GVSA Britse Kolonies en Boere-republieke 1854-1872

D.W. Kruger, M.A., D. Litt.

Die tydperk 1854-’72 begin met die noodgedwonge erkenning van die staatkundige onafhanklikheid van die Boere-gemeenskappe in Transoranje en Transvaal deur Brittanje, wat geen nuwe verpligtinge i.v.m. gebiedsuitbreiding op sy skouers wou neem nie. Voortaan moet dus rekening gehou word met ten minste vier van mekaar geskeie blanke geweste in Suid-Afrika: twee Britse kolonies aan die kus en twee Boere-republieke in die binneland, afgesien van verskeie Bantoegebiede wat slegs gedeeltelik of glad nie onder blanke beheer gebring was nie.

Elkeen van hierdie vir het sy eie besondere vraagstukke gehad, wat alle aandag in beslag geneem het. In Transvaal was die moeilikhede voorlopig veral van politieke en konstitusionele aard, in die ander state was dit die Bantoegevaar wat dreigend die toneel oorheers het. Daarby kom dat die hele land gedurende die jare vyftig en sestig ‘n ongekende depressie en ‘n groot droogte moes ondervind, waardeur veral die landbou en veeboerdery getref en alle ondernemingsgees verlam is.

Ommeswaai in Britse beleid

Hierdie verskillende state dan, nieteenstaande alle aardrykskundige, politieke en nasionale faktore wat hulle van mekaar gehou het, het teen die einde van die jare sestig weer nader bymekaar gekom, veral a.g.v. die gemeenskaplike swartgevaar en van die ekonomiese oplewing wat op die ontdekking van diamante gevolg het. Terselfdertyd het die beleid van die Imperiale regering begin omswaai t.g.v. gebiedsuitbreiding in Suid-Afrika. Met behulp van sy prokonsuls het die Britse regering ‘n beleid begin nastreef wat wesenlik daarop gemik was om die Republieke in hul uitbreiding te kortwiek en selfs om die konvensies van Sandrivier en Bloemfontein ongedaan te maak. So is agtereenvolgens in 1866,1868 en 1871 Brits-Kaffrarië, Basoetoland en die diamantvelde deur Engeland ingepalm, die laaste twee ten koste van die Republieke.

Hierdie gebeurtenisse het gelei tot ‘n groot verwydering tussen Engeland en die Boerestate wat inmiddels na binne sowel as na buite tot groter kragontplooiing gekom het. Die tydperk eindig dan met twee magte teenoor mekaar: aan die een kant Groot-Brittanje, met sy twee kolonies aan die kuste van Suid-Afrika, bereid om met alle ekonomiese en politieke magsmiddele die twee Boerestate onskadelik te maak; en aan die ander kant die twee Republieke, bewus van die gevare wat hule bedreig, maar vasberade om die duur verworwe onafhanklik tot die uiterste te verdedig en te versterk.

Toestande in Transvaal

Die Britse erkenning van die onafhanklikheid van die twee Republlieke het geensins die einde van die politieke moeilikhede van die blankes in daardie deel van die land beteken nie. Wel was die vryheidsideaal van die Voortrekkers daardeur bereik en die grondslag gelê vir die opbou van vrye Boere-gemeenskappe op die binnelandse hoogvlakte, maar eers moes veel onderlinge onenigheid uit die weg geruim word, veral in Transvaal. Die staatkundige eenwording van die verskillende klein nedersettings noord van die Vaal was nog geen voldonge feit nie en die nuwe staat het nog geen behoorllike konstitusie gehad nie. Verder is die klein blanke gemeenskap, sonder regstreekse verbinding met die groot buitewêreld, gedurig bedreig deur woeste Bantoestamme – bowendien het dit sy besondere ekonomiese moeilikhede gehad.

Soutpansberg

Na skatting was daar aan die begin van die jare vyftig ongeveer 2 000 blanke huisgesinne noord van die Vaalrivier woonagtig, hoofsaaklik in vier nedersettings of “kolonies”. Eers was daar Soutpansberg, of Schoemansdal, geleë in die hart van die noordoostelike bosveld, waar die mense vir hulle bestaan afhanklik was van saaiery, beesboerdery en die opbrengs van die jag. Hierdie mense het ‘n rustelose lewe gelei en gestaan onder die persoonlike leiding van Andries Hendrik Potgieter tot met sy dood in Desember 1852, en daarna onder bevel van sy seun Piet, totdat ook hy in 1854 om die lewe gekom het in die stryd teen Makapaan. Die Soutpansbergers was in groot mate geïsoleer weens die groot afstand en die afwesigheid van verkeersweë, hoewel Kaapse en Natalse smouse tog tot daar deurgedring het om veral ivoor te ruil.

Lydenburg

Die tweede groot blanke nedersetting was in Oos-Transvaal, in die omgewing van Lydenburg, naby die Portugese grens. Die mense daar het ‘n meer gereelde bestaan gevoer en die bevele van die Volksraad gehoorsaam. Ook hulle bestaan, net soos dié van die Soutpansbergers, is oorskadu deur die nabyheid van magtige en onbeskaafde Bantoestamme en hulle is geteister deur periodieke malaria-epidemies.

Utrecht

Verder suid, aan die grens tussen Transvaal en Natal, het ‘n kleiner aantal blankes langs die Buffelsrivier gewoon in die omgewing waar later die dorp Utrecht geproklameer sou word. Aanvanklik het hulle hulle beskou as onafhanklik van die res van Transvaal, en hulle wou feitlik ‘n staat op sigself vorm. Later het hulle hul lot by Lydenburg ingewerp.

Wes-Transvaal

In die weste was die land meer aaneen bewoon, van Potchefstroom tot Rustenburg en Marico, hoewel ‘n mens ook hier twee hoofmiddelpunte kan onderskei, nl. Potchefstroom en Rustenburg. Die meeste van hierdie mense het die gesag van Andries Pretorius erken tot sy dood in 1853 en daarna dié van sy seun, Marthinus Wessel.

In 1855 was daar in die hele gebied tussen die Vaal en die Limpopo slegs vyf dorpe, nl. Schoemansdal (aangelê in 1848), Lydenburg (1850, Potchefstroom (1838), Rustenburg (1851) en Pretoria (1855). Hierdie plekke was hoofsaaklik kerksentrums en was, behalwe Pretoria, geleë op die uithoeke van die staat, sodat die verbinding baie ongereeld was.Voorlopig was daar in die hele uitgestrekte gebied net een predikant en ‘n paar onderwysers.

Die vry verkose Volksraad, wat op ongreelde tye vergader het, het oor min werklike mag beskik. ‘n Uitvoerende gesag het byna heeltemal ontbreek. Alleen die kommandante-generaal met hulle kommandante en veldkornette, afgesien van die paar plaaslike landdroste, het die gang van sake bestuur, die weinige belastings geïn, reg gespreek en oor die algemeen die orde gehandhaaf. In so ‘n gemeenskap was daar uiteraard geen sterk saamhorigheidsgevoel nie en die staatsgesag was noodwendig in groot mate gedesentraliseer.

Taak van M.W. Pretorius

Die groot taak van M.W. Pretorius, wat hierin alleen staat kon maak op die feit dat hy die amp van kommandant-generaal van sy beroemde vader geërf het, was om uit hierdie elemente ‘n eenheidstaat op te bou. Die verskillende blanke nedersettings moes verenig word onder een geskrewe grondwet en terselfdertyd moes die oproerige Bantoestamme met vaste hand onder gehou word. Na buite was dit sy beleid om die Vrystaters staatkundig te verenig met die mense van Transvaal. Voorts wou hy op goeie voet blymet die Britse owerhede in Natal en die Kaapkolonie en langs vriendskaplike weg ekonomiese toegewings verkry, veral t.o.v. invoerregte.

Moeilikhede met Makapaan

Sy moeilikhede word geïllustreer deur die geval van die Potgieter-moord in 1854, toe die opperhoof Makapaan ‘n aantal blankes op gruwelike wyse om die lewe gebring het. ‘n Strafkommando, onder aanvoering van Pretorius en Piet Potgieter, het die Bantoes in hul grotte ‘n gedugte les geleer, hoewel Potgieter self die lewe daarby ingeskiet het. Die gevolg was in elk geval dat die uitgestrekte gebied tussen Pretoria, wat die volgende jaar aangelê is, en Soutpansberg baie jare veilig was vir blanke nedersetters. Potgieter is opgevolg deur Stephanus Schoeman as kommandant-generaal vir Soutpansberg.

Kerklike probleme

‘n Saak wat die onafhanklikheidstrewe van die Transvalers in ‘n helder lig stel, was die verhouding tot die Kaapse kerk. Dit raak terselfdertyd die konstitusionele ontwikkeling en die eenheidstrewe van Pretorius, en is sodoende eerder ‘n staatkundige as ‘n suiwer kerklike aangeleentheid. Die moeilikheid wortel in toestande wat reeds gedurende die Trek geheers het. Die Kaapse kerk het ‘n onsimpatieke houding jeens die Tekkers ingeneem en geen predikant het sy gemeentelede op die Trek vergesel nie. Die Trekkers was vir hul kerklike bediening afhanklik van die dienste van die sendeling Erasmus Smit. Later is hulle ook gehelp deur die Amerikaanse sendeling Daniel Lindley.

Toe die Kaapse kerk, behoudens die uitsending af en toe van ‘n paar leraars om die sakramente onder die emigrante te bedien, laat blyk het dat hy nie geneë was om hulle blywend te help nie, het die Trekkers geprovbeer om predikante uit Nederland te beroep. Voorlopig  het hulle nie daarin geslaag nie en slegs twee onderwysers, H. Van der Linden en J.W. Spruyt, het uitgekom.

Die belangstelling van die Kaapse Sinode in die uitgewekenes het wel ná 1845 toegeneem. Ds. Andrew Murray het hom in Bloemfontein en ds. D. van Velden in Winburg gevestig ná die anneksasie van Transoranje. Maar die Voortrekkers noord van die Vaal was nog sonder predikant en is alleen af en toe op besoeke uit Bloemfontein deur ds. Murray bearbei.

In 1852 het die Transvalers met ds. J.H. Neethling, wat aldaar op reis was, onderhandel met die oog op die verkryging van ‘n leraar. As voorwaarde het hy aangedring op die inlywing van die Transvaalse gemeentes onder die Kaapse Sinode en die kerkvergadering sowel as die Volksraad het ingewillig. In Oktober 1852 het die Kaapse Sinode die versoek om inlywing toegestaan; en juis die volgende maand het in Kaapstad aangeland ds. Dirk van der Hoff, uit Nederland gestuur deur bemiddeling van prof. U.G. Lauts, die vriende van die Voortrekkers.

Koms van ds. Van der Hoff

In Kaapstad is Van der Hoff gelegitimeer as predikant en in 1853 het hy in Transvaal aangekom. Ná sy aankoms is die hele inlywingsvraagstuk heropen, want baie Transvalers, veral die aanhangers van Pretorius, het, uit vrees vir Engelse geestelike invloed en ondermyning van die vryheid van die Republiek, die voorkeur gegee aan ‘n selfstandige kerk. In Augustus 1853 het die Algemene Kerkvergadering in Rustenburg byeengekom onder voorsitterskap van ds. Van der Hoff. Daar is besluit dat geen ander kerk as die Nederduits Hervormde in die Republiek erken sou word nie en dat die kerk onafhanklik is van alle buitelandse gesag – m.a.w. dat inlywing by die Kaapse kerk verwerp word. Uit hierdie besluite het ‘n kerklike twis voortgespruit wat ook beroering op staatkundige gebied sou veroorsaak.

Kerklike en staatkundige skeuring

Ds. Van der Hoff, wat weinig taktvol opgetree het, het spoedig in ‘n rusie geraak met die kerkraad van Lydenburg, waar Smellekamp hom gevestig en baie invloed gehad het. Hy het hom daar beywer om ‘n tweede predikant uit Nederland beroep te kry. Van der Hoff het hom beskuldig van kwaadwilligheid en Smellekamp is voor die Volksraad van Rustenburg gedaag en swaar beboet. Toe hy nie betaal het nie, is hy deur die Volksraad, waarin die aanhangers van Pretorius die meerderheid gehad het, uit die Republiek verban. Sy verbintenis met die Transvalers is so op kleinlike wyse beëindig deur die staatsowerheid, wat in hierdie saak opgetree het as handlanger van Van der Hoff. Die onmiddellike gevolg was verdeeldheid en skeuring, nie alleen kerklik nie, maar ook staatkundig.

