GVSA Die Groot Trek tot 1838 – 1854

I.D. Bosman, M.A., D. Litt.

Britse besetting van Port Natal

Die slag by Bloedrivier was wel ‘n ernstige nederlaag vir die impi’s van Dingaan, maar die mag van die Zoeloes was daarmee nie vernietig nie. Dingaan was nog ‘n faktor waarmee rekening gehou moes word, hoewel daar geen twyfel meer kon bestaan oor die einduitslag van die stryd tussen hom en die Natalse Trekkers nie. Met ‘n mate van gerustheid en ‘n gevoel van veiligheid soos nie meer geken was sedert die donker dae van Februarie 1838 nie, is die laers aan die voet van die Drakensberge opgebreek en na Pietermaritzburg verskuif. Met die opbou van ‘n Voortrekkerstaat is ‘n aanvang gemaak; maar daar was nog een hinderpaal in die weg, en dit was die Britse troepemag onder maj. Charters te Port Natal, wat daar op 4 Desember aangekom het, gestuur deur goewerneur Napier sonder magtiging uit Engeland, om, soos Andries Stockenström dit voorgestel het, die inboorlinge te beskerm en bloedvergieting te voorkom.

Die Volksraad het op 12 Desember 1838 teen die Britse besetting van Port Natal geprotesteer.(1) Maar Charters het uit n aam van die Konining van Groot-Brittanje voet by stuk gehou. Hy was bereid om die ammunisie waarop hy by sy aankoms beslag gelê het, onder voorwaarde dat dit slegs vir verdediging gebruik sou word, terug te gee. Dit is van Voortrekkerkant geweier, omdat die aanvaarding van enige voorwaarde ‘n erkenning van Britse onderdaanskap sou beteken het.(2) Die ontkenning van Britse onderdaanskap sou onverbiddelik volgehou word, totdat die stryd in 1852 by Sandrivier in hul guns beslis sou word.

(1)G.S. Preller: Voortrekker Wetgewing 1839-1845 (Natalse Volksraadsnotule). Sien Bird: Annals of Natal I, p. 496

(2)G.S. Preller: Andries Pretorius, p. 80

In Januarie 1839 het maj. Charters na Kaapstad teruggekeer en kapt. Henry Jervis in bevel gelaat. Jervis was ‘n inskikliker man. Betrekkinge tussen hom en die Voortrekkers was spoedig dié van wedersydse geneentheid. Sonder dat die Boere dit geweet het, het hy kort ná die aanvaarding van die bevel oor die troepe in Port Natal met Dingaan onderhandelinge aangeknoop, wat op vrede tussen lg. en die Trekkers moes uitloop.(3)

(3)Bird: op. cit, I, pp. 516-517

Onderhandelings met Dingaan

Eindelik kon Jervis aan Andries Pretorius laat weet dat gesante van Dingaan in die baai aangekom het eng ereed was om oor vrede te onderhandel. Pretorius het die uitnodiging aanvaar en die vredeskonferensie het op 25 Maart op ‘n plek waar Durban vandag is, plaasgevind. Die Zoeloes het onderneem om in vrede te leef met alle nasies wat met die Boere bevriend was, en laasgenoemdes het beloof om die Zoeloes in ‘n defensiewe oorlog te help.

Dingaan sou verder geen aanspraak mag maak op die trou van die Natalse Bantoes nie. Die Tugela is as die grens tussen die Natalse republiek en die Zoeloes bepaal. Elke Zoeloe wat sonder verlof suid van die Tugela gevind word, sou doodgeskiet word; en wanneer ‘n Boer aan die noordekant van die rivier aangetref word, moes hy vir straf aan Pretorius in Pietermaritzburg uitgelewer word. Die gesante het ook verklaar dat die Zoeloes bereid was om die vee en goed wat hulle van die Boere geroof het, terug te gee.(4)

(4)G.S. Preller: Andries Pretorius, pp. 81-88

Op 14 Mei 1839 het die Volksraad die ooreenkoms van 23 Maart met wysigings goedgekeur. Die vernaamste verandering was die vasstelling van die noordgrens langs die Swart Umfolozi. Daar sou vrede wees sodra Dingaan die verpligtinge nagekom en die landstreek wat hom ontneem was, met sy mense en goed ontruim het.(5)

(5)Voortrekker Wetgewing, p. 3

Uit onwil of uit magteloosheid om aan die gestelde eise te voldoen, het Dingaan nie daarin geslaag om die Natalse Voortrekkers te oortuig dat dit hom erns was om die ooreenkoms na te kom nie. In die vredesverdrag is egter geen tydsbepaling vir die uitvoering van die verdrag genoem nie. Ook is geen melding van die omvang van die skadevergoeding gemaak nie. Voortdurend het gesante van laer rang hulle verskyning onder die Boere gemaak, en die skadevergoeding wat Dingaan beloof het, het slegs drupsgewys geskied. By die Trekkers het Dingaan se houding agterdog gewek en sy gesante is vir spioene aangesien. Die indruk het posgevat dat die Zoeloe-koning slegs op die hoogte van die Trekkers se toestand wou kom en hulle gerus wou maak om, wanneer hulle eenmaal weer verspreid in Natal woon, hulle andermaal aan te val.(6)

(6)Sien Andries Pretorius, p. 91

Panda raak afvallig

Die onsekerheid oor Dingaan se toekomsplanne het veroorsaak dat die Trekkers nog naby aan mekaar moes woon, met die slegte gevolge wat so ‘n opeenhoping van mense en vee noodwendig moes hê.

In die laaste helfte van 1839 het die toestand verbeter: Panda, Dingaan se halfbroer, het met 17 000 volgelinge en al hul veebesit van hom weggebreek en die Engelse onder Jervis het op 24 Desember ná die teruggawe van die ammunisie wat hulle ‘n jaar tevore in beslag geneem het, Port Natal ontruim. Dit was gebeurtenisse van uitnemende belang vir die verloop van die geskiedenis van die Boere-republiek in Natal,want die stap van Panda het Dingaan verswak, endeur sy dienste aan die republiek teen sy vors aan tebied, het hy die Trekkers versterk. Die vertrek van die Engelse het die Boere meer vryheid van handeling gelaat, maar, meer nog: hulle het daarin gesien ‘n bedoelling van Brittanje om hulle vry te laat om hul eie toekoms uit te werk.

Uit bittere ervaring het die Trekkers geleer dat daar op die woord van ‘n Zoeloe-vors nie gereken kon word nie. Daarom is Panda eers met agterdog bejeën. In September het Panda oor die Tugela gevlug en in die begin van Oktober(7) het die Volksraad besluit dat hy nie toegelaat kon word om suid van die Tugela te vertoef nie. As hy sou blyk onwillig te wees om te vertrek, dan moes hy met geweld oor die rivier verdryf word. Panda se herhaalde betuiginge van sy vriendskaplike bedoeling, en die kennis wat die Trekkers gedra het van die politieke verwarring in Zoeloeland, het die Volksraad laat besluit om Panda en sy raadgewers in Pietermaritzburg self aan te hoor.

(7)Voortrekker Wetgewing, p. 13, art. 6 van 3 Oktober 1839

Ooreenkoms met Panda

Op 15 Oktober het die Zoeloe voor die Volksraad verskyn. Hy het met oortuiging opgetree, en die einde van die onderhoud was dat hom beloof is dat hy in Voortrekker-Natal kon woon totdat dit vir hom veilig sou wees om na Zoeloeland terug te keer. Ook is hom beskerming beloof solank hy hom as vriend en bondgenoot van die Boere sou gedra. Voor die einde van die maand het ‘n Volksraadskommissie, o.l.v. landdros Frans Roos, Panda op sy tydelike verblyfplek as “regerende Zoeloe-prins” bevestig, met die belofte dat hy, nadat Dingaan in die komende stryd verslaan sou wees, koning van die Zoeloes gemaak sou word, maar as vasal van die republiek Natal.(8)

(8)Zuid-Afrikaan, van 29.11.1839,  in Voortrekker Wetgewing opgeneem, pp. 15-19

Laaste veldtog teen Dingaan

Die oorlog teen Dingaan is opnuut aangepak. Andries Pretorius het hom geruime tyd daarop voorberei. Met Panda is ooreengekom om Dingaan vroeg in Januarie aan te val, en die 15de van die maand was ‘n burgermag van 350 man reeds in die veld. Die kommando onder Andries Pretorius het saamgewerk met die Zoeloe-mag van 5 000 onder Nongalaza. Dit was lg. wat die oorwinning oor Dingaan se impi’s in ‘n slag by die Makonko-koppe behaal het, nadat ‘n deel van sy teenstander se krygsmag na hom toe oorgeloop het. Hoewel die burgers in hierdie beslissende slag geen regstreekse aandeel gehad het nie, en op die hele veldtog in geen noemenswaardige botsings betrokke was nie,(9) was hul aanwesigheid in die nabyheid van die oorlogsterrein van groot invloed op die moreel van Panda se leër, terwyl dit ontmoedigend op Dingaan se manskappe ingewerk het. Daarby kom dat Pretorius self die algemene leiding van die hele veldtog op hom geneem het.

(9)Annals of Natal, I, bl. 576 vv, en Andries Pretorius, p. 112 en verder

Dit was die einde van die bloedige stryd tussen Dingaan en die Trekkers. Die gevolge was onberekenbaar groot: 42 000 duisend beeste is as skadevergoeding geneem. Aan die Swart Umfolozi het Pretorius op 10 Februarie 1840 Panda tot koning van die Zoeloes uitgeroep. Panda was Pretorius dankbaar. Van hom as vasal van die republiek kon trou en onderdanigheid verwag word. Hy het Prtorius steeds geëer en gevrees.

Maar die skenking van ‘n nuwe vors aan die Zoeloe-nasie, wat in ‘n vriendskaplike verhouding tot die republiek gestaan het en daaraan in hoë mate verplig was, was nie die vernaamste uitkoms van die kort, maar beslissende veld tog nie. Van meer belang was dat die mag van die Zoeloes, soos dit onder Dingaan bestaan het, gebreek was en dat die land wat deur ‘ n wettige traktaat aan die Voortrekkers afgestaan was, in ‘n oorlog op die moordenaar van Retief verower was. Eindelik kon die Voortrekkers aan die opbou van hul staat die nodige aandag gee, in vrede leef met hul swart bure en met die moederkolonie en die Britse regering – so het hulle gemeen…

Oprigting van Voortrekkerstaat

Daar was reeds ‘n begin gemaak met die nuwe staat. Pietermaritzburg, die hoofstad, was al gestig (1838) en daar het die Volksraad gereeld vergader. Die gebied waaroor die Trekkers ná Pretorius se veldtog van Januarie en Februarie 1840 geregeer het, het ‘n vergrote Natal ingesluit. Op 14 Februarie het Pretorius die streek tussen die Tugela, die Swart Umfolozi en die Drakensberg en die see, volgens Volksraadsbesluit van van Mei 1839, geannekseer. Wes van die Ddrakensberg was die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier onbetwiste Voortrekkerland; noord van die Vaal tot aan die Limpopo het Andries Hendrik Potgieter al die grond reeds in 1837 van die Matebele verower. Van die drie noordelike provinsies van die huidige Republiek van Suid-Afrika was net Transoranje – die streek tussen die Vet- en die Oranjerivier – nie suiwer Voortrekkergebied nie. Daar het Voortrekkers en trekboere, Griekwas, Basoeto’s en Barolong naas en deurmekaar gewoon. Baie van die blanke inwoners het uitgesien na die dag dat hulle in die Voortrekkermaatskappy opgeneem sou word, maar vir eers het die Natalse Volksraad dit gerade gevind om hulle uit die Trekkerstaatsverband te laat. Die res moes egter tot ‘n eenheid saamgevoeg word.

