Opstand en oorlewing
Daar was ‘n geur van opstand in die lug op die middaguur van ‘n somersdag in Desember 1658. Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck, kommandeur van die Tafelbaaise verversingsstasie, het ernstige onraad vermoed toe veertien vryburgers onverwags opdaag en ‘n petisie aan hom oorhandig. Gedurende die voorafgaande ses maande het die burgers vergeefs probeer vastel wat die prys sou wees wat hul regering, die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), sou betaal vir die koring wat hulle gesaai het. Dit was nou reeds Desember en hulle het geweier om hul oes te lewer voor die kommandeur sê wat die prys sou wees. Hulle wou ten minste tien gulde per mud hê, anders sou hulle weier om ‘n enkele voet meer grond te bewerk. Hulle was ook gegrief dat hulle self hul lewens en plase teen die bedreiging van die inheemse Khoi-Khois moes beskerm.
Dit was vir hulle die grootste onreg dat die regering veehandel met die Khoi-Khois vir hulle verbied het. In die petisie was daar sekere ontsteltenis dat al hierdie dinge gedoen word aan hulle, “die verdedigers van die land”, soos hulle hulself genoem het. Hulle wou nie die slawe van die Komanjie wees nie. In plaas daarvan om hulle te help, het die regering hulle onderdruk.
Jan van Riebeeck het die VOC-nedersetting wat bekend sou word as die Kaap van Goeie Hoop op 6 April 1652 gestig. (Die naam Kaapstad sou eers meer as ‘n eeu later in gebruik kom). In 1657 het hy nege Kompanjiesamptenare uit die diens ontslaan om voltydse boere te word. Hy het aan hulle klein lappies grond van ongeveer 13 morege (omtrent 11 hektaar) toegeken. Met hierdie stap het die VOC nie beoog om ‘n kolonie van Europese setlaars te stig nie. Al wat dit van die boere verlang het, was om vars voedsel te verskaf aan die bemanning van die VOC-skepe wat Tafelbaai aangedoen het en aan die VOC-personeel in Tafelbaai.
Die burgers se opdrag was om te saai en te plant wat die regering voorskryf. Hulle moes die lae pryse aanvaar wat die regering vasstel. Die volgende jaar het Van Riebeeck die burgers belet om sonder sy toestemming vee aan mekaar of aan verbygaande skepe te verkoop. Hy het ook alle handel tussen die burgers en die Khoi-Khois verbied. Oor dié verbod en die stilwye oor die koringprys het die burgers in verset gekom teen die ampsdraers van die magtige VOC. Daar was ‘n rede waarom Van Riebeeck nie aan die burgers die koringprys wou meedeel nie. Sy base in Amsterdam het hom beveel om slegs vyf gulde per sak te betaal, en hy het geweet dit is ver te laag. In die smokkelhandel wat weldra sou ontstaan, het die burgers, tot die ontsteltenis van die amptenare, 12 gulde gekry vir ‘n sak koring wat hulle aan die skepe verkoop het.
Op daardie dag in Desember toe Van Riebeeck die vryburgers te woord moes staan, het hy goed geweet dat veel meer as net die prys van koring ter sprake is. In sy dagboek het hy geskryf die burgers wil graag hul eie base wees en wil die gesag van die wettige owerheid uitdaag. “ja selfs dié van die Kompanjie en hul eie Here en Meesters” – ‘n verwysing na die Here Sewentien, die VOC-direkteure in Amsterdam.
Van Riebeeck het die protesterende burgers betig en hulle aangesê om “hulle te gedra soos gehoorsame diensknegte en om nie die Kompanjie in enige opsig te dreig soos wat hulle pas op so ‘n ondermynende en rebelse manier gedoen het nie”. Die Kompanjie het hulle gevoed en voorsien van alles wat hulle nodig het. Teen groot koste het dit die burgers uit ‘n nederige posisie opgehef. Die burgers is nie die Kompanjie se slawe nie, maar tog sy onderdane. Na hierdie sedeles het die kommandeur die skokkende nuus bekend gemaak: die burgers sal slegs ses gulde per sak kry. Van Riebeeck het opgemerk dat “die burgers moed verloor en heeltemal neerslagtig word”. Maar as paternalistiese baas het hy raad gehad: hy het hulle ‘n glasie wyn aangebied. In sy dagboek het hy aangeteken dat die burgers “in ‘n goeie bui teruggegaan het en selfs met mekaar die gek geskeer het”.
