GVSA Die totstandkoming van die Unie 1908-1910 

D.W. Kruger, M.A., D. Litt

As die verdwyning van die Boere-republieke ‘n onmisbare voorwaarde vir die staatkundige eenwording van Suid-Afrika was, het Milner nie daarin geslaag om dit te bewerkstellig nie. Sy beleid om die kroon-koloniestatus van Transvaal en die Oranjerivier-kolonie so lank moontlik te handhaaf en selfs na die Kaapkolonie uit te brei totdat die Britse bevolkingselement oor die hele land ‘n getalsoorwig het, het misluk, en die oorlog wat hy ontketen het, het ‘n erfenis van rassehaat en verbittering nagelaat wat vir die nouer aaneensluiting van die kolonies geensins bevorderlik was nie.

Imperiale faktor verdwyn in Suid-Afrika

Milner se verdwyning van die toneel aan die een sowel as die nederlaag van die Konserwatiewe Party in Brittanje aan die ander kant het ‘n vername hindernis op die pad na eenwording verwyder. Die nuwe Liberale regering in Brittanje het die moed gehad om die verantwoordelike bestuur wat in die vredesverdrag in die vooruitsig gestel is, aan die verowerde kolonies te skenk.

Daarmee is die Imperiale faktor wat in die  persoon van Milner so ‘n groot rol in die Suid-Afrikaanse politiek gespeel het, betreklik onskadelik gemaak, veral wat die vraagstuk van die nouer aaneensluiting betref. Nie langer die Britse hoë kommissaris nie, maar volksleiers soos Louis, Botha, Jan Smuts, pres. Steyn, genl. Hertzog, Jan Hofmeyr, F.S. Malan, John X. Merriman en J.H. de Villiers sou voortaan oor hierdie sake die woord voer. Die vraag was nie meer of die ryksregering die leiding sou neem nie, maar watter Suid-Afrikaanse kolonie dit sou doen.

Hindernisse op die pad

Daar was egter nog baie hindernisse op die pad. Daar was die “Engelse” Natal – Suid-Rhodesië het weens sy onmondige politieke status nouliks in aanmerking gekom – wat rede gehad het om te vrees dat hy weens sy kleinheid gevaar loop om sy engelse identiteit in die Groot Afrikaner-beheel te verloor. Partikularisme en plaaslike patriotisme, wat diep wortels geskiet het – nie alleen in Natal nie – het nog altyd in die weg van eenwording gestaan. Daarteen was die klein Tuin-kolonie met sy geweldige Asiate- en Bantoeprobleme en sy groot ekonomiese afhanklikheid van die Rand glad nie in staat om sy partikularisme en plaaslike patriotisme bo te laat dryf nie.

Die voor- en nadele van nadere aaneensluiting vir Natel het in sekere mate oolk vir die Oranjerivier-kolonie gegeld, behalwe dat die Oranje-Unie hom meer tuis gevoel het in die geselskap van Het Volk en die Suid-Afrikaanse Party as die Engelse Natal. Die twee klein kolonies kon wel op die aard en vorm van ‘n uiteindelike aaneensluiting invloed hê, maar as die “grotes” dit verlang het, kon hulle dit nie keer nie.

Dan was daar die hindernisse uit die historiese verlede met wrywing en botsings tussen bevolkingsgroepe. Die vraag was of die gewese republieke, met Vereeniging nog vars in die geheue, te vinde sou wees vir ‘n aansluiting by die vyande van gister; of die Boereleiers uit die noorde aan een tafel sou kan sit met die Fitzpatricks, die Farrarsen die Smartts; en of die Hollandse taal in ‘n nuwe bedeling veiliger sou wees as onder Milner. Het dr. Jameson dan nie kort tevore nog voorspel dat ‘n oorwinning van die Kaapse Afrikaners in die verkiesing van 1907 erg skadelik vir die federasie-bewering sou wees nie?

Daarteenoor was daar tekens wat gedui het op ‘n toenemende toenadering van die twee blanke volksgroepe. In die noorde het Botha met sy beleid van versoening en “vergewe en vergeet” baie van sy eie mense met hom gevoer en geleidelik die vertroue van die gematigde Britse element in Transvaal gewin, terwyl selfs ook Jameson in die suide minder “vote British” verkondig en die ontkieserde rebelle selfs gedurende sy bewind hul stermreg herwin het. Maar die belangebotsings tussen die kolonies het nog bestaan en is nie deur die veranderde politieke status van die verskillende gebiede uit die weg geruim nie. Inteendeel, daar was tekens dat dit erger sou word.

Spoorweg- en doeanewedywering

Die belangrikste oorsaak van wrywing en onenigheid was die verkeers- en doeanewedywering tussen die verskillende kolonies. Die verdwyning van die republieke en pres. Kruger het die besies oorsake van die mededinging tussen die verskillende gebiede nie verwyder nie. Reeds tydens die oorlog was Milner gedwing om feitlik die erfgenaam van pres. Kruger se beleid oor die spoorlyn na Delagoabaai te word.

Ten einde genoeg Bantoe-arbeiders vir die Randse myne te kry, was hy in 1901 verplig om met die Portugese owerheid van Mosambiek ‘n ooreenkoms aan te gaan. Deur hierdie sg. modus vivendi het hy in ruil vir Bantoe-arbeiders uit daardie gebied twee-derdes van die spoorverkeer van die kushawens na Johannesburg aann die Portugese toegesê. Die Kaapkolonie en die Natalse spoorweë sou die oorblywende derde deel kry.

