J.P. van der Merwe, M.A., D. Litt.
I.
DIE KAAP ONDER BRITSE BESTUUR 1795-1803
Die militêre debakel waarop die verdediging van die Kaap uitgeloop het, is gevolg deur die ondertekening van die akte van oorgawe op die landgoed Rustenburg op 16 September 1795. Van die burgers is vereis ‘n tussentydse eed van trou aan die Engelse koning solank hy in besit van die Kaap sou bly. Die regte en eiendom van die Kompanjie sou oorgaan op die nuwe gesaghebbers; maar die landswette en die regte en gebruike van die burgers sou geëerbiedig word. Geen nuwe belastings sou gehef word nie en, waar moontlik, sou die drukkendste belastings afgeskaf word. In die binneland sou daar, nou vir die eerste keer, vryheid van handel wees, terwyl die buitelandse handel op ruime voet ingerig sou word.
Craig se bestuur
Die voorlopige militêre bestuur onder genl. Craig, ná die vertrek van admiraal Elphinstone en genl. Clarke op 15 November, het hom goed van sy taak gekwyt. Craig was ‘n energieke en eerlike bewindsman en het sy bes gedoen om die inwoners met die nuwe bewind te versoen en die welvaart van die kolonie te bevorder. Die Anglomanne in die kolonie het die nuwe bewind met geesdrif aanvaar; amptenare uit hul geledere het ingewillig om onder die nuwe bestuur te dien en het hul poste behou.
Die burgers van die Kaapse, Stellenbosse en Swellendamse distrikte het hulle noodgedwonge onderwerp en die voorlopige eed van trou afgelê, maar die Graaff-Reinetter wou hul pasgewonne selfstandigheid nie so maklik prysgee nie. Hulle het iets wat neerkom op ‘n voorwaardelike onderwerping aangebied. In ‘n brief van 27 Oktober 1795, onderteken deur die provisionele landdros, Carl David Gerotz, die krygsoffisiere Adriaan van Jaarsveld en Andries Adriaan Smuts, twee heemrade en die “representanten uit naam van den Algemene Volkstem”, verklaar hulle dat “de E. Compagnie, met alle desselfs onwettige beamptenaaren door ‘t algemeene Volkstem bedankt geworden is”, a.g.v. die ekonomiese afkpersing en beperkinge en die gebrek aan beskerming.
Maynier het hulle uit sy amp as landdros gesit, omdat hy uit eie baatsug die “Colonie” en die “burgerstaat” laat verarm het en gedeeltelik “aan de Inlandsche Vyanden heeft verronsselt”. Hulle het egter nooit daaraan gedink dat die land kon klaarkom sonder ‘n schutsheer” of hulle gekant teen die State-Generaal of selfs goewerneur Sluysken nie. Hulle het derhalwe gevra dat die deur die volkstem voorlopig benoemde amptenare en krygsoffisiere in hul ampte erken en bekragtig word, dat aan hulle kruit en lood verskaf word om die distrik as die “schatkamer van vleesch en noodige trekbeesten” te verdedig en,dat hulle ‘n predikant moet kry.(1)
(1)Brief van Gerotz, Van Jaarsveld en ander aan Craig, 27 Oktober 1795. K.A. Recs. Of Cape Col., I, p.208-210, waar die datum verkeerdelik as 29 Oktober aangegee word.
Verset van Graaff-Reinet
Craig het simpatiek geantwoord en Gerotz as landdros erken tot tyd en wyl sy eie benoemde, Bresler, in Graaff-Reinet sou aankom. Hiermee wou die burgers nie genoeë neem nie. Toe Bresler op 9 Februarie 1796 in Graaff-Reinet aankom, is die Britse vlag wat hy gehys het, afgetrek en het almal geweier om die tydelike eed van trou af te lê. Merkwaardig genoeg, het hulle hierdie stap verklaar as nie gerig teen “den Brittanischen Majesteit” en sy amptenare nie, maar teen sulke “aristocratse regenten” soos De Wet, Maynier en Bresler.(2)
(2)Vgl. Propositie aan den Weler, Heer Bresler, K.A. B.O. 26, pp.1-6
Intussen het hulle reeds op 7 Januarie 1796, op ‘n gekombineerde vergadering van diensdoende en oud-heemrade sowel as krygsoffisiere, hul voorneme bevestig om liewer te sterf as om ontrou te word aan die verdediging van die rus, welvaart en behoud van “ons Vaderland”. Op 25 April het hulle hul eed nog eens bevestig om getrou te bly aan die State-Generaal van Nederland en daarvoor goed en bloed op te offer.(3) Die houding van die Graaff-Reinetters is sonder twyfel beënvloed deur die hoop dat die politieke bordjies aan die Kaap weldra verhang sou word.
(3)B.O. 26, G.R. ½, pp.57 en bl. 69. K.A.
Onderwerping van Graaff-Reinet
Craig het ‘n troepe-afdeling van 300 man onder majoor King na Stellenbosch gestuur om op die gegewe oomblik teen Graaff-Reinet te marsjeer; hy het ‘n Hottentotte-korps op die been gebring vir diens in die binnland en het die lewering van alle voorrade aan Graaff-Reinet verbied. Maar tot onmiddellike handelinge het dit nie gekom nie, omdat die politieke en militêre posisie op daardie tydstip onseker was. Nie alleen was daar die openlike verset in Graaff-Reinet nie, maar volgens Craig was daar nog teen die end van die vorige jaar ‘n wydvertakte gevoel van vyandigheid ook by die mense wat die eed van trou afgelê het.(4)
(4)Craig aan Dundas, 22 September 1795. Recs. Of Cape Lol., pp.155-156
Buitendien was dit bekend dat admiraal Lucas met ‘n oorlogseskader op pad was na die Kaap en dat ‘n Franse vloot uit La Rochelle in suidelike rigting gevaar het. Die eerste taak was dus om die verdediging van die Kaap te verseker, en vir dié doel is militêre versterkinge in aller yl aangevoer. Toe Lucas derhalwe anker gewerp het voor Saldanhabaai, het hy nie alleen te staan gekom voor ‘n groot mag op land nie, maar ook voor ‘n vloot van veertien skepe onder Elphinstone op see. Dit, en muitery van sy Oranje-gesinde manskappe, het gelei tot ‘n roemlose oorgawe. Daarmee het ook die laaste hoop van die Patriotte verdwyn.
Op 12 November het die ontevredenes in Graaff-Reinet hul onderwerping aangebied. Craig het ‘n proklamasie belowe om die dade van verset deur die vingers te sien, en so het ‘ n tydjie van betreklike stilte aan die grens aangebreek. Intussen het hy in Oktober ook die wisselkoers van die papiergeld vasgestel, en hoewel dit die gestadige depresiasie van die riksdaalder nie kon verhoed nie, het dit die koloniste voorlopig gerusgestel. Die besoek van die oorlogskepe en die aanwesigheid van die betrklik groot garnisoen het ook sy uitwerking begin toon op die Kaapse mark, en so kon Craig die teuels neerlê in die wete dat hy ‘n betreklik rustige en welvarende kolonie aan sy opvolger kon oordra.
Nuwe regeringsvorm onder Macartney
Op 5 Mei 1797 het die 60-jarige graaf Macartney as goewerneur oorgeneem, met genl. Francis Dundas, ‘n neef van die Koloniale Sekretaris, as ondergoewerneur en bevelhebber oor die troepe. Soos in ander verowerde kolonies in Wes-Indië en elders in hierdie tyd, is ook nou aan die Kaap ‘n strakke vorm van kroonkoloniebestuur ingerig, wat die Imperiale gesag onmiddellik en absoluut sou maak. Alle burgerlike en militêre magte is in die hande van die goewerneur saamgetrek.
So het ook die ou Politieke Raad uit die bestuursinrigtinge van die land verdwyn. Die regspleging is, soos voorheen, gelaat in die hande van amateur-amptenaarregters; maar hul getalle is verminder tot ‘n president en sewe lede, met vasgestelde salarisse, wat die nuwe Hooggeregshof tog ietwat beter gemaak het as die ou Raad van Justisie. As Appèlhof het opgetree die goewerneur en luitenant-goewerneur, en in sake waarby bedrae bo R400 betrokke was, kon ‘n hoër beroep gedoen word op die Geheime Raad in Engeland.
Reeds in die tyd van Craig is die ou kollege van burgrrade vervang deur ‘n nuwe liggaam, die Burger-senaat, met ses lede wat, soos vroeër, d.m.v. koöpsie genoem is. Hul pligte was in hoofsaak dieselfde as dié van die ou burgerrade. Die ander administratiewe en regterlike instellinge uit die Kompanjiestyd is ongeskonde gelaat.
Macartney se opdrag
Volgens sy opdrag moes Macartney die drukkende monopolies afskaf, agterstallige grondbelasting uit die Kompanjiestyd afskrywe, gewetensvryheid en vrye beoefening van die godsdiens toelaat, en die pynbank en barbaarse voltrekking van doodvonnisse afskaf. Hierdie hervormingsmaatreëls is in hoofsaak uitgevoer, maar Macartney was te konserwatief en onbuigsaam van gees om die toegeneentheid van die koloniste te win. Sy strenge regverdigheid is wel gerespekteer, maar tog word sy bestuurstyd gekenmerk deur die verlies van alle politieke vryheid. Alles wat ook maar enigsins na “Jacobinisme” geruik het, het hy as uit die bose beskou en daarteen met die grootste hardhandigheid opgetree – veral met sy geliefkoosde wapen van inkwartiering van soldate. Anglomanne is daarteen met die grootste voorkomendheid behandel.