In Natal was Andries Pretorius die voorste figuur. Soos Piet Retief het hy vir alle Voortrekkers ‘n eenheidsideaal gehad. Meermale moes hy sy lotgenote buite Natal, met die oog op die uitvoering van sy planne, besoek. Maar eers in Oktober 1840 is iets meer bepaalds ten opsigte hiervan bereik toe Pretorius, bygestaab deur G.R. van Rooyen, lid van die Natalse Volksraad, n.a.v. ‘n versoek uit Potchefstroom,(10) met A.H. Potgieter en sy volgelinge ‘n ooreenkoms getref het. By dié geleenheid is besluit dat al die gebied onder die gesag van die Trekkers ‘n verenigde maatskappy sou vorm onder die gesag van die Natalse Volksraad sou wees. Potgieter sou hoofkommandant wes van die Drakensberge wees en Pretorius oos daarvan.(11)

(10)Voortrekker Wegewing, p. 73, art. 5

(11)Potgieter en Theunissen, Hendrik Potgieter, pp. 121-122

Potchefstroom se Adjunk-raad

In die begin van Februarie 1841 het Potgieter en C.J.H. Kruger, vader van die latere Staatspresident, as verteenwoordigers van Potchefstroom-Winburg ook die Volksraadsitting in Pietermaritzbur bygewoon. Op dieselfde vergadering is besluit om op Potchefstroom ‘n Adjunk-raad, bestaande uit twaalf lede, in te stel. Hul magte is as volg omskryf: “Dat alle saken die anders voor deze Raad (t.w. die Volksraad in Pietermaritzburg) zouden worden gebracht eerst voor de gemelde Raad worden voorgelegd, en de Raad by meerderheid van stemmen desideren… Dat sodanig besluit provisioneel in werking sal mogen worden gebragt, doch niet beschouwd als een Separaat lichaam maar wel als een gedeelte van deze Raad, sitting houdende in Comitee.”(12)

(12)Voortrekker Wetgewing, pp. 102-103

Hiermee was die staatkundige eenheid van alle Voortrekkers herstel en gereël. Die gebeurtenisse het mekaar hierna egter snel opgevolg en die verenigde republiek is vernietig, om nooit te herleef nie.

Betrekkinge met Brittanje

Sodra die Natalse Volksraad die versekering verkry het dat hy namens al die Voortrekkers kon optree, het hy ‘n versoek om erkenning deur Brittanje van die staatkundige onafhanklik van die nuwe Boerestaat tot die Goewerneur as verteenwoordiger van die Britse koningin gerig. Die versoek is reeds in September opgestel(13) en aangestuur in die sitting waarop Potchefstroom om nouer aansluiting met Natal gevra het. Sir George Napier, wat in 1838 si Benjamin D’Urban as goewerneur van die Kaapkolonie opgevolg het, het meer besonderhede gevra, en toe die Volksraad in Januarie 1841 die versoek om erkenning van sy onafhanklikheid in ondubbelsinnige woorde herhaal, het hy geweier om te onderhandel, tensy die Trekkers erken dat hulle Britse onderdane was en bereid was om die gesag van die Britse regering te gehoorsaam

(13)Ibid, p. 73, art. 7

.‘n Jaar ná die formele versoek van die Volksraad kon Napier eindelik laat weet dat die Britse regering beslis weier om die Trekkers van hul trou aan die kroon te onthef. Die Volksraad het egter bly aandring op sy reg tot erkenning van hul politieke vryheid, terwyl Napier dit in Desember 1841 weer ontken het, en tegelykertyd kennis gegee het dat hy Port Natal andermaal met ‘n militêre mag gaan beset.(14)

(14)Voortrekker Gedenkboek van die Universiteit van Pretoria, pp. 55-57

Tweede Britse besetting van Port Natal

Dit was ontstellende nuus vir die Natalse Voortrekkers. ‘n Kragtige, maar waardige protes van die Volksraad het tevergeefs uitgegaan.(15) Op 5 Mei 1842 was Britse troepe onder kapt. Smith weer in besit van Port Natal. Hoewel die Britse regering in dié tyd ongeneë was teenoor gebiedsuitbreiding in Suid-Afrika, het Napier gemeen dat hy genoeg redes sou kan aanvoer om die Britse regering se goedkeuring vir sy stap te verkry. Sy hoofrede sou wees die beskuldiging dat die Boere die Bantoes verdruk.

(15)Andries Pretorius, p. 197, oorgeneem uit J. Stuart: De Hollandsche Afrikanen en Hunne Republiek. Sien ook Annals of Natal, I, pp. 691-699

‘n Pleidooi hierop gegrond, sou steeds willige ore in die departement van kolonies in Londen vind, waar die betrokke minister as beskermer van die inboorlinge in Suid-Afrika opgetree het. Sedert die Britse troepe onder Jervis aan die einde van 1839 na die Kaapkolonie teruggekeer het, het etlike dinge i.v.m. die Bantoes in en om Natal gebeur wat die bewering dat die inboorlinge mishandel word, kwansuis bewys het.

Botsing met Ncapayi

Die veldtog van Januarie-Februarie teen Dingaan en die 42 000 beeste wat by dié geleentheid as skadevergoeding geneem is, het reeds opspraak gewek, maar lank nie soveel soos die berugte Ncapayi-episode nie. Langs die boloop van die Umzimvubu het die Bacas omstreeks 1840 onder hul hoofman, Ncapayi, gewoon. Ncapayi was wyd en syd bekend weens sy moord- en rooftogte. Tot sy slagoffers het behoort die Pondo’s onder Faku, wat verder oos langs die Umzimvubu gevestig was en die Hlangwini onder Fodo, wat in die buurt van Ncapayi, maar binne die grondgebied van die republiek, gewoon het. In September 1840 het die Boere in Suid-Natal veel las van veediewe gehad. Ncapayi is hieroor beskuldig, en Faku het by ondersoek getuig dat die verdenkingeteen sy buurman gegrond was.(16)

(16)Annals of Natal, I, bl. 635 vv.; Andries Pretorius, p. 177 en verder

Nouliks kon ‘n gebeurtenis wat noodlottiger gevolge vir die jong republiek sou hê, hom voordoen. Om die veediewe ongestraf te laat, sou toestande laat ontstaan wat erger was as dié aan die koloniale grense voor die Groot Trek. En sou die stryd teen Ncapayi aangeknoop word, dan het die republiek gevaar geloop om met die Kaapse goewerneur in botsing te kom – te meer daar ‘n roering aan die Natalse suidgrens ‘n swart golf in beweging kon bring wat binne die Kaapkolonie sou eindig – ten minste, so is dit voogestel.

Die veldtog teen Ncapayi het plaasgevind. Hy is verslaan deur ‘n kommando van 260 burgers. Van sy mense is gedood en 17 Baca-kinders wat in verlate krale aangetref is, is meegevoer om by die burgers vir ‘n vaste tyd ingeboek te word. Drieduisend beeste is gebuit. Faku, wat in dié tyd veel las van Ncapayi gehad het, het plotseling groot invloed op die verdere verloop van die geskiedenis gehad.(17)

(17)E.A. Walker” The Great Trek, bl. 242-245

Terwyl die Natalse Volksraad onder die indruk was dat Faku ‘n bevriende hoofman was, het hy hom intussen tot sir George Napier gewend en om beskerming gevra teen ‘n moontlike aanval van die Trekkers in Natal. Faku se beroep is op Napier gedoen onder invloed van die sendelinge Jenkins, Palmer en Garner. Napier het onmiddellik opgetree en ‘n troepemag onder kapt. Smith na Pondoland gestuur om Faku en Ncapayi te beskerm.(18)

(18)Theal: History of South African since 1795, Vol. II (4 Ed.), p. 411

Napier gryp in

Die Boere in Natal was van al hierdie verwikkelinge onbewus  totdat hulle ‘n brief van Napier ontvang het waarin hul optrede teenoor Ncapayi veroordeel word, en waarin hulle tegelyk verneem het van die troepe wat hy naby die suidgrens van Natal gaan vestig. Kapt. T.C. Smith i s inderdaad met 200 man aan die Umgazi geplaas.

Betrekkinge tussen Napier en die Natalse Volksraad was nou baie gestrem. Hy het maande lank versuim om op hul briewe waarin op erkenning van onafhanklikheid aanspraak gemaak is, te antwoord – ‘n vesuim wat egter ook aan die tyd i.v.m. sy briefwisseling met die Imperiale regering verloop het, toegeskryf moet word.

Ander redes vir ingryping

Behalwe die Ncapayi-episode het verdere gebeurtenisse in Natal Napier tot anneksasie van die gebied aangespoor. Ná die vernietiging van Dingaan se mag het duisende inboorlinge wat vir die tiran gevlug het, te voorskyn gekom en hulle, tot las van die Trekkers, oral in Natal gevestig. Dié inboorlinge was ‘n gevaar vi die blankes en in Augustus 1841 het die Voilksraad besluit om hulle in ‘n reservaat in die suide van Natal tussen die Umtamvuna en die Umzimvubu te plaas, as onderdane van die republiek en onder toesig van ‘n amptenaar van die Natalse regering. Napier het teen hierdie plan, wat weens sy anneksasie van Natal nooit uitgevoer is nie, beswaar gemaak op grond daarvan dat dit ‘n nadelige invloed op die vrede onder die stamme in die suide tot aan die Koloniale grens sou uitoefen.(19)

(19)The Cambridge History of the British Empire, Vol. VIII, South Africa, p. 330

In dieselfde Augustus het nog meer voorgeval wat Napier tot handeling gedryf het. ‘n Amerikaanse handelskip, die Levant, het Port Natal besoek, weinig handel gedryf, maar nietemin die moontlikheid geopenbaar dat die binnelandse handel deur Port Natal, vir Brittanje in die algemeen en vir die Kaapkolonie in die besonder, verlore kon gaan. Handelaars in die Kolonie het druk, wat nie nodig was nie, op Napier uitgeoefen. Natal het ekonomies aantrekliker geword. D.C. Toohey, ‘n Britse setlaar aan Port Natal, het in 1838 al bekend gemaak dat hy sowat 60 myl van die hawe af steenkool ontdek het – ‘n waardevolle grondstof in die dae toe stoomskepe in toenemende mate op die oseane verskyn het. En Natal lê op die seeweg na Indië.(20)

(20)C.J. Uys: In the Era of Shepstone, p. 8 en 13

In dié jare is ook veel verwag van Natal as ‘n moontlike katoenproduserende streek.(21)

(21)A.J. du Plessis: Die Republiek Natalia, in Argief-Jaarboek, 1942, I, pp. 190-194

Toe Napier eindelik van lord John Russel, die Britse minister van kolonies, ‘n skrywe ontvang met die opdrag om die besetting van Port Natal te hervat, maar hom nie met die Trekkers te bemoei as hulle hul stil gedra nie, het hy sy proklamasie van 2 Desember 1841 uitgevaardig. Hy het die besetting geregverdig met ‘n verwysing na die gevare wat opgesluit sou lê in die beleid van die Natallers t.o.v. die Bantoereservaat, en beweer dat die Britse regring die Trekkers nooit as onafhanklik sou beskou nie. In die Volksraadse protes hierteen is onomwonde kennis gegee dat die Trekkers vasbeslote was om die Britse troepe met die wapen teen te staan.(22) Sonder slag of stoot egter het Smith Port Natal op 4 Mei 1842 uit Pondoland bereik.

