A.J.H. van der Walt, M.A., D. Phil.
Gedurende die eerste tagtig jaar van die 18de eeu was die hoofrigting in die ontwikkeling van die kolonie die inbesitneming van die binneland. In Kaapstad en op die omliggende platteland is die rustige gang van die lewe maar selde versteur deur gebeurtenisse van meer as gewone betekenis. Dit was op die grense waar in hierdie tyd, in stilte en haas onopgemerk, die grondslae vir ‘n belangrike toekomsontwikkeling deur die veeboer-pionier gelê is.
Veeteelt as byverdienste
Reeds in die 17de eeu het die veeteelt ‘n aantreklike byverdienste vir landbouers gelewer. Die landbouplase was wel betreklik klein, gemiddeld 60 morge, maar tussen hulle was daar gewoonlik ruimte vir gemeenskaplike weiding. Elke boer het dus beeste en skape aangehou, en sommige boere, bv. Henning Hüsing, het aansienlike kuddes besit. Dit was onvermydelik dat sulke boere sou begin uitsien oor die grense na meer en beter weiveld, hierin nog aangespoor deur die vooruitsigte op die avontuurlike en winsgewende jag op wild en deur die beter kanse vir die beoefening van die verbode veeruil, wat hoë winste afgewerp het en vir jong beginners die gerieflikste manier was om ‘n eie veestapel op te bou.
Teen die einde van die eeu moes Simon van der Stel, wat die ideaal van ‘n dig bewoonde en maklik verdedigbare landboukolonie gekoester het, al kla dat die boere die landbou verwaarloos ter wille van die veeteelt. Met verontwaardiging het hy opgemerk dat sommige boere hulle selfs gans en gaar aan die akkerbou onttrek het, om oor die grense met hul vee te gaan lê en ‘n luilekker lewe te rei. Met erns het hy sy seun en opvolger vermaan om hierdie gewoonte, as strydig met die veiligheid van die boere en die belange van die kolonie, met man en mag teë te gaan.
Die oorsake van die ontwikkeling het egter veel dieper gelê as die eenvoudige menslike gemaksug, en aan die drang om die veeboerdery te beoefen, kon nie so maklik paal en perk gestel word nie. Die produksievraagstuk van die 17de eeu het tot die verlede behoort; in sy plek het die veel lastiger afsetvraagstuk gekom. Vir die Kaapse landbouprodukte was daar slegs die plaasllike mak, aangevul deur die behoeftes van besoekende vreemde skepe. Graan wat deur die Kompanjie uitgevoer is, is met teësin ontvang, omdat Soerat en Bengale net so goed en goedkoper kon lewer. Nederland kon in sy behoeftes goedkoper voorsien uit die Oossee-lande, sonder dat die Kompanjie se skepeverkeer lastig geval word met “onpresieuse” goedere.
Die “barre situasie” van ons land t.o.v. die wêreldmarkte het sy invloed voelbaar begin maak. Vir die landbou, gedruk deur betreklik groot behoeftes aan kapitaal en arbeid, was daar weinig ontwikkelingsmoontlikhede. Die belangebotsing tussen amptenare en boere in 1705 het hierdie onsmaaklike waarheid in ‘n helder lig gestel.
Immigrasie beperk
Die bewindhebbers het die voor-die-hand-liggende les daaruit geleer en in 1707 besluit om die gebruiklike tegemoetkoming van vrye oortog nie langer aan nuwe koloniste te verleen nie. Daarmee was die probleem egter nie opgelos nie.Die blote natuurlike aanwas van die koloniste sou dit steeds vererger. Begryplikerwyse het die voorliefde vir die veeboerdery, wat min kapitaal en arbeid vereis en nog goeie winste afgewerp het, eerder gegroei as afgeneem. Veral nadat in 1700 was daar volgens amptelike opgaaflyste 458 volwasse koloniste met ‘n veestapel van 8 300 beeste en 54 000 skape. In die jaar 1710 was die syfers onderskeidelik 656, 20000 en 131 000. As ons nou in aanmerking neem die koloniste, om belastings te ontduik, maar ongeveer een derde van hul ware besit opgegee het, dan word dit duidelik dat hul rykdom aan vee aansienlik was en die aanwas merkwaardig vinnig.
Gebrek aan weiveld
Hoe om vir die groot en nog steeds aangroeiende kuddes groot- en kleinvee genoegsame weiding te vind, het by die begin van die nuwe eeu ‘n dringende vraagstuk vir die boere geword. Die reeds bewoonde dele om Kaapstad, sowel as by Stellenbosch en Drakenstein, was veel geskikter vir landbou as vi veeteelt. Die weiveld was “dun en raar” in die reëntyd, aan die riviere suur en ongesond vir vee en in die somer verskroei. Deur die intensiewe beweiding is die gras in sommige streke vervang deur ruigtes en bossies.
Goewerneur as baanbreker
Die belange van die boere sowel as van die regering, wat nou op die boere staatgemaak het om genoeg vleis te lewer, het ‘n oplossing geëis. Goewerneur Willem Adriaan van der Stel het die vaderlike vermaning in die wind geslaan en self die weg gewys oor die gense heen, waarop volop goeie weiveld beskikbaar was. In 1699, kort ná sy aankoms, het hy op ‘n inspeksiereis gegaan en oor die noordelike grens van die nedersetting die vrugbare Tulbagh-kom binnegegaan. Die skoonheid van die omgewing en die deugdelikheid van die bodem “byde tot het bouwen, en weyden van bestiaal” het hom getref en hy het besluit om aan besitlose koloniste hier grond te ge en die kolonie so mettertyd meer en meer uit te brei. Ooswaarts het hy weldra self as baanbreker opgetree. Sy plaas naby Valsbaai met die aangrensende weilande het tot aan die westelike hange van die berge gestrek, en sy veeposte het daarvandaan nog ver weswaarts gelê, tot waar die berghange plek maak vir aangename valleie.
Tydelike weilisensies
Sedert 1703 is weilisensies aan boere uitgereik om op veeposte buite die grense met hul vee te gaan lê. Die keuse van die weiveld is aan die boere oorgelaat. Die eerste lisensies is uitgereik vir drie maande; later vir ses maande tot selfs ‘n jaar. Behalwe ‘n vae aanduiding van die weigebied, was die vernaamste bepalinge in die lisensie dat die houer niemand anders in sy weiregte lastig mag val nie en dat die lisensie geen aanspraak op permanente besit verleen nie. Dit is duidelik dat hierdie maatreël bedoel was, in die begin altans, nie as ‘n nuwe vorm van grondverlening nie, maar bloot as tydelike maatreël om aan bepaalde tydelike behoeftes van die koloniste te voldoen. Daardeur sou geen grond vervreem word nie. En tog het onder die drang van omstandighede daaruit die leningsplaasstelsel ontwikkel wat, soos later sal blyk, die gewone vorm van grondverlening in die 18de eeu geword het.
Veeposte oorkant die grense
Die eerste veeposte is verkry in die ou bekende jagvelde in die rigting van Groenkloof, aan die Soutrivier (Swartland), by Dassenberg en aan die Bergrivier en Vier-en-twintig Riviere. Ná die vertrek van W.A. van der Stel, wat die gebied oos van die Hottentots-Hollandberge vir homself uitgehou het, het die boere ook daarheen met hul vee getrek. Namate die veestapel toegeneem het, het al hoe meer boere dit noodsaaklik gevind om weg van hul erfplase weiveld te soek.Goeie weiding, standhoudende water en volop wild was die dinge wat die keuse van ‘n veepos bepaal het. So is die veeposte wyd verspreid gekies, aan die hange van berge of by riviere of spruite, fonteine en standhoudende kuile.
Teen 1717 is die voorste veeposte uitgeneem in die Verlore Vallei en aan die Kruisrivier in die noorde; aan die Potteberg, digby die mond van die Breërivier in die ooste, in die vallei van die Breërivier en aan die Olifantsberg naby die Hexrivier.
