GVSA Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902 

D.W. Kruger, M.A., D. Litt.

Toe dit teen die einde van September en die begin van Oktober 1899 seker was dat oorlog tussen die Republieke en Groot-Brittanje onvermydelik was, is die burgers deur hul veldkornette opgekommandeer en in kommando’s naby die grense gemobiliseer. Die Transvaalse hoofmag is saamgetrek vlak by die Natalse grens, waar die hoofbotsing net soos in 1880-’81 verwag was. toe die oorlogstoestand op 11 Oktober ingetree het, was die gros van die weerbare burgery bewapen en slaggereed.

Republikeinse bewapening

Reeds sedert die Jameson-inval het die Transvaalse regering ‘n beleid van stelselmatige bewapening gevolg en die Vrystaat het ook sy slaankrag versterk. Totaal afhanklik van oorsese invoer wat kruigstuig betref, het die republieke alles gedoen om hul bewapening te moderniseer. ‘n Groot aantal moderne mausergewere met bypassende ammunisie is ingevoer, genoeg om elke weerbare burge te voorsien.

Die Transvaalse Staatsartillerie is uitgebrei sodat dit met die uitbreek van die oorlog beskik het oor vier batterye veldartillerie (Creusots en Krupps), vier Creusotvestingstukke (Longtoms), ‘n dosyn bommeksims of pompoms (Maxim Nordenfeldts), ‘n aantal handmeksims en enkele los en min of meer verouderde vuurmonde. Die korps is aangevoer deur lt.-kol. S.P.E. Trichardt. Daarbenewens het Transvaal beskik oor ‘n goed gedissiplineerde berede polisiemag wat hom op die slagveld besonder goed van sy taak gekwyt het.

Die hoofmag van die Republiek was sy weerbare burgery tussen die ouderdomme 16 en 60, altesame 30 000 man. As opperbevelhebber het opgetree kmdt.-genl. Piet Joubert en hy is bygestaan deur ‘n aantal veggeneraals wat deur die Uitvoerende Raad spesiaal benoem is. Hulle was bekende persone in die openbare lewe, maar daar was oor hul militêre bekwaamheid geen sekerheid nie, behalwe in die geval van Piet Cronjé, wat reeds in die Eerste Vryheidsoorlog en teen Jameson roem verwerf het.

Die kommando’s was distriksgewys ingedeel, elkeen onder ‘n kommandant. Elke kommando was onderverdeel in veldkornetskappe. Die grootte van kommando’s was dus bepaal deur die bevolkingsterkte van die verskillende distrikte. Waar verskillende kommando’s saam opgetree het, is die bevel deur veggeneraals gevoer en dit was die gebruik dat offisiere steeds die krygsraad raadpleeg. Kommandante en offisiere van laer rang is deur die burgers gekies net soos in vredestyd. Dit was ‘n vraag of  hierdie stelsel in ‘n moderne oorlog doeltreffend sou werk.

In die Vrystaat is dieselfde stelsel gevolg, hoewel dié republiek in vredestyd geen oorlogsdepartement gehad het nie. Net soos in Transvaal het die mobilisasie snel verloor, maar aanvanklik moes heelwat moeilikhede betreffende kommissariaat en organisasie te bowe gekom word. Militêre dissipline het meestal ontbreek en geeneen van die twee republieke het ervaring van moderne oorlogvoering teen ‘n Europese moondheid gehad nie.

In elke republiek was die Staatspresident die nominale hoof van die weermag en in die loop van die oorlog het Kruger sowel as Steyn nie alleen die algemene strategie help bepaal nie, maar veral Kruger het dikwels in die taktiese verloop van ‘n geveg ingegryp. Met alle hoofoffisiere aan die front was elke president feitlik die administratiewe hoof van sy republliek se oorlogskantoor.

Die kommando-indeling in die Vrystaat was dieselfde as in Transvaal, maar i.p.v.  veggeneraals het die Vrystaat verkose hoofkommandante gehad. Met mobilisasie was die suidelike republiek wel in staat om 20 000 man in die veld te stoot. Daarbenewens het die Vrystaat beskik oor ‘n klein maar doeltreffende artilleriekorps onder bevel van maj. Albrecht, ‘n voormalige Pruisiese offisier.

Voor Junie 1899 het Brittanje ‘n betreklik klein garnisoen in Natal en die Kaapkolonie onderhou, maar van daardie maand af het versterkings van oorsee vinnig aangekom. In Natal is die Britse mag van 12 000 man aangevoer deur lt.-genl. Geoge White en in die noorde van die kolonie by Ladysmth en Dundee gekonsentreer. Op 7 Oktober is ‘n hele leërkorps onder bevel van genl. Sir Redvers Buller gemobiliseer en na Suid-Afrika verskeep.

Slegs die onbetwiste Britse seeheerskappy het hom in staat gestel om ‘n groot oorlog so ver van Europa te voer. Die plan was dat Buller se korps van 50 000 man met die troepe wat reeds in Suid-Afrika was, voldoende sou wees om die republieke uit die Kaapkolonie tot onderwerping te dwing. Intussen sou die leër in Natal verdedigend optree. 

Die weinige Britse troepe in die Kaapkolonie is op enkele punte saamgetrek hoofsaaklik om die spoorlyne na die noorde te bevelig, nl. in Mafeking onder kol. R.S.S. Baden-Powell met die oog op die spoorlyn na Rhodesië, en in Kimberley onder kol. R.G. Kekewich, om daarby ook die diamantstad te beskerm. Ander afdelings is saamgetrek by die spoorwegsentrums De Aar, Noupoort en Stormberg. Die spoorlyne na die noorde was lewensbelangrik in die Britse aanvalsplan.

Vir die Republikeinse leiding was dit duidelik dat hul enigste kans op welslae in die stryd was om nog voor die aankoms van verdere Britse versterkings aanvallend op te tree. Met die oog daarop sou die Transvaalse hoofmag onder Joubert, bygestaan deur generaals Lucas Meyer, Schalk Burger, Daniel Erasmus en J.H.M. Kock, en gesteun deur ‘n Vrystaatse afdeling uit die weste, Natal van die noordekant binneval. Die invalsmag het uit sowat 8 000 man bestaan.

Republikeinse strategie

Inmiddels het Joubert se plan die verdeling van sy mag in verskeie kolonnes behels met die doel om tegelyk die Britse mag by Dundee van twee kante aan te val en te verslaan, en daarbenewens die spoorverbinding noord van Ladysmith te verbreek en die aansluiting tussen White en Ladysmith en die vooruitgeskowe mag by Dundee te verhinder. Hierdie kommando is aangevoer deur Kock,  terwyl die aanval op Dundee deur Erasmus en Meyer gelei sou word. Indien die plan slaag, sou niks die Boere vehinder om die res van Natal te verower nie.

Ver in die weste is die res van die Transvaalse hoofmag, nl. 4 000 man onder Cronjé naby Ottoshoop, reg teenoor Mafeking saamgetrek. Die taak van hierdie kommando’s was om die spoorverbinding tussen die Kaapkolonie en Rhodesië te vernietig en die vyand langs die wesgrens onskadelik te maak. ‘n Ander, kleiner Transvaalse mag van 2 500 man is na Norvalspont in die Kaapkolonie gestuur om met die samewerking van die Vrystaters in die omgewing van Colesberg te opereer. Omdat die vyand se strategie onbekend was, is enkele kommando’s aanvanklik ook gebruik om die noordelike en oostelike grense te beskerm. Later het hulle by die ander magte aangesluit.

‘n Deel van die Vrystaatse leërmag onder hoofkommandant Marthinus Prinsloo, 6 000 in getal, is naby die Natalse grens by Van Reenenspas gekonsentreer om met die Transvalers in Natal saam te werk. Die kommando’s van die suide is saamgetrek teenoor die brugge by Aliwal-Noord, Bethulie en Norvalspont. In die weste het enkele kommando’s die grens gepatroleer, terwyl die meerderheid onder hoofkomdnt. C.J. Wessels met die oog op ‘n aanval teen Kimberley gekonsentreer is.

Die militêre kanse

Met die oog op Brittanje se groot hulpbronne en mannekrag was die stryd, behalwe heel in die begin toe Brittanje sy magte nog nie ontplooi het nie, baie ongelyk. Engeland het oor groot ekonomiese en militêrfe krag beskik en toegang tot die markte van die wêreld gehad, terwyl die republieke danksy die Britse seeheerskappy vrywel volledig daarvan afgesny was.

Die enigste neutrale weg langs die ooskus en deur Delagoabaai is deur Brittanje deeglik geblokkeer sodat die invoer van krygsbenodigdhede e.a. ware wat as kontrabande beskou is, onmoontllik was. Die republieke het daarenteen ‘n groot taktiese voordeel geniet in die veel hoër mobiliteit van hul burgers, wat almal berede was. Gepaard met veel groter persoonlike inisiatief en ‘n doeltreffender gebruik van kleingeweervuur het dit enigsins vergoed vir hul gebrekkige dissipline en die afwesigheid van krygservaring.

Hulle is hopeloos onderskat en die Britse leërleiding het eers laat tot die besef gekom dat ‘n geweldige oormag sowel as nuwe taktiese middels en ‘n ander strategie nodig sou wees om die republieke te verslaan. Om die weerstandswil van die Afrikaanse volk te breek, sou nog veel langer duur.

Die Republikeinse offensief

Toe die staat van oorlog op 11 Oktober ingetree het, het die verbonde republieke onmiddellik krygswet afgekondig en die kommando’s het stadig in beweging gekom. ‘n Afdeling van die westelike leër van Transvaal het die spoorverbinding noord en suid van Mafeking verbreek en die eerste skote in die oorlog het geknal toe De la Rey ‘n gepantserde trein by Kraaipan buite aksie gestel het. In plaas van ‘n onmiddellike en maklike oorrompeling is Mafeking met ‘n totale oorskatting van die Britte se weerstandsvermoë omsingel en beleër. Dit het ‘n aansienlike deel van die Transvaalse krygsmag maande lank weerhou van aktiewe deelname aan die belangriker gevegsfronte.

Talana 

Ook langs die Natalse grens het die Boerekokmmando’s in beweging gekom, hoewel traag en langsaam. Die Vrystaters het die passe oor die Drakensberg in besit geneem en die hoofmag onder Joubert het in gietende reën en stormwind die grens oorgesteek en Newcastle op 15 Oktober beset.

