Milner se Drie Vrae
Die Boere-Oorlog
Deel 1
“In die beskrewe omstandighede (die stryd binne die Britse Departement van Verdediging) is dit miskien nie so sonderling dat geen kampanjeplan ooit vir krygsverrigtinge in Suid-Afrika bestaan nie.”
Verslag van die Koninklike Kommissie insake die Suid-Afrikaanse Oorlog (1903)
Hoofstuk-aanhef RCSAW I, 22-3
— — —
Hoofstuk 7
Milner se Drie Vrae
Pall Mall, Londen, 8 Junie – 19 Julie 1899
Die beëindiging van die Bloemfonteinse beraad het die oorlogsrisiko verhoog. Niemand, selfs nie Lord Lansdowne, Britse Minister van Oorlog, kan dit ontken nie. En vir die eerste keer moet hy en sy adviseurs in die Departement van oorlog oorweging skenk aan daardie drie deurslaggewende militêre vrae wat Milner gestel het, vrae wat later in die jaar in opeenvolgende rampe sou klink en weerklink.
Milner se voorstelle, soos ons gesien het, was om dadelik ‘n “oorweldigende mag – miskien tot 10 000 man” – te stuur; om genl. Sir William Butler, Opperbevelhebber in Suid-Afrika, te vervang deur ‘n Britse generaal met die politieke en militêre vermoë om die taak te verrig; om die meeste van die versterkings tot in die grenswêreld van Noord-Natal vooruit te skuif.(1)
(1)M-Selborne 24 Mei 1900 MP I, 400-3
In die Departement van Oorlog neem die Opperbevelhebber van die Britse Weermag, veldmaarskalk Lord Wolseley, ‘n nog sterker houding as Milner aan. Op 8 Junie stel hy voor dat genl. Sir Redvers Buller se hele 1ste Leërkorps en ‘n kavallerie-divisie (omtrent 35 000) gemobiliseer word ten einde Kruger met ‘n “demonstrasie” op Salisbury-plein, oefenterrein van die Britse Weermag, te oorbluf. Wolseley se veglustige memo’s, op die groen lêers van die Departement van Oorlog gekrabbel, beland op die lessenaar van die Minister van Buitelandse Sake.(2)
(2)W se notule 8 Jun en L se kommentaar en W se meer besadigde repliek 16, 17, 18 Jun 1900, DO 32/7846, 7, 9. Aantek. C-M 16 Mei 1900, DK 879/56
Dit is ‘n netjiese, saaklike lessenaar – so lyk dit in foto’s uit die tyd.(3) Wat ‘n teenstelling met die Departement van Oorlog waarin dit staan! ‘n Eeu vroeër was hierdie ou Departement van Oorlog in Pall Mall ‘n ry huise, onder hulle ok die vreemde Temple of Health and Hymen waar Emma Hart (later Emma Hamilton) as ‘n “godin” geïnstalleer is.
(3)H. Wilson With the Flag I, 210
In die koorsagtige militêre hervorming wat Engeland ná die teenslae in die Krimoorlog beetgepak het, het die Departement van Oorlog die hele ry huise ingesluk. Min van hulle is gesloop; dit was goedkoper om die geboue aanmekaar te las, gate in mure te kap en die geboutjies aaneen te skakel, selfs sonder dat die vloervlakke verander is.
Die gevolg was ‘n doolhof. Dit was die ene trappe en gange en portale, asof ‘n reusagtige, afgeleefde ou landelike verblyf in die Londense middestad agtergebly het. Hier kry ‘n mens nog af en toe die geur van raapolielampe en leerbrandemmers. Dit is ‘n kantoor waar private geskrifte en openbare figure weke lank spoorloos kan verdwyn.(4)
(4)Sien DO-klerk se verslag in Standard & Diggers’ News 3 Feb 1900. Sien ook LCC Survey of London XXIX, XXX en H. Gordon The War Office (Londen 1935)
Dit is hierdie verouderde en trae masjien, in die loop van twee eeue opgelap en oorgelap, wat veronderstel is om Brittanje se nuwe Ryksweermag van 340 000 soldate en reserviste te beheer en te lei.(5) En binne die naaf van hierdie masjien, so glad en glesloos soos ‘n swart-en-wit marmersuil en volkome uit voeling met Wolseley se soldate rondom hom, sit die Minister van Oorlog, Henry Charles Keith (“Clan”) Petty-Fitzmaurice, vyfde Markies van Lansdowne.
(5)RCSAW I, 31-4
Om te sê dat Lansdowne ‘n lid van een van die groot patrisiërfamilies van Engeland is,laat nie algehele reg aan sy seëninge geskied nie. Aan vaderkans is hy sowel Engels as Iers; aan moederskant sowel Skots as Frans. Hy is ‘n aantreklike man, met ‘n blasheid wat toegeskryf word aan sy Franse oupa, Bonaparte se aide-de-camp, Général Comte de Flahault, wat glo ‘n buite-egtelike seun van Talleyraad was.
Sy ander voorsate het landgoedere in ‘n goue reën op hom uitegiet. Lansdowne House in Piccadilly, Bowood in Wiltshire, Meikleour in Perthshire, Dereen in Country Kerry – hulle strek oor die helfte van die Btise Eilande. Tog is daar niks vulgêr of sinnelilks aan die manier waarop hy sy enorme inkomste bestee nie. Nooit sou hy saam met Emma Hamilton in die “Temple of Health and Hymen” rondgejakker het soos sy amoreuse Whig-voorsate nie.
Van sy kinderdae af word hy reeds die Victoriaanse ideale van diens geleer. In Balliol was hy een van dr. Jowett se eerste studente, en Jowett was ‘n streng leermeester.(6) Dit het gou geblyk dat Clan ‘n soort fenomeen is.
(6)Newton Lansdowne 1-9
Sy vermoëns is beskeie. Ondanks Jowett se aanmoediging het hy sy eerste j aar gedop. Maar hy het nie weer misluk nie. Toe hy 24 was, het Gladstone hom ‘n Liberale voorbanker gemaak. Op 30 het hy oorgestap – as Ierse landheer was hy verstaanbaar omgekrap deur Gladstone se eerste Ierse Wet op Grondbesit. Op 38 is h y as Goewerneur-Generaal na Kanada; op 43 na Indië as Onderkoning.
Oral het hy homself uitermate pligsgetrou bewys. Op die ou end tog ‘n krediet vir dr. Jowett! Hy is stylvol en patrisies en hoflik, veral teenoor Indiese maharadjas. Anders as Balliol-manne van latere oesjare toon hy geen gles in sy karakter nie.(7)
(7)Ibid 9-126. DNB
Asquith drink, Grey hou hom uit die hoogte, Curzon beskou homself as ‘n genie. Lansdowne het geeneen van hierdie gebreke nie. Hy is ‘n toonbeeld van mid-Victoriaanse deugde – die oorwinning van opvoeding oor herkoms, en van karakter oor albei. Hy het oor al sy voordele geseëvier.
