GVSA Die Bewind van Genls. Botha en Smuts 1910-1924 

D.W. Kruger, M.A., D. Litt

Met die totstandkoming van die Unie het ‘n nuwe tydperk in die geskiedenis van Suid-Afrika begin. Die staatkundige verdeeldheid wat begin het met die Groot Trek, toe die middelpuntvliedende magte die oorhand gekry het, is finaal beëindig. Hoewel die provinsialisme hom nog lank ná 1910 laat geld het, is die grondslag van ‘n ruimer eenheid ten minste gelê, en hoewel die imperialisme nog steeds ‘n lewende en belangrike faktor in die Suid-Afrikaanse politiek was, was daar tekens van ‘n nasionale gevoel wat altyd sterker na vore gekom het.

Bate en laste

Dit was Louis Botha se hooftaak om uit allerlei heterogene elemente ‘n nuwe Suid-Afrika te bou. Volgens die eerste volkstelling van 1911 was die totale bevolking van die Unie weinig minder as 6 miljoen. Daarvan was sowat 4 miljoen Bantoes, 1 276 000 blankes (Afrikaans- en Engelssprekendes), 525 000 Kleurlinge en 152 000 Indiërs, meestal in Natal. In drie provinsies was drie Bantoes vir elke blanke, terwyl in Natal tien nie-blankes vir elke blanke was. Die meeste Bantoes het nog in die reservate gewoon, maar daar was reeds ‘n toenemende insypeling op die blanke platteland en in stedelike gebiede. Dit sou een van die eerste take van die Botha-bewind wees om dié probleem die hoof te bied.

Die totale openbare skuld van die Unie was R232 miljoen. Daarvan was Kaapland vir R104 miljoen verantwoordelik, Transvaal vir R64 miljoen, Natal vir R44 miljoen en die Vrystaat vir R20 miljoen. Teenoor hierdie skuld was daar groot bates soos uitgestrekte kroongronde, openbare werke, spoorweë en myn- en minerale regte wat aan die staat behoort het.

Ekonomiese en maatskaplike toestande

Op landbougebied was die Unie nog hoofsaaklik van die produksie en uitvoer van wol afhanklik. Daarnaas was mielies belangrik, maar koring moes grotendeels ingevoer word. Baie boere was afhanklik van gemengde boerdery wat hulle van ‘n redelike bestaan verseker het. Hoewel die pryse laag was, was die produksiekoste, insluitende arbeid, nie hoog nie. Die grootste deel van die bevolking het op die platteland gewoon en was van die landbou en veeteelt vir hul bestaan afhanklik.

Maar daar was reeds ‘n neiging by die armer mense om hul toevlug tot die stede te neem. Een uitwerking van dieTweede Vryheidsoorlog was juis die toename van blanke armes wat hul grond verloor het. Droogtes en depressies het hul getalle laat styg en in die ekonomiese en maatskaplike lewe het daar dus ‘n probleem ontstaan. Hierdie mense moes in die stede as ongeskoolde of halfgeskoolde loonarbeiders meeding met die Bantoes, wat altyd die gros van die ongeskoolde arbeidsmag gevorm het en wat met hul lae lewenspeil van die begin af ‘n bedreiging vir die blanke arbeider was.

Reeds kort ná Unie-wording hetbaie van hierdie mense hulle by die Engels-georiënteerde vakbonde in die stede begin aansluit om hulself te beskerm. Hul ekonomiese belange het, namate hulle toegetree het tot die geledere van die geskoolde of halfgeskoolde arbeidsmag,  identies geword met dié van die Engelssprekende geskoolde werkers. Hul gesamentlike strewe was die beskerming van blanke arbeid, veral in die goudmyn en verwante bedrywe aan die Rand. Daar het die vakbondbeweging ‘n faktor van toenemende betekenis in die ekonomie sowel as in die landspolitiek geword.

Die goudbedryf

In die ekonomie van die Unie was die goudbedryf van Transvaal nog altyd van groot betekenis. Sedert 1887 is die bedryf deur die Transvaalse Kamer van Mynwese op ‘n baie deeglike grondslag georganiseer – die sentrale beheer het werwing van arbeid, produksie en hantering van alle vraagstukke i.v.m. die bedryf vergemaklik, terwyl die goudprodusentekomitee van die Kamer as verkoopsagentskap opgetree het.

In 1911 was daar 25 000 blanke arbeiders in diens en hulle het meer as R16 miljoen aan lone ontvang. Groot bedrae is ook aangewend vir landbou- en ander produkte om in die behoeftes van die bedryf te voorsien en die geld wat so in omloop gekom het, het die ekonomiese bloedsomloop van die land aan die gang gehou.

In 1910 het die myne 7-1/2 miljoen ons fyngoud geproduseer. Die Unie was verreweg die vernaamste goudprodusent ter wêreld. Ook die staatskas het baie gebaat deur die belastings wat deur die myne betaal is. Die Kamer van mynwese was nie slegs ‘n ekonomiese krag in die land nie, maar dit het groot invloed uitgeoefen deur sy beheer oor ‘n belangrike deel van die pers en sy stem in die Unie-parlement waar ‘ n hele aantal van die Unioniste as sy mondstuk opgetree het.

Die Kamer se vernaamste strewe was om deur ‘n besnoeiing van die produksiekoste die bedryf so winsgwend as moontlik te beheer en ‘n botsing met die georganiseerde blanke mynwerkersbond het voor die deur gestaan. Buite Johannesburg het die gros van die Afrikaners, gedagtig aan die rol van die mynbase as opponente van die Kruger-bewind, erg wantrouig teenoor die bedryf gestaan. Ook die Botha-regering het geen groot simpatie met die mynbase getoon nie en in die politiek alles gedoen om ‘n eenheidsfront teen die Unioniste op te bou.

Stigting van die S.A. Party

Met die eerste Uniale verkiesing het Botha in ‘n manifes Afrikaans- en Engelssprekendes gevra om saam ‘n nuwe toekoms te bou. Hy het sy trou aan die Britse Ryk betuig en ‘n beëindiging van rassehaat bepleit. Hy het die steun van alle gemagtigdes en nasionaalgesindes in die land gekry, want daar was ‘n gees van goedgesindheid aan die orde van die dag. Ná die verkiesing is in die kringe waarop die Regering gesteun het, die behoefte gevoel om hul los bondgenootskap te verander in ‘n nuwe politieke party op ‘n nasionale of landwye grondslag.

In die begin van 1911 het die verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Party van Kaapland, die Orangia-Unie en Het Volk in Kaapstad byeengekom en daar ‘n ontwerp-grondwet van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party opgestel. Dit is saam met ‘n manifes deur Botha gepubliseer(1) en in November 1911 in Bloemfontein op ‘n groot en geesdriftige nasionale kongres aangeneem.

(1)Vgl. D.W. Kruger, South African Parties and Policies, pp. 48-50

Die vernaamste beginsels van die nuwe party was die samewerking van die twee blanke bevolkingselemente met die oog op die bou van ‘n nuwe nasie, die gelykheid van die twee tale, die behandeling van die Bantoe-vraagstuk op ‘n nie-partybasis, die aanmoediging van blanke immigrasie en ‘n verbod op Indiër-immigrasie. Op hierdie basis sou gebou word aan die Unie as ‘n erkende en blywende deel van die Britse Ryk.

Op die stigtingskongres was al die groot Afrikanerleiers aanwesig. Uit Transvaal het genls. Botha, Smuts, De la Rey en Schalk Burger gekom, uit die Vrystaat Abraham Fischer, genl.  Hertzog en selfs pres. Steyn met sy geknakte gesondheid, en uit Kaapland John X. Merriman en die vernaamste leiers van die ou Afrikanerbond. Slegs die Unioniste, wat allerweë as ekstremistiese imperialiste beskou is, het eenkant gestaan. Nog nooit tevore was daar so ‘n groot mate van politieke eenheid in die land nie.

Botha se taak

Tog was die taak van genl. Botha om so ‘n groot party te lei en die lede saam te snoer, nie maklik nie. Soos die geskiedenis geleer het, was samewerking van Engels- en Afrikaanssprekendes geen nuwe ervaring nie. In Kaapland sowel as in Transvaal onmiddellik voor Uniewording was daar heelwat harmonie tussen die twee taalgroepe, maar dit was die eerste keer dat alle Afrikaners in Suid-Afrika in een staat en in een politieke party verenig is.

Botha moes nie slegs die twee blanke groepe bymekaarhou nie, maar ook die Afrikaners, wat in die verlede dikwels met mekaar verskil het. Hy het dit as sy lewenstaak beskou om die bitterheid van die verlede uit te wis deur ‘n beleid van samewerking en versoening, wat vervat is in sy leuse: “Vergewe en vergeet”. Daarby moes hy steeds uiterstes in die politiek vermy en hy het uit die staanspoor gevaar geloop om een kant te vervreem terwyl hy die ander kant tevrede stel, want dat sy party twee onderskeibare elemente bevat het, kon ondanks die skynbare eenheid nie weggeredeneer word nie.

Unioniste teen Botha

Die politieke toestand is reeds uit die staanspoor terdeë uitgebuit deur die leiers van die Unioniste en hul persorgane, wat Botha voortdurend daarvan beskuldig het dat hy met Afrikaner-ekstremiste saamwerk wat wesenlik anti-Brits is. Hulle het veral gehamer op die insluiting van genl. Hertzog in die Kabinet. Sedert 1908, toe hy minister van onderwys in die Vrystaat was, het Hertzog hom weens sy beleid van verpligte tweetaligheid by baie Engelssprekendes ongewild gemaak. As stigterlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Letter en Kuns in 1909, was hy ook bekend as kampveger vir Afrikaans en as Afrikanerleier oor die algemeen.

Aanvanklik was Botha nie geneë om hom in sy Kabinet op te neem nie, maar om die Vrystaat tevrede te stel, was hy verplig om dit te doen hoewel as Minister van Naturellesake, ‘n minder aanvegbare portefeulje. Dit het die stroom van kritiek van ekstremistiese Britse kant nie verminder nie en Botha moes voortdurend aanhoor hoe sy party in die oë van sy opponente verdag voorgestel word. In sy gevoelligheid vir hierdie soort kritiek, het die Eerste Minister ver gegaan om sy Engelssprekende volgelinge gerus te stel en met vriendelike verwysing na die Ryk en die Britse monargie te paai. Dit het Hertzog nog verder in ‘n ander koers laat dryf.

Fluisteringe en kritiek

Reeds voor Uniewording het ‘n deel van die Afrikaners, veral in die Vrystaat, getwyfel aan Botha se leierskap. Hierdie gevoel het gedeeltelik op provinsialisme berus, maar daar was ook elders in die land ontevredenheid omdat Botha die Cullinan-diamant aan koning Eduard geskenk het, oor sy versoeningsbeleid wat selfs oorlogstydse verraaiers ingesluit het en oor die algemeen omdat hy in die taalstryd skynbaar afsydig gestaan het.

Ná sy terugkeer uit Londen, waar hy in 1911 ‘n Rykskonferensie bygewoon het en met eerbewyse oorlaai is, is hy deur ‘n deel van sy eie mense verwyt dat hy pro-Brits geword het. Sy voorstelle om Britse immigrasie te bevorder en geldelik by te dra tot die instandhouding van die Britse vloot het kritiek in die geledere van sy eie party uitgelok. Toe hy kort daarna deelneem aan die onthulling van Rhodes se standbeeld teen Tafelberg, was dit vir baie mense te erg. Hulle het begin fluister dat hy nie meer die Botha van voorheen was nie.

Inderdaad het Botha nie genoeg rekening gehou met die gevoelens van sy eie mense nie. By baie van hulle was die verlede nog vars in die geheue en hoewel hulle hul daarby berus het dat dit nie hy nie, maar Hertzog was wat ‘n leidende rol ;in die taal- en kultuurstryd gespeel het, het sy lofuitinge teenoor die Engelssprekendes baie van hulle teen die bors gestuit.

Dit kan wees dat die Eerste Minister die lojaliteit van die Afrikaners teenoor hom oorskat het. Hy was seker van hul trou en het hom des te meer, veral in die lig van die wantroue wat deur die Unioniste gesaai is, beywer om die vertroue van sy Engelssprekende volgelinge te behou. Hy wou ‘n verenigde volk bou. Vir hom was die republieke dood en sy volk moes in ‘n nuwe geheel opgaan.

Botha se posisie

Botha se posisie is ook deur ander omstandighede bemoeilik. Afgesien van die vae ideaal van nasionale eenheid was daar weinig solidariteit in sy party. Die beginsel van kollektiewe kabinetsverantwoordelikheid is nie altyd begryp en deur sy ministers toegepas nie. Soms het hulle in die openbaar op belangike beleidspunte met mekaar verskil. In die Regering was konserwatiewe en liberale elemente verteenwoordig, Engels- sowel as Afrikaanssprekendes wat t.o.v. Ryksvraagstukke sterk onderling verskil het.