Terwyl die grootste deel van die Transvaalse mag na Dundee opgeruk het, het ‘n kolonne, aangevoer deur genl. Kock, na Elandslaagte, enkele kilometer noord van Ladysmith, gemarsjeer om die spoorverbinding tussen die dorp, waar die Engelse hoofmag saamgetrek was, en die vooruitgeskowe afdeling onder genl. Penn Symons op Dundee te verbreek.

Op 19 Oktober het kommando’s, aangevoer deur generaals Meyer en Erasmus, die Impati- en Talanabergheuwels wat die Engelse kamp by Dundee beheers het, beset en om vernietiging te voorkom, was Penn Symons die volgende dag verplig om Meyer se mag op Talana aan te val. Erasmus is op Impati deur ‘n digte mis verhinder om bystand te verleen.

Na ‘n artillerie-bombardement en ‘n infanterie-inval is Meyer se kommando’s verdryf, maar slegs ten koste van hewige verliese. ‘n Afdeling ruitery wat dit in die rug van die Boere gewaag het, is gevange geneem terwyl Penn Symons self aan sy wonde beswyk het. Daarbenewens is die troepemag se gevegswaarde sterk verminder en in die verwagting van ‘n hernieude Boere-offensief was kol. J.H. Yule, wat Penn Symons opgevolg het, verplig om op die hoofmag in Ladysmith terug te val. Sy terugtog is moontlik gemaak omdat Kock se afdeling, wat die pad versper het, op 21 Oktober, ‘n dag ná die slag by Dundee, by Elandslaagte verslaan is.

Elandslaagte

Die Britse bevelhebber op Ladysmith, genl. Sir George White, het besef dat dit noodsaaklik was om die gevaar van die Boeremag tussen hom en Yule oombliklik af te weer en daartoe het hy ‘n groot mag ruitery en voetvolk, gesteun deur drie batterye artillerie, en aangevoer deur French, uitgestuur. Die Boerestellings is onder sterk kanonvuur geneem en Kock se paar kanonne is gou die swye opgelê. ‘n Infanterie-aanval laat die middag is deur die ruitery opgevolg en afgerond. In die naderende duisternis is die Transvalers se posisie totaaal oorrompel.

Hoewel die meeste burgers ontkom het, was dit ‘n gevoelige verlies vir die Republikeinde. Kock het swaar gewond in Engelse hande geval. Hy is enkele dae daarna oorlede. Origens het die Transvalers, waaronder ‘n aantal Hollanders en Duitsers, ‘n verlies van 250 aan dooies en gewondes gehad. Die morele uitwerking was aanisenlik. Ook die Engelse het nie lig daarvan afgekokm nie en ‘n poging om die Vrystaters wat van die westekant af opgeruk het, te verslaan, het misluk. White was genoodsaak om die Britse magte in Noord-Natal, meer as 10 000 man, op Ladysmith saam te trek. Voor die einde van Oktober het die verbonde republieinse mag naby die dorp aangekom en hulle gereed gemaak om die Britse mag daar aan te val en in te sluit.

Modderspruit en Nicholsonsnek

Terugtrek na die suide, kon of wou White nie, want dit sou prysgawe van die hele Noord-Natal beteken. Terwyl hy alle pogings aangewend het om Ladysmith in ‘n staat van verweer te bring en van proviand te voorsien, het hy nog een poging aangewend om die Boeremag te verslaan. Op 30 Oktober het hy sy regimente in ‘n volskaalse aanval teen die Boerestellings gewerp.

Die Republikeine het die hoër geleë terrein in ‘n groot halfmaan om die noordekant van die dorp beset met Meyer se kommando’s op die linkerflank en Erasmus in die middel op Pepworth, noordoos van die dorp.Chalk Burger se mag het die skakel tussen hulle gevorm, terwyl ver na die weste ‘n Vrystaantse kommando die regterflank uitgemaak het met ‘n groot gaping tussen hom en Erasmus.

Joubert  se hoofkwartier was gevestig by die spoorweghalte Modderspruit, ‘n paar kilometer agter sy stellings. In getalle was die Engelse en Boeremagte nagenoeg ewe sterk, maar White kon 42 kanonne teenoor die dosyn van Joubet stel. White se taktiek was ‘n frontaanval teen die Boere se linkerflank met French se ruitery in reserwe om op die regte oomblik ‘n omtrekkende beweging uit te voer.

Die nag tevore is twee bataljons voetvolk onder kol. Carleton afgestuur om Nicholsonsnek in die weste te beset en sodoende die regterflank van die Boere te bedreig en hul eventuele terugtog te belemmmer. Die hoofaanval was egter ‘n mislukkig en White se mag is na Ladysmith teruggeslinger. Om alles te kroon, is die mag op Nicholsonsnek totaal in die pan gehak deur die Vrystaters, aangevoer deur waarnemende kmdnt. C.R. de Wet, wat hier sy eerste groot oorwinning behaal het. Die twee bataljons het Pretoria as kgrygsgevangenes bereik.

Die slag van Modderspruit was ‘n luisterryke sege vir die republieke, maar Joubert het versuim om sy oorwinning op te volg en die dorp stormenderhand in te neem. Die onvermydelike gevolg was die omsingeling en beleg van Ladysmith, waartoe ‘n gekombineerde krygsraad van Transvaalse en Vrystaatse offisiere op 1 November besluit het. Enkele dae later is die dorp van alle kante ingesluit.

Wel het die Boere baie gewin aan selfvertroue en prestige, maar Joubert het sy hoofoogmerk om die vyand te vernietig in ‘n tanggreep tussen die Transvaalse en Vrystaatse magte, nie bereik nie. Daarmee het die Boere die inisiatief in Natal verloor. Net een aanvallende beweging in Natal is daarna onderneem en dit was ‘n verkenningstog op groot skaal in die rigting van Pietermaritzburg gedurende die tweede helfte van November.

Die opmars is voortgesit tot by Mooirivier, maar Joubert, wat ver van sy basis was met vyande tussen hom en Ladysmith, was verplig om die terugtog te gelas. Op 27 November is die Tugela weer bereik en aan die noordekant van Colenso is stelling ingeneem om die opmars van ‘n Britse ontsettingsmag uit die suide in te wag. Van toe af kon die Republikeine in Natal slegs verdedigend optree teen die vyand, wat daagliks sterker geword het. Die veldtog daar het die vorm aangeneem van ‘n afweerstryd teen ‘n vyand wat vasbeslote was om tot elke prys die beleërde Ladysmith te ontset.

Beleg van Mafeking

Inmiddels het die Transvalers in die weste die beleg om Mafeking geslaan en terwyl ‘n toestand van feitlike stilstand ingetree het, is ‘n deel van die burgers onder De la Rey verder suid, enkele weke later gevolg deur die hoofmag onder Cronjé, met die oog op die afweerstryd teen die oprukkende Britte voor Kimberley. By Mafeking het Snyman die bevel gevoer. Hy het min inisiatief aan die dag gelê en die nuttelose beleg het ‘n paar duisend man maande lank vasgehou.

Al gebeurtenis van belang in die weste gedurende November was ‘n strooptog deur ‘n Engelse kolonne, gesteun deur Bantoes van Kgama en Lentswe, by Derdepoort in die distruk Rustenburg. Verskeie Transvaalse burgerlikes het by dié geleentheid die lewe gelaat, maar ‘n strafekspedisie die maand daarop het die inboorlinge so ‘n gedugte les geleer dat hulle lank daarna rustig gebly het.

Eerste inval in die Kaapkolonie

In die laaste dae van Oktober het Republikeinse afdelings Vryburg, Taungs en Veertien Strome beset. Die spoorverbinding noord en suid van Kimberley is verbreek en teen die einde van die eerste oorlogsweek was die Kaapse spoorweg noord van die Grootrivier behalwe die deel naby Kimberley en Mafeking, in Boerehande. Heelwat Kolonialers in daardie streke het hulle by die Republiense magte aangesluit. 

Van 3 November af was ook Kimberley heeltemal ingesluit. Ná enige aarseling het die suidelike Vrystaatse kommando’s die Grootrivier by Aliwal-Noord, Norvalspont en Bethulie oorgesteek en die aangrensende distrikte besef. Ook daar het heelwat Kolonialers hul lot by dié van die Republieke ingewerp.

Die Vrystaters het versuim om die belangrike spoorwegsentrum Noupoort te beset en toe Britse versterkings onder French kort daarna opdaag, was dit te laat om die Kolonie dieper binne te dring. Wel kon die ander belangrike knooppunt, Stormberg, wat deur die Britte ontruim was, in besit geneem word en oral is die burgers geesdriftig deur die Koloniale Afrikaners verwelkom.

Dit was die toestand toe sir Redvers Buller, die Britse opperbevelhebber in Suid-Afrika, op 31 Oktober in Kaapstad geland het. Hy was verplig om af te sien van die oorspronklike strategie en sy mag te verdeel ten einde die beleërde dorpe te hulp te kom en die Boere-invallers terug te dryf. Genls. Gatacre en French sou by Stormberg en Colesberg respektiewelik die Republikeine in toom hou, terwyl lord Methuen met een divisie met die spoorweg noordwaarts in die rigting van Kimberley opruk. Buller het self met die helfte van die leërkorps na Natal gesnel, waar die gevaar die grootste was.

Aan Methuen was dit beskore om eerste in aksie te kom. Op 23 November het die eerste botsing plaasgevind op Belmont, waar ‘n gemengde mag van Vrystaters en Transvalers onder Prinsloo en De la Rey die weg na Kimberley versper het. Hulle is daar, en later ook by Graspan, teruggedryf en het daarna stelling ingeneem langs die bedding van die Modderrivier, naby sy samevloeiing met die Rietrivier. Daar het die Republikeine, 3 000 man sterk, onder bevel van Cronjé ‘n groot aanslag van Methuen op 28 November verduur.

Die Britse aanvoerder het beskik oor ‘n viervoudige oormag keurtroepe en ‘n talryke artillerie. ‘n Swaar bombardement en verwoede stormlope deur gardetroepe was tevergeefs en die Boere kon nie uit hulle goedgekose stellings verdryf word nie. Die Britse verliese was groot, maar Cronjé het in ‘n mistasting van die toestand die stellings laat ontruim en ekele myle noord by Magersontein ‘n nuwe afweerfront laat vorm.

