J.J.J. Scholtz, B.A.
Ekonomie op laagtepunt
Die Republiek van Suid-Afrika het sy bestaan op ‘n lae ekonomiese noot begin. Reeds vóór die totstandkoming van die republiek, teen die einde van die jare vyftig, het ‘n ekonomiese verslapping ingetree. In 1960 is dit vererger deur die skietery op Sharpeville en die binnelandse onluste wat daarop gevolg het. Dit het veral by buitelandse beleggings vrees vir die toekoms van die land gewek en hulle het op groot skaal hul kapitaal begin onttrek.
Toe dit in 1961 bowendien bekend word dat Suid-Afrika nie in die Statebond sal bly nie, het die kapitaalvlug ernstige afmetinge aangeneem. In Junie 1961 het die land se reserwes aan goud en buitelandse betaalmiddele tot R142 miljoen gedaal, die laagste wat dit sedert die Tweede Wêreldoorlog was. Die land se ekonomiese tempo het sterk afgeneem.
Ekonomiese maatreëls
Om dit teen te gaan, het Suid-Afrika in Junie 1961 vir die eerste keer in sy geskiedenis strenge beperkinge op die uitstuur van geld uit die land ingestel. Dit is gevolg deur verskeie ander maatreëls om die vertroue in die ekonomiese toekoms van die land te voed en die ekonomiese groei te prikkel. Daaronder was die bekendmaking in Maart 1962 van die groot Oranjerivierplan, waaraan honderde miljoene rande bestee sou word.
Ingevolge die plan sou twee groot damme in die Oranjervier gebou word en water uit die Oranjerivier na die Visrivier uitgekeer word. Die grootste van die twee damme – die Hendrik Verwoerd-dam, wat in 1972 amptelik ingewy is – het ‘n betonwal van 914 m gekry, op een na die langste in Afrika. Die tonnel van 82,5 km waardeur water uit die Oranjerivier na die Visrivier gelei word is die langste in die Suidelike Halfrond.
Oliesoektog begin
In 1964 het ook ‘n groot soektog na olie in Suid-Afrika en aan die kus van Suid-Afrika begin. In latere jare is dit gevolg deur nog groot onderneminge van die staat, instansies soos Yskor, Evkom en Sasol, en private maatskappye wat in die jare sestig en sewentig miljarde rande bestee het aan nuwe onderneminge en die uitbreiding van bestaandes.
Ekonomie verbeter
Die maatreëls wat in 1961 en die daaropvolgende jare getref is, het spoedig ‘n dramatiese verandering teweeggebring. In die laaste ses maande van die jaar het die reserwe van goud en buitelandse betaalmiddele met meer as R100 miljoen gestyg en teen die einde van 1962 het dit al meer as R500 miljoen bedra. Die waarde van die bruto binnelandse produk, teen konstante 1963-pryse bereken, het gestyg van R5 324 miljoen in 1960 tot R7 052 miljoen in 1965 en R9 171 miljoen in 1970.
Snelle nywerheidsontwikkeling
Die snelle ontwikkeling van Suid-Afrika op nywerheidsgebied in dié jare spreek uit die feit dat die bydrae van die fabriekswese tot die bruto binnelandse produk van 23,3% in 1959-60 gestyg het tot 30% in 1964-65. Die fisieke volume van die produksie het met 55,5% toegeneem.
In Maart 1962 het dr. H.J. van Eck, voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), gesê dat dat Suid-Afrika se ekonomiese groei vinniger is as dié van elke ander land. Teen 1965 het Suid-Afrika, in die woorde van dr. D.G. Franzen, vise-president van die Reserwebank, die grootste voorspoedgolf in sy geskiedenis beleef.
Die vrees het trouens posgevat dat Suid-Afrika vinniger ontwikkel as wat hy behoort te doen en sedert 1965 was daar toenemende kommer oor die inflasionistiese druk wat die land ondervind. In daardie jaar het die Regering beperkinge ingestel om die ekonomiese groei te verlangsaam. Die eerste bestaansjare van die Republiek het belangrike ontwikkelinge in die land se verhoudingsvraagstuk gebring wat die Kleurlinge en Indiërs sowel as die swart volke geraak het.
Meningsverskil oor Kleurlinge
Oor die posisie van die Kleurlinge het vóór die republiekwording reeds roeringe ontstaan n.a.v. wat ten tyde van die binnelandse woelinge in 1960 gebeur het. Destyds het swart leiers geprobeer om die Kleurlinge deur oorreding en dreigemente aan hul kant te kry en te beweeg om bv. saam te staak. Die Kleurlinge het egter geweier om hulle met die swart optrede te vereenselwig.
Dit het in breë kring groot welwillendheid teenoor die Kleurlinge gewek. Op 12 April 1960 het mnr. J.F. Naudé as Minister van Binnelandse Sake in die Volksraad sy opregte dank teenoor die Kleurlinge betuig vir die wyse waarop hulle ondanks intimidasie die wet en orde help handhaaf het. Daardeur, het hy gesê, is ‘n belangrike bydrae tot goeie betrekkinge gelewer.
Onder Nasionaliste het ‘n gevoel opgekom dat die bruinmense nader aan die blankes getrek moet word en die gedagte is geopper dat Kleurlinge deur Kleurlinge in die Volksraad verteenwoordig moet word. Dié gedagte is egter in November 1960 deur die Eerste Minister, dr. H.F.Verwoerd, verwerp. Hy het gesê dat die Kleurlinge hulle in eie belang uit die onlangse botsings gehou het en nie ter wille van die blankes nie, en gewaarsku dat die beoogde toegewinge, gevolg deur ander, uiteindelik tot “biologiese assimilasie” kan lei.
Hy het gesê dat hy by die beleid van parallelle strome staan en het later die moontlikheid van “’n staat binne ‘n staat” geopper. Die reaksie op dr. Verwoerd se verklaring van November 1960 het in die woorde van die Die Burger gewissel van “geesdriftige steun vir die Eerste Minister se formulering tot die diepste teleurstelling met ‘n bepaalde koers van ‘n Nasionale hoofleier wat ons ons in die afgelope twaalf jaar kan herinner”.
Cottesloe-beraad
In die middel van die debat oor Kleurlinge het die Cottesloe-beraad gekom. Dit was ‘n konferensie van dié Suid-Afrikaanse kerke wat toe nog lid van die Wêreldraad van Kerke was, tesame met ‘n aantal besoekende kerkleiers uit die buiteland. Die afgevaardigdes het bymekaar gekom en o.m. die kerklike getuienis oor aktuele vraagstukke te laat hoor en gemeenskaplike grond daarvoor te vind.
Onder die deelnemende kerke was die Nederduits Gereformeerde Kerke van Kaapland en Transvaal (die vereniging van die land se NG Kerke in die Ned. Geref. Kerk van Suid-Afrika is eers in 1962 voltrek) en die Nederduits Hervormde Kerk. Op 14 Desember 1960 is omstrede besluite van die konferensie bekend gemaak. Die vier wat die skerpste reaksie uitgelok het, was:
Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uit enige kerk uitgesluit word op grond van sy kleur of ras nie; Daar is geen Skriftuurlike gronde vir ‘n verbod op gemengde huwelike nie; Die reg om grond te besit, waar iemand ook al ‘n vaste woonplek het, ên om deel te hê aan die regering van sy land, is deel van die waardigheid van die volwasse mens; en Daar kan in beginsel geen beswaar wees teen die regstreekse verteenwoordiging van die Kleurlingbevolking in die Parlement nie (as deel van ‘n besluit oor die nasionalisme as drang tot selfbeskikking).
Reaksie van Afr. Kerke
Die Ned. Herv. Kerk het hom dadelik van die besluite gedistansieer en in die ander twee Afrikaanse kerke het ‘n skerp stryd opgevlam. Die saak is oorweeg deur die Fedrale Raad van NG kerke, wat op 23 April 1961 besluit het:
“Hoewel sommige van die resolusies van die Kerkekonferensie, indien anders geformuleer, nie aanneemlik is nie, kan die vergadering hom met die bevindinge nie vereenselwig nie”, o.m. omdat “die strekking van die geheel en die gesamentlike getuienis van die resolusies sodanig (is) dat dit die beleid van afsonderlike ontwikkeling aantas en ondermyn…
“Sommige van die bevindinge is met die beginsel van differensiasie pertinent in stryd, bv. waar politieke integrasie voorgestaan word en waar met ‘n ontoelaatbare aanwending van die Skrif sosiale en kerklike integrasie bepleit word.”
In April 1961 het die Sinode van die Transvaalse N.G. Kerk hom van die Cottesloe-besluite losgemaak en in Oktober 1961 het die Sinode van die Kaaplandse N.G. Kerk dit insgelyks gedoen. Hulle het ook gevolg gegee aan die aanbevelinge van die Federale Raad dat hulle hul aan die Wêreldraad onttrek.
Die Ned. Geref. Kerk van Suid-Afrika, wat by die vereniging van die bestaande N.G. Kerke in 1962 tot stand gekom het, het ewenwel lid van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode gebly, wat op opeenvolgende byeenkomste party van die sake wat op Cottesloe geopper is, bespreek het. Met die gedagte van gesamentlike aanbidding het die N.G. Kerk mettertyd akkord gegaan, maar oor die kwessie van gemengde huwelike het aksentverskille tussen die N.G. Kerke en die ander lede van die Geref. Ekumeniese Sinode bly voortbestaan.
Debat oor Kleurlinge duur voort
Aan die debat oor die posisie van die Kleurlinge in die Suid-Afrikaanse bestel, het dr. Verwoerd se verklaring en dié van die Federale Raad van die N.G. Kerke geen einde gemaak nie. ‘n Belangrike oorweging was dat die Kleure, ewe-as die Indiërs, nie soos die Bantoes ‘n tuisland het waar hulle hul ten volle kan uitleef nie. Dit het in sommige kringe die gedagte laat ontstaan dat vir die Kleurlinge en ook die Indiërs ‘n tuisland geskep moes word.
Ofskoon die Regering hom teen die gedagte utigespreek het, is dit tot diep in die jare sewentig nog gepropageer. Daar het ook ‘n stryd ontstaan oor die vraag of die Kleurlinge, wat hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, as “bruin Afrikaners” beskou moet word.
Kleurling-verteenwoordiging
Intussen het dr. Verwoerd in Desember 1961 bekend gemaak dat die bestaande Uniale Raad vir Kleurlingsake uitgebrei gaan word tot ‘ n parlementêre instelling met beperkte wetgewende en uitvoerende magte. In 1964 is toe ‘n wet aangeneem wat voorsiening gemaak het vir die skepping van ‘n verteenwoordigende Kleurlingraad, bestaande uit 30 verkose en 16 benoemde lede. In daardie vorm het die raad egter nooit gefunksioneer nie.
In 1965 het die kwessie van Kleurling-verteenwoordiging ‘n nuwe element bygekry deurdat die Progressiewe Party tot die verkiesing van die twee (blanke) Kleurlingverteenwoordigers in die Kaaplandse Provinsiale Raad toegetree het. Sy kandidate het albei setels gewen. Die Nasionale Party en die Verenigde Party het die Progressiewe Party, wat sedert sy ontstaan in 1959 in geen verkiesing meer as een setel kon verower nie (dié van Helen Suzman, LV vir Houghton), daarvan beskuldig dat hy hom deur die Kleurlinge wou laat beklee met die politieke mag wat die blanke kiesers hom ontsê het. Dit het daartoe gelei dat die Wetsontwerp op die Verbod op Onbehoorlike Inmenging opgestel is vir indiening by die Parlementsitting in die tweede helfte van 1966. Die strekking daarvan was dat een bevolkingsgroep hom nie met die politiek van ‘n ander mag bemoei nie.
Indiërraad aangestel
In verband met die Indiër-bevolkingsgroep van suid-Afrika was die vernaamste ontwikkeling in die jare sestig dat die Indiërs in 1962 formeel as permanente deel van die bevolking van die land erken is. Dit het ‘n einde gemaak aan die verkondiging van die gedagte, waarmee party mense toe nog volhard het, dat die Indiërs na Indië gerepatrieer moet word.
Dr. Verwoerd het gesê dat in hul geval dieselfde ontwikkelingspatroon gevolg sal word as in die geval van Kleurlinge. In 19645 is die eerste Indiërraad aangestel, bestaande uit 21 benoemde lede, om as amptelik erkende skakel tussen die Indiërgemeenskap en die Regering te dien.
Bantoetuislande
In 1963 is ‘n belangrike stap gedoen i.v.m. die ontwikkeling van die beleid van vrywordende Bantoetuislande wat dr. Verwoerd in 1959 aangekondig het. Transkei het nl. gedeeltelike selfbestuur binne die Republiek van Suid-Afrika gekry met ‘n grondwet wat deur ‘ n komitee van die Transkeise Gebiedsowerheid opgestel is. Ingevolge die grondwet het Transkei ‘n eie burgerskap gekry terwyl sy burgers vir eers nog hul Suid-Afrikaanse bugerskag behou het; asook ‘n eie vlag en volkslied; ‘n wetgewende vergadering, bestaan uit 65 kapteins en 45 verkose lede, met wetgewende magte groter as dié van die provinsiale rade van die Republiek; en ‘n kabinet bestaande uit ses ministers: die hoofminister, kaptein Kaiser Matanzima, wat ook minister van finansies was, en die ministers van justisie, onderwys, binnelandse sake, landbou en bosbou, en paaie en werke. Later is ook ‘n minister van gesondheid aangestel.
Oor al die sake wat onder dié m inisters geressorteer het, kon die wetgewende liggaam van die selfbesturende Transkei oorsporonklike wette maak, wat egter deur die Staatspresident van die Republiek goedgekeur moes word. Ander sake, soos verdediging, binnelandse veiligheid, buitelandse sake, pos- en telegaafwese, spoorweë en hawens en nog meer, het binne die gesagsgebied van die Republiek gebly. Blanke amptenare het in Transkei aangebly, maar is geledelik deur swartmense vervang.
Poqo bedrywig in Transkei
Juis in die tyd waarin Transkei in die rigting van selfbestuur beweeg het, het Poqo baie bedrywig geword in die gebied, in ‘n klaarblyke poging om dié ontwikkeling teen te gaan. Toe reeds was daar sterk verset teen die idee van vrywordende Bantoetuislande,o.m. omdat besef is dat dit die aandrang op en regverdiging vir swart heerskappy oor die hele Suid-Afrika sou verswak.
Terroriste-organisasies
Poqo, wat uit die verbode Pan African Congres ontstaan het (wat op sy beurt uit die eweneens verbode African National Congress ontstaan het), was een van die revolusionêre terroriste-organisasies, meestal met sterk Kommunistiese inslag, wat in die jare sestig in Suid-Afrika bedrywig geword het. Andere was Umkonto we Sizwe (Assegaai van die Volk), wat eintlik die ANC se militêre arm was, die National Liberation Front,die African Resistance Movement en Yui Chi Chan.Laasgenoemde, wat hoofsaaklik uit bruinmense bestaan het, het sy naam gekry uit die titel van ‘n boek oor guerrilla-oorlogvoering deur Mao Tse-toeng.
Die lede van die ander organisasies was hoofsaaklik swartmense, met blankes dikwels in leidende rolle. Die organisasies uit uitgebreide ondermynings- en sabotasieveldtogte gevoer wat die veiligheid van die staat ernstig bedreig het. Dit het harde polisiewerk en ingrypende wette gekos om hulle in bedrang te hou. Onder die wette was dié wat dit moontlik gemaak het om verdagtes tot 90 dae lank vir ondervraging aan te hou. Oor dié wet het ‘n storm van protes ontstaan, maar dit het die polisie in hul gedugte taak gesterk. In Januarie 1965 kon die gebruik van die gewraakte wetsartikel opgeskort word.