Met die verkiesing van 1910 het die Uniale Suid-Afrikaanse Party nog nie bestaan nie, en sy lede is hoofsaaklik bymekaargehou deur die nie nader omskrewe begeerte tot eenheid en die idealisme van die oomblik. ‘n Politieke  krisis oor beginselvraagstukke kon die party skeur en die vraag was ook of Botha in staat sou wees om al die groepe uit die verskillende provinsies wat nog moes leer om saam te werk, byeen te hou.

Eerste werk van die Regering

Asof onbewus van die onderliggende strominge het die Regering intussen heelwat gedoen om van eenwording ook op administratiewe gebied ‘ n voldonge feit te maak. ‘n Nuwe Uniale staatsdiens is in die lewe geroep: nuwe staatsdepartemente, o.m. die Departement van Naturellesake, is gestig, terwyl die provinsies soveel seggenskap as moontlik behou het. Die meeste poste is gevul uit die geledere van die Engelssprekendes, onder wie baie eentalige amptenare was wat deur Milner ingevoer is.

Op dié manier is die beginsel van taalgelykheid ‘n hele aantal jare lank nie in die staatsdiens toegepas nie. Dit sou spoedig ‘ n politieke strydpunt word. Verskeie wetgewende maatreëls is deur die Parlement aangeneem om die Spoorweë, die Pos- en Telegraafwese, die Polisie, die Gevangeniswese en doeane-departemente te sentraliseer. Daarby is wetgewing oor boedels, naturalisasie, immigrasie en huwelike eenvormig gemaak. Dieselfde geld vir die belastingstelsels van die voormalige kolonies.

Provinsiale finansies

Veral aan twee aktuele vraagstukke moes die Regering aandag skenk: die finansiële verhouding tussen die sentrale en provinsiale regerings en die onderwysbeleid wat deur die provinsies toegepas moes word. Baie mense was ten tyde van Uniewording van mening dat die provinsiale stelsel slegs ‘n tydelike reëling was om die kleiner provinsies tevrede te stel. Om dié rede is aanvankllik geen behoorlike voorsiening gemaak vir die finansiering van provinsiale uitgawes nie. Die inkomstebronne van die provinsies is beperk tot regstreekse belastings en hulle kon selfs geen lenings uitskryf sonder die toestemming van die Regering nie.

Terwyl die vraagstuk nog ondersoek is, is die provinsies aanvanklik deur die staatskas onderhou. In 1913 het die Regering onderneem om die provinsies te subsidieer op die basis van ‘n rand vi elke rand wat hulle uit eie bronne ingevorder het, met ‘n jaarlikse vermeerdering van 5 persent vir algemene doeleindes en 15 persent vir onderwys. Transvaal is daarby toegelaat om sy Bantoe-pasgeld te behou, terwyl Natal en die Vrystaat jaarliks R200 000 elk vir die volgende 10  jaar as ‘n spesiale bydrae sou ontvang.

Stryd oor moedertaalonderwys

Voor 1910 het elke kolonie sy eie beleid t.o.v. die taalmedium in die onderwys gehad. Ingevolge die Smutswet van 1907 was moedertaalonderrig in Transvaal tot st. III verpligtend en daarna kon die ouers van kinders die medium kies. In die Vrystaat was die medium volgens die Hertzog-wet van 1908 tot st. IV die moedertaal en daarna is die tweede taal geleidelik ingevoer sodat kinders in drie belangrike vakke onderrig ontvang het d.m.v. elke taal. Teen hierdie beleid was daar sterk teenstand van die kant van Engelssprekendes, wat gekla het dat dit hulle verplig het om Nederlands te leer.

Dit was die taak van die Unie-parlement om ‘n Uniale beleid neer te lê wat deur die provinsiale owerhede gevolg moes word. ‘n Gekose komitee wat in 1911 benoem is, het in ‘n meerderheidsverslag aanbeveel dat onderwyseres in enige van die twee tale kon kwalifiseer, dat die onderwysmedium tot st. IV die moedertaal moes wees en dat die ouers daarna die medium kon kies.

In ‘n meerderheidsverslag, gesteun deur Hertzog, het genl. C.F. Beyers gepleit vir moedertaalonderwys dwarsdeur die skool en verpligte tweetaligheid vir onderwysers. Die meerderheidsverslag is ná ‘n hewige debat deur die parlementêre koukus van die Suid-Afrikaanse Party aanvaar. Transvaal en Kaapland het die aanbevelinge van die komitee toegepas, Natal het vasgehou aan die beginsel van ouerkeuse dwarsdeur en die Vrystaat het die beleid gedeeltelik toegepas.

Hertzog en baie Afrikaners in die Vrystaat was bitter ontevrede om die nuwe beleid aan hulle opgedwing is en pres. Steyn het gemeen dat dit aantasting van die regte van die provinsies was. Die saak het nie tot die verbetering van die gevoel tussen Botha en Hertzog bygedra nie.

Die Verdedigingswet

‘n Belangrike taak van die Botha-regering was om behoorlike wetlike voorsiening vir die verdediging van die Unie te maak. Voorheen het die Britse regering tot groot hoogte die verdediging van Natal en die Kaapkolonie op hom geneem, terwyl die kommandostelsel in die Vrystaatse en Transvaalse republieke in swang was. Dit is ná die oorlog deur Milner afgeskaf en behalwe ‘n eenheid wat bekend gestaan het as die South African Constabulary, het die Britse regering ook ‘n groot troepemag in die land onderhou.

Met die oog op die toenemende internasionale spanning was die Unie se verdediging nogal van belang en in 1911 het Botha by die Ryks-verdedigingskonferensie in Londen die hele saak met die ryksowerhede bespreek. Die resultaat was die Verdedigingswet van 1912. Dit het voorsiening gemaak vir ‘n klein staande mag en ‘n aantal aktiewe burgermagregimente wat op ‘n vrywillige basis gewerf is, maar ook deur loting op ‘n distriksindeling aangevul word.

Daarbenewens sou daar ‘ n aantal skietverenigings wees, die algemene burgerreserwe, wat min of meer op die ou kommandostelsel gebaseer is. Die Weermag kon in oorlogstyd opgeroep word om op enige plek in Afrika te veg. Genl. C.F. Beyers is as Kommandant-generaal genoem. ‘n Aantal gewese republikeinse offisiere, onder wie veral genls. J.C.G. Kemp en Manie Martiz bekend was, het spesiale militêre opleiding as offisiere van die Weermag ontvang.

Die Wet op Naturellegrond

Reeds van die begin af is met die Bantoebevolking van die Unie as ‘n aparte groep rekening gehou en deur die heel eerste Regeringskennisgewing in 1910 is ‘n aparte staatsdepartement vir dié doel in die lewe geroep. Dat daar ‘n Bantoeprobleem bestaan het, is reeds lank voor die tyd erken en ‘n Bantoesake-kommissie wat van 1903 tot 1905 onder voorsitterskap van sir Godfrey Lagden vergader het, het ‘n oplossing op grond van algehele gebiedskeiding aanbeveel. Die kommissie het ook aanbevel dat grondgebied vir die Bantoes deur wetgewing oopsygesit word.

Tot in dié stadium was sullke grond nie duidelik afgebaken en gereserveer nie. Duisende Bantoes het as plakkers op blanke plase gewoon en niks het hulle verhinder om grond tussen die blankes as eiendom te verwerf en te bewoon nie. Die stamgronde was daarby te klein en die hele saak was buitendien ‘n deel van die algemene vraagstuk waaraan veral die Minister van Naturellesake, genl. Hertzog, aandag gegee het.

In die loop van 1912 het hy ‘n wetsontwerp op Naturellegrond, wat ‘n to epassing van die beginsel van gebiedskeiding was. As ‘n blote tussentydse maatreël wou die wetsontwerp die bestaande toestand stabiliseer tot tyd en wyl omvattender voorsiening gemaak kon word. Die meeste bestaande Bantoereservate en lokasies, altesame sowat 10-1/2 miljoen morg in omvang, is tot ingelyste gebiede verklaar waarvan die besit vir Bantoes voorbehou is. Buite dié gebiede is geen Bantoe toegelaat om grond van ‘n blanke te verkry nie.Omgekeerd kon geen blanke grond in ‘n Bantoegebied verkry nie.

Teen hierdie maatreël het liberale lede van die Parlement vergeefs geskop en min. Sauer, wat liberaal gesind was, het die wetsontwerp slegs met groot teensin en onder druk van Botha ingedien. Dit is op die wetboek geplaas as die eerste van ‘n lang reeks maatreëls wat skeiding tussen die rasse moes bring. Die wet is bloot as ‘n tussentydse maatreël beskou, want daar is besef dat die grond wat so vir die Bantoes beskikbaar gestel is, nie voldoende sou wees nie. Eers jare later is nog grond by die gelyste gebiede gevoeg.

Eerste politieke krisis

Terwyl die Parlement nog met sy gewone werk voortgegaan het, het genl. Botha sy eerste groot politieke krisis beleef. In die uiters delikate verhouding tussen Engels- en Afrikaanssprekende lede van die S.A. Party, moes die leiers versigtig te werk gaan om geen aanstoot na die een of die ander kant te gee nie. Reeds uit die staanspoor was genl. Hertzog taamlik uitgesproke in sy opvatting van Suid-Afrikaanse nasieskap. Hertzog het hom al in 1911 teenoor pres. Steyn uitgelaat oor die “beginselloosheid” van die Regering, maar hy was nogtans nie bereid om verdeeldheid in die party te wek nie.

Oor sy openbare uitlatinge oor die taalvraagstuk is hy steeds deur die jingo-pers as ‘n ekstremis voorgehou en reeds vroeg in 1911 was hy selfs by baie lede van sy eie party verdag. Die Generaal het egter die moed van sy oortuiging gehad en ‘n aantal toesprake ‘n uiteensetting gegee van sy gedagtes oor Suid-Afrikaanse nasieskap en nasionalisme.

Op 5 Desember 1911 het hy op Germiston verklaar dat daar twee lewenstrome in Suid-Afrika was. Die een is gevorm deur die ou Hollandssprekende groep vir wie daar geen ander vaderland was nie. Daardie deel het sy eie nasionale lewe en nasionele gees, maar was slegs ‘n deel van die nasie in Suid-Afrika, want daar was ook die ou gevestigde Engelstalig bevolking in die land. Ook vir hulle was daar geen ander land nie en hulle het ‘n baie groot deel van die Engelssprekende bevolking van die land uitgemaak.

Daar was dan ‘n derde groep wat nog nie Suid-Afrikaners of Afrikaners geword het nie. Hulle was nog nie tuis nie en hoewel hulle volgens wet Suid-Afrikaners was, het hulle nog geen nasionale gees gehad of aan die nasionale lewe deelgeneem nie. Hulle het nog ‘n sterk gevoel vi die moederland gehad en Suid-Afrika was vir hulle ‘n vreemde land.

Hertzog se nasionalisme

Op 5 Oktober 1912 het Hertzog in ‘n toespraak  op Nylstroom andermaal op die saak ingegaan en verduidelik dat hy met die term Afrikaner almal insluit wat deel het aan die Suid-Afrikaanse nasionale lewe, Engels sowel as Afrikaans, maar mense soos die Unioniste uitsluit. Enkele dae later het hy op Smithfield verklaar dat die Afrikaners in hul eie land baas moet wees. Hulle het reeds tot nasionale wasdom gekom en moet hulle nie deur vreemde fortuinsoekers laat regeer nie.

Weer het die jingo-pers Hertzog uitgekryt vir ‘n rassehater en ‘n ekstremis, maar die Vrystaatse leier het hom nie van stryk laat bring nie en op 7 Desember van dieselfde jaar in ‘n groot toespraak by De Wildt met sy stelling volgehou. Hy het selfs verder gegaan en gesê dat die “imperialisme”, d.w.s. ‘n rykspolitiek, vir hom alleen van belang was as dit nuttig vir Suid-Afrika was. So nie, was hy daarteen gekant en daarop was hy bereid om sy politieke toekoms te waag.

Dit was volgens hom noodsaaklik om ‘n Suid-Afrikaanse nasionalisme te skep. In verband met konsiliasie het hy verklaar dat hy niks het om te versoen nie, omdat hy niemand enige kwaad aangedoen het nie. Soms het hulle hom misverstaan, maar die misverstande sou vergeet word en die dag sou aanbreek dat hulle almal sou besef dat hulle Afrikaners is wat dieselfde doel nastreef.

