D.W. Kruger, M.A., D. Litt.
Die koalisie tussen die twee ou vyande was ‘n belangrike mylpaal in die politieke ontwikkeling van die Unie, want daardeur is die weg voorberei vir ‘ n samesmelting van elemente wat skynbaar onversoenbaar was. Die ou en uitgediende partyverdeling is daarmee ‘n nekslag toegedien en die proses van insypeling van Hertzog se nasionale beginsels binne die S.A. Party is verhaas. Van betekenis was dit ook dat die nuwe regering in ‘n posisie was om veel soliede en konstruktiewe werk te verrig gedurende die volgende jaar.
Die taak van die regering
In die nuwe kabinet is die twee partye gelykop verteenwoordig. Die vernaamste ministers behalwe Hertzog en Smuts was Havenga en Pirow van die Nasionale Paty, en Hofmeyr en Patrick Duncan van die kant van die S.A.Party. Die eerste taak van die regering was om die nood van die boerebevolking te lenig en om sorg te dra vir die stoflike welvaart van die volk.
Kort tevore het ‘n Carnegie-Kommissie bevind dat nie minder nie as 25% van die blanke bevolking as “armblankes” beskou kon word. ‘n Naturelle Ekonomiese Kommissie het vasgestel dat ‘n groot deel van die Bantoebevolking geleidelikarmer geword het. Die regering moes ook die probleem van werkloosheid aanpak, die verkeerstelsel moes opgeknap word en dan was daar nog aspekte van die konstitusionele vraagstuk wat aandag vereis het sowel as die Bantoeprobleem wat nog steeds op ‘n oplossing gewag het.
Die ekonomiese herstel
Die armoedeprobleem was binne betreklike kort tyd iets van die verlede. Met die styging van die goudprys van 28c na 49c per gram het die ekonomiese welvaart teruggekeer. Die regering se aandeel in die goudwins het die opgehoopte tekort uitgewis en hom in staat gestel om die boere te hulp te kom. Rente op plaasverbande is gesubsidieer en baie boere is van bankrotskap gered.
Met die styging van die pryse van primêre produkte het die landbou hom reggeruk. Die ekonomiese herstel het veral die goudmynnywerheid bevoordeel en die myne met lae ertsgehalte kon weer bewerk word. Daarbyis groot nuwe goudontdekkings gedoen in die gebied ten suidweste van die Witwatersrand en daar was skitterende uitbreidingsmoontlikhede vir die nywerheid.
Verstedeliking
Ook die sekondêre nywerheid het vinnig ontwikkel. Met die verdwyning van werkloosheid en die toename van stoflike voorspoed het ook die armblanke-vraagstuk geledelik opgehou om te bestaan. Terselfdertyd was daar ‘n nuwe trek van die Afrikaner na die stede. Dit het nie slegs ekonomiese gevolge gehad nie, maar die Afrikanerdom is ook sosiologies, kultureel en politiek sterk daardeur beïnvloed. Daar het ‘n nuwe geslag stadsbewoners ontstaan.
Ook die Bantoes het meegedoen aan die verstedelikingsproses, want die voortskrydende agteruitgang van die reservate en die beter kanse om ‘n bestaan te maak in die blanke gebiede het die bevolkingsverskuiwing verhaas. Wat sy bevolkingsverspreiding betref, het Suid-Afrika ‘n bonter patroon as ooit tevore getoon.
Konsolidering van die koaliste
Intussen het die nuwe politieke indeling ‘n permanenter vorm aangeneem. Kort ná die verkiesing van 1933 het ‘n spontane beweging in ‘n goot deel van die land ontstaan wat hom beywer het om die bondgenootskap tussen die groot partye vaster te maak. Veral op dieTransvaalse en Vrystaatse platteland was daar ‘n begeerte tot ‘n volkome eenwording van die partye en druk is op die leiers uitgeoefen.
Die meeste Nasionaliste in die noordelike provinsies was t.g.v.hierdie strewe, maar in Kaapland was daar ‘n opvallende gebrek aangeesdrif. ‘n Hele aantal Nasionaliste wat afkerig was van die gedagte om met die hulp van Smuts en sy party ‘n regering te vorm, was tydens die verkiesing noodgedwonge koalisie-kandidate ten einde hul setels te behou. Hulle het Smuts nie vertrou nie en ook nie geglo dat hy enige beginsel van die Nasionale Party aanvaar het nie. Hulle het gemeen dat ‘n samesmelting van die twee partye slegs kon plaasvind op ‘n beginselgrondslag.
Daar was dus van die begin af ‘n moontlikheid dat daar ‘n skeuring binne die geledere van die Nasionale Party kon plaasvind. Ook die S.A. Party was alles behalwe verenig oor die saak. Engelssprekende Natal was net so wantrouig teenoor Hertzog as sommige Nasionaliste teenoor Smuts, en die Kaapse Nasionale leier het sy eweknie gehad in kol. C.F. Stallard, wat hom gereed gemaak het om te veg vir die behoud van “Brits” Suid-Afrika.
Hertzog en Smuts
In hierdie omstandighede het die twee leiers begin arbei vir eenwording. Elkeen moes rekening hou met ‘n element binne sy eie party wat nie maklik te oorreed was nie. Hertzog het opreg gemeen dat daar geen beginselverskille was wat die partye uitmekaar gehou het nie. Hy het geglo dat die S.A. Party ryp was om die beginsel van “Suid-Afrika eerste” en die praktiese gelykheid van die twee landstale te aanvaar. Hy het gemeen dat dit nie meer die ou S.A. Party was wat nog in 1921 die Unioniste opgeneem het nie.
Reeds in Februarie 1931 het daardie party sy program van beginsels gewysig deur die invoering van ‘n artikel wat meer in ooreenstemming was met die nuwe gees en wat uitdruklik Suid-Afrika se nuwe status aanvaar het. Dit was inderdaad daardie nuwe gees in die S.A. Party wat bygedra het tot Natal se houding van afsydigheid. Republikeinsgesinde Afrikaners het daarteenoor hul stemme verhef teen die poging tot samesmelting. Hulle het gevaar gesien vir die beginsels van die Nasionale Party en dr. Malan het konsekwent verklaar dat alleen diegene bymekaargebring moet word wat bymekaar hoor, en hy het juis die Britse jingo-element in die gedagte gehad.
Hertzog het anders geoordeel en hy het in die openbaar verklaar dat die S.A. Party reeds onafhanklikheid van die Unie as ‘n voldonge feit aanvaar het asook die beginsel van “Suid-Afrika eerste”. Selfs die Engelssprekendes het die taalregte van die Afrikaner erken, en daar was niks wat die partye uitmekaar gehou het nie, behalwe wantroue en vrees dat hulle mekaar sou bedrieg. So iets het hy as onwaardig beskou.
Die stryd oor samesmelting
Gedurende die volgende ses maande het daar ‘n groot stryd in die Nasionale Party geheers. Malan was in beginsel teen samesmelting gekant en die meeste Nasionaliste in Kaapland het soos hy gedink. Hy wou die uiterste Britse seksie heeltemal uitsluit en het as voorwaarde vir ‘n vereniging van partye die erkenning geëis van die reg om ‘n republiek te propageer, die reg van afskeiding van die Britse Gemenebes en die reg om in oorlogstyd neutraal te bly.
Dit was vir hom die toets van ware onafhanklikheid. Hertzog het die eerste punt geredelik toegegee en ook Smuts het saamgestem, maar die ander eise het volgens hom gehandel oor akademiese vraagstukke. Niemand het in daardie stadium ‘n oorlog verwag nie.
In die loop van 1933 het die provinsiale kongresse van die Nasionale Party die hele aangeleentheid oorweeg, en dit het geblyk dat die groot meerderheid in die drie noordelike provinsies t.g.v. samesmelting was. Die Kaapse Nasionale Party wou nie sy aparte identiteit prysgee nie.
In Oktober 1933 het die Federale Raad van die Nasionale Party Hertzog se beleid onderskryf en toe die parlement in Januarie 1934 byeenkom, het Hertzog verder met Malan onderhandel. Die twee leiers het eindelik ‘n basis van ooreenkoms openbaar gemaak wat oor vraagstukke soos die deelbaarheid van die kroon, die reg van neutraliteit en die soewereine status van die Unie gehandel het.
Hoewel dit ‘ n suiwer interne aangeleentheid van die Nasionale Party was, het dit aanleiding gegee tot ‘n teenbeweging binne die S.A. Party wat ‘n nadelige uitwerking gehad het op die onderhandelinge tussen Hertzog en Smuts. Smuts het gevoel dat die Hertzog-Malan-ooreenkoms tog ook betrekking het op die beginselprogram van die te stigte Verenigde Party en dat Hertzog hom nie in aanmerking geneem het nie.
Dit was nou duidelik dat hoe meer Hertzog daarna streef om Malan te bevredig, hoe meerhy Smuts vervreem. Eindelik het hy met Smuts tot ‘n vergelyk geraak oor die konstitusionele vraagstuk en dit was dat elkeen op sy eie mening geregtig was aangaande vraagstukke waaraan hulle per slot van rekening slegs ‘n akademiese betekenis geheg het. Toe hierdie toegewing aan Smuts bekend geword het, het Malan daarin ‘n bewys gesien dat Hertzog bereid was om oor ‘n kardinale punt in die Nasionale Party se program skiet te gee. Hy het gedreig om hom van sy ooreenkoms met Hertzog te onttrek.
Toe die onderhandelings in Mei 1934 voortgesit is, het Malan gekla dat die beginsels van die nuwe party nie skerp genoeg omskryf was om die Britsgesinde seksie van die S.A. Party uit te sluit nie. Toe die meerderheid van die Federale Raad daarop besluit het om Hertzog te steun en hom volmag te gee om die program van beginsels van die nuwe party te formuleer, het die verteenwoordigers van die Kaapse Nasionale Party hulle aan die beweging onttrek. Hierdie stap is in die hand gewerk deurdat Smuts in die openbaar die konstitusionele beginsels van die Nasionale Party verwerp het.
Skeuring in die Nasionale Party
Die meeste Nasionaliste in die Kaap het hulle agter Malan geskaar asook ‘n klein minderheid in die ander drie provinsies. In Kaapland is die party in stand gehou, maar in die res van die land moes dit van nuuts af aan opgebou word. Hulle het hulself ná die skeuring in die party “gesuiwerde Nasionaliste”genoem en na hul teenstanders as “smelters”verwys.
Gedurende die daaropvolgende paar jaar het die twee elemente van die Afrikanerdom mekaar met groot verbittering beveg. In Transvaal het dit aanvanklik moeilik gegaan om die mas op te kom, want daar was slegs een Nasionale parlementslid, adv. J.G. Strijdom, wat die vaandel van die nasionalisme hoog gehou het.
Skeuring in die S.A. Party
In die S.A. Party was daar ‘n dergelike ontwikkeling. Die ontevrede Britsgesinde element, hoofsaaklik in Natal, het finaal weggebreek van Smuts en in 1934 die Dominiumparty(1) gestig met k ol. C.F.Stallard as leier. Die hoofoogmerk van die party was om die Britse konneksie in stand te hou.
(1)Vir die party se program vgl. Kruger, S.A. Parties and Policies, pp. 89-94
Hierdie mense het Hertzog nie vertrou nie en net soos die nasionaliste het hulle samesmelting geopponeer, maar vir teenoorgestelde redes. Malan en Stallard het die twee uiterste onversoenlike politieke menings in Suid-Afrika verteenwoordig. Enige party wat albei elemente ingesluit het, sou nie konvoortbestaan nie en sou ‘n tydelike kunsmatige eenheid beteken het.
Die Verenigde Party
In Junie 1934 het Hertzog en Smuts eindelik daartoe oorgegaan om die nuwe party te stig. Die amptelike naam was die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party, en Hertzog het self sy program van beginsels opgestel.(2) Die verklaarde strewe van die party was om ‘n sterk gevoel van Suid-Afrikaanse nasionale eenheid te ontwikkel. Die regering sou gevoer word op die basis van Suid-Afrikaanse nasionale beginsels, in die gees vanSuid-Afrika senasionale onafhanklikheid, en in harmonie met die Unie se soewereine onafhanklike status.
