GVSA Die triomf van nasionalisme en die totstandkoming van die Republiek 1948-1961 

 D.W. Kruger, M.A., D. Litt.

Die nuwe bewind

Die oorwinning van die nasionale koalisiepartye in Mei 1948 was vir dr. Malan en sy volgelinge amper net so ‘n groot verrassing as wat dit vir hul teenstanders ‘n skok was. In die nuwe regering was dr. Malan die Eerste Minister met mnr. N.C. Havenga as sy Adjunk sowel as Minister van Finansies. Ander kabinetsposte is deur die vernaamste partyleiers uit die vier provinsies beklee.

‘n Kenmerk van die regering was dat alle lede van die kabinet, hoewl tweetalig, vir die eerste keer in die geskiedenis van huis uit Afrikaanssprekend was. In daardie opsig het die samestelling van die regering ‘n eensydige karakter getoon wat deur die opposisie en sy pers-organe, hoofsaaklik die Engelstalige pers, terdeë uitgebuit is. Die indruk is geskep dat die Engelssprekende bevolking totaal uitgestoot is en vir die Afrikaners was die triomf volkome.

Posisie van die Regering

Tog was die posisie van die regering aanvanklik nie sterk nie, want met ‘n klein meerderheid van slegs vyf in die volksraad en ‘n minderheid in die Senaat wat eers met die nuwe samestelling van daardie liggaam in Maart 1949 in ‘n meerderheid omgeskep kon word, moes die regering uiters versigtig handel.

Die Verenigde Party, aangevoer deur genl. Smuts, wat as opposisieleier nooit sterk opgetree het nie, het daarop gereken dat die nuwe regering nie lank sou standhou nie. Sy pers het steeds daarop gehamer dat die regering nie die meerderheid van die kiesers verteenwoordig nie – in werklikheid is 100 000 minder stemme op die Malan-Havenga-koalisie uitgebring as op hul teenstanders.

‘n Ander beswaar teen die nuwe bewind was dat dit seksioneel was, iets wat in die omstandighede en aanvanklik nie vermy kon word nie. Die daarop volgende partystryd was des te heftiger vanweë die hoop van die opposisie om die regering spoedig tot ‘n val te bing. Daardie hoop het langsamerhand vervlieg en gepaard daarmee het die Verenigde Party tekens van onderlinge verdeldheid begin toon.

Daarteenoor het die regering sy posisie in die Parlement versterk deur oorwinnings by tussenverkiesings en veral toe Suidwes-Afrika in Mei 1950 ses verteenwoordigers, almal Nasionaliste, na die Vollksraad gestuur het, asook vier lede, waarvan twee benoem is, na die Senaat. Die posisie van die Nasionale koalisie is daardeur heeltemal beveilig.

Herstel van griewe

Reeds voor die tyd het die regering begin om sy verkiesingsbeloftes na te kom. Om sy ondersteuners tevrede te stel,  het hy politieke gevangenes van die oorlogsjare losgelaat en ‘n paar honderd Duitsers wat reeds ‘n deportasiebevel ontvang het, toegelaat om in die land te bly. Griewekommissies is benoem om ondersoek in te stel na gevalle van onreg in die staatsdiens onder die vorige bewind. Vir die erste keer in jare is die rege van Afrikaanssprekendes in ere herstel. Die tweetaligheidsvereiste is strenger gehandhaaf.

Die onderwys

Die taalvraagstuk was van groot openbare belang, veral wat die onderwys betref. Die dubbelmedium-eksperiment wat die vorige regering ingevoer het, het nog steeds bitter teenkanting van invloedryke Afrikaanse kant en van die Nasionale Party ondervind. Een van die eerste dade van die nuwe Transvaalse Provinsiale Raad waarin die Nasionaliste in 1949 die meerderheid verkry het, was om die “dubbelmedium-ordonnansie” te herroep en ‘n stelsel van moedertaalonderrig deurgaans in alle openbare skole in die provinsie in te voer.

Die opposisie het hierdie maatreël vertolk as ‘n poging om ‘n wig tussen Afrikaans- en Engelssprekende kinders in te dryf en die verdeeldheid van die verlede te bestendig. Voorstanders van die nuwe maatreël het volgehou dat die oue in die praktyk misluk het, dat dit teenstrydig met gesonde opvoedkundige praktyk was en dat nasionale eenheid slegs deur volwaardige taalgelykheid gebou kon word. Wesenlik was die nuwe onderwyswetgewing egter ‘n maatreël om die kulturele erfenis van die Afrikaners te beskerm.

Immigrasie

Hoe uiters gevoelig die regering was vir enige bedreiging van die posisie van die Afrikanerdom, blyk uit sy onmiddellike wysiging van die immigrasiebeleid van die vorige regering. Ná die oorlog het die Smuts-regering ‘n skema van staatsondersteunde immigrasie, hoofsaaklik uit Brittanje, in werking gestel en die nasionaalgesinde opposisie het dit vertolk as ‘n doelbewuste poging om die verhouding van die twee taalgroepe  in die onguns van die Afrikaner te wysig.

Die Nasionaliste het daarby in gedagte gehad die oorlogstydse dreigement van een van die Verenigde Partyleiers dat die Afrikaners wat nie wou saamwerk nie, ná die oorlog deur ‘n vloedgolf van immigrante ondergeploeg sou word. Die regering het dientengevolge ‘n einde aan die bestaande immigrasieskema gemaak en dit het byna onmiddellik gelei tot ‘n groot afname in die getal blanke immigrante wat jaarliks die land binnegekom het.

Die ekonomiese toestand

Een van die grootste onmiddellike probleme wat die aandag vereis het, was die ernstige ekonomiese toestand wat kort ná Mei 1948 ‘n hoogtepunt bereik het. ‘n Finansiële krisis m.b.t. die buitelandse betaalmiddele het ingetree en dit was uiters moeilik om voldoende leningskapitaal vir die ontwikkeling van die land te vind.

Gedurende 1947 en tot vroeg in 1948 was die finansiële posisie nog skynbaar baie gesond, want hoewel byna die hele buitelandse skuld gedurende die oorlogsjare gerepatrieer is, kon ‘n groot goudreserwe opgebou word danksy die toenemende goudproduksie. Die reserwe het gestyg van R90 miljoen aan die einde van 1939 tot meer as R580 miljoen in Junie 1946. Nadat voorsiening gemaak is vir ‘n grootliks verhoogde na-oorlogse invoer van verbruiksgoedere, het dit teen die einde van 1947 nog op byna R380 miljoen gestaan. In Oktober 1947 was die Smuts-regering selfs in staat om Brittanje aan ‘n rentelose lening van R160 miljoen in goud te help.

Geld in omloop het gestyg van R200 miljoen aan die einde van 1938 tot R910 miljoen aan die einde van Maart 1948. Hoewel die betaloingsbalans gesond was, het die posisie reeds van 1946 af begin verander weens die terugbetaling van oorlogskuld en die verhoogde invoer het goudreserwe met R160 miljoen verminder. Van die helfte van 1947 af egter het kapitaal uit Brittanje tot ‘n groot bedrag die land binnegevloei.

Die oorvloed aan geld het groter invoer gestimuleer en ‘n toestand van skynwelvaart geskep. Met die steeds groter wordende invoer het die reserwes kleiner geword. Op 31 Maart 1948 het dit gedaal tot R216 miljoen en toe die nuwe regering in Mei sake oorgeneem het, was die toestand reeds sorgbarend. Dit het nog ernstiger geword a.g.v. die vlug van Britse kapitaal ná die verkiesing.

Om die betalingsbalans te herstel, was die regering in November 1948 verplig om invoerbeheer weer in te stel. Die aankoop van nie-noodsaaklike goedere in die buiteland is verbied, maar dwarsdeur 1949 moes die tesourie alles in sy vermoë doen om die buitelandse krediet te herstel. Teen Augustus van daardie jaar het die toestand begin verbeter, die balans tussen invoere en uitvoere het gunstiger geword en kapitaal het weer begin invloei.

Tot die verbeterde toestand het die devaluasie van sterling met 30% teenoor die dollar bygedra. Dit het invoere uit dollarlande wel duurder gemaak, maar Suid-Afrika kon nou reken op ‘n hoër sterlingprys vir sy goed. Teen 1950 was die toestand reeds baie beter nieteenstaande ‘n groot prysstyging en inflasie wat a.g.v. die oorlog in Korea ingetree het. Daarteenoor het die boere groot baat gevind by ‘n geweldige styging in die prys van wol gedurende die 1950-51-seisoen.

Die stygende lewensduurte het die bevolking egter swaar getref en lone en salarisse moes allerweë verhoog word om tred te hou. In die algemeen het die land hom aangepas by die veranderde toestand wat slegs die voorspel was tot ‘ n geweldige ekonomiese bloei gedurende die dekade daarna.

Die grootste probleem, hoewel ‘n onmiddellike oplossing buite die kwessie was, was die verhouding van die verskillende rasse van die Unie tot mekaar.

Die beleid van rasse-apartheid

Die rassebeleid van die regering is saamgevat in ‘n manifes(1) van dr. Malan op die vooraand van die verkiesing van 1948. Daarin is vir die eerste ker gebruik gemaak van die term “apartheid” om die beleid van die Nasionale Party aan te dui.

(1)D.W. Kruger, S.A. Parties and Policies, opp. 402-407, waar die stuk volledig weergegee word.

Met apartheid wou die Party die voortbestaan van die afsonderlike identiteit van elke ras in Suid-Afrika verseker. Blankes, Bantoes, Kleurlinge en Indiërs sou afsonderlik en naas mekaar tot ontwikkeling gebring word. Die aankweking van ‘n nasionale bewussyn, selfrespek en onderlinge agting vir elke afsonderlike bevolkingsgroep was die verklaar beleid van die Party en dus ook van die nuwe regering.

Die Bantoe

Ten opsigte van die Bantoe was dit die verklaarde beleid om die vernaamste etniese groepe te segregeer in hul eie gebiede waar hulle as selfgenoegsame eenhde kon ontwikkel. Die reservate moes as die nasionale tuiste van die Bantoe beskou word. Die Party het verder onderneem om die blanke karakter van die stedelike gebiede te verseker met aparte woongebiede vir die Bantoes wat as trekarbeiders beskou word en nie geregtig op gelyke sosiale en politieke regte met die blankes nie.

Die Party sou ook sorg dat die verdere instroming van Bantoes na blanke stedelike gebiede in samewerking met plaaslike owerhede beheer word. Oortollige Bantoewerkers sou na hul oorspronklike tuistes op die platteland of in die reservate teruggestuur word. Met die oog op die maatreëls wat daartoe noodsaaklik is, sou ‘n stelsel van identifikasie  en kontrole ontwerp word. Appartheid sou ook gehandhaaf word in fabreieke en vakbonde ten einde die belange van blanke werkers te beskerm.

Die Party sou toesien dat die Bantoebevolking onderwys op Christelike en nasionale grondslae ontvang, gekontroleer deur die staat en geadministreer deur ‘n aparte staatsdepartement. Die Party het voorgestel dat die bestaande Bantoeverteenwoordiging in die Parlement en die Kaapse Provinsiale Raad afgeskaf en die Bantoebevolking verteenwoordig word in die Senaat deur sewe blanke lede wat egter nie mag deelneem aan stemmings oor mosies van vertroue, oorlogsverklaring en wysiging van die politieke regte van die nie-blankes nie. In stede van direkte verteenwoordiging, sou die Bantoes in hul eie gebiede plaaslike selfregering kry.

Die Kleurlinge

Die Kleurlinge beklee ‘n posisie halfpad tussen blanke en nie-blank. Ook in hul geval is die Nasionale Party t.g.v. totale apartheid – sosiaal, residensieel, industrieel en politiek – sowel tussen Kleurlinge en blankes as tussen Kleurlinge e.a. nie-blanke rasse. Huwelike tussen Kleurlinge en blankes sou belet word.

Kleurlinge sou in die Senaat verteenwoordig word deur ‘n blanke lid wat deur die regering benoem word. Origens sou die Kaapse Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys verwyder word, maar hulle sou drie blanke verteenwoordigers in die Volksraad kry. ‘n Kleurling Verteenwoordigende Raad sou ingestel word wat egter geen stem kon uitbring oor mosies van vertroue, oorlogsverklarings en die wysiging van die politieke regte van die nie-blankes nie.

‘n Departement vir Kleurlingsake sou ingestel word. Die Kleurlinge sou deur drie blanke lede in die Kaapse Provinsiale Raad verteenwoordig word. Hulle sou gekies word deur die Kleurling Verteenwoordigende Raad. Die Kleurlinge sou in hul eie gebiede rade kon kies om binne die raamwerk van liggame met groter gesag te funksioneer.

Die Indiërs

Wat die Indiërs betref, was die Nasionale Party van mening dat hulle ‘n vreemde onassimileerbare element uitmaak. Die Party sou hulle soveel as moontlik, selfs met finansiële opoffering, repatrieer. Die res sou in die land gesegregeer word van blankes sowel as van die ander rasse. Hulle sou geen verteenwoordiging in die wetgewende liggame van die Unie hê nie.