Vir hulle was die toestand voortaan veel ongunstiger as in die tyd toe Paul Kruger in Transvaal die hef in hande gehad het. Met sy beheer oor die Central South African Railways en die sporweg na Delagoabaai het Transvaal oor ‘n belangrike troefkaart beskil. Dit, tesame met sy natuurlike bodemrykdomme, het hom ekonomies in ‘n baie sterk posisie teenoor die res van Brits-Suid-Afrika geplaas. Daarenteen was die twee kuskolonies nie slegs ekonomies in ‘n veel swakker posisie nie, maar albei se finansiële stabiliteit was ook afhanklik van spoorweg- en doeane-inkomste wat baie nadelig getref is deur die Transvaal-Portugese ooreenkoms.

Manipulering van die spoortariewe om ‘n groter persentasie van die verkeer na hul eie spoorlyn te lei, soos in die dae van die tariewe-oorlog in 1895, was nie langer moontlik nie. Intussen kon die Natalse en die Kaapse regering hulle nie blywend by so ‘n ongunstige toestand neerlê nie.

Die Tolooreenkoms van 1903

Dit was wel moontlik om ‘n ooreenkoms aan te gaan oor die vraagstuk van invoertariewe. ‘n Voorstel van Milner in dié verband is deur hulle verwelkom en die gevolg was ‘n algemene tolunie wat in Julie 1903 tot stand gekom het. Dit het al vier die kolonies sowel as Suid-Rhodesië en die drie Hoë Kommissie-gebiede, Swaziland, Basoetoland en Betsjoeanaland, ingesluit, d.w.s. die hele Brits-Suid-Afrika. Daardeur is doeanewedywering vyf j aar lank uitgesluit, want die ooreenkoms was vir dié tydperk van krag. Enige van die kontrakterende partye kon met ‘n jaar kennisgewing die verdrag opsê.

Dit was dus geen blywende oplossing vir die probleem nie en daarby was almal nog lank nie tevrede nie. Die Transvalers het gekla dat die tariewe die invoer van Natalse suiker en Kaapse drank begunstig tot hul nadeel en die regering het in die algemeen gevoel dat die gunstige teriewe wat aan die kuskolonies toegestaan is, sy eie produsente benadeel.

Ook die wrywing wat deur die spoorwegwedywering veroorsaak is, het voortgeduur. Die suidelike kolonies het alles in hul vermoë gedoen om elke ton goedere oor hul eie spoorlyne vervoer te kry, want elkeen se staatskas sou onmiddellik daarby baat. Hul belange was lynreg in stryd met mekaar en met Transvaal, wat die hef in hande gehad het. Aan die begin van 1908 het die Transvaalse regering, gedagtig aan sy eie onaantasbare posisie, dit selfs oorweeg om die doeane-ooreenkoms van 1903 te beëindig.

Die botsende belange het op ‘n doeane-konferensie in Maart 1906 in Pietermaritzburg aan die lig gekom en hoewel die moeilikhede i.v.m. die invoertariewe tydelik te bowe gekom is, het die Transvaalse regering die ander kolonies in kennis gestel dat hy hom van 30 Junie 1908 aan die tolunie gaan onttrek. Van verskeie kante is aangedring op ‘n nuwe konferensie, maar lord Selborne, Milner se opvolger, het gemeen dat die probleem slegs op ‘n breër basis opgelos kon word. Vérsiende persone het ‘n volkome ekonomiese en staatkundige vereniging van die verskilende kolonies as die enigste blywende oplossing beskou.

Bewegomg t.g.v. nouer eenwording

In die Kaapkolonie het ‘n spontane beweging t.g.v. eenwording van die kolonies ontstaan. F.S.Malan, redakteur van Ons Land en leier in die kringe van die Afrikanerbond, het in ‘n reeks artikels in sy koerant onder die opskrif “’n Verenigde Suid-Afrika” die nouer aaneensluiting van Suid-Afrika bepleit. Daarmee het die vraagstuk in die middel van die openbare belangstelling te staan gekom.

Terselfdertyd het die Kaapse regering met dr. L.S.Jameson aan die hoof met die medewerking van die regering van Natal ‘n amptelike gedenkskrif met ‘n versoek om die leiding te neem, aan lord Selborne laat toekom. Die gedagte was dat die publiek in al vier die kolonies die geleentheid moes kry om ‘n mening uit te spreek oor die wenslikheid om alle Britse gebiede in Suid-Afrika onder een administrasie te verenig. Afskrifte van die stuk is deur Selborne aan die regerings van al die selfregerende kolonies gestuur en hul mening is gevra. Hoewel die Vrystaat aanvanklik geaarsel het, het Transvaal sy volmondige steun aan die voorgestelde vereniging beloof.

Die Vrystaat en Natal, die klein kolonies, was in die begin bang dat hul identiteit in ‘n groter staatkundige verband verlore sou gaan, net soos liberale leiers in die Kaapkolonie ‘n innerlike voorbehou gehad het t.g.v. die behoud van die ou Kaapse beleid van politieke gelykstelling, en die Transvalers effens huiwerig was om hul ekonomiese voorspoed met die res van Suid-afrika te deel.

Die Selborne-memorandum

Om alle moontlike besware aan die lig te bring en uit die weg te ruim, het Selborne reeds vroeër ervare amptenare die vraagstuk laat ondersoek. ‘n Ontwerp-memorandum is deur hulle opgestel. Dit was veral die werk van Lionel Curtis, R.H. Brand, Patrick Duncan, Philip Kerr en D.O. Malcolm. Die ontwerp is deur Selborne aanvaar en onder sy naam het dit beroemd geword.

