‘n Halfmorg bloed
Spioenkop, Natal, 24 – 5 Januarie 1900
“Toe stryk ons deur die Tugela, tot by ons borste, om oor te kom sien, en ons klim daardie heuwel uit – genugtig, dit was ‘n klim – jy’t so ver opgeklim en dan kom jy by ‘n groot plat rots en dan moet jy heelpad omgaan … en vieslik warm … en daar lê ons na mekaar en skiet, ons en die Boere – die Boere was al die tyd bo ons, sien … hulle het ons in ‘n strik laat loop … ek kon nie orals sien nie maar ek kon kêrels hoor skree jy weet, kêrels wat dit gekry het en so …”
Manskap Joe Packer, 2nd Middlesex, se beskrywing van die Slag van Spioenkop aan die skrywer, Junie 1970
Hoofstuk-aanhef Buller-vrou 23 Jan 1900, Bull (Crediton)
.— — —
Hoofstuk 25
Die Boere-buitepos – omtrent ‘n dosyn manne uit Vryheid se kommando – het holderstebolder aan die ander kant van die kop afgevlug en ‘n paar van hulle bereik Botha se tent, ‘n myl en ‘n kwart verder noord, voor dit heeltemal lig is. Hulle is uitasem en verward, en hulle het hul stewels kwyt geraak, Botha sit kalm in sy tent. Net ‘n kers brand voor hom. Die nuus laat hom nie terugdeins nie. Die Kakies het die kop gevat. Wel, die burgers moet dit terugvat. So veenvoudig is dit.(1)
(1)Barnard 94-5. Du Cane War ;in South Africa II, 167. Sandberg 257, 266. Standard & Diggers” News 29 Jan 1900. (Let wel: Botha se woorde is nie opgeneem nie)
Intussen het ander vlugtelinge van Vryheid se kommando, asook ‘n paar Duitse vrywilligers, genl. Schalk Burger se laer bereik, ongeveer twee myl verder, agter Spioenkop se oostelike kruin.(2) In naam is Schalk Burger Botha se meerdere, en Joubert is tweede in bevel.
(2)Ibid 95. Vgl. OH II, 383-4
In werklikheid is hy en Botha gesamentlik in bevel van hierdie sektor van die linie; en dit is Botha, verreweg die sterkste karakter, wat oor die planne besluit. Dié word nou saam deur die twee leiers opgestel. Die belangrikste is spoed.
Mits die Engelse nie grofgeskut tot by die kruin van die kop kan opsleep nie, is die situasie gevaarlik, maar nie desperaat nie. Die vuur van hul eie grofgeskut kan soos die speke van ‘n wiel op die naaf van Spioenkop toegespits word: van regs, aan die noordelike kant van die Tabanyama-plato, d.w.s. van die swaar kanonne wat aan die suidekant van dieselfde rif teenoor Warren se linies opgestel is; van Botha se hofkwartier op ‘n hoogtetjie in die middel; van Drielingkoppe in die ooste.
Hierdie kanoninstellings lê almal binne twee myl, en hoewel almal ook etlike honderde voete laer as die kruin van die kop lê, sal hulle dit wel effektief kan beheer. Nader aan die kruin, al langs dieselfde wielspeke, is volmaakte stellings vir skutters: op Green Hill, Tabanyama se kneukelbeen, ‘ n myl van Spioenkop se westelike hange oor die groot kloof wat die hoofpad van Trichardtsdrif na Ladysmith beheer.
En op Spioenkop self is daar drie uitmuntende stellings wat nog nie deur die Engelse bereik is nie: op Conical Hill, 800 tree noord van die Britse stelling, en slegs 100 voet laer; op ‘n hoogtetjie, begroei met aalwyne, 400 tree na die ooste; en op die naaste van Drielingkoppe – ‘n myl ver maar nog binne langafstand-geweervuur. Dit is die geleenthede. As die burgers, wat oor 10 myl van die Tugela se vestingwerke versprei is, hulle maar net betyds kan gryp.(3)
(3)Barnard 95-6, (kaart) 88-9/ Breyt III, 236. OH Kaart Deel II, 20 ens.
Botha stuur adjudante te perd na sy artillerie-bevelhebbers met bevele om met die drie Krupp-veldkanonne en twee pom-poms op ‘n kort afstand uit drie rigtings los te brand. Hy beveel ook die kanonniers van twee Creusots noordwes van Warren se linie, wat die pad na Acton Homes bewaak, om op ‘ n afstand van sowat drie myl steunvuur te bied.
Dit is onmoontlik om die Engelse van ‘n veilige afstand af met vyf veldkanonne en twee pom-poms van die koppie af te vee. As hulle maar, soos die Engelse, 58 swaar kanonne gehad het. Of as Joubert nie voor die oorlog nagelaat het om die ekstra kanonne van Creusot betyds te bestel nie. Om die Engelse van die kop af te verjaag, sal die burgers dit moet stormloop.(4)
(4)nderhoud met Botha Standard & Diggers’ News 3 Mrt 1900. Verslag van Ram & Thomson 703-4 (Leyds 279 III) sit. Barnard 183
En dit verg die soort heldemoed van die manne wat Platrand drie weke tevore stormgeloop het. Hoeveel burgers het nog daardie soort moed oor? Botha het daardie heldhaftige groepie op Platrand met oorweldigende bitterheid dopgehou; van die 4 000 man wat beveel is om die koppie storm te loop, het maar ‘n paar honderd gehoorsaam.(5)
(5)Ibid 76
Sal dieselfde nou op Spioenkop gebeur: lafaards wat anderkant die vuurlyn tussen rotse en hul makkers aan hul lot oorlaat?
Ten minste een van die Boereleiers, die 38-jarige Hendrik Prinsloo, kommandant van die Carolina-kommando, laat nie op hom wag nie. Sy manne se laer is maar ‘n paar myl oos. Voor die mis weggetrek het, ry die Carolina-kommando na Botha se kant van die kop. “Burgers,” sê Prinsloo aan die manne wat om hom saamdrom, “ons gaan nou die vyand aanval en ons sal nie almal terugkom nie. Doen julle plig en vertrou op die Here.”(6)
(6)Grobler Die Carollina Commando ens. Aangehaal Barnard 96
Toe begin die Carolina-burgers, skaars 90 van hulle, deur die newels by die hellings opklim, in die rigting van die twee koppies –Conical Hill en Aloe Knoll – soos jagters wat ‘n bok bekruip.(7)
(7)Barnard 96
Botha het al die versterkings wat hy uit die res van die linie kon spaar, opgeroep: ‘n klompie Pretorianers en Krugersdorpers wat Tabanyama teen Warren bewaak, ‘n klompie manne uit die kommando’s van Standerton en Ermelo, en Johannesburgers wat die Brakfontein-Vaalkrans-rant teen Lyttelton en Buller beskerm.
Botha het minder as duisend man uit sy mag van 4 000 opgeroep.(8) Maar sal hulle gehoorsaam? En kan die Carolina-kommando intussen alleen uithou? As die Engelse kragdadig na Conical Hill en Aloe Knoll opruk, sal die hele Spienkop weldra aan hulle behoort.
(8)Vlgs. Botha was daar nooit meer as 350 op die koppie self nie. Sien Barnard 97 en 84
‘n Mens kan jou Botha se private gevoelens op hierdie oomblik voorstel. Soos Buller lyk hy in die middel van ‘n geveg heeltemal kalm. En ‘n imposante figuur daarby, met sy netjiese baard en snor, sy bruin pak en blink rystewels, sy geweer, met die motto van die Republiek daarop, oor sy skouer van sy agterryer.(9)
(9)Sien Barnard foto’s 1, 8
Maar Botha het die afgelope ses weke uiters deprimerend gevind. Hy glo hartstogtelik dat die Republiek ‘n offensiewe strategie teen die Engelse moet inneem. Byna ‘n maand nou al – van die slag van Colenso tot die aanval op Platrand – moes hy kyk hoe sy manne die urie langs die Tugela verspeel (met baai, forelle vang, aanslae op die vlieë wat op alles gaan sit)(10), terwyl hulle die oorlog aan Buller oorlaat.
(10)Barnard 74-5
Daarna het Botha sy hoop gevestig op die poging om Ladysmith via Platrand in te neem, hoewel hy persoonlik nie toegelaat is om daaraan deel te neem nie. Die mislukking van die aanval, a.g.v. Joubert en Schalk Burger se knoeiery, het hom alle hoop laat vaar om die inisiatief van Buller terug te kry.
Van toe af, met Roberts en Kitchener reeds in Kaapstad en Buller deur Warren se divisie versterk, is hy gedwing om terug te val op die sperstrategie wat hy verag.(11) Om alles te kroon, is daar sprake dat hy miskien sy bevel aan genl. Lucas Meyer sal moet teruggee.(12)
(11)Ibid 75-6
(12)Ibid 77
Botha het sy bevel behou, maar die afgelope 10 dae was ‘n veel erger beproewing as Colenso. Hy moes Buller se tweede aanval voorspel en afslaan. ‘n Nuwe aanslag op Colenso, hierdie keer in die nag? ‘n Wye flankbeweging via Acton Homes? ‘n Aanval oor een of meer van die dosyn driwwe al langs die 25 myl rivier daartussen?
Buller se maneuvers, wat vir sy kritici suid van die rivir so lomp l yk, so kinderagtig klaarblyklik in hul oormerke, is vir Botha, briljantste van die Boereleiers, allesbehalwe duidelik. Dit was dus waar dat, soos Buller geglo het, Warren heel moontlik op 17 Januarie daarin sou geslaag het om deur Tabanyama (die Rangeworthy-heuwels) te breek as hy vinnig en hard kon slaan.
In werklikheid het Botha en sy staf hulself uitgeput met herhaalde maneuvers: hulle moes vorentoe en agtertoe galop om bresse in die linies toe te maak, swaar kanonne teen heuwels opsleep en weer afsleep, die manne aanspoor, telegramme na Pretoria stuur, weer ‘n beroep op die manne doen. Botha is so uitgeput dat hy soms aan die slaap val terwyl hy sy verslae aan Pretoria dikteer.(13)
(13)Sandberg 272-3
En tog, op hierdie deurslaggewende oomblik, vind Botha nuwe reserwes, morele en fisieke krag. Hy sien sy kans en gryp dit.
