J.A. Wiid, M.A., D. Phil
Algemeen
Die geskiedenis leer ons dat die ontdekking en besetting van nuwe wêrelddele deur Europese volke nie doelbewustelik was nie. Columbus het ‘n nuwe wêrelddeel, Amerika, ontdek terwyl hy na Indië gesoek het. Indië het die skitterendste juweel in die Britse kroon geword, hopewel die Engelse handelaars in die dit nie oorspronklik so bedoel het nie. Australië het ‘n belangrike Britse dominium geword ofskoon dit oorspronklik as strafkolonie gebruik is. Suid-Afrika is byna vyf eeue gelede ontdek, nie omdat die Portugese seevaarders na Suid-Afrika gesoek het nie, maar na die seewag wat Europe met die Verre Oostge verbind. Die geografiese ligging van ons vaderland het toe reeds sy historiese lot bepaal.
Verkeer tussen Ooste en Weste voor ontdekkingsreise
Hoewel hierdie seeweg eers teen die einde van 15de eeu ontdek is, is verkeer tussen die Weste en die Ooste so oud as die Westerse beskawing self. Die Grieke en die Romeine het lewendige handelsbetrekkinge met Indië en China onderhou. Die “Drang nach Osten” was altyd sterk by die Europeërs, vir wie die warmer en ryker Ooste en Suide en hul natuurlikevoortbrengsels deurgaans ‘n groot aantrekking
skrag gehad het. Vandaar dat een van die grootste veroweraars in die geskiedenis, die Macedoniër Alexander die Grote, reeds in die 4de eeu v.C. voor hierdie drang geswig en sy veroweringstogte tot in Indië gevoer het. Dit was ook hierdie drang van die koue en onvriendelike Noorde na die warm en ryk Suide wat tot groot hoogte die Germaanse volksverhuising bepaal het, en wat in die Kfruistogte van die Middeleeue sy voortsetting gevind het. Dit was in hoofsaak die natuurlike voortbrengsels van die warmer en ryker Ooste wat die begeertes en die avontuurlus van Europese volke geprikkel en ‘n lewendige handelsverkeer tussen Weste en Ooste tot stand gebring het.
Die Europeërs se kennis van die Ooste is o.m. sterk uitgebrei deur die tog van die Vlaamse monnik Willem van Ruysbroek (1250), en veral deur die Venesiaanse reisiger, Marco Polo. Hy het van Bagdad oor die hoogvlakte van Pamir en deur die Woestyn Gobi na Chia gereis, om ná ‘n afwesigheid van 25 jaar (1271-95) oor Sumatra. Ceylon en Voor-Indië na Venesië terug te keer. Sy uitvoerige reisbeskrywing is van besondere betekenis.
Vernaamste verkeersweë
Die verkeersweë tussen Europa en Indië het vir ‘n groot deel oor land gegaan. Die produkte van die Ooste, deur Arabiese koopliede ingesamel, het veral gedurende die middeleeue Europa langs drie weë bereik. Een van hierdie handelsweë het van die Voor-Indiese markte oor die bergpasse deur Tukestan gegaan en daarna oor die Aral-meer na die Kaspiese See om dan die Wolga en die Don stroomopwaarts te volg totdat dit die groot Russiese markte soos Nowgorod e.a. bereik het. Vir Suid-Sentraal- en Wes-Europa het ander handelsweë, wat by die groot handelshawe Soerat aan die Weskus aan die weskus van Voor-Indië begin het, meer belang gehad. Een van hierdie weë het die kus van Beloetsjistan, Suid-Persië en Arabië gevolg,om oor die Rooi See en Suez die mark van Alexandrië te bereik. Die ander roete was deur die Persiese Golf, van daar langs die groot riviere van die Tweestromeland na die hoogland waar dit van Mosoel in twee verdeel het. Die een tak het weswaarts gegaan en oor Aleppo die Middellandse See bereik, terwyl die ander noordwes op Trebizonde aan die Swart See uitgeloop het. Albei hierdie weë het na Konstantinopel gevoer. In Alexandrië en Konstantinopel, die twee groot stapelplase van Oosterse ware aan die Middellandse See, het Italiaane koopliede uit Amalfi, later uit Venesië en Genua, hierdie produkte ingekoop en vervolgens oor Midde- en Wes-Europa vrsprei. Een van hierdie weë het deur die Alpepasse oor Augsburg na die billandse afsetgebied van Duitsland gelei en ‘n ander, langs die Rhône op, na die Franse markte. Wes- en Noord-Europa is oor see bedien en ‘n lewendige skeepvaart van Wes-Europese seevarende volke het bestaan – veral van die Nederlanders, wat op Lissabon gevaar het.
Lissabon as handelsentrum
Die Portugese hoofstad het hom weldra tot ‘n belangrike handelsentrum ontwikkel. Die Middellandse See-vaart het die produkte van die Ooste en Suide en die skeepvaart van die Nederlanders dié van die Noorde na die Portugese hoofstad gebring. Hier die produkte uitgeruil en oorgelaai.
Hierdie handelsverkeer, waarby die Nederlanders slegs die rol van vragvaarders in diens van die Italiaanse handelskapitaal gespeel het, was wel in staat om Oosterse produkte soos speserye, sy, fyn houtsoorte en pêreld op die Europese markte te plaas. Maar dit was ook al, want die handelsweë wat die Weste met die Ooste verbind het, het ernstige nadele gehad. Die weë oor Klein-Asië was lank; die vervoer per karavaar het te veel tyd in beslag geneem en was buitendien erg gevaarlik. Ook was die handelsware te duur, omdat dit herhaaldelik gehanteer moes word en tussenhandelaars heelwat wins moes maak!