Uitwerking van Hertzog se optrede

Die ekstremiste het Hertzog aangeval en sy stellinge verwerp. Die gematigdes het hom gelyk gegee, maar die standpunt ingeneem dat hy dit liewer nie moes gesê het nie. Onder hulle was ook genl. Botha. Die leer wat Hertzog verkondig het, is aanvanklik slegs deur die meerderheid Afrikaners in die Vrystaat en ‘n minderheid in Kaapland en Transvaal toegejuig. Baie het afgehang van wat genl. Botha se reaksie sou wees. Oor die hele land is ‘n storm ontketen op ‘n tydstip toe Botha uiters fyngevoelig was vir enige reaksie op sy beleid van versoening tussen die twee taalgroepe.

Hertzog se woorde is nie altyd begryp nie en die meeste Engelssprekende lede van die S.A. Party is deur pers-propaganda teen hom in die harnas gejaag. Hulle het eerlik gemeen dat sy omskrywing van ‘n Afrikaner ‘n eksklusiewe betekenis gehad het en slegs vir sy eie taalgroep gegeld het. Ook sy verwysing na die Britse Ryk het geen goeie gehoor gevind nie en dit juis op ‘n tydstip toe Botha Engelse stemme in ‘n tussenverkiesing in Albanie in die oorwegend Engelssprekende Oos-Kaapland gewerf het.

Hertzog uit die Kabinet

Die saak is tot ‘n punt gedryf toe kol. Leuchars, wat Natal in die Kabinet verteenwoordig het, gedreig het om te bedank indien Hertzog nie uit die Regering gesit word nie. Toe Botha nie dadelik reageer nie, het hy sy dreigement uitgevoer. Die Eerste Minister het Hertzog probeer oorreed om dieselfde te doen, want dit sou die Engelssprekendes vervreem indien die Vrystaatse leier lid van die Regering bly.

Hertzog het geweier en daarop het Botha, gesteun deur die res van die Kabinet, sy bedanking ingedien en die Regering opnuut saamgestel, sonder Hertzog. Prakties het dit beteken dat Hertzog uit die Regering gesit is.Die Regering kon nou oor ‘n belangrike vraagstuk uit een mond spreek en die eenheid in die S.A. Party is versterk, maar aan die ander kant het Hertzog se weglating onberekenbare gevolge gehad.

Steun vir Hertzog

Die saak sou nie daarby bly nie, want Hertzog het gou bewyse van steun gekry. Pres. Steyn het sy simpatie nie verberg nie en manne soos genl. De Wet en ds. J.D. Kestell, die geestelike leier uit die Vrystaat, sowel as kultuurleiers en taalstryders soos adv. J.H.H. de Waal van Kaapland en Tielman Roos van Transvaal het hulle met sy nasionale strewe vereenselwig. In breë Afrikaanse kringe is gevoel dat die Generaal deur die Eerste Minister in die steek gelaat is en dat lg. daardeur getoon het dat sy eie volk nie by hom eerste staan nie. Op ‘n groot huldigingsplegtigheid vir Hertzog in Pretoria is vurige woorde gespreek en geleidelik het daar ‘n breuk in die geledere van die party ontwikkel. Daar is gepraat van Botha- en Hertzogmanne.

Vergeefse versoeningspogings

Intussen het Hertzog en sy volgelinge nog lede van die party gebly en is daar goed bedoelde pogings aangewend om die leiers met mekaar te versoen. Die stryd is egter om veel belangriker sake as die persone van die leiers gevoer en die versoeningspogings het misluk. Steyn het gemeen dat Botha sowel as Hertzog onder iemand anders as Eerste Minister moet dien, maar Botha het geweier omdat dit die probleem nie sou oplos nie.

In die parlementsitting van 1913 het Hertzog sy leier openlik aangeval en hom as ‘n “papbroek” bestempel. Hy is deur slegs vyf lede van die Volksraad gesteun, hoewel hy verseker was van oorweldigende steun in sy eie provinsie. Op die Vrystaatse partykongres wat in Mei 1913 gehou is, is Botha se optrede teen Hertzog byna eenparig veroordeel. In Transvaal, waar Botha groot aansien gehad het, was dit anders en alles sou afhang van ‘n besluit deur die Uniale kongres van die Party wat in November in Kaapstad gehou sou word.

Die finale breuk het gekom toe die kongres met 131 stemme teen 90 t.g.v. Botha besluit het. Hertzog se volgelinge het die kongres verlaat en in Januarie 1914 in Bloemfontein op ‘n kongres hul eie party, die Nasionale Party van Suid-Afrika, in die lewe geroep.

Stigting van Nasionale Party

Die program van beginsels van die nuwe party was die beliggaming van die politieke denkbeelde van genl. Hertzog.(2) Van besondere betekenis was artikels 1, 3 en 4. Die eerste artikel lui: “Die Nasionale Party verteenwoordig die nasionale oortuiging en aspirasies van die Suid-Afrikaanse volk binne die Unie en strewe daarna om hierdie oortuiging en aspirasies te ontwikkel en te laat ontwikkel tot ruimste seën vir land en volk.”

(2)Sien Kruger, Parties and Pollicies, pp. 69-72

Artikel 3 beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat die party ‘n kragtige besef van nasionale selfstandigheid aankweek. Dit verklaar uitdruklik dat die belange van die Unie gestel word bo die belange van enige ander land en volk. Dit spreek van “nasionale selfstandigheid wat in teenstelling met “nasionale onafhanklikheid” reeds verkry is.

Artikel 4 wil die goeie verstandhouding tussen die Unie en die Britse Ryk handhaaf en enige handeling vermy waardeur die volk van die Unie in sy staatkundige vryheid belemmer kan word. In ‘n ander artikel word die regmatige aanspraak van die volk van die Unie op onderlinge eerbiediging van sy volkseie soos sy taal, geskiedenis, godsdiens, sedes en gebruike erken.

Verder het die party onderneem om hom te beywer vir taalgelykheid. Dit beklemtoon die eenheid van die blanke volk van Suid-Afrika in ‘n gees van toewyding en trou aan Suid-Afrika. In sy Bantoebeleid het die party as grondslag die oorheersing van die blanke bevolking in ‘n gees van Christelike voogdyskap aanvaar en sodanige bloedvermenging verwerp.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika het ‘n mens hier ‘n heldere en duidelike doelstelling van ‘n politieke party. En tog het die Engelsspekendes, met enkele uitsonderinge soos prof. H.E.S. Fremantlevan Kaapstad, die party vereenselwig met die nasionale en selfs republikeinse strewe van ‘n deel  van die Afrikaanssprekendes en dit beveg.

Teenoor hierdie program het die S.A. Party sy eenheid, hoewel gebaseer op vaag omlynde ideale, gehandhaaf, maar dit was duidelik dat daardie party in die Parlement voortaan met minstens twee opposiegroepe rekening sou moet hou, die Unioniste en die Nasionaliste.

Die staking van 1913

Nog in dieselfde jaar het die Regering hom ‘n nuwe vyand op die hals gehaal toe hy ook teenkanting gekry het van die kant van die georganiseerde blanke arbeiderbeweging. Jare lank was geskoolde arbeid, veral in Transvaal, ‘n monopolie van die blanke man. Byna alle geskoolde werkers aan die Rand en in die myne het uit Brittanje gekom, terwyl die goot meerderheid ongeskooldes Bantoes was wat in die reservate of op plase gewerf is.

Die moontlikheid het altyd bestaan dat die Bantoes met behulp van die mynbase toegang tot die gebied van geskoolde arbeid kon verkry. Teen die mededinging van goedkoop arbeid moes die blanke arbeiders hulle steeds verweer en om dié rede het hulle vakbonde gestig. Met die steun van Creswell se klein Arbeidersparty het die Parlement in 1911 die Wet op Myne en Bedrywe aangeneem. Dit het voorsiening gemaak vir die afkondiging van regulasies wat op grond van veiligheid, gesondheid en dissipline nie-blankes uitsluit van geskoolde arbeid, behalwe in Kaapland. Daarmee is ‘n wetlike kleurslagboom in die nywerheid in die lewe geroep en blanke arbeid verskans.

Daar was ‘n toenemende gevoel van solidariteit, veral onder die blanke mynwerkers en dit is versterk deur die steeds toenemende getal Bantoe-arbeiders. Afgesien van die handhawing van hul monopolie oor die geskoolde arbeid met sy ooreenkomstig hoër loonskaal, moes hulle ook ander belange beskerm. In 1911 het die Parlement wetgewing aangeneem om voorsiening te maak vir vergoeding vir slagoffers van myntering.

Die georganiseerde arbeid het egter nie baie daarvan gehou dat stakings van spoorwegarbeiders deur die wet verbied is nie. Oor die algemeen was die Regering die redelike behoeftes van die blanke arbeiders simpatiek gesind. Die regerende S.A. Party wat deur konserwatiewe elemente aan die bewind gebring is, was t.g.v. blanke heerskappy, ook op die arbeidsveld. Omstandighede het egter ‘n breuk tussen die georganiseerde blanke arbeid en die Regering veroorsaak.

In Julie 1913 het in die goudbedryf ‘n geskil ontstaan oor die diensvoorwaardes van vyf ondergrondse werkers van die Kleinfonteinmyn. Die vyf werkers is onslaan en die Mynwerkersvakbond het aangedring op hul herindiensneming. Hierdie eis het ‘n groot beginsel behels: sou die mynbase die vakbond as sodanig erken of nie? Dit het uiteindelik gelei tot ‘n algemene staking in die Randse goudmyne. Aanvanklik het die regering neutraal gebly, want hy het geen aandeel in die geskil gehad nie. Hy het egter daarby betrokke geraak toe genl. Smuts as Minister van Justisie en Verdediging ‘n byeenkoms van werkers in Johannesburg probeer belet het.

Gevoelens het hoog geloop, mense het hulle verset teen die polisie en die moeilikheid het groter geword. Die gebou van die Johannesburgse koerant The Star, gehaat as mondstuk van die Kamer van mynwese, is aan die brand gesteek en die spoorwegstasie het ook deurgeloop. Stakers het oproerig geword en begin roof en buit en die polisie was nie in staat om die toestand te beheer nie. Met behulp van die Britse garnisoen het die Regering die orde gedeeltelik herstel, maar eers nadat ‘n hele aantal mense in straatgevegte die lewe gelaat het.

Smuts verneder

Genls. Botha en Smuts het gemeen dat die tyd aangebreek het om persoonlik tussenbeide te tree. Hulle het hulle na die toneel van die onluste gehaas en in die Carlton Hotel samesprekinge met die leiers van die vakbond gevoer. Buite op straat het ‘n opgewonde skare saamgedrom en gedreig om die generaals te lyf te gaan. Die polisie was nouliks in staat om hul stormlope af te weer en selfs die soldate was feitlik magteloos.

In hierdie omstandighede was Botha en Smuts verplig om toe te gee aan die eise van die vakbondleiers, wat deur J.T. Bain aangevoer is. Daar is ooreengekom dat die mynbestuur die stakers by die Kleinfonteinmyn weer in dien sou neem, terwyl die Regering die werkers wat hul werk nie kon hervat nie, sou vergoed. Stakers sou nie vervolg word nie, hul griewe sou ondersoek en die naasbestaandes van die slagoffers van die onluste sou versorg word.

Om alles te kroon, was die Regering en die Kamer van Mynwese verplig om die Mynwerkersvakbond te erken. Dit was ‘n groot oorwinning vir die arbeiders en ‘n nederlaag vir die Regering. Smuts het dit as ‘n persoonlike vernedering beskou om so ‘n ooreenkoms onder dwang te onderteken. Hy het hom voorgeneem dat dit nie weer sou gebeur nie.

Staking van 1914

Binne enkele maande het die moeilikheid opnuut opgeduik toe die blanke steenkoolwerkers in Natal tot ‘n staking oorgegaan het. Kort daarna het blanke spoorwegwerkers ook begin staak, deels uit simmpatie vir die arbeiders in die steenkoolbedryf en deels uit protes teen besuinigingspogings van die Spoorweë. Die Federasie van Ambagte het daarop ‘n algemene staking in die goudmyne gelas en kort daarna was 20 000 arbeiders werkloos.

Die hele beweging is weer eebns deur die blanke vakbonde georganiseer en daar was heelwat gevoel teen die nie-blanke arbeiders, wat as moontlike konkurrente steeds met argwaan bejeën is. Hierdie keer was die Regering vasbeslote om vinnig en doeltreffend op te tree. Smuts was ook beter voorbereid, want hy het nie net die polisie nie, maar ook die nuwe Weermag tot sy beskikking gehad. Hy het eenhede van die Aktiewe Burgermag gemobiliseer asook verskeie plattelandse kommando’s om die spoorwegverbindinge op die Rand te beskerm en ‘n moontlike Bantoe-opstand te voorkom.

