BO Sjampanje vir die Volk

Sjampanje vir die Volk 

Deel 1

Geoloog aan Pres. Kruger in 1886: “Meneer die President, die saamgepakte goudbeddings en omhullende sandsteen en kwartsiet was seestrand-afsettinge wat gedurende die insinking van ‘n kuslyn gevorm is in …”

Kruger aan sy vrou: “Mamma, ontmoet die meneer wat by was toe God die aarde geskape het.”

Hoofstuk-aanhef aan my vertel deur m ev. Willliams, ‘n agterkleinkind van Kruger

— — —

Hoofstuk 3

Sjampanje vir die Volk

Pretoria, 23-29 Desember 1898

Veertien dae ná Milner se groot afskeidsgeselligheid vir George Curzon in Londen bygewoon het, word ‘n ander soort fees in Pretoria gevier, 6 000 myl verder: ‘n oorwinningsbanket vir die burgers en Regering. Die held van die aand is die Opperbevelhebber van die Transvaalse Weermag, kommandant-generaal Piet Joubert, en hulle neem nie van hom afskeid nie; hulle vier sy veilige terugkeer. Joubert en sy kommando’s het pas na Pretoria teruggery nadat hulle met behulp van hul Creusot-artillerie ‘n lastige swart opperhoof, ene Mpefu, verslaan het.(1)

(1)Standard & Diggers’ News (weeklikse uitgawe) 31 Des 1898, Volksstem 24 Des 1898

Vir die geharde krygers is dit die triomfantlike hoogtepunt van ‘n halfdosyn Kafferoorloé in byna soveel jaar. In die Grand Hotel in Pretoria speel die kerslig daardie aand op die bou-en-goud uniforms van die Staatsartillerie en op Pres. Kruger se breë groen presidensiële serp. Daar is ‘n sekere imperiale swier aan die geleentheid, op Afrikaner-styl, wat nie in die Hotel Cecil in Londen onvanpas sou gewees het nie.

Ook die sjampanje is in Pretoria uitmuntend. Sedert die Rand se goudwinste hulle ryk gemaak het, het die Boere begin besef hoe ingevoerde Franse wyn, soos ingevoerde Franse grofgeskut, die welslae van die meeste geleenthede kan verhoog.(2)

(2)Ibid. Kotzé Memoirs II, 36. S.E. Trichard Geskiedenis 57-110

Oom Paul praat die aand by die banket bondig. Sy gesondheid gaan al ‘n paar jaar agteruit; hy het oogprobleme en ander kwale. Tog bly hy ‘n reus, ‘n wondermens. Op 73 is hy in sy eie leeftyd ‘n volksmonument, ‘n heroïese oorblyfsel uit die dae van die Groot Trek.(3) Dit is daardie dae wat hy in sy toespraak in die herinnering roep. Hy vertel die verhaal, soos hy dit so graag op elke moontlike geleentheid vertel, van die rol wat hy self in die verplettering van Dingaan en die Zoeloes by Bloedrivier gespeel het.

(3)P. Kruger Memoirs I & II passim. Fisher Kruger 141-52, 240. Meintjes Kruger passim. SABWI, 445 e.v.

“Ek vertel julle nie wat ek gehoor het nie,” sê hy met sy growwe, rukkerige stem, “maar wat ek met my eie oë gesien het.” Op sy eenvoudige manier beskryf hy die slag: die kring ossewaens wat in die laer aanmekaar geketting is; hoe die gapings tussen die wapens met doringtakke toegepak is; die Zoeloes se aanval, honderde assegaaie in die lug; die kinders wat lood vir koeëls smelt; hoe die vroue swart arms afkap soos die Zoeloes deur die dorings probeer breek. En God, alle lof aan God: Hy het sy volk ‘n groot oorwinning gegee.

Kruger se merkwaardige lewensloop is ook die lewensloop van die staat, van die Slag van Bloedrivier tot by Jameson se nederlaag by Doringkop. Dit is nou byna die derde gedenkdag van daardie oorwinning. Kruger, onder doktersbevele, verlaat die banket vroeg, ná hy staande toegejuig is, en keer na sy witgekalkte huis in Kerkstraat terug.(4)

(4)Sien nota I

Dit was in hierdie selfde beskeie huis dat die berig van die inval Kruger drie jaar tevore bereik het, toe Jameson reeds na Johannesburg vertrek het. Dit was tienuur die aand. Sy vriende het hom aan die slaap gevind. By die hek het ‘n enkele brandwag diens gedoen. In die huis het net een gloeilamp nog gebrand. Toe hy die nuus hoor, het Kruger teensinnig ingestem om ‘n perd te laat opsaal ingeval hy Pretoria haastig moet verlaat. Het hy toe reeds geraai wat aan die gang is? Hy het geen opwinding getoon nie. Ná hy ingestem het om die kommando’s te laat oproep, het hy weer gaan slaap asof niks gebeur het nie.(5)

(5)Kotzé Memoirs II, 216 e.v.