Swaar tye het vir die koringboere voorgelê. die klimaat was wispelturig, die reën het dikwels weggebly, en in die lente en vroeë somer het ‘n tierende suidoostewind opgekom wat ‘n belowende oes kon vernietig. Soms het die boere kwalik hul saadkoring teruggewen. In sy korrespondensie met die VOC het Van Riebeeck die burgers gekritiseer as lui en te geneig tot drank, maar hy het geweet dat hul reg gehad het om oor die pys te protesteer. In 1661 rapporteer hy dat die burgers met die koringprys skaars kan bestaan. Drie jaar later is die regering genoodsaak om die sondagkollekte in die kerk en die inkomste van klein boetes te gebruik om hulp te verleen aan burgers “wie se kinders kaal rondloop en wat so arm is dat hulle langs die vee in ‘n stal op ‘n bietjie strooi en die harde grond moet slaap”.
‘n Magtige Maatskappy
Gedurende die eerste helfte van die sewentiende eeu was die Nederlanders die wêreld se vernaamste handelsnasie. Die VOC is in 1602 in Amsterdam gestig as ‘n geoktrooieerde maatskappy met die reg om in die Ooste handel te dryf. Teen 1650 was dit die wêreld se grootste handelsonderneming. In ‘n oorsig wat The Economist in die jaar 2000 van die vorige millenium gegee het, word die VOC se invloed vergelyk met die impak wat die handelsryke van Henry Ford en Bill Gates in die twintigste eeu op die wêreld gehad het.
Die VOC het ‘n uitgebreide handelsnetwerk gehad met Amsterdam as sy tuisbasis. dit was ‘n entrepot wat speserye, suiker, tabak, hout en vervaardigede artikels van sy Oosterse ryk ingeneem en weer na talle lande uitgevoer het. Tussen 1602 en 1699 het 1 755 Kompanjieskepe van Nederland na Batavia (vandag Djakarta) in Java geseil. Net in die jare 1652 tot 1662 het 250 skepe met 40 200 mense aan boord verby die Kaap na die Ooste geseil. In die Ooste het die VOC ‘n monopolie bedryf waar dit kon. Soms het hy oorlog gevoer om die heerskappy te bekom en het gou Bantam, die Molukke, Java en Amboina beset. Hy het plaaslike heersers verplig om aan die VOC eksklusiewe handelsregte te verleen. Op verskeie plekke het die Kompanjie sy Portugese en Engelse mededingers verdryf.
In 1619 het die VOC ‘n Raad van Indië in Batavia gevestig met ‘n goewerneur-generaal aan die hoof. Die raad was die vernaamste gesag van die VOC in die Ooste. Toe die VOC in 1652 die Kaapse stasie stig, het dit die nedersetting onder die gesag van sowel die Here Sewentien in Amsterdam as die Raad van Indië in Batavia geplaas. Hierdie liggame het tug oor die amptenare uitgeoefen. Baie van die amptenare het van hul werkgewer gesteel of vir hulle eie rekening handel gedryf om te vergoed vir hul lae salarisse. Voordat Van Riebeeck an die Kaap gekom het, is hy beboet oor private handel wat hy gedryf het en is hy uit ‘n pos in Japan ontslaan. As Europese nedersetting het die Kaap ernstige tekortkominge gehad. Dit het oor geen groot stapelprodukte beskik soos rys, suiker, tabak, wol of hout wat die Kaap se ekonomie in die wêreld se handelsnetwerk kon integreer nie. Anderkant die eerste bergreekse was die reën min en die grond arm. Behalwe met vee kon daar nie juis veel handel gedryf word met die inheemse Khoi-Khois en die San (of Boesmans) wat die grootste deel van die suidpunt van Afrika bewoon het nie. Kultureel en tegnologies was hierdie inboorlinge veel minder gesofistikeerd as die inheemse mense wat die Nederlanders in die Ooste teëgekom het.