Krygswet is in die betrokke gebiede afgekondig en genl. De la Rey is in bevel van die Regeringsmagte geplaas. Die ou veteraan het gou en effektief ingegryp. Hy het sy manne op strategiese punte posisie laat inneem, noodsaaklike dienste laat onderhou en beskerm en sy kanonne gestel op die Ambagsaal, die hoofkwartier van die stakersorganisasie. Hierdie keer het die leiers besef dat weerstand vergeefs was en oorgegee.

Vakbondleiers gedeporteer

Smuts sou met hulle afreken, allereers met nege leiers wat in die buiteland gebore is. Party van hulle was kwaadstokers van beroep en sterk revolusionêr gesind. Hy het hulle as verantwoordelik beskou vir baie van die moeilikhede en besluit om hulle sonder ‘n verhoor en op eie gesag te deporteer. Hulle is uit die tronk verwyder, per spesiale trein na Durban gestuur en daar aan boord van ‘n skip geplaas wat op die punt gestaan het om na Engeland te vertrek. Die leiers van die Arbeidersparty het ‘n beroep op die Hooggeregshof gedoen om ‘ n habeas corpus-bevelskrif om hulle deportering te verhinder, maar hulle kon die skip nie op die oop see inhaal om die bevel te bestel nie.

Smuts het die wet in eie hande geneem en in die parlementsitting van 1914 was hy verplig om ‘n Vrywaringswwet te laat aanneem om hom en sy amptenare teen moontlike vervolging te beskerm. Hy het openlik erken dat hy buite die wet gehandel het, maar sy optrede geregverdig deur aan te voer dat dit noodsaaklik was.  Die gedeporteerdes het nie hoogverraad of ‘n ander misdaad gepleeg nie, maar hulle was onrusstokers wat al herhaaldelik ‘n revolusie probeer aanstig het. Hy was vasbeslote om hulle ‘n nekslag toe te dien.

Die Vrywaringswet (No. 1 van 1914) is deur ‘n groot meerderheid gesteun, want in hierdie saak kon die Regering reken op die steun van die Unioniste én die Nasionaliste. Slegs Creswell en sy paar Arbeiderslede het daarteen gestem.

Smuts se optrede het op die lang duur nadelige gevolge vir die Regering gehad. Dit het stemming in die Arbeidskringe teen die Regering gemaak. Die blanke arbeid het daarby saamgespan en vinnig tot ‘n faktor van betekenis in die landspolitiek ontwikkel. Die vakbonde het die Arbeidersparty, wat hul politieke mondstuk was, feitlik eenparig gesteun. Die Regering het daarby baie steun in die oorwegend Engelssprekende stedelike kiesafdelings verloor.

Nog in 1914 het die Arbeidersparty selfs daarin geslaag om met die Transvaalse provinsiale raadsverkiesing ‘n meerderheid setels te verower en tydelik die administrasie te beheer. Dit was ‘ n betekenisvolle voorteken, want die blanke arbeid het leer besef dat hy sy posisie slegs d.m.v. politieke invloed kon handhaaf.

Die Indiër-vraagstuk

Ook die Indiërprobleem het die Regering hoofbrekens besorg en weer was dit Smuts wat die spit moes afbyt. ‘n Aantal jare al was die Indiërs ‘n doring in die vlees van die Natalse administrasie en sedert 1910 het dit ook ‘n vraagstuk vir die Regering van die Unie geword. Hul getalle het so vinnig toegeneem dat veral in Natal die moontlikheid van repatriasie van Indiërs na hul land geopper is. Maar die suikerplantasies het ‘n toenemende behoefte aan Indiër-arbeid gehad en die werwing van arbeiders in Indië is voortgesit.

Terselfdertyd was Natal bang vir die mededinging van Indiërs op ander gebiede, want baie van hulle het nie meer in die suikerbedryf gewerk nie, maar hulle toegelê op handel. Hulle het oor die grense van Kaapland en veral in Transvaal gesypel en so het die Natalse probleem ‘n Uniale vraagstuk geword. Reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog het hierdie proses begin en in 1907 was daar soveel Indiërs in Transvaal dat die Transvaalse Parlement wetgewing aangeneem het om verdere Indiër-immigrasie uit Natal te beperk.

Daar is voorsiening gemaak vir ‘n opvoedkundige toets. Die afneem van vingerafdrukke is ook verpligtend gemaak. In dié stadium het Gandhi,wat hom in Johannesburg gevestig het, sy taktiek van lydelike verset begin predik. Sy volgelinge het geprotesteer teen die verpligte vingerafdrukke en het tronkstraf en selfs deportering verkies.

Dit het aan Smuts as Minister van Justisie ‘n moeilike probleem gestel en eindelik het hy met Gandhi ooreengekom om ‘n stelsel van vrywillige registrasie van Indiërs in Transvaal toe te pas, maar die Transvaalse wetgewing waarteen die Indiërs beswaar gemaak het, is nie herroep nie en hulle het die veldtog van lydelike verset voortgesit.

Smuts en Gandhi

Later, ná unifikasie, het Smuts sekere toegewinge gedoen deur opgevoede Indiërs vry te stel van die vingerafdruktoets en deur Indiërs wat die provinsie verlaat het, opnuut toe te laat en nuwe geleentheid vir regisstrasie te gee. Maar Smuts het die wetlike beperking op die beweging van Indiërs van een provinsie na ‘n ander gehandhaaf asook die vrye immigrasie uit Indië. Gandhi, nog steeds ontevrede, het gelyke behandeling vir alle Indiërs geëis, maar die regering het dit ten ene male geweier.

Die Parlement, gesteun deur die blanke openbare mening, het in 1913 verder gegaan en ‘n immigrasiewet aangeneem wat wel nie spesifiek na Indiërs verwys het nie, maar hulle tog in sy praktiese toepassing op sosiale en ekonomiese gronde byna geheel en al uitgesluit het. Nog meer, ‘n spesiale persoonlike belasting van R6 wat gehef is op elke Indiër in Natal wat nie ‘n ingeboekte arbeider was nie, is gehandhaaf ondanks ‘n ooreenkoms met die owerheid in Indië daaromtrent.

In Suid-Afrika sowel as in Indië is ernstig beswaar gemaak en Gandhi se beweging het nuwe lewe gekry. Hy het geëis dat persoonlike belasting afgeskaf, die administrasie van immigrasie en lisensiëring hervorm en die wette oor die besit en bewoning van grond deur Indiërs gewysig word. Hy het ook aangedring op die herroeping van die Vrystaatse verbod op die vrye toelating van Indiërs.

Gandhi het niks minder gevra nie as die herroeping van alle wette en regulasies wat die beweging van Indiërs oor die hele Unie aan bande gelê het. Hy is deur enkele blanke idealiste gesteun, maar sy eise is deur die groot massa van die blanke bevolking en deur die Regering as buitensporig verwerp.

Feit is dat die groot massa van die Indiërbevolking so ‘n lae lewenspeil gehad het dat feitlik niemand bereid was om vrye mededinging van hul kant toe te laat nie, en ook in ander opsigte het hulle ‘n aparte sosiale klas uitgemaak. Daarbenewens het hulle die regte waarop hulle in Suid-Afrika aanspraak gemaak het, nie eens in hul land van herkoms besit nie. Die Regering kon ook nie aan hulle regte toestaan wat sy eie, inheemse Bantoebevolking nie geniet nie.

Gandhi het sy veldtog voortgesit en selfs geprobeer om onwettig ‘n aantal van sy volgelinge van Natal oor die grens na Transvaal te lei. Hy is in hegtenis geneem en in die tronk aangehou, maar sy beweging het soveel indruk gemaak dat die Regering ‘n kommissie van ondersoek na die griewe van die Indiërs aangestel het. In 1914 het die Parlement ‘n Indiërverligtingswet aangeneem (No. 22) waardeur die persoonlike belasting van R6 in Natal afgeskaf en toegang van Indiërvroue tot die Unie vergemaklik is.

In Junie van daardie jaar het Smuts en Gandhi ‘n ooreenkoms bereik wat as ‘n finale oplossing beskou is. Gandhi het die Verligtingswet aanvaar asook ‘n verklaring van Smuts dat die Regering die wette regverdig sou toepas met die oog op die gevestigde belange. Die beweging van lydelike verset is beëindig en Gandhi het na Indië vertrek nadat hy Smuts daaraan herinner het dat die Indiërs nog ander griewe het en dat volle burgerregte eendag aan hulle toegestaan sou moes word. Vir die blanke bevolking was dit ‘n onheilspellende afskeid. Die storm het bedaar, maar dit was nie die einde nie.

Dit was ook nie die einde van die krisse waarmee die Regering te kampe gehad het nie. Die binnelandse politieke storms van 1913 en 1914 was skaars verby of ‘n nuwe storm het losgebars, hierdie keer in Europa, ver van Suid-Afrikaaf, maar sy uitwerking was van so ‘n aard dat dit die Unie voor sy kwaaiste toets gestel het.

Die Eerste Wêreldoorlog

Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog waarin die hele Britse Ryk betrokke was, het op ‘n baie ongeleë tydstip vir Suid-Afrika gekom. Dit was te gou ná Uniewording. Die volk was nog nie verenig nie. Dit was te gou ná die breuk tussen Botha en Hertzog en dit was selfs te gou ná die Tweede Vryheidsoorlog, wat nog te vars in die geheue was. Die groot vraag was nie of Suid-Afrika in ‘n staat van oorlog verkeer het nie, want die land was as ‘n deel van die Ryk net soos alle ander Ryksgebiede feitlik outomaties daarin betrokke, maar slegs tot watter hoogte die Unie aktief sou deelneem.

As ‘n selfregerende dominium moes dit minstens sy eie verdediging behartig, maar die saak is meer ingewikkeld gemaak weens die feit dat Suidwes-Afrika, ‘n Duitse beskermingsgebied, aan die Unie gegrens het. Hoewel die duitse magte te swak was om die Unie aan te val, was daar sterk radiosenders in die gebied, wat veral van betekenis was met die oog op die oorlog ter see. Bowendien kon ‘n Duitse vlooteskader wat in die Suid-Atlantiese Oseaan opgetree het, die hawe aan die weskus van Suidwes-Afrika gebruik.

Deelname van die Unie

Toe die oorlog vroeg in Augustus 1914 uitbreek, het Botha die Britse regering verseker dat die Unie vir sy eie verdediging sou sorg, sodat die Britse garnisoene teruggetrek kon word. Dit het dan ook byna onmiddellik gebeur. Enkele dae later het die Britse regering gevra of die Unie bereid was om die hawens aan die weskus en Windhoek te beset ten einde die radiosenders buite werking te stel.

Hoewel so ‘n onderneming ‘n offensiewe optrede en die uitstuur van ‘n militêre ekspedisie oor die grense sou beteken, het Botha ingewillig.Hy moes bewus gewees het van die feit dat hy nie op die steun van ‘n verenigde volk kon reken nie. Sy eie Afrikaanse volgelinge was glad nie geesdrifting nie en die Nasionaliste was nie bereid om deel te neem aan ‘n stryd wat volgens hulle in belang van die Ryk gevoer word nie.

‘n Verdere probleem was of die ekspedisie teen Suidwes-Afrika met vrywilligers onderneem sou word of deur die Weermag. Met die oog op moontlike teenkanting in geval van laasgenoemde, het die Regering besluit om vrywilligers op te roep, hoewel lede van die Aktiewe Burgermag net vir verdedigingsdoeleindes opgeroep is. Ongelukkig het die Regering die volk nie in sy vertroue geneem nie en die meeste mense het in onsekerheid verkeer oor die uitwerking van die oorlogsmaatreëls.

Onrus in die land

In plattelandse gebiede het die indruk veld gewin dat die hele mobilisasie geskied het met die oog op ‘n inval in Suidwes-Afrika en heelwat ontsteltenis het geheers veral in die Vrystaat en Wes-Transvaal, waar die mense nog nie die smarte van die Tweede Vryheidsoorlog vergeet het nie. Minder as ‘n jaar tevore, op 16 Desember 1913, is die groot Vrouemonument in Bloemfontein ter gedagtenis aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe omgekom het, onthul. Binne sowel as buite die S.A. Party was daar duisende Afrikaners wat in geen omstandighede aan die sy van Brittanje die wapen sou opneem nie. Dit was ook die oortuiging van genl. C.F. Beyers, Kommandant-generaal van die Weermag

Houding van De la Rey

In groot dele van die land is gerugte versprei dat die Regering van plan was om burgers vir militêre diens in Suidwes-Afrika op te kommandeer. Ook genl. De la Rey, hoewel ‘n vriend van Botha en Smuts en lid van die S.A. Party, het nie met die Regering saamgestem nie en hy het, soos baie Afrikaners, begin dink of die tyd nie aangebreek het om die vryheid van die gewese republieke te herstel nie.

