelt was Harman Remajenne, Jan Maertensz, Jan van Passel, Warnaer Cornelisz en Roedolf Jansz. Op Den Hollandsen Thuijn het Seten Jansz, Hendrick Elbertsz, Otto Jansz en Jacob Cornelisz geboer.
Van Goens se besoek
Rijckloff van Goens, wat die Kaap van 17 Maart tot 19 April 1657 as Kommissaris besoek het, het die voorwaardes en reëlings wat Van Riebeeck in Februarie getref het, sorgvuldig bestudeer en hier en daar gewysig. Waar Van Riebeeck aan die eerste vryburgers soveel grond belowe het as wat hulle gedurende drie jaar onder ploeg kon bring of andersins bewerk, het Van Goens die oppervlakte van elke plasie vasgestel op 11-1/2 hektaar. In plaas van drie het hy hulle twaalf jaar vrystelling van belasting belowe. Ook het hy hulle verlof gegee om ruilhandel in vee met die Hottentotte te dryf. In hierdie opsig was sy voorwaardes gunstiger as Van Riebeeck s’n. Aan die ander kant het hy hulle nie toegelaat om tabak te verbou nie, want, het hy geskryf, hulle moes al hul aandag op die koringbou toespits. Om hulle daarmee te help, moes landboumateriaal die eerste drie jaar kosteloos herstel word. Van Riebeeck se ander bepalings i.v.m. die aanskaf van materiaal het onveranderd gebly, maar die prys wat die Kompanjie vir die vryburgers se produkte sou betaal, het Van Goens aan die goeddunke van die “Ed. Heren Bewindhebbers” oorgelaat.(33)
(33)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, Rapport van Rijckloff van Goens, sr., pp.1-21
Ontevredenheid van die Vryburgers
Hieruit het Van Riebeeck se eerste moeilikhede met die vryburgers ontstaan, want in die eerste klagskrif wat die vernaamste Kaapse landbouers in Desember 1658 aan hul regering oorhandig het, was een van hul vernaamste besware dat die Kompanjie die prys van koring nog nie vasgestel het nie. Daarom, skryf hulle in punt 9, “set ons een prijs in corten tijt, want soolang wij geen prijs weten, sullen gheen landt bouwen, want wij gheen Compagnies slaven willen wesen”.
Van Riebeeck se toespraak
Sy azntwoord laat Van Riebeeck in die Dagverhaal volledig opneem. Dit is die enigste toespraak wat ons van hom het en lui as volg:
“Wel aen, vrunden, soo veel ons ofte mij in ‘t particulier aengaet, can ick de saeck light over ‘t hooft sien, maar dat u L. D’ E. Compe soude meenen te dwingen, sal bij haer Ed. Seer quaelijcq genomen worden en gansch onaengenaem wesen, oock voor Ul. verdolinghe ende met ‘t hooft tegen de muijr gelopen, wenschende derhalven dat Ul. haer beter beraden hadden, dat echter noch tijt is ende daerom geraden blijft voortaen maer u best te doen aen de ploegh totten landbouw etc., voor u selfs, opdat oock die antwoorden van d’ E.Heer Commissaris van Goens, noch in onse ende eerste vrijeluijden haere memorie niet voor u gereet staet, namentlijck dat degene die niet voor sich selfs wil bouwen, voor d’ E.Compagnie sal aen de ploegh geset worden etc., boven dat oock al verscheide andere luijden daerop waghten tegen dat eenige oproerighe vrijeborghers tot straffe haer lant geconfisqueert word etc. om in de plaets te moghen comen selfs met aanbiedinghe van huijr te betalen, daerom sij elck vermaent, voortaen toe te sien wat hij doet. Ick beloove na mijne gewoone genegentheijt mijn best te doen bij d’ Heer Commissaris uijt India, haest te verwachten, ende met ons schrijven aen d’ Heeren Meesters dat de prijs wat magh verhooght worden; laer maer de ploegh wacker sijn gang gaen, ende de dorsvloer niet vercouwen; dock siet dat ick u met ploeghen op Compagnies ende mijn lant niet en come te vercloecken, want ick er wacker meen achter heen te sitten.”(34)
(34)C. 584: Origineel Dagregister, 1655-1658, 23 Des. 1658, pp.707-709. Die klagskrif was onderteken deur die vernaamste landbouers, te wete: Steven Jansz, Hendrik Boom, Simon in ‘t Velt, Jan Reiniers, Otto Janszen, Casper Brinkman, Jacob Rosendael, Warnaer Cornelisz, Pieter Visagie, Fransz Gerritz, Harman Remajenne, Jan Martens, Johannes Rietveldt van Brederode en Jacob Cloeten
Uit sy toespraak blyk dat Van Riebeeck reeds die prys wat die bewindhebbers vir die Kaapse koring wou betaal, geweet het. Hy het inderdaad in hul skrywe van 16 april gelees, maar dit was so laag dat hy dit nie aan die vryburgers wou meedeel nie, “jae selffs niet verder als ons 2e persoon offte den ondercoopman Roeloff de Man” laat gaan het nie. Deur sy bemoeiinge is die prys per mud van 1659 vasgestel op ses gulden en agt stuiwers.(35) Opvallend is dit ook hoe handig Jan van Riebeeck in sy toespraak gebruik maak van die dryfkrag wat deur die mededinging teweeggebring word.
