BO Roberts ruk op

Roberts ruk op

 What’e does nog know o’war, Gem’ral Bobs, / You can arst the shop next door –  can’t they, Bobs? / Oh ‘e’s litle but ‘e’s wise, / ‘E’s a terror for ‘is size, / An’ – ‘e – does – not – advertise – Do yer, Bobs?

Rudyard Kipling, ‘Bobs’. 1898

— — —

Die Stoomroller

Die Westelike Front, 11-15 Februarie 1900

“Niemand het ‘n oorlog nog ooit so sleg gereël nie – g’n vervoer, g’n kos, niks …”

Een van Roberts se oud-soldate beskryf Roberts se groot flank-opmars aan die skrywer, Junie 1970

Hoofstuk-aanhef bandopname van manskap Bowers, PV

.— — —

Hoofstuk 26

Rimington’s Guides – die voorhoede van Roberts se groot leër van 40 000 – klater omstreeks tienuur op die oggend van Sondag 11 Februarie by die Ramdam in. Daar is sowat 100 van hulle. Agter hule hang ‘n stofwolk in die vurige blou lug. Toe hulle verder ry, bly hul naam, Tigers, met kryt geskryf, op die kosyn van die plaashuis agter. Daar was geen weerstand nie.(1)

(1)Phillips 59-62. Colvile 24. Rankin Subaltern’s Lettes ins. 30-3. Chester-Master MSS Ches. French dagboek 11 Feb 1900, Fren. Haigh-Henrietta 22 Feb, Haig-Lonsdale Hale 2 Mrt 1900, Haig. OH II, 11-12

Dis maar ‘n armoedige plek, Ramdam: een reghoekige, afgekalkte plaashuis met ‘n sinkdak op ‘n lae rif in die byna gelyke veld; enkele treurwilgers, ‘n paar buitegeboue vir die osse, die esels en die naturelle; en onderkant die rant, die sleutel tot die hele plek, die dam, wat vol is as dit die somer reën.(2)

(2)|Colvile 23-4

Dit is Ramdam, een van ‘n honderd ander Boere-opstalle op die eindelose vlaktes suid van die Modder- en die Rietrivier. Dit lyk nog veel slegter nadat Rimington’s Tigers daar oorgestaan het. Niemand hoef hul naam te sien om te weet dat hulle daarlangs gekom het nie. Die reghoekige wit saal, die vier kleiner kamers, die volkshuisies – alles net so deeglik gebreek en gestroop en uitgebrand soos daardie Britse setlaarshuise in Natal gebreek, gestroop en uitgebrand is.

Die Tigers is Uitlanders en kolonialers. As verkenners en vegters is hulle die elite van die leër, maar nie die soort mense wat ek sou nooi om op my landgoed oor te staan nie”, soos een van Roberts se generaals droog opmerk.(3) Nie vir hulle retoriese praatjies oor nederlae wat uitgewis moet word nie. Hulle veg en verken deeglik; hulle plunder ook deeglik.(4)

(3)Ibid

(4) Chester-Master MSS, Ches

Want dit is die land van die vyand. Ramdam is die eerste plek waarop hulle binne die grense van die Vrystaat afkom. Die teen-inval het begin.

Roberts se opmars na Bloemfontein, wat daardie dag begin het, herinner in sy magistrale momentum aan Kitchener se opmars na Omdurman 18 maande tevore. Hier, eindelik, is die imperiale stoomroller; ‘n ganse leërkorps oor die sand aan die beweeg, onder die stof-gordyne en te midde van die krete van bruin en swart drywers, die geklap van die lang swepe, die gebalk van die muile.(5)

(5)Battersby 29-32

Hier ook, is die Sirdar in eie persoon, want Kitchener is die veldmaarskalk, Lord Roberts, se stafhoof. Daar is miskien m inder swier en kleur aan hierdie groot leër as aan sy voorgangers in die geskiedenis van die Empire.

Daar is geen vlae of tromme terwyl die Kakies deur die doringdraad op die Vrystaatse grens kruip nie. Trou aan die nuwe styl van oorlogvoering dra die offisiere gewere i.p.v. swaarde, en selfs Kitchener het nie eens die lint van ‘n medalje op sy breë bors nie.

Dit is die blote skaal van hierdie leër wat jou na asem laat snak. Roberts en Kitchener het vyf divisies – sowat 40 000 man en 100 kanonne, met inbegrip van ‘n hele kavallerie-divisie onder lt.-genl. John French.(6)

(6)Sien tabel SD I, 124-8. Totale sterkte in Kaap op 31 Jan 1900: 60 296 man en 150 kanonne. Sien ook SD I, 53

Dit is French se kavallerie wat die leër op die hakke van die Tigers by Ramdam inlei. Vir die eerste keer in die oorlog is ‘n regte vlieënde kolonne beskikbaar – 5 000 kavalleriste en berede infanteriste, genoeg ruiters om die Boere te oor-Boer. Voor hulle die basiskamp op die Modderrivier verlaat, laat Kiotchener French en sy stafoffisier, jong Douglas Haig, kom.