Omstreeks agtuur op 24 Januarie rol die newels van die pieke weg, dit is die voorloper van ‘n wolklose, warm oggend. Botha self het maar ‘n droë relaat van die slag nagelaat.(14) Dit was die 17-jarige Deneys Reitz, as lid van die Pretoriase kommando, wat daardie ontsettende dag byna te grafies sou beskryf.
(14)Botha tel 46 25 Jan 1900, Ley 75 (f). Botha se onderhoud in Standard & Diggers’ News 3 Mrt 1900
Reitz het twee dae tevore van ‘n besoek aan Pretoria teruggekeer. Sy vader, F.W. Reitz, oud-president van die Vrystaat en nou die ZAR se Staatsekretaris, het hom aangesê om onmiddellik die trein terug Natal toe te haal, aangesien Buller se nuwe aanval elke uur verwag word.
Reitz het maar ‘n dag verlof gehad, maar hy het teruggekom. Hy het Ladysmith op die 22ste bereik en was onder die 50 man van die Pretoriase kommando wat aangebied het om Botha se manne by die Tugela by te staan.(15)
(15)Reitz 69 (datum verkeerdelik as “23ste” verstrek)
Daardie hele dag het hy gesien hoe Warren die Tabanyama-rif wes van Spioenkop bombardeer. Hy kon die flitse van die Engelse kanonne op die beboste hange oorkant die rivier sien en die wolkies skrapnel wat in die lug hang. Hierdie soort bombardement is vir die kommando’s, hoe versprei ook al, ‘ n nuwe ontbering. Daar was geen tyd om die linies behoorlik te versterk deur die diep, boomdigte loopgrawe te bou wat hulle by Colenso ‘n byna bloedlose oorwinning besorg het nie. Die manne moes haastig hul eie slote grawe, of agter rotse skuil.
Reitz self sien hoe verskeie Boere ontsettend vermink word. Twee van hulle is ‘n vader en seun van die Frankfortse kommando, wat deur ‘n houwitser-koeël verbrysel word terwyl hul gewere teen die helling agter hulle aftol. Naas die bombardement en die aaklige ongevalle wat dit veroorsaak, is daar die aanhoudende spanning van die onsekerheid: wanneer gaan die Britse infanterie Tabanyama aanval? Die Boere het min ammunisie en die vyand se getalsoorwig is oorweldigend. Daar word aanvaar dat die bombardement ‘n voorspel tot Warren se uiterse poging in dié rigting is.(16)
(16)Ibid 69-72
Gedurende die nag word Reitz deur die gesputter van geweervuur op Spioenkop gewek. Hy kan nie uitmaak wat aan die gang is nie. Teen dagbreek begin die Engelse die Tabanyama-heuwel nogmaals moker. Reitz skuil agter ‘n wa teen verdwaalde koeëls en drink sy koffie.
Toe bring ‘n ruiter die bevel: Kakies op Spioenkop. Hulle moet dit gaan terug vat. Nou. Die agterryers saal die perde op terwyl Reitz en sy vriende bandeliers uit ‘n kis op die wa volmaak. Met Engelse kanonkoeëls bo hulle in die lug galop hulle weg en bereik die noordelike voet van Spioenkop binne ‘n kwartier. Honderde opgesaalde perde staan in lang rye en wag. En bo hulle is die besielende skouspel, een van die merkwaardigstes van die hele oorlog.(17)
(17) Ibid 72-3
Botha se teenaanval het begin. Drie- of vierhonderd man – meestal manne van die kommando’s van Carolina en Pretoria – skarrel by die grashellings op. Hoewel Spioenkop steil is, is dit aan hierdie noordelike kant baie laer en manne wat alleen geweers en bandeliers dra, vind die vordering nie alte moeilik nie.
Maar bo sit die Engelse. Baie burgers word deur onsigbare skutters neergeknal. Ander bereik die kruin en Reitz sien hoe Kakies skielik van agter die rotse opstaan om hulle in te wag. Daar is verwarring. Toe stroom die worstelende figure oor die kruin van die plato en verdwyn. Reitz klim af, maar sy perd by die ander vas en begin die helling opkruip om sy kamerade te gaan soek.(18)
(18)Ibid 73. Sandberg 266
Hy vind hulle die hele pad teen die helling op: John Malherbe met ‘n koeël tussen sy oë; sy eie tent-gesel, Robert Reinecke, deur die kop geskiet; De Villiers dood; Tottie Kriger, Jan Smuts se swaer, deur albei longe getref, leef nog; en Walter de Vos, nog ‘n tentmaat, in die bors geskiet, mar nog steeds met ‘n dapper glimlag.(10)
(19)Reitz 73-4. Sien ook SP IV, 345
Die teenaanval is deur die Carolina-kommando gelei en hul dooies lê oral op die rotse van die kruin. Reitz vind dat die burgers daarin geslaag het om hierdie noordelike deel van die kruin in te neem, met behulp van Mauser-vuur van Conical Hill agter hulle, en uit Green Hill, oorkant die kloof regs daarvan.
Dit is merkwaardig hoe goed hulle in die front-aanslag op so ‘n sterk stelling gevaar het. Die belangrikste Britse linie is daardie lang, vlak sekelmaanvormige loopgraaf wat in die vroeëmôrenewels gegrawe is. Die belangrikste Boerelinie is die rant van die plato, tussen 100 en 200 tree agtertoe.(20)
(20)Reitz 73-4. Barnard 98
Party van die Pretorianers is beveel om links van die loopgraaf om te sluip. No neem hulle 400 tree anderkant die loopgraaf by Aloe Knoll stelling in. Toe Reitz probeer volg, trek die Lee-Metfords met volle geweld op hom los. Voor hom sien hy die lyk van Charles Jeppe, die laaste van sy tentmaats, in die oopte lê.
Hy duik agter die rotse in en begin na die hoof-vuurlinie terugkruip. Teen nege-uur begin die vyand se geweervuur afneem terwyl die Krupp- en Creusot-skrapnelkoeëls in die plato bo hulle neerplons. Maar die son word ál warmer, en die burgers het nòg kos nòg water. Het ons baie Engelse doodgemaak? Wonder Reitz.
Hy sien geen Engelse nie.Daar is hoë rotse voor die Engelse stelling verder af. Die Boere se eie ongevalle lê daar, alte ontsettend sigbaar: verstywende lyke vol vlieë en brommers, die kamerade wt maar ‘n uur tevore langs die wa saam met hom koffie gedrink het.(21)
(21)Reitz 74-5. Vgl. TH II, 263-5
Soos die son hoër styg, is daar toenemende demoralisering in die geledere van die paar honderd burgers op die kruinlyn. Dit lyk of sake soos op Platand gaan verloop. Hul aanval het maar half geslaag en dit teen ‘n ontsettende prys.
Groot massas ruitrs kan nou op die vlakte onder hulle gewaar word. Die burgers begin vir die koeëls terugdeins. Die leiers – Opperman, kommandant van Pretoria, en Prinsloo, kommandant van Carolina – probeer beloftes, probeer dreigemente.
Op die kruin begin ‘n gevoel van verraad, woede en moedeloosheid die burgers oorweldig. Honger en dors en ‘n gebrek aan dissipline laat hule invloed geld – asook ‘n opvatting dat die Engelse hul stellings sonder moeite handhaaf.
Teen die middag begin die burgers soos daardie oggend se newels wegsmelt; die kruin wat hulle ‘n kort rukkie tevore so heldhaftig ingeneem het, word aan die Engelse oorgelaat.(22)
(22)Reitz 75-7
*** *** ***
Vir die Boere lyk die langh, sekelvormige loopgraaf heeltemal anders as vir die Engelse. Voor die Boere, 20 tree weg, is net ‘n kaal ry opgestapelde klippe te sien, onversetlik en ondeurdringbaar. Maar wat die Engelse sien, is slagting.
In twee betekenisse van die woord was Spioenkop ‘n grusame anachronisme: ‘n oorblyfsel uit die verlede, maar ook ‘n voorspel tot die toekoms van Wêreldoor I en daarna. Die nuwerwetse oorlog – ‘n onsigbare vyand wat van ‘n verre kruin af vuur, die dood bloot ‘n klein, blou, ronde gaatjie in die voorkop of ‘n donker kol op ‘n kakie-unieform – het na ‘n oorlog tussen here gelyk.
Dit was elke offisier se droom: om op die slagveld te sterf soos ‘n mens op die jagveld sou sterf, met die gesketter van die jaghoring in jou ore. En so het dit seker vir party van die offisiere gelyk wat so moedig teen die hellings van Elandslaagte en Talana geval het. Net in die hospitaal en die verbandstasies het die oorlog opnuut in al sy ou wreedheid te voorskyn getree.(23)
(23)Treves 15-19
Maar hier op Spioenkop is die bloed, die verminking op die slagveld self, alles binne ‘n halfmorg vertrapte gras, ‘n “soldateslag” in die ou styl, vol vermorselde gesigte, onthoofde liggame, manne wat meer verbete as diere veg.(24) En dit is die voorloper, hierdie Armageddon in die loopgrawe onder die son van Afrika, van ‘n groter slagting, 15 jaar later, in die modder van Vlaandere.
(24)Sien nota 33. PPW 172, 179, 181, 183 ens.
Dit lyk asof Woodgate dood is; in werklikheid is hy noodlottig deur ‘n bomskerf gewond. Kort ná 8.30 vm., toe die newels uiteindelik wegrol, het kol. Blomfield, bevelhebber van die Lancashire Fusiliers, hom daarop gewys dat ‘n klompie Boere by die paadjie na Aloe Knoll opkruip. Woodgate het gaan kyk, en ‘n bomskerf het hom bo die regteroog getref. Hy is na ‘n verbandstasie teruggedra.(25)
(25)Kapt. Carleton, sy ADC|, bgrfief-vrou 1900, (sy) PV. Blake Kox 67. Vgl. OH II, 384 “klont skrapnel in die kop”
Kort daarna het Blomfield self swaar gewond neergeslaan; hy moes uit die vuurlinie gesleep word; maj. Massey, die sappeurs se bevelvoerder, die man wat die loopgrawe uitgepen het, val dood neer, en so ook kapt. Vertue, Woodhead se brigade-majoor.(26) Met hierdie sterfgevalle het die kolonne skielik sy leiers verloor, die klein klompie.
(26)Knox 67. TH III, 257-8
Die mees senior offisier is nou kol. Malby Crofton, bevelhebber van die Royal Lancasters. Hy vind die situasie ontstellend. Woodgate het reeds flaters begaan deur die kruin as ‘n sterktepunt in te rig.