Behalwe die Kaap was Ceylon (vandag Sri Lanka) en Batavia die enigste twee plekke waar die Kompanjie werklik wortel geskiet het. In Ceylon was daar in 1650 ongeveer 68 getroude burgers, terwyl daar in 1674 ongeveer 340 in Batavia was. Onder die burgers hier was wynhandelaars en kroeghouers die grooste groep. Die ander was meesal ambagslui.
“Noodsaak is die vader van die Eurasiër”, so het die spreekwoord gelui. Met ‘n tekort aan Europese vroue in die Ooste, was dit algemene praktyk vir die Nederlanders en ander Europeërs om verhoudings met inheemse vroue of met mense van gemengde bloed, die sogenaamde Eurasiërs, aan te gaan. Vryburgers in die Ooste het soms met Oosterse vroue getrou, maar die meeste verbintenisse was buite-egtelik. Die kinders is as Christene opgevoed en wetlik en sosiaal is hulle en hul moeder as deel van die klein Europese gemeenskappies beskou. Hulle is inderdaad Europeërs genoem. Goewerneur Simon van der Stel was self die produk van so ‘n mengsel van kulture en bloed. Sy moeder, Maria Lievens, is gebore in Batavia, die dogter van ‘n Nederlandse seekaptein en Monica da Costa, ‘n inboorling vrou van die Ooste.
Die Kompanjie se senior amptenare in die Ooste was ‘n aparte klas, ver verhewe bo die gewone soldate of matrose in Kompanjiesdiens. Hulle het die Indonesiese inheemse adel probeer naboots. Hulle was later gretig om hul status op buitensporige wyse in die openbaar te vertoon, dikwels deur middel van ‘n hele optoggie van bediendes en ‘n statussambreel. Hulle het graag huispartytjies gehou met ‘n slaweorkes wat op die stoep musiek maak. Almal het daarna gestreef om slawe te besit en om geen handearbeid te verrig nie. Die nedersetting in Tafelbaai het baie van Batavia se kenmerke en instellings oorgeneem: die amptenare se groot mag en aansien, Die Kompanjie se streng standebewustheid en sosiale etiket, die kerk se politieke en maatskaplike onmag, die swak onderwys, die afhanklilkheid van slawearbeid, en die gebruik van Maleis en Portugees as lingua franca. Soos in Indonesië is kinderopvoeding hoofsaaklik opgedra aan vroulike slawe. Aan die Kaap het hierdie slawe uit die Ooste ‘n groot bydrae gelewer tot die plaaslike kultuur, veral met die voedsel wat hulle voorberei het. Geregte soos bobotie, sosaties, blatjang en samosas, wat saam met rys en speserye soos kaneel, peper, naeltjies, gemmer, borrie en saffraan uit die Ooste geëet is, het ‘n vaste deel van die kospatroon geword.
Soos in die Ooste het die senior Kompanjiesamptenare aan die Kaap die toon aangegee. Hulle het krampagtig geklou aan die status van hul rang. Rang het bepaal wie sit waar in die kerk en by ander openbare geleenthede, selfs ook wie loop voor in ‘n begrafnisstoet. ‘n Vroue het ‘n plek ooreenkomstig die rang van haar eggenoot ingeneem. Die weeldewette van 1755 het in groot besonderhede voorgeskryf hoe mense met ‘n bepaalde rang in die openbaar moet optree, byvoorbeeld hoeveel perde hulle voor hul wa mag inspan en watter uniforms hul personeel mag dra. Die burgers in en om die Kaap wat in regeringsrade gedien het, het gou dieselfde statusbewustheid as die senior amptenare aan die dag gelê.