Daar sou woonbuurtskeiding wees en Indiërs sou geen vaste eiendom in blanke gebiede mag besit nie. Handelsfasiliteite van Indiërs buite hul eie gebied sou streng ingeperk word. Indiër-handelaars in Bantoegebiede sou uiteindelik verdwyn, terwyl handelsregte vir Bantoes aldaar voorbehou word.

Algemeen

Kortliks, die apartheidsbeleid wou ‘n verdere voortbouing wees van die tradisionele segregasiebeleid onder ‘n ander naam om sodoende sy negatiewe betekenis minder te beklemtoon. Vir die meeste regeringsondersteuners het dit neergekom op die handhawing van die oppergesag en die baasskap van die blankes. Eers geleidelik het dit ‘n positiewer betekenis verkry.

Die praktyk sou ook uitwys dat nie alle beloftes wat in dr. Malan se manifes vervat is, nagekom kon word nie. Dit sou nie moontlik wees om die Indiërs te repatrieer nie en selfs nie eers om hulle vir altyd as ‘n vreemde element te beskou nie. Dit sou verder onmoontlik wees om die Kleurlingbevolking van ‘n eie tuisland te voorsien. Origens, veral t.o.v.die Bantoes, het die regering geesdriftig aan die werkgespring om sy verklaarde beleid uit te voer. Dit sou nie sonder groot teenstand geskied nie.

Die kleurbeleid van die Verenigde Party

Vir die Verenigde Party was die regering se kleurbeleid in feitlik al sy aspekte onaanneemlik. Die Party het as opposisie aanvanklik geen duidelike alternatiewe beleid gehad nie. Dit was begryplik indien sy samestelling uit konserwatiewe en liberale elemente in aanmerking geneem word. Laasgenoemde was t.g.v. politieke gelykstelling en integrasie van alle rasse, maar die konserwatiewe vleuel van die opposisie kon dit nie aanvaar nie. Sommige lede van daardie vleuel het geswenk tussen lojaliteit aan hul party en simpatie met die Nasionaliste se beleid van kleurskeiding.

Intussen het die Verenigde Party amptelik die regering se kleurwetgewing heftig beveg, maar eers teen die einde van 1949 sover gekom om ‘n eie beleid aan te kondig.(2) Dit was so vaag moontlik gestel ten einde vereeldheid in die Party te voorkom. Dit was feitlik ‘n verklaring dat die Verenigde Party ten gunste was van blanke leierskap en gesag in ‘n gees van Christelike voogdyskap met erkenning van die verskille tussen blankes en Bantoes.

(2)D.W. Kruger, S.A. Parties and Pollicies, pp. 408-409

Die Party het voorts sy geloof in die handhawing van sosiale en residensiële skeiding tussen die rasse betuig en onderneem om die Bantoes in hul reservate onder blanke leiding tot ontwikkeling te bring.

Wat politieke regte betref, het die Verenigde Party verklaar dat hy die skikking van 1936 sou handhaaf, m.a.w.dat hy ten gunste was van die behoud van Bantoeverteenwoordiging in die Unie-parlement en die Kaapse provinsiale Raad. Die beleid, soos gepubliseer, het weinig konstruktiefs vir die toekoms bevat en die volgende verkiesing sou aandui dat dit geen indruk op die kiesers gemaak het nie.

Eerste stappe

Een van die eerste stappe van die nuwe regering was om nieteenstaande heftige teenkanting van die Verenigde Party en sy pers apartheid in te stel op die treine van die Kaapse Skiereiland waar die blankes reeds lankal ontevrede was oor die bestaande gemengde geriewe vir voorstedelike passasiers. Geleidelik is ook aparte geriewe vir blank en nie-blank in poskantore e.a. openbare plekke ingevoer.

Huwelike tussen blankes en lede van alle nie-blanke rasse in die land is in 1949 deur wetgewing verbied en die jaar daarop is ontugtelike omgang tussen blank en nie-blank ‘n strafbare misdaad gemaak. ‘n Uiters belangrike maatreël was die Groepsgebiedewet van 1950 wat ‘n skeiding in stedelike gebiede tussen die verskillende rasse teweeg te bring.

In dieselfde jaar is ‘ n wet wat voorsiening gemaak het vir die persoonsbewyskaarte aangeneem. Die regering het ook sy voorneme aangekondig om die sg. swartkolle in Johannesburg op te ruim. Die beheer oor die instroming van Bantoes na blanke stedelike gebied is verskerp.

Die politieke regte van die nie-blankes

Waar die regering se wetgewende maatreëls om sosiale en residensiële apartheid af te dwing, sterk teenstand uitgelok het, was dit veel erger m.b.t. die stappe wat nodig geoordeel is om politieke apartheid daar te stel. Een van die maatreëls in daardie verband was die herroeping van die wet waardeur die Smuts-regering verteenwoordiging in die Parlement aan Indiërs gegee het. Die Kleurlingraad wat deur die vorige bewind in die lewe geroep is, is in 1950 ontbind, maar as skakel tussen die owerheid en die Kleurlinge is ‘n aparte sub-departement van Kleurlingsake geskep. Dit het later tot ‘n selfstandige staatsdepartement ontwikkel.

Wat die Bantoes betref, is die ou Naturelle Verteenwoordigende Raad wat in 1936 ingestel is en prakties reeds geruime tyd nie meer gefunksioneer het nie sodat selfs die vorige regering daarmee oorhoop gelê het, in 1951 heeltemal afgeskaf. Dit het nie aan die verwagtings wat genl. Hertzog daarvan gekoester het, voldoen nie.

Om voorsiening te maak vir groter selfbestuur van Bantoes in die reservate, is in dieselfde jaar die belangrike Wet op Bantoe-owerhede gemaak. Dit is gevolg deur ‘n maatreël wat die grondslae vir Bantoeselfbestuur in blanke stede gebiede gelê het. Voorlopig het die Bantoes van Kaapland hul direkte verteenwoordiging in die Parlement behou asook die vier senatoe vi die hele Unie.

Van besondere betekenis i.v.m. die hele apartheidsbeleid en in besonder vir sover dit die Bantoebevolking betref, was die benoeming in 1950 van senator dr. H.F. Verwoerd as Minister van Bantoesake i .p.v. dr. Jansen wat goewerneur-generaal geword het, die eerste Afrikaanssprekende om daardie pos te beklee.

Hierdie departement het een van die belangrikstes geword en gedurende die volgende jare het dr. Verwoerd dit met groot bekwaamheid beheer. Die toekoms sou uitwys dat die apartheidsbeleid onder hom algaande en in versnelde tempo ‘n positiewer karakter sou aanneem.

Die Unie en die Statebond

Die Nasionale regering wat sterk republiensgesin was, het van die begin af na ‘n verdere verslapping van die bande met die Britse Statebond gestreef. Ná die oorlog is die ou proses van ontvoogding van die Unie grootliks verhaas en een van die erste regeringsmaatreëls in daardie verband was wetgewing om ‘n einde te maak aan die heersende dubbele burgerskap waardeur ‘n Unieburger outomaties ook ‘n Britse onderdaan was.

Die Burgerskapwet van 1949 het bepaal dat gebore Britse onderdane wat die land binnekom, voortaan nie meer ná twee jaar verblyf outomaties Unie-burgrskap en stemreg sou kon verwerf nie.Die tyd is na vyf jaar verleng soos vir mense van vreemde herkoms en bietjie langer vir laasgenoemde. Britsgesinde elemente van die opposisie het hul misnoeë  oor hierdie maatreël nie verberg nie. Die jaar daarna is nog verder gegaan toe die Parlement die reg van appèl na die Geregtelike Komitee van die Geheime Raad in Londen afgeskaf het.

Die nuwe Statebond

Die regering se beleid om die Unie in ‘n republikeinse rigting te stuur, is in die hand gewerk deur die na-oorlogse omvorming van die Britse Gemenebes. Op ‘n konferensie van Statebondspremiers in Londen in April 1949 wat deur dr. Malan bygewoon is, is Indië wat in 1946 onafhanklik geword het, toegelaat om as ‘n republiek lid van die Statebond te bly. Die Statebond was voortaan nie meer Brits nie, maar het op ‘n breër basis berus.

Dr. Malan het ‘n aansienlike aandeel gehad in die omskrywing van die nuwe Statebond. Die Britse regerende vors was wel nog hoof van die Statebond, maar daar is uitdruklik verklaar dat hy geen konstitusionele funksies het nie. Trou aan die Britse kroon was nie langer ‘n vereiste vir lidmaatskap nie. Dit was ‘n belangrike nuwe ontwikkeling wat deur die opposisie in Suid-Afrika met gemengde gevoelens ervaar is.

Genl. Smuts as die bekendste oorlewende bouer van die Britse Ryk kon hom kwalik met die nuwe toestand vereenselwig en hy het die hoop uitgespreek dat Indië se toelating geen presedent vir meer dergelike gevalle sou wees nie.

Intussen is die republikeinse gedagte in Suid-Afrika, soos tereg deur genl. Smuts voorsien, grootliks versterk deur die veranderde grondslag van die Statebond. Teenstanders van die Republiek kon nie langer argumetneer dat die Unie as ‘n republiek noodwendig geïsoleerd sou wees nie. Naas sy anti-republikeinse standpunt het die Opposisie voortaan gepleit vir die behoud van die verbintenis tussen die Unie en die Statebond. Hy het hom selfs as ‘n Statebondsparty bekend gestel.

Wrywing tussen die Unie en Brittanje

Gedurende die eerste paar jaar van die nuwe bewind was die verhouding van die Unie tot Brittanje nie altyd deur vriendskap gekenmerk nie. In Engeland het die Arbeiderregering van maj. C. Attlee die teuels in hande gehad. Daardie party het erg krities gestaan teenoor die kleurbeleid van die Nasionale Party wat op sy beurt sy teensin teen die Arbeidersparty se beleid om kolniale volke so vinnig moontlik hul vryheid te gee, nie verberg het nie.

In 1951 het dr. Malan selfs sover gegaan om te waarsku dat daardie beleid vir sowel Brittanje as die blanke gemeenskappe in Afrika gevaarlike gevolge kon hê. Hy het ook sy besware gelug teen die voortdurende stroom van kritiek uit Brittanje oor sy rassebeleid. Hy het gewaarsku dat die wanvoorstellinge in Brittanje die republikeinse beweging in Suid-Afrika versterk.

‘n Besondere wrywingspunt was die Hoë Kommissie-gebiede wat nieteenstaande ‘n duidelike verstandhouding tydens Uniewording 40 jaar tevore, en nieteenstaande herhaalde vertoë ook deur vorige regerings, nog steeds nie by die Unie ingelyf is nie. ‘n Nuwe beroep van dr. Malan op die Britse regering het op dowe ore geval, want die Britse openbare mening was so sterk onder die indruk dat die apartheidsbeleid in sy wese op onderdrukking van die nie-blankes neergekom het, dat daar in hierdie atmosfeer van enige oordrag van die Protektorate geen sprake kon wees nie.

Buitelandse beleid: Die Berlynse lugbrug

Terwyl die bande met Brittanje losser geword het, was dit geensins die plan van die regering om die Unie van die res van die wêreld te isoleer nie. Van sy bewindaanvaarding af het dr. Malan namens die hele volk van Suid-Afrika sy noue verbondenheid met die Westerse wêreld teen die bedreiging van die Sowjet-Unie en die kommunisme beklemtoon. Die “koue oorlog” tussen die Sowjet-Unie en sy satelliete teen die demokratiese moondhede van die Weste was in volle gang.

Reeds in 1948 was daar alle tekens van ‘n skerp verwydering in die geledere van die eertydse bondgenote teen Duitsland. Dit het ‘n klimaks bereik deur die Russiese poging om Berlyn, gesamentlik deur Rusland, Brittanje, Amerika en Frankryk beset maar binne die Oos-Duitse gebied wat deur Rusland beheer is, geleë, by die Oos-Duitse Republiek ingelyf te kry. Rusland het die toegange tot die stad gesluit en die Westerse moondhede kon die bestaande posisie alleen handhaaf deur Berlyn uit die lug van die noodsaaklikste lewensvoorrade te voorsien.

Dit was ‘n ontsaglike onderneming wat swaar geldelike en tegniese offers geverg het en van Oktober 1948 af het ook ‘n afdeling van die Unie se lugmag daaraan deelgeneem. In Mei 1949 is die onderneming gestaak toe Rusland ingesien het dat sy blokkade misluk het.

Die verdediging van die Unie

Met die toenemende verslegting van die internasionale verhoudinge en die groter wordende kommunistiese druk, veral in die Verre Ooste, het die Westerse moondhede hul strydmagte gekonsolideer. Ook die Unie het begin om sy weermag op te knap. Om die binnelandse veiligheid te handhaaf, is ‘n stelsel van skietkommando’s in die lewe geroep. ‘n Mag van 100 000 man is uiteindelik beoog.

Die klein vloot is vergroot deur die aankoop van enkele torpedojaers in 1950-51, ‘n begin is gemaak om die lugmag te moderniseer en te versterk en ‘n eie krygsnywerheid in die lewe te roep. Spesiale toerusting is bestel teen ‘n koste van R80 miljoen met die oog op die verdeidiging van die Midde-Ooste in samewerking met Brittanje.

