Tugela-linie
Natal, 6 – 24 Januarie 1900
“Dit is nou die 23ste (Januarie), ons veg nou al vir vier dae twaalf uur per dag en vorder glad nie, ek kan regtig nie sê hoe dit gaan eindig nie. … Ons wen … nie veld soos ek sou wou sien nie, al die nonsens wat hulle in die koerante geskryf het o or frontaanvalle en nou het die helfte van ons offisiere ‘n opvatting dat jy ‘n stelling kan inneem sonder om te veg. …”
Generaal Sir Redvers Buller aan sy vrou, uit Mount Alice, 23 Januarie 1900
Hoofstuk-aanhef Buller-vrou 23 Jan 1900 Bull (Crediton)
.— — —
Hoofstuk 24
Die brandwagte by Chieveley tree op 6 Januarie net aan toe hulle uit die noorde ‘n enkele verre kanonskoot in die stil lug hoor. Dit is ‘n uur voor dagbreek. Lt. Maurice Grant, ‘n jong offisier wat ‘n bietjie maklik op loop gaan, teken die spookagtige geluide aan: “’n Pouse, dan nog ‘n dowwe knal, dan ‘n dosyn geluide, ver, gedemp en onheilspellend.”
Toe dit lig word, kan die Engelse sien hoe wolkies wit rook “uit die groot, dowwe kruin van Bulwana borrel” en tussen die gerammel van grofgeskut hoor hulle die “gedempte en anhoudende gegrom van geweervuur”.(1)
(1)(Luit. Grant) “Linesman” Natal (8ste druk) 12
“Pang. Doem, doem. Pang. Pang.” Jong Winston Churchill, die Morning Post se korrespondent, weer aan die front na ‘n waaghalsige ontsnapping uit die Staatsmodelskool in Pretoria, word in sy tent deur hierdie “vreemde, klaende trillings” gewek. Hy lê en luister. Wat is 18 myl daarvandaan oorkant die koppe aan die gang? Nog ‘n bajonetaanval deur die garnisoen? Of dalk ‘n algemene uitval? Of miskien val die Boere hierdie keer self aan.
(Wat die einde van nog ‘n gewilde illusie i.v.m. met hulle sou beteken.) ‘n Offisier kom na Churchill se tent en vra hom wat hy van die situasie dink. “Iets groots by Ladysmith aan die gang – helse bombardement – nog nooit so iets gehoor nie.” By wyse van hoë uitsondering waag Churchill geen mening nie.(2)
(2)W. Churchill Ladysmith 236-7. Atkins 196-7
White se eerste heliogram bereik Buller se hoofkwartier by Frere, vyf myl verder suid, eers om elfuur. Vyand het Caesar’s Camp vanoggend om 2.45 vm. met ‘n aansienlike mag aangval. Vyand oral teruggedryf, maar gevegte duur voort.”(3)
(3)White-Buller 6Jan 1899, sy inlae Buller-L 6 Jan 1899, VT no 92B
Buller stuur onmiddellik vir genl. Clery, in bevel van die voorwaartse basis by Chieveley, om by wyse van “demonstrasie” na Colenso op te ruk. Buller self stuur alle beskikbare troepe by die lyn op.(4) Om vieruur is daar ‘n meer gerusstellende boodskap van White. “Vyand voorlopig afgeslaan, maar groot getalle nog om my veral in die suide en dit lyk baie waarskynlik dat hulle weer sal aanval.”(5)
(4)Buller se get RCSAW III, 177 kol 2. OH II, 336-7
(5)White-Buller 6 Jan 1899, SD I, Byl 494 (no 46). Sien omskry wing in OH II, 337
Toe word die son, die enigste kommunikasiemedium, deur ‘n stormwolk ingesluk – die storm waarin die Devons nou gereed maak om met hul waagmoedige aanval by Wagon Hill te begin. Daar sou daardie dag nie meer heliogramme wees nie.(6)
(6)OH II, 337. Vgl. TH III, 198
By Colenso antwoord net die gerammel van donderweer op Clery se vlookanonne; soos gewoonlik laat Broer Boer nie van hom hoor nie. Maar ‘n ernstige aanval op Colenso is buite die kwessie. In die eerste plek is die Tugela te vol; in die tweede glo Buller (en hy was reg) dat slegs ‘n paar honderd Boere noord getrek het om Ladysmith te help stormloop; die res sit nog in die loopgrawe.(7)
(7)Buller se get RCSAW III, kol 2. Breyt III, 18 maak die syfer so laag as 300
Tog is dit vir die offisiere wat met verkykers en teleskope buite hul tente staan en angstig tuur en luister, ‘n bitter ding. Dit is nog bitterder vir die twee bataljons wat beleër word. “In hemelsnaam, gaan ons dan niks doen nie?” sou lt. Maurice Grant oor daardie moeilike tyd skryf. “Waar is die generaal? Is hy ‘n generaal? As Ladysmith vandag geval het, moet hy dit nie meer wees nie.” En Grant verwys na ‘n “soort kreun” van die “slenteraars” by die heliograaf toe White se hartekreet ontvang word.(8)
(8)(Luit. Grand) “Linesman” Natal 13
Dit was een van Grant se verbeeldingryker stukkies skryfwerk. White se boodskap het Chieveley in werklikheid nie voor die volgende dag bereik nie, en teen daardie tyd het Chieveley van White se oorwinning geweet(9) (hoewel Grant se anonieme artikels oor die oorlog hom ‘n reuse-publiek verwerf en hom die pos as medeskrywer van die Official History help besorg het.(10)
(9)Sien Buller se kode-indeks 14, Bull (PRO) 7/841. OH II, 337. Vgl. SD I, 495
(10)Grand het verskeie hoofstukke van Deel II onder Maurice as redakteur geskryf en self Deel IV geredigeer
Op dié tydstip het niemand suid van die Tugela geweet hoe groot die gevaar vir Ladysmith was nie. Die oorlogskorrespondente wat uitgery het om te kyk hoe Clery se vlootkanonne skiet, het die situasie dus kalm aanvaar.