Die Kaap het die Kompanjie se administratiewe sturktuur in die Ooste oorgeneem. Dit was kleurblind en gebasseer op die volgende wetlike statusgroepe: Kompanjiesamptenare, burgers en slawe. Behalwe herdie wetlike satusgroepe was daar ook ‘n belangrike tuseengroep, naamlik die vryswartes. Hulle was eers slawe, maar is deur hul eienaars vrygestel deur ‘n proses wat manumissie genoem is. Saam met die onderskeid tussen Christen en heiden, en Europeër en en nie-Europeër het die onderskeie statusgroepe die belamgrikste invloed uitgeoefen op die manier waarop die mense in die Kompanjie se gebiede oor hul plek in die sameleweing gedink het.
Terwyl in die Ooste nie veel op kleur gelet is nie, het die mense in Europa dit sekerlik nie misgekyk nie. Die Europeërs van die sewentiende eeu het hulle self hoër as die mense van die ander kontinente geag, veral dié van Afrika. In hul eie oë was hulle die middelpunt van die mensdom en die maatstaf vir beskawing. In die Engeland van William Shakespeare was die stereotipes van swartes as vuil, wellustige en onbetroubare mense reeds goed gevestig. Swart mense was nie die enigste wat onder stereotipering gely het nie. Jode en lyfeienes in Noordwes-Europa is ook soms “Gam se geslag” genoem – ‘n verwysing na die Bybelse vloek wat Noag oor die kinders van Kanaan uitgespreek het. Toe slawerny in die Europese kolonies in die loop van die sewentiende eeu begin posvat, was “Gam se geslag” die term waarmee die slawebesitters die slaaf tot die buitenste duisternis verdoem het. En omdat slawe swart of bruin was, het Gam se geslag mettertyd ‘n skelwoord geword vir diegene wat nie wit was nie. Toe Europa in die sewentiede eeu tot kolonisasie oorgaan, het Europeërs die eerste keer op groot skaal met ander beskawings kennis gemaak. dit het hul bewussyn van hulle self en hul eie beskawing versterk en omlyn. Portugese, Spanjaarde, Engelse en Nederlanders was ewe oortuig dat hulle as Europeërs kultureel meerderwaardig was. vir die sewentiende-eeuse Nederlanders was om swart te wees die teenoorgestelde van dit wat hulle as normaal, mooi en aantreklik beskou het. Hierdie vooroordeel is versterk deur die kulturele meerderwaardigheid wat Christene teenoor heidene, en wat die “beskaafde” Europeërs teenoor die “barbaarse” inboorlinge van Afrika gevoel het.
Ras as biologiese term het eers teen die einde van die negentiende en die vroeë twintigste eeu wortelgeskiet om die onderskeid tussen wit en swart aan te dui. Tot dan toe is “ras” amper in dieselfde sin gesien as “nasie” gebruik met die klem op kultuurverskille, soos dié tussen die Angel-Saksiese en die Hollandse “ras”. Aan die Kaap is vooroordele aanvanklik selde in kleurterme uitgespreek.
‘n Gemeenskap van Immigrante
Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 met drie skepe in Tafelbaai aangekom. Negentig Europeërs het aan land gestap: “swak en onkundige mense”, soos hy hulle beskryf het. In die eerste drie dekades was die meeste Europese immigrante enkellopende mans uit Nederland. Tussen 1688 en 1700 het ongeveer 200 Franse Hugenote bestaande meesal uit gesinne, aangekom en later het nog enkeles bygekom. Behalwe die Franse vroue was die meeste vroulike Europese immigrante Nederlanders, veral jong vroue of dogters uit weeshuise in Nederland.