Inmiddels is die weermag tot ‘n aansienlike mate verafrikaans om sodoende die vertroue van Afrikaners in die verdeidignsmag wat deur die oorlogstydse gebeure geskok is, te herstel.

Die oorlog in Korea

Die Unie gewilligheid om sy aandeel in die verdediging van die Weste teen die kommunistiese aanslag te neem en in die algemeen om Amerika in sy beleid van beperking van die kommunistiese uitbreidingsdrang te steun, het in 1950 uitgeloop op aktiewe deelname aan die oorlog in Korea. Vanaf 1949 het die kommunisme ‘n program van stelselmatige uitbreiding in Oos-Asië gevolg en vroeg in 1950 is die hele Chinese vasteland met Sowjet-hulp onder hul beheer gebring.

In Junie van daardie jaar het hulle begin met die verowering van Korea wat sedert die einde van die oorlog deur die Russe en Amerikaners beset is met die 38ste breedtegraad as die skeidslyn tussen hulle. Terwyl die besettingsmagte geleidelik onttrek is, is die land in twee verdeel met ‘n kommunistiese regering noord van die verdelingslyn en ‘n nie-kommunistiese bewind ten suide daarvan.

Met Russiese en later Chinese hulp het die noordelike kommunistiese leërs die grens in Junie 1950 oorgesteek en die Verenigde State het namens die Verenigde Volke-organisasie onmiddellik die verdediging van Suid-Korea op hom geneem. Op ‘n Amerikaanse oproep om hulp het die Unie soos ook ‘n aantal ander lande gunstig gereageer. Die deelname van Suid-Afrika is beperk tot die stuur van ‘n lugeskader van sowat 200 man wat gedurende die volgende paar jaar met onderskeiding aan die stryd deelgeneem het.

Die Unie se onmiskenbare bereidwilligheid om sy aan sy met die demokratiese Weste te stry, het egter weinig bygedra om die toenemende kritiek van westerse lande op die rassebeleid van die regering te laat verstom. Dit sou steeds erger word.

Die buiteland en Suid-Afrika

Reeds van die begin af het die nasionale bewind met sterk buitelandse kritiek te doen gehad. As eertydse teenstranders van aktiewe deelname aan die oorlog en simpatiseerders met Duitsland, was die nasionaliste in die buiteland verdag. Hul tradisionele beleid van rasse-apartheid is in die buiteland verwar met die uitgediende Nazi-teorie van rassemeerderwaardigheid en baie mense het in die nasionale leiers niks anders as Nazi-oorblyfsels gesien nie. Dit het die goeie verhouding van die Unie, selfs met sy vriende in die buiteland, vertroebel.

Byna vanselfsprekend was die ontwakende nie-blanke state feitlik eenparig teen die Unie en namate hul getalle in die raadslede van die V.V.O. vermeerder het, het ook hulle invloed toegeneem. Die Sowjet-Unie sowel as Amerika het om hulle guns meegeding hoofsaaklik weens hul stemkrag in die V.V.O. Afgesien daarvan was die bevryding van die koloniale volke van Afrika en Asië aan die orde van die dag en “kolonialisme” het ‘n term van afsku geword.

Die nuwe liberale denkbeelde m.b.t. rasseverhouidinge het ook nadelig ingewerk op die Unie se interne beleid t.o.v. sy nie-blanke onderdane en sommige van hulle tot verset aangemoedig. Die Unie-regering het verder ook te stry gehad teen die heersende tydgees.

Die storm van buitelandse agitasie, aangewakker en gevoed deur propagandistiese beriggewing van anti-regeringselemente in Suid-Afrika self, het steeds hoër opgelaai. Geen regering van Suid-Afrika het ooit tevore met soveel teenstand en verdagmaking in die buiteland en in die binneland te kampe gehad nie. Tevergeefs het die regering alles in sy vermoë gedoen om sy saak in die buiteland in ‘n beter lig te stel, o.a.deur benoeming van spesiale persattachés in Europa en Amerika en deur versterking van sy verteenwoordiging elders.

‘n Hoë Kommissaris is in 1949 in Australië benoem, in 1950 in Suid-Rhodesië en later ook in Kanada. Die status van verskeie Gesante is verhoog tot dié van Ambassadeurs en spesiale aandag is aan die stamlande van die Suid-Afrikaanse volk gegee om ‘n beter gesindheid te skep.

Die V.V.O. en die Indiërs

Reeds voor die bewindsaanvaarding van dr. Malan het sy voorganger, genl. Smuts, sterk teenkanting van die V.V.O. gekry n.a.v.sy poging in 1947 om Suidwes-Afrika by die Unie in te lyf. Reeds toe al het die Unie se tradisionele kleurbeleid skerp kritiek ondervind. Sedertdien het dit erger geword en die V.V.O. het nie geaarsel om hom ondanks klousule 2, artikel 7, van die Grondwet met huishoudelike aangeleenthede van die Unie te bemoei nie.

Aanvanklik het die internasionale liggaam nog ‘n skyn van reg gehad vir sover ook Indië en Pakistan as lede van die organisasie belange gehad het by die vraagstuk van Indiërs in Suid-Afrika. Die Unie kon nie tot ‘n ooreenkoms met hulle geraak nie, want in Junie 1950 het Indië hom van samesprekings onttrek ná die aanname van die Groepsgebiedewet wat beperkinge op Indiër-woonbuurte gelê het.

Indië het ‘n nuwe klag teen die Unie by die V.V.O. aanhangig gemaak en die Algemene Vergadering van die V.V.O. het in dieselfde jaar ‘n besluit aangeneem waarin Suid-Afrika gevra is om die gewraakte wet op te skort. Die regering het geweier en hoewel die saak elke jaar daarna opnuut op die agenda verskyn het, het die regering steeds alle inmenging deur die wêreldliggaam van die hand gewys.

Die V.V.O. en Suidwes-Afrika

Ook oor die vraagstuk van die posisie van Suidwes-Afrika het die regering met die V.V.O. oorhoop gelê. Indertyd het genl. Smuts geweier om die gebied onder die voogdystelsel van die V.V.O. te plaas, maar toegestem om jaarverslae oor die gebied voor te lê. Die nuwe regering het dit slegs een keer gedoen en toe het die S.W.A.-administrasie soveel kritiek in die Voogdyraad ondervind, dat die gebruik die volgende jaar gestaak is.

Die Voogdyraad het in stryd met die gebruik van die Permanente Mandatekommissie van die Volkerebond, die Unie verder geaffronteer deur mondeling getuienis van verteenwoordigers van ontevrede nie-blanke groepe in Suidwes aan te hoor. Die regering het veral aanstoot geneem in die persoon van eerwaarde Michael Scott, ‘n selfaangestelde agent wat beweer het dat hy namens die Herero’s optree en met wie voorheen al moeilikheid ondervind is.

Tydens die sitting van 1949 het die V.V.O. besluit om die Wêreldhof in Den Haag om ‘n adviserende mening oor die Unie se internasionale verpligtinge insake Suidwes te vra. Die hof het in Julie 1950 verklaar dat hoewel die Unie nie verplig was om die gebied onder voogdy van die V.V.O. te plaas nie, die V.V.O. tog die toesig van die ou Volkerebond geërf het.

Juis hierdie houding van die V.V.O. oor Suidwes het die blanke inwoners van daardie gebied nog meer in die arms van die Unie gedryf soos die verkiesingsresultate aldaar van tyd tot tyd geopenbaar het. Die neiging van die Unie-regering was om die bande met Suidwes nouer te knoop. Daarteenoor het die V.V.O. aan die einde van 1950 ‘n komitee benoem om met Suid-Afrika oor die uitspraak van die Wêreldhof te onderhandel, maar intussen die saak geprejudiseer deur Scott en sy Hererovriende kort daarna verlof te gee om persoonlik voor hom te verskyn.

Die wêreldliggaam het inderdaad geen moeite gedoen om selfs die skyn van billikheid te handhaaf nie. Dr. Malan het die V.V.O. van aggressie teen die Unie beskuldig en sy verrigtinge gedeeltellik geboikot.

Een van die belangrikste maatreëls wat in 1949 op die wetboek geplaas is, was dié m.b.t. die verhouding tussen die Unie en Suidwes-Afrika. Die regering was net so min as sy voorganger geneë om die gebied by die voogdystelsel van die V.V.O. in te skakel. Daar is derhalwe besluit om Suidwes in alles behalwe naam ‘n deel van die Unie te maak as ‘n bykomende versekering van sy aanhoudende verbintenis met die Unie.

In die parlementsitting van 1949 is die Suidwes-Afrika-wet aangeneem waardeur daardie gebied ses bykomstige lede van die Volksraad kon kies sowel as twee ekstra senatore en nog twee wat deur die regering benoem is om Suidwes te verteenwoordig. Suidwes het daarby sy fiskale outonomie behou sodat die anomalie ontstaan het dat hy wel verteenwoordiging in die Parlement gekry het sonder dat sy inwoners belastingpligtig aan die Unie-tesourie was. Dit was ook die vernaamste beswaar van genl. Smuts en die Opposisie teen die maatreël.

Afgesien daarvan was Suidwes se verteenwoordiging buite verhouding tot die grootte van sy blanke kieserstal. Andersins is die nadere aaneensluiting van Suidwes by die Unie deur die blanke bevolking dwarsdeur Suid-Afrika verwelkom. Liberale kringe was egter ontevrede omdat geen voorsiening vir verteenwoordiging van die nie-blanke bevolking van die voormalige mandaatgebied gemaak is nie.

Met die eerste verkiesing onder die nuwe stelsel het albei die groot partye van die Unie hul invloed laat geld, maar die uitslag was ‘ n volslae oorwinning vir die pro-regeringskandidate. Dr. Malan se koalisie in die Volksraad is met 6 lede versterk, mar as hy gehoop het om Suidwes te vrywaar teen verdere V.V.O.-bemoeiing, het hy dit mis gehad.

Optrede teen die Kommunisme

Van meet af aan was die nuwe regering sterk anti-kommunisties gesind en gedurende die parlementêre sitting van 1950 is ‘ n wet om daardie gevaarlike beweging in die ban te doen, aangeneem. Dit was volkome in ooreenstemming met dergelike wetgewing in Amerika en sommige Statebondslande. Hierdie wetgewing is in beginsel deur die Verenigde Party gesteun hoewel die vrees uitgespreek is dat die regering die wye magte wat aan hom toevertrou was, kon misbruik sodat die burgerlike vryhede in gevaar gestel kon word.

Die Minister van Justisie het inderdaad wye diskresionêre magte gekry wat betref die belet van openbare byeenkomste en hy kon selfs ‘n persoon van sy setel in die Parlement beroof deur hom tot kommunis te verklaar. Juis op grond daarvan is ‘n bekende kommunis, Sam Kahn, een van die drie Bantoeverteenwoordigers, lidmaatskap van die Volksraad ontsê

Bantoe-onlus

Die regering se optrede teen kommunisme is sonder twyfel verhaas deur ‘n toenemende woeling in die geledere van die Bantoe-bevolking wat uit daardie oord teen die blankes opgesweep is. Dit het veral gegeld vir die meer ontwikkelde Bantoes wat sterker vir propaganda deur handlangers van Moskou vatbaar was.

Reeds in Januarie het rassespanning in Durban tot ‘n moorddadige aanval van Zoeloes op die Indiër-bevolking aldaar gelei. Die orde is deur die Polisie en die Weermag herstel eers nadat 142 mense, waaronder 50 Indiërs en 87 Bantoes, gedood en 1 087 beseer is. ‘n Aantal winkels en wonings is verwoes en die oproep was ‘n duidelike waarskuwing aan die volk van Suid-Afrika dat die nie-blanke agterbuurtes aan die rand van die groot stede gevaarlike materiaal huisves.

Hoewel daar geen aanduiding was dat die Durbanse onluste kommunisties geïnspireer was nie, het dit tog saamgeval met kommunisties gestookte onrus elders. Een bekende metode van professionele onrusstokers was om sg. protesoptogte te organiseer. Een so ‘n “protes” aan die Witwatersrand op 1 Mei 1950 het die dood van ‘n dosyn Bantoes as gevolg gehad.

Onder die Bantoebevolking in die groot stede was daar ‘n toenemende neiging tot wetteloosheid en van tyd tot tyd moes die Polisie hardhandig ingryp. Politieke agitators was steeds doenig om vermeende griewe van die verstedelikte Bantoebevolking uit te buit. Daarby het blanke liberaliste te goeder trou die leer van ekonomiese en politieke rasse-integrasie verkondig en dit deur statistiese gegewens, wetenskaplike en quasi-wetenskaplike argumente gesteun.

Steun vir apartheid

As teenvoeter vir hierdie soort agitasie het invloedryke Afrikaanse geleerdes en leiers, met die steun van enkele vooraanstaande Engelssprekendes, in 1948 ‘n onafhanklike instituut in die lewe geroep om die rassevraagstuk wetenskaplik te bestudeer en die ideale van volslae “apartheid” te propageer. Dit was die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (S.A.B.R.A.) wat gedurende die daaropvolgende jare nuttige voorligtingswerk gedoen en selfs regeringsbeleid indirek in positiewer rigting gestimuleer het.