Daar is mense wat wou hê die Regering moet ‘n monument bou om d ie inval te gedenk. Daar was selfs praatjies van ‘n Jameson-dag, gelyk aan die Engelsse Guy Fawkes-dag.(6) Kruger het laat blyk dat hy nie van die gedagte hou nie. Hulle het klaar een gedenkdag, Dingaansdag (16 Desember) om hul oorwinning oor die Zoeloes te vier. Miskien het Kruger met sy kenmerkende, bonkige humor bygevoeg dat dit nie die oomblik is – in elk geval nog nie – om die vernietiging van die Britse Ryk te vier nie.

(6)Volksstem 29 Des 1898

Op daardie aand se banket in die Grand Hotel is genl. Joubert die hoofredenaar. Toe hy opstaan om te praat, glinster sy Majuba-medalje op sy skarlaken uniform. Hy is ‘n lang man met ‘n netjiese baard, suave, die mees vooraanstaande Transvaler van sy geslag ná Pres. Kruger, Leier van die Opposisie, en drie  maal in Presidentsverkiesings deur Kruger verslaan, een keer naelskraap.

Hoewel ook hy die Groot Trek as kind meegemaak het, bied Joubert ‘n treffende teenstelling met Kruger. As Kruger die argetipiese Boer van die bekveld is, is Joubert die kenmerkende stedelike Boer.  Die los-passende ou swart pak van die President is nie vir hom nie, ewe min die rookwolke van ‘n ernorme pyp, of die gewoonte om jou woorde te onderstreep deur op die grond te spoeg.(7)

(7)Kotzé II, 30-31. Marais 6-7

Joubert trek soos ‘n heer aan en hy is bekend vir sy progressiewe idees. Hy het homself geleer om Engels ewe goed as Nederlands te lees en te skryf. Sy sakevernuf het hom die bynaam Slim Piet verwerf, asook beleggings in grond en goudaandele wat ná sy dood £230 000 sou bedra – ‘n netjiese sommetjie selfs volgens Randse standaarde.

As Joubert ‘n swakheid het, so sê baie van die Boere, is dit sy gebrek aan morele moed. As generaal haat hy dit om die burgers met ongewilde pligte op te saal; as politikus staan hy in die Volksraad nie sy man teen Kruger nie. Nie dat iemand hom van ‘n sagte beleid teen die swartes kan beskuldig nie, ewe min as wat dit van enige van die ander “progressiewe” politici gesê kan word. Inteendeel, sowel in die Volksraad as op die slagveld glo hy daarin om die Kaffers op hul plek te hou.(8)

(8)Mouton, Archives Year Book 1-264. SABW I, 412-17. Gordon Growth of Opposition 246-74. Kotzé tap

Vanaand klink Joubert byna apologeties toe hy verduidelik waarom daar in die veldtog teen Mpefu so min geveg is. Dit was nie nodig om baie Kaffers dood te maak nie. Hulle het by hul grotte ingevlug. Mpefu is oor die Limpopo. Tog was die oorlog regverdig en nodig. Mpefu, die sg. Leeu van die Noorde, was vermetel genoeg om homself die Koning van die Soutpansberg te noem, met ‘n klompie Boere as sy onderdane. Die Regering moes dus burgers stuur om die Leeu se gebruil vir ewig te stil.

Daar is applous in die saal toe Joubert die hoogtepunt van sy toespraak bereik: ‘n patriotiese beroep om eenheid. Hulle moet in die stryd om die land skouer aan skouer teen alle opposisie staan. Hulle moet die laaste druppel bloed vir die volk vergiet. Voor middernag eindig die banket met die gebruiklike hoerês, drie maal drie, vir die eregas en sy vrou. Die hotel-orkes speel die Volklied, die Staatsartillerie presenteer geweer en die gaste keer na hul huise in Pretoria terug.

Hier speel ‘n skilderagtige keersy van die toneel in die Grand Hotel hom af. Op Kerkplein staan ossewaens uitgespan; die boere het reeds in die hoofstad opgedaag om die Kersdienste te kom bywoon.(9) En hoog bo die bosryke klowe doem drie enorme forte op wat hul skaduwees oor die landskap gooi – die trots van die Transvaalse Weermag, met soekligte en die jongste Europese grofgeskut.(10)

(9)Sien nota I

(10)Oberholster Historiese Monumente 305-6 (insl. Foto’s)

Vir Joubert, die held van die slagveld, en oom Paul, die vader van die republiek, was dit ‘n triomfaand.

Natuurlik is politieke werklikhede nooit so eenvoudig nie, en nog minder ‘n land soos die ZAR, wat binne ‘n dekade twee eeue vooruit moes spring. Kruger is nòg so onversetlik nòg so veilig as wat hy lyk. Joubert, die toonbeeld van die lojale generaal, voel diep ongelukkig oor Kruger se idiosinkratiese regeringsmetodes, en verset hom teen baie van sy beleidsrigtings. Onder Joubert se leiding het die “Progressiewe” (die jong Turke) saamgekom. Hulle besig omtrent ‘n derde van die setels in die Volksraad, en hulle is vasbeslote om die lendelam republiek te moderniseer voor dit te laat is.