(35)Here Meesters wou slegs 70-100 gulde per last van 3 600 pond (633 kg) koring betaal, d.w.s. minder as agt gulde per mud, wat gewoonlik op 160 pond (73 kg) bereken is. Die burgers wou 10 gulde hê
Arbeidstekort
Die burgers het, so lees ons in die opgaaf wat hy enkele maande later aan die vaderland gestuur het, 72 hektaar onder die ploeg gebring. Daarvan het Jan Reijniers en Hendrik Boom onderskeidelik 9-1/2 en 8-1/2 ha bewerk. Die ander burgers het in geselskappe gewerk, terwyl die Kompanjie 40 en Jan van Riebeeck self 86-1/2 ha behou het.36) Hy het dus, soos hy in sy toespraak gesê het, “er wacker … achter heen” gesit!
(36)C. 493: Uitg. Br. 1652-1661, 5 Maart 1659, p.889
Een van die grootste moeilikhede wat die vryburgers saam met die amptenare gedeel het, was die arbeidstekort. Reeds voor sy koms na die Kaap was Van Riebeeck oortuig dat die inboorllinge nie vir gereelde arbeid gebruik sou kan word nie. ‘n paar weke ná sy aankoms vra hy aan die Hoë Regering in Batavia om slawe of Chinese arbeiders na die Kaap te stuur “tot het vuylste en swaerste werck in plaetse van die Nederlanders”.(37) Toe die antwoord ongunstig was, begin hy die skeepsvolk van besoekende vlote gebruik, wat hom die vermaning van Goewerneur-Generaal Joan Maetsuijcker op die hals haal dat “de bloedige arbeijt die het volcq der passerende schepen moeten doen wat conde verlight werden”, waarby hy dan nog gevra word “te bedencken dat de residentie aen de Caep niet genoemen is om gesonde siek, maer die siecken gesondt te maeken”.(38)
(37)Vgl. W. Blommaert: Het invoeren van de slavernij aan de Kaap in die eerste Argiefjaarboek, deel I, p.19
(39)C. 409: Ink. Br., 1649-1660, 13 Desember 1658, p.1121
Invoer van slawe
Met die aankoms van die eerste slawe op 28 Maart en 6 Mei 1658(39) het dit moontlik geword om te voldoen aan Van Goens se opdrag om die burgers “voor alle andre eerst te accomoderen”. Ongetwyfeld is hierdeur ook die werk van die matrose van verbyvarende skepe verlig. Onverdeelde genoeë het die Kaapse nedersetting egter nie van die eerste slawe belewe nie, want toe die ploegtyd daar was, het baie gedros. Slawe wat gevang is, is aan ‘n paal vasgebind en gegesel. Daarna is hul twee-twee met kettings aan mekaar vasgemaak. Ook die vyburgers het die reg gekry om hul slawe in kettings te slaan, maar hulle is verbied om hul eie slawe te gesel en moes ernstige misdrywe “bij de Justitie alhier” aangee, “omme daerinne na de wel gestelde ordonnantien ende statuten van Indien te handelen…”(40)
(40)C. 680: Origineel Placcaetboek, deel I, 1657-1686, 6 Aug. 1658, p.92
Ruilhandel misluk
Van Riebeeck was daarvan oortuig dat die slawe deur die Hottentotte gehelp is om te vlug. Reeds voor die vestiging van die vryburgers op die eertydse weivelde van die Hottentotte, toe almal nog in die fort gewoon het, het die inboorlinge met wie hy volgens sy instruksie in vrede moes lewe, aanleiding tot kommer gegee. Tereg het Van Riebeeck geen hoë dunk van Herry en sy handjievol Strandlopers gehad nie, aangesien hulle nòg as arbeiders gebruik kon word, nòg vee gehad het om te verruil. Na meer as ses maande van ontbering het eindelik teen die lente die eerste veebesittende Hottentotte, die Kaapmans onder kaptein Gogosoa, weiveld in die nabyheid van Tafelberg kom soek.(41)
(41)V.C. I: Dagregister, 1652-1655, 19 Oktober 1652, p.200
Veeboerdery
Aan die einde van die eerste jaar het die Kompanjie se veestapel uit 100 beeste en 350 skape bestaan, (42) sodat die retoervloot, bestaande uit agt skepe onder Gerard Demmer, die jaar daarop nie alleen van groente nie, maar ook van vleis voorsien kon word. Die Kaapmans het egter in die somer van 1653 weer vertrek, en in Oktober van dieselfde jaar het vriend Herry met die oorblyfsel van die Kompanjie se veestapel voet in die wind geslaan. Slegs een melkkoei, 60 skape, ‘n os en vier kalwers het oorgebly.(43) Toe die Kaapmans in Desember 1653 hul somerweiveld opsoek, het Van Riebeeck hulle na die fort probeer lok “met tabacq, aracq ende eeten nevens veelderleij apenspel…”(44)
(42)H.B. Thom, Die geskienis van die skaapboerdery in Suid-Afrika, p.6
(43)V.C. I: Dagregister, 1652-1655, 19 Okt. 1653, pp.531-533
(44)C. 585: Org. Dagregister, 1652-1655, 20 Des. 1653, p.191
In 1654 het die pogings om genoeg vee deur ruilhandel te verkry geheel en al misluk. Daarby het gekom dat die wind die koring verniel en die retoervloot verbygevaar het. Dit was die moeilikste jaar vir die blankes aan die Kaap. Die daaropvolgende jaar het verligting gebring. Eers Herry, met sy nuwe bondgenote, die Kaapmans, daarna die Cochoquas, of soos hulle genoem word, die “regte Saldanhars” die fort bereik, sodat in die maande November en Desember 1655 nie minder nie as 461 skape en 340 beeste gruil kon word.(45)
(45)H.B. Thom, op. cit., p.6
Vryburgers se klagtes
Na die vestiging van die vryburgers het Van Riebeeck se probleme toegeneem. Van Goens het die vryburgers toegelaat om ruilhandel met die Hottentotte te dryf, mits hulle die ruilmiddels van die Kompanjie koop en nie meer betaal as die amptenare nie. Die onvermydelike gevolg van mededinging tussen amptenare en vryburgers was egter die styging van die markwaarde van vee. Daarby het gekom dat die Kommandeur gevrees het vir botsings tussen die Hottentotte en die vryburgers, en daarom is in Mei 1658 alle ruilhandel deur Van Riebeeck verbied.(46) Tevergeefs het die vryburgers hul beklag hieroor ingedien en tewens hul ergernis gelug oor die gehalte van die beste wat hulle van die Kompanjie moes koop. Die Kompanie self en ook “Hendricq de Snijder” het volgens hulle die beste beeste gekry, “maer,” gaan hulle verder, “het is ons belooft de beste te hebben. Van de allerbeste, daer sijn wij vrij op geworden, om die te crijgen, maer sij, als voorsegt nie”.(47)
(46)C. 680: Orig. Placcaetboek, 1657-1686, 4 Mei 1658, p.61
(47)C. 584: Orig. Dagregister, 1655-1658, 23 Des. 1658, pp.694-708
In sy antwoord op hierdie klag merk Van Riebeeck op dat hy goed besef dat “hoewel sij Hendricq noemen”, hulle “den Commandeur selfs meenen”.(48) Hulle het reeds lank gelede die beste beeste wat VanGoens aanhulle belowe het, ontvang, terwyl hy, Van Riebeeck, “expres gewacht met sijn landtbouw tot sijluyden eerst geholpen waren”.