Die ideaal van totale apartheid het ook steun van die Afrikaanse kerke gekry. In Mei 1950 het die N.G. Kerk op ‘n kerklike konferensie in Bloemfontein hom sterk ten gunste daarvan uitgespreek, maar dr. Malan het tot teleurstelling van baie van sy volgelinge verklaar dat hoewel totale gebiedskeiding beskou moes word as ‘n “ideale” oplossing, dit vir die huidige prakties onuitvoerbaar was.

Die behoefte aan nie-blanke arbeid het trouens die min of meer permanente verblyf van ‘n groot Bantoebevolking tussen die blankes onvermydelik gemaak. Baie voorstanders van apartheid was nie bereid om die beginsel met al sy konsekwensies toe te pas nie. Die regering moes steeds realisties wees.

Die Tomlinson-kommissie

Intussen was dr. Malan wel bereid om die ekonomiese moontlikhede van die reservate te laat ondersoek. In November 1950 is ‘n kommissie onder voorsitterskap van prof. F.R. Tomlinson benoem om daardie taak te onderneem en ‘n omvattende plan vir die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die Bantoetuislande te ontwerp. Die erns van die toestand is eers besef toe die bevolkingsyfers van 1951 bekend gemaak is.

Volgens ‘n wetenskaplike berekening sou die totale bevolking van die Unie in die jaar 2000 meer as 26 miljoen wees. Daarvan sou meer as 16 miljoen of 62,4 persent Bantoes wees teenoor slegs iets meer as 6 miljoen of 23,5 persent blankes. Toegenemende integrasie van blank en nie-blank wat met die na-oorlogse nywerheidsontwikkeling gepaard gegaan het, moes noodwendig tot die onderploeging van die blankes lei. As die toestand voortduur, sou werklike apartheid nooit deurgevoer kon word nie.

Toenemende solidariteit van die Afrikanerdom

Terwyl rassespanning dwarsdeur die wêreld en ook in Suid-Afrika aan die oplaai was, en die teenstand in die binne- en buiteland teen die regering se apaartheidsbeleid steeds toegeneem het, was daar ook tekens van ‘n groeiende Afrikaner-solidariteit. Die diepte van die nasionale gevoel het weer eens geblyk met die feestelike inwyding van die Voortrekkermonument by Pretoria. Dit het op 16 Desember 1949 plaasgevind toe duisende mense uit alle dele van die land bygeengekom en hul innerlike eenheid met die nasionale verlede betuig het.

As sprekers het dr. Malan sowel as genl. Smuts en mnr. Havega en regter C. Newton Thompson namens Engelssprekende Suid-Afrika opgetree. Toe die deure van die magtige monument oopgesluit is, was daar na berekening bykans 200 000 mense op die terrein aanwesig. Nog nooit tevore het die Afrikaner hom so bewus van sy nasionale krag gevoel nie. Nie net sy toenemende algemene getalsoorwig het daarvan getuig nie, maar ook sy toenemende invloed in die stede waar die Engelsspekende element hoofsaaklik die toon aangegee het.

Ook in die sakewêreld het blykens gegewens wat op die tweede Ekonomiese Volkskongres in 1950 openbaar gemaak is, die Afrikaner se deelname grootliks uitgebrei. Sedert 1939 het die getal Afrikaanse ondernemings van 3 700 tot 13 000 toegeneem en in 1948-49 was hul omset reeds R645 miljoen.

Wel was daar nog ‘n groot agterstand vergeleke by ander blanke bevolkingsgroepe, maar daar was alle tekens dat die Afrikaner hom meer en meer laat geld het op ander gebiede as net die landbou. Daar was min twyfel dat die Afrikanerdom nie in die eerste plek meer ‘n volk van boere was nie.

Die dood van genl. Smuts

Die tweede helft van die 20ste eeu is op dramatiese wyse aangekondig deur die dood van genl. Smuts in September 1950 ná ‘n lang siekbed. Vir sy party en sy land was dit ‘n gevoelige verlies, hoewel hy reeds hoog bejaard was. Met hom het ‘n merkwaardige persoon van die toneel verdwyn.

Oorspronklik ‘n konserwatiewe Afrikaner, een van Paul Kruger se vertrouelinge, en ‘n leier van die Transvaalse Afrikaners ná die Vryheidsoorlog saam met Botha e.a. oorlogshelde, het Genl. Smuts die grootste aandeel in die totstandkoming van die Unie gehad. As regterhand van Botha het hy van die begin af ‘n belangrike rol in die politiek van die Unie gespeel, maar hom geleidelik begin blind staar op die voortreflikheid van die Britse Ryk, op Britse politieke denkbeelde en op die ideaal van ‘n verenigde blanke volk.

Op die kulturele ontwikkeling en die nasionale aspirasies van die afrikaanse volk het hy weinig ag geslaan. Sy val was sy eie onvermoë om rekening te hou met die verborge kragte in die boesem van die Afrikaanse volk en ‘n te groot gereedheid om die verlede te vergeet. Sy hand was nieteenstaande verbygaande politieke suksesse nooit werklik op die pols van sy volk nie. Aan homself het hy dit te danke gehad dat hy van sy volk vervreem is. Sy ideale was nie dié van die groot meerderheid van die Afrikanerdom nie.

As ‘n teleurgestelde en ontnugterde man moes hy in 1948 die teuels van bewind aan sy politieke teenstanders oorhandig. Sy leierskap van die Verenigde Party het daarna weifelend en onseker geword en hy het nooit van die skok van sy nedeerlaag herstel nie. Hy is opgevolg deur adv. J.G.N. Strauss van wie dit bekend was dat hy by verre nie beskik het oor sy voorgangers se intellektuele vermoëns, sterk persoonlikheid en leiersgawes nie.

Dit sou dan ook spoedig blyk dat hy anders as Smuts nie in staat was om die konserwatiewe en liberale elemente van sy party byeen te hou nie. Daarna was die Verenigde Party nog mindr as tevore in staat om as ‘n doeltreffende Opposisie op te tree, hoewel dit ‘n baie groot deel van die blanke kiesers verteenwoordig het. Ook die dood van die briljante liberaalgesinde Jan Hofmeyr kort ná die verkiesing van 1948 het nie die eenheid van die Verenigde Party versterk nie.

In sy plek het ander, meer aggressiewe liberale elemente op die voorgrond getree en hulle ná Smuts se dood steeds meer die toon in die Partykoukus aangegee. Op die Afrikaanse platteland het die party dit steeds moeiliker gevind om hom as ‘n konserwatiewe beweging te laat geld en ook steeds moeiliker om ‘n positiewe kleurbeleid te formuleer.

Eenwording van die Nasionale en Afrikaner Partye

Teenoor die toenemende innerlike spanninge in die geledere van die politieke opposisie, het die regering in krag toegeneem. Namate die regering heftiger teenkanting teen sy beleid ervaar het, het die neiging van nasionaalgesinde Afrikaners om hul geledere saam te sluit, toegeneem. Die eertydse verskille tussen die Nasionale en Afrikanerpartye het meer en meer op die agtergrond geraak.

Aanvanklik het die twee partye nie in alles saamgestem wat betref die beleid insake die Kleurling-verteenwoordiging nie. Mnr. Havenga het eers vasgehou aan die ou Hertzog-tradisie van politieke inskakeling van die Kleurlinge by die blankes, en dr. Malan was aan die begin so afhanklik van die steun van die Afrikanerparty, dat hy voorlopig die Kleurling-verteenwoording nie kon aanraak nie. Ná die versterking van sy geledere deur die verteenwoordigers van Suidwes, was hy vryer om te handel.

Onder druk van Havenga het hy die Bantoe-verteenwoordiging in die Vollksraad nie gewysig nie en in ruil daarvoor het Havenga sy teenstand teen die beleid om die Kleurlinge op ‘n afsonderlike lys te plaas, laat vaar. Daar was nou niks meer in die weg van die twee verbonde partye om te herenig nie.

Nadat die respektiewe partykongresse ‘n besluit t.g.v. eenwording geneem het, het hulle in September 1951 saamgesmelt onder die ou naam “Nasionale Party”. Daarmee is die toestand soos dit voor 1934 was, herstel. Dit was ‘n belangrike mylpaal. Afrikanereenheid is in ‘n groot mate herstel, maar Hertzog se groter ideaal van 1912 insake Suid-Afrikaanse nasieskap het nog nie in vervulling gegaan nie.

Die Kaapse Kleurling-verteenwoordiging

Die eenwording van die twee k oalisiepartye het eindelik die weg gebaan vir die regering om sy aandag aan die vraagstuk van die Kleurling-verteenwoordiging in die Parlement te wy. Voor 1934 het die twee groot politieke partye van die Unie nie van mekaar verskil wat betref die politieke regte van die Kaapse Kleurlinge nie. Sowel die Suid-Afrikaanse as die Nasionale Party was in hierdie opsig die erfgenaam van die ou Afrikaner Bond. Albei het die grondwetlike beskerming van die Kaapse kiesreg aanvaar en Hertzog het by herhaling namens die Nasionale Party verklaar dat die Kleurlinge in daardie provinsie op politieke gebied by die blankes ingeskakel moes bly.

Toe vrouestemreg in 1930 ingevoer is, het die Nasionale Party die Kleurlingvroue uitgesluit. Daarby was die party gekant teen die uitbreiding van die Kleurlingkiesreg na die ander provinsies. Ná die skeuring in die partygeledere in 1934 ingevoer is, het die toestand verander en toe die Bantoekiesers van Kaapland in 1936 op ‘n afsonderlike lys geplaas is, het dr. Malan, gesteun deur mnr. Strijdom van Transvaal, voorgestel dat ook die Kaapse Kleurlinge op ‘n afsonderlike kieserslys moes kom. In dr. Malan se verkiesingsmanifes van 1947 is die eis herhaal.

Daar is gevoel dat die Kleurlingkiesers ‘ n onbehoorllike faktor in die politieke stryd was. Hulle was dikwels die speelbal van die blanke partye, maklik vatbaar vir politieke beïnvloeding waarby hulle weinig baat gevind het. In ‘n aantal Kaapse kiesafdelings was hulle by verkiesings waar blanke kandidate teen mekaar gestaan het, dikwels ‘n deurslaggewende faktor. So kon hulle selfs ‘n rol speel in die landsbeleid waarvan meeste van hulle weinig begryp het. Hulle is tydens verkiesings soms as pionne deur blanke kandidate gebruik en hul deelname aan die politiek het hul belange as gemeenskap nooit gedien nie.

Hul vinnig toenemende getalle is deur baie blankes as ‘n bedreiging beskou, want in 1948 was daar reeds meer Kleurlingkinders as blanke kinders in Kaapland op skool (171 000 teenoor 161 000). Met die bewindsaanvaarding van dr. Malan in Mei 1948 was daar bykans 50 000 Kleurlingkiesers op die gemeenskaplike rol. Omdat hulle geweet het wat om van die Nasionale regering te verwag, het hulle byna deurgaans die kandidate van die Opposisie gesteun.

Dit het geblyk met die Kaapse Provinsiale verkiesing van 1949 toe in twee setels van die Nasionale Party die vorige jaar verower het, met behulp van Kleurlingkieserskandidate van die Verenigde Party gekies is. Die hoop om bykomende stels in die Boland te wen, het die Nasionale Party laat volhard in sy strewe om die Kleurling-politiek te segregeer.

Die tweederde-meerderheid

Soos gesien, het die Afrikaner Party aanvanklik gemeen dat dit onverstandig sou wees om die grondwetlike bepalings t.o.v. die Kleurling-verteenwoordiging met so ‘n klein meerderheid deur te voer. Die versterking van die regeringsmeerderheid in die Vollksraad a.g.v. die verkiesingsoorwinning in Suidwes, gesteun deur die mening van die regering se regsadviseurs dat die tweederde-meerderheid wat die Grondwet vereis het, nie langer van toepassing was nie, het die Afrikaner Party om sy volle steun aan dr. Malan toe te sê.

Die regsadviseurs het hul mening gebaseer op die feit dat die Statuut van Westminster van 1931 die laaste wetgewende beperkings op die soewereiniteit van die Parlement verwyder het en dus ook op die bevoegdheid om die Grondwet, ‘n Britse wet, na willekeur te wysig. In 1937, immers, het die Appèlhof n.a.v. die Bantoe-verteenwoordiging en kiesreg beslis dat ‘n gewone meerderheid voldoende was om selfs ook die verskanste artikels van die Grondwet te wysig.

Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers

Gedurende die Parlementsitting van 1951 het die Parlement volgens die gewone prosedure ‘ n Wet op die Afonsderlike Verteenwoordiging van Kiesers aangeneem. Voorsiening is gemaak dat die Kaapse Kleurlingkiesers op ‘n aparte kieserslys geplaas word met die reg om vier blanke lede in die Volksraad te kies, sowel twere lede van die Kaapse Provinsiale Raad wat Kleurlinge kon wees. Daarbenewens is ook voorsiening gemaak vir ‘n nuwe verkose Kleurlingraad.