En tog, dit moet mens toegee, ontbreek daar iets in Clan Lansdowne se persoonlikheid. Hy is té pligsgetrou. As hy maar soms sy plig vergeet het. Had hy maar ‘n ondeug om te onderdruk. En toe hy in 1895 uit Indië teruggebring is om Minister van Oorlog te word, was daar weinig geesdrif vir die aanstelling.
As die Engelse toe kon raai dat die Departement van Oorlog in 1899 deur sy groot krisis sedert die Krim sou gaan, sou hulle heelwat minder geesdriftig gewees het. In hierdie krisis het die weermag ‘n leier van vuur en staal nodig. Lansdowne, suil van die samelewing, het nòg vuur nòg staal – en ewe min die geringste sprankie verbeelding.(8)
(8)Aanhaling uit “Saki” bo-aan hoofst. 36 bied satiriese beeld van Lansdowne
Dit is nou die middel van Julie en Lansdowne moet op daardie veglustige minuut op Wolseley se groen lêer ontwoord – die een waarin hy in reaksie op Milner se versoek om die vasskroef van die oorlogsklem vra dat 35 000 troepe gemobiliseer word.
Later in die jaar, in die swart maande, sou die skuld vir die Departement van Oorlog se geknoei verstaanbaar genoeg op Lansdowne gepak word. Maar twee dinge verlam Lansdowne se millitêre voorbereidings, afgesien van sy eie aard.
In die eerste plek besku sy eie kollegas in die Kabinet die Departement van Oorlog met ‘n soort geamuseerde minagting, asof oorlog nie ‘n ernstige saak is nie – of veilig aan generaals oorgelaat kan word om oor te stry. In 1896 het Lansdowne senuweeagtig ingestem om die Kabinet te vra dat die soldy in die Weermag met ‘n paar pennies verhoog moet word ten einde ‘n beter soort rekruut te kry.(9) Ná aftrekkings het Tommy Atkins toe minder ontvang as die beroemde sjieling per dag wat ná die Nore-muitery in 1797 bepaal is.)(10)
(9)Newton 138-9. Mauice ens. Wolsely’s Life, 308-13, Oor gehalte van rekrute, sien RCSAW I, 41-6
(10)Sir J. Fortescue memo vir B 1902, Brod 9/494-8
Daardie selfde jaar, en weer in 1898, het Lansdowne ingestem om die Kabinet te vra dat die Staande Mag effens vergroot word. Hierdie voorstelle is teensinnig aanvaar, maar die Kabinet se gebrek aan vertroue in die Department van Oorlog was meer as duidelik. Sir Michael Hicks Beach, Minister van Finansies, het verhoogde militêre uitgawes in die openbaar veroordeel. Chamberlain het gespot met die Departement se “mankolieke en nuttelose” stelsel.
Salisbury, die Eerste Minister, het te kenne gegee dat hy Lansdowne miskien nie in die militêre debat in die Hoërhuis sou kon steun nie. Later het hy toegegee, maar Lansdowne gewaarsku: “Wat die militêre reëlings betref, moet ek sê dat ek enigiets sal beaam wat u goeddink. Maar my advies is om u nie te veel aan u militêre adviseurs te steur nie.” Lansdowne het gevoel dat hy “skandalig” behandel is – veral deur Hicks Beach – en gedreig om te bedank.(11)
(11) Newton ins. 139. L-Falfour Bal BM
Toe, in 1898, kom Kitchener se dubbele oorwinning: deur diplomasie in Fasjoda, deur geweld in Omdurman. Daar is ‘n ooreenstemmende styging in Lansdowne se aandele in die Kabinet. Maar geldelik word sy teuels nog steeds baie styf gehou: die militêrere begroting kry maar £20,6 miljoen. Volgens internasionale standaarde bly die Britse Weermag skraal: ‘n nominale totaal van 340 000 (in werklikheid 316 000) beroeps- en reserwesoldate, teenoor drie miljoen in Duitsland, 10 miljoen in Rusland en vier miljoen in Frankryk.(12)
(12)B (memo oor DO) Bal 49720/221-45. RCSAW I, 31-4
(Die Vloot vorm natuurlik die bolwerk van die landsverdediging en kry tradisioneel die grootste deel van die Verdedigingsbegroting.) Anders as sy buitelandse teenhangers moet die Britse Weermag gereed staan om in elke hoekie van die aardbol te gaan veg. En ná soldate vir p ermanente garnisoene in Engeland, in Indië, in Egipte en in die kolonies afgetrek is, bly daar maar twee leërkorpse en ‘n kavallerie-divisie oor – omtrent 70 000 man – om op oorsese “demonstrasies” te stuur.(13)
(13)RCSAW I, 34, 217, 249-56
Kortom, van die Britse Weermag word net verwag om vir klein oorloë gereed te staan. Maar is hierdie kleinoorlog-weermag bevoeg om enige soort oorlog te voer? Dit is ernstig onderbeman, veral in die artillerie en kavallerie, en het ‘n tekort aan alle soorte noodsaaklike voorrade, volgens Lord Wolseley,die Opperbevelhebber.(14)
(14)B-Brackenbury 15 Des 1899, Brod. RCSAW I 278-9
Die tweede rede vir Lansdowne se inersie in 1899 is sy afkeer van Wolseley en sy Ring. Watter oorwinnings kon Lansdowne se generaals nie behaal het as hulle ‘n vyand ewe verbete beveg het as mekaar nie! Maar die senior generaals is in twee “ringe” verdeel – veldmaarskalk Lord Wolseley se Afrikane, veldmaarskalk Lord Roberts se Indiërs – en die stryd is nog nie volstry nie. Die interne oorlog het Lansdowne van Wolseley en die grootste deel van die Departement van Oorlog vervreem.(15)
(15)Brackenbury was egter ‘n “Indiër”, en Lansdowne vlgs. C “Brackenbury-ridden”, C-Balfour Cham 5/5/81
Hy self verkies Roberts en sy Indiërs. Hul diplomatieke samewerking in Indië – Roberts as Opperbevelhebber in Indië, Lansdowne as Onderkoning – het die twee manne ‘n bewondering vir mekaar gegee. Maar toe Roberts ná 41 jaar diens in Indië na Engeland terugkeer, het Lansdowne – ongelukkig vir albei – in gebreke gebly om hom Britse Opperbevelhebber te maak. Die Kabinet het Roberts se mededinger, Wolseley, tot dié amp verhef. En Roberts moes genoeë neem met die opperbevelskap van Ierland.(16)
(16)Sien R-Ian Hamilton (sy intertydse skim-skrywer) 18 Mmei, 2 Jun, 15 Aug 1893, Ham Diverse Kis/4-6. I. Hamilton Listening for the Drums 5/5/81
Maar die slag van die Ringe duur voort. Dit is nie ‘n Wagneriaanse worstelstryd nie; daar is aan albei manne sowel ‘n kleinlikheid as ‘n tikkie grootsheid. Wilseley moet in 1900 aftree. Roberts, ‘n jaar ouer as Wolseley, is reeds 67; tog brand hy nog om die opperbevel van die Afrikane terug te gryp. Hul tweede-in-bevel en wettige erfgenaam versper sy weg: Sir Redvers Buller, nou bevelhebber van die 1ste Leërkorps by Aldershot.(17) Roberts en die Indiërs wag hul kans af, en hoe nader hulle aan Lansdowne kom, hoe slegter vir Wolseley, Buller en die doeltreffendheid van die Kavallerie.