(2)Vir die program word verwys na Kruger, Ibid., bl. 85-88
Die party het onderneem om die nasionale aspirasies en oortuiging van die volk van die Unie te verwesenlik met die spreuk “Suid-Afrika eerste”.Dit het gestreef na volle nasionale eenheid in ‘n gees van toewyding aan Suid-Afrika en met onderlinge vertroue as die essensiële basis van die geestelike en stoflike welsyn van die volk.
Die bestaande verband met die Britse Gemenebes sou in stand gehou word, onderhewig aan die status van die Unie en sy belange. Enige lid van die party was vry om enige regeringsvorm te bepleit. Die party het die nasionale vlag as die simbool van die Unie se gesag erken en sou tweetaligheid prakties toepas.
Dit ly geen twyfel nie wie die outeur van hierdie dokument was, want al die groot beginsels waarvoor die Nasionale Party hom van die begin af beywer het, is daarin beliggaam. Dat Smuts en sy volgelinge dit aanvaar het, was ‘n betekenisvolle aanduiding van die groot verandering wat besig was om in die land plaas te vind. Dit was ‘n triomf vir Hertzog. Die samesmelting van die partye het nie net die hereniging van die meeste Afrikaners beteken nie, maar ook die aanvaarding van kardinale nasionale beginsels deur die massa van die gematigde Engelssprekendes.
Die eenheid wat in 1910 nagestreef en in 1912 verbreek is, is in 1934 op ‘n gesonder basis verwesenlik. Dit sou egter nog lank duur voordat al die lede van die party die beginsels wat hule belyhet, in praktyk sou bring. Gedurende die volgende jaar het die gees van breë Suid-Afrikaanse nasionalisme geleidelik deurgewerk en Hertzog se voormalige opponente is onbewus tot sy standpunt bekeer.
Maar ook die gees van die S.A. Party het baie van die gewese Nasionaliste beïnvloed, sodat hulle baie verdraagsamer geword het jeens hul Engelstalige landgenote en minder verdraagsaam jeens daardie Nasionaliste wat nie met hulle wou saamgaan nie.
Status van die Unie
Selfs nog voor die samesmelting van die partye ‘n voldonge feit was, het die parlement die Statuswette aangeneem. Die Statuswet van 1934 het die bepalinge van die Statuut van Westminster wat op die Unie van toepassing was, ingelyf en daarby bepaal dat ‘n Britse wet alleen vir die Unie geldig sal wees kragtens ‘n wet van die Unie. Daarmee is die soewereine onafhanklikheid van die Unie bo alle twyfel gestel.
Belangrik was ook die Wet op die Uitvoerende Magte en Seëls van die Koning wat tydens dieselfde sitting op die wetboek geplaas is. Dit bepaal dat alle wetsontwerpe wat die Koning se handtekening vereis, deur ‘n Unie-minister mede-onderteken moet word. Die koninklike seël is aan die Unie toevertrou en is deur die Eerste Minister bewaar. Prakties het dit beteken dat die Koning voortaan verplig sou wees om die formele medewerking van ‘n Unie-minister te verkry wanneer hy as hoof van die uitvoerende gesag optree.
Hierdie wette is in die parlement heftig teengestaan deur Stallard en sy geesgnote, wat daarin ‘n verbreking van die ryksbande gesien het, maar Smuts het in ‘n skitterende toespraak sterk steun aan die Eerste Minister gegee. Hy het daarop gewys dat die Statuswetsontwerp slegs regskrag verleen aan ‘n toestand wat lankal, en veral sedert die Balfour-verklaring, die konstitusionele praktyk was. Hy het herhaal dat die Unie ‘n soewerein internasionale staat was wat deur die wetsontwerp erkenning kry, maar dat Suid-Afrika ook terselfdertyd uit vrye wil ‘n lid van die Statebond was.
Die lede wat die wetsontwerp opponeer, moet geloof hê in die goeie verstand van die volk, want tensy die nasionale trots bevredig word, sal daar nooit rassevrede wees nie. Die wortel van rassestryd is reeds besig om te verdor en hulle behoort nou die wortel van die konstitusionele stryd wat Suid-Afrika verdeeld hou, af te sny. Dan sal daar vrede in die land wees. Hulle moet die wetsontwerp aanvaar as een van die hoekstene van die land se toekomstige eenheid en krag.
Die wetsontwerp is aangeneem met slegs die teenstand van Stallard en sy volgelinge. Vir Hertzog was dit die bereiking van ‘n groot ideaal.
Die benoeming van ‘n Suid-Afrikaner as goewerneur-generaal in die persoon van sir Patrick Duncan, en spesiale wetgewing vroeg in 1937 t.o.v. die abdikasie van koning Eduard VIII, was slegs die praktiese toepassing van die soewereine status van die Unie. Die enigste anomalie wat oorgebly het, was die reg van appèl na die Geheime Raad.
Bantoewetgewing van 1936
Hertzog het intussen nooit sy voorgestelde oplossing van die Bantoeprobleem uit die oog verloor nie. Die samesmelting van partye het hom ten einde laaste die kans gegee om die nodige twee-derde-meerderheid te verkry. Sedert geruime tyd was sy wetsontwerpe reeds deur die gesamentlike gekose komitee van die parlement oorweeg. In Mei 1935 het die komitee verslag gedoen en twee wetsontwerpe aanbeveel. Die eerste het gehandel oor poltieke verteenwoordiging van Bantoes.
Bantoeverteenwoordiging
Dit het voorgestel dat die 11 000 Bantoekiesers in Kaapland wat op daardie tydstip op die gemeenskaplike kieserslys was, hul stemreg sou behou, maar geen nuwe kiesers sou daarby gevoeg word nie. Alle ander Bantoes wat dwarsdeur die Unie vir die kiesreg in aanmerking kom, sou in vier kiesafdelings verdeel word met die reg om vier senatore te kies, nl. een elk vir die Transkei, die res van Kaapland, Natal en die Vrystaat-Transvaal. Daarbenewens sou die eerste twee kiesafdelings ook twee lede van die Kaapse Provinsiale Raad kies. Die vier Bantoe-kiesafdelings sou ook 12 lede van ‘n Naturelle Verteenwoordigende Raad kies wat verder sou bestaan uit 4 benoemde lede, 5 Hoof-Naturelle-kommissarisse met die Sekretaris van Naturellesake as voorsitter.
Teen hierdie aanbevelings van die gekose komitee het ‘n sterk minderheid wat Smuts en Hofmeyr ingesluit het, beswaar gemaak, want hulle was ten ene male gekant teen die uitsluiting van die Kaapse Bantoes van die gemeenskaplike kieserslys. Die kabinet was in twee kampe verdeel oor die saak en Hertzog was verplig om toegewings te maak. Smuts en die meerderheid van die opponente van die wetsontwerp het ‘n gewysigde maatreël aanvaar waarvolgens die Kaapse Bantoekiesers hul stemreg behou, hoewel op’n aparte kieserslys.
Kaapland sou in drie kiesafdelings verdeel word wat elk een blanke lid van die Volksraad kies bo en behalwe die 150 gewone lede. Ander Bantoekiesersin die res van die land sou glad nie in die Volksraad verteenwoordig wees nie, maar wel in die Senaat, soos oorspronklik voorgestel. Die Naturelle Verteenwoordigende Raad sou slegs adviserende magte hê.
Hoewel liberale lede en allerlei ander organisasies buite die parlement volhard het in hulle teenstand, is die gewysigde wetsontwerp ná ‘n gesamentlike sitting van die twee Huise op die wetboek geplaas met ‘n meerderheid van 169 teen 11.
Die “Naturelletrust”
Die tweede wetsontwerp wat die gekose komitee aanbeveel het, het minder teenstand uitgelok. Dit het gehandel oor addisionele grondvoorsiening en die stigting van ‘n uniale Naturelletrust. Dit het voorgestel om die bestaande Trusts te amalgameer en onder die goewerneur-generaal te plaas. Die gelyste gebiede van 1913 sou aangevul word deur verdere vrystelling van grond, sodat die totale oppervlakte vir bewoning en besit deur Bantoes op sowat 15 miljoen hektaar te staan sou kom. ‘n Deel van die vrygestelde gebied was kroongrond en kon dadelik onder beheer van die Trust geplaas word, maar die res moes geleidelik aangekoop word.
Daar is gehoop om op hierdie manier ‘n groter aantal Bantoes in hul eie gebiede van ‘n leeftog te voorsien, maar die toekoms sou uitwys dat dit nog geensins voldoende was nie. Met grondaankoop is aanvanklik min vordering gemaak en dit is verder vertraag deur die uitbreek van die oorlog in 1939.
Alles in ag geneem, was die twee maatreëls, anders as wat indertyd gehoop is, geen oplossing van die Bantoe-vraagstuk nie. Dit het inteendeel mettertyd goter afmetings aangeneem en die trek na die blanke stedelike gebiede het aangehou.
Die Kleurling-vraagstuk
Van die Hertzog-plan m.b.t. die Kleurlinge het niks tereg gekom nie. ‘n Kommissie wat in 1934 benoem was om die saak te ondersoek, het in Augustus 1937 verslag gedoen en aanbeveel dat stemreg verleen word aan Kleurlinge in al die provinsies van die Unie en dat hulle op die gemeenskaplike kieserslys saam met die blankes geplaas word. Maar die teenstand van baie blankes is intussen opgewek en die Nasionale Party het die politieke en residensiële segregasie van die Kleurlinge geëis.
Die Verenigde Party was glad nie eensgesind oor die saak nie en sommige van sy lede het heimlik dieselfde gevoelens gekoester soos die Nasionaliste. Die Kleurlinge het rusteloos geword en bgin eis dat die aanbvelings van die kommissie uitgevoer word. In Maart 1939 het hulle betogings, gepaard met geweld, in Kaapstad gehou en daar was aanduidings dat ‘n anti-blanke gevoel by hulle toegeneem het.
Wat aanvanklik geen vraagstuk was nie, het geleidelik een begin word en die blankes was onderling verdeeld oor die Kleurling-vraagstuk net soos oor die Bantoe-vraagstuk. Ook die Kabinet was nie eensgesind nie en Hertzog se Kleurlingwetsontwerp is stilweg laat vaar. Dit was die laaste geleentheid wat die Kaapse Kleurlinge gehad het om hul regte na die ander provinsies uitgebrei te kry. Voortaan was hulle op die verdediging.
Die Indiërs
Sedert die Kaapstadse ooreenkoms was die Indiër-vraagstuk nog steeds aktueel, want die Indiërs het ten ene male geweier om segregasie te aanvaar. Ook het hulle gestadig die ekonomiese belemmerings in hulle pad deurbreek. In Transvaal was hulle gekant teen die beperkings op hul regte en die blankes was gebelg oor hulle indringing in blanke woonbuurte.
In 1932 het die parlement besluit dat hulle geen vaste eiendom in stedelike gebiede mag bewoon nie, behalwe insekere gereserveerde wyke. In Oktober van daardie jaar is ‘n kommissie met regter Feetham as voorsitter benoem om ondersoek in te stel na die praktiese toepassing van die wet. Die Indiërs het geweier om getuienis af te lê en in 1935 het die kommissie gerapporteer dat die omvang van Indiër-indringing in blanke buurte, en die Indiër-aandeel in die groothandel nie so groot was as gemeen is nie. Dit het aanbeveel dat ‘n aansienlike deel van Johannesburg vrygestel word van die toepassing van die wet. Dit het ook positief aanbeveel dat om handelskompetisie te beperk, Indiërs makliker tot ander beroepe toegelaat moet word.
Die verslag is aanvaar en die aanbevelings is in 1936 beliggaam in ‘n wysigingswet op Indiër-grondbesit in Transvaal. Vir die eerste keer is dit wetlik bepaal dat Indiërs in sekere omstandighede grond in Transvaal mag bewoon en besit. Baie blankes was bitter gekant teen die toegewing. Maar die Indiërs het aangehou agiteer vir gelyke politieke regte en beswaar gemaak teen hul klassifikasie met nie-blanke bevolkingsgroepe.
Oplaaiing van anti-Joodse gevoel
Met die toename van ‘n anti-Joodse gevoel gedurende die jare dertig, het ‘n nuwe faktor sy verskyning in Suid-Afrika gemaak. Voor dié tyd was daar nooit ernstige tekens van enige gevoel teen die Jode in Suid-Afrika nie, maar die toenemende moeilikhede wat Jode in Europa van die Hitlerbewind in Duitsland ondervind het, het die immigrasiestroom na Johannesburg e.a. stede laat aangroei. Teen 1936 het die Jode 4,5% van die totale blanke bevolking uitgemaak. Hulle het ‘n groot seggenskap in sake-ondernemings gehad en veral in die mediese en regsprofessies het hulle ‘n buitengewone aandeel gehad.