Lady Anne Barnard, die vrou van die regeringsekretaris, het dikwels as gasvrou opgetree by partytjies en onthale, maar die kring waarin haar invloed deurgewerk het, was beperk. In hierdie kring was egter reeds ‘n sterk toegeneentheid teenoor alles wat Engels was, sigbaar. Aan die ander kant het die Goewerneur drasties opgetree teen diegene wat gehuiwer het om die nuwe eed van trou af te lê.
Aan die Goewerneur is die buitensporig hoë salaris van R20 000 per jaar betaal, aangevul deur ‘n onderhoudstoelae van R4 000 per jaar en ‘n belofte van ‘n pensioen van R4 000 uit die koloniale kas ná sy aftrede. Saam met die salarisse van die vernaamste burgerlike amptenare, het die kolonie nie minder as R49 000 per jaar gekos nie, en dit in sterling. Aangesien die inkomste weens die vermeerderde handel en welvaart wat deur die oorlogsomstandighede veroorsaak is, gestyg het van ongeveer R50 000 in 1795 – in ’96 tot meer as R146 000 per jaar sedert 1797, het die koloniste die druk voorlopig nie gevoel nie. Die terugslag sou eers later kom.(5)
(5)Sien The Cambridge History of the British Empire, Vol. VIII, p.179
Intussen is ook ‘n verandering van groot betekenis aangebring deur die vervanging van alle bykomstige emolumente deur verhoogde salarisse in die geval van die mindere amptenare. Uitsondering was die fiskaal, wat nog toegelaat is om ‘n deel uit sekere soorte boetes op te vorder.
In die tyd van Craig is die Navigasiewette toegepas, wat alle goedere uit nie-Britse lande uitgesluit het. In Macartney se tyd is egter ‘n wysiging aangebring. Voortaan sou alle Britse goedere, vervoer in Britse skepe, vry van belasting ingevoer word, terwyl goedere uit vreemde lande ingevoer kon word op betaling van ‘n invoerreg van 10 persent ad valorem, of 5 kpersent wanneer gebruik gemaak is van Britse skepe. Hierdeur het die Kaap ‘n unieke posisie ingeneem in die destydse Britse Ryk.
Toets vir eerste Britse bestuur: die oosgrens
Die eerste Britse bestuur was, wat die algemene administrasie van die kolonie betref, ‘n aanmerklike verbetering op sy voorganger, maar die werklike toets sou eers gelewer word deur die oosgrens. In Gaaff-Reinet het die eenmaal verdrewe Frans Bresler weer in die drosdy die leisels in hande gehad as landdros. Om die toestande in die grensdistrikte te ondersoek, is John Barrow by hom gevoeg, omdat Macartney nie op die mening van Bresler alleen wou afgaan nie. Dit was ‘n besonder ongelukkige keuse, want Barrow was van die begin af vervul met minagting en ‘n uitgesproke vooroordeel teenoor die grensboere, wat vir hom “peasants” was, en volgens hom met voordeel vervang sou kon word deur Chinese landbouers. Hy kon hul taal nie versstaan nie en so het hulle vir hom wesenlik vreemd gebly. Sy verblyf in die grensdistrikte en sy reis met Bresler tot aan die Keiskamme het hom voorsien van die materiaal vir sy tweeldelige boek, Travels into the Interior of Sothern Africa, wat ‘n merkwaardige versameling bied van waarheid en verdigsel. Gelukkig het ander skrywers van sy tyd, wat met minder vooroordeel bevange was, die onjuisthede en verkeerde indrukke van Barrow aan die kaak gestel. Van praktiese belang egter is dat Barrowse opvattinge heelwat gewig gedra het by die gesagvoerders en ongetwyfeld daartoe bygedra het om die ontwikkeling van ‘n gesonder en kragtiger beleid aan die oosgrens te verhinder.
Grensbeleid: gevare
Ooreenkomstig opdrag van die Goewerneur het Bresler en Barrow ‘n reëling probeer vaslê op die grondslag van skeiding tussen die rasse. Aan die boere in die noordoostelike en oostelike grenswyke wat van hul plase verdryf was, is afskrywing van rekognisiegelde binne ses jaar beloof indien hulle binne vier maande na hul verlate plase sou terugkeer. Die Boesmans moes deur kommando’s in toom gehou word en, indien nodig, na die Kalahari verdryf word. Boere word beveel om hul Kôsa-bediendes oor die grense te stuur en hulself van grensoorskrywing te weerhou. Gaika het belowe om die Visrivier as grens te eerbiedig en sy opstandige onderdane in die Suurveld terug te ontvang, maar, verstaanbaar genoeg, kon ‘n reeks samesprekinge die sterk stamme in die Suurveld nie beweeg om die aantreklike weivelde te verlaat en die wraak van Gaika te trotseer nie. Die hele reëling het hierdeur nutteloos en selfs gevaarlik geword.
Macartney sou egter nie die storm maai van die warrelwind wat nou reeds geruime tyd sowel deur die Kompanjie as onder die engelse bewind gesaai was nie. Sat van dae en gekwel deur jig, het hy besluit om te gaan rus en teen die einde van 1798 die Kaap in ‘n toestand van skynbare welvaart en rus agtergelaat. Van nou af tot aan die teruggawe van die Kaap aan Nederland het die luitenant-goewerneur en aanvoerder van die troepe, Francis Dundas, waargeneem, behalwe tussenin effens langer as ‘n jaar, van Desember 1799 tot April 1801, toe sir George Yonge geregeer het.
Opstand aan die oosgrens
Kort ná die vertrek van Macartney het die kruitvat aan die oosgrens ontplof. Die onmiddellike aanleiding was gering. Adriaan van Jaarsveld, die man wat ‘n lang en eerbare loopbaan as leier in die grenswyke agter die rug had, wat saam met Marthinus Prinsloo en ‘n paar ander die siel van die verset teen die Kompanjie in 1795 en daarna teen Craig was, is gearresteer op aanklag van vervalsing van ‘n kwitansie van die Weeskamer. Sy medeburgers het geglo dat dit slegs ‘n voorwendsel was om hom uit die pad te kry soos kommandant Petrus Jacobus Delport van Swellendam, wat sonder verhoor deur Macartney verban is. Aangemoedig deur berigte oor die vertrek van regimente van die garnisoen na Indië en van die groot brand waarin perde van die ruitery gedood en ‘n groot deel van die krygs- en vlootvoorrade vernietig is, het ‘n aantal Graaff-Reineteers Van Jaarsveld van sy geleide bevry en die drosdy beleër. Samewerking het egter nou, net soos later, in Graaff-Reinet ontbreek. Die meeste burgers het hulle van die verset weerhou en die groepie aktiviste het hulle, sonder om te veg, by Bosbrg aan genl. Vandeleur oorgegee. Van Jaarsveld, opnuut gearresteer, is saam met sy seun en 18 ander na Kaapstad gebring vir verhoor op aanklag van hoogverraad.(6)
(6)Van Jaarsveld en Marthinus Prinsloo is uiteindelik ter dood veroordeel; die ander tot verbanning of tronkstraf. Die vonnisse is egter nie voltrek nie, en ná die teruggawe van die Kaap is ‘n algemene amnestie toegestaan
Kôsas en Hottentotte span saam
Die ingewilkkeldheid van die grensvraagstuk sou nou op aanskoulik wyse aan die Engelse bewindhebbers gedemonstreer word. Die Suurveld het in ‘n toestand van chroniese onrus verkeer. Van die Kôsas wat hulle al geruime tyd in die Suurveld bevind het, waarskynlik versterk deur nuwe aankomelinge van oor die Visrivier, het saam met rondloper-Hottentotte van die beroeringe onder die blankes gebruik gemaak om verskeie plase te plunder en die eienaars te verdryf met verlies van die grootste gedeelte van hul besittinge.
Veral onrusbaend was die groeiende beroering onder die Hottentotte. Op Vandeleur se mars van Algoabaai na Bruintjieshoogte met ‘n afdeling soldate waaronder lede van die Hottentotte-korps, het ‘n “sterk party” Hottentotte onder Klaas Stuurman hulle by hom gevoeg. Dié Hottentotte het hul base verlaat, was in besit van heelwat gewere en was belaai met goedere wat, volgens hul eie erkenning, van boere geroof was. Vandeleur het hulle ontwapen, maar hulle toegelaat om met sy troepemag saam te trek. Uiteindelik is ongeveer honderd van hulle toegelaat om by die Hottentotte-korps aan te sluit.
Op sy terugmars na Algoabaai is Vandeleur aangeval deur die Gunukwebe onder Cungwa, ‘n hoof wat hom voorheen rustig gedra het, vermoedelik uit vrees dat Vandeleur van plan was om hom oor die Visrivier te verdryf. Kort daarop het ‘n groot aantal van die ongeveer 500 Hottentotte wat onder toesig van Barrow die troepe na Algoabaai vergesel het, onverwags hul nuwe beskermhere verlaat en hul lot met dié van die Kôsas ingewerp.(7)
(7)Vgl. J.S. Marais, Maynier and the First Boer Republic, pp.105-107
Oorsake van Hottentot-opstand
Die onmiddellike oorsaak van die uitbarsting onder die Hottentotte was die wete dat die verskaffing van kruit en lood, onontbeerlike middele ter selfbeskerming, gestaak was en dat die plase van die gevange burgers onbeskerm agtergelaat was.(8) Die dieper oorsake lê egter verder terug en is ingewikkelder. Die nomadiese Hottentotte in die binneland, wat in die loop van die 18de eeu die koms van die veeboere verwelkom het as bondgenote teen die gemeenskaplike vyand van die herderlewe, nl. die Boesmans, het geleidelik in diens geraak by die boere namate die wêreld nouer geword het, en veral aangelok deur die beskawingsgoedere wat hulle so kon verwerf.