Atkins, die korrespondent van die Manchester Guardian, deel ‘n tent met Churchill. Albei is diep geïmponeer deur die “selfdissipline” wat die Boere aan die dag lê deur nie op Clery se demonstrasie te antwoord nie. Die Boere kom “aangeleerde dissipline” kort, skryf Atkins, maar in ruil daarvoor het “die individuele Boer … ‘n wonderlike intelligensie”.(11) Churchill merk droog op: “’n Mens moet baie geduldig wees om langer te wag as ‘n Boer Ons het die poging teen omtrent sewe-uur laat vaar.”(12)
(11)Atkins 200
(12)W. Churchill Ladysmith 243
Sedert Churchill se terugkeer van Pretoria is sy eie buie baie kwesbaar. Teenoor genl.-maj. Hildyard het hy ‘n verdoemende weergawe van die pantsertrein uigelap, ‘n relaas wat oortuigend klink en verskil van ander weergawes wat Churchill later van die voorval sou gee. Daarvolgens het hulle vol vertroue tot naby die Boere gery, heeltemal onbewus dat die Boere kanonne het en vasberade om hulle ‘n les te leer.(13)
(13)Hildyard-Gedge (22)-27 Des 1899, Hil
Teenoor Atkins beken hy hoe die Boere die Engelse soldate “soos vee” aangekeer het – “die grootste vernedering van my lewe”. Ná die pantsertreinramp het hy ‘n geluid gehoor wat nog erger as die gebulder van die kanonne was: die Boere wat psalms sing. “Dit het my yskoud gemaak van vrees. Teen watter soort mense veg ons? Hulke het die beste saak – en die saak is alles – of liewer, ek bedoel, vir hulle is dit die beste saak.(14)
(14)Atkins 193-5
Buller bly in Chieveley. Buller: so solied en gerusstellend as ‘n swaar kanon of ‘n diep loopgraaf.(15) Hy self het nooit getwyfel aan die wesenlike gevaar dat die Boere Ladysmith sou probeer aanval nie. Nou maak hul amper-welslae dit vir hom des te dringender om die operasies te hervat. Buitendien word Lord Roberts op 11 Januarie in Kaapstad verwag.(16)
(15)(Grant) 27. Sien ook 6 en 11
(16)Buller se get RCSAW III, 175 kol 1
Ten spyte van ‘n kabel van Roberts waarin hy tot versigtigheid maan,(17) het Buller geen plan om ‘n dag langer op die defensief te bly as wat noodsaaklik is nie. Warren se divisie, die 5de, is nou in Estcourt. Oor enkele dae sal die ekstra perde-artillerie opdaag. Op die 10de, die dag voor Roberts hom as opperbevelhebber in Suid-Afrika vervang, moet die leër by Frere die spoorweg verlaat en op ‘n flank-opmars na Ladysmith, via Springfield, 25 myl na die weste, vertrek.(18)
(17)R-Buller 27 Des 1899, VT no 89
(18)Buller-L 10 Jan 1900, VT no 98. OH II, 340-1. In werklikheid het R ‘n dag vroeër opgedaag as wat verwag was
“Is daar nie ‘n omweg nie,” het die Amerikaanse attaché by Colenso gevra.(19) Wel, Buller glo dat hy nou ‘n omweg gevind het. Ondanks al sy hindernisse – die droogte en die oorstromings, die manne wat hulself nie kan leer verdedig nie, die generaals wat net weet om mekaar aan te val – sal hierdie omweg hom hopelik oor daardie “aaklige berge” na Ladysmith voer.
(19)Burleigh 235
By Frere het die lang droogte daardie week met mening gebreek. “Dag na dag,” skryf John Atkins, “woed ‘n storm met die donkerte van die nag in sy oog oor die kamp en wis alles uit. ‘n Mens kan dit soos ‘n hoë, skrikwekkende wal sien aankom en wanneer dit eers opgedaag het, kan jy nie een tent van die ander onderskei nie.