Magersfontein

Op die middag van 10 Desember het Methuen die onbesette heuwels by Scholtznek vrugteloos met kanonvuur bestook en daaruit kon Cronjé, wat met sy Potchefstromers die sentrum by die Magersfonteinkoppie gevorm het, ‘n komende offensief aflei. Gedurende die nag het genl. Wauchope met ‘n brigade Skotse gardetroepe in die rigting van die Boerestellings gemarsjeer met die doel om dit by die eerste daglig van naby te bestorm.

Danksy onvoldoende verkenningswerk was die Britte nie op hoogte van die presiese ligging van die Boere se loopgrawe aan die voet van die heuwelreeks nie en in die donker voor dagbreek het die brigade hom vasgeloop teen vernietigende mauservuur op kort afstand. Honderde soldate het gesneuwel. Die res kon nie voor of agteruit kom nie en onder dekking van swaar artillerievuur het die aanvallers later die oggend die aftog geblaas, maar eers nadat hulle die klein Skandinawiese korps, wat ‘n vooruitgeskowe stelling voor die Boerelinie beset het, swaar verliese toegedien het. Die Britse verliese was volgens eie opgawe sowat 1 000 man en Methuen was verplig om na Modderrivier terug te val. Dit was ‘n luisterryke oorwinning vir die Republikeine en die einde van Methuen se pogings om Kimberley van die suide te ontset.

Stormberg

Ook by Stormberg het die Britte ‘n groot terugslag ondervind. Gatacre, ‘n stoutmoedige offisier,w at einde November sy hoofkwartier 50 km suid van Stormberg opgeslaan het, het besluit omdeur ‘n onverwagte nagtelike stormloop die Boerestellings by Stormberg te oorrompel. Dit sou nie alleen daardie belangrike sentrum in sy hande besorg en die spoorverbinding met French by Noupoort herstel nie, maar ook die geesdrif van die kolonialers in die omgewing vir ‘n algemene rebellie demp.

Gedurende die nag van 9 Desember het hy ‘n afdeling van 3 000 man op die regterflank van die Vrystaters laat aanruk, maar die aanval was ‘n volslae mislukking, want die troepe het in die donker verdwaal en nie die juiste posisies bereik nie. Ná ‘n skerp geveg moes Gatacre se mag in wanorde terugval met agterlating van 700 gevangenes en die verlies van 100 dooies en gewondes. Dit was ‘n ernstige verlies van prestige en die rebellie het groter afmetinge aangeneem. Die toestand het kritiek gebly.

So is binne twee dae albei flanke van die Britse offensief in die Kaapkolonie teruggeslaan, maar nie minder enrstig nie, was die toestand wat intussen in Natal ingetree het, want slegs enkele dae later moes ook Buller se hoofmag voor Colenso met swaar verliese die aftog blaas.

Ná sy verkenningstog na die suide het Joubert al langs die noordelike oewer van die Tugela met Colenso as sentrum en die Bosrand of Hlangwanekop aan die oorkant van die rivier, wat noordoos swenk, stelling gekies. Die uiterste linkerflank het byna sover as Spioenkop, ver na die weste, gestrek. Alle burgers wat by die beleg van Ladysmith gemis kon word, het daar stelling ingeneem en in die afwesigheid van Joubert, wat ongesteld was, het die jong genl. Louis Botha die opperbevel gevoer.

Op 25 November het Buller in Pietermaritzburg aangekom en hom gereed gemaak om die vyand aan te durf met die tweeledige doel om Ladysmith te ontset en die Republikeine te dwing om Noord-Natal en die toegange tot Transvaal te ontruim. Aanvang Desember het hy beskik oor ‘n groot oormag van 30 000 man met 46 veld- en skeepskanonne, teenoor die hoogstens 5 000 man en enkele veldstukke wat Botha kon aanbring. Daarby het die aanvaller die groot voordeel geniet dat hy die aanvalspunt kon kies, terwyl Botha nooit sy hele mag, wat weens die lengte van die linie dun verspreid was, op een punt kon saamtrek nie. Daarteenoor het die terrein die verdedigers begunstig.

Soos Botha verwag het en deur ‘n artillerie-bombardement vooraf gewaarsku, het Buller op 15 Desember ‘n frontaanval by Colenso gewaag. Die voetvolk is in die bog van die rivier links van Colenso teruggedryf, terwyl twee batterye kanonne wat dit te na aan die Boere-stellings gewaag het, binne enkele minute die swye opgelê is. Teen die einde van die dag het dit ‘n stryd om die besit van die kanonne geword. Tien het in die slag gebly en in Boerehande geval. Buller was met die verlies van 2 000 man verplig om na sy oorspronklike stellings terug te val.

Die drie neerlae binne een week het die erns van die oorlog vir die eerste keer aan die Britse volk geopenbaar. Die Republikeine was vol moed, want oral het die front onwrikbaar standgehou en vir enkele weke was daar ‘n verademing.

Platrand

Terwyl Buller hom gereed gemaak het vir nog ‘n poging om Ladysmith te ontset, het die Republikeine die dorp deur ‘n artillerie-bombardement en deur uithongering tot oorgawe probeer dwing. Ná die mislukking van ‘n halfhartige stormaanval het die Republikeinse leër leiding, veral op aandrang van pres. Kruger, besluit om ‘n nuwe stormloop te waag. Dit het op 6 Januarie 1900 plaasgevind. Platrand, die suidelike sleutelpunt in die Engelse verdediging, is met groot dapperheid aangeval en byna ingeneem, maar die vyand het die aanval hardnekkig afgeweer en ná groot verliese aan weerskante moes dit gestaak word. Die strydtoneel het weer eens verskuif na die Tugela waar Buller andermaal gereed gestaan het.

Spioenkop

Begerig om louere te verwerf alvorens hy deur ‘n ander opperbevelhebber vervang word, het Buller dié keer gekonsentreer op die uiterste regtervleuel van die Boere wat op Spioenkop aan die boloop van die Tugela gerus het. Op 10 Januarie het hy met ‘n groot mag opgeruk, die driwwe oor die rivier in besit geneem en in die nag van 23 Januarie Spioenkop beset. Botha het dadelik besef dat die besit van hierdie sleutelstelling die aangrensende posisies onhoudbaar gemaak het. Nog dieselfde nag het hy kanonne laat opstel terwyl ‘n stormtroep die dag daarop die kop bestyg het om die stelling te herower.

Danksy skitterende ondersteuning deur die artillerie en swaar dekkingsvuur van die Carolina-burgers op die flank, het die aanvallers die kruin genader. Die opmekaar gedronge Engelse het swaar verliese verduur en vroeg in die dag het die aanvoerder, genl.Woodgate, gesneuwel. Sy opvolger was nie by magte om die hele posisie op te som nie. Hy h et die vooruitsigte so troosteloos gevind dat hy bevel gegee het tot die ontruiming van die posisies gedurende die nag. Buller se magte het die noordelike oewer van die Tugela ontruim met die verlies van byna 3 000 man binne die agt dae dat die gevegte geduur het.

Vaalkrans

Deur sy groot neerlaag nie afgeskrik nie, het die Britse bevelhebber dit die volgende keer meer na die sentrum van sy teenstanders gewaag, nl. Vaalkrans, enkele kilometer oos van Spioenkop. Ná ‘n hewige bombardement uit 72 vuurmonde het hy op 6 Februarie die stelling op Ben Viljoen en sy klein kommando verower, maar hy is op sy beurt deur die Boere van hoër terrein af só doeltreffend bestook dat hy ná aansienlike verliese verplig was om dit weer te ontruim. Dit was die einde van sy derde poging om Ladysmith te bereik.

Buller se laaste offensief

Aangevuur deur lord Roberts, wat intussen as nuwe opperbevelhebber na Suid-afrika gestuur is, het Buller besluit om terug te keer na die toneel van sy eerste aanval. Hy het eindelik besef dat die Bosrand die sleutel tot boerestellings was. Op 11 Februarie het die operasies begin en toe die swak besette Bosrand in Britse hande val, was Botha verplig om verder agtertoe ‘n nuwe stelling in te neem, ewewydig met die noordooswaartse kronkelinge van die Tugela vanaf die heuwels bokant Colenso in die suide, tot Pietershoogte oos van die spoorweg.

Sy geledere was reeds sterk uitgedun, want ‘n groot deel van die Vrystaters moes na hul eie land terugkeer om Roberts se opmars te help stuit. Hoewel ook hy versterkings van elders gekry het, kon Botha slegs 5 000 man teen Buller se 40 000 man in die stryd werp. Die Britte was vasberade om dié keer hul doelwit te bereik, want die garnisoen in Ladysmith was reeds half verhonger en het in benarde omstandighede verkeer.

Op 21 Februarie is die aanval oor die rivier geloods en nieteenstaande swaar verlliese onder hewige artillerie-dekkinggsvuur herhaal. Op 27 Februarie is die stellings by Pietershoogte te midde van ‘n ongeëwenaarde vuur uit 72 kanonne opnuut aangval. Nie minder nie as 40 000 man het aan die finale stormloop deelgeneem. Teen die middag laat is die stellings verower. Die aangrensende stellings het onhoudbaar geword en ‘n algemene terugtog was die gevolg.

Op die 28ste het buller se voorhoede die dorp binnegery en die beleg was beëindig. Buller het in sy doel geslaag met die verlies van byna 4 000 man, maar vir die Republikeine was dit ‘n groot morele terugslag. Die Engelse kon nou terugkeer tot hul oorspronklike strategie van ‘n verowering van die Republieke uit die Kaapkolonie.

Intussen het Botha noord van Ladysmith langs die biggarsberg ‘n nuwe front gestabiliseer. Joubert het na Pretoria vertrek, waar hy kort daarna oorlede is. In Natal het die krygsrumoer voorlopig verstom en andermaal het die toneel verskuif na die weste, waar ‘n krisis ingetree het waarvan die gevolge verreikend was.

Stryd in die Kaapkolonie

Ná die oorwinnings van Desember het die Boerekommando’s aan alle fronte in die Kaapkolonie werkeloos gebly. Geen poging is aangewend om die Britse verbindingslinies aan te tas nie en die vyand is toegelaat om ongehinderd versterkings aan te bring en die inisiatief te herwin. So het die oorlog ook daar die aard van ‘n afweerstryd aangeneem. Net by Colesberg het dit ernstiger verloop. Daar het De la Rey sedert Desember 1899 die bevel gevoer oor ‘n versterkte Vrystaats-Transvaalse mag teenoor die energieke French, wat later die bevel aan Clements oorgedra en na die front voor Kimberley vertrek het om hom aan te sluit by Roberts, wat gereed gemaak het om Cronjé se mag te vernietig.

