GVSA Die Bondgenootskap tussen Nasionalisme en Arbeid 1924-1933 

D.W. Kruger, M.A., D. Litt

Die Bondgenootskap: Nasionalisme en Arbeid

Hoewel die samewerking van Hertzog en Creswell slegs ‘n verkiesigsooreenkoms en geen koalisie van partye was nie, het Hertzog tog besluit om dit in ‘n permanenter vorm te giet en die Arbeiders ‘n aandeel in die Regering te gee, te meer omdat hulle in ‘n magsposisie was en enige Nasionale bewind van hul steun afhanklik was. Daarom het Hertzog by die samesteling van sy Kabinet portefeuljes gegee aan Creswell (Minister van Verdediging en Arbeid), Tommy Boydell (Minister van Poswese) en later ook aan Walter Madeley. Van sy vernaamste ander ministers was die belangste die leier van die Nasionale Party in Kaapland, dr. D.F. Malan (Minister van Buitelandse Sake en Onderwys), N.C. Havenga (Finansies) en die Transvaalse leier, Tielman Roos (Justisie).

Nuwe Regering se taak

Getrou aan sy ooreenkoms met Creswell het Hertzog geen stappe gedoen in die rigting van afskeiding van die Britse Ryk nie, maar tog was dit een van die vernaamste oogmerke van sy Regering om die grondwetlike verhouding tussen die Unie en Groot-Brittanje in die reine te bring. Hy was met niks minder tevrede nie as die staatsregtelike gelykheid van die Unie met Brittanje en die ander dominiums.

‘n Tweede groot doelstelling was die oplossing van die Bantoevraagstuk en die derde die beveiliging van blanke arbeid, wat veral by Hertzog se Arbeidersbondgenote swaar getel het. Een ding het vas gestaan: die Arbeiders was vir die eerste keer in die geskiedenis in ‘n posisie om wetgewing aangeneem te kry wat die blanke loonarbeiders in die besonder begunstig het.

Aard van die bondgenootskap

Oppervlakkig gesien, het die Kabinet twee verskillende elemente in die Suid-Afrikaanse politiek verteenwoordig. Smuts het daarna verwys as ‘n “onheilige alliansie”. Dit het gelyk na ‘n bondgenootskap van Afrikaanse konserwatisme en Britse radikale sosialisme. Tog was hierdie samewerking heeltemal natuurlik, want albei elemente in die Regering wou blanke belange beveilig en die blanke arbeider in sy bevoorregte posisie handhaaf.

Albei was oortuig van die noodsaaklikheid van gestimuleerde nywerheidsontwikkeling wat per slot van rekening die arbeiders sowel as die boere sou bevoordeel. Albei was gekant teen kapitalistiese oorheersing en die oorwegende invloed van die mynbelange wat hul wortels in die buiteland gehad het. Die Nasionaliste het die kapitaliste bowendien gesien as mense wat hulle vir die belange van die Britse Ryk beywer het. Daar was gevolglik ‘n ruim veld vir vrugbare samewerking.

Eerste Regeringsmaatreëls

Die nuwe Regering was in een opsig baie gelukkig en dit was die algemene ekonomiese herlewing wat kort ná sy bewindsaanvaarding sy volle draagkrag laat geld het. Hierdie herlewing is verder gestimuleer deur die fiskale maatreëls van die Regering wat deur ‘n beskermingsbeleid die nywerheidsontwikkeling in die hand gewerk het. Origens het die landbou en die handel geblou en die algemene voorspoed van die land was opvallend.

Dit was asof ‘n nuwe gees geheers het. Die arbeiders het vertroue in die Regering gehad en die Afrikaners het al hul verwagtinge in Hertzog gestel. Die algemene voorspoed is weerspieël in die begrotingsoorskotte van die volgende vyf jaar. Vir die eerste keer in geruime tyd was daar geen tekorte nie en die Minister van Finansies was selfs in staat om die uitgeputte pensioen- e.a. fondse te herstel.

Die Minister van Landbou, genl. J.C.G.Kemp, het ‘n stelselmatige veldtog teen sprinkane en brandsiekte, wat sedert dag en jaar ‘n nasionale plaag was, begin en ‘n einde daaraan gemaak. Die Minister van Spoorweë het ‘n groot taak gehad om die rollende materiaal en veral die lokomotiewe te vervang. Hierdie groot vernuwing van die verkeer is in die volgende paar jaar met welslae voltooi.

Van betekenis was ook die stigting van die Departement van Arbeid in ooreenstemming met die behoeftes van die tyd en as ‘n erkenning van die rol van die arbeider. ‘n Belangrike maatreël wat in 1925 op die wetboek geplaas is, was die Loonwet. Dit het voorsiening gemaak vir minimumlone in die nywerheid en ‘n permanente Loonraad is in die lewe geroep om van tyd tot tyd lone te ondersoek en aanbevelings daaroor te doen.

In 1925 het die Unie ná ‘n ondersoek deur ‘n buitelandse komitee van deskundiges na die goudstandaard teruggekeer. ‘n Tak van die Koninklike Munt is in Pretoria geopen en die Unie het sy eie munte begin slaan.

Dr. Malan en tweetaligheid

Die handhawing van tweetaligheid in die staatsdiens was ‘n saak waarvoor die Nasionale Party hom lank beywer het. As Minister van Binnelandse Sake was dit dr. Malan se taak om tweetaligheid as beleid uit te voer. ‘n Nuwe Staatsdienskommissie is benoem en sleutelposte in die Departement van Landbou en van Onderwys is met Afrikaanssprekendes gevul. In byna alle departement is tweetaligheid as ‘n vereiste gestel.

Hoewel dr. Malan oortuig was dat hy in die gees van artikel 137 van die Grondwet opgetree het, het die Opposisie volgehou dat daardie artikel tweetaligheid in die staatsdiens nie verplig het nie. Volgens die Opposisie het dit slegs beteken dat die gebruik van enigeen van die ampstale toelaatbaar was. Dr. Malan het voet by stuk gehou en vakante poste is geleidelik deur tweetalige Afrikaners gevul. In Maart 1925 was daar egter nog 3 800 uit ‘n totaal van 13 000 amptenare wat net Engels gepraat het. Langsamerhand het die kritiek verflou en het die teenstandeers die posisie aanvaar.

Afrikaanse word ampstaal

Een van die belangrikste maatreëls wat dr. Malan in 1925 deur die Parlement geloods het, was die erkenning van Afrikaans naas Nederlands as een van die ampstale. ‘n Gekose komitee van albei huise het eenparig gerapporteer dat Afrikaans voldoende ontwikkel het om as ‘n administratiewe en wetlike medium te dien. In Kaapland, Transvaal en in die Vrystaat is dit sedert 1914 op skool en universiteite gebruik en daar was ook met die vordering van die Tweede Taalbeweging ‘n gestadige stroom van publikasies in Afrikaan. As literêre taal het die al hoe meer tot sy reg gekom en vir amptelike gebruik het dit in alle opsigte geskik geword.

Toe dr. Malan die nodige wysiging van die Grondwet in die Parlement voorstel, het hy een van sy baie groot toesprake gehou. Hy is gesteun deur Engelssprekende lede en sy voorstel is eenparig aanvaar. Die erkenning van Afrikaans as landstaal was ‘n mylpaal in die geskiedenis en dit het vir die Afrikaanse kultuurbeweging baie beteken. Die taal is daarmee met ‘n nuwe status beklee.