Poqo dwing swartmense
Poqo, wat in groter mate as die ander ‘ n suiwer swart organisasie was, was die grootste en mees wydvertakte ondergrondse beweging wat ooit in Suid-Afrika bestaan het. Einde 1961 en begin 1962 is swartmense in toenemende getalle gedwing om lid van Poqo te word. Aan hulle is gesê dat die witmense almal doodgemaak of in die see gejaag sal word en dat die mense van Poqo dan hul vroue, huise, plase e.a. besittings sou kry. Swartmense wat geweier het om lid van Poqo te word, is aangerand of selfs om die lewe gebring. In die Bantoedorpe om die groot stede het hewige gevegte ontstaan tussen Poqo-groepe en swartmense wat hulle teengestaan het.
Eerste Poqo-sel ontdek
Die eerste Poqo-sel is in Mei 1962 ontdek, op Stellenbosch. ‘n Groot hoeveelheid eiegemaake wapens is in die besit van lede gevind. Hulle sou op ‘n gegewe oomblik na Stellenbosch opruk, blankes vermoor en die dorp aan die brand steek.
Poqo-inval in die Paarl
In November 1962 het sowat 200 Poqo-lede uit Mbekweni, swart woonbuurt tussen Paarl en Wellington, in die middel van die nag na die Paarlse polisiekantoor opgeruk met die doel om ‘n aantal aangehoudenes wat van medepligtigheid aan Poqo-moorde verdink is, te bevry. Die aanval op die polisiestasie is afgeslaan, waarna die swartes winkels en huise in die omgewing aangeval het. Twee blankes is vermoor en vyf ernstig beseer. Sewe swarts is gedood.
Poqo-moorde
In Transkei is kaptein Gcoboza in Oktober 1962 deur ‘ n Poqo-bende vermoor en ‘ n week later is ‘n Poqo-bende wat na Transkei gestuur was om kaptein Kaiser Mantanzima om die lewe te bring, op Queenstown voorgekeer. Op 12 Desember is ‘n polisiepatrollie wat besig was om die sluipmoordpoging te ondersoek, naby Qamata, in Transkei, deur ‘ n Poqo-bende van sowat 60 mans aangeval. Sewe lede van die bende is doodgeskiet en drie konstabels ernstig beseer.
Die volgende dag is ‘n trein op Queenstown voorgekeer en 30 gewapendePoqo-lede, wat as versterkings uit Kaapstad na Transkei gestuur was, in hegtenis geneem. Op 5 Februarie 1963 is vyf blankes – twee mans, ‘n vrou en twee meisies – by ‘n brug oor die Basheerivier vermoor. Teen die einde van dieselfde maand is hoofman Jonginamba Deliwe naby Engcobo vermoor. Die volgende maand is leëreenhede en helikopters na Transkei gestuur om die polisie in die veldtog teen Poqo te help.
Poqo se einde
Intussen het Potlako Leballo, wat voorheen sekretaris van die verbode PAC was, in Maseru, hoofstad van Basoetoeland (wat in 1966 die onafhanklike staat Lesotho geword het), in ‘n persgesprek verklaar dat hy die leier van Poqo was, wat volgens hom toe 165 000 lede gehad het. Hy het gesê dat hy die teken vir ‘ n algemene opstand van Poqo oor die hele Suid-Afrika heen sou gee. Volgens latere aanduidinge sou dit op 8 en 9 April plaasgevind het.
Iets meer as ‘n week vóór daardie datum, op 29 Maart,het die polisie in die Vrystaat twee swart vroue in hegtenis geneem. Een van hulle was Leballo se sekretaresse, wat by haar 150 briewe gehad het wat aan die leiers van Poqo-selle oor die hele land heen geadresseer was. Die manne is in hegtenis geneem, met die gevolg dat van die beoogde opstand niks gekom het nie.
Op 3 April het die polisie van Basoetoland ‘n klopjag op Leballo se kantoor uitgevoer en lyste met die name van tussen 15 000 en 20 000 Poqo-lede in die hande gekry. Teen dié tyd was meer as 3 000 Poqo-lede reeds in hegtenis geneem en, namate al hoe meer wetsgehoorsame swartmense met inligting na vore gekom het, kon sterkter teen die organisasie opgetree word. Teen die end van 1963 het hy prakties opgehou om te bestaan.
Polisie slaan toe op Rivonia
Intussen het Umkonto we Sizwe e.a. organisasies voortgegaan met sabotasie en die werwing van lede, hoofsaaklik swartmense, van wie heelparty na die buiteland gestuur is om militêre opleiding in swart state en Kommunistiese lande te ondergaan. Op 12 Julie 1963 het die polisie ‘n groot slag geslaan deur ‘n geslaagde strooptog uit te voer op die plaas Lilliesleaf in Rivonia, omtrent 16 km ten noorde van Johannesburg.
Dit het geblyk die hoofkwartier en senuweesentrum van Umkonto we Sizwe te wees. Meer as honderd kaarte is gevind waarop ‘n menigte sabotasie-trefpunte aangedui is. Onder hulle was polisiestasies, poskantore, Bantoesakekantore, elektriese kragsentrales, spantorings en kabels, treinspore en telefoondrade en –kabels. Baie van hulle was toe reeds gesaboteer.
Operation Mayibuye
Daar is ook ‘n dokument gevind me die titel Operation Mayibuye. Dit het ‘n uitvoerige plan bevat vir ‘n terroristestryd, gevolg deur ‘n volskaalse rebellie teen die Regering. Volgens die plan sou twee gebiede in Kaapland, een in Natal en een in Transvaal as basisse dien. Opgeleide terroriste sou per skip of per vliegtuig na suid-Afrika gebring word waar minstens 7 000 goed gewapende manne in die vier basisgebiede op hulle sou wag om met die stryd te begin.
Volgens ander dokumente wat daar gevind is, sou die “nasionale opperbevel” van die beweging sorg vir 210 000 handgranate, 48 000 landmyne, tydmeganismes vir bomme en tonne ander plofstowwe – genoeg, is verklaar, om ‘n stad so groot soos Johannesburg te verwoes. Ten dien einde is naby Krugersdorp ‘n ander plasie, Travallyn, gekoop, waar ‘n fabriek en ‘n arsenaal ingerig sou word.
Onder die tiental mense wat daar in hegtenis geneem is, was leidende wit en swart Kommuniste. Van die wit leiers het vóór en ná die inhegtenisneming daarin geslaag om uit die land te vlug. Die oorblywendes, onder wie Nelson Mandela en Walter Sisulu, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Elders in die land is ook lede van Umkonto we Sizwe, die Nationale Liberation Front, die African Resistance Movement, e.d.m. aangekeer en tot tronkstraf gevonnis.
John Harris se stasiebom
Op 24 Julie 1964 is ‘n gruwelike daad gepleeg deur John Harris, ‘n onderwyser en lid van die African Resistance Movement. Hy het op die Johannesburgse stasie ‘n handsak gelos met ‘n bom daarin wat na ‘n rukkie ontplof het. ‘n Bejaarde vou, mev. Ethel Rhys, het brandwonde opgedoen waaraan sy die volgende maand beswyk het; haar kleindogter wat by haar was, is vermink en ‘n twintigtal ander mense beseer.
Harris het gesê dat hy iets skouspelagtigs wou doen. Blykbaar wou hy toon dat dit nog nie klaarpraat met die African Resistance Movement nie. Hy is ter dood veroordeel en op 1 April 1965 tereggestel. Onder diegene wat die verassing van sy oorskot bygewoon het, was die 15-jarige Peter Hain, vir wie Harris ‘n held was. Hain sou later ‘n leidende rol speel in die sportaksie teen Suid-Afrika in die buiteland.
Op die dag waarop die saak teen Harris ten einde geloop het, is drie swartmans in Pretoria tereggestel weens moord op ‘n ander swartman wat in ‘n aantal sabotasiesake getuienis sou afgelê het. Hy is in opdrag van Umkonto we Sizwe deur die drie om die lewe gebring. Dit was, in die woorde van die hoofregter wat die drie se appèl teen die doodvonnis verwerp het, ‘n “berekende, koelbloedige moord”. Tog het die verwerping van die appèl tot groot protesbetogings in die buiteland aanleiding gegee, en het selfs die toenmalige sekretaris-generaal van die VVO, U Thant, vir hulle ingetree.
Abraham Fischer se rol
In 1964 het Abraham Fischer, wat in die Rivonia-saak hoof-advokaat vir die verdediging was, saam met 13 ander tereggestaan op aanklagte ingevolge die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme. Fischer, wat uit ‘n baie gesiene Afrikaanse familie van die Vrystaat gestam het, het geblyk die leier van die party in Suid-Afrika te wees. Hy is vir die duur van die verhoor op borgtog vrygelaat, maar het hom uit die voete gemaak nadat verdoemende getuienis afgelê was, o.m. deur Gerard Ludi, wat as geheime agent van die Veiligheidspolisie daarin geslaag het om die Kommunistiese Party binne te dring.
Fischer het hom vermom en byna ‘n jaar lank op vrye voete in Suid-Afrika gebly om sy Kommunistiese bedrywighede ondergronds voort te sit. Op 11 November 1965 is hy weer in hegtenis geneem en op 9 Mei 1966 is hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklagte van sbotasie, bedrog en oortreding van die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme.
In 1974 het geblyk dat hy kanker het en die volgende jaar is toegelaat dat hy aan die huis van sy geneesheer-broer in Bloemfontein verpleeg word. Daar is hy op 8 Mei 1975 oorlede. Nadat hy gevonnis was, het geblyk dat hy ‘n leidende rol in die Rivonia-sameswering gespeel het en saam met dié wat hy verdedig het, tereg behoort te gestaan het.
Sportbeleid word ‘n strydvraag
Die kwessie van nie-blankes se deelname aan sport in Suid-Afrika het in die jare sestig ‘n belangike strydvraag geword. Buitelandse organisasies het ‘n belangrike rol gespeel in die plan om Suid-Afrika tot verandering van sy beleid te beweeg deur hom op grond van diskriminasie teen nie-blankes uit internasionale sport te weer.
In 1948 reeds is die Suid-Afrikaanse Tafeltennisunie uit die Internasionale Tafeltennisfederasie geskors en erkenning verleen aan die Suid-Afrikaanse Tafeltennisraad, ‘n nie-blanke liggaam, wat as “die enigste veelrassige tafeltennisraad in Suid-Afrika” voorgehou is.
In die jare sestig en sewentig is die een aapassing na die ander gedoen in pogings om dit vir Suid-Afrikaanse sportmanne moontlik te maak om internasionaal mee te ding, en terselfdertyd gesonde sportverhouding in Suid-Afrika te kweek.
Aanvanklik skeiding op sportgebied
Die aanvanklike regeringsbeleid is op 20 Maart 1962 deur senator Jan de Klerk as Minister van Binnelandse Sake geskets in ‘n verklaring waarin hy gesê het dat blank en nie-blank in Suid-Afrika hul sportbedrywighede, op watter gebied ook al, apart moet reël. “Dit moet vermy word dat rasse gemeng word in (Suid-Afrikaanse) spanne wat aan sportbyeenkomste binne die Republiek of in die buiteland deelneem,” het hy gesê.
”Waar sporttoernooie tussen state buite die landsgrense gereël word, het die Regering geen beswaar dat ‘n blanke en/of nie-blanke span van Suid-Afrika aan wedstryde daar deelneem nie. Die Regering kan nie toelaat dat spanne van die Republiek uit blankes en nie-blankes saamgestel word nie. Omgekeerd kan nie toegelaat word dat spanne wat so saamgestel is, die Republiek binnekom nie.”
Kontingent van blanke en nie-blanke boksers
Met die oog op die Olimpiese Spele, waarheen elke land slegs een span kan stuur, is aan die hand gedoen dat Suid-Afrika dan ‘n “kontingent” van blankes en nie-blankes stuur, waarvan die blanke lede die blankes van Suid-Afrika sou verteenwoordig en die nie-blankes die nie-blankes. In Maart 1963 is so ‘n “kontingent” na ‘n internasionale toernooi in die Verenigde State gestuur. Dit het bestaan uit vyf blankes en drie swartes. Die twee groepe het in verskillende vliegtuie ‘n kwartier namekaar uit Johannesburg vertrek, hulle in Londen by mekaar aangesluit en bymekaar gebly tot hul terugkeer in Suid-Afrika met een titel wat deur ‘n blanke bokser verwerf en en een deur ‘n swarte.
SA nie by Olimpiese spele toegelaat
Ingevolge dié formule het die Suid-Afrikaanse Olimpiese Vereniging voorlopig ‘n “kontingent” gekies wat Suid-Afrika in 1964 op die Olimpiese Spele in Tokio sou verteenwoordig. Dit het die land se beste en nie-blanke sportmanne ingesluit en hulle sou almal Springbokkleure kry. In Junie 1964 is Suid-Afrika egter deelname aan die Spele geweier. Die Internasionale Olimpiese Komitee het as voorwaarde gestel dat die Suid-Afrikaanse Olimpiese Vereniging alle rassediskriminasie in sport in die Suid-Afrikaanse pers en oor die radio moet verwerp, en daarvoor was die Suid-Afrikaanse liggaam nie te vinde nie.
Europese atletiektoer afgelas
Omstreeks dié tyd is ‘n voogenome Europese toerr van ‘n “kontingent” bestaande uit blanke en nie-blanke atlete deur die Suid-Afrikaanse Atletiekunie afgelas. Agterna het geblyk dat dit gedoen is omdat die paspoorte van twee swart atlete, Humphrey Khosi en Beno Malaka, wat in dié stadium gesamentlike houers van die Suid-Afrikaase rekord vir die halfmyl was, deur die Departement van Buitelandse Sake teruggehou is.
Die Departement het dit daarteen gehad dat dieselfde kleure aan die blanke en nie-blanke lede van die span toegeken sou word. Daar is verduidelik dat die lede van so ‘n “kontingent” nie saam mag reis nie, nie in die buiteland by dieselfde plekke mag tuisgaan nie, nie daar aan dieselfde nommers mag deelneem nie, nie teen mekaar mag meeding nie en nie dieselfde kleure of kentekens mag dra nie.
Sanroc gestig
Intussen is op 13 Januarie 1963 die South African Non-Racial Olympic Committee (Sanroc) gestig, wat later o.l.v. die Kleurling Denis Brutus ‘n leidende en effektiewe rol in die sportaksie teen Suid-Afrika gespeel het.
In 1964 is die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging deur die internasionale sokker-beheerliggaam, FIFA, geskors. In latere jare sou nog meer Suid-Afrikaanse sportliggame hul lidmaatskap van internasionale liggame verloor.
Dr. Verwoerd se toespraak by Loskopdam
In 1965 het die kwessie van Maori’s in die All Black-rugbyspan wat Suid-Afrika in 1967 sou besoek, te berde gekom. Op 4 September 1965 het dr. Verwoerd in ‘n toespraak by Loskopdam gesê dat enige span wat Suid-Afrika besoek, hom by die land se gebruike en tradisies sal moet neerlê. Soos sen. De Klerk vier dae later uitdruklik gesê het, het dit beteken dat geen Maori’s as lede van ‘n besoekende All Black-span aanvaarbaar sou wees nie. In die lig hiervan het die Nieu-Seelandse Rugby-unie in Februarie 1966 besluit om geen span in 1967 na Suid-Afrika te stuur nie.