Sedert Magersfontein het Cronjé op sy louere gerus en die enigste aktiewe beweging aan Boerekant was ‘n onderneming onder genl. Liebenberg na die omgewing van Prieska en Kenhardt om ‘n Koloniale rebellie aan te stook. Hierdie mag moes in die begin van Maart deur Betsjoeanaland na Veertien Strome terugtrek om nie deur die oprukkende Engelse van sy basis afgesny te word nie.

Roberts se offensief

Intussen het Roberts, vergesel van sy stafhoof, Kitchener, op 8 Februarie by Modderrivier aangekom en onmiddellik begin met die uitvoering van ‘n strategie om tegelyk Kimberley te ontset en Cronjé se hoofmag te omsingel en te vernietig, en daarna direk na die Vrystaatse hoofstad op te ruk. Die verwesenliking van hierdie plan sou die ander Republikeinse kommando’s in Noord-Kaapland vanself dwing om terug te trek.

Om Cronjé te mislei, het Roberts ‘ n deel van sy mag na Koedoesrand, wes van die stellings by die Modderrivier, gestuur. Cronjé het ‘n klein mag, aangevoer deur De Wet, gestuur om hom te stuit. Ná skerp gevegte het die Engelse flank hom op die hoofmag teruggetrek. Vir die hoofoffensief het Roberts van vier divisies voetvolk gebruik gemaak sowel as ‘n kavallerie-divisie onder French, gesteun deur talryke batterye veld- en vestingskanonne.

Terwyl een divisie onder Methuen Cronjé se aandag in beslag neem, sou die res van die leër, met French se ruitery aan die spits, ‘n wye swaaibeweging om Cronjé se linkerflank maak, sy terugtog na Bloemfontein afsny en Kimberley terselfdertyd ontset. Dié plan is noukeurig uitgevoer. De Wet se klein kommando wat voorheen deur Cronjé gedetasjeer is, het die beweging opgemerk en tevergeefs probeer weerstand bied, terwyl Cronjé hardnekkig aan sy ou stellings vasgeklou het, vas in die waan dat sy teenstanders dit nie sou waag om die spoorweg te verlaat nie.

Kimberley ontset en oorgawe van Cronjé by Paardeberg

Terwyl Kitchener Kimberley op 15 Februarie ontset het, het Britse voetvolk in die rug van Cronjé stelling ingeneem. Toe eers het die Boeregeneraal met sy terugtog begin. Hy was egter onwilllig om sy swaar walaer in die steek te laat en nadat hy langsaam al met die Modderrivier tot op Paardebergsdrif gevorder het, is hy daar deur die vyand ingesluit. Op 19 Februarie is sy vasgekeerde laer deur Kitchener se infanterie bestorm, maar die aanval is bloedig afgeweer deur die sowat 4 000 Transvalers en Vrystaters wat daar vasgekeer was.

Toe Roberts op die toneel kom, het hy verdere aanvalle afgelas en Cronjé se laer deur ‘n verskriklike bombardement tot oorgawe probeer dwing. Tevergeefs het De Wet van buite ‘n bres deur die ring probeer slaan en Boere-versterkings wat van elders af ontbied is, moes magteloos toesien dat op 27 Februarie, Majubadag, die wit vlag oor Cronjê se laer gehys word.

Die oorgawe van byna 4 000 man was vir die Republieke ‘n byna onherstelbare verlies en ‘n morele skok waarvan hulle nooit herstel het nie, erger as die verlies van Ladysmith. Baie burgers het moed verloor, die rebellie in die Kolonie het in duie gestort en toe die suidelike kommando’s haastig na die Vrystaat begin retireer, was die rebelle aan hulle lot oorgelaat. Die kommando’s onmiddellik noord van Kimberley het na die Vaalrivier teruggetrek.

Vredespoging van die Republiek

Diep onder die indruk van die ramp by Paardeberg het die twee Presidente op 5 Maart ‘n telegram aan die Britse eerste minister, lord. Salisbury, gerig en aangebied om vrede te maak mits die onafhanklikheid van die Republieke erken word. Die onverbiddelike antwoord was ‘n volstrekte weiering. Brittanje was vasberade om ‘n end te maak aan die bestaan van onafhanklike republieke in Suid-Afrika.

Daarbenewens is ‘n spesiale deputasie bestaande uit A. Frischer, A.D.W. Wolmarans en C.H. Wessels na Europa gestuur om ‘n beroep om tussentrede op die moondhede te doen. Hierdie afvaardiging het tot die einde vand ie oorlog in die buiteland vertoef, maar het nêrens welslae gehad nie. Daarvoor was die moondhede onderling te verdeeld. Hul belang in Suid-Afrika het nie swaar genoeg geweeg nie en hulle sou niks waag nie in die wete dat Brittanje oppermagtig ter see, in Suid-Afrika aan’t triomfeer was.

Val van Bloemfontein

Inmiddels het Roberts sy opmars in die rigting van Bloemfontein voortgesit. By Poplar Grove sowel as by Abrahamskraal het De Wet en De la Rey vergeefs weestand gebied en op 13 Maart 1900 het Bloemfontein sonder slag of stoot in Britse hande geval. Met die inname van die Vrystaatse hoofstad en die terugtog van die Republikeinse magte tot binne hul grense, behalwe by Mafeking, is die eerste groot tydvak van die oorlog afgesluit. Binne weinige weke het die aansien van die oorlog verander. Op haas alle krygstonele moes die Boere terugval. Twee beleërde plekke is ontset, ‘n groot Republikeinse leër is tot oorgawe gedwing en die hoofstad van een van die Republieke het in vyandshand geval. Die tweede bedryf sou weldra begin.

Roberts se nuwe plan

Eers ses weke ná die inname van Bloemfontein kon Roberts aan ‘n voortsetting van die veldtog dink. Sy leër is deur maagkoors sterk uitgedun, terwyl voorrade, versterkings en veral perde vir die ruitery aangevoer moes word. Ook moes die spoorverkeer herstel en die flanke en rug van teenstanders gesuiwer word. Met dié doel is die opstand in die noordweste van die Kaapkolonie gedurende Maart deur Kitchener onderdruk, terwyl baie Vrystaatse burgers in die suidwestelike distrikte moedeloos die wapen neergelê en onder ‘n proklamasie van Roberts gedateer 15 Maart na hul wonings teruggekeer het.

Intussen het die Britse leër groot versterkings ontvang. Maandeliks het 30 000 nuwe soldate die land binnegestroom,sodat die leër se getalsterkte teen die einde van April byna 200 000 man was. Aan infanterie het Roberts, insluitende die mag in Natal, oor nie minder as 11 divisies beskik nie. Sy plan was om langs die spoorweg van Bloemfontein na Johannesburg en Pretoria op te ruk, oor ‘ n wye front met flanke ver in die weste en ooste van die Vrystaat. Terselfdertyd sou Buller die bergpasse naTransvaal en die Republiek uit die suidooste binneruk.

Herlewing van strydgees in O.V.S.

As Brittanje onder die indruk was dat vanweë die algemene krygstoestand en die troostelose vooruitsigte die Republikeinse weerstand spoedig gebreek sou wees, het hy hom deerlik misgis. Die gees van verset was nog nie gebeek nie, soos blyk uit die optrede van De Wet oos en suidoos van Bloemfontein, op die flank en in die rug van robertsse mag. Met Steyn het De Wet die siel van ‘n hernude verset van die Vrystaters geword.

As eerste stap tot reorganisasie en hervatting van die stryd is Kroonstad tot nuwe hoofstad van die Vrystaat geproklameer en op 19 Maart het Steyn sy burgers deur ‘n proklamasie tot die stryd opgeroep. By ‘n algemene krygsraad op Kroonstad, waar albei Presidente teenwoordig was, is besluit om die stryd voort te sit. Die walaers sou ter wille van groter mobiliteit afgeskaf word en De Wet is toegelaat om ‘n nuwe taktiek op die proef te stel.

Op 1 April het hy ‘n Britse afdeling van Sannaspos op mars na Bloemfontein verras en oorrompel met die verlies van sewe kanonne en byna 500 man aan gevangenes. Vier dae later het hy ‘n ander mag by Reddersburg tot oorgawe gedwing en daarna die garnisoen by Wepener bedreig. Toe Roberts verplig was om groot troepemagte teen hom te konsentreer, het hy teruggeval en hom met sy kommando by Brandfort weer by die Republikeinse hoofmag aangesluit.

Hervatting van Roberts se opmars

Eers diep in April kon die Britse opperbevelhebber aan die hervatting van die veldtog dink. Terwyl ‘n aansienlike deel van die leër gebruikis om die spoorlyn na die suide te bewaak, sou hy self met die hoofmag langs die spoorlyn na Transvaal marsjeer. Groot eenhede onder Ian Hamilton en Rundle sou oos van en parallel met die hoofmag marsjeer omet die doel omterselfdertyd die Noordoos-Vrystaat van vyande te suiwer. In die weste sou die divisies van Hunter en Methuen, elk met 10 000 man, ook noordwaarts in die rigting van Veertien Stome en Transvaal opruk.

Die hervatting van Buller se aanvalle in Natal was ‘n deel van die algemene strategie, maar sy bewegings was so treeg dat sy optrede nie wesentlik tot die algmene offensief bygedra het nie. Teenoor Roberts se oorweldigende oormag van meer as 100 000 man het die Republikeinse leërleiding altesame skaars 25 000 man in die veld gehad. Net ‘n deel kon gebruik word in die Vrystaat, waarheen ook Botha hom  uit Natal gehaas het.

Op 1 Mei het Roberts se hoofmag uit Bloemfontein vertrek en deur sy taktiek van omvleueling het hy ‘n langdurige verdediging op die kaal Vrystaatse vlaktes onmoontlik gemaak. Op 5 Mei het Winburg en ‘n week later ook Kroonstad in Britse hande geval. Die Transvaalse hoofmag het langsamerhand voor die oprukkende oormag in die rigting van die Vaalrivier teruggetrek, terwyl De Wet met sy Vrystaters die noordoostelike hoek van die Vrystaat, met sy belangrike graandistrikte, probeer beskerm het. Na die weste het Hunter reeds op 7 Mei die rivieroorgang by Veertien Strome beset en kort daarna Christiana, die eerste dorp op Transvaalse bodem.