Die Afrikaanse Bybel

Nie alleen in staatsake nie, maar in die kerklewe het Afrikaans in hierdie jare tot sy reg gekom. Aanvanklik wou die voorstanders van Nederlands nie weet van Afrikaans as kanseltaal of van ‘n vertaling van die Bybel in Afrikaans nie, maar met die toenemende gebruik van die taal as skryftaal, het Afrikaans as kanseltaal ook spontaan veld gewin en het die begeerte vir ‘n Afrikaanse Bybel gegroei.

Groot vooruitgang is reeds gemaak deur die spelling te regulariseer en in 1915 het die Suid-Afrikaanse Akademie sy eerste spelreëls gepubliseer. Sedert 1920 was dit algemeen in gebuik en die voorstanders van Nederlands as skryftaal het geleidelik die pleit gewonne gegee.

Teen 1919 het die Afrikaanse Kerke hulle amptelik verbind tot ‘n Afrikaanse Bybelvertaling en is die volgende gesamentlike kommissie van teoloë, bygestaan deur taalkundiges, benoem:dr. J.D. Kestell, dr. H.C.M. Fourie en proff. J.D. du Toit, E.E. van Rooyen en B.B. Keet. Teen 1923 is die werk in alle erns aangepak en in die jare twintig tot groot hoogte afgehandel.

Die Kleurslagboomwet

In 1926 is die Wet op Myne en Bedrywe van 1911 so gewysig dat bevoegdheidsertifikate vir geskoolde werk slegs aan blankes of Kaapse Kleurlinge uitgereik kon word. Met hierdie maatreël is beoog om aan b lanke arbeid die wetlike beskerming te verleen wat hom deur die hofbeslissing van 1923 ontneem  is. Die maatreël, die sg. Kleurslagboomwet, is vir die eerste keer in 1925 ingedien, maar bitter bestry deur die Opposisie wat die meerderheid in die Senaat gehad het. Slegs nadat die Regering sy toevlug tot ‘n gesamentlike sitting van albei huise geneem het, is die maatreël op die wetboek geplaas.

In die algemeen het die Regering ‘n beskermingsbeleide teenoor blanke arbeid toegepas. Om werkloosheid te verminder, en op aandrang van die Arbeidersparty, is werkkolonies gestig. Nie almal was ‘n sukses nie. Origens is ongeskoolde Bantoe-arbeiders van die Spoorweë op groot skaal deur blanke werkers vervang. Die getal blanke werkers in die nywerheid het aansienlik vermeerder, nl. van 46 000 in 1916-17 tot 80 000 in 1926-27.

Die Senaatswet

Die stryd om die Kleurslagboomwet het ‘n belangrike grondwetlike gevolg gehad. Die praktyk het geleer dat ‘n senaat wat nog onder ‘n vorige bewind saamgestel is, ‘n regering se werksaamhede onnodig kon vertraag of selfs ‘n dooie punt veroorsaak. Daar was weinig twyfel dat die S.A. Party sy opposisie-meerderheid in die Senaat gebruik het om die Regering te verhinder om die belangrike wetgewing deur te voer. Die Regering het gemeen dit beteken dat die “dooie hand van die verlede” in werklikheid beheer uitoefen.

In 1926 is die Grondwet gewysig om voorsiening te maak vir die ontbinding van die Senaat binne drie maande ná ‘n algemene verkiesing en die samestelling van ‘n nuwe Hoërhuis. Dit sou toekomstige botsings uit die weg ruim, maar tot die volgende verkiesing moes die Ooreenkoms- of Pakt-Regering nog steeds met die teenstand van die Senaat reken.

Die Yster- en Staalwet

Daardie teenstand het hom vir die laaste keer laat geld toe die Regering ‘n wetsontwerp ingedien het om voorsiening te maak vir die oprigting van ‘n staal- en ysterfabriek by Pretoria. By gebrek aan genoeg private inisiatief is hierdie onderneming as noodsaaklik beskou. Met onbeperkte ystererts- en steenkoolneerslae voorhande, kon ‘n nuwe, lewensbelangrike nywerheid gevestig word. Die staat, wat die grootste deel van die kapitaal voorsien het, sou ‘n meerderheid in die direksie hê.

Die Arbeidersparty het die onderneming om begryplike redes geesdriftig gesteun, maar hoewel die Opposisie die maatreël aanvanklik goedgesind was, het hy dit later sterk teengestaan. Dit is gekitiseer as ‘n sosialistiese proefneming wat bowendien die invoer van yster en staal uit Brittanje sou benadeel. Die Senaat het die maatreël verwerp. Eers in die derde lesing in ‘n gesamentlike sitting van albei Huise kon die Regering in 1928 die nodige meerderheid kry. Kort daarna is met die oprigting van die fabriek by Pretoria begin. Sedertdien is die staalbedryf van die allergrootste betekenis vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Diamante word ontdek

‘n Deel van die armer en werklose blankes het ‘n tydelike heenkome gevind op die spoeldelwerye in die omgewing van Lichtenburg, waar groot diamantneerslae gevind is. Baie boere het hul plase verlaat en duisende ander mense het daarheen verhuis en tydelike wonings ingerig. Min het ryk geword en baie het ternouernood ‘n leeftog gevind. Binne enkele jare was die meeste kleims uitgeput en moes die delwers elders ‘n heenkome vind. Sommige het hulle na die nywerheidsgebiede begeerf. Daar het hul kinders ten minste ‘n beter toekoms gehad. Baie mense is op die staat aangewys en die armblanke-probleem het ernstiger geword.

Die nuus dat diamante in Wes-Transvaal ontdek is, was nog nie koud nie, toe opspraakwekkende nuwe ontdekkings in Noordwes-Kaapland naby die mond van die Oranje gemaak is. Die man wat die eerste diamante ontdek het, was Willliam Carstens. Hy en sy seuns het ‘n paar myl suid van Port Nolloth op die diamante afgekom. Die bekende geoloog dr Hans Merensky het reeds lank volgehou dat daar by die mond van die Oranje diamante moet wees. Ná Carstens se ontdekking het hy sy teorie op die proef gaan stel. In 1927 het hy duisende diamante gevind by Alexanderbaai, waar dit op die oppervlakte gelê het.

Die Regering het besef dat die grootskeepse ontwikkeling van spoeldelwerye die hele bedryf sou ontwrig. Prospekteerdery in die omgewing is onmiddellik belet en die staat het die mineraleregte oorgeneem. Deur ‘n spesiale wet is ‘n staatsdelwery in Namakwaland gestig en voortaan het die staat self daar diamante ontgin en bemark. Dit was die enigste manier om die mark te beheer.

Suidwes-Afrika

Een van die eerste take van die Regering was om die posisie van Suidwes-Afrika, wat reeds vyf jaar lank ‘n Unie-mandaat was, in oënskou te neem. Die mandaat van die Volkerebond het slegs daarvoor voorsiening gemaak dat die gebied as ‘n integrerende deel van die Unie bestuur sou word met die verpligting om die inheemse inwoners te b eskerm en jaarliks aan die Mandaat-kommissie van die Volkerebond verslag te doen.