“Dit tier en skeur deur die kamp; vee en perde gaan met hul rûe daarheen staan en laat hul koppe sak, of laat hulle willoos daardeur aanjaag. … Maar toe die reën begin, gebeur ‘n wonderwerk; die ou, uitgedoogde, verrimpelde kakiekleurige aangesig van die landskap word eenvoudig weggespoel asof iemand met ‘n skoon, nat kwas daaroor gestryk het.”(20)
(20)Atkins 186-7
John Atkins was ‘n koerantman en ‘n digter. Sy genant, Tommy Atkins, beskou die saak heelwat meer prosaïs toe die 5de Divisie op 10 Januarie glyend, suiend, pompend en borrelend deur die modder by Frere aankom.(21) Die Bloukransrivier is in vloed. Net ‘n paar dae tevore was dit gevaarlik leeg; party mense was bang dat die tekort aan drinkwater die Engelse sou dwing om terug te val.(22)
(21)Atkins 201
(22)Lyttelton-vrou 27 Des 1899, Lyt 551d. Dickson Biograph 107
Nou lyk dit asof die rivier alle vordering versper, asof dit die 15 myl lange optog van muilkarre en ossewaens wil insluk.(23) Gelukkig vir die Engelse kom een van Buller se tegniese nuwighede, die stoomtrekker, hulle help. ‘n Hele rits stukkende ossewaens word uit die rivier gepluk. Maar die koue reën hou aan met val en verander al die paaie in riviere.(24)
(23)Burleigh 240-2, 281. Sien Warren 6 Aug 1900, SD II, 34
(24)Manskap Hall bandopname PV. Dickson 114 (foto). Atkins 192-307. I.v.m. stoomaandrywing sien RCSAW II, Q 2212-16, en OH II, 334
Selfs vir Engelse soldate wat deur die winter gehard is (en Warren se divisie kom pas uit ‘n Engelse November) is hierdie twee nagmarse ‘n ontbering. “Ons het almal in die pad neergeval, water en modder en alles, dit het geen verskil gemaak nie,” skryf onderkorp. Bradley van die 1ste South Lancashires. “Ons was uitgeput en kletsnat en ons het net daar gaan lê en ewe gerieflik geslaap, tot die volgende oggend, soos in ‘n verebed.”(25)
(25)Onder-korp. Bradley 10 Jan 1900, (sy) PV
“Ons moet kamp opslaan,” vertel Arthur Galley, ‘n onderoffisier in die leërkorps, “en dit het beteken om in ons nat klere op die nat grond te gaan lê en om dit nog geselliger te maak, het ‘n lekker ou donderstorm losgebars. Jy kan jou voorstel hoe dit gevoel het, dit was ongetwyfeld die rofste tyd in my lewe.”(26)
(26)Sers. Galley 10 Jan 1900, (sy)PV
Die volgende oggend kry die troepe net boeliebief en beskuit vir ontbyt, teken Bradley aan, en “die son giet sy heerlike strale op ons uit, maar die hitte is so verskriklik, nadat ons byna twee dae en nagte deurnat was, dat dit ons byna uitgeklop het, want ons kon geen water kry nie”.(27)
(27)Bradley 11 Jan 1900, (sy) PV
So beskryf die manne die flankmars in hul dagboeke en briewe aan Engeland, waarskynlik ‘n bietjie optimisties, ter wille van die families tuis. Hul moreel bly betreklik hoog. En vir Buller – “ou Buller”, soos hulle hom noem, die man wat hul eie beste hoedanighede versinnebeeld, veral volharding – in Buller het hulle nog ‘n vertroue wat almal sou verstom.(28)
(28)Bandopnames van manske. Hall & Packer, PV
Dieselfde kan nie van Buller se generaals gesê word nie. Dit is genl.-maj. Neville Lyttelton wat nou begin ontpop a sie voorbok in ‘n fluisterveldtog teen sy opperbevelhebbers. Hy deel sy vrou mee dat Buller se “gebrek aan ondernemingsvermoë” sedert Colenso “betreurenswaardig” was.(29)
(29)Lyttelton-vrou 2 Jan 1900, Lyt 552a
Hy neem die jong, liggelowige korrespondent van die Times, Bron Herbert, onder sy vlerk en deel hom mee – natuurlik nie vir publikasie nie – dat Buller koue voete gekry het.(30) Nie dat Lyttelton lof vir enigiets of enigiemand in Natal het nie. Hy is siek en sat vir die plek, siek van die “aaklige Tugela”. Siek van die skermutselinge in hierdie “aaklige berge”.(31)
(30)B. Herbert 29 Jan 1900, Herb. Lyttelton-vrou 30 Des 1899, Lyt 551
(31)Lyttelton-vrou 21 Des 1899, Lyt 551
Hoe moet hy verlang het na die duidelik omskrewe woestynkryg waarin hy sy brigade by Omdurman die oorwinning besorg het. Sy mede-brigadebevelhebbers maak hom swartgallig. Barton, Coke, Woodgate – hy vind hulle ewe ”onbevoeg” as die senior generaals soos Clery; Lord Dundonald word “Lord Dundoodle”.(32)
(32)Lyttelton-vrou tap. Hildyard tap. H. Gough Soldiering On 70
Wat genl.-maj. Hart betref (“Coeur-de Lion” noem die offisiere hom ironies), Lyttelton meen dat die opperbevel hom ná sy vertoning as leier van die Ierse Brigade in Colenso reguit na die tuisbasis moes teruggestuur het. “Ek begin dink Hart is mal,” skryf hy vir sy vrou.(33) Genl.-maj. Hildyard deel hierdie mening, maar stel dit sterker.(34)
(33)Lyttelton-vrou 28 Des 1899, Lyt 551c en e
(34)Hildyard tap
Maar hoe kom hulle oor die Tugela? Later sou Buller se kritici die indruk wek wat elke offisier en manskap in die Britse leër presies wis hoe om Ladysmith te ontset – net nie die opperbevelhebber nie. In werklikheid het iemand soos Lyttelton, een van Buller se intelligenter kritici, toegegee dat die “netelige probleem” hom dronkslaan.(35)
(35)Lyttelton-vrou 21 Des 1899 tap
Dit is “bitter jammer” dat White nie duskant die Tugela gebly het nie maar hom in Ladysmith gaan begrawe het.(36) Hulle is n atuurlik aanloklik naby. Hulle kan die werklike kanonkoeëls sien wat deur Ladysmith se garnisoen afgevuur word (die koeëls kruis hul eie koeëls se paaie, daardie “boodskapper van hoop” wat in die teenoorgestelde rigting trek).
(36)Lyttelton-vrou 21 Des 1899, Lyt 551d
White se koeëls lyk vir Lyttelton na “hulpkrete”. Die eindelose reën maak dit nog moeiliker om die rivier oor te steek. “Die situasie verbeter nie,” skryf Lyttelton nadat hy Frere op die groot flankopmars verlaat het. “Die reën val nog steeds en ek weet nie hoe ons die Tugela gaan baasraak nie. Ons sal ons bes doen, maar jy hoef nie verbaas te wees as Ladysmith val nie. Ek hou nie van kla nie en moet my nie aanhaal nie, maar ek moet beken dat ek dink dit sal.”(37)
(37)Lyttelton-vrou 28 Des 1899, Lyt 551c
*** *** ***
Kakie 1: Waarvoor wag ons hier? Waarom gaan ons nie verder nie? (Kakie 2: Wee’ jy dan nie? Kakie 1: Nee. Kakie 2: Om die Boere tyd te gee om hul loopgrawe te bou en hul kanonne te gaan haal. Billik ne?