Dit is dus onwaar, soos Milner aan Chamberlain gesê het, dat daar in die ZAR geen tekens van hervorming is nie. Daar is verandering in die lug, radikale verandering, ‘n verandering wat Kruger self steun, sy dit teensinnig.

Chamberlain het Kruger ‘n “onkundige, vuil, geslepe” ou man genoem (en die woorde terloops geneem uit ‘n private brief van daardie merkwaardige amptenaar van die Britse Departement van Buitelandse Sake, Roger Casement).(11) Buitelanders onderskat Kruger gedurig. Dit is deels ‘n kwessie van styl. Die massiewe liggaam, die effens opgeblase gesig met grys hare wat daaroor lê, vind hul weerklank in die President se growwe stem en sy vreemde sinswendinge.(12) Hier is die tipiese Boer, een van Breughel se landelike tipes uit die 16de eeu; bepaald ‘n gevaarlike kalant, ‘n “ugly customer” (soos Disraeli hom eenkeer in ‘n private gesprek genoem het) aan die roer van ‘n welvarende land.(13)

(11)C se memo 5 Apr 1896 Drus Documents 160-2, Casement 30 Apr 1896 (sy) OV

(12)Kotzé tap. Marais 9-10

13)W. Monypenny & G Buckle Life of Disraeli (Londen 1920) VI, 416

Dit is waar dat Kruger in sekere oopsigte uiters kru voorkom. Joubert, ook ‘n selfopgevoede mens, het die Europese redenaarskonvensies aangeleer; hy ken die kuns om met baie woorde min te sê. Kruger sê dikwels te veel voor hy ‘n enkele sin uitgespreek het. Bowendien glo hy blykbaar werklik baie van die dinge wat hy sê: dat die aarde plat is, soos die Bybel ons leer,(14) dat die boere die volk van die Boek is, die uitverkorenes van die Heer en (as uitvloeisel hiervan) dat die Rooinekke die verdoemenis verdien. Tog is dit vir diegene wat Kruger goed ken, duidelik dat die ou man se verstand, soos die Randse goudmyne, sy diep vlakke het; dat hy sowel kru as verwikkeld is.

(14)Jorissen Transvaalsche Herinneringen 16-17. Marais 7. Fisher 156. Kruger se goed ontwikkelde  humorsin maak dit onwaarskynlik dat hy ‘n aanhanger van die “plat aarde”-idee was. Sie hoofstuk-aanhef

Hy is in 1825 êrens binne die grense van die Kaapkolonie gebore, die derde kind van ‘n Trekboer wie se voorsate ‘n eeu tevore uit Duitsland gekom het. Toe hy 10 was, het die familie in Andries Potgieter se trek aan die Groot Trek deelgeneem. Sy opvoeding was die Boek en die roer: die Bybel wat sy vader elke aand aan tafel gelees het, die roer wat hy so goed leer gebruik het dat hy al spoedig met ‘n halfdosyn leeus kon afreken. Op 17 was hy Adjunk-veldkornet, en hy het sy bewonderaars nie teleurgestel nie.

By die leeus op sy kerfstok het hy weldra ‘n reeks swart opperhoofde gevoeg, mense wat deur hom verslaan is: Secheli, die Betsjoeana-opperhoof, Mapela van die Waterberg, en Monsioia. Op 26 was hy Kommandant-generaal.(15)

(15)P. Kruger Memoirs I, 3-103. SABW I, 448-0

Ná Brittanje se anneksasie van Transvaal in 1877, toe Sir Bartle Frere aan die bewind was, het Kruger as die volksheld ontpop. Twee keer is hy na Londen gestuur om die Britte te probeer oorreed om die anneksasie ter syde te stel. Hy het natuurlik misluk. Maar die Eerste Vryheidsoorlog wat gevolg het, het hom ‘n dubbele triomf besorg: in die veldslae wat op Majuba uitgeloop het, en in die diplomatieke oorwinnings daarna. Dit was Kruger wat gehelp het om Gladstone te oorreed om vrede te maak, onderhewig aan die Konvensie. Hy is toe vir die eerste keer tot President verkies, die eerste van vier termyne.(16)

(16)P. Kruger Memoirs I, 143-190. SABW I, 448-9

Sy lewe in die veld het hom toegerus met die ongewone hoedanighede wat ‘n man in die stryd teen leeus of swartes bystaan: ‘n mengsel van dierlike krag en menslike vernuf, vertroue op jouself en geloof in God, asook ‘n wil van staal, sterk mar buigsaam, ewe goed aangepas by stormloop of terugval.

Maar die veld het ook in Kruger ernstige gebreke aangekweek wat in tye van vrede na vore sou tree. Hy is koppig en outokraties en taktloos.(17) Een van sy politieke teenstanders beskryf die merkwaardige m etodes wat hy gebruik om die opposisie oor te haal: “Eers stry hy met my. As dit nie help nie, word hy kwaad en begin in die kamer rondspring en brul soos ‘n wilde dier … en as ek nog nie toegee nie, haal hy sy Bybel uit en …. hy haal selfs daaruit aan om hom uit die verknorsing te help. En as dit ook nog nie help nie, neem hy my hand en hou dit soos ‘n kind vas en smeek en bid my om toe te gee … sê my, ou vriend, wie kan teen so ‘n man weestand bied?”(18) Maar baie Boere, heeltemal afgesien van die Engelse, vind hierdie metodes glad nie onweerstaanbaar nie.