In 1919 was daar 200 000 inboorlinge en 15 000 Duitsers, van wie die helfte na Duitsland teruggekeer hete. Sedert 1921 is die gebied bestuur deu ‘n Administrateur, wat deur die Unie-regering benoem en deur ‘n genomineerde Raad van Advies bygestaan is. Gedurende die eerste vyf jaar het die blanke bevolking stadigaan vermeerder, hoofsaaklik deur immigrasie uit die Unie. Die nuwe nedersetters was nie met die regeringstelsel tevrede nie. In 1923 het Smuts met Duitsland ooreengekom dat Duitse burgers in die gebied Bitse onderdane word en Duits as ‘n amptelike taal en onderwysmedium erken word. Die bestuursvom is onveranderd gelaat. Die Hertzog-regering het die ooreenkoms nagekom en selfs uitgebrei.

In 1924 het Duitse burgers Britse onderdane geword, tensy hulle uitdruklik Duitse burgerskap verkies het. Hul kinders is in hul moedertaal onderrig en die gebruik van Duits is in die wetgewende liggaam toegelaat, hoewel die ampstale Afrikaans en Engels was.

‘n Wetgewende Raad het die Raad van Advies vervang. Dit het bestaan uit ses genoemde lede en 12 lede wat deur stemgeregtigde blanke inwoners gekies is. Die magte van die Wetgewende Raad is omskryf. Die meeste Duitse onderdane het die nuwe voorwaardes aanvaar.

Die Angola-boere

In 1928 is die blanke bevolking van Suidwes versterk deur die toevoeging van ‘n aantal Afrikaanse boere, die nageslag van die oorspronklike Trekkers uit Transvaal na Portugees-Wes-Afrika. Hulle het geen toekoms in Angola gesien nie en die oorgrote meerderheid van hulle is met staatshulp na die noordelike deel van Suidwes gebring. Dit het daartoe bygedra dat die blanke bevolking toe ook oorwegend Afrikaanssprekend geword het. Ná aanvanklike swaarkry het die Angolatrekkers geleidelik op die been gekom, meestal as beesboere op grond wat die Administrasie beskikbaar gestel het.

Die Indiër-vraagstuk

Een van die lastige vraagstukke vir die Nasionale Regering was die posisie van die Indiërgemeenskap in die Unie. Die ooreenkoms tussen Smuts en Gandhi het die saak nie opgelos nie, want dit het nie tot die kern van die probleem gegaan nie. Die Indiërs was ontevrede en die blankes het volgehou met ‘n agitasie teen Indiër-mededinging op handelsgebied.

Die vraagstuk was ‘n belangrike strydpunt in die verkiesing van 1924 en byna oral is die blote aanwesigheid van die Indiërs in Suid-Afrika as ongewens beskou. Kwaai druk is op die Regering uitgeoefen om sy leiers se verkiesingsbeloftes gestand te doen. Dr. D.F. Malan moes die saak hanteer.

In 1924 het die Natalse Provinsiale Raad die munisipale stemreg vir Indiërs afgeskaf en Indiërs het hoegenaamd geen burgerregte besit nie. Onder die Smuts-bewind het ‘n kommissie ‘n plan van vrywillige repatriasie aanbeveel, maar dit was geen sukses nie en die Smuts-regering het ‘n klassewyk wetsontwerp voorberei wat vir verpligte handels- en woongebiedskeiding voorsiening gemaak het.

Hierdie maatreël is in 1925 en weer in 1926 deur dr. Malan by die Parlement ingedien, tot groot misnoeë van die Indiërs, wat hulle nie wou laat segregeer nie,. Ook die regering van Indië het protes aangeteken en ná onderhandelinge het die Suid-Afrikaanse regering hom bereid verklaar om met ‘n afvaardiging uit Indië oor die hele saak samesprekinge te voer. In Januarie 1927 het die twee partye in Kaapstad ooreengekom dat die wetsontwerp teruggetrek sou word. Die Indiese afvaardiging het namens sy regering erken dat die blanke bevolking die reg besit om ‘n Westerse lewenspeil te handhaaf.

Daar is ook ooreengekom dat die Unieregering meer tot die repatriasieplan sou bydra en dat die Indiese regering die repatriasie sou aanmoedig. Voortaan sou Indië deur ‘n agent-generaal in die Unie verteenwoordig word. Deur die Kaapstadse ooreenkoms het die betrekkinge tussen die Unie en Indië aansienlik verbeter, maar die Indiërprobleem is nie opgelos nie. ‘n Aantal Indiërs het wel na Indië teruggekeer, maar die ander het die agitasie om regte hervat.

Hertzog en die Bantoeprobleem

Een van genl. Hertzog se verklaarde oogmerke van die oplossing van die Bantoevraagstuk langs die weg van rasseskeiding. Met die oog daarop het hy jare lank ‘n studie van die probleem gemaak en het hy, soos gesien, die wetgewing van 1913 insake grondverdeling voorberei. Op 13 November 1925 het hy op Smithfield sy beleid t.o.v. die Bantoes en die Kaapse Kleurlinge breedvoerig uiteengesit.

Hy het daarop gewys dat die Bantoe in Kaapland reeds die stemreg besit en aanspraak maak oop dieselfde regte en voorregte as die blanke oor die hele Ubnie. Die ander provinsies kon egter nie aan dié eis toegee nie, want dit sou die ondergang van die blanke beskawing meebring. Selfs in Kaapland sou die Bantoekiesers oor vyftig jaar die meerderheid hê.

Aan die eis van die Bantoes om politieke regte sou toegegee moet word, maar dan slegs langs die weg van bevolkingskeiding. Enige voorstel vir ‘n oplossing van die vraagstuk sou vir twee-derdes van die volk aanneemlik moet wees. As oplossing het hy voorgestel dat meer grond vir die Bantoes beskikbaar gestel word en dat hulle opgelei word om binne hul eie gebiede hul eie sake te behartig.

Hertzog wou ook hê dat plaaslike en algemene Bantoerade gestig en ‘n jaarlikse Bantoeraad vir die hele Unie ingestel word. Dit sou volgens hom die Bantoes leer om hulself te regeer. Pleks van stemreg in Kaapland, moes die Bantoes ‘n ander soort verteenwoordiging in die Parlement kry en wel deur sewe blankes vir die belange van die Bantoes van die hele Unie.

Die Kaapse Kleurlinge staan nader aan die witman, ken slegs die Europese beskawing en kan nie gesegregeer word nie, het genl. Hertzog gesê. Dit is die Nasionale Party se beleid dat die Kleurling ekonomies, industrieel en politiek naas die blanke opgeneem word. Ook in die noordelike provinsies behoort die Kleurlinge die reg van verteenwoordiging te kry.

Hertzog se rassewetsontwerpe

In 1926 het Hertzog vier verskillende wetsontwerpe by die Parlement ingedien. Die eerste het gehandel oor die Kleurlinge. Hy het voorgestel dat die politieke regte wat hulle in Kaapland geniet het, ook na die ander provinsies uitgebrei word. Die tweede wetsontwerp het die afskaffing van die Kaapse Bantoestemreg op die gemeenskaplike kieserslys beoog. Pleks daarvan sou die Bantoes oor die hele Unie die reg kry om deur hul hoofde, kapteins en rade sewe blanke lede vir die Volksraad en vier vir die Senaat te kies.