In werklikheid was dit nie alles Woodgate se skuld nie: die vroeë môremis, Warren se gebrekkige voorligting, Herbert se ontoereikende bloudrukkaart – al hierdie faktore het hul rol gespeel in Woodgate se rampspoedige onkunde i.v.m. die terrein. Maar die feit bly dat die defensiewe perimeter te klein was, die loopgrawe op die verkeerde plekke en te vlak.(27)
(27)OH II, 381-3. Sien bloudruk-kaart “D” in Sand MSS
Om Conical Hil, 800 tree verder, in te neem en daardie stelling te handhaaf, sou baie moeilik gewees hert; maar as dit gedoen kon word, was dit ‘n meesterlike hou. Om Aloe Knoll, 400 tree na regs, in te neem, was absoluut noodsaaklik en sou redelik maklik gewees het as Woodgate voor die wegraak van die newels kon besef het hoe belangrik dit is.
Die Engelse se hoof-loopgraaf moes in elk geval 200 tree verder vorentoe gewees het, op die taktiese kruinlyn waarvandaan die vallei daaronder beheer kan word. In die newels het maj. Massey die loopgraaf op ‘n valse kruinlyn uitgepen. Toe die mis begin wegtrek, het die sappeurs ‘n nuwe loopgraaf op die regte plek probeer grawe.
Maar toe was dit te laat. Ná die Boere Conical Hill en Aloe Knoll ingeneem ht, kon hulle die hoof-loopgraaf uit die ooste bekruip. Buitendien is die loopgraaf self te vlak om koppe behoorlik teen geweervuur te beskerm, en van liggaamsbeskerming teen skrapnel en pom-pom-koeëls is daar geen sprake nie.
Dit is deur daardie halwe kompanie sappeurs gegrawe, met 20 pikke en grawe, terwyl meer as duisend soldate ledig was, besig om te slaap of te rook of Boerestewels as trofeë in te samel.(28) Nog steeds verstaan die Britse offisier, die Britse manskap, nie die mag van die Boere se geheime wapen, die graaf nie. Dit is die reël van die nuwe oorlog – grawe jou eie loopgraaf nou, of hulle grawe jou graf later.(29)
(28)Charlton 110. Vgl. Repington 220-1
(29)Sien Tjhorneycroft se get RCSAW III, Q 12441
Lt. Lionel Charlton van die Lancashire Fusiliers was half aan die slaap toe hy kol. Blomfield hoor skree dat die volgende kompanie moet storm. Hy kyk verbuf op. Die hele lug is vol van daardie krakende sweepslae en die skril sisgeluid.(30) Hy druk homself teen die grond vas.
(30)Chaarlton 110
Sy kompaniebevelhebber skarrel vooruit om sy bevele te gaan haal. Dit is nou sy eie kompanie se beurt. Hoe gaan hy sy liggaam deur daardie stortreën koeëls dwing? ‘n Paar oomblikke sak Charlton se moed in sy skoene; toe sien hy toerusting: geweer in die hand, waterbotel, knapsak.
Hy storm vooruit, half gebuk, kyk nie na links of regs nie en slinger homself naby die kruinlyn agter die rotse neer. Toe, anderkant daardie haelreën van koeëls, ver weg oor die vlakte, sien hy iets soos ‘n oase in ‘n droom: ‘n massa hoë bome en groen bosse; dit is Ladysmith.(31)
(31)Ibid 110-13
Vir korp. Will McCarthy is die slag meer soos ‘n nagmerrie. “Ek klim in die loopgraaf,” sou hy later aan een van sy vriende vertel, “en gaan lê langs lyke sonder koppe, bene of arms. Dit was vreeslik, kan ek jou sê, was genoeg om die dapperste man te verlam. Maar ons moes daar bly. Ek dink ek het omtrent ‘n halfuur daar gelê toe ‘n kanonkoeël agter my bars. …. Ek dag my rug is pap geblaas. …”(32)
(32)Kpl. W. Macarthy (1900) bylae in brief aan Sir R. Buller, Bull (Crediton)
Vir die eerste keer in die oorlog het die Boere-kanonniers ‘ n lekker outydse teiken, een soos die Britse kanonniers in Kitchener se oorlog op die Nyl gehad het: die vyand in digte geledere. En, soos die Derwisje destyds, kan die Engelse nie op die kanonvuur atwoord nie. “Die aakligste toneel van slagting,” skryf een van Thorneycroft se Uitlanders.
“Ons had geen kanonne nie – en die vyand se Long Toms het die kop bestryk. Kanonkoeëls het op ons gereën. Mens het die aakligste goed gesien. Manne uitmekaar geblaas, ledemate middeldeur gesny. Koplose liggame, party blote rompe. Aaklig. Aaklig. As jy net jou kop bo die klip uitsteek, word jy dadelik doodgeskiet. Alles was deurmekaar, offisiere dood. Daar was niemand om die manne aan te spoor nie en hulle het moed verloor. …”(33)
(33)TM|I-man se brief in Leicester Record Office. Vgl. luit. A. Wood-Sir E. Wood 9 Feb 1900 aangehaal Sir E. Wood Swinnowed Memories 298-9
Demoralisasie en verwarring. Veral verwarring. Teen nege-uur het kol. Crofton reeds besluit dat hulle versterkings nodig het. Maar waar moet hulle geplaas word? En hoe moet hulle met die Britse kanonniers daaronder skakel?
Noukeurige inligting oor die situasie op die kruin en oor die posisie van die Boere is absoluut noodsaaklik. Maar Crofton is ‘n gewone verbeeldinglose regimentele offisier. Hy kan nie die heliografiste vind nie. Wat hy nou moet doen, is om ‘n behoorlike verslag na Warren se hoofkwartier te stuur, per hand, slegs ‘n uur te perd vir ‘n adjudant.
In plaas daarvan dikteer hy ‘n kort hulpkreet aan ‘n offisier wat met ‘n vlag sein. Hierna verdwyn Crofton self van die toneel.(34)
(34)Kol. Crofton-HQ c. 9 vm 24 Jan 1900 gedruk OH II, 639, 384-5
Dit is kol. Thorneycroft, die reusagtige Thorneycroft met sy rooi gesig en kop soos ‘n bul, wat die meeste doen om die manne op te beur. Teen tienuur het die slag, wat heen en weer tussen die hoof-loopgraaf en die vooruitgeskowe loopgrawe op die kruinlyn beweeg, het, ‘n krisis beleef.
Een van Thorneycroft se jong offisiere, lt. Sargeant, nael met 20 manne na ’n klompie rotse regs van hulle. ‘n Manskap stoot sy geweer oor ‘n klip, voel iets sags en trek werktuiglik die sneller. Dit is die onderbaadjie van ‘n Boer wat op dié manier doodgeskiet word voor hy sy geweer kan afvuur.
Maar Sargeant se groep word spoedig na die hoof-loopgraaf teruggejaag, met die verlies van die helfte van hul manne.(35)
(35)Knox 69-70
Nou lei Thorneycroft self 40 man in die stormloop. Hy vind drie offisiere, kapt. Knox-Gore, lt. Ellis en lt. Newham, omring deur die liggame van hul manne – gewond, sterwend, dood. Newham self is besig om dood te bloei. Hy het homself teen ‘n rots sit gemaak en vuur nog steeds; toe beëindig ‘n derde koeël sy lewe. Knox-Gore staan regop en skree vir Thorneycroft iets; hy wys na regs; in die oorverdowende lawaai hoor Thorneycroft niks wat hy sê nie; Knox-Gore val dood neer. Ook Ellis sterf.
Thorneycroft word alleen gered deur die feit dat hy struikel en op die grond neerslaan. Byna al 40 manne word neergeknal. Drie offisiere van die Royal Lancasters probeer verdere stormlope lei, maar word eweneens neergeskiet. Hulle is lt. Wade, lt. Nixon en maj. Ross, lg. so vroet van disenterie dat hy die vorige aand agtergelaat is, maar die oggend het hy op ‘n manier by die vuurlinie gesukkel.(36)
(36)Thorneycroft se verslag van 26 Jan 1900, SD I, 100. Thorneycroft se nota 24 Jan 1900, 2.30 nm., SD I, 98-9. Knox 70-1. OH II, 386-7. TH III
Thorneycroft lê op die klipperige grond, net onder die koeëlreën wat oor die veld stryk. Sy eie besering is niks meer as ‘n gestuite enkel nie. Hoe lank sal dit Warrern neem om versterkings te stuur? wonder hy. En hoe lank gaan dit wees voor sy eie manne, in hierdie inferno, dit nie meer kan uithou nie en sal vlug?(37)
(37)Ibid
Net voor 9.50 vm. ontvang Warren in sy hoofkwartier, drie myl daarvandaan op Three Tree Hill, ‘n boodskap wat hy baie vreemd vind. Warren, die man wat “die Boere ken”, het hoegenaamd nie verwag dat die Boere so vinnig en kragdadig sou aanval nie.
Nou kry hy die boodskap van Crofton: “Alles verlore tensy onmiddellike versterkings. Generaal dood.” Hy gee afskrifte aan Buller en Lyttelton deur en stuur vir Crofton ‘n kortaf antwoord:” “Ek stuur twee bataljons, en die Imperial Light Infantry is klaar op pad. Julle moet uithou. Geen oorgawe nie.”(38)
(38)Warren se verslag Jan 1900, SD I, 97 para 33. OH II, 385
Warren het trouens reeds uit die verre gerammel van die kanonne afgelei dat die kolonne versterkings nodig het en en genl. Coke beveel om die Imperial Lifht Infantry (die infanterie-teenhanger van die Imperial Light Horse), die 2nd Middlesex en die 2nd Dorsets daarheen te neem.
Maar hy kan Crofton se paniekerige boodskap eenvoudig nie verstaan nie. Kol. À Court het pas met Woodgate se nota daar aangekom. Dit is maar twee uur tevore geskryf en dit lui: “Ons is ingegrawe … en, so hoop ek, ons is veilig.”
Nou haas Warren hom egter om party van die lewensbelangrike toerusting agterna te stuur wat Woodgate agtergelaat het; ‘n aantal vermiste sandsakke word deur die manne van die Middlesex en Dorset-regimente na die slagveld gedra. En hy stem met à Court saam: dit is noodsaaklik om so gou moontlik grofgeskut op die kruin te kry.(39)
(39)Ibid II, 385-6. Repington 223
Hy stuur ook ‘n offisier om vas te stel wat van die kleiner kanonne in die berg-battery geword het (hulle is weens ‘bn fout deur een van Buller se staf by Frere vertraag). Wat van ‘n afleiding by Tabanyama links? Genl. Hart en baie van die offisiere in sy Irish Brigade is meer oorgehaal as ooit om die lank vertraagde aanval te loods, noudat die burgers kennelik hierdie seksie van hul llinies uitgedun het ten einde Spioenkop te versterk.