(17)Kotzé tao

(18)Marais aangehaal 10

Onder die Progressiewe het Kruger se reputasie in die vredesjare ná Majuba gely.Die Britse strategie om die land gedurende die stormloop om Afrika deur anneksasie te omsingel, het sy diplomatieke beleid byna noodlottig geknou.In die jare tagtig van die eeu het baie Boere, met inbegrip vanj Joubert, geglo dat Transvaal noordwaarts oor die Limpopo moet uitbrei. Maar Rhodes was eerste daar. Die Boere het ook ‘n ogie op Tongaland gehad as ‘n verbinding na die see. Die Engelse het dit ingeneem. Kruger moes hom tevrede stel met ‘n spoorverbinding na Lourenço Marques, in die Portugese gebied Mosambiek, wat jare sou neem om te voltooi.(19)

(19)SABW I. 449-451

Teen 1893 – twee jaar voor die spoor sou geopen word – het Krugr se aandele in Transvaal so laag gedaal dat hy byna die Presidentsverkiesing verloor het. Joubert se ondersteuners in die Progressiewe Party het volgehou dat hy wel ‘n meerderheid van die stemme op hom verenig het, maar dat daar bedrog in die spel was. Dit was kenmerkend van Joubert dat hy in gebreke geblyh et om op nuwe verkiesings aan te dring.(20)

(20)Gordon 207-28

In die volgende drie jaar het Joubert se party die wêreld vir Kruger in en buite die Volksraad warm gemaak. In hul partykoerant, Land en Volk, is twee maal per week op dieselfde boodskap gehamer: “Krugerisme” is korrup, ondoeltreffend en ‘n belaglike anachronisme; dit is hoog tyd dat Kruger in ‘n museum beland.

Kruger gee die land aan vreemdelinge weg: die keurbetrekkings gaan aan Hollanders, wat in ‘n jong staat die rol van administrateurs en tegnici vervul; die spoorwegmonopolie is aan ‘n vreemde maatskappy gegee, die Nederlandsche Spoorwegmaatschappij; vreemde spekulante het die dinamiet-monopolie gekry, die Duitse en Franse aandeelhouers van twee Europese maatskappye wat wapens vervaardig.

In ‘n land waar die myne so ‘n onversadigbare aptyt vir dinamiet het, sou hierdie monopolie bykans £2 miljoen profyt maak, feitlik ‘n lisensie om geld te druk. Selfs party van Kruger se trouste ondersteuners het hierdie monopolie onverdedigbaar gevind.(21)

(21)Gordon 46-57. Marais 27-45 (ins. 31). Kb 623. ‘n Kwart van die £2m wins is na die staat

Teen 1895 het dit begin lyk asof Kruger die einde van sy paadjie bereik.(22) En toe kom daar onverwags uitkoms – van dr. Jameson.

(22)Marais 13-14

Pres. Kruger was twee belangrike dinge aan dr. Jameson verskuldig. Die eerste was dat Jameson die volk agter die Transvaalse Regering verenig het. Soos met ‘n handomkeer word die sukkelende President die held van die inval. Die gespot van die Progressiewe word voorlopig vergeet en toe die burgers begin planne beraam om Jameson en die Reformers aan die beroemde ou balk op te hang waaraan die Slagtersnek-rebelle opgehang is, is dit Kruger wat berekende matigheid aan die dag lê.(23)

(23)P. Kruger II, 269-72. Scholtz se dagboek Jan 1896, Scho. Fitzpatrick Transvaal 229-30. Van der Poel 143-65. Balk is op ou end museum toe

Die tweede groot ding wat Kruger aan Jameson verskuldig was, was dat die inval van die volk buite die grense van die ZAR laat saamstaam het – veral in die Oranje-Vrystaat. Die Vrystaat was die ZAR se susterrepubliek, die eerste van twee tuislande wat deur die Voortrekkers gestig is. En hoe benydenswaardig was die Vrystaat se geskiedenis in vergelyking met dié van Transvaal. Die Engelse beskou dit al lank as ‘n model-republiek: ‘n toonbeeld van verdraagsaamheid en gesonde verstand.

Reeds ‘n halfeeu – sedert die Bloemfonteinse Konvensie van 1854 – erken hulle dit al as ‘n volwaardig onafhanklike staat. Die Vrystaatse Boere verwelkom vreemde immigrante en behandel dié wat kom, goed. Die Uitlanders in die Vrystaat geniet al die politieke regte wat hul teenhangers in Transvaal ontsê word.