Die derde wetsontwerp het voorsiening gemaak vir ‘n Bantoeraad wat op dieselfde manier gekies en origens deur genoemde lede aangevul sou word. Al die lede daarvan sou Bantoes wees en die raad sou die reg hê om ordonnansies oor Bantoesake te maak. Die vierde wetsontwerp het met die vraagstuk van grondvoorsiening te doen gehad. Daardeur sou verdere gebiede vir die uitsluitende besit en bewoning deur Bantoes oopgestel word, soos bepaal deur die Naturellegrond-Wet van 1913.

Die publikasie van die wetsontwerpe het vir die erste keer die omvang en betekenis van die vraagstuk van rassebetrekkinge in Suid-Afrika onder die aandag van die volk gebring. Partypolitieke verhoudinge in en buite die parlement het ‘n objektiewe benadering van die vraagstuk egter feitlik onmoontlik gemaak. Dit was veral belangrik omdat die Grondwet ‘n tweederde-meerderheid vir die aanneem van die voorgestelde wetgewing in die Parlement vereis het.

Dit kon slegs gebeur met die steun van die Opposisie en daartoe was Smuts en sy party nie bereid nie. Die Kaapse liberale flank van die S.A. Party was vasbeslote om tot die einde te veg om die ou Kaapse kiesstelsel te behou en die invloed van hierdie mense was sterk genoeg om die konserwatiewe Smuts in dieselfde rigting te dwing. Hy kon nie bekostig om sy liberale ondersteuners te vervreem nie. Maar hy het hom voorgeneem om te volhard. Toe hy hulle in 1927 weer indien, is hulle na ‘n gekose komitee verwys wat in Februarie 1929 verslag gedoen het.

Dié partypolitieke verskille is egter ook daarin weerspieël en hoewel Hertzog sy voorstelle gewysig het, kon hy geen tweederde-meerderheid kry nie. Smuts se voorstel om die hele saak na ‘n nasionale konvensie te verwys, is deur Hertzog verwerp, aangesien Smuts self in 1909 oortuig geraak het dat so ‘n liggaam die probleem nie kon oplos nie. Dit het immers vasgestaan dat ook ‘n nasionale konvensie bloot die bestaande partypolitieke verskille oor die probleem sou weerspieël. Hertzog het nou besluit om sy gewysigde voorstelle ‘n verkiesignspunt te maak in die hoop dat hy eindelik die nodige tweederde-meerderheid sou kry.

Die Rykskonferensie van 1926

Intussen was Hertzog ook besig om sy ander groot oogmerk na te strewe: die staatsregtelike vrywording van die Unie. Die sluitsteen vir die staatsregtelike gelykheid van die Unie met Brittanje was vir Hertzog die reg van afskeiding. Met onafhanklikheid het hy dit nie noodwendig in republikeinse sin bedoel nie, hoewel baie van sy volgelinge republikeine was. Hy het wel met Creswell oreengekom dat die Regering hom nie vir afskeiding van die Britse Ryk sou beywer nie, maar dit het nog nie beteken dat hy nie die reg van afskeiding voorgehou het nie.

Die hoër status wat Smuts in 1919 verkondig het, was vir Hertzog onaanneemlik omdat dit nie die posisie formeel opgeklaar het nie en volgens hom ook nie wetlik bindend was nie. Oor die algemeen het die Unie se lidmaatskap van die Volkerebond en sy verteenwoordigers se ondertekening van die verdrag van Versailles die Nasionaliste nie tevrede gestel nie. Hulle het die Unie as nog steeds ondergeskik aan Brittanje beskou.

In Maart 1926 het Hertzog in ‘n toespraak op Stellenbosch verklaar dat die Unie en Brittanje gelyke status moes hêen dat daardie gelykheid formeel aan die hele wêreld bekend gemaak moes word. Vir dié doel het hy in Oktober 1926 die Rykskonferensie in Londen bygewoon.

Die grondwetlike vraagstuk is verwys na ‘n komitee wat uit die premiers van die Unie, Kanada, Nieu-Seeland, Australië en Newfoundland, verteenwoordigers van Ierland en Indië, en die Britse ministers van buitelandse sake en die dominiums bestaan het. Lord Balfour was die voorsitter. Die komitee het tot die slotsom gekom dat die Britse Ryk geen grondwet het nie, maar dat die staatsregtelike posisie aangaande Brittanje en die dominiums wel formeel vasgestel kon word. ‘n Verklaring is opgestel en deur die volle konferensie onderskryf.

Dit het later bekend geword as die Balfour-verklaring en het gelui: “Hulle (Brittanje en die dominiums) is outonome gemeenskappe binne die Britse ryk, gelyk in status, op generlei wyse in enige aspek van hul binne of buitelandse sak die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hulle gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik verenig as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.”

Hoewel die Balfour-verklaring geen nuwe posisie geskep het nie, maar slegs die oue opgeklaar het, was dit tog ‘n triomf vir Hertzog, want dit was die eerste formele stap in die staatsregtelike ontwikkeling van die Gemenebes. Al wat oorgebly het, was om dit verder wetlik vas te lê en prakties uit te leef. Dit het veral gegeld wat betref die Koning se titel, die posisie van die goewerneur-generaal, die wetgewende soewereiniteit van die Parlement, die afskaffing van die appèlreg na die Geheime Raad, asook enige moontlike beperking op die uitvoerende gesag.

Die konferensie het al die orige punte na ‘n komitee van deskundiges verwys. Intussen is Hertzog deur sy ondersteuners in die Unie verwelkom as die vader van die vryheid, hoewel daar ‘n invloedryke minderheid was wat nie gediend was met die nuwe onafhanklike status wat hy verkondig het nie. Hulle was die republikeinse groep in die Nasionale Party, en sedertdien het hulle hul vertroue in die Generaal begin verloor. Dit het gelei tot ‘n herlewing van die republikeinse gedagte.

Verdere stappe

Die Balfour-verklaring het eers wetlike status verkry toe die Britse parlement in 1931 die Statuut van Westminister aangeneem het. Dit het die Colonial Laws Validity Act van 1865 herroep t.o.v. die dominiums en hulle bevry van enige beheer oor hul wetgewende bevoegdheid.

Intussen het Hertzog stappe gedoen om die onafhanklikheid van die Unie verder uit te leef. In 1927 het hy ‘n departement van buitelandse sake in die lewe geroep en gesante na Nederland, Italië en die Verenigde State benoem. Sedert 1930 was die goewerneur-generaal slegs die persoonlike verteenwoordiger van die Koning en is hy benoem op voordrag van die Unie-regering. Die Britse regering is deur ‘n hoë kommissaris verteenwoordig.

Die stryd om ‘n eie vlag

Reeds voor sy vertrek na die Rykskonferensie in 1926 het Hertzog in die Volksraad voorgestel dat die Unie sy eie nasionale vlag behoort te hê wat moes dien as die uitwendige simbool van die Unie se onafhanklikheid en wat die verskillende elemente van die bevolking in ‘n gemeenskaplike patriotisme moes saambind.

Met die oog daarop het dr. Malan, as Minister van Binnelandse Sake, in 1926 die Burgerskap en Vlagwetsontwerp by die Parlement ingedien. Die maatreël het voorsiening gemaak vir ‘n vlag sowel as vir Unie-burgerskap binne die groter raamwerk van Britse onderdaanskap. Die voorstel is met ‘n storm van teenkanting begroet. Engelssprekende Natal was veral diep bekommerd oor die verlies van die Union Jack as gewaardeerde simbool van die ou moederland.