Van die nuwe immigrante was daar baie uit Oos-Europa en hulle was nie so maklik assimileerbaar nie. Geleidelik het daar ‘n gevoel teen hulle ontstaan en dit is deur Nazi-propaganda aangewakker. Reeds in 1930 het die parlement ‘n Kwotawet aangeneem wat die praktiese uitwerking gehad het om slegs ‘n beperkte aantal Jode uit Oos-Europa toe te laat en teen 1936 was daar ‘n aansienlike agitasie om nog skerper op te tree.
‘n Beweging, bekend as die Gryshemde en geskoei op Duitse lees, het ontstaan en hom bewyer vir allerlei optrede. In politieke opsig het dit nooit invloed verkry nie, maar tog was daar baie jong mense wat met welgevalle na die Nasionaal-Sosialisteise bewind van Hitler gekyk het. ‘n Skielike golf van Joodse immigrasie in 1937 het die regering oorreed om nuwe wetgewing aan te neem om sodanige immigrasie te beheer.
Die ou Kwotawet is herroep en ‘n Immigrasieraad met diskresionêre magte oor die binnelaat van vreemdelinge is in die lewe geroep. Hoewel die wet nie spesifiek na Jode verwys het nie, was dit tog die bedoeling om hulle, onder druk van die openbare mening, soveel moontlik uit te sluit. Selfs daarna het die agitasie voortgeduur en die Transvaalse Nasionale Partykongres het besluit dat Jode nie meer lede van die party mag wees nie.
Daar was duistere sinspelings dat hulle Kommuniste is en verantwoordelik vir die toenemende rasse-onrus in die land. Uiteindelik was daar ‘n aansienlike mate van anti-Joodse gevoel in die land en dit was nie sonder gevolge nie.
Die toestand in 1936 Die bevolking
Die algemene toestand van die Unie in hierdie jaar word weerspieël in die sensus van 1936. Uit die totale bevolking van meer as 9-1/2 miljoen was daar 2 miljoen Blankes, 6-1/2 miljoen Bantoes, ¾ miljoen Kleurlinge en 219 000 Asiate. Transvaal het die grootste bevolkingstoename getoon sedert 1911. In 1936 het sowat ‘n vyfde van die totale bevolking op die Witwatersrand gewoon en byna die helfte van die blankes van Transvaal.
In daardie jaar was daar ook meer as dubbel soveel Bantoes in blanke gebiede woonagtig as in 1911, nl. byna 1 700 000 of meer as 22% van die totale getal Bantoes wat as ongeskoolde arbeiders en huisbediendes ‘n bestaan gemaak het tussen die blankes. Op die Witwatersrand alleen was daar byna 600 000 Bantoes teenoor 400 000 blankes. Die helfte van hulle was as arbeiders in die myne werksaam. Die drang na die nywerheidsgebiede was sterker as ooit.
Myne en nywerhede
In 1936 het gefabriseerde goedere meer as R120 miljoen verdien, terwyl die myne se goudopbrengs slegs R96 miljoen bedra het. In die ekonomie van die land het die sekondêre nywerhede reeds ‘n faktor van belang geword. Landbouprodukte ter waarde van R40 miljoen is uitgevoer en nog baie meer is in die land self verbruik. In daardie stadium was die Unie nog ‘n groot invoerder van nywerheidsprodukte en wel tot ‘n waarde van R124 miljoen. Ekonomies was die land solvent en stabiel en die voorspoed is ook in die staatsfinansies weerspieël.
Die staatsfinansies
Sedert 1911 het die jaarlikse staatsinkomste byna verdubbel. Daartoe het die myne meer as een kwart bygedra in die vorm van inkomstebelasting, oorwinsbelasting en ‘n goudwinsoorbelasting. Die ander groot bron van inkomste was doeane en aksyns, wat selfs meer as die goudmyne tot die staatskas bygedra het. Die netto openbare skuld het gestyg van R232 miljoen in 1911 tot byna R500 miljoen. Die skuld per hoof van die blanke bevolking was baie minder as dié van Australië en ‘n goeie teken was die daling in die persentasie van die buitelandse skuld van 92% tot 41% van die totaal.
Met die verbetering van die finansies het Havenga weer groot jaarlikse surplusse op die begroting getoon en die regering was in staat om sy maatskaplike dienste grootliks uit te brei. Die geldelike hulp aan boere is voortgesit enbelastings is verminder. Die pensioenfondse is weer solvent gemaak en verbeterde pensioene vir amptenare is inj 1936 ingestel. Ouderdomspensioene is verhoog en ‘n skema vir werkloosheidsversekering is in werking gestel.
Verbetering van die verkeer
Met die verbetering in die algmene ekonomiese toestand het ook die spoorwegfinansies herstel. Die opgehoopte tekorte kon uitgewis word en groot verbeterings in die spoorwegverkeer kon in die vooruitsig gestel word. In 1935 het die parlement wetlike voorsiening gemaak vir ‘n stelsel van nasionale paaie. ‘n Nasionale padfonds is in die lewe geroep en ‘n deel van die inkomste uit doeaneregte op petrol is daarin gestort. ‘n Nasionale Padraad sou die fonds administreer en in die jare daarna het ‘n hele netwerk van geteerde paaie tot stand gekom wat die groot stede aanmekaar verbind. Tien jaar later is reeds meer as 3200 km geteerde paaie gebou.
Ook die lugdiens is gemoderniseer. Voor 1934 is lugreisigers en lugpos deur ‘n private maatskappy tussen verskillende stede vervoer, maar in Januarie 1934 is daardie dienste deur die staat oorgeneem. Die Suid-afrikaanse Lugdiens, wat toe in die lewe geroep is, is onder beheer van die Spoorweë en Hawens-Administrasie gestel en ‘n gereelde diens is tussen Kaapstad, Johannesburg en Durban ingestel. In 1935 is ook die lugdiens van Suidwes-Afrikamet die S.A.L. geamalgameer. Die jaar daarna is die Britse lugdiens op Suid-Afrikamet die Unie se lugdiens aaneengeskakel.
Groot verbeterings van die hawegeriewe vir die oorsese pos- en passasiersdiens is ook aangekondig. Die regering het besluit om die Kaapse hawe te vergroot en te moderniseer deur ‘n groot deel van Tafelbaai droog te lê en ‘n nuwe dok wat die grootste skepe kan huisves, te bou. In Desember 1936 het die werk om ‘n nuwe seemuur te bou, begin en in Mei 1938 is ‘n aanvang gemaak met die drooglêwerk. Kaapstad het 200 hektaar grond vir ‘n nuwe spoorwegstasie e.a. gebou daardeur gewen en terselfdertyd het die grootste droogdok in die suidelike halfrond ontstaan.
‘n Belangrike stap is ook gedoen met die oprigting van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Voor 1936 was die uitsaaidiens in die hande van ‘n private maatskappy, maar in daardie jaar het die parlement deur wetgewing ‘n publieke korporasie in die lewe geroep om alle radiodienste te beheer. ‘n Raad van nege lede is benoem en met die nodige magte toegerus. Een van die grootste oogmerke van die Raad was om die belange van die Afrikaanse sowel as die Engelse kulture te bevorder.
Die Bemarkingswet
In die landboukundige ontwikkeling van die Unie was die aanname van die Bemarkingswet in 1937 ‘n mylpaal. Kragtens die wet word die produksie en bemarking van loandbouprodukte gereguleer deur bemarkingsrade waarin die belange van produsente en verbruikers tesaam verteenwoordig is. Die bemarkingsrade moet ook sorg vi die gradering en standardisering van produkte en die minister adviseer aangaande pryse en verkope.
So het daar mettertyd rade vir die beheer van suiwelprodukte, tabak, mielies, koring, droë vrugte,sitrus, lewende hawe, vleis, wol e.a. produkte tot stand gekom. Die bemarkingswet het gesorg vir stabliteit in die landbou en dit kan tereg beskou word as die Magna Charta van ‘n gesonde boerdery.
Die verkiesing van 1938
Op die vooraand van die algemene verkiesing van 1938 het die regering alle rede gehad om tevrede te wees met die positiewe werk wat dit veral vir die stoflike welsyn van die land verrig het. Dit het die Unie se staatsregtelike status op ‘n vaste wetlike basis geplaas en die Bantoe-vraagstuk tot die tevredenheid van die meeste blankes gereël. Die regering het ook die finansies herstel, die verkeer verbeter, die landbou uit die ekonomiese moeras gered en in die algemeen die vooruitgang van die land bevoder.
Die lewenspeil het aanhoudend begin styg. Daar was min werkloosheid en die sakewêreld het gefloreer. Ook die mynbou kon met vertroue kyk na groot toekomstige uitbreiding.
Gedurende die eerste termyn van die Verenigde Party het die opposisiepartye inderdaad min aanleiding tot ernstige kritiek gehad en die uitslag van die verkiesing was ‘n uitgemaakte saak. Uit die totaal van 153 setels in die Volksraad het die Verenigde Party 111 gewen, die Nasionale Party 27, die Dominiumparty 8 en daar was verder 3 Arbeiders en 1 Sosialis.
Die herontwaking van Afrikaner-nasionalisme
Die tydperk onmiddellik ná die samesmelting van die twee groot partye was ‘n moeilike een vir die oorblyfsel van die Nasionale Party, aangevoer deur dr. Malan. Die party het ‘n laagtepunt in sy geskiedenis bereik en dit kon moeilik aanspraak oop die naam “nasionaal” maak, aangesien Hertzog al sy groot beginsels opgeneem het in die program van die Verenigde Party. Hertzog het beweer dat Malan sy volgelinge mislei en dat hulle net ‘n klompie koppige mense was met geen ander motief as wantroue in Smuts nie.
Malan se taak
Behalwe in Kaapland moes die Nasionale Party van die begin af herbou word en dit kon die partyleiding slegs regkry deur die Afrikanerdom te oortuig dat Hertzog die saak van nasionalisme in die steek gelaat het. Omstandighede het Malan se stryd begunstig. Gedurende die eerste paar jaar moes hy feitlik ‘n agterhoedegeveg voer en dit het gelyk of hy min vordering maak. Die Verenigde Party se positiewe werk het min geleentheid vir kritiek gegee en die algemene voorspoed het daartoe meegewerk.
Die Calvinisme
Daarteenoor het Malan se beweging, hoewel aanvanklik klein, die steun geniet van die grootste deel van daardie kulturele en intellektuele kring wat voorheen so sterk agter Hertzog gestaan het. Inderdaad het van sy vroeëre ondersteuners sy sterkste teenstanders geword. Malan het ook ‘n invloedryke Afrikaansse pers tot sy beskikking gehad en dit was juis een van die Verenigde Party se gebreke dat hy nie oor ‘n sterk Afrikaanse dagblad beskik het nie.
Malan het ook die steun gehad van baie Calviniste en Calviniste het altyd ‘n sterk invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die politieke en nasionale bewussyn van die Afrikaners. Die Calvinisme was steeds gekant teen alle sweem van imperialisme of Britsgesindheid en liberalisme. Dit het altyd gewerk in die rigting van ‘n eksklusiewe Afrikaanse nasionalisme as die waarborg vir die handhawing van die volkstradisies en godsdienstige oortuigings.
Die kultuurbeweging
Malan het ook sterk steun geniet van die kant van Afrikaanse kulturele leiers. Die ekonomiese herlewing het gepaard gegaan met ‘n herlewing van kulturele aktiwiteite. Teen 1936 het die kultuurbeweging ‘n mate van rypheid breik. ‘n Nuwe geslag Afrikaners het in die stede ontstaan. Hulle het hulle wel in ‘n mate met die stadslewe vereenselwig, maar in die stede het hulle hul republikeinse en nasionale oortuigings nog met hulle omgedra. Hulle was ook die stryders vir die Afrikaanse taal en kultuur, veral in Transvaal.