Op 31 Augustus 1853 het die kerkraad van Lydenburg met ds. Van der Hoff gebreek en besluit om met die Kaapse Sinode te onderhandel met die oog op inlywing van die gemeente. Die Kommissieraad van die Volksraad op Lydenburg het sy goedkeuring hieraan geheg en die kerklike skeuring was ‘n voldonge feit. Die hele aangeleentheid niks goeds voorspel vir M.W. Pretorius se pogings om eenheid op staatkundige gebied te skep nie.

Gereformeerde Kerk gestig

Die kerklike verdeeldheid het nog ernstiger afmetinge aangeneem toe in 1859 ‘n derde Hollandse kerk gestig is. Die Christelike Gereformeerde (Afgeskeie) Kerk van Nederland het in 1858 ds. Dirk Postma  uitgestuur om ondersoek in te stel na die geestelike nood in Transvaal en na bevind van sake te handel. Aanleiding tot die uitsending was die ontvangs van verskeie briewe van mense uit Transvaal wat beswaar gemaak het teen die sing van Evangeliese Gesange by die openbare erdiens. Sedert jare was daar mense wat die leer en tug van die kerk beskou het as te liberaal en die Gesangevraagstuk het hulle ‘n regstreekse aanleiding gegee om op te tree, aangesien  hulle nie alleen verskeie Gesange beskou het as onregsinnig nie, maar oor die algemeen die Gesange verwerp het omdat dit, na hulle beskouing, nie op die Heilige Skrif gegrond is nie.

In November 1858 het ds. Postma in die Suid-Afrikaanse Republiek aangekom en hom die beroep as predikant van Rustenburg laat welgeval. Daar het hy hom aan die hoof gestel van ‘n aantal ontevrede gemeentelede, wat prakties reeds so goed as afgeskeie was. So is van hierdie uitgangspunt ‘n derde kerk, die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, georganiseer nadat pogings om ‘n vergelyk te tref, misluk het. Spoedig is ook in die Oranje-Vrystaat en Noordoos-Kaapland Gereformeerde gemeentes gestig.

Ou Transvaalse grondwet

Reeds in 1855 is ‘n ontwerp-grondwet by Pienaarsrivier opgestel en die jaar daarop het Pretorius ‘n rondreis deur die westelike dele onderneem ten einde dit te verduidelik. Oral in daardie omgewing is besluite geneem t.g.v. die onderwerp en van ‘ n onafhanklike kerk. Aldus is die twee sake op ‘n natuurlike wyse aan mekaar verbind. Op 16 Desember 1856 het ‘n buitengewone sitting van die Volksraad plaasgevind en ná drie weke is ‘n nuwe ontwerp, opgestel deur Jacobus Stuart, met sekere wysigings aanvaar.

In Januarie 1857 is M.W. Pretorius gekies tot staatspresident, Stephanus Schoeman tot kommandant-generaal, J.H. Visagie tot staatsekretaris en Lombard en Goetz tot lede van die Uitvoerende Raad van die nuwe “Zuid-Afrikaansche Republiek”. Terselfdertyd is die nuwe vlag, die bekende Vierkleur, aanvaar en met heelwat seremonieel in Potchefstroom gehys. Die hele saak is met buitengewone haas, blykbaar om Lydenburg voor ‘n voldonge feit te plaas, deurgedruk. So is die president en die kommandant-generaal op onkonstitusionele wyse verkies deur die Volksraad self, i.p.v. deur die volk soos deur die nuwe grondwet bepaal.

Afskeiding van Lydenburg

Lydenburg het nog in dieselfde maand oorgegaan tot die drastiese stap van afskeiding. Die Lydenburgse lede van die Volksraad het die distrik tot onafhanklike republiek geproklameer, met die Volksraad as hoogste gesag. Die ou konstitusie sou geldig wees en die grense is so vasgestel dat die bewoners van Buffelsrivier ingesluit sou wees. Die jaar daarop is die distrik Utrecht in ‘n formele unie met Lydenburg betrek. Aldus het staatkundig ook ‘n skeuring ontstaan.

Ook Soutpansberg het in verset gekom teen die nuwe grondwet. Reeds in Januarie 1857 is op ‘n openbare vergadering aldaar die Potchefstroomse besluite gerepudieer en Schoeman, wat eers ingewillig het om die amp van kommandant-generaal te aanvaar, het plotseling geweier. Het goter oogmerke hom voor die gees gesweef? Die maand daarop is hy deur die nuwe regering van sy amp onthef en is die distrik Soutpansberg “geblokkeer”. Die voortvarende Potchefstroomse regering het terselfdertyd stappe gedoen wat onvermydelik tot ‘n breuk met die Vrystaters moes lei.

Toestand in die Vrystaat

In die Vrystaat het dit aanvanklik ná die erkenning van die onafhanklikheid deur Engeland, en nadat sir George Clerk die teuels van die bewind oorhandig het aan Josias Hoffman en ‘n komitee van ses lede, makliker gegaan as in Transvaal. Die bevolking van sowat 15 000 blankes het ‘n gevestigde bestaan gevoer. Daar was verskeie dorpies met skole en kerke. In Bloemfontein is selfs ‘n tweetalige koerant uitgegee. Die land was wel dun bevolk, maar weens die terreingesteldheid was die verkeer makliker, en die mense was betreklik gewoond aan gevestigde bestuursinstellinge. In die oostelike dele, veral naby die Basoeto-grens, wat nie skerp afgebaken was nie, is heelwat koring verbou. Origens was veeteelt die vernaamste vorm van boerdery. Wat politieke simpatieë betref, het die suide nader aan die Kaapkolonie gestaan, terwyl die noorde die ou Winburgse tradisie van republikeinse onafhanklik lewendig was.

Die Vrystaatse grondwet

Die eerste taak van Hoffman en sy komitee was om orde te skep en ‘n Volksraad verkies te kry. Reeds op 28 Maart 1854 het ‘n konstituerende Volksraad, saamgestel uit een verteenwoordiger vir elke wyk en elke dorp en gekies deur die burgers, byeengekom om die dringendste taak af te handel, nl. die opstelling van ‘n behoorlike grondwet. In hierdie taak het veral twee manne ‘n groot aandeel gehad, nl. J.G. Groenendal, ‘n Hollandse onderwyser wat deur bemiddeling van prof. Lauts na Suid-Afrika gekom het, en J.M. Orpen, ‘n Ier. Met die grondwet van die Verenigde State van Amerika en waarskynlik ook dié van Frankryk (1848) as voorbeeld het hulle die grondslae van ‘n konstitusie vasgelê. Tog het die stuk ook belangrike plaaslike invloede ondergaan, soos in die geval van die Transvaalse republiek. As eerste president is J.P. Hoffman gekies.

Moeilikhede met Mosjesj

Sy grootste moeilikheid was die Basoeto-vraagstuk, want Mosjesj was onder die indruk dat hy ‘n wettige aanspraak gehad het op al die grond waaroor hy voor 1848 beskik het. Om dié rede het hy sy ondergeskikte hoofde toegelaat om die grense na willekeur te verontrus. Hoffman se optrede in die saak was so swak dat die burgers hom heel gou gedwing het om sy amp neer te lê. Hy is opgevolg deur Jacobus Boshof, reeds bekend uit Natal. Teen Oktober 1855 was die verhouding tot die Basoeto’s so gespanne dat die Kaapse goewerneur, sir George Grey, hom na die toneel gehaas en deur die verdrag van Smithfield die Warden-lyn vastel het as skeiding tussen Boere en Basoeto’s. Aanvanklik het dit gelyk of dit goed sou gaan, maar die probleem was hoegenaamd nie opgelos nie. Dit was die toestand toe vroeg in 1857 ook van die kant van die noordelike republiek gevaar gedreig het.

Pretorius se pogings om die republieke te verenig

Reeds in 1854 het Pretorius vergeefs geprobeer om die twee Boeregemeenskappe van Transvaal en Transoranje te verenig. Drie jaar later wou hy nog eens probeer en in Februarie 1857 het hy, vergesel van Goetz, na Bloemfontein vertrek. Aanleiding hiertoe was ‘n proklamasie, uitgevaardig deur Boshof, waarin bepaal is dat op alle Vrystaatse grond wat nie deur die eienaars geokkupeer word nie, ná verloop van ses maande beslag gelê sou word. Die doel was om spekulasie te voorkom, maar volgens Pretorius sou dit die regte van sy mense nadelig tref. Die werklike oogmerk van sy sending was egter om ‘n vereniging van die twee republieke te probeer bewerkstellig. In die noorde van die Vrystaat het hy heelwat aanhangers gehad, wat sy planne goedgesind was, en hy het gevolglik regstreeks op’n staatsgreep afgestuur.

Op 22 Februarie het hy Bloemfontein aangekom. Die dag daarop was die verjaardag van die onafhanklikheid van die O.V.S. Die Volksraad was in sitting en het pas ‘n besluit gneem waarin die vlag van die staat, ontwerp deur die Nederlandse koning, aanvaar is. Kort daarna het Pretorius voor die niksvrmoedende Volksraad verskyn en die Vrystaatse grondgebied opgeëis, op grond daarvan dat die Britse regering die hele Voortrekkergebied aan sy vader afgestaan het. Die antwoord van die Vrystaatse Volksraad was ‘n proklamasie waarin die aanspraak ontken en Pretorius summier beveel is om te vertrek. Hiermee was die saak nie opgelos nie, want Pretorius se aanhangers het die agitasie om vereniging voortgesit, met die gevolg dat sommige van hulle aangekla is weens verraad.

Botsing tussen die republieke

In Potchefstroom het die maatreëls van die Vrystaatse regering skerp reaksie uitgelok en daar is met wapengeweld gedreig. ‘n Transvaalse kommando het die Vaalrivier oorgesteek in die hoop dat Pretorius se ondersteuners in die Noord-Vrystaat by hulle sou aansluit. Daar het niks van gekom nie en Pretorius het aan die Renosterrivier voor ‘n Vrystaatse oormag te staan gekom. Intussen het die ontevredenes in Soutpansberg kontak gesoek met die Vrystaters en het Schoeman aan pres. Boshof die aanbod van ‘n bondgenootskap teen Pretorius gedoen. Ook het hy pogings aangewend om die Lydenburgers tot gemeenskaplike aksie oor te haal. Alles in ag geneem, is Pretorius so in die nou gedryf dat hy op 27 Mei 1857, veral deur bemiddeling van kommandant Paul Kruger, bly was om vrede met die Vrystaters te sluit, op voorwaarde van wedersydse erkenning van die onafhanklikheid.

Onmiddellik daarna het hy ook tot ‘n verstandhouding met die Soutpansbergers probeer geraak. Ná ‘n tyd van onderhandeling en nadat kleiner wysigings in die grondwet aangebring was, het Soutpansberg dit aanvaar en S. Schoeman het hom die keuse as kommandant-generaal lat welgeval. Lydenburg het voorlopig nog sy eie koers gevolg. Pretorius het dus slegs geedeeltelik geslaag in sy ideaal om ‘n verenigde Boere-republiek met ‘n sterk sentrale regering op te rig. Die mislukking van sy vereningspoging m.b.t. die Vrystaat moet veral aan sy eie taktlose en oorhaastige optrede toegeskryf word.

O.V.S. en die Basoeto’s

Die toestande in die suidelike republiek was teen 1858 allesbehalwe rooskleurig, veral  omdat nou die gevolge van die beleid wat tydens die Warden-bewind toegepas was, merkbaar geword het. Die Basoeto’s het die blankes met 12 teen een in getalle oortref. Hulle het oor vuurwapens beskik en was besonder mobiel, omdat almal berede was. Met begerige oë het hullegestaar na die vrugbare grond tussen die Caledon- en die Grootrivier en hulle was vasbeslote om d.m.v. geleidelike insypeling hierdie goeie deel van die Vrystaat in besit te kry. Getrouo volgens Bantoe-gewoonte het hulle deur diefstalle van perde en beeste die grensstreek verontrus. Sommige ondergeskikte kapteins het selfs plase in die distrikte Harrismith, Winburg en Smithfield in besit geneem. Pogings om hulle te verdryf, het ‘n dreigende houding van die kant van Mosjesj en sy seun Letsie ontlok.

Teen Maart 1858 was die toestand so gespanne dat ‘n kommando op die grens saamgetrek en ‘n ultimatum deur Boshof aan die Basoeto-opperhoof gestuur is. Daarin is aangedring op vergoeding vir skade deur ondergeskikte hoofde of plase berokken, verwydering van sekere hoofde van die grense, voorkoming van veediefstalle en onmiddellike uitbetaling van skadevergoeding. Voorts is geëis dat die Warden-grenslyn geëerbiedig word totdag ‘n nuwe lyn vasgestel kon word deur onderlinge ooreenkoms of deur arbitrasie vanweë die Kaapse goewerneur. Mosjesj het alleen op lg. punt geantwoord en wel ná die vasgestelde datum, sodat oorlog ‘n voldonge feit was.