Die voorgestelde wetsontwerp is van die begin af heftig deur die Verenigde Party- en Arbeider-opposisie bestry. Hul vernaamste argument was dat sodanige wetgewing slegs aangeneem kon word nadat artikel 35 van die Grondwet wat die Kleurlingkiesreg beskerm het, behoorlik volgens die bepalings van artikel 152 van die Grondwet gewysig is. Daardie artikel het voorsiening gemaak vir ‘n gesamentlike sitting van die twee Huise van die Parlement en ‘n tweederde-meerderheid by die derde lesing van sodanige wetsontwerpe.

Die regering het hierdie standpunt betwis en die Speaker van die Volksraad is om ‘n beslissing gevra. In ‘n oorwoë uitspraak het hy later die regering gelyk gegee en die maatreël is langs die gewone prosedure op die wetboek geplaas. Die teenstanders sou egter nie so maklik tou opgooi nie.

Toestande buite die Parlement

Die Kleurlinge was vanselfsprekend nie geneë om ‘n politieke reg wat hulle ‘n honderd jaar lank geniet het, sonder meer te verloor nie. Hulle het openbare protesbyeenkomste en betogings gehou. Ook die Verenigde Party en sy pers het volhard met hul besware. Een argument wat gebruik is, was dat indien die Kleurlingregte nie langer verskans is nie, die gelyke taalregte wat in artikel 137 bepaal is, volgens die selfde beginsel ook nie meer veilig sou wees nie.

Die gevoelens van Engelssprekendes is gaande gemaak dat die Engelse taal in gevaar sou verkeer. Nuwe organisasies het tot stand gekom om te help in die stryd teen die regering. Die belangrikste was die “Torch Commando” van oudgediendes van die Tweede Wêreldoorlog, aangevoer deur groepkaptein A.G. (“Sailor”) Malan.

Ook die Springboklegioen, wat oudsoldate verteenwoordig het, maar onder kommunistiese leiding gestaan het, het sy gewig in die skaal gegooi. Protesbyeenkomste en betogings was aan die orde van die dag en die Engelstalige pers het alles in sy vermoë gedoen om die teenstand aan te wakker.

Die Toetssaak

Die amptelike Opposisie was nie van plan om dit bny betogings, proteste en prpaganda te laat bly nie en het besluit om die geldigheid van die Kleurling-wetgewing by wyse van ‘n toetssaak deur die hooggeregshof te laat beslis. ‘n Kleurlingkieser van Kaapland het die nodige aansoek in die hof gedoen.

Die Kaapse afdeling van die Hooggeregshof het die wet gehandhaaf maar in Maart 1952 het die appèlhof onder praesidium van  hoofregter A. Van de Sandt Centlivres die applikant eenparig gelyk gegee. Die hof het die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers ongeldig verklaar op grond daarvan dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie en dus die vorige hofbeslissing van 1937 omvergewerp.

Die beslissing was ‘n ernstige terugslag vir die regering. Dr. Malan het verklaar dat hy nie daarin sou berus nie omdat die soewereiniteit van die Parlement daardeur aangetas en die volkswil gedwarsboom is. Hy het onderneem om die konstitusionele posisie so gou as moontlik op te klaar en die hof die toetsingsreg te ontneem. Maar daardeur het hy hom blootgestel aan ‘n beskuldiging dat hy van plan was om onkonstitusioneel op te tree.

Suid-Afrika ná 300 jaar

In April 1952 het Suid-Afrika te midde van ernstige politieke stryd en toenemende spanning sy derde eeufees luisterryk gevier. Volgens die volkstelling van die vorige jaar het die totale bevolking op byna 12-1/2 miljoen gestaan. Daarvan was die Bantoes bykans 8-1/2 miljoen, die Blankes meer as 2-1/2 miljoen, die Kleurlinge iets meer as 1 miljoen en Asiate sowat 350 000.

Die landsekonomie was kerngesond en ‘n opvallende teken was die ontsaglike vooruitgang op die nywerheidsgebied sedert die oorlog. Gedeurende die kwarteeu wat verby was, het die opbrengs van die sekondêre nywerhheid vertiendubbel en het dit gelyk gestaan aan die totale produksie van die goudmyne en die landbou saam.

Sedert die Vrystaatse goudmyne in 1951 begin produseer het, het die goudopbrengs ook grootliks vermeerder. Ook is die grondslae gelê vir die produksie van olie uit laegraadse steenkool deur die oprigting van S.A.S.O.L., ‘n reusagtige nuwe onderneming naby Vereeniging. Die goudmyne het ‘n winsgewende nuwe verdienste gevind in die verkoop van uraanoksied uit afvalgruis.

Die algemene ekonomiese groei is ook weerspieël in die uitbreiding van die vervoerdienste en die steeds stygende staatsinkomste en –uitgawe.

Herroeping van die paswette

Onder die groot aantal wette m.b.t. die afsonderlike ontwikkeling van die verskillende rasse in die land, moet ook die herroeping van die paswette in 1952 vermeld word en die vervanging van passe deur ‘n bewysboekstelsel. Die verstedelikte Bantoegevolking was reeds lankal bitter ontevrede oor die verpligte dra van passe en heelwat ander dokumente insake identifikasie, herkoms, verblyf, indiensneming en belastingplig. Die paswette is as vernederend beskou,veral deur die meer ontwikkelde deel van die Bantoes.

Die bewysboek het instromingsbeheer en algemene kontrole vergemaklik en dit was ook vir die Bantoes self baie geriefliker. Verdere wetgewing om instromingsbeheer te verbeter, het in dieselfde jaar van krag geword. Die Bantoes was nie almal tevrede met die nuwe stelsel nie, want hulle het vrye toegang tot die stedelike arbeidsmark begeer.

Die draagkrag van die reservate was te klein om ‘n tuiste aan die meeste Bantoes te bied. Daarteenoor het die snel-ontwikkelende nywerheid as ‘n onweerstaanbare trekpleister gedien. Die toestrroming van Bantoes na blanke stedelike gebiede het wel effens verminder, maar dit is nie gestuit nie.

Die Hoë Hof van die Parlement

Die politieke wapenstilstand wat tydens die eeufees geheers het, was van korte duur en binne enkele weke is die stryd in alle erns hervat. Die aanleiding hierdie keer was ‘n regeringsaankondiging van nuwe wetgewing om die tussenkoms van die hooggeregshof uit te skakel.

Die stryd om die Kleurling-verteenwoordiging het ontwikkel tot ‘n konstitusionele krisis en daarmee ‘n nuwe fase binnegetree. Die parlementêre sitting van 1952 is oorheers deur een enkele stuk wetgewing waardeur die regering gemeen het om te verhinder dat sy planne om die Kleurlinge op ‘n aparte kieserslys te plaas, weer deur ‘n hofbeslissing gedwarsboom word.

‘n Wetsontwerp is ingedien om die Parlement vir ‘n bepaalde geleentheid om te skep in ‘n spesiale hof van appèl. Dit het bepaal dat enige wet van die Parlement, ongeag die prosedure wat gevolg is, en wat deur die appèlhof ongeldig verklaar is, hersien kon word deur ‘n Hoë Hof van die Parlement waarvan elke lid van die Volksraad en van die Senaat lid is. Die magte en funksies van hierdie Hof is van terugwerkende krag gemaak tot 11 Desember 1931 toe die Statuut van Westminster van krag geword het.

Die bekendmarking van die wetsontwerp het ‘n storm van protes ontketen. In die Parlement het die Verenigde Party, gesteun deur die Arbeiders, die voorstel in skerp taal veroordeel as immoreel en agterbaks en ‘n bedekte poging van ‘n regering wat die minderheid verteenwoordig, om die bepalings van die Grondwet te omself. Selfs ondersteuners van die regering het nie baie gelukkig gevoel oor die middel waarvan gebruik gemaak is nie. Die regeringskoerant, “Die Burger”, het reguit verklaar dat die Hoë Hof behoort te verdwyn sodra hy die taak waarvoor hy in die lewe geroep is, afgehandel het.

Ná ‘n stormagtige debat is die maatreël eindelik op die wetboek geplaas as Wet Nr. 35 van 1952. Die Hoë Hof is byeengeroep om in Augustus in Pretoria te vergader. Soos voorsien kon word, het die Hof waarin die regering die meerderheid gehad het en wat deur die Opposisie geboikot is, die beslissing van die appèlhof oor die Wetj op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers omvergewerp.;

Byna onmiddellik daarna het die Kaapse hooggeregshof die Wet op die Hoë Hof van die Parlement vanself ongeldig verklaar as strydig met die Grondwet. In November 1952 het die appèlhof die uitspraak gehandhaaf en dr. Malan het verklaar dat hoewel hy die beslissing aanvaar, hy hom by die eerskomende algemene verkiesing op die kiesers sou beroep.

Die lydelike versetbeweging

Gedurende die hitte van die konstitusionele stryd het die regering ook te kampe gehad met ‘n lydelike versetbeweging, hoofsaaklik onder die Bantoebevolking. Reeds in Desember 1951 het die “African National Congress” tot so ‘n veldtog besluit as ‘n poging om die regering van sy apartheidsbeleid te laat afsien.

‘n Ultimatum aan dr. Malan in Januarie 1952 is verwerp en dr. Malan het die leiers gewaarsku dat die owerheid geen minagting van die wette sou duld nie. ‘n Gesamentlike protes van die A.N.C. en die Suid-Afrikaanse Indiërkongres is gereël vir 6 April 1952, maar dit het tot geen afsienbare resultaat gelei nie. Die owerheid was waaksaam en die polisie het die toestand gedurig dopgehou.

Van Junie tot Oktober 1952 is nie minder nie as 6 000 Bantoes skuldig bevind aan oortredings van die apartheidswette en regulasies wat daaruit voortgevloei het. Die meeste het tronkstraf bo boeters verkies as deel van die veldtog teen die owerheidsbeleid. Die beweging is georganiseer deur die A.N.C., onder voorsitterskap van dr. J.S. Moroka, ‘n Bantoemedikus. Die Kleurlingbevolking het in die algemeen nie deelgeneem nie.

Die verset het die vorm aangeneem van georganiseerde groepe Bantoes om gesamentlik te probeer gebruik maak van geriewe by openbare plekke soos spoorwegstasies en poskantore wat vir blankes voorbehou is, of om die paswette te verontagsaam. Die opset was om gedurende die proses in hegtenis geneem te word en tronkstraf te verduur.

Die A.N.C. was daarop uit om die herroeping van alle diskriminerende wetgewing te verkry. Terwyl die beweging baie opspraak verwek het, wat ook die bedoeling van die organiseerders was, was dit duidelik dat die A.N.C. nie die massa van die Bantoebevolking verteenwoordig het nie, maar slegs die politiek-bewuste klein minderheid wat uitbreiding van die kiesreg, meerdere verteenwoordiging en afskaffing van apartheid beoog het. Die oorgrote meerderheid Bantoes, veral dié in die reservate, was of onkundig, of onverskillig. Sommige was selfs gekant teen die beweging.

Van blanke kant het die beweging weinig steun gekry. Liberale leiers het daarvoor gepleit dat die Bantoes geraadpleeg moes word en ook die Verenigde Party was van mening dat iets daardeur bereik kon word. Maar die regering was vasberade om nie kop te gee nie en het gedreig met ‘n verskerping van die wette om die orde te handhaaf.

Duie V.V.O. en apartheid

Waar die Verenigde Volke-organisasie aanvanklik hoofsaaklik oor Suidwes-Afrika en die behandeling van die Indërs in Suid-Afrika begaan was, het die hele kleurvraagstuk en die apartheidsbeleid van 1952 af ook onder skoot gekom. Op aandrang van ‘n groep Afro-Asiatiese lande is die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk in al sy aspekte in Desember van daardie jaar op die agenda van die Algemene Vergadering geplaas.

Die ernstige protes van die Unie se verteenwoordiger dat dit ‘n ongrondwetlike inmenging in die huishoudelike sake van die Unie beteken, het niks gebaat nie. ‘n Spesiale kommissie is benoem om in die lig van die V.V.O. se besluite insake rassediskriminasie ‘n ondersoek ter plaatse van die Unie se rassepolitiek te doen. Toe die regering daarna gweweier het om die lede van die kommissie in die land toe te laat, het dit op grond van skriftelike en mondelinge getuienis, o.a. van persone wat die regering vyandig gesind was, ‘n verslag uitgebring wat die apartheidsbeleid skerp veroordeel het.

Sedert daardie tyd was die saak gedurig op die agenda en die Afro-Asiatiese lande, gesteun deur die kommunistiese blok, het op alle moontlike maniere druk uitgeoefen om Suid-Afrika van sy beleid te laat afsien. Selfs die Westerse viende van die Unie in die V.V.O. was genoodsaak om deel te neem of om buite stemming te bly. So is die Unie geleidelik diplomatiek gedeeltelik geïsoleer.

Tydens die byeenkoms van 1955 in New York het die saak teen Suid-Afrika ‘n nuwe hoogtepunt bereik toe die Afro-Asiatiese blok ‘ n nuwe memorandum ingedien het waarin verklaar is dat die wêreldvrede en die Afrika-state deur die Suid-Afikaanse beleid geraak word. Die nuwe inmengingspoging het daartoe gelei dat Suid-Afrika sy afvaardiging vir die duur van die sitting herroep het.