Intussen het ‘n mag onder genl. Warren Griekwaland-Wes gesuiwer van vyande. Baie rebelle het die wapens neergelê en ander het ‘n toevlugsoord in Transvaal gesoek. ‘n Aparte mag onder genl. Mahon het wes daarvan met die Rhodesiese spoorlyn noordwaarts opgeruk en met die samewerking van ‘n mag onder Plumer uit Rhodesië daarin geslaag om die beleëraars te verdryf en op 17 Mei Mafeking te ontset.

Anneksasie van die Vrystaat

Terwyl die vyand soos ‘n vloedgolf noordwaarts beweeg en oral garnisoene agtergelaat het om die inwoners in bedwang te hou, het die Transvaalse Volksraad vir die laaste keer op 7 Mei vergader. In ‘n redevoering het Kruger sy burgers gemaan om te volhard en die Vrystaat van sy trou verseker. Dit was die laaste byeenkoms van die wetgewende liggaam van ‘n Boere-republiek.

Die verdere krygsvoering is deur die Volksraad toevertrou aan die Uitvoerende Raad, wat reeds besluit het om Pretoria nie te verdedig nie, maar in ‘n oostelike rigting al vegtend langs die Delagoabaai-spoorlyn terug te val. Daar is gevoel dat die laaste verbindingslinie met die buitewêreld so lank moontlik oopgehou moes word.

Val van Pretoria

Met die oog op die snelle nadering van die vyand en die op hande synde val van Johannesburg en Pretoria, is soveel krygsmateriaal en goudvoorraad as moontlik met die spoorlyn ooswaarts vervoer. Dit was net betyds, want ná ‘n kortstondige weerstand van Transvaalse magte onder Botha en De la Rey in die heuwels suid van die Goudstad het Johannesburg op 31 Mei in Britse hande geval. Roberts het sy opmars sonder versuim voortgesit en op 4 Junie ook Pretoria ingeneem. Kruger en die lede van sy regering het ‘n week tevore per trein na die ooste vertrek en uit Machadodorp die bewind verder gevoer.

Buller breek deur uit Natal

Terwyl die hoofmag na die Vaalrivier opgeruk het, het Buller eindelik ook op 10 Mei die offensief in Noord-Natal hervat, nadat hy twee maande feitlik niks gedoen het nie. Hy het die oostelike flank van Meyer, wat daar in bevel was, omvleuel en die Transvalers gedwing om nuwe stellings op die bergpasse wat toegang tot die Vrystaat verleen, asook by Laingsnek in te neem. Die Boeremagte daar was baie verswak, aangesien versterkings gestuur moes word om Roberts te help stuit. 

Ees op 6 Junie, toe Pretoria al in Britse hande was, het Buller sover gekom om die Republikeinse regterflank aan te tas en by Bothaspas deur te breek. Dit het hom in staat gestel om ook Allemansnek, wes van Volksrust en half in die rug van die Laingsbergstellings, te forseer. Daardeur is die verdedigers gedwing om hul stellings te ontruim en was die weg vir Buller oop om Transvaal binne te ruk. Op 12 Junie is Volksust en die dag daarop Wakkerstroom in besit geneem.

Daarna het Buller langsamerhand langs die spoorlyn in die rigting van Johannesburg opgeruk, om hom eers ‘n maand later te verenig met Roberts, wat intussen na die ooste voortbeweeg het. Buller se teenstanders aan die Natalse grens het noordwaarts teruggeval om later aan die stryd langs die Oosterlyn deel te neem. Ook in dié deel van die land het baie burgers uit moedeloosheid die wapens neergelê en na hul plase teruggekeer.

Donkerhoek

Die inname van die Transvaalse hoofstad het intussen nie soos Roberts gehoop het, die Boereweerstand beëindig nie. Botha, met die Transvaalse hoofmag, het slegs tot by Donkerhoek, 30 km oos na die ooste teruggewyk. Roberts was verplig om ‘n nuwe veldtog te onderneem, want voordat die Transvaalse hoofmag militêr vernietig was, kon daar geen sprake van die einde van die oorlog wees nie. Daarby het ‘n ernstige krisis in die Vrystaat, ver in die rug van die Britse mag in Transvaal, ontwikkel. Dit was noodsaaklik om die toestand op te klaar, want Boere-suksesse in die suide het die weerstandswil in Transvaal aangewakker.

Enkele dae ná sy intog in Pretoria het die Britse opperbevelhebber andermaal sy leër in beweging gestel teen Botha, wat by Donkerhoek ‘n linie dwarsoor die spoorweg gevorm en die Britse aanval ingewag het. Ook dié keer het Roberts die beproefde taktiek van omvleueling aangewend. Aanvanklik is die Britse ruitery-voelhorings onder French en Hamilton teruggeskiet en eers nadat die infanterie twee dae later in die sentrum ‘n houvas gekry het, was Botha genoodsaak om sy stelling te ontruim en ooswaarts terug te trek. Roberts het nie sy doel bereik nie en moes voorlopig die offensief staak, om eers af te reken met die Boeremagte agter sy rug en langs sy verbindingsweë.

Vrystaters op die aanval 

Die Boere-aanvoerder wat in hierdie tyd die ergste doring in Roberts se vlees was, was genl. Christiaan de Wet, wat in die Noordoos-Vrystaat nog altyd oor ‘ n aansienlike krygsmag beskik het. Ook die Vrystaatse regering met pres. Steyn, wat die kommando’s vergesel het, het nog altyd politieke weerstand gebied en het gedien as simbool dat die o orlog nog nie op ‘n end was nie. Die Vrystaters het gou bewys dat hulle in staat was om offensien op te tree.

Op 31 Mei het genl. Piet de Wet, ‘n broer van Christiaan, by Lindley sowat 500 Yeomanry-troepe gevange geneem. Enkele dae later het Christiaan self ‘n konvooi naby Heilbron gebuit en die spoorlyn na die noorde op verskeie plekke opgebreek. Op 7 Junie het hy die garnisoene by Rooiwal  e.a. plekke langs die spoor tot oorgawe gedwing enenorme hoeveelhede oorlogsmateriaal gebuit en vernietig. Wel het die vyand die spoorlyn weer herstel, maar dit was noodsaaklik om paal en perk aan De Wet se bedrywighede te stel. Reeds het sy optrede die neiging gehad om die oorlog te verleng en die tydelike krisis in

Transvaalse leierskringe te oorwin.

Britse offensief teen De Wet

Roberts het besluit tot energieke teenmaatreëls. Reeds op 1 Junie het hy die Vrystaters by wyse van proklamasie gedreig met vervolging as rebelle en opdrag gegee om plaaswonings in die nabyheid van spoorversteurings te verbrand. Inwoners wat versuim om die aanwesigheid en beweging van gewapende kommando’s te rapporteer, is gedreig met konfiskasie van hul vee en verbranding van wonings.

Hierdie maatreëls het geen uitwerking gehad nie en was origens ‘n bekentenis van die onvermoë van die Britse leërleiding om die stryd met militêre maatreëls te beëindig. Maar Roberts het nie daarmee volstaan nie. Met een groot beweging wou hy die Vrystaatse hoofmag vernietig en die lede van die regering te velde gevange neem. Met dié doel is genls. Rundle en Hunter gelas om die offensief te open.

Met die oog op die naderende vyand het De Wet sy kommando’s stellings laat inneem op die Witte- en Roodeberge, wat met ‘n groot boog van Kommandonek in die suide noordwaarts en suidooswaarts strek tot by Witsieshoek aan die Basoetoegrens. In die Brandwatervallei was die gros van die Vrystaatse strydmag vir die laaste keer as ‘n eenheid bymekaar. Om insluiting deur die Britse oormag te voorkom, het De Wet opdrag gegee dat die bergpasse deur klein wagposte bewaak moet word, terwyl hy met 2 600 man en vergesel van die regering in ‘n noordwestelike rigting oor Slabbertsnek deur die kordon gebreek en weggetrek het.

Oorgawe van Prinsloo 

Genl. Prinsloo, wat die agtergeblewe deel van die Vrystaatse mag aangevoer het, het hom sonder verdere weerstand of ‘n poging omte ontkom, met die meeste van die byna 4 000 man onder hom op 29 Julie oorgegee. Slegs 2 000 man het ontsnap. Vir die Vrystaat was dit ‘n ramp byna so erg as die oorgawe van Cronjé.

Vir die tweede keer was die toestand vir die republiek donker en al ligstraal was die ontsnapping van Steyn en De Wet, die siel van die verdere verset. Die oorgawe van Prinsloo het hulle origens gesterk in die oortuiging dat die tyd vir groot veldslae deur gekonsentreerde magte verby was, en dat die enigste hoop om die oorlog te verleng, geleë was in die aanwending van ‘n nuwe strategie en met nuwe taktiese middele. Hierdie oortuiging sou in die nabye toekoms vrugte dra, ook wat die oorlogvoering in Transvaal betref, en daartoe meewerk om die stryd met byna twee jaar te verleng. 

Steyn en De Wet na Transvaal

Reeds tevore het Steyn van sy Transvaalse ampsgenoot ‘n versoek om ‘n algemene samespreking met die oog op die militêre toestand ontvang. Ná die noue ontkoming in die Brandwatervallei het die twee Vrystaatse leiers besluit om, ook om aan die oprukkende Britse magte te ontkom, onverwyld na Transvaal te trek.

Die vyand het alle pogings aangewend om De Wet se onderneming te verongeluk. Groot magte is van alle kante saamgetrek, maar danksy uitstekende verkenningswerk deur die keurtroepe van Gideon Scheepers en Danie Theron, het De Wet daarin geslaag om  oor die Vaalrivier naby Potchefstroom te kom en deur Wes-Transvaal te trek tot by die Magaliesberge naby Rustenburg. Met sy hele mag, wat nou, met agterlating van die walaer, uit ruiters bestaan het, is hy deur Olifantsnek tot by die Krokodilrivier, waarvandaan Steyn met ‘n klein eskorte alleen verder ooswaarts deur die bosveld na Machadodorp getrek het. De Wet is na die Vrystaat terug om die weerstand opnuut te organiseer.

