Ontbyt op die eiland
Modder- en Rietrivier, Kaapkolonie, 28 November – 10 Desember 1899
“(Die hotel) lê nou kalm en onskuldig. Sy oop vensters kyk uit op die glimlaggende tuin, en die donker mannetjie wat by die deur staan en deur sy teleskoop na die naderende kolonne kyk, is die minister van die dood, die gevaarlike Cronjé.”
Conan Doyele, The Great Boer War
Hoofstuk-aanhef Conan Doyle The Great Boer War (1900 uitg) 127
— — —
Hoofstuk 17
Net ‘n paar uur vroeër op daardie selfde oggend, 28 November, het die Boeregeneraals by die groepie hoë populiere wat Methuen vir Colvile aangedui het, ontbyt geëet: koffie en boerebeskuit.(1)
(1)Meintjes De la Rey 118
Dit is die sjarmante plekkie, hierdie eiland, of Mesopotamië, waar die Modder- die Rietrivier ontmoet. Vir kolonialers met heimwee is daar ‘n pragtige Engelse voorkoms aan die plek, aan die wilgers op die walle, die wilde-eende met hul smaraggroen kuiwe en die roeibootjies wat by die dam op Rosmead lê, ‘n myl stroom-af.
Dit is in werklikheid Kimberley se Henley, ‘n plek vir naweekuitstappies – die plek waar vroue en kinders by die dam piekniek hou en waar mans, Rhodes se manne, op die veranda van die Island Hotel rummy speel.(2)
(2)H. Wilson With the Flag (foto) I, 156. Ralph Towards Pretoria 255. Sien foto’s in Cuthbert Scots Guards 9, 12. EGO
Maar nou is die party verby en ‘n ander soort spel word; hier gespeel. Dit is die hotel wat Piet Cronjé en Koos de la Rey – Dela Rey, die mees gestrenge van die Boeregeneraals – tot hul strydhoofkwartier geskies het.
Tussen al die Boereleiers van die tydperk, met uitsondering van Pres. Steyn, staan De la Rey uit as moreel die kragtigste en ontoegeeflikste. Dit is hy wat in sy suiwerste vorm die felle vlam van Afrikaner-nasionalisme aan die brand sou hou. Kleinseun van ‘n Hollandse immigrant, het hy en sy familie hulle op Lichtenburg in die droë, leë vlakes van Wes-Transvaal gevestig.
Vir baie mense lyk dit asof De la Rey die beste kant van die Boere-aard verteenwoordig. Oom Koos, soos die mense hom noem, is diep godsdienstig; ‘n klein sakbybeltjie is selde uit sy hand. Sy voorkoms isook indrukwekkend. Die lang, netjies geknipte bruin baar, die groot hawiksneus en hoë voorkop, diep, gloeiende oë, al hierdie dinge gee hom reeds op 52 ‘n patriargale voorkoms.(3)
(3)SABW I 214-15. Meintjes De la Rey passim
En hy is ‘n man van gedugte stiltes. Wanneer hy wel in die Volksraad opgestaan het om te praat, het die mense onthou wat hy gesê het. En niks wat hy gesê het, sal beter onthou word as die toespraak waarin hy Kruger se oorlogsbeleid veroordeel het nie.
Soos Pres. Steyn het De la Rey tot die laaste oomblik – tereg – geglo dat ‘n oorlog vermy kan word. In die laaste Volksraaddebat, daardie September, het De la Rey hom by Joubert en die Progressiewe geskaar. Hulle moet die onderhandelinge voortsit, het hy gesê; bowenal moet hulle nie die verkeerde voet voorsit deur die kolonies aan te val nie. As daar ‘n oorlog moet wees, moet dit op hul eie gebiede geveg word.
“Die Afrikaners is van die een land na die ander gejaag, maar in al daardie lande is grafte vir Engelse soldate gegrawe. Engeland se saak is ongeregtig en die tyd sal hom tot ‘n val bring. Voor dit gebeur, het ons genoeg grond om nog Engelse soldate te begrawe. Maar … is dit nie beter om meer toegewings te maak solank … ons onafhanklik bly nie?”
Kruger se antwoord was ‘n aanklag van lafhartigheid. “Ek sal my plig doen soos die Volksraad besluit,” antwoord De la Rey kalm. Terwyl hy Kruger reguit in die oë kyk, sluit hy sy betoog af: “En u, sal my in die veld vir ons onafhanklikheid sien veg lank ná u en u party wat met u monde oorlog voer, uit die land gevlug het.”(4)
(4)Meintjes De la Rey 79-81
Ondanks die ongeëwenaarde bitterheid van hierdie woordewisseling in die Volksraad was Kruger heeltemal te verstandig om sonder De la Rey klaar te kom toe die oorlog eers uitgebreek het. Inteendeel: hy het hom as veggeneraal aangestel om genl. Piet Cronjé te help, die leier van die Transvaalse kommando’s op die westelike front, en iemand wat soos Kruger dink.