(22)|Annals of Natal, I, p. 699

Smith en Trekkers slaags

Slegs twee jaar het verloop sedert die traktaat met Dingaan oor die besit van Natal ook deur die reg van verowering beslis was, toe die stryd teen Engeland oor die behoud van Natal vir die Trekkers begin. Kapt. Smith se mag van minder as 300  man was veels te swak vir die taak wat hom opgedra was. Napier het die Trekkers se betekenis as krygsmanne teen ‘n Europese vyand onderskat. ‘n Nagtelike aanval van Smith by Congella is op 23 Mei met ‘n verliles vir die aanvallers van 17 man dood, 31 gewond en drie vermis en met agterlating van twee kanonne, afgeslaan. Aan die Trekkers se kant was drie lig gewond. Daarna is Smith in sy kamp beleër. ‘n Inwoner van Port Natal, Dick King, het die Voortrekkermag ontglip en die 960 km na Grahamstad in 10 dae afgelê, waar hy die Kaapse owerheid oor die toedrag van sake ingelig het. Intussen is die beleg voortgesit. Smith het die verdediging volgehou totdat hy op 26 Junie deur ‘n Britse troepemag onder lt.-kol. A.J. Cloete, wat oor die see uit die Kaap aangekom het, ontset is.

Engelse kry die oorhand

Dit was die einde van die poging om Natal met wapens in die hand vir die Voortrekkers te behou. As Pretorius nog van plan was om die Engelse onder Cloete verder te weerstaan, dan het dit vir hom daagliks al moeiliker geword. Baie van sy burgers het die kommando verlaat, omdat hul eie gesinne hul beskerming en sorg nodig gehad het. ‘n Kommando onder Mocke uit Transoranje moes ook terugkeer uit vrees dat die nederlaag van die Boere in Natal die Basoeto’s tot’n aanval op die blankes agter die Drakensberg sou aanspoor.

Maar nog meer: Cloete het ná sy aankoms ‘n proklamasie uitgevaardig waarin hy die inboorlinge in Natal versoek het om perde en osse van die Boere af te neem en dit na hom te bring. Hulle sou daarvoor vergoed word. Die Britse wapens sou hulle beskerm. Die Bantoes moes net nie geweld gebruik nie, tensy die Boere hul eiendom met wapengeweld wou terugneem.(23)

(23)Andries Pretorius, p. 260; sien ook Annals of Natal, II, p. 38 en 42

Natallers word onderwerp

Cloete se daad is met afkeer bejeën, selfs in sy onmiddellike omgewing. Maar die inboorlinge het nie op hul laat wag nie. Vee is weggevoer, drie mans is gedood, vroue en kinders is mishandel. Pretorius se protes hierteen is verwerp met die beskuldiging dat sy eie handelwyse daarvoor verantwoordelik was.(24) Pretorius was magteloos en sy eerste plig was nou om te probeer verhoed dat die Bantoes, beskerm deur Cloete, verdere gruweldade teenoor die Boere pleeg.

(24)Annals of Natal, II, p. 41

Pretorius het na Pietermaritzburg teruggetrek, waar die Volksraad in sitting was. Daar was stormagtige tonele toe oorgawe bespreek is. Manne soos Andries Pretorius, Karel Landman en J.N. Boshof was ten gunste daarvan en Cloete is genooi om na Pietermaritzburg te kom om die voorwaardes te bespreek. Cloete het gekom en op 15 Julie 1842 het hy, nadat die Volksraad tot onderwerping aan die Britse gesag toegestem het, die voorwaardes onderteken.

Behalwe vir Andries Pretorius, Joachim Prinsloo, J.J. Burger en Servaas en Michiel van Breda is amnestie aan almal verleen. Die burgers kon na hul plase trugkeer met behoud van hul wapens. Hulle sou beskerm word teen die Zoeloes. Die inboorlinge sou voorlopig in besit bly van die grond waarop hulle tydens die koms van die Britse troepemag gewoon het. Die bestaande regeringstelsel sou behou word “totdat Haar Majesteit se begeerte dienaangaande bekend word”. Die Volksraad sou egter geen jurisdiksie hê oor die hawe en omliggende grondgebied nie. Hawe- en invoerregte sou aan die Britse regering betaalbaar wees.(25)

(25)Andries Pretorius, p. 269

Britse beleid t.o.v. Natal

Omdat Pretorius hom besonder beywer het vir die vredesluiting, het Cloete die verbod teen hom teruggetrek. Eers in Oktober 1843 is Prinsloo en M. Van Breda ook daarvan onthef,(26) en in Februarie 1844 J.J. Burger.(27)

(26)Afskrif van brief van H. Cloete aan Prinsloo en M. Van Breda, gedateer Pietermaritzburg, 30 Oktober 1843,n.a.v. die proklamasie van sir George Napier, 28 September 1843 (Private versameling)

(27)Dieselfde aan J.J. Burger, gedateer 21.2.44. Proklamasie Kaapse Goewerneur 2.2.44. Vgl. Preller: Andries Pretorius, pp. 269-270

Ná die aanname van die voorwaardes van onderwerping het Cloete met ‘n deel van die troepemag na die Kaap teruggekeer en Smith, toe majoor, in bevel agtergelaat. Napier het intussen met die Britse regering in briefwisseling getree oor die anneksasie van Natal en oor die goedkeuring van die stappe wat hy gedoen het. In Desember 1841 reeds het hy die minister van kolonies kennis gegee van die militêre besetting van Natal. Lord Stanley het in April 1842 in ‘n uitvoerige skrywe geantwoord en planne aan die hand gedoen omd ie Trekkers na die Kolonie te laat terugkeer. Hy het gewys op die onwenslikheid van die vestiging van die Britse gesag in Natal, en eindelik het hy Napier gelas om onmiddellik stappe te doen om die soldate uit Port Natal terug te roep. Hulle was op dié datum nog nie eens in Natal nie.

Die gebeurtenisse by Congella en die versending van versterkings uit die Kaap is intussen aan Stanley meegedeel. In Augustus  het hy aan Napier hieroor geskryf en hom andermaal bevel om, sodra hy die gesag van die Britse Kroon herstel het, uitvoering te gee aan die instruksies van April om Natal te ontruim.(28)

(28)Annals of Natal, II, p. 88

Die Britse regering was in dié dae afkerig van uitbreiding van die Britse gebied in Suid-Afrika. Veral het sir James Stephen, hoof van die departement van kolonies, in dié opsig groot invloed op opeenvolgende Britse ministeries uitgeoefen. Die sg. beskerming van die inboorlinge was vir hom nie voldoende rede tot anneksasie van Natal nie. Dit was die ekstra las op die Britse skatkis nie werd nie. Ander argumente was nodig om die Britse regering op die pad van anneksasie te stuur. Dié argumente het nie ontbreek nie.

Vrees vir vreemde inmenging

Gerugte dat vreemde skepe Port Natal besoek, het Londen bereik. Die bekendste geval was dié van die Brazilia uit Nederland met J.A. Smellekamp aan boord. Die Brazilia het op 24 Maart 1842 in Port Natal aangekom. Smellekamp was die Trekkers goedgesind. Hulle het veel van hom verwag en selfs gemeen dat die Koninkryk der Nederlande ‘n beskermende hand oor hulle sou uitstrek. In die Britse parlement is ernstig navraag gedoen na die herkoms van die Brazilia, en a.g.v. mededelinge van die Britse gesant in Den Haag is met beslistheid beweer dat Franse geldmiddele en Franse dryfkrag agter die besoek van die skip aan Port Natal gesit het.(29)

(29)Uys, op. cit., p. 19

Lord Stanley, minister van kolonies, het nie meer getwyfel nie en in Desember 1842 het hy toegestem tot die anneksasie van Natal. Die berig het Napier vier maande later eers bereik en op 12 Mei 1843 het hy Natal by proklamasie tot Britse kolonie verklaar.(30) Dat Natal op dié tydstip ‘n Britse kolonie geword het, is in die eerste plaas die werk van Napier. Sy ongemagtigde volharding in die besetting en verwikkelinge wat daaruit gevolg het, het Stanley die geleentheid gegee om van standpunt t.o.v. anneksasie te verander.

(30)Annals of Natal, II, pp. 165-168

Die proklamasie van Mei het ‘n nuwe tydperk in die geskiedenis van Natal ingelui. Adv. Henry Cloete, ‘n broer van kol. A.J. Cloete, gewapen met hierdie proklamasie, is tot gevolmagtigde van die Kaaqpse regering benoem om die nodige maatreëls te tref. Eindelik was daar sekerheid dat Natal vir goed vir die Voortrekkers verlore was. Die gemoedere was weer gaande en die ganse Voortrekkermaatskappy in beroering. Cloete het in die begin van Junie in Natal aangekom.

Die vorige maand het die Brazilia, met Smellekamp aan boord, ‘n tweede besoek aan Port Natal afgelê. Hierdie besoek was oorsaak van allerlei gerugte onder die trekkers omtrent hulp uit Nederland en baie wou geen geloof heg aan ‘ n weerspreking daarvan nie. Feit was dat die Nederlandse regering duidelik verklaar het dat die Trekkers niks uit dié rigting moes verwag nie, maar aan die ander kant het baie Nederlanders die grootste simpatie met hul stamverwante in Natal aan die dag gelê. Op sy tweede besoek het Smith Smellekamp en die hele bemanning verbied om met die Natalse emigrant in verbinding te kom. Dit het die gerugte van hulp uit Holland eerder in die hand gewerk as wat dit die werklike toestand bekend gemaak het. Hierdie omstandigheid moes etlike Natallers in hul verset aangemoedig het.

Onderhandelinge met Cloete

Kort ná sy aankoms in Natal het cloete ‘n groot vergadering van Trekkers in Pietermaritzburg toegespreek, waar hy die doel van sy sending uiteengesit en geprobeer het om hulle van die weldadigheid van die Britse bestuur te oortuig. Dit was ‘n ontstuimige vergadering.(31)

(31)Ibid., p. 179

Dieselfde middag het Cloete ‘n skrywe van die Volksraad ontvang waarin hom meegedeel is dat die Raad tot die eerste Maandag in Augustus verdaag het ten einde afgevaardigdes uit Potchefstroom-Winburg geleentheid te gee om aan die onderhandelinge deel te neem. Cloete het na Port Natal teruggekeer, waar hy Smith tevergeefs versoek het om Pietermaritzburg met sy troepe te beset, want Smith het sy mag as onvoldoende vir dié doel beskou.

Die burgers uit Transoranje het in Julie in groot getalle in Pietermaritzburg aangekom. Mocke en ander burgeroffisiere wes van die Drakensberg het met sowat 800 man opgedaag. Die bedoeling was om aan Cloete te toon hoe sterk die teenstand teen die anneksasie van Natal was. Cloete het op 5 Augustus weer in Pietermaritzburg verskyn. Die Volksraadsitting van die 7de is deur sestien lede bygewoon.

Diegene wat van buite Natal gekom het, was nie tevrede met die bestaande Volksraad nie, wat toe uitgebrei is met insluiting van lede wes van die Drakensberg. Die eintlike Transoranje het geen lede benoem nie. Die dag daarop het ook die lede van Potchefstroom-Winburg  besluit om hulle te onttrek, aangesiendie saak hulle nie regstreeks geraak het nie. Dit was ‘ n verstandige stap, want so het hulle nie by die anneksasie van Natal betrokke geraak nie.