Toe Indië die jaar daarop sy klag teen die Unie herhaal het, is die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die V.V.O. tydelik heeltemal onttrek en in 1957 is die Unie glad nie verteenwoordig nie. Die Eerste Minister het verklaar dat dubbele standaarde toegepas word, want tewyl die moondhede enige inmenging in hul eie huishoudelike sake ten sterkste afkeur, hulle t.o.v. Suid-Afrika daaraan deelneem.

In daardie stadium het enkele Westerse lande ‘n meer begrypende houding begin openbaar en dfie regering het sy bereidheid te kenne gegee om die sending van ‘n welwillendheidskomitee toe te laat, maar die meerderheid van die V.V.O. was nie bereid om die aanbod te aanvaar nie. Dit het byna geskyn of hulle die saak doelbewus nie wou help oplos nie.

Die rassevraagstuk en die binnelandse politieke verhoudinge het die algemene verkiesing van 1953 oorheers. Vir die Nasionale Party was dit van die allergootste belang om sy verteenwoordiging op te stoot tot die vereiste meerderheid om op grondwetlike manier af te handel met die Kleurlingvraagstuk. Die Verenigde Party het daarteenoor by monde van adv. Strauss verklkaar dat hy die ou Hertzog-beleid handhaaf wat betref die Bantoebeleid en dat hy ten gunste is van bewaring van die eie indentiteit van die Kleurlingbevolking, hoewel as ‘n aanhangsel van die blanke gemeenskap.

Dit was sy voorneme om die Indiër-vraagstuk te probeer oplos deur onderhandeling met die regering van Indië. Die kommunisme sou hy beveg deur die oorsake daarvan te verwyder. Dit sou origens die blanke bevolking versterk deur ‘ n vergrote en georganiseerde immigrasie uit Europa. Gesteun deur die “Torch Commando”, die Springboklegioen en die Arbeidersparty as ‘n Verenigde Demokratiese Front en met ruim geldelike steun van die Ooppenheimer-Trust, het die verenigde Party al sy kragte in die stryd gewerp.

In die histeriese verkiesingstyd het die regering se teenstanders selfs die slagkreet aangehef: “Stem vir die reg om wweer te stem”, maar dit het nie gebaat nie en die resultaat was ‘n aansienlike oorwinning vr dr. Malan en sy Party. In die nuwe volksraad het die regering 94 volgelinge gehad teenoor 57 van die Verenigde Party en 5 Arbeiders. Hoewel hy nog steeds nie die meerderheid van die kiesers agter hom gehad het nie, was sy oorwig  in die Parlement heelwat groter as in 1948, ‘n duidelike teken dat die apartheidsveldtog gevorder het. Tog het  hy nog nie oor ‘n tweederde-meerderheid van die twee Huise van die Parlement beskik nie.

Die regering het die oorwinning vertolk as ‘n mandaat om voort te gaan met die uitvoering van sy wil. Hy het dit ook vertolk as die wil van die volk om die gesag van die Parlement en die volksoewereiniteit in die grondwetvraagstuk bo alle twyfel te stel. Vir die regering was daar geen middeweg tussen apartheid en gelykstelling nie.

Nuwe politieke oriëntering

Enkele dae ná die verkiesing het dr. Malan die Opposisie met uitsluiting van liberale en linkse elemente, uitgenooi om die Kleurling-vraagstuk met hom te bespreek en ‘n beroep op systeun gedoen ten einde die voorgestelde wysiging van die Grondwet op ‘n konstitusionele manier deur te voer. Strauss het nie sy weg daartoe oopgesien nie, want hy het besef dat dit tot ‘n skeuring tussen die konserwatiewe en liberale elemente in sy Party sou lei. Sy weiering om saam te werk, het egter daardie skeuring nie kon verhinder nie. Die Verenigde Front het onmiddellik ná die verkiesing opgebreek en elkeen van sy bestanddele het op sy beurt verbrokkel en verswak.

Reeds voor die verkiesing het die Verenigde Party in die algemeen ‘n regse neiging in die politiek getoon omdat dit besef het dat hy anders geen  hoop gehad het om die vlottende Afrikanerstem te wen nie. Sy verkiesingstaktiek was daarom ook deur ‘n opportunisme gekenmerk wat sy beginselvaste liberale lede teen die bors gestuit het. Aan die ander kant het hy nie ver genoeg regs beweeg om sy meer konserwatiewe lede te bevredig nie. Sy middewegbeleid swas tot mislukking gedoem.

Daarby was baie van sy Engelssprekende lede, veral in Natal, bitter ontevrede omdat hy die republikeinsgesinde Nasionale Party nie sterker van ‘n antword bedien het oor sy standpunt insake die Gemenebes nie. Die ou sesessie-vraagstuk het weer sy kop uitgesteek in Natal waar die Unie federale Party in Mei 1953 o.l.v. senator Heaton Nicholls in die lewe geroep is. In die politiek het dit nie veel bedui nie.

Van groter btekenis was die stigting van die Liberale Party op dieselfde datum. In ‘n sekere sin het die Party die ou Kaapse liberale rigting van gelyke regte vir alle burgers in ‘n politiek-geïntegreerde samelewing beliggaam amet die verdere oogmerk om die nie-blankes die Westerse beskawing deelagtig te maak. Vir die eerste keer in die geskiedenis het daardie ideaal aldus gestalte gevind in ‘n aparte politieke organisasie. In daardie sin was die Liberale Party nog tradisioneel Suid-Afrikaans, maar origens het dit ook ‘n tuiste gebied aan ‘n neo-liberale element wat bereid was om veel verder te gaan.

In die geheel het die party lynreg die teenoorgestelde beginsels verkondig as die Nasionale Party terwyl dit terselfdertyd baie van die Verenigde Party verskil het. Vir die onmiddellike toekoms het dit geen praktiese resultate verwag nie, maar sy hoop op die toekoms gevestig. Sy hoofdoel was om die blanke kiesers op te voed en ‘n brug te bou om die kloof tussen die rasse te oorspan.

Die party se probleem was nie slegs om noemenswaardige steun onder die oorwegend konserwatiewe blanke kiesers te kry nie, maar ook om met sy gematigde “demokratiese” en “konstitusionele” metodes indruk te maak op die massa van die nie-blankes onder wie militante Marxistiese elemente dikwels die toon aangegee het. Die Liberale Party het wel links van die middeweg van die Verenigde Party beweeg, maar teenoor sy radikalistiese potensiële ondersteuners onder die nie-blankes meer regs geloop.

Vir sowel die regering as die Verenigde Party was die Liberale Party te liberaal, vir die uiterste linkse opposisie, veral in nie-blanke kringe, nie liberaal genoeg nie. Kon dit in daardie omstandighede hoop om enige indruk te maak?

Intussen het dit slegs in enkele stedelike kiesafdelings noemenswaardige steun geniet, maar selfs daar was dit aanvanklik te swak om die Verenigde Party te benadeel. Dit het slegs twee verteenwoordigers in die Volksraad gehad.

Ernstiger was die afvalligheid van die regte konserwatiewe vleuel van die amptelike Opposisie. Nog voor die einde van die parlementsitting van 1953 het vyf konserwatiewe lede van die Verenigde Party in opstand teen die Party se beleid en taktiek gekom en openlik hul meegevoel met die regering betuig. Gedurende die reses is hulle uit die Party geskop enmet die sitting van 1954 is hul geledere versterk deur twee ander afvalliges.

Hulle was nie alleen gekant teen Strauss se leierskap nie, maar ook teen die liberale neiging in die Verenigde Party wat ná die verkiesing sterker op die voorgrond getree het. Die rebelle het hulleself gekonstitueer as die Onafhanklike Verenigde Party en sy steun aan die regering se Kleurling-wetgewing toegesê. Hul leier was mnr. Bailey Bekker.

Voor die einde van die sitting van 1954 het hulle ‘ n nuwe politieke organisasie, die Konserwatiewe Party, in die lewe geroep. In die geheel is die Verenigde Party deur hierdie beweging verswak en dit het die regering meer stemme in die Volksraad besorg, maar nog was dit nie voldoende om hom die nodige meerderheid te gee om die Grondwet te wysig nie.

Nuwe pogings i.v.m. Kleurling-verteenwoordiging

Met die eerste byeenkoms van die nuwe Parlement in Julie 1953 het dr. Malan aangekondig dat wysiging van die Grondwet op ‘n gesamentlike sitting van albei Huise van die Parlement oorweeg sou word. Hy het blykbaar gehoop  op die steun van afvallige lede van die Opposisie om die nodige meerderheid te kry. Sy doel was nie net om die Kaapse Kleurlinge op ‘n aparte kieserslys te plaas nie, maar ook om die soewereiniteit van die Parlement bo alle twyfel te stel in die lig van die uitsprake van die appèlhof. Dr. Malan het daarby uitdruklik verklaar dat die verskansing van die gelykheid van die twee amptelike tale gehandhaaf sou word.

Dit was duidelik dat die regering nie sou berus by die hofuitspraak van 1952 nie. Die wetsontwerp wat by die gesamentlike sitting ingedien is, het artikel 45 van die Grondwet wat op die Kleurlingstemreg betrekking gehad het, herroep. Dit het daarby die wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers herbevestig en die toetsingsreg van die howe beperk tot artikels 137 en 152 van die Grondwet. In alle ander gevalle is die howe daardie toetsingsreg ontsê.

Die Opposisie het geweier om saam te werk en die wetsontwerp hand en tand beveg. Gedurende die sitting het enkele lede van die Verenigde Party egter toenadering tot die regering gesoek en dit het gelei tot onderhandelings tussen Malan en Strauss wat tot niks gelei het nie.  By die derde lesing kon die regering nie daarin slaag om ‘n voldoende meerderheid te kry nie – hy het 16 stemme kortgekom.

Dit het geskyn of ‘n dooie punt bereik is, maar die regering het nog ander wapens tot sy beskikking gehad. Die eerste was ‘n moontlike wysiging van die samestelling van die appèlhof ten einde ‘n herhaling van ‘n ongunstige beslissing te voorkom en ‘n wetsontwerp met daardie strekking is dan ook ingedien.

In daardie stadium het 4 konserwatiewe lede van die Verenigde Party ‘n beroep op dr. Malan gedoen om die wetsontwerp te laat vaar, die ou wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordging van Kiesers andermaal by ‘n gesamentlike sitting in te dien en dit dan na ‘n  Gekose Komitee van albei huise te verwys. Die voorstel is aanvaar en die wetsontwerp is na ‘n Gekose Komitee verwys.

Die komitee se verslag wat in 1954 ingedien is, het egter dieselfde verdeelde menings as tevore weerspieël en andermaal het die regering in ‘n gesamentlike sitting die nederlaag gely, nieteenstaande die steun wat hy van ‘n halfdosyn afvallige lede van die Verenigde Party ontvang het. Hy was net sover van die bereiking van sy doelwit as drie jaar tevore.

Nuwe Bantoe-wetgewing

Onderwyl die konstitusionele stryd voortgewoed het en die regering na ‘n nuwe metode gesoek het om die Klerurlinge op ‘n aparte kieserslys geplaas te kry, het die lydelike versetbeweging en die onrus onder die Bantoes nie afgeneem nie. Ook die kommuniste het meer bedrywig geword en onder die dekmantel van hulp aan die nie-blanke-versetbeweging, die toestand tot eie voordeel uitgebuit.

Bantoe-ontevredenheid is verder aangewakker deur buitelandse simpatie met hul verset, deur die amptelike beleid van rassegelykstelling van die V.V.O. en deur die wete dat hulle die steun van die swart state van Afrika wat een na die ander onafhankllik geword het van die Britse of Franse moederlande.

Met die oog op die toenemende onrus en rusverstoring het die Parlement in 1953 ‘n wet op Openbare Veiligheid op die wetboek geplaas wat in ‘n noodtoestand feitlik onbeperkte mag in die hande van die regering plaas om die versetbeweging te bekamp. Dit was nie sonder positiewe resultate nie en die regering kon voortgaan met ander aspekte van sy Bantoebeleid wat geleidelik positiewe vorm aangeneem het.

Bantoe-onderwys

‘n Uiters belangrike maatreël was die Bantoe-onderwyswet wat in 1954 aangeneem is. Die doel van die wetgewing was nie alleen om voorsiening vir ‘n gesentraliseerde en staatsbeheerde onderwys te maak nie, maar om spesifiek die opvoeding van die Bantoes in ooreenstemming met die tradisies en met die oog op diens aan die eie gemeenskap te laat plaasvind. Tot daardie tyd is Bantoe-onderwys in ‘n groot mate behartig deur kerke en sendinggenootskappe volgens Europese begrippe en sonder inagneming van etniese oorwegings en die behoeftes van die Bantoegemeenskap en tuisland.

Die onderwys is ook gestrem deur gebrek aan fondse en die afwesigheid van ‘n uniforme, verklaarde beleid. Dit was in verskeie opsigte agterlik en het al te dikwels as kweekskool vir ontevredenes en agitators gedien. In die hande van sommige opvoeders is die landsbeleid ondermyn,. Die nuwe wet het vir die eerste keer ‘n mate van seggenskap aan Bantoe-ouers gegee d.m.v. skoolrade en –komitees. Sterk klem is gelê op moedertaalonderrig.