Aard van nuwe boerdery
Gedurende die eerste 17 jaar van die eeu is op hierdie wyse ‘n aansienlike nuwe gebied onder die gesag van die Kompanjie gebring. Van vaste bewoning van die nuwe gebied was daar egter nog min sprake. Dit was eintlik niks meer nie as die groot gemeenskaplike weiveld van die gevestigde landbouers van die Kaapse distrik en van Stellenbosch en Drakenstein, wat hul vee op die veeposte laat lê het onder toesig van hul opgegroeide seuns, blanke knegte en miskien ook in sommige gevalle van vertroude slawe. Die veepos was inderdaad niks meer as wat sy naam aandui nie: ‘n takkraal vir die vee, met ‘n hut van strooi of takke vir twee of drie veewagters, opgeslaan waar goeie weiveld en water te vinde was. Weliswaar was daar by sommige boere die neiging om die inspannende arbeid en die betrekllik eentonige lewe van die landbouer te verwissel met die minder eisende bedryf van die veeboer en die avontuurlike lewe van die jagter. Daar was reeds sommige mense wat met hul vee begin rondswerf het ter wille van die swerwerslewe. Maar hulle vorm die klein minderheid – in hierdie tyd altans.
Intussen het op die veeposte ‘n klas jong man ontwikkel, vertroud met en gewoond aan die herderslewe, wat heel gemaklik sou oorgaan tot die keuse van die veeboerdery, sonder meer, as lewenstaak. Hierdie ontwikkeling is sedert die jaar 1717 deur ekonomiese verwikkellinge verhaas. Daarmee het die geskiedenis van die uitbreiding van die kolonie ‘n nuwe fase ingetree.
Gevolge van oorproduksie
Die oorproduksie van landbuprodukte het chronies geword. Jaar ná jaar was daar groter oorskotte. Die Kompanjie het dit opgekoop en na Batavia uitgvoer, maar teen verliese. In 1696 kon die bewindhebbers hulle nog troos met die gedagte dat die produkte van “eigen land en Colonie” die voorkeur behoort te geniet bo dié van Bengale en Soerat, maar nou het die vooruitsig op steeds groeiende verliese die koopmansgees van die Kompanjie in verset gebring. Die Here XVII het opdrag gegee om die koloniste “ander en betere middelen van subsistentie aan de hand te geven” wat daartoe kon dien “om de Comp. van de lasten die se jaarliks moet ondergaan met de produkten en gewissen dezes Gouvernement tot een hoge prys aan te neemen, zoveel dienlijk te ontheffen”. Ook moes geprobeer word om die kweek van tabak, sy, indigo en olywe aan te moedig.(1)
(1)Brief van die Kamer van Sewentien, 15 Julie 1718
Uitgee van eiendomsgrond gestaak
Intussen moes ‘n plan gemaak word en reeds die vorige jaar het die Kaapse regering opdrag gekry om voortaan geen grond meer uit te gee vir die verbouing van produkte waarvan die oorvloed ten laste van die Kompanjie gekom het nie. Dit het in die praktyk beteken dat, voorlopig altans, geen eiendomsplaas meer uitgegee is nie. Vir die nuwe kolonis sowel as vir die volwasse seuns van die landbouer wat selfstandig wou gaan boer, was daar niks anders oor nie as om ‘n weilisensie uit te neem en hom in die binneland op ‘n veepos, wat nou leningsplaas word, metterwoon te gaan vestig. Vir die Kaapse regering was daar buitendien in hierdie tyd alle rede om dié proses aan te moedig. Nie alleen het dit ‘n bron geword van landsinkomste sedert 1714, toe ‘n “rekognisie van herereg” van een riksdaalder per maand op alle weilisensie gehef is nie,(2) maar ook die toestand van die vleismark het indieselfde rigting aangespoor. Weens ‘n langdurige sterfte onder skape is die kuddes tussen 1713 en 1718 met amper die helfte verminder. Die daaropvolgende hoë pryse van vleis wat die Kompanjie moes betaal, het die bevordering van die veeteelt en die uitgee van weilisensies of, soos dit nou begin heet, “ordonnansies” op leningsplase allesins wenslik gemaak.
(2)Sedert 1732 verhoog tot 2 rds. per maand
Die trek ooswaarts
Die amptelike opgaaflyste lewer sprekende bewys van die uitwerking van hierdie maatreëls. Terwyl voor 1716 byna al die opgawes nog getuig van gemengde boerdery, is die getal van suiwer veeboere in 1720 reeds 15, en in 1725 al 50. Teen 1735 word die hoë syfer van 122 gesinne bereik. Daarmee het die eintlike verspreiding van die koloniste in die binneland, wat die Kompanjie se gesag in iets meer as ‘n halwe eeu sou dra tot aan die Visrivier in die ooste, begin.
Toe die bal van verspreiding eenmaal aan die rol was, het allerlei omstandighede meegewerk om dit te bevorder. Feitlik die hele eeu was toestande ongunstig vir die landbou, behalwe ‘n paar jaar af en toe wanneer, deur die koms van meer skepe a.g.v. ingernasionale verwikkelinge, die vraag verhoog is. Oor die algemeen was daar vir die nuwe koloniste, sowel as vir die talryke seuns van die landbouers, min vooruitsigte in die landbou. Die aangewese weg vir die man met min kapitaal was om ‘n “ordonnansie” op ‘n leningsplaas uit te neem, die binneland in te trek en veeboer te word. En dit het nie te moeilik gegaan nie. Die seuns van gevestigde koloniste het in die reël by hul mondigwording genoeg vee besit om selfstandig te begin boer. Dit was die gevolg van die goeie ou gewoonte om reeds by die geboorte van die seun vir hom ‘n ooilam of verskalf te merk. Nuwe koloniste met ‘n bietjie kapitaal kom gemaklik ‘n begin maak deur te koop of te ruil, terwyl daar ook nog altyd die geleentheid was om selfstandig te raak deur ‘n jaar of wat as kneg te gaan werk.
Klimaat as faktore
Terwyl ekonomiese toestande in steeds toenemende mate die weg na die veeboerdery aangedui het, het die klimaats- en bodemgesteldheid van die land, die skaarsheid aan reën, gebrek aan volop natuurlike standhoudende water en die skraalheid van die weiding in die meeste dele, die veeboere gedwing om verspreid te gaan woon en steeds dieper die land binne te dring.
Wat so deur die natuurlike aard van die land bepaal is, is verder in die hand gewerk deur die regering se grondpolitiek, wat in die 18de eeu ‘n radikaal nuwe ontwikkeling ondergaan het. Terwyl dit in die 17de eeu vaste gebruik was om grond in ewigdurende eiendom uit te gee, ontwikkel in die 18de eeu die stelsel van leningsplase, d.w.s. die beleid om gebruiksreg op ‘n min of meer vaag bepaalde stuk grond ná betaling van ‘n jaarlikse rekognisie van hereregte aan koloniste toe te staan. Die stelsel het regstreeks ontwikkel uit weilisensies wat soos hierbo aangetoon, uitgegee is om aan bepaalde tydelike behoeftes van die gevestigde landbouers te voldoen. Toe boere hulle permanent op die veeposte begin vestig en nie langer slegs ‘n herdershut of takkraal nie, maar ‘n duursamer opstal daarop gebou het, het hulle dit gedoen om geen ander grond as die gebruiklike weilisensie nie.
Soos vroeër het die lisensie, of ordonnansie, slegs die lokaliteit aangedui en bepaal dat die houer nie iemand anders in sy weiregte mag hinder nie, en dat die vergunning geen aanspraak op voortdurende gebruiksreg verleen nie. Van ‘n afbakening van die terrein of selfs ook maar ‘n beskrywing van die grense was daar geen sprake nie. Wanneer iemand se keuse geval het op ‘n nog ongebruikte stuk grond, dikwels ‘n dagreis of wat van die voorste leningsplase, het hy Kaapstad toe gegaan en ná betaling van 24 riksdaalders ‘n ordonnansie daarop verkry. Die het sy gebuiksreg van ‘n jaar, en daarna solank hy bereid was om sy jaarlikse rekognisie te betaal, verseker. Sy opstal het hy gaan bou op die plek waar dit hom die beste geval het, uit die aard van die saak in die nabyheid van natuurlike standhoudende water.