Reeds in 1930 het die F.A.K. (die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) sy hoofkwartier in Johannesburg gevestig. Dit was asof jong Suid-Afrika daarmee sy vaandel binne die vyand se bastion geplant het as ‘n uitdaging aan sy teenstanders en ‘n wekroep tot sy eie mense. Daar was ‘n steeds sterker neiging by baie stedelike Afrikaners om die kultuurstryd met die politieke stryd te vereenselwig en onbewus is die bande tussen die twee versterk, want die nasionale gees van die Afrikaners het albei omvat.
Die onderwys
Gedurende die jare dertig het ‘n toenemende getal jong Afrikaners die onderwys as beroep gekies en geleidelik ‘n oorwegende invloed daarin gekry. Afrikaanse onderwysers het ‘n kulturele (en politieke) invloed verkry wat nie tot die klaskamers beperk gebly het nie. ‘n Hele nuwe geslag het ontstaan, vervul van ‘n diepe agting vir sy eie taal en geskiedenis. Dit het ‘n groot faktor agter die skerms geword en Hertzog het dit intuïtief aangevoel, soos sy groeiende antipatie teen onderwysers en selfs predikante getoon het.
Toenemende Afrikaner-getalsoorwig
Die sensus van 1936 het bewys dat die Afrikaners wat getalle betref, vinnig besig was om die oorhand te kry. Van die totale blanke bevolking van 2 miljoen het 1 121 000 Afrikaans as huistaal gebruik teenoor slegs 783 000 Engelssprekendes. Hulle het 56% van die blanke bevolking uitgemaak en veral in die ouderdomsgroepe onder 21 jaar het hulle oorwig gedurig toegeneem. In die ouderdomsgroep tussen 7 en 21 jaar was die verhouding 64,6% tot 35,4% in die guns van Afrikaans. Onder 7 jaar was dit 68,2% teenoor 31,8%.
Dit beteken dat meer as twee maal soveel Afrikaanssprekende kinders as Engelssprekendes was. Die rede vir hierdie verskynsel was die hoër geboortesyfer van die Afrikaners, en steeds meer jong mense is beïnvloed t.g.v. Afrikaanse nasionale ideale en veral die republikanisme, wat gebou is op die herinnering aan die verlede.
Hertzog se reaksie
Hoewel die Verenigde Party skynbaar onwrikbaar sterk gestaan het, was alles binne sy geledere tog nie pluis nie. Teen 1938 was daar tekens dat aangeleenthede soos die vlag, die volkslied, die reg tot neutraliteit en afskeiding, en die verdeling van die Kroon van tyd tot tyd tot wrywing aanleiding gegee het. Oor fundamentele vraagstukke het Hertzog en Smuts van mekaar verskil, maar hy het tot die eenheid in die Verenigde Party en met Smuts probeer handhaaf en daarom het baie Afrikaners die indruk begin kry dat die Eerste Minister nie langer omgegee het vir sake wat hom vroeër na aan die hart gelê het nie.
Daarby het Hertzog hom in daardie tyd baie skerp oor teenstanders uitgelaat. Hy het aanvalle gemaak op predikante, kultuurorganisasies en die Broederbond, ‘n vereniging wat hy verantwoordelik gehou het vir die volgehoue agitasie teen hom. Hy het dit in die openbaar as ‘n ongewenste liggaam bestempel. In sy reaksie het dit hom ontgaan dat hy besig was om daardie magte te repudieer wat die hoofbron van sy oorspronklike beweging se krag was.
Van hulle kant was die “Malaniete”, soos dr. Malan se volgelinge deur hul teenstanders genoem is, ook geneig om skerp taal te gebruik en die peil van die politiek het ‘n laagtepunt bereik. Intussen het Smuts op die agtergrond gebly, sy humeur beteuel en die Afrikaners toegelaat ommekaar te beveg. Sy eie nadere gevolg is daardeur nog versterk. Hulle het gehoop dat hy eendag Eerste Minister sou word.
Teen 1938 kon slegs ‘n diep emosionele opwelling binne die Afrikanerdom se gemoed of ‘ n onberekenbare buitelandse faktor die eenheid van die Verenigde Party versteur. Daardie emosionele element is verskaf deur die Voortrekker-eeufees van 1938.
Invloed van die eeufees
Sedert 1936 het die historiese verlede die aandag van die Afrikaners meer en meer in beslag geneem. Duisende mense het hulle klaar gemaak om die Groot Trek te herdenk. Die Groot Trek is geloof as die een gebeurtenis wat nie net die blanke beskawing in Suid-Afrika gered het nie, maar ook die grondslae van republikanisme gelê en die voortbestaan van die Afrikanerdom as volk verseker het. Waar die kultuurbeweging ‘n bondgenoot van Malan in die stryd om nasionale voortbestaan was, het die eeufeesvierings gesorg vir die emosionele impuls wat by die Verenigde Party afwesig was.
Dit het ‘n magsfaktor geword wat onweerstaanbaar in die politiek was. Afrikaanse koerante en tydskrifte het ‘n gereelde stroom artikels gepubliseer wat die prestasies van die Groot Trek beklemtoon het , en daar is besluit om ‘n waardige monument op ‘n heuwel by Pretoria op te rig om die groot gebeurtenis te herdenk. Die hoeksteen sou op 16 Desember 1938 gelêword, presies 100 jaar ná die slag van Bloedrivier.
Om die plegtige geleentheid te kenmerk, is ‘n simboliese trek met ‘n aantal ossewaens van suid na noord dwarsdeur die land georganiseer. Hulle sou verlede en hede met mekaar verbind. Die trek is in Augustus 1938 van stapel gestuur en orals langs die pad is plaaslike feesvierings gereël. Mans het hul baarde laat groei, mense het hulle inVoortrekkerdrag geklee, terwyl volsliedere weerklink het.
Die Voortrekkergeskiedenis is oor en oor herhaal en na mate die waens die eintpunt van die trek by die toneel van die monument genader het, het die vlam van vaderlandsliefde hoër gebrand. Die geesdrif was by wyle byna histeties en die nasionale polsslag het versnel en Langenhoven se gevleuelde woorde “die pad van Suid-Afrika” was op duisende lippe.
Die gevoel was oorweldigend dat Afrikaners bymekaar hoort op kuklturele en politieke gebied. Hulle het ‘n gemeenskaplike erfenis uit die verlede besit waaraan by implikasie die Engelssprekendes geen aandeel gehad het nie. Afrikaanssprekendes van die Verenigde Party en veral dié wat voorheen Nasionaliste was en Hertzog gevolg het, is deur die gevoelstroming beetgepak.
Die R.D.B. en die O.B.
Terwyl politieke verskille vir die oomblik op die agtergrond gedring is, is twee bewegings uit die simboliese grek gebore. Die eerste was die Reddingsdaadbond (kortliks R.D.B.), ‘n beweging t.g.v. die ekonomiese rehabilitering van die armer Afrikaners. Dit is in die lewe geroep deur dr. J.D. Kestell van die Vrystaat. As geestelike leier was hy hoog aangeskrewe by almal en sy besieling het die R.D.B. diep laat inslaan in baie kringe.
Die tweede beweging was die Ossewabrandwag (die O.B.), wat in die lewe geroep is deur kol.C.J. Laas. Sy strewe was om die ideale van die Groot Trek lewend te hou en verder die Afrikaanse kultuurbeweging te stimuleer. Aanvanklik het dit minder aandag as die R.D.B. getrek, maar dit was bestem om ‘n aansienlike rol in die politiek te speel.
Die politieke uitwerking van die feesvierings
Onbewus het die feesvierings van 1938 die grondslae van die Verenigde Party ondermyn, want dit het ‘n ander soort nasionale eenheid verkondig. Dit het selfs die weg voorberei vir ‘n toenadering van nasionaalgesindes in albei kampe. Selfs voor 16 Desember 1938 het die Voortrekker-eeufees ‘n geweldige demonstrasie van volkseenheid bo politieke verdeeldheid geword.
Die klimaks het gekom met die hoeksteenlegging van die monument. Die indrukwekkende seremonie is bygewoon deur tienduisende Afrikaners wat dae lank op die terrein gekampeer het. Die ou rebelleier, genl. J.C.G. Kemp, ‘n lid van die regering, was aanwesig en in sy geesdrif het hy tot groot ontsteltenis van Engelstalige lede van sy eie party aangekondig dat die militêre hoofkwartier, “Roberts Heights”, voortaan as Voortrekkerhoogte bekend sou staan. Sy daad het byna ‘n kabinetskrisis veroorsaak, maar dit was ‘n aanduiding van hoe die wind gewaai het.
Die volkslied en vlag
Dit was nie die enigste gevaarteken vir die Verenigde Party nie. Sedert etlike jare is Langenhoven se geïnspireerde lied “Die Stem van Suid-Afrika”, deur Afrikaners as ‘n nie-amptelike volkslied gebruik en in 1938 is ‘n beweging van stapel gestuur om dit amptelik erken te kry. Die saak is selfs in die parlement geopper en die Eerste Minister het verklaar dat “Die Stem” by amptelike geleenthede as ‘n volkslied gebruik sou word, terwyl “:God Save the King” slegs ‘n gebed vir die Koning van Suid-Afrika was, wat gespeel sou word op plekke waar die Britse vors deur die goewerneur-generaal verteenwoordig word.
Engelssprekendes het Hertzog se verklaring nie goed opgeneem nie en Smuts het privaat hul besware by Hertzog gelug. Maar die Eerste Minister wou geen toegewings maak nie en voortaan is slegs “Die Stem” by amptelike geleenthede gehoor. Die eenheid van die Verenigde Party kon oor hierdie twispunt gehandhaaf word alleen omdat Smuts nie bereid was om tot die uiterste te gaan nie.
Ook die gebruik van die amptelike vlae het tot moeilikheid aanleiding gegee. Op 31 Mei 1938 het die Britsgesinde seksie beswaar gemaak. Weer het Hertzog sy wil deurgesit en die storm het bedaar. Die toestand het egter ongemaklik gebly en toe die werklike lojaliteit van die lede van die Verenigde Party opnuut getoets is, was dit genoeg om tot ‘n skeuring in die geledere van die regering te lei. Aan daardie toets is die party onderwerp deur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.
Die opkoms van Nazi-Duitsland
Sedert jaar en dag het die internasionale toestand versleg, en veral toe Japan die Volkerebond deur ‘n beleid van imperialisteise uitbreiding ten koste van Sjina uitgetart het. Erger nog was dit sedert die koms van Duitsland onder Hitler met sy griewe oor die verdrag van Versailles, 1919, en met sy pogings om die beperkende bepalings t.o.v. bewapening en die verlies van grondgebied te ontduik. Die aanspraak van Duitsland op sy voormalige beskermingsgebied, Suidwes-Afrika, waarvan die Unie die mandaathouer was, het Suid-Afrika ook geraak.
Aanvanklik was daar ‘n ruime mate van simpatie met Duitsland, wat so swaar onder die verdrag van Versailles gely het, maar meer en meer mense het verontrus geword oor Hitler se metodes en sy vervolging van die Jode. Suid-Afrikaners was in elk geval nie geneë om Duitsland as buurman in Suidwes-Afrika terug te kry nie en het sy eis om die teruggawe van sy oorsese besittings verwerp.
In Italië het Mussolini ook aspirasies in Afrika gehad. In 1936 het hy die Volkerebond uitgetart en Etiopië verower en by sy Oos-Afrikaanse besittings ingelyf. Die inlywing van Oostenryk by Duitsland in Maart 1938 en die Sudeten-krisis in September daardie jaar het nòg Brittanje nòg Suid-Afrika direk geraak, hoewel dit ‘n groot magsversterking van Duitsland was.
Uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog
Hertzog het hom voorgeneem om in die geval van ‘n Europese botsing oor die bogemelde vraagstukke die Unie se neutraliteit te handhaaf en in September 1938 het die Kabinet dit goedgekeur. Hertzog het keer op keer verklaar dat die Unie aan ‘ n oorlog sou deelneem slegs indien sy belange direk geraak word en dit was ook die amptelike beleid van die Verenigde Party.
In Maart 1939 het Duitsland die orige gebied van Tsjeggo-Slowakye ingepalm en Hitler het geëis dat die korridor wat Oos-Pruise van Duitsland skei, weer by Duitsland gevoeg sou word. Pole wou nie toegee nie.