(8)Recs. Of the Cape Colony, II, p.481
Voor die laaste dekades van die eeu was daar min blyke van vyandskap, maar daarna groei die spanning tussen grensboere en Hottentotte vinnig aan. Vergrype van Hotentote teen blankes, hardhandige en soms onregverdige optrede van onverantwoordelike enkelinge onder die blankes teen hul Hottentot-bediendes in die dun bewoonde grenswêreld, waar die regsgesag ondoeltreffend was om ‘n behoorlike regstoesstand te handhaaf, was in die eerste plaas verantwoordelik vir die toestand. Die optrede van Maynier as landdros van Graaff-Reinet het die spanning verhoog.
Die Van Jaarsveld-opstand en die gevolglike optrede van die bewindhebbers teen die Graaff-Reinetters, en veral die onmag van die boere ten gevolge van die staking van alle ammunisievoorsiening, het ‘n alte gunstige geleentheid vir wraak en plundering gebied. Dat die Hottentotte hulle by Vandeleur gevoeg het, lewer die bewys dat hulle van mening was dat hul optrede deur die owerheid verwelkom sou word. Toe hulle ontwapen is, en veral toe ‘n groot deel van die troepe teruggestuur is na Kaapstad, het hulle blykbaar hul nuwe here begin wantrou en bevrees geraak vir moontlike toekomstige vergelding, en hul heil gaan soek by die Kôsas.(9)
(9)Sien Recs. Of Cape Col., III, p.59
Vir die eerste keer het die kolonie ‘nkoalisie tussen Hottentotte en Kôsas teen die blankes belewe. Die toestand was gevaarlik, omdat die Hottentotte, bekend met die gewoontes en vegmetodes van die Boere, en in baie gevalle gewapen met gewere, soveel meer verwoesting kon aanrig. Vandeleur, verontwaardig oor die onuitgelokte aanval op sy troepe, wou die Kôsas ‘n deeglike les leer; maar die gesagvoerders, onder invloed van mense soos Maynier en Barrow, was ‘n ander mening toegedaag.
Oortuig daarvan dat die onluste veroorsaak was deur onderdrukking, onreg en tergery van die kant van die blankes, het hulle aangevoer dat die vestiging van ‘n behoorlike regsgesag die moeilikheid sou oplos. Daarby was Dundas ongeneë om die garnisoen aan die Kaap te verswak deur die gebruik van sy troepe op groot skaal aan die oosgrens.(10) Vandeleur moes die toestand red deur ‘ n versoenende houding, geskenke en beloftes.
(10)Vgl. Recs. Of Cape Colony, III, pp.57-67
Kôsas stroom oor die grens
Die gevolg was dat die Kôsas die hele suidelike Graaff-Reinet oorstroom en verskriklike verwoesting aangerig het.(11) In Augustus het Dumndas noodgedwonge self op die oosgrens verskyn, vergesel van soldate en burgers van Stellenbosch en Swellendam, maar hy het gekom om self sy versoeningspolitiek deur te voer. Saam met hom was Honoratus Maynier. Die Kôsas is oorreed om verdere plundering te staak deur die belofte, versoet deur geskenke, dat hulle die Suurveld gelaat sou word.
(11)Sien verslae van Veldkornette, Recs. Of Cape Colony, II, pp.448-453
Maynier, gesteun deur ‘n paar dragonders en Hottentot-soldate, is in Graaff-Reinet agtergelaat as resident-kommissaris van die twee grensdistrikte. Gewapen met groter gesag as tevore, kon hy nou sy stelsel van beheer van die grensdistrikte toepas. Dit het neergekom op strenge verordeninge vir die goeie behandeling van die Hottentotte en drastiese beperking van optrede van gewapende groepe boere teen veerowers.
Uitbarsting teen Maynier
Die grondgedagte was gesond, nl. die vestiging van ‘n doeltreffende regsgesag en die voorbehoud van die reg van beskerming vir die regringsgesag alleen. Maar dit kon alleen sy uitwerking hê indien die regeringsgesag sterk genoeg en gewilllig was om sy taak van beskerming deur te voer. Dit was nie die geval nie, en daarom was ‘n chaos die noodwendige gevolg. Die toestand is vererger deur die feit dat die gewantroude en gehate Maynier die stelsel moes toepas.
In Oktober 1801 ht die ontstemming van die burgery, aangevuur deur wilde gerugte dat die regering van plan was om boere as soldate te rekruteer, tot ‘n uitbarsting gekom. Maynier is in sy drosdy beleër en sterk bewoorde petisies teen die resident-kommissaris is opgestel en onderteken, en wel deur die gematigde elemente o.l.v. kommandant Tjaart van der Walt en ander.(12) Dit het indruk gemaak, en Maynier is teruggeroep na Kaapstad, waar hy weldra ná ‘n ondersoek vrygespreek is van die aanklagte teen hom en in ‘n nuwe pos in Kaapstad aangestel is.
(12)Vgl. Cambridge History of the British Empire, Volume VIII, p.187
Vergeefse poging om orde te herstel
Maynier was weg, maar die probleme van die oosgrens het bly bestaan. Pogings is aangewend om ‘n bestaanbare modus vivendi te bewerk, maar met weinig sukses. Teen die einde van 1801 is ‘n reservaat vir rondswerwende Hottentotte aan die Swartkopsrivier gestig o.l.v. dr. Van der Kemp, en die jaar daarop is geprobeer om die Hottentotte onder Klaas Stuurman e.a. leiers met hul Kôsa-bondgenote tot rus te bring.
Die grensboere was egter teen dié tyd grotendeels gedemoraliseer. Wantroue in die regeerders en die onveiligheid wat oral geheers het, het hulle onwillig gemaak om hul gesinne te verlaat en op kommando te gaan. Vir die eerste kommando onder Tjaart van der Walt in Februarie 1802 kon nie meer as 80 man verkry word nie. Hiermee kon niks uitgerig word nie, en die handjievol manne moes onverrigtersake huiswaarts keer.
‘n Tweede kommando in Mei, onder dieselfde aanvoerder, was sterker in getal en het met sukses opgetree. Selfs is 13 000 beeste gebuit, totdat die dood van die vertroude aanvoerder tot verwarring en ontbinding van die kommando gelei het. Daarna het die toestand so wanhopig geword dat dit gelyk het of die oostelike grensdistrikte vir die blankes verlore sou gaan.
Toe dit teen die middel van 1802 bekend word dat die Kaap aan die Bataafse Republiek oorhandig sou word, het Dundas hom na die grensdistrikte gehaas om ‘n reëling te probeer tref voor die teruggawe. ‘n Kommando van burgers uit al die buitedistrikte is opgeroep om die gebied te bewaak, terwyl die troepe na Kaapstad teruggetrek word, en ‘n soort vrede is aanmekaargelap. Dit het neergekom op weinig meer as ‘n verstandhouding dat die verskillende seksies mekaar met rus sou laat.
In werklikheid het die toestand in die oostelike grensdistrikte enigsins herinner aan die toestand van ‘n verowerde land. Honderde huise en plase was afgebrand en verlaat, bittere vyandskap het tussen boere en Hottentotte ontstaan en die Kôsas het uitgebreide dele van die koloniale gebied in die ooste beset. Die gevolg hiervan was dat ‘n menigte ingesetenes van die grensdistrikte al verder weswaarts gedwing is, en met hul huisgesinne en vee ‘n rondswerwende bestaan moes maak.
Hoewel die toestand in die kolonie as geheel aanmerklik beter was by die teruggawe as by die oorname van die bestuur deur die engelse, het hulle aan die oosgrens ‘n toestand aan hul opvolgers nagelaat wat heelwat meer onrusbarend en ingewikkel was as selfs in die verwarde dae van 1795.
II
DIE KAAP ONDER DIE BATAAFSE REPUBLIEK 1803-1806
Deur die voorlopige ooreenkoms van Londen op 1 Oktober 1801 tussen Engeland en Frankryk is vir die Nederlandse regering die vooruitsig geopen om die kolonies wat Groot-Brittanje van hom verorwer het, terug te kry. Derhalwe moes die Bataafse owerheid hom besig hou met die staatkundige,ekonomiese en administratiewe vraagstukke wat so ‘n teruggawe van gebiede sou meebring.
Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie is in 1798 ontbind en in sy plek is aangestel ‘n “Committé tot de zaken van den Oost-Indischen Handel”, wat op sy beurt op 15 Mei 1800 vervang is deur die “Raad van Aziatische Zaken en bezittingen”, wat onmiddellik ondergeskik sou wees aan die staatsbewind en verantwoordelik vir die administrasie van die inkomste uit die besittinge, vir die bestuur, regspleging en verdediging.
De Mist se opdrag
J.A. de Mist was lid van die Asiatiese Raad en op 10 Desember 1801, twee maande nadat ‘n komitee van hierdie raad opdrag ontvang het om die bewind van advies te bedien oor die wyse waarop die regering aan die Kaap uiteindelik ingerig behoort te word – met ‘n ontwerp-instruksie vir die goewerneur – het hy sy waardevolle verslag ingelewer: “Memorie, houdende de consideratiën en advys van het Departement tot de Indische Zaaken omtrent den voet en wyze waarop de Regering van de Caab de Goede Hoop, eventueel zal behooren te worden ingericht.” Op grond van hierdie verslag het De Mist opdrag gekry – nadat die vrede op 28 Maart 1802 definitief in Amiens geteken was – om die Kaap van die Engelse te gaan oorneem en die bestuur en administrasie daar te gaan reël.
Jacob Abraham de Mist, gebore op 20 April 1749, was libraal, maar gematig, behoudend en versoenend. Hy was ‘n voorstander van die sg. “Christendom bo geloofsverdeeldheid” wat destyds in Nederland gegeld het, en waarop hy later die kerkorde aan die Kaap sou grond. Deug en godsdiens het by hom hoog aangeskrywe gestaan, en die staat moes sorg vir die middele om dit nie te laat verval nie. De Mist wou die bestaande orde nie omverwerp en vernietig nie: hy wou dit verbeter. Dit sou ook sy optrede aan die Kaap kenmerk.