Grootte en grense van weiplase
Wetlik was daar niks wat die omvang van sy gebruiksreg vasgestel het nie, behalwe die bepaling dat hy niemand anders in sy weiregte mag hinder nie. Dit kon die bron van oneindige buurtwiste geword het, was dit nie dat daar ‘n vaste verstandhouding bestaan het i.v.m. die grense van die weiregte wat, indien nie deur die regering vagestel nie, tog deur hom erken is en so die krag van ‘n wetlike bepaling verkry het. Volgens hierdie gebruik het elke plaas ‘n deursnee van ‘n uit stap oorkruis beslaan. Teoreties was alle leningsplase dus sirkelvorming, met die opstal as middelpunt. Die natuurlike aard van die bodem het egter allerlei afwykinge noodwendig gemaak, sodat die plase in die praktyk allesbehalwe sirkelvormig was. Diesnietemin het dit die grondslag gevorm van die afbakening van weiregte, met redelike inagneming van die natuurlike hoedanighede van die ligging.
Solank die wêreld voor wyd en oop gelê het, was daar geen inspeksie van die aangevraagde grond deur regeringsamptenare nie, behalwe wanneer grensgeskille dit nodig gemaak het. Nadat egter in die jare sewentig deur die Boesmans in die noordooste en die Bantoe in die ooste tydelik paal en perk gestel was aan verdere vooruitskuiwing van die grense, en toe dit derhalwe meer as voorheen nodig geword het om nuwe plase tussen die bestaandes aan te wys, is ‘n gereelde voorafgaande inspeksie van die grond deur die Owerheid gelas.(3)
(3)Dr. P.J. van der Merwe: Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie, Kaapstad, 1938, p.81
Tydgenote van die stelsel wat nie met die plaaslike omstandighede goed vertroud was nie, was die mening toegedaan dat die skynbare onsekerheid van grondbesit onder die leningsplaasstelsel die ekonomiese ontwikkeling in die weg gestaan het. So skryf Van Imhoff,wat die kolonie in 1743 as Kommissaris besoek het, dat die stelsel koloniste belet om soveel vlyt enkoste te bestee aan die grond as wat hulle sougedoen het met hul eie goed. Hy het ‘n plan ontwerp wat die nadele van die leningsplaas moes uitskakel en tog die voordele wat die regering uit die rekognisiegelde getrek, sou behou: 51 ha van elke leningsplaas kon in eiendom uitgegee word, met dien verstande dat die jaarlikse betaling van rekognisie sou voortduur en dat ‘n “moderate erkentnisse” in een som aan die Kompanjie betaal word. Hy het ‘n soort eiendomsleningsplaas beoog. Sestig jaar later was J.A. de Mist, voordat hy die kolonie persoonlik leer ken het, nog dieselfde mening toegedaan. “Het behoeft geen getoog,” so skryf hy in sy Memorie oor die Kaap, “dat een Huisvader zyn eigen erfdeel, het toekomstige estaan zyner kinderen, beter behandeld en bebouwd, dan eens anderen stuk goed,waarvan hy alleen het Dominium Utile heeft en waarvan hy alle dagen kan ontzet worden.”(4)
(4)Memorie van Kommissaris J.A. de Mist, Van Riebeeck-Vereniging, No. 3,Kaapstad, 1920, p.56
Teoreties lyk hierdie redenering onweerlegbaar, maar die waarheid is dat die boere reeds vroeg in die eeu hulle heeltemal versekerd gevoel het in die besit van hul leningsplase. Daar was in 1743 baie min wat gebruik wou maak van Van Imhoff se plan omdeur ‘n klein kontantbetaling eiendoms op die leningsplase te verkry.
Min verskil met eiendomsgrond
Die feit dat die regering in die praktyk nooit die vernuwing van die ordonnansies geweier of dit andersins ingetrek het nie, behalwe wanneer die grond in die algemene belang nodig was, het hierdie gevoel van versekerdheid so laat aangroei dat daar teen die end van die eeu geen onderskeid tussen die eiendoms- en leningsplaas meer gevoel is nie. Vir die boere was die enigste verskil nog dat in die een geval geen rekognisiegld nie, en in die ander dit wel geëis is. Die opvallend geringe vordering van die landbou in die 18de eeu was dus aan heeltemal ander oorsake te wyte, waarvan as belangrikste reeds genoem is die gebrek aan afsetmoontlikhede. Waar en wanneer die geleentheid hom voorgedoen het om landbouprodukte met wins te verkoop, is die verbouing van die land ook op leningsplase met ywer aangepak, soos duidelik blyk uit die ontwikkeling van die Swartland ná 1725.
Die stelsel het ongetwyfeld ‘n groot invloed op die ontwikkeling van die kolonie gehad, maar op heeltemal ander gronde as deur sy destydse kritici aangeneem. Ekonomiese omstandighede en die natuur het gelei tot ‘n gebruik wat weer die vinnige uitbreiding van die kolonie sterk in die hand sou werk. Vir die Kaapse regering, verteenwoordiger van ‘n handelsliggaam oorsee, was die handelsbelange van die groot Kompanjie die eerste oorweging. Die belange van die kolonie en die koloniste was slegs ‘n lastige bysaak. Van planmatigheid by die ontwikkeling van die land was daar weinig sprake, allermins in die 18de eeu. Aan die grond in die binneland, in daardie tyd alleen geskik vir weiding, is geringe waarde geheg. Daarom is nooit aan ‘n vaste patroon by die uitgee van grond gedink nie. Aan boere is ordonnansies op nuwe leningsplase uitgereik wanneer en waar hulle dit begeer het – in die meeste gevalle sonder dat die amptenaar in Kaapstad die geringste kennis van die lokaliteit gedra het.
Voordele van leenplase
Dit was vir die ondernemende boer veral aanloklik om grond aan te vra ver voor die bestaande plase. Met die betaling van slegs 24 riksdaalders per jaar kon hy dan ongehinderd die omliggende weiveld gebruik ver buite die grense van die eintlike toegekende gebied, en sonder ekstra betaling van paggelde die groot kuddes vee opbou wat so dikwels die aandag van reisigers getrek het. Agter die voorste leningsplase het groot stukke grond onuigegee bly lê.
Die skrywer van die Memorie over De Kaap de Goede Hoop teken die verskynsel baie duidelik: “Zulk een leeningsplaats besloeg een uur velds over ‘t kruis; maar vermits alle de fonteinen en beekjes aan dien oord dikwils geënclareerd werden in twee diergelyke plaatsen,op een afstand van 3of 4 uuren van elkander gelegen,terwyl het veldbestek daartussen onvoorzien was van drinkwater, waarom geen derde er zich op kon neerslaan, zoo was het niets zeldzaam te zien dat twee boeren tezamen, of een boer, wanneer hy de beide plaatsen in leening had, alleen gebruik maakte van wel 5 of 6 uuren velds voor de twee uuren welke hem stricht genomen toekwam.”(5)
(5)Theal, Belangrike Historische Dokumenten, Deel III, p.48
Die nuwe intrekker het boonop alle rede gehad om by die uitsoek van ‘n plaas hom nie alte na aan ander te waag nie, aangesien hy maklik in buurtwiste en gregtelike prosesse kon geraak, wat inderdaad dikwels voorgekom het. Daarby kom nog dat ordonnansies met groot kwistigheid uitgereik is. Baie boere het twee plase, sommige drie tot vyf en meer, in gebruik gehad. Die gemak waarmee nuwe ordonnansies uitgevaardig is, het origens daartoe aanleiding gegee dat boere op die gerug van die ontdekking van nuwe en beter weiveld eenvoudig hul plase verlaat het ná afloop van die jaartermyn, om oor die grense nuwe grond in gebruiksreg te neem. So het dit gekom dat die gebied wat in die 18de eeu onder die gesag van die Kompanjie gebring is, buite alle verhouding tot die aanwas van die kolonistetal groot was.
Topografie bepaal uitbreiding
Die rigtinge wat die trek na die binneland gevolg het, en die dele wat ten gevolge daarvan bewoon is, is bepaal deur die bodem- en klimaatsgesteldheid. Die westelike en suidelike kusstroke word deur bergreekse van die hoër liggende steppeland van die Klein en Groot Karoo en van die groot sentrale hoogvlakte geskei. Langs die weskus vorm die strook grond ‘n laagvlakte met alleenstaande heuwels; langs die suidkus vertoon dit meer die karakter van ‘n lae platogrond, dikwels in rivierdale en rûens verdeel. In die bergland word komme en lang valleie gevind, geskik vir bewoning en verkeer, soos dié van die Olifantsrivier, die Tulbagh-kom en die vallei van die Breërivier. In die berge word ook dwarsdale gevind, maar hulle is ongunstig vir die verkeer. Soms breek ‘n rivier deur ‘n diep, nou poort deur die berge; elders lei ‘n steil kloof omhoog na ‘n moeilike pas. Êrens egter word ‘n mooi natuullike roete na die binneland aangetref nie. Om met waens oor hierdie brge te gaan, was moeilik en tydrowend. Die koloniste het daarom aanvanklik plase uitgeneem langs die berge in die westelike en suidelike kusstrook. In albei rigtinge was die vordering snel.