Warren bly onwrikbaar. Sy taktiek bly onveranderd: hy wil die Boere dwing om hulle op Spioenkop aan te val; die Boere moet hul koppe breek teen daardie staalwig wat hy in die klipmuur ingekap het.(40)
(40)Warren tap & Warren se get RCSAW III, 650
Nietemin kry Warren wel een nuwe idee, en dit sou ‘n dramatiese uitwerking op die gebeure hê, hoewel op ‘n ander manier as wat hy verwag het. Om 9.53 vm., onmiddelik ná ontvangs van Crofton se wanhopige nota, stuur hy ‘n heliogram aan Lyttelton, wie se brigade noord van die rivier by Potgietersdrif ingegawe is.
“Verleen aan jou kant alle hulp wat jy kan; hierdie kant is skoon, maar die vyand is aan jou kant te sterk, en Crofton telegrafeer dat alles verlore is tensy hulp onmiddellik opdaag.”(41)
(41)St van tel in SD I, 117. Sien ook Lyttelton se memo 4 Sep 1900, SD II, 43 OH II, 385, 639
“Hierdie kant is skoon.” Dit was ‘n vreemde manier om die toestand van die beleërde garnisoen op Spioenkop te beskryf. In werklikheid, hoewel die newels nou heeltemal weggerol het, het Warren slegs die vaagste benut van wat aan die gang is. Hy kan die grashelling tussen Conical Hill en Spioenkop se hoofkruin duidelik sien, en Parsons se kanonniers is besig om dit met skrapnel te bestryk.
Maar Botha se kanonstellings lê almal agter Tabanyama se bosryke hange. So ook die noordelike kruinlyn, waar Prinsloo en Opperman se manne hul heldhaftige stormlop uitgevoer het. En so ook – belangrikste van alles – Aloe Knoll.
Die gevolg was ‘n verwarde optimisme in Warren se eie gemoed oor die omvang en krag van die Britse stelling. Vandaar dat hy sy swakste brigade-bevelhebber, die arme hinkende Coke, gestuur het om die versterkings te lei.
Nog rampspoediger, uit Engelse oogpunt, hy het Lyttelton se langafstand-kanonne gekeer, die kanonne wat Aloe Knoll uit die ooste begin bestook het, want Warren het blykbaar gedink dat Aloe Knoll deel van die Britse stelling is.(42)
(42)Warren se verslag Jan 1900, SD I, 97-8
Op Mount Alice, die mees vooruitgeskowe deel van Buller se kamp by Spearman, is dit onmoontlik om jou te verbeel dat die Engelse in hierdie veldslag goed vaar.
Hier, langs die twee 4.7-duim-kanonne, neem die hoofkwartierstaf en die oorlogskorrespondente beurte om deur die vlootteleskope te tuur. Die rant oorkant hulle, drie myl daarvandaan, anderkant die Tugela se beskadude kloof, sidder in die gloed van die son.
John Atkins skryf: “Ek sal dit nooit vergeet nie – daardie algehele slagting, bo op ‘n ryk, groen kloof met koel granietmure (‘n pad wat die hemel sou kon lei) teen die berg se westerflank. Vir my het dit gelyk afof ons manne almal in ‘;n klein vierkant vasgekeer is: daar was vaal soldate en valer loopgrawe, soos ‘n oorryp garsland.
“…Binne een minuut kon ek sien hoe drie kanonkoeëls ‘n bepaalde loopgraaf tref, elke skoot ‘n volskoot, en die vaal stof dryf saam met die wit rook weg. Die lkoopgraaf was soos die tande van ‘n saag teen die lug – waarskynlik, so het ek gedink, die skerp rotse waaruit die vesting bestaan.
“En toe tref nog ‘n koeël en toe – hemel – toe styg die loopgraaf op en beweeg vooruit. Die loopgraaf was manne: die tande teen die lug was manne. Ek kon sien hoe hulle vooruit hardloop en hul liggame gebuk hou – soos ‘n graanland waaroor ‘n sterk wind waai.”(43)
(43)Atkins 237-8
Buller staan die toneel en dophou. Hy laat ewe min van sy gevoelens blyk as Xerxes op die heuwel bo Salamis. In werklikheid is hy woedend. As die Boere – sonder sy wete – aan hul rampsalige aanval op Platrand herinner is, word Buller self aan Colenso herinner.
Weer eens, dink hy, en probeer sy woede teenoor Warren onderdruk, is ‘n goeie plan deur ondergeskiktes weggegooi. By Colenso het ‘n “verdomde kanonnier” hom uitverkoop. Nou is hy uitverkoop deur ‘n verdomde sappeur.
Warren het in gebreke gebly om Tabanyama op die 17de, toe dit byna weerloos was, aan te val. Hy was te bang om dit op die 21ste aan te val, toe dit wel gevaarlik maar nog steeds prakties uitvoerbaar was.(44) Vandag het Warren se koppigheid Buller se eie tweepuntige aanvalsplan verongeluk.
(44)Sien Buller se kommentaar op Warren se verslag 30 Jan 1900, SD I, 89, 95-6 en Buller se get RCSAW III, 178
‘n Waar wat skaars oorbeklemtoon kan word, is dat Buller Warren nie alleen gemagtig het om Spioenkop aan te val nie. Sodra Warren daar deurbreek, sou Buller self die regterflank-aanval loods, noord van Potgierersdrif. En nou is hierdie regterflank-aanval in gevaar, indien nie heeltemal onmoontlik nie.(45)
(45)Lewis Butler-Sir John Fortescue tap. Buller se get RCSAW III, 178
Want soos ons gesien het, het Warren Lyttelton daardie oggend voor tienuur per heliogram gevra om versterkings te stuur terwyl hy versterkings kon getrek het uit die elf bataljons – byna 10 000 voetvolk – aan sy linkerflank.
Sonder om met Buller oorleg te pleeg, het Lyttelton gereageer deur twee infanterie-bataljons te stuur, en die meeste van die skamele berede troepe.(46) Toe Buller dit agterkom, het die manne reeds na Spioenkop vertrek. Nou is dit te laat om hulle òf terug te roep òf om manne aan die linkervleuel te onttrek.(47)
(46)Lyttelton se verslag 25 Jan 1900 en memo 4 Sep 1900, SD I, 115-18 en II, 43. Lyttelton-vrou 25 Jan 1900, Lyt. Vgl. Warren se brief 6 Aug 1900 en Buller se kommentaar daarop 4 Sep 1900, SD II, 73, 42
(47)Buller het Lyttelton dit verkwalik dat hy hulle gestuur het, vandaar Lyttelton se bitterheid. Lyttelton-vrou 1 Feb 1900, Lyt
Toe Buller by Colenso van Hart en Long se flaters hoor, het hy onmiddellik besluit om die hele operasie af te las. Nou, op die Bo-Tugela, maak die verydeling van sy planne hom net meer vasbeslote om deur te druk. Hy het reeds gehoor van à Court, wat na sy hoofkwartier gery het nadat hy Warren i.v.m. Woodgate se ontoereikende verdediging gaan toelig het: bo alles hoe noodsaaklik dit is om vlootkanonne op die hoofkruin te kry.
Buller reël dadelik dat twee vlootkanonne o pgestuur word. Ewe belangrik, hy stuur sy eie inligtingsoffier, kol. Sandbach, om die situasie op die kruin te gaan ondersoek en persoonlik aan hom te kom rapporteer.(48)
(48)Repington 223. Sandbach-moeder 30 Jan 1900, Sand. Warren se brief 6 Aug 1900, SD II, 38 sek 11
Hoe sou hy homself later verwyt dat hy nie die drie brigades van Warren geneem het nie. Soos ‘n swakkeling deins hy nog steeds voor hierdie stap terug, bang om Warren voor die leër te verneder.(49) En miskien hoop hy nog om die aanval anderkant Potgietersdif te loods wanneer Lyttelton se troepe terugkeer.
(49)Buller se kommentaar aan Staatsekretaris 30 Jan 1900, SD I, 89 ins. Para 6
Daardie oggend tree hy nog net een keer tussenbeide, hoewel op ‘n uiters belangrike manier. Dit lyk asof Crofton die kluts kwyt geraak het. Wel, hy het van à Court gehoor dat Thorneycroft gedurende die nagmars die kolonne besiel het.(50)
(50)Repington 223
En nou kan hy Thorneycroft, letterlik ‘n toring van krag tussen die bruin figuurtjies in daardie halfmorg bloed, deur sy teleskoop sien. Om 11.40 vm. stuur hy vir Warren ‘n telegram. “U sal die koppie verloor tensy u regtig ‘n goeie harde vegter op die kruin in bevel plaas. Ek stel Thorneycroft voor.”
Warren stem saam. Tien minute later ontvang die heliografiste wat op die suidwestelike lip van Spioenkop in die storm van Mauser-vuur en skrapnel hurk, ‘n kort boodskap. Crofton is as bevelhebber deur Thorneycroft vervang.(51)
(51)Buller-Staatsekretaris 30 Jan 1900, SD I, 95 sek 4. OH II, 388-9. Vgl. Warren se verslag Jan 1900, SD I, 97 sek 4 en sy brief van 6 Aug 1900, SD II, 37 sek 8
Dit is geruime tyd na dien oem voor Thorneycroft self van die bevordering hoor. Hy is in die hoof-loopgraaf, waarheen hy teruggesleep is ná die mislukking van sy moedige poging om die kruinlyn te herower. Iemand hardlop met ‘n boodskap na hom aan. Voor hy kan praat, tuimel hy voor Thorneycroft inmekaar. Hy is in die kop geskiet. Later kruip ‘n luitenant vorentoe en skree die nuus bo die gebulder uit: “U is generaal.”
Die situasie is nou nog meer kritiek as tevore. Afgesien van sy linkervleuel, waar party van die manne nog tussen die rotse staande bly (‘n vou in die grond bied hier ‘n bietjie beskerming), is die hoof-loopgraaf nou die mees vooruitgeskowe linie. Thorneycroft self is die enigste offisier in hierdie deel van die vuurlyn.