‘n Verwoede persveldtog is op tou gesit en dr. Malan is daarvan beskuldig dat hy die vlagkwessie bloot gebruik het as ‘n middel om die bande tussen Suid-Afrika en Brittanje te verbreek. Die S.A. Party het nou opgetree as die mondstuk van Engelssprekende Suid-Afrika, terwyl Hertzog die steun van sy Engelssprekende Arbeidersbondgenote geniet het. Die parlementêre opposisie het wel die burgerskapdeel van die wetsontwerp aanvaar, maar wou in geen omstandighede die Union Jack prysgee nie. Gevoelens het so hoog geloop dat onderhandelinge tussen die party vergeefs was.

Van Regeringskant is die teenstand van Natal e.a. Britsgesinde dele van die Unie aankoppigheid toegeskryf en beskou as ‘n teken dat hule nog nie werklik Suid-Afrkaansgeword het nie, maar nog steeds hardnekkig vasgeklou het aan ‘n oorsese moederland. Dit was in ‘n groot mate die geval, hoewel daar weinig twyfel was dat baie Engelssprekendes bloot uit ‘n groepsgevoel aan die agitasie meegedoen het.

Van Nasionale kant was daar ‘n vry algemene vasberadenheid om die teenstanders te dwing om ‘n nasionale vlag onder die Union Jackte aanvaar. So het die vlagstryd ontwikkel tot ‘n toets van Suid-Afrikaanse patriotisme. Die verbittering het hand oor hand toegeneem.

Tydens Hertzog se afwesigheid oorsee was daar ‘n tydelike verslapping, maar in 1927 is die stryd in alle erns hervat. Die Eerste Minister was oortuig dat hy na die Balfour-verklaring nog meer rede gehad het om aan te dring op die aanvaarding van ‘n eie vlag. Om Natal tevrede te stel, het die Regering aangebied dat die Union Jack by sekere geleenthede gehys kon word,maar ook hierdie aanbod is verwerp en daar was selfs sprake dat Natal hom van die Unie sou afskei.

‘n Dooie punt het ontstaan, en dit het werklik geskyn of burgeroorlog nie uitgesluit was nie. Onder die Engelssprekendes het allerlei bewegings ontstaan om die Britse karakter van Suid-Afrika te handhaaf.

Verantwoordelike leiers het egter teruggediens van uiterste stappe en besluit dat die stryd deur ‘n vergelyk beëindig moes word. Die S.A. Party het gemeen om ‘n kompromis te vind in die aanvaarding van ‘n saamgestelde vlag waarin die Union Jack sowel as die twee ou republikeinse vlae opgeneem sou word. Die ontwerp was egter esteties en heraldies ‘n gedrog en min mense wou dit aanvaar. Dr. Malan het volhard met sy oorspronklike ontwerp, bestaande uit drie horisontale en ewewydige bane: oranje, wit en blou.

Teen hierdie tyd was die toestand baie ernstig en dit was uiters moeilik vir die Engelstalige Arbeidersparty om in ‘n tyd van groot emosionele spanning die Regering te bly steun. In hierdie stadium het Tielman Roos, ‘n knap politieke strateeg wat altyd vir ‘n vergelyk te vinde was, besef dat ‘n oplossing nie langs die weg van dwang bereik kon word nie. Hy het hom derhalwe agter die skerms begin beywer vir ‘n vergelyk met die Opposisie. Uiteindelik het hy dr. Malan oorreed om die beginsel van twee aparte vlae te aanvaar.

Die nasionale vlag sou dr. Malan se ontwerp wees, met die Union Jack en die twee republikeinse vlae op die middelste baan aangebring. Daarbenewens sou die Union Jack op sekere bepaalde plekke gehys word as ‘n teken van die bande met die Britse Ryk.

‘n Gewysigde wetsontwerp is met die goedkeuring van al die partye deur die Parlement aangeneem, hoewel die oplossing deur min mense as ‘n ideale toestand aanvaar is. Engelssprekende Suid-Afrika het aanvanklik weinig erg gehad aan die nasionale vlag op sigself, terwyl die Nasionaliste ontevrede was omdat die Britse vlag ‘n deel daarvan uitgemaak het.

Die nuwe vlag is vir die eerste keer op 31 Mei 1928 in Kaapstad gehys. Die storm was verby, maar in die oë van die uiterste Britte het dr. Malan voortaan die reputasie geniet van ‘n hardkoppige anti-Brit, die voorstander van uiterste Afrikaner-nasionalisme.

Die verkiesing van 1929

Die vlagstryd het sy uitwerking op die verkiesing van 1929 gehad. Die Regering kon wel met verwysing na die gesonde finansies en die voorspoed van die Unie met vertroue ‘n beroep op die kiesers doen en Hertzog het met tevredenheid gewys op die onafhanklike staktus wat hy vir die Unie verkry het. Hy het ook dieAfrikaanssprekendes met sy taalbeleid tevrede gestel, maar daar was tekens dat die bondgenootskap met die Arbeiders wankelend was. Die lojaliteit van Engelssprekende lede van die Arbeidersparty in stede soos Durban en Oos-Londen en aan die Rand is deur die vlagstryd tot die uiterste op proef gestel en baie van hulle sou nou vir die teenparty stem.

Hoewel die Regering deur die verkiesingstaktiek van Tielman Roos, wat handig gebruik gemaak het van ‘n nuwe plan van Smuts t.o.v. die aansluiting van Rhodesië by die Unie, baie stemme op die Afrikaanssprekende platteland gewen het, en hoewel Hertzog se beleid van ‘n blanke Suid-Afrika ook groter steun gekry het, het baie Arbeiderskandidate in die slag gebly en wou Engelssprekende Suid-Afrika die Nasionaliste nie aanvaar nie.

In die nuwe Volksraad was daar 78 Nasionaliste, 61 lede van die S.A. Party, agt Arbeiders en een onafhanklike. Dit het wel aan die Nasionale Party ‘n meerderheid oor al die ander party besorg, maar geen tweederde-meerderheid nie, ook nie ná die samestelling van die nuwe Senaat nie.

Die posisie van die Arbeidersparty is fundamenteel verswak, juis vanweë die prestasies van die ooreenkomsregering t.o.v. wetgewing wat die blanke werkers bevoordeel het. Die Arbeiderparty het met die  hulp van die Nasionaliste belangrike wetgewing op die wetboek geplaas gekry. Blanke arbeid is beveilig, minimumlone is vasgestel, daar was nywerheidsvrede en die belange van die arbeiders is behartig deur ‘n staatsdepartement wat spesiaal daarvoor in die lewe geroep. Ook die Yster- en Staalwet het in die arbeiders se smaak geval as ‘n sosialisteise maatreël wat meer werkgeleentheid gebied het.

Met al daardie suksesse het die Arbeidersparty as ’t ware sy bestaansreg op die spel geplaas en sy taak as beskermheer van blanke belange is buitendien al hoe meer deur sy Nasionale bondgenoot oorgeneem. Met slegs agt lede i.p.v. 18 in die Volksraad, was die Arbeidersparty buitendien ook innerlik verdeeld en dit het tot ‘n skeuring in die party gelei.