Die toneel is Mount Alice, van waar ‘n mens op Potgietersdrif en die Tugela kan afkyk; die datum is byna nege dae ná die Engelse in daardie stortreën uit Frere vertrek het. Die sprekers is twee Kakies en hul woorde is deur John Atkins aangeteken.(38) Ook vir Buller is die vertraging intens frustrerend.(39) Dit is des te bitterder omdat alles aanvanklik beter verloop het as wat Buller durf glo het.
(38)Atkins 216-17
(39)Buller-vrou18, 23 Jan 1899, Bull (Crediton)
Hulle is die Tugela oor. Dit is die opbeurende nuus van 16 Januarie. Vreemd genoeg het donderstorms die taak vergemaklik. Op die 11de het die voorhoede van Buller se leër, Dundonald se ruiterbrigade, ontdek dat die Boere, blykbaar bang dat die reën hulle sou afsny, die suidelike wal ontruim. Ses van Dundonald se manne pluk hul klere uit, swem oor en lê op die noordewal op Potgieter se pont beslag.(40)
(40)Buller-R 11 Jan 1900, VT no 99B. SJ Dundonald 116-17. Churchill Ladysmith 264-5
Toe die rivier vyf dae later gesak het, probeer Lyttelton se brigade die rivier by Potgietersdrif oorsteek. Daar, onderaan die voet van Mount Alice, is die bkende Kakie-honderpoot. Sy kop kruip op die noordelike wal vooruit terwyl die swtert die suidelike wal verlaat. Die Engelse wat toekyk, onder hulle John Atkins, wag ademloos vir ‘n tweede Colenso – maar niks gebeur nie.
Daardie aand is daar Engelse kampvure aan weerskante van die rivier. Buller se manne maak hul klere droog en vier hul eerste oorwinning, ‘n oorwinning sonder ‘n skoot.(41) Nietemin het Buller as’t ware maar nog een arm oor die Tugela gewerp. Hy is nou oortuig dat ‘n regstreekse aanval op Potgietersdrif nog ‘n Colenso sal uitlok.
(41)Atkins 212-14. SJ 16 Jan 1900
Hy moet ‘n tweede en sterker arm vyf myl rivier-op by Trichardtsdrif oor die rivier gooi,(42) wes van ‘n vreemdvormige kop wat spoedig beroemd sal wees: Spioenkop, waarvan die Voortrekkers vir die eerste keer op die Beloofde Land van Noord-Natal uitgestaar het.
(42)Buller se get RCSAW III, 177-8
Die plan vir ‘n flankopmars is verwerp toe besluit is om die rivier by Colenso te storm. Maar met Buller se vertrek uit Frere besluit hy om n a die oorspronklike plan terug te keer. Soos ons gesien het, is die voor-en nadele van die flankmars baie fyn teen dié van ‘n frontaanval opgeweeg.
In Desember is die skale t.g.v. die Colenso-aksie geswaai deur die strategiese gevare van die flankopmars in die lig van Methuen se prekêre posisie by die Modderrivier en Milner se vrees vir ‘n Kaapse opstand. Daarby was Colenso binne ‘n paar myl van die plek waar White by die hulpkolonne wou aansluit.(43)
(43)Sien nota 74 hoofst. 19
Geeneen van die drie argumente geld nou meer nie. Op 10 Januarie, ‘n dag vroeër as wat verwag was, het Lord Roberts in Kaapstad aan wal gestap en as opperbevelhebber oorgeneem.(44)
(44)SJ 10 Jan 1900
En die Boere se amper-geslaagde aanslag op Ladysmith op 6 Januarie het een deurslaggewende gevolg gehad. Dit was ‘n heliograaf-boodskap van White waarin hy konstateer dat sy mag nou te veel deur ongevalle verswak is om Buller in toekomstige operasies enige steun te kan gee.(45)
(45)White–Buller 7 Jan 1900 (no 50), RCSAW III, 635
Soos Buller nog altyd weet, het die Potgieterroete twee belangrike voordele. Die drif lê op ‘n groot suidgerigte bog in die rivier: vir Buller ‘n veilige terugvalplek, vir die Boere ‘n gevaarlike uitsprong, ‘n potensiële slagyster. Vandaar die betreklike gemak waarmee Lyttelton se brigade op die noordelike wal ‘n vastrapplek kon verower.
Anders as by Colenso, waar 10 myl se klowe die Tugela van Ladysmith skei, is daar hier ‘n 12 myl lange gerasvlakte wat na Ladysmith afloop, d.w.s. as hy eers oor die rivier is en bo-op ‘n enkele reeks ruwe heuwels wat twee of drie myl anderkant lê. Maar dit is juis in hierdie reeks getande heuwels dat Buller die oorweldigende gevaar sien.(46)
(46)Sien nota 41 hoofst. 19
Dit is waarom hy twee brughoofde moet hê. By Potgietersdrif grawe die Boere hulle al sedert Desember in, en hul stellings op die Brakfontein-Vaalkrans-rif versper die ander kant van die suid-gerigte lus volkome. By Trichardt, daarenteen, berig die Engelse inligtingsdiens minder Boere en swakker oopgrawe: net 600 Boere uit die 7 000 wat na bewering die hele lyn van die rivier hou.
Buller se gewysigde plan is dus soos volg. Hy wil ongeveer twee derdes van sy leër na Trichardtsdrif stuur. Hierdie onafhanklike mag moet die tweede brughoof daar vorm en dan drie myl noord deur die heuwelketting breek, net wes van Spioenkop.