Dalmanutha

Inmiddels het ook kommando’s in Wes-Transvaal onder De la Rey in aksie gekom en verskeie suksesvolle slae teen geïsoleerde Britse afdelings gelewer. Ook hier was daar alle tekens dat die Boere-weerstand nog nie gebreek is nie. Roberts het sy teenstanders onderskat en, oortuig dat ‘n afdoende oorwinning oor Botha se hoofmag langs die Oos-Berlyn die deurslag sou gee, het hy in Augustus 1900 sy offensief in daardie rigting hervat.

In die laaste week van daardie maand het Botha stelling ingeneem by Dalmanutha of Berg-en-Dal, naby Machadodorp. Sy sentrum was naby die spoorlyn terwyl sy uiterste linker- en regterflanke byna tot by Barberton en Lydenburg respektiewelik gestrek het. Dit sou die laaste groot afweerslag van die oorlog word. Hoewel die bergagtige terrein die verdediging begunstig en ‘n omtrekkende beweging uiters bemoeilik het, het Botha se mag uit slegs 5 000 man en enkele kanonne bestaan. Die lang linie kon nie behoorlik teen die oormag beset word nie. Roberts, wat nou ook Buller se mag tot sy beskikking gehad het, kon op enige punt in die linie toeslaan.

Tog het dit nie maklik gegaan nie. Twee dae lank – 26 en 27 Augustus – het die slag gewoed voordat Botha se mag gedwing is om terug te trek en veral die Transvaalse polisie het hom in die sentrum met roem onderskei. Hoewel die Transvalers verslaan is, kon byna die hele strydmag deur ‘n tydige terugtog gered word, maar in die waan dat die stryd beslis was, het Roberts op 1 September die Suid-Afrikaanse Republiek tot Britse gebied geproklameer. Soos Steyn het Kruger met ‘n teenproklamasie geantwoord.

Kruger na Europa

Toe die slag van Dalmanutha nog gewoed het, het Steyn daar aangekom en die twee regerings het ná samesprekinge besluit om die oorlog voort te sit. ‘n Reeks van maatreëls is in dié verband getref. Die vernaamste was dat Kruger, wat weens sy ouderdom nie by die kommando’s in die veld kon bly nie, na Europa sou vertrek om hom vir Europese intervensie te beywer. Op 11 September het hy Nelspruit verlaat op pad na Delagoabaai, van  waar hy op 19 Oktober met ‘n Nederlandse kruiser, De Gelderland, na Marseille gebring is.

Sy aanwesigheid in Europa het wel groot geesdrif gewek, maar meer kon hy nie doen nie. Die Duitse Keiser het selfs geweier om hom te ontvang. Prakties het hy van die openbare toneel in Suid-Afrika vrdwyn. In sy plek het Schalk Burger as vise-president opgetree, maar die werklike politieke mondstuk van die republieke sou voortaan Steyn wees.

‘n Ander belangrike besluit van die twee regerings was dat die oorlog voortaan die aard van guerrillastryd sou aanneem. Dit is grotendeels deur Steyn op grond van De Wet se suksesse geïnspireer, want die verlore slag van Dalmanutha het dit ook by die Transvalse leiers tuis gebring dat stellinggevegte teen die groot Britse oormag geen kans op sukses bied nie. Dit sou geen gewone guerrilla-oorlog wees nie, maar ‘n stryd met die doel om die vyand uit te put en vir die oorlog moeg te maak.

Die wettige regerings in die veld sou die verset lei, georganiseerd en doelgerig. Die strydmagte sou met die oog daarop gereorganiseer word. Kommando’s is onderverdeel in kleiner eenhede, wat elkeen soveel moontlik in sy eie, bekende omgewing sou optree. Aanvoerders sou nie langer gekies nie, maar benoem word op grond van bekwaamheid. Die tug is verskerp en wat voorrade en krygstuig betref, is daar staatgemaak op gebuite materiaal. Die artillerie, waarvan die ammunisie gedaan was, is vernietig en Lee-Metford-gewere sou die plek inneem van die Mausers, waarvan die patrone op was. Hoofsaak was die verhoogde mobiliteit van die strydmagte.

Kitchener volg Roberts op

Die besetting van die spoorweë in Transvaal, die inname van die stede en die meeste dorpe, die einde van die stellingsgevegte deur gekonsentreerde magte, en die formele anneksasie van die republieke  het die afsluiting van ‘n bepaalde fase in die stryd ingelui. Om met die hernieude Boere-weerstand af te reken, sou die taak wees van lord Kitchener, wat Roberts op 29 November 1900 as opperbevelhebber in Suid-Afrika opgevolg het. Roberts het na Engeland teruggekeer, oortuig dat die einde in sig was, maar op Kitchener het nog ‘n groot taak gewag.

Poliieke veranderinge in die Kaapkolonie

Die lente van 1900 was nie slegs ‘n militêre keerpunt in die oorlog nie, maar ook in politieke opsig het ‘n groot verandering gekkom, veral in die Kaapkolonie. Daar was die kabinet van die Afrikanerbond reeds van die begin af nie met hart en siel in die stryd nie. Dit kon nie so voortduur nie, want met die skynbare instorting van die Republikeinse weerstand het Chamberlain van die Kaapse regering kragdadige optrede teen die rebelle geëis. Die vernaamste ministers was nie te vind vir ‘n voorstel om rebelle te ontkieser nie en die gevolg was ‘n kabinetskrisis. In Junie 1900  het sir Gordon Sprigg met die steun van enkele gewese ministers ‘n ander regering gevorm.

Die Parlement het ‘n vrywaringswet aangeneem, spesiale howe ingestel om met rebelle af te reken en bepaal dat skuldiges die kiesreg vir vyf jaar sou verloor. In Oktober is die Parlement verdaag om gedurende die oorlog nie weer te vergader nie. Die bewind is gevoer deur die kabinet, wat min of meer bereid was om die belange van die Britse regering te dien. Die deel van die bevolking wat met die Republieke gesimpatiseer het, is deur krygswet en Britse bajonette in bedwan gehou.

In Engeland het Chamberlain intussen sy oorlogsbeleid deur die volk laat toets. Ná ‘n “kakie”-verkiesing het die Konserwatiewe Party andermaal geregeer, vasberade om eens en vir altyd met die Boere af te reken. In Oktober is Milner benoem tot hoë kommissaris, ‘n amp wat nou geskei is van dié van goewerneur van die Kaapkolonie. Hy is gemagtig om ook die Vrystaat as die Oranjerivier-kolonie en Transvaal te administreer.

Britse politieke kringe was oortuig dat die oorlog prakties op ‘n end was en daar is reeds gedink aan die vreedsame heropbou. Min mense kon voorsien dat dit nog lank sou duur en dat die stryd weldra met verdubbelde woede hervat sou word.

Die uitroeiingsoorlog 

Selde in die geskiedenis van oorlogvoering het uit skynbare totale nederlaag en demoralisasie so ‘n onverwagte herlewing van weerstand gekom as teen die einde van 1900. Wel was die Republikeinse strydmag sterk utigedun, maar wat oorgebly het, was die goeie materiaal. Die swakker elemente het hulle met hul lot vereenselwig en die stryd gestaak. Hulle staan in die geskiedenis as “hensoppers” bekend en hul verlies was vir die Republikeinse saak eerder ‘n voordeel.

Die herlewing het eerste in die Vrystaat tot openbaring gekom. Daar het De Wet reeds teen die einde van Augustus die burgers opnuut te wapen geroep. Baie wat uit moedeloosheid tydelik die stryd gestaak het, het  hul w apens opgegrawe en ondanks die eed van neutraliteit (wat deur hul regering as nie-bindend verklaar is) andermaal op kommando gegaan.

‘n Vername taak was die verbreking van die verbindingslinies van die vyand asook aanvalle op geïsoleerde troepe-afdelings. In dié proses het die wakker verkenner-kaptein, Danie Theron, vroeg in September 1900 naby Potchefstroom gesneuwel. Ook De Wet was aktief in die omgewing van Potchefstroom totdat die aankoms van groot Britse versterkings hom genoop het om na die Vrystaat terug te trek.

De Wet probeer die Kaapkolonie binneval

Aan die end van Oktober 1900 het De Wet en Steyn besluit om die Kaapkolonie binne te val met die dubbele doel om ‘n nuwe rebellie te ontketen en die Transvalers geleentheid te bied om hulle reg te ruk. Dié onderneming is byna in die kiem gesmoor deurdat ‘n mobiele Engelse kolonne op 6 November De Wet se laer naby Bothaville oorval en byna in die pan gehak het. Tog was die Vrystaatse opperbevelhebber ‘n week later in staat om met ‘n berede mag van 1 500 man die tog na die suide te aanvaar.

Op 23 November het hy die garnisoen op Dewetsdorp tot oorgawe gedwing, maar die mars is slegs met groot moeite voortgesit. Van alle kante het vyandelike kolonnes op hom toegesak en toe hy die Grootrivier bereik, was dit weens die reëns ondeurwaadbaar. Hy moes van sy plan afsien, hoewel hy klein eenhede onder genls. Hertzog en Kritzinger en kmdt. Scheepers agtergelaat het om by ‘n geskikte geleentheid die rivier na die Kolonie oor te steek. Met sy hoofmag het hy na die noordoos-Vrystaat teruggekeer.

Herlewing in Transvaal

Intussen het Botha in Oos-Transvaal, gevolg deur meeste van sy burgers en die Transvaalse regering te velde, noordwaarts deur die bosveld in die rigting van Pietersburg getrek. Die noordelike distrikte is onder bevel van genl. C.F. Beyers geplaas en in die weste het De la Rey, gesteun deur Kemp, die bevel gevoer. In die ooste was dit die taak van genl. Ben Viljoen om die burgers tot kragtige verset te oganiseer.

Die eerste drie maande ná die slag van Dalmanutha het betreklik rustig verloop, behalwe dat die vyand die suidoostelike distrikte van Transvaal probeer skoonvee het, maar toe Botha teen die einde van November sy hoofkwartier na die suidooste verplaas het, het die herlewing in erns begin. Genls. Viljoen en Muller, met keurbendes onder kapt. Jack Hindon en ander, het hulle veral bemoei om die spoorverbinding na die ooste te onderbreek. Op 29 November het Viljoen ‘n vry ernstige botsing met ‘n Britse mag by Renosterkop gehad, maar hy kon ongehinderd aftrek.