(48)Ibid., Van Riebeeck het, behalwe 12 melkkoeie, nog 24 trekosse en 6 kalwers asook 10 Hollandse, 15 Kaapse en 25 Bengaalse skape besit
Die gehalte van die vee wat die vryburgers en ook die Kompanjie aan die skepe gelewer het, was nie altyd van die beste nie. Aangesien die burgers slegs drie gulden vir ‘n skaap en twaalf gulden vir ‘n bees ontvang het, is dit verstaanbaar dat hulle die beste vee onder mekaar “ter sluik” teen hoër pryse verkoop het.
Van Riebeeck, moeg van wat hy noem die “seer groot clagen van de opperhooffden der schepen”, het in 1661 ander reëlings getref, Deur ramme en hamels van die burgers per massa te koop,(49) het hy beter slagvee vir die Kompanjie verkry, terwyl hy aan die burgers geleentheid gegee het om die beste ooie van die Kompanjie op veilings te koop. Voor sy vertrek kon hy sy opvolger met oortuiging verseker dat “der vrijel. Goet veel beter als des Comps. Vee geconditioneert is ende voortgefockt wordt, doordien elck op sijn eijgen beter past als men door Comps. Dienaers wel can later doen”.(50)
(49)C. I; Res., 1651-1663, 21 Feb. 1661, waar die vraag bespreek is met vermelding dat die Kompanjie voortaan 2 stuiwers per pond (4-1/2 stuiwers per kilogram) sal betaal.
(50)Ibid
Roofsug van Hottentotte
Die vernaamste moeilikheid wat die veebesitters aan die Kaap ondervind het, was die roofsug van die omringende Hottentotte. Die Kaapmans het gaandeweg so baie ergernis in dié opsig veroorsaak, dat die Vryburgers ‘n dringende versoek tot die owerheid gerig het om geweld te gebruik. Herry, tolk van die Strandlopers, was reeds na Robbeneiland verban, maar Van Riebeeck het Doman, tolk van die Kaapmans, wat saam met Van Goens na Batavia en met die retoervloot van Cunacus teruggevaar het, beskou as ‘n “veel schadelijker pest … als oijt Herry te vooren is geweest”.(51 In Mei 1659 is die stryd teen die Kaapmans aangeknoop. Te perd het Van Riebeeck ‘n paar maal op verkenning uitgegaan en self die verdediging georganiseer, oor die bou van drie waghuisies – Keert-de-koe, Kijckuijt en Houd den bul – toesig gehou en toegesien dat die vryburgers die landbou nie te veel verwaarloos nie.
(51)Resolusies van die Politieke Raad, deel I, 19 Mei 1659, p.191
Herry het van Robbeneiland ontsnap en hom by Doman gevoeg, maar Oedasoa en sy volk, die Saldanhars is as bondgenote behandel. Dit het, soos Van Riebeeck later beweer, die Kaapmans tot besinning gebring en op 5 en 6 April 1660 is die vrede ná due eerste “Hottentotoorlog” gesluit.(52)
(52)C. 700: Mem. en Instr., Van Riebeeck aan Wagenaer, 5 Mei 1662, pp.76-115. Vgl. Ook die Dagregister vir die betrokke tydperk
Wat die verdere verdediging van die blanke nedersetting teen die inheemse bevolking betref, het Van Riebeeck veral waarde geheg aan perderuiters. Self was hy lief vir perdry en op 7 Mei 1660 word in die Dagverhaal vermeld hoe hy geprobeer het om die Hottentotte te imponeer deur “met een goeden galop haer in der haest uyt ‘t gesight lopende expres om h un de snelheijt van de paerden met eenen eens te verthoonen, die groot ontsagh omtrent haer baren”.(53)
(53)C. 585: Dagregister, 1659-1661, 7 Mei 1660, p.374. In V.C. 3, p.632 staan: “die groot ontsagh onder haer verthonen”
By sy vertrek het die Kompanjie 43 perde aan die Kaap besit. Hy het verwag dat hulle vinnig sou aanteel, sodat die fort sowel as die waghuisies met behulp van ruiters verdedig kon word. Hy het voorsien dat perde ‘n groot rol in die toekoms van die land sou speel, “sullende in tijt ende wijle de paerden wel soo overvloedigh worden, dat oock de vrijeluijden daer mede sullen cunnen gedient worden ende bij noot oock tot haer eigen deffentie selfs als ruiters cunnen te pas comen, item mede by geval van Europhische invasien etc”.(54)
(54)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, 5 Mei 1662, pp.113-114
Perde is egter in Van Riebeeck se dae nog nie gebruik om die binneland te verken nie. Hier het die os spoedig ‘n belangrike rol begin speel. Togte na die binneland is onderneem om vee, edele metale en handeldrywende inboorlinge te vind. Die skreiende behoefte aan slagvee het Van Riebeeck genoop om vrywilligers toe te laat om togte na die binneland te onderneem. Die hoop om koper, silwer of selfs die kostelike goud van Monomotapa te ontdek, was ‘n belangrike spoorslag. Erens in die binneland, het Van Riebeeck gehoop, moes inboorlinge wees wat “oliphantstanden, struijsveeren, muscus, cevet, gout off eenighe gesteenten” wou ruil.(55)