Janssens en De Mist neem oor
De Mist se funksie aan die Kaap sou van tydelike aard wees. Meer permanent was dié van Jan Willem Janssens (1762-1838) as Goewerneur en Generaal-en-chef aan die Kaap.
Op 21 Februarie is die driekleur van die Bataafse Republiek op die Kasteel gehys, en op 1 Maart 1803 kon De Mist oorgaan tot die uitvoering van sy instruksies om, in die eerste plaas, goewerneur Janssens, die Politieke Raad en die Raad van Justisie plegtig te installeer om gesag uit te oefen oor die kolonie, wat nou ‘n nuwe status verkry het: feitlik die van ‘n provinsie van Nederland. Hoewel daar gebiedskeiding met Nederland was, kon die staatkundige eenheid in die toekoms van groot betekenis wees, want hoewel tienduisend kilometer van mekaar verwyder, sou die Kaapse belange en behoeftes wat bestuur, regspleging en ekonomiese aangeleenthede betref veel beter in die moederland regstreeks geken en behartig word as via Batavia, soos dit die geval onder die Oos-Indiese Kompanjie was.
Kaapland in 1803
In hierdie nuwe gewes van Nederland het by die aankoms van die Bataafse gevolgmagtigdes ongeveer 22 000 blankes, 25 000 slawe en 10 000 Hottentotte gewoon. In die Kaapse distrik was daar 6 261 blankes, terwyl die blanke bevolkings van die distrikte Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet onderskeidelik 7 256, 3 967 en 4 262 was. Hierdie blanke bevolking het oor ‘ n uitgestrekte gebied gewoon, waarvan die oos- en noordgrens in Julie 1798 deur lord Macartney as volg vasgestel is: die Visrivier tot by Kagaberg en van daar oor die Tarkaberg langs die Bamboesberke en die Suurberg na Van Plettenberg se baken: en die noordgrens van laasgenoemde baken oor Groot Tafelbergna die Nuweveldb erge, onder die noordelike hange van hierdie bergreeks en van die Roggeveldberge om die bolope van die Sak-, die Riet- en die Visrivier in te sluit; oor Kubiskowkop na die Buffelsrivier en sy mond. Maar selfs ten noorde van die Nuweveldberge het toe al koloniste gewoon.
De Mist se program
Vir hierdie bevolking wou De Mist in die eerste plaas ‘n regering en administrasie instel wat by die veranderde toestande sou pas. Hy wou ‘n regering in die lewe roep wat die welvaart van die koloniste in ag neem, die ekonomiese toestand onder die vergrootglas neem en die bronne van welvaart ontwikkel. Daarby moes ook ‘n nuwe handelsbeleid sy aandag geniet. Onderwys en godsdiens sou sy sorg wees en ten slotte moes hy hom bemoei met die steeds dringender grensprobleem in die ooste.
Onder die invloed van Barrow was De Mist besorg oor die onderdrukking van die inboorlinge van die kant van die regering sowel as van die koloniste, veral aan die grense. Die reëling van die moeilikhede aan die grense sou nie lank uitgestel kan word nie. De Mist het dus met die organisasie van die regering en administrasie van die kolonie begin.
Opdragte aan goewerneur
De Mist, wat self die opsteller was van die instruksie wat die pligte en verantwoordelikhede van die goewerneur moes bepaal, het veral in die oog gehou dat daar in die verlede aan die Kaap dikwels magsmisbruik aan die kant van die goewerneur was. Aan die ander kant wou hy die mag nie te veel beperk nie, omdat daaruit ‘n magtelose regering kon voortspruit. Daarom was De Mist bedag op middele om ‘n kragtige bestuur tot stand te bring, met vrywaring teen magsmisbruik. Die goewerneur is dus ten strengste verbied om geskenke aan te neem. Hy is belas met die algemene sorg vir verdediging, veiligheid, rus en goeie orde, en moes ‘n oog hou oor al die kolleges wat met die een of ander administrasie belas was, asook toesien dat hulle hul pligte nakom.
In moeilike gevalle waaroor hy moes beslis, moes hy die mening inwin van die Politieke Raad, waarvan hy altyd voorsitter was. Ingeval hierdie kollege hom sou oorstem en hy die betrokke besluit skadelik ag vir die belange van die kolonie of die moederland, was daar vir hom twee weë oop: hy kon die besluit voorlopig oneffektief laat bly, en dan moes hy die advies van elke lid van die Politieke Raad inwin en met sy stuur aan die Asiatiese Raad, of hy kon die kollege aanvul met twee lede uit die Raad van Justisie en een uit die Rekenkamer. Dit sou verhoed dat die goewerneur willekeurig en outokraties optree, maar aan die ander kant sou hy nie deur die Politieke Raad oorheers kan word nie. Albei sou deur die Asiatiese Raad gekontroleer kan word.
Die goewerneur moes verder probeer om die gehegtheid aan die moederland te versterk, en hom veral voortudrend op die hoogte hou van die belange en behoeftes van die buitedistrikte, o.a. deur gereelde briefwisseling met die landdroste.
De Mist wou die hele gemeenskap in die kolonie nader aan mekaar bind en die kloof wat daar tussen Kapenaar en buiteman bestaan het, oorbrug. So sou die goewerneur in die geestelike behoeftes van die koloniste voorsien, en hier veral van die buitedistrikte. Die openbare godsdiens moes geëerbiedig en beskerm en die opvoeding bevorder word, deur kundige en geskikte skoolmeesters oor die hele kolonie te versprei, en daar moes toegesien word dat die meesters hul pligte nakom. Ook moes nuttige skoolboeke, almanakke en koerante uit die buiteland binne die bereik van die koloniste gebring word. Vir dié doel moes die goewerneur ‘n staatsdrukkery beheer. Ook moes hy ter verspreiding van openbare kennis korrespondensieposte tussen Kaapstad en die buitedistrikte stig. So kon bevele en rapporte die verafwonende koloniste gou bereik.
Die goewerneur moes voorts sorg dat die orde in Graaff-Reinet herstel word. ‘n Afdeling soldate sou gestuur word om ‘n nuwe aanval van die Kôsas af te weer en ook om mishandeling van die Hottentotte, Boesmans en Bantoes deur die koloniste te belet. Uit hierdie deel van sy instruksie blyk duidelik hoe De Mist nog deur Barrow beïnvloed is. Later het hy sy mening verander.
Politieke Raad
In die uitoefening van sy pligte sou die goewerneur deur ‘n Politieke Raad van vier lede bygestaan word. By langdurige afwesigheid of oorlyde van die goewerneur sou die voorsitterskap by die lede rondgaan. In daardie geval moes hulle volgens die bestaande wette en gebruike regeer sonder om nuwes te maak. Die Politieke Raad kan hom nie as ‘n instelling apart van die goewerneur beskou nie, maar is naas en met hom belas met die regering van die kolonie.
Die finansiële beheer sou by ‘n nuwe instellling berus naamlik Die Rekenkamer, heeltemal onafhanklik van die Goewerneur en Politieke Raad en vir die uitgawes van die kolonie alleen aan die Asiatiese Raad verantwoordelik. Alle betalinge in geld of aflewering van goedere aan die burgerlike of militêre owerhede moes deur die Rekenkamer gekontroleer word.
Met die oog op ekonomiese beheer oor die geldsake van die kolonie was hierdie instelling van De Mist beslis ‘n groot vooruitgang. Dit sou voorkom dat deur die regering misbruik gemaak word van die landsinkomste. Die Rekenkamer sou die finansiële adviseur van die regering wees en in status op die Politieke Raad volg. Maar De Mist het met hierdie instelling meer in die oog gehad as slegs finansiële beheer en advies. Dit is bekend dat hy die ou Burgerraad, die enigste instelling waarin ‘n kiem van volksverteenwoordiging aanwesig was, afgeskaf. Met die Rekenkamer wou De Mist aan die eis van “geen belasting sonder medeseggenskap in die aanwending van die belastingpenninge” wat teen die einde van die 18de eeu nogal aktueel was, voldoen. Derhalwe sou die lede van hierdie kollege alleen persone wees wat aan die Kaap gebore was of wat deur langdurige inwoning met hulle gelyk gestel kan word. Hulle moes nie net toesig hou oor die uitgawes nie, maar prakties ook die bewys lewer dat die tyd van die ou Kompanjie verby was en dat die regering hulle regverdig sou behandel. Dit was een van De Mist se nuttigste instellinge.
Regspraak
Gedurende die later jare van die bestaan van die Oos-Indiese Kompanjie was daar telkens ontevredenheid oor die regspraak aan die Kaap. Daar was ‘n Raad van Justisie, maar sonder ‘n goed omlynde instruksie. Die openbare aanklaer, onder die naam fiskaal was heeltemal onafhanklik van die Raad van Justisie en, om sy willekeurige handelswyse, gehaat deur die meerderheid van die inwoners. Die instelling van hierdie onafhanklike amp het in die begin juis ten doel gehad om te waak vir die belange van die Kompanjie en vir die beskerming van die koloniste teen willkeurige gesaguitoefening van die politiek-kommersiële outoriteite aan die Kaap. Maar mettertyd het die uitoefening van hierdie funksie vir die inwoners geldig drukkend geword.