Oorlog teen Basoeto’s

Die grenslyn-kwessie dagteken uit die tyd van Napier in 1843, toe meer grond aan Mosjesj toegeken is as waarop hy geregtig was. Warden daarenteen het met toestemming van Mosjesj die lyn so gewysig dat die Basoeto’s heelwat gebied verloor het. Ná die nederlaag van Cathcart in 1852 het Mosjesj onder die indruk gekom dat die vasgestelde grenslyn heeltemal verval het, terwyl die Vrystaters daareenoor aanspraak gemaak het op die betwiste gebied, op grond van die reg van okkupasie en volgens bestaande grense. Weens geldgebrek kon die Vrystaatse regering die lyn nie behoorlik patrolleer en bskerm nie en sowas dit vir die Basoeto’s moontlik om dit aanhoudend te oorskry.

Aanvanklik het die Vrystaters onder kommandant-generaal Weber sukses gehad en die Basoeto’s by Vegkop en Korannaberg verslaan. Op 25 Maart is die Vrystaatse kommando’s verenig onder kommandant-generaal Senekal en drie dae daarna is ‘n oorwinning oor Letsie by Morija behaal. Daarop het hulle kamp opgeslaan voor die gedugte bergvesting Thaba Bosigo. Hier moes hulle die skrikwekkende tyding verneem dat snelle Basoeto-afdelings agter hul rug besig was om die land te plunder en te verwoes. Die Die kommando’s is haastig teruggeroep ten einde huis en haard te kan beskerm.

Beroep op Pretorius

Reeds voor dié tyd was pres. Boshof genoodsaaktot die bittere stap om by die suster-republiek om hulp aan te klop. Pretorius, wat van die uiterste nood van die Vrystaat gebruik wou maak om die twee state te verenig, het daarop, vergesel van Schoeman, naBloemfontein vertrek met die doel om deur ‘ n verenigde front Mosjesj tot vrede te dwing. Intussen het Boshof ook ‘n beroep op sir George Grey gedoen om sy tussenkoms en die Kaapse parlemment het toegestaan dat hy as bemiddelaar kon optree – iets wat ook aanvaar is deur albei strydende partye. By dit alles moes die Vrystaat die vernedering ondergaan om, ná die ineenstorting van die kommando’s, by die Basoeto’s ‘n wapenstilstand aan te vra.

Dit was nie die enigste ramp wat die ongelukkige republiek getref het nie. Ook aan die wesgrens het ‘n beroering gekom toe Scheel Kobus (Skeel Koos) en Goliat Ysterbek, die Koranna-hoofde, en die Batlapin-hoofde Gasebone en Motlabani, begin moor en roof het. ‘n Gesamentlike Vrystaats-Transvaalse mag het wel die rowers op hul plek gesit,maar oor die algemeen was die toestand nog steeds uiters treurig, want die land was feitlik magteloos teenoor die Basoeto-gevaar. Dit was die situasie toe Pretorius, kommandant Paul Kruger en ‘n aantal metgeselle op 7 Junie 1858 in Bloemfontein aangekom het, en die byeenkoms van die Vrystaatse Volksraad op dieselfde dag het in die teken van algemene neerslagtigheid gestaan.

Grey se houding en beleid

Dit het gelyk asof slegs ‘n vereniging van die twee republieke die toestand kon red. Enkele dae later is egter ‘n skrywe ontvang van Grey, waarin hy verklaar het dat in so ‘n geval die Britse regering nie langer die Konvensies as bindend sou beskou nie. Hierdie brief was die doodsteek vir die vereningsplanne van Pretorius, wat op dié oomblik blykbaar die meerderheid van die Vrystaters aan sy kant gehad het. Die regerings van die twee state het daarop, bevrees vir die verlies van hul onafhanklikheid, albei besluit om, wanneer Grey as bemiddelaar opdaag, die saak met hom te bespreek. Alles het van sy houding afgehang.

Wat was Grey se motiewe?

In 1854 het hy in Suid-Afrika aangekom as goewerneur van die Kaapkolonie en dit was sy taak om die Konvensie-politiek 

prakties toe te pas. Maar heel gou het hy laat blyk dat hy liefs ‘n verandering van beleid sou sien. Sy hele beleid word beheers deur die Bantoe-vraagstuk, nie alleen soos dit hom aan die grense van die Kolonie voorgedoen het nie, maar ook in die verder afgeleë geweste. Hy was wesenlik ‘n teenstander van segregasie, begerig om die inboorlinge die voordele van die Europese beskawing deelagtig te maak en, met die oog op ‘n gemeenskaplike Bantoebeleid, t.g.v. opheffing van die Konvensies en van federasie van al die blanke state.

In die Kaapkolonie het hy veel positiewe werk verrig wat ten bate van blank sowel as gekleurd was. Hy het hom veral beywer vir die vooruitgang van die beskawing en wou die hoof bied aan die Bantoe-probleem aan die oosgrens. So het hy sorg gedra vir doeltreffender administrasie van die nog steeds dun bevolkte gebied. Nuwe distrikte is afgebaken, meer munisipaliteite is geproklameer en in 1855 is die stelsel van afdelingsrade in die lewe geroep.

In 1858 is begin met die aanlê van die eerste spoorweg in Kaapland, dié van Kaapstad na Wellington. Ook op kulturele gebied is vooruitgang gemaak, en wel veral t.o.v. onderwys. Grey was ‘n groot voorstander daarvan en meer skole is opgerig. In 1857 is ‘n “Board of Examiners” in die lewe geroep, waaruit later die eerste inrigting vir hoër onderwys ontwikkel het, nl. die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop.

Die Kaapse oosgrens

Belangrik i.v.m. die Bantoes was gebeurtenisse aan die oosgrens in hierdie tyd. In 1848 is die gebied tussen die Keiskamma en die Kei geproklameer tot kolonie direk onder die Britse Kroon as Brits-Kaffrarië. Die bedoeling was oorspronklik bloot militêre besetting en nie om te koloniseer nie. Daarom is aanvanklik die beginsel van segregasie toegepas en is die administrasie toevertrou aan ‘n kommissaris, wat dan regstreeks verantwoordellik was aan die Kaapse goewerneur as verteenwoordiger van die Kroon. Hierin het Grey wesenlike verandering bewerkstelling, met die doel om die Bantoes die voordele van die blanke beskawing deelagtig te maak. So het hy blanke koloniste tussen die Bantoes in Brits-Kaffrarië geplaas, die sending aangemoedig en die jurisdiksie van Bantoehoofde in strafsake beperk deur dit aan blanke magistrate oor te dra. Voorts het hy hospitale laat oprig om toordoktery te beveg, en paaie en brugge gebou.

Duitse immigrante

Weens ‘n tekort aan blanke koloniste het hy ‘n proef geneem met Duitse immigrante. Ná die Krim-oorlog het hy 3 000 lede van die Duitse Legion beweeg om na Suid-Afrika te kom en daarna met ‘n Hamburgse firma onderhandel vir die uitstuur van nog 4 000. Meer as die helfte van dié getal het werklik gekom, maar die Britse regering, sonder wie se medewete dit gebeur het, het ingegryp ten einde geen koste op die Britse belastingbetalers te lê nie. Ook Britse immigrante is in die gebied geplaas, maar die totale getal blankes aldaar was nog te min om die koste as aparte kolonie te regverdig. Selfs moes die Britse regering die administrasie deur ‘n jaarlikse toelae steun.

Nasionale selfmoord van die Kôsas

In 1857 het ‘n gebeurtenis plaasgevind wat groot gevolge sou hê. Onder die Kôsas aan weerskante van die Kei was daar ‘n toenemende gees van weerstand teen blanke oorheersing en insypeling. Op aansporing van die “geeste” het die Bantoes voorbereidsels getref om die witman in die see te dryf; en om hul vertroue in die gunstige uitkoms van die stryd te bevestig, het hulle hul veestapel en graanvoorrade vernietig, in afwagting van die tyd wanneer alles oorvloedig sou wees. Die vasgestelde dag waarop die bevrydingsteken aan die hemel sou verskyn, het egter rustig verbygegaan, en die Kôsas het in hul hoop bedroë uitgekom. Massas honger Bantoes het die koloniale grens oorgesteek om voedsel te soek. Na berekening het byna twee-derdes van die bevolking van Kafferland omgekom. Die gevolg van die ramp was dat die Koloniale grense etlike jare bevry was van die Bantoe-gevaar, want as magsgroep was die Kôsas gebreek.

Grey se eenheidstrewe

Grey se ampstermyn is veral ook van belang weens die invloed wat die Bantoe-vraagstuk op sy beleid teenoor die Boerestate gehad het. So allesoorheersend het hy die vraagstuk geag dat hy dit as noodsaaklik beskou het vir die verskillende blanke gebiede om nader aan mekaar te staan. Hy het nie alleen gestreef na samewerking nie, maar het selfs ‘n federale bond probeer bewerkstellig. Reeds by sy aankoms in Suid-Afrika het hy in die Kaapse parlement op die gemeenskaplike belange van die verskillende state gewys, “and that the more closely they can unite themselves with us, the stronger an more prosperous they, together with ourselves, will be”.(1)

(1)Aangehaal deur De Kiewiet: British Colonial Policy and the S.A. Republics, 1848-1872, p. 92

Ná M.W. Pretorius se eerste mislukte poging om die twee republieke te verenig, het Grey ‘n stap verder gegaan en ‘n federasie van die Kaapkolonie en die O.V.S. bepleit. Dit sou bowendien die voordeel meebring deurdat Natal daardeur regstreeks met die Kaapkolonie verbind sou wees. Sy advies aan die Britse regering was dus om die Konvensie-beleid van nie-inmenging te laat vaar; en as dit nie heeltemal moontlik was nie, dan ten minste die een of ander vorm van nouer samewerking te vekry. “I think,” so skryf hy reeds in Maart 1857 aan die minister van kolonies, Labouchere, “the the inhabitants of that country (die O.V.S.) would be gladly united with this Colony under a federal union … I believe that it is by a federal  union alone (that) these South African colonies can be made so strong and so unite in policy and action that they can support themselves against the Native Tribes.”(2)

(2)Aangehaal deur De Kiewiet, op. cit., pp. 109-110

Grey was van mening dat vereniging van die twee republieke alleen nie slegs sy eie plan sou laat misluk nie, maar boewendien die gesamentlike republiek so sterk sou maak dat die Trekkers die Bantoes sou aanval – iets wat ‘n nadelige uitwerking op die Kaapse oosgrens sou hê. Hy kon egter nie daarin slaag om die Britse regring van sy sienswyse te oortuig nie. Labouchere het hom meegedeel dat daar nie gedink word aan inmening in sake buite die koloniale grense nie. Hoe dit sy, die blote dreigement van Grey dat vereniging van die twee republieke as ‘n inbreuk op die Konvensies beskou sou word, al het dit nie op regsgronde berus nie, was voldoende. So groot was die vrees vir Britse intervensie dat die leiers die verenigingspoging laat vaar het. Hoewel Grey deur sy regering verhinder is om sy politieke ideaal te verwesenlik, het sy houding in 1858 nogtans die verenigingsplan van die republieke vernietig.

Traktaat van Aliwal-Noord

Intussen het Grey voortgegaan met sy taak as bemiddelaar tussen die Vrystaat en die Basoeto’s. Ná ‘n onderbreking van enkele weke weens afwesigheid na die Kaapkolonie ten einde die versending van troepe met die oog op die Indiese muitery te bespoedig, het hy na Bloemfontein teruggkeer en die onderhandelinge met die halsstarrige Mosjesj hervat. Op 29 September 1858 is die Traktaat van Aliwal-Noord eindelik gesluit, waardeur die Warden-grenslyn in die noorde en die ooste bevestig is, terwyl die Basoeto’s in die suide ‘n groot gebied tussen die Caledon en die Oranje bygekry het.

Ook is ooreengekom om wedersyds alle eise om skadevergoeding te laat vaar. Vir die Vrystaat was die voorwaardes baie teleurstellend, maar ook Mosjesj was glad nie tevrede nie, want hy het niks minder nagestreef as die ondergang van de Republiek nie. Dit was volkome duidelik dat die Basoeto’s, hoe gunstig die verdrag ook al vir hulle was, hulle nie by die voorwaardes sou neerlê nie. Die verdrag van Aliwal-Noord was hoogstens ‘n wapenstilstand en het geen duursame vrede beteken nie.