In 1902 het hy gedwonge die wapen neergelê en hom nooit heeltemal met die toestand vereenselwig dat hy ‘n Britse onderdaan is nie. Hy het besluit om te begin organiseer en die burgers van sy tuiste, Lichtenburg, waar hy baie invloedryk was, opgeroep om op 15 Augustus byeen te kom. Die ou leier het sy gevoelensnie verberg nie en genl. Botha, op hoogte van die toedrag van sake, het hom na Pretoria laat kom. Daar het hy ‘n lang samespreking met Botha en Smuts gevoer en besluit om eers te wag met die uitvoering van sy planne.

Hy wou ook genl. Beyers daarvoor win, maar Beyers kon nie besluit nie. In hierdie onsekerheid het hy na Lichtenburg teruggekeer en sy mense gewaarsku om ongewapend na die vergadering te kom. Op die bepaalde dag het hulle opgedaag en onkundig van wat agter die skerms plaasvind, ‘n mosie van vertroue in die Regering aangeneem.

Intussen het Botha en Smuts die distrikskommandante van Transvaal meegedeel dat die Regering van plan was om ‘n mag van 20 000 man te mobiliseer. Die voorgenome ekspedisie teen die Duitsers is nie bespreek nie, maar Beyers en enkele offisiere het hulle daarteen gekant verklaar. Die vergadering is uiteen sonder dat die offisiere ten volle op die hoogte gebring is met die planne van die Regering. Op ‘n kongres van die Nasionale Party wat op 26 Augustus in Pretoria gehou is, is die beplande inval verwerp.

Ekspedisie teen Suidwes-Afrika

Dit was die toestand toe die Parlement op 9 September 1914 byeengekom het vir ‘ n spesiale sitting om die ekspedisie en die uitgawe daarvoor te magtig. Selfs in sy eie partykoukus was al Botha se volgelinge nie heeltemal tevrede nie, maar Botha se invloed was sterk genoeg en sy party het hom eenparig gesteun. Die Unoiniste sowel as die Arbeidersparty, wat tydelik sy vete teen die Regering laat vaar het, het die Regering geesdriftig in die Parlement gesteun.

Die Unioniste sowel as die Arbeidersparty, wat tydelik sy vete teen die Regering laat vaar het, het die Regering geesdriftig in die Parlement gesteun. Hoewel Hertzog hom met die oog op die gevoelens van so baie Afrikaners namens die Nasionale Party teen offensiewe deelname aan die oorlog gekant verklaar het, is die Regering se beleid met ‘n groot meerderheid goedgekeur. Niemand kon die gevolge voorsien nie. Botha wes nou in ‘n sterker posisie en kon voortaan met die uitvoering van sy planne.

Eenhede van die Aktiewe Burgermag was reeds opgeroep en is in oefenkampe langs die Grootrivirgrens, vlak teenoor die Duitse gebied, byeengebring. Die plan was dat ‘n invalsmag onder bevel van genl. Sir Duncan Mackenzie teen 15 September gereed moes wees om Lüderitzbucht van die seekant in te neem. Maar voor dit gebeur het, het die tydeing dat genl. De La Rey doodgeskiet is, plotseling soos ‘n donderslag gekom. Dit het ‘n heeltemal nuwe situasie geskep.

De le Rey en die siener

De la Rey se dood was die gevolg van ‘n eienaardige sameloop van omstandighede. Naby Lichtenburg het ‘n man gewoon wat die reputasie van ‘n siener gehad het. Hy was Niklaas van Rensburg, wat bekend was vanweë die gesigte wat hy glo gesien het. Hy het gewoonlik belangrike gebeurtenisse voorspel. Reeds in die Vryheidsoorlog het hy ‘n groot invloed op De la Rey uitgeoefen. Die ou Generaal het waarde aan sy gesigte geheg.

In hierdie onrustige dae van Augustus en September het hy ‘n gesig gesien van twee groot bulle, ‘n rooie en ‘n gryse wat geveg het. Die rooie is in die stof vertrap. Hierdie gesig is verklaar as die stryd tussen Engeland en Duitsland wat Engeland sou verloor. Ná die aanvanklike groot oorwinnings van Duitsland in die oorlog, het hierdie verklaring aanneemlik gelyk. Die profeet het ook die getal 15 gesien teen ‘n donker wolk waaruit bloed gedrup het. Hy het De la Rey met ‘n ontblote hoof huis toe sien kom. Daar was ook ‘n rytuig met blomme gevulg.

Dit is vertolk as die toneel met die herstel van die republiek en die triomfantlike terugkeer van De la Rey op die vyftiende van die maand. So het die gedagte veld gewin dat die Afrikaners van Engeland se verleentheid gebruik moes maak om die republiek te herstel.

De la Rey het ernstig aan ‘n militêre opstand gedink en sy vriend Beyers oorreed om saam tewerk. Die gevolg was ‘n sameswering waarby ook maj. J.C.G. Kemp, lt.-kol. S.G.Maritz e.a.offisiere betrokke was. Kemp en Maritz was onderskeidelik in bevel van oefenkampe by Potchefstroom en langs die Grootrivier in die omgewing van Kakamas. De la Rey was ook in voeling met genl. De Wet van die Vrystaat.

Terwyl die Regering alles voorberei het vir die inval in Suidwes-Afrika en op 21 Augustus die mobilisasie van sekere eenhede van die Weermag gelas het, het die aanvoerders van die sameswering besluit om op te tree. Die aanslag is bepaal vir 15 September en Kamp sou op dié dag die opstand in Potchefstroom begin. De la Rey en Beyers sou dieselfde dag per motor van Pretoria daarheen reis.

Intussen het Maritz langs die Grootriviergens in verbinding met die Duitsers getree en met hulle ooreengekom dat Duitsland die herstelde republiek sou erken. Die bedanking van Beyers as kommandant-generaal sou die sein vir ‘n opstand op verskeie plekke in die Unie wees.

De la Rey doodgeskiet

Op 15 September het Beyers sy bedankingbekend gemaak en volgens plan dieselfde middag laat saam met De la Rey uit Pretoria vertrek. Op pad deur Johannesburg moes die motor by verskeie polisiebeheerpunte verbygaan wat opgestel is om ‘n moordbendete vang. Omdat hy gedink het dat die owerheid hulle wou voorkeer, het Beyers die bestuurder beveel om deur te ry. Toe die motor by Langlaagte nie wou stilhou nie, het die polisie gevuur. De la Rey is dodelik getref.

Sy dood het die einde van die beplande opstand beteken. Vir die Regering het sy dood op ‘n baie geleë oomblik gekom, want sonder hom was ennige opstand in Transvaal gedoem. Slegs hy het genoeg gesag gehad om die Transvalers die wapen te laat opneem. Hy was ‘n heldhaftige figuur en het die helde-verlede van sy volk beliggaam. Sy heengaan was ‘n groot nasionale verlies en ook Botha en smuts het dit diep gevoel.

Duisende mense het sy begrafnis op Lichtenburg bygewoon.  Dit het gelyk of Van Rensburg se voorspelling waar geword het, hoewel op ‘n ander manier as verwag is. Die rytuig met blomme was daar en De la Rey het met ‘n ontblote hoof op sy draagbaar gelê. Die groot skare was diep bewoë en baie het die Regering openlik die skuld gegee vir die ou krygsman se dood. Baie het geglo dat hy opsetlik doodgeskiet is.

Rebellie breek uit

Hoewel die beplande opstand doodgeloop het, het ander gebeurtenisse tog eindelik tot dieselfde resultaat gelei. Die dood van De la Rey het wydverspreide onrus tot gevolg gehad. Oral in Wes-Transvaal en inj die Noord-Vrystaat is oproerige vergaderings gehou. Gerugte het opnuut die ronde gedoen dat die Regering van plan was om burgers vir verpligte militêre diens op te roep. Dit het min gekoks om ‘n uitbarsting van geweld te veroorsaak.

In dié stadium het Martiz ver weg in Noordwes-Kaapland op eie houtjie gerebelleer. Oortuig dat Duitsland die oorlog in Eu ropa sou wen, het Martiz, wat reeds by die militêre owerheid in Pretoria onder verdenking was, op 20 Oktober 1914 met sy manskappe die grens oorgesteek en hom by die Duitsers gevoeg. Kort daarna het hy die onafhanklikheid van die Unie afgekondig, maar dit het gou geblyk dat sy onderneming nie sou slaag nie.

Verraad van Maritz

Maritz se verraad het egter as ‘n sterk prikkel gedien om ook in ander dele van die land rebellie teweeg te bring. Die Regering was onder die misvatting dat dit die resultaat van ‘n wydvertakte sameswering onder Duitse invloed was en het nie besef nie dat dit byna heeltemal ‘n spontane beweging was.

Op 12 Oktober het Botha krygswet oor die hele Unie afgekondig en dit het die rebellie ‘n stoot gegee. Protesvergaderings is oral gehou. Beyers, wat onveilig in Pretoria gevoel het, het na die Bosveld vertrek en hom vir beskerming by ‘n klein swerwende kommando aangesluit. Hy het volgehou dat hy geen rebel was nie.

Intussen is op 22 Oktober op ‘n vergadering in die Vrystaat besluit dat De Wet sy burgers te wapen sou roep en dat Beyers en Kemp dieselfde in Transvaal sou doen. Wat in die begin as ‘n gewapende protes bekend was, het nou’n openlike rebellie geword. Die leiers van die N.G. Kerk in Kaapland het teen rebellie gewaarskku en Botha het pres. Steyn gevra om sy invloed te gebruik om De Wet en Beyers tot ander insigte te bring. Hy was egter te siek om veel te doen en het buitendien met die opstandelinge gesimpatiseer. Van sy kant het hy ‘n beroep op Botha gedoen om gematig te wees.

Opstand van De Wet

Intussen het duisende burgers in die Vrystaat die wapen opgeneem terwyl 1 500 in Wes-Transvaal hulle by Kemp gevoeg het. Hulle was sleg gewapen en kon dit op die duur nie volhou teen die magte wat Botha in die veld gestoot het nie. Regeringsmagte het die rebelle onder Kemp en Beyers uiteengejaag en die leiers het hul hoop gevestig op Maritz, wat miskien in staat sou wees om hulle van toerusting en ammunisie te voorsien.

Vroeg in November het Kemp aan die hoof van ‘n uitgesoekte kommando van 600 man weswaarts deur die Kalahari getrek in ‘n poging om die duitse grens te bereik. Beyers sou intussen in Transvaal die stryd verder voer, maar sy swak gewapende groep is gedwing om na die Vrystaat die wyk te neem. De Wet se magte is by Mushroom Valley in die Vrystaat omsingel en uiteengejaag deur ‘n Regeringsmag onder die persoonlike bevel van Botha.

De Wet het ontsnap en weswaarts in die rigting van Transvaal getrek. Hy is onophoudelik agtervolg en aangeval tot ook hy besef het dat die rebelle sonder die hulp van Martiz gedoem was. Hy het egter met 25 man daarin geslaag om die Vaalrivier oor te steek en op 25 November was hy reeds oor die spoorweg noord van Vryburg. Op 1 Desember is  hy met enkele manne wat nog by hom was, op ‘n plaas in die distrik Kuruman ingehaal en gevange geneem.

Beyers probeer ontsnap, maar verdrink

Met Beyers het dit slegter gegaan. Hy was nooit met hart en siel in die opstand nie en op 10 November het hy naby Bloemfontin onder spesiale  vrygeleide vergeefste samesprekinge met pres. Steyn gevoer. Kort daarna is Beyers se kommando uiteengejaag. In ‘n poging om sy agtervolgers te ontkom, het hy op 8 Desember deur die Vaalrivier probeer swem, maar aan ‘n hartaanval beswyk.

Jopie Fourie sterf voor vuurpeloton

Die gevangeneming van De Wet en die dood van Beyers het prakties die einde van die rebellie in Transvaal en die Vrystaat beteken. In die distrik Pretoria het ‘n groepie burgers onder kapt. Jopie Fourie nog volhard tot ook hy ná ‘n hewige geveg die wapen moes neerlê. Hy is as offisier in die Weermag deur ‘n krygshof ter dood veroordeel en op 20 Desember in Pretoria doodgeskiet.