Die meeste van die manlike immigrante was ongeletterde of halfgeletterde kleinboere of arbeiders van Noordwes-Europa. Die Kompanjie het hulle as soldate of matrose vir minstens vyf jaar in diens geneem. ‘n Loopbaan as matroos of soldaat in VOC-diens was onbenydenswaardig. Die daaglikse loon was baie laer as die van die arbeider op land of ‘n matroos in die handelsvloot. Op die VOC-skepe moes hulle swak kos, hardvogtige dissipline en siektes trotseer. Vyftien tot 20% van diegene wat na die Ooste geseil het, het onderweg gesterf. Gedurende die 18de eeu was die meeste Europese immigrante aan die Kaap enkellopende manlike Duitsers. O.F. Mentzel, ‘n Duitse reisiger, beskryf die omstandighede waarin ‘n tipiese Duitse immigrant in die Kaap beland het: Hy het in Nederland opgedaag, swak geklee, sonder geld en naarstig op soek na werk. As hy geen geld gehad het om homself te onderhou terwyl hy wag om deur die VOC gewerf te word nie, het hy gewoonlik in die hande van ‘n agent geval, wat hom geld vir sy onderhoud voorgeskiet het totdat hy sy eerste betaling ontvang het. In sommige gevalle het dit vyf jaar geduur voordat hy sy agent kon afbetaal. Aan die Kaap moes hy spaarsaam leef. Hy het 28 stuiwers per maand as kosgeld of ‘n kontantloon ontvang, en ‘n ekstra 28 stuiwers as onderhoud. Saam daarmee het hy ses pond brood per week verdien. Weens die groot skuld wat hy moes afbetaal, moes hy dikwels met minder as twee stuiwers per dag uitkom. Selfs in die eenvoudigste eethuis het ‘n klein porsie vleis twee stuiwers gekos. Hoewel die immigrante uit die laer range van die Wes-Europese samelewing gekom het, was hulle geen uitvaagsels nie. Hulle was ondernemend genog om die kans te waag om ten minste vyf jaar in n verafgeleë land te gaan werk. Van die Duitsers wat na die Kaap toe gekom het, was ambagslui wie se lewe deur die Dertigjarige Oorlog ontwrig is. Dit was hulle wat die beste in hul nuwe vaderland gevaar het.
Nederland, eerder as Duitsland of Frankryk, het die aard van die Kaapse Nederstetting die meeste beinvloed. In die Europa van die sewentiende eeu het die Nederlanders die meeste individuele mobiliteit en die grootste gelykheid voor die reg geniet. In die provinsie Holland, waar die Romeins-Hollandse reg gegeld het, is geen spesiale voorregte aan die adel toegeken nie. In die woorde van die groot juris Voet het dit “gelykheid bewaar en die burgers op gelyke vlak saamgebind”. In 1665 het ‘n Franse besoeker aan Nederland verbaas opgemerk dat diensknegte so baie regte geniet dat hul meester hulle nie eens ‘n klap kon gee nie. Dit was die Romeins-Hollandse reg wat in die Kaap toegepas sou word.
In Nederland het die Gereformeerde Kerk, gebaseer op die Calvinistiese leerstellinge, amptelik voorrang geniet. Dit was egter nie die staatskerk nie en slegs die helfte van die bevolking was lidmate. Die fundamentele Protestantisme het die individu toegelaat om sy sieleheil sonder bemiddeling van priesters of heiliges te soek, en om wêreldlike voorspoed na te streef. Die Gereformeerde Kerk was sterk gekant teen die streng hiërargie van die Katolieke Kerk. Lidmate het geensins dieselfde eerbied aan predikante betoon as wat Rooms-Katolieke teenoor hul priesters aan die dag gelê het nie. Die staat het die kerk noukeurig dopgehou en daarop gestaan dat dit hom nie moet kritiseer nie. Dit was ook in die geval van die Kaap, waar die VOC die Gereformeerde predikante besoldig het. In Nederland het die meeste mense ook nie baie eerbied teenoor politieke gesagsdraers betoon nie. Die staat was ‘n losse konfederasie van provinsies en stede met die State-Generaal as ‘n soort konfederale parlement, en die Prins van Oranje was as stadhouer die simboliese hoof van die staat. Vergeleke met die res van Europa was die klasseklowe nie skerp nie. Daar was in Nederland ‘n klein bolaag van aristokrate, gevolg deur die “hoë bourgeoisie”, en onder hulle weer ‘n breë stratum van die burgerlike middestand wat bestaan het uit geskoolde ambagslui, winkeliers en verskaffers van diverse goedere. Laer af was daar ‘n werkersklas wat oor die algemeen swak betaal is, maar nietemin gereelde werk gehad het. Heel onder was die “grou” – die droesem van die samelewing. Belangrik was dat ‘n ondernemende arm man kon uitstyg tot die middestand. Die burgers was vryer om hul eie belange na te streef as elders in Europa. Hier het die kapitalisme met sy revolusionêre uitwerking op die samelewing reeds goed wortelgeskiet. Die begrip van individuele grondbesit het sterk posgevat. saam was kapitalisme en Calvinisme ‘n kragtige brousel. Alhoewel die kerk gewaarsku het teen aanbidding van die “goue kalf”, was voorspoed vir baie mense die sigbare teken van ‘n vrome lewe.