Nuwe federasieplan van Grey

Intussen het die houding van die Britse regering t.o.v. wysiging van die Konvensie-beleid Grey nog nie finaal laat afsien van sy federasieplanne nie. Spoedig het hy, n.a.v. ‘n versoekskrif van di Vrystaters aan hom, sy pogings hervat. Die Vrystaatse versoek om federasie met die Kaapkolonie is deur hom verwelkom, maar terselfdertyd het hy te kenne gegee dat so iets alleen bewerkstellig kon word deur die wetgewende liggame van die twee state. Hy het eintlik verwag dat die inisiatief tot federasie moes uitgaan van die Vrystaatse Volksraad, in die mening dat dit die Britse regering gunstiger sou stem as die republikeinse owerheid vrywillig ‘n verandering begeer. In sy houding is hy versterk deur die ontvangs van ‘n brief van Lytton, die nuwe minister van kolonies, waarin gesinspeel word op ‘n moontlike federasie van Natal en die Kaapkolonie en die inlywing van Brits-Kaffrarië by laasgenoemde. Lytton se hoofdoel was om Britse troepe terug te trek en koste te bespaar.

In sy antwoord het Grey daarop gewys dat ‘n federasie tussen die Britse kolonies alleen prakties uitvoerbaar was as die Vrystaat toetree, en opnuut het hy die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon. So het hy o.m. daarop gewys dat die Vrystaters, anders as dikwels gemeen was, nie wetteloos en oorlogsugtig was nie, en dat die land vrugbaar en in staat was om ‘n groot bevolking te dra. Hy het selfs so ver gegaan om ‘n plan vir ‘n federale konstitusie aan die hand te gee, nl. ‘n sentrale gesag wat die algemene beleid sou vaslê, hoewel die verskillende provinsies ‘n groot mate van selfbestuur sou geniet. Origens moes die uitvoerende gesag verantwoordelik wees aan die wetgewende gesag, anders as die posisie tot dan toe in die Kaapkolonie.

Grey se pleidooi het op dowe ore geval, want die Britse regering was op daardie tydstip nou eenmaal nie oor te haal om groter verpligtinge wat grotr uitgawe sou meebring, buite die Koloniale grense op hom te neem nie. Op sy manier het Lytton dit aldus gestel: “In a federation with these Dutch republics we have much to risk and nothing to gain. We reserve in it the old story of the giant and the dwarf, in which the dwarf gets the wounds and the giant the profit. It seems to me that here the dwarf would be thrusting his Dutch nose into all sorts of black squabbles from which the British giant would always have to pull him out with the certainty of more kicks than halfpence.”(3)

(3)Minute van Lytton, 6 Oktober 1858, aangehaal deur De Kiewiet, op. cit., p. 127

Federasieplan misluk

Vir die Britse regering was dit dringend noodsaaklik om so min moontlik ekstra verpligtinge op sy skouers te neem. Die Krim-oorlog was pas verby, die Indiese muitery was in volle gang en Napoleon III van Frankryk was nog altyd die bête noire in Europa wat te eniger tyd ‘n botsing tussen Engeland en Frankryk kon veroorsaak. Buitelandse aangeleenthede was van so ‘n aard dat ‘n stabiele en versigtige koloniale beleid noodsaaklik was. Grey, wat graag sy eie gang gegaan het, het die aankoms van die antwoord van die ministerie van kolonies nie afgewag nie, maar by ontvangs van ‘n versoek van die Vrystaatse Volksraad t.g.v. federasie dit dadelik voor die Kaapse Wetgewende Vergadering gelê en sterk aanbeveel. Die bespreking was nog aan die gang toe Lytton se weierende dépêche die hele saak summier beëindig het. Nie gou sou so ‘n gunstige geleentheid om die staatkundige grense uit te wis, hom weer voordoen nie.

Tog was die algemene toestand van so ‘n aard dat federasie op hierdie tydstip waarskynlik nie prakties uitvoerbaar was nie. Die middelpunt-vliedende kragte was te sterk, nieteenstaande die onmiddellike behoefte van die Vrystaters aan hulp teen die Basoeto’s. Die afstande was groot, die verbindings uiters gebrekkig, die bevolking klein en die verskillende gemeenskappe elk op sy eie lewe aangewys. Grey se federasieplan het misluk en hy moes die gevolge dra. Die Britse regering het gemeen dat hy sy opdrag te buite gegaan het en hom teruggeroep. In Augustus 1859 het hy die Kaap verlaat, maar ná ‘n afwesigheid van ‘n jaar, is hy in sy amp herstel deur ‘n nuwe regering, op voorwaarde dat hy die saak van federasie nie weer aanroer nie. Ná nog twaalf maande diens in Suid-Afrika het hy die land finaal verlaat en is hy opgevolg deur sir Philip Wodehouse.

Grey se betekenis vir S.A.

Hoewel Grey se groter ideale misluk het, het hy tog veel gedoen vir die land en heelwat vooruitgang is gemaak. Die handel het gebloei, die uitvoer van wol en bokhaar het grootliks toegeneem, en die  staatsinkomste het langsamerhand gestyg. Belangrik veral was die toename in die blanke bevolking van die Kaapkolonie van 140 000 in 1854 tot 210 000 twee jaar later. ‘n Begin is gemaak met spoorweë en telegraaflyne, en vooruitgang is gemaak op die gebied van die onderwys.

Vordering in Natal

Ook die kolonie Natal het in die jare vyftig langsamerhand vordering gemaak. Tien jaar ná die anneksasie van Natal as Britse kolonie, het die blanke bevolking nog maar 8 000 getel, te midde van 150 000 Bantoes, want ‘n immigasieplan van Byrne in die jare 1849-’50 was geen sukses nie. ‘n Begin is gemaak met die kweek van katoen en suiker, wat uit Mauritius ingevoer is, maar daar was ‘n tekort aan arbeid en kapitaal.

Grotendeels het die Natallers ‘n bestaan gemaak uit die deurvoerhandel na Transvaal en die Vrystaat. In 1854 het Durban en Pietermaritzburg munisipale selfbestuur gekry. Aan die hoof van die kolonie was ‘n luitenant-goewerneur, bygestaan deur ‘n paar amptenare. In 1856 het Natal beperkte selfbestuur ontvang. ‘n Raad van vier amptenare en twaalf gekose lede sou die wetgewende mag vorm, maar die Kroon het die vetoreg behou.

Invoer van Indiese arbeiders

In dieselfde jaar is reëlings getref vir die invoer van Indiese koelies, met die oog op die arbeidstekort op die suikerplantasies. In 1859 is by wyse van ordonnansie die invoer van koelies gewettig en in November 1860 het die eerste skeepslading aangekom op staatskoste. Arbeiders is aan werkgewers toegeken onder kontrak vir ‘n tydperk van drie jaar. Lone is vasgestel, maar ná vyf jaar het dit die arbeider vry gestaan om te gaan waar hy wou. Hy kon kies tussen ‘n vry oortog na Indië of kroongrond tot dieselfde bedrag.Teen 1865 was daar reeds 6 500 van hierdie mense in Natal en die meeste van hulle was bestem om te bly. Wat eers ‘n groot bate vir die kolnie was, sou later ‘n las word.

Intussen het sake rooskleurig gelyk en het Natal rustig sy gang gegaan, deur die magtige Drakensberg geskei van sy noue 

aanraking met die res van Suid-Afrika. So het sake gestaan in die begin van die jare sestig, maar eerlang sou die Bantoevraagstuk ook hierdie kolonie uit sy slaap laat ontwaak, want in die binneland was ‘n storm aan’t broei wat meer as ooit tevore die blanke gebiede in noue aanraking met mekaar sou bring.

Pretorius se pogings om die republieke te verenig

Ondanks die mislukking van sy poging om die twee republieke in 1858 te verenig, het M.W. Pretorius nie die moed verloor nie. In 1859 het hy daarin geslaag om Lydenburg sowel as Buffelsrivier (Utrecht) met die S.A. Republiek onder een vlag en grondwet te verenig.

In dieselfde jaar het andermaal ‘n geleentheid om voorgedoen om ook die Vrystaat staatkundig met die Suid-Afrikaanse Republiek te verenig. In 1859 het Boshof bedank as president van die O.V.S. en M.W. Pretorius is versoek om hom in sy plek verkiesbaar te stel. Diegene wat gemeen het dat die moeilikhede van die Vrystaat opgelos kon word alleen deur vereniging met die Suid-Afrikaanse Republiek, veral in aanmerking nemende die groot invloed van die familie Pretorius op Mosjesj, het hulle besonder beywer vir Pretoria se kandidatuur, met die gevolg dat hy met ‘n groot meerderheid verkies is.

Pretorius president van albei state

Hy was nou president van albei state en in die hoop dat hy spoedig ‘n vereniging sou bewerkstellig, het hy ses maande verlof van die Transvaalse Volksraad gevra en verkry. In Februarie 1860 is hy ingesweer as president van die O.V.S. Op 2 Augustus sou sy verloftyd verstryk en moes hy na Transvaal terugkeer, maar enkele dae tevore het die Vrystaatse Volksraad hom drie maande verlof tot afwesigheid toegestaan en ‘n kommissie afgevaardig met die oogmerk om verlenging van die ses maande verlof by die Transvaalse Volksraad aan te vra. Toe lg. liggaam in September vergader, is die Vrystaatse kommissie met min geesdrif ontvang, want baie Transvalers was, uit vrees vir Britse inmenging, nou nie meer goedgesind teenoor Pretorius se verenigingsplanne nie en buitendien het die Lydenburgers geen simpatie met Pretorius gehad nie.

Die Volksraad het dus die verenigingsvraagstuk genegeer en inteendeel besluit dat Pretorius moes bedank as president òf van die O.V.s. òf van die Suid-Afrikaanse Republiek, aangesien die grondwet bepaal het dat hy geen ander werk tydens sy ampsduur mog verrig nie. Pretorius het daarop sy amp as president van die Suid-Afrikaanse Republiek neergelê, en sy amp is waargeneem deur J.H. Grobler. Die uitkoms sou wees burgeroorlog en verwarring, wat vier jaar lank die gemoedere in beroering sou hou; want Pretorius se aanhangers en die voorstanders van vereniging was glad nie tevrede om hulle by die besluit van die Volksraad neer te lê nie.

Onrus in Transvaal

Op ‘n volksvergadering, gehou te Potchefstroom, is besluit dat die Volksraad nie meer die vertroue van die volk besit nie; dat Pretorius moes aanbly as president; dat aan hom een jaar verlof toegeken word ten einde vereniging met die O.V.S. te bewerkstellig; dat Schoeman (wat nou plotseling die politiek van Pretorius toegedaan was) intussen die betrekking moet vul; en dat die Volksraad plek moet maak vir ‘n nuwe. Hierdie besluite was beslis onkonstitusioneel en groot gevolge sou daaruit spruit.

‘n Kommisie van vyf, aangestel om die besluite uit te voer, het ‘n haastige volkstemming uitgeskryf, en ‘n klein meerderheid van die wenige stemme wat uitgebing is, het dit goedgekeur. Schoeman het hom nou sterk genoeg gevoel om die teuels van die bewind te aanvaar. Ná aanvanklike teenstand het die Volksraad in die toestand berus tot tyd en wyl ‘n nuut verkose Raad oor die saak sou besluit.

Paul Kruger gryp in

In April 1862 het die nuwe Volksraad Schoeman van sy pos onthef en W.C. Janse van Rensburg tot waarnemende president benoem. Schoeman, gesteun deur Potchefstroom, het geweier om af te tree. Vir kommandant Paul Kruger van Rustenburg was dit te erg en hy het ‘n gewapende mag op die been gebring om die orde te herstel. Hy het Schoeman uit Pretoria verdryf, Potchefstroom beset en sy teenstanders was verplig om die wyk oor die Vaalrivier te neem.

Op 12 Januarie 1863 het ‘n spesiale hof Schoeman en enkele van sy ondersteuners skuldig bevind aan rebellie, hulle verban en hul goedere verbeurd verklaar. By ‘n nuwe presidentsverkiesing kort daarna het Van Rensburg ‘n klein meerderheid oor Pretorius behaal, maar so min stemme is uitgebring dat ‘n tweede verkiesing uitgeskryf is. Die uitslag was dieselfde, hoewel heelwat meer mense gestem het.