Die roete oor Egipte was wel makliker, maar die sultan van h ierdie land het sulke hoë belastings gehef dat speserye bv. in Alexandrië drie maal so duur was as in Indië. Die distribusiekoste was origens so hoog dat alleen die rykes hierdie “peperduur” produkte kon bekostig. Buitendien was hierdie handelsverkeer afhanklik van toegang vir die Italiaanse handel tot die goot Levant-hawens, veral Alexandrië en Konstantinopel.
Ottomane belemmer handel
Teen die middel van die 15de eeu het aan hierdie toeganklikheid ‘n einde gekom. Die Ottomaanse Turke, doodsvyande van die Christendom, het Klein-Asië binnegedring en hul veroweringstogte tot Europa en Noord-Afrika uitgebrei. In 1453 is die groot handelsentrum Konstantinopel verower. En in die begin van die 16de eeu het ook Alexandrië in die gedrang gekom, toe die Turke die hand van veroweraar op Egipte gelê het. Die handelsverkeer met Indië is dus verlam en al uitweg vir Europa was om ‘n ander te soek. Onderwyl die Italiane, veral die Venesiaanse Republiek, met die doel om hierdie handelsverkeer te herstel, in langdurige en duur oorloë met die Turke gewikkel was, sonder om egter die verlangde resultaat te bereik, is veral op die Iberiese Skiereiland na ander middele en weë gesoek om die noodsaaklike handelsverkeer met Indië te herstel en uit te brei.
Rol van Portugal
Portugal, met sy gunstige ligging op die westelike uithoek van Europa aan die Atlantiese oseaan digby Afrika en met sy hoofstad Lissabon, wat reeds tot ‘n belangrike handelsentrum, ook vir Oosterse ware, ontwikkel het, was uit eie belang die aangwese land om die onderbroke handelsverkeer met die Ooste langs ‘n ander weg te herstel. Ook het dit Portugal, wat saam met Spanje reeds ‘n eeuelange stryd op die Iberiese Skiereiland teen die Hohammedaanse indringers uit Noord-Afrka gevoer het, nie aan nasionale geesdrif en godsdiensywer ontbreek om die stryd teen die gehate Halwemaan en handelskonkurrent in ander wêrelddele voort te sit nie. Nadat die Portugese daarin geslaag het om die Mohammedaanse More uit hul land te verdryf, het hulle in hul geloofsywer die vyand op Afrikaanse bodem self aangepak. In 1415 het hulle Ceuta verower en so ook beteken kennis oor die noordkus van Afrika opgedoen.
Prins Hendrik en die vaart om Afrika
Verder was dit ‘n geluk dat Portugal op hierdie kritieke tydstip in die Westerse geskiedenis oor ‘n leier met ‘n sienersblik beskik het – ‘n man wat vooruitstrewend en groot genoeg was om ‘n oor te leen aan die verligte influisteringe van aardrykskundiges uit Renaissance-Italië, en wat verstaan het hoe om nasionale geesdrif vir nuwe ideë op die gebied van handel en seevaart te wek. Hierdie leier was die Portugese prins bekend as Hendrik die Seevaarder (1394-1460). Hy was die eerste Europeër wat die oseaanvaart, in teenstelling met die seevaart, stelselmatig en met volhanding aangpak het.
Op inisiatief van prins Hendrik is in 1419 ‘n Portugese ekspedisie uitgerus na Madeira, wat vir die Portugese kroon in besit geneem is. Enkele jare daarna het ook die Asore ‘n Portugese besitting geword. Voorheen het diei Portugese slegs in die spore van vroeëre ontdekkers gevolg, maar daarmee was prins Hendrik nie tevrede nie. In 1434 het sy seeliede om Kaap Bojador gevaar en 12 jaar later die mond van die Senegal bereik. Tot dusver het die kennismaking met die Afrikaanse kus slegs teleurstellings opgelewer: daar was geen handel te dryf nie, want die woestynsand van die Sahara het tot aan die oseaan gereik. In 1447 egter het die Portugese kennis gemaak met ‘n kaap wat daar groen uitgesien het, en in verrukking het hulle dit Cabo Verde genoem. Verby hierdie “groen kaap” is kennis gemaak met lande waar handel wel moontlik geskyn het: daar was bv. peper, ivoor, goud en slawe te vind. Die blydskap van die Portugese was groot toe hulle vind dat die trope nie, soos die ou geograwe beweer het, weens die versengende hitte onbewoonbaar was nie, maar ‘ n weelderige plantegroei en ‘n groot verskeidenheid van lewensvorme opgelewer het.
Hindernisse in die weg
Toe prins Hendrik, wat daarvan oortuig was dat die vaart om Afrika na Indië nie alleen moontlik nie, maar selfs noodsaaklik vir die handelsposisie van Portugal was, in 1460 oorlede is, was sy doel nog geensins bereik nie. Die Afrikaanse weskus, tot waar dit in ‘n oorstelike rigting buig, was wel bekend, maar eers teen 1471 is die ewenaar oorgesteek en eers in 1484 het Diego Cam die mond van die Kongo bereik. Daar was verskeie redes vir hierdie verslapping wat op die dood van prins Hendrik gevolg het. Verby die Slawekus en die Niger-mond slaan die kus in plaas van ‘n oostelike, ‘n suidelike rigting in. Hoe ver sou die Afrikaanse kus na die suide loop, en sou ‘n suidelike verbinding met Indië wel moontlik wees?