(55)C. 584: Origineel Dagregister, 1655-1658, 25 Feb. 1658, pp.402-403
Verkenning van binneland
In 1655 het twee landtogte plaasgevind. Die eerste onder die ervare bosloper, Jan Wintervogel, het onverrigtersake teruggekeer. Vermoedelik het hierdie geselskap Saldanhabaai bereik, maar hulle kon die “rechte Saldanhars” nie beweeg om na die fort af te kom nie en minerale h et Jan Wintervogel ook nie gevind nie. Tog was die eerste ekspedisie gedenkwaardig, omdat dit die blankes in aanraking met die Sonkwas, later bekend as die Boesmans, gebring het. Die tweede tog het van 7 September tot 5 Oktober geduur en onder leiding van korporaal Willem Muller plaasgevind. Kosen ammunisie is op pakosse gelaai voordat hulle in ‘n oostelike rigting koersgevat het. Herry, wat as tolk saamggaan het, het, toe Willem Muller en sy mense moeg geword het, alleen met die handelsware verder getrek. Niemand behalwe Herry het dan ook voordeel uit hierdie landtog getrek nie.(56)
(56)V.C. I: Dagverhaal, 1652-1655, 6 September 1655, pp.1016-1017
‘n Maand of vier nadat die eerste vryburgers hul plasies in besit geneem het, het drie van hulle sonder medewete van die Kommandeur ‘n uitstappie in ‘n oostelike rigting onderneem. Omtrent 15 “uyren gaens” van die fort het hulle ‘n klompie Hottentotte aangtref wat hul weiland “haer Hollandt offte vaderlandt” genoem het. So het die naam Hottentots-Holland ontstaan a.g.v. die eerste selfstandige optrede van die vrye koloniste.(57)
(57)V.C. 2: Dagverhaal, 1656-1658, 6 Junie 1657, pp.416-417
Abraham Gabbema
Ná Van Goens se dringende opdrag aan Van Riebeeck om toe te sien dat ontdekkingsreise op tou gesit word, is in Oktober 1657 die eerste geslaagde ekspedisie onderneem. Abraham Gabbema met 15 man, burgers sowel as amptenare, het in ‘n noordoostelike rigting getrek en op 22 Oktober die Groot-Bergrivier bereik. Hulle het nege pakosse en ‘n paar Hottentotte saamgeneem en met 7 koeie, 3 kalwers en 41 skape teruggekeer. Die Diamant-, die Paarl- en die Kllapmutsberg is genoem.(58)
(58)Ibid., 5 Nov. 1657, p.613. Sien ook beskrywing in Reizen in Zuid-Afrika, deel I (Linschoten-Vereniging 1916), pp.31-32
Jan van Harwaerden
Aangemoedig deur hierdie sukses, het Jan van Riebeeck reeds in Februarie 1658 Jan van Harwaerden met “een trop van 15 fixe mannen” uitgestuur om die “rechte Saldanhars” by die Bergrivier op te spoor. Die landmeter, Pieter Potter, het opdrag gekry om “pertinente notitie en observatien van alle de gelegentheijt der landtdouwen, geberghten, revieren etc.” te maak “omme alles vorder ter degen in die caerten te brenghen ten eynde men altijt weten mag hoedanigh dat wegen in toecomende te bereisen…”(59)
(59)C. 584: Orig. Dagvrhaal, 1655-1658, 25 Feb. 1658, pp.402-404
Die geselskap het op 20 Maart by die Fort teruggekeer met 11 beeste en 45 skape. Nadat die wintermaande verby was, is Jan van Harwaerden nog eens uitgestuur om die Cochoquas of Saldanhars weer op te spoor. Sewentien soldate het saamgegaan en vir die eerste keer word nou ook melding gemaak van “een wagen en 6 trekossen” as vervoermiddel. Hoewel hulle 203 skape en 25 beeste geruil het, was die Politieke Raad allesbehalwe tevrede oor die kwaliteit van die vee.(60)
(60)C. 584: Orig. Dagregister, 1655-1658, 7 Nov. 1658, pp.654-656. Ook C. I: Res., 1651-1663, 8 Nov. 1658
Ook onder die burgerbevolking was daar steeds vrywilligers wat graag die binneland ingegaan het – ‘n verskynsel wat Van Riebeeck dikwels ontstem het. In die Raadsvergadering van 30 November 1657 het hy sy ergernis daaroor uitgespreek. “Soo is den vrijeluijden het uytgaen te ernstiger ontseyt ende in plaetse van dien gerecommandeert haer op ‘t velt staende granen te m ayen ende sien thuys te crijgen, alsoo haer d’ E.Compe aen den lantbouw alsoo veel gelegen laet, mitsgaders oock in plaats van al dat uytlopen, maken te versorgen dat hare huysen ende schuyren tot berginge van voorsz granen claer ende vaerdigh crijgen.”(61)