Raad van Justisie
Ook is ‘n Raad van Justisie ingestel, bestaande uit ses lede, almal met regsopleiding en ‘n sekretaris. Die fiskaal is as openbare aanklaer vervang deur ‘n prokureur-generaal. Appèl kon voortaan regstreeks by die Hooggeregshof in Den Haag aangeteken word en sou nie meer na Batavia gaan nie. Ook die misbruik om die openbare aanklaer te vergoed met ‘n persentasie van die boetes deur die Raad opgelê, is afgeskaf. By afwesigheid van die president sou die oudste lid as voorsitter waarneem totdat die staatsbewind tot ‘n ander benoeming kon oorgaan. Alle stukke aan die Raad gerig sou deur die voorsitter ontvang en geopen word. Die Raad moes hom in sy beraadslagings, vonnisse of besluite deur geen ander gesag hoegenaamd laat beïnvloed nie, maar moes as regterlike mag volkome onafhanklik staan.
In noue verband met die Raad van Justisie het ‘n ander nuwe instelling van die Kommissaris-generaal gestaan wat hy uit eie beweging hier geskep het, nl. die Desolate Boedelkamer: wat die funksie sou verrig wat vroeër die taak was van die sekretaris van die Raad van Justisie. Laasgenoemde kon die dubbele taak nie goed vervul nie, en hierdie nuwe instelling van De Mist het volkome voldoen aan die eise wat gespruit het uit die groot getal insolvente boedels wat beredder moes word.
De Mist was so tevrede met die werking van die Weeskamer dat hy dit voorlopig onveranderd laat voortbestaan het.
Ook die Bank van Lenings het ‘n nuwe instruksie gekry waarin veral sekuriteite en bedrae wat daarop geleen kon word, omskryf is.
Kaapstad sou ook nou sy eerste Munisipale Raad kry, wat moes sorg vir die goeie orde en veiligheid binne die stad; die voorsiening van genoeg lewensmiddele; ‘n beter reëling van die bugerreg van die stad, asook die onderhoud van geboue en magasyne. Daarby sou die Gemeenteraad, soos De Mist dit genoem het, sorg dra vir die reinheid op weë en strate, voorkoming van besmetting, voorsiening teen brand, vir nagwagte, vir die benoeming van “chirurgyns, vroedmeesters of vroedvrouwen en schoolmeesters”; teen slegte mate en gewigte; sorg vir voedsel aan behoeftiges en grysaards, vir die opvoeding van die jeug, vir boomaanplantings, vir ‘n stedelike skuttery om te waak teen vabonde, bedelaars en verdagte vreemdelinge. Ook wou hy aan die Raad juridiese bevoegdheid toeken oor klein bugergeskille, o.m. limitskeidinge.
Verder sou die kollege gereeld al die stedelike belastings insamel en administreer wat deur die Goewerneur en Raad aan die kollege oorgedra word, en verder alles wat te doen het met die handhawing van rus en orde binne Kaapstad en die omgewing. Dit sou bestaan uit sewe lede, inwoners van Kaapstad en distrik. Die ou Burgerraad was veral die vertolker en verdediger van die belange van die bugery en die hele kolonie by die hoogste mag in die volksplanting. Die “Raad der Gemeente” was ‘n suiwer munisipale instelling tot Kaapstad en distrik beperk.
Buitedistrikte
Maar die bestuur en administrasie van die buitedistrikte moes nog die aandag van die Kommissaris-generaal ontvang. Voordat hy tot die finale reëling daarvan sou oorgaan, wou hy persoonlik kennis opdoen oor die werklike toestande daar, omtrent die lewenswyse, die maniere en gewoontes, die trap van beskawing, die politieke en godsdienstige beskouinge en ekonomiese toestande van daardie “wrede rusverstoorders” in die buitedistrikte van die kolonie. Veral wou hy op die hoogte kom van die betrekkinge tussen blank en swart aan die oosgrens.
Reise na die buiteland
Genl. Janssens het ‘n uitgebreide reis deur die kolonie onderneem. Later het De Mist met ‘n groot gevolg, vergesel van Lichtenstein, die hele kolonie deurreis. Daardeur is albei in staat gestel om self kennis te maak met die besondere vraagstukke van die buitedistrikte. Hulle kon op die hoogte kom van die behoeftes van die koloniste wat beskawing, godsdiens en ekonomiese welvaart betref. Met hierdie kennis gewapen, was De Mist beter in staat om die bestuur en administrasie van die buitedistrikte in te rig; ook met die oog op die sending- en inboorlingvraagstukke.
Stigting van Uitenhage
Vir die vestiging van groter orde en rus onder die ingesetenes, vir die bevordering van hul kulturele, godsdienstig en ekonomiese welvaart en veral vir beter beskerming, het De Mist daartoe oorgegaan om Graaff-Reinet in twee landdrosdye te verdeel en die suidelike deel, met ‘n gedeelte van Swellendam, tot ‘n nuwe distrik, Uitenhage, te vorm. Uit dieselfde oorwegings is die noordelike gedeelte van Stellenbosch afgesny in die nuwe distrik Tulbagh.
Bestuursvorme in binneland
Die bestuur oor elke distrik is opgedra aan ‘n landdros, aangestel deur die goewerneur en bygestaan deur enige burgers as heemrade, met ‘n sekretaris. Die bestuur is ook beklee met regterlike mag tot ‘n bepaalde bedrag en ‘n kommissie uit hierdie kollege sou as huwelikshof vir die buitedistrikte dien. Elke distrik is verdeel in ‘n aantal veldkornetskappe, en aan die veldkornette is ook ‘n bepaalde gedeelte van die openbare bestuur opgedra. Betreffende die algemene bestuur sou die landdros en heemrade hul bevele van die Goewerneur en Raad ontvang, maar in hul regterlike funksie het hulle die dekrete van die Raad van Justisie as opperste geregshof van die kolonie gevolg. In Strafsake was hulle ondergeskik aan die prokureur-generaal.
Die landdros moes sorg vir die bewaring van die oppermag van die Bataafse Republiek, die beskerming van alle persone, eiendomme en besittings en die bevordering van die bloei en welvaart van vrede met die Bantoes en Hottentotte. Hy moes die ingesetenes bystaan met raad en leiding wat die landbou en veeteelt betref, hoofsaaklik met die oog op die aanteel van meer wolskape. Hy moes misdadigers voor die Raad van Justisie laat aankla. Veral moes hy die slawe teen hul base beskerm en omgekeerd. Ten slotte moes hy sorg vir die ongestoorde uitoefening van die openbare godsdiens in die kerke in sy distrik.
Heemrade
Die landdros is bygestaan deur ses heemrade, wat grondbesitters moes wees, nie jonger as dertig jaar nie, en die voorafgaande drie jaar in die betrokke distrik woonagtig. Elke jaar tree die twee oudstes af en kies die goewerneur twee ander uit ‘n lys deur die landdros en sittende heemrade voorgelê. As kommissaris vir huweliksake moes die landdros met twee heemrade en die sekretaris optree. Verder is aan die landdros en heemrade toevertrou die sorg vir die geldmiddele van die distrik, die beslegting van geskille oor landerye en limietskeidinge, die skut van vee en alle sake i.v.m. vendusies, asook ander gedinge, nie bokant 300 riksdaalders nie. Hulle moes sorg vir die aanlê en onderhoud van paaie en strate, vir goeie mate en gewigte en vir verordeninge insake bakkerye en slagterye op die dorpe.
Veldkornet
‘n Ander figuur van groot betekenis in die buitedistrikte was die veldkornet. Die distrikte was nog te groot vir ‘n doelmatige bestuur dur die landdros en heemrade. So word die distrikte verder verdeel in veldkornetskappe, en wel op so ‘n wyse dat die grootste afstand tussen twee inwoners van ‘n veldkornetskap nie meer as ses uur te perd sou wees nie. Op sy reis het De Mist die waarde van hierdie persone leer ken, en hy wou hul aansien verhoog deur klein regterlike bevoegdhede aan hul amp toe te voeg. Kortom, die verpligtinge van die landdros in die kleine word op die skouers van die veldkornet geplaas. Uit ‘n militêre oogpunt beskou, was die veldkornette van groot betekenis.
Hiermee was die bestuur oor die hele volksplanting voorlopig gereël. Daar sou nog hier en daar veranderinge en verbeteringe kom. Die instellinge wat onder die Bataafse Republiek hier ingevoer is, was beslis voortbestem vir ruime sukses, veral as genoeg tyd daaraan gegun sou word om dit by die werklike toestande aan te pas. In sy geheel oortref hierdie bestuursinrigting seker al sy voorgangers aan die Kaap.
Godsdiens
Maar De Mist het hom nie alleen besig gehou met die bestuur en administrasie van die kolonie nie: ander belange het ook sy aandag geverg. Hieronder was veral die sake van godsdiens en onderwys. Nou verwant hieraan is sy huweliksordonnansie vir die buitedistrikte, waarby hy verorden het dat huwellike voortaan deur die landdros en twee heemrade van die distrik voltrek kon word, sodat dit nie meer nodig en verpligtend sou wees om daarvoor na Kaapstad te reis nie. Ná sodanige voltrekking kon die huwelik deur die kerk van die betrokke persone ingeseën word. Hier het De Mist egter gestuit teen die godsdienstige tradisie van die koloniste; en dit was een van die maatreëls wat die minste sukses gehad het.
Miskien geen enkele besluit, onder die Bataafse bewind aan die Kaap geneem, het die naam van De Mist so lank in herinnering gehou as sy besluite i.v.m. godsdienstige en kerklike aangeleenthede nie. Destyds was die Gereformeerde godsdiens die heersende en op die platteland die enigste. In die amptelike stukke van die tyd tref ons die benaming Nederduits Hervormd, Nederduits Gereformeerd, of ook net Gereformeerd en Hervormd aan. Die kerk aan die Kaap het tot dié tyd geressorteer onder die Klassis van Amsterdam en die Sinode van Noord-Holland. Daarbenewens het in Kaapstad ‘ n Lutherse gemeente bestaan en ook aanhangers van ander rigtinge, soos Rooms-Katolieke (veral onder die soldate) en Mohammedane. Daar was sewe gemeentes van die Ned. Geref. Kerk, nl. Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Roodezand (Tulbagh), Zwartland (Malmesbury), Graaff-Reinet en Swellendam. Drakenstein en Graaff-Reinet was albei vakant.