Sommige Italiaanse aardrykskundiges het gemeen dat die seeweg na Indië in ‘n westelike rigting gesoek moes word, soos hul landgenoot Cristoforo Colombo twee geslagte later probeer doen het. Ook die nuwe kolonie, Guinee, waar o.m. peper, een van die gesogte produkte van Indië, gevind is, op die proef moes stel, het sonder twyfel die vaart na die suide vertraag. Eers toe dit geblyk het dat Guinee, as handelsgebied, Indië nooit sou kan vervang nie, is die vaart suidwaarts voortgesit.
Daar was ook nog ander hindernisse op die pad na die suide. Een hiervan was dat die altyd sigbare poolster, waarvolgens die breedtegraad op see vasgestel is, suid van die ewenaar verdwyn en dat die Portugese, onbekend met die sterrehemel van die suidelike halfrond met sy Suiderkruis, moeilik rigting en posisie kon bepaal. Dié moeilikheid is gelukkig uit die weg geruim toe die Neurenbergse kosmograaf Martin Behaim (1459-1506) ‘n werktuig uitgevind het wat breedtebepaling volgens sonshoogte moontlik gemaak het. Hierdie geleerde het self deelgeneem aan die ekspedisie wat in 1482 die mond van die Kongo ontdek het.
Ten gevolge van hierdie vertragings was dit eers in Julie of Augustus 1487 dat Bartholomeus Dias, ‘n gesiene edelman aan die Portugese hof, met twee vaartuigies van omtrent 50 ton elk en ‘n voorradeskip, lg. onder bevel van sy broer Pedro, die mond van die Taag kon verlaat op sy historiese tog na die suide. Soos sy voorgangers, het hy al langs die Afrikaanse kus gevaar, maar anders as hulle, heelwat verder. Joas de Barros (1496-1570), die vooraanstaande Portugese geskiedskrywer, het – volgens Theal – toegang gehad tot die joernale, briewe en rapporte van die vroeë ontdekkers en amptenare van alle klasse in Indië en Afrika. Op grond van hierdie gegewens het Barros sy groot werk Da Asia geskryf, waarvan Theal uittreksels wat op Suid- en Suidoos-Afrika betrekking, met ‘n Engelse vertaling in sy Records of South-Eastern Africa gepubliseer het.
Dias se opdrag
Dias het van koning Johan II bevele ontvang om sy onverdeelde aandag aan die ontdekkingstog self te skenk, sonder om dit deur handelsondernemings langs die kus te vertraag. Tog is handelsvooruitsigte nie heeltemal buite rekening gelaat nie, want Dias moes Afrikaanse Negers, veral van die Guinese kus, aan boord neem, hulle voorsien van monsters van goud, silwer en speserye en hulle dan op verskeie plekke l angs die kus aflaai. Hierdie inboorlinge moes dus dien as Portugese handelsagente om toekomstige handelsbetrekkinge tussen Portugal en binnelandse Afrikaanse stamme in die hand te werk en te verstewig.
Om die suidpunt van Afrika
Dias het sover moontlik sy opdrag uitgevoer. Hy het digby die kus gehou en aan die kape en baaie het hy name gegee. Nadat hy verskeie plekke langs die kus suid van die Kongo-mond besoek het, het hy ‘n paar dae by Angra das Voltas (Angra Pequena, vandag Lüderitz) vertoef, waar hy, volgens gewoonte, ‘n klipkruis of padrao opgerig het. Daarvandaan het, nog altyd volgens Barros, ‘n sterk wind wat 13 dae geduur het, sy skepe suidwaarts gedryf. Hierdie verhaal van Baros oor die dertiendaagse storm word in bevoegde kringe in twyfel getrek, omdat so ‘n hewige en langdurige noordewind in hierdie streek onbekend is. Dit is moontlik dat hierdie “storm” sy oorsprong het in die Portugese beleid van geheimhouding en afskrikking van moontlike mededingers.
Op 26 Desember het Dias se skepe verby die Golfo de S. Estevao, moontlik die huidige Elizabethbaai, gevaar; verby Terra da Silvestre op 31 Desember en Serra dos Reis op 6 Januarie 1488. Teen die tyd dat hulle die breedte van St. Helenabaai bereik het, was die land nie meer in sig nie. Die rede hiervoor is nie bekend nie. Dit is moontlik dat ‘n storm die skepe te ver suid tedryf het. Toe die storm ná enige dae effens bedaar het, is die land weer gesoek deur ooswaarts te vaar. Toe hierdie poging misluk, ‘n noordelike koers ingeslaan en die Afrikaanse kus weer gevind by of naby ‘n baaie wat Dias genoem het “dos Vaqueiros” (“van die Veewagters”) na aanleiding van die veekuddes wat daar gesien is.