In die stuk, wat in die begin van 1907 opgestel is, is eers ‘n historiese oorsig gegee van die oorsake van die verdeeldheid wat geheers het. Daarna is gewys op die nadele van daardie verdeeldheid met besondere klem op die konkurrerende spoorweë en die stryd om die doeanetariewe, sowel as die nadele t.o.v. die Bantoebeleid. Ten slotte het die opstellers van die memorandum daarop bewys dat lapwerk-instellinge geen oplossing bied nie en gepleit vir onmiddellike optrede en die noodsaaklikheid van ‘n nasionale uitkyk op sake.

As koloniale sekretaris in die nuwe Transvaalse regering het genl. Smuts die memorandum aan al die betrokke regerings voorgelê en in Julie 1907 bekend gemaak. Die onmiddellike aanleiding daartoe was die tussen-koloniale spoorweg- en doeanekonferensie wat in Mei 1908 in Pretoria sou plaasvind. Dit is allerweë as ‘n keerpunt beskou. Die Selfborne-memorandum was ‘n knap stuk werk en dit het ‘n diep indruk gemaak. Dit het die voorstanders van staatkundige eenwording die nodige argumente gegee en steun het nie uitgebly nie.

Transvaal en die Indiër-vraagstuk

Kort ná die publikasie van die memorandum is die noodsaaklikheid van spoedige optrede treffend deur veskeie gebeurtenisse gestaaf. Die Botha-regering in Transvaal het nl. die Indiërvraagstuk te doen gekry met ‘n saak wat hy nie op sy eie houtjie kon hanteer nie. Sedert 1902 het ‘n groot aantal Indiërs as Britse onderdane uit Natal na die nuwe kolonie verhuis. Om beheer oor hulle uit te oefen, is ‘n wet gemaak ingevolge waarvan hulle moes laat registreer, maar sodanige registrasie was slegs doeltreffend as kontrole d.m.v. vingerafdrukke uitgeoefen word.

Gelei deur M.K. Gandhi, destyds Indiërprokureur in Natal, het die Indiërs geweier en tot lydelike verset oorgegaan. As koloniale sekretaris (minister van binnelandse sake) het Smuts teen hulle opgetree en gou was daar baie Indiërs in die tronk. Dit was egter duidelik dat Transvaal sonder seggenskap oor Indiërimmigrasie by die kus die instroming in sy eie gebied nie doeltreffend die hoof kon bied nie. Alleen die nouer eenwording van die kolonies sou die nodige voorwaarde vir optrede bied.

Natal en die Zoeloe-vraagstuk

Ook Natal het moeilikheid ondervind en wel met ‘n deel van die Zoeloes wat in 1906-07 in opstand gekom het. Dit was wel nie baie ernstig nie, maar dit het getoon hoe ondoeltreffend en selfs gevaarlik dit kon wees vir een kolonie om ‘n eie en parte beleid teenoor die Bantoes toe te pas. In hierdie geval moes die buurkolonies en selfs rykstroepe Natal te hulp kom. Die geval het die nasionale aard van die Bantoe-vraagstuk, wat slegs gemeenskaplik aangepak kon word, aan die lig gebring.

Die nuwe leiers

Die omstandigheid dat al vier kolonies teen 1908 ‘n verantwoordelike regeringsvorm gehad en dat in drie van die vier gebiede die Afrikaners, gesteun deur die gematigde Engelssprekendes, die oorwig gehad het, het die saak van staatkun dige eenwording onteenseglik bevorder. Van besondere belang in dié verband was die rol van leiers soos Smuts, Botha, Merriman en pres. Steyn. Die eenheidsbeweging was heeltemal in die gees van Botha en Smuts se beleid van samewerking en versoening tussen die twee taalgroepe en toe hierdie twee manne die leiding in Transvaal neem, is die beweging nie slegs versnel nie, maar het dit ook amptelik aansien gekry. Die kans dat die Afrikaners in die noorde dit sou steun, was nou baie groter.

Botha en Smuts se simpatieke houding teenoor hul eertydse Britse teenstanders het hulle ‘n taamlike aanhang onder Engelssprekendes, ook in Natal en Kaapland besorg, en daarmee is heelwat wantroue uit die weg geruim. Toe Botha in 1907 aan ‘n koloniale konferensie deelgeneem het, is hy daar geloof as ‘n staatsman wat deur die Britte vertrou kon word. Veral in liberale kringe was hy hoog aangeskrewe en sy ontvangs in Engeland het ‘n diep indruk op hom gemaak.

Dit het veel vir sy politieke  toekoms beteken, maar reeds toe al was daar ‘n minderheid van sy eie mense wat bedenkinge oor sy beleid gekoester het. Sy skenking van die Cullinandiamant aan die Koning het skerp kritiek in sy eie land uitgelok en baie mense het sy versoeningsbeleid as voorbarig en oorbodig beskou.Tog het dit gehelp om die kloof tussen die taalgroepe te oorbrug en is die weg na staatkundige eenheid vergemaklik.

Vir pres. Steyn was die eenwording van alle Afrikaners, waarvan die grondslag in die Vryheidsoorlog gelê is, ‘n noodsaaklikheid. Sy gesondheid het wel nog veel te wense oorgelaat, maar agter die skerms het groot invloed van hom uitgegaan. Hy is deur die Engelssprekendes h oog geag en na geen ander leier het alle Afrikaners so opgesien nie. Sedert sy terugkeer uit Europa het hy die eenwording van Suid-Afrikaook met die oog op die toenemende spanning in die internasionale betrekkinge as baie wenslik beskou. Suid-Afrika moes nie verdeeld wees wanneer oorlog in Europa  uitbreek nie.