(17)Oor Buller se netelige posisie sien Buller-CB 18 Jun 1895, 28 Jun 1899, CB 41212//227, 230
Lansdowne se antwoord op Wolseley se veglustige minuut van mid-Junie is kenmerkend negatief. Hy ontwyk Milner se drie vrae, maar stem saam dat hulle genl. Butler ‘n “wenk” moet gee dat hy “moet oppas”. Dit is egter te vroeg vir “openlike voorbereidings op ‘n oorlog”.(18) Hy verwerp Wolseley se uitgebreide voorstel om ‘n leërkorps van 35 000 man te mobiliseer.
(18)L-W 29 Mei, L-C 14, 27 Jun 1900. Ian 5/31, 26-7
Lansdowne bekommer hom nie oor die feit dat die totale Britse troepemag in Suid-Afrika mar 10 000 beloop teenoor die Boere se geraamde potensiële mag van 53 700 nie. Waarom sal die Boere inval? Wat gedoen moet word, is om te verseker dat die 10 000 man van die Britse garnisoen “in ‘n staat van algehele doeltreffendheid” verkeer. Hulle sal ekstra ammunisie en nuwe stewels moet kry – honderd patrone en een paar stewels per man – en bykomende vervoer en tien goeie Britse offisiere om ‘n bietjie gô in hulle te sit.(19)
(19)L se notule 16, 17 Jun, DO 32/7845-7. Vir raming van Boeregetalle sien Milner Notes (sy) PV 48 (m.i.v. bondgenote)
Dit is die besluit van die Minister van Oorlog wat op 19 Junie per kabel aan genl. Butler gestuur word. Butler word ook daaraan herinner dat hy nooit op ‘n belangrike vraag van die Departement van Oorlog geantwoord het nie. Die vraag is reeds die vorige Desember gestel, en dit lui:Hoe wil Butler die kolonies verdedig indien, soos onwaarskynlik lyk, die Boere hulle binneval?
Toe, ná hy Butler se antwoord per kabel ontvang het, wys Lansdowne hom hoflik tereg: “U kan skaars te duidelik verstaan dat dit u plig is om in alle beleidskwessies deur die HK (Milner) gelei te word … aan wie u natuurlik trou verskuldig is.”(20)
(20)L-Butler 21, 27 Jun, DO 32/7849 (079/8686)
Butler se antwoorde was werklik verstommend. Hy het geen verdedigingsplan voorgestel nie, niks gesê oor versterkings wat nodig is nie, ewe min waar hulle geplaas moes word. Net op een vraag het hy by implikasie genatwoord. Uit sy kabels het geb lyk dat hy Milner se vesoek dat Butler vervang moet word, as verstandig beskou. Butlet her Milner se oorlogstokery met die Randse kapitaliste onthul (hoewel hy nog nie wis dat Milner se vennote Wernher en Beit was en nie Rhodes nie).
So kabel hy bv.: “Situasie word nie in Engeland begryp nie. Indien ‘n krisis sou ontstaan, sal dit meer ‘n burgeroorlog as ‘n militêre operasie wees. … Volhardende pogings van ‘n party om oorlog te begin, is die … ernstigste element in situasie hier. Glo oorlog tussen blanke rasse ná Jameson-inval … sal grootste ramp ooit wees.”(21)
(21)L-Butler op 23 Jun 1899 aangehaal W. Butler 440-50 en SM 21/
Dit is nou vroeg in Julie en Wolseley en sy Afrikaner probeer om ‘n teenaanval te loods.
As Lansdowne Wolseley nogal uitputtend vind, is Wolseley se gevoelens jeens Lansdowne heelwat hartstogteliker. “Klein Landowne … is ‘n koppige kêreltjie, baie verwaand, en sy koppigheid berus op onkunde” – “Ek bring my dae in stryd met my meneertjie deur . …Sulke kleingeestigheid kan ‘n mens jou skaars voorstel. Ek is seker die een of ander Joodjie moet sy moeder voor sy verwekking oorval het.”(22)
(22)W-vrou 6 Sep, 13 Jul, 24 Jun 1899, Wol 28/50, 40, 30
So stort Wolseley sy gevoelens teenoor sy vrou uit. In werklikheid is Lansdowne vir hom en sy Ring meer as ‘n persoonlike vyand. Lansdowne is vir hom ‘n toonbeeld van die ergste gebreke van die Britse militêre stelsel, gebreke wat voortduur o ndanks die hervormings wat hy en sy Ring help instel het: gebreke soos die roekelose kostebesnoeiing in die militêre begrotng; die kleinlike regulasietjies en rompslomp; die geknoei en verwarring in die Departement van Oorlog; bowenal die oortreding van ‘n burgerlike Minister van Oorog en sy amptenare op ‘n terrein wat na regte tot hom en sy Ring beperk behoort te bly.(23)
(23)W-Vrou passim ins. Arthur ens. Wolseley Letters 272. W se get voor RCSAW II, Q 9080-3. 9035
Wolseley is natuurlik nie ‘n blote teoretikus, ‘n leun stoel-hervormer nie. Hy was vroeër ‘n beroemde veggeneraal. ‘n Vroeë stryd teen groot hindernisse (sy vader was ‘n verarmde Anglo-Ierse majoor wat dood is toe die seun sewe was); besondere moed onder vyandelike vuur (in Birma is hy ernstig in die dy gewond, en in die Krim is sy regteroog permanent deur ‘n ontploffende bom verblind); die wonderknaap van sy beroep (voor hy 27 was, was hy ‘ n luitenant-kolonel): hy is die byna legendariese militêre held.
Hierby moet sekere geesteshoedfanighede gevoeg word wat hom in enige beroep sou laat uitblink het: ‘n yskoue brein gepaard met demoniese energie, in sy eie woorde ‘n “mal en manlike” woede om te slaag. Voeg hierby ook nog ‘n ongebroke reeks suksesse as militêre bevelhebber in die Asjanti-, die Zoeloe- en die Egiptiese veldtog. Geen wonder Wolseley se naam het spreekwoordelik vir militêre doeltreffendheid geword nie – “all Sir Garnet” sou die cockneys dit stel. Teen die 1880’s word hy as “ons enigste generaal” beskou (Roberts is “ons enigste ander generaal”).(24)
(24)Sr J. Fortescue Following the Drum (Londen 1932) 121-62. DNB
Maar Wolseley is nou 66. Van die jong Wolseley se swier, die model waarop W.S. Gilbert sy “moderne Generaal-Majoor” in The Pirates of Penzance gebaseer het, het weinig oorgebly. Sy hare is spierwit. Hy het twee jaar tevore die een of ander siekte gehad (volgens Roberts ‘n beroerte) en sy geheue is nou pynlik onbetroubaar. Hy is ‘n “uitgedoofde vulkaan”, beken hy aan sy vrou. Dit is aan haar dat hy in hierdie bittere en holle jare as Opperbevelhebber sy hart uitstort.