In hierdie stadium het Engeland begin herbewapen en gepog om ‘n militêre alliansie teen Duitsland op te bou. Hy was vasberade om geen verdere Duitse ekspansie toe te laat nie en het saam met Frankryk aan Pole ‘n militêre waarborg gegee teen enige Duitse aggressie.
Ook is onderhandelings in Moskou gevoer tussen Britse en Sowet-verteenwoordigers met die oog op ‘ n bondgenootskap teen Duitsland. Die Britse poging is ter elfder uur verydel a.g.v. ‘n onverwagte Duits-Russiese ooreenkoms wat op ‘n verdeling van Pole tussen hulle gemik was. Brittanje het Pole verseker dat hy sy woord desondanks gestand sou doen en oorlog was onvermydelik toe Duitse troepe Pole binnegeval het.
Op 3 September 1939 het sowel Brittanje as Frankryk Duitsland die oorlog aangesê en die groot vraag was nou of ook die Unie daarby betrokke sou raak. Dit was die finale toets van die werklike eenheid van die Verenigde Party.
Verdeeldheid in die Kabinet
Die parlement het juis op 2 September 1939 byeengekom om die Senaat se termyn, wat verstreke was, te verleng toe die berig van die Europese krisis bekend gemaak is. Almal het besef dat die parlement nou sou moes besluit oor die houding wat die Unie sou inneem. Op dieselfde dag het Hertzog die saak voor die Kabinet gelê en voorgestel dat die Unie soos die jaar tevore oor ander vraagstukke besluit is, ook oor die vraagstuk van die Poolse korridor sy neutraliteit sou handhaaf.
Dr. Malan het reeds namens sy party steun aan die Eerste Minister beloof, maar dit het geblyk dat die Kabinet hopeloos verdeeld was, want Smuts en sy aanhangers, die helfte van die kabinet, was nie breid om neutraal te bly nie. Die twee leiers kon slegs ooreenkom om die hele saak voor die parlement te lê.
Die besluit van die parlement
Terwyl hy die verdeeldheid van die Kabinet in die Volksraad aangekondig het, het Hertzog sy neutraliteitsmosie voorgestel. Hy het geargumenteer dat omdat Brittanje se belange in Europa geraak word, dit nie vanselfsprekend is dat die Unie die Britse voorbeeld moet volg nie. As die Unie in die oorlog gesleep word, sou dit die einde van sy lidmaatskap van die Statebond beteken. Dit was tans die geleë oomblik vir die parlement om die praktiese toepassing van die Unie se soewereine onafhanklikheid te toon. Dit was die finale toets van die lojaliteit van die Engelssprekendes aan Suid-Afrika.
Hy het verder gegaan en ‘n poging aangewend om Hitler se optrede te regverdig en dit het nie byval gevind nie. Dit was ongetwyfeld ‘ n taktiese flater, want hy het hom daardeur blootgestel aan beskuldiging dat sy mosie gegrond was op simpatie vir Duitsland en nie op suiwer konstitusionele argumente nie. Vir Smuts was dit daarna nie moeilik om te antwoord nie, hoewel hy nie in staat was om te bewys dat die Unie se belange werklik geraak word nie. Hy kon slegs sinspeel op ‘n Duitse strewe na wêreldheerskappy, maar kon tog daarop wys dat die soort neutraliteit wat Hertzog bepleit, deur vriend nog vyand erken sou word.
As amendement op Hertzog se mosie het Smuts voorgestel dat die Unie nie neutraal sou bly nie, dat dit sy eie gebied sou beskerm, maar geen magte oorsee stuur nie en dat die Unie se vryheid en onafhanklikheid met die oorlog gemoeid is.
Ná ‘n lang debat is Hertzog se mosie met ‘n meerderheid van 80 teen 67 verslaan. Saam met Smuts se aanhangers van die Verenigde Party het die Dominioniete, die Arbeiders en die Bantoeverteenwoordigers gestem. Die Nasionaliste het by die Eerste Minister se seksie van die Verenigde Party, meestal gewese Nasionaliste, gestaan. Hertzog het daarop die Goewerneur-generaal geadviseer om ‘n algemene verkiesing te laat uitskryf, maar sir Patrick Duncan, die Goewerneur-generaal, het geweier en die argument aangevoer dat die stemming in die Volksraad bewys het dat Smuts ‘n voldoende aanhang het om ‘n regering te vorm en dat dit onnodig was om die kiesers in so ‘n tyd van krisis te raadpleeg.
Hy het Hertzog se bedanking as Eerste Minister daarop aanvaar en Smuts gevra om ‘n nuwe kabinet saam te stel. Die eerste taak van die nuwe regering was om Duitsland die oorlog aan te sê. Prakties was dit die einde van die eenheid van die Verenigde Party en Suid-Afrika het ‘n kritieke tyd ingetree.
Smuts aan bewind
Vir Smuts het sy grootste oomblik aangebreek. Vir die eerste keer in sy loopbaan sou hy oor voldoende mag beskik om die lotgevalle van sy land te bepaal en hy het met goot energie aan die werk gespring. Op 6 September is ‘n staat van oorlog afgekondig. Dit sou nie slegs ‘n stryd teen ‘n buitelandse vyand afgee nie, maar nog meer ‘n politieke stryd aan die tuisfront. Dit sou nog meer ‘n stryd wees tussen die verskillende elemente van die opposisie onderling.
In Smuts se kabinet was ook die Dominiumparty deur kol. Stallard en die Arbeidersparty deur W. Madeley verteenwoordig, want sonder hulle hulp was hy nie in staat om te regeer nie. Aanvanklik was Smuts onseker van die steun wat sy regering onder die volk geniet het en dit was inderdaad geskyn of die teenstand teen die oorlogsbeleid baie sterk was. Hy kon staat maak op die groot stede met hul oorwegend Engelstalige bevolking, Natal en die oostelike provinsie, terwyl die platteland gedeeltelik agter Hertzog, gedeeltelik agter Malan gestaan het.
In die Volksraad was die regering se effektiewe meerderheid 17. Die opposisie kon staat maak op ‘n sterk Afrikaanse pers en hoeseer die oorlogsbeleid ingedruis het teen die gevoelens van ‘n groot deel van die volk, is bewys deur ‘n massa-demonstrasie van die anti-oorlogsgesindes op 9 September 1939 op die terrein van die Voortrekkermonument by Pretoria. Daar het tienduisende mense byeengekom en die volgelinge van Hertzog en Malan het hulle herstelde eenheid betuig.
Eerste oorlogsmaatreëls
Die eerste stappe wat die regering gedoen het, was om noodmaatreëls afte kondig, ten einde die oorlogsbeleid effektief te kan toepas en die binnelandse veiligheid te verseker. Dit het die teenstanders met groot misnoeë vervul, maar was in die omstandighede noodsaaklik. Dit het die regering met buitengewone magte beklee.
Behalwe sy eie portefeulje as Eerste Minister het Smuts ook die departement Verdediging behartig, en die leër, wat geensins in ‘n toestand was om aan ‘n oorlog deel te neem nie, van die grond af opgebou. Die verdedigingsmag is opgeknap en aangevul en die kusafweer versterk. Daar was geen gebrek aan vrywilligers nie. Origens is die produksie en toevoer van oorlogsvoorrade en ammunisie met groot energie ter hand geneem, instrukteurs is opgelei en ‘n skema geloods om Britse lugmagpersoneel in Suid-Afrika op te lei. Vyandsonderdane is geïnterneer.
Smuts is egter ernstig gekortwiek omdat hy nie wetlik in staat was om militêre eenhede oorsee te stuur nie. Almal het wel verwag dat Italië, Duitsland se bondgenoot wat koloniale besittings in Afrika gehad het, vroeër of later tot die stryd sou toetree, en Smuts het gemeen dat die Unie se werklike verdedigingslyn in Midde-Afrika geleë was,maar die opposisie het anders geargumenteer.
Smuts kon die Verdedigingsmag dus nie verplig om na die Noorde te gaan nie en was afhanklik van vrywillligers wat ‘n spesiale attestasie onderteken het dat hulle gewillig was om op enige plek in Afrika te veg. Om hulle van die ander te onderskei, het hulle ‘n rooi lus op elke skouer gedra. Dit het baie wrywing veroorsaak, omdat dit die ander soldate onder ‘n stigma geplaas het van anti-oorlogsgesindheid. Dit en indirekte druk het daatoe meegewerk dat feitlik elke soldaat uiteindelik die “rooi eed” geneem het.
Die teenstand in die parlement
Toe die parlement in Januarie 1940 byeenkom, het Hertzog, wat in November 1939 van die Verenigde Party weggebeek het, sy plek met sy aanhangers in die opposisiebanke ingeneem. Toe Smuts parlementêre bekragtiging van sy noodmaatreëls gevra het, het die opposisie dit hand en tand beveg. Maar die oorlogsteenstanders was alles behalwe verenig en Hertzog is met heelwat wantroue deur die gesuiwerde Nasionaliste bejeën.Hulle was nie maklik te oorreed om hom sy ou plek as leier van die Nasionale Party terug te besorg nie.
Mettertyd het Smuts die verdeeldheid in opposisiekringe op handige wyse uitgebruit. Die regering het hom daarteenoor sterker getoon as wat verwag is. Die oorlogskoalisie het geen krake getoon nie en is gedra op ‘n vloedgolf van geesdrif van die kant van die oorlogsvoorstanders. Die regering was in staat om nie alleen ‘n wet op oorlogsmaatreëls deur die parlement aanvaar te kry nie, maar ook is ‘n Nywerheidsontwikkelingskorporasie in die lewe geroep om los kapitaal oproduktief te maak. Origens is geldelike voorsiening gemaak vir deelname aan die oorlog.
Uitbreiding van die oorlogsterrein
Die parlement was nog in sitting toe Hitler in April 1040 sy lente-offensief geloods het. Tot woede van die ondersteuners van die oorlog kon die Duitse inval in Holland en België die opposisie nie oorreed om sy teenstand te laat vaar nie. Die aktiewe toetrede van Italië tot die stryd in Junie 1940 het die toestand egter in ‘n belangrike opsig gewysig. Dit het die oorlog baie nader aan Suid-Afrika gebring en die regering kon dus van sy kant ‘n goeie rede aanvoer om aktief aan die stryd in Oos- en Noord-Afrika deel te neem.
In afwagting van Itallië se oorlogsverklaring het Smuts kort tevore ‘n deel van die Unie-lugmag In Kenia gestasioneer en Suid-Afrikaanse vliegtuie kon daarvandaan lugaanvalle op Italiaanse basisse in Oos-Afrika doen. Die Italiaanse lugmag is in ‘n groot mate onskadelik gemaak en in Julie 1940 het eenhede van die Unieleër in Kenia aangekom om deel teneem aan ‘n algemene Britse offensief teen Italiaans Somaliland en Abessinië.
Die politieke stryd in die Unie
In die mening dat Brittanje met die val van Frankryk en die oorheersing van die Europese vasteland deur Hitler die oorlog verloor het, hetdie opposisie ‘n vredesoffensief geloods. In Julie 1940 het Hertzog in ‘n ope brief ‘n beroep op Smuts gedoen om die stryd te staak, terwyl Malan hom beywer het vir ‘ n republiek ten einde die Unie los te maak van ‘n gemenebes wat soos hy gemeen het, tot ondergang gedoem was.
Smuts het die opposisie sy gang laat gaan en nieteenstaande die aandrang van sy ondersteuners, geweier om krygswet af te kondig. Hy het egter onverbiddelik opgetree teen ondermynende bedrywighede. Gewere in private besit is opgeroep en daardeur is ‘n moontlike gewapende opstand verydel. Vyandsonderdane sowel as Unieburgers wat verdink is van onwettige optrede, is geïnterneer.
S.A. in oorlogstyd
Te midde van heelwat politieke rumoer hetsmuts die land geleidelik op ‘n oorlogsgrondslag geplaas. ‘n Aansienlike leërmag is op die been gebring en in ‘n aantal oefenkampe opgelei. Ammunisie is plaaslik in groot hoeveelhede vervaardig en vir die eerste keer kon Suid-Afrikaanse fabrieke bomme, granate, mortiere en selfs houwitsers lewer. Pantsermotors is gebou en verskeie eenhede kon gemeganiseer word. In hierdie verband het die yster- enstaalwerke groot dienste bewys.