Merriman, as mondstuk van die Kaapkolonie, en Smuts, wat feitlik namens Transvaal gepraat het, het prakties die meeste tot eenwording bygedra deurdat hulle die uiteenlopende standpunte van hul onderskeie kolonies in korrespondensie met mekaar vooraf tot groot hoogte versoen het. Dit het in besonder gegeld t.o.v. die kleurbeleid van die toekomstige eenheidstaat. Die gewese republieke, gesteun deur Natal, was geensins van plan om die Kaapse gelykstellingsbeleid te aanvaar nie en op dieselfde wyse was dit vir feitlik alle Kaapse leiers, ook dié van die Afrikanerbond, nie moontlik om af te sien van hul tradisionele beleid nie.

Smuts en Merriman het ooreengekom dat elke kolonie sy beleid, soos vasgelê in sy betrokke kieskwalifikasies, voorlopig sou behou. Soos Smuts verklaar het, was hy nie bereid om eenwording ter wille van die kieskwalifikasies te verongeluk nie. Ook wat die vorm van die grond en ander sake betref, het hierdie twee staatsmanne mekaar gevind, en waar die twee grootste kolonies saamgestem het, was die kleineres nie by magte om weerstand te bied nie.

Die doeane-konferensie in Pretoria

Toe die doeane-konferensie in Mei 1908 in Pretoria byeenkom, was dit gou duidelik dat geen tariewe-ooreenkoms ‘n blywende oplossing kon bied nie. Smuts en Merriman het die knoop deurgehak toe eg. voorgestel en lg. gesekondeer het dat die belange van Suid-Afrika die beste gedien sou word deur die vereniging van die selfregerende kolonies onder die Britse kroon en dat Rhodesië die reg sou hê om hom aan te sluit.

Die voorstel het voorts gelui dat die afgevaardigdes op die konferensie hul onderskeie parlemente sou vra om eenwording sou bespreek en ‘n grondwet opstel. Die voorstel, en daarmee ook die beginsel van eenwording, is eenparig aanvaar en daar is besluit dat ‘n konvensie in Oktober 1908 byeen sou kom. Merriman wou nog verder gaan. Hy het gevra dat die Hoë Kommissie-gebiede by die Unie ingelyf word,. Op ‘n voortgesette byeenkoms in Kaapstad is ooreengekom dat die voorgestelde konvensie in Durban sou vergader. Dit het heelwat daartoe bygedra om Natal met die beweging te versoen. Nadat die parlemente die voorstel oor ‘n konvensie aanvaar het, is ook die samestelling daarvan ooreengekom.

Voorbereiding van Smuts

Smuts het onmiddellik aan die werk gespring om hom vir die komende vergadering voor te berei. Ná ‘n studie van alle moontlike grondwette van ander lande het hy self ‘n Ontwerpgrondwet opgestel en ‘n algemene memorandum oor die onderwerp aan die leiers in al vier kolonies gestuur. Hy het ook verder met hulle, veral met Merriman, geraadpleeg. Toe die konvensie eindelik byeenkom, was hy  beter voorberei as enige ander lid en was hy in staat op besware uit die weg te ruim. Dit was veral belangrik dat hy en Merriman oor die hoofpunte vooraf ooreengekom het.

Die Nasionale Konvensie

Die Nasionale Konvensie wat onder voorsitterskap van sir Henry de Villiers, die Kaapse hoofregter, vergader het,was verteenwoordigend van Engels- en Afrikaanssprekende elemente en van die regerings- sowel as die opposisiepartye in die vir kolonies.

Behalwe Jan Hofmeyr, wat siek was, en Schreiner, wat hom met die oog op die Dinuzulu-saak moes onttrek, was al die vername politieke leiers in Suid-Afrika aanwesig. Van die Kaapkolonie was, benewens sir Henry de Villiers, die vernaamste verteenwoordigers John X. Merriman, F.S. Malan, sir L.S. Jameson en sir thomas Smartt, altesame 12 lede. Transvaal is verteenwoordig deur agt lede, van wie genls. Botha, Smuts, De la Rey, Schalk Burger, sir Percy Fitzpatrick en sir George Farrar die vernaamste was.

Van die Vrystaatse afvaardiging kan genoem word pres. Steyn, Abraham Fischer en genls. De Wet en Hertzog, terwyl Natal sir Frederic Moor, sir Thomas Hyslop, mnr. W.B. Morcom, kol. E.M. Graane en mnr. C.J. Smythe gestuur het. Rhodesië is verteenwoordig deur twee waarnemers namens die Chartered Company en een namens die Wetgewende Raad van daardie gebied. Hulle het geen stemreg gehad nie, want rhodesiëwas nog nie selfregerend nie.

Die ontwerp-grondwet

Die eenvoudigste taak van die Konvensie was om die raamwerk van die nuwe staat op te stel. In sy geheel is dit gegrond op die Britse stelsel en grondwetlike gebruike waarmee die kolonies in Suid-Afrika in mindere of meerdere mate vertroud was. Die opgestelde stuk was saaklik en duidelik. Binne ‘n jaar sou die Koning die vier kolonies proklameer as ‘n wetgewende unie onder een regering en ‘n goewerneur-generaal genoem.

Die kolonies sou in provinsies van die unie word. Die uitvoerende gesag sou in die Koning setel en in sy afwesigheid deur die goewerneur-generaal gevoer word. Hy sou bygestaan word deur ‘n uitvoerende raad en sou nie meer as 10 ministers benoem nie om die staatsdepartemente te administreer. Geen minister kon langer as drie maande in sy amp bly nie tensy hy lid van die parlement was.