Maar dan, hoe makllik is dit nie vir almal om in die Vrystaat onkreukbaar op te tree nie. Goud sou eers baie later onder die golwende veld ontdek word. Die immigrante het drupsgewyse opgedaag. Daar was geen bedreiging vir die Vrystaat se onafhanklikheid of sy volksaard nie.(24)

(24)Bryce Impressions of South Africa 311-18

Nou, sedert die inval, het die landelike staat op subtiele wyse verander. Die President wat in 1896 verkies is, was Marthinus Steyn, ‘n voorstander van nouer samewerking met Transvaal. In 1897 volg ‘n militêre verbond tussen die twee republieke, en Steyn plaas die seël op die verbond deur Pretoria in November 1898 te besoek. In die diplomasie kan daar van Pres. Steyn verwag word om ‘n matigende invloed op Transvaal uit te oefen. Maar as alles misluk, bly bloed nog altyd dikker as water.(25)

(25)Ibid. Sien Bryce se voetnoot 318 bygevoeg in Okt 1899

Geen wonder dat Kruger die Vrystaatse President in Pretoria met ‘n blaasorkes en ‘n staatsbanket vereer het nie. In sy ampstoespraak skeer hy op sy bekende manier die gek. “Ek is maar net ‘n ou swaap,” in vergelyking met daardie “skitterende opgevoede here uit die Vrystaat. Kruger het alle rede om die verbond te vier. Hy het ‘n diplomatieke slag geslaan. As die ergste nou gebeur, kan die Vrystaat 15 000 burgers by die Transvaalse Weermag van 25 000 voeg.(26)

(26)Standard & Diggers’ News (weeklike uitgawe) 30 Sep 1898. Voorwaardes van verdrag verskyn in DO Military Notes (sy) PV 90-3

Dit was dan twee van die politieke gevolge van die inval: die vereniging van die volk binne en buite Transvaal. Maar dr. Jameson het die kroon gespan deur Kruger op die bedenklike toestand van sy eie burger-weermag te wys.

Weliswaar het die burgers flilnk op die inval gereageer. Joubert sou vertel: “Toe die telegram i.v.m. Jameson se oorsteek van die grens ontvang is, ek sou n ie gedink het dis moontlik nie, maar ek het in die land laat rondstuur om die manne op te roep. Elke man spring op sy ponie en ry weg. Hy wag nie … hy gaan net soos hy is.” Natuurlik was dit vir die 6 000 burger wat gemobiliseer is, maklik om Jameson se 600 aan te keer.

Maar sê nou die Britse Regering het Jameson gesteun? Skandalige feite is deur die inval aan die lig gebring. Ingevolge wet moes elke burger vir ‘n geweer en ammunisie sorg. Van die 24 238 burgers wat opgeroep kon word, is bevind dat 9 996 geen geweer het nie; die res het ou gewere of nuwe gewere van ‘n ou patroon gehad. Daar was maar genoeg ammunisie om veertien dae oorlog te voer. Ten tyde van die inval, was Kruger se gevolgrekking, was die land “feitlik weerloos; die burgers het hul heilige plig om hulself te bewapen, versuim”.(27

(27)Breyt I, 406, 546-7. Mouton 225

Nou is dit Kruger wat die Transvaalse Weermag opnuut begin toerus, teen ‘n koste van meer as £1 miljoen. Joubert was dom genoeg om 36 000 Britse Martini-Henry-enkelskoot-gewere en 6 000 Oostenrykse Guedes-gewere te bestel.(28) Hierdie gewere is byna tien jaar tevore in die weermagte van die wêreld vervang deur die nuwe klelinboor-magasyngewere, die Lee-Metford in Brittanje en die Mauser in Duitsland. Nou beveel Kruger Joubert om ‘n tweede geweer vir elke burger aan te koop en hy laat hom 37 000 Mausers uit Krupp se fabriek in Duitsland invoer.(29)

(28)Breyt I, 406-11. Mouton 226

(29)Ibid

Die beste wat van Joubert gesê kan word, is dat hy besig was om ‘n uitmuntende artilleriekorps op te bou. Hy sou 22 van die modernste stukke geskut uit Europa invoer: vier van die jongste swaar 155-mm-kanonne (later bekend as Long Toms) en ses veldkanonne van 75 mm van Creusot in Frankryk; vier van Krupp se 120-mm-houwitsers en agt van hul 75-mm-veldkanonne. Van Maxim-Nordenfeld in Brittanje koop hy 20 van die eksperimentele eenponders (Pom-poms) wat nog nie eens in die Britse Weermag gebruik word nie.(30)

(30)SD II, 192. Vg; Military Notes (sy) PV eb Breyt I, 276 e.v.

Maar volgens Europese standaarde was die Staatsartillerie nog steeds ‘n dwergie. Aan Joubert is gesê dat hy nog agt 75-mm-Creusots nodig het. Hy sou uitstel tot dit te laat is. “Wat moet ek met nog kanonne maak?” vra hy in die Volksraad troe vraestellers op ‘n antwoord aandring. “Het ons nie al klaar meer as wat ons kan gebruik nie?”(31)

(31)Joubert aangehaal Mouton 227

Flaters was nie Jubert se alleenreg nie. Kruger het self ‘n paar vreemde besluite geneem, o.m. deur die bou van daardie vier lgoge gevaartes wat oor Pretoria en die Rand uittroon – die forte Daspoort, Klapperkop, Skanskop en Wonderboomspruit. Hulle het meer as £300 000 gekos – £1-1/2 miljoen volgens een beraming.(32)