Ook in die weste was De la Rey en Smuts aktief en nadat hy op 3 Desember ‘n groot Britse konvooi gebuit het, het De la Rey, verenig met die kommando’s van Beyers en Kemp, ‘n Britse mag onder Clements by Nooitgedacht langs die Magaliesberg verslaan. Die vyand het meer as 600 man verloor.

Gedurende Desember en Januarie het die Republikeine op talle plekke aanvallend opgetree, hoewel hulle oral groot botsings probeer vermy het. So het Smuts en Liebenberg teen die einde van Januarie 1901 ‘n konvooi gebuit en in Oos-Transvaal het Botha en Viljoen die spoorlyn op verskeie plekke aangeval.

Inval in die Kaapkolonie

Ook in die suide het die offensiewe gees wakker gebly. Kritzinger, Hertzog en Scheepers het die Kaapkolonie binnegetrek en tot diep in die Middellande en die Noordweste deurgedring. ‘n Tweede rebellie het gevolg en die Britse leërleiding was verplig om op talle plekke mobiele eenhede aan te hou en veral die spoorlyne te bewaak. De Wet het sy invalspoging herhaal en dié keer geslaag om die Grootrivier oor te steek. Dit was op 10 Februarie 1901. Kitchener het hom persoonlik na die toneel gehaas en alle kragte saamgetrek om De Wet te stuit.

Eers nadat hy feitlik omring was deur ‘n aantal mobiele kolonnes en voorgekeer deur die onbegaanbare Brakrivier, was De Wet verplig om na die Vrystaat terug te keer. Intussen was die tweede opstand in die Kaapkolonie in volle gang en die Britse leërleiding was verplig om krygswet af te kondig. Die strydtoneel was nou die lengte en breedte van Suid-Afrika.

Die nuwe soort oorlogvoering was vir die vyand ‘n verrassende wending van sake en Kitchener was nie by magte om die vegtende burgers met suiwer militêre maatreëls te onderwerp nie. Hy was verplig om van nie-militêre metodes gebruik te maak en dit het tot groot hoogte die lewe van die burgerlike bevolking getref. Die vernaamste was om die land te stroop van alle bestaansmiddele om op daardie wyse die Republieke te dwing om die stryd te staak.

Dit het nie slegs beteken die vernietiging van die veestapel nie, maar ook die verbranding van talle plaaswonings. Ook het hy in Desember 1900 besluit om die burgerlike bevolking (meestal vroue en kinders) in konsentrasiekampe byeen te bring. Tot nog toe kon die vroue die boerderye aan die gang hou en die vegtende burgers van voedsel en kleding voorsien. Kitchener wou deur ‘n beleid van stelselmatige ontvolking daaraan paal en perk stel. In sy wese was dit voortaan ‘n oorlog teen die volk self.

Die nuwe Boerestrategie het Kitchener gedwing tot ingrypende verandering van die Britse leër-organisasie. Die leër is grootliks omgeskep tot ‘ n berede mag en is opgedeel in ‘n groot aantal mobiele kolonnes wat vinnig en onafhanklik kon optree. Ongereelde troepe het daarby dikwels diens gedoen. Vir die verdediging van die Kaapkolonie is gebruik gemaak van “District Mounted Troops” en “Town Guards” wat plaaslik gewerf is. Hulle gevegswaarde was egter gering. Oor die algemeen is baie gebruik gemaak van berede infanterie wat soos hul teenstanders te voet sowel as te perd kon optree.

Dryfjag in Oos-Transvaal

Kitchener het gemeen om d.m.v. ‘n groot dryfjag onder aanvoering van French eerste met Botha en die kommando’s op die Transvaalse Hoëveld af te reken. Sewe mobiele kolonnes, byna 40 000 man, het ‘n kordon gevorm en vanaf die Johannesburg-Pretoria-spoorlyn suidooswaarts beweeg in ‘n poging om die kommando’s binne die driehoek tussen die twee spoorweë na die ooste en Natal en Swazigrens vas te druk en uit te wis. Die operasies het van 28 Januarie tot in die begin van April geduur, maar die militêre resultaat was gering, hoewel die hoëveld verwoes en die grootste deel van die burgerlike bevolking gevanklik weggevoer is.

Kitchener se vredesoffensief

Terwyl die dryfjag nog aan die gang was, het Kitchener onderhandelinge met Botha aangeknoop met die oog op vrede. Tydens ‘n ontmoeting met Botha op Middelburg op 28 Februarie 1901 het hy, uitgaande van die anneksasie van die Republieke as ‘n voldonge feit, staking van vyandelikhede voorgestel op die volgende voorwaardes: Amnestie vir bona fide-oorlogsdade aan Republikeine (rebelle uitgesluit); repatriëring van krygsgevangenes van St. Helena, Ceylon en elders af; en vrvanging van militêre bewind deur kroonkoloniebestuur so spoedig moontlik, om later plek te maak vir selfbestuur. Verder sou Engels sowel as Nederlands op skole geleer word indien die ouers dit verlang. Die Britse regering sou R2 miljoen aanwend om burgers van die twee Republieke te vergoed vir goedere deur Republikeinse offisiere van hulle gekommandeer. Bantoes sou nie stemreg in die nuwe kolonie kry voordat verteenwoordigende bestuur ingevoer is nie.

Voortsetting van die oorlog

Ná raadpleging van sy regering het Botha die voorstelle van die hand gewys, want hy het geweet dat slegter voorwaardes nie aangebied sou word nie. De Wet het in ‘n proklamasie op 1 April 1901 verklaar dat geen vrede met die verlies van onafhanklikheid moontlik was nie.Die stryd het voortgeduur en hoewel Kitchener daarin geslaag het om die noordelike spoorlyn tot by Pietersburg in besit te neem en ‘n garnisoen op daardie dorp te vestig, kon hy die Boere-weerstand daar net so min as elders in Transvaal breek.

Toe die tweede oorlogswinter aanbreek, was die toestand allesbehalwe bevredigend. In dieVrystaat. het dit nie beter gegaan nie, want ook daar het groot dryfjagte weens De Wet se streng desentralisasiemaatreëls tot niks gelei nie. Ook Kitchener is deur omstandighede gedwing om sy magte steeds meer in kleiner eenhede te verdeel. Waar de Wet die Vrystaat onderverdeel het in sewe militêre distrikte, elke onder ‘n assistenthoofkommandant, het Kitchener dit verdeel in vier militêre gebiede. Elke bevelhebber het beskik oor ‘n aantal mobiele kolonnes.

In die Kaapkolonie het bendes onder Scheepers, Kritzinger, Malan, e.a. die vyand gedurig besig gehou. Daar was wel geen algemene opstand nie, maar individuele rekrute het steeds na vore gekom. Die streng toepassing van krygswet en selfs die doodstraf het die rebellie nie beëindig nie.

Die algemene toestand

Hoewel die Boeresaak verbeter het, het Kitchener se teenmaatreëls veral in Transvaal tog diep indruk gemaak. Teen Mei 1901 was die Britse leërsterkte in Suid-Afrika byna 250 000 man met honderde veldstukke en snelvuurgeskut. Oorloper-Boere het vir die Britte gewerk as wadrywers, gidse en selfs spioene. Toenemende gebruik is gemaak van Bantoes vir hulpdienste, verkenning, spioenasie en selfs in ‘n vegtende hoedanigheid.

Die bevolking het die druk van die oorlog in toenemende mate gevoel. In Mei 1901 was die bevolking van die konsentrasiekampe reeds 80 000 en in Oktober het dit aangegroei tot bykans 120 000. In Maart is die kampe onder burgerlike beheer geplaas, maar die administrasie was so swak dat die huisvesting en voeding treurig was. Epidemies het voorgekom en die sterftesyfer het geweldig gestyg. Eers teen die einde van die oorlog, danksy die bemoeiinge van Emily Hobhouse, ‘n vername Engelse dame, en die aanbevelinge van ‘n Britse vrouekomitee, is verbeteringe aangebring wat tot ‘n daling van die sterftesyfer gelei het.

Ontvolking en verwoesting van die Republieke is stelselmatig voortgesit en die kommando’s kon slegs met groot moeite in hul daaglikse behoeftes voorsien. Hul vernaamste voorradebron was die vyand en heelwat burgers het uniforms gedra wat geneem is van krygsgevangenes, wat daarna op vrye voet gestel is. Klere is origens vervaardig van alle beskikbare materiaal. Die stapelvoedsel was vleis en mielies.

Om die beweging van kommando’s te belemmer, het Kitchener reeds vroeg in Januarie 1901 die spoorlyn met blokhuise versterk. Later is dit uitgebrei in verskeie dele van die land en tussenin is doringdraad-versperrings aangebring.

Alles in ag geneem en nieteenstaande die verbeterde militêre toestand, was daar tog in Mei 1901 ‘n gees van moedeloosheid in Transvaalse leierskringe. ‘n Staking van die oorlog is selfs oorweeg en in korrespondensie met Steyn het die Transvaalse regering die toestand in die swartste kleure geskilder. Maar Steyn was onwrikbaar en het die Transvaalse reering gemaan om te volhard.

In hierdie donker stadium was dit nie net Steyn se kragtige leiding wat die stryd laat voortduur het nie, maar ook enkele militêre suksesse van Kemp en Muller. Toe die twee regerings mekaar op 20 Junie naby Standerton ontmoet het om die toestand te bespreek, het ook die Transvalers nuwe moed geskep. Ook pres. Kruger, met wie Smuts deur bemiddeling van die Nederlandse Konsul-generaal telegrafies in verbinding was, het laat weet om aan te hou, hoewel hy die beslissing in die hande van die regerings te velde gelaat het. Daar is derhalwe besluit om die voorlog voort te sit, en om die druk op die Republieke te verlig, sou ‘n nuwe inval in die Kaapkjolonie gedoen word.

Smuts na die Kaapkolonie

Voor die koms van die lente het Smuts met ‘n uitgesoekte troep van 300 man uit Wes-Transvaal deur die Vrystaat in die rigting van die boloop van die Grootrivier getrek. Hy het deur die Britse kordon gebreek en die rivier op 3 September 1901 oorgesteek. Met groot moeite en te midde van groot ontberinge a.g.v. buitengewoon slegte weer, het hy sy weg deur omringende kolonnes geveg, op 17 September ‘n afdeling lansiers naby Putterskraal oorrompel, en die Kaapse Middellande tot naby Port Elizabeth deurkruis. Daarna het hy noordwes geswaai tot in die omgewing van Calvinia. Die opstand in die Kaapkolonie het uitgebrei en tot aan die einde van die oorlog is groot Britse magte daar besig gehou.