Die meeste immigrante wat vryburgers aan die Kaap geword het, was nederige en onkundige mense, maar die term ‘burger’ was dieselfde as wat gebruik is vir die vooruistrewende burgers in die sentrum van die sewentiende-eeuse Nederlandse samelewing wie se stralende selfvertroue Rembrandt, Steen, Vermeer, Hals en ander skilders so goed verewig het. Die Nederlandse burgers is nie op grond van hul ekonomiese funksie gedefinieer nie. Hulle was heel eerste burgers – ‘n politieke term – en slegs tweede homo economicus, mense gedrewe deur hul eie materiële belange. Die Kaapse burgers het dieselfde politieke status nagestreef, maar vir die Kompanjie het hulle hoofsaaklik ‘n lae ekonomiese status gehad.
Die Kompanjie se heerskappy en die burgers se strewe
Van Riebeeck se vrystelling van sommige Kompanjiesamptenare in 1657 om as “vrybrugers” te boer, het nie beoog om ‘n eilandjie an vryheid te skep nie. Die doel was om geld vri dei VOC te bespaar. Die burger was onthef van sy taak as soldaat of matroos, maar hy was nog steeds aan die Kompanjie se regulasies vir die Kaap onderworpe. Hy moes belastings aan die Kompanjie betaal en kommandodiens verrig.
Die burgers het gou hul eie mites oor die stigting van die Kaap en hul onmisbaarheid geskep. Hulle het hulle self gesien as mense wie se belange deurslaggewend vir die regering behoort te wees. Die term “verdedigers van die land” wat hulle in hul onderonsie met Van Riebeeck gebruik het, was die eerste teken van ‘n ontluikende politieke bewustheid. Dit is verder aangewakker deur die belangrike rol wat hulle in die landadministrasie gespeel het. Die regering aan die Kaap was dikwels ontsteld oor wat hulle beskou het as die burgers se aanmatigende houding en buitensporige eise. In van Riebeeck se oë moes die burgers dankbaar wees vir die beperkte vryheid wat hulle ontvang het. Hulle moes nie nuwe eise stel nie, maar hul belange ondergeskik stel aan dié van die Kompanjie, wat ‘n magtige maatskappy was. In werklikheid was Van Riebeeck korrek: die Kompanjie, was ‘n soewereine mag in eie reg. Volgens sy oktrooi van 1602 kon die VOC soldate werf, oorlog voer, verdrae sluit en die orde in sy nedersettings handhaaf. Die Nederlanders in sy diens moes trou sweer aan sowel die Kompanjie as die State-Generaal in Nederland. Hulle was dus onderworpe aan die Nederlandse wette én aan die Kompanjie se regulasies.