Sodra hulle op die vlakte is en in ‘n posisie om Potgietersdrif te omvleuel, sal Buller en die res van sy leër self die drif aanval. Dan, wanneer albei magte oor die heuwels getrek het, kan hulle weer byekaar aansluit en saam oor die vlakte na Ladysmith opruk.(47)
(47)Buller se get RCSAW III, 177-8. OH II, 338-41, 345-9, 613-8
Dit is ‘n gewaagde tweepuntige plan, en dit veronderstel ‘n hoë mate van koördinasie tussen twee afsonderlike leërleidings wat ná mekaar aanval. Die mees riskante aspek van die plan is ongetwyfeld sy ingewikkeldheid. Die tweepuntige aanval by Colenso moes twee gelyktydige pogings wees om die rivier oor te steek; Buller het gehoop dat minstens een sou slaag.
Dit was nie ‘n subtiele plan nie, maar dit had die voordeel dat albei aanvallende brigades min of meer onder hul baas se oog sou bly; wanneer daar fout kom, soos by Colenso gebeur het, kon Buller dadelik tussenbeide tree en self die bevel oorneem.
In hierdie ingewikkelde nuwe plan is die tyd, die afstand en die getalle dramaties groter. Die twee magte sal vir etlike dae en waarskynlik vir etlike veldslae afgesny wees, uitgelewer aan die genade van die heliograaf en die seinlamp. Buller sal dit uiters moeilik vind om met die twee magte, omtrent sewe myl vanmekaar, in aanraking te bly. Om hulle gelyktydig te beheer, so glo hy, sal onmoontlik wees.
Hy besluit dus om sy senior ondergeskikte, die bevelhebber van die 5de Divisie, wat pas aangekom het, lt.-genl. Sir Charles Warren, ‘n onafhanklike bevel te gee. Met 10 000 voetsoldate, 2 200 ruiters en 36 kanonne moet Warren wes van Spioenkop deur die Boerelinies probeer breek. Wanneer dit tyd is om die heuwels anderkant Potgietersdrif te bestorm, sal Buller self volg, met 7 200 voetvolk, 400 ruiters en 22 kanonne.(48)
(48)Ibid
Waarom wou Buller die grootste leër en die meeste van die werk aan Warren toevertrou, ‘n generaal wat die toestande van die moderne oorlog glad nie ken nie en met wie Buller op persoonlike vlak so sleg klaarkom? Dit is ‘n vraag wat Buller nooit in die openbaar beantwoord het nie. Ook die historici het nie probeer antwoord nie.
In werklikheid het Buller ‘n verklaring gehad, vir wat dit werd is; hy het dit etlike jare later aan ‘n vriend gesê: “Warren se taak was maklik. Hy moes maar net die Boere aan sy linkerflank afstoot. Ek het vir myself die moeilike taak gehou, d.w.s. om my beste brigade (dié van Lyattelton) in te stoot wanneer Warren se operasies ‘n bres in die vyandelike linies geslaan het.”(49)
(49)Buller ná die oorlog aangehaal deur Lewis Butler-Sir John Fortescue, Bull (Crediton)
‘n Maklike taak? In elk geval geen onmoontlike taak nie, soos Buller geglo het (en die meeste historici stem saam), mits Warren die Boerelinies vinnig en vasberade kon aanval. Maar in dié laat stadium besef Buller nou dat juis hierdie hoedanighede – spoed en vasberadenheid – ellendig by Warren ontbreek.(50)
(50)Buller se get RCSAW III, 177-8
Van die kruin van Mount Alice is die uitsig oor die Tugela een van die skouspelagtigstes in die hele Noord-Natal. Wanneer die dag breek, is dit soos die toneel uit John Martin se Fields of Paradise. Reeks op reeks oesterkleurige heuwels, en na links die rooskleurige vestingwerke van die Drakensberg; die sierlike silwer kronkels van die Tugela by Potgietersdrif, 600 voet ondertoe; en op Mount Alice self ‘n warboel van doringbome en aalwyne en kassias, die gekoer van duiwer en die gewoer van patryse, soos in die woud op ‘n Engelse landgoed.(51)
(51)EGO. Goedgunstiglik meegedeel deur mnr. en m ev. Fabian
Die oorlogskorrespondente, hygend en blasend, het hierheen opgesukkel om dit alles te aanskou en hulle is self iets om te aanskou: Bennet Burleigh, vol bittere klagtes oor perssensuur; Dickson met sy enorme rolprentkamera;(52) Churchill, wat nou die slaphoed en veer van die South African Light Horse dra (Buller het hom toegelaat om as ‘n nominale lid van hierdie Uitlander-regiment aan te sluit);(53) Atkins, oorweldig deur die enorme skaal van hierdie landskap, wat met gemak 30- of 40 000 man sou kon insluk. Mount Alice, dink Atkins, is ‘n heuweltop “waarvandaan Xerxes die Grieke kon dopgehou het”.(54)
(52)Burleigh 277. Dickson 122
(53)Churchill Ladysmith 240, 264-5
(54)Atkins 212-13
Een van die kanonniers merk op: Jammer ons kan die Koningin nie hier hê nie, in haar donkiekarretjie.” “Hoekom kan ons nie?” antwoord sy vriend. Nee, dink Churchill, nie die Koningin nie. Hy dink aan die afskuwelike tonele wat hulle binnekort teen daardie vreedsame heuwels oorkant die rivier gaan afspeel.(55)
(55)Churchill Ladysmith 266
Vreemd genoeg is daar een heuwel wat weinig aandag trek wanneer ‘n mens van Mount Alice oor die vyf myl breë kloof van die Tugela kyk, en dit is Spioenbkop. Sy kruin troon 1 470 voet bo die rivier uit, en neergestorte rotse bedek sy steil suiderhellings; hy is egter maar een van ‘n lang ry heuwels: Tabanyama, die Twin Peaks, Brakfontein en Vaalkrans.(56)
(56)Sien skets van Mt Alice in OH Kaart Deel II
Die topografie van die veldslag wat voorlê, is bepaald ingewikkelder as wat dit lyk. Maar vir Buller, gewapen met die bloudrukkaart van sy inligtingsdiens, is die belangrikste kenmerke duidelik genoeg. Warren se taak is om ‘n bres deur die Tabanyama-reeks te slaan en na die vlakte by Clydesdale se plaas op te ruk.(57) Die vraag is egter nie waar om aan te val nie. Die vraag is: waar is Warren?