(61)Res. van die Politieke Raad, deel I, p.118
Nietemin het reeds geblyk dat verskeie vryburgers toestemming gekry het om saam met Jan van Harwaerden te gaan. Ook het in die daaropvolgende jaar sewe vryburgers vergunning gekry om o.l.v. vrywildskut Christiaen Jansen van Hoesem ‘n ontdekkingstog te onderneem. Hulle het in ‘n meer noordelike rigting getrek as die ander landreisigers, maar droogte en gebrek aan gras en water het ‘n end aan dié tog gemaak.(62)
(62)Res. van die Politieke Raad, deel I, p.118
Jan Danckaert, Pieter Cruythoff en Pieter van Meerhoff
Die ander togte wat onder aanvoering van Jan Danckaert, Pieter Cruythoff en Pieter van Meerhoff onderneem is, h et tot hoofdoel die opsporing van die Namakwas en die ontdekking van Monomotapa gehad. Daenckaert het die rivier bereik wat reeds deur Van Hoeseum se mense beskryf is, maar waaraan hy die naam Olifantsrivier gegee het, omdat hulle “recht west van ons tegen de berger wel 2 á 300 oliphanten by den anderen” gesien het.(63) In 1661 het Pieter Cruythoff eindelik in aanraking met die Namakwas gekom en was dit vir Van Riebeeck moontlik om met voldoening aan Wagenaer te skryf dat die Namakwas “een volcq schijnt van negotie drijvende met andere natie noch verder te lande, door welcke men de baen nu soo verde open heeft dat nu eerste ter degen sal cunnen begonnen worden wat beters te ontdecken als bestiael alleen…”(64)
(63)Ibid, 8 Jan. 1661, pp.998-999
(64)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, 5 Mei 1662, pp.81-82
Van Riebeeck se teleurstellings
Hoewel Van Riebeeck met voldoening op sy tienjarige azrbeid kon terugkyk, was teleurstelling sy deel, omdat hy per slot van rekening tog nie daarin geslaag het om die Here Meesters volkome te bevredig nie. Hulle het direkte winste verlang en hoe Van Riebeeck ook al sy bes gedoen het, het die Kaapse boeke, met uitsondering van die jare 1658 en 1660 ‘n debiet getoon.(65) Tog het hy niks onbeproef gelaat om die verlangde resultate te behaal nie. So het hy bv. reeds in 1654, die jaar waarin die voedselnood die hoogste gestyg het, ‘n silwersmid in die fort aangestel en word op 28 Januarie 1654 aangeteken: “Sijn wij persoonlijck noch eens gegaen nae ‘t geberchte omtrent de plaetse daer ‘t vooraengetogen minerael gevonden hadden, met eenige picken houwelen ende koevoeten sommige steenen aen stucken en uijt de gront crijgende…”(66) So het onder die Kompanjie se bestuur aan die Kaap die hoop om edele metale te vind, telkens herleef, om net soveel maar weer te verdwyn.
(65)Die tekorte vir die jare 1652 tot 1658 was as volg: (in gulden) 2 746; 5 708; 9 916; 9 556; 14 966; 17 966; in 1658 was die voordelige saldo van 3 103 gulde toe te skryf aan die feit dat Van Riebeeck die winste gemaak het uit die verkoop van slawe en as ‘n Kaapse bate in die boeke laat aanteken het. Hieroor is hy later deur Maetsuijcker op die vingers getik
(66)V.C. I: Dagregister 1652-1655, 28 Jan. 1654, p.626
Gelyktydig het sake van praktieser aard Van Riebeeck se aandag in beslag geneem. Gedurende dieselfde jaar is die eerste botter gekarring en die eerste bakstene aan die Kaap gemaak. Op 11 Junie het hulle reeds begin “met de hier gebacken steen d’ eerstemael te metselen aen ‘t woonhuis … sijnde fraije roode steen even als leijtse steen …(67)
(67)Ibid., 11 Junie 1654, p.733. Sien ook C. 583, p.136
Met traanbrandery was reeds ‘n begin gemaak, terwyl Rijckhoff van Goens Van Riebeeck aangemoedig het om veral meer uitvoerartikels vir die Kaap te vind. Hy het o.m. olifant- en seekoeitande, renosterhorings, huide, volstruisvere, sivet, heuning en, indien moontlik, ook goud as wenslike uitvoerprodukte genoem. Van Riebeeck het sy bes gedoen om die lys uit te brei. “’n Half aem Caeps bier tot preuve” is uitgevoer en ses jong volstruise as presente vir Indiese vorste en veral vir die Keiser van Japan het die Kaap verlaat.(60) Ook robbevelle is van tyd tot tyd verskeep, maar van ‘n gereelde uitvoerhandel in die een of ander produk was daar gedurende hierdie jare geen sprake nie. Die uitvoerhandel het die karakter gedra van ‘n reeks proefnemings waarvan die meeste op ‘n mislukking uitgeloop het.