Dit is hulle taak om Kimberley te ontset. Hulle moet Cronjé se linie by Magersfontein omvleuel. Alles hang van verrassing af. Kitchener voeg enigsins onheilspellend by: “As dit misluk, kan nòg ek nòg die veldmaarskalk die gevolge vir die Empire voorspel.” Hy beklemtoon daardie woord “Empire”.(7)

(7)Haig-Lonsdale Hale tap. Sien ook R-L 9 Feb 1900, no 132 H & O I, 36

French verstaan die implikasie. Cecil Rhodes, die vleesgeworde Empire, is in Kimberley vasgekeer; en die vlees is swak. Daar is genoeg kos in Kimberley, tog het Rhodes ‘n kenmerkend roekelose ultimatum aan Roberts oorhandig: maak hulp aan hierdie dorp u eerste prioriteit, of ek lewer dit aan die Boere uit.(8)

(8)Kekewich dagboek 8-10 Feb 1900, Kek

Dit is dus die kavallerie se taak: om soos die wind na Kimberley te ry, om die dorp van die Boere te red en Rhodes van sy eie ergste vyand, homself.

Wat het genl. French van die taak gedink? Hy weet dat vervoer in hierdie oorlog die sleutel tot sukses is. En hy het ernstige bedenkinge oor Roberts en Kitchener se vervoerreëlings. Vandat Bobs en K in die Kaap aangekom het, het hulle die regimentele transport- en bevoorradingstelsel omgekeer deur die dit onder hul persoonlike, sentrale beheer  te plaas. Miskien sal die gebeure hulle reg bewys. French twyfel. Hy het vasgeskop en sy eie kavallerie-divise se transportafdeling uit Kitchener se hande gehou.(9)

(9)French get RCSAW III, Q 17201-3. Haig-Lonsdale Hale tap

Nou het Rhodes se SOS ‘n moeilike situasie vererger. Om soos die wind na Kimberley te ry, sal hoë eise aan die kavallerie stel: halwe rantsoene vir die manne, perde wat dood neerslaan van honger, hitte en uitputting. So sou dit gewees het as die kavallerie reg was vir die veldtog.

Maar sy ses gereelde kavallerie-regimente is allesbehalwe reg. Ná ‘n lang seereis is party van die perde groen. Almal het die moeilike treinreis van Colesberg (waar French al sedert November gebaseer is) of van die hawens meegemaak.(10)

(10)French get RCSAW III, Q 17178. Kapt. Bellew dagboek 30 Jan 1900, Gel

Die toestand van die ongereelde ruiters is nog ontstellender. Roberts het ‘n aantal Britse gereelde troepe in geïmproviseerde berede infanterie verander; en as hulle net tyd gehad het om te leer ry, sou hulle seker uitstekend gewees het. Die nuwe koloniale korps wat Bobs en K in die Kaap byeengeskraap het, is ‘n “Scallywag Corps”, ‘n klomp woestaards. (Die verwysing sluit nie Rimington’s Rigers, wat veel vroeër saamgestel is, in nie.)

“Hulle verdwyn sodra ‘n skoot gevuur word of dit lyk of daar ‘n geveg voorlê,” deel maj. Haig sy suster vertroulik mee.(11) En gestel hulle daag betyds op om Kimberley te red, wat sal welslae kos? Kan dit nie dalk die lank vertraagde opmars na Bloemfontein vertraag nie?

(11)French get RCSAW III, 301 kol 1. Haig-Henrietta 16 Mrt 1900, Haig

Tog is dit vir die Engelse freitlik onmoontlik om nie deur die Boerelinies te breek nie. Daar is vier Engelse vir elke Boer. Methuen het die linie by Magersfontein aangeval en byna deurgebreek – met drie brigades. Roberts het vyf divisies.

Die stoomroller dreun deur Ramdam – 34 000 wit soldate en 4 000 bruin agterryers en drywers – en rol verder oor die veld. Op die hakke van French se kavallerie volg genl.-maj. Charles Tucker se 7de Infanterie-divisie. Daarna kom lt.-genl. Thomas Kelly-Kenny se 6de Divisie. Dit is die twee nuwe infanterie-dvisies wat na Swart Week beveel is om Kaap toe trek.

Ten slotte is daar die pas saamgestelde 9de Divisie, onder bevel van genl.-maj. Sir Henry Colvile. Dit bestaan uit die 19de Brigade, wat pas geland het en onder leiding staan van ‘n jong brigadier, ene Smith-Dorrien, en uit die oorspronklike Highland Brigade wat by Magersfontein “gepeper” is. (Die res van Roberts se 40 000 bewaak die agterhoede; onder hulle is ook die Guards wat in die Modderrivier saam met Methuen vasgeval het.)(12)

(12)SD I, 124-8

Van al die opgewekte manne in Roberts se leër is die Highlanders waarskynlik die opgewekste. Hulle het genoeg van die Modderrivier gesien. Nege weke se vlieë en stof en modderwater; bedags te warm, snags te koud; en altyd Magersfontein-koppie daar oorkant die vlakte. Hulle is ook buikvol van Methuen.