Die wetgewende gesag van die staat

Die wetgewende gesag sou setel in die Unie-parlement, bestaande uit die Koning, ‘n senaat en ‘n volksraad, wat jaarliks byeenkom. Vir die eerste tien jaar sou die senaat uit 40 lede bestaan. Daarvan word agt genoem deur die goewerneur-generaal-in-rade, die helfte van hulle op grond van hul deeglike kennis van die redelike wense en behoeftes van die nie-blanke frasse van Suid-Afrika. Vir elkeen van die vier provinsies sou verder agt senatore op ‘n eweredige grondslag gekies word deur die lede van albei kamers van die parlement van elke kolonie in ‘n gesamentlike vergadering.Benoemde senatore sou hulle amp tien jaar lank beklee.

As ‘n vakature gevul moes word, sou die lid ook tien jaar senator wees. Verkose senatore sou ook tien jaar diens doen en vakatures sou deur die betrokke provinsiale rade gevul word. Ná afloop van die tien jaar sou die verkose senatore se plekke gevul word deur lede van die volksraad en van die provinsiale raad van elk provinsie in ‘n gesamentlike sitting. Ook hulle sou vir tien jaar verkies word, tensy die senaat voor die tyd ontbind word.

Die Volksraad

Die volksraad sou bestaan uit 121 lede, 51 vir Kaapland, 36 vir Transvaal en 17 elk vir die Vrystaat en Natal. Almal sou regstreeks deur die stemgeregtigde burgers van die Unie gekies word. Kiesafdelings sou afgebaken word deur ‘n kommissie bestaande uit regters van die hooggeregshof. Die maksimum-ledetal van die volksraad is op 150 vasgestel. Die Volksraad sou vir ‘n termyn van vyf jaar gekies word en volle wetgewende gesag  hê.

In geval van ‘n botsing tussen die twee kamers van die parlement, is voorsiening gemaak vir ‘n gesamentlike sitting en ‘n gewone meerderheid sou voldoende wees om wetgewing aangeneem te kry. Die goewerneur-generaal kon ‘n wetsontwerp wat deur die parlement aangeneem is, vir die Koning se goedkeuring voorbehou en die Koning kon enige wet veto binne een jaar ná  dit deur die goewerneur-generaal goedgekeur is.

Provinsiale rade

Vir elke provinsie moes die goewerneur-generaal-in-rade ‘n administrateur aanstel. Sy benoeming sou vir vyf jaar geld en hy sou bygestaan word deur ‘n uitvoerende komitee van vier lede, op ‘n eweredige grondslag, verkies deur die provinsiale raad. Die komitee moes die provinsie namens die provinsiale raad administreer. In elke provinsie sou ‘n provinsiale raad gekies word, bestaande uit dieselfde getal lede as die volksraadslede vi die betrokke provinsie, maar met minstens 25 lede elk vir die Vrystaat en Natal.

Hul ampstermyn sou drie jaar wees en die provinsiale rade kon nie voor verstryking van dié tydperk ontbind word nie. Vergaderings moes elke jaar plaasvind. Die magte van provinsiale rade is beperk tot die aanneem van ordonnansies vir regstreekse belastings, landbou, onderwys (hoër onderwys uitgeslote), volksgesondheid, munisipale sake, afdelingsrade, paaie en brûe, markte en skutte, vis- en wildbewaring e.a. plaaslike sake wat deur die parlement aan hulle gedelegeer word. Provinsiale ordonnansies mag nie teenstrydig met wette van die parlement wees nie en moes deur die goewerneur-generaal goedgekeur word.

Die Hooggeregshof

Die hooggeregshof sou bestaan uit ‘n hoofregter, gewone appèlregters en ander regters van die verskillende afdelings van die hof. Die appèlafdeling sou bestaan uit die hoofregter en vier appèlregters. Daar sou vier provinsiale en verskillende plaaslike afdelings van die hof wees sowel as rondgaande howe. Regters kon slegs ontslaan word deur die goewerneur-generaal-in-rade op voordrag van albei kamers van die parlement. Voorsiening is gemaak vir spesiale verlof om van die appèlhof na die Koning-in-Rade te appelleer.

Finansies en spoorweë

‘n Gekonsolideerde inkomstefonds is gestig waarin alle inkomste van die verskillende kolonies gestort sou word, terwyl alle inkomste van die spoorweë en hawens na ‘n aparte spoorweg- en hawefonds sou gaan. Vir die uitgawes van elk sou die parlement in ‘n afsonderlike begroting voorsiening maak.

Hangende ‘n ondersoek na die finansiële verhouding tussen die Unie en die provinsies sou elke provinsie van die Unie-skatkis ‘n subsidie ontvang. Alle koloniale bates sowel as kroongronde, openbare werke en mynregte van die koloniale regerings sou die eiendom van die Unie word. Spoorweë en hawens van die kolonies sou deur die Unie-regering geadministreer word en slegs die parlement kon enige verdere hawe- en spoorwegbou magtig. Die spoorweë en hawens sou deur ‘n spoorweg- en haweraad beheer word en wel op sakebeginsels en met inagneming van die landboukundige en nywerheidsontwikkeling in die Unie.

Daar sou vryhandel oor die hele Unie wees. ‘n Staatsdienskommissie sou benoem word om die staatsdepartemente te reorganiseer. Amptenare sou nie ontslaan mag word weens gebrek aan kennis van Engels of Hollands nie.

Bantoesake

Die beheer en administrasie van Bantoesake is gevestig in die goewerneur-generaal-in-rade wat vir daardie doel sou beskik oor al die magte wat voorheen deur die goewerneurs van die kolonies uitgeoefen is. Grond wat vir bewoning deur Bantoes opsy gesit is, kon nie vervreem word nie, behalwe met die goedkeuring van die parlement.

Unie of federasie?