Hoewel die manne dit nie weet nie, is die versterkings wat Warren onder bevel van genl. Coke gestuur het – die Middlesex en die Imperial Light Infantry – nou besig is om teen helling op te skarrel, ‘n string van figuurtjies, die son flitsend op hul bajonette, met tussenin die donker kolle van die ammunisie-muile. Maar in die vuurlyn het vyf uur sonder kos en water die manne by die grense van hul uithouvermoë gebring – en daar verby.
Kort ná eenuur hoor Thorneycroft ‘n lawaai in die hoof-loopgraaf regs van hom. ‘n Aantal manne, hoofsaaklik Lancashire Fusiliers, laat hul gewere val en steek hul hande in die lug. Drie ofvier Boere kom te voorskyn en beduie vir hul kamerade om vorentoe te kom. ‘n Salvo ondoeltreffende geweervuur uit die Engelse linie begroet die Boere; maar oomblikke later fladder ‘n ry sakdoeke bo die loopgraaf.(52)
(52)Knox 79. Thorneycroft se verslae 26 Jan, 24 Mei 1900, SD I, 100, SM 6/2-4 OH II, 389-90
“Majuba!” het die Engelse uitbundig geskree toe hulle Spioenkop in die vroeëmôrenewels verower het. Nou lyk dit asof hulle werklik ‘n Majuba het. De Kock, een van die Transvalers, sou die volgende oomblik geskryf: “Die Engelse wou net oorgee, en ons was almal besig om na hulle te stap toe ‘n groot, kwaai soldaat met ‘n rooi gesig regs van ons uit die loopgraaf hobbel skree: ‘Ek is die kommandant hier, Vat jou manne terug hel toe, meneer. Ek laat geen oorgawe toe nie’.”(53)
(53)Ibid 79
Die groot kwaai soldaat met die rooi gesig was natuurlik Thorneycroft. Hy het die loopgraaf met behulp van ‘n stok verlaat, maar nie stadig nie. Ouskree hy vir sy manne om hom na ‘n ry rotse agter die loopgraaf te volg, van waar hulle op De Kock en die ander begin skiet.
Party van die Boere gooi hulleself plat neer, ander slaag daarin om die gevangenes wat reeds geneem is, met hulle saam te neem (byna 170 Kakies, volgens die Boere-oorkondes).(54) Op plekke is daar maar ‘n paar tree tussen die Boere en die Engelse en die knal van gewere is oorverdowend.
(54)Ibid 79-80. Botha tel no 46 25 Jan 1900, Ley 715 (f). Barnard 98, 101. TH III, 268-9
Op hierdie wanhopige oomblik kyk Thorneycroft na agter en sien eindelik die versterkings aankom. ‘n Kompanie van die Middlesex ruk met gevelde bajonnete nader. Thorneycroft beveel hulle om storm te loop. Die skielike versterkings versteur die Boere se ewewig. Hulle vlug na die kruinlyn terug en sleep die uitgeputte gevangenes saam.
Thorneycroft se manne beset weer die hoof-loopgraaf en ruk weer tot binne ‘n paar tree van die kruin op. ou begin die Boere-artillerie die kop nogmaals bestook, maar in die volgende uur stroom vars Engelse troepe gedurig teen die hellings op. Na links versterk Thorneycroft die uitgeputte Royal Lancasters met daardie nuwe Uitlander-vrywilligers, die Imperial Light Infantry; die oorblyfsels van sy eie Uitlanders beset nog steeds die voorste linie; na regs stoot hy die Middlesex vooruit, ondanks swaar ongevalle, om die gapings van die Fusiliers gelaat het, toe te stop.
Daarna kruip hy terug na die rotse op die hoogste punt van die plato en kras ‘n boodskap wat hy aan ‘n stafoffisier, kol. Sandbach, gee om na Warren teneem. Die heliograaf se spieëls is lankal deur ‘n kanonkoeël versplinter.(55)
(55)Thorneycroft se verslae tap. OH II, 386-7. TH III, 269-71. Knox
Dit is 2.30 nm. Vir die eerste keer sedert dagbreek kry Thorneycroft ‘n blaaskans, ‘n soort blaaskans, van daardie infermo in die loopgrawe. Die briefie lui: “Tot laaste uiterste met ou mag aangehang. Party van Middlesex nou hier, en ek hoor Dorsets aankom, maar mag werklik ontoereikend om so ‘n groot perimeter te hou – watter versterkings kan u stuur om die kop vannag te behou? Ons het water bitter nodig. Daar is baie dooies en gewondes.” – Alex Thorneycroft. “NS: As u wil seker maak dat ons die kop oornag hou, moet u meer infanterie stuur en vyandelike grofgeskukt aanval.”(56)
(56)Thorneycroft se nota 24 Jan 1900, SD I, 98-9. Vgl. ander weergawe in SM 6/2
Die verwarring in Warren se eie gemoed oor die situasie op Spioenkop is nie deur hierdie kort, nogal moedelose briefie van Thorneycroft verdryf toe dit hom omstreeks vieruir bereik nie. Miskien het hy hom verbeel dat Thorneycroft, soos Crofton tevore, die kluts kwyt geraak het. Warren was maar deels verantwoordelik vir sy oordrewe optimisme.
Kort ná Thorneycroft die briefie geskryf het, het dit deur die hande van genl.-maj. Coke, sy onmiddellike meerdere, gebaan. Dit was Coke se taak om bevel oor die verdediging van die kruin oor te neem: om Thorneycroft gerus te stel en hom desnoods van die verplettende fisieke en geestelike spanning van bevel te verlig.
Warren kon nie weet dat Coke nog nie eens die plato bereik het nie. (Hy was nog veilig op die pad daar onder toe hy Warren i.v.m. die situasie gerusgestel het.) Nou voeg Coke enkele reëls by Thorneycroft se briefie: “Spioenkop – 3 nm. – ek het bostaande gesien en die Scottish Rifles en King’s Royal Rifles beveel om te versterk. … Dit lyk asof ons ons posisie handhaaf.”(57)
(57)Coke se verslag 25 Jan 1900, Coke se boodskap by Warren se verslag ingesluit Jan 1900, SD I, 99, 102. OH II, 394-5
Die son was baie warm. Volgens een verslag het genl. Coke toe in die skaduwee van ‘n paar doringbome gaan dut.(58)
(58)TH III, 271-3. Dit is miskien een van die skandalige “episodes” waarma Buller in sy brief van 10 Sep 1900 aan R. DO 105/24 verwys
Warren self was hoegenaamd nie aan die slaap nie, al kom sy voorbereidings soos gewonlik vir kritiese waarnemers ‘n bietjie lomp lyk. Een ding is in elk geval vir hom duidelik: om Thorneycroft se manne te beskerm, moet Spioenkop teen artillerie beskerm word. Hulle moet die berg- en vlootkanonne na die kruin sleep. Hulle moet die Britse loopgrawe dieper uitgrawe en verbeter.(59)
(59)Sien kol. Sim se verslag 28 Jan 1900, SD I, 104-5. OH II, 395-6
Waarom is Warren nie self daarheen nie? Hy was ‘n man wat graag met sy hande werk – ‘n sappeur-generaal, ‘n loopgraaf-deskundioge, militêr en argeologies; toe sy genie-korps ‘n pontonbrug oor die rivier moes bou, het hy so nou by die operasie betrokke geraak dat party manne hom vir ‘n junior offisier aangesien het.(60)
(60)W.W. Williams Warren 276-7
Die voet van Spioenkop is minder as ‘n uur te perd van Warren se hoofkwartier by Three Trees Hill. Waarom het hy nie op sy perd geklim en daarheen gery nie.
In dié stadium wis Warren nog nie dat genl.-maj. Lyttelton intussen ‘n deurslaggewende stap gedoen het om die druk op Thorneycroft se mag te verlig nie – en ook dat hy besig is om te slaag, beter as Lyttleton ooit gehoop het.
Daar is tye in ‘n veldslag wanneer restreekse versterkings veel minder doeltreffend is as ‘n afleidingsmaneuver op ‘n ander plek. ‘n Mens kan betoog dat Warren se joorheersende fout daardie dag sy onvermoë was om ‘ n afleidingsmaneuver in die weste te beswerkstellig. Hy kon Hart of Hildyard of Dundonald se brigade gestuur het om Tabanyama aan te val. Dat hy dit nie gedoen het nie, sal een van die groot sê-nous van die slaag bly.
Dit is in elk geval seker dat die afleiding wat Lyttelton bewerkstellig het – in die ooste – ‘n merkwaardige uitwerking op die gemoed van die Boere en hul bevelhebber gehad het.(61)
(61)Barnard 102. Breyt III, 210-12
Oos van Spioenkop lê Drielingkoppe, tussen twee- en drieduisend tree van die hoofkruin en tafelland na die weste. Van Mount Alice lyk Drielingkoppe hoër as Spioenkop self, hoewel hulle in werklikheid ‘n paar honderd voet laer is.(62) Dit is in elk geval ‘n gedugte defensiewe posisie. Om van die suide daarheen aan te kom, oor die Tugela en dan teen die steil rotshange van die berg uit, is veel moeiliker as die pad na die hoofkruin.
(62)OH Kaart Deel II. EGO. Breyt III, 236
As ‘n offensiewe posisie vir die Engelse sou dit nog meer gedug wees. Wanneer hulle eers hierdie oostelike rant beheer, sal Laldysmith se vlakte aan hul voete lê. Daarvandaan sal hulle nie alleen Aloe Knoll kan bestook nie, maar ook die twee Boere-kanonstellings – die pom-poms en die Krupps – asook die wit tente van genl. Schalk Burger en die kommando van Carolina daaragter.
‘n Mens kan jou dus Schalk Burger se gevoelens voorstel toe hy later daardie dag verneem dat die Kakies die Drielingkoppe stormloop. In werklikheid was Lyttelton se versterkings al sedert midda sigbaar: ‘n lang kakieslang watt oor Kaffersdrif (tussen Trichardtsdrif en Potgietersdrif) kronkel en teen die heuwel op begin beweeg.
Die slang het toe in twee verdeel: die kop (in werklikheid die Scottish Rifles) na die weste om Thorneycroft se manne direk te versterk; die stert (die 60th Rifles) reg noord, na die pieke. Vir die Boere wat dit gesien het, moet hierdie skousopel ewe boeiend gewees het as wat hul eie manne se bestyging van Spioenkop daardie oggend vir Deneys Reitz was.