Invloedryke Natalse Voortrekkers – Andries Pretorius, Joachim Prinsloo en P. Zietsman – het hul invloed gebruik en die lede van die Volksraad tot vredesluiting aangespoor. Die stryd was te ongelyk en die gevaar van volslae ondergang vir die Boeregemeenskap in Natal by verdere volharding te groot.

So maklik kon van die strewe van die Trek nie afgesien word nie en Natal, so duur gekoop, nie sommerso prys te gee nie. ‘n Deputasie uit die republiek het Cloete die vraag gestel of hy nie tevrede sou wees met ‘n strook langs die kus nie, wat die binneland vry sou laat. Sy opdrag het so ‘n reëling verbied. Hy sou selfs nie sê of die grens verder as die Drakensberg sou strek nie.(32)

(32)Vgl. Extracts from Cloete’s Lectures (1843), Annals of Natal, II, p. 342, met brief Cloete aan Montagu 8.8.1843, II, p. 258

Vroue se ultimatum

‘n Vrouedeputasie, met Erasmus Smit se vrou aan die hoof, het Cloete daarna verseker dat hulle hul nooit aan die Britse gesag sou onderwerp nie; en waar verset tevergeefs mag wees, sou hulle liewer kaalvoet oor die Drakensberg teruggaan na vryheid as om onder Britse bestuur in Natal te bly. By die afskeid het hulle Cloete verseker dat hul wagwoord was: Die vryheid of die dood!

Cloete het sy opdrag gehad: Natal moes ‘n Britse kolonie gemaak word. Nòg die dreigende houding van Mocke en honderde ander, nòg die versoek om net die kus te annekseer, nòg die ferme optrede van die Voortrekkervroue het hom van sy taak laat afsien. Maar as die politieke vryheid dan nie behou kon word nie, sou geprobeer word om die voorwaardes te wysig.

Aan Napier se proklamasie van 12 Mei, wat Natal tot Britse kolonie verklaar het, was geen wysiging moontlik nie: Natal het ‘n Britse kolonie geword. Was dit dan nie moontlik om vir Natal ‘n toekoms meer in ooreenstemming met die Voortrekker-ideaal te verseker nie? Die proklamasie het verder bepaal dat daar in die oog van die wet geen onderskeid tussen persoon en persoon gemaak sou word op grond van huidskleur, afkoms, taal of geloof nie.(33)

(33)Annals of Natal, II, p. 165, art. VI, 1

Van alle redes vir die Groot Trek het die vrees vir gelykstelling tussen blankes en nie-blankes die swaarste geweeg. En nou, hier in Natal, ná alles wat in die voorafgaande vyf jaar gebeur het, word hulle deur Cloete verseker dat slegs onvoorwaardelike aanvaarding van daardie bepaling deur hom as ‘n erkenning van hul trou aan die Britse koningin aanvaar sou word.(34)

(34)Ibid., H. Cloete aan J. Montagu, p. 256 en verder

Ook dit het die Volksraad aangeneem; ook dit moes die Volksraad aanneem, daar was geen keuse nie.

Poging tot selfbestuur onder Brittanje

Daar was egter nog hoop dat Voorrrekker-beginsels in die regeringsvorm van ‘n Britse kolonie gedeeltelik kon seëvier. Die proklamasie van 1843 het bepaal dat, in afwagting van reëlings wat die Britse regering later mog tref, die instellings in Natal sou voortbestaan, mits daar niks uit voortvloei in stryd met die bepalings van die proklamasie nie.(35)

(35)Ibid.,p. 167, art. VII

Die Volksraad het dus voortbestaan, hoewel onder beperkinge. Die Volksraad het hom tot taak gestel omd ie wense van die Natallers t.o.v. hul toekomstige bestuur bekend te stel. Te dien einde het S. Maritz, Boshof e.a. ‘n ontwerp-grondwet opgestel, wat vir goedkeuring aan die Britse regering voorgelê sou word. Dit was ‘n uitvoerige stuk,geskoei op republikleinse lees, maar met inagneming van die feit dat Natal ‘n Britse kolonie geword het.

Die Volksraad het voorgestel ‘n gekose wetgewende raad van twaalf lede. ‘n Lid van die Volksraad moes vaste eiendom ter waarde van minstens R1 000 besit. Om te verseker dat die stemreg beperk word tot blankes, en lank tot blankes beperk sou bly, is die vreistes vir kiesers redelik streng gemaak. ‘n Kieser moes vaste eiendom ter waarde van minstens R300 besit, ses maande in die land woonagtig wees en Nederlands of Engels kan lees en skryf.

Aan die hoof van die regering sou ‘n goewerneur staan, met die reg van veto oor die besluite van die Volksraad. Landdroste en heemrade sou deur die inwoners van ‘n distrik gekies word, onderhewig aan die goewerneur se goedkeuring. Die taal van die howe sou Nederlands wees, behalwe waar die meerderheid van die inwoners van ‘n distrik Engelssprekend was. Daar sou geen verpligte krygsdiens wees nie.(36)

(36)G.W. Eybers, Select Constitutional Documents, illustrating South Afican History, pp. 174-180

Van hierdie ontwerp-grondwet is egter nooit weer iets verneem nie. Cloete het dit nie aanbeveel nie en die bestaande Volksraad, onder die wakende ook van Smith in bevel in Port Natal, het met die bestuur van die land aangesukkel.

Instroming van Zoeloes

Tog sou hulle probeer om van Natal ‘n witmansland te maak. Sodra dit bekend was dat die Engelse die oorhand in Natal gekry het, het Panda sy trou aan die Engelse beloof. Getrou aan die tradisie van sy voorgangers op die Zoeloetroon, het hy in die middel van 1843 een van sy broers om die lewe laat bring.

Weens die nuwe dwingelandy het duisende Zoeloes na Natal gestroom en daar was hulle spoedig ‘n bedreiging vir die blanke boere. Smith kon of wou die mense nie beskerm nie.

In September het die lamgeslane Volksraad, op aandrang van Pretorius, besluit om aan kommissaris Cloete voor te stel om die oortollige Bantoes in die noorde van Natal oorkant die Tugela te plaas, en in die suide oorkant die Umzimvubu, en slegs diegene binne Natal toe te laat wat bereid was om as werkvolk in diens van die Boere te gaan, met dien verstande dat nie meer as vyf Bantoegesinne op een plaas mag woon nie. Cloete het ‘n stap onuitvoerbaar en onwenslik geag. Hy is hierin gesteun deur Napier, en die Natallers het aan die rowerye van die omswerwende inbloorlinge blootgestel gebly.

In Maart 1844 het die Volksraad nog eens aandag aan die vraagstuk bestee en belsuit om aan veldkornette op te dra om Bantoes wat hulle sonder verlof op boereplase vestig, te verwyder. By die uitvoering van hierdie pligte moes vyandelikhede sorgvuldig vermy word en slegs geweld gebruik word om geweld te keer. Onder druk van Cloete is die besluit gewysig, en wel so dat, ná ondersoek, die landdroste die nodige stappe sou doen. Cloete se eie plan was om ‘n aantal lokasies vir die Bantoes binne Natal aan te wys. ‘n Beleid wat onmiddellik verligting gebring het, is nie toegepas nie. Die Volksraad se besluit was andermaal tevergeefs en ook ‘n nuutverkose Raad kon niks doen om Smith se samewerking te verkry nie. In Oktober 1845 het die Volksraad opgehou om te bestaan.

Natal vir Voortrekkers verlore

Hoe meer Natal vir die Voortrekkers verlore geraak het, hoe meer het die Voortrekkers hulle van Natal losgemaak. Toe dit in daardie onstuimige Augustus dae van 1843 duidelik was dat Natal vir goed ‘n Britse kolonie geword het, het Mocke en sy volgelinge uit Transoranje afskeid geneem van Natal, met die versekering dat hulle klaar was daarmee. Nog die vorige Oktober – ná die formele onderwerping van Julie 1842 dus – het Mocke namens die mense van die wyke Modder-, Caledon- en Rietrivier aansoek om aansluiting by Natal gedoen. Hy het daar bygevoeg dat die pro-Engelse party onder Oberholzer ook bereid was om saam te werk en nie verder as ‘n aparte “maatskappy” voort te bestaan nie. Deur die anneksasie het die verenigingsplan misluk. Die anneksasie het ook Potchefstroom-Winburg van Natal losgemaak. Reeds in Augustus 1842 het Potchefstroom kennis gegee dat die Natalse Volksraad geen ooreenkoms met ‘n vreemde moondheid sonder Potchefstroom se medewete en verlof moes aangaan nie.(37)

(37)Voortrekker Wetgewing, p. 227

Formeel en amptelik het Potchefstroom-Winburg sy selfstandigheid op 9 April 1844 verklaar. Die Burgerraad van Potchefstroom het die verdrag met die Engelse in Natal verwerp, omdat hy daarin geen stem gehad het nie.(38) As ‘n soort grondwet het hy die Drie-en-dertig Artikels opgestel. Die jurisdiksie van die Natalse Volksraad – die bietjie waaroor hy nog beskik het – was nou ook in werklikheid beperk net tot aan die Drakensberg.

(38)Voortrekker-Argiefstukke, (V.T.A.) R.120/47

Al hoe meer Trekkers verlaat Natal

Teen dié tyd het die meerderheid van die Natalse Voortrekkers reeds die land ontruim. Natal het as Britse kolonie sy aantrekkingskrag vir hulle verloor. Eers het die kusdistrik, waar in die begin van 1842 ‘n stuk of honderd gesinne was, leeg geloop. Die distrik was ongeskik vir veeboerdery, met ‘n warm klimaat. Al hoe meer Bantoes het ingestroom. En in Port Natal was die Kommissaris en Britse troepe.(39)

(39)Walker, op. cit., p. 307

So het die trek van die kus terugwaarts gegaan na Pietermaritzburg, van daar na Weenen en eindelik terug oor die Drakensberg. Die anneksasie van 1843 het baie die land heeltemal laat verlaat om vryheid in Winburg en Potchefstroom te gaan soek, sodat daar teen die einde van 184 in die hele Natal nie meer as 500 Boeregesinne was nie, miskien selfs so min as 365.

Behalwe die weiering van die Britse regering om die instromende Bantoes te segregeer, soos die Volksraad herhaaldelik versoek het, het die versuim van die regering om eiendomsbewyse vir plase uit te reik, baie daartoe bygedra om die onrus onder die Natallers lewendig te hou. Sedert Mei 1843 het dié kwessie Henry Cloete se aandag geniet, maar ná twee jaar het die Boere die bewyse nog nie ontvang nie en het hulle ook geen sekerheid gehad dat hulle dit sou kry nie.(40)

(40)Bird, op. cit., II, pp. 448-449

Die trek uit Natal het ook in 1844 voortgegaan, en toe dit eindelik in 1845 bekend geraak het dat geen Voortrekker-instellinge in Natal behoue sou bly nie; dat die Trekkers geen seggenskap in die landsbestuur sou hê nie, was baie andermaal met die toestande in Natal teleurgestel. Die Kaapse Wetgewende Raad sou die ordonnansies vir Natal maak,(41) en die uitvoering daarvan is gelaat aan ‘n luitenant-goewerneur met ‘n uitvoerende raad.