(32)RCSAW I, 193M-C 7 Feb 1898 haal ‘n openbare verklaring deur Kruger aan. Vgl. Breyt I, 274-7, Oberholster tap

Wat is met hulle beoog? Militêr gesproke is dit moeilik om te sê. Hulle het die eerste beginsel van die Boere-krygstaktiek geweld aangedoen, nl. beweeglikheid bo alles. Dit lyk asof Kruger se oogperk ‘n politieke was: om die Uitlanders te imponeer. Maar die forte het vir Johannesburg die simbool van Krugerisme geword, en die les wat die Uitlanders daaruit geleer het, was een wat teen Kruger se belange gewerk het. Aangesien hulle te swak is om Kruger alleen te klop, moet hulle die hulp van die Britse Regering inroep.(33)

(33)Star passim 1899

Ten spyte van hierdie flater en Joubert se geknoei het Kruger die Transvaalse Weermag sedert die inval onherkenbaar opgeknap en versterk – presies soos Milner Chamberlain gewaarsku het. Binne ‘n week kan die burgers nou ‘n stuk of 20- kommando’s met die modernste kanonne en gewere mobiliseer, ‘n effektiewe mag van meer as 25 000 krygers – 40 000 as die Vrystaters bygereken word. Die gesamentlike weermag is vier maal so groot as al die Britse garnisoene in die twee kolonies; dit is die grootste moderne weermag in die hele subkontinent.(34)

(34)Die gesamentlike mag was volg. Breyt I, 153 54 000-57 000 maar slegs 32 000-35 000 was in werklikheid by die uitbreek van die oorlog paraat. Vgl. OH I, 458-9 wat verwys na meer as 48 000 opgekommandeerdes

Uit Kruger se oogpunt was dit dan die vernaamste gevolge van die inval: om sy greep op Transvaal te sterk, om die Vrystaat se bondgenootskap te verseker, om sy land in ‘n ware militêre moondheid om te skep. Tog bly die toekoms dreigend. Die inval het hom ‘n blaaskans gegee, maar die basiese dilemmas bly. Hy moet die republiek moderniseer sonder om sy aartskonserwatiewe burgers te vervreem. Hy moet toegewings aan die Uitlanders doen sonder om sy land se onafhanklikheid in gevaar te stel. Bowenal moet hy ‘n nuwe konvensie met die Britse Regering aangaan ten einde die Voortrekkers se droom van ‘n ten volle onafhanklike volk te verwesenlik.

Sy eerste taak is om die Augiasstal van die Transvaalse administrasie te reinig – ‘n frase van Milner waarmee baie Progressiewe Boere sou saamgestem het.(35) Kruger se keuse vir die taak val op Jan Smuts. In daardie jaar, 1898, het Kruger van een van sy Hollandse amptenare ontslae geraak, en Smuts word Staatsprokureur. Hy is ook die Uitvoerende Raad se regsadviseur. Dit is ‘n moedige aanstelling; Smuts is maar 27 en totaal onervare. Maar hy het ‘n reputasie as skitterende akademikus en iemand met groot takt; hoewel albei hoedanighede aan Kruger vreemd is, het  hy geen vooroordeel teen hulle nie.(36)

35)Gordon 184-203

(36)Hancock Smuts , 67-9. P. Kruger II, 298-9

Om die aanvalle van die Progressiewe, die Uitlanders en die Britse Regering voor te spring, sal Smuts haastig te werk moet gaan. Daar is trouens niks wat Milner meer sou verbaas en Chamberlain meer sou verheug as die wete dat Kruger, soos Chamberlain, geglo het dat die tyd aan die kant van die Britte veg nie.

Smuts se aanstelling toon al Kruger se insig en vernug. Tog lyk die vennootskap onvanpas en ongerymd. Smuts is ‘n Kaapse Afrikaner; sy eerste skryftaal is Engels, sy gunstelingdigters Shelley, Shakespeare en Walt Whitman. Hy is lank en slank en hy lyk belaglik jeugdig, met sy blonde krulhare en sy pragtige gelaatsvel. Soms bloos hy soos ‘n skooldogter.

Sy bekendstelling aan Kruger was onbelowend. Smuts het pas met die nooi van sy kinderdae, Issie, getrou en haar na die President se huis gebring om aan hom bekend te stel. “Hoekom vat jy vir jou so ‘n lelike vrou?” vra Kruger. Daar is ‘n oomblik stilte voor Smuts besef dat Kruger ‘n enigsins lompe grappie probeer maak. Dat Smuts self die gek sou skeer, is onvoorstelbaar. Daar is iets skrikwekkends intens aan hom; die grys-blou oë is strak en hard.(37)

(37)Hancock I, 3-63, 68

Wat sy intellektuele vermoëns betref, sy rekord is ewe skitterend as Milner s’n. Soos ander pientere kolonianers is hy na Cambridge; daar het hy ‘n rits pryse verower en ‘n regsgraad met dubbele lof behaal. Vir Cambridge was dit goue jare. Dit was die Cambridge van die filosowe Bertrand Russell en G.E. Moore. Maar min van die goudstof het aan Smuts bly vaskleef; hy het hoofsaaklik vir werk geleef. Toe hy eindelik terugkeer huis toe, het hy die regte as beroep gekies en in sy vrye tyd politieke artikels geskryf. Die sluitsteen van sy politieke geloof, soos dié van ander Kaapse Afrikaners, was die gedagte van Suid-Afrikaanse eenheid onder die Britse vlag.(38)