Afgesien van wapentuig het die nywerhede van Suid-Afrika die weermag ook voorsien van skoene, klere en beddegoed,voedsel, mediese voorrade en baie ander noodsaaklike dinge. Die voorsitter van Yskor, dr. H.J. van der Bijl, het as direkteur-generaal van oorlogsvoorrade groot dienste bewys. Terselfdertyd is ‘n ten volle toegeruste leër van 137 000 man op die been gebring en in drie aktiewe divisies ingedeel.
Baie Afrikaanssprekendes wat aanvanklik teen die oorlog gekant was, het aangesluit en uiteindelik is nie minder nie as 250 000 blanke troepe gemobiliseer, meestal vir dienste in die Unie. Duisende meisies en vrouens het eweneens vrywillig by die verskillende hulpdienste aangesluit en vir non-militêre doeleindes is ‘n Kleurlingkorps tot groot misnoeë van die opposisie op die been gebring.
Die opposisie aktief
Met die verskerping van die oorlogsmaatreëls het ook die opposisie aktiewer geword. Daar was heelwat anti-Joodse gevoel wat deur die Duitse kortgolfsender, Zeesen, aangewakker is. Onder die jonger elemente het die Nasionaal-sosialistiese ideologie posgevat en daar is propagande vir die sg. “gesagstaat” gemaak. Die begeerte na ‘n suiwer Afrikaner-republiek het sterk toegeneem en baie mense het geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle op ‘n Duitse oorwinning gehoop het.
Toe die parlement in Augustus 1940 byeenkom, het Hertzog tevergeefs ‘n vredesmosie voorgestel en die oorlogsteenstanders in die parlement het geen sterk vertoning gemaak nie. Hulle was onderling verdeeld en gedurende die tweede helfte van 1940 het die kloof tussen Hertzog en Malan steeds wyer geword. Dit het Smuts se taak vergemaklik.
Aanvanklik, in September 19398, was daar ‘n sterk begeerte onder Afrikaners dat die leiers hulle ou verskille sou vergeet en weer in die Nasionale Party verenig word. Hertzog en sy aanhangers het inderdaad reeds voor die einde van die jaar formeel die Verenigde Party verlaat, maar dit het spoedig geblyk dat die nie maklik sou gaan om die vroeëre eenheid van die Nasionale Party te herstel nie.
Toe Hertzog verklaar het dat hy nog steeds die beginsel van gelykheid van Afrikaners en Engelssprekendes onderskryf, het die volgelinge van Malan gemeen dat hy daarmee getoon het dat hy bereid was om Afrikanereenheid op te offer ter wille van diegene wat hom in September 1939 in die steek gelaat het. Hy is sterk gekritiseer deur baie wat geglo het in ‘n suiwer Afrikaner-republiek met uitsluiting van Britse en Joodse elemente. Dit kon natuurlik net verwesenlik word indien Duitsland die oorlog wen. Hertzog, weer, was nie bereid om beginsels wat hy dwarsdeur sy loopbaan verkondig het, te versaak nie.
Skeuring in die opposisiegeledere
Op die Vrystaatse Nasionale Partykongres in November 1940 is Hertzog se voorstelle vir ‘n nuwe program van beginsels afgestem en hy het dit tereg vertolk as ‘n teken van wantroue in sy leierskap. Gevolg deur Havenga en ‘n klein minderheid, het hy sy eie koers gegaan. Die meeste van sy volgelinge het met Malan versoen geraak. Sommige het o.l.v. Pirow ‘n ander organisasie, die Nuwe Orde, wat sterk Nasionaal-sosialisties geöriënteer was, in die lewe geroep, enkeles het hulle lot met Smuts ingewerp en nog ander het sonder ‘n politieke tuiste gebly.
Nog in Desember 1940 het Hertzog en Havenga hulle parlementêre setels bedank en die tydelike bondgenootskap tussen Hertzog en Malan is finaal beëindig. Hertzog het hom uit die openbare lewe teruggetrek. Hy is op 21 November 1942 oorlede. Met sy heengaan het Suid-Afrika een van sy grootste manne verloor. Hy was die vader van die soewereine onafhanklikheid van die Unie, die leier wat die volk bewus gemaak het van die bevolkingsprobleem en die groot kampvegter van die gelykheidsbeginsel.
In die parlement het Smuts na hom verwys as ‘n groot patriot wat steeds ‘n hoë peil van politieke eerlikheid gehandhaaf het. Vir baie jare was hy die werklike mondstuk van die Afrikanerdom, wat gelei het van politieke minderwaardigheid tot gelykheid met hul medeburgers van Britse herkoms. Van die groot nasionale beginsels wat hy in 1912 verkondig het, het hy nooit afgewyk nie en dit was hom beskore om die aanvaarding daarvan in wye kringe 20 jaar later te beleef.
Toename in die politieke chaos
Reeds voor Hertzog se onttrekking aan die politiek het die verwarring en onenigheid in die geledere van die opposisie begin toeneem. Vanaf die begin van 1941 het die Ossewabrandwag, met dr. J. van Rensburg wat as Administrateur van die Vrystaat bedank het, as nuwe kommandant-generaal op die voorgrond begin tree. Duisende mense wat geen heil in die partypolitiek gesien het nie, het by die beweging aangesluit in die hoop om daarin ‘n bo-politieke volkseenheid te verwesenlik.
Die O.B., met sy semi-militêre organisasie was sterk teen die Unie se deelname aan die oorlog gekant. Spoedig het daar botsings plaasgevind tussen sy lede en soldate en dit het gelei tot ernstige onluste in Johannesburg. Die O.B., wat hom aanvanklik as ‘n non-politieke organisasie verklaar het, kon aktiewe deelname aan die politiek nie voorkom nie. Dit het ‘n beroep gedoen op alle opposisie-elemente om saam te staan teen Smuts en geleidelik het dit alle pretensies om ‘n suiwer kulturele ligaam te wees, laat vaar. Malan het dit namens sy party as ‘n bondgenoot aanvaar, maar die vriendskap sou nie van lange duur wees nie.
Voortsetting van die oorlog
Terwyl Smuts die opposisie sy gang laat gaan het, het hy al sy aandag aan die voortsetting van die oorlog gewy. Unietroepe het ‘n aansienlike aandeel gehad in die verowering van Somaliland en Etiopië en in April 1941 was hulle die eerste om Addis Abeba binne te ruk. Van nou af het hulle deelgeneem aan die stryd in Noord-Afrika, waar ‘n Duitse korps onder genl. Erwin Rommel die Italiaanse strydmag te hulp gesnel het.
Gedurende 1941 het die Suid-Afrikaanse oorlogsekonomie vlot verloop. Daar was ‘n versnelde produksie wat die nywerheidsontwikkeling ten goede gekom het en hoewel daar tekens van voedseltekorte was, was die landbou redelik florerend. In Mei 1941 het die regering die gebruik van wit meel beperk, maar sy pogings om die volk te oorreed om opstoflike gebied offers te bring, het weinig sukses gehad. Daar is beperkings op die boubedryf geplaas en ten einde inflasie te bestry, is pryse gekontroleer.
Die toestand het ernstiger geword toe Japan in Desember 1941 tot die oorlog toegetree het. Weens die skeepstekort moes alle invoer streng beheer word en alles wat moontlik was, is van owerheidsweë gedoen om die volk oorlogsbewus te maak. Die val van die vesting Tobroek in Junie 1942 en die gevangeneming van ‘n hele Suid-afrikaanse divisie deur die Duitsers, was ‘n aansienlike terugslag, maar Smuts het ‘n suksesvolle beroep op die land gedoen om die verliese goed te maak.
Die ongunstige verloop van die oorlog vir die geallieerdes het die voorstanders van die oorlog intussen nog meer gedetermineerd gemaak en hulle het hul teenstanders as Nazi’s of “Malanazi’s” allerlei verwyte teen die hoof geslinger. Mense het mekaar oor en weer as verraaiers beskou en die verbittering het haas geen grense geken nie.
Breuk tussen die O.B. en die Nasionale Party
Terwyl dit gedurende die tweede helfte van 1942 geskyn het asof Duitsland die oorlog sou wen en die geallieerdes met die toetrede van Japan tot die oorlog aan Duitse kant in Desember 1941 orals op die verdediging gedruk is, het die oorlogsteenstanders in die Unie in alle erns ‘n republikeinse grondwet opgestel. Die pogings om hulle gedagtes te vormuleer het ernstige ideologiese verskille tussen hulle onderling aan die lig gebing.
Party Nasionaliste het gestreef na ‘n republiek soos dié van Paul Kruge; die Nuwe Orde van Pirow het voorkeur gegee aan ‘n Nasionaal-sosialistiese republiek volgens Duitse model en Van Rensburg met sy O.B. het die “gesagstaat” verkondig. Met die stryd op sy hewigste het die Transvaalse Nasionale leier, J.G. Strijdom, openlik sy geloof in ‘n parlementêre demokrasie betuig. Die oorgeblewe volgelinge van Herzog, wat nou as die Afrikanerparty bekend gestaan het en deur Havenga gelei is, het hulle eenkant gehou en hul tyd afgewag. Die stryd tussen hierdie groepe het in verbittering toegeneem.
Die O.B.-leier het herhaaldelik sy minagting vir die parlementêre stelsel en die partypolitiek uitgespreek en toe die Nasionale Party die Nuwe Orde met sy vreemde ideologie verwerp het, het Van Rensburg as die “eerste makelaar” dreigende taal begin gebruik. ‘n Breuk tussen die O.B. en die Nasionale Party het onvermydelik geword.
Reeds in Augustus 1941 het Malan tydens die Transvaalse kongres van sy party geëis dat die O.B. dadelik sy politieke bedrywighede staak. Van Rensburg het geweier en die partyban is oor die beweging uitgespreek. Nie lank daarna nie, is druk op alle partylede uitgeoefen om die O.B. te verlaat. Die gevolg was dat die O.B. wat alle parlementêre metodes verwerp het, vanaf 1942 sterk agteruit gegaan het wat ledetal betref. Alle pogings tot versoening was vrugteloos en teen die einde van daardie jaar was die O.B. as ‘n organisasie gebreek.
Verskerping van regeringsbeheer
Intussen het die Verenigde Party van krag tot krag gegaan en die regering het skerper opgetree teen ondermynende elemente. In Februarie 1942 is spesiale howe in die lewe geroep om saboteurs te verhoor. Vir sekere sodanige misdade is die howe verplig om die doodstraf op te lê.
Op ekonomiese terrein het die volk die skoen voel druk. Invoere uit non-sterlinggebiede is stopgesit en ‘n Invoer- en Uitvoerbeheerraad het noukeurige kontrole uitgeoefen. ‘n Pryskontroleur is benoem en petrol, olie en rubber is gerantsoeneer. ‘n voedselkontroleur is benoem en sy taak is bemoeillik deur swak oeste en tydelike tekorte.
Smuts het hoopvol gebly en selfs in daardie donker tyd aan die toekoms gedink. Hy het die benoeming van ‘n Maatskaplike en Ekonomiese Beplanningsraad aangekondig om die vraagstuk van sosiale hervorming en ekonomiese sekuriteit ná die oorlog te ondersoek.
Uitgawes van die staat het grootliks toegeneem en het gedurende die boekjaar 1942-1943 op nie minder as R280 miljoen te staan gekom nie. Dit is gedeeltelik deur lenings gedek en die staatskuld het vinnig toegeneem. As geheel was die ekonomie egter gesond en staatsinkomste het eweredig gestyg. Danksy ‘n ongeëwenaarde goudproduksie van R240 miljoen in 1942 was die Unie se betalingsbalans so gunstig dat ‘n aansienlike deel van die buitelandse skuld afgelos kon word.
Die krygskans het teen die einde van 1942 t.g.v. Suid-Afrika en sy bondgenote begin keer. Teen die end van Oktober het Montgomery die Duitsers by El Alamein in Egipte na die weste teruggeslinger en die Amerikaners en Britte het in Marokko en Algiers voet aan wal gesit, sodat die Spilmagte van die ooste en die weste tegelyk in Tunisië vasgedruk is. Suid-Afrikaanse leër-, lugmag- en vlooteenhede het ten volle aan die stryd deelgeneem. In Mei 1943 is die vyand in Tunisië tot oorgawe gedwing en die laaste Spiltroepe het uit Afrika verdwyn.