Daar is maar sowat 700 man, in twee groepe verdeel, en elke groep bestyg een van Drielingkoppe se twee hoofspitse. Maar die burgers se linie is so dun gerek – die grootste gedeelte van die kommando van Carolina is in elk geval besig om meer as ‘n myl daarvandaan op Spioenkop self om hul lewe te veg – dat die burgers die Kakies nie kan terughou nie.
Dit is waar dat hulle die Engelse geniepsige verliese toedien. Hulle skiet van bo op die Engelse, wat hande viervoet oor die rotse klouter. Maar teen vyfuur die middag word die burgers gedwing om hul haastige loopgrawe te ontruim.(63) Schalk Burger moet die sombere nuus ongeveer teen sononder verneem het. Die Kakies is op die Drielingkoppe, nie in groot getalle nie, maar hulle is daar.
(63)TH III, 276-7. OH II, 393-4
Dié ontwikkeling kan nie vandag meer ‘n; uitwerking op die slag om die hoofkruin hê nie. Maar die volgende oggend lê daar vir die burgers ‘n eenvoudige keuse voor: loop die Drielingkoppe storm of galop na Ladysmith terug.(64)
(64)Barnard 102
Soos Joubert, was Schalk Burger in die eerste plek ‘n politikus – en nie ‘n besonder suksesvolle een nie.(65) Nou is hy volkome gedemoraliseer.(66)
(65)SAB II, 106-8
(66)Barnard 102
In werklikheid is die situasie aan die Boere se kant van die hoofkruin teen dié tyd desperaat. Om sewe-uur word dit nag. Die gebulder van die grofgeskut wat soos ‘n branding teen die klippe en rotse van d ie kruin geslaan het, die kokende, skeurende klankgolwe, het weggesterf. Hier en daar is daar nog enkele geweerskote. Verder is die geluide van die nag die aaklige geluide van Elandslaagte, waar so baie burgers gesterf het: die geskuifel en gekreun van die gewondes, ylende manne wat in die donker uitroep asof die son nog steeds skyn en die slag om hulle woed.(67)
(67)Reitz 77. Vgl. Knox 81-2, Teves 81-2. L. Oppenheim Nineteenth Centure Jan 1901
Op die ou end vind Deneys Reitz dat hy een is van skaarts twee dosyn manne wat oorgebly het om die kruinlyn te verdedig. Teen tienuur moet selfs sy eie leier, kmdt. Opperman, die stryd gewonne gee – of liewer, hy besluit dat hulle die stelling voorlopig moet laat vaar. Toe hulle die voet van die kop bereik, vind hulle dat die lang ry perde wt vroeër daar vasgemaak was, weg is; net hulle eie bly nog oor; mielies, sakke koffie en kiste ammunisie lê oral in die lig om die kampvuur rond.
Net toe die eerste waens begin vertrek, galop iemand na die vure en roep vir die burgers om te halt. Reitz kon die man se gesig nie in die skaduwee sien nie, maar die mense het hom gesê dis Botha. Sonder om van sy perd af te klim, vra hy hulle om te dink hoe skandelik dit is om hul pos in die uur van gevaar te verlaat. Minstens party van die burgers antword op sy beroep deur hul stellings oos en wes van Spioenkop terug te keer. Maar niemand keer na die stellings op die hoofkruin terug nie.(68)
(68)Reitz 77-9. Knox 88-9. Barnard 102-3
As Botha se buitengewone optimisme ooit nodig was, is dit op hierdie oomblik. Die hoofkruin is prysgegee, ‘n tweede bres – by Drielingkoppe – is in die Boere se verdedigingslinie geslaan. Watter kans is daar nou omn ‘n algehele nederlaag te voorkom?
Tog stuur Botha gerusstellende verslae aan Kruger en Joubert,. “Ek kan die moed en dapperheid van ons burgers nie hoog genoeg prys nie. … Die artillerie het pragtig gewerk en as die vyand nie gedurende die nag terugval nie, sal die slag môre voortgesit word. Die vyand se mag is so groot en as ons kyk na ons klein klompie manne … kan ons die genadige Vader nie dankbaar genoeg wees dat Hy ons in hierdie verskiklike stryd bygestaan het nie.”(69)
(69)Botha tel no 46 25 Jan 1900, Ley 715 (f)
So skryf Botha in die spesiale Bybelse telegramstyl wat Kruger van hom verwag. Aan sy kollega en senior generaal, Schalk Burger, skryf hy meer op die man af, maar ook wanhopig. “Laat ons saam stry en sterf. Maar broer, laat ons geen duim meer vir die Engelse wyk nie.”
Hy beloof om versterkings te stuur sodra die maan opkom. Intussen moet Burger 100 Vrystaters uit sy eie linkervleuel neem om die linie agter die Drielingkoppe te versterk. Botha voeg by dat hy die Engelse ken. “Hulle is so kopsku dat hulle sal ingee as ons net vertroue en geloof het en nie terugval nie.”(70)
(70)Botha-Burger aangehaal Barnard 102 nota 111
Botha se beroep val op dowe ore. Teen middernag bereik sy boodskapper die terrein van Burger se kamp agter die Drielingkoppe. Die tente is weg. Paniekerig het Burger ‘n deel van die kommando van Carolina en Lydenburg, kompleet met Krupp-veldkanon en pom-pom, geneem en noord na Ladysmith gevlug.(71)
(71)Barnard 102-3. Ram en Thomson se verslag aangehaal Breyt III, 228
Die lug verbleek en dou lê op die vertrapte gras langs die handjievol burgers wat oorbly – dapper manne soos Opperman, moedige seuns soos Deneys Reitz. Hulle kyk na die silhoeët van Drielingkoppe. Hulle wag op die onvermydelike. Niks en niemand – so lyk dit – kan nou verhinder dat die Engelse deur die twee bresse in hul stellings stroom en die hele Boerelinie al langs die Tugela opfrommel nie.(72)
(72)Reitz 79
Maar een man het die vermoë gehad om ‘n nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning te gryp en dit was die arme, ploeterende genl. Warren.
Dit was Napoleon wat gesê het dat die oorwinning behoort aan die generaal wat die minste foute begaan: m.a.w., dat die oorlog wesenlik ‘n wedstryd in flaters is. Hierdie gesegde is nog nooit meer grafies geïllustreer as in die slag van Spioenkop nie.
Hier lê die slagveld: skaars groter as die vloer van ‘n groot teater. Hier lê twee leërs, met tussen hulle ‘n gaping waaroor ‘ n mens stuk beskuit ewe maklik sou kon slinger as oor ‘n verhoog. En al die deelnemers – almal behalwe Botha – strompel op die verhoog rond as hulle blind is.
Dit was onvermydelik dat die engelse byna niks kon weet van wat aan die ander kant van die kop gebeur nie. Dit was ‘n sentrale paradoks van die nuwe, rooklose oorlog dat onkunde steeds oor die slagveld moes hang, onkunde dieper as enige kanonrook; en noudat die donker self toegesak het, wie kan vir Thorneycroft blameer dat hy sy ongesiene oorwinning nie herken nie?
Maar waarom was Thorneycroft ewe oningelig i.v.m. Warren se eie planne? Dit was hierdie onkunde, waarvoor Warren die volle skuld moet aanvaar, wat aan die wortel van die Engelse se merkwaardige flaters gelê het, flaters wat tragiek nou so amper in ‘n klug sou verander.
Oral om Spioenkop begin die Engelse uiteindelik pogikngs aanwend om die voordeel wat hulle verkry het, te benut.
Oënskynlik, moet ‘n mens byvoeg, het Lyttelton ‘ n stap gedoen wat die teenoorgestelde uitwerking moes hê. Om 2.30 nm. het hy van een van sy staf op Spioenkop se hoofkruin ‘n boodskap ontvang: “Dink nie die King’s Royal Rifles kan regs opkom nie; dit word deur die Boere beset. Ons hou net aan u linkerkant aan saal vas.”(73)
(73)Maj. Bayly-Lyttelton (opgeneem 2.30 nm 24 Jan) ingesluit by Lyttelton se verslag 25 Jan 1900, SD I, 116-17
Lyttelton beveel onmiddellik die bataljon, die een wat toe die Driellingkoppe stormloop, om terug te val; hy is bang dat daar ‘n gevaarlike gaping tussen hul stelling en die hoofkruin is.(74) Gelukkig vir die Engelse maak ‘n reeks drinende boodskappe wat Lyttelton o m 3.30 nm. en 4.50 nm. stuur, geen verskil nie: ‘n mens moet aflei dat die bevelhebber van die King’s Royal Rifles, lt.-kol. Riddell, die bevele opsetlik geïgnoreer het. Vandaar sy geslaagde verowering van Drielingkoppe.
(74)Lyttelton se verslag 25 Jan 1900 tap Lyttelton-vrou 25 Jan 1900, Lyt
Die kolonel het die prys betaal. Die opgefrommelde bevele was nog in sy sak toe hy dood neerval. Sy bataljon het die prys betaal: honderd verliese. Tog was dit ‘n briljante taktiese prestasie, die enigste briljante prestasie van die dag.(75)
(75)Lyttelton se verslag 25 Jan 1900 en bylaes DD I, 117-18. OH II, 39809. Vgl. TH III, 276 – e.v.
Ná 7.00 nm. word uiteindelik aan Lyttelton se bevele gehoor gegee. Onder die dekmantel van die nag val die bataljon terug. Maar soos ons gesien het, het hulle veel meer bereik as wat Lyttelton kon hoop, selfs as hy kon weet dat hulle die kruin bereik het. In werklikheid het hul ontruiming van die Drielingkoppe baie min verskil aan die verloop van gebeure gemaak.