(38)Ibid I, 33-53

Hierin, het hy gedink, sou die “groot tempel van vrede en eenheid lê, waarin albei blanke rasse ‘n tuiste sou vind. Elke volksgroep sou die verskille tussen hulle “blymoedig” aanvaar tot hulle uiteindelik tot een groot blanke volk sou saamsmelt wat geheel Suid-Afrika van die Zambezi tot in die Kaap bewoon. En die man wat die fondamente van die tempel sou help bou, so het Smuts vurig geglo, was – Rhodes.(39)

(39)SP I, 80-100, 123-6

‘n Mens kan jou Smuts se gevoelens voorstel toe dit ná die Jameson-inval blyk dat Rhodes tog is wat sy vyande altyd beweer het – ‘n konkelaar en ‘n verraaier. “Die man wat ons gevolg het, wat ons na die oorwinning sou lei, het ons nie alleen in die steek gelaat nie; hy het … ons verraai.”(40) Oornag plaas Smuts sy heldevereniging van Rhodes op Kruger oor. Hy skud die stof van die Kaap van sy voete af en vertrek noordwaarts, na die ZAR, waar hy in die Johannesburgse Balie begin praktiseer.(41)

(40)SP I, 103-6

(41)Hancock Smuts I, 58-67

Teen Desember 1898 is Smuts al ses maande Staatsprokureur. Hy het hom met sy gebruiklike doelgerigtheid in die taak gewerp. As die Regering se regsadviseur moet hy alle Volksraadsvergaderings bywoon en die meeste van dié van die Uitvoerende Raad. Daarby moet hy al die staatsdepartemente adviseer. Hy het meer geword as regsadviseur; hy het al die Regering se algemene factotum ontpop. Maar sy belangrikste taak, so sien Smuts dit, is om te hervorm, en sy eerste prioriteit is om die tekortkominge in die landsbestuur te pak – om die plek “op te ruim”, soos hy dit reguit in ‘n brief aan ‘n vriend stel.(42)

(42)Smuts-Merriman 18 Jun 1899 SP I, 257-8

Hoe ver en hoe vinnig kan Smuts gaan in sy poging om korrupsie uit te skakel? Die probleem is dat die stelsel van monopolieë en konsessies aan die wortel van ‘n groot deel van die korrupsie en ondoeltreffendheid in die landsbestuur lê. In Kruger se oë is die stelsel nie ‘n manier om homself of sy ondersteuners te bevoordeel nie, maar (in sy eie woorde) “’n hoeksteen van die land se onafhanklikheid.

Die grootste gedeelte van die dinamiet-monopolie se £2 miljoen profyt gaan nie om dowe neute na Duitse en Franse dinamietkartelle nie; op dié manier het Kruger een van die grootste plofstoffabrieke in die wêreld in Johannesburg opgebou. Afgesien van die bedryf se militêre potensiaal kan Kruger wys op die nuttige politieke vriende wat hy met daardie £2 miljoen gekoop het: Duitse en Franse Uitlanders, buitelandse finansiers en hul regerings. Kruger het trouens een stel Uitlanders en een stel regerings teen ‘n ander afgespeel.(43)

(43)Kb 623, Marais 27-33. Gordon 55-6

Hierteen kan Smuts nie veel uitrig nie, en hy besluit om die kwessie van monopolieë te laat oorstaan as deel van ‘n groot ooreenkoms met die kapitaliste van die land.(44) Op ander gebiede kan Smuts wel vinnig handel, soos bv. i.v.m.  die Zuid-Afrikaansche Republikeinse Polisie, die Zarps. “Die nuwe Staatsprokureur,” kondig een staatskoerant daardie herfs versigtig aan, “is duidelik van plan om die onoordeelkundige, roekelose geskiet deur dom konstabels te keer.”(45)

(45)Standard & Diggers’ News (weeklikse uitgawe 23 Sep 1898

In die laaste tyd het Zarps verskeie kere ongewapende manne geskiet wanneer hulle in hegtenis geneem word, en nie net Kaffers nie. Die probleem lê gedeelte daarin dat die 600 Zarps byna uitsluitend uit die armste stedelike armblankes kom. Rou Boere uit hierdie besondere minderheid – die stuk of 6 000 grondlose Boere in Johannesburg – sal duidelik streng in toom gehou moet word om as doeltreffende polisiemag te dien in ‘n stad waar die res van die bevolking uit meer as 40 000 Uitlanders en 50 000 Swart- en Kleurlingarbeiders bestaan. Oor die algemeen, soos verwag word, reserveer die Zarps die ergste behandeling vir lg.