Sy teregstelling was, hoewel juridies volkome geregverdig, ‘n politieke fout en die Regering het baie steun daardeur ingeboet. Botha en Smuts, as betrokke minister, is persoonlik verantwoordelik gehou. Vir baie Afrikaners het Fourie en Beyers martelare op die vryheidsaltaar geword en die politieke uitwerking was nie gering nie.

Einde van Kemp se weerstand

Die enigste oorblywende rebellemagte was dié onder Kemp en Maritz in Suidwes-Afrika, want Kemp het na ‘n weergalose trek, agtervolg deur regeringstroepe en gekwel deur dors in die waterlose woestyn, op 26 November daarin geslaag om, hoewel uitgeput en sonder enige gevegswaardie, die hand aan Maritz op die Duitse grens te reik.

Die onderdrukking van die opstand in die Unie kort daarna het die rebelle in die Duitse gebied in ‘n moeilike posisie geplaas. Hule was vir die Duitsers eerder ‘n las as ‘n bate en om in dié omstandighede met die verset vol te hou, het weinig sin gehad. Ná enkele militêre suksesse teen Regeringsmagte langs die Grootrivier in Desember en Januarie 1915 en ‘n mislukte aanval op Upington op 24 Januarie het Kemp besluit om oor te gee.

Terwyl Maritz noordwaarts na Angola gevlug het, is Kemp en sy offisiere in die Johannesburgse Fort opgesluit, waar De Wet e.a. leiers reeds verhoor afgewag het.

Veroordeling van rebelle

Gedurende die eerste helfte van 1915 is die leiers van die rebellie deur spesiale howe tot tronkstraf en swaar boetes veroordeel. Gen l. De Wet het ses jaar tronkstraf en ‘n boete van R4 000 gekry en vir Kemp was dit sewe jaar en R2 000. Die veroordeeldes het baie simpatiseerders en bewonderaars gehad en druk is op Botha uitgeoefen om die vonnisse te versag. ‘n Groot vroue-optog het in Augustus 1915 in Pretoria ‘n versoekskrif aan die Goewrneur-generaal voorgelê, maar hy het nie die konstitusionele mag gehad om op te tree nie.

In die algemeen was die Regering geneë om tegemoetkomend te wees, veral omdat De Wet so ‘n besondere plek in die hart van sy volksgenote beklee het. Dit was ook nie vir Botha maklik om hard teen sy eie mense op te tree nie. De Wet is reeds in Desember op parool vrygelaat. Binne ‘n jaar daarna is ook die ander politieke gevangenes vrygelaat.

Die Helpmekaar

Die rebelle het nou in ‘n moeilike posisie beland, want ‘n hele aantal siviele eise van meer as R500 000 is teen hulle ingestel. Hulle kon nie betaal nie. Selfs hul boetes is betaal deur ondersteuners wat die Helmekaarbeweging gestig het. ‘n Fonds is deur openbare bydraes geopen. Dit was genoeg om al die eise te betaal en die res is so belê dat hulpbehoewende studente met die rente gehelp kon word. In hierdie insameling het Die Burger, wat in dieselfde jaar as mondstuk van die Nasionale Party opgerig is, baie gehelp.

Gevolge van die Rebellie

Die Rebellie het groot politieke gevolge gehad. Honderde burgers is dood en gewond en die materiële skade was groot. Die verbittering teen Botha en Smuts het die geledere van die Nasionale opposisie versterk. Die herinnering aan die Tweede Vryheidsoorlog met sy konsentrasiekampe het herleef en Botha en Smuts is deur baie Afrikaners as verraaiers en handlangers van die Britse Ryk beskou.

Hertzog, wat nie aan die Rebellie deelgeneem het nie, maar met die rebelle gesimpatiseer het, het sy politieke veldtog teen die regering verskerp. Die Rebellie het die Duitsers tydelik bevoordeel, want die Regering kon eers in 1915 met die veldtog teen hulle begin.

Veldtog teen Suidwes

Botha het die opperbevel van die Uniemagte op hom geneem en ‘n groot berede mag van 50 000 man op die been gebring. Die Duitsers kon nie meer as 6 000 man uit Suidwes se totale blanke bevolking van 15 000 mobiliseer nie. Tog was die verowering van die gebied nie so ‘n maklike taak nie. Die grootste deel van die land was dor en droog en waterloos.

Tussen die weskus en die binneland het die Namib die toegange versper en dit was ‘n probleem om ‘n invalsmag van alles te voorsien. Die Duitsers is in alle opsigte bevoordeel deur die geografie van die gebied en hulle het die land geken. Daarby het hulle oor ‘n sporlyn beskik wat van suid na noord geloop en die vervoer van hul troepe vergemaklik het. Botha moes eers ‘n spoorlyn van Prieska na Upington en verder aanlê om die Unie met die Duitse gebied te verbind en sodoende sy toevoer te help verseker. Alle ander benodigdhede moes per skep na die paar bruikbare hawens aan die weskus vervoer word.

Maar ook die Duitsers was van hul vaderland afgesny deur die Britse vloot wat die see beheers het. Die Duitse bevelhebber, maj. Francke, kon slegs ‘n vertragende oorlog voer en staat maak op ‘n gunstige uitslag in Europa.

In April 1915 het Botha sy veldtog met ‘n aanval van drie kante begin. Met Upington as basis het een kolonne van 9 000 ruiters onder genl. J. van Deventer noordwaarts na die Duitse grens opgeruk. Sy oogmerk was Keetmanshoop, die grootste Duitse basis in die suide. Die sentrale kolonne van 11 000 man onder Mackenzie, wat reeds in September 1914 by Lüderitz voet aan wal gesit het, sou daarvandaan langs die takspoorlyn na Keetmanshoop opruk om die vyand se aftog in die noorde te probeer verhinder.

Botha self sou met die hoofmag by Walvisbaai land en ook langs die spoor na Karibib opruk en vandaar na Windhoek, die hoofstad. Sy mag het uit 21 000 man bestaan. Die noordelike kolonne het sonder teenstand geland en die nabygelë Swakopmund beset. Daar is die opmars vertraag omdat putte eers gegrawe en die spoorlyn herstel moes word. Die verskillende afdelings het stadig na die ooste beweeg.

Vroeg in April is die vyand na die noorde teruggedruk en die bevel oor al die magte in die suide is oorgeneem deur Smuts, wat hom na die krygstoneel gehaas het. Die vyand het in die rigting van Windhoek teruggeval. Op 20 is Keetmanshoop beset en die vyand was verplig om die suidelike deel van die protektoraat prys te gee.

Inmiddels het Botha van die seekus af met vier berede brigades onder kolonels Manie Botha, Brits, Alberts en Myburgh in die rigting van die Karibib, die aansluiting van die hooflyn na Tsumeb, beweeg. Die Duitsers was verplig om die hoofstad te ontruim en noordwaarts uit te wyk ten einde insluiting tussen die magte van Botha en Smuts te voorkom.

Botha het Windhoek vroeg in Mei beset. Op 18 Junie het hy die Duitsers na die noorde op die hiele gesit en ná die val van Otavi verplig om ‘n wapenstilstand te vra. Op 9 Julie 1915 het die vyandelike aanvoerder die nutteloosheid van verdere verset erken en met al sy magte gekapituleer.

Botha se voorwaardes was toegeeflik. Die offisiere is toegelaat om hul swaarde te behou en hulle kon op parool huis toe gaan. Onder-offisiere en manskappe van die Duitse leër kon hul gewere – sonder ammunisie – hou, maar hulle is geïnterneer. Reserviste en vrywilligers kon na hul plase terugkeer en hul wapens vir selfverdediging hou. Origens sou soldate, polisiemanne en amptenare ná die oorlog na Duitsland gerepatrieer word.

Die verkiesing van 1915

Die hele veldtog het net ‘n paar maande geduur en die sukses was veral te danke aan die mobiliteit van die berede Uniemagte. Verliese was gering en hoewel die krygsverrigtinge onbelangrik gelyk het, was die resultate groot. As ‘n koloniale mag is Duitsland uit suidelike Afrika verdryf en die Unie het besitter geword van ‘n gebied groter as Duitsland en met ongekende hulpbronne en moontlikhede. Die land is voorlopig onder militêre beheer geplaas.

Die onderdrukking van die Rebellie en die verowering van Suidwes-Afrika ahet die prestige van die Regering in Engeland sowel as in Engelssprekende Suid-Afrika verhoog, maar Botha en Smuts moes heelwat van hul aansien by hul eie mense inboet, want vir daardie deel van die volk het hulle niks anders as Britse imperialiste geword nie.

Die eerste algemene verkiesing sedert 1910 is in Oktober 1915 gehou en het dan ook met veel bitterheid gepaard gegaan. Terwyl Botha voortgegaan het om konsoliasie te verkondig, is hy in die Vrystaat en op die Transvaalse en Kaapse platteland met hoongelag begroet. Hy is “bloedhond”, “verraaier” en “moordenaar” genoem en die verkiesing is gekenmerk deur persoonlikhede.

Die uitslag was ‘n duidelike aanduiding dat die Regering heelwat steun onder die Afrikaanssprekendes verloor het. Die hele Vrystaat het teen die Regering gestem en die Nasionale Party het ook in Transvaal en Kaapland aansienlik steun gekry. Die invloedryke dr. D.F.Malan het die kansel verlaat en redakteur van Die Burger asook leier van die party in Kaapland geword.

Teenoor die S.A. Party se 95 000 het die Nasionale Party nie minder nie as 77 000 stemme gekry. In die nuwe volksraad het die S.A. Party 59 lede gehad, die Unioniste 40, die Nasionale Party 27 en die Arbeiders 4. Botha kon daarna slegs met die steun van die Unioniste, wat eers sy aartsvyande was, regeer. Die uitslag van die verkiesing was origens vir Botha ‘n groot teleurstelling. Drie van sy ministers het hul setels verloor en twee-vyfdes van sy eie mense het teen hom gestem. Botha het dit op een tydstip oorweeg om te bedank, maar daar was geen ander leier wat sterk genoeg was om ‘n kabinet saam te stel nie.

Botha en die oorlog

Gedurende die oorlogsjare het die Regering die steun van die Unioniste en Arbeiders gehad m.b.t. die vraagstuk van deelname. Weinig normale konstruktiewe werk is gedoen. Deur omstandighede was daar in die Parlement heelwat samewerking tussen die S.A. Party en die Unioniste en Botha het geleidelik meer steun onder sy eie Afrikaanse volgelinge verloor. Die Eerste Minister was nie onbewus daarvan nie en het by die Goewerneur-generaal gekla oor die strydlustige toesprake van die Unioniste wat die Afrikaanssprekendes verveem het. Botha het steeds die ewewig probeer bewaar, maar dit was geen maklike taak in die besondere omstandighede nie.

Intussen het dr. Jameson wat na Engeland teruggekeer het, plek gemaak vir sir Thomas Smartt as leier van die Unioniste. Die Nasionale opposisie het stadig gevorder. Hertzog het volgehou met sy argument dat sy party ‘n tuiste vir alle ware Suid-Afrikaners bied, maar die party se teenkanting teen aktiewe deelname aan die oorlog het hom by die jingo-element gehaat gemaak. Die Unioniste het aangedring op steeds groter deelname en selfs verpligte militêre diens in die buiteland.

Smuts na Oos-Afrika

Die Regering het egter die gevoelens van die Afrikaanssprekendes in ag geneem en het nie verder geaan nie as die aanmoediging van rekrutering van ‘n eenheid vir diens in Europa. Van groter betekenis was die aktiewe deelname aan die oorlog in Duits-Oos-Afrika. Daarvoor is ‘ n groot mag van vrywilligers op die been gebring en in Februarie 1916 is smuts na die krygstoneel as bevelhebber van ‘n leër wat uit ‘n aantal eenhede uit verskillende dele van Brits-Afrika en Indië gestaan het.

Sy doel was om die Duitse magte onder genl. Von Lettow-Vorbeck tot oorgawe te dwing, maar Tanganjika was groot, die klimaat ongunstig en die vyand hardnekkig en bekaam. Toe Smuts Oos-Afrika in Januarie 1917 verlaat om ‘n oorlogskonferensie van die Ryk in Londen by te woon, was die Duitsers nog nie bedwing nie. Die stryd is in werklikheid eers in November 1918 beëindig toe Duitsland self oorgegee het.

In die afwesigheid van Smuts het Botha geen maklike taak gehad nie. Hy was moeg en teleurgesteld, want dit het geskyn of die breuk in die geledere van sy eie mense nooit geheel sou word nie. Maar hy het met sy beleid van ‘n kompromis tussen uiterstes volgehou. Aan die een kant wou hy ‘n alte sterk verbroedering van die Unioniste vermy en aan die ander kant hom meer vereenselwig met die Afrikaanse nasionale verlede sonder om die Nasionaliste se politiek te onderskryf. Daarom het hy op 16 Desember 1916 as spreker prominent aan die groot Paardekraalfees deelneem. Tog het hy nie daarin geslaag om die vertroue van baie Afrikaners te herwin nie.