(68)C. 584: Origineel Dagregister, 1655-1658, 8 Nov. 1658, p.660
Van Riebeeck en die belange van die Vryburgers
Waar moontlik, het Van Riebeeck geprobeer om die belange van die vryburgers te bevorder, omdat hy besef het dat hy daardeur ook die Kompanjie die beste dienste sou bewys. So het hy gepleit vir die vrye “Saldanhavaerders” wat op Dasseneiland traan gebrand het. Hy het hulle 10 i.p.v. 8 gulden per halfraam traan betaal “om”, skryf hy aan Wagenaer, “de gemelte luijden te grager te maecken”. Verder het hy die vryburgers in die opkomende nywerhede laat deel. In 1658 is Wouter Mostert toegelaat om bakstene, teëls en dakpanne aan die Kompanjie te lewer(69) en tewens het die Kommandeur aan ‘n paar vryburgers die kuns geleer hoe om met soutpanne te werk “volgens de manieren by hem in de West Indien en de Caribise eilanden op verscheijden plaetsen ende manieren gesien”.(70)
(69)Ibid, 26 Julie 1658, p.557
(70)V.C. 2: Dagregoster, 1656-1658, 28 Des. 1658, p.1479
As amptenaar van ‘n handelsliggaam is Van Riebeeck telkens daaraan herinner dat hy daarna moes streef om “met de minste costen ten meesten diensten van d’ E.Compe.” te werk te gaan. Wat hom egter veral kwalik geneem is, was die feit dat hy nie daarin geslaag het om die nedersetting selfonderhoudend te maak nie. In 1657 het Van Goens hom kras hieroor uitgelaat: “Het is tot noch van den Commandeur Riebeeck een abuys en schaedelijck overlegh dat men met vaeren over zee den ende cost heeft willen soecken die ons God door de milde natuur des aerdrijx alhier soo seeckerlijck aanbied.”(71) Vier jaar later kla kommissaris Andries Frisius nog steeds dat “ondervonden wert door de onbequaemheit van ‘t Caepse geprojecteerde bouwlant d’ E.Comps. dienarenende de aenwesende coloniers met haer volck nde verdere aencleven van dien op verre na uijt den landtbouw van haser coren tot spijse niet connen werden gevoet, maer nootsakelijck van Batavia off wel van Madagascar voortaen met rijs jaerlijcx sullen moeten werden versorght worden”.(72) Volgens Frisius moes die voedseltekort toegeskryf word aan die gebrek aan goeie bougrond in die omgewing van die fort,(73) terwyl Van Riebeeck in sy memorie aan Wagenaer daarop wys dat die aantal vryburgers elke jaar toegeneem het, terwyl die akkerbouers nie na verhouding vermeerder het nie.(74)
(71)V.C. 36: Rapporten der Commissarissen, 1657-1791,, 16 April 1657, p.22
(72)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, 11 Maart 1661, p.60
(73)V.C. 36: Rapp. Der Comm., 1657-1791, 4 Julie 1661, pp.136-140. Volgens Frisius was daar slegs 300 morg beskikbaar by die Fort, waarvan ruim 250 morg reeds onder die ploeg was. Hiervan het die Kompanjie 75, Van Riebeeck 70 en die 9 vryburgrboere 105 morg behou (7 morg = 6 hektaar)
(74)Die aantal landbouers het waarskynlik van seisoen tot seisoen gewissel. In die dagverhaal van 7 Mei 1660 word die volgende name genoem: Jacob Cloete 10 morg, Jacob Rosendael 15 morg, Steven Jansz 16, H. Remajenna 9, Jan Maertensz 3, Casper Brinkman 10 en Pieter Vasagie 4 morg. Andries Frisius maak in 1661 melding van 9 vryburgerboere, tewyl in die Dagregister van die Kasteel Batavia sprake is van “12 bouwers met haer medestanders”. (7 morg = 6 ha)
Die Kompanjie gekant teen kolonisasie
Behalwe amptenare, slawe en bandiete was daar nou aan die Kaap vrye vissers, kleremakers, timmermans, houtsaers, tuiniers, ploeg- en wamakers, messelaars, kalk- en traanbranders en jagters, of, soos hulle in die Dagverhaal genoem word, “vrije wiltschutters”. Van hierdie uitbreiding van kolonisasie het die Bewindhebbers niks gehou nie. Daarom, so deel Van Riebeeck sy opvolger mee, het hulle hom “bij derselver missive van den 23en Augustij 1661” gelas om “geen meer vrijeluijden, dat is te verstaen hier aen ‘t Fort off de begonnen stadt te stellen, maer ons te gedoen met die der teggenswoordigh sijn sonder verder uyt te breijden … doch coornbouwers mogen wel so veel geset worden als lant om te ploegen kan uijt gevonden worden”.(75)
(75)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, 5 Mei 1662, pp.72-73
Dit het dus daarop neergekom dat die Here XVII daarna gestreef het om die kolonie, wat in 1659 uit 144 siele bestaan het,(76) indien moontlik nie verder te laat ontwikkel nie; want behalwe die vryburgers was daar nog die amptenare en die Kompanjie se slawe en bandiete wat gemiddeld “alle maenden hooft voor hooft tot slaven ende kinders in cluijs”” 50 pond (23 kg) meel en rys moes kry. Ook wou die Here XVII die nedersetting nie buite die deur Van Riebeeck gestelde grense laat groei nie, aangesien hulle verdere uitbreiding beskou het as “te hasardeus om de kostelijckheijt van de bescherminge”.(77)
(76)Volgens Dagregister Kasteel Batavia 73 mans, 12 vrouens, 20 kinders en 39 slawe
(77)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, 5 Mei 166, pp.72-73
Van Riebeeck se boerdery
Dat die n edersetting nie in eie behoeftes kon voorsien nie, was seker nie te wyte aan Van Riebeeck se versuim om die landbou aan te moedig nie. Ook persoonlik het hy al sy kragte en talente ingespan en die pionierswerk wat hy as landbouer, veeboer en tuinier gedoen het, is die moeite werd om te bestudeer.