De Mist was oortuig van die waarde van die godsdiens ter bevordering van “beschaving, verligting en deugd” en het dadelik ná sy aankoms op die hoogte probeer komvan die kerklike aangeleenthede. Hy het hom in die begin besig gehou met die reëlings van die huishoudelike en geldelike sake van die verskillende gemeentes.Hier het die aangeleenthede van die buitedistrikte sy besondere aandag geniet. Hy het die plaaslike probleme finansieel en anders, van Swellendam en Graaff-Reinet in orde gebring, hul huishoudelike sake gereël en selfs bepaal dat openbare godsdiensoefeninge op Sondae slegs in die kerk sou plaasvind en veral met oop deure sodat niemand, Christen of heiden, blank of gekleurd, slaaf of vryman, toegang geweier sou word nie. Ook aan Stellenbosch en Kaapstad het hy aandag geskenk. So is verorden dat ‘n Kommissaris-politiek sitting in die Kaapse kerkraad sou hê.
De Mist se Kerkorde
Maar die grootste werksaamheid van De Mist op hierdie gebied was dat hy op 25 Julie 1804 sy kerkorde uitgevaardig het, waarvolgens voortaan die kerklike aangeleenthede aan die Kaap gereël sou word. Van toe af sou alle kerkgenootskappe wat, ter bevordering van deug en goeie sedes, ‘n “Hoogst Wezen” eerbiedig, gelyke beskerming van die wet geniet en sou daar geen uitsluitende voorregte in die burgermaatskappy aan enige geloofsbelydenis verbonde wees nie. Die regering laat elke kerkgenootskap vry, wat sy besondere leerstelsel betref, maar behou hom die onvervreemdbare reg voor om die uitwerking van hierdie leerstelsels op die burgerstaat en op die gees en gedrag van die ingesetenes te beoordeel en teen te gaan indien dit skadelik bevind sou word.
Elke kerkgenootskap moes sy eie leraar en kerkdienare besoldig en sorg vir die onderhoud van sy geboue en armes. Sonder verlof van die regering sou geen vermeerdering van leraars plaasvind nie. Die openbare skole behoort aan geen kerkgenootskap nie, maar staan onder onmiddellike toesig en bestuur van die regering.
Die tweede gedeelte van die ordonnansie bevat voorskrifte insake die behoorlike bestuur van die kerkgenootskappe. Die goewerneur hou oppertoesig oor die bestuur en oor kerkfondse.
Nederduits Gereformeerde Kerk
Vir die Nederduits Gereformeerde Kerk, waartoe die groot meerderheid van die ingesetenes behoort het en wat die enigste op die platteland was, het De Mist besondere voorsiening en bepalinge gemaak. Hier verskaf en besoldig die regering die predikante en beskik oor hul dienste in dié mate dat hy, in ooreenstemming met hul persoonlike geskiktheid, en tot die meeste diens van die kerk, hul standplase aanwys en hulle ook van die een na die ander plek mag verplaas. Die gemeentes het geen reg van beroep gehad nie. Dit was grotendeels ‘n bevestiging in hierdie verband van die toestand wat onder die Oos-Indiese Kompanjie geheers het, toe die predikante selfs die rang van onderkoopman gehad het en geregtig was op die voorregte aan daardie rang verbonde.
Die kerkraadslede word jaarliks gekies, maar die keuse is onderworpe aan die goedkeuring van die goewerneur, wat die bevoegdheid het om ‘n gekose kerkraadslied, wanneer daarvoor gewigtige redes aanwesig was, deur ‘n ander te vervang.
De Mist het ook voorsiening gemaak vir ‘n algemene vergadering van die Ned. Geref.-gemeentes al om die twee jaar in Kaapstad, waardeur hulle ‘n sterker kerkverband sou kry. Hierdie kerkorde van De Mist het, al is dit gewysig, van krag gebly tot 1842, toe dit vervang is deur ‘n nuwe kerkorde deur Ordonnansie 7 van goewerneur Napier.
Kerk aan staat ondergeskik
Die mag van die kerk is deur die Kerkorde van De Mist volstrek ondergeskik aan dié van die staat gestel. Hy het die kerk selfs as hulp-instituut by sy politieke organisasie gebruik en hom gekortwiek deur hom die vernaamste middel tot die deurwerking van godsdienstige invloede, die onderwys, te ontneem. Toleransie en ‘n “Christendom bo geloofsverdeeldheid” het ‘n sentrale plek in die Kerkorde ingeneem. Die algemene beginsels staan in baie opsigte direk teenoor dié van Dordt, wat die Kapenaar oor die algemeen toe nog gehuldig het. Oor die algemeen was die koloniste nie ten gunste van die godsdienstige liberalisme van De Mist nie.
Onderwys
Onder die eerste Engelse besetting is aan die onderwystoestande niks gedoen nie. Die einddoel van die onderwys was nog steeds in die meeste gevalle godsdiensonderrig.
De Mist het dadelik ná sy aankoms met groot geesdrif aan die werk gegaan om die onderwys, langs die weg in sy Memorie uiteengesit, te reorganiseer. De Mist sowel as Janssens het op hul uitgebreide reise deur die kolonie persoonlik kennis gemaak met onderwysbehoeftes van die koloniste in al die dele van die land, en het also oortuig geraak van die dringende noodsaaklikheid om ‘n algehele hervorming van die onderwys te bewerkstellig – te meer omdat hulle onder die boeremense ‘n besef van hul gebrek aan kennis en onderrig in die elementêre vakke aangetref het, asook ‘n diepgaande begeerte om ‘n opvoeding vir hul kinders te verkry. Kaapstad en die naburige distrikte het die meeste van die voordeel van die vroeër onderwyswerksaamhede getrek, maar hier was nog ‘n gebek aan eenvormigheid en eenheid van doel.
Die maatskappy waarvoor De Mist ‘n onderwysstelsel wou besorg, was saamgestel uit die meer beskaafde inwoners van Kaapstad, die boerebevolking van die streke naby Kaapstad en die op onderwysgebied meer verwaarloosde veeboere van die grensdistrikte. In die buitedistrikte was die onderwys beperk tot wat deur die kerklike sentrums aangebied is en elders deur sporadies gehuurde skoolmeesters verskaf kon word. Dit was dan met die doel om die onderwys op ‘n stewige grondslag te laat rus, om die gestadige vooruitgang daarvan te verseker, om die nodige geld vir die instandhouding daarvan te verkry, om ‘n onderwysstelsel te stig wat die belange van die grensboer op gelyke voet met dié van Kaapstad, Stellenbosch en die digter bewoonde omstreke sou kan bevorder, dat “De Schoolorder voor de Volksplaning aan de Kaap de Goede Hoop” uitgevaardig is.
Bestuur van die onderwys
Die skoolorde maak in die eerste plaas voorsiening vir die bestuur van die onderwys. Dit word opgedra aan ‘n Kommissie van Skolarge van sewe lede, met die goewerneur as beskermer en opperskolarg. Die Goewerneur en Rade moes sorg dat fondse vir skooldoeleindes ontvang en beheer word. ‘n Lid van die Politieke Raad, benoem deur die goewerneur, sou as voorsitter optree. Ander lede van die kommissie sou wees die tydelike president of ‘n lid van die Weeskamer, twee predikante van die Ned. Geref. en een van die Lutherse gemeente, waarvan die jongste as sekretaris moes optree, die tydelike voorsitter van/of lid van die Raad van Gemeente en ‘n sewende persoon, deur die goewerneur benoem as rentmeester van die skoolfoknds. Daarby sou die landdroste en predikante van die buitedistrikte erelede wees, in adviserende hoedanigheid oor skoolbelange in hul distrikte.
Onderwysers en hul opleiding
Die hoofsorg van die kommissie sou wees om bekwame onderwysers uit Nederland te verkry, en veral een wat hier ‘n kweekskool moes oprig, waarin veral seuns uit Suid-Afrika tot onderwysers gevorm kon word. Die Raad van Gemeente en predikante en landdroste van die buitedistrikte moes sorg vir die benodigde getal kwekelinge van goeie vermoëns, sonder skadelike liggaamsgebreke, van eerlike ouers, van onbesproke gedrag en nie ouer as twaalf jaar nie. Die ouers of voogde van die kwekelinge, indin nie onvermoënd nie, moes sorg vir klere en ‘n jaarlikse bydrae van hoogstens 100 riksdaalders tot die skoolfonds in geld of produkte.
Weeskinders of kinders van armes sou kosteloos opgeneem word. Die Goewerneur en Raad moes middele vind vir ‘n gebou vir die kweekskool, liefs aan die kant van die stad, waar die leerlinge nie so maklik gesteur sou word nie, en waar hulle in die buitelug ruimte sou hê vir liggaamsoefeninge ter bevordering van die gesondheid.
Die skolarge moes ‘n reglement en huishoudelike orde vir die kweekskool ontwerp onder goedkeuring van die goewerneur. Die kursus sou nie korter as vyf jaar wees nie; en ná aflewering van die eerste kwekelinge sou niemand in die kolonie as onderwyser toegelaat word nie, tensy hy die eindeksamen van die instituut afgelê het. Ná die eerste vyf jaar sou die buitedistrikte van onderwysers voorsien word, en geboue opgerig word in die verhouding tot die fondse van hierdie dorpe en distrikte. Die skolarge sou as inspekteurs optree.