Hierdie formele raamwerk van die voorgestelde unie is ná langdurige bespreking deur die Konvensie goedgekeur, maar daar was enkele sake waaroor heelwat meningsverskil bestaan het en ‘n beslissing slegs deur ‘n kompromis bereik kon word. Die eerste was oor die vorm van vereniging van die kolonies. Aanvanklik was die kleiner kolonies, veral Natal, t.g.v. ‘n federasie ten einde soveel mag moontlik in die hande van die provinsies te laat. Natal was bang dat hy deur die res oorheers sou word en wou graag sy bepaalde Britse karakter handhaaf, maar die algemene stemming van die afgevaardigdes was t.g.v. ‘n hegter eenheid.

Smuts, gesteun deur Merriman, het ‘n uniale grondwet voorgestel en Botha h et op die regte tydstip grootmoedig aangekondig dat Transvaal bereid is om sy rykdomme met die res van Suid-Afrika te deel. Die Konvensie het t.g.v. unifikasie besluit, maar die grondwet het tog sekere federale kenmerke bevat, soos bv. die provinsiale stelsel en die samestelling van die parlement en die hooggeregshof, wat gegrond was op die gebiedsindeling van die velede. Provinsialisme was dan ook in die nuwe Unie lank geen dooie faktor nie.

Taalgelykheid

‘n Tweede groot beginsel wat in die ontwerp-grondwet opgeneem is, was die gelykheid van Engels en Nederlands as amptelike tale. Die geskiedenis het bewys dat dit onverstandig was om een van die twee tale nie tot sy reg te laat kom nie. Hertzog en Steyn het die Konvensie bygewoon met die vaste oortuiging dat Hollands op gelyke voet met Engels gestel moes word. In Transvaal sowel as in die Oranjerivier-kolonie was daar reeds geruimte tyd ‘n hewige stryd om moedertaalonderwys en taalgelykheid en die tweede Afrikaanse taalbeweging is reeds begin.

Die amptelike gebruik van Hollands was kragtens die bepalinge van die Vrede van Vereeniging ‘n blote toegewing en die Milner-administrasie het openlik die verengelsing van Suid-Afrika nagestreef. Hertzog het self as minister van onderwys in die Vrystaat, wat oorwegend Afrikaans was, ‘n verbete stryd om tweetaligheid gevoer. Hy en feitlik alle Afrikaanssprekende lede van die afvaardiging, het die gelykberegtiging van Hollands as ‘n beginselsaak beskou. Daarin is hulle deur Merriman gesteun.

Hertzog het vooraf ‘n ontwerp-klousule met daardie strekking opgestel, die lede ws simpatiek en ná samesprekinge is dit om taktiese redes gerade geag as die voorstel van Engelssprekende kant gedoen word. So het sir George Farrar, gesekondeer deur Merriman, die betrokke klousule in die grondwet in sy Nederlandse vorm soos volg bewoord: De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten. Alle akten, verslagen en verrichtingen van ‘t Parlement worden in beide talen gehouden en alle wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen.

Die besluit is verskans in artikel 137 van die grondwet, wat slegs met ‘n tweederde-meerderheid van albei kamers van die parlement in ‘n gesamentlike sitting gewysig kon word. Met die aanvaarding van hierdie beginsel was alles nog nie in orde nie. Dit was vir eers die vraag tot welke mate die beginsel in die praktyk nagekom sou word. Voorts is in die artikel niks gerep van die staatsdiens en die provinsies nie. Dit sou nog ‘n lang stryd in die toekoms afgee, maar voorlopig was die verskansing in die grondwet reeds ‘n groot vooruitgang.

Die nie-blanke kiesreg

Oor die groot vraagstuk van politieke gelykstelling van die blanke en nie-blanke rasse het die Konvensie ook tot ‘ n vergelyk gekom wat reeds deur die ooreenstemming waartoe Smuts en Merriman vooraf geraak het, moontlik gemaak is. Dit was die vraagstuk van die versoening van die noordelike en suidelike standpunte. Die gewese republieke, as draers van die erfenis van die Groot Trek, wou ten ene male nie hoor van enige vorm van gelyke regte of uitoefening van algemene stemreg nie. Daarin is hulle gesteun deur Engelssprekende Natal, wat wel in sy eie grondwet voorsiening vir die nie-blanke kiesreg gemaak het, maar dit prakties feitlik onmoontlik gemaak het.

Daarenteen was alle partye in die Kaapkolonie dit eens dat die Kaapse stemreg behou word en ‘n liberale lid van die Konvensie, sir Walter Stanford, het, gesteun deur Sauer, selfs voorgestel dat dit op die hele Unie toegepas word. Waar Merriman aanvanklik t.g.v. algemene manlike stemreg slegs gekwalifiseer deur ‘n beskawingstoets was, is hy reeds vóór die byeenkoms van die Nasionale Konvensie deur Smuts oortuig was dat die kieskwalifikasie in elke kolonie onveranderd sou bly.

Op die Konvensie het Smuts die gedagte geopper en ná baie onderhandeling agter die skerms het die Konvensie die kompromis aanvaar, maar onder druk van liberale kant is die Kaapse kiesreg spesiaal verskans in artikel 35 van die grondwet, wat slegs deur ‘n tweederde-meerderheid van albei kamers van die parlement in ‘n gesamentlike sitting in die derde lesing verander kon word. Terselfdertyd is besluit dat slegs blankes lede van die die parlement kon wees.