Eerste landing in Suid-Afrika
Waar was hierdie Bahia dos Vaqueiros – die eerste bodem aan die suidkus van Afrika wat deur die witman betree sou word? Volgens ‘n Portugese bron, enkele jare jonger, is hierdie baai herdoop in Sao Bras, wat sonder twyfel die huidige Mosselbaai is. Uit ‘n noukeurige Portugese beskrywing van die kus blyk egter dat die baai dos Vaqueiros en die baai de Sao Bras nie dieselfde is nie. Eersgenoemde is sonder twyfel Visbaai, die plek waar die Portugese vir die eerste maal op die suidhoek van Afrika vot aan wal gesit het. Dit is dus waarskynlik dat die eerste landing by Visbaai plaasgevind het, maar dat ‘n gebek aan vars water in hierdie omgewing die Portugese genoodsaak het om verder na Mosselbaai te vaar, waar vars water in oorvloed te vinde was. Hier het ‘n aantal Portugese aan wal gegaan en die inboorlinge wat daar gesien is, het waaarskynllik uit vrees vi die vreemde monsters die land in gevlug. Dit blyk egter of hierdie vrees gou oorwin is, want toe die Portugese besig was om water in te neem, is hulle deur die inboorlinge, wat waarskynlik tot die Hottentotras behoort het, met klippe bestook. Dias, wat volgens opdrag die vrede met alle inboorlinge moes bewaar, kon dit nie duld nie. Daar is geskiet en een inboorling is gedood. Die eerste bloed tussen wit en swart het in Suid-Afrika gevloei.
Die twee skepe het vervolgens die tog langs die kus in oostelike rigting hervat, Kaap Recife verbygevaar en anker gewerp in die Bahia da Lagoa (lagune) – ‘n naam wat later tot Algoabaai vervorm is. Dit is waarskynlik in Algoabaai dat die Portugese matrose vir die eerste keer ‘n gees van verset teen hul bevelhebber aan die dag gelê het. Uitgeput deur die stryd teen see en storm, en aangtas deur skeurbuik, het hulle soos een man teen Dias gedraai en aangedring op ‘n terugkeer na die vaderland. Ná oorlegpleging met sy hoër offisiere is ‘n vergelyk getref waarvolgens die skepe nog twéé of drie dae ooswaarts sou vaar. As in dié tyd niks voorval wat die tog verder ooswaarts noodsaaklik sou maak nie, sou hulle omdraai.
Ná die drie dae het die Portugese ‘n rivier bereik wat hulle die Infante genoem het. Wat en waar was dit? Volgens die meeste skrywes was dit die Groot-Visrivier, volgens ander die Kowie of die Keiskamma. Op grond van die jongste n avorsing word die voorkeur aan een van laasgenoemde riviere gegee.
Die Infante was die omdraaiplek. Teen sy sin moes Dias uitvoring gee aan die ooreenkoms met sy bemanning en die terugvaart begin. Hy het egter ver genoeg gevorder om te kan besef dat hy die vernaamste versperring, nl. Afrika, op die seeweg na die Ooste baasgeraak het. Hy het sonder twyfel geweet, op grond van die noordoostelike strekking van die kus en die warm seestroom waarteen hy nou geseil het, dat hy die seeweg na Indië ontdek het. Soos ‘ n Moses van ouds het hy die beloofde land voor hom gesien, sonder dat hy toegelaat is om dit te betree.
Dit is onseker of hy volgens gewoonte ‘n kruis by die Infantervier opgerig het. Miskien het natuurlike hindernisse dit onmoontlik gemaak. Enkele dae later (begin Maart 1488), op die terugreis, is ‘n geskikte plek vir die oprigting van so ‘n kruis gevind. Dit was op False Island, of Kwaaihoek, soos dit vandag plaaslik bekend is, 3-1/2 myl wes van die Boesmansriviermond, in die huidige distrik Alexandria. Ná 450 jaar is die stukkies en brokkies van h ierdie verlore klipkruis van Dias ontdek.
Op die terugvaart het die eilandjie St. Croix in Algoabaai waarskyhlik sy naam gekry, nie omdat Dias daar ‘n klipkruis opgerig het nie soos dikswels beweer is, maar omdat hy ongeveer in die Paastyd daar verbygevaar het.
Ontdekking van die Stormkaap
In April 1488 het Dias ‘n kaap ontdek waaraan hy, volgens Barros, die naam Cabo Tormentoso (Stormkaap) gegee het, in herinnering aan die stormagtige weer waarmee hy vroeër in hierdie streke kennis gemaak het. Volgens Barros sou koning Johann II later hierdie naam verander het in Cabo de Boa Esperança (Kaap van Goeie Hoop), omdat Dias se ontdekkings goeie hoop vir die seeweg na Indië gegee het. Hierdie verhaal van Barros, wat so diep in die geskiedskrywing ingewortel is, word vandag in twyfel getrek. Nie die Portugese koning nie, maar Dias self sou, volgens Axelson, die vader van die mooi naam Cabo de Boa Esperança wees. Hiermee word egter geen lig op die vaderskap van die lelike naam Cabo Tormentoso gewerp nie.
Nadat verskriklike ontberings gely en groot gevare getrotseer was, het Dias met sy twee skepe – die voorradeskip het die tog nie oorleef nie – ná ‘n afwesigheid van byna anderhalfjaar in Desember 1488 in die vaderland teruggekeer. Die suidhoek van Afrika was ontdek en die seeverkeer tussen die Weste en die Ooste het aan die vooraand van sy verwesenliking gestaan. Daar sou egter nog byna tien jaar verloop voordat die grootste verwaginge wat uit die baanbrekende ontdekking van Dias voortgespruit het, werklikheid sou word.