Twee Amerikaanse vliegdekskepe in gedrang
In 1965 is Suid-Afrika se betrekkinge met die Verenigde State ook geraak deur die Regering se toepassing van sy kleurbeleid. In Mei sou die vliegdekskip Independence na Tafelbaai gekom het, maar die besoek is afgelas nadat die Regering laat weet het dat vliegtuie van die skip wat op die lughawens D.F. Malan en Ysterplaat wil neerstryk, geen nie-blankes onder hul bemannings mag hê nie.
In Februarie 1967 het ‘n ander Amerikaanse vliegdekskip, die Franklin D. Roosevelt, wel Kaapstad aangedoen. Hy was op pad van Viëtnam na die Verenigde State en het voorrade kom inneem. As gevolg van ‘n agitasie in die Verenigde State is die bemanning van die skip deur die Amerikaanse owerheid belet om in Kaapstad aan wal te gaan. Daardeur moes voorkom word dat hulle aan Suid-Afrika se apartheidsmaatreëls blootgestel word. Die uitvoerige reëlings wat vir die
onthaal van die skip se bemanning getref was, het deur die mat geval en daar was bittere ontevredenheid, ook aan boord van die skip.
Eerste SWA-saak in Wêreldhof
Die stryd teen die Suid-Afrikaanse aanwesigheid in Suidwes-Afrika is in die jare sestig verhewig. In 1960 is ‘n saak teen Suid-Afrika by die Wêreldhof in Den Haag aanhangig gemaak deur Liberië en Ethiopië, wat op ‘n konferensie van onafhanklike Afrika-state daartoe aanewys is omdat hulle lid was van die Volkebond, wat Suid-Afrika ná die Eerste Wêreldoorlog met die mandaat oor Suidwes-Afrika beklee het.
Hulle het beweer dat Suid-Afrika die bepalings van die mandaat geskend het, o.m. deur versuim om die welsyn van die bevolking van Suidwes-Afrika te bevorder en deur die inrigting van militêre basisse in die gebied. Hoewel daar mense was wat gereken het dat dit in die lig van die algemene vyandigheid en bevooroordeeldheid teenoor Suid-Afrika geen sin sou hê om so ‘n geding teen te staan nie, het dr. Verwoerd as Eerste Minister besluit dat dit wel gedoen moet word. Die saak het tot in Julie 1966 geduur.
Intussen het die Algemene Vergadering van die VVO en die komitee insake Suidwes-Afrika wat deur die Algemene Vergadering aangewys was, voortgegaan omd ie kwessie van Suidwes-Afrika tebespreek, petisionarisse aan te hoor enbesluite te neem ondanks besware van Suid-Afrika dat die saak sub judice is.
Carpio en De Alva besoek SWA
In 1962 het Suid-Afrika ingewillig dat die gebiedbesoek word deur die voorsitter en ondervoorsitter van die Suidwes-komitee, Vitorio D. Carpio en Salvador Martinez de Alva onderskeidelik. Ná afloop van hul besoek het hulle en verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering ‘n gesamentlike verklaring uitgereik waarin gesê is dat daar in Suidwes-Afrika geen beduidenis van ‘n bedreiging vir die vrede bestaan nie,dat daar niks is wat op militarisasie van die gebied dui nie en dat daar geen sprake is dat die inheemse bevolking uitgewis word nie, soos dikwels beweer is.
Dr. Verwoerd het ook akkoord gegaan met ‘n voorstel van die twee dat die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die nie-blankes versnel word en gesê dat daar aan ‘n vyfjaarplan gewerk word.
— — — oOo — — —
Verslag aan Suidwes-komitee
Die publikasie van die gunstige bevindinge het groot ontevredenheid gewek in kringe wat Suid-Afrika vyandiggesind was en Carpio het haastig teruggekrabbel. Hy het beweer dat hy die gesamentlike verklaring onder druk onderteken het terwyl hy ongesteld was nadat hy vergiftigde koffie ingekry het. Twee maande later het hy en Martinez de Alva ‘ n gesamentlike verslag aan die Suidwes-komitee voorgelê waarin hulle ‘n heeltemal ander voorstelling van die toestand in Suidwes-Afrika gegee het.
Hulle het Suid-Afrika daarvan beskuldig dat hy die nie-blankes van Suidwes-Afrika alle basiese menseregte ontneem het en niks gedoen het om hulle op onafhanklikheid voor te berei nie. Volgens die verslag was dit die “oorweldigende begeerte” van die nie-blankes dat die VVO die beheer oor Suidwes-Afrika moet oorneem.
Odendaal-kommissie aangestel
In September 1962 het die Regering die Odendaal-kommissie aangestel omd ie toestand in Suidwes-Afrika te ondersoek. In Desember 1963 het die kommissie verslag gedoen. Hy het bevind dat, omdat daar so baie verskillende bevolkingsgroepe in Suidwes-Afrika woon, tuislande vi die tien nie-blanke groepe, wat 80 persent van die bevolking uitmaak, ingestel moet word.
Voorts is omvattende planne, wat honderde miljoene rande sou kos, vir die ekonomiese ontwikkeling van die gebied aan die hand gedoen. Die Regering het die verslag aanvaar en begin om groot bedrae aan die uitvoering van die voorstelle te bestee.
Beskuldiging teen SA in Wêreldhof
In die Wêreldhof is Ethiopië en Liberië gedwing om hul standpunt te wysig. Aanvanklik het hulle beweer dat Suid-Afrika die nie-blankes van Suidwes-Afrika opsetlik onderdruk en uitbuit. Die beskuldiginge was hoofsaaklik gegrond op beweringe van uitgewekenes uit Suidwes-Afrika wat as petisionarisse voor komitees van die VVO se Algemene Vergadering verskyn het.
Die advokaat vir Liberië en Ethiopië het egter geen getuies opgeroep om die beweringe in die hof, waar hulle deur kruisverhoor getoets kon word, te herhaal nie. Suid-Afrika het aangebied om al die koste van sulke getuies te betaal indien die applikante hulle souoproep, maar die aanbod is nie aanvaar nie.
Die Suid-Afrikaanse regspan, o.l.v. adv. D.P. de Villiers, het die beskuldigings so oortuigend weerlê dat die advokaat vir Liberië en Ethiopië later verplig was om alle beskuldigings van onderdrukking te laat vaar en Suid-Afrika se feitestellings te aanvaar. Hy het hom toe verlaat op die bewering dat Suid-Afrika deur die toepassing van apartheid in Suidwes-Afrika ‘n internasionale norm wat alle diskriminasie belet, geskend het.
SA se verweer
In antwoord daarop het die Suid-Afrikaanse regspan ontken dat so ‘n internasionale norm bestaan en daarop gewys dat in talle lande onderskeid gemaak word tussen verskillende bevolkingsgroepe, o.m. in Liberië en Ethiopië self. Voorts is gewys op die nadele wat dit vir die nie-blankes van Suidwes-Afrika sou hê as almal oor dieselfde kam geskeer word, en die voordele wat afsonderlike ontwikkeling vir al die betrokkenes inhou. Die oogmerk, so is gesê, is om geregtigheid aan almal te laat geskied, nie net aan party nie.
Uitspraak deur die Wêreldhof
Op 18 Julie 1966 is die saak teen Ehtiopië en Liberië uitgewys. Die stemme van die 14 regters het gestaak, maar met die beslissende stem van die voorsitter, sir Percy Spender van Australië, is bevind dat die applikante geen reg of belang het om bedenkinge oor Suid-Afrika se nakoming van die mandaat te opper nie.
Eerste terroriste-inval in SWA
Die uitspraak het woede gewek in kringe waar dit as ‘n uitgemaakte saak beskou is dat die saak teen Suid-Afrika uitgewys sou word en dit dan as regverdiging vir verskerpte optrede teen hom sou dien. Einde Augustus het die eerste terroriste-inval in Suidwes-Afrika ook plaasgevind. In die noorde van die gebied het die polisie met ‘n bende terroriste slaags geraak. Twee is doodgeskiet, een swaar gewond en nege aangehou.
Rhodesië eensydig onafhanklik
Teen die einde van 1965 het nog iets gebeur wat in die daaropvolgende jare internasionale reperkussies vir Suid-Afrika sou hê. Dit was die eensydige onafhanklikheidsverklaring van Rhodesië op 11 November. Brittanje het gereageer deur ekonomiese sanksies teen Rhodesië in te stel in die hoop dat dit spoedig ‘n einde aan die Rhodesiese “rebellie” sou maak.
Toe dit blyk dat dit nie die gewenste utiwerking sou hê nie, het Brittanje sy toevlug geneem tot die Veiligheidsraad van die Verenigde Volke, wat op 16 Desember 1966 ‘n in- en uitvoerverbod teen Rhodesië ingestel het. Dit het belangrike Rhodesiese uitvoerprodukte soos tabak en noodsaaklike invoerprodukte soos olie, motorvoertuie, wapens en ammununisie geraak. Op 19 Mei 1968 is die verbod uitgebrei, sodat dit alle handel met Rhodesië gedek het.
Implikasies vir SA
In Suid-Afrika was daar geesdriftige steun vir die Rhodesiese onafhanklikheidsverklaring, maar die land het daardeur in ‘n baie netelige posisie beland. Aan die een kant was dit klaarblyklik in Suid-Afrika se belang dat Rhodesië nie deur sanksies op die knieë gedwing word nie, omdat dit groot stukrag sou verleen aan die idee om sanksies ook teen Suid-Afrika te stel.
Aan die ander kant kon Suid-Afrika dit nie bekostig om Rhodesië alte openlik en op uittartende wyse te help om die sanksies te omseil nie, omdat dit die eis kon versterk dat die sanksies teen Rhodesië ook teen hom toegepas word. Daar was buitendien diegene wat dáárop aangedring het, maar veral die Westerse lande het hulle daarteen verset, o.m. omdat hulle ekonomies swaar daardeur getref sou word. Dit het die politieke waarde van ‘n sterk Suid-Afrikaanse ekonomie,wat juis toe so sterk aan die opswaai was, bewys.
SA se standpunt oor Rhodesië
Onder dr. Verwoerd het Suid-Afrika die middeweg tussen openlike steun en glad geen steun nie gevolg. Die dag ná die Rhodesiese onafhanklikheidsverklaring reeds het dr. Verwoerd gesê dat Suid-Afrika ‘n beleid van geen inmenging nie in die geskil tussen Brittanje en Rhodesië sou volg. Terselfdertyd sou hy aan geen boikot van of sanksies teen Rhodesië deelneem nie. Suid-Afrika, het hy gesê, wil “normale en vriendskaplike betrekkinge” met albei lande behou en streef na vriendskap met watter regering ook al deur die volk van Rhodesië aan die bewind gestel word.
In die begin van die Volksraadsitting in Januarie 1966 het sir De Villiers Graaff daarop aangedring dat Suid-Afrika duideliker kleur moet beken. Hy wou hê dat die Smith-bewind de facto erken moet word en “buitengewone hulp” aan Rhodesië verleen moet word. Suid-Afrika, het hy gesê, moet bereid wees om risiko’s te loop.
Dr. Verwoerd het in sy antwoord gesê dat niemand meer simpatiek staan teenoor die blankes van Rhodesië as die Regering nie, maar dat dit duidelik in Suid-Afrika se belang is om nie by die stryd betrek te word solank dit vermy kan word nie. Eweseer, het hy gesê, is dit in Rhodesië se belang. “’n Suid-Afrika wat met hom in vennootskap is, sou vir hom van veel minder waarde wees. Die oop deur wat hy op die oomblik het, kan dan miskien vir albei lande gesluit word.”
Voortgaande het dr. Verwoerd herhaal dat Suid-Afrika in geen omstandighede aan boikotte of sanksies sal deelneem nie. Die handel met Rhodesië sal voortduure, en “as daar produsente of handelaars is wat olie of petrol het om te verkoop, hetsy aan hierdie land of aan die Portugese, Basoetoland, Rhodesië of Zambië, dan is dit hul saak en bemoei ons ons nie daarmee nie”. Mense wat geskenke na Rhodesië wou stuur, ongeag of dit suiker of botter of petrol of olie is, kon dit ook doen.
In Februarie 1966 het dr. Verwoerd hom weer oor die voortsetting van die “normale handel” met Rhodesië uitgelaat en gesê normale h andel slaan nie net op handelsware wat vantevore verkoop is nie. “Normale handel is handel sonder dat jy toelaat dat dit ingekort word.” As ‘n handelaar sy handel utibrei, word dit nie abnormale handel nie; dit word net beter handel.
Dié houding van Suid-Afrika, wat dit o.m. vir Rhodesië moontlik gemaak het om in sy oliebehoeftes te voorsien, het baie daartoe bygedra dat die Smith-bewind so lank kon uithou, maar het toenemende diplomatieke e.a. eise aan Suid-Afrika gestel. Daar is nooit formeel diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Rhodesië aangeknoop nie, maar die twee lande het verteenwoordigers uitgeruil wat as geakkrediteerde diplomatieke verteenwoordigers bekend gestaan het.
SA Polisie in Rhodesië
In 1966 is lede van die Suid-Afrikaanse Polisiemag na Rhodesië gestuur om te help in die stryd teen terroriste wat die land uit Zambië binnegekom het. As rede vir die stap is aangevoer dat Suid-Afrikaanse uitgewekenes aan die terroriste-inval in Rhodesië deelneem, met Suid-Afrika as uiteindelike doelwit.
Dr. Verwoerd geniet hoë aansien
Mede a.g.v. die Rhodesiese kwessie, Brittanje se rol daarin en dr. Verwoerd se hantering daarvan, het lg. se aansien by die Suid-Afrikaanse publiek, ook by die Engelssprekende bevolkingsdeel, besonder hoog gestyg. Dit het treffend tot uiting gekom in die algemene verkiesing van 30 Maart 1966, waarin die Nasionale Party 126 Volksraadsetels uit ‘n totaal van 166 gewen het. Dit was meer as wat enige party vantevore in die Vollksraad gehad het.
Dr. Verwoerd ontmoet kapt. Jonathan
Later in die jaar het sy aansien nog hoër gestyg a.g.v. die gunstige uitspraak van die Wêreldhof in die Suidwes-saak, en op 2 September het hy ‘n nuwe tydperk in Suid-Afrika se betrekkinge met Swart Afrika ingelui toe hy kaptein Leabua Jonathan, eerste minister van Basoetoland (wat die volgende maand die onafhanklike staat Lesotho sou word) in Preoria ontvang het. Dit was die eerste ontmoeting tussen ‘n Suid-Afrikaanse eerste minister en die eerste minister van ‘n swart staat op Suid-Afrikaanse bodem.
Moord op dr. Verwoerd
Dit het alles daartoe bygedra dat dr. Verwoerd op die kruin van die golf was toe hy vier dae later, op 6 September, in die Volksraaddeur ‘n Volksraadsbode, Demitrio Tsafendas, vermoor is. Die herinnering aan wat in die voorafgaande jare in Suid-Afrika gebeur het, het baie mense die oorylde gevolgtrekking laat maak dat dr. Verwoerd die slagoffer van ‘n sameswering, waarskynlik deur Kommuniste gesmee, geword het en dat Tsafendas maar net die werktuig was.
‘n Deurtastende ondersoek het egter aan die lig gebring dat Tsafendas, ‘n waansinnige met gedrogtelike hallusinasies, uit eie beweging en op eie houtjie opgetree het. Hy is voor die hof gedaag, maar regter A.B. Beyers het bevind dat die man in so ‘n mate geestelik verstoord was, dat hy nie eens verhoor kon word nie. Die regter het gelas dat hy in ‘n tronk aangehou word “hangende die beskikking van die Staatspresident”.