In die noordweste het koloniste reeds in 1725 die vrugbare dal van die Olifantsrivier in besit geneem, terwyl vyf jaar later die voorstes hul opstalle gebou het naby die sameloop van die Olifants- en Doringrivier. Ooswaarts het di trek bestendig koers gehou suid van die Langeberge. Teen 1724 word die eerste plase uitgeneem oor die Breërivier, teen 1730 oor die Groot Brakrivier. In dieselfde tyd word plase uitgeneem in die Breëriviervallei tot naby die huidige Robertson, sowel as langs die Hexrivier op tot aan die berge.
Berge word oorgesteek
Ongeveer gelyktydig – d.w.s. kort voor 1730 – het albei hoofgroepe gestuit op ernstige natuurlike hindernisse: in die noordwese ‘n droë, sandrige wêreld met min water, wat boonop brak was; in die ooste ‘n dig begroeide boswêreld, wat verdere voortgang vir veeboere moeilik gemaak het. Langs die hele linie het enkele koloniste daarom or die berge begin trek met hul vee, om in die noordweste plase uit te neem in die Warm en die Koue Bokkeveld, terwyl meer suidwaarts veeweiders oor Kogmanskloof gegaan en enkele p lase oos daarvan uitgeneem het.
Die trek oor die berge het egter nie algemeen geword voor die jare veertig nie. Suid en wes van die bergkettings was daar nog baie ruimte, en die minder avontuurlustiges het geaarsel om die haas ondeurdringbare berge tussen hulle en die regerings- en kerklike hoofkwartiere te stel. Toe goewerneur-generaal Van Imhoff as Kommissaris in 1743 die kolonie besoek het, was daar hoogstens twintig plase oorkant die berge uitgegee. Tog was hy verbaas oor die uitgestrektheid van die kolonie, terwyl nog so veel grond ongebruik bly lê het. Van Imhoff was nie alleen ‘n bekwame amptenaar nie, maar het ookg edurende sy kort verblyf aan die Kaap meer as gewone aandag aan die belange van die kolonie as sodanig en aan die koloniste gewy.
Daar was teen hierdie tyd reeds sowat 400 leningsplase, sommige drie tot vier dagreise van die naaste drosdy en kerk verwyder. Om die abnormale uitbreiding teë te gaan en ‘n beter bebouing van die plase te bevoder, het Van Imhoff toe aanbeveel dat 51 ha van elke leningsplaas om versoek van die leenbouer in eiendom geneem moes word, maar slegs enkele boere het van die aanbod gebruik gemaak. Van meer betekenis was sy aansporing om die nuwe gebiede van meer kerklike en bestuursgeriewe te voorsien.
Sting van Tulbagh
As gevolg van sy bemoeiinge is in 1743 ‘n kerk gestig ind ie Land van Waveren op die terrein van die huidig dorp Tulbagh, met ds. Arnoldus Maurits Meiring as eerste predikant. Dit was die gerieflikste plek van samekoms vi die boere van Riebeek-Kasteel, die Land van Waveren, die Warm Bokkeveld en die vallei lang die boloop van die Breërivier en die Hexrivier.
In 1745 is ‘n kerk gestig in die Swartland om hierdie graanstreek te bedien, met ds. Rutger Andries Weerman as eerste predikant.
Swellendam
Intussen is ‘n begin gemaak met die inrigting van ‘n nuwe drosdy. Die onmiddellike aanleiding daartoe was die bevel van Van Imhoff om uit die twee ruitery-afdelings van die Stellenbosse landmilisie ‘n derde te vorm, bestaande uit die dienspligtige inwoners oos van die Hottentots-Hollandberge, omdat die halfjaarlikse milisie-oefening op Stellenbosch vir die verder wonende burgers ‘n drukkende las geword het. Op 12 November 1743 het die regering die opdrag uitgevoer en as oefenplek ‘n plaas aan die Kliprivier aangewys. Terselfdertyd is besluit om ‘n onder-landdros en vier heemrade aan te stel wat, onder toesig van die bestuur van Stellenbosch, vir die goeie bestuur en die regspleging in hierdie gebied sou sorg. Twee jaar later is die nuwe drosdy onthef van die toesig van Stellenbosch, en in 1748 is daaraan die naam Swellendam toegeken.
Grensreëling van 1745
In 1745 is die grensskeiding tussen die twee buitedistrikte, of “colonies”, en die omvang van die jurisdiksie van die twee distriksbesture bepaal. As grens tussen die twee distrikte sou geld ‘n reguit lyn van Zoetendaalsvallei aan die suidkus na die Tygerhoek in die Hottentots-Hollandberge; daarvandaan verder ooswaarts na die Breërivier en Kogmanskloof, en dan weer noordwaarts tot aan die Hexrivier.
Onder Stellenbosch het verder geval die Land van Waveren, Vier-en-twintig Riviere, die Warm en die Koue Bokkeveld en Onder Bokkeveld noord van die Doringrivier. Die res van die deur blankes bewoonde gebied is toegewys aan Swellendam, met die Groot Brakrivier as oosgrens.
Verspreiding duur voort
Die begrensing van die distrikte het op die verspreidingsdrang van die koloniste weinig invloed uitgeoefen. In die noorde het nog in die jare veertig verskeie veeboere hul weg gevind oor die droë Karooveld tussen die Bokkeveld- en die Roggeveldberge, aan die noordelike hange waarvan hulle hul gevestig het. Hulle het daar ‘n wêreld begroei met kort, aromatiese bossies en gras gevind, besonder geskik as weiveld vir skape. Die meeste plase is uitgeneem aan die hange en in die valleie aan die voet van die berge, waar standhoudende water voorhande was, sodat die nedersetting, selfs teen die einde van die eeu, ‘n smal strook langs die berge gevorm het. Veeposte is egter uitgeneem tot aan die Sakrivier en die Klein Rietrivier. Vanaf omstreeks 1760 is plase uitgeneem vrder ooswaarts langs die Nuweveldberge, en teen 1770 het die voorposte die Sneeuberge bereik, nadat enige boere reeds teen 1768 die Kamdebo binnegetrek het, waar hulle weldra aangetref is deur die voorposte van Swellendam.
Hoewel die trek van die Stellenbossers hoofsaaklik ooswaarts gegaan het langs die berge, het klein groepies koloniste hulle in hierdie tyd in die noordweste gevestig. Die plaas Akerendam, die terrein van die huidige dorp Calvinia, is reeds in 1750 bewoon, en enige jare daarna is plase uitgeneem tot aan die Hantamberge. Ander groepies het hulle gevestig langs die Kobeberge in die rigting van Kubiskow, terwyl sommige boere hulle teen 1760 aan die Kamiesberge gevestig het.
Tussen die jare 1745 en 1770 is derhalwe uitgestrekte nuwe gebiede onder die gesag van Stellenbosch gebring. Tussen die bewoonde gebied langs die berge en Swellendam het die Groot Karoo gelê, Hierdie uitgestrekte, dorre landstreek, met sy geringe reënval en min oppervlakte-water, is in dié tyd nie permanent bewoon nie, maar is soms gebruik deur die boere van die Koue Bokkeveld en die Roggeveld as winterweiding of “legplaatsen”, waarvoor geen rekognisie geëis is nie.
Ooswaartse uitbreiding
Net soos die boere van Stellenbosch, het die Swellendammers hulle ná 1745 onverpoos ooswaarts beweeg. Die meeste plase is uitgeneem in die Klein Karoo tussen die Lange- en Swartberge. Teen 1765 strek die voorposte tot aan die Gamtoosrivier en word plase reeds verder ooswaats uitgeneem. ‘n Klein groepie het ook in die jare sestig plase langs die noordelike hange van die Swartberge uitgeneem. Van hier, sowel as uit die meer suidelike dele, het koloniste kort voor 1770 noordooswaarts getrek en hulle onder die Stellenbossers in die Kamdebo gevestig.