(41)Bird, op. cit., p. 394

Natal as Britse kolonie

Maj. Smith het in Augustus na die Kaapkolonie teruggekeer en in September 1845 is Natal formeel toe afsonderlike distrik van die Kaapkolonie geproklameer. Britse amptenare het die een na die ander aangekom: eers die lede van die Uitvoerende Raad, daarna Cloete, nou as regter, en eindelik luitenant-goewerneur Martin West.(42)

(42)Walker, op. cit., p. 343

Gestadig het die Trek uit Natal voortgeduur, “omdat hulle alle vertroue in die regering verloor het; omdat hulle ontevrede is oor die grondreëling; omdat hulle moeg is om te wag op besllissings wat elders geneem moet word; omdat hulle en hul eiendom nie langer veilig is nie; omdat hulle sedert lank die instromingaanskou van Kaffers, wat doen en laat net wat hulle wil, sonder hindernis of beletsel”.(43) Dit was die tragedie in die geskiedenis van die Groot Trek dat juis Natal in alle opsigte vir goed vir die Voortrekkers verlore gegaan het.

(43)Andries Pretorius, p. 299, uit De Nataller, 5 Oktober 1845

Die grense van die nuwe Britsekolonie is op 21 Augustus 1845 deur sir Peregrine Maitland, opvolger van sir George Napier, vasgestel. Die noordgrens was die Tugela van sy mond tot by die samevloeiing met die Buffelsrivier, en langs die Buffelsrivier tot aan die Drakensberg, wat die wesgrens gevorm het, met as suidgrens die Umzimkulu. ‘n Aansienlike deel van Voortrekker-Natal is hier afgesny en aan die Pondo’s toegeken.

Britse beleid teenoor Trekkers

Op die dag toe die grense geproklameer is, het Maitland dit nodig geag om ‘n verdere proklamasie uit te reik waarin hy bekend gemaak het dat die Trekkers noord van die Oranje- en Vaalrivier nie ontslaan was van hulle trou aan die Britse Kroon nie. Die onderskeid tussen hulle en die Natallers was net dat hulle nie die beskerming van die Britse regering soos laasgenoemdes sou geniet nie, maar wel strafbaar sou wees deur die Britse geregshowe vir oortredinge wat hulle mog begaan. Hulle het Britse onderdane gebly en onderworpe aan Britse inmenging.(44) Juis hierdie eis sou die kern van die stryd bly totdat die Groot Trek in 1852 afgeloop was.

(44)Eybers, op. cit., pp. 183-184

Toestande in Transoranje

Net soos Natal van 1838 tot 1842 de facto, indien nie de jure nie, ‘n Boere-republiek was, was ook die gebied noord van die Vet- en die Vaalrivier ‘n republiek, eers een met, later apart van, Natal. Suid van Die Vetrivier in Transoranje was die politieke toestande meer ingewikkeld. Hoewel die grootste gros van die Trekkers hulle buitekant Transoranje gevestig het, het sommige daar agtergebly. In die suidelike deel van Transoranje het die Griekwas onder hulle hoofman Adam Kok gewoon. Die oostelike Transoranje was beset deur die Barolong onder Moroka, en op ‘n deel het Mosjesj aanspraak gemaak.

Transoranje was vol Voortrekkers en trekboere. Die boere se vernaamste leier was Michiel Oberholzer, wat aan die Rietrivier gewoon het. Onder die Voortrekkers was die leiers Jan Mocke, uit Natal aangekom voor Smith se koms daarheen, en Jan Kock. In Transoranje was daar dus geen eenheid van bestuur nie. Daar was Voortrekkers en trekboere wat weiveld van Adam Kok se Griekwas gehuur het, en ander wat grond met verlof van Mosjesj bewoon het.

Onder die gekleurde bevolking was dit veral die Griekwas en Basoeto’s wat groot invloed op die geskiedenis van Transoranje 

sou uitoefen – die Basoeto’s meer as die Griekwas.

Die Griekwas het hulle eers omstreeks 1825 in die suide van die huidige Oranje-Vrystaat gevestig. Hulle was afstammelinge van slawe, Hottentotte en basters. Hul stamvader was Adam Kok, ‘n baster en eertyds ‘n slaaf, gebore in 1710. Met ‘n aantal volgelinge het hy uit Piketberg, waar hy ‘n stukkie grond besit het, steeds noordwaarts deur die Kolonie geswerf, tot hy in 1795 deur sy seun Cornelis as kaptein opgevolg is. Cornelis was ook bekwaam en die Griekwa-stam het onder sy leiding verder uitgebrei. Sedert 1800 het sendelinge onder hulle gaan arbei en met veel moeite ‘n mate van rus onder hulle gebring.

‘n Min of meer gevestigde Griekwa-staatjie, die teenswoordige Griekwaland-Wes, het tot stand gekom. Daar was egter geen eenheid onder ‘n enkele kaptein nie. Groepies onder hul eie kapteins het hulle afgeskei en deur bemiddeling van sendelinge van die Londense Sendinggenootskap het die sg. Bergenaars, met Adam Kok as kaptein, in 1826 Philippolis hul tuiste gemaak, maar Philippolis was drie jaar tevore as sendingstasie vir die Boesmans opgerig. Toe moes die Boesmans wyk, en die Griekwas, wat spoedig op ‘n groot deel van Transoranje aanspraak gemaak het, het gebly. Trekboere Voortrekkers wat die Oranjerivier oorgesteek het, het dus in Griekwaland i.p.v. Boesmanland aangekom.

Die Basoeto’s

Die Basoetoe-nasie is uit verskillende groepe inboorlinge onder die bekwame leiding van Mosjesj saamgestel. Mosjesj was die seun van Mokhachane, ‘n ondergeskikte hoofman van die onbeduidende Bamokoteli. Omstreeks 1790 is hy naby Leribe in die huidige Basoetoeland gebore. Toe hy omtrent 30 jaar oud was, het hy hom met ‘n geringe aantal volgelinge op Buthabuthe gevestig. Maar vyandige stamme het hom spoedig meer suidwaarts verdryf en in 1824 het hy Thaba Bosigo as vestig gekies. Sy aanhang was klein, maar deur sy verligte bestuur het Thaba Bosigo ‘n toevlugsoord vir die oorblyfselfs van verstrooide stamme uit die omgewing geword. Van Thaba Bosigo af het hy herhaalde aanvalle van sterker magte afgeslaan, maaqr hy moes sy gebied tot die berg bepaal. Met die vernietiging van die Zoeloe-mag en die verdrywing van die Matebele oor die Limpopo deur die Voortrekkers, kon Mosjesj ruimer grondgebied in besit neem en in die jare veertig het hy aanspraak gemaak op grond noordwaarts tot aan die Vaalrivier en weswaarts op die streek langs die Caledonrivier tot sy samevloeiing met die Oranje. Dit was veral hierdie wesgrens wat so ‘n belangrike rol ind ie betrekkinge tussen blankes en Basoeto’s ná 1840 gespeel het.

Die Britse regering het nie aanspraak o die gebied gemaak nie, maar wel op die onderdaanskap van die blanke inwoners, en het die “Cape of good Hope Punishment Act” op hulle van toepassing gehou. Weens die ontplofbare samestelling van die inwoners en om sy nabyheid aan die Kaapkolonie het die Voortrekkers in Natal nooit veel vir Transoranje gevoel nie. Die Britse regering het daarby betrokke geraak deur regter Menzies.

Oberholzer het na Colesberg berig gestuur dat Mocke van plan was om die hele gebied noord van die Oranjerivier op 24 Oktober 1842 by Allemansdrif tot ‘n republiek te roep. Voor dié datum het Menzies i.v.m. die stigting van die rondgaande hof in dié geweste aangekokm. Hy het van Mocke se planne verneem en met ‘n gevolg na Allemansdrif gegaan, die Britse vlag daar gehys en die land tot aan die 25ste graad suiderbreedte tot Britse gebied verklaar.(45) Die regter was te haastig, want Napier het, toe hy daarvan hoor, die proklamasie nietig verklaar. Mocke het Menzies daar ontmoet en ná Menzies se vertrek op die 24ste sy baken daar opgerig.

(45)J.H. Malan: Die opkoms van ‘n Republiek, p. 34

Verdrae met die inboorlinge

Die onderwerping van Natal het daartoe meegewerk dat Oberholzer hom meer openlik teen Mocke en t.g.v. Britse inteversie kon verklaar. Die houding van die pro-Britse party in Transoranje en die anneksasie van Natal het Napier aangemoedig om die vrede op die noordgrens van die Kaapkolonie beter te verseker.(46)

(46)Walker, op. cit., p. 321

In plaas van deur algehele anneksasie van die gebied, sou hy dit doen deur die sluiting van verdrae, waartoe hy die toestemming van lord Stanley reeds gehad het. Toe Adam Kok in Augustus 1843 gevra om ‘ n verdrag met hom aan te gaan, kon Napier in Oktober daarop antwoord dat hy reeds, o.a.met dr. Philip, oor die gebied noord van die Oranjerivier onderhandel en ‘n ontwerp-verdrag opgestel het vir Adam Kok se ondertekening. Napier het ‘n verdrag van ongeveer dieselfde inhoud met Mosjesj oopgestel. In Kok se verdrag is slegs die Grootrivier-grens genoem, terwyl Mosjesj se grense aan alle kante aangedui is.

Die verdrae het bepaal dat die ondertekenaars getroue vriende en bondgenote van die Kaapkolonie souwees, dat hulle die orde in hul onderskeie gebiede sou handhaaf, misdadigers sou uitlewer en die Kaapkolonie sou waarsku teen moontlike vyandelikhede teen die Kolonie gerig.(47)

(47)G.E. Cory: The Rise of South Africa, IV, p. 298

Kok sou ‘n vergoeding van R200 per jaar ontvang, met wapens en ammunisie, terwyl Mosjej R150 per jaar sou kry, of wapens en ammunisie. Dit was veral die verdrag met Kok wat die ontevredenheid van die Boere van elke politieke kleur in Transoranje gewek het. Die verdrag het feitlik die Griekwas se onafhanklikheid erken – ‘n voorreg wat die Voortrekkers oral ontsê is en daarby is die Boere in dié deel van Transoranje aan die Griekwas se gesag onderwerp en is blankes as onderdane van nie-blanke hoofde beskou. Dit was vir hulle ondenkbaar. Daarby was dié verdrae ‘ n bedreiging van Voortrekkeronafhanklikheid en ‘n onfeilbare bron van Britse tussenkoms in sake noord van die Oranje.

Stryd tussen Trekkers en Griekwas

Die verdrae is op 29 November en op 13 Desember 1843 deur Kok en Mosjesj onderskeidelik onderteken en – soos te verwagte was – ontstaan daar reeds in 1844 moeilikheid tussen Griekwas en Trekkers. In Desember 1844 het Hendrik Potgieter Adam Kok besoek en met hom probeer ooreenkom om blankes en Griekwas in dieselfde gebied elk aan hul eie regering verantwoordelik te maak. Kok het geweier en hom op die verdrag beroep. Moeilikheid het dadelik begin toe Kok oor die blankes gesag probeer uitoefen het. Mocke het ‘n kommando op die been gebring en by Touwfontein noord van Philippolis laer getrek. Na enkele skermutselinge is die boere deur ‘n Britse afdeling verdryf. Sommige het hulle onderwerp, maar Mocke, Kock en ander het die wyk geneem na die noordelike deel van die gebied.

In Junie het die Kaapse goewerneur, sir Peregrine Maitland, self in Transoranje verskyn om die finale skikkings te tref. Hy wou geen onderhandelinge met Mocke, Kock e.a. voer nie, tensy hulle hulle onvoorwaardelik aan die Britse gesag onderwerp. Dit wou hulle nie doen nie. Mocke het toe oor die Vaalrivier en Kock na Winburg getrek, gevolg deur hulle meer vertroude ondersteuners.