Die dood van dr. Verwoerd het ‘n enorme leemte gelaat. In so ‘n mate het hy die politieke toneel oorheers dat baie mense in die dae net ná sy dood dit moeilik gevind het om hulle Suid-Afrika sonder hom voor te stel.
Mnr. B.J. Vorster eerste minister
Op 13 September het die koukus van die Nasionale Party vergader om ‘n nuwe leier en dus ‘n nuwe eerste minister vir Suid-Afrika te kies. Die keuse het geval op die 50-jarige mnr. B.J. Vorster, wat sedert 1961 Minister van Justisie was en hom in dié hoedanigheid onderskei het deur sy optrede teen die ondermynende en revolusionêre organisasies in die vroeë jare sestig.
Vooraf was daar ook heelwat steun vir mnr. B.J. Schoeman, die 61-jarige Minister van Vervoer, maar op die koukusvergadering het mnr. Schoeman gesê dat hy hom nie verkiesbaar stel nie. Terwyl Suid-Afrika voor een van die ernstigste tydperke in sy geskiedenis staan, het hy verduidelik, is dit gebiedend noodsaaklik dat daar nie die geringste sweem van verdeeldheid moet wees nie.
Mnr. Vorster is toe gekies, en gouer as wat die meeste mense kon voorsien, het hy die leemte gevul wat deur die dood van dr. Verwoerd gelaat is, ofskoon belangrike verskille in benadering tussen hom en die voorganger na vore getree het.
Dr. Verwoerd se siening van sake
Dr. Verwoerd het sy magistrale posisie in die Suid-Afrikaanse politiek tot groot hoogte aan die oorweldigende krag van sy intellek en sy onverbiddelike logika te danke gehad. Hy was by uitstek die man van die idee wat noulettent gewaak het oor die onskendbaarheid van die ideë wat hy voorgestaan het – veral die skeidingsgedagte, wat hy van bo tot onder deurgetrek het.
Vir hom het die uiteindelike onafhanklikwording van die swart tuislande op dieselfde lyn gestaan as stappe om te voorkom dat wit en swart geleerdes in dieselfde wetenskaplike vereniging sit, en nêrens langs daardie lyn kon iets geduld word wat die strakheid daarvan sou versteur nie. Aan sy ideë het hy vasgehou in die onwrikbare oortuiging dat hulle die beste waarborg vir draaglike verhouding in dié komplekse land bied.
Mnr. Vorster se siening van sake
Mnr. Vorster het in die strewe na goeie menslike verhoudinge, wat hy uit die staanspoor as sy hoogste prioriteit verkondig het, ook die logika in ag geneem, maar eerder die logika van feitelike situasies. Nie in dieselfde mate as dr. Verwoerd het hy hom deur ‘n vooropgestelde plan, ‘n eindvisie, laat lei nie. Dit was ook meer in sy aard om eerder met mense te wil werk as met ideë.
Dit was al klaar genoeg om opvallende aksentverskuiwings te veroorsaak. Daarby het gekom dat die wêreldomstandighede ingrypend verander het sedert hy Eerste Minister geword het en hy hom noodwendig daarby moes aanpas soos enige ander man in sy posisie sou moes gedoen het.
Mnr. Vorster ontmoet kapt. Jonathan
In Januarie 1967 het kaptein Jonathan van Lesotho mnr. Vorster in Kaapstad besoek – dié keer as eerste minister van ‘n staat wat reeds onafhanklik geword het. Anders as tydens sy besoek aan Pretoria vier maande vantevore, het die twee eerste ministers nie net op kantoor samesprekinge gevoer nie, maar ook saam in ‘n Kaapstadse hotel geëet.
Uitwaartse beleid
Vyf maande nadat hy eerste minister geword het, het mnr. Vorster die eerste aanduidinge gegee van wat later die oorheersende kenmerk van sy eersteministerskap sou word: die strewe om Suid-Afrika se betrekkinge met Afrika en die res van die wêreld te normaliseer – op voorwaarde dat die wêreld “Suid-Afrika aanvaar soos hy is”.
Op 17 Februarie 1967 het hy in Parow gesê dat die Nasionale Party se vernaamste taak vorentoe is om Suid-Afrika te lei om ten volle deel te word van en deel te hê aan die wêreld. Enkele weke later het hy op Oudtshoorn gesê dat hy dit as deel va sy plig as Eerste Minister sien om “my mense te lei om saam te loop in die wêreld van verskillende volke”. Dit was die kern van wat hy later self, in ‘n radiorede op 31 Mei 1967, as sy uitwaartse beleid bestempel het.
Nuwe sporbeleid
In die kader van sy uitwaartse beweging het o.m. die sportbeleid gepas wat hy op 11 April 1967 in die Volksraad aangekondig het. Hy het o.m. gesê dat die Regering nie aan lande met wie Suid-Afrika tradisionele sportbetrekkinge het, sal voorskryf wie by hul spanne ingesluit mag word en wie nie.
Dit het klaarblyklik beteken dat Maori-rugbyspelers opgeneem kan word in ‘n All Black-span wat Suid-Afrika besoek, en later het mnr. Vorster dit ook uitdruklik gesê. In 1970 het toe ‘n All Black-span gekom met drie Maori’s en een speler van Samoaanse herkoms in sy gledere. In 1971 is dit gevolg deur besoek van ‘n Franse rugbyspan wat ‘n swartman ingesluit het.
In sy toespraak van 11 April het mnr. Vorster ook gesê dat sport binne Suid-Afrika deur die vier bevolkingsgroepe apart beoefen en geadministreer sal word, maar Olimpiese spanne sal, omdat die Internasionale Olimpiese Komitee dit as volstrekte voorwaarde eis, as een kontingent onder die Suid-Afrikaanse vlag optree.
IOK-komitee besoek SA
In September 1967 het ‘n spesiale komitee van die IOK Suid-Afrika besoek om toestande hier te ondersoek en op die sportgeleenthede vir nie-blankes in te gaan. Vanweë die komitee se gunstige verslag en die “besliste versekering” dat Suid-Afrika ‘n veelrassige span, op grond van verdienste gekies, vir die Olimpiese Spele sou saamstel, het die IOK in Februarie 1968 besluit dat Suid-Afrika toegelaat sou word tot die Spele wat daardie jaar in Mexiko gehou sou word. Dit is gedoen met die verstandhouding dat die SA Olimpiese Komitee sou voortgaan met sy pogings om alle vorme van rassediskriminasie uit amateursport verwyder te kry.
SA uit IOK geskors
Die besluit van die IOK het skerp protes uitgelok van veral swart state en Kommunistiese lande, wat gesê het dat hulle van die Spele sou wegbly as Suid-Afrika daaraan deelneem. Toe Mexiko boonop sê dat hy nie die veiligheid van die deelnemers sal kan waarborg nie, is die besluit i April herroep. Twee jaar later, in 1970, is Suid-Afrika as lid van die IOK geskors.
D’Oliveira-episode
In 1968 is die sportkwessie deur die D’Oliveira-episode vertroebel. Basis d’Oliveira, ‘n Kleurling van Kaapstad, het hom enkele jare vantevore in Engeland gevestig, waar hy as krieketspeler groot opgang gemaak het. Mettertyd is hy gekies om vir Engeland te speel. Toe ‘n MCC-span vir ‘n toer na Suid-Afrika in die somer van 1968-’69 gekies moes word, is hy nie daarin opgeneem nie, tot groot ontevredenheid van die Anti-Apartheid Movement, Sanroc en andere. Toe ‘n lid van die span, ‘n spesialis-bouler, daarna onfiks verklaar word, is D’Oliveira, wat meer bepaald ‘n kolwer was maar ook as bouler gebruik kon word, onverwags in sy plek aangewys.
Op 17 September het mnr. Vorster gesê dat die span soos dit toe saamgestel was, nie meer die span van die MCC was nie, maar van die Anti-Apartheid Movement, Sanroc e.a. politieke teenstanders van die Suid-Afrikaanse regering. Suid-Afrika, het hy gesê, is nie bereid om ‘n span te ontvang wat aan hom opgedwing word deur mense wie se belange nie by die spel is nie, maar sekere politieke doelwitte wil bereik.
Krieketbande met Engeland verbreek
Dit was die end van krieket tussen Suid-Afrika en Engeland. In 1970 sou ‘n Suid-Afrikaanse krieketspan na Engeland gaan. Maande lank is in Engeland daarteen stemming gemaak deur die Stop the 70 Tour Committee van die jong Peter Hain, die Anti-Apartment Movement, Sanroc, e.a. Geruime tyd het die Engelse krieketowerheid voet by stuk gehou, maar op 22 Mei 1970 het die Krieketraad onder druk van die Arbeidersregering van Brittanje die uitnodiging teruggetrek.
In Mei 1970 het die Krieketraad besluit dat geen verdere toere tussen Engeland en Suid-Afrika kan plaasvind tensy krieket in Suid-Afrika op veelrassige grondslag gespeel word en spanne wat die land moet verteenwoordig, ook op dié grondslag gekies word nie. In 1971 is ‘n kriekettoer na Australië afgelas.
Probleme met rugbytoere
In 1969-70 kon ‘n Springbok-rugbyspan nog ‘n toer na Brittanje onderneem, maar dit is deur anti-Suid-Afrikaanse betogings, met Peter Hain aan die voorpunt, ernstig ontwrig. Dieselfde het gebeur op ‘n besoek van ‘n Springbok-rugbyspan aan Australië in 1971. In 1973 het die Nieu-Seelandse Rugby-unie, wat in 1970 ‘n span na Suid-Afrika gestuur het, ‘n uitnodiging aan die Springbokke om Nieu-Seeland te besoek, teruggetrek in opdrag van die land se eerste minister, wat gesê het hy vrees dat die toer aanleiding sou gee tot die grootste wanorde en geweldpleging in die land se geskiedenis.
Diplomatieke bande met Afrika
Mnr. Vorster se uitwaartse beleid het ook tot uiting gekom in die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met die swart staat Malawi in September 1967. Wat tot uitruil van diplomate gelei het. Vir die eerste maal het Suid-Afrika ‘n swart diplomaat ontvang. In Mei 1971 het mnr. Vorster ‘n besoek aan Malawi gebring en dit is gevolg deur ‘n staatsbesoek van pres. Banda aan Suid-Afrika in Augustus 1971.
Veldtog teen mnr. Vorster
Intussen het in sekere kringe binne die Nasionale Party ‘ n veldtog van verdagmaking teen mnr. Vorster begin. Die aanvalle is mettertyd toegespits op die Regering se sporbeleid, die aanknoop van betrekkinge met ‘n swart staat, die binnekoms van so baie immigrante en die Regering se strewe na nouer samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, wat sterk tot uiting gekom het in mnr. Vorster se toespraak by die hoeksteenlegging van die monument vir die Britse Setlaats op Grehamstad in September 1967.
Daar het hy o .m. gesê: “Die Suid-Afrikaanse nasie sal, as dit nog nie gebeur het nie, uit die mense van hierdie land groei.” Die mense wat aan die veldtog teen hom deelgeneem het, het gesê dat die posisie van die witman, en die Afrikaner in die besonder, bedreig word deur die beleid wat die Regering volg. Daar is beweer dat Afrikanerskap deur Suid-Afrikanerskap verdring sal word.
Kongres van NP in Tvl.
In Augustus 1968 het mnr. Vorster opgetree. Hy het ‘n groot kabinetskommeling onderneem, waarby o.a. dr. Albert Hertzog uitgesit is. In September 1969 is die saak op die kongres van die Transvaalse Nasionale Party op die spits gedryf. Die lede van die kongres is ronduit gevra om hulle uit te spreek teen of vir die Regering se sportbeleid, immigrasiebeleid, die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met swart state en die bevordering van betrekkinge tussen Afrikaans- en Engelssprekendes.
NP skeur
Slegs teen die sportbeleid, veral die feit dat Maori’s in ‘n besoekende All Black-span opgeneem sou kan word, was daar beduidende verset. Agtien afgevaardiges, onder wie dr. Hertzog, het te kenne gegee dat hulle hul nie daarmee kan vereenselwig nie. Diegene wat hulle nie by die beleid van die party wou neerlê nie, is hul lidmaatskap van die Nasionale Party ontneem, wat gelei het tot die stigting van die Herstigte Nasionale Party in Oktober 1969. Vier Volksraadslede, voormalige lede van die Nasionale Party, het hulle daarby aangesluit: dr. Hertzog en mnre. Jaap Marais, W.T. Marais en L.F. Stofberg.
HNP vaar swak
In die algemene verkiesing van 22 April 1970 het die nuwe party 54 kandidate in Transvaal gestel, 14 in Kaapland, 9 in die Vrystaat en 1 in Suidwes-Afrika. Van die 78 is nie een verkies nie en op drie na (in die kiesafdelings Brits, Wondrboom en Waterberg) het almal hul deposito verbeur omdat hulle te min stemme getrek het.
Wetsontwerp op die Verbod op Onbehoorlike Inmenging
Een van die eerste take wat op mnr. Vorster as Eerste Minister gewag het, was om die baie netelige en skerp omstrede Wetsontwerp op die Verbod op Onbehoorlike Inmenging, wat reeds by die wetgewende program vir die tweede Parlementsitting van 1966 ingesluit was, te behartig. Deur sy toedoen is ‘n verstandhouding tussen die Nasionale Party en die Verenigde Party bereik wat meegebring het dat die maatreël ná die eerste lesing na ‘n gekose komitee verwys is.
Aanbeveling van gekose komitee
Die meerderheid in die komitee, wat uit lede van die Nasionale Party bestaan het, het aanbeveel dat die Verteenwoordigende Kleurlingraad waarvoor die 1964-wet voorsiening gemaak het, vergroot en sy wetgewende en uitvoerende magte uitgebrei word; dat die bestaande verteenwoordiging van Kleurlinge in die Parlement en die Provinsiale Raad van Kaapland beëindig word (omdat die gelyktydge voortbestaan van hierdie vorm van verteenwoordiging met verteenwoordiging in die Verteenwoordigende Kleurlingraad botsing sou veroorsaak en die uitbouing van lg. sou strem); en die maatreël oor onbehoorlike politieke ingemenging in gewysigde vorm aangeneem word (om te voorkom dat die ontstaan en ontwikkeling van Kleurlingpartye belemmer word).
Laasgenoemde maatreël moes voorsiening maak vir ‘n verbod op die aktiewe deelname van ‘n lid van een bevolkingsgroep aan die partypolitieke bedrywighede van ‘n ander bevolkingsgroep; op politieke partye met ‘n gemengde lidmaatskap; op finansiële hulp deur ‘n politieke party van een bevolkingsgroep aan ‘n politieke party van ‘n ander bevolkingsgroep; en op die ontvangs deur enige politieke party van geldelike hulp uit die buiteland. Die verteenwoordigers van die Verenigde party in die komitee was daarvoor dat die Kleurlinge die een of ander vorm van ‘n verteenwoordiging in die soewereine Parlement behou.
Drie nuwe wette
Die aanbevelinge van die meerderheid in die komitee het die grondslag gevorm vir drie wette: die Wet op die Verbod op Onbehoorlike Inmenging (wat meegebring het dat die klein Lliberale party met sy veelrassige lidmaatskap ontbind moes word); ‘n wet wat ‘n einde gemaak het aan die verteenwoordiging van Kleurlinge in die Parlement en die Provinsiale Raad van Kaapland; en ‘n wet wat bepaal het dat die Verteenwoordigende Kleurlingraad uit 40 verkose en 20 benoemde lede sou bestaan, met ‘n Uitvoerende Bestuur, deur die VKR aangewys, waarvan die voorsitter deur die Regering benoem sou word.