Waarom hierdie vertraging? Verskeie redes is aangevoer soos vrees vir internasionale ontwikkelinge, vrees vir verwaarlosing van die handel en kolonies in Noord- en Wes-Afrika as die seeweg na Indië ontdek sou word, ‘n sieklike koning en ministers wat, met die oog op die offers aan mense en magteriaal wat die soektog na Indië die klein Portugal reeds gekos het, skepties teenoor die voordele van ‘n regstreekse vaart op Indië gestaan het. Die vernaamste rede was waarskynlik die offisiële standpunt in Lissabon, waarvolgens noodsaaklike verkenningswerk in die Indiese Oseaan eers verrig moes word voordat ‘n regstreekse vaart na Indië aangedurf kon word. Vandaar dat Johan II ongeveer gelyktydig met sy opdrag aan Dias twee ander vooraanstaande Portugese, Covilha en Paiva, oor die Mediterreense en Arabiese roete gestuur het om noodsaaklike verkenningswerk in Indië en Afrika te verrig. Daar is in Lissabon lank op ‘n verslag van hierdie twee verkenners gewag en dit verklaar waarom Vasco da Gama eers in 1497 sy beroemde tog kon aanpak
Columbus ontdek Amerika
Terwyl Portugal nog gedraal het om Dias se ontdekking op te volg, het ‘n gebeurtenis van wêreldhistoriese belang plaasgevind. Christoforo Colombo, ‘n kartograaf uit Renaissance-Italië, het, ná ‘n vergeefse poging om die Lissabonse regering vir sy idee van ‘n weswaartse vaart na Indië te interesseer, daarin geslaag om die belangstelling en steun van die Spaanse vorstepaar, Ferdinand en Isabella, te win. En toe kom die opsienbare tyding dat Columbus in 1493 van sy oseaanvaart in Spanje teruggekeer het, volkome oortuig dat hy Indië gevind het. Hoewel eers later sou blyk dat Columbus nie ‘n nuwe seeweg nie, maar, wat belangriker was, ‘n nuwe wêrelddeel ontdek het, was hierdie prestasie nietemin ‘n prikkel om die Portugese handelend te laat optree. Die aansien van Portugal het op die spel gestaan.
Koning Johan moes red wat daar te red was. Sy eerste stap was om, met die goedkeuring van die berugte pous Alexander Borgia, in 1494 met Spanje die verdrag van Tordesillas te sluit, waarvolgens die wêreld deur ‘n denkbeeldige skeidslyn, 685 km wes van die Kaap-Verdiese Eilande, tussen Spanje en Portugal verdeel is. Aangesien die verdrag alleen melding maak van die westelike halfrond, moes Portugal hom beywer om sy teoretiese verdragsregte ook deur verdere ontdekkings te verwesenlik en te versterk.
Sending van Vasco da Gama
So het dit dan gebeur dat Manuel I, die volgende koning van Portugal, teen die middel van 1497 ‘n vloot, bestaande uit vier skepe met ‘n bemanning van omtrent 170, onder die hooggeplaaste edelman Vasco da Gama uitgestuur het om die werk van Dias te voltooi en handelsbetrekkinge met Indië aan te knoop. Uit die redevoeringe van die Koning en Da Gama, sowel as uit die seremoniële bedrywighede wat by geleentheid van die vertrek van die vloot plaasgevind het, blyk duidelik watter doelstellinge die ekspedisie nagestreef het. Die voortsetting van die Portugese ontdekkingstogte word beskou as ‘n verpligting wat koning Manuel van sy voorgangers geërf het. Vervolgens sou Da Gama se ekspedisie moet bydra om die oorwinning van die Kruis oor die Halwemaan te verseker, heidense volke tot die Christelike godsdiens te bekeer, die eer en aansien van die Portugese kroon deur nuwe veroweringe te vergroot en om deur ontdekking en verowering die Oosterse rykdomme in Portugese hande te verseker. Die voorbeeld van Italiaanse republieke soos Venesië en Genua, wat hul grootste welvaart uit die handel in Oosterse produkte bereik het, word spesifiek deur koning Manuel as navolgenswaardig genoem.
Dit was op 8 Julie 1497 dat Vasco da Gama met Pedro d’Alanquer wat die ontdekking van die Kaap die Goeie Hoop meegemaak het, as loods, en Diego Dias, ‘n broer van Bartholomeus as sekretaris, van die Taag afskeid geneem het. Die ontdekker van die Kaap het ‘n tyd lank die ekspedisie vergesel om, soos Barros dit uitdruk, Da Gama “op die regte koers te bring”. Waarom op hierdie tog nie meer van sy dienste gebruik gemaak is nie, sal waarskynlik altyd ‘n raaisel bly.
Van Portugal, verby die Kanariese en die Kaap-Verdiese Eilande, het die Portugese vloot eers suidoos gevaar en daarna die Afrikaanse kus in suidwestelike rigting verlaat, om die hinderlike seestrome in die Gof van Guinee en die stormagtige weer waarmee Dias langs die weskus kennis gemaak het, te vermy. Da Gama het dus die roete gevolg wat sedertdien min of meer pal deur seilskepe tussen die Kaap en Wes-Europa gebruik is.
Ses-en-negentig dae lank het Da Gama en sy bemannings die eentonigheid van die Atlantiese Oseaan verduur. Eers op 4 November het land weer in sig gekom, en ‘n paar dae later het die vloot St. Helenabaai binnegevaar, waar ‘n week vertoef is om herstelwerk aan skepe en seile te verrig, om brandhout in te neen en, indien moontlik, kos en watervoorrade aan te vul. Ook by hierdie geleentheid is met die Suid-Afrikaanse inboorlinge kennis gemaak. Die aanraking met ‘n armoedige klompie Strandloper-Hottentotte het, het soos in die geval van Dias, op ‘n botsing uitgeloop, waarin Da Gama en ‘n paar van sy manskappe gewond is.