Vanselfsprekend is die wetsontwerp bestry deur gevestigde belange sowel as liberale elemente wat in beginsel teen ‘n stelsel van afsonderlike onderwys op rassegrondslag gekant was. Pogings om die uitvoering van die wet te strem, het nie geslaag nie en geleidelik is dit in werking gestel. Dit was ‘n noodsaaklike maatreël wat daarby ook gelei het tot ‘n modernisering van Bantoe-onderwys.

‘n Belangrike maatreël van 1954 was die Nywerheidsversoeningswet om ekonomiese en nywerheidsapartheid te bevorder. Gemengde vakbonde is nie langer van staatsweë erken nie en Bantoe-arbeiders kon hul griewe en versoeke langs ander kanale onder die aandag bring. Daarvoor is ‘n reeks Bantoestreekkomitees benoem, gelei deur blanke skakelbeamptes.

Die swart kolle

Van groot betekenis was wetgewing in dieselfde jaar om die nodige masjinerie te skep om die swart kolle in sekere agterbuurtes van Johannesburg op te ruim. Weens die na-oorlogse nywerheidsontwikkeling het groot Bantoegemeenskappe hulle in die westelike voorstede van die Goudstad gevestig. Daar het skrikwekkende toestande ontwikkel. Behuising was onvoldoende, plakkerskampe het ontstaan en dikwels het blank en nie-blank deurmekaar gewoon. Dit was broeiplekke van misdaad en agitasie en daar was ‘n gevaar vir die aangrensende blanke woonbuurtes.

Die Johannesburgse munisipaliteit was, nieteenstaande sterk regeringsdruk, nie by magte nie of onwillig om self die toestand te beredder. Die wet het ondanks hewige teenkamping voorsiening gemaak vir ‘n hervestigingsraad om Bantoes te verskuif na ‘n nuwe woonbuurt, verder na die weste, en deur ‘n bufferstrook geskei van die blanke dele. Persoonlike eiendomsreg van Bantoes in blanke stedelike areas is terselfdetyd beëindig.

Die maatreël het die steun geniet van die Verenigde Partykoukus van die Johannesburgse stadsraad en dit het die Opposisie in die Parlement grootliks in die verleentheid gebring. Ná die suksesvolle verskuiwing van die Bantoebewoners van Sophiatown en Newclare gedurende die volgende paar jaar, is algemeen erken dat dit ‘n heilsame maatreël was. Dat die regering se Kleurlingbeleid nie veld verloor het nie, maar steeds groter steun van die kieserskorps ontvang het,  is bewys deur die uitslae van die Provinsiale verkiesing in Augustus 1954.

Uittrede van dr. Malan

‘n Gebeurtenis van besondere historiese belang was die bekendmaking op 10 Oktober 1954 van dr. Malan, wat reeds 80  jaar oud was, dat hy van voorneme was om uit die politiek te tree. Dit het plaasgevind in November toe mnr. J.G.Strijdom as partyleier en Eerste Minister in sy plek aangewys is.

Met die verdwyning van dr. Malan van die politieke toneel, het Suid-Afrika afskeid geneem van ‘n persoon wat hom grootliks verdienstelik gemaak het op kerklike, kulturele en politieke gebied. Dr. Malan was meer as ‘n politieke leier en medestryder van genl. Hertzog om die politieke en kulturele regte van sy volk. Hy was gedurende baie jare die besieling van die Afrikanerdom binne en buite Kaapland, die vaandeldraer van nasionalisme in die donker dae van 1934 en gedurende die wêreldoorlog.

Hy was bekend weens sy welsprekendheid en standvastigheid en hy het Suid-Afrika, ná die uittrede van Hertzog, ver gevoer op die pad na volkome vryheid. Sy opvolger se verkiesing bo Havenga wat deur Malan by die party aanbeveel is, was ‘n teken van die tyd. Die Afrikanerdom was nie meer tevrede met te veel matigheid in die politiek nie. Die keuse van Strijdom wat bekend was as voorvegter vir blanke heerskapy, was die antwoord van die Nasionale Party aan die toenemende teenstand in die binneland en die buiteland teen die beleid van apertheid.

Dit het ook beteken dat dr. Verwoerd die minister van Bantoesake, wat baie nou aan Strijdom verbonde was, nou meer prominent op die voorgrond getree het. Ten slotte was Strijdom se benoeming ook ‘n teken van ‘n verskerping van die republikeinse beweging. Havenga het hom teruggetrek en die politiek vaarwel gesê.

Die Senaatwet

Dat die nuwe kabinet onder Strijdom nie van plan was om langer in die bestaande toestand m.b.t. die Kleurlingverteenwoordiging en stemreg te berus nie, het in 1955 geblyk toe die regering wetgewing deur die Parlement geloods het om dieSenaat se ledetal uit te brei sodat die wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers langs konstitusionele weg aangeneem kon word. Die regering het aangekondig dat die bestaande Senaat aan die einde van die jaar ontbind sou word.

In die nuwe Senaat sou die provinsies nie meer gelykop verteenwoordig word nie en die partye ook nie proporsioneel nie. Prakties het dit meegebring dat die Senaat wat vroeg in 1956 tot stand gekom het uit 89 lede sou bestaan afgesien van die 4 Bantoe-verteenwoordigers. Van daardie getal sou die regering die steun hê van 77 teenoor ‘n opposisie van slegs 12. Duit was voldoende om hom die oorhand in ‘n gesamentlike sitting van die Parlement te gee.

Die appèlhof

In dieselfde sitting is die samestelling van die appèlhof ingrypend gewysig. Die ledetal van die hof is van 6 tot 11 vermeerder. Gewone siviele en kriminele sake sou deur ‘n kworum van vyf regters verhoor word terwyl ‘n volle regbank van 11 lede beslissing sou vel oor die regsgeldigheid van enige wet van die Parlement.

Die doel was duidelik om te voorkom dat die regering andermaal gekonfronteer word met ‘n ongunstige hofbeslissing waardeur, volgens die regering se standpunt, sowel die wil van die volk as die soewereiniteit van die Parlement aan bande gelê word. Die wetsontwerp is heftig bestry deur die Opposisie en sy pers, maar dit is met groot meerderheid goedgekeur en daardeur is verseker dat die geldigheid van ‘n nuwe poging om die Kleurlinge op ‘n aparte kieserslys te plaas, nie weer in twyfel getrek sou word nie.

Kleurlinge eindellik apart

Met ‘n nuut saamgestelde appèlhof en ‘ n vergrote Senaat kon dieregering in 1956 eindelik daartoe oorgaan om die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers finaal in te dien, hierdie keer streng soos deur die Grondwet vereis. In ‘n kort maatreël is die ou wet van 1951 geldig verklaar en daarby is artikel 35 van die Grondwet wat die Kaapse nie-blanke kiesreg verskans, herroep.

Hierdie keer het die regering vooraf seker gemaak van die nodige tweederde-meerderheid in ‘n gesamentlike sitting. Die wetsontwerp is met 174 stemme teen 68 aanvaar. Onmiddellik daarna is deur ‘n verdere wet die samestelling van die Kleurling Verteenwoordigende Raad gewysig en die Kleurlinge nie langer toegelaat om deur hul eie mense in die Kaapse Provinsiale Raad verteenwoordig te word nie.

Nog was die Opposisie nie bereid om die stryd gewonne te gee nie en namens twee Kleurlingkiesers is die regsgeldigheid van sowel die Senaatswet as die gewysigde Gondwet betwis. In Mei 1956 het die Kaapse afdeling van die hooggeregshof die aansoek eenparig van die hand gewys en die beslissing is later deur die nuwe, vergrote appèlhof bekragtig.

Dit was die einde van die lang stryd om die Kleurlinge se politieke regte en ook dié tussen die wetgewende en regterlike gesag. Dit was ‘n volslae oorwinning vir die Nasionale Party en die apartheidsbeleid, hoewel die middele wat aangewend is om die gewenste resultaat te bereik, nie die algehele goedkeuring van regeringsondersteuners weggedra het nie.

Die Tomlinson-verslag

Die Tomlinson-kommissie wat in 1950 benoem is om ondersoek te doen na die sosio-ekonomiese ontwikkelingsmoontlikhede van die Bantoegebiede, het sy verslag in Oktober 1954 afgehandel. In Maart 1956 is ‘n opsomming van die baie lywige verslag openbaar gemaak en dit is ‘n maand later gevolg deur ‘n regeringswitpapaier met kommentaar.

Die kommissie het die ontwikkeling van ‘n sewetal Bantoetuislande aanbeveel. Die kern daarvan sou die bestaande reservate wees wat afgerond moes word deur wit kolle uit te skakel. Vir die ontwikkeling en afronding van die tuislande sou ‘n bedrag van R110 miljoen binne die eerste 10 jaar nodig wees, ‘n aansienlike offer van die kant van die blanke belastingbetalers.

Selfs al sou die reservate landboukundig en industrieel tot die maksimumkiapasiteit ontwikkel word, sou hulle nie ‘n tuiste kon bied aan die totale Bantoebevolking nie en sou daar teen die einde van die eeu nog net soveel Bantoes as blankes buite die reservate wees. Die modernisering van die tradisionele Bantoegrondbesitstelsel wat die kommissie aanbeveel het, is deur die regering in sy witpapier nie aanvaar nie. Die regering was ook nie gewillig om blanke entrepreneurs toe te laat om nywerhede binne die Bantoetuislande te stig nie. Daarbenewens was die regering ook nie gewillig om soveel kapitaal beskikbaar te stel vir die nywerheidsontwikkeling van die reservate nie.

Alles in ag geneem was Strijdom slegs bereid om enkele onderdele van die verslag te aanvaar. Tot teleurstelling van sy meer idealistiese ondersteuners het hy totale apartheid as onprakties en onuitvoerbaar beskou. Strauss sou dus namens die Opposisie verklaar dat die apartheidsbeleid daarmee sy morele grondslag verloor het.

Dr.Verwoerd

Nog in die hitte van die stryd om die politieke regter van die Kleurlinge het dr. Verwoerd gedurende 1955 en 1956 laat blyk dat hy, afgesien van die oplossing van onmiddellike rasseprobleme, ook die oog te vestig het op die toekomstige ontwikkeling van Suid-Afrika op ‘n basis van die afsonderlike ontwikkeling van die rasse. Dit was ‘n positiewer benadering  as dié van sy voorgangers.

Hy het daarby in gedagte gehad die suiwering van die Boland van Bantoes waar hulle nie inheems was nie en die vestiging van grensnywerhede naby die reservate ten einde daardeur die instroming van Bantoes na die blanke gebiede langs ekonomiese weg te stuit asook die ontwikkeling van die tuislande te stimuleer.

‘n Ernstige leemte was die tekort aan voldoende opgeleide Bantoepersoneel om die ontwikkeling van hul eie etniese goepe te dien. Daarom is in 1956 deur wetgewing voorsiening gemaak vir die stigting van ‘n aantal universiteitskolleges vir nie-blankes.

Teen feitlik elke regeringsmaatreël het die parlementêre Opposisie, hoewel luidrugtig, ‘n innerlike verdeeldheid en ‘n swak leiding geopenbaar. So sterk was die openlike kritiek binne eie geledere teen Strauss se leierskap dat hy in 1956 bedank het. Hy is opgevolg deur sir De Villiers Graaff, ‘n jonger en aantrekliker leier van wie ‘n meer dinamiese leiding verwag is. Maar ook hy is deur omstandighede gedwing om ‘n middeweg te volg en daardeur die uiterste flanke wat in die Verenigde Party agtergebly het, te vervreem. Bo alles het hy geen sterk Afrikaanse pers tot sy beskikking gehad nie en die steun van sy Engelstalige pers het sy Party dikwels meer kwaad as goed gedoen.

Die verkiesing van 1958

Die regering het die verkiesing van April 1958 hoopvol tegemoetgesien en sy kanse is baie verbeter deur die verlaging van die ouderdomsvereiste vir die stemreg na 18 jaar. Dit was bekend dat die jonger geslag wat sterk republikeinsgesind was, in die algemeen geesdriftige steun aan die regering sou verleen. Hoewel Strijdom bly hamer het op die beginsel van “blanke baasskap” in teenstelling met Verwoerd se positiewer ideaal van rasseskeiding, was die uitslag van die verkiesing nooit twyfelaftig nie.

Die Nasionale Party is andermaal op die kussings geplaas, hierdie keer met ‘n totaal van 103 setels in die Volksraad teenoor die 53 van die Verenigde Party, terwyl die Arbeiders vir die eerste keer in die geskiedenis hoegenaamd geen verteenwoordiging in die Volksraad gehad het nie. Hierdie keer is baie meer stemme op regeringskandidate uitgebring en kon die Opposisie nie weer beweer dat die regering ‘n blanke minderheid verteenwoordig nie.

Die Arbeidersparty het prakties uit die politiek verdwyn en dit was ‘n aanduiding dat hy as sodanig geen taak meer gehad het nie. Gedurende die na-oorlogse jare het hy heeltemal van karakter verander. Oorspronklik in die lewe geroep om die belange van blanke arbeid te verteenwoordig, het hy later sterk liberale trekke begin vertoon en ‘n voorstander van rassegelykheid geword. Hy is by die stembus deur die blanke kiesers verwerp omdat hy sy bestaansreg verloor het. In Kaapland se vier Kleurlingsetels is kandidate verkies wat met die Verenigde Party gesimpatiseer het.