Regering raak besorg
Tot op hierdie tyd het die regering in Kaapstad weinig meer aandag geskenk aan die verspreiding van die veeboere as wat die blote bestuurlike roetine vereis het. Verskeie omstandighede het egter nou meegewerk om die aandag te vestig op die ongewenste uitwerking van die abnormale uitbreiding van die kolonie. Die eerste man wat die aandag gevestig het op die ernstige misstande, was J.W. Cloppenburg, wat in 1761 as fiskaal-independent aangestel en in 1766 tot sekunde bevorder is. Cloppenburg het ‘n besondere belangstelling in die kolonie aan die Kaap getoon, omdat hy oortuig was van die betekenis van dié besitting vir die behoud en die welvaart van die Kompanjie. Voor sy vertrek uit Nederland het hy sy bes gedoen om die bewindhebbers te beweeg om die Kaap tot “Wapenplaats voor geheel Indiën” te maak. Hy moes egter ondervind hoe ‘n “societeit die alleen maar op de winst ziet”, geneig was om kolonies te verwaarloos. Nadat hy sewe jaar aan die Kaap gewerk het, was hy meer as ooit daarvan oortuig “dat by het behoud of missen van dien de Kompanjie staan of vallen moet”.
Cloppenburg se verslag
In 1768 het Cloppenburg ‘n reis onderneem deur die Swellendamse distrik tot in Houteniquasland (Outeniekwa). Op sy terugreis het hy ook die naderby geleë dele van Stellenbosch besoek, die Breëriviervallei, die Land van Waveren, Vier-en-twintig Riviere tot by Piekenierskloof, en so terug oor St. Helenabaai na Kaapstad. Wat hy gesien het, het hom ontstel. Aangesien die Kompanjie te suinig was om vir die behoorlike verdediging van die strategies so belangrike kolonie te sorg, was dit uiters gewens dat die inwoners die plig sou aanvaar. Alleen op ‘n kundige, godvrugtige en ordelike burgery sou in noodgevalle gereken kan word. Hy vind daarenteen ‘n groot “verwildering van godsdienst, van obedientie en gevolgellijk van een goed gedrag onder de tegenwoordige geslagten” in die deel van Swellendam wat hy besoek het. By die Drosdy het hy by ‘n krygsoefening met elf “volkomen manspersonen” wat geen perde besit het nie, gesels. Tot sy ontsteltenis moes hy ontdek dat, hoewel nege van hulle reeds getroud was, almal behalwe een nie lidmate van die kerk was nie. In die Outenikwa het hy onder die houtkappers ‘n slordige huishouding en ander voorbeelde van ontaarding aangetref.
Die gebied wat Cloppenburg besoek het, was betreklik beperk. Van die koloniste oor die groot bergreekse het hy geen kennis besit nie. En in die kolonie was geen amptenaar wat deur persoonlike ondersoek sy waarneminge kon aanvul nie. Buitendien het die skerp getekende skadukante van die grensboerelewe, soos duidelik blyk uit die voorbeelde wat hy aanhaal en waarop hy sy gevolgtrekkinge oor die toestande van die hele binnelandse bevolking baseer, so ‘n diepe indruk op hom gemaak dat hy die normale uit die oog verloor het. Sy gevolgtrekkinge moes dus skeef of ten minste sterk oordrewe gewees het. Maar ongetwyfeld was dit tot sekere hoogte waar. Die grondoorsaak van die misstande het hy gesien in die oormatige verspreiding van die veeboere en die afwesigheid van “genoegsame dorpen, buurschappen en gehugten” waar die koloniste godsdienstig, opvoedkundig en geregtelik bedien kon word.
Om die verdere verspreiding van die koloniste teë tegaan, doen hy aan die hand dat in die toekoms geen nuwe plase meer uitgegee moes word nie, sodat die armer landslui noodgedwonge by hul ryker bure in diens sou moet tree.Om meer arbeidsgeleentheid vir blankes te skep, is die slawe-invoer beperk en die Hottentotte na die Kompanjiesposte gelook, waar geskenke van tabak en arak hulle die lus ontneem het om by die boere in diens te tree!(6)
(6)Vgl. A.J.H. van der Walt: Die Ausdebnung der Kolonie am Kap der Guten Hoffnung, p.70 en verder
Die voorstelle van die sekunde het, sover nagegaan kan word, geen praktiese uitwerking gehad nie. Maar sy verslag het ongetwyfeld daartoe meegewerk om die regering se aandag te vestig op wat aan die grense aan die gang was.
Nuwe grensskeiding van 1770
In November 1769 het die Politieke Raad besluit om ‘n kommissie, bestaande uit die landdroste van Stellenbosch en Swellendam en twee heemrade van elke distrik, met die distriksekretarisse, opdrag te gee om ‘n nuwe grensskeiding te bepaal en terselfdertyd ondersoek in te stel “offer onder de nieuw aangelegde veeplaatsen ook enige mogten zyn, wie bewoning om derzelve afgelegenheyd zouden kunnen werden geoordeelt niet raadzaam te zyn”.
Op aanbeveling van die kommissie het die regering besluit dat die nuwe grensskeiding tussen die twee distrikte, ter aansluiting by dié van 1745, sou loop vanaf die sogenaamde. straat van die Hexrivier met die Swartberge ooswaarts tot by die oorsprong van die Gamtoosrivier, wat tot aan die see die oosgrens van Swellendam sou vorm. Aan boere van Stellenbosch sou verder plase uitgegee mag word langs die Boesmansberge tot aan Bruintjieshoogte, wat die oosgrens van hierdie distrik sou uitmaak, terwyl die noordgrens onbepaald bly.
Uit die verslag van die kommissie het die Raad tot sy groot ontstigting verneem dat tussen die Gamtoos- en die Visrivier verskeie boere met aansienlike troppe beeste aangetref is, wat, sonder om daarlangs plase te besit, met hul vee dagreise van hul leningsplase heen en weer geswerf het. Hierdie “baatsugtige gedoente”, waaraan veral die Swellendammers skuldig was, is hoofsaaklik beoefen met die oogmerk om van die Hottentotte en Kaffers vee te ruil – iets wat deur verskeie plakkate verbied was. Om die kwaad nou eenmaal met wortel en tak uit te roei, het die landdros van Swellendam opdrag gekry om stiptelik toe te sien dat niemand hom oorkant die Gamtoos sou vestig nie, en om elkeen wat daar aangetref word, so gou moontlik te verwyder. Persone wat hulle oor die grense begewe om ‘n swerwende lewe te lei, moes gestraf word met die verbeurdverklaring van al hul besittinge.
Die heersende onkunde van die landsbestuur t.o.v. die grensgebied het ‘n doelmatige toepassing van die besluite moeilik gemaak. Kort ná 1770 is al weer plase oor die Gamtoosrivier uitgegee; maar die meeste koloniste uit albei distrikte, op soek na nuwe plase, het die voorkeur gegee aan die gebied agter Bruintjieshoogte wat, volgens Sparrman, nie net een van die mooiste dele van die land was wat hy besoek het nie, maar ook goed was vir veeteelt en landbou en besonder ryk aan wild. Toe die landdroste hulle gelas om binne die koloniale grense terug te keer, het hierdie boere ‘n versoekskrif tot die regering gerig om hulle toe te laat om te bly woon waar hulle was, nie alleen omdat die landstreek so goed was nie, maar ook omdat terugkeer hulle in armoede sou dompel. Ook het hulle om die aanstelling van ‘n veldkommandant gevra om kleiner buurtwiste te besleg en toe te sien dat persone wat hulle aan die verbode veeruil skuldig maak, voobeeldig gestraf sou word. Ná raadpleging met die landdroste en heemrade het die regering in 1775 besluit om die twee distrikte nogmaals uit te brei, Stellenbosch tot aan die Visrivier en Swellendam tot aan die Boesmansrivier.