“Liefste Snipe,” begin hierdie briewe, byna opgewek, en dan vloei die venyn. Die Britse Weermag is in sy huidige vorm uitgedien. Die Opperbevelhebber is ‘n blote boegbeeld. Die Leër is onder die beheer van ‘n onkundige en en verwaande burgerlike wat nie genoeg moed het om die Weermag se gebreke teenoor sy mede-Ministers te erken nie. “Ek glo dat ‘ n oorlog op die oomblik die beste ding vir ons sal wees,” het hy onlangs opgemerk. “Ons moet ontslae raak van ‘n onmoontlike militêre stelsel. …:(25)
(25)W-vrou 24 Jun ens. 1899, Wol 28/30
Terselfdertyd word Wolseley gekwel deur die gedagte dat hy behoort te bedank. Twee oorwegings weerhou hom hiervan. Een: sy opvolger sal Roberts wees – “klein Roberts”, hoof van die Indiërs. Roberts weet miskien baie van Indië, maar hy weet niks van Engeland af nie. As hy beheer oor die Tuisweermag verkry, sal “alles na die duiwel gaan”.(26)
(26)W se aantek. van 2 Apr 1898, Wol SSL 10/1/230
Terselfdertyd het Wolseley, so beken hy self, ‘n hopelose drang om as Opperbevelhebber van ‘n leër in die veld te dien. Dit kan ‘n luisterreyke einde wees, soos ‘n gedig deur Tennyson. Een groot bevel, en miskien die dood in die tuig; toe nie in sy bed “soos ‘n ou vrou” nie.(27)
(27)W-vrou 4 Jun 1898 en 1894 aangehaal Arthur Letters 362, 316
Maar watter kans het hy om die Ring nou op die slagveld te lei? As ‘n ekspedisie na Suid-Afrika gestuur word, sal sy leier nie Wolseley wees nie, maar sy oud-beskermling, Sir Redvers Buller. Buller is ses jaar jonger as hy en sy jare as Adjudant-generaal het hom ‘n ewe skitterende reputasie as hervormer gegee as Wolseley self. Geen wonder Wolseley is afgunstig nie.
Kortom, die Ring het sy betowering verloor. Wolseley kan Buller nie daarvoor vergewe dat hy in 1895 die degradasie van die Opperbevelhebberspos deur die Liberale Regering aanvaar het nie. Dit was voor die Tories aan die bewind gekom en Wolseley aangestel het.(28)
(28)Sien nota 17
Die teenaanval op Lansdowne wat Wolseley in Julie doen, is ‘n d riedubbele salvo: drie stelle minute waarin hy ‘n “voorwaartse” beleid voorstaan. Hy herhaal sy vroeëre plan: roep Buller se 1ste Leërkorps op Salisburyplein uit – sê 35 000 man – en jaag Kruger die skrik op die lyf; koop hulle vervoermiddele na Suid-Afrika (11 000 muile, teen ‘n koste van byna £500 000) ingeval hy nog nie geskik het nie. Wolseley voeg ‘n tweede voorstel by: stuur ‘n eerste paaiement van 10 000 man na Suid-Afrika, soos Milner voorgestel het.
Dit bring Lansdowne onmiddellik terug by die eerste van die drie deurslaggewende vrae: hoeveel troepe sal nodig wees om die twee kolonies teen ‘n inval te beveilig? 10 000, volgens Wolseley. Lansdowne vind hierdie buitensporige gedagte bespotlik.(29) En hy mobiliseer die ander generaals, veral een van die Indiërs, teen Wolseley en Buller.
(29)W se notule 4-12 Jul 1900 & L se kommentaar DO 32/7847. Sien ook L-C 21 Aug 1899, Cham JC 5/51/67
In Julie stel hy genl.-maj. Sir Penn Symons, ‘n brigadier uit Indië, as bevelhebber in Natal aan, die kwesbaarste van die twee kolonies. Hy kon skaars ‘n swakker keuse gemaak het. Symons weet feitlik niks van Suid-Afrika nie, en hy is ‘ n vuurvreter. Net ‘n paar dae ná sy aankoms vra Lansdowne hom per kabel wat hy i.v.m. die eerste deurslaggewende vraag dink. Sy antwoord: ‘n blote 2 000 ekstra man sal Natal tot in sy noordelike hoek beveilig (al word dit dáár deur die twee republieke begrens).(30)
(30)W.P. Symons se siening soos deur die Natalse regering gerapporteer Natal 16 Jul 1899, SM ½
By gebrek aan steun van Butler – en Butler beveel hoegenaamd geen versterkings aan nie – wend Wolseley hom tot sy ou Afrika-kollega, genl.-maj. Sir John Ardagh, Direkteur van die Departement van Oorlog se Intelligensie-afdeling. Maar Ardagh is ‘n sku, versigtige man bekend vir sy ontstellende stiltes. Buitendien het Ardagh ‘n uiters karige begroting vir sy Intelligensie-afdeling – £20 000 vir die hele wêreld.(31) Hy het geen professionele intelligensie-agente in òf die Vrystaat òf die ZAR nie. Sy voorspellings is dus aarselend en teenstrydig. Wanneer hulle akkuraat is – en Wolseley begunstig – vind Lansdowne dit maklik om hulle opsy te vee.(32)
(31)Sir J. Ardagh get RCSAW Iim Q 5126
(32)Sien reeks Inligtingsverslae in 1899, DK 417/275
Ardagh is geneig om te glo dat die Boere strooptogte sal kies. Sy Departement se jongste intelligensievoorspelling is saamgevat in ‘n boekie van 80 bladsye, Military Notes on the Dutch Republics, “geheim” gemerk en selfs vandag weinig bekend. Hy voorspel – volkome korrek – dat die Vrystaat sy lot by die ZAR sal inwerp. Saam sal hulle oor ‘n potensiële invalsmag van 34 000 man beskik (met inbegrip van 4 000 Afrikaners uit die kolonies); die oorblywende 20 000 sal tuis moet bly om die Kaffers en die Uitlanders dop te hou. Hulle sal die jongste kanonne en gewere hê.(33) (Hoewel die Intelligensiediens Transvaal se Mausers met 10 000 onderskat en die getal Long Toms op 16 i.p.v. vier gestel het, kanselleer die foute mekaar min of meer uit.)(34)
(33)Military Notes (sy) PV 19-38, 48, 51. RCSAW Um 174-5
(34)SM
Daar is ‘n voetnoot oor ‘ n moontllikheid dat Ladysmith, Natal, uit die Vrystaat aangeval sal word.(35) Maar die algemene indruk wat in Military Notes en in ander voorspellings van die Departement gewek word, is dat “strooptogte” deur twee- tot drieduisend Boere in die kolonies afgeslaan sal moet word.(36)
(35)Military Notes 52
(36)Sien prof. Oman se kommentaar in National Review deel 37 1901. Sien ook RCSAW I, 174-80
Hoe het Ardagh en sy Departement hierdie gevolgtrekking bereik, wat in die lig van latere gebeure so verstommend sou lyk? Die antwoord lê in Military Notes: die Boere is nie as ‘n ernstige militêre beweging beskou nie. Daar is gemeen dat hulle as vegters swak sou afsteek by die Boere wat Golley se klein mag op Majuba verslaan het. Boeregeneraals, gewoond aan Kafferoorloë, weet nie hoe om groot massas soldate te hanteer nie; selfs Joubert het nog nooit meer as 3 000 man baklei nie.