Parallelle ontwikkeling
Die Regeringsbeleid wat ten grondslag daaraan gelê het, is voorgehou as ‘n beleid van parallelle ontwikkeling.Dit hou in, is gesê,dat die Kleurlinge binne dieselfde geografiese grense as die blankes geleentheid tot selfbeskikking gegee moet word sonder prysgewing van die blankes se selfbeskikkingsreg en met inbegrip van deurlopende gesamentlike braadslaging oor sake van gemeenskaplike belang.
Verteenwoordigende Kleurlingraad saamgestel
Die eerste verkiesing van lede van die Verteenwoordigende Kleurlingraad het op 24 September 1969 plaasgevind. Die Arbeidersparty, wat hom sterk teen die Regering se beleid uitgespreek (en dit doodgewoon as “apartheid” veroordeel het) het 26 setels verower, die Federale Kleurling-Volksparty, wat die Regeringsbeleid gunstiger gesind was 11, en die Republikeinse Kleurling-Volksparty en Nasionale Kleurling-Volksparty 1 elk. Daar was ook een onafhanklike lid,wat hom ná die verkiesing by die Federale Party aangesluit het.
By die aanwysing van die 20 benoemde lede het die Regering hom tot ondersteuners van die Federale Party beperk – 14 van hulle was trouens kandidate van dié party wat in die verkiesing verslaan was. Daardeur is aan die Federale Party die meerderheid in die Raad besorg. ‘n Uitvoerende Bestuur bestaande uit lede van dié party is gekies, en mnr. Tom Swartz, leier van die party wat in die verkiesing ook verslaan is, is deur die Regering tot voorsitter van die Uitvoerende Bestuur benoem.
VKR se bevoegdhede
Die Raad se bevoegdhede dek Kleurling-onderwys en –welsyn, landelike gebiede en nedersettings vir Kleurlinge, landbou en plaaslike bestuur. Daaroor kan hy wette maak vir sover dit die Kleurlinge raak. Alle voorgestelde wetgewing moet vóór die indiening deur die Minister van Kleurlingsake goedgekeur word. Sederty ontstaan het die Raad net drie wette aangeneem, wat grootliks ‘n duplikasie is van bestaande wette van die Parlement wat op die breë bevolking van Suid-Afrika van toepassing is.
Die vernaamste funksie van die Raad is om die jaarlikse begroting van uitgawes goed te keur. ‘n Konsep-begroting moet vooraf deur die Uitvoerende Bestuur in oorleg met die hoofamptenare van die Administrasie van Kleurlingsake opgestel word. Dit word dan na die Minister van Kleurlingbetrekkinge voorgelê, wat in oorleg met die Minister van Finansies aan die Parlement voorlê.
Ná bewilliging van die aangevraagde bedrag deur die Parlement word ‘n gedetailleerde begroting deur die Uitvoerende Bestuur opgestel en aan die Kleurlingraad voorgelê. Die Raad kan nie die bedrae onder individuele poste verhoog nie, maar wel verlaag en die begroting in sy geheel goed- of afkeur. Die Raad kan self geen belastings hef om die bedrag wat deur die Parlement gestem is, aan te vul nie.
‘n Verdere funksie is om op versoek die Regering te adviseer oor alles wat die Kleurlingbevolking aangaan; om by die Regering aanbevelings te doen ter bevordering van Kleurlingbelange; en in die algemeen om as skakel tussen die Regering en die Kleurlingbevolkingsgroep te dien.
Ontevredenheid oor VKR
Daar was spoedig ontevredenheid oor die beperkte bevoegdhede va die Kleurlingraad en sy Uitvoerende Bestuur, wat daaraan toe te skryf is dat dit so moeilik geblyk het om belangegebiede af te baken wat uitsluitend tot die Kleurlinge beperk is. Met uitsondering van onderwys en welsyn is die belange van die blankes en die Kleurlinge só verstrengel, dat nòg die Parlement, nòg die Kleurlingraad ‘n wet kan maak wat nie albei groepe raak nie, in welke geval die Parlement se wet voorrang sal geniet.
Die bevoegdhede van die Kleurlingraad is nie te vergelyk met dié van die wetgewende vergaderings van die swart tuislande nie, wat nie alleen oorspronklike wette kan maak nie, maar ook belastings kan hef ter aanvulling van wat hulle uit die sentrale staatskas kry.
Aan die ander kant het die Kleurlingraad sy nut getoon as verhoog waarop Kleurlingleiers na vore kan tree en in die politiek geskool kan word en Kleurlinggriewe en –aspirasies gelug kan word.
Inspraak aan Kleurlinge beloof
By die opening van die 1974-sitting van die Kleurlingraad het mnr. Vorster gesê die blanke Parlement bereid moet wees “om in die uitoefening van die soewereine gesag op die gemeenskaplike terrein ook inspraak aan die Kleurlinge se politieke leiers te gee”. In dié verband het hy twee moontlikhede genoem. Die een was die aanwysing van Kleurlingeverteenwoordigers in statutêre liggame soos die Groepsgebiederaad, Loonrade, Dranklisensies, e.d.m. (waarmee later inderdaad begin is), en die skepping van ‘n Konsultatiewe Kabinetsraad waarin Kleurling- en blanke leiers oorleg kan pleeg.
Arbeidersparty kry meerderheid in VKR
Die Uitvoerende Bestuur van die Kleurlingraad, wat in daardie stadium nog uit lede van die Federale Party bestaan het, het op sekere voorwaardes (o.m. dat alle diskriminerende praktyke uit die weg geruim word) daarmee akkoord gegaan. Die onderhandelinge met die Regering is egter onderbreek deur die verkiesing van 1975, waarin die Arbeidersparty 31 setels verower het en die Federale Party slegs 8. Dié keer het die Regering nie weer net ondersteuners van die verslane Federale Party benoem nie, met die gevolg dat die Arbeidersparty die Uitvoerende Bestuur oorgeneem het met mnr. Sonny Leon as voorsitter.
Die party het die standpupnt ingeneem dat die voorstelle van die Eerste Minister nie as plaasvervanger vir verteenwoordiging in die Parlement aanneemlik is nie en slegs op die “verskansing van apartheid” neerkom. In die loop van 1975 het die nuwe Uitvoerende Bestuur ewenwel verskeie samesprekinge oor konstitusionele aangeleenthede met die Minister van Kleurlingbetrekkinge en ook die Eerste Minister gevoer. In November 1975 het die hoofbestuur van die Arbeidersparty egter besluit om die voorstelle van die Eerste Minister te verwerp.
VKR verwerp begroting
Intussen het die Kleurlingraad, met sy Arbeidersmeerderheid, verdaag sonder om die jaarlikse begroting goed te keur. Die Minister van Kleurlingbetrekkinge het daarom, ingevolge spesiale wetlike voorsiening, mnr. Leon aangewys om die begroting te oorweeg en goed te keur. Hy het geweier en is van sy amp onthef, waarop die ander vier lede van die Uitvoerende Bestuur, almal lede van sy party, ook bedank het. Mev. A. Jansen, ‘n onafhanklike benoemde lid van die Kleurlingraad, is op 11 November 1975 as voorsitter van die Uitvoerende Bestuur aangestel en het in dié hoedanigheid die begroting goedgekeur.
Indiërraad her-saamgestel
Vir die Indiër-bevolkingsgroep, wat in die jare sestig ‘n benoemde Indiërraad gekry het, is in 1974 ‘n liggaam van dertig lede ingestel, van wie die helfte gekies is en die ander helfte benoem.
In 1975 het mnr. Vorster gesê dat hy in beginsel daarvoor is dat die raad ‘n ten volle verkose liggaam met wetgewende en uitvoerende mag moet word. Net soos die Verteenwoordigende Kleurlingraad moet dit seggenskap oor die sake van die eie gemeenskap kry met inspraak op die hoogste vlak in ‘n Kabinetsraad saam met blankes oor sake van gemeenskaplike belang. Voorts sou Indiërs ook aangestel word in statutêre liggame wat gemoeid is met sake wat die Indiërgemeenskap raak.
Ontwikkeling van tuislande
Teen dié tyd was die swart tuislande al betreklik ver op hul ontwikkelingspad. In 1971 het Bophuthatswana (hoofminister Lucas Mangope) selfbestuur soortgelyk aan dié van Transkei (hoofminister Kaiser Matanzima) gekry. Op hom het Ciskei (hoofminister Lennox Sebe) en Lebowa (hoofminister Cedric Phatudi) in 1972 gevolg.
Daarop het Venda (hoofminister Patrick Mphephu) en Gazankulu (hoofminister Hundson Ntsanwisi) in 1973 gevolg, terwyl Qwaqwa (hoofminister Kenneth Mopeli) in 1974 selfbestuur gekry het. KwaZulu (hoofminister Gatsha Buthelezi) het in 1972 sy eerste wetgewende vergadering gekry, maar het teen die einde van 1976 nog nie tot die stadium van selfbestuur gevorder nie.
Die Swazi-tuisland kry in1977 sy eerste wetgewende vergadering en sal dan verder in die rigting van selfbestuur ontwikkel. Oor die Suid-Ndebele, wat aanvanklik by Lebowa ingedeel is, maar op ‘n eie tuisland aandring, is nog geen finale besluit geneem nie.
Wetgewende gesag vir tuislande
Elke tuisland het self sy eie grondwet opgestel, met die gevolg dat daar belangrike verskille bestaan. In party moet die hoofminister bv. ‘n kaptein wees, in andere is dit geen vereiste nie. Die wetgewende vergaderings van al die tuislande kan oorspronklike wette maak. Hulle het ook die reg om wette van die Parlement te wysig of herroep as dit gaan oor sake wat binne hul regsbevoegdheid val en vir sover dit op burgers van die betrokke tuislande betrekking het, hetsy hulle binne of buite die gebied is of woon.
Konferensie met tuislandleiers
Kontakte op hoë vlak tussen die Regering en die tuislandleiers het toegeneem en in Maart 1974 het die Eerste Minister vir die eerste maal ‘n daglange konferensie met al die tuislandleiers gelyktydig gehou. Dit is voorgehou as die begin van ‘n nuwe tydperk waarin al hoe meer met die swart leiers gepraat sal word i.p.v. net oor die swartmense. In 1975 en 1976 het soortgelyke konferensies plaasgevind.
Beleid oor nywerheidsontwikkeling in tuislande
In verband met die nywerheidsontwikkeling van die tuislande het in 1968 ‘n belangrike ontwikkeling gekom. Voor dié tyd was die gangbare beskouing, wat onder dr. Verwoerd sy beslag gekry het, dat dié ontwikkeling van die swartmense self moes uitgaan. Blanke ondernemings moes uit die tuislande geweer word om te verhoed dat hulle ‘n ekonomiese houvas op die ontwikkelende lande verwerf.
Om die swartmense te help om hulle as nyweraars en handelaars in die tuislande te vestig, is in 1959 die Bantoebeleggingskorporasie en in 1966 die Xhosa-ontwikkelingskorporasie vir Transkei en Ciskei gestig. Terselfdertyd is blanke ondernemings aangemoedig om hulle onder gunstige finansiële voorwaardes aan die grense van tuislande te vestig, sodat swartmense daar kon gaan werk terwyl hulle en hul gesinne in hul tuisland kon bly woon.
Blanke ondernemings in tuislande toegelaat
Mettertyd het dit ewenwel duidelik geword dat die swartmense weens gebrek aan kundigheid nie self die vinnige nywerheidsgroei wat die tuislande so nodig het, kan stimuleer nie. Met die oog daarop is in 1968 besluit dat blanke ondernemings hulle op die sg. agentskap-grondslag in die tuislande mag vestig. Ingevolge dié stelsel sou hulle nie permanent daar mag bly of grond mag besit nie, maar slegs optree as agent van ‘n korporasie of Bantoe-owerheid met wie ‘n kontrak vir ‘n bepaalde tydperk gesluit moes word
.In Oktober 1974 he die Regering bekend gemaak dat die tuislande voortaan self oor die voorwaardes vir die vestiging van sulke nywerhede kan besluit. Meer ontwikkelingskorporasie vir individuele tuislande is gestig.
Dié veranderinge en die gunstige voorwaardes wat aangebied is om blanke ondernemings na die tuislande te lok, het gelei tot ‘n beduidende toename in die aantal nywerhede wat in die tuislande gevestig is.
Konsolidasie van tuislande
Intussen is gewerk aan planne om die tuislande, waarvan die meeste uit losliggende gebiede bestaan, te konsolideer. In 1973 is ‘n plan gepubliseer wat vir ‘n sekere mate van konsolidasie voorsiening maak, hoewel die meeste tuislande daarvolgens nog uit losliggende gebiede, ofskoon minder in getal, sal bestaan – KwaZulu bv. uit tien en Bophuthatswana uit agt. Selfs dié beperkte mate van konsolidasie sal ‘n enorme onderneming wees wat baie jare en geld sal kos.
Mnr. Vorster na buiteland
Mnr. Vorster het in die jare sewentig aan die uitbouing van sy uitwaartse beleid voortgewerk en o.m. verskeie buitelandse reise onderneem. In 1971 het hy kort ná sy besoek aan Malawi ook Portugal, Spanje en Frankryk besoek. In September 1974 het hy onder die grootste geheimhouding na die Ivoorkus gevlieg, waar hy baie hartlik deur pres. Félix Houphouët-Boigny ontvang is.
In Februarie 1975 het hy ‘n soortgelyke besoek gebring aan pres. William Tolbert van Liberië, een van die twee lande wat in die jare sestig die saak oor Suidwes-Afrika in die Wêreldhof teen Suid-Afrika gevoer het. In Augustus 1975 is hy op ‘n staatsbesoek na Paraguay.
Veelvolkige sport
Die land se sportbeleid is in die jare ook verder aangepas in ‘n poging om dit vir Suid-Afrika moontlik te maak om sy sportbande met ander lande te behou. Op 22 April 1971 het mnr. Vorster ‘n nuwe plan vir veelvolkige sport op internasionale grondslag aangekondig. Daarvolgens kon in Suid-Afrika internasionale byeenkomste vir Olimpiese sporte en tennis gehou word waaraan blankes sowel as nie-blankes kon deelneem. Vir die doel sou die plekke waarop sulke byeenkomste plaasvind, tot internasionale sportsentrums verklaar word.
Besoekende spanne uit die buiteland sou toegelaat word om in Suid-Afrika teen nie-blanke spanne te speel, gaan geen blanke toeskouers sou by die wedstryde toegelaat word nie. Op klub-, provinsiale of nasionale vlak sou egter geen gemengde sport toegelaat word nie en geen nie-blankes sou ingesluit word by die Suid-Afrikanse rugby- of krieketspanne wat toere in die buiteland onderneem nie.
Eerste veelvolkige sportbyeenkomste
Ingevolge dié plan is op 26 November 1971 ‘n veelvolkige internasionale atletiekbyeenkoms in Kaapstad gehou waaraan Suid-Afrikaanse blankes en nie-blankes saam met atlete uit die buiteland deelgeneem het. Einde 1974 was daar in Johannesburg ‘n groot veelvolkige bokstoernooi waar wit en swart Suid-Afrikaanse boksers teen buitelandse boksers voor 20 000 blanke en 6 000 swart toeskouers opgetree het.
Die Engelse rugbyspan wat Suid-Afrika in 1972 besoek het, het ook teen ‘ n verteenwoordigende Kleurlingspan (die Proteas) en ‘n Bantoespan (die Luiperds) gespeel.