Die blote gedagte dat hulle daar is, was genoeg om Schalk Burger oor die vlakte na Ladysmith te laat skarrel – en ‘n tweede groot bres in die Boerelinies wyd oop te laat, ‘n bres waardeur Buller en Lyttelton die volgende dag kon stroom.(76)
(76)”Daar word gesê dat die Boere hulle voorberei om terug te val … As dit so is, het ons die beste kans wat ons moontlik sou kry, verloor …” (Lyttelton-vrou 25 Jan 1900 tap
Intussen haas Warren hom langsaam, baie langsaam, om versterkings na Thorneycroft te stuur. ‘n Mens kan een ding in Warren se verweer sê. Nog meer as Buller se eie mag, word Wanrren se mag gekortwiek deur die gebreke in die voorbereidings van die Department van Oorlog. Hy het ‘n tekort aan behoorlik opgeleide stafoffisiere; hy het batterye langafstand-kanonne nodig; petieterige heliograwe en olielampe is geen plaasvervangers vir behoorlik veld-telegraaflyne wat tot by die vuurlyn gelê kan word nie.(77)
(77)Warren se get RCSAW III, 644-54 ins. Sek 19
En tog, as Warren gekortwiek is, hoe is Botha nie gekortwiek nie? Brittanje roem haarself op die “mad and manly fury” van Britse generaals wat in die verlede alle hindernisse te bowe gekom en oorwin het. Dit kan nie van Warren gesê word nie. Sy swaartillende rooster, die een waaroor Buller so ontsteld was, is feitlik onverdedigbaar.
Eers om 9.00 nm. – twee uur ná sononder – beveel hy lt.-kol. Sim, die sappeurs se bevelhebber, om met ‘n werkspan van 1 400 man na Spioenkop te vertrek. Hulle moet die reusagtige kanonstellings, elk 23 voet in die deursnee, vir die twee langafstand-vlootkanonne berei, asook die kleiner stellings vir die berggeskut. En hulle moet sorg dat Thorneycroft en sy manne ordentlike loopgrawe kry.(78)
(78)Kol. Sim se verslag 28 Jan 1900, SD I, 105. Vgl. Warren se brief tap
Ook die res van Warren se voorbereidings is uitermate tydsaam. Baardraers, waterdraers, ammunisie, vars troepe, bowenal grofgeskut – dit is die deurslaggewende tekortkominge waaroor Thorneycroft hom byna dood bekommer het. Nou is dit al vyf uur donker, en hulle ontbreek nog steeds.(79)
(79)Thorneycroft se nota aan Warren (na 6.30 nm) 24 Jan 1900 en sy amptelike verslag van 26 Jan 1900, SD I, 99, 100-1. OH II, 397
Tog was dit miskien nie Warren se onvermoë om hierdie tekortkominge te herstel wat op die ou end sy ergste dwaling sou wees nie. Dit was dat hy Thorneycroft niks meegedeel het van sy planne nie. Dit lyk vandag ongelooflik, maar sedert die heliogram waarin hy Thorneycroft daardie middag tot generaal bevorder het, het hy hom geen regstreekse bevele laat kry nie.
Hy het dit aan Coke oorgelaat om Thorneycroft gerus te stel, maar, nog ongeloofliker, hy het Coke nooit werklik meegedeel dat hy Thorneycroft in bevel geplaas het nie. En toe, om al hierdie flaters te vermenigvuldig, het Warren Coke om 9.00 nm. beveel om vir samesprekings na die hoofkwartier terug te keer – en Thorneycroft alleen tussen die verskrikkinge van die kruin gelaat.(80)
(80)Coke se verslag 25 Jan 1900, SD I, 102. OH II, 400
Middernag. Die skaal huiwer nog. Watter bak moet kantel? Elke leër vrees die ergste. Daar is genoeg veldslae in die geskiedenis waarna albei kante op ‘n oorwinning aanspraak gemaak het. In dié geval het albei bevelhebbers (hoewel nie Botha nie) vir hulself ‘n nederlaag toegeëien.
Toe, uit die donker en verwarring, verskyn daar een man, een selfaangestelde boodskapper wat die skaal in die guns van die Engelse kon laat swaai het: die jong Winston Churchill. Churchill het reeds ‘n dubbele rol vertolk, as korrespondent van die Morning Post en as luitenant in die South African Light Horse. Nou vertoon hy instinktief sy hoedanighede as generaal.(81)
(81)Churchill Ladysmith 307-8, My Early Life 326
As gevolg van Warren se wantroue in sy kavallerie moes Churchill se troepe van die SA Light Horse daardie dag in hul kamp bly. Dit het hulle almal rasend gemaak. Hulle moes ledig daar staan terwyl die Boere-kanonkoeëls op die kruim van Spioenkop neerreën, sewe per minuute; om te hoor en te sien hoe die pom-poms die hellings met kettings rook en stof gésel; om die stoete ambulanse aan die voet van die berg te sien versamel.
Om vieruur kan Chirchill dit nie mer verduur nie. Sonder verlof ry hy en ‘n kameraad die paar myl na Spioenkop om self te gaan kyk. Hy laat sy perd by die ambulanse en begin by die smal paadjie na die kruin opklim.(82) “Strome gewondes ontmoet ons en versper ons pad,” sou hy later skryf.
(82) Ibid
“Daar was manne wat voortstrompel, of op kamerade leun, of hande-viervoet kruip, of op bare gedra word. Hier en daar lê lyke. … Die bomskerwe en splinters het (ons mense) op die aakligste manier verskeur en vermink. Opo pad boontoe gaan ek verby omtrent 200. Daarby is daar ‘n klein maar standhoudende lekkasie van ongewonde manne uit die korpse. Pary van hulle vloek en swets. Ander is aqbsoluut uitgeput en val in ‘n stupor teen die hange neer. Intussen duur die gevegte voor. …”(83)
(83)Churchill Ladysmith 308
Churchill het veldslae by Tira en Omdurman gesien, maar wat hy hier gewaar, goed anderkant die vuurlyn, skok hom diep. Hy gaan nie tot by die kruin nie maar draai om, ry na Warren se hoofkwartier terug en vertel hom van sy indrukke. Die generaal luister “met groot geduld en aandag” na Churchill se relaas – volgens Churchill self. (Warren se aide-de-camp sou later ‘n ander storie vertel.)
In elk geval is die deurslaggewende debat nog aan die gang: hoe om die swaar vlootkanonne na die kruin te sleep. Toe dit eindelik afgehandel is, het die aand gedaal. Churchill bied aan om vir Thorneycroft ‘n boodskap te neem en hom mee te deel dat die kanonne en die 1 400 man van die werkparty onderweg is.
Churchill se tweede besoek aan Spioenkop is minder makaber as die eerste keer, maar meer ontsenuend. Die klipperige pad wemel nog van ambulanse, afgedwaaldes en gewondes. Die donker verberg die ergste verskrikkinge, maar verdubbel die verwarring.
Slegs een soliede bataljon bly nou oor: die Dorsets, die een wat Coke in reserwe gehou het. Die ander is almal deurmekaar: die ooblyfselfs van die 1 700 – d.w.s. Thorneycroft se ruiters, die drie Lancashire-bataljons en die oorblyfselfs van die stuk of 2 000 man wat gestuur is om hulle te versterk, die Imperial Light Infantry, die Middlesex en die 2nd Scottish Rifles (lg. deur Lyttelton gestuur).
As regimente bestaan hulle nie meer nie. In hul plek is geïsoleerde groepies manne wat om individuele offisere saamdrom, koel en opgewek; party van die manne is selfs lus om te veg. “Maar die donker en die gebroke front,” sê Churchill, “het almal verlam.”(84)
(84)Ibid 309-11
Op die kruin sit Thorneycroft op die grond. Om hom is die oorblyfselfs van die regiment wat hy bymekaar gekry het. Churchill gee hom Warren se boodskap en deel hom die goeie nuus mee. Die vloot is onderweg – ook die sappeurs. Thorncroft is in ‘n toestand van algehele fisieke en morele ineenstorting, ‘n staat van skok. Twaalf uur in die vuurlinie het met hom klaargespeel.
Geen boodskappe van die generaal nie, geen tyd om self verslae te skryf nie, mompel hy. Gevegte te bitter, te naby om aandag aan iets anders te gee. Moet terugval. Hy het reeds besluit. “Liewer ses goeie bataljons onder aan die voet van die heuwel as ‘n bloedige uitwissing in die oggend.”(85)
(85)Ibid 311-12. I.v.m. Thorneycroft se toestand sien F.P. Crozier a.w.
Selfs nou is terugtrekking – en teenspoed – nie onvermydelik nie. Voor hy tot die besluit gekom het, het Thorneycroft ‘n kort krygsraad belê. Twee van die bevelvoerende offisiere het ingestem, ietwat aarselend. Maar lt.-kol. Hill, bevelhebber van die Middlesex, het aangedring dat hy Thorneycroft se senior is; hy wou Thorneycroft se storie dat hy nou ‘n brigadier is, nie glo nie en Coke (wat dit nie van Warren gehoor het nie) bevestig Hill se aanspraak op senioriteit.
Hierdie klugtige argument, soos ‘n toneel uit ‘n operette deur Gilbert en Sullivan, word nou herhaal. Hill verskyn uit die duister en hou vol dat Thorneycroft geen reg het om die aftog te gelas nie. Niemand steur hom aan Hill nie.(86)
(86)Thorneycroft se verslag 26 Jan 1900 tap. OH II, 397
Terwyl Thorneycroft en die agterhoede by die pad afdaal, terwyl die dooies en baie ernstige gewondes alleen op die kruin agterbly, stuit hulle teen nog ‘n hindernis. Toe hy vroeë daardie aand teruggeroep is om sake met Warren te bespreek, het Coke sy stafoffisier, kapt. Philloips, in sy hoorkwartier op ‘n lys halfpad teen die heuwel agtergelaat.
Die geluid van stewels op die klippe wek hom. Phillips word te laat wakkeer om Thorneycroft uit te daag. Maar hy skryf ‘n formele memorandum – ‘n merkwaardige prestasie, die donker en verwarring in ag genome – wat hy aan alle bevelvoerende offisiere rig. “Hierdie aftog geskied sonder enige magtiging deur òf genl.-maj. Coke òf Sir Charles Warren. … As die generaal hier was, sou hy beveel het dat die kruin onmiddellik weer beset word.”(87)
(87)Coke se verslag 25 Jan 1900 met Phillips se memo as bylae, SD I, 103-4
As Phillips ‘n boodskap aan Warren se hoofkwartier kon gestuur het, sou sake miskien anders verloop het. Maar daar is natuurlik geen olie in die seinlamp nie. Soi is ‘n slag by gebrek aan ‘n pennie se olie verloor. Niemand steur hom aan Phillips nie. Die aftog duur voort. Churchill raai Thorneycroft aan om te doen wat hy die beste ag.(88)
(88)Coke se verslag tap
Naby die voet van die heuwel stuit Thorneycroft op sy laaste hindernis: kol. Sim en die reddingsparty, die voorhoede van die kompanie se sappeurs, kanonniers en 1 400 voetvolk. Sim oorhandig Warren se tweede boodskap, waarin hy Thorneycroft aansê om die kop tot elke prys te hou.