Intussen het Maitland en Adam Kok ooreengekom om die Napier-verdrag van 1843 so te wysig dat die streek min of meer ten suide van die Rietrivier ‘n onvervreembare en uitsluitlike Griekwa-reservaat bly. Nòg Kok nòg een van sy onderdane sou daar grond verkoop, verhuur of enige regte aan ‘n Britse onderdaan afstaan. In die noordelike gebied kon Britse onderdane grond koop of huur, maar die land self sou onder die soewereiniteit van dié Griekwa-kaptein bly ressorteer.

Verder is ooreengekom dat ‘n Britse resident in Griekwa-gebied geplaas word. Sy vernaamste plig was om die vrede tussen die verskillende hoofmanne te bewaar en as kanaal tussen hulle en die koloniale regering te dien. In 1846 het maj.Warden hom in sy hoedanigheid as Britse resident in Bloemfontein  in die “vervreembare” Griekwa-gebied gevestig. Hoewel nie Britse soewereiniteit nie, is die Britse gesag hiermee ten noorde van die Oranjerivier ingevoer.

Aangemoedig deur die Kafferoorlog wat in 1846 in die Kaapkolonie uitgebreek het, het Jan Kock  uit Winburg nog eens geprobeer om Transoranje vir die Voortrekkers te win, maar Warden het uit Bloemfontein teen hom opgetrek en hom teruggejaag. Die Britse mag het hom ten noorde van Grootrivier laat geld.

Die Trekkers in Transvaal

Mer en m eer het die Trekkers hul toekoms in die land noord van die Vaalrivier gesoek.

Die anneksasie van Natal in 1843 en die uitsluiting van Smellekamp op sy tweede besoek met die Brazilia het op heel besondere wyse invloed op Transvaal gehad. Smellekamp het na Delagoabaai vertrek waar ‘n Natalse kommissie hom ontmoet het. Berig hiervan het Potgieter bereik. Met die besef dat Port Natal vir die Trekkers as hawe vir die buitelandse handel vir goed verlore was, het hy weer aan Delagoabaai aandag gegee.

In die laaste kwartaal van 1843 het Potgieter ‘n ekspedisie daarheen gelei met Carolus Trichardt as gids. Die swaar somerreëns het die riviere ondeurwaadbaar gemaak en Potgieter kon die besoek nie uitvoer nie. Hy onderneem egter die jaar daarop ‘n tweede besoek – dié keer in die wintermaande. In Julie 1844 het hy Delagoabaai veilig met sy geselskap bereik.

(48)Argief-Jaarboek,1938, Deel I, pp. 90-91

‘n Hartlike ontvangs deur die Portugese goewerneur het die Trekkers te beurt geval. Hulle het hom versoek om die Trekkers toe te laat om hulle in die binneland in die nabyheid van die Portugese hawens te vestig. Die goewerneur het die versoek toegestaan en die grens tussen die toekomstige nedersetting en die Portugese ongeveer langs die Lebombo-berge aangwewys. Met die oog op die “Cape of Good Hope Punishment Act” het Smellekamp hulle aangeraai om noord van die 26ste graad suiderbreedte te bly.(49) Hy sou sy invloed in Nederland gebruik om handelsbetrekkinge met hulle aan te knoop. Potgieter was ingenome met die uitslag van sy reis, want – so het hy geglo en gehoop – nou was hulle eindelik verseker teen Britse onderwerping en anneksasie.

(49)Ibid, pp. 92-93

Stigting van Ohrigstad

Andermaal sou  hy die stigter word van ‘n beskawingsentrum in die binneland van Suid-Afrika. By sy aankoms op Potchefstroom is begin met die voorbereidsels vir die nuwe Trek, wat in Mei 1845 reeds op weg was in die rigting van die Portugese hawens – na die land wat die Portugese goewerneur die vorige jaar aangewys het. Daar aangekom, is die dorp Ohrigstad aangelê. Dit was die hoofstad van die Trekkersland. Potchefstroom-Winburg is voortaan as ‘n “adjunk-kolonie” beskou.(5)

(50)V.T.A., pp, 259-260, and R. 120/147

Spoedig ná die stigting van Ohrigstad is die Volksraad weer ingestel. Weens sy dienste sedert die begin van die Trek, en sy trouo aan die saak van die Trekkers, is Potgieter op 6 Mei 1845 op ‘n openbare vergadering tot lewenslange bestierder, met die titel van Hoofkommandant, uitgeroep.(51) Uit Potchefstroom het hy dus met dié onderskeiding aangekom.

(51)Ibid., pp. 182-183, R. 108/45

Onderlinge onenigheid

Daar was reeds sedert die begin van Ohrigstad se stigting twee partye te onderskei. Aan die een kant was dit die Hoofkommandant, Pieter, en sy ondersteuners; aan die ander kant, die Volksraadparty onder J.J. Burger, die bekende sekretaris van die gewese Natalse Volksraad. Hy was ‘n vurige republikein, demokraat en teenstander van die Engelse. Is begryplik dat hy met die anneksasie van Natal een van die vier manne was wat van die algemene amnestie uitgesluit is.

Burger het met ‘n paar ander in 1845 uit Natal oor Potchefstroom in Ohrigstad aangekom. Uit die staanspoor het hy hom aan die hoof van die Volksraadparty teen die Hoofkommandant gestel. Aanvanklik het Potgieter sy posisie meer as net kon handhaaf teen die Volksraadparty, maar nuwe intrekkers uit Natel, en die verhuising van etlike ondersteuners van Potgieter terug na die buurt van die Magaliesberg, het sy posisie aanmerklik verswak.(52) In 1847 het die beroeringe byna op bloedvergieting uitgeloop. So ‘n uiterste daad is afgeweer deur ‘n ooreenkoms tussen die partye in Maart 1847 dat hulle naas mekaar sou voortbestaan totdat Smellekamp as arbiter kon opdraag.(53)

(52)Ibid., pp. 247-249, R. 118h/46

(53)Ibid., p. 267, R. 120/47

Intussen het van die handel met die Portugese hawe weinig of niks gekom nie. Gebrek aan gebaande weë, koors en die tsetsevlieg, asook die politieke verdeeldheid, het alle planne in dié opsig verydel. Desondanks was Potgieter sowel as die Volksraad ywerig in die weer om die handelsplanne te laat slaag, en in Nederland en Portugal was Smellekamp doende om ‘n handelskip na Delagoabaai te stuur.

Potgieter was teen dié tyd al teleurgestel met Ohrigstad. Die weg van daar na Delagoabaai was met die tsetsevleig besmet. 

Die dorp self was in die koorsagtige steek geleë en die omgewing was nie so geskik vir algemene boerdery soos aanvanklik gemeen was nie. Potgieter wend hom daarom weer noord. Met verlof van die Portugese sou hy ‘n handelsweg na Inhambane soek. Met dié doel het hy sy manne opgeroep. Uit Potchefstroom-Winburg en Ohrigstad het sowat 240 hulle by hom aangesluit. ‘n Afdeling van die kommando het hy in die rigting van Inhambane gestuur. Hulle het teruggekeer sonder om die begeerde handelsweg te vind.

Schoemansdal gestig

Hy self het aan die hoof van 100 manskappe deurgedring tot in Matebeleland naby die Matoppo’s, waar hulle die Batabele aantas en verslaan, ‘n hoeelheid vee buit en toe terugtrek. Maar op die terugtog h et die Matebele die vee teruggevat. Suid vand ie Llimpopo het hy sy volgelinge plase aan die Soutpansberg toegesê, en in die begin van 1848 het hy met sy aanhangers uit Ohrigstad daarheen verhuis en Schoemansdal aangelê. Weer het die beweeglikste van al die Trekkers ‘n vaste brandpunt vir die beskawing gestig.

(54)Argief-Jaarboek, Deel I, 1938, p. 103 vv. Vgl. A.P. van der Merwe: Die Voorgeskiedenis van die Republiek Lydenburg (onuitgegee), p. 58 en verder

In dié tyd is die geledere van die Trekkers aansienlik versterk deur gesinne uit Natal. Die oorblywende Tekkers in Natal het inderdaad eindelik daarvan oortuig geraak dat dáár vir hulle geen veiligheid van lewe of eiendom was nie. Voordat hulle die gewigtige stap sou doen om die gebied te ontruim, het hulle Andries Pfretorius na die Kaapse goewerneur gestuur in die hoop dat hy iets vir hulle sou kan regkry. Pretorius het sir Henry Pottinger op Grahamstad aangetref. Pottinger het geweier om hom te ontvang of van sy klagtes kennis te neem.

Pretorius het toe die besware van die Natalse Trekkers in die nuusblaaie bekend gemaak. Hierop het Pottinger verklaar dat hy te besig was met ander werk; dat dit te veel tyd in beslag sou neem om ondersoek na die griewe in te stel;en dat hy op die punt gestaan het om Suid-Afrika te verlaat. Hy sou Pretorius se klagtes aan sy opvolger, sir Harry Smith, voorlê. Pretorius het teleurgestel die terugreis aanvaar.

Nog voor Pretorius se vertrek het die mense al planne beraam om in laers te gaan staan as beskerming teen die inboorlinge. Op sy terugreis moes hy verneem dat sy familie op die vlug was. In die begin van 1848 het hy hulle met ander mense in ‘n treurige toestand aan die Tugela aangetref. Los gerugte, soos so dikwels sedert 1842 onder die Voortrekkers versprei is, het weer die ronde gedoen; Panda se hulp sou ingeroep word, Smellekamp sou kanonne en ammunisie verskaf, en someer, om te help om Natal van die Engelse te herower. Pretorius het self met die oog op so ‘n plan met die Trekkers in Transvaal onderhandelinge aangeknoop. Op dié tydstip het ‘n brief van sir Harry Smith hom aan die Tugela bereik met die versoek om die mens daar bymekaar te h ou, waar hy hul griewe met hulle sou kom bespreek.

Terwyl die toestand voor Pretorius se vertrek reeds van so ‘n aard was dat daar van die ontruiming van Natal ernstige sprake was, het dit gedurende sy afwesigheid nog verder versleg. Wat egter die deurslag gegee het tot die laaste Trek uit Natal, en oorsaak was dat diegene wat hom afgevaardig het, nie op sy koms gewag het voordat hulle so ‘n ingrypende stap gedoen het nie, was die proklamasie van luitenant-goewerneur Martin West van 25 Oktober 1847, waarin hy bekend gemaak het dat die Boere tussen die Tugela en die Buffelsrivier binne ‘n bepaalde tyd die eed van trou aan die Britse Kroon moes aflê. Dit het as prikkel tot ‘n nuwe landverhuising gedien.

Sir Harry Smith se reis / Koms van sir Harry Smith

Sir Harry Smith het, toe hy teen die einde van 1847 sir Henry Pottinger opgevolg het, ‘n Kafferoorlog aan die oosgrens van die Kaapkolonie van hom geërf. Smith het hom na die grens gehaas, ‘n einde aan die onluste gemaak en van daar dadelik na die Vrystaat en Natal gereis. Die toestand waarin hy die laers aan die Tugela aangetref het, was beklaenswaardig. Hy was hulle simpatiekgesind en het hulle probeer oorreed om in Natal te bly, maar byna almal het verkies om te trek. Pretorius het self na die Magaliesberg verhuis.

Proklamering van Vrystaat tot Britse gebied

Op sy reis deur Transoranje na Natal het ‘n aantal lojale burgers in die omgewing van die Drakensberg, by Winburg en ander plekke, Smith gevra om onder Britse bestuur geplaas te word. Ook die Griekwas en Basoeto’s het Britse tussenkoms verwelkom. Sir Harry het onder die indruk gekom dat ‘n meerderheid van die inwoners dit verlang het, soos hy voorgegee het. In Natal het hy die saak met Pretorius bespreek en laat blyk dat hy in die Kaapkolonie al ‘n proklamasie opgestel het, waardeur hy die hele gebied wat deur Voortrekkers bewoon is, wou annekseer.