Cronjé deel Kruger se ruwe boeremaniere en sy rou moed, maar hy het nie Kruger se talente nie. Hy is kort, met ‘n swart baard, byna soos ‘n boekanier, met ‘n reputasie van roekeloosheid as naturellekommissaris (‘n amptelike kommissie het hom skuldig bevind aan ‘n aanklag dat hy naturelle gefolter het). Nie dat dit hom by die volk minder gewild gemaak het nie. Cronjé is ten slotte een van die helde van die Eerste Vryheidsoorlog, en die generaal wat Jameson by Doornkop aangekeer het.(5)
(5)Sien verdoemende getuienis in hoofsaak van Koningin van Sekoekoen v P.A. Cronjé e.a., C417/226/363
Die betrekkinge tussen De la Rey en Cronjé was spoedig gespanne. De la Rey het gehelp om die eerste houe van die oorlog te slaan en daardeur Kimberley en Mafeking afgesny. Maar hy is nòg t.g.v. Kruger se offensiewe strategie nòg van die halfhartige manier waarop dit uitgevoer word. En nou lyk dit asof die gebeurtenisse hom reg bewys het.
Kruger se offensiewe strategie is besig om te verkrummel. Methuen het Prinsloo en die Vrystaatse kommando’s by die eerste skermutseling, Belmont, opsy gevee, en ook by hul tweede, Graspan. Teen hierdie tyd het De la Rey se 700 Transvalers by Prinsloo se mag aangesluit.
Nou is daar nog net die lyn tussen die Riet- en die Modderrivier en ‘n dubbele ry heuwels tussen Methuen en Kimberley: die heuwels by Magersfontein en Spytfontein. Geen wonder Prinsloo se Vrystaters het ná die slag in verwarring gevlug nie. Selfs De la Rey se hart weifel. Sy eie manne se moraal is so verswak dat hulle “na hul plase terugstroom”.(6)
(6)Breyt I, 390-402, II, 37-8, 53-5, 466-7
Kenmerkend genoeg het die twee Presidente – Steyn en Kruger – dadelik ingegryp. Cronjé is gelas om die meeste van sy burgers aan die beleg van Mafeking te onttrek en op lewe en dood na die suide te jaag. Kruger, ou kryger wat hy is, glo dat daar maar een kans is om Methuen te keer voor hy Kimberley kan bereik: al drie groepe kommando’s – dié van Prinsloo, Cronjé en De la Rey – moet saamsmelt voor Methuen reg is om die Riet- en die Modderrivier oor te steek.(7)
(7)Breyt II, 56, 61
Nou is die drie bevelhebbers saam by die lieflike Island Hotel tussen die twee riviere. Maar daar is nog groot gevaar. As hulle verliese by Belmont en Graspan bygetel word, beloop hul gesamentlike mag maar iets oor die 3 000 skutters, byna almal berede, met slegs ses of sewe Krupp-veldkanonne en drie of vier 1-pond-Maxims. Wat kan hulle hoop om teen Methuen se 8 000 en daardie stormram van 16 kanonne te bereik?(8)
(8)Breyt II, 57-8
Saam vorm die Modder- en die Rietrivier ‘n merkwaardige sterk natuurlike verdedigingslyn. Eers die rivierwalle. Die riviere het ‘n breë skuil-loopgraaf uit di vlakte gevreet, met walle tot 30 voet hoog. Daar is ook die riviere self – diep en modderig. Noudat die burgers die spoorwegbrug opgeblaas het, is die enigste plek waar ‘n leër die rivier kan oorsteek, die ou drif langs die brug.
Daar is maar een of twee ander gebiede waar die aanvallers kan oorgaan: ‘n koppel driwwe by Bosmansdrif, vier myl na die ooste, of oor die drif langs die dam by Rosmead na die weste, twee myl onderkant die plek waar die riviere mekaar ontmoet.
In werklikheid het die Engelse nog nie een van hierdie eenvoudige geografiese feite agtergekom nie.(9) Methuen besef dit nie, maar tussen hom en Kimberley lê ‘n diep grag. Louis Botha, daar oorkant in Natal, wou die Tugelarivier in ‘n enorme sloot verander om die Engelse uit te hou. Die Modder- en die Rietrivier het De la Rey aan ‘n ewe revolusionêre verdedigingstaktiek laat dink.