Van Plettenberg se reis
Die gebeurtenisse sedert 1769, die neiging tot rondswerwery van sommige grensboere en rooftogte van die Boesmans in die noordooste het die aandag van die regering gevestig op die probleem van die verafgeleë grensgebiede. In 1778 is ‘n versoekskrif van Jan Kruger, Jan Adriaan Venter, Adriaan van Jaarsveld en ‘n dertigtal ander gesinshoofde, almal woonagtig naby die oosgrens, wat ‘n ernstige bede bevat het om ‘n landdros en predikant, voor die Politieke Raad gelê. Goewerneur Van Plettenberg het hierop besluit om persoonlik die toestande te gaan ondersoek. Vergesel van ‘n paar amptenare, het hy in September 1778 Kaapstad verlaat en deur die Groot Karoo na die Kamdebo gereis. Van daar is hy oor die Sneeuberge, waar hy kennis gemaak het met die benarde toestande van die deur Boesmans geteisterde landstreek, en so noordooswaarts tot aan die Seekoeirivier, waar hy, naby die huidige dorp Colesberg, ‘n baken opgerig het met die monogram van die Kompanjie. Op sy terugreis het hy ‘n besoek gebring aan die ou stoere ollifantjagter Willem Prinsloo, die pionier van Agter-Bruintjieshoogte, wat sedert 1771 aan die Klein Visrivier op die terrein van die huidige dorp Somerset-Oos gewoon het. Ná ‘n tweedaagse verblyf is die reis voortgesit na Algoabaai en van daar weswaarts deur die Swellendamse distrik. In November 1779, ‘n jaar en twee maande ná sy vetrek, het Van Plettenberg met sy geselskap behoue in Kaapstad teruggekeer.
Visrivier die oosgrens, 1780
Afgesien van die waarde van die persoonlike kennis wat die Boewerneur opgedoen het van die toestande aan die noordoos- en oosgrens, is hierdie reis en sy gevolge veral van betekenis deur die vasstelling van die oosgrens en die stigting van die drosdy Graaff-Reinet ‘n paar jaar later. Op die plaas van Willem Prinsloo en op sy reis meer suidwaarts het Van Plettenberg die kleiner Kafferkapteins, wat reeds wes van die Visrivier gewoon het, ontmoet en met hulle ooreengekom dat die Visrivier die skeiding tussen die kolonie en Kafferland sou vorm. Hierdie ooreenkoms is op 14 November 1780 deur die Politieke Raad bekragtig, met die besluit dat die Visrivier die grens sou wees langs sy hele benedeloop. Hierdeur is aan die kolonie toegevoeg die streek toentertyd algemeen bekend as die Suurveld.
Die Goewerneur het ook die boere van die Sneeuberge en van die oosgrens ontmoet en hul griewe en wense aangehoor. Die vernaamste en algemene versoek was om ‘n landdros en predikant, aangesien ‘n reis na Roodezand of Stellenbosch dikwels ‘n maand geduur het. Prakties, so het hulle beweer, was die geregshof van Stellenbosch vir hulle onbereikbaar, en om dieselfde rede kon hulle die kerkdienste op Roodezand nie bywoon nie, terwyl die “frisse jeugd” opgegroei het sonder behoorllike onderrig.
As buitengewoon drukkend is veral beskou die jaarlikse krygsoefeninge op Stellenbosch, omdat gesinne en vee gedurende hul afwesigheid onbeskerm en aan gevaar blootgestel was. Lang afstande is as geen verskoning aanvaar nie. By afwesigheid sonder grondige rede is die bugers swaar beboet, wat by die heersende geldskaarste tot allerlei ongewenste uitvlugte aanleiding gegee het. Boonop was daar die vraagstuk van die Boesmans in die noordooste en die voorposte van die Kôsas oorkant en deuskant die Visrivier.
Graaff-Reinet gestig, 1786
Die goewerneur het besef dat die grenswêreld ‘n gebied was met sy eie vraagstukke, wat die beste behartig sou kon word deur ‘n plaaslike bestuur met kennis van sake. Hy het met simpatie geluister na die klagtes en versoeke, en belowe om die stigting van ‘n drosdy en kerk gunstig aan te beveel by die Here XVII in Nederland. Ná sy terugkeer in Kaapstad het hy sy belofte gestand gedoen, maar die bewindhebbers het gesloer tot 1785 voordat die nodige besluit geneem is. Die jaar daarop is begin met die inrigting van ‘n drosdy, met Herman Otto Woeke as eerste landdros.
Die noordelike grens van die nuwe distrik, waaraan die naam Graaff-Reinet gegee is, is nie vasgestel nie. In die weste sou dit begrens word deur die Klein Leeurivier, die Gamkarivier, die noordellike hange van die Swartberge en die Gamtoosrivier, in die ooste deur die Tarka-, die Baviaans- en die Visrivier.
Bantoes stuit ooswaartse uitbreiding
Met die bepaling van die oosgrens in 1780 het aan die rustelose verspreiding van die veeboere en die gevolglike uitbreiding van die kolonie in die 18de eeu ‘n einde gekom. Dit het nie soseer gebeur omdat die grense vasgestel is nie, maar omdat die verspreide voorposte van die blankes aan die Visrivier gestoot het teen ‘n ander immigrantestroom uit die noordooste, die Bantoe, kragtig saamgebind in hul stamorganisasie, krygvaardig, veetelers en landbouers wat, net soos die blanke koloniste, groot waarde aan grond geheg het. Hulle het ‘n doelmatige hindernis in die weg van verdere uitbreiding ooswaarts gevorm; inderdaad het die boere van die dun bevolkte grensgebied van die Suurveld in die 18de eeu hul hande vol gehad om die indringing van die Bantoe te verhinder.
Deur die stigting van die drosdy Graaff-Reinet in 1786 kon die grensvraagstuk onder die beheer van een regeringskollege ter plaatse gebring word. Dié kon die regering se beleid van nie-uitbreiding met doelmatigheid uitvoer. Weliswaar het boere in tye van groot droogte, soos in 1786 en 1792, die Visrivier tydelik oorgetrek, en in 1794 is aan die Goewerneur gemeld dat 28 gesinne hulle oorkant die rivier gevestig het, maar van betekenis vir die uitbreiding van die kolonie was dit nie. Tot diep in die 19de eeu het die regering en die Bantoes saam daarin geslaag om die verspreiding van blankes oor die Visrivier te verhinder.(7) In die noordweste en noorde het die droë en onherbergsame natuur verdere uitbreiding in hierdie tyd verhinder.
(7)Vgl. P.J. van der Merwe: Die Trekker in die Geskiedenis van die Kaapkolonie, pp.162-166
Tussen die woestynagtige streke in die noordweste en die sterk, goed georganiseerde Bantoestamme in die ooste was daar nog ‘n smal strook oor die Sneeuberge na die Oranjerivier geskik vir verdere uitbreiding. Hierdie strook was redelik goed voorsien van water en weiveld, veral vir kleinvee, maar hier het die Boesmans in die weg gestaan.
Hottentot-stamstelsel verbrokkel
Tot omstreeks 1770 het die inboorlinge weinig invloed uitgeoefen op die trek van die veeboere na die binneland. Die veehoudende nomade, die Hottentotte, met wie die Europeane in Suid-Afrika eerste in aanraking gekom het, was vreedsaam van geaardheid en nooit talryk nie. Die pokke-epidemie van 1713, wat die lewe van talryke blankes geëis het, het groot verwoesting onder die Hottentotte, wat higiënies op ‘n veel laer trap van ontwikkeling geleef het, aangerig. Valentyn, wat in 1714 die Kaap besoek het, skryf dat hulle by die honderde weggesterf het, “zodat zij over al de wegen als verslagen lagen”.