Vir die amptenare was die vergelyking wat die vryburgers tussen hulle status en die van Nederlandse burgers getref het, vergesog. Die Kompanjie kon voorregte toestaan, maar hy kon hulle ook terugtrek. Hy het die mag gehad om mense in sy diens vry te laat om te gaan boer of om ‘n kroeg op te rig, maar kon ook die wat hulle wangedra, dwing om na die Kompanjie se diens terug te keer. Hy kon sulke mense selfs wegstuur van die Kaap, al het dit hul bande met hul eie gesin verbreek. Maar teen wil en dank moes die Kompanjie toegee dat die burgers nie bloot lyfeienes was wat hulle aan elke reëling moes onderwerp nie. Van Riebeeck het dit in sy botsing met die burgers oor die koringprys in Desember 1658 ontdek.
‘n Verversingstasie brei uit
Die burgers se hoogste prioriteit was ekonomiese oorlewing: die van die Kompanjie was maksimum wins, wat beteken het dat hy die produktepryse so laag as moontlik vasgestel het. Ook in ‘n ander opsig het die Kompanjie en die burgers botsende oogmerke gehad. Die Kompanjie sou ‘n klein, netjiese, kompakte nedersetting hê, wat nie veel verder sou strek as die skaduwee van die fort wat hy in Tafelbaai gebou het nie. Die burgers, aan die ander kant, wou hul boerdery uitbrei. Hulle het min geesdrif getoon vir die harde werk wat die saai en oes van koring, bemesting van die lande en die aanplant en snoei van wingerde vereis en het veeboerdery verkies. En die burgers wou ook nie self werk nie. Oral in die wêreld was Europese koloniste traag om die grond te bewerk as daar slawe of inheemse arbeid beskikbaar was. Toe die eerste skeepsvrag slawe in 1658 in Kaapstad aankom, was die vryburgers wat geboer het nog veel ste arm en te vasgevang in skuld om slawe te bekostig. Weldra sou hulle wel in staat wees om dit te doen.
Intussen het vee ‘n al hoe groter deel van die boerdery geword. Die burgers het in weerwil van die regulasies vee van die Khoi-Khois geruil en op veld anderkant hul gesaaides laat wei. Hulle het hul vee al hoe dieper in die binneland begin instuur om goeie weiding te kry. Veeboerdery, wat algaande ‘n onafhanklike tak van die landbou geword het, het teen die agtiende eeu die koring- en wynbou in omvang oortref.
Vir die ongeveer honderd duisend Khoi-Khois wat in die gebied van die huidige Wes-Kaapseprovinsie gewoon het, was die vinnig uitbreidende veeboerdery ‘n groot bedreiging . Die Skiereilandse Khoi-Khois met wie die burgers die eerste in aanraking gekom het, was jagters en veeherders. Toe hulle besef dat die Europeërs gekom het om te bly en hul weivelde te beset, het hulle bekommerd geraak. Toe hulle die burgers sien landerye ploeg, het die kommer in vyandskap verander.
In 1659 het die Skiereilandse Khoi-Khois onder Doman die eerste uitgebreide aanval op die nedersetting geloods. Hulle het plaashuise verwoes en vee weggevoer. In 1660 rapporteer Van Riebeeck dat hy vrede gesluit het, maar dat die Khoi-Khois ontsteld is oor die nedersetting. Toe hy teenooor die Khoi-Khois opmerk dat daar nie genoeg weiveld vir almal in en om die Kaap is nie, het hulle gevra: “Het ons dan nie rede om jou te verhinder om ons vee in die hande te kry nie, want as jy baie vee het, sal jy nie al ons weiveld gebruik nie?” Hulle het ook gevra: “Wie moet die eerste wyk: die regmatige eienaar of die vreemde indringer?”
Van Riebeeck, en ook sy opvolgers, het nooit ‘n duidelike en konsekwente beleid teenoor die Khoi-Khois gevolg nie. Sy bevele was dat die Khoi-Khois verdraagsaam behandel moet word, maar dat hy gyselaars op Robbeneiland kan aanhou as die diefstalle voortduur. Die kommandeur het gou ingesien dat botsings oor grond, vee en water nie sal ophou nie en dat vrede met die Khoi-Khois op die duur onmoontlik is. Terselfdertyd het hy besef dat om hulle dood te maak “barbaars en on-Christelik” is. Hy het wel daaraan gedink om die Skiereilandse Khoi-Khois in kettings te slaan en dwangarbeid te laat doen, soos om robbe te vang en silwer (wat nog ontdek moes word) te delf, maar die Here Sewentien het geweier.