Dit is te laat. “Ek het gedoen wat ek kan,” sê Thorneycroft. “En ek gaan nie terug nie.” Sim en die kanonniers marsjeer taamlik skaperig terug, soos hoofrolspelers wat eers teen die einde van die laaste bedryf opgedaag het.(89)
(89)Sim se verslag tap
Nou behoort Spioenkop aan die dooies en die sterwendes van albei leërs: aan Britse kant het 243 gesneuwel; in die karige beskutting van die hoof-loopgraaf lê die lyke drie-diep. Die maan kom op.(90)
(90)Knox 87-94. Reitz 79
Eers om twee-uur rapporteer lt.Churchill weer op Three Tree Hill aan Warren. Die generaal slaap. Churchill sit sy hand op sy skouer. “Kol. Thorneycroft is hier, Generaal.” Warren aanvaar dit alles baie gelate – so sou Churchill later vertel. Wat ‘n sjarmante ou heer. Churchill voel opreg vir hom jammer. Hy voel ook jammer vir Warren se leë.(91)
(91)Churchill My Early Life 328-9
Kort ná dagbreek kyk Reitz, Opperman en die klein groepie burgers by hulle na Spioenkop en sien ‘n merkwaardige, ongelooflike skouspel. Op die kruin staan twee gedaantes wat hul gewere en slap hoede triomfantlik waai. Hulle is burgers. Hulle het die kop verower. Die Kakies is kopsku. Botha se merkwaardige optimisme is juis bewys.(92)
(92)Reitz 79. Barnard 102-3
Die nuus word telegrafies aan Buller gestuur. Hy ry onmiddellik na Three Tree Hill en kom kort ná dagbreek daar aan. Die grootste ironie word hom gespaar, nl. dat Schalk Burger en sy Boere die stellings sewe uur gelede verlaat het. Die nuus is wel vir hom ‘n bittere teleurstelling, maar tog nie ‘n verrassing nie. Hy kan geen blaam aan Thorneycroft heg nie. Inteendeel, die generaal het “verstandige versigtigheid” aan die dag gelê.
Hy blameer Warren. “As die verdediging van die kruin teen sononder onder hande geneem, loopgrawe gesink, kanonstellings berei, die dooies verwyder, die gewondes versamel en trouens die hele plek onder gereelde militêre bevel geplaas kon word … sou die koppies gehou kon gewees, daarvan is ek seker.”
(93)Buller se kommentaar van 30 Jan 1900, SD I, 95-6
Buller blameer ook homself. Hy moes sy instinkte gehoorsaam en Warren ses dae vroeër vervang het.(94) Buller se uitsprake oor die ramp – veral sy u itsprake oor buller self – soudeur Roberts beaam word. En dit is moeilik om hulle te weerlê.(95)
(94)Buller se vertroulike brief 30 Jan 1900, SD I, 89. Buller-Mil Sel 4 Sep 1900, SD II, 43
(95)R se kritiek op Buller omdat hy Warren nie vervang het nie, is in die berigte gepubliseer (London Gazette 17 Apr 1900), maar Buller se kritiek op homself eers in 1902 (Kb 968). R se verontskuldiging van Thorneycroft is nog nooit gepubliseer nie. Sien DO 105/24. R het van plan verander ná hy die slagveld persoonlik aanskou het
Nou is Buller weer die bevelhebber van sy eie leër. Hoog op die kruin betuig Botha sy deelneming met die Britse mediese offisiere; en die hoof-loopgraaf, wat so noodlottig vlak was, word diep genoeg uitgegrawe om as graf te dien.
Die grafgrawers kan sien hoe die Engelse ver onder hulle oor die rivier terugval. Maar die Boere het 335man in die gevegte verloor. Hoewel hul linies nou versterk is, is hulle te uitgeput om hul sukses op te volg.(96)
(96)Barnard 104-6. Vgl. Breyt III, 230-1
Daardie hele dag en ook die volgende beweeg die reusagtige kronkelende ry waens – voorrade op muilwaens, die 36 swaar kanonne op ossewaens, meer as 1 000 gewondes in die ambulanswaens en op draagbare – oor die pontonbrug by Trichardtsdrif.
Hierdie keer is Buller self in bevel, kalm, onverstoorbaar soos altyd. Met ‘n reusagtige aantekeningboek ry hy en sy uitgeputte staf heen en weer. Uiteindelik het Buller “die hele besigheid in sy sterk hande vasgegryp”, skryf Churchill met verligting.(97)
(97)Churchill Ladysmith 342. Buller se verslag 30 Jan 1900, SD I, 77-8
Daardie nag word die majestueuse aftog voortgesit: terug na die wit tente en die betreklike gerief van Buller se kamp agter die hange van Mount Alice. Dis ‘n ontsettende nag – pikdonker met gietende reën – ‘n nog erger ondervinding as die nagmars van 14 dae tevore.
Maar die hele aftog word sonder die verlies van ‘n enkele manskap of ‘n pond voorraad deurgevoer. Terwyl die ingenieurs die laaste van die pontonne verwyder, plons ‘n enkele kanonkoeël – Botha se afskeidsgeskenk – agter hulle in die Tugela.(98)
(98)Ibid. (Grant) Natal 26. Churchill a.w. 343
Die Engelse verliese was 1 500 dood, gewond of gevange. Dat daar verwyte was, spreek vanself.(99) Hulle het ontbereinge en opofferinge verwag. Maar vernedering was nog ‘n nuwigheid. Buitendien, wat het verkeerd geloop?
(99)OH II, 597 (die getal ongevalle vir 8 dae was 1 733)
Niemand weet van die seinlamp wat nie wou sein nie. Waarom het Buller ooit die bevel van sy leër aan Warren toevertrou? Waarom het hulle die aftog geblaas? Die offisiere kan dit nie verklaar nie.(100)
(100)Churchill a.w. 343-4. Birdwood Khaki and Gown 102. Callwell Life of Wilson I, 32
Onder die meer senior generaals begin die fluisterveldtog teen Buller, onder Lyttelton se leiding, momentum kry. Daar is praatjies van “Sir Reverse Buller” en “die veermag van die Tugela”.(101) Buller se neef, korrespondent van die Londense Times, skryf huis toe: “Die ergste is dat almal vertroue in Redvers begin verloor.”(102)
(101)Lyttelton-vrou 1 Feb 1900, Lyt
(102)B. Herbert-ouers 29 Jan 1900, Herb
Selfs die onderoffisiere, wat vroeër vol blinde vertroue in ou Buller was, begin oor hul groot generaal mor. “Almal is baie mismoedig,” skryf sers.-maj. Galley van die Army Service Corps. “Hulel kan nie verstaan waarom hulle die koppies met sulke groot lewensverlies moes inneem en hulle dan laat vaar nie. Ek dink genl. Buller moet maar baas van ‘n wassery word en mev. Buller laat kom kyk wat sy kan doen. …”(103)
(103)Sers. Galley, (sy) PV
Op die Tugela se suidelike wal spreek Buller sy leër persoonlik toe. Hy prys hul moed en bedank hulle “uit die diepte van sy hart” vir hul groot opoggerings. Daar is iets aan die manier waarop hy dit doen – ‘n droefheid wat hy kwalik kan onderdruk – wat die meeste teenkanting ontwapen.(104). Buller deel die manne mee dat hulle hom “die sleutel tot Ladysmith” gegee het en beloof hulle dat hulle binne ‘n week daar sal wees.(105)
(104)Nevinson Essays in Freedom (Londen 1909) 96-9. (Grant) Natal 27-8. Luit. Crossman dagboek 29, 30 Jan 1900, Cros 6306/34
(105)Lyttelton-vrou tap
Buller se meerderes deel nie sy optimisme nie. Die nuus dat Spioenkop prysgegee is, het groter verslaenheid veroorsaak as selfs die berigte oor Colenso. In Kaapstad reageer Roberts deur voor te stel dat Buller Ladysmith tydelik moet laat vaar deur voorlopig alleen defensief op te tree,(106)
(106)R-Buller 27 Jan 1900, RCSAW III, 627. Sien R se berig, waarin nie na Buller se selfkritiek verwys word nie.
Wolseley, opperbevelhebber van die leër in Brittanje, en die Britse Departement van Oorlog gaan veel verder. Hulle stel waarlik voor – ‘n voorstel wat later skaapagtig teruggetrek is – dat Buller Ladysmith vir goed moet prysgee. Miskien kan White en die taaiste lede van die garnisoen beveel word om hul pad oop te veg. Die res sal hulle voorrade in die lug moet opblaas en oorgee.(107)
(107)W-Buller 26, 27 Jan 1900 RCSAW III, 627-8
Albei voorstelle het Buller verbaas. Vreemd genoeg het hy ná Spioenkop nie dieselfde swart bui van woede en wrewel ondervind as ná Colenso nie.(108)
(108)Sien Buller-White tels in SD I
“Ons het laasweek heeltyd geveg,” skryf hy heeltemal opgewek aan sy vrou. “Maar ou Warren is ‘n dwaas en het my ‘n goeie geleentheid laat verbeur. Maar as ek ‘n bietjie geluk het, dink ek ek weet nou hoe om deur hierdie aaklige berge te kom.”(109) Hy het “die sleutel”
(109)Buller-vrou 30 Jan 1900, Bull (Crediton)
Arme Buller, 10 dae ná die briefie moes hy nogmaals oor die rivier die aftog blaas: die veerman van die Tugela, genl. Charon, met ‘n nuwe vrag dooies en sterwendes, die 333 ongevalle van die slag van Vaalkrans.(110)
(110)OH II, 403-22, 598
Tog het Spioenkop hom in ‘n sekere sin, soos hy gesê het, die sleutel tot Ladysmith gegee. Oorwinnings sou nie slegs ‘n kwessie van geografie wees nie. Die regte drif, ‘n koppie wat die omgewing beheers, die regte kanonstellings. Dit was ook ‘n kwessie van metode. Uit hul foute, hoe vernederend ook al, was Buller se 19de-eeuse leër – opperbevelhebber, generaals, offisiere en manskappe – almal besig om te leer hoe om ‘n 20ste-eeuse oorlog te voer.(111)
(111)Buller se get RCSAW III, 178. ‘n Simpatieke siening van Buller se probleme verskyn in Stopford se get RCSAW III, 266, Repington 206-9, Henderson Science of War 371-2
—oOo—