SA tennisspan vir Federasiebeker
In dieselfde jaar is gemengde proewe van vroulike tennisspelers gehou met die oog op die kies van ‘n Suid-Afrikaanse tennisspan vir die toernooi om die Federasiebeker vir vroue, wat dié jaar in Suid-Afrika gehou sou word. Die publiek en pers is nie by die proewe toegelaat nie en geen nie-blanke speelster het goed genoeg gevaar om in die span opgeneem te word nie.
Twee jaar later is anders te werk gegaan. ‘n Suid-Afrikaanse Kleurlingspan en ‘n Suid-Afrikaanse Bantoespan het saam met twee Suid-Afrikaanse blanke spanne en spanne uit vier Europese lande deelgeneem aan die tennistoernooi om die Volkerebeker vir vroue, wat terselfdertyd gedien het as proewe vir die aanwysing van die span vir die toernooi om die Federasiebeker. Weer het geen nie-blanke die span gehaal nie.
Diskriminasie in sport opgehef
In daardie selfde jaar, 1974, het dr. P.G.J. Koornhof as Minister van Sport gesê dat diskriminasie op grond van ras of kleur uit Suid-Afrikaanse sport sal verdwyn. Van die 78 sporte wat in Suid-Afrika beoefen word, het hy gesê, mag in 76 “intervolkerespanne” op grond van verdienste gekies word om die land in sy geheel te verteenwoordig. Rugby en krieket het die enigste uitsonderings gebly.
Gemengde sport op hoogste vlak
Al hoe meer gevalle het voorgekom waar blankes en nie-blankes aan dieselfde sportgeleenthede deelgeneem het, maar slegs op die hoogste vlak. Daar is toegelaat dat die Amerikaanse Neger Bob Foster sy ligswaargewig-bokstitel in Johannesburg teen die blanke bokser Pierre Fourie verdedig, en op 7 Junie 1975 het ‘n gemengde rugbyspan vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem opgetree. Dit was ‘n uitnodigingspan wat teen die besoekende Franse rugbyspan gespeel het. Twee Kleurlinge en twee Bantoes is in die span opgeneem.
In dieselfde jaar het ook ‘n gemengde krieketspan teen die besoekende Derrick Robbins-span opgetree. Geeneen van die twee spanne is egter op grond van meriete saamgestel nie; dit was albei bloot uitnodigingspanne.
— — —
In die blanke politiek was daar in die jare sewentig belangrike ontwikkelinge.
NP vaar swakker
Mede a.g.v. die woelinge in die Nasionale Party wat tot die uitsetting van die Hertzog-volgelinge gelei het, het die Nasionale Party by die algemene verkiesing van 1970 swakker gevaar as in 1966. Sy seteltal het tot 118 gedaal, terwyl dié van die Verenigde Party tot 47 gestyg het. In 1972 het die Nasionale Party ook in twee kiesafdelings aan die Witwatersrand beduidend swakker gevaar.
In sekere kringe het dit die gedagte laat posvat dat die party op die afdraande pad is, maar in dieselfde jaar het die party in ‘n tussenverkiesing in Oudtshoorn ‘n groot oorwinning behaal, wat sy selfvertroue herstel het en gevolg is deur ‘n toenemende twis in die Verenigde Party.
Twis in VP
Hierdie twis het veral oor die party se verhoudingsbeleid gegaan. Die twis is verskerp deur ‘n geskil oor die party se deelname aan ‘n parlementêre kommissie van ondersoek na die bedrywighede van die studente-organisasie Nusas, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, die Christelike Instituut en die University Christian Movement (wat omstreeks dié tyd ontbind is). Ondanks verset in eie geledere het die Verenigde Party vier van sy lede benoem om in die kommissie te dien.
Verslag oor Nusas
In Februarie 1973 het die kommissie ‘n verslag oor Nusas uitgebring waarin ernstige bedenkinge oor die bedrywighede van die organisasie uitgespreek is en eenparig aanbeveel is dat in belang van die landsveiligheid dringend opgetree word teen ses van sy leiers twee helpers. Die Regering het die agt stuks op staande voet vir vyf jaar ingeperk ingevolge die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme.
Dit was water op die meul van die ontevredenes in die Verenigde Party, wat volgehou het dat Parlementslede nie so ‘n regterlike funksie moet uitoefen nie en dit gewraak het dat sonder behoortlike verhoor teen mense soos die Nusas-leiers opgetree word. ‘n Toenemende stryd het in die Verenigde Party ontwikkel oor die vraag of en in hoeverre die party op die Regering se voorwaardes met hom moet saamwerk in sake wat op die binnelandse veiligheid betrekking het.
Marais Steyn bedank
Die stryd het teen die einde van Augustus 1973 gelei tot die bedanking van mnr. Marais teyn, LV, wat allerweë as die verpersoonliking van die Verenigde Party beskou is. Hy het hom by die Nasionale Party aangesluit en in Februarie 1974 lid van die kabinet geword.
Wet op Geaffekteerde Organisasies
In 1974 is die Wet op Geaffekteerde Organisasies aangeneem, wat die Regering magtig om op te tree teen ‘n organisasie wat na sy mening politiek bedryf in oorleg met of onder die invloed van ‘n buitelandse organisasie of persoon. So ‘n organisasie mag geen geld uit die buiteland ontvang nie. In 1974 is Nusas tot geaffekteerde organisasie verklaar en in 1975 het dieselfde met die Christelike Instituut gebeur.
Nuwe partye gestig
In die algemene verkiesing van 1974 het die Nasionale Party sy posisie verbeter deur 123 setels te verower. Die Verenigde Party se seteltal het tot 41 gedaal, hoofsaaklik vanweë die vordering van die Progressiewe Party, wat ‘n aantal stedelike kiesafdelings verower het, sodat hy met sewe lede na die Volksraad teruggekeer het. In Februarie 1975 het ‘n skeuring die Verenigde Party ontstaan. ‘n Aantal lede, onder wie vier Volksraadslede, het die Reformisteparty gestig, wat in Julie 1975 met die Progressiewe Party saamgesmelt het om die Progressiewe Reformisteparty te vorm.
Ekonomiese probleme
Die jare sewentig het toenemende ekonomiese sorge met hulle gebring. Ondanks die maatreëls wat die Regering in 1965 getref het om die ekonomiese groei te verlangsaam, het daar spoedig weer ‘n opswaai gekom en in 1967 het die reserwe aan goud en buitelandse betaalmiddele vir die eerste keer R1 000 miljoen oorskry.
Op die Johannesburgse Effektebeurs het ‘n koorsagtige spekulasie ingetree wat aandelepryse die hoogte laat inskiet het. In Februarie 1969 het egter ‘n skekrp daling begin, wat baie mense swaar getref het en tydelik ‘n demper op ekonomiese bedrywighede geplaas het. In Desember 1971 is die Rand met 12,28% gedevalueer en in Julie 1972 met ‘n verdere 6%.
In 1973 en 1974 was daar weer groot ekonomiese groei, sodat die bruto binnelandse produk, teen konstante 1970-pryse bereken, gestyg het van R11 000 miljoen in 1968 tot meer as R15 000 miljoen in 1975. Meer teen die einde van dié tyd het die internasionale resessie, gevoed deur die verhoging van die olieprys, begin om hom ook in Suid-Afrika te laat geld. Gepaard daarmeewas daar ook ‘n sorgwekkende styging in die inflasiekoers.
Ofskoon Suid-Afrika in mindere mate as baie ander lande van olie afhanjklik is, het die verhoging van die olieprys sy betalingsbalans aan swaar druk onderwerp, ook omdat dit saamgeval het met ‘n groot toename in die land se behoefte aan krygstuig.
Vanweë die verskerpte bedreiging vir die landsveiligheid is die verdedigingsbegroting drasties verhoog, van R257 miljoen in 1970 tot R 1 350 miljoen in 1976. Veel van die geld is in die binneland bestee, waar ‘n groot krygstuigbedryf gegroei het, maar baie moes nog in die buiteland bestee word. Om die olieverbruik te laat afneem, is verskeie beperkinge ingestel, o.m. dat motors nie vinniger as 90 km/h mag ry nie.
Die betalingsbalans is verder deur die skerp daling in die prys van goud verswak. Teen die einde van 1974 het dit tot meer as 190 dollar per ons gestyg en daar was sterk sprake dat dit die volgende jaar 200 of selfs 500 dollar per ons kan haal. Heelparty toekomsverwagtinge isgebou op die veronderstelling dat dit in die nabyheid van 200 dollar sal bly. In plaas daarvan het die prys in 1975 begin daal en in Augustus 1976 het dit vlak by 101 dollar gaan draai voordat dit weer traag begin styg het.
— — —
Mosambiek en Angola onafhanklik
In 1974 is die Caetano-bewind in Portugal onvergewerp. Dit is gevolg deur die onafhanklikwording van Mosambiek en Angola, wat ‘n nuwe element van dringendheid aan die vraagstukke van Suidwes-Afrika en Rhodesië besorg het.
Raad vir Suidwes-Afrika
Sedert 1966, toe die Wêreldhof die saak wat deur Ethiopië en Liberië aanhangig gemaak was, t.g.v. Suid-Afrika uitgewys het, het die stryd oor Suidwes-Afrika al hoe feller geword. In Oktober 1966, enkele maande ná die saak in die Wêreldhof, het die Algemene Vergadering van die VVO ‘n besluit geneem ten effekte dat Suid-Afrika versuim het om sy verpligtinge ingevolge die Volkebondsmandaat na te kom, dat die mandaat daarom beëindig word en dat die VVO gevolglik met regstreekse verantwoordelikheid vir die gebied beklee word.
Sewe maande later het die algemene Vergadering ‘n voorloige bestuursliggaam vir die gebied geskep – die Raad vir Suidwes-Afrika, wat einde 1968 die Raad vir Namibië geword het nadat die VVO toe besluit het dat die gebied voortaan so sou heet. Suid-Afrika se aanwesigheid in Suidwes-Afrika is weer eens as onwettig bestempel en Suid-Afrikaanse amptenare is tot 4 Oktober 1969 tyd gegee om pad te gee.
Tweede Wêreldhof-uitspraak
In Julie 1970 het die Veiligheidsraad besluit om die Wêreldhof, waarvan die samestelling intussen ingrypend verander het, te vra om ‘n raadgewende opinie oor die vraag wat die wetlike gevolg vir ander state is van Suid-Afrika se voortdurende aanwesigheid in Suidwes-Afrika.
Op 21 Junie 1971 het die hof met meerderheidstem bevind dat Suid-Afrika die gebied onwettig beset en hom onmiddellik behoort te onttrek. Alle lede van die VVO moes die onwettigheid erken en hulle weerhou van alle handelinge wat ‘n erkenning van die wettigheid van die Suid-Afrikaanse administrasie kon inhou. Die verteenwoordigers van Brittanje en Frankryk op die regbank het hulle in belangwekkende uitsprake van die bevinding gedistansieer.
VVO-amptenare besoek SA en SWA
In Maart 1972 het dr. Kurt Waldheim, Sekretaris-generaal van die VVO. Suid-Afrika en Suidwes-Afrika besoek en hier en in New York samesprekinge met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering gevoer. In September 1972 het hy dr. Alfred Escher van Switserland as sy persoonlike verteenwoordiger gestuur om die samesprekinge voort te sit.
In Mei 1973 het die Organisasie vir Eenheid in Afrika hom egter teen die voortsetting van die onderhandelinge uitgespreek en in Desember 1973 het die Veiligheidsraad ‘n besluit in dier voege geneem.
SA se uitsetting uit VVO geveto
In Oktober 1974 is ‘n voorstel by die Veiligheidsraad ingedien dat Suid-Afrika sy lidmaatskap van die VVO ontneem moet word vanweë sy weiering om hom aan Suidwes-Afrika te onttrek, sy volharding in die toepassing van sy apartheidsbeleid en sy steun vir die Smith-bewind van Rhodesië. Dit is egter deur die Verenigde State, Brittanje en Frankryk geveto – die eerste driedubbele veto in die geskiedenis van die VVO.
SWA moet self besluit
Die Regering van Suid-Afrika het hom deurgaans op die standpunt gestel dat die mense van Suidwes-Afrika self sonder inmenging van buite, deur die VVO of wie ook al, oor die toekoms van hul land moet besluit. In September 1974 het die Nasionale Party van Suidwes-Afrika besluit dat verkose verteenwoordigers van die blankes in die gebied met die verkose verteenwoordigers van die blankes in die gebied met die verkose verteenwoordigers van die ander bevolkingsgroepe oorleg moet pleeg oor die toekomstige staatkundige ontwikkelingspatroon. So ‘n besluit is deur die Wetewende Vergadering van Suidwes-Afrika geneem.
VVO eis SA se onttrekking
In Desember 1974 het die Veiligheidsraad ewenwel ‘n onbestrede mosie aangeneem dat Suid-Afrika hom vóór 30 Mei 1975 aan Suidwes-Afrika moet onttrek en die bestuur oor die gebied aan die VVO moet oordra. Aangesien die VVO teen dié tyd reeds die South-West African People’s Organisation (Swapo) as die enigste wettige verteenwoordiger van die mense van die ganse Suidwes-Afrika beskou het, sou dit beteken het dat die gebied aan ‘n Swapo-bewind uitgelewer word. Dit het die Regering geweier om te doen.
Hy het van die standpunt uitgegaan dat Swapo allesbehalwe verteenwoordigend van die hele Suidwes-Afrika is, maar eintlik oorwegend ‘n Wambo-organisasie is wat nie eens deur die meeste Wambo’s gesteun word nie. Die Regering het ook nogmaals ontken dat Suid-Afrika die gebied beset. Hy bly daar omdat die mense van die gebied hom daar wil hê om die wet en orde te handhaaf en dit vir hulle moontlik te maak om sonder inmenging van buite oor hul toekoms te besluit.
Wapenverbod teen SA geveto
In Junie 1975 is in die Veiligheidsraad voorgestel dat ‘n verbod op die uitvoer van wapens na Suid-Afrika ingestel word vanweë sy voortdurende “besetting” van Suidwes-Afrika. Weer het die Verenigde State, Brittanje en Frankryk hul vetoreg gebruik.
Turnhalle-beraad begin
In September 1975 het verteenwoordigers van alle bevolkingsgroepe in Suidwes-Afrika, nl. die blankes, die Kleurlinge, die Basters van Rehoboth, die Wambo’s (wat verreweg die grootste groep uitmaak), die Kavango’s, die Herero’s, die Damaras, die Namas, die Capriviane, die Tswanas en die Boesmans, in die Turnhalle, Windhoek byeengekom met die verklaarde doel om binne drie jaar ‘n grondwet vir ‘n onafhanklike Suidwes-Afrika op te stel.
Die beraad het inmenging van buite, ook deur die VVO, sterk afgekeur en met die oog op die toestand wat in Angola ontstaan het, Suid-Afrika gevra om die noordelike grens van Suidwes-Afrika te beskerm. By die VVO en elders in die buiteland is ewenwel geweier om die moontlikheid van onafhanklikheid vir Suidwes-Afrika deur die optrede van die Turnhalle-beraar te aanvaar. Daar is volhard in die eis dat Suid-Afrika hom aan die gebied moet onttrek en dat ‘ n Swapo-bewind ingestel word.
SA Polisie uit Rhdesië
Intussen het Rhodesië al hoe meer aandag vereis. In die jare sedert die onafhanklikheidsverklaring van die Smith-bewind het Suid-Afrika op baie gebiede belangrike en onontbeerlike hulp aan Rhodesië verskaf, waarsonder die Smith-bewind onmoontlik staande sou kon gebly het. Nege jaar lank het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiemag ook saam geveg teen terroriste wat Rhodesië binnegekom het, en 30 het die lewe gelaat voordat die polisie in Augustus 1975, toe nog ‘n poging aangewend is om ‘n skikking in Rhodesië te bereik, teruggetrek is.