Die protektorate

‘n Belangrike probleem waarmee die Konvensie te doen gekry het, was die posisie van die Britse Hoë Kommissie-gebiede, Basoetoland, Swaziland en Betsjoeanaland. Aanvanklik het Merriman en baie ander lede die inlywing van dié gebiede by die Unie as byna vanselfsprekend beskou omdat hulle ekonomies en territoriaal ‘n eenheid met die selfregerende kolonies gevorm het, maar die Britse regering het anders oor die saak gedink.

Die Hoë Kommissaris, lord Selborne, het sir Henry de Villiers in ‘n brief laat verstaan dat die Britse regering nie geneë was om die oordrag van die betrokke gebiede toe te laat nie, tensy die Bantoes daar verseker word van gelyke politieke regte met die blankes in die Unie. Die meeste van die afgevaardigdes op die Konvensie was nie bereid om dit teaanvaar nie en die gevolg was nog ‘ n kompromis. Dit het beteken dat die drie gebiede nie onmiddellik ingelyf sou word nie, maar in ‘n skedule tot die grondwet is voorsiening gemaak vir ‘n moontlike toekomstige inlywing op sekere voorwaardes.

Die vernaamste was dat die eerste minister van die Unie belas sou wees met die administrasie van sulke ingelyfde gebiede, bygestaan deur ‘ n kommissie van minstens drie lede wat vir tien jaar deur die goewerneur-generaal benoem word. Hy moes handel op advies van die kommissie. Grond in die drie gebiede mag nie van die stamme vervreem word nie en die verkoop van sterk drank aan Bantoes is verbied.

Origens sou die gebruiklike stambyeenkomste erken word en die inwones kon die Unie vryelik binnekom. Inkomste uit die Hoë Kommissie-gebiede sou slegs ten behoewe van die gebiede self gebruik word en die Koning behou ‘n vetoreg op enige wetgewende proklamasie van die goewerneur-generaal t.o.v. die gebiede.

Die hoofstad

Die menings oor ‘n hoofstad vir die Unie was uiteenlopend. Die Kaapkolonie en Transvaal  het albei gemeen dat hulle die meeste aanspraak op die hoofstad het. In ‘n poging om gewig in die skaal te gooi, het die Transvaalse regering inderhaas reeds ‘n administratiewe hoofgebou vir die Unie in Pretoria laat oprig, maar die aanspraak van Kaapstad as moederstad kon nie oor die hoof gesien word nie.

Sommige lede was t.g.v. Bloemfontein omdat hy meer sentraal geleë was en ander wou ‘n heeltemal neutrale plek hê op die Amerikaanse patroon. Uiteindelik is besluit om twee hoofstede te hê, nl. Kaapstad as setel van die wetgewende gesag en Pretoria as setel van die administrasie. Die appèlhof sou in Bloemfontein vergader. Bloemfontein en ook Pietermaritzburg het daarby geldelike vergoeding ontvang.

Die naam Vrystaat herstel

‘n Kenmerk van die vergaderings van die Nasionale Konvensie was die goeie gesindheid wat geheers het. Dit het geblyk toe dr. Jameson en sir Percy Fitzpatrick vorgestel het dat die naam Oranjerivier-kolonie verander word in Oranje-Vrystaat soos dit voorheen was.

Samevatting

In die geheel was die ontwerp-grondwet die resultaat van die samewerking van die twee grotere kolonies en hul bereidwilligheid om toegewings te maak. Hoewel dit tot groot hoogte ‘n kompromis was, was dit tog die beliggaming van twee groot beginsels, nl. die erkenning van die ongelykheid van die blanke en nie-blanke rasse en die erkenning van die gelykheid van die twee elemente van die blanke ras. Dit was die vernaamste fondament waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het.

Dit was terselfdetyd ‘n vergelyk tussen Engels- en Afrikaanssprekendes en ‘n vergelyk tussen Kaapse liberalisme en republikeinse konserwatisme. Die grondwet was nie net die resultaat van die samewerking tussen die noorde en die suide nie, maar ook van die mededinging tussen hulle.

Voltooiing van die werk

Nadat die Konvensie op 5 November 1908 sy vernaamste werk in Durban afgehandel het, is sy werksaamhede van 23 November af in Kaapstad voortgesit en ná ‘n kort onderbreking op 3 Februarie 1909 voltooi. Die gepubliseerde ontwerp-grondwet is van verskeie kante aangeval, maar drie van die parlemente het dit, hoewel met wysiginge, aanvaar. Die finale ontwerp is ná ‘n kort sitting van 3 tot 11 Mei 1909 in Blomefontein goedgekeur. Daarna is dit deur al vier die kolonies aanvaar, in drie gevalle by monde van die parlement, terwyl Natal ‘n volkstemming gehou het wat die ontwerp met ‘n aansienlike meerderheid goedgekeur het.

Bekragtiging deur die Britse parlement

Die laaste taak was die bekragtiging van die grondwet deur die parlement in Westminster. Met die oog daarop het die wetgewende liggame van die vier kolonies elkeen afgevaadiges na Londen genoem. Dit is gelei deur hoofregter De Villiers. Maar terselfdertyd het ontevrede elemente in Suid-Afrika afvaardigings gestuur om wysiginge in die ontwerp aangeneem te kry. In die eerste plaas was daar Bill Schreiner, wat nie geneë was met die beperkinge op die Kaapse nie-blanke stemreg nie. Daar was ook nie-blanke afvaardigings wat hom gesteun het, maar hulle kon niks uitvoer nie. Schreiner is selfs ‘n gehoor geweier deur die Britse Laerhuis, wat oortuig was dat die Kaapse stemreg veilig verskans was.