Op 24 Oktober 1863 het Van Rensburg die ampseed afgelê, maar sy teenstanders, wat die egtheid van die verkiesing in twyfel getrek het, het o.l.v. kommandant Viljoen van Marico opnuut in opstand gekom. Die opstandelinge, wat hulself as die “Volksleër” bestempel het, het Potchefstroom beset en andermaal moes Kruger in die strydperk tree, hierdie keer aan die hoof van ‘n klein kommando wat bekend was as die “Staatsleër”. So swak was sy mag dat hy ‘n ooreenkoms probeer bereik het met Viljoen t.g.v. ‘n nuwe verkiesing onder hul persoonlike toesig. Dit was tevergeefs en Kruger was selfs verplig om tydelik die wyk oor die Vaalrivier te neem. Toe die toestand meer in sy guns verander, het hy teruggekeer, hierdie keer vasbeslote om die wapens die saak te laat beslis.

Pretorius andermaal president in Transvaal

Op 5 Januarie 1864 het die twee leërs mekaar tussen Rustenburg en Pretoria ontmoet en die Volksleër het ná ‘n skerp geveg die onderspit gedelf. Die dag daarop het Pretorius, oor wie se persoon al die moeilikhede per slot van rekening ontstaan het, uit die Vrystaat op die toneel verskyn en sy bemiddeling aangebied. Daar is besluit om andermaal ‘n verkiesing te hou, en dié keer is Pretorius met ‘n aansienlike meerderheid bo Van Rensburg verkies. Daarmee is die onsalige twis beëindig en kon voortgegaan word met opbouende werk. Daarby het ‘n ander vraagstuk dringende aandag vereis, nl. die dreigende houding van die Bantoes.

Die laaste verenigingspoging van Pretorius het dus opnuut geëndig in ‘n mislukking met, as enigste resultaat, burgerstryd in sy eie republiek. Ook die Vrystaat het niks daarby gebaat nie en moes, kort nadat Pretorius sy amp neergelê het ná sy verkiesing tot president van die noordelike republiek, opnuut die Basoeto-vraagstuk in die oë kyk. Intussen het Pretorius ‘n ander oogmerk nagestreef, wat die moontlikheid van blywende resultate gebied het.

Pretorius se ekonomiese beleid

Veral ekonomiese vraagstukke het sy ernstige aandag vereis en mettertyd sou sy hele buitelandse beleid in groot mate daardeur beïnvloed word. Sedert jare was daar baie min geld in omloop en was die staatsinkomste so gering dat geen opbouwerk aangepak kon word nie. ‘n Vername bron van inkomste was vir die Republiek gesluit, omdat die kuskolonies, deur wie se hawens byna alle benodigdhede ingevoer is, sulke hoë deurvoerregte gehef het dat die Republikeinse regering dit nie nog verder kon belas nie. Die nodigste artikel, ammunisie, was daardeur besonder duur, ook vanweë die hoë vervoerkoste van die kus af. Sedert die jare vyftig het Pretorius die toestand probeer verlig langs die weg van vriendskaplike onderhandeling met die Natalse regering. Hy het in 1854 tevergeefs aanspraak gemaak op ‘n deel van die invoerregte en origens die prys van ammunisie probeer laag hou deur ‘n staatsmonopolie.

Nuwe plan vir eie hawe

Langsamerhand het hy ook ernstiger begin dink aan die verwesenliking van die ou Voortrekker-ideaal, die verkryging van ‘n eie seehawe. In 1858 en 1859 is sporadies geprobeer om Panda oor te haal om grondgebied in Zoeloeland tot aan die see af te staan. Toe Pretorius in 1860 president van die O.V.S. word, het ook die Volksraad in daardie rigting gewerk deur beurtelings met Panda en sy seun Cetshwayo te onderhandel – maar sonder sukses. So belangrik het Pretorius die saak geag dat hy in Junie 1861 persoonlik ‘n besoek aan die Zoeloe-opperhoof gebring het, andermaal tevergeefs. Hy het veral gedink aan St. Luciabaai, maar in September 1861 het die Britse owerheid, by monde van Shepstone, daar finaal ‘n stok voor gesteek.

Hierna het Pretorius vanuit die O.V.S. opnuut vergeefste onderhandelinge aangeknoop, dié keer met die Kaapse owerheid, met die oog op ‘n deel van die invoerregte. Ná die aanvaarding van sy tweede ampstermyn in Transvaal in 1865 het hy toegewinge regstreeks van die departement van kolonies in Londn probeer verkry, en die jaar daarop het hy ‘n laaste poging aangewend om met die Natalse regering ‘n vergelyk te tref. In Junie 1866 het hy Natal besoek en die saak met luitenant-goewerneur Scott bespreek. Ook dié keer moes hy onverrigter sake huiswaarts keer. Dit was die laaste strooi en van toe af het hy die oog gevestig op die Portugese kus – iets waarop hy reeds tevore gesinspeel het in ‘n brief aan die luitenant-goewerneur.

Van ‘n nedersettingsplan in Oos-Transvaal wat ‘n ondernemende Skotse avonturier, Alexander McCorkindale, aan hom voorgelê het, het Pretorius nou gebruik gemaak om grondgebied aan die ooskus buite die Britse invloedsfeer te probeer verwerf. Reeds in 1864 het McCorkindale ‘n ooreenkoms met die Republikeinse regering aangegaan waarvolgens hy namens ‘n grondmaatskappy ‘n goot aantal plase gekoop en immigrante uit Skotland daarop gevestig het. Gebruikmakende van die nedersetting wat so ontstaan het, en ook van die dienste van McCorkindale, wou Pretorius nou probeer uitbrei in die rigting van die mond van die Maputarivier. Reeds in 1866 het hy ene Forbes die omgewing laat ondersoek en die uitslag was gunstig genoeg om hom tot verdere stappe te beweeg.

In September 1867 het McCorkindale met ‘n uitgewerkte haweplan voor die dag gekom, op grond waarvan ‘n kontrak met hom aangegaan is. Daarvolgens sou hy die hawe aan die monding van die Maputa aan die Republiek besorg, met ‘n vrye deurtog deur Swaziland van sy nedersetting af. Hy sou voorts ‘n lening verkry van R500 000 en, in ruil vir sy dienste, ook honderd plase. Gepaard met die plan was ‘n program van algehele reorganisasie van die landsadministrasie, padbou en finansiële hervorming. Die onderwys, verkeer, regstelsel – alles sou gemoderniseer word.

Grensproklamasie van 1868

Van die hele oorhaastige plan het niks tereg gekom nie. In April 1868 het Pretorius, onder die indruk dat die suidelike deel van Delagoabaai waarin die Maputa uitmond, nie aan Portugal behoort nie, met verlof van die Volksraad ‘n proklamasie uitgevaardig waarvolgens die grense van die Republiek ooswaarts uitgebei word langs die Maputa tot waar dit in die see uitmond. Terselfdertyd is die wesgrens uitgebrei tot aan die Ngami-meer, ver in die Kalahari. Pretorius het gemeen om nie alleen die lang begeerde uitweg na die see te kry nie, maar die Republiek ‘n aandeel te besorg in die ontginning van die ryk noordelike agterland wat kort tevore deur die Duitse reisiger Karl Mauch aan die lig gebring was.

Brits-Portugese reaksie

Pretorius se optrede het onmiddellik ‘n skerp reaksie utigelok – van die kant van Portugal sowel as van Engeland. Albei state het hul koloniale belange bedreig gesien en geprotesteer. Vir Engeland het dit nie alleen daarom gegaan om die Republiek van die see af te sny nie, maar veral ook om aan die kuskolonies die voordele te besorg was die agterland kon oplewer. Uitbreiding in ‘n westelike rigting deur die Republiek sou die weg na die noorde afsny. Reeds sedert die jare vyftig het Engeland die oog gevestig gehad op Delagoabaai en in 1861 is die Britse vlag op die eiland Inyak in die baai geplant.

Goewerneur Wodehouse het dan ook  onmiddellik geprotesteer teen wat hy genoem het die Boere se “appropriation of Briutish territory”, bedoelende daarmee die suidelike deel van Delagoabaai. So erg was die uitwerking van Pretorius se proklamasie dat die Britse owerheid en sy verteenwoordigers in Suid-Afrika voortaan die Sandrivierkonvensie feitlik as nietig beskou het.

Die invoer van wapens en ammunisie na die Republiek is sover moontlik gestrem, terwyl die Bantoes toegelaat is om hulle vryelik van Europese oorlogstuig te voorsien. “It was an unworthy act. Wodehouse sowed a whirlwind, South Africa reaped the storm.”(4) Daar is selfs gepraat van die moontlikheid om die Republiek self te annekseer. Toe ook die Portugese hul stem laat hoor, het Pretorius sy prklamasie stilswygend laat verval. Die jaar daarop het hy weer ‘n swak poging aangewend om met behulp van McCorkindale iets van die haweplan te red, maar Wodehouse het andermaal ‘n afkeurende geknor laat hoor en van die hele saak het niks tereg gekom nie.

(4)De Kiewiet, op. cit., pp. 264-265. Vgl. Ook Krüger: Die Weg na die See, pp. 180-181

Transvaals-Portugese verdrag

Pretorius het finaal die gedagte aan ‘n eie seehawe laat vaar, want intussen het die moontlikheid voor die deur gestaan om met die Portugese ‘n ooreenkoms te bereik wat die regstreekse beheer oor ‘n eie invoerhawe onnodig gemaak het. Wesenlik was dit ‘n terugkeer tot die ou Potgieter-beleid van samewerking met die Portugese, wat gedurende die jare vyftig en sestig slegs halfhartig en sporadies aangepak was. Teen 1869 het albei partye besef dat daar wedersydse voordele verbonde was aan ‘n goeie verstandhouding. In Julie van daardie jaar is ‘n verdrag van “vrede, vriendskap, handel en grense” tussen die twee state gesluit en in Pretoria onderteken. Daarvolgens het die Republiek die Portugese aanspraak op Delagoabaai erken en in ruil besonder gunstige handelsvoorwaardes ontvang. Die verdrag is deur albei regerings bekagtig en op 10 Julie 1871 is die ratifikasies in Pretoria uitgewissel.

Internasionale erkenning

Die logiese gevolg was pogings om pad- en spoorverbindinge na Delagoabaai te skep. Ook hierdie taak het Pretorius aangevoor, maar eers sy opvolger, Burgers, het dit met krag aangepak. Die goeie betrekkinge wat aldus met die Portugese geskep is, het baie jare stand gehou en vir die eerste het die regering van ‘n staat op die Europese vasteland in noue voeling met die Suid-Afrikaanse Republiek gekom. Dit was ‘n teken dat die Republiek onder die aandag van die groot buitewêreld gekom het. In die loop van 1870 het Nederland, Frankryk en België die Portugese voorbeeld gevolg deur die Suid-Afrikaanse Republiek amptelik te erken.

Moeilikhede met die Zoeloes

Ekonomiese vraagstukke was nie die enigste waarmee die ongelukkige Pretorius te kampe gehad het nie. Veral belangrik was die Bantoe-vraagstuk, wat al hoe dreigender geraak het. Oor die lengte en breedte van Suid-Afrika was toenemende onrus onder die Bantoestamme te bespeur. Reeds in 1861 was daar moeilikheid aan die grens van Zoeloeland toe die Republiek beskerming verleen het aan Usutu, gevlugte broer van Cetshwayo. Na aanleiding daarvan het die Republiek hom bemoei met die troonopvolgingsvraagstuk tussen Panda en Cetshwayo,veral ook om so ‘n deurtog na die see te kry. Die uitkoms was dat die Republiek die sessie van ‘n strookgrondgebied verkry het; maar Cetshwayo het dit in 1865 gerepudieer en sy impi’s gemobiliseer, sodat die Boere langs die grense tydelik in laers moes staan. Gelukkig was dié krisis gou weer verby, dog in Soutpansberg was dit ernstiger.

Soutpansberg

In daardie ontoeganklike deel van die land was die inboorlinge nooit behoorlik onder beheer gebring nie en toe hulle in die jare sestig vuurwapens van smokkelaars verkry het, was ‘n uitbarsting onafwendbaar. Reeds in 1864-’65 het moeilikheid gedreig van die kant van Mzila, die Sjangaan-hoof oorkant die Portugese grens. Teen 1867 het ook die Soutpansbergse stamme in opstand gekom en is aanvalle onderneem, deels deur blankes self uitgelok.