‘n Nedersetting met ‘n unieke Karakter
In 1662, by Van Riebeeck se vertrek was die nedersetting se bevolking saamgestel soos onderstaande tabel aandui:
Kaapse Bevolking 1662
Kompanjie Amptenare Burgers
Manlik 57 36
Familie 113 37
Slawe 24 23
Die meeste burgers het in die klein dorpie rondom die Fort as skrynwerkers, messelaars en smede gewerk of kroeë en losieshuise aangehou. Sestien was boere. Die Kompanjie se keuse van Europeërs as vryburgers was nie ‘n beginselbesluit nie. Sommige van die top-amptenare sou Chinese of vrygestelde slawe as boere verkies het en het in briewe dikwels hul minagting uitgespreek vir die vryburgers en hul talle gebreke. Van vroeg af het die burgers geleer om die regering te wantrou, iets wat meer as drie eeue lank ‘n kenmerk van die burgemeenskap sou bly.
Wat die Kaap as nedersetting sy unieke karakter gegee het, was nie die geweld wat teen die inheemse bevolking gebruik is nie – dit was algemeen in die Europese kolonies – maar dat die Europeërs verkies het om met die inheemse mense handel te dryf en hulle op groot skaal in diens te neem, eerder as om hulle uit te wis of te verdryf. Baie van die Khoi-Khois het van die Kaapse Skiereiland en omgewing weggetrek nadat burgers hulle verdring het. Maar talle het aangebly, alhoewel hul weiveld nou deel van ‘n burgers se plaas was. Hierdie Khoi-Khois en burgers het heeltemal afhanklik van mekaar geraak. Die boere het arbeiders nodig gehad en die Khoi-Khois het kos vir hulle self en weiveld vir hul paar stuks vee gesoek. Party is teen hul wil op die plase aangehou, maar baie het vrywillig aangebly. Van Riebeeck het in die eerste jare deur middel van ‘n wildeamandelheining skeiding tussen die mense van die hawedorpie en die Khoi-Khois probeer bewerkstellig. Maar dit was tevergeefs. ‘n Komplekse sameleweing was aan die vorm aanneem waarin Europeërs, slawe en Khoi-Khois verstrengel geraak het.
Namate die kolonie uitgebrei het, het die veeruil met die Khoi-Khois ook toegeneem. Aanvanklik het die Skiereilandse Khoi-Khois hulle as middelmanne aangebied en stamme dieper in die binneland oorreed om die vee aan hulle te verkoop, wat hulle weer teen ‘n profyt aan die Kompanjie verkoop het. Algaande het die burgers hierdie middelmanne uitgeskakel en die rol oorgeneem. Die regering het die veeruil verbied, maar sy gesag het nie ver genoeg gestrek om dit uit te wis nie. Die owerheid kon ook nie verhinder dat die burgers hul vee anderkant hul plaasgrense laat wei nie. In 1662 het Van Riebeeck die Kaap verlaat met die besef dat sy plan vir ‘n kompakte, intensiewe nedersettting misluk het. ‘n Gebied wat hy gedink het groot genoeg sou wees om onderhoud aan duisend gesinne te verskaf, was nou, nadat slegs vyftien plase uitgemeet is, as ten volle beset beskou.
Sewentien jaar lank na Van Riebeeck se vertrek het die nedersetting nie veel verder as die sandvlakte aan die buitewyke van die Skiereiland gestrek nie. Die weerstand van die Skierleindse Khoi-Khois moes eers verkrummel, iets wat teen die einde van 1670’s gebeur het. daar was nou 240 volwasse burgers, van wie die helfte boere was.