Die offisiere sal nie die voorraad- en vervoerprobleme kan hanteer nie. Gebrek aan dissipline sal die saak vererger. In ‘n oorlog sal hulle hul eie nuwe artillerie – die Krupp- en Creusot-veldkanonne wat ná die Jameson-inval gekoop is – nie by die Britse Armstrongs kan kers vashou nie. Bowendien sal die kanonne hulle hinder wanneer hulle hul ou guerrillataktiek probeer toepas. Hulle was nog altyd bang vir die Engelse kavallerie, en hulle het nog nie moderne artillerie-skrapnel geproe nie.
Kortom, die Boere sal dit onmoontlik vind om die kolonies met welslae binne te val. Meer nog: ‘n “toereikende” Britse infanteriemag, gesteun deur kavallerie en artillerie, sal die Republieke sonder moeite kan binneval. Op die oop vlaktes van die Vrystaat of Transvaal sal hulle die Boere maklik klop (hoewel hulle in die gebroke wêreld van die Natalse grensgebied meer moeite mag ondervind).
Military Notes sluit die verslag met ‘n majestueuse sin af. “Dit lyk seker dat een ernstige hinderlaag hul dissipline en organisasie dermate sal knoe dat hulle dit onmoontlik sal vind om verder doeltreffend weerstand te bied.”(37)
(37)Military Notes 49-52 (sy) PV
Afgesien van Ardagh is die belangrikste oorblywende lid van Wolseley se Ring Sir Redvers Buller. Tot dusver het Lansdowne Buller maar een onderhoud gegun. Maar op 18 Julie word Buller uit Aldershot na die Departement van Oorlog ontbier, en dit blyk nou dat hy nog meer ontsteld is as Wolseley oor die weerloosheid van die twee kolonies.(38) As die aangewese leier van die hoof-ekspedisiemag is Buller die man wat met sy eie reputasie – miskien selfs met sy lewe – vir hierdie flaters sal moet boet.
(38)Buller se get RCSAW III, 169-70. Buller-Bigge 19 Feb-15 Mrt 1900, Big. Buller se doelwit en verklaring 6, 18 Jul 1899, RCSAW I, 263-4
Maar teen die middel van Julie weifel Lansdowne nog steeds. Hy wag op leiding van Chamberlain en sy kollegas in die Kabinet. Nog steeds ontwyk hy Milner se drie vrae. Toe, skielik en dramaties, lyk dit asof die verwarde politieke situasie opklaar.
Op 19 Julie lees Wolseley in die koerant dat Kruger aansienlik politieke toegewings gemaak het, met inbegrip van ‘n ten volle terugwerkende sewejaar-stemreg. Die Times kondig aan dat die krisis verby is.(39)
(39)Times 19 Jul en W-vrou 19 Jul 1899, Wol
Wolseley skryf mismoedig aan sy vrou: “Die koerante lyk soos vrede.” Nietemin het die krisis reeds iets vir die Weermag verkry – die sowat £100 000 wat aan stewels, mule, e.d.m. toegesê is. En Wolseley is oortuig dat daar geen salf aan Kruger te smeer is nie. Oorlog is dus op die lange duur onvermydelik.(40)
(40)W-vrou 11 Jul 1899, Wol 28/38
Daardie middag vertrek Wolseley per trein uit Londen na Amesbury om die millitêre maneuvers op Salisbury-plein dop te hou. Dit is iets waarop hy trots kan wees. Die maneuvers is sy persoonlike skepping. Twee jaar tevore het hy Lansdowne oorreed om die enorme stuk grond vir die Weermag te koop. Volskaalse gevegsopleiding is dus nou weer moontlik, nadat dit ‘n kwarteeu lank in onbruik verval het. Wolseley verlustig hom daarin.
Ten spyte van sy kwinte en kwale kan hy nog hard op ‘n vars perd galop. Wat ‘n verligting om uit Londen weg te kom, daardie “aakllige Babilon vol lawaai en vullis”, soos hy dit noem. Hy het die mensemassas byna soveel soos hy die eensaamheid haat. Wanneer hy alleen in sy klub, die Athenaeum, eet en die St James Gazette aan tafel lees, voel hy volkome verlate. Maar selfs die Athenaeum is nog beter as daardie haatlike Departement van Oorlog.(41)
(41)W-vrou 26 Jul, 24 Jun 1899, Wol 28/30
Wat die hoof van die Departement betref, Lansdowne – daardie “koppige mannetjie … se voosheid maak (my) gedaan”.(42) Maar hy is jammer dat ‘n oorlog uitgestel is. ‘n Oorlog sal die Britse Weermag regruk. Dit sal ook die Engelse hoër stand regruk, daardie “vulgêre, snobistiese”en onkundige stand wat nog steeds die rooibaadjie-gees in die Weermag aan die lewe probeer hou, ‘n dekade nadat die uniforms kakie geword het. En nog die beste, ‘n groot oorlog sal klein Lansdowne se “einde beteken”.(43)
(42)W-vrou 13 Jul 1899, Wol 28/40
(43)W-vrou 13 Jul 1899, Wol 28/30. W-vrou 10 Sept 1894, aangehaal uit Arthur Wolseley Letters 321
Drie weke voor die Departement van Kolonies die berig i.v.m. Kruger se “terugkrabbeling” ontvang het, het Chamberlain sy eerste belangrike toespraak oor Suid-Afrika gelewer. Die geleentheid was sy party se jaarvergadering – in die stadsaal van Birmingham op 26 Junie. Die toespraak (“Ons het ons hande aan die ploeg geslaan”) word as ‘n meesterstuk van ferme matigheid deur die Times aangeprys.