(9)Ibid II, 58-62 (kaart teenoor 96). Methuen se verslag SD I, 46. Sien Meth i.v.m. die sketskaart van maj. O’Meara wat deur Methuen gebruik is. Sien ook Cuthbert 9, 12-13
Voor die slag van Graspan het De la Rey vanselfsprekend nog nooit ‘n moderne veldslag gesien nie. Dit was vir hom ‘n openbaring. Hoewel die kommando’s se verliese by Graspan en Belmont in vergelyking met dié van Methuen gering was, het hulle De la Rey diep ontstel. As Methuen berede skutters en ‘n kavallerie-brigade gehad het om ná die slag op die Boere los te laat, kon hierdie nederlae rampe geword het, dit moet De la Rey weet.
Hy kan raai waarom hulle verslaan is. Hul basiese fout was die keuse van hul verdedigingstelling. By sowel Belmont as Graspan (soos in Natal by sowel Talana as Elandslaagte) het die burgers hul toevlug tot ‘n koppie geneem. Moderne veldkanonne wat skrapnel afvuur, kan ‘n koppie in ‘n kerkhof verander.
De la Rey se plan is dus eenvoudig. Laat vaar die koppie, die tradisionele vasskopplek van die Boerevegter. Laat jou manne hulle in die modderige Riet- en Modderrivierwalle ingrawe en maak dit die begraafplaas waarin jy Methuen en sy leër begrawe. Dit is vir die burgers die beste stelling. Dit is ook die laaste plek waar Methuen sal verwag om hulle te vind.(10)
(10)Breyt II, 58-9. OH I, 243-4. Meintjes De la Rey 37, 48-52, 112-14
Halfses daardie oggend staan De la Rey in sy loopgraaf oorkant die eiland en wag, naby die verwoeste spoorwegbrug. Hy sien die tekens: die rook van ‘n trein wat noordwaarts stoom, die verskrikte dikkoppe wat opvlieg, miskien ‘n klompie springbokke – en die eerste rye berede kakiekleurige soldate wat ‘n myl anderkant die rivier oor die pers lyn van die veld beweeg.(11)
(11) Ralph Towards Pretoria 180. Weergawe van ‘n Boere-ooggetuie (sy) PV
De la Rey, soos die meeste van sy 800 Transvalers – sy eie bure uit Lichtenburg, Bloemhof en Wolmaranstad – het hulle op die suidelike wal van die Rietrivier ingegrawe. Langs hom is sy twee oudste seuns, Adriaan, pas 19, en jong Koos, 16.
Soos hulle almal, dra die generaal burgerdrag: dieselfde tweed-baadjie en slaprandhoed wat hy op die plaas gedra het. Hy dra geen wapens nie, net twee gesagsimbole, die een goddelik, die ander wêrelds: sy verslete sakbybeltjie en die klein sambok wat hy oral met hom saamneem.(12)
(12) Meintjes De la Rey 116-18, 133
Links van hom, oor twee myl van dieselfde kant van die Rietrivier, oos van sy aansluiting by die Modderrivier, lê Cronjé en die meeste van die ander Transvalers. Hulle het hul eie loopgrawe. Agter hulle is hul perde onder die skuiling van die Rietrivier se walle vasgemaak.
Nog verder, in die ander “eiland” tussen die kronkelinge van die twee riviere, skuil ander burgers in die bosse, ingeval die Engelse die Boere se oostelike flank by Bosmansdrif probeer omkeer. Na die weste, tot by Rosmeaddrif, lê Prinsloo en die Vrystaters ingegrawe. Hulle het nog nie herstel van diem okerhoue wat Methuen se roepe hulle by Belmont en Graspan toegedien het nie.(13)
(13)Breyt II, 60-1. Vgl. OH I, 247-8
Dit is nie bekend of De la Rey genoeë geneem het met die opstel van die kanonstellings nie. Cronjé het die meeste van sy veldkanonne op die Rietrivier se noordelike wal opgestel, van waar hulle De la Rey se loopgrawe dek, d.w.s. sê van sy Krupp-75-mm-veldkanonne naby die spoorweglyn in beheer van die middelste drif.
Die ander twee veldkanonne en die drie 1-pond-Maxims is oor die eiland versprei. Onder hulle is een veldkanon oorkant Bosmansdrif in die ooste. Geen enkele kanon steun Prinsloo in sy pogings om Rosmeaddrif in die weste te verdedig nie.(14) Hiermee het Cronjé ‘n fout begaan wat spoedig rampspoedige gevolge sou hê.
(14)Sienkaart Breyt II, 96
Die Britse infanterie kom maar nog ‘n paar oomblikke na die rivier aan toe De la Rey besef dat Cronjé se manne op die walle van die Rietrivier na die ooste ‘n twede, ewe ernstige fout begaan het. Hul opdrag was om hul vuur so lank as moontlik te hou. Hoe nader die infanterie aan die twee riviere kom, hoe verwoestender kan die Boerese fusillade wees, en hoe moeiliker sal Methuen dit vind om sy manne te red.Maar vir onopgeleide troepe is hierdie soort selfbeheersing berug moeilik.