Ná Wauchope se dood het genl.-maj. Hector MacDonald (“Fighting Mac”) bevel van die brigade oorgeneem. Hy stel Roberts in kennis van die buitengewoon brandende haat wat die manne vir Methuen voel. Methuen weet dit al. Aan sy vrou skryf hy: “Hulle sal nooit weer instem om onder my te dien nie.”(13)

(13)Phillips 59-62. Methuen-vrou 14 Des 1899 ens. Meth. R-L 12 Jan (tel no 8), 30 1900 H & O I, 9, 24

Om twee-uur die Maandagmôre laat French se kavallerie-divisie die voorste infanteriste – Tucker se divisie – om hul kampvure op Ramdam aan die snork en begin in die rigting van Kimberley draf. Daar is ‘n kwynende maan. Voor hulle lê die enigste twee hindernisse in die veld: die Riet- en die Modderrivier.

Daar word gemeen dat Cronjé se mag by Magersfontein groter as hulle eie is. Maar die twee infanterie-brigades wat by Methuen agtergelaat is, is beveel om Cronjé se aandag met ‘n artillerie-bombardement af te lei. Snelheid behoort French se kavallerie-divisie veilig deur die Boerelinies te voer, met ‘n wye ompad van sowat 80 myl na die ooste.

Hulle is ten slotte die room van Engeland se kavallerie-regimente, met twee berede infanterie-korpse en sewe batterye perde-artillerie wat die vlieënde kolonne afsluit.(14)

(14)Kapt. Bellew dagboek 12 Feb 1900, Bel. Haig-Hale tap

Op die ou end was die vernaamste hindernis nie Cronjé nie, nòg die Riet- en die Modderrivier. Dit was die infanterie se gebrekkige transportreëlings. Op die Maandag hou die kavalleriste by die Rietrivier stil, nadat hulle die rivier op drie plekke feitlik sonder teenstand oorgesteek het.

Maar nou dam die bagasiemuile agter Tucker se stadiger-bewegende ossewaens op. Roberts het nagelaat om te beveel dat die kavallerie se bagasie voorkeur kry.  Dit verlaat Ramdam dus nie voor 5.00 nm.  nie. By die Rietrivier raak die kavallerie se bagasie weer hopeloos met Tucker s’n verstrengel.

Die Dinsdag kan die kavallerie die Rietivier nie voor 10-uur die ogend verlaat nie, die ergste tyd van die dag vir manne en perde. Weldra het die kavallerie weer van sy bagasie afgesny geraak. Die hele Woensdag moet die kavalleriste op die Modderrivier se noordelike wal daarvoor wag. Teen Donderdag het Kelly-Kenny se infanterie hulle ingehaal.

Eindelik, om 9.30 vm., is French vry om te gaan. Sy verkenners berig dat twee groepe Boere – waarskynlik tussen een- of tweeduisend man – in beheer is van twee rante by Abonsdam, sowat vier myl noord van die Modderrivier. Aan die einde van die rant is daar maar ‘n paar Boere. French gee die bevel om deur die gaping te storm.(15)

(15)Ibid. Kapt. Bellew dagboek 12-15 Feb, Bel. Luit. Abadie dagboek 12-15 Feb Abad. French dagboek 12-15 Feb 1900, Fren

Sabels en lanse vonkel in die son. Vir die eerste en laaste keer in die oorlog flits die arme blanche van die militêre handboeke soos koning Arthur se swaard. Toe galop French en sy kavallerie-divisie vinnig vooruit en verdwyn in ‘n enorme stofwolk wat die verre skoorstene en mynwiele van Kimberley verhul.(16)

(16)Ibid. OH II, 33-6

Dieselfde oggend sit die veldmaarskalk 20 myl verder by Watervaldrif op die Rietrivier in ‘n wa. ‘n Rooi vlag dui aan dat dit sy veldhoofkwartier is. Dié Lord Roberts het ‘n beskeie voorkoms; wanneer hy in sy anonieme kakie gaan ryk, herken mense dikwels nie dadelik die tenger mannetjie met die veldmus op die kop, die swart band om sy arm en die wit moestas nie. Dan ry die stafoffisiere met hul rooi lussies hom tegemoet. ‘n Paar mompel “Bobs” en iemand roep “hiep, hiep, hoerê”.(17)

(17)Luit. Addison dagboek 1 Jun 1900, (sy) PV. Foto’s H.F. Mackern Sidelights

Ook sy veldhoofkwartier is beskeie; net ‘n kapwa met ‘n seil-afdak aan die een kant.(18) Hier sit hy uur ná uur en skryf verslae en ontvang of versend telegramme oor die mobiele telegraaflyn wat agter ‘n spesiale kar uitrol. Die telegraaflyn se Morse-kode is een van die sleutels vir die hele veldtog; dag en nag hou dit hom in verbinding met Lord Lansdowne in Londen, net soos die boere-telegraaf genl. Cronjé met Presidente Kruger en Steyn in verbinding hou.;

(18)Black & White Budget en H. Wilson With the Flag

Vanoggend is die draad na Londen bedrywig en die berigte gunstig. Roberts kan die rol wat die publiek van hom verwag, uitstekend speel: klein Bobs, die sak-Wellington, die towernaar wat maar net sy veldmaarskalkstaf hoef te swaai om oorwinning te verseker en al die vernederings wat dwase soos Methuen en Gatacre en Buller op die Engelse volk gestapel het, in die stof te laat verdwyn.(19)

(19)W. Churchill My Early Life 342-3

In werklikheid is Roberts sowel vol vertroue as angstig. Die inval in die Vryswtaat kon veel eenvoudiger gewees het as dit onnodig was om via Kimberley op te ruk. Die groot flank-opmars om by Magersfontein verby Cronjé se loopgraaf te kom, werk blykbaar. Afgesien van ankele geïsoleerde  groepies stropers word die Boere glo nog vasgepen deur een Britse brigade wat saam met Methuen by die Modderrivierstasie agtergelaat is.