Hoewel Hertzog die vriendskap met Creswell gehandhaaf en hom in die Kabinet behou het, kon hy voortaan op die steun van slegs vyf Arbeiders in die Volksraad reken. Die ander het Creswell se leierskap verwerp. Hulle was wel te vinde vir ‘n tydelike bondgenootskap met die Nasionaliste in parlementêre verkiesings, maar gekant teen blywende deelname aan die regering.

Moeilikhede in die Nasionale Party

Ook binne die geledere van die Nasionale Party was alles nie pluis nie. Die party het wel uitwendig sterker gestaan as ooit tevore, maar die ou eenheid was verlore. Die republikeine was ontevrede oor die vryheid wat Hertzog in 1926 verkry het, want hulle het gemeen dat dit die ideaal van onafhanklikheid wat hulle nagestreef het, in die wiele gery het. Baie van hulle het hul vertroue in Herzog verloor.

Daarby was ook reeds voor die verkiesing van 1929 allerlei spanninge in die Kabinet bespeurbaar en dit was geen geheim dat Tielman Roos en dr. Malan mekaar nie kon vind nie. Malan was in alle opsigte teenstrydige karakters. Albei was invloedryk en het grotendeels tot Hertzog se sukses bygedra. Dit was Roos wat sedert 1921 die weg voorberei het vir die samewerking tussen Hertzog en Creswell. Dit was hy wat die vlagstryd tot groot teleurstelling van Malan met ‘n kompromis agter die skerms beëindig het.

In 1929 het hy samewerking met die anti-Creswell-groep van die Arbeiders voorgestaan. Hy was lewendig, sprankelend en oorspronklik, ‘n politieke opportunis teenoor wie Malan met sy toegewydheid aan beginsels en sy erns wesensvreemd gestaan het. Roos was bekwaam en ambisieus en met sy sterk Transvaalse aanhang en persoonlike bewonderaards in ander kringe, het hy Malan se wantroue gewek.

Ook in sy omgang met Hertzog was hy dikwels moeilik, en toe Roos kort ná  die verkiesing van 1929 om gesondheidsredes sy portefeulje neerlê, was Hertzog saam met Malan bly om van hom ontslae te raak. Ná sy herstel het hy ‘n benoeming as appèlregter aanvaar en tydelik van die politieke toneel verdwyn. Hy is deur die bekwame jong Transvaalse advokaat Oswald Pirow opgevolg. Dit was nie die end van Roos nie en sy persoonlike gevolg het nog in die Regeringsbanke gesit.

Die republikeine

Die republikeine was veral sterk verteenwoordig in intellektuele en kulturele kringe en vir hulle was Hertzog se aanvaarding van die grondwetlijke status volgens die 1926-resep feitlik die aanvaarding van Britse imperialisme in ‘n nuwe vorm. Hulle het in 1927 vergeefs teen ‘n wysiging van artikel 4 van die Program van Beginsels van die Nasionale Party geprotesteer wat gelui het: “Die Nasionale Party aanvaar die verklaring van die Rykskonferensie van 1926 en stem toe dat dit neerkom op die bereiking van soewereine onafhanklikheid en van die mag om ons staatsfunksies ooreenkomstig ons eie wense uit te oefen.”

Daarna het hulle hulle onophoudelik beywer om die artikel herroep te kry. Aanvanklik was hulle nie sterk genoeg om ‘n eie party te stig nie en daarby het hulle op baie ander belangrike beleidspunte met Hertzog saamgestem, bv. wat Bantoewetgewing betref. Hulle was potensieel ‘n gevaar vir Hertzog se leierskap en het miskien onbewus tot die verswakking van sy posisie bygedra. Voorlopig was die party, verseker van ‘n goeie meerderheid, in ‘n sterk posisie en kon Hertzg opnuut aan die rassevraagstuk aandag skenk.

Bantoewetgewing

Met die grondwetlike vraagstuk opgelos, soos hy gemeen het, het Hertzog ná die verkiesing al sy aandag aan die verwesenliking van sy tweede hoofdoel geskenk, nl. om sy rassewetgewing aangeneem te kry. Toe die Volksraad in 1929 byeenkom, het hy sy wetsontwerpe na ‘n gekose komitee van albei Huise laat verwys. Hy het gehoop dat die Opposisie dit tog uiteindelik sou steun, want dit was geen geheim nie dat ‘n aantal lede van die S.A. Party ten gunste daarvan was.

Inderdaad het die groot meerderheid, Smuts inkluis, nog altyd die tradisionele Suid-Afrikaanse segregasie-beginsel onderskryf.Maar die liberaledeel van die Opposisie, wat versterk is nadat die briljante J.H. Hofmeyr hom by die party aangesluit het en tot die Parlement verkies was, was in beginsel gekant teen enige oplossing van die probleem soos deur Hertzog voorgestel.

Intussen het die Regering die posisie van die blanke kieserskorps versterk deur in 1930 aan blanke vroue stemreg te gee en in 1931 die opvoedkundige en geldelike beperkinge op blanke kiesers in Kaapland en Natal op te hef. Hierdie maatreël het die blanke kieserskorps aansienlik vergroot. Kaapland is gedwing om vir die eerste keer in sy geskiedenis stemreg op rassegronde te aanvaar.

Die S.A. Partry het teenoor Hertzog se beleid geen alternatiewe beleid gehad nie. Feit is dat die Opposisie uit uiteenlopende elemente bestaan het wat slegs deur Smuts se bekwame leiding bymekaargehou is. Daar was ‘ n pro-Britse groep uit Natal, die hawestede en Johannesburg, ‘n kapitalistiese groep, die nasleepsel van die ou Randse mynmagnate, Kaapse liberaliste en ou Botha-volgelinge, veral op die Transvaalse platteland. Soos sake gestaan het, het die Regering weinig van hulle te vrese gehad. Tensy iets onvoorspelbaars opduik, sou Hertzog vir minstens vyf jaar stewig in die saal bly.

Die groot depressie

So ‘n faktor het inderdaad en onverwags opgeduik in die vorm van ‘n ongekende, groot ekonomiese depressie wat einde 1929 ingetree het. In Oktober het Wall Street se aandelemark weens oorspekulasie in duie gestort. Oral was finansiële stabiliteit in gevaar en nog voor die einde van 1930 het die depressie die Unie getref.

Die ineenstorting van die Amerikaanse mark het onmiddellik ‘n skerp daling van diamantpryse veroorsaak en met die daling van wolpryse is die Unie se uitvoermark byna noodlottig getref. Die invoer het weens gebrek aan koopkrag gedaal en dit het die staat se inkomste uit doeane skerp laat afneem.

Om sake te vererger, het die grootste droogte in die geskiedenis kort daarna begin. Die boere is die swaarste van almal getref. Baie plase is in die goeie jare oorgekapitaliseer en boere kon die rente nie meer betaal nie. Die handelsbanke het verbande begin oproep.

Teen 1932 het groot plattelandse gebiede in ‘n toestand van armoede verkeer en baie mense het uitgeboer en armblankes geword. Ongeskoold het hulle na die stede en dorpe getrek en begin meeding op die arbeidsmark, wat in dié slegte tyd reeds oorversadig was. Ook die nywerheid en die handel het die skoen voel druk en werkloosheid was aan die orde van die dag.