Oor Milner is Chamberlain vleiender as ooit tevore. “Wie is Sir Alfred Milner?” vra hy teories in daardie reuse-byeenkoms, asof Milner sy eie persoonlike uitvinding is. Toe laat Chamberlain sy oogglas val. Met daardie blik van suiwer staal, daardie weifellose selfvertroue wat net in Birmingham gemaak kon gewees het, antwoord Chamberlain op sy eie vraag. “Sir Alfred Milner is gekies weens sy groot vermoëns, sy koele oordeelsvermoë, sy onfeilbare takt, sy onpartydige denke.”(4)
(44)Times 27 Jun 1899 bl. 10 kol 4-6. Hy het ‘n opsomming aan M gestuur. Sien DK 879/56/55
Die ironie van die woorde! Chamberlain het self uiteindelik ingesien waarop Milner se beleid werklik afstuur: om oorlog op die ZAR af te dwing en die gebied vir die Ryk te annekseer. Chamberlain se eie beleid, daarenteen, is om ‘n opregte skikking oor die stemreg te aanvaar en om ‘n nuwe konvensie te sluit waardeur die ZAR se binnelandse onafhanklikheid gewaarborg sou word. Die gaping tssen die twee beleidsrigtings word sedert Mei steeds wyer. Chamberlain en die Departement van Kolonies is is baie ontevrede met Milner se abrupte beëindiging van die beraad in Bloemfontein.(45)
(45)C-M 5 Jun 1899, DK 879/56. Wilde 110-11
Chamberlain en sy personeel het nog ongelukkiger geword toe hulle Milner se verslae in Mei en Junie gelees het. Die Departement se doel was om Milner se verslae te publiseer ten einde die Britse publiek te wys op die boosheid van Kruger se regering en die “matigheid” van die Britse voorstelle. Maar daar is geen matigheid in Milner se jongste verslae nie. Die “Helote-verslag” waarmee Milner “die porselein wou breek”, het bepaald die koppies en pierings in die Departement van Kolonies laat rinkel. Wat laat Milner dink dat dit die taal van diplomasie is? Op die ou end het die departement die “Helote-verslag” in getemperde vorm uitgereik.(46)
(46)K se notule 5 Mei 1899, DK 417/279/12596. K9345
Milner se ander uitbarstings, soos die “Nagmerrie-verslag” (waarin Chamberlain uitgetart word weens sy medepligtigheid aan die Jameson-inval) word as te kwaai beskou om selfs aan die Kabinet te toon.(47) En Chamberlain vind dit “werklik nogal uitputtend” dat Milner, nou om alles te kroon, wil hê dat Butler, die Generaal aan die Kaap, afgedank moet word.
(47)Wilde 103
Tevergeefs probeer Chamberlain teenoor Selborne (in werklikheid ‘n stoere Milneriet) ‘n grappie daarvan maak. Milner was “oorstuur” sê hy. “Ek wens hy wil die raad onthou wat hulle aan ‘n dame gegee het wie se klere aan die brand geraak het – om so koel moontlik te bly.”(48)
(48)C-Selborne 26 Jun 1899, Cham JC 10/4/2/42
Die hoogtepunt van hierdie moeilike tydperk kom toe Milner, vasbeslote om daardie 10 000 Britse troepe in Natal te kry, beken dat daar wel ‘n saak vir oorlog uit te maak is – dit is die enigste manier om anneksasie te verkry. As die troepe kom, sê Milner in ‘n kabel , “sal die waarskynlikste gevolg … algehele terugkrabbeling wees … of anders ‘n oorlog, wat, hoe betreurenswaardig ook al op sigself, ons ten minste in staat sal stel om sake op ‘n gesonde grondslag te plaas … beter as wat die beste k onvensie dit kan doen.”(49)
(49)M-C 23 Jun, DK 879/56/110
Hierop ontplof Fred Graham, Assistent-Adjunk-Minister van Kolonies: “Eerlik gesê, ek dink daar is ‘n gevaar dat die party in Suid-Afrika ons in ‘n rigting probeer dwing. Terwyl sy meegevoel met die Uitlanders opreg is, is hierdie party se hoofdoel om (die skande van) Majuba uit te wis en Transvaal so gou moontlik te annekseer. Ons stel ons vertroue, en tereg, in ‘n buitengewoon bekwame Hoë Kommissaris; maar ek begin dink dat daar in die Suid-Afrikaanse lug iets oopwindends is wat dit vir manne moeilik maak om koel en onbewoë na sake te kyk en dat Sir A. Milner miskien net so vinnig in die een rigting op loop sit as Sir Wm. Butler in die ander…”(50)
(50)Graham se notule, DK 417/262/16194
Chamberlain knik. Hy betig Milner oor sy mening dat enige toegewings van Kruger noodwendig bedrog sal wees. “As die toegewings wesenlik lyk, is dit ons beleid om hulle as sodanig te aanvaar en hulle nie te verkleineer nie,”(51) deel hy Milner mee. Maar die gevaar dat die situasie buite beheer kan raak, ontstel hom. Gedurende die Jameson-inval het Chamberlain hom deur sy opportunisme aan Rhodes se genade uitgelewer. Nou, as die verantwoordelike Minister, het hy homself aan die genade van Milner en die Jingo’s in Suid-Afrika uitgelewer.
(51)C-M 6 Jul 1900, DK 417/279/17501
Want a.g.v. Milner se bedrywighede – en dié van sy kapitalistiese bondgenote (hoewel Chamberlain dit nie kon weet nie) – het die spanning dwarsdeur Suid-Afrika toegeneem. In die ZAR stel die Uitlanders, wat hulself vroeg in Junie by die Blomefonteinse minimum geskaar het, nou hoër eise. Hulle het ‘n Uitlander Council in Johannesburg gestig – ‘n soort Uitlander-parlement waarin gewese lede van die Reform Movement oorheers.
Die Council het reeds allerlei uittartende eise gestel: Kruger moet die forte afbreek en sy volk ontwapen. Nou, vyf dae ná die toespraak in Birmingham, reik hulle ‘n manifes uit waarin die onmiddellike en radikale hervorming van die stemreg en ‘n herverspreiding van setels in die Volksraad geëis word: in werklikheid ‘n politieke oorname.(52)
(52)K 9415/41. K 9518/17-21
Die nuwe veglustigheid vind weerklank op openbare byeenkomste dwarsdeur Brits-Suid-Afrika; 5 000 mense in Kaapstad op 28 Junie en nog duisende in Port Elizabeth en Grahamstad. Die plaaslike Britse pers begin die oorlogstrom saam slaan. Die Cape Times, onder redaksie van Milner se goeie viend Edmund Garrett, waarsku dat “die geweer gelaai moet word … (die Afrikaners) moet gedwing word om te glo dat dit gelaai is, desnoods deur dit af te vuur”.(53)
(53)Sien DK 879/59/251
In Natal word monstervergaderings in Durban en Pietermaritzburg gehou. Daarop volg versoekskrifte teenoor Kruger wat deur meer as die helfte van die blanke mans in die kolonie onderteken word. Die Natalse pers is ewe jingoïsties as die Britse pers in die Kaap. Uiteindelik neem die veggees selfs besit van die Natalse koloniale regering, wie se verkokse lede Milner tot dusver kokel behandel het, deels uit vrees dat hul magtige buurman, die ZAR, sou aanstoot neem.(54)
(54)K 9518, 9521. Hely-Hutchinson 26 Jul 1899, DK 879/56/150-1. Marais 294-5. MP 1, 462-4
Eindelik, in Julie, word Kruger se jongste aanbod bekend gemaak: ‘n terugwerkende sewejaar-stemreg. Dit blyk dat Kruger deur Abraham Fischer, Staatsekretaris van die Vrystaat, tot dié stap ooreed is en dat dit ook die seën van Afrikaners in alle dele van die Kaapkolonie geniet – met inbegrip van dié van die Kaapse Regering – net soos die Uitlander Council se manifes die seën van die Britse party geniet.(55)
(55)Times 18 Julie 1899. DK 417/263/18070. Wilde 119. Marais 290-2, 295-9
Ná die berig van Kruger se “terugkrabbeling” op 18 Julie deel Chamberlain die Times se wandelgang-korrespondent mee dat die krisis verby is. Dit is wat Chamberlain glo, en dit, soos ons gesien het, is wat die Times daarna rapporteer.(56) (‘n Deel van hierdie krisis was die vertrouenskrisis in Milner, maar hiervan was die publiek natuurlik onbewus.)