Tweede vaart om Kaap
Op 22 November het die vloot om die Kaap van Goeie Hoop gevaar en drie dae later in die baai van Sao Bras (Mosselbaai) anker gewerp. Daar is die voorradeskip opgebreek en sy lading op die ander skepe oorgelaai. Ook is weer met die inboorlinge kennis gemaak en ‘n bietjie ruilhandel – ‘n bees vir enkele snuisterye – het plaasgevind. Die vriendelikheid van die Hottentotte – dit was waarskynlik hierdie ras waarmee die blankes in aanraking gekom het – het egter weldra in vyandskap omgeswaai toe die Portugese water ingeneem het, wat die inb oorllinge waarskynlik as ‘n deel van hul besittings beskou het. ‘n Kruis wat Da Gama op die eiland in die baai opgerig het, is deur die inboorlinge verniel en nadat die Portugese ‘n paar skote op hulle gelos het, is die vaart voortgesit.
Ontdekking van Natal
Ná onaangename ervaringe met storms en met die warm Agulhasstroom, wat die oorsaak van heelwat vertraging was, het die seevaarders op 25 Desember ‘n pragtige, bosryke kus, waarskynlik dié van Pondoland, gesien, waaraan Da Gama, in herinnering aan Kersdag, die naam Terra da Natal gegee het. Daar het die seevaarders van die Afrikaanse kus weggevaar, totdat watergebrek hulle genoodsaak het om weer die land op te soek. Op 11 Januarie 1498 is die mond van ‘n riviertjie ontdek, deur die Portugese Rio do Cobre (Koperrivier) genoem, op grond van die groot hoeveelheid koper wat by die inboorlinge aangetref is. Hierdie inboorlinge was vriendelik en groot van liggaamsbou. Hulle het dus veel verskil van dié met wie die Portugese in die omgewing van die Kaap slaags geraak het. Met sekerheid kan aangeneem word dat dit die eerste keer was dat Europeane met die Suid-Afrikaanse Bantoe in aanraking gekom het.
Laaste skof na Indië
Nadat Da Gama hierdie Terra da Boa Gente (land van goeie mense) verlaat het, is die reis verby die nabyliggende Kaap Corrientes – so genoem na die seestrome in dié gebied – voortgesit en is kennis gemaak met Portugal se ou godsdiensvyande, die Mohammedane. Hierdie volgelinge van die Halwemaan het tot ‘n gemengde ras van Bantoes, Arabiere en Perse behoort, wat sedert onheuglike tye handelsbetrekkinge tussen Asië en die ooskus van tropiese Afrika onderhou het. Dit was op 25 Februarie 1498 dat Da Gama by Kilimane vir die eerste keer met hierdie mense in aanraking gekom het. Daar het hy nie minder as 32 dae vertoef nie, ten einde sy gehawende skepe weer seewaardig te maak. Hy is, sowel as in Mosambiek, die volgende plek waar hy geland ht, deur die inwoners vriendelik ontvang. Die Arabiese handelaars het waarskynlik in Da Gama en sy mense nie die gehate Christene en gevaarlike handelsmededingers gesien nie. Sodra hulle dit agtergekom het, het hul houding verander. Die vyandskap tussen Arabiere en Portugese het van Mosambiek af verder en byna oral langs die Afrikaanse kus waar Da Gama hawens aangedoen het, tot uiting gekom. Die stryd tussen die Portugese en die Arabiere, wat ‘n soort monopolie oor die handel in die Indiese Oseaan en sy kusbgebiede besit het, het begin. Dit was ‘n voortsetting van die langdurige stryd wat die Christene op die Iberiese Skiereiland téén die Mohammedaanse More gevoer het. Hierdie stryd sou voortduur totdat die Arabiere as gevaarlike handelsmededingers van die toneel verdwyn het.
Intussen het Da Gama, ondanks die vyandskap van die Arabiere, nuttige verkenningswerk aan die Afrikaanse ooskus verrig. Hy h et die swak plekke van die Arabiere leer ken – kennis wat later nuttig aangewend kon word. Nadat hy Mombassa en Malindi besoek het, was hy gelukkig om ná veel moeite op laasgenoemde plek die dienste van ‘n inheemse stuurman te kry, wat hom gevoer het oor die Arabiese See na Kalikoet, aan die weskus van Indië, waar hy drie weke later aangekom het. Hiermee was die vernaamste deel van Vasco da Gama se opdrag, nl. die ontdekking van die seeweg na Indië, met sukses bekroon. Ondanks die teenkanting van Arabiese handelslui is met die Hindoevors van Kalikoet ‘ n handelsverdrag gesluit en nuttige inligtinge oor h andelstoestande in dié geweste ingewin. Meer konDa Gama met sy beperkte middele nie doen nie. Sy taak was hoofsaaklik verkenning en daarin het hy skitterend geslaag.
Die terugreis
In Augustus 1498 het Da Gama die terugreis aanvaar, om in September van die volgende jaar, ná ‘n afwesigheid van twee jaar, in die vaderland terug te k eer. Op die vaart het omtrent twee derdes van sy bemanning, veral weens skeurbuik, die lewe ingeskiet. Ook het net twee van die oorspronklike vier skepe hul ankers weer in die Taag laat sak. Met groot eerbetoon is Da Gama in sy vaderland terugontvang. Die prestasie van hierdie seevaarder was nie alleen vir Portugal van die allgergrootste belang nie, maar ook vir die hele wêreld.