Die lyn Kakies naaste aan die hoek van die Rietrivier – in werklikheid die 1ste Scots Guards, wat na daardie klompie hoë populierbome op pad was – is minstens 1 000 tree, en miskien nader aan 1 200 tree van die Boere-loopgrawe toe Cronjé se manne hul senuwees verloor en begin skiet. Natuurlik gooi die Kakies hulself op die grond neer. In daardie ellendige fusillade het die burgers die moontlikheid van ‘n beslissende oorwinning verloor.(15)
(15)Breyt II, 93-5, 248-9. Luidens een verslag het Cronjé die manne bneveel om eers te vuur sodra die Engelse 100 tree weg was, maar hulle het op 400 tree gevuur. Sien Narrative of a Boer in PRAI XXIX/7
Nou gaan dit hou teen hou wees, ‘n eindelose stryd tussen krygers, met verskillende wapens, en tog min of meer gelyk – die rammelende haelstorm van Mauser-vuur teen die donderstorm van 15-ponders.
Hoe kan ons ‘n soldaat se siening van daardie tien uur lange tweegeveg weergee?
Aan Britse kant is daar geen gebrek aan stof om die toneel te rekonstrueer nie. Aan sy vrou skryf Methuen: “Ek dog die vyand is weg, soos almal, terwyl Kronje, De la Ray (sic) en 9 000 man in ‘n aaklige posisie vir my lê en wag het. Ek het nooit ‘n enkele Boer gesien nie, maar selfs op 2 000 tree op my perd, was daar ‘n koeëlreën om my. Dit het gelyk soos Dante se inferno waaruit ons gehoop het om eendag te ontsnap.(16)
(16)Methuen-vrou 1 Des 1899, Meth
Soos Symons by Talana, lei Methuen nou ‘n aantal Hooglanders in ‘n stormloop na die rivier. Anders as Symons tree hy ongedeerd uit hierdie waaghalsige aanslag. Die stormloop bereik niks.(17) Albei sy brigades – die Garde-brigade onder genl.-maj. Colvile oos van die spoor en die 9de Brigade onder genl.-maj. Reggie Pole-Carew wes daarvan – is deur ‘n vuur van onsigbare Mausers en ‘n klompie Martini-Henrys vasgepen.(18)
(17)Dunn-Pattison Argyll & Sutherland
(18)Colvile 10-11. Hall Coldstream Guards 53-8
“As jy ‘n vriend vir ‘n bietjie water vra,” skryf Ralph,” sien jy die bottel, of die hand wat dit aangee, deur ‘n dum-dum deurboor … of as hy sy kop oplig van pyn, voel hy hoe sy help weggeskiet word.(19) Tien uur lank lê die soldate plat op hul gesigte, honger en dors, terwyl miere aan hulle byt, in ‘n temperatuur van tot 90° F in die skaduwee (in ‘n son wat die bene van die gerokte Hooglanders skroei).
(19)RalphTowards Pretoria 184
Die manne se watersug word so groot dat ‘n hele aantal teen bevele in na die waterkarre probeer terugkruip. Verskeie sterf hiervoor. Blote uitputting – en verveling – laat ander op die plek waar hulle lê, aan die slaap raak.(20)
(20)Colvile 10-11. Kinnear Methuen 108-33. TH II, 352. Kapt. Chandos-Pole dagboek 28 Nov 1899, PV. Luit. Lang-moeder Nov 1899, (sy) PV. Kapt. E.M. Pakenham-Ly Longford 30 Nov 1899, PV. Kapt. G. Trotter-moeder 30 Nov 1899, Trot
So lyk die slag deur Britse oë: ‘n tien uur lange fusillade in hul gelsigte van ‘n vyand wat hulle nooit kon sien nie. “Pom-pom-pom-pom” knetter die boere se geniepsige 1-pond-Maxim, wat koeëls soos ‘n brandslang oor die sand spoeg. Die naam sou inslaan.(21)
(21)Colvile 8-10. <etjiem-vrou 1 Des 1899, MS sit. Kinnear Methuen 103-33 (noem dit “plom, plom”)
Daarteenoor is daar die klank van etlike duisende Mausers wat gelyktydig vuur, “soos die aanhoudende gesputter van vet in ‘n pan,” skryf Julian Ralph, “soos die geskeur van die lug, die uitmekaartrek van een of ander deel van die natuur … die braaksel van die hel.”(22)
(22)Ralph Towards Pretoria 182-3
En die “skeur van die lug”, uit De la Rey se oë? Een van Cronjé se Engelssprekende burgers, wat sowat vier myl rivier-op van De la Rey gelê het, sou later in sy dagborek skryf:
“Daar is ‘n kreet, “daar kom die Engelse” … toe boem-boem twee kanonkoeëls wat omtrent veertig tree bo ons op die wal ontplof. Ek dink by myself, O Here, nou is dit klaarpraat. … Nou moet ons die een of ander soort skuiling soek, maar daar is nie veel daarvan nie.Elkeen sorg vir homself, daar is geen orde of dissipline nie. …
“Die Maxims hou ons roerloos hier vasgepen, en ál langs die rivier, tot by die stasie, is daar ‘n aanhoudende geknal en geknetter. Artillerie en kleingeweervuur van albei kante. Die hel is losgelaat. Ek kon my nooit voorstel, hoe dit is nie. … Twee uur lank lê ek op my maag en hou myself so klein as moontlik. …”(23)
(23)Verslag van Boere-ooggetuie, (sy) PV. Sien ook Narrative of a Boer PRAI tap. Sien ook Boere-korrespondent se verslag (Laffan’s Agency) aangehaal Daily Telegraph Jan 1900
De la Rey self het nooit sulke grafiese taal in sy briewe of rapporte gebruik nie. Dit was nie in sy aard nie. Maar kleur was daar in die oorlog genoeg, van sy kant van die vuurlinie gesien; en afsku. De la Rey sou binne ‘n tree van die dood kom en, soos ons sal sien, ‘n verpletterende persoonlike verlies ly.