Pretorius het hierteen geprotesteer en gewaarsku dat die mense vir hul vryheid sou veg of verder noordwaarts sou trek om onder die Britse gesag uit te kom. Die afspraak tussen die twee was dat Pretorius die gevoelens van die Trekkers op dié punt moes gaan verneem. Pretorius was skaars op pad na Winburg en Ohrigstad toe Smith sy proklamasie van 3 Februarie 1848 uitvaardig waarin die land tot aan die Vaalrivier geannekseer is, onder die naam Oranjerivier-Soewereiniteit.

Sir Harry Smith het te haastig, selfs onverskillig, gehandel, maar per slot van rekening het hy net die beleid wat die Britse regering met die “Cape of Good Hope Punishment Act” begin het, voortgesit. Op 15 vergaderings wat Pretorius gehou het, het almal teen onderwerping aan die Britse gesag gestem. Daar was egter niks te verander aan die proklamasie van 3 Februarie 1848 nie en Pretorius het op Grootplaats, drie uur te perd wes van die teenwoordige Pretoria, gaan woon.

Weerstand van Trekkers

Nog in dieselfde jaar het gebeurtenisse suid van die Vaalrivier hom weer uit sy tent geroep. Sedert die anneksasie van 3 Februarie het die ontevredenheid nie bedaar nie. Die meeste blanke bewoners van die Oranjerivier-Soewereiniteit was teen die anneksasie van Smith. Die moeilikhede het ‘n ernstige wending geneem toe onder die nuwe Britse bestuur die Boere-landdros Jacobs i n Mei 1848 op Winburg deur ‘n Britse benoemde, Biddulph, vervang is. Die maand daarop is hy deur die Winburgers aangesê om die dorp te verlaat. Biddulph het geredelik aan die versoek voldoen en na Bloemfontein die wyk geneem. Intussen is Pretorius herhaaldelik deur Winburgers versoek om na die Soewereiniteit te kom om hulle te help teen die Britse gesag, waaraan hulle hulle nie kon onderwerp nie.

Pretorius gee leiding

Pretorius het ‘n beroep op almal gedoen om hom daarheen te volg.(55) Met 500 man het hy in Julie op Winburg aangekom. Sy geledere het aangegroei en toe hy Bloemfontein met sowat 1 000 manskappe bereik, het hy maj. Warden versoek om die dorp oor te gee en hom toegelaat om die Soewereiniteit te verlaat. Kort daarna was Pretorius met 1 200 man op die walle van die Gootrivier.

(55)Andries Pretorius, p. 315 en verder. Vgl. P. 316. Die Volksraad het toe nie meer bestaan nie

Sir Harry Smith het hom uit Kaapstad na die toneel van die onrus gehaas. Hy het Pretorius voëlvry verklaar en ‘n beloning van R2 000 uitgeloof vir sy gevangeneming. Smith het met 850 man aan die Oranjerivier verskyn. Baie van Pretoriusse volgelinge het hom op dié tydstip in die steek gelaat. Gerugte van ‘n Engelse leërmag uit Natal het die burgers ter o re gekom en hy het ‘n ent op die pad na Bloemfontein teruggetrek en stelling by Boomplaats ingeneem. ‘n Klompie burgers van die Soewereiniteit en 250 berede Griekwas het hulle by Smith aangesluit. Pretorius het nog sowat 750 man onder hom gehad.

Op 29 Augustus het die botsing plaasgevind. Ná ‘n kort maar warm geveg het Pretorius se kommando opgebreek en die slagveld ontruim. Smith het die kopgeld vir Pretorius verdubbel en die Britse soewereiniteit oor die gebied bevestig.

Die gebied het Smith in vier magistraatsdistrikte, Bloemfontein, Winburg, Vrededorp (Harrismith) en Smithfield, ingedeel onder die gesag van die Britse Resident. Die bestuur is gelaat in die hande van die Hoë Kommissaris, bygestaan deur ‘n Raad, bestaande uit die Resident, die vier magistrate en nog agt lede, twee uit elke distrik, deur die Hoë Kommissaris uit die grondeienaars in die distrik benoem. Magistraatshowe is soos in die Kaapkolonie ingerig, asook ‘n soort hoër hof, bestaande uit minstens drie van die magistrate, met bevoegdheid soos dié van rondgaande howe in die Kaap. ‘n Poging van die Goewerneur om ook noord van die Vaalrivier invloed uit te oefen, het nie geslaag nie.

Onenigheid in Transvaal

Die gebeurtenisse van 1848 het die Transvaalse Voortrekkerbevolking versterk en onregstreeks die onenigheid tussen die leiers in die hand gewerk. Op die politieke terrein van dié dae was daar veral drie kragte: Andries Hendrik Potgieter, Andries Pretorius en die Ohrigstadse Vollksraad. Op vergaderings by Hekpoort in die Magaliesberg en Olifantsrivier was Potgieter en Pretorius albei teenwoordig, maar die Ohrigstadse Volksraad het hom afsydig gehou.

Eiendelik  het ‘n belangrike vergadering in Mei op Derdepoort, naby die teenswoordige Pretoria plaasgevind. Potgieter wat die vorige twee vergaderings bygewoon het en tot medewerking bereid was, het die vergadering op Derdepoort nie bygewoon nie, maar Pretorius was daar, en verteenwoordigers van die Ohrigstadse Volksraad en baie ander. Op die vergadering is besluit om ‘n “Verenigde Bond” van al die Emigrante noord van die Vaalrivier tot stand te bring, onder ‘n verteenwoordigende Volksraad. Die gebeurtenisse op Derdepoort was een van die belangrikste mylpale in die geskiedenis van Transvaal tot dié tyd.

Hoewel die afwesigheid van Potgieter en sy aanhangers nie gerusstellend vir die goeie uitvoering van die besluite was n ie, is daar op praktiese wyse geprobeer om die kragte saam te snoer. Smellekamp, wat in 1848 op ‘n derde reis in Lourenço Marques was en dié keer met die Animo aangekom het, het H.T. Bührmann as onderwyser en sy plaasgevervanger na Ohrigstad gestuur. Bührmann het hom onmiddellik in die politieke maalstroom begewe en die vergaderings bygewoon. Hy was die wortel van baie kwaad. As sterk ondersteuner van die party wat geen leiers met gesag in Transvaal wou duld nie, het hy spoedig gebots met Potgieter sowel as Pretorius. Die gevolg was dat dié twee mekaar hierdeur in die laaste maande van 1849 weer gevind het.

In September het die Volksraad op Krugerspost vergader. Die bestuur van die land is gereorganiseer, maar die Volksraad was nie t.g.v. die voortbestaan van die amp van hoofkommandant of kommandant-generaal nie. Bantoe-onluste, veral in dié tyd aan die wesgrens van Transvaal, het die burgers egter die noodsaaklikheid van dié amp laat insien.

Die geskille bygelê

Pretorius, wat uit Natal as amptelose burger na Transvaal gekom het, is deur die burgers by wyse van versoekskrifte na vore gebring. Die saak het die aandag van die Volksraad op sy drie vergaderings in 1850 geniet, maar die meerderheid het steeds teen die herinstelling van die kommandant-generaalskap gestem. In Januarie 1851 het die Volksraad ‘n oplossing van die vraagstuk probeer vind in die benoeming van vier kommandante-generaal. Hulle was: Potgieter vir Soutpansberg, Pretorius vir Magaliesberg en Mooirivier, W.F. Joubert vir Lydenburg (wat in 1850 gestig is en Ohrigstad as hoofplaas vir die Trekkers in Oos-Transvaal vervang het) en J.A. Enslin van Marico. Al vier het onder die Transvaalse Volksraad gestaan en van hulle het veral Pretorius nuttige uitvoerende werk vir die Volksraad verrig. Pretorius het weer ‘n wettige en besondere status gehad. Hy sou in dié hoedanigheid vir Transvaal die erkenning van onafhanklikheid verkry en naas Bloedrivier sou sy onsterflike roem ook daarop berus.

Basoeto’s gee Britte las

Gebeurtenisse in die Oranjerivier-Soewereiniteit het andermaal onmiddellike aanleiding tot verreikende wysiginge in die Brits-Imperiale politiek in Suid-Afrika gegee. Mosjesj se Basoeto’s het dit vir die Britse Resident in Bloemfontein onmoontlkik gemaak om die vrede onder die stamme te handhaaf. Die stryd onder die inboorlinge het hom nie daarby beperk nie, maar ook die blanke inwoners van die soewereniteit het die slagoffers van Basoeto-rooftogte geword. Warden was eindelik teen die middel van 1851 verplig om met ‘n gewapende mag teen die rusverstoorders op te tree.

Sy beroep op die Boere in die distrik Winburg het weinig weerklank gevind en Warden se troepemag was nie teen die taak oopgewasse nie, met die gevolg dat hy met aansienlike vrllies by Viervoet deur die Basoeto’s verslaan is. Dit was nie net ‘n nederlaag vir die Britse wapens nie, maar ook vir Britse prestige i n Suid-Afrika. Op hul plundertogte het die Basoeto’s probeer onderskei tussen pro-Britse en Trekkergesinde Boere, en lg. met meer tegemoetkkoming behandel.(56)

(56)Ibid

Die land was in so ‘n verwarring dat almal in ‘n toestand van vrees en onsekerheid geleef het. Warden was bang dat die anti-Engelse Boere gemene saak met Mosjesj sou maak. Warden is verder verontrus toe die Winburgers besluit het om hulle weer tot Andries Pretorius te wend. Ook Mosjesj het vertoë tot Pretorius gerig. Laasgenoemde het hierop ontwykend geantwoord; want hy was nie lus om die inboorlinge in ‘ n oorlog teen witmense te gebruik nie.(57) Die onafhanklikheid van Transvaal kon langs ‘n eerbaarder weg behaal word.

(57)Theal, History of South African since 1795, Vol. III (3rd Ed.), p. 323

Tyd ryp vir onafhanklikheid

Die tyd was ryp. Behalwe die moeilikhede in die Soewereiniteit, waar bo alle twyfel geblyk het dat wit en swart teen die Britse gesag gekant was, was die Kaapkolonie sedert 1850 in ‘n bloedige Kafferoorlog gewikkel. Trouens, die beroering onder die inboorlinge noord van die Oranjerivier moet i.v.m.  hierdie Agtste Kafferoorlog gesien word. Met die Britse troepe het dit in die eerste tyd van die oorlog nie alles voor die wind gegaan nie en Warden se nederlaag kon vir eers nie gewreek word nie.

Die Britse regering was nog steeds afkerig van nuwe anneksasies en sedert die Kafferoorlog van 1846-’47 het die Britse belastingbetalers ernstig begin protesteer teen nuttelose gebiedsuitbreiding, gepaard met inboorling-oorloë in Suid-Afrika.(58) Die anneksasie van Natal, en meer nog van die Oranjerivier-Soewereiniteit, het die Imperiale regering slegs noodgedwonge goedgekeur en wat lg. betref,onder die uitdruklike voorwaarde dat dit geen bykomende laste vir die Britse skatkis sou meebring nie.(59)

(58)Andries Pretorius, p. 419 en verder

(59)Historiese Studies, Jaargan I, p. 27; Parliamentary Paper, 31.5.1853, No. 1646, p. 77

Graaf Grey, minister van kolonies, het reeds sy wantroue in die goewerneurskap van sir Harry Smith laat deurskemer toe hy twee assistent-kommissarisse, maj. W.S. Hogge enCharles Mostyn Owen, benoem het om die nodige skikkinge aan die oos- en noordoosgrens van die Kaapkolonie te tref. Die twee kommissarisse het Pretorius die geleentheid verskaf om die vryheid van Transvaal erken te kry.