Stigting van oorsese Portugese Ryk
Die lewendige belangstelling en grootse verwagtinge in Portugal wat deur die ontdekking van die seeweg na Indiëgewek is, het tot onmiddellike gevolge gehad dat sterk, goed toegeruste vlote uitgestuur is om Da Gama se werk verder te voer. Terwyl die Portugese seevaarders hulle tot dusver hoofsaaklik met ontdekkings- en verkenningswerk besig gehou het, sou die vernietiging van alle mededingers en die stigting van ‘n eie koloniale ryk voortaan die vernaamste taak wees. So het Pedro Alvares Cabral reeds in 1500, Francisco d’Albuquerque in 1503 en Francisco d’Almeida in 1505 die kus van Portugal verlaat om die Indiese Oseaan en die aangrensende Afrikaanse en Asiatiese kuste aan die Portugese imperialisme te onderwerp.
Mag van Arabiere verbreek
Binne enkele jare het hierdie en ander Portugese daarin geslaag om die militêre mag van die Arabiere te breek. In 1509 is ‘n groot Egipties-Arabiese vloot voor Diu deur d’Almeida vernietig. Die belangrikste Arabiese nedersettings langs die tropiese Afrikaanse ooskus tussen Sofala en Mombassa, asook die Arabiese steunpunte aan die strategies belangrike ingange tot die Rooi See en die Persiese Golf, het in Portugese besit gekom. Ook in Voor-Indië en Malakka het Portugese steunpunte ontstaan. Goa in Voor-Indië sou weldra die hoofsetel van die Portugese gesag in die Ooste word. Die Arabiere was nie teen die beter organisasie, beter skepe en beter vuurwapens van die Portugese bestand nie. Die Mohammedaanse handel in die Indiese Oseaan is vernietig. ‘n Uitgestrekte Portugese koloniale ryk is in die Ooste gestig en die Kruis het die plek van die Halwemaan ingeneem. Die stryd van die Christendom teen die Mohammedanisme, wat op die Iberiese Skiereiland en in Noord-Afrika so lank gewoed het, het deur hierdie flankaanval in die Ooste ‘n nuwe hoogtepunt bereik.
Portugese handelsmonopolie
Hoewel Portugal gedurende die eeu van sy opperheerskappy militêre beheer oor die Indiese Oseaan en die aangrensende kuste gehad en ‘n streng uitsluitende handelsmolopolie in hierdie uitgestrekte gebied gehandhaaf het, het sy gesag nooit verder as die kusrande bgestrek en noooit tot die binneland deurgedring nie. Selfs Portugese sendelinge en soekers na edele metale het die Afrikaanse binneland vermy. Daar was egter ‘n paar uitsonderings. In 1560 het twee Jesuïete onder die Makaranga-stam, ten suide van die Zambezi, begin werk. In die jaar daarop is hul leier, Gonçalo da Silveira, vermoor en in 1562 is hierdie sendingwerk laat vaar. Die Dominikaners het gevolg en sendingstasies in die Zambezi-bekken gestig. Met al hul moed en volharding het ook hulle nie daarin geslaag om die vaandel van die Christelike beskawing in die binneland van Afrika te plant nie.
Soektog na goud
Goud het altyd ‘n vername rol in kolonisasieplanne gespeel. Die Portugese was geen uitsondering nie. Die tonne edele metale wat die naburige Spanjaarde destyds in Mexiko en Peru buitgemaak het, het die verbeelding van veral die Portugese geprikkel. Sou daar nie ook in Afrika ‘n Eldorado wees nie? Goud was daar wel, en die Portugese het alles in hul vermoë gedoen om soveel moontlik van hierdie metaal van inboorlinge en Arabiere af te pers. Tot groot teleurstelling van Lissabon was hierdie goud slegs in klein hoeveelhede verkrygbaar. Toe omstreeks 1570 verneem is van fabelagtige goudrykdomme in die Afrikaanse binneland, het niemand minder nie as die Portugese koning Sebastiaan I aan die saak sy aandag gewy.
Francisco Barreto, ‘n gewese onderkoning van Indië, is in 1572 met drie skepe en duisend soldate na Oos-Afrika gestuur. Vanuit Sofala en langs die Zambezi op het die Portugese mag die binneland ingetrek. Die onderneming was egter ‘n treurige mislukking. Spoelgoud was daar, maar slegs in baie klein hoeveelhede. Vyandelike inboorlinge en veral die dodelik koors het die Portugese afgemaai. Baie min het weer die kus bereik. Barreto self het ‘n slagoffer van die koors geword. Ook sy opvolger, Homem, het nie daarin geslaag om ‘n blywende Portugese kolonie in die binneland se stig nie. Net soos die Arabiere, was die Portugese besetting van Oos-Afrika tot die kus beperk. Die Portugese veroweringe in Afrika was slegs die verowering van die Arabiese kolonies.
Di snelle totstandkoming van Portugal se koloniale ryk in die Ooste is te danke aan die swakheid van sy Mohammedaanse teenstanders. Sou hierdie ryk teenoor sterker mededingers in stand gehou word? Die Portugese het weliswaar alles in hul vermoë gedoen om die geheime van hul Oosterse handel te bewaar. Vreemde mededingers sou deur die verspreiding van allerlei wilde gerugte oor die gevaarlike windstiltes en die versengende hitte van die trope afgeskrik word. Maar reeds in 1503 het die eerste Franse skip, in 1580 die eerste Engelse skip en in 1595 die eerste Nederlandse skip verby die Kaap van Goeie Hoop gevaar.