Ondanks die flater wat Cronjé se manne begaan het deur te vroeg te begin skiet, lyk dit asof die voordeel aanvanklik aan Boere-kant lê. Deur hul verkykers kan die boere sien hoe ‘n ramp die twee voorste kompanies van die Scots Guards oorweldig,met ‘n enkele masjiengeweer wat deur die Pom-Pom vernietig word.(24)
(24)Methuen se berig SD I, 46. Hall Coldstream 54…
‘n Angstige tydjie lê voor en De la Rey pak die skuld op Cronjé dat hy so min doen om met die bedreiging af te reken. Onder vuur beweeg die Coldstreams al langs die begroeide rivierval na die ooste. Enkeles waad oor die rivier na die eiland, maar dit is nie die regte drif nie (hulle het geen kaart wat Bosmansdrif aandui nie). Dolvile beveel hulle om terug te val.(25)
(25)Colvile 7-8. OH I, 249-51
Daarna gee die Guards die Boere baie min rede tot kommer. Dit is die Britse artillerie wat die inisiatief neem. Die 18de en die 75ste Battery se twaalf 15-ponders vuur oor die koppe van die lêende Guards. Ook die vier 12-ponders van die Vloot-brigade, wat deur ‘n pantsertrein na die slagveld gebring is, gee die Boere opdraand. “Battery kolom seksies, links swenk! Aksie voor.”
De la Rey kan die skril krete van die Britse kanonniers nie hoor nie, maar hy sien hul uitwerking: eers die 12 veldkanonne wat volgens die Aldershot-voorskrif in posisie gebring word, dan die reëlmatige flitspatroon, tot vier skote per minuut, soos die rooklose kanonkoeëls die trompe verlaat en die reëlmatige stofpatroon van die skoot.(26)
(26)OH I, 251-2
Aan die Boere-kant is daar ‘n merkwaardige improvisasie. Daar is gesê dat die Boere ter wille van hul eie skutters en artillerie die vorige dag wit merktekens op afgemete afstande ál langs dies spoorweg geplant het.(27) Die Vrystaatse artilleriebevelvoerder, ‘n oud-onderoffisier van die Pruisiese weermag, maj. Albrecht, het ‘n reeks onkonvensionele kanonstellings laat uitgrawe.
(27)H.R. Kelham se verslag, Kel
Hoewel die Engelse drie maal meer kanonne het, koes maj. Albrecht se Krupp-veldkanonne die hele dag tussen die skanse heen en weer. Sy artillelrie-perde ly swaar verliese, maar die Engelse kan nie ‘n enkele ZAR-kanon buite aksie stel nie. Uit hul skuilings saai Albrecht se kanonniers verwoesting onder hul Engelse teenhangers, wat sonder die beskerming van sandsakke of rotse op die kaal rotse staan.(28)
(28)Breyt II, 61, 74, 78. OH I, 251. Sien onderhoud met Albrecht aangehaal G. Trotter-moeder 4 Mrt 1900 Trot 110
Intussen het die manne regs van De la Rey – Prinsloo en die Vrystaatse kommando’s, wat hulle by die rivierdorpie Rosmead, ‘n myl wes van die spoorweg, ingegrawe het – ontstellende verslae aan De la Rey gestuur. Cronjé het nie genoeg manne daar geplaas om Rosmeaddrif te bewaak nie. Nòg het hy genoeg kanonne daarheen gestuur òf die plek later versterk. Nou word die tol geëis.