So erg was die toestand dat kommandant-generaal Paul Kruger hom met ‘n kommando na die noorde moes haas. Weens gebrek aan ammunisie en ondersteuning het hy eindelik in Junie 1867 die dorp Schoemansdal ontruim en ‘n groot deel van die distrik het vir die blankes verlore gegaan. Dit was ‘n groot terugslag dat een van die oudste blanke nedersettings so sonder slag of stoot afgegee is en allerweë het die swartman sy ontsag vir die witman begin verloor. Die ergste storm sou egter oor die suidelike republilek losbars.

O.V.S. en die Basoeto’s

Die Basoeto-vraagstuk is deur die Traktaat van Aliwal-Noord in 1859 nie opgelos nie en Mosjesj het weldra sy onderdane toegelaat om opnuut die grense te skend. Toe Pretorius die jaar daarop president van die O.V.S. word, het hy met die Basoeto-opperhoof ooreengekom dat ‘n gemengde hof en ‘ n polisiemag aan die grens gevestig sou word. Mosjesj was egter glad nie van plan om aktief saam te werk ter beslegting van gskille nie bowendien kon die polisiemag weens geldgebrek nie op die been gebring word nie. Die plan het in duie gestort en die toestand het by die dag versleg.

Toe die bekwame Jan Hendrik Brand in 1864 Pretorius opvolg as president van die O.V.S., het hy, om ‘n einde aan die onhoudbare toestand te maak, sir Philip Wodehouse gevra om die Grey-grens van 1859 behoorlik te kom aanwys – iets wat nooit gedoen was nie. Wodehouse het ingewillig alleen op voorwaarde dat aan hom die reg verleen word om wysigings na goeddunke aan te bring.

Die Britse owerheid het Basoetoland as ‘n besonder belangrike gebied beskou, vanweë sy ligging tussen Zoeloeland en die inboorlinggebiede aan die oosgrens van die Kaapkolonie, en bowendien omdat dit die kragsentrum was van die politieke strewe van alle Bantoes. Dit was ‘n belangrike faktor in ‘n Suid-Afrikaanse Bantoebeleid en die Britse Hoë Kommissaris was vasbeslote om, ondanks die Konvensies, sy invloed daar te laat geld. Toe Wodehouse sy voorwaarde stel, kon die Vrystaatse Volksraad niks anders doen as instem nie, hoewel huiwerend. Die Kaapse goewerneur het hom egter goed van sy taak gekwyt en die Vrystaat in hoofsaak in die gelyk gestel. Hy het Mosjesj daarop gewys dat sy onderdane hulle sedert jare skuldig gemaak het aan skending van die grense, en hom aangeraai om die grond waarop hulle hul wederregtelik gevestig het, te ontruim.

Oorlog teen Mosjesj verklaar

Toe Mosjesj, onder allerlei voorwendsels, hierdie raad in die wind slaan, het die Vrystaatse regering in Junie geen ander keuse gehad asom oorlog te verklaar nie. In ‘n proklamasie is op die oortredings en bedrog van Mosjesj gewys. Die Basoeto-opperhoof, aangepor deur sy sendelingadviseurs, het in ‘n teenproklamasie die skuld op die Vrystates gewerp en ‘n oulike poging aangewend om die Engelssprekende deel van die bevolking van Suid-Afrika neutraal te hou. Hy het die Vrystaters dit verwyt dat hulle aggressief optree, met as hoofdoel om hom van vrugbare landbougrond te beroof. Wodehouse het hierop die afsydigheid van die Britse gebiede geproklameer, in die hoop dat die Vrystaters andermaal die onderspit sou delf en hul heil sou soek in federasie met die Kaapkolonie, hoewel die Bitse regering op daardie oomblik glad nie geneë was om toe te stem tot gebiedsuitbreiding in Suid-Afrika nie.

Transvaal verleen hulp

Vasbeslote om die mag van die Basoeto’s hierdie keer finaal te breek, het Brand by die Transvalers om hulp aangeklop en die uitkoms was dat vrywilligers toegelaat is om hulle by die Vrystaatse magte aan te sluit. Spoedig is die Suid-Afrikaanse Republiek egter gedwing om amptelik tot die oorlog toe te tree, weens ‘n moord deur Basoeto’s begaan op Transvaalse toggangers wat op weg was uit Natal deur Harrismith na hul eie land.

‘n Transvaalse mag onder kommandant-generaal Paul Kruger was gou in die veld saam met die Vrystaters. Ook die Natallers was weens ekonomiese belange die Vrystaatse saak goedgesind. Die handel met die Republieke, wat aansienlike winste vir Natal afgewerp het, het a.g.v. die oorlog verslag, sodat Natal ‘n spoedige Vrystaatse oorwinning begeer het. Hierdie begeerte het tot uiting gekom in simpatie-betuigings en geldinsamelings.

Oor die algemeen het die blankes in Suid-Afrika, afgesien van die houding van die amptelike instansies, die Vrystaatse saak as hul eie beskou. Die gesamentlike Transvaals-Vrystaatse magte het aanvanklik goed vordering gemaak, maar die Transvalers het hulle gou weer aan die stryd onttrek weens geskille met die broedervolk oor verowerde grondgebied en buitvee, en ook omdat hulle teenwoordigheid in die noorde geverg is weens Bantoe-onluste in Soutpansberg.

Die Vrystaters moes sien om alleen die mas op te kom en toe ‘n bestorming van Thaba Bosigo, waarby kommandant Louw Wepener die lewe verloor het, misluk, het hulle die doeltreffende taktiek van stelselmatige uitputting van die Basoeto’s begin toepas. Mobiele eenhede het die statte verwoes, die graan en die veestapel buitgemaak en aanstons het hongersnood die Basoeto-nasie begin bedreig. In die uur van die hoogste nood het Mosjesj sy toevlug geneem tot die Britse regering en aangebied om met sy volk Britse onderdane te word. Aanvanklik was daardie regering, by monde van die minister van kolonies, Cardwell, nie daartoe geneënie en die stryd het sy verloop geneem. Die Vrystaters het nou met groter krag begin optree, die Franse sendelinge uit die verowerde gebied verban, omdat hulle as politieke agente die Basoeto’s aangehits het, en die gesaaides nog meer stelselmatig verwoes.

Hierdie maatreëls het ten gevolge gehad dat Mosjesj se seun Molapo by die Verdrag van Imperani sy grond noord en wes van die Caledon afgestaan en ‘n Vrystaatse onderdaan geword het. Kort daarna (April 1866) is Mosjesj self by die Verdrag van Thaba Bosigo gedwing tot vrede en het hy ‘n groot deel van sy oorgeblewe grond afgestaan. Die sluwe opperhoof was egter geensins van plan om sy gegewe woord gestand te doen nie en, op advies van sy Franse agente, het hy sy aansoek om Britse onderdaan te word, herhaal, met die byvoeging dat sy land by Natal ingelyf moet word.

Britse inmenging

In lg. kolonie het dit ‘n onmiddellike ommeswaai tot gevolg gehad, want die koloniste was begerig om nedersettingsgrond in die noordelike grensstrook te verkry. ‘n ander gevolg was dat Woidehouse sy pleidooi om Britse inmenging met meer klem herhaal het, onder voorwendsel dat die Vrystaters deur die besetting van groot dele van Basoetoland sou deurdring in die rigting van Port St. Johns en aldus ‘n wig sou indryf tussen Natal en die Kaapkolonie.

Wodehouse se pleidooi, gesteun deur die Natallers, het nou ingang gevind in Engeland. Reeds was die negrofiliste aldaar verontwaardig oor die behandel wat die Franse sendelinge te beurt geval het en daarby het gekom die oorweging dat anneksasie van Basoetoland sou lei tot duursame vrede in Suid-Afrika, terugtrekking van Britse troepe en minder uitgawe vir die belastingbetalers. Origens het die nuwe hoof van die Colonial Office, sir Charles Adderley, ‘n teenstander van die Konvensie-beleid, ook sy stem laat hoor t.g.v. inmenging.

Daarom is Wodehouse gelas om Basoetoland aan te heg by Natal, mits lg. alle koste dra. Maar Wodehouse, wat graag regstreekse beheer wou uitoefen oor Bantoesake en die Natalse beleid gewantrou het, het in Maart 1868 eiemagtig oorgegaan tot die anneksasie van Basoetoland as Britse kroonkolonie, nadat hy vooraf die ammunisie-toevoer na die Vrystaat stopgesit het, in stryd met die Konvensies. Die ontsteltenis, nie alleen in die Vrystaat nie, maar selfs in Natal en in die kringe van die departement van kolonies, was groot. Alleen met teensin het Buckingham, minister van kolonies, sy toestemming gegee.

Tweede Verdrag van Aliwal-Noord

President Brand het geen maklike taak gehad nie, want die gevaar dat die Konvensies formeel opgehef kon word was wesenlik, en hy was verplig om toe te stem in ‘n vergelyk, daartoe gedwing deur omstandighede juis op ‘n oomblik toe die Vrystaatse wapens op die punt was om te seëvier. Wodehouse – van sy kant begereig om dit nie tot ‘n oorlog met die Vrystaat te laat kom  nie – was ook toeskietlik, ‘n byeenkoms het plaasgevind en die uitkoms was die tweede Verdrag van Aliwal-Noord in Februarie 1869. Daarvolgens is die Bloemfontein-konvensie herbevestig en is die Vrystaat toegelaat om ‘n aansienlike stuk grond wes van Caledon te behou, sowel as ‘n strook tussen die Caledon- en die Oranjerivier.

‘n Bykomende voordeel vir die Vrystaat was dat Engeland self voortaan die Basoeto’s in toom moes hou. Tog was die Vrystaters in die geheel bitter ontevrede oor die ongevraagde Britse inmenging. ‘n Anti-Britse gevoel het begin ontstaan en van toe af het die weë van die Kaapkolonie en die Vrystaat nog verder uitmekaar geloop. Die Britse beleid in Suid-Afrika en die Britse optrede in toekomstige vraagstukke sou die voorstanders van volkome Republikeinse selfstandigheid nog verder op die ingeslane weg laat volhard.

Britse imperialisme verskerp

Gedurende die jare 60 is die Britse koloniale beleid onder die druk van omstandighede langsamerhand gewysig in die rigting van ‘n aggressiewe imperialisme. Dit blyk veral uit die optrede van die Britse prokonsuls in Suid-Afrika. Sir Philip Wodehouse het in 1861 goewerneur van die Kaapkolonie geword op ‘n tydstip in die ontwikkeling van daardie gebied wat besonder moeilik was. Reeds onder Grey se bewind het die oostelike distrikte begin agiteer vir afskeiding as aparte kolonie en in 1860 het John Molteno ‘ n beweging op tou gesit t.g.v. verantwoordelike bestuur. Toe Wodehouse in Suid-afrika aankom, het hy dadelik met albei sake te doen gekry.

Origens was die land in die greep van ‘n geweldige droogte. Die landsuitgawe het die inkomste oorskry, en dit sou die goewerneur se ondankbare taak wees om belastings te verhoog.  Sy beleid was om die verdedigingsuitgawe te besnoei, Brits-Kaffrarië by die Kolonie in te lyf, aan die verlange van die Oostelike Provinsie te voldoen deur ‘n geringe mate van desentralisasie, en die uitvoerende gesag te versterk teen die wetgewende mag. Trouens, hy was in beginsel gekant teen verantwoordelike regering en selfbestuur in ‘n kolonie.

Konstitusionele botsing in die Kaapkolonie

‘n Konstitusionele botsing, wat in Grey se tyd nie moontlik was nie weens lg. se taktvolle optrede, het voor die deur gestaan. Die bepalinge van die konstitusie van 1853 moes dit noodwendig meebring, want terwyl dit aan die verteenwoordigers van die koloniste die volle wetgewende gesag verleen het, het hulle geen beheer oor die administrasie gehad nie. So kon hulle wel belastings hef, maar die uitvoerende gesag – d.w.s. die goewerneur en sy amptenare – het alles te sê gehad oor die besteding daarvan. Sake waaroor wrywing kon ontstaan, was daar verskeie, afgesien nog van die heersende depressie, die groot droogte en die siekte in die wingerde van die Westelike Provinsie.

Oor die belangrike vraagstuk van afskeiding van die Oostelike Provinsie as aparte kolonie sowel as die inlywing van Brits-Kaffrarië by die Kolonie was daar meningsverskil tussen Wodehouse en die parlement, waarin die W.P. oor ‘n klein meerderheid beskik het. Die meeste koloniste van die westelike distrikte was teen enige vorm van afskeiding en van aanhegting van Brits-Kaffrarië, veral uit vrees vir meer uitgawe en dat hulle hul politieke oorwig sou verloor. Die bewoners van die oostelike distrikte weer wou afskei ten einde te ontkom aan die politieke oorheersing van die oorwegend Hollandssprekende weste.