Amptelike sprekers het die Bantoes van die Protektorate verseker dat inlywing by die Unie nie sou gebeur sonder dat hulle geraadpleeg word en die saak in die Britse parlement gedebatteer is nie. Die ontwerp is deur die parlement aanvaar as die Suid-Afrika-Wet van 1909. Op 20 September 1909 het die Koning dit goedgekeur. Die datum waarop dit in werking sou tree, sou deur ‘ n koninklike proklamasie vasgestel word.

Die Eerste Minister van die Unie

‘n Belangrike taak wat gewag het, was die benoeming van die eerste premier van die Unie en die samestelling van ‘n regering of kabinet. In hierdie geval kon die gewone prosedure van aanwysing deur die party met die grootste aanhang in die parlement nie gevolg word nie, want daar was nog geen parlement en ook geen Uniale partye nie. Daar moes eers ‘n regering benoem word om die aanstaande goewerneur-generaal te adviseer.

Een moontlike kandidaat vir die premierskap, Jan Hofmeyr, is in Oktober 1909 oorlede, en Steyn was om gesondheidsredes nie beskikbaar nie. Die mense met die sterkste aanhang wat in aanmerking gekom het, was derhalwe Botha enMerriman. Albei het goeie persoonlike hoedanighede gehad. Teenoor Merriman met sy ryper parlementêre en partypolitieke ervaring was Botha ‘n taktvolle leier.

Dr. Jameson het besef dat hy met sy gevolg van gewese Uitlanders, wat as Britse ekstremiste beskou is, geen kans gehad het om alleen die bewind te voer nie. Hy het hom beywer vir ‘n sg. “best-man”-regering waarin ministers op grond van hul persoonlike bekwaamheid sou dien en nie op grond van lidmaatskap van ‘n bepaalde party nie. Hy kon egter nie die steun van Botha en Merriman of Engelssprekende Natal kry nie. Daardie provinsie was ekonomies afhanklik van Transvaal en wou liewer ‘n onafhanklike politieke weg volg sonder om Botha en die Transvalers te vervreem.

Botha se begeerte was om met die medewerking van Merriman ‘n regering saam te stel wat kon staatmaak op die steun van alle Afrikaners en die meerderheid van die gematigde Engelssprekendes wat net soos hulle in Suid-Afrika ingeburger was. Steyn het gemeen dat Merriman beter as premier sou deug, maar Botha wou nie onder hom dien nie. Kort daarna het lord Gladstone as die eerste Goewerneur-generaal in Kaapstad aangekom en 31 Mei 1910 vasgestel as die datum vir Uniewording. Hy het Botha tot die bittere teleurstelling van Merriman gevra om ‘n kabinet saam te stel.

In die samestelling van sy regering het Botha toegesien dat die verskillende provinsies regverdig verteenwoordig is. Daar was vier ministers uit die Kaap, drie van Transvaal en twee elk uit Natal en die Vrystaat. Merriman, wat geweier het om onder Botha te dien, het belowe om die Regering te steun. Botha kon nie daaraan dink om Jameson in sy kabinet aan te stel nie, want die Afrikaners het sy rol in die Jameson-inval nog goed onthou en hom beskou as ‘n aartsimperialis.

Buitendien kon dit nie verwag word van die Kaapse Suid-Afrikaanse Party, soos die Afrikanerbond nou bekend was, van wie se steun Botha afhanklik was, om ná sy stembus-oorwinning van 1908 oor Jameson en sy Progressiewe Party nou plotseling genoeë te neem met hul teenstanders in die regering nie. Dit was baie meer natuurlik en vanselfsprekend dat Botha saamwerk met Merriman se party wat ook die vertroue geniet het van Steyn en na wie Botha as sy geestelike vader opgesien het.

Die vernaamste ministers was Smuts (Buitelandse Sake, Mynwese en Verdediging), Hertzog (Justisie), J.W. Sauer (Spoorweë en Hawens), F.S. Malan (Onderwys), H.C. Hull (Finansies) en Abraham Fischer (Lande). Natal se bekendste verteenwoordiger was F.R. Moor. Nadat hy by die stembus verslaan was, is sy plek ingeneem deur sir George Leuchars.

Die eerste verkiesing

Met die oog op die eerste algemene verkiesing het die Progressiewe partye van die Kaap en Transvaal in die begin van 1910 met die klein Constitutional Party saamgesmelt en die Unioniste-party gevorm. Dr. Jameson was hoofleier en manne soos sir George Farrar, sir Percy Fitzpatrick en sir Thomas Smartt was sterk op die voorgrond. Kol. F.H.P. Creswell, gewese myningenieur, het ook met sy klein Arbiedersparty aan die verkiesing deelgeneem.

In die geheel was dit egter ‘n stryd van die Unioniste teen die los bondgenootskap tussen Botha se Het Volk-party in Transvaal en die Kaapse Suid-Afrikaanse Party, gesteun deur die Orangia-Unie van Fischer en Hertzog. Die verbonde party was nasionaalgesind in teenstelling met die Unioniste, wat tegelyk voorvegters van imperiale en kapitalistiese belange was, en die Arbeidersparty, wat die belange van geskoolde blanke arbeid op die hart gedra het.

Hoewel Botha in Pretoria-Wes nie die paal teen Percy Fitzpatrick kon haal nie, was die verkiesing een van volslae oorwinning vir die nasionaalgesinde partye. Hulle het 66 setels in die Volklsraad verower teenoor die 39 van die Unioniste, die 12 van die onafhanklikes, byna almal van Natal, en die vier van verteenwoordigers van die Arbeiders, wat met die Regering saamgewerk het soos ook die Natallers. Die Senaat is daarna so saamgestel dat die regering oor ‘n meerderheid beskik het.

Daarmee was die Unie van Suid-Afrika ‘n voldonge feit.

— — — oOo — — —-