In 1657 het Van Goens hom ‘n stuk land toegestaan om “tot corenlanden en boomvruchten” te gebruik. Die land het agter Leeukop gelê en die jaar daarop het hy kommissaris Cunaeus gevra om dit te mag verruil vir grond wat suidoos van die Windberg gelê het. Daardie plaas het hy Bosheuvel genoem.(78)
(78)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, punt 42 op p.22 van Van Goens se rapport en p.40 van Instruksie van Joan Cunaeus
Die wynproduksie
Behalwe allerhande graansoorte het hy reeds in Augustus 1658 die eerste “1 200 gewortelde rancken en ongewortelde stecken” uit die Kompanjie se tuin oorgeneem en op Sondag 2 Februarie 1659 word in die dagregister aangeteken dat “Gode loff van de Caepse druijven d’ eerste mael wijn geparst” is en dat die nuwe mos van “seer goede geur en smaeck” was.(79) Spedig was ook die vryburgers wat eers slegs ‘n paar wingerdstokke wou hê om as sierade voor hul huise te dien, aangemoedig deur hierdie sukses van die Kommandeur.
(79)V.C. 3: Dagregister, 1659-1661, 2 Feb. 1659, p.32
Die Kompanjie se tuin
Vir die Kompanjie se tuine, sowel as vir sy eie lande, het Van Riebeeck ‘n groot verskeidenheid van vrugtebome en plante uit die vaderland, asook uit Oos- en Wes-Indië, Japan en die eilande Madagaskar, Mauritius en St. Helena laat invoer.(80) Van party van dié proefnemings het hy self reeds die vrugte gepluk. So is bv. op 1 Nov. 1659 die eerste “hollantse roos aen de Caep gepluckt van roseboomen anno passato hier gecomen”. Ses weke later is die eerste kersie aan die Kaap gepluk en op 25 Julie 1661 het Van Riebeeck en sy vrou die eerste twee soetlemone van ‘n boom in die Kompanjie se tuin gepluk, terwyl hulle drie weke voor hul vertrek die eerste twee ryp appels kon afpluk.(81)
(80)Godée Molsbergen, De Stichter van Hollands Zuid-Afrika, Jan van Riebeeck, pp.146-148 en dagregister van genoemde datum
(81)Resolusies van die Politieke Raad, deel I, 18 Julie 1661, p.268, waar Van Riebeeck die vrugtebome wat hy op sy plaas geplant het opsom: “1162 jonge orangie, lemoen ende pompelmoes boomen, 10 pisangh, 2 olyff ende 70 Hollandtse vruchtboomen, te weten: 3 ockernooten, 6 queen,5 appel, 2 peren, 11 carssen, 24 castanien ende 19 pruymboomtgens”
Die Kommandeur se groot belangstelling vir die kweek van vrugte en blomme, veral rose, die ryskultuur en alle vorme van tuinbou kom ook tot uiting in sy laaste instruksies aan sy opvolger, waarin hy Wagenaer met trots verseker dat daar aan die Kaap “gepast wort op die tijden wanneer elck nae sijn natuijr gesaeijt ende geplant worden, volgens de notitie bij mijn hant van den beginne daer aff expres gehouden ende UE. hier oock ter handel latende, g’intuleert Caepsen hoveiers Almanach”(82)
(82)C. 700: Mem. en Instr., 1657-1685, Van Riebeeck aan Wagenaer, p.69
Vertrek na Batavia
Hoewel die telkens herhaalde versoek van Van Riebeeck “om nog enige jaren in India te mogen dienen” reeds op 21 Augustus 1660 toegestaan is, het hy saam met sy vrou en drie dogtertjies eers op 7 Mei 1662 met die seilskip Mars na Batavia vrtrek(83) ná, soos hy in sy dagboek skryf, ‘n verblyf van 10 jaar, 1 maand en 1 dag aan die Kaap(84). In hul prsoonlike lewe het die leed hulle nie verbygegaan nie. Hul vierde seun, Anthony, gebore op 8 Desember 1655, is op 20 Februarie 1656 oorlede. Van Lambertus en Abraham het hulle op 20 Maart 1660 afskeid geneem toe hulle die seuns met skipper Douwen Aukes na Nederland gestuur het om hul opleiding onder toesig van sy swaer, Abraham Quevellerius, preseptor van die Latynse skool in Rotterdam, te ontvang.(85)
(83)Van Riebeeck se vertrek is vertraag deur die dood van sy oom, Gerrit van Ham, wat hom sou opvolg en op die reis na die Kaap oorlede is. Sy drie dogters wat in Suid-Afrika gbore is, was Maria, gebore 17 Junie 1657, Elisabeth, gebore 25 September 1659 en Joanna, gebore Januarie 1662
(84)D.B. Bosman: Briewe van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana, p.29. In hierdie dagboekie vind ons ook verdere gegewens uit die lewe van die egpaar Van Riebeeck: hulle Batavia op 5 Julie 1662 bereik en Malakka op 24 Oktober 1662, waar Van Riebeeck Goewerneur geword het. Op 6 November 1663 is hul 4de dogter Antonia daar gebore. Op 26 Oktober staan in die Dagboek aangeteken onder anno 1664: “’s middags omtrent 2 uuren is mijn huysvrou verlost en misvallen van een soontjie van omtrent 6 maanden”. Die daaropvolgende 2de November is Maria van Riebeeck aan pokkies oorlede
(85)Sien volmag aan hom opgemaak op 8 Februarie 1660 in Transporten en Schepenenkennis, 1652-1662, waarin hy nog meer gegewens oor die drie plase wat Van Riebeeck aan die Kaap besit het, voorkom
Waarde van Van Riebeeck se werk
Om ‘n oordeel te vorm oor Van Riebeeck se geaardheid en die werk wat hy aan die Kaap verrig het, is dit nie nodig om alleen die stukke te raadpleeg wat hy self opgestel het nie. Daar is in die eerste plaas die oordeel van besoekende Kommissarisse, wat sonder uitsondering gunstig was. Van Goens noem hom “werich en vigilant” in die diens van die Kompanjie en daarby “goet van leven”. Die smalende opmerking van hierdie Kommissaris oor Van Riebeeck se “winderige concepten” word dikwels aangehaal, maar moet in die juiste verband gelees word. Dit volg naamlik nadat Van Goens sy afkeuring uitgespreek het oor die bestemming van “8 á 10 groote sleepers paerden” vir die Kaap. Van Goens skryf dat hy nie kan glo “datter een levendigh soude overcomen”, aangesien proefnemings om perde na Japan uit te voer, altyd misluk het.(86)
(86)V.C. 36: Rapp. der Commissarissen, 1657-1791, 16 April 1657, p.34
In die praktyk het egter geblyk dat Van Riebeeck se planne prakties uitvoerbaar was, terwyl Van Goens se opdrag om die skiereiland d.m.v. ‘n kanaal van die res van die vasteland te skei, met reg ‘n “winderige concept” genoem kon word. Die wyse waarop Van Riebeeck hierdie plan van sy opdraggewer verydel het, getuig van sy humor en mensekennis. Eers verduidelik hy aan die Here Meesters sy eie plan vir ‘n doeltreffende verddiging van die nedersetting. Daarna rapporteer hy dat hy opdrag gekry het om onmiddellik met die grawe van ‘n kanaal te begin. Hy was gewilllig om die bevel te gehoorsaam, so skryf hy, maar eers moes hulle hom minstens 1 500 grawe stuur, dan sou hy later “om eenige gereetschappen naerder schriven”.(87) Hy het die Bewindhebbers goed geken. Hulle het besluit dat die onderneming te kosbaar sou wees.