Oorkant die drif lê ‘n gedeelte van die 9de Brigade, dié van Pole-Carew. Hulle, soos die Guards, was sowat drie uur in die veld vasgepen. Kort ná elf begin hulle in kort stormlope vorentoe kruip. Prinsloo se manne kan hulle nie hou nie. Op hierdie plek bied ‘n vou in die veld die aanvallers meer beskerming.
‘n Klompie van die verdedigers het in ‘n plaashuis gaan skuil, ‘n volmaakte teiken vir die veldkanonne. Bowendien is hulle Vrystaters, wie se moreel nog ly onder die skermutseling by Belmont en Graspan. Teen die middag sien De la Rey dat hierdie ellendige Vrystaters na die noordwal teruggevlug het. Die Engelse gebruik die plaas as ‘n sterktepunt om hul opmars te beskerm, en sit die Boere agterna.(29)
(29)Breyt II, 75-6 m.i.v. aanhalings uit Van den Heever Hertzog 97-9. OH I, 252-4/ TH II, 353
Hierdie Engelse is in werklikheid Kekewich se manne, die halwe bataljon North Lancashires wat hy in Kaapstad agtergelaat het toe hy die ander helfte saam met hom na Kimberley geneem het. Nou verwerf hulle roem deur die drif die eerste oor te steek. Hulle gly en sukkel oor die gladde rivierklippe en val tot by die middellyf in die rotspoele. Ander manne van verskillende eenhede – soos die Argyll en Sutherland Highlanders – volg op hul hakke. ‘n Klompie soldate sukkel in ‘n ry oor die damwal, net bo die drief.(30)
(30)Methuen se berig SD I, 46. Luit. Lang-moeder Des 1899 (sy) PV. OH I, 254-6/ TH II, 355-6
Teen eenuur het die Engelse hulself op die noordelike wal ingegrawe en die Vrystaters uit Rosmead verdryf. Spoedig word hulle gedek deur vier kanonne van die 62ste Battery, wie se kanonniers maar die vorige dag van die Oranjerivier weg is en daardie hele oggend hard gery het. (Ses dooie perde moes uit hul tuie losgesny word.) Onder leiding van Pole-Carew begin die engelse nou deur die turksvyheining na ‘n tweede vakansiehotel agter die Boere se sentrale posisie beweeg.(31)
(31)Ibid
Wat het Cronjé gedoen om met hierdie ontstellende bedreiging af te reken? “Niks,” sou De la Rey later bitter sê.(32) Dit was De la Rey wat die teenaanval moes lanseer. Nadat hy die rivier oorgesteek het, stuur hy die manne van die Lichtenburgse kommando, wat as reserwe op die noordelike wal gelaat is, weswaarts om Pole-Carew se opmars te stuit. Mert hul geweervuur dek hulle maj. Albrecht se kanonniers by die Krupp-kanonne.
(32)De la Rey-Steyn no 22 Nov 29 1899, Ley 71 aangehaal Breyt II, 468-9/ De la Rey se memoirs aangehaal Breyt II, 80-2. Meintjes De la Rey 120-1. OH I, 257
Hulle pen die North Lancashires en Argylls vas wat deur die riete en bossies op die rivierwal vorentoe kruip. Hulle dryf Pole-Carew se manne na Rosmead terug. Hierin word hulle bygestaan deur ‘n stortreën Britse skrapnelkoeëls wat per ongeluk van die Engelse veldkanonne oorkant die rivier op Pole-Carew se manne afgeskiet is. Hierna verdedig De la Rey se burgers hul loopgrawe tot die donker die gevegte beëindig.(33)
(33) Ibid
Kort tevore is De la Rey se oudste seun, Adriaan, ernstig gewond. Hy was al die hele dag aan sy pa se sy terwyl De la Rey op en af langs die verspreide loopgrawe beweeg, die burgers uitskel, aanspoor, met sy klein sambokkie na hulle slaan. ‘n Kanonkoeëlskerf het De la Rey self lig in die regterskouer gewond. Adriaan het sonder ‘n skrapie ontkom.
Toe, in die laaste uur van die geveg, land ‘n bom op ‘n loopgraaf enkele treë agter De la Rey. Toe die stof wegtrek, sien De la Rey dat Adriaan in die maag gewond is. Hy word gedwing om hom op ‘n veilige plek te laat tot ‘n ambulans gevind kan word. Daar is nie ‘n ambulans nie. In die donker wikkel De la Rey se staf Adriaan in ‘n kombers toe. Daarna begin hulle hom na Jacobsdal, die Boere se basishospitaal, dra. Dit is nege myl ver.(34)
34) Meintjes tap
Toe hulle omstreeks agtuur daardie aand in die pad stap, kom hulle af op Cronjé, wie se manne aan die vlug is. De la Rey sou die bittere woordewisseling later aanteken: Cronjé: “Hoe het dit met die slag gegaan?” De la Rey:”Waarom het jy ons in die steek gelaat? Ons het jou die hele dag glad nie gesien nie.”(35)
(35)De la Rey se memoirs tap
De la Rey se geselskap bereik Jacobsdal kort na sonop. ‘n Uur later sterf Adriaan in sy vader se arms.(36)
(36) Ibid. Meintjes tap
Intussen het De la Rey ‘n besluit geneem wat vir hom feitlik ewe pynlik is as die verlies van sy seun. Hoe moet die Boere hulp greep op die lyn van die Riet- en die Modderrivier handhaaf? Cronjé, Prinsloo en die Vrystaters het hulle verraai. Het die Vrystaters op die westelike flank pal gestaan, su Methuen gedwing gewees het om tot by die Oranjerivier terug te val, glo hy.