In werklikheid werk die flank-opmars glad nie goed nie. Roberts het verwag dat transport en bevoorrading die groot probleme sou wees, en die reëlings is chaoaties.(20) Buitendien het die berigte uit Natal hom ontstel. Buller se derde poging om White te hulp te snel – ‘n aanval op Vaalkrans, vyf myl na die ooste, 10 dae ná die aanval op Spioenkop –  het in ‘n derde terugslag geëindig.(21)

(20)R get RCSAW III, 462-3. OH II, 15-33

(21)Buller get RCSAW III, 179-80

Roberts het hom nou beveel om “streng verdedigend” op te tree, selfs as hy Ladysmith aan sy lot moet oorlaat tot die gevolge van Roberts se eie flank-opmars na Bloemfontein tot die terugtrekking van die Vrystaatse magte in Natal gelei het.(22)

(22)R-Buller 10 Feb 1900, VT no 150

Ook die Kaapkolonie bekommer hom. Die Boere het gebruik gemaak van die feit dat hy die garnisoen by Colesberg  ernstig moes verswak ten einde sy invalsmag aan te vul. Hulle val nou weer in daardie sektor aan en soos gewoonlik verwag Milner die ergste.(23)

(23)R get RCSAW tap. M-R 4 Feb 1900, RCSAW III, 529-30. R-M 5 Feb 1900 ibid 30-1

Hoe dit sy, om te sê dat sy bekommernisse dreig om Robrets te oorweldig, sou oordrewe wees. Hy het ‘n koel kop. “Hy weet wat hy wil doen en hy doen dit,” sê kapt. Lord Kerry, deur Roberts as ‘n ekstra aide-de-camp aangestel.(24) ‘n Nuttige aanstelling, want dit is nog ‘n manier om die ore van Lord Lansdowne, Kerry se vader, te bereik.

(24)Kerry-L Feb 1900 Lan

Roberts lyk onemosioneel – of liewer, hy kry dit taamlik maklik reg om sy emosies te verberg wanneer hoë eise aan hulle gestel word. Daar was een uitsondering, byna in die openbaar. Kort ná sy skip Tafelbaai vasgemeer het, ontmoet hy kapt. Congreve, een van Freddy Roberts se gewese kamerade uit die Rifle Brigade, die man wat langs hom gery het in daardie heldhaftige poging om kol. Long se kanonne by Colenso te gaan red. “Vertel my wat gebeur het,” vra Roberts. En toe, tot Congreve se onthutsing, begin die veldmaarskalk huil.(25)

(25)Kapt. Congreve-ouers Jan 1900, Con

Hoe ondenkbaar dat Kitchener homself so ‘n oomblik van swakheid sou gun. Die merkwaardigheid van Kitchener is dat hy graag voorgee dat hy geen menslike emosies het om te onderdruk nie. Die gesig soos dié van ‘n bronsbeeld, met onmoontlike blou oë daarop geskilder, die snor soos ‘n palmboom. Hier is die wondermens.

Sy beeld het dié van Britannia op die pennie vervang. Net so seker het hy sy stempel op die nuwe imperialisme afgedruk. Hier is die allegoriese voorstelling van alle imperiale deugde – kragdadigheid, wilskrag, taaiheid – in bomenslike vorm.

Natuurlik is dit maar net die held se ystermasker. Maar wat lê agter die masker: nog yster? Die lyding van sy eie soldate het Wellington siek gemaak; so iets sal Kitchener nooit oorkom nie. Liewe ‘n monster, dink hy blykbaar, as ‘n sentimentalis. Die pyn van ander laat hom koud.

Ná sy verowering van die Soedan het hy geweier om Oosterse strawwe soos die afkap van hande en bene vir geringe oortredings af te skaf. Hy het hom verlustig in die ontheiliging van die Madhi se graf; die Madhi se beendere in die Nyl laat gooi; en self met die skedel gesit en speel. Sou ‘n mens nie miskien ‘n interessante inkopot of drinkbeker daarvan kan maak nie?

In dié stadium het die Madhi dit byna reggekry om hom vanuit die graf te wreek. Die skedelvoorval het ‘n opskudding in Engeland veroorsaak. Hoewel die lawaai gaan lê het, het baie mense ‘n onaangename smaak in die mond behou.(26) Daar is iets heeltemal te Oosters, te on-Brits aan Kitchener. “Nie ‘n besonder innemende kêrel nie,” merk Cromer met meesterlike “understatement” teenoor Salisbury op. Kan ‘n mens hom in Indië of êrens opperbevelhebber maak nie?

(26)Magnus Kitchener 115, 133-6

Selfs Kitchener se beste vriende – en hy het ‘n klein vriendekring (sy “bende seuns”) by wie hy kan ontspan – kan diep ontsteld voel oor sy hartelose manier van praat. Hulle is ook van ander glesse in die karakter bewus. By intieme vriende kan hy af en toe in selfvernietigende woede uitbars.