In ooreenstemming met die begeerte van die Britse regering om die verdedigingsuitgawe laag te hou, het Wodehouse nie alleen die spoedige inlywing van Brits-Kaffrarië bepleit nie, maar selfs die anneksasie van Bantoegebiede meer na die ooste, veral met die doel om die Vrystaat vir goed van die see af te sny. Met dieselfde doel voor oë het hy getrag om van Niemandsland, tussen die Drakensberge en Pondoland, ‘n soort bufferstaat te maak. Reeds Grey was begering omAdam Kok en sy Griekwas daar te plaas,maar eers in Januarie 1863 het Kok en sy volgelinge hulle gaan vestig in die gebied wat voortaan bekend sou wees as Griekwaland-Oos. Wodehouse was veral daarop uit om die uitgawe vir Brits-Kaffrarië laag te hou en dit kon die beste gebeur deur die gebied aan te heg by die Kaapkolonie – m.a.w. die koste op die skouers van die Kaapse koloniste te lê.

Na aanleiding hiervan het die eerste konstitusionele botsing plaasgevind tussen uitvoerende en wetgewende gesag. Die Kaapse parlement wou van inlywing niks weet nie, want reeds het dit te staan gekom voor die vraagstuk van tekorte en stygende landskuld. Gelei deur Saul Solomon en Molteno het die parlement verantwoordelike bestuur geëis aleer daar van anneksasie sprake kon wees. Daarom is Wodehose kort-kort gedwarsboom in sy planne, bv. die wetgewende en regterlike skeiding tussen die Oostelike en die Westelike Provinsie. Ook is die goewernaeur se belastingvoorstelle in 1863 verwerp. Alleen met die grootste moeite kon hy die parlement, wat die jaar daarop in Grahamstad gesit het, beweeg om gld vir die noodsaaklikste uitgawe beskikbaar te stel. Intussen het die depressie die hele land in sy greep gehad en die bou van nuwe openbare werke moes gestaak word.

Inlywing van Brits-Kaffrarië

Die Ryksregering, vasbeslote om alle verdedigingsuitgawe te besnoei, en uit vrees vir ‘n nuwe oorlog aan die oosgrens, het Wodehouse eindelik by wyse van wetgewing gemagtig om Brits-Kaffrarië in te lyf, nieteenstaande alle teenstand. Selfs is besluit om die Transkei prys te gee. Die Kaapse parlement was verplig om toe te gee, hoewel tegelykertyd ‘n groter mate van verteenwoordiging aan die WP toegestaan is, sodat sy politieke oorwig gehandhaaf is. Wodehouse se optrede het wel ‘n mosie van wantroue uitgelok en hy het hom die misnoeë van baie koloniste op die hals gehaal, maar niks kon die formele inlywing van die betrokke gebied as ‘n deel van die Kaapkolonie in April 1866 vehinder nie.

Geldelike administrasie

Hiermee was die moeilikhede nog geensins opgelos nie, want nuwe botsings was in aantog. Dit het nou veral oor die geldelike administrasie gegaan. In 1866 was daar ‘n tekort van R200 000 en teenoor Wodehouse se belastingvoorstelle het die parlement op besuiniging aangedring. Die Ryksregering het dit terselfdertyd as sy vaste beleid aangekondig om soveel soldate as moontlik uit die land weg te stuur, as voorwaarde vir die toekenning van verantwoordelike bestuur.

In 1867 het nuwe botsings plaasgevind. Die jaar daarop het die algemene toestand begin verbeter. Oeste was beter. Daar was gerugte oor die ontdekking van goud en diamante in die noorde en die Britse regering het voorlopig afgesien van sy plan om die koloniste met die koste van hul eie verdediging te belas. Tog was die toestand nog allesbehalwe rooskleurig. Wolpryse het gedaal en die nuwe parlement, wat in 1869 byeengekom het, het opnuut die goewerneur se belastingvoorstelle beveg. Selfs is ‘n mosie van wantroue in die algemene beleid van die regering aangeneem en andermaal is ‘n toestand van skaakmat bereik. ‘n Nuwe verkiesing is in 1870 gehou, maar die uitslag was onveranderd.

In wanhoop het Wodehouse ‘n wysiging van die grondwet voorgestel t.g.v. ‘n eenkamer-parlement, waarvan die lede gedeeltelik verkies en gedeeltelik benoem sou word. Sy doel was om ‘n gedienstige parlement te verkry, maar ook hierdie poging het misluk toe die parlement die voorstel afgestem het. Die toestand het intussen van kwaad tot egter gegaan.  Die opgehoopte tekort het jaarliks gestyg en die parlement en die goewerneur kon nie ooreenstem oor ‘n beleid om die toestand die hoof te bied nie. Dit was duidelik dat die konstitusie gedoem was. Alleen ‘n stelsel van verantwoordelike bestuur kon uitkoms bring, maar hieroor het groot verdeeldheid onder die koloniste self bestaan. Eindelik het die Ryksregering –  nou gelei deur Gladstone, met Granville as minister van kolonies – die lastige knoop deurgehak deur die koloniste voor die keuse te stel van selfbestuur of regering van bo.

Koms van sir Henry Barkly

In 1870 is Wodehouse opgevolg deur sir Henry Barkly, wat die opdrag gehad het om verantwoordelike bestuur in te voer, veral omdat dit vir Engeland ‘n besparing sou wees. Vanselfsprekend het Barkly sy seën uitgespreek oor die pogings van Molteno en ander leiers in die W.P., t.g.v. so ‘n konstitusionele wysiging.

In 1872 het die parlement eindelik, nieteenstaande kwaai teenstand van die O.P., die “Constitution Ordinance Amendment Act” aangeneem en daardeur is die lang stryd beëindig. Die uitvoerende amptenare was van nou af gewone lede van die wetgewende liggaam en dientengevolge was die uitvoerende gesag verantwoordelik aan die parlement. Op konstitusionele gebied is dus groot vooruitgang gemaak en terselfdertyd het daar ekonomiese verligting gekom deur die ontdekking van minerale rykdomme in die binneland.

Ontwikkelinge in Natal

Net soos die Kaapkolonie het Natal die depressie van die jare 60 gevoel, met uitsondering van die tydperk toe die pryse van katoen en suiker ten gevolge van die Amerikaanse Burgeroorlog hoog was. Later het toestand grootliks versleg deur die algemene slapte wat ingetree het en die regering het onbemind geraak by die koloniste. Selfs was daar in die noordelike deel van die kolonie ‘n agitasie vir verantwoordelike bestuur.

Origens het die ontwikkeling van Natal grootliks afgehang van die Bantoevraagstuk. In Zoeloeland het dit onder die oppervlakte gebruis en die Basoeto-uitbarsting het ook die Natallers geraak. Daar is gestreef na gebiedsuitbreiding in die rigting van Zoeloeland sowel as oor die Umzimkulu, en dit het al Shepstone, die ywerige Bantoekommissaris, se diplomasie vereis om sake in orde te hou. Hierdie uitbreidingstrewe van Natal sowel as die Kaapkolonie staan in die teken van die ontwakende imperialisme van die laat sestigerjare.

Britse reaksie teen die Konvensies

Toe Newcastle in 1859 Lytton as minister van kolonies vervang het, kon reeds die eerste tekens bespeur word van ‘n reaksie teen die beleid van die Konvensies. Dit blyk veral uit die houding wat aangeneem is t.o.v. die verenigingstrewe van die twee Republlieke. Reeds toe al was Newcastle begering om die aangekondigde beleid te wysig. Weens die feit dat die Republieke die plan laat vaar het, kon voorlopig niks aan die saak gedoen word nie. Terselfdertyd het die reaksie-politiek tot uiting gekokm in die strewe om die Republieke te belet om deur te dring na die see. Self het die Britse regering, uit vrees vir groter uitgawe, nie gedink aan gebiedsuitbreiding nie, maar hy was gewillig om dit toe te laat ten einde die Republeike te kortwiek.

Wat die suidooskus betref, het Grey reeds in 1853 die gebied tussen die Kei en die Keiskamma geannekseer as Brits-Kaffrarië. Vier jaar later het hy Kreli se volk oor die Bashee gedryf en die plan was om daardie ontvolkte streek (die Transkei) later by Brits-Kaffrarië in te lyf. Hierdie plan is in 1860 sterk aanbeveel deur waarnemende goewerneur Wynyard, uit vrees dat die Vrystaters in daardie ringting na die see sou deurdring.

Luitenant-goewerneur Scott van Natal het terselfdertyd die Britse regering probeer oorreed om toe te stem tot die uitbreiding van Natal se invloed oor Zoeloeland en die suidelike stemme. In 1861 was daar wesenlike gevaar dat die Suid-Afrikaanse Republiek, ten gevolge van onderhandelinge met Panda en Cetshwayo, sy grense kon uitbrei na St. Luciabaai, en die Natalse regering was vasbeslote om die Boere die pas af te sny. Bowendien was Scott eerlik van mening dat rus en orde verseker sou word indien Zoeloeland onder Natalse invloed kom.

Newcastle se houding was gunstig, op voorwaarde dat sodanige uitbreiding van gesag geen meerdere uitgawe vir die Britse belastingbetaler meebring nie. In April 1861 het hy sy gemoed as volg gelug: “A few  years ago we withdrew from territory we had acquired. It was done under my advice, but I cannot be blind tot the fact that there has ever since been a tendency to reverse that policy, and I am far from sure that the arrangement made in 1854 (die Bloemfontein-Konvensie) will eventually be maintained … My policy under such circumstances would be to avoid all acts … which have a tendency to hasten these extensions (van gebied), but if the condition of the natives, threats of war, or die transmigration of tribes… render some alteration of policy or extension of that which has therefore been adopted necessary, I would not be deterred from it because I saw its inevitable tendency to draw another district within our vortex.”(5)

(5)Aangehaal deur De Kiewiet, op. cit., pp. 146-147

Transkei ingelyf

Om hierdie rede het die Bitse regering toegestem dat die gebied tussen die Kei en die Bashee by die Kaapkolonie ingelyf word en dat Natal die strook tussen die Umzimvubu en die Umtamvuna (Alfred Country) mag annekseer. Ook wat betref uitbreiding in die rigting van Zoeloeland het die geroep van die Natallers nie op dowe ore geval nie. In dieselfde lig moet gesien word die hysing van die Britse vlag op die eilande in Delagoabaai in 1861, hoewel in hierdie geval ook buitelandse belange in ag geneem is.

Die anneksasie van Basoetoland het feitlik neergekom op openlike repudiëring van die Konvensie-beleid. Teen die brutale eis dat die Republieke om ekonomiese redes – d.w.s. ten einde die kuskolonies te begunstig wat betref invoerregte – afgesny moes word van die see, het Newcastle aanvanklik nog teenstand gebied, hoewel sy eie beleid per slot van rekening wesenlik dieselfde resultaat sou bereik.

Dit was in elk geval teen die einde van die jare 60 volkome duidelik dat Brittanje ‘n beleid nagestreef het wat negatief sowel as positief in stryd was met die Konvensies van Sandrivier en Bloemfontein. Die een stap het gevolg op die ander, en die toppunt is bereik i.v.m. die Diamantveld-vraagstuk, wat afdoende bewys gelewer het dat die Britse gesagvoerders aan die voorwaardes van die Konvensies geen waarde geheg het nie.

Ontdekking van diamante

Nog was Suid-Afrika in die greep van die groot ekonomiese deperssie toe in 1867 die eerste diamant ontdek is naby die plek waar Hopetown later sou verrys. Drie jaar daarna is verdere ontdekkings gemaak naby Dutoitspan. Hierdie vondste het nie alleen ‘n algehele ekonomiese onwenteling in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel nie, maar ook aanleiding gegee tot ‘n belangebotsing tussen Boer, Brit en inboorling, wat uiteindelik gelei het tot die anneksasie van die diamantvelde deur Groot-Brittanje.

Die omgewing in die suidwestelike hoek van die Vrystaat waar die diamante gevind is, het spoedig die toneel van onbekende bedrywigheid geword. Duisende delwers uit alle oorde het hulle daarheen gehaas en delwerskampe het as’t ware in ‘n nag uit die grond verrys. Al die monde moes gevoed word en die boere het dadelik ‘n mark vir hul produkte gevind onder die avonturiers, wat elkeen daarop uit was om ‘n fortuin te vind.