Daar is nie genoeg water in die sanderige veld duskant die Oranje nie. Maar die Vrystaters het gevlug. Nou sal Methuen dit redelik eenvoudig vind om Pole-Carew se brughoof op die noordelike wal te versterk. De la Rey moet dus aanvaar dat ook sy eie manne hulle aan die Riet- en die Modderririver sal moet onttrek.(37)
(37)Breyt II, 90
Die maan kom daardie aand omstreeks tienuur op. Dit is ‘n helder, koue nag. Aan weerskante van die rivierwal beweeg fakkels in vreemde, rukkerige patrone. Dit is manne wat die dooies en gewondes optel: 460 ongevalle aan die Engelse kant, ongeveer 80 aan Boere-kant. Oorkant Rosmead staan Britse versterkings in die donker tou en plas dan oor die rivier om by Pole-Carew aan te sluit. Hulle word deur die eerste van die Guards gevolg.(38)
(38)Breyt II, 87-9
Methuen se hoofstafoffisier, ‘n persoonlike vriend, lê dodelik gewond in die veldhospitaal. Methuen lê naby hom. Net ‘n paar uur voor die einde van die aksie het ‘n koeël die vlesige gedeelte van sy dy deurboor; die wond is gering maar pynlik. Daar word besluit dat albei brigades opnuut tot die aanval sal toetree sodra dit lig word. Daardie hele nag lê Methuen in die hospitaal en rondrol.(39)
(39)Methuen-vrou 1 Des 1900, Meth. Colvile 11-13. OH I, 159-60
Teen dagbreek begin die vlootkanonne met ‘n nuwe bombardement. Daar is geen antwoord nie. Toe die Britse infanterie De la Rey se stelling bereik, is dit verlate. Daar is spore van ‘n maal wat in die hotel geëet is, asook ‘n paar leë gin-bottels.
Buite is die loopgrawe kniediep in patroondoppies en in die rivier dryf lyke (miskien dié van toesouers wat in die bombardement vasgevang is). Die Boere self het na die noorde en die ooste teruggeval. Nou is daar net die Spytfonteinrant, tien myl na die noorde, violet teen die lug – die laaste natuurlike verdedigingstelling duskant Kimberley.(40)
(40)Ralp Towards Pretoria 192-3. TH II, 358-9
Die dood van De la Rey se seun het een onmiddellike gevolg gehad. Deurdat De la Rey by Jacobsdal moes bly om hom te begrawe, het hy die dag ná die slag die krygsraadvergadering misgeloop.(41) Hy maak hewig beswaar toe hy Cronjé en Prinsloo se besluit hoor.
(41)De la Rey se memoirs tap
In sy afwesigheid het hulle besluit om die burgers 10 myl na Spytfontein te laat terugval en om hulle nie, ses myl agtertoe, by Magersfontein in te grawe nie. Hoe moet hierdie besluit ter syde gestel word? De la Rey telegrafeer oor Cronjé se kop na Pres. Steyn en Steyn gee die boodskap aan Kruger deur, wat Steyn vra om in eie persoon na die front te gaan en sake reg te stel.(42)
(42)Breyt II, 468-70
In werklikheid is albei Presidente in dié stadium reeds diep ontsteld deur klagtes oor die gedrag van die Vrystaatse burgers by die slag van Graspan en Modderrivier. Prinsloo, hul eie kommandant, het gekla: “Ek was oortuig dat die oorwinning aan ons behoort … maar ná hul vlug was daar niks wat ons kon doen nie.”(43)
(43)Prinsloo no 60 29 Nov 1899, hierbo aangehaal
Kruger draai in sy antwoord nie doekies om nie. Die burgers was lafhartig om te vlug. Offisiere en manskappe moet hul plig leer doen. Hy dring by Steyn daarop aan om self na die front te gaan, “want dit is die finale oomblik van beslissing of ons ons land moet oorgee”. Hy voeg by: “Broer, my ouderdom laat my nie toe nie en my oë is pynlik, anders was ek ook daar.”(44)
(44)Kruger-Steyn no 1 30 Nov 1899, Ley 711, Breyt II, 91
Steyn ry haastig uit Bloemfontein weg en bereik die front ses dae ná die slag van Modderrivier (of Tweeriviere, soos party Boere dit noem, na die plaas op die eiland). Kruger het hom ‘n lang telegram gegee wat hy aan die burgers gerig het. Steyn ry na elke laer – ‘n lang, kaalkop-figuur met ‘n rooi baard – en lees die ou President se eenvoudige woorde aan hulle voor:
“Die Here het gewys dat Hy met ons is. Die vyand het honderde verloor en ons maar ‘n paar man. … Dit moet ons nou besluit: moet ons die land oorgee? As ons ingee, wat kan dan van ons mede-Afrikaners in Natel en in die Kaapkolonie word, hulle wat hulle by ons aangesluit het? Nee, nee, al verloor ons byna die helfte van ons manne, ons moet nog tot by die dood veg, in die naam van die Here.”