(56)Garvin III, 418-19
Dit lyk asof Brittanje ‘n redelike skikking bereik het. Hulle moet die Boere in elk geval nie afjak of hul toegewings verkleineer nie, hoe heftig Milner ook al reageer. Gelukwensinge begin die Departement van Kolonies bereik. Op 19 Julie skryf Lord Salisbury om Chamberlain met sy “groot diplomatieke sukses” geluk te wens.(57)
(57)Salisbury-C 19 Jul 1899 Cham JC 5/67/116
Die brief kruis een deur Chamberlain waarin dieselfde mening beskeie uitgespreek word. Dit is ‘n “triomf vir morele druk – vergesel deur nege spesiale diensoffisiere en drie artillerie-batterye”.(58) (In werklikheid was daar 10 offisiere, terwyl die grofgeskut nog nie verskeep was nie.)(59)
(58)C-Salisbury 19 Jul 1899, Sal E/154
(59)SJ 1 Jul 1899. Sien L-C 11, 15 Aug 1899, Cham JC/5/51/59. 61
Maar dit is nie Chamberlain (of Salisbury) se aard om hul greep op die teenstander te laat verslap wanneer hulle hom sien swig nie. Daar is nog steeds ‘n moontlikheid dat Milner reg is: Kruger se nuwe aanbod is miskien maar ‘n slenter om die Britse publiek om die bos te lei. Chamberlain en Salisbury spreek dus af dat die diplomatieke skroef styf op Kruger gehou moet word totdat hulle uiteindelik oor die besonderhede van die skikking kan ooreenkom.
Presies wat sou die uitwerking van die nuwe sewejaar-stemreg wees? Hoeveel van die Uitlanders sou onmiddellik die stemreg kon kry? Hoeveel van hulle sou dit aanvaar? Hoe gaan die nuwe stemkrag in die Raad versprei word? Dit is die groot imponderabilia, die onbekende faktore. En Chamberlaindring daarop aan dat ‘ n gesamentlike ondersoek gehou moet word om vas te stel of die nuwe stemreg werklik sal beantwoord aan die beginsel van “onmiddelle en wesenlike” verteenwoordiging vir die Uitlanders.(60)
(60)C-M 27 Jul 1899, DK 879/59/245-9. Salisbury-C 20 Jul 1899, Sal E/155. Wilde 122-3. Marais 303-4
Dit was ‘n koel, rasionele manier om die eeu-lange rusies tussen Engeland en die ZAR te beëindig, en as Kruger Chamberlain vertrou het, kon dit maklik geslaag het. In werklikheid was daar heeltemal te veel wedersydse wantroue tussen Oom Paul en Pushful Joe. Ondanks die pleidooie van Hofmeyr en die Kaapse Afrikaners, antwoord Kruger nie op Chamberlain se voorstel dat ‘n ondersoek gehou word nie. Inteendeel, hy verwerp dit, want, sê hy, dit sal sy land se onafhanklikheid bedreig.(61)
(61)Kruger-Steyn 2 Aug 1899, MP I, 483
En terwyl Julie in Augustus oorgaan, sypel die atmosfeer van onsekerheid en skaakmat weer in Downing Street terug; dit voel byna asof ‘n somer-hittegolf dit vererger.
Intussen word Suid-Afrika vir die eerste en laaste keer daardie sessie in die Britse Laerhuis bespreek. Vir Chamberlain (en Sallisbury) was dit nog altyd vanselfsprekend dat Engeland se beleid teenoor Suid-Afrika die steun van meer as die regeringsparty moet geniet. Hoewel die koalisie van Konserwatiewe en Liberale Unioniste hom altyd ‘n massiewe parlementêre meerdeerheid besorg, wil Chamberlain die steun of ten minste die instemming van genoeg middel- en regtervleuel-liberale hê om ‘n hoofdelike stemming in die Huis te vermy.
Dit was die voorwaardes waarop die vorige jaar se Fasjoda-krisis gehanteer is. Die Parlement het ‘ n verenigde front ateen Franse indringing in die Bowe-Nyl gebied, en die Franse, sonder militêre steun, moes swig. Ondanks die nuwe onsekerheid oor Kruger se voornemens hoop Chamberlain nog steeds dat hy die triomf van Fasjoda op groter skaal in die ZAR sal kan herhaal.(62)
(62)Sien Garvin III, 224, 237
Met sy toespraak voor die Laerhuis op 28 Julie het chamberlain dus ‘n delikate taak. Hy moet sy eie imperialistiese ondersteuners agter hom kry, dit natuurlik, en nog steeds die druk op Kruger volhou. Maar hy moet ook die Liberale van die sentrum, o.l.v. Campbell-Bannerman, gerusstel. Dit was een van die hoofredes waarom die Kabinet nie versterkings na Suid-Afrika wou stuur nie. Want vroeg in Julie is Wolseley se vurige memo’s – waarin hy vra dat die 1ste Leërkorps opgeroep en ‘n eerste aflewering van 10 000 man gestuur word – deur Lansdowne onder die Kabinetlslede gesirkuleer. Chamberlain self het gehou van die gedagte dat 10 000 gestuur word, maar al sy kollegas, met inbegrip van Lansdowne, het dit verwerp.
Die beleid kon militêre swakhede gehad het, maar dit het Chamberlain beslis die hefhand in die Laerhuis gegee. Sy toespraak was ‘n triomf. Hy kasty Kruger. Kruger se beleid is ‘n stap agteruit, sê hy, en hy het daarmee die gees en miskien ook die letter van die Londense Knvensie verbreek. Hy noem nogmaals die Uitlanders se griewe op. Hy waarsku die Huis dat Brittanje in die verlede onmagtig was om regte vir Britse onderdane te verkry – soos selfs die naturelle weet. As dié situasie voortduur, kan dit “in die toekoms baie oorloë veroorsaak en die voorspel tot iets soos ‘n ansionale ramp” word.