Vir die opvoeding van die ander seuns in Kaapstad sou ‘n kos- of dagskool gevestig word, met ‘n bekwame onderwyser uit Nederland as die hoof. Op dieselfde wyse moes gesorg vir die opvoeding van dogters in Kaapstad. Behalwe die twee kos- en dagskole word verder voorsiening gemaak vir laer onderwys in Kaapstad, wat opgedra word aan die Raad van Gemeente. Die skoolkommissie moes ook aandag gee aan die Latynse Skool tot grondslag waarvan die reeds bestaande Latynse Skool moes dien.
Geldelike reëlings
Ten slotte maak die skoolorde voorsiening vir die finansiering van openbare skole. De Mist is hier gelei deur die verslag van ‘n kommissie wat hy in verband hiermee aangestel het. Die bestaande skoolfonds sou aangevul word uit die belastings op bier en wyn, op lenings by die Bank van Lening, op vrylating van slawe, op testamente, op perde en lyfeienes, op lidmaatskap van vereniginge vir vermaak en op erflatinge. Verder sou op die ingesetenes van Kaapstad en distrik ‘n skoolbydrae van hoogstens vyftien riksdaalders gehef word deur die Goewerneur en Raad, wat later die skoolbydrae van die ander distrikte sou bepaal. Dit dan was die reëling van die onderwys aan die Kaap deur De Mist.
Vir die begin van die 19de eeu getuig hierdie skoolorde van De Mist ongetwyfeld van ‘n uitgesproke vooruitstrewende neiging, en vir die Kaap van dié tyd rewolusionêr. Hier word ‘n vooropgesette staatsbemoeiing i.v.m. die nasionale of volksonderwys gevind en die onttrekking van die onderwys aan die gesag en regstreekse invloed van die kerk, met die vervanging van die Calvinistiese beginsels deur dié van die humanisme en verligte vorming van die jeug tot goeie staatsburgers. Dit beteken dus die verwêreldliking van die onderwys. Tot groot voordeel vir die Kaap sou sy planne vir ‘n kweekskool, die afskaffing van ongekwalifiseerde onderwysers en die heffing van belastings vir die onderwys wees.
Die enigste inrigting wat onder die skoolorde tot stand gekom het voordat die Kaap weer in Engelse hande oorgegaan het, was die skool vir meisies in Kaapstad en ‘n skool in die Paarl, wat egter ook nie lank bestaan het nie.
Ekonomiese toestande
Tot dié tyd is die Kaap, in vergelyking met die ryk Nederlandse besittinge in die Ooste, in finansiële sin vir die moederland bloot as laspos beskou. As tussenstasie het dit egter die behoud van duisende mense op weg na en van die Ooste beteken. Hiervoor kon wel geldelike offers gebring word. Maar dit was die bedoeling van De Mist en Janssens om die vir ontwikkelinge vatbare welvaartbronne aan die Kaap op te spoor en ontwikkeling aan te spoor om sodoende die inkomste van die kolonie meer in ewewig met die uitgawe te probeer bring, en ook om aan die bevolking ‘n beter bestaan te verseker. Die graan- en wynbou en veeteelt was die grondslag van die ekonomiese lewe aan die Kaap. Van minder betekenis was die walvisvangs en die bosbou.
Die handel met die moederland moes volgens De Mist ‘n belangrike rol speel. Hy wou die grootste mate van vrye handel aan die koloniste toestaan, maar die heruitbreek van die oorlog het die buielandse handel gou weer tot stilstand gebring, sodat die vryhandelsbeleid van De Mist in die praktyk nie veel tot stand kon bring nie. Vir die verkoop van hul produkte was die koloniste hoofsaaklik afhanklik van die Kaapstadse mark, en hier het die groot garnisoen van tussen 1 000 en 2 000 man ‘n aanmerklike deel van die vraag gevorm. Die graan- en wynbou is deur De Mist sowel as Janssens aangemoedig, hoewel hulle nie gehoop het dat dit winsgewende uitvoerprodukte sou word nie.
Die veeteelt het meer belangstelling geniet. Getuie hiervan is die aanstelling in Mei 1804 van ‘n Kommissie van Veeteelt, om die landbou en veral die invoer van wolskape te bevorder. As kapitaal het die kommissie 25 000 riksdaalders tot sy beskikking gehad. Drie lede van die kommissie het ses weke lank die westelike gedeelte van die kolonie deurreis om die koloniste te probeer oorreed om hulle op wolproduksie toe te lê, en om die voordele van die mofskaap bo die vetstertskaap van daardie tyd aan te toon. Hoewel die wolboerdery selfs daarna nog maar stadig gevorder het, is in elk geval ‘n stoot daaraan gegee soos nooit tevore nie. Die daaropvolgende Britse bewind het in die begin ook nie beter gevaar nie, want die koloniste wou hulle nie laat dwing nie.
Stabilliteit van betaalmiddele
Die welvaart van die kolonie was tot groot hoogte afhanklik van die mindere of meerdere stabiliteit van die betaalmiddele. In die begin van die Bataafse bewind was aan die Kaap 1 786 276 riksdaalders papiergeld in omloop, afgesien van ‘n wisselende hoeveelheid harde munt. De Mist het die papiergeld deur nuwe kartongeld laat vervang, maar met ‘n vermeerdering nie minder nie as 300 000 riksdaalders, en wel onder druk van oorlogsomstandighede en teen sy sin. Teenoor die Nederlandse gulden was die Kaapse geld tussen 20 en 30 persent minder werd. Pryse van invoergoedere het na verhouding gestyg en dit was vir die ekonomiese bloei nie bevorderlik nie.
Grensreëling van De Mist
‘n Belangrike taak wat nog op De Mist gewag het, was om die betrekkinge tussen koloniste en inboorlinge, veral op die grense, te reël. Geïnspireer deur die 18de-eeuse opvatting van die wilde in sy natuurlike staat, en meer bepaald onder die invloed van Barrown, was De Mist oortuig dat “de goede Lieden” sedert die ontstaan van die kolonie vervolging en mishandeling van die Kompanjiesdienare moes verduur. Terwyl hulle vreedsaam in hul “vaderlijke hoolen” gewoon het, het ‘n vreemde nasie hom op hul land kom vestig en hom van hul vee meester gemaak. Hierdie “stille vreesachtige Lieden” is dus deur die koloniste verstrooi, van hul vee beroof en “tot slaaven en lyfeigenen” gemaak.
Hierdie opvattinge moes De Mist wysig voordat hy die Kaap verlaat het. Hy het aanvanklik nie besef dat hy hier te doen gekry het met ‘n blanke volksgemeenskap wat reeds ‘n eie ideologie opgebou het betreffende die betrekkinge tussen blankes en inboorlinge nie. Ná sy reis het hy skriftelik erken dat sy vroeëre menings, wat hy op Barrow se sieninge gegrond het, verkeerd was. Hy het Barrow en ander wat soos hy teen die grensboere uitgevaar het, nou beskou as vervul met “nasionale nyd”. Ook het hy oortuig geraak dat die helfte van die stories oor die grensbewoners onwaar ws en nog ‘n kwart twyfelagtig, terwyl toestande origens verbetger kon word deur goeie inrigtinge vir die Hottentotte te skep.
Reëling van die sending
Onder hierdie goeie inrigtinge val die reëling van die sending, deur vaste stasies aan te wys aan die Herrnhutters van die Morawiese Sendinggenootskap, die Londense Sendinggenootskap met Van der Kemp en Read onder die Hottentotte aan die oosgrens (Bethelsdorp), en die Rotterdamse Sendinggenootskap aan die Sakrivier in die noorde van die kolonie. Oor die algemeen het die beleid van die Bataafse owerheid, onder invloed van die werklike betrekkinge aan die Kaap, daarop neergekom dat hulle die Hottentotte binne die kolonie en in diens van die koloniste kragtig beskerm het en regverdig behandel wou sien deur die koloniste, en dit moes bewerkstellig word deur arbeidskontrakte.
Baie Hottentotte het dan ook na hul base teruggekeer. Aan die Hottentotte, onder beskerming van die sendelinge, is alle gemeenskap verbied met ander inboorlinge in of buite die kolonie, omdat die owerheid die arbeid van die Hottentotte by die koloniste ten sterkste aanbeveel het en die werkwilliges nie deur die leerlinge van die sendelinge wou weggelok hê nie. Ook Klaas Stuurman en ander kapteins is beweeg om in lokasies langs die Gamtoosrivier – dus verder van Kafferland – te gaan woon.
Teen die Hottentotte en Boesmans buite die grense van die volksplanting het die regering ‘n muur opgewerp, en hy wou die vrede bewaar deur alle verkeer tussen hulle en alle koloniale ingesetenes stop te sit. Alleen is die bemoeiing tot hulle uitgestrek waar sendelinge onder hulle op die gesag van die regering verkeer het. Die sendelinge moes so nou en dan verslag doen van hul werksaamhede en die regering op die hoogte hou van alles wat tot meerdere kennis van die stamme buite die grense kon strek.
Betreffende die Bantoestamme het die Goewerneur op sy reis deur die grensdistrikte self kennis gemaak met die toestande wat daar geheers het. Hy het gevind dat honderde huise en plase afgebrand en verwoes is, ‘n groot hoeveelheid beeste en skape van die koloniste in besit van die Bantoes was, en ‘n uitgebreide koloniale gebied deur hulle bewoon is. Die gevolg was, sê Jnassens, dat “een menigte opgezeetenen met derzelver huisgezinnen en vee trekkend waren…” Die goot moeilikheid waarteen die Goewerneur gestuit het, was die feit dat verskeie stamme teen die Kôsa-opperhoof Gaika in opstand was en hulle in die Suurveld aan die koloniale kant van die Groot Visrivier bevind het. Sy hoofdoel was om hulle uit die kolonie te verwyder.