Hy was saam met Hertzog en De Wet by die begrafnis van pres. Steyn, wat op 28 November onverwags heengegaan het. Vir die oomblik is hul onderlinge verskille vergeet. Almal het besef dat met pres. Steyn ‘n groot saambindende faktor verdwyn het, want hy was immers die één man wat ‘n politieke hereniging kon bevorder. Slegs sy liggaamlike swakheid het hom verhinder om aktief aan die politiek deel te neem. Vir  Hertzog sowel as Botha was hy ‘n geestelike vader. Sonder hom het hul weë voortaan heeltemal apart geloop.

Hertzog en die selfbeskikkingsreg

In 1917 en 1918 het die Nasionale Party in krag toegeneem en het die republikanisme veld gewin. Hertzog se toesprake in en buite die Parlement het steeds bitter kritiek van jingo-kant uitgelok. In die oorlogsroes is hy as ‘n verraaier en uitgeworpene beskou en Botha het deur ontaktvolle uitlatinge daartoe bygedra. Hertzog het in sy opposisie gehamer op die selfbeskikkingsreg van klein nasies. Dit was in die gees van pres. Wilson van Amerika se uitlatinge oor die toekoms van die Duitse, Oostenryks-Hongaarse en Turkse ryke en m.b.t. ‘n eventuele vredeskongres.

Toenadering tussen die S.A. Party en die Nasionale Party was in die omstandighede buite die kwessie, maar Botha het ook steeds geweier om ‘n koalisie met die Unioniste aan te gaan. Hy het besef dat so iets slegs kon gebeur ten koste van sy reputasie onder sy Afrikaanssprekende volgelinge. Hy kon egter nie die steun van die Unioniste in die Parlement ontbeer nie.

Smuts in Engeland

Die oorlog het intussen sy gang gegaan en feitlik op ‘n posisie van skaakmat uitgeloop. In Engeland het Smuts ‘n aansienlike rol gespeel. Hy, tog, was feitlik die enigste suksesvolle veldheer aan Britse kant en het nuwe lewe in die Britse oorlogstrewe geblaas. Hy was des te meer van waarde vir die Britse propaganda as ‘n voormalige vyand wat tot die Britse standpunt bekeer is. Hy is spoedig lid gemaak van Lloyd George se oorlogskabinet, tot luitenant-generaal bevorder en met eerbewyse oorlaai. Dit het nie bygedra tot sy roem onder baie van sy eie mense nie en van hom is van nou af gepraat as ‘n handlanger van die “Empire”.

Hertzog na Versailles

Met die einde van die oorlog in Europa is Botha saam met Smuts na die vredeskonferensie van Versailles waar al die dominiums verteenwoordig was. Hertzog, vasbeslote om die stem van nasionaalgesinde Suid-Afrika te laat hoor, het ook sy verskyning in Pasrys gemaak om vir die herstel van die onafhanklikheid van die voormalige Boererepublieke te pleit op grond van Wilson se selfbeskikkingsregs. Leiers van sy party uit die vier povinsies het hom vergesel.

Hulle moes onverrigtersake terugkeer, want Lloyd George het Hertzog verseker dat Suid-Afrika reeds volle seggenskap oor sy eie sake het en bowendien het Botha as Eerste Minister namens die volk van Suid-Afrika gepraat. Hertzog het na Suid-Afrika teruggekeer, vasbeslote om hom voortaan te beywer virr die formele erkenning van Suid-Afrika se onafhanklikheid, hoewel nie in republikeinse sin nie. Sy teenstanders en baie van sy eie partygenote het sy politiek vertolk as afskeiding van die Britse Ryk of “sesessie”.

Dood van Botha

In Parys moes Botha en Smuts in Julie 1919 teen hul sin die vredesverdrag van Versailles onderteken. Veral Smuts het beswaard gevoel en het gewaarsku dat die voorwaardes te kras was en dat ‘n nuwe oorlog maklik kon ontstaan weens die onhoudbare grense wat gestel is.Die twee leiers van die Regering het teleurgesteld na Suid-Afrika teruggekeer. Botha, nog betreklik jonk, is op 27 Augustus 1919 onverwags oorlede.

Sy taak was nie voltooi nie. Dit was gedeeltelik toe te skryf aan sy onvermoë om die diepte van nasionale gevoel onder die Afrikaners te peil. Daarby het hy hom al te seer met die Britse ryksbelange vereenselwig. Sy beleid kon nooit slaag nie solank ‘n deel van die bevolking van die Unie die oë op Brittanje gevestig het en tevrede was met ‘n ondergeskikte konstitusionele status.

Smuts en die verhoogde status

Smuts sou dieselfde ondervind, want Botha se mantel as Eerste Minister en leier van die S.A. Party het op hom geval. Dat Smuts nie ongevoelig was oor die kons;titusionele posisie van die Unie nie, word aangedui deur die nadruk wat hy ná sy terugkeer van Versailles gelê het op die verhoogde status wat die Unie volgens hom gekry het deur die vredesverdrag te onderteken.

In die parlementsitting van September 1919 het hy geargumenteer dat Suid-Afrika dieselfde verteenwoordiging, stem en regte as Brittanje in die Volkerebond het. Op ‘n vraag van die  opposisie of die Unie die reg het om hom van die Britse Ryk af te skei, het Smuts geantwoord dat Suid-Afrika wel selfbeskikkingsreg besit, maar die Ryksbande nie eensydig mag verbreek nie. Terselfdertyd, het hy verklaar, was die Bitse parlement nie meer ‘n soewereine wetgewende liggaam vir die Ryk nie. In die toekoms sou ook die Koning hom nie meer in sake van die dominiums laat lei deur die advies van sy Britse ministers nie, maar deur die minister van ‘n betrokke dominium Voortaan sou alle dele van die  Ryk op gelyke voet staan. Ook in buitelandse sake sou die dominiums deur hul eie verteenwoordigers optree. Smuts het die hoop uitgespreek dat Hertzog met die nuwe status tevrede sou wees.

Kritiek op Smuts

Smuts het uit Europa teruggekeer met die versekering dat die Unie die mandaat oor die voormalige Duits-Suidwes-Afrika sou kry. Hy het aanvanklik gehoop dat die Unie toegelaat sou word om die gebied eenvoudig te annekseer, maar dit was in stryd met Wilson se beginsels. Die Parlement het die vredesverdrag, en daarmee ook die posisie m.b.t. Suidwes, bekragtig, maar die opposisie het Smuts se stelling oor die Unie se hoër status verwerp en bespotlik voorgestel. Die Burger het ‘n spotprent gepubliseer van ‘n bobbejaan aan ‘n paal wat vry was om te beweeg so ver soos sy ketting hom toegelaat het. Dit sou dan die “verhoogde status” van Suid-Afrika simboliseer. Die partypolitieke verskille was so skerp soos ooit tevore.

Die verkiesing van 1920

Die grootste onmiddellike vraagstuk waaraan Smuts aandag moes gee, was die handhawing van die Regering se oorwig. Hy het, anders as sy voorganger, geen groot persoonlike aanhang gehad nie. Daarby was hy ná ‘n afwesigheid van 3-1/2 jaar in die buiteland ‘n betreklike vreemdeling in die Suid-Afrikaanse politiek. Sedert die einde van die oorlog kon hy nie meer op dieselfde steun van die Unioniste as gedurende die oorlog reken nie, en die onsekerheid van sy posisie is verhoog de4ur die uitslag van die algemene verkiesing van Maart 1920.

In die nuwe Volksraad het die S.A. Party 41 lede gehad met 3 onafhanklikes wat die Regering gesteun het, teenoor 44 aanhangers van die asionale Party, 25 Unioniste en 21 Arbeiders, wat ‘n aantal stedelike kiesafdelings ten koste van die Unioniste verower het. Daar was ‘n baie duidelike toename van steun vir die Nasionale Party op die platteland, die resultaat van die gestadige erosie van die S.A. Party daar. Selfs met die hulp van die Unioniste kon Smuts slegs op ‘n meerderheid van vier in die Volksraad staatmaak en van daardie steun was hy nie altyd seker nie. Gedurende die sitting van 1920 het die Regering met moeite staande gebly en Smuts is gedwing om ‘n poging aan te wend om met die Nasionaliste tot ‘n vergelyk te kom.

Pogings tot hereniging

In hierdie omstandighede het Smuts geen ander alternatief gehad as samewerking met die Unioniste nie. Die weg daartoe is voorberei deur die oorlogtydse verbintenis tussen die twee partye. Dit het hulle nader aan mekaar gedryf. Smuts het geweet dat hy daardeur op die platteland steun onder die Afrikaners sou verloor, maar dit sou vergoed word deur winste in die stede. Hy het die Unioniste genooi om hulle by sy party aan te sluit en in die besef dat hulle geen hoop gehad het om ooit aan die bewind te kom nie, het hulle ingewillig. Hul leier, sir Thomas Smartt, en twee ander het setels in die Kabinet gekry.

So is die Regering tydelik gered deur ‘n soort politieke bloedoortapping, terwyl die Nasionaliste beweer het dat die S.A. Party nou sy karakter prysgegee het en in werklikheid deur die Unioniste ingesluk is. In der waarheid het die Unioniste ná die oorlog ‘n aansienlike gedaanteverwissling ondergaan en hul Britse ekstremisme in sekere mate laat vaar.

Smuts stewig in saal

Vroeg in die volgende jaar was die Regering gereed om die nuwe politieke samestelling deur die kiesers te laat bekragtig en vir dié doel is ‘n verkiesing in Februarie 1921 gehou. Die Regering het nou die taktiese voordeel gehad dat daar nie weer driehoekige gevegte in die stedelike kiesafdelings sou wees waaruit die Arbeiders voordeel kon trek nie.

Die uitslag was ‘n verpletterende oorswinning vir die versterkte S.A. Party, wat 79 setels in die Volksraad verower het teenoor die skrale nege van die Arbeiders. Die Nasionale Party het met 45 setels sy posisie gehandhaaf. Smuts het ‘n skoon meerderheid van 24 in die Volksraad gehad en ook in die nuwe Senaat het die Regering vir die nodige oorwig gesorg.

In Mei 1921 het genl. Smuts, skynbaar stewig in die saal, naEngeland vertrek om die eerste na-oorlogse Rykskonferensie by te woon. In Londen was hy in sy element en het hy ten volle deelgeneem aan die bespreking van allerlei internasionale probleme. Hy het na Suid-Afrika se vraagstukke verwys as “klein moeilikhede” en sy teenstanders het verklaar dat sy eie land vir hom te klein geword het.

Onder sy eie volgelinge en in Brittanje het sy aansien hoog gestyg en was sy posisie oënskynlik onaantasbaar, maar binne ses maande ná sy terugkeer het ‘n nuwe probleem opgeduik wat ‘n groot uitwerking op die politieke lotgevalle van die Unie gehad het.

Ekonomiese depressie

Sedert die einde van die oorlog was die algemene ekonomiese toestand nie rooskleurig nie. Die pryse van landbouprodukte was laag en oor die algemeen wisselvallig, terwyl die sekondêre nywerheid nog in sy beginstadium was. Die goudbedryf is bedreig deur abnormale na-oorlogse faktore. Die Regering se finansiële beleid was gedurende en ná die oorlog gekenmerk deur opportunisme en sorgeloosheid. Die rollende materiaal van die spoorweë is nie vervang nie en onproduktiewe oorlogslenings het die las op die Tesourie se skouers verhoog.

Van tyd tot tyd is die toevlug geneem tot spesiale belastings om die begroting te laat klop.Daar was verhoogde doeane- en aksynbsregte, ‘n spesiale heffing op goudmynwinste, ‘n oorwinsbelasting, ‘n diamantbelasting en die Tesourie het selfs sy toevlug geneem tot die Delgingsfonds. Die gevaarlike gebruik het ontstaan om lopende tekorte uit kapitaalfondse te dek.

Spoorwegtekorte was aan die orde van die dag en geen voorsiening is vir die toekoms gemaak nie. Intussen was die lewensduurte reeds in 1916 15 persent hoër as voor die oorlog, maar primêre produsente moes tevrede wees met die ou pryse vir hul produkte. Eers in 1919 het die wolbedryf tydelike voorspoed beleef.

In hierdie omstandighede het die land in ‘n ernstige ekonomiese depressie beland. In 1920 het die Unie van die goudstandaard afgesstap, banke het krediet ingekort en die goudpremie het gedaal sodat sommige laegraadse myne moes sluit. Werkloosheid was aan die orde van die dag en nukkerige arbeiders het die Regering die skuld gegee.