Daardie herfs het hulle na bewering strooptogte op ‘n aantal Kaapse Kleurlinge in Johannesburg uitgevoer en hulle afgeransel. Smuts het die verantwoordelike beampte onmiddellik laat skors. In die amptellike ondersoek wat gevolg het, het onaangename feite aan die lig gekom. Veertig Kleurlinge is in die middel van die nag  uit hul huise gesleep en daarvan beskuldig dat hulle die paswette oortree het. Party is hardhandig behandel. ‘n Siek meisie is dood, miskien a.g.v. die strooptog. In die verslag van die ondersoek is toegegee dat seker eonreëlmatighede gepleeg is, maar daar is nie teen die verantwoordelike beampte opgetree nie.(46)

(46)K 9345/83, 95-6, Marais 234-7

Smuts het nou ‘n nuwe politieke probleem. Die waarnemende Britse Agent in Pretoria, Edmund Fraser, het namens die Kleurlinge, wat Britse onderdane is, tussenbeide getree. Nou besluit Smuts om Fraser oor die saak te gaan sien en dit uit te praat. Hy kon skaars geraai het watter merkwaardige beloop die onderhoud sou neem.

Die twee manne kom op 23 Desember 1898 in Pretoria byeen, die dag van genl. Joubert se groot oorwinningsbanket.(47) Smuts moet in ‘n goeie bui wees, want daar was ‘n berig in die Transvaalse koerante oor ‘n besonder versoenende toespraak wat genl. Sir William Butler, wat vir Milner waarneem terwyl hy in Londen is, in Grahamstad gelewer het

47) Hancock Smuts I, 83

Volgens die berigte het Butler gesê: “Eenheid is mag, mar dit moet ‘n eenheid van harte wees, nie ‘n eenheid wat deur druk van buite aan mense opgedwing word nie. … Soos ek dit sien, het Suid-Afrika geen chirurgiese operasie nodig nie, maar rus en vrede….”(48) In die meese lande sou sulke woorde nie ongewoon gewees het nie. Maar dis is vreemd om sulke versoenende praatjies van ‘n Britse Hoë Kommissaris te hoor – en ‘n kwalik versluierde verwysing na die inval. Smuts was dus des te minder voorbereid op sy onderhoud met Fraser.

(48)Cape Times 21 Des 1898. Sir W. Butler haal ‘n ietwat ander teks aan in sy Autobiography 396-8

Ná die kwessie van die Kaapse Kleurlinge heel vriendskaplik bespreek is, begin Fraser skielik met ‘n merkwaardige uitbarsting. Volgens Smuts se aantekeninge het die gesprek min of meer soos volg verloop:

Fraser: Ons sit nou al twee jaar stil omdat ons eie amptenare ons met die inval in ‘n valse posisie gestel het. Dit is nou tyd om op te tree.

Smuts: Op te tree? Kan u verduidelik wat u bedoel?

Fraser: Wel, u sien, Gladstone het ‘n groot fout begaan deur Transvaal ná Majuba aan julle terug te gee voor (pleks dat) hy jul leër verslaan het. Dit het julle gedagte van ‘n groot Afrikanerrepubliek dwarsdeur Suid-Afrika aangemoedig. As u my mening vra, het dit tyd geword om hierdie nonsens te beëindig deur ‘n hou te slaan. Ons moet wys wie baas in Suid-Afrika is.

Smuts: Maar wat op aarde kan u aanleiding daartoe gee?

Fraser: Engeland is siek en sat van die wanbestuur van hierdie land, en veral van die mishandeling van Britse onderdane. Dit is ‘n punt in verband waarmee Engeland sal optree. Ek weet baie goed dat Engeland nie sal oorlog maak oor abstrakte temas soos susereiniteit nie – dit beteken vir die man in die straat niks. Hy (Engeland) sal oorlog maak oor dinge wat elkeen kan verstaan.(49)

(49)SP I,, 212-13. Oorspr. Nederlandse aantek. in indirekte rede

Oorlog maak… Die onderhoud het Smuts totaal dronkgeslaan. Wat beteken dié dreigemente? Het Fraser mal geword of is dit die begin van ‘n nuwe en uiters gevaarlike fase in die eindelose rusie tussen die twee regerings? Soek die Engelse ‘n casus belli, ‘n ekskuus om oorlog te maak? Miskien, maar dan kan dit tog nie die mishandeling van Kleurlinge wees nie, al is hulle Britse onderdane; Engeland sal nie oor hulle lot ween nie, nog minder sal haar bondgenote in Suid-Afrika.(50)

(50)Smuts-Hofmeyr 10 Mei 1899 SP I 233-5

Die antwoord op die raaisel kom spoedig. Smuts ontvang berigte van ‘n groot protesvergadering wat die volgende dag in Johannesburg moet plaasvind. Die Britse Uitlanders is woedend. ‘n Jong Engelsman, ene Edgar,  is deur ‘n Zarp geskiet.(51)  Maar dit is nie al nie. Die Uitlanders is van plan om die Britse Regering d.m.v. ‘n versoekskrif te vra om namens hulle tussenbeide te tree.

(51)Standard & Diggers’ News (weeklikse uitgawe) 24 Des 1899

Op sigself is dit ‘n kleinigheid, maar ‘n klippie kan ‘n rotsstorting aan die gang sit….

—oOo—