Janssens en die Kôsahoofde
Met hierdie doel voor oë het hy ‘n onderhoud met die afvalllige kapteins “Conga, Sambie Jabusa, Chachou en Tholy” gehad. Hulle het erken dat hulle geen reg oor die gebied wes van die Visrivier het nie, maar hulle was besig om Gaika te beveg. Die Goewerneur sou as bemiddelaar optree en die Bantoes het beloof om die koloniste met rus te laat. Gaika het die Goewerneur beloof om sy weerspannige onderdane sonder wraaknemeing terug tej ontvang. Janssens moes met die vae beloftes van die opperhoofde terugkeer en die verdere onderhandelinge oorlaat aan die uiters bekwame offisier van Fort Frederick, kaptein Alberti. Later het hy militêre landdros van Uitenhage geword en persoonlik die betrekkinge tussen blank en swart aan die oosgrens gereël. Deur sy gedurige aanraking met die Bantoes het hy ‘n uitstekende kennis van hul sedes, gewoontes en godsdiens opgedoen. Hy het die vertroue van die koloniste sowel as die Bantoes gewen, en gedurende sy landdrosskap in Uitenhage was daar rus aan die oosgrens.
Langsamerhand het die koloniste wat moes vlug na hul woonplase teruggetrek. Dit het nie geluk om die Bantoes uit die Suurveld te verwyder nie. Die heruitbreek van die oorlog in Europa het belet dat ‘n kragtige beleid toegepaskon word. De Mist het nie daarin geslaag om op sy reis met die Kôsahoofde in aanraking te kokm nie. Tog blyk dat dit die bedoeling van die Bataafse owerheid was om die betrekkinge tussen die koloniste en die Bantoes aan die oosgrens op ‘n gesonde grondslag te plaas.
Die beleid wat gevolg moes word, moes volgens Alberti berus op twee grondbeginsels nl. die verdrywing van alle Bantoes uit die Suurveld oor die koloniale grens en die bgeëindiging van alle kontak tussen koloniste en Bantoes, asook tusen laasgenoemdes en die Hottentotte. Hierdie beginsels is ook vervat in die eerste boodskap van De Mist aan die ingesetenes van die grensdistrikte en aan die Kôsa-kapteins.
Die Bantoe het geen besef van “myne en joune” gehad nie, en hierin lê die kern van al die moeilikhede opgesluit. Daarom sou niemand heen of terug oor die grens mag beweeg nie. Aet gemeen dat 60 soldate genoeg sou wees om die grens te patrolleer. Die beleid kom dus neer op onverbiddelike afskeiding, om sodoende die vrede tussen die ooswaarts trekkende blankes en die suidweswaarts bewegende Bantoe-stroom te bewaar.
In hierdie tyd was dit seker ‘n gesonde beleid, mits dit kragtig uitgevoer kon word deur ‘ n sterk krygsmag, waartoe die Bataafse regering destyds nie in staat was nie. Die houding van Janssens sowel as De Mist t.o.v. die betrekkinge tussenkolonis en inboorling het ná eie kennismaking met die werklike toestande radikaal verander. In vredesomstandighede kon seker veel verwag geword het van hul Bantoebeleid, maar ongelukkig het die korte duur van hul bewind hulle nie die tyd gegun om ‘n beleid toe te pas waarvan die uitkoms enigsins te beoordeel is nie.
Administrasie verder opgeknap
Die besluite tot reorganisasie m.b.t. verskeie takke van administrasie deur die Kommissaris-generaal, kort voor sy vertrek na Nederland, staan gedeeltelik i.v.m. besuiniging op die staatsuitgawe aan die Kaap. De Mist het intussen geleentheid gehad om te sien hoe die nuwe administratiewe masjien, wat hy aan die suidpunt van Afrika inmekaargesit het, gefunksioneer het, en kon nou veranderinge en aanvullinge aanbring. So het hy ná grondige oorweging besluit dat die Politieke Raad voortaan uit drie lede kon bestaan. Die lede van die Raad van Justisie kon voortaan gebruik word by die administrasie van die Weeskamer, Bank van Lening of Raad van Gemeente. Verder is die Rekenkamer met twee lede verminder en die Desolate Boedelkamer en Bank van Lening elk met een. Verskeie kleiner poste het hy afgeskaf. Ook is die instruksie van die Raad van Justisie so verander dat die Goewerneur en Generaal-en-chef die uitoefening van die regterlike mag vir korter of langer tydperke kon opskort in sake waarvan die behandeling skadelike gevolge vr die algemene belang kon hê.
Vertrek van De Mist
Op 25 September 1804 het die Kommissaris-generaal sy amp aan die Kaap neergelê omdat hy toe elke oomblik ‘n vyandelike aanval op die kolonie verwag het, en hy die Goewerneur en Generaal-en-chef ‘n vrye hand wou laat om sy verdedigingsmaatreëls te tref. Die Europese oorlog is reeds in Mei 1803 hervat. De Mist is egter eers op 25 Februarie 1805 met die Silenus of New York oor Amerika (waar hy drie maande moes vertoef) na Nederland, waar hy op 8 Julie aangekom het.
By die vertrek van De Mist het die bevolking van die hele kolonie bestaan uit 25 757 blankes, 29 545 slawe en 20 006 Hottentotte. Hiervan het 6 273 blankes, 9 129 slawe en 452 Hottentotte in Kaapstad gewoon. Behalwe die openbare geboue het Kaapstad toe 1 258 huise gehad.
Op 29 Julie 1805 het De Mist die volledige verslag van sy handelinge en besluite aan die Kaap aan die Raadspensionaris in Nederland oorhandig, en was sy taak as Kommissaris-generaal aan die Kaap volbring.Na die vertrek van De Mist het goewerneur Janssens nog nege maande kans gehad om die masjien wat die Kommissaris-generaal inmekaar gesit het, te laat loop. Die toestande het al moeiliker geword. Heeltemal geïsoleer van die moederland en met ‘n swak garnisoen moes die Goewerneur die kolonie in ‘n staat van verdediging bring. Met groot inspanning het hy die garnisoen aangevul met burgers, Hottentotte en Javane, sodat hy by die verskyning van die Engelse mag omtrent 2 000 man op die been gehad het. Hierteenoor het genl. David Baird oor ruim 4 500 beskik.
Engelse neem weer oor
Die uitslag van die botsing by Blaawberg op 8 Januarie 1806 was te voorsien. Twee dae daarna het Kaapstad hom oorgegee en op 18 Januarie het Janssens met die res van sy leër, wat na die Hottentots-Hollandberge teruggewyk het, dieselfde gedoen. Die garnisoen is krygsgevange geneem, maar die burgers kon na hul tuistes terugkeer. Die Bataafse troepe wat hulle onder Janssens oorgegee het, sou egter nie as krygsgevangenes beskou word nie,maar op koste van die Engelse regering regstreeks na Nederland teruggestuur word.
Alle private eiendom sou gerespekteer word, terwyl alle openbare eiendom, behorende aan die Bataafse Republiek, oorhandig moes word. Die burgers en ingesetenes sou verder die regte en voorregte wat hulle geniet het, bly behou. Ook sou godsdienstige instellings onveranderd behou word. Hierdie bepalinge, vervat in die agtste artikel van oorgawe, is van belang omdat die Engelse regering dit kort daarna sou verkrag deur die gebruik van die Nederlandse taal aan die Kaap opsy te skuif.
Op 6 Maart 1806 het Janssens met 94 offisiere, 573 soldate en 31 amptenare, met 53 vroue en net soveel kinders, aan boord van die Bellona na Nederland vertrek,waar hy op 4 Junie 1806 aangekom het.
So het die Kaap vir die tweede keer oorgegaan in die hande van Groot-Brittanje, om nooit weer onder die gesag van Nederland terug te keer nie. Wel was daar nog die moontlikheid dat die Kaap ná die vredesluiting in Europa aan die moederland teruggegee sou word, maar die Traktaat van Londen van 13 Augustus 1814 het hierdie hoop finaal verydel. Daarna is herhaaldelik verkondig dat Nederland die Kaap aan Engeland sou verkoop het, maar dit was slegs weens sy magsposisie teenoor Nederland dat Groot-Brittanje die Kaap behou het.
De Mist en Janssens se verdienste
So het De Mist en Janssens teruggekeer na Nederland, waar albei belangrike staatsposte beklee het. Hul werk aan die Kaap sou egter nie sonder vrug wees nie, hoewel die gebrek aan tyd ‘n behoorlike toets daarvan nie toegelaat het nie. Hul arbeid het met buitengewone moeilikhede gepaard gegaan. In all hul handelinge en besluite het alleen opgesluit gelê die bevordering en heil van Suid-Afrika.
Waar sommige maatreëls nie die gewenste gevolg gehad het nie en by die ingesetenes ongewild was, moet dit nieaan ‘n gebrek aan goeie wil en ywer toegeskryf word nie, maar aan die feit dat die owerheid nie op die hoogte was, en so gou kon wees,vandie eienaardighede, sedes en gewoontes van die gemeenskap waarop hierdie maatreëls van toepassing gemaak sou word nie. Hierdeur is van hul kant baie vir vooroordeel aan die kant van die koloniste aangesien terwyl dit eintlik nie so was nie. In die begin het dit veral geblyk uit die kolonis se opvattinge t.o.v. alle wesens wat nie blank was nie, en in hierdie verband sy godsdienstige opvattinge. Hiermee het die owerheid in die begin nie voldoende rekening gehou nie.
In werklikheid het hulle hier ‘n volksgemeenskap aangetref wat in wese nie meer Nederlands was nie, maar die kenmerke van ‘n nuwe, afsonderlike nasie geopenbaar het, met ‘n eie, nuwe spreektaal en eie lewensopvattinge op alle terreine, wat aanmerklik verskil het van dié van hul Nederlandse, Duitse en Franse tydgenote.
— — — oOo — — —