(87)C. 493: Uitg. Br., 1652-1661, 23 April 1657, p.630
Vreemdelinge se lof
Ook die vreemdelinge wat die Kaap besoek het, het met lof oor Van Riebeeck en sy vrou geskryf. So was daar onder die 146 Franse skipbreukelinge van die skip La Marechale ‘n paar hooggeplaaste Katolieke geestelikes. Die Franse biskop Nicolas Etienne het in sy briefwisseling met vriende in Europa sy besoek aan die Kaap uitvoerig beskryf. Oor Van Riebeeck en sy vrou het hy ‘n besonder gunstige oordeel gevorm. Wat die godsdiens betref, skryf hy, was die Kommandeur ‘n voorstander van verdraagsaamheid, want hoewel hy hulle eers nie wou toelaat om die mis te hou nie, het hy ná ‘n heftige woordewisseling sy toestemming gegee, maar terselfdertyd het hy hulle gewaarsku om versigtig te wees, aangesien die fiskaal, volgens die bepalinge van die Kompanjie, die volste reg sou hê om teen so ‘n oortreding op te tree. Oor Van Riebeeck se vrou het hy vol lof geskryf:
“Behalwe dat sy tot die Protestantse geloof behoort, is sy een van die verstandigste en begaafste dames wat ek ooit ontmoet het. Almal hou van haar. Ek het nooit die minste kortgebondenheid in haar opgemerk nie; hoe besig sy ook al was, sy h et haarself altyd volkome beheers, ook wanneer sy met my oor die godsdiens geredeneer het.(88) Hy was aangenaam verras dat Maria van Riebeeck die skildery van Magdalena aan die voet van die kruis so bewonder het.
(88)Pierre Coste: Saint Vincent d Paul: Correspondence Entretiens, Documents. CorrespondenceTome viii (juillet 1659 – septembre 1660)
Dikwels het die Franse geestelikes die maaltyd by Van Riebeeck en sy gesin genuttig, en die Kommandeur het hulle steeds gul van groente, vleis, vrugte en vis laat voorsien. “As ons familie van mekaar was,” skryf die biskop aan sy vriend St. Vincent de Paul, “sou hulle ons nie beter kon behandel het nie”.
Regspraak
Ook wat die regspraak betref, word Jan van Riebeeck se optrede aan die Kaap deur ewewigtigheid gekenmerk. Hoe hy nie geaarsel het om die strenge wette van die 17de eeu by ernstige vergrype toe te pas nie, het hy self geen doodvonnisse uitgespreek nie en het hy by verskeie geleenthede amnestie aan misdadigers verleen wat deur goeie gedrag bewys het dat hulle graag weer in die normale samelewing wou opgeneem word.
Samevatting
So sien ons hom aan die Kaap: gasvry jeens vreemdelinge, taktvol in die omgang met sy naaste, versigtig en berekenend waar dit die belange van die Kompanjie geld, altyd ywerig, deurtastend waar nodig, terwyl sy optimiste hom selfs nie in die haglikste omstandighede in die steek gelaat het nie. Hoewel hy verlangend was om na die Ooste terug te keer, het die historiese betekenis van sy werk hom nie ontgaan nie.(89)
(89)Hy het sy loopbaan in die die Ooste beëindig, eers van Okt. 1662-1665 as goewerneur van Malakka, daarna tot sy dood op 18 Jan. 1677 as sekretaris van die goewerneur-generaal-en-rade van Indië en Batavia
Op 6 April 1654, onderwyl hy die grootste moeite ondervind het om die klompie blankes van die nodige voedsel te voorsien, laat hy nogtans in die Dagregister die volgende besluit opteken: “Heden voor de tweede mael jarich sijnde, soo hebben beslooten ende oock voor de eerste reijse begonnen om desen dag, den 6en April wesende, tot Godes eere met danckseggingen te vieren ende voor altijt tot een vast blijvende danck en bededagh in te stellen,”(90) en in sy Memorie aan Wagenaer het hy die voortsetting van sy stigtingswwerk vol vertroue opgedra aan die genadige beskerming van “den almogenden Godt”.
(90)V.C. I: Dagregister, 1652-1655, 6 April 1654, p.678
— — — oOo — — —