Kort tevore is die Unietroepe aan die stryd onttrek en omgevorm in ‘n nuwe 6de gepantserde divisie met die oog op verdere deelname aan die oorlog in Italië. Die bevel is opgedra aan genl.-maj. Evered Poole. Ook in Rusland is die Duitsers teruggedruk en in die Verre Ooste is die Japanse opmars gestuit. Voor die winter van 1943 het sake baie voorspoediger vir die Geallieerdes geword.
Die verkiesing van 1943
Smuts kon met vertroue ‘ n beroep om verdere steun op die kieserskorps doen. In die parlement was die opposisie, verdeel in 39 Nasionaliste, 17 lede van die Nuwe Orde en 9 lede van die Afrikanerparty, vrywel magteloos teen die Verenigde Party met sy 89 ondersteuners. Die verkiesing van Julie 1943 was ‘n oorlogsverkiesing en ook die soldate in aktiewe diens, hoewel ver van Suid-Afrika verwyder, kon hulle stem uitbring. Alles was in die guns van die regering se kandidate.
Die oorwinningstemming gepaard met die swakheid van die teenstand op die tuisfront, het aan Smuts ‘n oorweldigende meerderheid gegee. In die nuwe volksraad kon die regering staat maak op 110 ondersteuners teenoor 43 van die opposisie. Die land het onteenseglik die regering se oorlogsbeleid goedgekeur en wel met 650 000 stemme teenoor 350 000. Dit was Smuts se grootste triomf.
Maar dr. Malan en die Nasionale Party het tog ook vordering gemaak, want sowel die Afrikanerparty as die Nuwe Orde is heeltemal uitgeskakel en die enkele onafhanklike kandidate wat die vaandel van die O.B. gedra het, is deur die Nasionaliste verslaan. Die politieke toestand is opgeklaar en voortaan sou dit ‘n stryd wees slegs tussen die Verenigde en die Nasionale Party.
Vir Smuts en sy party het dit gegaan om die behoud van wat hulle verkry het in ‘n buitengewone tyd toe die regering deur kunsmatige politieke omstandighede begunstig is. Daarteenoor het die Nasionale Party van nouaf geveg om te herwin wat hy in 1934 verloor het. Die provinsiale verkiesings wat in Oktober 1943 plaasgevind het, het die uitslae van die algemene verkiesing bekragtig. Die Afrikanerparty het nie eens kandidate gestel nie.
Moeilikhede in die landbou
‘n Groot deel van die regering se werksaamhede het te doen gehad met die oorlogsfinansies en ekonomiese vraagstukke. Gedurende die eerste vier jaar van die oorlog het die uitgifte van note gestyg van R38 miljoen tot R94 miljoen en dit is gedek deur ‘n groter hoeveelheid goud in die Reserwebank. Tog was daar ‘n aansienlike mate van inflasie en pryse het aanhoudend gestyg.
Die regering was verplig om nie alleen winste te kontroleer nie, maar ook die maksimum pryse van ‘n groot aantal goedere. Die Pryskontroleur was egter nie in staat om die stygende neiging stop te sit nie. Pryse het eenvoudig tred gehou met produksiekoste. Sedert 1938 het die kleinhandelsprys van voedsel met een-derde toegeneem, terwyl die groothandelsindeks gedurende dieselfde tyd met 50% gestyg het. Voedselbeheer het met groot moeilikhede te kampe gehad. Volgens die Bemarkingswet van 1937 moes surplus-landbouprodukte soos mielies en sitrus uitgevoer word ten einde binnelandse pryse te stabiliseer.
Gedurende die oorlog was hierdie soort beheer ‘n mislukking. Daar was ‘n groot skeepstekort en uitvoer is so onoordeelkundig gehanteer dat daar ‘n tyd lank selfs ‘n tekort aan mielies vir binnelandse gebruik was. Die Mielieraad het alle sin vir realiteit verloor deur gedurende 1941-42, toe daar ‘n tekort was, mielies uit te voer. Dit het tekorte aan eiers en suiwelprodukte veroorsaak.
Gedurende 1942 was droogte en besoekende skeepskonvooie verantwoordelik vir tekorte aan groente, koring en vleis. Die publiek was binner ontevrede oor die verskynsel dat ‘n voedselproduserende land nie in staat was om sy eie bevolking te voed nie. Deur die optrede van afslaers en spekulateurs is ‘n tekort aan vleis veroorsaak in stedelike gebiede waar maksimum pryse geldig was, terwyl vleis terselfdertyd volop die platteland was. Dit is aangehelp deur ‘ n groot toename in vleisverbruik a.g.v. die stygende lewenspeil van die armer blankes en die Bantoes.
Die nywerheid
Die nywerheid was daarenteen in ‘n bloeitydperk. Deurdat nywerheidsprodukte uit die buiteland in oorlogstyd nie maklik beskikbaar was nie, moes baie noodsaaklike artikels plaaslik vervaardig word. Dit het nie net krygsvoorrade ingesluit nie, maar ook ysterware, tekstielgoedere en voedselware.
Die spoorweë kon die groter verkeer nie behartig nie en die rollende materiaal het verswak. Padverkeer is ook ernstig gestrem deur die tekort aan brandstof en rubber. Feitlik geen nuwe motors is ingevoer nie. Die regering was verplig om die lengte van reise per motor te beperk en brandstof te rantsoeneer.
Onderwys
Een van die strydpunte by die provinsiale verkiesing van 1943 was die vraagstuk van die medium van onderwys. In drie uit die vier provinsies het regeringskandidate groot meerderhede behaal met ‘n beleid van dubbelmediumonderwys. Baie opvoedkundiges het volgehou dat dubbelmedium opvoedkundig ongesond en in die praktyk moeilik uitvoerbaar was en die meeste mense het uit die oog verloor dat by die verkiesing die onderwysvraagstuk baie sterk in die teken van die oorlog gestaan het sodat die uitslag nie ‘n korrekte weerspieëling van die volksmening oor die onderwys was nie.
Gedurende die parlementsitting van 1944 het die Nasionaliste te vergeefs ‘n mosie t.g.v. enkelmediumonderwys ingedien en die provinsies met uitsondering van die Vrystaat het ‘n stelsel van dubbelmediumonderwys in werking gestel. Politici wat tevore teenstanders van tweetaligheid was, het nou geposeer as voorstanders daarvan en om daardie rede dubbelmediumonderwys bepleit. Daar was sterk teenstand teen die beleid in die praktyk en oor die algemeen was dit geen sukses nie.
Na-oorlogse beplanning
Namate die oorlog sy einde genader het, het ander binnelandse vraagstukke en sake soos demobilisasie en toekomsbeplanning meer en meer op die voorgrond getree. Die Maatskaplike en Ekonomiese Planneraad met dr. H.J. van Eck as voorsitter, het ‘n aantal verslae, gebaseer op langdurige ondersoek, aan die Kabinet vir oorweging voorgelê. Die algemene uitgangspunt was dat nuwe na-oorlogse toestande die hoof gebied moet word.
Die regering moes beplan vir die hervestiging en herindiensneming van gedemobiliseerde soldate. Ook is ‘n sterk stroom Europese immigrante ná die oorlog verwag en behuising en gesondheidsprobleme het aandag vereis. Die verslag oor maatskaplike veiligheid is in 1944 as ‘n Witboek aan die parlement voorgelê. Dit het nadruk gelê op die tekortkominge van die Unie se maatskaplike dienste en die noodsaaklikheid van ‘n beleid vir ‘n lang tydperk om die nasionale lewenspeil te verhoog. Dit het voorsiening gemaak vir onderwys en gesondheidsdienste vir almal, sowel as vir behoorlike behuising en voeding.
Die regering was egter nie bereid om die voorstelle in hulle volle draagkrag te aanvaar nie en die eindresultaat was erg teleurstellend. Die voorgestelde program is baie gewysig en ingekort en die regering moes heelwat kritiek verduur van sowel sy Arbeiderbondgenootskap as van die Nasionale Party. Op die ou end is oopenbare gesondheid aan die provinsies oorgelaat en mettertyd het hulle ‘n gewysigde skema van vrye hospitaaldienste aanvaar. Dit was baie minder as die oorspronklik voorgestelde plan.
Wat behuising betref, het die parlement die regering met groot magte beklee waardeur grondeienaars, bouers en huiseienaars aan staatskontrole onderwerp is. Spekulasie is voorkom, terwyl lone en die beweging van arbeiders beheer is. Maar selfs met die enorme magte waaroor dit beskik het, het die regering nie daarin geslaag om uitvoering aan die nasionale behuisingskema te gee ge nie. Die tekort aan wonings is nooit uitgewis nie.
Demobilisasie
Reeds in Augustus 1943 is ‘n spesiale departement met genl.-maj. George Brink as direkteur-generaal in die lewe geroep met die oog op die demobilisasie van soldate. In 1944 is ‘n skema in verband daarmee openbaar gemaak. Die departement sou teruggekeerde soldate in diens plaas en daar is voorsiening gemaak vir diegene vir wie nie dadelik werk gekry kon word nie. Origens was die departement ook verantwoordelik vir die uitbetaling van lenings en gratifikasies wat die parlement tot sy beskikking gestel het.
Gedurende die boekjaar 1945-46 is op hierdie manier 155 000 soldate ontslaan. Hulle het meer as R18 miljoen in die vorm van toekennings en lenings ontvang en meer as R14 miljoen as gratifikasies. Oor die geheel het die demobilisasie-program glad verloop, maar baie gewese soldate het dit moeilik gevind om hulle opnuut aan te pas. ‘n Sekere mate van ontevredenheid het nie uitgebly nie.
Die Dominiumparty en die Indiërprobleem
Gedurende die oorlog het handelsondernemings van Indiërs blanke stedelike gebiede stelselmatig binnegedring, veral in Durban, en die Dominiumparty, wat hoofsaaklik verteenwoordigend was van die belange van Engelssprekende blankes in Natal, was onthuts daaroor. Sterk druk is op die regering deur sy bondgenoot uitgeoefen om ‘n einde aan die proses te maak.
Teen sy sin het die regering reeds in 1943 ‘n Vaspenwet deur die parlement geloods as ‘n tydelike maatreël om die indringing van Indiërs in blanke sake en woonbuurte vir twee jaar vas te pen op die bestaande posisie. ‘n Kommissie met regter Broome as voorsitter sou intussen die hele aangeleentheid ondersoek. Die Indiërs was bitter ontevrede en daar was tekens dat die Dominiumparty slegs vir die oomblik tevrede gestel is. Die koalisie het begin wankel.
Die Arbeidersparty
Ook die Arbeidersparty het met die nadering van die einde van die oorlog geen behoefte gevoel om verder die mede-verantwoordelikheid van die regering te dra nie. Hoewel Madeley nog getrou by Smuts gestaan het, was sy volgelinge bang dat hulle deur die Verenigde Party geabsorbeer sou word. Hulle wou so gou moontlik loskom van die koalisie ten einde ongehinderd die uitvoering van hul eie program na te streef.
Vroeg in 1945 het ‘n deel van die Arbeidersparty geëis dat Madeley hom aan die Kabinet onttrek, hoewel die Party in die algemeen nog die oorlogsbeleid sou bly steun. De verhouding van die Arbeiders tot die Verenigde Party het versleg namate die probleme m.b.t. die behandeling van gewese soldate en die skemas i.v.m. maatskaplike sekuriteit en industrialisasie op die voorgrond getree het en die stygende lewensduurte begin knel het.
Die Nasionale Party
Daar was tekens dat die Nasionale opposisie gekonsolideerd geraak het en besig was om in krag toe te neem, nieteenstaande die Verenigde Party gedurende die parlementêre sitting van 1944 uitwending indrukwekkend voorgekom het. Die Nasionale Party het aan innerlike dissipline gewen en was as enigste opposisieparty in ‘n takties voordelige posisie. In 1944 het dit sy eerste betekenisvolle oorwinning oor die regering behaal met die verowering van die Wakkerstroom-setel. Dit was ‘n onheilspellende teken vir die regering, wat die uitslag probeer wegredeneer het.
Die Nasionale Party het sy taktiek in ‘n belangrike opsig verander en nou as kampioen van parlementêre demkrasie optree. Dit wou ten alle koste loskom van sy eertydse flirtasie met die nuwe denkbeelde wat die storm in Europa ontketen het. Dit het in alle opsigte begin optree as ‘n normale en verantwoordelike opposisie, wat ‘n moontlik alternatiewe regering kon vorm, maar met behoud van sy verklaarde republikeinse grondslag en met ‘nsterk standpunt insake die Indiër- en Kommunistiese vraagstukke.