Deur die vlug van die Hottentotte na die binneland is die siekte ook oorgedra op die verder wonende stamme, wat swaar daaronder gely het. Die Hottentotte, in getalle sterk verminder, het die voortrekkende veeboere eerder verwelkom as teëgegaan, omdat hulle versot was op die geskenke van tabak en sterk drank, in ruil vir klein diensprestasies, en in die koloniste hul beskermers teen die gemeenskaplike vyand, die Boesmans, gesien het. Die Hottentotte het, volgens Mentzel, verkies om naby die witman te woon.(8)
(8)Mentzel, Description of the Cape, I, p.36
Boesmans
Die Boesmans, wat weens hul afsondering blykbaar die uitwerking van die verskillende pokke-epidemies vrygespring het, was derhalwe die enigste hindernis van die koloniste op hul weg na die binneland. Hierdie klein geboude, ligvoetige ras het nie gesaai of geplant en geen vee aangehou nie. Hulle het geleef van wild, wat hulle met gifpyle neergetrek het, en van veldkos. Hulle was, in die woorde van Sparrman, geswore vyande van herderslewe en het hulle daarom die grenslose vyandskap van die Hottentotte op die hals gehaal, wat sommige in slawerny gebring en ander soos wilde diere gejag en uitgeroei het.(9)
(9)Sparrman, p.188
Betrekkinge tussen die Bantoes en die Boesmans was niks beter nie. Die vyandskap tussen Kôsa en Boesman, so verklaar Lichtenstein, het geen grense geken nie. Die Boesmans is deur die Bantoes beskou as roofdiere wat van die aardbodem verdelg moes word. Veral ná veerowery het die Kôsas hulle agtervolg, hulle dikwels in hul skuilhoeke opgesoek en soos wilde diere afgemaak – almal voor die voet, mans, vrouens en kinders.(10)
(10):Lichtenstein, I, V.R.V., 10, p.340
Redes vir Boesmans se vyandskap
Tussen die steeds voortdringende blanke veeboere en die Boesmans het om dieselfde redes geleidelik ‘n bittere vyandskap ontstaan, wat eindelik uitgeloop het op ‘n vergeldingstryd. Die lewenswyse van die Boesmans het ‘n weinig stabiele bestaan verseker. In die onherbergsame gebied wat hulle bewoon het, was plantevoedsel nie volop nie. Wild was daar genoeg, maar die jagterslewe is wisselvallig en die wapens waaroor hulle beskik het, het nie te veel moontlikhede gebied nie. Tye van droogte, wanneer die veldkoks feitlik verdwyn en wild skaars word, het ‘n chroniese noodtoestand veroorsaak. Om aan honger en ellen te ontkom, het roof en plunder dan wesenlik ‘n deel van hul bestaan geword, met die onvermydelike weerwraak van die beroofdes.
Daar was nog ‘n tweede oorsaak vir die vyandskap.Vir die Boesman was die gedagte aan partikuliere grondbesit vreemd, maar elke jagbende het wel sy eie jaggebied gehad en daaraan waarde geheg. Daarin was veral fonteine en ander standhoudende water, die drinkplekke van die wild, waardevol. Die veeboer was, sonder dat hy dit self vermoed het, ‘n oortreder ind ie oë van die Boesmans; en veral toe die besef posgevat het dat die boere die Boesmans van hul beste jagvelde vir goed beroof het, het dit gelei tot allerlei poginge om die indringers terug te dwing. Dit verklaar die dikwels skynbaar sinlose wreedheid van die Boesmans. Hulle het veewagters nie net vermoor nie, maar soms met weersinwekkende wreedheid doodgemartel. Gesteelde vee is mishandel en op die vlug dikwels vermink wanneer die Boesmans deur die eienaar ingehaal lis. Soms is veewagters vermoor en hele kuddes skape en beeste doodgesteek, sonder enige gedagte om dit as voedsel te gebruik.(11)
(11)Lichtenstein, I, V.R.V., 10, pp.63 en 144. Vgl. Ook P.J. van der Merwe: Die Noordwaartse Beweging van die Boere voor die Groot Trek, pp.59-60, et passim
Sedert die begin van die eeu het die veeboere op hul trek na die binneland las van die Boesmans gehad. Tye van ernstige roofaanvalle soos in 1715, 1731, 1738 en 1754 is afgewissel deur lang tussenposes van betreklike rus en vrede. In hierdie tye het die Boesmans die lewe van die grensboer dikwels versuur, hom gedurig gedwing om op sy pos te wees terverdediging van lewe en besittings, hom dikwels gevoelige skade berokken en hom soms gedwing om sy plaas tydelik te verlaat, en so die uitbreiding van die kolonie hier en daar vertraag, sonder om egter ‘n erstige struikelblok te vorm.
Toe die boere teen 1770 die suidelike rand vand ie sentrale hoogland beset, en daarmee die grens van die eintlike Boesmanwêreld bereik het, het die moeilikhede in alle erns begin en gedurende die res van die eeu feitlik onafgbroke voortgeduur. Veral in die Nuweveld en die Sneeuberge moes die boere dit ontgeld. In die jare tagtig is hulle uit die Nuweveld teruggedryf; en tot 1793 het hierdie gebied so goed as onbewoon gelê, terwyl suidwaarts die Koup tot agter Hexrivier en aan die Swartberge geteister is.
Die boere van die Sneeuberge het hulle beter verweer en hoewel hulle dikwels verplig was om hul plase te verlaat, het hulle steeds teruggekeer na die vrugbare landstreek met sy uitstekende weiveld vir skape en sy volop water. Dit het egter moed en taaie volharding gekos om hierdie waardevolle landstreek vir die kolonie in die 18de eeu te bewaar. “An inhabitant of Sneeuberg,” skryf die reisiger Barrow, “has not only the continual apprehension of losing his property, but he lives in a state of perpetual personal danger. Should he depart to the distance of five hundred yards from his house, he is under the necessity of carrying a musquet. He can neither plough, nor sow, nor reap, without his arms. If he would gather a few greens in the garden, he must take his gun in his hand. To bear a life of such constant dread and anciety a man must be accustomed to it from his infancy, or unacquainted with the one that is better.”(12)
(12)John Barrow: Travels into the Interior of Southern Africa, Vol. I, Second Edition, London, 1806, p.203
Nietemin is rampspoedige verliese gely. Volgens ‘n berekening van landdros Woeke is in die distrik Graaff-Reinet in die twee en ‘n half jaar tussen 1 Julie 1786 en 31 Desember 1788, 107 veewagters vermoor en 99 perde, 6 299 beeste en 17 970 stuks kleinvee geroof of gedood.(13)
(13)P.J. van der Merwe: Die Noordwaartse Beweging van die Boere voor die Groot Trek, p.16
Gedurende die laaste dertig jaar van die eeu het ‘n bloedige guerrilla-oorlog vol haat en bitterheid ontwikkel. Die Boesmans het geen kans laat verbygaan om vee te roof of te vernietig, plaashuise af te brand, en boere en veewagters te vermoor nie. Die boere het die Boesmans wat hulle onder skoot kon kry, doodgeskiet; kommando’s is so dikwels as moontlik op die been gebring en in 1777 het die regering ‘n vergeldingsoorlog goedgekeur. Maar die uiterste inspanning van die dun bevolkte grensdistrik was skaars voldoende om die reeds besette gebied in die noorde en noordooste te behou. Van verdere uitbreiding in dié rigting kon daar weinig sprake wees. Wel het groepies boere die vrugbare Tarka, oos van die Sneeuberg, ingetrek en in di rigting van die Renosterberg en die Seekoeirivier deurgebring, sodat teen die einde van die 18de eeu ‘n wyk “Renosterg en Seekoeirivier” bestaan het. Maar dit was slegs ‘n vlottende bevolking van trekboere, wat dikwels dur die Boesmans teruggedrywe is. Die werklike besetting van hierdie streke kon nie voor die begin van die 19de eeu aangepak word nie.(14)
(14)Ibid, pp.23-24
Toestande in Kolonie omstreeks 1780
Met die voorlopige afsluiting van die territoriale u itbreiding omstreeks 1780 het ‘n belangrike ontwikkelingsfase in die geskiedenis van die Kaapkolonie onder Nederlandse bestuur ten einde geloop – ‘n tydperk hoofsaaklik van rustige ontwikkeling, waarin die dramatiese van vroeër en later tye ontbreek, maar wat as vormingstyd in die geskiedenis van die Boerevolk van die grootste betekenis is.
In die 80 jaar wat verloop het sedert die eerste veeboere hul kuddes oor die grense begin stuur het op soek na nuwe weiveld, is die grenspale van die kolonie weer en weer verplant, totdat hulle gestaan het aan die Visrivier in die ooste en die Buffelsrivier in die noordweste, onderskeidelik 800 en 480 km van die hoofstad en enigste belangrike stedelike sentrum. In hierdie uitgestrekte wêreld het minder as 20 000 blankes gewoon. Afgesien van die betreklik geringe aantal amptenare en ander dorpsgewoners, het ongeveer die helfte van hulle as landbouers in die Kaapse distrik en in die omgewing van Stellenbosch geboer, terwyl die ander helfte as veeboere in die afgeleë wyke van Stellenbosch en in die distrikte Swellendam en Graaff-Reinet ‘n bestaan gevind het.