Die Regering se teenmaatreëls

Die Regering se eerste bekommernis was om die begroting te laat klop. Om die inkomste in stand te hou, is belastingtoegewinge van die verlede ingetrek en uitgawes besnoei deur ‘n beleid van strenge ekonomie in die staatshuishouding. Daarbenewens moes die boere gehelp word om kop bo water te hou. Die Landbank is gemagtig om groter lenings toe te ken, terwyl die prys van koring en mielies vastestel is. Dit het egter nie gehelp nie, want daar was nou eenmaal geen afset vir landbouprodukte nie. Die boere kon skaars ‘n bestaan maak.

Die ergste het nog voorgelê. Engeland is in September 1931 van die goudstandaard afgedruk. As die vernaamste goudproduserende land het die Unie geweier omdieselfde weg te volg en in ‘n spesiale Parlementsitting in November 1931 het die Regering onderneem om die goudstandaard te handhaaf en die groot uitvloei van kapitaal na Londen aan bande te lê. Valutabeheer is ingestel en dumpingregte gehef op produkte van lande wat die goudstandaard verlaat het, sowel as uitvoerpremies op Suid-Afrikaanse produktre.

Hoewel belastings verhoog is, was daar vir die eerste keer sedert 1925 tekorte in die algemene sowel as die spoorwegbegroting. Hoe meer die depressie gedruk het, hoe ongewilder het die Regering geword. Die Opposisiepers het die toestand soveel as moontlik uitgebuit en veral die mondstukke van die mynbelange het volgehou dat die depressie onmiddellik beëindig sou word as die Unie die goudstandaard verlaat.

Die goudstandaard

Die Regering was egter vasbeslote om dit nie te doen nie. Hertzog en sy Minister van Finansies, N.C. Havenga, het verklaar dat enige teken van toegewing op hierdie fundamentele vraagstuk die openbare vertoue in die ekonomiese stabiliteit van die Unie sou skok. Hy en sy Regering sou staan of val by die goudstandaard. Die vermoë om dit te handhaaf, was vir hom ‘n teken van die Unie se ekonomiese onafhanklikheid wat, as dit nie in stand gehou word nie, tot ‘n agteruitgang in die staatkundige vryheid kon lei.

Havenga, gesteun deur Hofmeyer van die Opposisie, was daarby oortuig dat die Unie ekonomies in staat was om die storm die hoof te bied en dat dit oneerlik sou wees om af te sien van goud as die waarborg van die betaalmiddele. Die agitasie teen die Regering het egter toegeneem. Dit is gesteun deur die mynbase, wat volgehou het dat die lae goudpryse hulle sou dwing om die myne van laegraadse ertsgehalte te sluit. Dit sou vir die goudbedryf noodlottig wees, aangesien die lewe van die ander myne beperk was.

Daarenteen het hulle geargumenteer dat ‘n verlating van die goudstandaard tot ‘n onmiddellike prysstyging en ‘n herstel van die algemene ekonomiese voorspoed sou lei. ‘n Groot veldtog vir die verlating van die goudstandaard is in die pers begin. Nog nooit tevore het ‘n suiwer ekonomiese faktor so ‘n groot politieke rol gespeel nie en daar was min twyfel dat die toestand kritiek geword het.

Die Ottawa-konferensie van 1932

Terwyl die stryd voortgeduur het, het Havenga in Julie 1932 die ekonomiese rykskonferensie in Ottawa bygewoon. Daar het hy ‘n aansienlike voorkeurmark binne die Britse Gemenebes vir Suid-Afrikaanse produkte verkry en met ryksvoorkeur kon nog meer afsetgebiede ontwikkel word. Terselfdertyd het die Regering ander markte langs die wes- en ooskus van Afrikadeur spesiale skeepsubsidies van ‘n Italiaanse redery probeer vind. ‘n Ooreenkoms met Italië in hierdie verband  het luide protes ontlok aan die Opposisie, wat graag gesien het dat Britse rederye begunstig word.

In die geheel het die Regering se pogings om die uitvoermark te ontgin, geen onmiddellike of glad geen uitwerking gehad nie en voor die einde van 1932 het die pryse van landbouprodukte ‘n laagtepunt bereik.

Die Regering verswak

Daar was onheilspellende tekens dat die Regering se eie ondersteuners begin weifel het in hul troue en vir baie van hulle het die vasklou aan die goudstandaard die teken van depressie geword. Party van Hertzog se eie mense het hom ‘n outokraat begin noem en hom verwyt dat sy koppigheid die oorsaak van die ellende was. Ook die republikeine het hul stem laat hoor en dit was geen geheim nie dat enkele Transvaalse volgelinge van Roos op ‘n gunstige geleentheid gewag het om teen die party te draai.

Die Regering se meerderheid in die Volksraad het ná tussenverkiesings gekrimp. In die tweede helfte van 1932 kon ‘n plattelandse setel met moeite vir die party behou word en kort daarna moes Hertzog se Arbeidersbondgenoot wat deur die Nasionale Party gesteun is, ‘n stedelike kiesafdeling aan die Opposisie afstaan. Die afvalligheid van slegs enkele Nasionaliste in die Parlement kon die skaal laat oorswaai.

Tielman Roos se terugkeer

Juis toe het Tielman Roos besluit om tot die politiek terug te keer. Sy vorige pogings het weens Hertzog se teenkanting misluk. Hy het nou besluit om tegelyk met sy gewese leier af te reken en die land uit sy ekonomiese penarie te red. Daar was gerugte dat hy samewerking met Smuts nagestreef het, maar Roos het self geglo dat hy met sy paar volgelinge in die Parlement in so ‘n gelyke partyverdeling die hef in die hande sou kry. Daarby was ‘n aantal Opposisielede gewillig om sy leiding te aanvaar bloot om die Unie van die goudstandaard af te kry.

Die Roos-groep het geen positiewe beginsels gehad nie. Nòg  Hertzog nòg Smuts het Roos as bekende intrigant vertrou. Intussen het gerugte die ronde gedoen dat Roos die land sou red en duisende moedelose boere het daaraan geglo. Roos het in 1932 by ‘n Geloftedagviering op Lichtenburg aangekondig dat hy as regter bedank en tot die politiek teruggekeer het. Hy het groot opspraak gewek deur te eis dat ‘n nasionale of nie-partygebonde regering gevorm en die goudstandaard onmiddellik verlaat word.

S.A. verlaat goudstandaard

Sy dramatiese beroep het ‘n plofbare situasie geskep. In die verwagting dat die goudstandaard prysgegee sou word, het spekulante enorme bedrae geld na Londen oorgeplaas en reeds op 27 Desember 1932 was die Regering verplig om die knie te buig. Die verlating van die goudstandaard het byna dadelik ‘n wending in die toestand gebring. Die goudprys het oornag gestyg, mynaandele het in waarde toegeneem en daar was alle tekens dat die goudbedryf ‘n bloeitydperk sou binnegaan. Geld het na die land begin terugstroom en gou was daar tekens van ‘n herlewing van die algemene voorspoed.