(57)Bloudruk-kaarte in Sandbach MSS en sien sketskaart in Sal (Hat)
Sedert 15 Januarie, toe Buller Warren gelas het om die rivier by Trichardtsdirf oor te steek en van links om die naaf van Spioenkop te swenk, hou Buller Warren se logge bewegings al met stygende bekommernis dop. Dit het Warren twee dae geneem om die 10 myl van Spearman’s Camp na Trichardtsdrif af lê en die rivier op ‘n ponton-brug oor te steek.
Nog twee dae om sy bagasiewaens aan te bring en ‘n brughoof in die voetheuwels oorkant die rivier te vestig. Toe moes hy dadelik vooruit opgeruk het. In plaas daarvan het hy nog twee dae besluiteloos rondgemaneuvreer. Intussen het Dundonald se grigade die Boere-buiteposte heel links begin opfrommel – tot Warren hulle aangesê het om op te hou.
Op die 20ste loods Warren die eerste infanterie-aanslag op sy werklike doelwit: Rangeworthy Hills (Tabanyama) na die weste van Spioenkop. Die aanval is redelik geslaag. Die agt infanterie-bataljons – Hildyard se English Brigade (die 2de) en Hart se Irish Brigade (die 5de) – storm tot op die suidelike kruin van die westelike plato.
Warren word bygestaan deur ‘n “demonstrasie”, ‘n skynaanval op Potgietersdrif. Die ongevalle in albei sektors is redelik lig: een offisier en 30 ander dood, 20 offisiere en 280 ander range gewond, uit albei divisies. Maar ná die 20ste begin Warren weifel. Hy het swaarder grofgeskut nodig as sy 36 veldkanonne, deel hy Buller mee. Buller beloof hom vier houwitsers; hy moet die 10 langafstand-vlootkanonne vir sy eie opmars hou.
Warren beweeg teen dieselfde ou slakkepas vooruit. Toe hy Trichardtsdrif op die 17de oorgesteek het, was daar volgens Buller se verkenners maar 600 Boere teen hulle. Volgens die jongste berigte (in werklikheid ‘n oordrywing) is daar 7 000 wes van Spioenkop, uit die 15 000 wat die Tugela bewaak.(58)
(58)Buller se get RCSAW III, 178. OH II, 345-9. Breyt III. Vgl. Warren se kommentaar, SD I, 96-7
Teen die 23ste kan Buller dit nie langer verduur nie. Later – en tereg – sou hy homself vir sy eie swakheid verwyt: hy moes mans genoeg gewees het om op die 19de bevel van Warren se flankaanval oor te neem. Maar net soos Warren skrikkerig is om die Rangeworthy-heuwels aan te val, deins Buller daarvan terug om Warren van sy bevel te onthef.
Wie sou dan die aanval op die hoefyster noord van Potgieresdrif lei? En hoe moet hy sorg dat Warren nie voor die trope diskrediteer nie: Warren, wat deur die Departement van Oorlog uitgestuur is met geheime opdragte eom Buller op te volg as Buller sneuwel?
Teen sy beterwete laat Buller sy ondergeskikte dus in sy onafhanklike of minstens semi-onafhanklike bevel. Op die 23ste ry hy na Warren se stelling en stel die posisie kenmerkend reguit.(59)
(59)Buller-L (twee briewe) 30 Jan 1900, SD I, 89, 95-6. Buller se get RCSAW III, 178
As Warren nie aanval nie, sê hy, sal hy Warren se mag terugtrek. Warren se manne sit nou al vier dae op die rand van die plato “waar hulle aanhoudend aan kanon- en geweervuur blootgestel is”. Die steunroepe is in “onverdedigbare formasies” opgestel, en ‘n skielike stormloop “kan die hele klomp enige oomblik by die heuwel af laat vat”.
Sy eie advies, herhaal Buller, is om links van Spioenkop om te swaai en deur die Rangeworthy-heuwels te probeer breek. Warren verduidelik dat hy ondanks die nuwe houwitsers nog steeds nie ‘n artillerie-stelling kan vestig en sodoende op hierdie westelike kant kan vorder nie. Warren het nou besluit dat daar maar een praktiese aanvalspunt is: Spioenkop, die naaf en natuurlike sterktepunt van die hele reeks.(60)
(60)Ibid. Warren-C in C SD I, 96-7, II, 33-41. OH II, 372
Warren se plan om die neut op die taaiste plek te probeer kraak, was miskien aweregs, maar nie dwaas nie. Spioenkop is so stel dat dit miskien die laaste plek was waar die Boere ‘n Britse aanval sou verwag. Dit oorheers die wapaaie wat Warren sal moet gebruik as hy met sy voorradewaens noord wil marsjeer. As dit ingeneem kan word, as dit gehandhaaf kan word, as grofgeskut daar gevestig kan word – drie baie groot “asse” – sal dit die Boere na die vlakte laat terugskarrel.(6)
(61)Warren se get RCSAW III, 650. OH II, 372-4,. I.v.m. Boere se teenmaatreëls sien Breyt III, ins. 184-9
*** *** ***
Min dinge is so opwindend soos ‘n nagaanval.
Lt.-kol. Charles à Court, Buller se stafoffisier in genl.-maj. Woodgate se kolonne – die jong, skitterende, enigsins wisselvallige Charles à Court – was gelukkig genoeg om in die nagaanval op Mahmoed en sy Derwisje, onder Kitchener te veg.