Dwarsdeur sy loopbaan ly hy al aan ontsettende frustrasies. Dit is vreemd by iemand met so ‘n merkwaardige organiksasievermoë, dat Kitchener dit terselfdertyd onmoontlik vind om te delegeer. Hy is ‘n massa kontrakdiksies. In sy persoonlike gewoontes is hy pynlik netjies, sy uniform silwerskoon, sy snor geolie en geknip.

Maar sy kantoor lyk asof dit jare laas aan die kant gemaak is. Dokumente lê elke stoel en vensterbank vol, en wee hom wat die Sirdar se lessenaar probeer opruim; soos ‘n towernaar weet die Sirdar waar elke papiertjie is.(27)

(27)Ibid 109-15

Dit is die buitengewone mens – K van K, Kitchener van Khartoem, ‘n 49-jarige enfant terrible – wat Roberts as sy stafhoof in Suid-Afrika aangestel het. Uit ‘n politieke oogpunt was dit ‘n verstandige aanstelling, en in Roberts se gemoed weeg politieke faktore altyd die swaarste.

Die aanstelling verteenwoordig ‘n bondgenootskap die Indiërs en die Egiptenare, ‘n taktiese alliansie wat daarop gemik is om beheer oor die Britse weermag en die Departement van Oorlog uit die hande van Wolseley en sy Afrikane te ruk.

Maar watter militêre rol moet Kitchener vertolk? Nie dié van stafhoof in die gewone sin nie: die ondergeskikte wat die opperbevelhebber se planne uitvoer en sy bevele vertolk.(28) Kitchener sal nie maklik tweede viool speel nie.

(28)Robertson Private to Field-Marshal 112-13

Kitchener sal Roberts se regterhand wees, het “Bobs” gedink, sy vennoot. Hy sal probleme stormloop en uit die weg ruim, die Gordiaanse knoop in die Departement van Oorlog deurhak; sy demoniese organisasiedrif, gepaard met Roberts se ratse strategie, sal hulle albei na die oorwinning voer.

Dit was hoe Roberts se gedagtes in daardie moeilike Desemberdae in Londen en in die twee weke van die vaart Kaap toe gewerk het.(29). Die werklikheid was heelwat anders. Die geskiedenis herhaal homself soms in die vorm van klug, meer dikwels in die vorm van ironie.

(29)R-genl. Lockhart 26 Des, R-L 27 Des, 2 Jan 1900-1, H & O I, 4-7

Die ironie van Roberts se posisie is dat hy Buller meermale daarvan beskuldig het dat hy sy eie strategiese planne soos ‘n swakkeling laat vaar het, onder die druk van omstandighede. Nou vind Roberts dat ‘n soortgelyke druk hom dwing om min of meer op dieselfde manier te reageer.

Die belangrikste druk het, soos ons gesien het, van Rhodes gekom. Robrts se beoogde strategie was om die ontsetting van Kimberley uit te stel totdat Bloemfontein verower kon word. White het ‘n flater begaan deur homself in Ladysmith te laat vaskeer, Rhodes was dwaas om hom in Kimberley te laat toesluit.

Uit hierdie bose trapmeul was Roberts vasberade om te breek. Hy wou die strategiese inisiatief herwin – ‘n harde aanslag teen die Vrystaat – soos dit oorspronklik voor die oorlog beplan is. Dit op sigself sou die druk op sowel Kimberley as Ladysmith verlig, asook op die grensgebiede van die Kaapkolonie, suid van die Oranjerivier, waar ‘n Boere-inval dreig.(30)

(30)R get RCSAW II, 460-1

Saam met die leidende Britse militêre denker van die dag, kol. George Henderson, skrywer van die onlangse suksesboek Stonewall Jackson, het Roberts die besonderhede uitgewerk. Henderson wou tot elke prys ‘n aanstelling hê. Roberts het hom van sy lessenaar in die stafkollege weggeneem en hom inligtingsdirekteur gemaak.

Die aanvalsplan sou besonder waagmoedig wees, vergelykbaar met die Suidelike State se opmars na Washington. Roberts is nie van plan om sy strategie deur die ligging van die spoorweë aan hom te laat voorskryf soos sy ploeterende voorgangers methuen en Buller nie. In plaas daarvan, het hy genoeg ossewaens en muilwaens byeengebring om sy hele mag etlike weke lank van die spoorweg onafhanklik te maak.

Sy armada sou en masse by ‘n spoorhoof êrens op die westerspoor noord van die Oranjerivierbrug sdaamtrek. Dit is die enigste brug oor die Oranje wat in Britse hande gebly het. (Soos ons gesien het, het dit op die een of ander manier die Boere-invalle van die vorige  herfs oorleef en ‘n lewensbelangrike skakel in Methuen se spoorweg na die suide gevorm).

Hiervandaan sou die os- en muilarmada die veld vreesloos invaar. Hulle trefpunt: die spoorwegstasie by Springfontein, 100 myl suid van Bloemfontein.(31) Die coup sal Stonewall Jackson self waardig wees: om die Vrystaatse hoofstad feitlik onverhoeds in te neem, om die Boere-aanvalsgroepe suid van die Oranje vas te keer (nadat hul hoofvoorradelinie afgesny is) en boonop om Kimberley en Ladysmith te help ontset.