Mnr. Vorster se vredesoffensief
Deur die jare heen het die Suid-Afrikaanse regering, waar en vir sover hy kon, gehelp om ‘n aanneemlike skikking moontlik te maak. In Oktober 1974 het mnr. Vorster ‘n groot “vredesoffensief” begin met ‘n toespraak in die Senaat. Hy het daarin gewaarsku teen die groot gevare wat ‘n eskalasie van die stryd in Suider-Afrika vir almal sou inhou en die hoop uitgespreek dat die alternatief gekies sou word: vrede, gesonde verstand en normale verhoudinge.
Hy het klaarblyklik die Rhodesiese geskil in gedagte gehad, wat hy as die grootste struikelblok op die pad na vrede in Suider-Afrika beskou het. Hoe langer die geskil sou voortduur,hoe groter die inmenging van buite, des te groter die gevaar van ‘n toestand wat, soos hy dit gestel het, te vreeslik is om selfs te oorweeg.
Reaksie op sy toespraak
Die toespraak het wye reaksie utigelok. Van belang was veral dié van apres. Kaunda, wat in daardie stadium die ander sentrale figuur in die saak was, o.m.omdat Zambië as afspringplek gedien het vir die terroriste wat Rhodesië binnegedring het.Hy het mnr. Vorster se toespraak verwelkom as “die stem van rede waarop Afrika gewag het”.
Diplomatieke drukte
Op die toespraak het ‘n tyd van groot diplomatieke drukte gevolg. Verskeie kere het Zambiese afgesante in die geheim na Kaapstad gevlieg, waar die Parlement toe in sitting was, om mnr. Vorster te spreek. Op sy beurt het hy weer by geleentheid uit Kaapstad “weggeraak” om verteenwoordigers van die Rhodesiese regering of mnr. Smith self in Pretoria te spreek.
As man in die middel het hy ‘n sleutelrol gespeel. Deur h om het mnr. Smith se beskouinge pres. Kaunda bereik, wat dit na die presidente van die ander belanghebbende swart state deurgegee het, en deur hom en mnr. Vorster kon hul ideë weer by mnr. Smith uitkom. In November 1974 het mnr. Vorster op een dag in die geheim met mnr. Smith in Rhodesië en pres. Banda in Malawi gaan gesels.
Mnr. Vorster ontmoet mnr. Callaghan
Al die bedrywighede het daartoe gelei dat mnr. Smith in Desember bekend gemaak het dat die aangehoude swart leiers in Rhodesië vrygelaat sou word sodat ‘n beraad met hulle gehou kon word. Die hoop op ‘n skikking het sterk opgevlam, maar die deurbraak het uitgebly.
In dié tyd het mnr. James Callaghan, toenmalige minister van binnelandse sake van Brittanje, in Zambië en die omliggende lande poolshoogte kom neem. Op aandrang van pres. Kaunda het hy ook na Suid-Afrika gekom om mnr. Vorster, wat destyds met vakansie op Oubos was, in die nabygeleë Port Elizabeth te spreek. Dit was ‘n treffende erkenning van die sleutelrol wat Suid-Afrika in die sake van Suider-Afrika speel.
Brugberaad by Victoria-waterval
Mnr. Vorster het sy pogings nie laat vaar nie en in Augustus 1975 het mnr. Smith en die swart leiers mekaar op ‘n Suid-Afrikaanse trein op die brug by die Victoria-waterval ontmoet. Mnr. Vorster is ook daarheen en het pres. Kaunda vir die eerste maal ontmoet, op Zambiese bodem. Maar ook dié poging het vrugteloos gebly.
Frelimo aan bewind in Mosambiek
Intussen het Mosambiek op 25 Junie 1975 onafhanklik geword. Die bewind daar is deur die Portugese oorhandig aan Frelimo, die enigste organisasie wat daarop aanspraak gemaak het. In die buiteland was daar ‘n taamlik algemene verwagting dat Suid-Afrika die bewindsoorname van Frelimo as ‘n regstreekse bedreiging vir hom sou beskou en dit daarom sou probeer voorkom. Dat hy dit nie gedoen het nie, was vir baie ‘n verrassing en het krag verleen aan sy herhaalde versekering dat hy hom nie met die sake van ander lande wil gemoei nie.
Burgeroorlog in Angola
In die geval van Angola, wat ná Mosambiek in November 1975 onafhanklik geword het, het sake egter anders verloop. Dáár was nie een beweging wat op die bewind aanspraak gemaak het nie, maar drie: die Marxistiese MPLA, wat in die hoofstad, Luanda, en omgewing die beheer verwerf het; die FNLA, wie se magsbasis in die noorde van die land geleë was, en Unita, wat veral op die suide gesteun het. Tussen dié drie het geruime tyd voor die onafhanklikwording van Angola reeds ‘n burgeroorlog ontstaan wat tot die suide van die land, tot teenaan die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola, uitgebrei het.
Calueque en Ruacana in gedrang
Dit het meegebring dat twee Suid-Afrikaanse ondernemings aan die Kunenerivier in die gedrang gekom het: ‘n pompstasie by Calueque, wat water aan Owambo verskaf, en ‘n hidroëlektrise kragsentrale wat by Ruacana in aanbou was. Die twee ondernemings is jare vantevore deur Suid-Afrika aangepak ingevolge ‘n ooreenkoms met die Portugese bewind.
Die uitbreiding van die burgeroorlog na die suide het ‘n ernstige bedreiging, veral deur die MPLA, vir die twee onderneming geskep. Die Portugese wie se gesag in Angola teen dié tyd al heeltemal verdwyn het, kon nie die nodige beskerming verleen nie,met die gevolg dat Suid-Afrikaanse troepe die grens oorgesteek het na Calueque,wat enkele kilometer ten noorde van die grens lê, en Ruacana.
1976 was vir Suid-Afrika ‘n buitengewoon bewoë jaar wat in breë trekke, en min of meer chronologies, soos volg verloop het:
SA troepe in Angola
Die begin van die jaar is deur die gebeurtenisse in Angola oorheers. Hoewel amptelik geswyg is, het dit tog bekend geword dat Suid-Afrikaanse troepe tot anderkant Calueque en Ruacana opgetree het. Hulle het ook plek-plek slaags geraak met Kubaanse troepe wat die Marxistiese MPLA-bewind, deur al hoe meer lande as enigste wettige gesag in Angola erken, in sy stryd teen die FNLA en Unita kom help het.
Soos agterna geblyk het, het Suid-Afrika sy optrede uitgebrei met die medewete en selfs op aandrang van ander lande, binne en buite Angola, wat in die vestiging van ‘n Marxistiese MPLA-bewind ‘n bedreiging gesien het. Die Suid-Afrikaanse regering het dit egter gerade geag om die swye te bewaar ten einde daardie ander lande nie in die verleentheid te stel nie.
In breë kringe het die vermoede posgevat dat die Verenigde State een van daardie lande was. Gevolglik het die Amerikaanse versuim om daadwerklike hulp te verleen aan dié wat die MPLA probeer teenstaan het, ‘n ongunstige reaksie in Suid-Afrika uitgelok.
Brug 14
Die swygsaamheid van die Regering is hom deur baie mense in Suid-Afrika kwalik geneem, hoewel dit enigermate getemper is deur trots op wat nie-amptelik bekend geword het van die Suid-Afrikaners se optrede in Angola. Een geveg waarin die Suid-Afrikaanse troepe ‘ n groot oorwinning oor die Kubane behaal het, was dié by Brug 14. Besonderhede daaroor is later bekend gemaak sonder dat gesê is waar Brug 14 gelê het. Daar is ook nooit bekend gemaak hoe diep Suid-Afrikaanse troepe Angola binnegedring het nie.
SA onttrek sy troepe
Die MPLA is voortdurend versterk deur die Sowjet-Unie, wat groot hoeveelhede krygstuig na Angola gestuur het, asook Kuba, wat meer as 10 000 soldate gestuur het. Die Amerikaanse regering is deur die Kongres belet om die beloofde steun te laat toekom aan diegene wat teen die MPLA geveg het, en ander Westerse lande het ook in gebreke gebly om dit te doen. Die militêre oorwig wat daardeur geskep is, saam met ander oorweginge, het Suid-Afrika genoodsaak om hom aan Angolate onttrek nadat deur ‘n derde party versekekringe aangaande die toekoms van die twee Kunene-projekte verkry was.
Einde Maart het die laaste Suid-Afrikaanse troepe uit Angola teruggekeer. In die Volksraad het mnr. Vorster gesê dat Suid-Afrika teen sy sin in Angola betrokke geraak het, maar nie anders kon optree nie. Hy het daaraan toegevoeg dat Angola aan Suid-Afrika die les geleer het dat, wanneer dit by die ergste kom, hy alleen staan.
SA bewaak sy grens
Sedertdien bewaak die Suid-Afrikaanse Weermag die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola en tree hy op teen die terroriste – hoofsaaklik lede van Swapo, wat hom aan die kant van die MPLA geskaar het – wanneer hulle dit oor die grens waag. In Augustus is bekend gemaak dat in die voorafgaande vier maande 90 terroriste in die operasionele gebied doodgeskiet is. ‘n Niemandsland van een kilometer is al langs die grens geskep om dit vir die terroriste moeilik te maak om ongemerk oor die grens te sluip.
Uitwissingsoorlog in Suid-Angola
In Angola het die FNLA en veral Unite die stryd teen die MPLA en die Kubaanse magte voortgesit. Teen die einde van die jaar het die MPLA, bygestaan deur Kubaanse troepe en lede van Swapo, geprobeer om ‘n einde te maak aan die bedrywighede van Unita in Suid-Angola.
Dit het uitgeloop op ‘n uitwissingsoorlog teen die Kwanjama-stam, en ‘n menigte lede van die stam, watnou verwant is aan die inwoners van Owambo, het oor die grens van Suidwes-Afrikatevlug. In hul agtervolging van die vlugtelinge het Kubaanse pantsereenhede tot teenaan die grens opgeruk.
— — —
Verdedigingsbegroting
Die toenemende bedreiging vir Suid-Afrika se veiligheid en die stygende inflasionistiese druk isweerspieël in die begroting wat einde Maart by die Vollksraad ingedien is. Hoewel nie heeltemal so straf as wat in baie kringe verwag is nie, het dit sware eise aan die mense van Suid-Afrika gestel. Die uitgawe aan verdediging het R1 350 miljoen gestyg, 42% meer as die vorigejaar. Ander staatsuitgawes is besnoei en nog meer maatreëls is getref om ‘n dempende uitwerking op die ekonomie te hê en die inflasionistiese druk te verlig.
Geld skaars
In die res van die jaar was daar ‘n merkbare afname in die ekonomiese bedrywigheid. Vir die eerste maal in baie jare het die bruto binnelandse produk ‘n dalende neiging getoon. Dit het ook moeilik geword om lenings in die buiteland aan tegaan. Om geld in die hande te kry, is Evkom bv. tot abnormale verhogings van sy tariewe gedwing.
Teen die einde van die jaar het hy besluit om nie voort te gaan met die bou van ‘n groot kragsentrale by Ilanga, in Oos-Transvaal, wat R1 000miljoen sou gekos, nie. Intussen is wel met ‘n Franse konsortium ‘n kontrak gesluit vir die bou van ‘n kernkragsentrale by Duinefontein naby Kaapstad wat ook R1 000 miljoen sal kos. Die onderneming sal egter vir die grootste deel deur Franse instellings gefinansier word.
Sishen-Saldanha-projek
Ander groot projekte is op die lange baan geskuif. Daaronder was die plan om op Sandanha ‘ n fabriek vir die verwerking van Sishen se ystererts op te rig. In dieloop van die jaar is ewenwel die Sishen-Saldanha-projek voltooi vir die uitvoer van onverwerkte ystererts. Die treinspoor van Sishen na Saldanha, die ontwikkeling van die hawe en die installering van ertslaaigeriewe het meer as R560 miljoen gekom.
Ook die nuwe hawe in Richardsbaai, waardeur o.m.steenkool uitgevoer sal word, is in gebruik geneem nadat sowat R700 000 miljoen aan die ontwikkeling van die hawe en die bou van die spesiale treinspoor daarheen bestee was.
Beeldradiodiens ingestel
Nog ‘n ontwikkeling wat groot finansiële eise gestel het, was die instelling van ‘n volledige beeldradiodiens in Januarie nadat enkele maande lank proefprogramme uitgesend was. Honderduisende beeldradiostelle is verkoop, wat enersyds die druk op die betalingsbalans laat toeneem het en andersyds geld van gevestigde Suid-Afrikaanse ondernemings afgekeer het. Veral die motorbedryf is swaar getref en die vloei van geld na bougenootskappe het ook afgeneem.
Verdrag met Israel
In April het mnr. Vorster ‘n verrassende besoek aan Israel gebring, wat die ontsteltenis en woede van veral die swart en die Arabiese state gewek het. ‘n Verdrag is gesluit wat voorsiening gemaak het vir samewerking op die gebied van die ekonomie, die natuurwetenskappe en die nywerheid, die uitruiling van wetenskaplike en tegnologiese kennis een gesamentlike ondernemings waarin Suid-Afrikaanse grondstowwe en Israeliese kundigheid aangewend sal word. Duie uitvoering van die verdrag is opgedra aan ‘n gesamentlike kabinetskomitee wat een keer per jaar moet vergader. Dit was die eerste keer datSuid-Afrika met ‘n ander land oor die instelling van so ‘n komitee ooreengekom het.
Wet op Bevordering van Staatsveiligheid
Teen die einde va die Parlementsitting is die Wet op die Bevordring van Staatsveiligheid aangeneem. Dit magtig die Minister van Justisie om mense wat deelneem aan bedrywighede waardeur die veiligheid van die staat of die openbare orde in gevaar gestel word, tot ‘n jaar sonder verhoor aan te hou.
Verslag van Theron-kommissie
Op 18 Junie is die lang verwagte verslag van die Erika Theron-kommissie in die Volksraad ter tafel gelê. Die kommissie, bestaande uti wit- en bruinmense, is in 1973 aangestel om ‘n omvattende ondersoek in te stel na alle aspekte van die bruinmense se bestaan en hul toem. Onder die vernaamse van die kommissie se 178 aanbevelings was die volgende:
+ Bevredigende vorme van regstreekse Kleurlingverteenwoordiging en –seggenskap moet op die onderskeie owerheidsvlakke en in besluitenemende liggame geskep word.
+ ‘n Komitee van kundiges moet aangestel word om voorstelle dienaangaande te doen.
+ Die bestaande Westminster-stelsel moet verander word om by die omstandighede van Suid-Afrika met sy plurale bevolking aan te pas.
+ Die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike en artikel 16 van die Ontugwet moet herroep word.
+ Gelyke salarisse moet vir gelyke werk betaal word.
+ Heelparty wysigings moet in die Wet op Groepsgebiede aangebring word, o.m. deur sekere sakegebiede tot onbeheerde gebiede te verklaar.
+ Kleurlinge moet toegelaat word om op enige plek landbougrond te koop.
+ Alle universiteit moet vir Kleurlinge oopgestel word.
+ Die Kleurlinge moet nie beskou word as ‘n gemeenskap wat kultureel anders as die blankes is nie.
+ Sportspanne wat internasionaal meeding, moet op grond van meriete gekies word.
+ Openbare plekke, geriewe en sekere strande moet op selektiewe grondslag vir almal oopgestel word.