Die Sandrivier-konvensie

Op grond van die vertoë wat uit die Soewereiniteit tot Pretorius gerig is, het hy op 8 September 1851 ‘n sitting van die krygsraad en die publiek belê. Op die vergadering het hy ‘n oorsig gegee van die stand van sake in Transoranje, en hy het opdrag ontvang om met die Britse owerheid tot ‘n goeie verstandhouding te kom. Sir Harry Smith het hom inskiklik getoon en Pretorius meegedeel dat die Britse kommissarisse met hulle aankoms op die saak sou ingaan. Later het Pretorius ook van die steun van die Volksraad verseker en met ‘n afvaardiging na die Vrystaat afgereis. Op 16 en 17 Januarie 1852 is by Sandrivier met die Britse verteenwoordigers onderhandel. Dit het uitgeloop op die ondertekening van die Sandrivier-konvensie.

Die Traktaat bevat nege artikels. In die eerste word die onafhanklikheid van die emigrante noord van die Vaalrivier erken. Van die hele ooreenkoms is dit die belangrikste bepaling. Sestien jaar was die Trek om onafhanklikheid te verkry, volgehou en al die tyd het die Britse regering volghou dat die Trekkers hulle nie van hul Britse onderdaanskap kon losmaak nie. Omstandighede noord van die Oranjerivier en die ommekeer wat in dieBritse openbare mening, veral in die vyf jaar voor die Sandrivier-konvensie plaasgevind het, het eindelik te magtig vir die Imperiale regering geword. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat aan onderdane van ‘n staat goedskiks soewereine onafhanklikheid geskenk is.(60) Gedurende die halwe eeu daarna het die Traktaat regstreeks en onregstreek die betrekkinge tussen Groot-Brittanje en die Republiek ten noorde van die Vaalrivier bepaal. Die Groot Trek se doel was eindelik verwesenlik.

(60)Ibid., p. 26; C.O. 1346, No. 39 (K.A.)

Die ander artikels handel oor die grens tussen die Soewereiniteit en Transvaal, wat die Vaalrivier as sodanig ietwat vaag aandui. Die derde artikel is van meer belang. Daarin onderneem die Britse regering om geen traktate met die inboorllinge noord van die Vaalrivier te sluit nie. Dit was die verwerping van ‘n beleid van verdrae met inboorlinge ten nadele van die Boere, en die sluiting van ‘n konvensie wat lg. begunstig het. Die volgende artikel verbied slawerny, wat buitendien nooit van staatsweë in die Trekkersland veroorloof is nie.

Verder word voorsiening gemaak vir wedersydse handelsgeriewe, en vir die handel in vuurwapens en ammunisie slegs aan blankes in die Britse gebiede, terwyl dit vir inboorlinge ten strengste verbode was. Misdadigers sou wedersyds uitgelewer word; wettige huweliksertifikate sou wedersydse erkenning geniet; eindelik sou dit iedereen op Britse grondgebiede vrystaan om hom in Transvaal metterwoon te vestig.

Pretorius se groot werk is eers nie deur almal in Transv aal goed begryp nie, en so het die Traktaat ‘ n gemengde ontvangs tebeurt geval, gedeeltelik omdat Pretorius te selfstandig te werk gegaan het. ‘n Volksraadsvergadering is vir 16 Maart op Rustenburg belê, waar die afgevaardigdes na Sandrivier verslag sou lewer. Allerlei gerugte oor die Traktaat het intussen in Transvaal versprei. Potgieter en sy aanhangers, ook die Lydenburgers, het in ‘n ontevrede stemming verskyn. Die verhoudinge was gestrem, maar toe die ware toedrag bekend gemaak is, het Potgieter weer sy vrede met Pretorius gevind. Oor die algemeen was die meeste tevrede. Mettertyd het alle besware verdwyn en die Traktaak het die nodige goedkeuring ontvang.

Een ding was nie in orde nie: die Trekkers tussen die Oranje- en die Vaalrivier het nie hul vryheid gekry nie. Tot ontruiming van die Oranjerivier-Soewereiniteit het die Imperiale regering reeds voor die Sandrivier-konvensie besluit, maar die omstandighede was nie geskik om eerder daaraan uitvoering te gee nie. Pretorius het geprobeer om die gebied by die Traktaat ingesluit te kry, maar die kommissarisse onder invloed van sir Harry Smith, was nie bereid om die ontruiming van die gebied te oorweeg nie. Daarby kom die verwarring suid van die Vaal so groot en dat die nederlaag van Warden by Viervoet nie gewreek was nie, sodat die ontruiming op dié tydstip nie met eer vir die Britse regering en sonder nadeel vir die Britse prestige kon geskied nie.

Smith deur Cathcart opgevolg

Ook die eer van sir Harry Harry Smith was met die Soewereiniteit gemoeid. Maar hy is in Januarie 1852 deur graaf Grey teruggeroep en sy opvolger, sir George Cathcart, was beslis t.g.v. terugtrekking van die Britse gesag. Die Bitse staatsmanne het sir Harry Smith se anneksasie indertyd alleen goedgekeur onder die uitdruklike voorwaarde dat dit tot besweil van die ingesetenes sou strek en dat geen aanspraak op steun uit die Britse staatskas gemaak word nie. In die jare ná 1848 het dit steeds geblyk dat min bewoners van die Soewereiniteit met die toestand gediend was en dat die Britse Resident nie die vrede kon bewaar of die gehoorsaamheid van die inwoners afdwing nie.

Sodra Cathcart byna al die Bantoes aan die Kaapkolonie se grens onderwerp het, het hy hom met ‘n leër van 2 500 man na die Soewereiniteit gehaas om die vrede daar te herstel en skadevergoeding vir Bastoeto-rowery te verkry. Cathcart het 10 000 beeste geëis. Mosjesj het ná ‘n paar dae 3 500 gelewer, met die belofte van meer. Cathcart was nie tevrede nie en het tot die aanval oorgegaan. Te Berea het ‘n botsing plaasgevind, wat t.g.v. die Basoeto’s uitgeval het. Maar Mosjesj, versiende staatsman, het die gevolge van ‘n uitgerekte oorlog vir sy volk voorsien: hy het gemaak asof hy verslaan was en om vrede gesmeek.

Nuwe Britse moeilikhede in Transoranje

Cathcart het dit aangeneem en haastig na die Kaapkolonie teruggekeer. Die gebeurtenisse by Berea het niemand bedrieg nie; en toe die Imperiale regering daarvan verneem het, het die Hertog van Newcastle, as minister van kolonies, die ontruiming,w aartoe Grey reeds in 1851 besluit het, beveel.

Afgesien van Brittanje se moeilikhede in Suid-Afrika, was daar weer ‘n Napoleon op die Franse troon en dit betrekkinge tussen Engeland en Frankryk nadelig beïnvloed. Die betrekkinge tussen Rusland en Engeland was reeds gespanne. Vrede vir Engeland in Suid-Afrika was nodig. Sir George Clerk is as kommissaris benoem om orde in die sake van die Soewereiniteit te bring. Terwyl Hogge en Owen en die Hoë Kommissaris, Smith,vooruit besluit het om die Soewereiniteit te behou, was Clerk en Cathcart, gesteun deur William Porter, Prokureur-generaal van die Kaapkolonie, vasbeslote dat die Soewereiniteit nou sonder verlies vir die Britse prestige ontruim kon word.

Daar was sowat 15 000 blankes in die Soewereiniteit toe sir George Russel Clerk sy verskyning daar maak. Op die dorpe wat reeds aangelê was, was die Engelse element sterk verteenwoordig, en Bitse amptenare, met die Resident bo-aan, was groot grondbesitters. Die 139 Engelse grondeienaars, natuurlik nie almal in die Soewereiniteit woonagtig nie, het meer as 860 000 ha besit – meer as een vyfde van die plase wat uitgegee was. Lojale Kaapkolonianers het intussen die gebied binnegekom, terwyl van die mees oortuigde republikeine sedert 1848 oor die Vaalrivier getrek het. Afgesien dus van die Basotoe-gevaar en die  algemene wanorde, kon teenstand teen ontruiming verwag word.

Ná Clerk se aankoms in Bloemfontein in Augustus 1853 is die bevolking versoek om afgevaardigdes te kies om met hom oor die toekomstige bestuur van die land te beraadslaag. Op 5 September het 95 afgevaardigdes in Bloemfontein byeengekom. Van hulle was 19 Engelssprekendes. Dr. Fraser was die voorsitter. Die afgevaardigdes was nie bereid om volkome onafhanklikheid te aanvaar nie, maar Clerk was vasbeslote om die Britse gesag terug te trek, en die wederstrewige afgevaardigdes het hy as die obstruksioniste bestempel. Juis toe het kmdt. Adriaan Stander op die toneel verskyn. Die republikeine het hulle by hom aangesluit, asook etlike van die afgevaardigdes en hulle het hul bereid verklaar om nder voorwaardes wat eindelik in die Konvensie opgeneem is, die bestuur van die land vry v an Britse gesag oor te neem.

Bloemfontein-konvensie

Die “obstruksioniste”, nog nie tevrede nie, het dr. Fraser en ds. Andrew Murray na Engeland afgevaardig om namens hulle by die Bitse regering teen die ontruiming te protesteer. Op 15 Februarie 1854 het die komitees van albei partye in Bloemfontein vergader. Clerk het die komitee van die “obstruksioniste” – toe nog maar 13 in getal – ontbind en hom gewend alleen tot dié wat vir sy voorneme te vinde was.

Die “obstruktuiniste” het nog verder geprobeer om ontuiming te voorkom: ‘n fiktiewe goudmyn is by Smithfield ontdek; daar is gehamer op die moontlike mishandeling wat die inboorlinge onder die Boerestaat kon verwag – alles om Fraser en Murray geleentheid te gee om die saak voor die Britse parlement te lê, en ook om te sien watter houding die Kaapse parlement sou aanneem.

Dit was alles tevergeefs en reeds te laat. Op 30 Januarie is die ontruiming by koninklike proklamasie in Engeland beveel. Op 23 Februarie 1854 het die onderhandelinge afgeloop en is die Bloemfontein-konvensie onderteken, waarin die staatkundige onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier deur Brittanje erken is. Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het tot stand gekom.

Die bepalinge van die Konvensie kom sterk ooreen met dié van die Taktaat van Sandrivier, maar ‘n meer ingypende beginsel is daarin opgesluit. Die Sandrivier-konvensie het slegs de jure vasgelê wat reeds jare lank de facto bestaan het, maar met die Konvensie van Bloemfontein het Brittanje grondgebied waaroor sy vlag gewapper het, ontuim en sy onderdane vrywillige van hul trou aan die Britse Kroon onthef. Die toekoms van die noordelike susterrepubliek was meer verseker as wat dit sou gewees het as hy alleen gestaan het. Cathcart het trouens die verwagting gekoester dat die twee republieke hulle tot een sterker staat sou verenig. Boere-ideë t.o.v. regringsvorm en staatsinstellinge, van Bantoebeleid, onderwys, en so meer, sou hulle vry kan ontplooi. In Suid-Afrika was daar voortaan Boere-republieke en Britse kolonies

— — — oOo — — —