(31)R-L 27 Des 1898, 2 Jan 1900, 15-17 Jan 1900 en 22-4 Jan, H & O I, 4, 7, 10 en 17

Verrassing moes die sleutel tot die plan wees. Henderson het wondere verrig deur ‘n vernuftige ruse de guerre, ‘n militêre swendel, te konstrueer. Hierin is hy knap bygestaan deur ‘n inligtingsoffisier, kapt. Willy Robertson (later sou hy die eerste Engelsman word wat ooit van manskap tot veldmaarskalk sou vorder, d.w.s. sonder om as offisier te begin).

Die ruse was dit: die Boere moes wysgemaak word dat die beoogde aanvalspunt Norvalspont is, die brug oor die Oranjerivier, in Boere-beheer, teenoor die Britse garnisoen by Colesberg. Die operasie is deur algehele geheimhouding gekenmerk. Net ‘n handjievol offisiere het die werklike beoogde invalsroete geken: ‘n flank-opmars van die westelike spoor af.

Vals telegramme, nie in kode nie, is aan bevelhebbers in die veld gestuur en daarna deur syferkabels gekanselleer. Gerugte is uitgedink en dan in die kamp versprei. Vertroulike wenke is gevoer aan ‘n oorlogskorrespondent van wie verwag kon word dat hy konfidensiële inligting sou publiseer.(32)

(32)

Gelukkig vir Roberts het die vernuftige speletjies nie in hul doel geslaag nie. Die Boere het nie suidwaarts gestroom om Norvalspont te verdedig nie. Want tussen 26 en 27 Januarie het Roberts besluit om hierdie waaghalsige skema te kanselleer, en dit kon bepaald lastig gewees het as verskeie duisende bykomende Boere sy kommunikasielinie by Colesberg sou bedreig.

Die nuwe plan was wat die Boere nog altyd verwag het: dat Roberts via Kimberley na Bloemfontein sou opruk. Daar was ‘n hele reeks redes waarom Roberts se moed hom begewe  het. Vir hom die belangrikste was Rhodes se smeekbede en dreigemente. Die laaste druppel was die berig van Buller se terugslag by Spioenkop, wat hom op 26 Januarie bereik het. Buitendien bekommer Milner hom al weer dood oor ‘n Kaapse opstand.

Roberts self het bedenkinge oor sy kommunikasiedienste terwyl Cronjé in Magersfontein bly. En waar gaan hulle op ‘n flank-opmars oor die oop veld water kry?(33) Die patroon het hom feitlik volmaak herhaal. Dit was die einste redes (afgesien van die gebeurtenisse in Natal) wat Buller in Desember laat besluit het om sy eie flank-opmars na Potgietersdrif te laat vaar.

(33)R-L 27, 29 Jan 1900, H & O I, 20-3. R get RCSAW II, 462. M-R 4 Feb, R-M 6 Feb 1900, RCSAW II, 529-31

Roberts se grootste waagstuk was sy besluit om nie Buller se magte in Natal met bykomende troepe te versterk nie. Sedert Warren se 5de Divisie vroeg in Januarie by Buller aangesluit het, is feitlik niks van die troepe wat nou al weke lank in Suid-Afrika aankom, na Natal gestuur om Buller te gaan bystaan nie (met uitsondering van dié wat gestuur is om ongevalle te vervang).

Buller het twee maal soveel Boere teen hom: ‘n geraamde 25 000 rondom Ladysmith teenoor sowat 10 000 om Kimberley – 25 000 in ‘n reeks natuurlike forte ingegrawe. Tog het Roberts homself ‘n gevegsmag gegee wat nie alleen veel mobieler as Buller s’n is nie, maar ook ‘n derde sterker: 40 000 teenoor 30 000.(34) ‘n Uitklophou het onvermydelik gelyk – vir Roberts se grande armée.

(34)R get RCSAW III, 461-2. Vgl. Buller get RCSAW III, 179

Buller het beswaar gemaak, maar te laat – op 9 Februarie, ná sy terugslag by Vaalkrans. Nie dat besware hom veel sou gehelp het nie, vermoed ‘n mens: Roberts was ‘n roekelose en harde man, selfs teenoor sy vriende. As Buller sê hy kan Ladysmith nie met 30 000 man ontset nie, het Roberts maar een antwoord: dan moet hy op die verdediging bly.(35)

(35)Buller-R 9 Feb 1900, VT nos 193, 195. R-Buller 10 Feb, VT no 150B

En om die ander aan te moedig, begin Roberts nou’n aantal generaals afdank of in rang verlaag. So een is Brabazon, die kavellerie-bevelhebber. (“Hulle sê hy is te oud vir regte werk. Die feit is, hy is te lief vir sy gemak.”) Nog een is Babington, een van French se brigadiers – “so traag dat die regimente al hul fut verloor het,” sê Roberts van hom.(36) ‘n Derde is een van sy persoonlike vriende, Methuen. “Ek is vasbeslote dat geen onafhanklike bevel aan hom toevertrou sal word nie.”(37)