Die Atbara, Goeie Vrydag 1898, die nag ná die volmaan. Sestienduisend Engelse en Egiptiese voetvolk marsjeer in ‘n massa brigadevierkante oor die uitgestrekte woestyn, die sand knars onder hul voete, gelei deur die Derwisje se wagvure. Dit is ‘n toneel uit Verdi. Teen dagbreek staan hulle voor die borswerings van die groot dam naby Atbare, 600 tree van die vyand af.
Toe ry Charles Long – dieselfde waaghalsige kol. Long wat Buller se battarye by Colenso kwyt geraak het – met sy kanonne voor Kitchener se leër uit. En die slagting begin. ‘n Totale oorwinning in 28 minute. Die vyand “platgedruk”, sê à Court, “asof ‘n reuse-roller oor sy loopgrawe gesleep is”.(62)
(62)Kol. (à Court) Repington Vestgia 116-21. Annual Register 1898
Dis buite die kwessie om daardie stoomroller vanaand teen Spioenkop uit te kry. ‘A Court se gedagtes dwaal somber terug na ‘n ander, nog beroemder nagaanval: die nag in Suid-Afrika, 18 jaar tevore, toe genl. Colley die Boere probeer omvleuel het deur Majuba te beset. ‘A Court meld sy voorgevoelens teenoor lt.-kol. Arthur Sandbach, Buller se inligtingsoffisier. Hulle geen Spioenkop aanval; dit is ‘n nuwe Majuba; hulle moet hul bes doen om Colley se foute nie te herhaal nike.(63)
(63)Ibid 217
Maar wat kan een van Buller se stafoffisere doen om ‘n plan te verbeter waaroor hul eie hoof soveel bedenkinge het? ‘A Court reël met die kanonniers se bevelhebber, kol. Parsons, om steunvuur aan die kolonne te verskaf sodra hulle laat weet dat hulle op die kruin is. Die sein moet applous van die Engelse wees.(64)
(64)Ibid 218
Woodgate sal sy kolonne van 2 000 man lei – manne uit drie bataljons van sy eie Lancashire Brigade plus 200 van Thorneycroft se Mounted Infantry en ‘n halwe kompanie genie-troepe. ‘n Klompie muile sal watersakke en ekstra ammunisie saamdra. Maar die bergbattery moet eers die volgende oggend volg en daar is geen reëlings vir swaarder geskut nie, al is die beste argument vir die aanslag op Spioenkop die moontlikheid om swaar kanonne op die kruin te vestig.
Al bevele wat genl. Clery het, is om die volgende dag aan die linkerkant ‘n “demonstrasie” te gee wanneer (of eintlik as) hulle die kop verower het. En daar is maar 20 pikke en 20 grawe (dié word in draagbare teen die hellings uitgeneem) om die loopgrawe vir 2 000 man te grawe.(65)
(65)Warren se bevele OH II, 645-6
Teen 8.30 nm. versamel die troepe in ‘n klofie onder Three Tree Hill, ongeveer ses myl suidwes van Spioenkop. Die aand daal vinnig; die loodkleurige, klam lug verduister. Kol. 133 Court kan nie sy hande voor sy oë sien nie. Daar is die gebruiklike ordelike verwarring.
Die spykers aan die manne se stewels en die perde se hoefysters skuur op die klippe. Daar is die helder stemme van die bruin en swart agterryers en die streektaal van Lancashire, ‘n gelag en geswets terwyl die manne hul toerusting nagaan (waterbottel en een dag se veldrantsoen, geweer en 150 patrone).
Dan die bevele: rook en praat verbode. Genl. Woodgate stap voor, lam genoeg(66) (ondanks Buller se kommentaar dat hy twee goeie bene en geen kop nie nie)(67) om oor die rotse gehelp te moet word. Hulle marsjeer in rye van vier en soos sy manne dra Woodgate ‘n geweer, ten einde nie die Boere se aandag op hom te vestig nie.
(66)Repington 218-19
(67)Buller-L 30 Jan 1900, SD I, 95. Warren-M Sek 6 Aug 1900, SD II, 36
Hy is trots op hierdie seuns uit Lancashire – trots dat hy ‘n paar jaar vroeër die kolonel van een van die regminente, die 2nd Lancasters, die ou “King’s Own” was. Maar die ereplek vooraan die kolonne gee hy aan die 200 kolonialers en Uitlanders, Thorneycroft se manne.
Ná ‘n paar minute begin die manne in enkele gelid stap, Thorneycroft voor.(68) Hy het al heelwat roem verwerf. As een van die 10 spesiale diensoffisiere wat Wolseley in Julie voor die uitbreek van die oorlog uitgestuur het, het lt.-kol. Alec Thorneycroft ‘n berede infanterie-regiment van 500 ongereelde troepe, hoofsaaklik Uitlander-vlugtelinge, in Natal byeengebring.
(68)Repington tap. Thorneycroft-Warren 26 Jan 1900, SD I, 100-1
Daar, vergesel van ‘n groep Zoloe-gidse wat deur Thorneycroft self betaal is, het hulle goeie werk as verkenners gedoen.(69) In die daglig lyk hy na ‘n Punch-spotprent: ‘n enorme balie van ‘n man met ‘n rooi gesig; 280 pond, sê hy trots, sy kaart en draadtang bygereken; maar hy het geen gebrek aan energie nie.(70)
(69)Thorneycroft se get RCSAW III, Q 12374 e.v. ins. 12385, 12559, 12605
(70)E. Knox Buller’s Campaign (foto) 78. F.P. Crozier Impressions and Recollections (Londen 1930) 28-30
Nou beweeg hy versigtig oor die rotse boontoe. Vroeër het hy reeds elke landmerk teen die lang helling uit die suidweste waargeneem en onthou: die naturellekraal, ‘n steil rotslys, die klompe geel doringbosse net onder die kruin.(71)
(71)Repington 217-18. Knox Buller’s Campaign 57-8
Die groot gevaar van ‘n nagaanval is dat die gidse verdwaal, of dat die aanval so vertraag word (soos by Magersfontein) dat dit die vyand is wat die aanvallers verras. Hier op Spioenkop is die vordering ontstellend stadig. Nadat hulle sewe dae in genl.-maj. Talbot Coke se brigade geveg het, is die Lancashires klaar half gedaan nog voor hulle begin het.