Portugal vermy Suid-Afrika
Gedurende hierdie eeu van Portugese heeskappy is geen poging aangewend om in Suid-Afrika, die deel van die vasteland wat op grond van klimaat en bodem by uitstek vir Europese kolonisasie geskik is, ‘n nedersetting te stig nie. Suider-Afrika was vir die Portugese niks anders as ‘ n lastige hindernis nie, wat die seeverkeer met Indië erg verleng en gevaarlik gemaak het. Die kus met sy gevaarlike storms en seestrome, die skaarste aan natuurlike hawens, woestyne en hoë bergreekse wat die kus van die binneland afgesluit het – en daarby die gebrek aan bevaarbare binnelandse waterweë – het die Portugese afgeskrik van ‘n intiemer kennismaking met Suid-Afrika. Daar was nie net die uiterlike onherbergsaamheid van ons land nie. Ook die inboorlingrasse het die Portugese afgeskrik. Dit het in die aard van die destydse koloniale bedrywigheid van Portugal gelê dat hy slegs geïnteresseerd was in inboorlingvolke wat reeds ‘n betreklik hoë peil van beskawing bereik het en met wie handelsbetrekkinge aangeknoop kon word. Dias sowel as Da Gama kon getuig dat die Suid-Afrikaanse inboorlinge nie aan daardie eis voldoen het nie. Toe bv. aan die inboorlinge by St. Helenabaai ‘n verskeidenheid van handelsvoorwerpe soos speserye, goud en pêreld getoon is, met die doel om vas te stel of hierdie kosbaarhede tot die voortbrensels van die land behoort, was die resultate heeltemal negatief. Die inboorlinge van die land wat van alle lande die meeste kosbaarhede in sy skoot hou, was volslae onkundig omtrent hierdie handelsvoorwerpe, met die gevolg dat die Portugese des te meer rede ghad om om die onherbergsame kuste van Suid-Afrika te vermy. Buitendien was die armoedige, primitiewe Suid-Afrikaanse inboorlinge in die o ë van die Portugese ‘n besliste gevaar. Botsings het by kennismaking herhaaldelik voorgekom en by een geleentheid het Francisco d’Almeida, die eerste Portugese onderkoning van Indië en die held van Diu, met “meer as vyftig van die fleur van die vloot” aan die Tafelbaaise strand ‘n roemlose dood gevind in ‘n geveg met miserabele, barbaarse Hottentotte. Die barbaarsheid van Suid-Afrika se inwoners, met wie geen handel gedryf kon word nie, het die Portugse so afgeskrik dat selfs hulle bekeringsywer wat so ‘n belangrike rol in hul koloniale politiek gespeel het, hier nie tot uiting gekom het nie.
‘n Ander oorsaak waarom die Portugese, hoewel hulle af en toe in Tafelbaai of in Mosselbaai vertoef het om water in te neem, in die reël Suid-Afrika vermy het, moet daarin gesoek word dat hulle in Mosambiek en ander poste in Oos-Afrika, sowel as in St. Helenabaai aanlêplekke gevind het. By hierdie aanlêplekke kon hul skepe voorsien word van water sowel as vars vleis, vrugte en groente, baie hiervan oorspronklik uit Portugal self afkomstig, met die gevolg dat vir hulle geen noodsaaklikheid bestaan het om elders aan te doen nie.
Betekenis van Portugal vir S.A.
Hoewel Portugal geen nedersetting in Suid-Afrika gestig het en ook niks gedoen het om met ons binneland kennis te maak nie, is sy betekenis vir ons land geensins beperk tot die ontdekking daarvan nie, hoe groot hierdie prestasie ook al is. Sedert die eerste kennismaking met die Suid-Afrikaanse kus het die Portugese aan ons kape en baaie name gegee. Elke skoolkind weet van St. Helenabaai, Kaap Agulhas en Algoabaai – om slegs ‘n paar te noem. Selfs een van die provinsies van die Republiek het sy naam, Natal, aan die Portugese te danke. Ons onherbergsame kus, bedrieglike seestrome en stormagtige weer het die stranding van baie Portugese skepe tot gevolg gehad. Dergelike skipbreuke het tot die eerste opmeting van ons kuslyn gelei. So is daar in 1575 ‘n Portugese offisier, Perestrello, vroeër self ‘n skipbreukeling, gestuur om ‘n veilige hawe tussen Delagoabaai en die Kaap te soek. Hoewel hy nie daarin geslaag het om ‘n beskutte ankerplek te vind nie, het hy van sy skip af die kus noukeurig gevolg en ‘n kaart daarvan gemaak.
Hierdie skipbreuke het nie alleen bygedra tot die opmeting en duideliker voorstelling van ons kuste nie, maar het ook belangrike mededelinge oor die Suid-Afrikaanse inboorllinge tot gevolg gehad. Reisjoernale van skipbreukelinge bevat dikwels belangrike inligtinge omtrent die gewoontes, woonplek en suidwaartse landverhuising van die Bantoe.
Nederlanders, Engelse en Franse
Meer het die Portugese vir die land van hul ontdekking nie gedoen nie. Vir hulle was die land en sy bewoners selfs te arm om beset of uitgebuit te word, en die eie bevolking te klein vir emigrasie en kolonisasie. Dit sou die taak van Portugal se erfgename wees. Nederlanders, Engelse en Franse het reeds teen die end van die 16de eeu in die Indiese Oseaan verskyn. Tenoor dergelike mededingers kon daar slegs een einde wees – die einde van die koloniale oppermag van die Portugese in die Ooste. Hierdie einde was reeds verseker toe Portugal in 1580 verower is deur Filips II van Spanje, die doodsvyand van Nederlanders en Engelse.
— — — oOo — — —