(45)Ibid
Die volgende dag berig Steyn aan Kruger dat die burgers vol moed is. Daarna belê hy ‘n tweede krygsraad. Hier stel De la Rey die saak teen die versterking van Spytfontein aan die generaals. Hulle moet ‘n waaghalsiger taktiek probeer. En hy oorreed hulle almal om sy eie plan te aanvaar.(46)
(46)Steyn-Kruger no 7 30 Nov 1899, Ley 711,. Breyt II, 96
Alles wat by Tweeriviere gebeur het, bevestig sy vroeëre opvatting oor strategie. Die plek om die Britse infanterie in te wag, is die vlakte, nie die koppie nie – die vlakte op die rand van die eerste lyn koppies tussen Modderrivier en Kimberley. Dit is die koppies wat deur Magersfontein oorheers word, nie die tweede lyn wat, na die ooste, in Spytfontein uitloop nie.
Die meeste van die argumente wat die ingrawing by Modderrivier gegeld het, geld Magersfontein eweseer. Hulle sal veiliger teen die kanonne wees. Hulle sal die Engelse kan verras. As die ergste gebeur, sal hulle nog steeds ‘n tweede verdedigingslinie hê – Spytfontein – voor hulle die beleg van Kimberley laat vaar.(47)
(47)De la Rey memoirs tap. Breyt II, 96-0, 100-2
Maar hoe kan hulle verdere debakels soos die vlug van die Vrystaters voorkom? Baie van hierdie burgers sit nou sonder perde. Plaas hulle dan in die middel van die verdedigingswerke. Hulle sal beter veg, besluit De la Rey grimmig, as hulle nie kan vlug nie. Plaas die berede burgers waar beweeglikheid noodsaaklik is – op die flanke.(48)
(48)Breyt II, 97-8
Die gesamentlike Boereleërs, nou verder versterk deur die grootste gedeelte van Cronjé se mag, wat uit Mafeking aangekom het, tel nou ongeveer 8 200 burgers, van wie 6 000 berede is.(49) Daar is die kampvolgers en opgekommandeerde swart arbeiders. Hierdie arbeiders word nou in die werk gesteek. Hulle moet ‘n twaalf myl lange verdedigingslinie onder die skaduwee van Magersfontein grawe.
(49)Breyt II
Dit is swaar werk. Langs die Modderrivier was die grond so sag en swart soos sjokoladekoek; hier is dit rooi en klipperig. Geleidelik neem die verskanings vorm aan; en niemand het nog ooit so iets gesien nie. Twaalf myl ver volg die een borshoë klipstapel of grondhoop op die ander.
Die hoofloopgraag self strek sowat 1 00 treë ál langs die voet van Magersfonteinrant. Dit is drie tot vyf voet diep, en maar drie voet breed. Dit bied ‘n veel beter beskerming as enige vergelykbare Britse loopgraaf van die tydperk.(50)
(50)Meegedeel deur mej. F. Barbour. Beskrywing van loopgraaf in Feb 1900: sien G. Trotter-moeder 20 Feb 1900, Trot en Percy Clive dagboek Feb 1900 (sy) PV. EGO in 1972 en 1977
Die waagmoed van De la Rey se plan lê nie alleen in die omvang en oorspronklikheid van sy tuisgemaakte vestingwerke nie. Soos Botha se verdedigingslinie in Natal, is hulle gekamoefleer met die bedrewenheid van ‘n man wat ‘n vanggat vir ‘n olifant grawe. Al langs die lyn het De la Rey gras en doringtakke voor die loopgrawe laat gooi.
Ná ses dae is die taak klaar. Methuen se verkenners kom binne ‘n myl van die loopgrawe voor hulle deur Mauser-vuur verdryf word. Hulle tuur deur hul verkykers na die vlakte sonder die geringste vermoede dat ‘n lokval vir hulle gestel is.(51)
(51)Breyt II, 10./ OH I, 305-8. TH II, 384-8
—oOo—