Die kop van die kolonne verloor gedurig voeling met die dubbele kompanies agter hulle; wanneer hulle ook al tot stilstand kom, slaan die manne eenvoudig op die nat gras neer en raak aan die slaap. Eers kort voor middernag begin hulle teen die werklike helling op beweeg. Af en toe gewaar hulle sterre deur gapings in die wolke; en die geglim van vure in die vallei daaronder.
Almal naby hom skrik toe Thorneycroft hom verbeel dat hy ‘n Boere-brandwag voor hom sien. Hy gooi homself op die grond neer. Dit is maar net ‘n klompie rotse. Die manne beweeg swyend vooruit.
Toe verskyn ‘n groot wit spanjoel, kennelik die verlore gelukbringer van die een of ander regiment, uit die donker voor Thorneycroft. Een tjank sal alles verraai. Moet die armsalige dier verwurg word? Maar toe maak iemand ‘n leiband van ‘n geweer se deurtrekker, en ‘n jeugdige beuelblaser lei die wit spanjoel veilig by die heuwel af.(72)
(72)Repington 218-19. OH II, 379-81
Omstreeks drie-uur die oggend gaan hulle verby die laaste landmerk, die doringbosse. Nou vorder hulle makliker. Thorneycroft beveel sy manne om oor die helling uit te sprei. Hulle moet vir die res van die kolonne wag, wat baie stadig aankom. Teen dié tyd trek die nag al weg, maar gelukkig vir die Engelse bedek ‘n digte misdie kruin van die heuwel. Die kolonne bereik die kruinlyn veilig.(73)
(73)Thorneycroft-Warren 16 Jan 1900 tap. OH II, 380-1. Repington 220
“Werda?” kom dit skielik uit die newels bo hulle – die Duitse woorde (letterlik: Wie daar?) wat dikwels deur die Boere gebruik word. “Waterloo!” skree een van die offisiere. Toe gooio almal hulleself op die grond neer. Mausers begin bo hulle knetter.
Thorneycroft wag tot die gerammel van die grendels daarop dui dat die magasyne leeg is en gee toe sy bevel: vel bajonette en storm. Met ‘ n hees kreet van “Majuba!” storm Thorneycroft se manne die newels in en verdwyn.
Toe die stafoffisiere by hulle aansluit, vind hulle die oorblyfsels van ‘n klein Boere-wagpos: een man (‘n naturel, sou later beweer word) deur ‘n offisier van die Fusiliers met ‘n bajonet doodgesteek, en die stewels van die Boere en Duitse vrywilligers wat gevlug het. Met ‘n verlies van 10 gewondes het die Engelse die kop verower.(74)
(74)Ibid
Dit is net ná 4.00 vm. Maj. Massey, een van die sappeurs, begin metodies oor ‘n afstand van 300 tree ‘n lang ry loopgrawe juitpen op wat vir hom in die newels na die boonste kruin van die kop lyk. Pikke en grawe tref die harde rots net onder die oppervlak en die manne mompel onder mekaar terwyl hulle hul droë beskuit eet en uit ‘n klein fonteintjie aan die suidekant van die kop water drink.
Party offisiere val aan die slaap. Woodgate het sy hoofkwartier op die hoogste punt van die kop opgestel, langs ‘n aantal rotse agter die hoof-loopgraaflyn. ‘A Court gee kiste ekstra ammunisie rond om in die loopgrawe uit te deel en drink ‘n koppie tee saam met Woodgate.
Die newels het die kolonne drie u ur grasie gegee om hulself te vestig. Ná die spannende nag lyk Woodgate kalm. Die sappeurs begin ‘n primitiewe pad teen die hellings uitsny waarteen die grofgeskut opgesleep moet word.
Alles het volgens plan verloop, afgesien van die vertragings – afgesien van die feit dat die kanonniers nie weet of hulle enige 15-ponders hier sal kan opkry nie. Nou, die bloubaadjies, die vlootkanonniers, sal oral gaan. Dit is te mistig vir heliograafboodskappe. Woodgate besluit om à Court by die heuwelhoogte te stel.(75)
(75)Ibid 221-2. OH II, 381-2
Vir Warren is daar ‘n bondige potlood-briefie: “Geagte Sir Charles, ons het omtrent vieruur hier gekom en die stelling gestorm. … Ons is ingegrawe … en, so hoop ek, ons is veilig, maar die mis is te dig om te sien. … Thorneycroft se manne het pragtig aangeval. Ek het later ‘n lawaai laat maak om u te laat weet dat ons hier is.”(76)
(76)Woodgate-Warren 24 Jan 1900, SD I, 98
Daardie lawaai, die drie hoerês, is reeds gehoor deur die Engelse wat meer as duisend voet na onder wag. Daarvandaan is die berig met ‘n ster-kanonkoeël na Warren se hoofkwartier by Three Tree Hill gesien, en na Buller op Mount Alice, en per heliograaf na White in Ladysmith, en toe in steeds wyer kringe per telegram na die pers in Pietermaritzburg, na Roberts in Kaapstad, Na Lansdowne in Pall Mall, na Queen Victoria in Windsor.(77)
(77)SJ 24 Jan 1900. Times 25¬-6 Jan 1900
Die berig: Spioenkop, sleutel tot Ladysmith, is gereed om in die slot te draai.
—oOo—