(36)R-L 30 Jan 1900, H & O I, 24-5

(37)R-L 29 Jan 1900, H & O I, 22

Daar is min twyfel dat Roberts se optrede in die eerste twee gevalle arbitrêr was; Babinton is glo eenvoudig gestraf omdat hy ‘n vriend van Buller was; en die beleid van summiere straf was geneig om bevehebbers des te traer (lees: versigtiger) te maak, nie minder traag nie.(38)

(38)Methuen-vrou 4 Jan 1900, Meth

Dit is debatteerbaar dat Roberts te veel troepe vir homself gehou en Buller en die Natalse leër, met hul moeiliker taak, afgeskeep het. Ook die opvatting dat Roberts oorhaastig afgedank het, is miskien aanvegbaar. Maar in een opsig kan daar geen argument oor sy tekortkominge as generaal wees nie, tekortkominge wat die gevolg was van ongeduld. Sy ingrypende veranderinge die vervoer- en bevoorradingstelsels sou een van die grootste flaters van die oorlog word.

Vreemd: nòg Roberts nòg Kitchener, die twee beroemdste Britse veldhere van die tyd, het veel van die werkinge van die Britse leër geweet. In ‘n sekere sin was albei buitestaanders. Bobs, “sepous general” – Indiërs in die Britse-Indiese leër – het sy hele militêre lewe in Indië deurgebring. Kitchener, die Sirdar – soos ‘n bevelhebber in Egipte genoem word – het lank in albei betekenisse van die woord in die wildernis gedien.

Gevolglik het hulle nie die transport- en bevoorradingstelsel begryp wat die Britse Departement van Oorlog in Suid-Afrika wou toepas nie: die sg. “regimentele” of gedesentraliseerde stelsel.(39)

(39)Sir John Fortescue History of Army Service Corps 229-65

Hiervolgens was elke bataljon-bevelhebber vir sy eie bataljon se daaglikse kosvoorraad verantwoordelik, en elke bataljong het ‘n transport-offisier gehad. Hierdie stelsel is by die normale leërorganisasie geïntegreer. Roberts en Kitchener het albei dieselfde twee deurslaggewende misvattings oor die stelsel gehad. Volgens hulle moes dit uiters onekonomies wees om elke bataljon sy eie waens te gee; hulle het nie besef dat die stelsel in die praktyk heeltemal buigsaam genoeg was nie, aangesien bataljon-transport te eniger tyd deur die senior offisier in algehele beheer van transport teruggeroep kon word.

Ook die bestaan van die nie-regimentele transport, die brigades se voorradekolonnes, het nie tot hulle deurgedring nie. Volgens hulle moes die stelsel geheel en al afgeskaf word, afesien van regimentele transport (met ammunisie en krygstuig) in die eerste linie.

In die plek van die regimentele stelsel het hulle ‘n merkwaardige “algemene vervoerstelsel” ingestel, waarin grotendeels onopgeleide vervoer-offisiere in oskar- en muilwa-transport-kompanies in al die uiteenlopende behoeftes van die leër moes voorsien.(40)

(40)Kol. Clyton get RCSAW II, Q 2655-91. Fortescue tap. OH I, 416-20. Vgl. R get RCSAW II, Q 10506 en RCSAW IV, 234

Wanneer ‘n hoogs tegniese deel van die militêre stelsel wat oor ‘n lang tydperk ontwikkel en verfyn is, skielik in die middel van die oorlog vervang word, is daar onvermydelik moeilikheid. En moeilikheid was daar. Kitchener, K van K, word spoedig as K van Chaos bekend.(41) Die professionele transport-offisiere voorspel ‘n ramp. En daarvoor hoef hulle nie te lank te wag nie.

(41)Lyttelton-vrou 1900, Lyt 562d

Roberts was intussen gereed om na die front te beweeg. Op 6 Februarie reis die hoofkwartierstaf, maar sonder die opperbevelhebber of die Sirdar, aan boord van die ampstrein na De Aar vooruit, ‘n weelderig-toegeruste moebiele hoofkwartier. Daar is vermoed dat pogings aangewend sou word om die trein te sabotter.

Nietemin lyk Roberts kalm en vol selfvertroue. “Voorbereidings vorder goed,” kabel hy daardie dag aan Lansdowne. “Eerste beweging waarskynlik op die 10de. Alles wel en vol vertroue. Laat my vrou weet. Roberts.” Hy beveel aan dat Kitchener, hoewel baie van die generaals in Suid-Afrika sy senior is, hom as opperbevelhebber moet opvolg as iets met hom moet gebeur.

(“Dit is jammer dat daar geen militêre genieë onder die senior offisiere is nie, maar ek glo dat dit nog altyd die geval was. Napoleon het dit ondervind; en Wellington het volgehou dat daar geen enkele generaal was op wie hy kon vertrou om onafhanklik te handel nie.”)

Ná hierdie boodskap ry die moderne Wellington onder ‘n skuilnaam na ‘n klein stasie buite Kaapstad en haal die gewone postrein na die oorde.(42)

(42)R-L 6 Feb 1900 (tel no 112), H & O I, 30. Ld Kerry dagboek 5-6 Feb 1900, Lan

Ná hy die Modderrivier bereik het, wysig Roberts sy beleid in slegs een opsig. Oorspronklik was hy van plan om Rhodes niks van die opmars te laat weet nie. Maar op 9 Februarie kabel Kekewich: “Ek vrees dit gaan baie moeilik wees om die druk van ‘n groot gedeelte van die publiek nog baie dae lank te weerstaan.”