Dr. Verwoerd as ‘n nuwe Leier

Aan die einde van Augustus 1958 is Strijdom wat geruime tyd siek was, oorlede. Met hom het ‘n man van groot betekenis verdwyn. Hy was in 1934 die enigste Transvaalse Nasionale parlementslid wat geweier het om genl. Hertzog met die samesmelting van partye te volg. Dit was grootliks aan hom te danke dat die Nasionale Party in daardie provinsie weer opgebou kon word.

Ook was dit hy wat die vaandel van republikanisme omhoog gehou het toe die meeste nasionaliste die konstitusionele verhouding met die Britse Gemenebes wat deur die Statuswet van 1934 teweeggebring is, aanvaar het. Sy groot verdienste was dat hy die republikeinse ideaal lewendig gehou en aldus grootliks bygedra het tot die totstandkoming van die Republiek. Weens sy kort bewindstydperk was Strijdom nie in staat om op ander terreine veel positiewe werk te doen nie. Wat die rassepolitiek betref, was sy algemene benadering meer negatief met die beklemtoning van blanke baasskap.

Hy is opgevolg as leier van die Nasionale Party en as Eerste Minister in Selptember 1958 deur dr. H.F. Verwoerd. Hoewel hy meer doktrinê in sy beskouings was, het hy gou bewys dat hy ‘n werklike leier kon wees met die vermoë  om te oortuig en ‘n steeds groter blanke eenheid te skep.

Aanvanklik is hy veral deur die Engelssprekende deel van die volk as voormalige oorlogsteenstander met wantroue bejeën, maar geleidelik het hy selfs sy teenstanders deur sy poltieke eerlikheid en goeie trou beïndruk. Van besondere betekenis was die positiewe rigting wat die apartheidsbeleid voortaan ingeslaan het as ‘n beleid van die afsonderlike ontwikkeling van die rasse.

Outonomie vir die Transkei

Reeds in 1956 is kragtens die Wet op Bantoe-owerhede ‘n gebiedsowerheid in die Transkei in die lewe geroep om die ou Bunga te vervang. Die volgende jaar is dit aangevul deur ‘n Wet ter Bevordering van Bantoeselfbestuur wat voorsiening gemaak het vir die geleidelike ontwikkeling van selfregerende Bantoe nasionale eenhede. Die blankes sou geleidelik uit die administrasie van die Bantoetuislande onttrek word.

In 1959 het die Transkeise Gebiedsowerheid ‘n uitsluitlik Bantoebeheerde liggaam geword. Voorsiening is gemaak vir die benoeming van blanke kommissarisse-generaal as kanaal tussen Pretoria en die Bantoe-owerhede. Dit was belangrike stappe in die ontwikkeling van die outonomie van die Bantoetuislande.

Belangrike wetgewing wat ná hewige teenstand deur die Parlement aanvaar is, het aparte universiteite vir die verskillende etniese groepe onder die Bantoebevolking asook vir Kleurlinge en Indiërs in die lewe geroep en ‘n verbod geplaas, hoewel met uitsonderings, op die verdere studie van nie-blankes aan blanke universiteit.

Van besondere betekenis was verder ‘n wet om direkte Bantoe-verteenwoordiging in die Parlement te beëindig, asook ‘n maatreël waardeur die regering die mag gekry het om geskoolde werkkringe vir ‘n besondere bevolkingsgroep te reserveer. Die beginsel was nie nuut nie, maar die masjinerie is opgeknap met die oog op die wetlike beskerming van blanke werkers.

In dieselfde jaar is ná noukeurige ondersoek deur ‘n kommissie besluit dat in 1961 na ‘n desimale stelsel oorgegaan sal word. Dit was ‘n belangrike stap om die Unie in lyn te bring met die geldeenhede van die meeste Westerse lande.

Verdere skeuring in die V.P.

Kort ná afloop van die parlementsitting van 1959 moes die Verenigde Party ‘n verdere skeuring in sy geledere ondervind. Die oorgeblewe liberale elemente in die Party het weggebreek en ‘n Progressiewe Party gevorm. Hulle was veral ontevede oor die negatiewe beleid van die Party t.o.v. die vraagstuk van verdere grondtoekenning aan die Bantoe, d.w.s. die uitbreiding van die reservate, hoewel hulle die amptelike partystandpunt onderskryf het dat die regering se beleid t.o.v. die ontwikkeling van Bantoetuislande tot die politieke verbrokkeling van die Unie sou lei.

Die Progressiewe Party was t.g.v. ekonomiese integrasie van Bantoe en blank en van ‘n grootliks vermeerderde en direkte verteenwoordiging van Bantoes in die Parlement met ‘n gemeenskaplike kieserslys vir alle rasse. Kort gestel, die nuwe Party was veel meer liberaal as die Verenigde Party en nie minder nie as 12 lede van die Volksraad, gelei deur dr. Jan Steytler, het op die Bloemfonteinse kongres van die Party in Augustus 1959 van die Verenigde Party weggebreek.

Dr. Verwoerd en die Republiek

Kort ná die aanvang van die parlementsitting van 1960 het dr. Verwoerd ‘n dramatiese aankondiging gedoen dat daar ‘n volkstemming of referendum oor die beginsel van ‘n republiek sou plaasvind. Die kiesers sou gevra word om hulle oor die saak uit te spreek en ‘n blote meerderheid, selfs van een stem, sou voldoende wees. Slegs die stem van die blankes sou in ag geneem word en die regering sou later aankondig of die Republiek binne of buite die Statebond sou wees. Die nodige wetgewende voorsiening sou in die loop van die sitting gemaak word.

Dr. Verwoerd se aankondiging is deur die gesamentlike Opposisie bestry, maar geesdriftig verwelkom deur alle nasionaliste en baie ander Afrikaners. Die tyd was ryp, want baie mense het weens die aanhoudende kritiek vanuit Engeland oor die kleurbeleid van Suid-Afrika geleidelik alle simpatie met daardie land verloor.

‘n Gevoel het ontwikkel dat Suid-Afrika reeds grootliks geïsoleer was en dat hoe gouer hy op eie bene kon staan, hoe beter sou dit wees. Daarby was die Unie, danksy sy strategiese ligging en sy geweldie natuurlike hulopbronne, ook ekonomies byna geheel en al in staat om sy eie gang te gaan. ‘n Poging in verskillende Westerse lande en veral in Engeland om die regering d.m.v. ‘n ekonomiese boikot te dwing om van sy beleid af te sien, het die republikeinse gevoel in die land terselfdertyd grootliks versterk.

‘n Besoek van mnr. Harold Macmillan, die Britse premier, en sy opsienbare toespraak in die Unie-parlement dat die land rekening moes hou met die “winde van verandering” in Afrika, het nie daartoe bygedra om rus en kalmte te bevoder nie. Die blanke mening het eerder meer gekonsolideerd geraak om te volhard in die tradisionele beleid van rasseskeiding sowel as t..v. ‘n republikeinse regeringsvorm, desnoods buite die Statebond. Macmillan se indirekte poging om dit te beïnvloed, het misluk.

Reeds tevore, in 1957, het, op voorstel van mnr. A. Barlow, ‘n lid van die Verenigde Party, die Union Jack as een van die landsvlae verdwyn. Die Britse minderheid het dit tot verbasing van almal byna met gelatenheid aanvaar dat hierdie gjrootste simbool van die konneksie met die Statebond verdwyn.

Sharpeville

Te midde van toenemende spanning het daar in Maart 1960 ‘n opsienbare gebeurtenis in die Bantoedorp, Sharpeville, naby die nywerheidskompleks van Vereeniging en Vanderbijlpark plaasgevind. Dit was ’n botsing tussen Bantoebetogers en die  polisie wat ‘n bloedige nasleep gehad het.

Reeds in Januarie het gevoelens hoog geloop toe byna ‘n dosyn konstabels gruwelik vermoor is in Cato Manor, ‘n nie-blanke woonbuurt van Durban. Die polisie was vasberade om ‘n herhaling te voorkom en toe 20 000 Bantoebetogers in Maart 1960 by die polisiestasie in Sharpeville opdaag en ‘n dreigende houding aanneem, het die polisie van vuurwapens gebruik gemaak om die skare uiteen te dryf. Tagtig Bantoes is gedood en baie ander beseer. Die gebeurtenis het wêreldwye protes uitgelok en ‘n hewige binnelandse agitasie wat deur Engelse geestelikes aangevoer is.

Ook in Langa, ‘n Bantoewoonbuurt naby Kaapstad, het duisende Bantoes teen die dra van bewysboekies geagiteer. In ernstige onluste is ook daar verskeie Bantoes gedood. Dit was duidelik dat die stedelike Bantoebevolking nog steeds teen die apartheidsbeleid gekant was, hoeseer die Bantoetuislande ook daarby gebaat het. Die regering was verplig om ‘n noodtoestand af te kondig en regulasies uit te vaardig wat voorsiening gemaak het vir summiere arres en aanhouding sonder verhoor, sowel as die onderdrukking van ondermynende koerante.

‘n Deel van die weermag is gemobiliseer. Die orde is gehandhaaf en ook die amptelike Opposisie het sy steun daarin aan die regering toegesê. Gedurende die volgende paar maande is duisende nie-blankes aangehou en sowel die A.N.C. as die Pan African Congress (P.A.C.) is in die ban gedoen. ‘n Aantal ekstremiste het na die buiteland ontvlug.

Sluipmoord-aanslag op dr. Verwoerd

Te midde van die algemene beroering het ‘n sekere David Pratt in April 1960 in Johannesburg ‘n aanslag op die lewe van die Eerste Minister gedoen. Die aanslag het misluk, maar dr. Verwoerd is baie ernstig verwond. Suid-Afrika het eenparig die daad verafsku en sy mdeegevoel met die regeringshoof betuig. Die hele insident het sy posisie grootliks versterk. Die hof  het later bevind dat die misdadiger nie by sy volle sin was nie en hom in ‘n gestig geplaas.

Die referendum

Op 5 Oktober 1960 het die referendum plaasgevind en die uitslag was ‘n onomstootlike bewys dat die volk van Suid-Afrika ‘n republiek begeer het. Daar was 850 000 stemme t.g.v. die republiek en 775 000 daarteen, hoofsaaklik in Natal en die groter Engelstalige stede. ‘n Maand later is die konsepgrondwet gepubliseer.

Die ou konstitusie wat op Britse parlementêre model ingerig was, is in hoofsaak behou, maar daar is voorsiening gemaak vir ‘n Staatspresident wat vir ‘n termyn van sewe jaar deur die lede van die Parlement gekies word. Hy sou die plek inneem van die vors, soos verteenwoordig deur die goewerneur-generaal. Die groot vraag was nou slegs of Suid-Afrika ‘n republiek sou wees binne of buite die Statebond.

Dr. Verwoerd na Londen

Op 20 November 1960 het dr. Verwoerd verklaar dat hy voorkeur gee aan ‘n republiek binne die Statebond mits daar geen vernederende voorwaardes gestel word nie. Op advies van Macmillan het hy besluit om die saak aan die byeenkoms van Statebondspremiers voor te lê. Dit sou plaasvind in Maart 1961 in Londen.

Die vraag vir Suid-Afrika en die Statebond was nie bloot of die nuwe republiek ‘n plek binne die Statebond kon inneem nie, maar of daar plek was vir ‘n republiek wat op ‘n ideologie van skeiding tussen die rasse gebaseer was. Dit was des te dringender vanweë die skokkende gebeurtenisse in die Kongo waar met die beëindiging van die Belgiese bewind in Julie 1960 die blankes vermoor of uitgedryf is deur neger-ekstremiste. Baie van hulle het ‘n tuiste in Suid-Afrika gevind en die oortuiging nog verder ingeskerp dat hierdie land die laaste blanke en Westerse bolwerk op die Afrikaanse vasteland was.

Dr. Verwoerd was vasberade om in die lig van al die omstandighede eerder lidmaatskap van die Statebond prys te gee as ideale en beginsels waarsonder die handhawing van ‘n Westerse leefwyse en van die blanke bevolking nie gewaarborg sou wees nie.

S.A. uit die Statebond

Vanweë die houding van die statebondskonferensie waarop die nie-blanke lede in die meerderheid was, was dr. Verwoerd op 15 Maart 1961 verplig om S.A. se aansoek op verdere lidmaatskap terug te trek,. Suid-Afrika sou dus ‘n republiek word buite die Statebond. Dr. Verwoerd was egter wel versekerd van die voortudrende vriendskap van Groot-Brittanje.

‘n Maand later is die republikeinse grondwet deur die Parlement goedgekeur en op 10 Mei 1961 is mnr. C.R. Swart, die Goewerneur-generaal, met groot meerderheid van stemme as eerste President van die Republiek gekies. Op 31 Mei, presies 51 jaar ná die totstandkoming van die Unie, is die Republiek formeel geproklameer.

Dit was die einde van ‘ n tydperk en die bgin van ‘n nuwe.

— — — oOo — — —