So ryk aan diamante was die omgewing dat die delwersbedryf permanent geowrd het en die ekonomiese depressie byna dadelik plek moes maak vir ‘n groot oplewing in handel en boerdery. Na dit geskyn het, was hier eindelik ‘n eldorado gevind oor die besit waarvan heel gou ‘n geweldige stryd sou losbrand.

Oorspronklik bewoon deur swerwende Boesmans, het die grondgebied oos en wes van die sameloop van die Oranje- en die Vaalrivier later in hande van intrekkende Griekwas gekom. In 1857 het Cornelis Kok van Campbell die noordelike deel daarvan (later bekend as die Campbell-gronde) oorgemaak aan Adam Kok van Philippolis. Kok  het in 1861 sy Philippolis-reservaat, asook die grond van Cornelis, aan die Vrystaat verkoop. Hy self en sy volgelinge is later deur die Britse regering in die sg. Niemandsland (later Griekwaland-Oos) geplaas.

Die enigste Griekwas in die omgewing was die armsalige aanhang van Andries Waterboer, wat in Griekwastad die bewind gevoer het. Sy gesag het hom uitgestrek oor die gebied ten weste van die Vaal tot by Kheis,asook oor ‘n klein strook grond ten ooste daarvan tussen die sameloop van die Vaal en die Oranje tot by Ramah. In elk geval is hy deur geen verantwoordelike persoon aangesien asmoontlike aanspraakmaker op die diamantvelde nie.

Stryd om besit van diamantvelde

‘n Politieke avonturier, die prokureur David Arnot, het nou op die toneel verskyn en, in die hoop om self ‘n fortuin te vind, asook om die Republieke te verhinder om die pad na die noorde te versper, het hy onverwags namens Waterboer die besitreg van die Vrystaat betwis. Dié belaglike aanspreek het hy gegrond op die bewering dat Cornelis en Adam Kok onderdane van Waterboer was en dat die Campbell-gronde wat diamantdraend was, eintlik aan Waterboer behoort. So verspot was die bewering dat nòg die Britse nòg die Vrystaatse owerheid daar aandag aan geskenk het.

Dit was inteendeel volkome duidelik dat die gebied van oudsher ‘n deel van die Vrystaat was. Reeds in die dae van die Soewereiniteit is dit as sodanig beskou en behandel en daarna het die Republikeinse regering altyd prakties sy gesag daar laat geld, deurdat Vrystaatse howe daar reg gespreek het, belastings gehef en grondbriewe uitgereik het. Vanselfsprekend het die republikeinse owerheid nuwe administratiewe maatreëls getref toe die delwersbevolking die gebied binnegestroom het.

Engelse planne om diamantvelde in te palm

Die Engelse amptenarekliek aan die Kaap, gelei deur Richard Southey, het egter met brandende verlange staar na die ryk delwerye en middele beraam om dit van die O.V.S. te vervreem. Die enigste plan wat hulle kon aangryp, was om Waterboer se aansprake te steun, goed wetende dat die onnosele kaptein hom na hul wense sou skik. Onder voorwendsel dat die tyd aangebreek het om die delwers, wat meestal Britse onderdane was, te beskerm teen anargie wat weens die swakheid van die Vrystaatse regering sou ontstaan, het hulle die waarnemende Hoë Kommissaris, Hay, beweeg om in te gryp.

Aan die ander kant het Waterboer, daartoe aangeraai deur die geslepe Arnot, die soewereniteit oor sy volk en die beskikking oor die diamantvelde, wat in elk geval nooit aan hom behoort het nie, aan die Britse regering aangebied. Daarop het Hay die Vrystaatse president uit naam van Waterboer meegedeel dat hy magistrate aangestel het met die gesag oor Britse delwers in die gebied.

Waterboer, wat in stryd met die Sandrivier-konvensie deur Hay ‘n bondgenoot van Engeland genoem is, is intussen die swye opgelê deur belofte van ‘n jaarlikse traktement van R2 000. Daarna sou selfs gesorg word vir sy vrou en kinders, maar later sou blyk dat die verantwoordelike instansies hiervan vergeet het.

Dit was die toestand toe die nuwe goewerneur en hoë kommissaris, sir Henry Barkly, in Suid-Afrika aankom. Die Britse regering was voor ‘n voldonge feit geplaas, want reeds het magistrate i.p.v. Vrystaatse landdroste in die betwiste gebied gesag uitgeoefen. Bowendien is die indruk in Londen gewek dat die Kaapse amptenare slegs besig was om die regte van bevriende inboorllingstamme te beskerm.

Die minister van kolonies het Barkly dus gemagtig om na eie oordeel te handel en selfs om die diamantvelde as ‘n deel van die Kaapkolonie te annekseer, mits die Kaapse parlement sou inwillig en die inboorlinge se aansprake wettig was. Die Kaapse parlement was egter nie so maklik te beweeg tot die onregverdige en willekeurige inlywing van die rykste deel van die Vrystaat nie. Hy het slegs toegestem tot die tydelike handhawing van die orde op die diamantvelde, totdat die vraagstuk van eienaarskap uitgemaak sou wees.

Die Vrystaat se protes

Die Vrystaatse owerheid was waaksaam en het met Brand as mondstuk ‘n ferme standpunt ingeneem. Eers is protes aangeteken teen Barkly se optrede en is hom die feite voor oë gehou. Dit het geblyk tevergeefs te wees en daarop het Brand ‘n onpartydige buitelandse arbitrasie voorgestel. Dit is geweier deur Barkly, wat ‘n plaaslike persoon voorgestel het, maar op grond daarvan dat niemand in die land onpartydig genoeg was nie, het Brand die voorstel van die hand gewys en die name van die Duitse Keiser, die Koning van die Nederlande en die President van die Verenigde State van Noord-Amerika as moontlike arbiters genoem. Barkly het dit onaanneemlik gevind, want die Britse regering sou uit beginsel geen vreemde inmenging duld in Suid-Afrika waar Brittanje die “paramount power” was nie. Geeneen van die partye wou kop gee nie en die tyd het vinnig genader dat Barkly die knoop sou deurhak deur summier te annekseer.

Transvaal in die gedrang

Intussen het die Suid-Afrikaanse Republiek in die gedrang gekom toe diamante ook meer na die noorde langs die Vaalrivier ontdek is. Die wesgrens van die noordelike republiek was nooit behoorlik afgebaken nie. Nadat Potgieter oorspronklik die gebied noord van die Vaal van Silkaats verower het, het die Boere aanspraak gemaak op die hele land so ver as daardie potentaat sy septer geswaai het, en dit was vaag en onbepaald.

Inmiddels het die Tansvalers ‘n aansienlike stuk grond in ‘n westelike rigting beset, selfs tot teenaan die Hartsrivier.Republikeinse landdroste het gedurende baie jare gesag uitgeoefen, dorpe is uitgelê (bv. Bloemhof) en plase uitgemeet. Toe in 1870 ook daar diamante ontdek is, het nie alleen Waterboer nie,maar ook die Barolong- en Batlapin-hoofde, aangespoor deur hul blanke adviseurs, op die gebied aanspraak gemaak. Om enigsins die skyn van wettigheid te handhaaf, het hulle vervalste traktate met Potgieter en Andries Pretorius as getuienis voorgelê.

Die waarnemende hoë kommissaris, Hay, het weer nie geaarsel om op te tree nie en Campbell, magistraat van die nuwe diamantstad Kimberley, gelas om sy jurisdiksie oor die noordelike betwiste gebied uit te brei.

Arbitrasie deur Keate

Anders as president Brand, het Pretorius hom op hierdie tydstip laat beweeg om die hele aangeleentheid te onderwerp aan die arbitrasie van goewerneur Keate van Natal en hy het vooraf, sonder voorkennis van die Volksraad, selfs ‘n akte van submissie onderteken..Ook die ander aanspraakmakers het toegestem tot die arbitrasie. Onhandige diplomaat en goedvertrouend soos hy was, het Pretorius, bygestaan deur prokureur Kleyn, sy saak so swak verdedig dat Keate in Oktober 1871 maklik uitspraak gegee het teen die Republiek.

Hierdeur het Waterboer in besit gekom van die grond wes van die Hartsrivier tot aan Platberg, terwyl die Batlapin- en Barolong-hoofde dele tot aanMakwassiespruit en die boloop van Schoonspruit verkry het. As praktiese uitvoering aan die beslissing gegee sou word, sou dit beteken het dat die Republiek gebied verloor het wat jare lank onder blanke bestuur was, insluitende selfs verskeie gevestigde dorpe.

Die Tansvaalse Volksraad was geensins van plan om hom by die Keate-uitspraak neer te lê nie en het dit gerepudieer op grond daarvan dat Pretorius onkonstitusioneel gehandel het en dat Campbell en Keate belanghebbende partye was, wat nie onpartydig kon oordeel nie. Eersgenoemde het nl. groot stukke grond van Waterboer gekoop en Keate het by voorbaat Waterboer en sy stam as Britse onderdane aangeneem. ‘n Protes van Barkly teen die Republiek se weiering is om sy gesag te laat vaar, het niks gebaat nie en stilswygend is die Suid-Afrikaanse Republiek in die besit van sy ou gebied gelaat.

Bedanking van Pretorius

Inmiddels het in die Republiek soveel ontstemming geheers oor pres. Pretorius se swak optrede dat hy verplig was om sy amp neer te lê. Hierdie keer was die Transvalers vasbeslote om ‘n geleerde man te kies en hulle het gemeen om hom te vind in die persoon van ds. Thomas François Burgers van Hanover. Met die aftrede van Pretorius eindig ‘n bepaalde tydvak in die Transvaalse geskiedenis. Hy het groot ideale nagestreef, maar die middele tot sy beskikking was te gering en hy het te min praktiese kennis en ontwikkeling besit. Tog het hy nie geheel en al  uit die politieke strydperk verdwyn nie. Sy opvolger sou nog erger storms moes verduur.

Diamantvelde geannekseer

Onderwyl die geskil oor die noordelike diamantgronde nog aan die gang was, het Barkly reeds besluit tot anneksasie van die Vrystaatse velde. Deur die Keate-uitspraak aangemoedig, het hy die Bitse minister van kolonies openhartig meegedeel dat hy die fiksie as sou hy uit naam van Waterboer handel, nie langer kon handhaaf nie,en dat die werklike oogmerk was om die Vrystaat te verhinder om die ryk diamantvelde te besit, met die oog op ‘n moontlike latere federasie met die Kaapkolonie. Die gedagte was dat die Republiek ten minste ‘n jonger en armer vennoot in so ‘n vereniging moes bly, ten einde die oorwig vir die Kaapkolonie te verseker.

Die aap was nou uit die mou en die motiewe so in die oog lopend dat iedereen die vroeëre knoeiery kon raaksien. Enkele dae ná die Keate-uitspraak hetBarkly die betrokke landstreek sonder toestemming van die Kaapse parlement geannekseer as Britse gebied. In Junie 1872 het die parlement in Kaapstad die verantwoordelikheid daarvoor van hom afgewerp en voorlopig moes die gebied afsonderlik deur die Ryksregering geadministreer word.

Die laaste bedryf het gevolg toe vier jaar later ‘n Kaapse landhof, ná lang en noukeurige ondersoek, Waterboer se aansprake heeltemal verwerp het. Die Britse regering, daardeur nie van stryk gebring nie, het aan die Vrystaat die luttele som van R180 000 aangebied as gewetensgeld. Brand het dit, by gebrek aan beter, aanvaar, maar die bitterheid wat die hele geskiedenis veroorsaak het, het nie gou verdwyn nie.

Tog was dit op die duur voordelig vir die Vrystaat om ontslae te raak van die diamantvelde met hul lastige delwersbevolking. ‘n Uitlandervraagstuk het nooit ontstaan nie en origens het die Republiek alle ekonomiese voordele van ‘n groter binnelandse mark, beter verkeer enverhoogde staatsinkomste deelagtig geword.

Oor die hele land het die stoflike welvaart toegeneem en ondanks die verwydering wat die geskille meegebring het, was dit teen 1872 duidelik dat daar tog nog baie gemeenskaplike belange was wat die verskillende gebiede verbind het. Ook konfederasie het weer ter sprake gekom en dié keer sou die Ryksregering lewendig belang daarin stel. Ook dit was ‘n teken dat die Konvensies van Sandrivier en Bloemfontein prakties nie meer bestaan het nie.

Tot hiertoe was die politieke onafhanklikheid van die Republieke wel deur Brittanje erken, maar ekonomies is getrag om hulle van die voordele van die vryheid te beroof. Van nou af sou die Britse inmenging ‘n gevaarliker vorm aanneem.

— — — oOo — — —