Politieke gevolge

Net so groot was die politieke uitwerking van Roos se terugkeer tot die politiek. Aanvanklik het Hertzog gemeen om sonder meer aan bewind te bly, maar hy het nie met Roos rekening gehou nie. Die oud-regter het eers met Smuts en sy party onderhandel. Met sy hulp sou die Regering tot ‘ n val gebring word,maar op voorwaarde dat Smuts onder hom as Eerste Minister dien. Die leier van die S.A. Party het deur Roos gesien en was nie bereid om dit te doen nie.

Die aanvanklike groot geesdrif oral waar Roos verskyn het, het gaandeweg afgekoel. Roos het nie besef nie dat hy deur verskeie opposisiegroepe en geldelike belange bloot as ‘n instrument gebruik is om ‘n bepaalde doel te dien. In sy naïwiteit kon hy dit nie insien nie en hy het voortgegaan met sy pogings om die Regering telaat val. Sy plan was nou om ‘n sentrale regering saam te stel, waarin Hertzo sowel as smuts onder hom sou dien, maar ongelukkig vir Roos het dié twee leiers kort ná die begin van die Parlementsitting van 1933 onverwags tot ‘n vergelyk gekom waarin daar vir Roos geen plek kon wees nie.

Toenadering deur Smuts

Toe die sitting begin, was daar volop gerugte oor ‘n moontlike toenadering tussen die twee grootste partye. Dit was ‘n weerspieëling van die gevoel in wye kringe daarbuite wat moeg was vir die pollitieke stryd. Smuts het die situasie nie probeer uitbuit nie, maar ‘n beroep op die Regering gedoen om ‘n nuwe kabinet saam te stel wat die hele land kon verteenwoordig.

Hy was nie sonder moeilikhede in sy eie party nie, want Natal het gedreig om sy eie gang te gaan in die rigting van ‘n soort federale hervorming van die politiek waardeur dié Britsgesinde provinsie meer tot sy reg kom. Dit het die eenheid van die S.A. Party ondermyn en eerder as om sy paarty te laat verbrokkel, was Smuts bereid om saam te werk met Hertzog, wat op sy beurt onseker was van die lojaliteit van al sy volgelinge.

Houding van Hertzog

Smuts se versoenende toespraak is formeel deur die Regering verwerp omdat dit te vaag gestel is. Hertzog was ook nie bereid om sonder meer sy rug te draai op Creswell en sy troue volgelinge wat hom deur dik en dun bygestaan het nie. Maar omdat hy daarvan bewus was dat Roos se halfdosyn luitenante in die Vollksraad sy Regering tot ‘n val kon bring en dat die groot positiewe resultate van die Nasionale bewind daarmee in gevaar gestel kon word, het hy beslit om die moontlikheid van ‘n nuwe regering, uit albei hoofpartye saamgestel, met Smuts te bespreek.

Die meerderheid van die Kabinet het hom gesteun, maar Malan het die wysheid van die stap betwyfel. Hertzog het volgehou dat ditdie minste was wat sy volgelinge van hom verwag het om nie die hand van vriendskap wat Smuts gereik het, weg te slaan nie. Hy was daarby bang dat indien hy weier, dit Smuts in die arms van die ekstremiste binne sy eie party, die Federaliste en sesessioniste van Natal, kon dryf. Op eie krag kon die verswakte Nasionale Party die volgende verkiesing nie wen nie, en as die Opposisie aan die bewind kom met die ekstremiste op die voorgrond, kon dit ‘n groot trugslag vir die Afrikanerdom beteken en die verlies van baie wat hy die afgelope dekade gewin het.

Ook was Hertzog sedert 1926 oortuig dat met die oplossing van die grondwetlike vraagstuk daar geen fundamentele verskil tussen die partye was nie. Hy het besef dat sy party van binne verrot was. Die volk het van hom verwag om vrede met sy ou vyand te maak.

Toe die Eerste Minister op 7 Februarie sy besluit aan sy partykoukus bekend maak, het Malan beswaar gemaak en daarop gewys dat samewerking tussen die partye feitlik op ‘n koalisie sou neerkom en dat die Afrikaanse taal in gevaar gestel sou word. Daar was spake dat die Kaapse leier nie sou saamwerk nie, maar hy het hom voorlopig in die toestand berus. Op 15 Februarie 1933 het Hertzog en Smuts ‘n onderhoud oor die saak gevoer en dit was ‘n keerpunt in die politieke stryd.

Koalisie tussen die partye

Smuts was, anders as wat baie Nasionaliste gevrees het, tegemoetkomend. Hy het met Hertzog saamgestem dat die twee partye op ‘n min of meer gelyke basis in die Regering sou saamwerk. Hy self sou onder Hertzog dien en die koalisieregering sou op die volgende beginsels gebaseer wees:

1)Die administrasie sou op nasionale beginsels gegrond wees en dié sou toegepas word in ‘n gees van Suid-Afrikaanse nasionale selfstandigheid in harmonie met die onafhanklike status van die Unie, soos vasgelê deur die Statuut van Westminster;

2)Die verenigde Suid-Afrika sou deur die nasionale vlag gesimboliseer word;

3)Gelyke taalregte sou in die praktyk gehandhaaf word;

4)’n Gesonde plattelandse bevolking sou nagestreef word;

5)Die beleid van blanke arbeid sou voortgesit word;

6)Die Bantoevraagstuk sou so opgelos word dat die blanke beskawing gewaarborg, maar die Bantoes nie beroof word van die reg om te ontwikkel nie. Die politieke ontwikkeling van blank en swart sou apart wees;

7)’n Gesonde nasionale ekonomie sou gehandhaaf word;  en

8)Om die volksgevoel te toets, sou ‘n algemene verkiesing onmiddellik plaasvind.

Hetzog se hele strewe van 1910 af is opgesom in die punte van ooreenkoms met Smuts, wat almal aanvaar het. Die massa van die volgelinge van die twee leiers was tevrede, hoewel daar aan elke kant ‘n groep was wat wantrouig gestaan het. In Kaapland was dit Malan en sy mense wat Smuts nie vertrou het nie en in Natal was daar die Dewolusioniste wat gemeen het dat Smuts hulle aan die Nasionaliste verkoop het. Die openbare mening was inmiddels so sterk t.g.v. samesmelting dat hierdie groepe voorlopig die swye bewaar het. Enige kandidaat wat openlik teen samesmelting te velde getrek het, kon seker wees dat hy in die verkiesing die onderspit sou delf.

Die algemene verkiesing van 1933

Die algemene verkiesing het in Mei 1933 plaasgevind. Die koalisie-Partye het ‘n oorweldigende oorwinning behaal. Uit die totale ledetal van 150 in die Volksraad het die nuwe Regering 144 ondersteuners gehad, t.w. 75 Nasionaliste, 61 lede van die S.A. Party, Creswell-Arbeiders 2 en 6 onafhanklikes.

Vir die eerste keer sedert unifikasie is ‘n verkiesing sonder verbittering geveg. Die hele volk het sy steun aan Hertzog en Smuts toegesê. Die ongelooflike het binne enkele weke waar geword. Maar die instrument wat regstreeks as ‘n deus ex machina vir die nuwe party-verhouding verantwoordelik was, het geen aandeel daarin gehad nie. Tielman Roos is deur albei kante verwerp en vergeet. Hy het hom aan die politiek onttrek en is in 1935 oorlede.

‘n Nuwe tydperk in die geskiedenis het nou ‘n aanvang geneem.

— — — oOo — — —