Die arbeidstoestand is ingewikkelder gemaak deur ‘n gestadige toename van ‘n gemengde bevolking aan die Rand. In 1921 was die totale bevolking byna 7 miljoen, van wie nagenoeg 5-1/2 miljoen nie-blankes was. Byna die helfte van die blanke bevolking van Transvaal was in die myngebied van die Rand saamgetrek en die volkstelling van 1921 het ‘n steeds toenemende stroom na die stede aan die lig gebring. Dit het vir Bantoes sowel as armer en ongeskoolde blankes wat nie meer ‘n bestaan op die platteland kon maak nie, gegeld.

Posisie op die arbeidsmark

Wedywering tussen blankes en Bantoes op die arbeidsmark is gekenmerk deur die groot verskil tussen die hoë lone van die ongeskooldes. Van die begin af was geskoolde arbeid sinoniem met blanke en ongeskoolde arbeid met nie-blanke arbeid. Die blanke vakbonde was vasbeslote om toegang tot geskoolde arbeid te keer en om daardeur hul betreklik hoë lone en lewenspeil te handhaaf. Hulle het daarby ‘n monopolie van geskoolde arbeid geëis en ‘n vaste verhouding tussen geskoolde en ongeskoolde betrekkinge. Die werkgewers het hierdie beginsels stilswyend aanvaar en die Wet op Myne en Bedrywe van 1911 is deur die vakbonde as hul groot oktrooi beskou.

Langs die wetlike kleurslagboom tussen geskoolde en ongeskoolde werkers het ook ‘n konvensionele kleurslagboom tussen halfgeskooldes en ongeskooldes bestaan. In hierdie geval is die blanke werkers, meestal Afrikaners wat hul toevlug tot die stede geneem het, deur ‘n bestaande gebruik teen mededinging van die kant van die Bantoes beskerm.

Hul belange het dieselfde geword as dié van die geskoolde en meestal Britse werkers en hulle het hulle by die vakbonde begin aansluit. Vir albei groepe blanke werkers was die handhawing van die kleurslagboom lewensbelangrik en juis dit is in 1921 plotseling bedreig deur ‘n poging van die mynbase om die kleurslagboom gedeeltelik op te hef en sodoende produksiekoste te besnoei.

Die mynbase en swart arbeid

Reeds in 1920 het die myne wat laegraadse erts ontgin het, dit moeilik gevind om teen ‘n wins te produseer. ‘n Kommissie van ondersoek het die indiensneming van inboorlinge uit tropiese gebiede en die opheffing van die konvensionele kleurslagboom aanbeveel. In November 1921 het die Kamer van Mynwese besluit om Bantoes vir half-geskoolde werk te gebruik. Die vakbonde het geweier om dit te aanvaar.

Staking van mynwerkers

Terwyl onderhandelinge aan die gang was, het die eienaars van die steenkoolmyne op 1 Januarie 1922 ‘n loonsvermindering van 50c per dag vir blanke werkers aangekondig. Die gevolg was ‘n staking en die ontslag van 800 werkers op 26 Januarie. Intussen het ook die werkers in die goudmyne ‘n staking afgekondig. Binne enkele dae was 20 000 blanke arbeiders werkloos en 180 000 Bantoewerkers kon ook nie werk nie.

‘n Aanbod van die Regering om bemiddelend op te tree, was vrugteloos, want die blanke werkers het geweier om ‘n voorstel van die Kamer van Mynwese te aanvaar wat die verhouding van blanke tot nie-blanke werkers op 1 tot 10,5 gestel het. Hulle het ‘n verhouding van 1 tot 3,5 geëis in ooreenstemming met die algemene bevolkingsverhouding en hulle wou buitendien hê dat dit vir alle nywerhede deur die wet vasgelê word. Die Kamer het geweier.

Stakers soek steun by N.P.

Gevoelens onder die werkers het hoog geloop teen die Bantoes, wat onregstreeks vir die toestand verantwoordelikheid gehou is. Daafr was ook heelwat opgewondenheid omdat die stakers die Regering, waarin die mynbase nogal baie invloed gehad het, gewantrou het. Hulle het gemeen dat Smuts kop in een mus met die kapitaliste was.

Die stakers het gehoop op steun van die Nasionale opposisie, maar hoewel die Transvaalse partyleier, Tielman Roos, graag politieke voordeel uit die toestand wou trek, het die steun nie veel verder as simpatie gestrek nie.

Die stakers het hulle nou begin organiseer en bewapen. Op 3 Februarie het hulle op ‘n monstervergadering besluit om die heerskappy van die Kamer van Mynwese te beëindig en ‘n voorlopige republikeinse regering in die lewe te roep. Dit sou egter ‘n werkersrepubliek volgens Russiese patroon wees en die Transvaalse Nasionale Party wou dit nie steun nie.

Botsing met die polisie

Toe die stakers met geweld wou keer dat mynwerkers na hul werk terugkeer, het dit tot botsings met die polisie gelei. Aanvanklik het Smuts dit as ‘ n saak tussen mynbase en werkers beskou en die mening uitgespreek dat dit sy verloop moet neem, maar die Regering was verplig om in te gryp toe daar op 27 Februarie ‘n behoorlike geveg tussen die polisie en die stakers plaasvind.

Die saak het veel ernstiger geword toe ‘ngroepie ekstremiste bekend as die Aksiekokmitee die beheer oor stakers verkry. Spoedig was ‘n groot deel van die Rand in ‘n staat van oproer. Georganiseerde bendes het deur die strate gedwaal en die polisie sowel as Bantoewerkers gemolesteer. Die Rooi Vlag is gesing en daar is geroof en brande gestig. Moorde is gepleeg.

Die Regering gryp in

In dié stadium het Smuts besluit dat die toestand hand-uit geruk het en ingegryp. Krygswet is aan die Rand afgekondig, die polisie is onttrek en Smuts, wat hom na die toneel gehaas het, het stappe gedoen om die opstand met geweld te onderdruk. Die leër, bygestaan deur die lugmag, het die hoofkwartier van die Aksiekomitee gebombardeer en verwoede straatgevegte het in Benoni, Boksburg, Brixton en Langlaagte plaasgevind. Op 15 Maart 1922 is alle weerstand beëindig toe die lede van die Aksiekomitee selfmoord gepleeg het. Die vakbonde het beheer oor die staking herwin en dit beëindig. Die Kamer van Mynwese het die werkers op sy eie voorwaardes weer in diens geneem.

Gevolge van die revolusie”

Baie eiendomme is beskadig en verwoes en 230 mense, onder wie 50 konstabels, het die lewe in die “revolusie” gelaat. Die Regering het drasties opgetree teen stakers wat hulle aan misdade skuldig gemaak het. Spesiale howe het ‘n aantal mensse skuldig bevind. Sommige is opgehang en ander tot tronkstraf gevonnis. Party is reeds voor die tyd sonder verhoor doodgeskiet en die Parlement moes ‘n spesiale vrywaringswet aanneem om die Polisie, die Leër e.a. amptenare te beskerm.

‘n Regterlike kommissie van ondersoek het die Regering van blaam onthef, maar die opposisie was bitter ontevrede. Die Arbeidersparty, gesteun deur die Nasionaliste,het dit as ‘n politieke verslag verwerp en die slagoffers van die staking is as helde vereer. Na Smuts is verwys as ‘n “bloedhond”. Vir die vakbonde was die mislukte staking ‘n groot terugslag, maar hulle het veel aan simpatie gewin.

Nog ‘n harder slag het die vakbonde getref toe die Hooggereghos in November 1923 beslis het die regulasies wat ingevolge die Wet op Myne van 1911 uitgevaardig is, d.w.s. die wetlike kleurslagboom, ongeldig was. Daarmee was die blanke werkers feitlik aan die genade van die mynbase uitgelewer sonder enige beskerming teen die wedywering van goedkoop Bantoe-arbeid. In groot getalle het die werkers, Engels- sowel as Afrikaanssprekend, hulle nou by die Arbeidersparty aangesluit. Dit het heel gou ‘n magtige politieke wapen geword.

Die Naturelle-stadsgebiedewet

Die gestadige toestroming van Bantoes na die blanke stede het heelwat kommer gewerk en die Regering is gedwing om stappe te doen om die toestand te beheer. In 1923 het die Parlement die Naturelle-Stadsgebiede-Wet (no. 21) aangeneem. Dit het voorsiening gemaak vir verbetering van woontoestande, administrasie, die beheer van dienskontrakte en oor die algemeen die reëling van die toegang van Bantoes en hul verblyf in stadsgebiede.

Die Nywerheidsversoeningswet

Die jaar daarop is die Nywerheidsversoeningswet (no. 11) aangeneem wat voorsiening gemaak het vir die voorkoming en beslegting van geskille tussen werkeners en werkgewers deur versoeningsrade en die registrasie van vakbonde. Dit was ‘n poging om die stakings te voorkom en hierdie wet het inderdaad ‘n baie heilsame uitwerking gehad.

Smuts se moeilikhede

Die Smuts-adminisstrasie het nog meer aan gewildheid ingeboet deur sy optrede teen ander elemente van die bevolking. In Mei 1921 is ‘n Bantoestaking in Port Elizabeth met geweld beëindig en in die distrik Queenstown is ‘n goedsdienstige sekte, bekend as die Israeliete, wat hom ontwettig op ‘n plaas (Bulhoek) gevestig het, deur die polisie met geweervuur uiteengejaag. In Suidwes-Afrika is die Bondelswarts, wat geweier het om belasting te betaal, met bomme uit die lug bestook en Smuts het die reputasie verwerf dat hy alle teenstand met bloedige geweld wou vernietig.

Smuts probeer Rhodesië inlyf

‘n Poging van Smuts om die kiesers van Rhodesiëte oorreed om hulle by die Unie aan te sluit, het misluk. Die bewind van die B.S.A. Company sou in1924 op ‘n end wees en voor daardie tyd moes Rhodesië besluit of hy ‘n aparte selfregerende kolonie wou word of ‘n vyfde provinsie van die Unie. Vir dié doel is ‘n volkstemming in Oktober 1922 gehou, maar ondanks Smuts se persoonlike tussentrede, het die meerderheid teen aansluiting besluit. Dit was ‘n groot terugslag vir Smuts, wat baie aantreklike inlywingsvoorwaardes aangebied het.

Ooreenkoms tussen Hertzog en Creswell

Die gebeurtenisse van 1922 het die konsolidering van blanke arbeid tot gevolg gehad en het ook ‘n toenadering tussen die Nasionale en die Arbeidersparty voorberei. Hulle het ‘n gemeenskaplike vyand gehad om te bestry. Reeds voor die tyd het die partye mekaar af en toe in die Parlement gesteun en eindelik het hulle onderskeie leiers, genl. Hertzog en kol. Creswell, ooreengekom om saam te werk.

In April 1923 het hulle d.m.v. briefwisseling(3) ‘n verkiesingsooreenkoms aangegaan. Dit het daarop neergekom dat die twee partye in die volgende verkiesing geen kandidate teen mekaar sou stel nie, maar mekaar se kandidate teen die S.A. Party sou setun. Hertzog het onderneem om die sesessie-vraagstuk te laat rus as sy party met die Arbeidersparty aan bewind kom. Die hoofdoel was om van die Smuts-regering ontslae te raak.

(3)Vgl. Kruger, Parties and Policies, pp. 74-76

Hoewel die Regeringspers die verbond as belaglik probeer voorstel het, het dit in werklikheid ‘n groot gevaar vir die Regering ingehou. Sy basis was die gemeenskaplike ekonomiese belange van albei flanke van die opposisie en bowenal die beskerming van die belange van die blanke man in Suid-Afrika.

Smuts bedank

Die toenemende ongewildheid van die Regering het geblyk uit die uitslae van die tussenverkiesings waardeur die Regering se meerderheid van 24 tot 8 gekrimp het. Vroeg in 1924 het Smuts, sonder om sy party te raadpleeg, sy bedanking ingedien, hoewel hy nog tot volgende jaar as Eerste Minister kon aanbly.

Die deurslag is gegee deur die uitslag van ‘n tussenverkiesing in Wakkerstroom, waar ‘n sterk Regeringskandidaat in April 1924 onverwags verslaan is. In Junie 1924 is ‘n algemene verkiesing gehou. Van die 135 lede van die nuwe Volksraad was 63 Nasionaliste, 53 lede van die S.A. Party, 18 Arbeiders en een onafhanklike.

Die Goewerneur-generaal het genl. Hertzog gevra om ‘n kabinet saam te stel en daarmee het ‘n nuwe tydperk begin.

— — — oOo — — —