Die kabel ontstel Roberts so dat hy dieselfde dag besluit om die berig van die onmiddellike opmars na Kimberley aan Rhodes bekend te maak. Dit behoort Rhodes en die ander lamsakke moed in te blaas. Aan Kekewich stuur hy ‘n bevel: “Waarsku Rhodes dat die gevolge van ‘n oorgawe na so ‘ n uitgerekte en roemryke verset rampspoedig en vernederend kan wees.”

Later op dieselfde dag kabel hy volle verlof aan Kekewich om “enige individu, wat ook al sy posisie,” te arresteer wat die “nasionale belang” bedreig. Korton: as Rhodes probeer oorgee, gooi hom in die tronk.(43)

(43)Kekewich-R 9 Feb, R-Kekewich 9 Feb 1900, Bbs 23 Diverse IV

Teen die 15de het Roberts in sy veldhoofkwartier by Watervaldrif op die Rietrivier ingetrek. Hier wag hy gespanne vir berigte oor French se vordering onderweg na Kimberley.Vroeg daardie oggend ry hy saam met Colvile se Divisie (die 9de) na ‘n tweede drif, Wegdraaidrif, enkele myle stroom-af en na die noordweste.

Die steil, ongelyke rivierwalle en die sagte, klewerige modder het sulke ontsettende vertragings veroorsaak dat die voorradekonvooi van 200 ossewaens – die divisie se mobiele voorradedepot – by Watervaldrif op die noordelike wal van die Rietrivier moes agterbly sodat die 3 000 osse kan wei en regkom.(44)

(44)Colvile 26

Teen ongeveer 9.00 vm., enkele ure ná hy die tweede drif bereik het, ontvang Roberts ‘n ontstellende veldtelegram met ‘n berig wat die hele toekoms van sy ekspedisie bedreig.

Dit gaan nie oor French nie. Dié moet nog op sykavallerie-stormloop vertrek. Dit gaan oor die ossewa-konvooi by Weatervaldrif. ‘n Groe[pie Boere (o.l.v. Christiaan de Wet, sou later blyk, die man wat die grootste guerrilla-leier van die oorlog sou word), het die konvooi voorgelê en die meeste van die 3 000 osse op loop gejaag.

Nou staan die 200 waens, byna ‘n derde van al die vrvoermiddels waaroor Roberts die opmars na Bloemfontein beskik, en hul nie-blanke drywers hulpeloos langs die Rietrivier. Die kosbare vrag – beskuit en boeliebief, medisyne en verbande waarsonder die leër nie kan veg nie – is aan De Wet se genade uitgelewer. Om tyd te spaar, gee Roberts die waens prys.(45)

(45)OH II, 74-8. De Wet 47-9

En wat het hy in ruil gekry? Soos ons sal sien, was die dag wat hy gespaar het, vir hom van baie weinig waarde; inteendeel, as hy De Wet enkele dae by Watervaldrif kon vertraag, sou dit hom baie leed kon gespaar het. Bowendien het Roberts nie, soos sy bewonderaars later sou beweer, met die onverskrokke gees van ‘n groot generaal op die ramp gereageer nie.

Volgens getuienis voor die latere Koninklike Kommissie van ondersoek na die oorlog, getuienis wat nie weerlê is nie (hoewel die getuie miskien onsimpatiek was, moet ‘n mens byvoeg, want dit was Buller), het Roberts tydelik die kluts kwytgeraak toe hy van die konvooi se teenspoed hoor. Sy eerste reaksie was om die opmars te laat vaar, om sy kanse om Cronjé te vang, weg te gooi en om haastig na die spoorweg terug te val.(46)

(46)Buller get RCSAW III, 218. Vgl. R get RCSAW II, 463

Gelukkig vir die Engelse was daar ‘ n Engelse voorrade-offisier wat ‘n oplossing gesien het. Soos ons gesien het, het French daarin geslaag om sy transport van Kitchener weg te hou; dit was “regimentele” transport, volgens die ou manier georganiseer. Die voorradedepot van French se divisie kon die situasie red. En so het dit gebly. French se muilwaens het gedeeltelik vir die verlore ossewaens vergoed, en ander waens (sonder trekdiere) is van die Boere buitgemaak.(47)

(47)Ibid

Miskien het hierdie vernedering by Watervaldrif Roberts ‘n bietjie insig in die probleme van die nuwerwetse oorlog gegee en sy houding teenoor Buller versag. Want ná Buller se jongste terugslag – by Vaalkrans, die vorige week – het Lansdowne Roberts telegrafies volle mag gegee om Buller af te dank as Roberts dit goed ag.(48) Roberts het dit nie goed geag nie.

(48)L-R Feb 1900 (Persoonlik & Priv), Bobs 23/IV en 34

En toe lag die noodlot hom weer toe. Enkele ure ná die berig van die ramp wat die konvooie getref het, hoor hy dat French soos ‘n torpedo oor die veld op Kimberley afsnel.        

—oOo—