Kitchener se papierbom

Herhaalde groot dryfjagte van Kitchener in die Vrystaat het nie gebaat nie en op 7 Augustus 1901 het die Britse opperbevelhebber met goedkeuring van Milner en die regering in Londen ‘n proklamasie uitgevaardig waarin die Boere opgeroep word om voor 15 September oor te gee, op straf van verbanning uit die land e.a. dreigemente. Die proklamasie is deur die Boere spottend die “papierbom” genoem en dit het geen uitwerking gehad nie. Dit was buitendien ‘n blyk van die vyand se militêre onmag.

Lente-offensiewe oor en weer

Met die koms van die lente het die Republikeine plotseling nuwe lewe, asof om hul minagting vir Kitchener se proklamasie te toon, geopenbaar. In September het Botha die Natalse grens oorgesteek en in swaar gevegte gebots met Britse afdelings by Mount Prospect en by Itala in Zoeloeland. Die aankoms van Britse versterkings kon sy veilige aftog nie verhinder nie.

Op 30 Oktober het Botha sy kommando’s saamgetrek en by Bakenlaagte ‘n Engelse kolonne in die pan gehak. Ook in Wes-Transvaal het die Boere nuwe inisiatief aan die dag gelê. Naby Rustenburg het De la Rey sy magte gekonsentreer en ‘n Engelse mag by Moedwil aangeval. Alleen met moeite kon dit afgeweer word. Ook in die Vrystaat en die Kaapkolonie in suksesse oor geïsoleerde Engelse magte behaal. Nagtelike Britse strooptoge en gekonsentreerde dryfjagte teen De Wet in die Vrystaat het nie gehelp nie, en op Kersdag 1901 het hy ‘n vyandelike kamp op Groenkop bestorm en vernietig. Dwarsdeur die some en tot in April 1902 het die een dryfjag na die ander gevolg om De Wet onskadelik te maak en die Vrystaatse regering gevange te neem.

In Transvaal het die Britse somerveldtog die vorm aangeneem van nagtelike strooptogte deur snel bewegende eenhede, gelei deur Bantoes en verraaier-Boere, ook bekend as “National Scouts”. Hierdie taktiek het ‘n mate van sukses gehad en die lede van die Transvaalse regering was byna nêrens meer veilig nie. Op 25 Januarie 1902 is Viljoen naby Lydenburg in ‘n hinderlaag gevange geneem. Teen die einde van Januarie was die toestand op die Hoëveld haglik en die distrikte Ermelo, Bethal en Carolina was feitlik verlore. In die noorde kon Beyers hom nog staande hou teen ‘n aansienlike Britse mag, wat bygestaan is deur swart hulpbendes. Perdesiekte het egter sy bewegings verlam.

De la Rey in Wes-Transvaal

In Wes-Transvaal het De la Rey weer eens sy tande gewys. Op 25 Februarie 1902 het hy ‘n marsjerende konvooi by Ysterspruit naby Klerksdorp deur ‘n koene ruiteraanval oorrompel en gebuit. Veertien dae later het hy die sukses op dieselfde wyse herhaal toe hy op 7 Mjaart ‘n mag onder Methuen by Tweebos in die distrik Lichtenburg vernietig het. Methuen self het gewond in sy hande geval. Kitchener het gereageer deur groot magte teen De la Rey saam te trek, want hy het besef dat Wes-Transvaal nou die vernaamste sentrum van weerstand was. Dit het die vorm van groot dryfjagte aangeneem en gelei tot skerp gevegte by Bosbult (31 Maart) en Rooiwal (11 April) toe Boere-aanvalle met moeite afgeweer is.

Militêre situasie in April 1902

Teen April 1902 was die algemene toestand, militêr gesproke, taamlik donker. Wel was daar nog byna 20 000 man met inbegrip van Kaapse rebelle aan Republikeinse kant in die veld, maar daar was slegter tekens. Die land was in sy geheel verwoes, die burgerlike bevolking was besig om in die konsentrasiekampe  te sterf (altesaam 26 000 vroue en kinders het die lewe gelaat teenoor minder as 4 000 burgers wat gesneuwel het) en ‘n paar duisend oorlopers het selfs in Britse uniforms aan die kant van die vyand gestaan. ‘n Deel van die Transvaalse mag het weens gebrek aan perde hul mobiliteit en daarmee hul taktiese meerderwaardigheid verloor. In sommige dele was voedselvoorrade feitlik uitgeput en die moontlikheid van Europese tussenkoms het nie bestaan nie.

Vredesonderhandelinge op Klerksdorp

Die Britse regering, bewus van die bestaan van ‘n vredesparty in Transvaal en op hoogte van die algmene toestand van die Republikeine, het handig gebruik gemaak van ‘n bemiddelingsvoorstel van die Nederlandse regering op 25 Januarie 1902. Hoewel lord Lansdowne die voorstel afgewys het, het hy gesinspeel op die moontlikheid van onderhandelinge ter plaatse in Suid-Afrika. ‘n Afskrif van die briefwisseling is deur Kitchener aan die Transvaalse regering besorg en daarop het vise-president Burger sonder kennis van sy Vrystaatse ampsgenoot ‘n vrygeleide van Kitchener verkry om met die Vrystaatse regering te beraadslaag.

Toe Burger en sy kollegas op 22 Maart die Britse linies by Balmoral binnery, was dit ook die begin van die einde. Steyn en De Wet is voor ‘n voldonge feit geplaas en moes instem tot samesprekinge by Klerksdorp op 9 April. Die uitkoms was ‘n vredesvoorstel aan Milner en Kitchener op grond van die behoud van die onafhanklikheid van die Republieke. Die Boereleiers het hulle bereid verklaar om toe te tree tot ‘n algemene doeane-, spoor- en tolunie, die aanvaarding van stemreg vir die Uitlanders, gelykheid van Engels en Nederlands as skooltale,wedersydse amnestie, toekomstige arbitrasie en sloping van fortifikasies.

Vredeskongres op Vereeniging

Kitchener en Milner het daarteenoor aangedring op totale onderwerping op die grondslag van sy Middelburgse voorstelle. Daartoe kon die Boere-regerings slegs toestem ná raadpleging van die volk en daaris ooreengekom tot ‘nstaking van vyandelikhede en die hou van ‘n kongres, saamgestel uit 30 verteenwoordigers van elke republiek, en wel op Vereeniging van 15 Mei af. Daar het die offisiere verslag gedoen oor die toestand. Dit was nie rooskleurig nie. ‘n Meningsverskil het ontstaan toe dit geblyk het dat die Vrystaters, gesteun deur die Wes-Transvalers,geneig was om desondanks die oorlog voort te sit, terwyl die meeste Transvalers nie langer kans gesien het nie. Steyn het tot die end gepleit, maar sy gesondheid het so verswak dat hy op 29 Mei verplig was om sy amp neer telê. De Wet het as waarnemende president opgetree.

Die drama het vinnig ten einde gespoed en om ‘n noodlottige skeuring in die geledere van die volk te voorkom, was die minderheid verplig om in die toestand te berus. Milner en Kitchener wou van geen kompromis hoor nie en hulle het selfs ‘n ultimatum gestel dat, indien hul voorstel nie voor die aand van 31 Mei aanvaar word nie, die oorlog hervat sou word. Die middag laat is dit aanvaar met ‘n meerderheid van 54 teen 6 en daardie selfde aand is die vredesverdrag in Pretoria onderteken deur Kitchener en Milner namens die Britse regring aan die een kant en die twee Boere-regerings wat nou weer stilswyend as sodanig erken is, aan die ander kant.

Die Vrede van Vereeniging 

Die finale verdrag het bepaal:

1. Dat alle burgers die wapens neerlê en Eduard VII as hul wettige soewerein erken;

2. Dat krygsgevange e.a. burgers buite die grense van Transvaal en die Vrystaat ná ‘n verklaring van Britse onderdaanskap na hul huise teruggebring sal word;

3. Dat sulke bugers hul persoonlike vryheid en eiendom behou;

4. Dat amnestie, behoudens enkele uitsonderinge, aan alle burgers vir bona fide-oorlogsdade verleen word;

5. Dat Nederlands in die openbare skole van die twee nuwe kolonies onderrig sal word indien die ouers dit verlang en in die geregshowe toegelaat word indien nodig vir doeltreffender regspraak;

6. Dat gewere toegelaat word vir persoonlike beskerming;

7. Dat militêre administrasie so gou moontlik vervang word deur burgerlike bestuur en sodra doenlik deur verteenwoordigende instellinge wat op selfbestuur uitloop;

8. Dat die vraagstuk van Bantoestemreg eers ná die verlening van selfbestuur aangeroer word;

9. Dat geen spesiale belasting op vaste eiendom gehef word om oorlogskostes te dek nie; en

10. Dat plaaslike kommissie benoem word om behulpsaam te wees met die repatriasie van die bevolking en om behoeftiges te voorsien van voedsel, herberg, saad, vee en gereedskap.

Die Britse regering sou R6 miljoen beskikbaar stel vir dié doel. Goewermentsnote van die S.A. Republiek, uitgegee ingevolge Wet No. 1 van 1900, asook alle wettige kwitansies deur offisiere uitgereik, sou deur die kommissies as bewyse van oorlogsverliese aanvaar word. Brittanje sou verder lenings toestaan om sulke kostes te help dek, rentevry oor twee jaar en daarna aflosbaar oor drie jaar teen 3 persent.

In die verdrag is niks gerep van die lot van die Kaapse rebelle nie,maar Kitchener het informeel die versekering gegee dat gewone burgers nie erger gestraf sou word as die verlies van die kiesreg nie, terwyl offisiere voor gewone howe volgens die gewone wette sou tereg staan. In geen geval sou die doodstraf toegepas word nie.

Gedurende die eerste dae van Junie het die wapenaflegging ordelik plaasgevind, maar dit het maande geduur voordat die burgerlike bevolking en die krygsgevangenes op hul plase terug was. Die Tweede Vryheidsoorlog was verby. Die Republieke het opgehou om te bestaan, maar onder die puinhope het die as bly gloei…..

— — — oOo — — —