Die Broederbond
Van belang in 1945 was die regering se houding t.o.v. die Broederbond, ‘n geheime kulturele organisasie wat vroeg in die jare twintig tot stand gekom en aansienlike invloed agter die skerms uitgeoefen het. Voor die oorlog het Hertzog te velde getrek teen die beweging wat hy verantwoordelik gehou het vir baie van die teenstand teen samesmelting, maar nadat die voorsitter van die organisasie ‘n onderhoud met die Eerste Minister gehad het, het hy ‘n meer gematigde standpunt ingeneem.
Gedurende die oorlog het die swak ingeligte Engelse pers van tyd tot tyd propaganda teen die Bond gemaak met die sinspeling dat dit allerlei sinistere oogmerke nagestreef het. Sterk druk is op Smuts uitgeoefen om op te tree en eindelik het hy hom oop die kongres van die Verenigde Party te Bloemfontein in Januarie 1945 laat oorreed om die Bondtebestempel as ‘n “gevaarlike, onderduimse, politieke Fascistiese organisasie”. Amptenare en onderwysers is voortaan verbied om lede te wees, maar die Bond as sodanig is verder ongehinderd gelaat.
Dr. Malan het geprotesteer teen Smuts se optrede met die verklaring dat die oogmerke van die Bond nie meer geheim was as dié van liggame soos die Vrymesselaars of die Sons of England nie endat dit slegs die kulturele en ekonomiese belange van die Afrikanerdom beoog. In die parlement is die aangeleentheid uitvoerig bespreek, maar Smuts was nie in staat om sy aanklagte teen die Broederbond te bewys nie.
Smuts as wêreldstaatsman
Ten spyte van sterker wordende teenkanting tuis het Smuts se reputasie as staatsman van wêreldfaam hoër as ooit tevore gestaan. Dwarsdeur die oorlog het hy rotsvas gestaan, as ouer staatsman steeds in noue kontak met Churchill e.a. groot leiers. Ter erkenning van sy groot dienste is hy deur die Britse koning in September 1941 tot veldmaarskalk bevorder en origens met eerbewyse oorlaai.
Reeds in 1943 het hy die wêreld gewaarsku teen die na-oorlogse gevaar van die opstygende Bolsjewisme, wat ‘n groter bedreiging as Nazi-Duitsland sou wees. In Mei 1944 het hy tydens een van verskeie besoeke aan Londen andermaal in ‘n openbare rede gewaarsku dat Rusland nie te vertrou was nie, maar die Westerse staatsmanne het geen ag op sy woorde gegee nie.
Aan die einde van die oorlog in Mei 1945 was hy een van die erkende wêreldleiers en het hy saam met die ander sy verskyning in San Francisco gemaak om die oktrooi van die Verenigde Volke-organisasie te help optrek. Persoonlik was hy verantwoordelik vir die aanhef van die finale dokument.
Die na-oorlogse politieke toestand
Voor die einde van 1945 is die oorlogstydse koalisie van partye beëindig en sowel Madeley as kol. Stallard het die Kabinet getree en met hul volgelinge deel van die opposisie geword. Hulle was vry om die regering te kritiseer en nog voor die einde van die jaar was dit reeds duidelik dat hulle, afgesien van die republikeinse vraagstuk, baie met die Nasionale opposisie in gemeen teen die regering gehad het.
Smuts, met ‘n meerderheid van 24 in die Volksraad bo die gesamentlike opposisie, het sy posisie as onaantasbaar beskou. Die dringendste vraagstuk van die oomblik was die probleem van Indiër-indringing. Die Vaspenwet se tyd was verstreke en hoewel die regering verplig was om rekening te hou met die klagtes van die blankes in Natal, moes dit tog ook aan die ander kant ag gee op die griewe van die Indiërs. Die resultaat was ‘n kompromis in die vorm van die Asiate Grondbesit en Indiër-verteenwoordigingswet van 1946.
Die verkryging van vaste eiendom in Natal deur Indiërs is permanent beperk, maar as vergoeding het Iniërs in Natal en in Transvaal die stemreg verkry, hoewel op ‘n kommunale basis, met twee verteenwoordigers (een verkose en een genomineer deur die goewerneur-generaal) in die Senaat en drie in die Volksraad. Daarbenewens sou Natalse Indiërs twee verteenwoordigers kon kies vir die Provinsiale Raad.
Die opposisie het die maatreël handen tand beveg. Nasionaliste sowel as Dominiumpartylede en ‘n deel van die Arbeidersparty het saamgestaan teen die politieke klousules in die wet. Dit het selfs tot ‘n skeuring in die Arbeidersparty en die bedanking van Madeley as leier gelei. Een van sy luitenante in die Volksraad het by die Nasionale Party aangesluit.
Ook die Indiërs was ontevrede.Hulle het die wet gebokot en om hulle testeun, het die regering van Indië handelsbetrekkinge met die Unie verbreek. ‘n Groot deel van Engelssprekende Natal is van Smuts en sy party vervreem en baie Afrikaners wat die regering tot dusver gesteun het, het hulle heil by die Nasionale Party gesoek.
Vir die land as geheel was die wet nooit aanvaarbaar nie en soos niks anders het dit die aandag gevestig op die groter wordende kraak binne die Verenigde Party. Op die duur kon die liberale en konserwatiewe elemente binne die regerende party nie met mekaar versoek word nie, ook nie wat die kleurvraagstuk in die algemeen betref nie.
Die kleurvraagstuk
Dat daar rassemoeilikhede aan broei was, het geen twyfel gelaat nie. Bantoe-nywerheidswerkers was ontevrede omdat hulle vakbonde nie amptelik erken is nie. Stakings is hardhandig onderdruk en toe die African Mine Workers Union in Augustus 1946 weer gestaak en optogte gehou het, het hulle in gewapende konflik met die polisie gekom.
Daar was aanduidings dat die Kommunistiese Party in troebel waters gevis het en lede van die partybestuur is selfs van sedisie aangekla. Rasseverhoudinge het vinnig versleg, die Naturelle Verteenwoordigende Raad wat in 1936 tot stand gekom het, het geweier om met die regering saam te werk en vanaf 1947 is dit nie meer byeengeroep nie.
Die opkomende na-oorlogse kleurgety dwarsdeur die wêreld het ‘n gewisse uitwerking in Suid-Afrika gehad en blanke liberaliste het hulle deel bygedra om die nie-blankes aan te moedig in hul stryd om vryheid en gelykheid met die blankes.
Suidwes-Afrika
Dit was die toedrag van sake toe Smuts voor die einde van 1946 na Amerika vertrek het om in die Algemene Vergadering van die V.V.O. te pleit vir die inlywing van die mandaatgebied, Suidwes-Afrika, by die Unie. Reeds in Mei 1945 het hy die V.V.O. by San Francisco in kennis gestel dat die mandaat met die verdwyning van die Volkerebond beëindig sou wees en die gebied by die Unie ingelyf behoort te word.
By die eerste byeenkoms van die Algemene Vergadering in Januarie 1946 het die Unie se verteenwoordiger aangekondig dat die regering van plan was om die inwoners van die gebied te raadpleeg met die oog op inlywing en toe die Volkerebondformeel in April 1946 ontbind is, het Smuts verklaar dat Suid-Afrika die mandaat sou bly behou.
Kort tevore is die Voogdystelsel in die lewe geroep deur die V.V.O., wat alle mandaatmagte versoek het om voogdy-ooreenkomste m.b.t. hul onderhorige gebiede vir goedkeuring voor te lê sodat die Algemene Vergadering sy Voogdyraad kon saamstel. Suid-Afrika het nie gehoorgegee nie. Dit was die stand van sake toe Smuts die V.V.O. versoek het om toe te laat dat Suidwes-Afrika by die Unie ingelyf word.
Hy het ‘n goed voorbereide memorandum voorgelê waaruit geblyk het dat die inheemse bevolking na raadpleging hom saam met die blanke bewoners van die gebied t.g.v. inlywing uitgespreek het. Ongelukkig vir hom het Indië, wat pas tevore onafhanklik en ‘n lid van die V.V.O. geword het, hom teen die voorstel uitgespreek op grond van die behandeling van Indiërs in die Unie en met die oog op die “onderdrukkende” Bantoebeleid van die Unie. Indië het geëis dat Suidwes-Afrika onder voogdy van die V.V.O. geplaas word.
Sjina, Egipte en die Sowjet-Unie met sy satelliete het Indië ondersteun en hoewel Brittanje e.a. Gemenebeslande hulle trou by Smuts geskaar het, het die meerderheid sy versoek geweier en geëis dat die betwiste gebied onder voogdy geplaas word. Smuts het bitter teleurgesteld teruggekeer en verklaar dat die Unie sou voortgaan om die gebied te administreer in die gees van die mandaat. Hy het die voogdyvoorstel van die hand gewys, maar hom bereid verklaar om jaarliks verslae oor Suidwes-Afrika aan die V.V.O.voor te lê.
Die organisasie het egter nie sy inmenging tot hierdie aangeleentheid beperk nie, maar gedurende dieselfde sitting heftige kritiek op Suid-Afrika se Bantoebeleid uitgespreek ten spyte van artikel 2, klousule 7 van die oktrooi, wat inmenging in huishoudelike sake van ledelande verbied. In die parlement het alle partye Smuts ondersteun, hoewel dr. Malan ten gunste was van onmiddellike inkorporasie van Suidwes-Afrika as ‘n vyfde provinsie.
Die verkiesing van 1948
Die uitwerking van die toenemende rassespanning het by verskeie tussenverkiesings geblyk. In Januarie 1947 het die Nasionale Party onverwags die setel Hottentotsholland gewen. Dit is beskou as ‘n teken van Afrikanerreaksie teen die toenemende liberalisme, want Smuts het met opset die Suidwes-aangeleentheid ‘n verkiesingsaak gemaak. Die uitslag van die verkiesing is nie deur die regering as ‘n waarskuwing gesien nie en Smuts het met vertroue die algemene verkiesing van Mei 1948 toegestaan.
Teen hom was gekant sy ou vyande, die Nasionaliste, maar die administratiewe onbekwaamheid van die meeste lede van sy kabinet het die onbekende vlottende stem beïnvloed. Daar was baie mense wat ná die oorlogsroes agter die rug was, bitter ontevrede was oor die burokrasie en die duisend klein prikkelende dingetjies wat ‘n bewind van lange jare kenmerk. Teen hom was gekant baie ander mense wat sy Indiërbeleid verwerp het en veral gekant was teen die liberalisme van minister J.H.Hofmeyr.
Danwas daar baie teruggekeerde soldate wat dit moeilik gevind het om hulle aan te pas by nuwe o mstandighede, of wat ongevrede was met die reëlings vir hulle hervestiging en vergoeding. Tog het dit geskyn of die Verenigde Party met sy trotse oorlogsprestasies en sy leier se groot prestige die paal weer eens sou haal, hoewel miskien met ‘n kleiner meederheid.
Op die vooraand van die verkiesing het dr. Malan ‘n verkiesingsmanifes uitgevaardig waarin hy sy apartheidsbeleid afgekondig het as die redding van Suid-Afrika. Met die Afrikanerparty het hy ‘n verkiesingsooreenkoms gesluit.
Die uitslag was ‘n groot verrassing vir almal en ‘n verskriklike teleurstelling vir genl. Smuts, want die Nasionale Party nie minder nie as nege nuwe en 16 ou setels op die Verenigde Party verower, sodat dit in die nuwe Volksraad 70 verteenwoordigers gehad het teen 65 van die Verenigde Party. Die
Dominiumparty is uitgewis en die Arbeiders het 6 lede in die Volksraad gehad.
Hoewel die Verenigde Party kon reken op die steun van die drie naturelle-verteenwoordigers en sommige van die Arbeiders, was dit nie opgewasse teen die Nasionale Party wat verseker was van die steun van die 9 lede van die Afrikanerparty, gelei deur Havenga.
Smuts was verplig om te bedank en dr. Malan is gevra om ‘n nuwe regering saam te stel. Sy oorwinning het hom slegs ‘n geringe meerderheid besorg … maar dit was beslissend vir die toekoms.
— — — oOo — — —