Regering se reaksie
Die Regering het gesê dat verreweg die meeste van die 178 aanbevelinge vir hom aanneemlik is. Hy het egter die aanbeveling oor die herroeping van die maatreël oor gemengde huwelike en artikel 16 van die Ontugwet verwerp. Wat die politieke regte van die Kleurlinge betref, het hy hom uitgespreek teen die regstreekse verteenwoordiging van Kleurlinge in die bestaande parlementêre, provinsiale en plaaslike bestuursliggame, hoewel hy sy steun betuig het vir die grootste mate van oorleg en inspraak op vlakke van gemeenskaplike belang.
Kabinetskomitee aangestel
Later in die jaar is die Kabinetskomitee onder voorsitterskap van min. P.W. Botha, leier van die Nasionale Party in Kaapland, aangewys om ingevolge die aanbeveling van die Theron-kommissie op die aanpassing van die Suid-Afrikaanse regeringstelsel by die besondere omstandighede van die land in te gaan.
Eerste vergadering van Kabinetraad
Op 24 September het die eerste byeenkoms van die Kabinetraad wat die Eerste Minister die vorige jaar in die vooruitsig gestel het, in Pretoria plaasgevind. Dit is bygewoon deur ‘ n aantal lede van die Kabinet, die lede van die Uitvoerende Komitee van die Indiërraad en individuele lede van die Verteenwoordigende Kleurlingraad, aangesien die Uitvoerende Bestuur van die Kleurlingraad – wat opnuut saamgestel is uit die lede van die Arbeidersparty wat die vorige jaar bedank het – nie daarvoor te vinde was nie.
Op 26 November het die Kabinetraad met sy eintlike werksaamhede begin. Dit het hoofsaaklik bestaan uit ‘n indringende bespreking oor die verwydering van wetlike diskriminasie vir sover dit die Indiër- en Kleurlinggemeenskappe raak. Hoewel geen besonderhede van die besprekings bekend gemaak is nie, was die algemene gevoel dat veel bereik is deur saam te praat en dat ‘n bevredigende grondslag vir toekkomsige samesprekings gelê is.
Sportbeleid uitgebou
In September is ook ‘n nuwe sportbeleid vir Suid-Afrika aangekondig. Wesenlik het dit daarop neergekom dat die idee van veelvolkigheid wat in die 1971-beleid opgeneem was, tot op klubvlak uitgebrei is, wat beteken het dat ook klubs van die onderskeie bevolkingsgroepe teen mekaar kan optree. Voorts het die nuwe beleid daarvoor voorsiening gemaak dat in alle sportsoorte, met inbegrip van rugby en krieket, spanne wat Suid-Afrika verteenwoordig, na verdienste gekies kan word, wat beteken het dat gemengde proefwedstryd gehou kan word.
Die beleid is spoedig verruim, veral op die gebied van krieket. Nie alleen is nie-blanke klubspanne opgeneem in ligas waarin vantevore net blanke klubspanne deelgeneem het nie, maar individuele nie-blankes is opgeneem in klub- en selfs provinsiale spanne wat voorheen net uit blankes bestaan het.
Springbokkleure vir alle rasse
In November het dr. P.G.J. Koornhof as Minister van Sport gesê dat enige persoon, ongeag sy ras of kleur, Suid-Afrika in enige sport kan verteenwoordig en Springbokkleure kan verwerf. Aanvanklik is die gedagte verkondig dat die Springbokembleem vir blanke sportmanne uigehou moet word en ‘n ander gekies moet word vir spanne en individue wat gekies word om die land in sy geheel te verteenwoordig. Ook in November kon blankes en nie-blankes vir die eerste maal om die Suid-afrikaanse kampioenskap teen mekaar boks.
Gelyke vergoeding
Die deling van kulturele e.a. geriewe het ook al hoe meer aandag gekry. In Oktober het die Eerste Minister gesê dat daar nie van die staat verwag kan word om geriewe vir een bevolkingsgroep te skep en ander daarvan uit te sluit nie. By dieselfde geleentheid het hy dit ook gehad oor gelyke vergoeding vir mense met dieselfde kwalifikasies wat dieselfde werk verrig (waartoe die Regering hom in 1971 reeds verbind het nadat dit vantevore as beleid voorgehou was dat nie-blankes nie dieselfde vergoeding as blankes moet ontvang nie). Mnr. Vorster het gesê dat Suid-Afrika in dié opsig ‘n historiese agterstand het wat uitgewis moet word so gou as wat die omstandighede dit toelaat.
Tweede helfte van 1976
Die tweede helfte van die jaar is oorheers deur die onluste in swart en bruin woongebiede in Transvaal, die Kaapse Skiereiland en Port Elizabeth, waarvan die nawerking hom tot aan die end van die jaar laat geld het.
Onluste begin in Soweto
Die eerste uitbarsting het op 16 Junie plaasgevind in Soweto, waar die polisie slaags geraak het met ‘n groot menige swart skoolkinders wat teen die verpligte gebruik van Afrikaans as voertaal in sekondêre klasse betoog het.
Dit was die teken vir woeste geweldpleging, brandstigting en plundertogte wat dae geduur het en waarin skade ten bedrae van baie miljoene rande aangerig is. Skole, klinieke, staatsgeboue, drankwinkels, busse en nog meer is verwoes. Op die eerste dag van die onluste is twee blankes vermoor en daarná kon witmense dit slegs met lewensgevaar in Soweto waag. Telkemale moes die polisie skiet op betogers en booswigte wat die geleentheid wat deur die chaotiese toestande gebied is, gebruik om te roof, te plunder en te moor. Die dodetol het skrikwekkend vinnig gestyg.
Ofskoon die eerste woede ná enkele dae afgeneem het, het die toestand in Soweto nog weke lank voortgesmeul en telkemale het dit weer opgevlam. Dit het later ‘n stryd afgegee tussen wetsgehoorsames en diegene wat die onrus wou laat voortduur. Daar was verwoede faksiegevegte, wat ‘n hoogtepunt bereik het toe die Zoeloes van Soweto teen intimideerders losgetrek het.
Onluste brei uit
Terwyl die toestand in Soweto ná die eerste klompie dae effens bedaar het, het onluste uitgebars in die swart woonbuurte van Pretoria en ander Transvaalse dorpe. Na bewering is dit veral aangestook deur mense wat uit Johannesburg oorgekom het. Aan die Cillié-kommissie wat aangestel is om die onluste te ondersoek, is gesê dat in Soweto en elders 172 mense deur die polisie doodgeskiet is, terwyl 120 dood is weens messtekery, aanranding, klipgooiery, brande, e.d.m. Meer as 1 400 mense is gewond en beseer.
Weke lank het die toestand in Transvaal uiters gespanne gebly, terwyl dit in die res van die land betreklik rustig gebly het. In Natal is die administratiewe gebou van die Universiteit van Zoeloeland egter afgebrand, met die gevolg dat die universiteit gesluit moes word. Ook die Universiteit van Fort Hare in Oos-Kaapland moes weens die oproerigheid van studente gesluit word.
Onluste in Kaapland
Juis toe die toestand in Transvaal begin bedaar het, het op 11 Augustus ‘n uitbarsting in die swart woonbuurte Guguletu en Langa in die Kaapse Skiereiland begin. Die patroon het tot groot hoogte ooreengestem met wat in Transvaal ervaar is. Later is die bruinmense van die Skiereiland by die oproerigheid betrek, veral deur die toedoen van bruin studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland en bruin skoliere wat solidariteit met die swartmense wou betuig.
Daar was ook ontevredenheid oor die reaksie van die Regering op die aanbevelings van die Erika Theron-kommissie en ‘n aandrag op gelyke rgte. Weer het boodswigte ingegryp en in September was toestande plek-plek amper chaoties. Aan die Cillié-kommissie is gesê dat 92 mense in die Skiereiland doodgeskit is. Op sekere plattelandse dorpe het bruinmense ook oproerig geword.
‘n Week nadat die onluste in Guguletu en Lange begin het, het die swart woonbuurte van Port Elizabeth aan die beurt gekom. Daar is 33 doodgeskiet.
Skoolboikot
Met verloop van tyd het die toestand bedaar, veral in die bruin woonbuurte. In die swart woonbuurte het jong mense hulle egter al hoe sterker laat geld en deur intimidasie ‘n skoolboikot opgedwing. Teen die einde van die jaar het baie skole in die buurte feitlik leeg gestaan; min kinders het dan ook die voorgeskrewe eksamen afgelê.
Aanpassings in swart onderwys
Intussen het daar belangrike veranderinge gekom. Swart skole en hul beheerliggame is toegelaat om self te besluit watter voertaal in die sekondêre standeres gebruik moet word, en teen die einde van die jaar is ingrypende veranderinge in die hele stelsel van swart onderwys in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Daar is gesê dat dit die peil van swart onderwys daardeur baie verhoog en talle skaafplekke uitgeskakel sou word.
Eiendomsreg vir swartmense
Voorts is oorgegaan tot uitvoering van die besluit, in Mei 1975 reeds geneem, om eiendomsreg aan swartmense in die stedelike gebiede te laat toekom. In Oktober het min. M.C. Botha bekend gemaak dat nuwe gemeenskapsrade vir stedelike swartmense ingestel gaan word. Dié rade, wat ook met finansiële bevoegdhede beklee sou word, sou sekere take van die bestaande Bantoesake-administrasierade oorneem. Ook is in die vooruitsig gestel dat ‘n goed geordende stelsel van tradisionele howe (kgotlas) en gemeenskapswagte of –polisie by die rade ingeskakel sal word.
Staatsveiligheidwet toegepas
Ná ie onluste in Soweto is die nuwe Wet op die Bevordering van Staatsveiligheid in Transvaal van toepassing gemaak en in Augustus is dit tot die hele land uitgebrei. Op 19 Oktober het die Minister van Justisie bekend gemaak dat 123 mense ingevolge die wet aangehou word, terwyl 323 tereg gestaan het op aanklagte wat op die staatsveiligheid betrekking het, en 217 ingevolge die Wet op Terrorisme met die oog op hofsake ondervra is.
Uitwerking van onluste
Die onluste en die optrede daarteen het ‘n ernstige uitwerking op die betrekkingetussen blanke en nie-blank gehad. Aanweerskante van die skeidslyn het houdinge verhard. Maar dit het ookdiepgaande beskouinge in die hand gewerk oor hoe die toestand verbeter kan word.
Mnr. Vorster ontmoet dr. Kissinger
Toe die onluste in Soweto losgebars het, het mnr. Vorster op die punt gestaan om na Duitsland te vertrek om ‘n gewigtige afspraak met dr. Henry Kissinger, minister vanbuitelandse sake van die Verenigde State, na te kom. Die vermoede is selfs uitgespreek dat die onluste georganiseer is om dit vir hom onmoontlik te maak om te gaan. Hy het ewenwel sy afspraak nagekom en in die tweede helfte van Junie het hy en dr. Kissinger samesprekinge in Beiere gevoer.
In die begin van September is die samesprekings in Zürich hervat. Daar is nie bekend gemaak waaroor die samesprekinge gegaan het nie, maar algemeen is aangeneem dat Suidwes-Afrika en Rhodesië hoog op die sakelys gestaan het en dat dit dr. Kissinger te doen was om te voorkom dat ‘n tweede Angola in een van die twee ontstaan.
Dr. Kissinger in Suid-Afrika
In die tweede helfte van September het dr. Kissinger na Suid-Afrika gekom, waar mnr. Vorster hom en mnr. Ian Smith, eerste minister van Rhodesië, bymekaar gebring het. Enkele dae later, op 24 September, het mnr. Smith bekend gemaak dat Rhodesië bereis is om meerderheidsregering binne twee jaar te aanvaar. Dit het die hoop laat opvlam dat ‘n Rhodesiese skikking ophande kan wees. Toe het, vermoedelik op aanstigting van die Sowjet-Unie, sekere swart leiers en hoofde van Rhodesië se buurstate egter besware geopper. In ‘n poging om die saak uit te maak, het Brittanje ‘n konferensie in Genève belê, wat ‘n lang gesloer afgegee het.
Turnhalle-beraad vorder
In Suidwes-Afrika het die staatkundige beraad in die Turnhalle, Windhoek, stap vir stap gevorder. In die tweede helfte van die jaar is ooreengekom dat die gebied teen die einde van 1978 onafhanklik moet word. In Oktober is die voorneme uitgespreek om teen die einde van die jaar of die begin van 1977 ‘n konsepwet vir ‘n voorlopige regering te voltooi.
Swapo se standpunt
Die vordering van die beraad het al hoe meer uitgeweke nie-blankes wat in die voorafgaande jare aan die politieke stryd teen Suid-Afrika in die buiteland deelgeneem het, na Suidwes-Afrika laat terugkeer om saam te werk. Maar dit het ook Swapo, wat nog steeds deur die meerderheid in die VVO as enigste wettige verteenwoordiger van die mense van Suidwes-Afrika beskou is, sy teenstand laat verskerp.
Hy het bly weier om te erken dat die Turnhalle-beraad enige seggenskap het en daarop angedring dat die toekoms van Suidwes-Afrika deur hom en die regering van Suid-Afrika uitgemaak moet word. Van sy kant het die Regering volgehou dat hy niks aan Swapo te sê het nie en dat die verkose verteenwoordigers van Suidwes-Afrika se bevolkingsgroepe self oor hul toekoms moet besluit.
Konferensieplan verydel
Dr. Kissinger het die probleem te bowe probeer kom deur ‘n konferensie tussen verteenwoordigers van die Turnhalle-beraad, Swapo en die regering van Suid-Afrika in Genève te reël. Dié plan is egter vrydel veral omdat deur Swapo se toedoen die Veiligheidsraad in Oktober 1976 ‘n soortgelyke besluit as in Junie 1976 aangeneem het: dat ‘n verbod op die uitvoer van wapens na Suid-afrika ingestel word vanweë sy weiering om uit Suidwes-Afrika pad te gee. Soos die besluit van 1975 is dié een ook deur die Verenigde State, Brittanje en Frankryk geveto.
VVO-besluite teen SA
In November is ‘n soortgelyke besluit, wat egter geen bindende krag het nie, deur die Algemene Vergadering van die VVO geneem. Daaraan is nog ‘n tiental ander anti-Suid-afrikaanse besluite gevoeg wat voorgehou is as ‘n omvattende program van aksie om Suid-Afrika ekonomies en diplomatiek te isoleer en sodoende ‘n einde te maak aan wat as “die misdaad van apartheid” bestempel is.
Transkei onafhanklik
Intussen het Transkei, ingevolge ‘n besluit wat hy in 1974 geneem het, op 26 Oktober onafhanklik geword. Dit is voorafgegaan deur ‘ n wêreldwye veldtog om te voorkom dat die nuwe staat erken word. Alhoewel Transkei uiteindelik slegs deur Suid-Afrika erken is, het dit geen afbreuk gedoen aan die geesdrif waarmee die Transkeise burgers hul onafhanklikheid gevier het nie.
Die veldtog teen Transkei het egter groot belangstelling vir die land gewek, soos o.m. geblyk het uit die baie navrae uit die buiteland oor beleggingsmoontlikhede in die land. Teen die einde van die jaar was daar ook aanduidinge dat die onafhanklikwording van Transkei in ander tuislande groter steun vir die gedagte van onafhanklikheid gekweek het.
Probleme en hoop
So het die jaar 1976 geëindig met groot vraagtekens oor baie sake. Party van die vraagtekens het ‘n ernstige dreiging ingehou, maar andere het nuwe hoop gewek.
— — — oOo — — —