Tog hou hy vol dat sy eie oogmerk ‘n vreedsame skikking is. Hy kondig sy nuwe voorstel vir die gesamentlike ondersoek aan. Dit is Kruger se kans om ‘n eerbare vrede te handhaaf. Chamberlain smeek die Parlement om hom te steun en Kruger te oortuig dat hy moet kop gee voor dit te laat word. En Salisbury staan skouer aan skouer met Chamberlain. Hy eggo die plegtige woorde: hulle het “hand aan die ploeg” geslaan.
In antwoord hierop wend Campbell-Bannerman geen poging aan om Chamberlain se saak vir die Uitlanders te weerspreek nie; ewe min is hy gewillig om oorlog buite rekening te laat as ‘n manier om die onreg te herstel. Die opposisie steun Chamberlain se beleid dus met voorbehoude. Die debat eindig sonder ‘n hoofdelike stemming en die Huis verdaag om sy vakansie van vyf maande te begin.(63)
(63)Hansard LXXV 28 Jun-4 Aug 1899
Noudat die Parlement uit die pad is, voel die Kabinet dat hulle weer daardie lastige kwessie van militêre versterkings vir Suid-Afrika kan oorweeg. Wolseley wil nog altyd 10 000 man hê en Symons, die opperbevelhebber in Natal, het sy eie skatting van twee- tot vyfduisend verhoog.(64)
(64)Hely-Hutchinson-C 25 Jul 1899, DK 879/59/240. SM 1/2
Op 2 Augustus het Lansdowne toe tog ‘n simboliese versterking aanbeveel: ‘n bataljon van sowat duisend man uit Engeland of die Middellandse See-gebied kon na Suid-Afrika gestuur word; voeg drie artillerie-batterye by wat reeds bevel gekry het om na Natal te gaan, en verskuif 500 man uit die Kaap daarheen. Dit bring die totale Natalse versterkings op 2 000.
Natuurlik kap Wolseley teen: sonder perde sal dit nie ‘n vo lwaardige mag wees nie; buitendien is die getalle belaglik klein om die hele kolonie te beskerm. Die Kabinet steur hulle nie aan Wolseley nie,(65) maar voel minder gelukkig met hul Miniswter van Oorlog toe Lansdowne enkele dae later onthul dat die Departement van Oorlog uiteindelik sover gekom het om die kontingensieplan op te stel waarvolgens die 1aste Leërkorps (d.w.s. die Britse invalsmag) op die grense van die ZAR geplaas sal word.
(65)L se notule 2 Aug vir Britse Kabinet 2 Aug , W se notule 3, 18 Aug 1899, RCSAW I, 266-7
Dit sal, soos sake nou staan, vier maande in beslag neem – of drie maande mits £1 miljoen se muile, waens, klere, ens. Onmiddellik bestel word.(66) Lansdowne se voorspelling van ‘n vertraging van vier maande, in welke tyd die Engelse bloot defensief sal kan optree, verdwaas die Kabinetslede.
(66)L se notule vir Britse Kabinet 12 Aug 1899, RCSAW III, 507-8
George Goschen skryf om te sê dat die vertraging “belaglik” is. Gelukkig het die Boere nie Lansdowne se “weersinwekkende” dokument gelees nie, anders kan hulle dalk “op Natal afstorm”.
Hoe kon Lansdowne die situasie so verknoei het?(67) Maar Salisbury aanvaar die nuus kalmer. Hy het nooit aan die “futiliteit”van die Departement van Oorlog getwyfel nie. Dit sal natuurlik “onhoflik” wees om hulle op hierdie oomblik te kritiseer. Die vraag is: moet hulle nou die ekstra £1 miljoen bestee ten einde die vertraging van vier maande tot drie te verminder?
(67)Goschen-Ca 23, 28 Aug 1899, C-Selborne 14 Aug 1899, C-Salisbury 15 Aug 1899, Sal E/156. Garvin III, 454-5
En Salisbury antwoord met sy manjifieke afgetrekkenheid: “Ek dink dit sou verstandiger wees om nie groot ekstra uitgawes aan te gaan voordat dit duidelik is dat ons wel ‘n oorlog gaan voer nie. Dit kan die operasies in die begin miskien ‘n bietjie verder vertraag, maar soos ek gesê het, ek glo nie daardie geringe byvoeging kan die skandaal wat beslis deur die toestand van ons militêre voorbereidings veroorsaak gaan word, wesenlik vererger nie.”(68)
(68)Salisbury-C 16 Aug 1899, Cham JC 5/56/116
‘n Paar uur ná Salisbury hierdie reëls geskryf het, bereik merkwaardige nuus hom via Chamberlain. Kruger “het nog ‘ n ent van sy perdjie afgeklim”, dié keer baie ver.(69) En so lyk dit. Ná verdere aanslae deur sy Afrikaanse vriende in die Kaap het Kruger ‘n aanbod gemaak wat oënskynlik verder gaan as die Blomefonteinse m inimum: ‘n vyfjaar-stemreg, met ander ingewikkelde toegewings daarby.(70)
(69)C-Salisbury 16 Aug 1899, Sal E/157
(70)M-C 15 Aug 1899, DK 417/264. Marais 308-12
In die lig van die “skandaal” van Lansdowne se krygsvoorbereidings, is die Kabinet opgetoë oor hierdie nuus. Teen hierdie tyd het Salisbury vir die somer na sy plattelandse ampsverblyf, Walmer Castle, vertrek. Hy wens Chamberlain nogmaals geluk met Kruger se toegewings. En hy voeg ook ‘n sydelingse stekie by teen Milner (wat, voorspelbaar genoeg, die nuwe aanbod probeer verydel het). Milner, sê Salisbury, “is lankal lus vir baklei, en hy wil nie weer sy klere aantrek nie”.(71)
(71)Salisbury-C 17 Aug 1899, Cham JC/5/67/116
Vrede daal op die groot staatsdepartemente in Whitehall neer, en die hittegolf duur voort. Balfour reis na Skotland om te gaan gholf speel en fiets te ry,(72) en Lansdowne het hom reeds teruggetrek na die landgoed wat hy die liefste het, Dereen in Kerry; selfs daar, in Ierland, skyn die son en die grys sand vonkel onder die blou waters van die Kenmare-rivier.(73)
(72)Dugdale Balfour I, 192, 194
(73)Sien Lansdowne-dokumente passim
Chamberlain gaan na Highbury, waar hy sy geliefde orgideë kan versorg. Die nagte is warm, en hy en sy jong vrou wandel in die tuin. Verruk kyk hulle watter vreemde vorms die blomme daar in die maanlig aanneem.(74)
(74)Mev Chamberlain 25 Aug 1899, Garvin III, 437
Aan die einde van Augustus, ná die laaste goue somer van die eeu, is alles in Engeland vreedsaam. Maar in die Suid-Afrikaanse winter, 6 000 myl daarvandaan, sien Milner uiteindelik hoop – en daardie hoop is oorlog….
—oOo—