Landbouers
Die landbouers het in hierdie tyd ‘n min bewoë en, ondanks die beperkte afsetgebied vir hul produkte, betreklik ruime lewensbestaan gevind. Hul huise was goed gebou; terieflik en soms deftig gemeubileer. In die stoflike behoeftes van hul gesinne, wat, met die dikwels talryke slawe en ander bediendes, soms die honderdtal bereik het, is voorsien uit die opbrengs van die plase. Ook wat hulle, howel geld nooit volop was nie, in staat om die nodige landbougereedskap, boustowwe, huisraad, tekstielware en eenvoudige weelde-artikels soos koffie, tee en suiker aan te koop. Daarby het hulle die voordele geniet van ‘n gereelde, hoewel heel eenvoudige laer onderwys en behoorlike godsdiensversorging. Eenvoudig, vriendelik en godsdienstig was die hereboere sowel as die kleinboere onder die landbouers bekend om hul selfstandige lewenshouding en onbeperkte gasvryheid.
Veeboere
Die veeboere, die nederige instrumente van die groot historiese taak om die land vir die blanke beskawing in besit te neem, het ‘n veel minder ruime lewensbestaan geniet. Oor die algemeen ryk aan groot kuddes klein- en grootvee, het hulle tog maar geringe geldelike voordele daaruit getrek; en hierom sowel as deur die moeilikhede wat groot afstande meegebring het, is hulle tot ‘n betreklik primitiewe lewenswyse gedwing. Hul huise was, selfs in die ouer gevestigde streke, eenvoudig, klein en ongerieflik. Gewoonlik het so ‘n huis bestaan uit drie of vier vertrekke, met vensters sonder glas, en kleivloere; terwyl in die grensgebiede hutte van een of twee vertrekke met lae kleimure en ‘n grasdak oor ruwe houtlatte eerder reël as uitsondering was.
Ver verwyder van die geriewe wat Kaapstad gebied het, het die veboere geleer om hulself te help en staat te maak op eie vernuf by die vervaardiging van meubels en klere e.a. lewensbenodigdhede. Wild- en skaapvleis, met melk, het die hoofdis gevorm, aangevul met die onsekere resultate van hul min of meer geslaagde pogings om graan en groente te kweek, waar hul lewenswyse en die klimaat en bodem dit toegelaat het.
Ontberinge
Onderwysgeriewe was nagenoeg heeltemal afwesig en beskikbaar slegs in die vorm van lesse gegee deur rondtrekkende “meesters” wat vir ‘n paar maande gehuur is. Voor die stigting van Graaff-Reinet was die naaste kerk vir die meederheid van die veeweiders Roodezand – vir die meeste prakties onbereikbaar, behalwe af en toe, hoogstens een maal per jaar, wanneer botter en boereseep na Kaapstad gebring en die ordonnansie op die leningsplaas vernuwe is. Baie boere in die verder geleëgebiede het trouens in geen jare die hoofstad besoek nie. Die vernuwing van die ordonnansie is eenvoudig links laat lê of opgedra aan ‘n vriend of aan persone wat dit onderneem het teen ‘n geringe vergoeding.
Hoeseer die ouer koloniste die onderrig, vermaning en troos, verbond aan die herderlike bearbeiding, gemis het, word bewys deur ‘n smeekbrief van vooraanstaande inwoners van die Kamdebo in 1778, wat kla dat die jeug opgroei soos die stomme vee, dat van die oueres ontaard sonder die Christelike bestraffing en dat almal die troos van die bediening van die Heilige Avondmaal moet mis. Ernstige waarnemers het inderdaad gevrees dat die toestand tot algehele ontaarding en verwildering moes lei.
Gelukkig was dit ‘n ongegronde vrees. Danksy hul kragtige rassetrots en die skerp skeidslyn wat getrek is tussen Christen en heiden, wat gaandeweg sinoniem geword het met blank en gekleurd, kon hulle hul ook sedelik teenoor die inboorlinge handhaaf en hul bloed suiwer bewaar.
Die Calvinistiese geloofsopvatting, wat die priesterskap van elke Christen en veral van die huisvader vooropstel, het die gemis aan kerklike versorging in sy gevolge minder ernstig gemaak. Elke gesin het ten minste benewens ‘n paar van die ou bkende predikasieboeke, ‘n Bybel en Psalmboek besit, waarmee gereeld huisgodsdiens gehou is. En elke vader het dit sy dure plig geag om sy opgroeiende kinders ten minste te leer of te laat leer lees, ten einde hierdie plig te kan nakom. Op dié manier is algehele ongeletterdheid tot groot hoogte teengewerk.
Karakter van die grensboere
Analfabete was ‘n uitsondering onder hierdie eenvoudige grensbewoners, in ‘n tyd toe hulle in baie Europese lande nog ‘n aanmerklike persentasie van die bevolking gevorm het. Op sy reis in 1779 het goewerneur Van Plettenbergdie koloniste van die Sneeuberge “meestal zedig en redelyk welonderleid” gevind. Sommige buitelandse besoekers, soos die bevooroordeelde en vyandiggesinde John Barrow, wat die taal van die grensboere nie verstaan het en hul lewensomstandighede nie kon begryp nie, het ‘n donker prent voorgehou van hul karakter en lewenswyse. Hulle is van luiheid, onsinderlikheid, wreedheid en dergelike ondeugde beskuldig.
Latere en meer onbevooroordeelde waarnemers was in staat om agter die ruwe uiterlik die inwendige beskawing en gaafheid van die veeboer-pionier raak te sien. So verdedig dr. Heinrich Lilchtenstein, ‘n Duitse geleerde wat die binneland tydens die Bataafse bestuur bereis het, die Afrikaanse boere tee die “skreiende onreg” wat Barrow, wat soveel gasvryheid van hulle ondervind het, hulle aangedoen het. Agter die ruwe uiterlik het hy ‘n beskawing gevind wat die Europese besoeker so diep in die binneland nie verwag het nie. Kol. Collins, Thomas Pringle en Andrew Steedman stem almal saam met Lichtenstein en roem die menseliewendheid, opregtheid, openhartigheid, gasvryheid en godsdienssin van die grensbewoners.
Elke seun in die grensdistrikte het feitlik met die geweer in die hand opgegroei en het so van kleins af geleer om sy persoon en die familiebesit te help verdedig. Van meer betekenis is nog dat die veeboere byna van die begin van die 18de eeu af op eie kragte aangewese was in hul verdediging teen die Boesmans en later teen die Bantoes. So het die kommandostelsel by uitstek in ‘n nasionale instelling ontwikkel. Die regering het weliswaar die organisasie van kommando’s gelas of goedgekeur en die kruit en lood voorsien, en die landdroste het die verkose veldwagmeesters en veldkommandante bevestig in hul ampte, maar origens was die burgers geheel en al aangewese op eie inisiatief en vernuf. Dit was ‘n militêre oefenskool van groot betekenis.
Grondslag van Afrikanerdom gelê
Die 18de-eeuse verspreiding van die veeboere, wat amper ‘n verstrooiing genoem kan word, het die geharde Afrikaanse baanbreker gevorm – ‘n mens met weinig behoeftes en met die selfstandigheid en die handigheid om daarin self grotendels te voorsien uit die betreklik skrale materiaal wat die bodem hom gebied het; opgewasse teen die harde eise en velerlei gevare en ontberinge van die pionierslewe. Dit het daarby die binnelandbewoner fisiek en psigologies mobiel gemaak; en in hierdie mobielmaking lê opgesluit die noodwendige voorwaarde vir die moontlikheid van die latere groot volksbeweging na die noorde.
Van ewe veel, indien nie groter betekenis nie, is die feit dat in hierdie tyd die heterogene elemente van die Boerevolk saamgebind is tot ‘n nuwe nasionale lewenseenheid met die ontluikende bewussyn van sy nasionale apartheid, en ‘n eie spreektaal wat merkwaardig min afwykinge toon in die verskillende dele van die land – ‘n feit wat getuig van die essensiële eenheid van landbouers en veeweiders, ondanks die uiterlike verskille, en van die veelvuldige kontakte wat, ondanks die lang afstande, moet bestaan het.
Eindlik is in hierdie tyd ontwikkel ‘n eie ideologie t.o.v. die behoorllike verhouding tussen Christen en heiden; blank en gekleurd, wat, saam met sy godsdiens, en inderdaad eng daaraan verbonde, geword het tot een van die vaste hoekstene van die lewensopvatting van die Afrikaner.
— — — oOo — — —