BO Milner hou die pot aan die kook

Milner Hou die Pot aan die Kook 

Deel 1 

“Geen rus voor hervorming nie – as die Uitlanders net op daardie formule wil aandring, kan ons dit regkry, ou kêrel … En by die siel van St Jingo, hulle kry op verskillende maniere genoeg aanmoediging van ons almal…”

Milner aan sy kollega, die Imperiale Sekretaris, George Fiddes, 3 Januarie 1899

Hoofstuk-aanhef M-Fiddes 3 Jan 1899, Mil (dep 69)

— — —

Hoofstuk 5

Milner Hou die Pot aan die Kook

Kaapstad, 31 Maart – 9 Mei 1899

Milner het opgeruimd uit engeland teruggekeer, ondanks genl. Butler se verstommende besluit, in Milner se afwesigheid, om die eerste Uitlander-petisie te verwerp.(1) (Butler “is werklik skitterend”, was Milnet se kommentaar. Dat hy “Kruger moes uit-Kruger” laat hom aan een van die ongelooflike situasies in ‘n operette van Gilbert en Sullivan dink, dit is “net te Gilbeertiaans”.)(2)

(1)Butler-C 4 Jan 1899, DK 417/259. W. Butler 400-3

(2)M-Selborne 31 Jan 1899, MP I, 301

Gelukkig het die Uitlanders hulle nie aan Butler gesteur nie. En Milner is “ingenome”, so deel hy sy vriende mee, met die welslae  van sy eie besoek aan  angeland, selfs as hy “skaars ‘n oombllik” vakansie kon hou.(3) (Natuurlik vertel hy niemand van sy fietstog saam met Cécile nie.) Hy het, by wyse van spreke, ‘n knik van Chamberlain gekry. En op sy stil manier het hy daarin geslaag om ‘n aantal invloedryke mense iets i.v.m. sy “hoekie van die imperiale skaakbord” te vertel.(4) Nou verneem hy die jongste ontwikkelinge op die Rand uit Percy Fitzpatrick se eie mond.

(3)M-Selborne 23 Jan 1899, MP I, 301. M-Fiddes 23 Des 1898, MP I, 299. M-Bertha Synge 11 Feb 1899, MP I, 302. M-Iwan-Müller 28 Nov 1898, Mil 192

(4)M-Rosebery 12 Des 1898, Rose Kis 75/160-4

Daardie aand, 31 Maart, het Fitzpatrick hom van die stasie na Government House gehaas om met Milner te gesels. Hy is uitgeput, sê hy, van sy inspannende pogings om die onderhandelinge met Smuts “op die regte spoor” te hou – d.w.s. om seker te maak dat hulle ontspoor. By die lig van die gaslampe in Milner se eenvoudige, grys, gasverligte studeerkamer in Government House praat die twee manne tot diep in die nag terwyl Fitzpatrick die hele storie van die Great Deal uitstort.(5)

(5)M se dagboek 31 Mrt 1899, Mil (dep 69). Fitzpatrick-Wernher 6 Apr 1899, Fitz. Menpes 99

In die eerste plek bied Kruger die mynhuise direkte aansporing aan, by name voorkeurontginningsregte en meer aanvaarbare mynbelastings. In die tweede plek is hy gewillig om teenoor die Uitlanders in die algemeen ‘n belangrike toegewing te maak. Hy het belowe om in die Volksraad aan te beveel dat die Uitlanders se reg om ná ‘n verblyf van vyf j aar in die ZAR te stem, herstel moet word – hoewel dit slegs moet geld van die oomblik waaroop hulle om Transvaalse burgerskap aansoek doen. 

In ruil hiervoor word sekere toegewings van die Randse firmas verwag: die belangrikste is dat hulle moet berus in die voortsetting van die gehate dinamiet-monopolie (Kruger se bron van plofstowwe wat in die ZAR vervaardig word). Hulle word ook gevra om drie politieke ondernemings te gee: om die ZAR te steun teen die eise van die Kaapse Kleurling- en Koelie-handelaars; om die agitasie van die anti-Transvaalse pers te demp en om daardie “politieke moeilikheidmakers”, die S.A. League, te repudieer.(6)

(6)Fitzpatrick-Greene, M-C 3 Mrt 1899, Mil 13 (SA 27). MP I, 319-32/ Sien ook MP I, 329/ Fitzpatrick Memories 171-4. Marais 248-56

Dit is “verstommend”, Kruger se aanbod, daaroor is almal dit eens. Maar kan ‘n mens die ou jakkals vertrou? In Londen gee Chamberlain hom die voordeel van die twyfel. “My eie mening is dat die regering van die ZAR graag wil skik … Hul finansiële  probleme, die krag van die S.A. League, hul posisie t.o.v. die dinamiet-monopolie, die verlies van steun in Duitsland, die verandering in Engeland se posisie sedert Fasjoda – alles werk mee t.g.v. ‘n skikking…”(7)

(7)M-C 4 Mrt 1899, DK 879 (Af572 11). C se notule 8 Mrt 1899 ens., DK 417/259/557

Milner kies instinktief die teenoorgestelde vertolking.(8) Nou blyk dat Fitzpatrick, sonder om deur Milner voorgesê te word (en met slegs enkele bemoedigende boodskappe wat via Green, die Britse agent in Pretoria, ontvang is), presies dieselfde mening as Milner huldig.

(8)M-Greene 14 Mrt 1899, Mil 13 (SA 27)

Die Great Deal, sê Fitzpatrick, kan miskien eg wees wat staatsamptenare van die ZAR soos Jan Smuts betref. Maar Kruger self het geen voorneme om die Uitlanders billik te behandel nie. En buitendien sal die Volksraad nooit tot toegewing instem nie, wat Kruger ook al sê. Kortom, die ou man probeer hulle “fop” – soos Fitzpatrick op ‘n private byeenkoms van al die Randse leiers in ‘n toespraak verduidelik het.(9)

(9)Fitzpatrick-Greene 3 Mrt 1899, MS aangehaal. Afskrif van Fitzpatrick se toespraak Mil 13 (SA 27)

Fitzpatrick se eie eerste stap was om vas te stel wat sy prinsipale, Alfred Beit en Julius Wernher, dink. Daar was geen meningsverskille nie. Vroeg in Maart het Wernher Lord Selborne, Britse Onderminister van Kolonies, gaan spreek en sy siening klop met Fitzpatrick s’n.

Hy kan die voorwaardes van die aanbod nie mooi verstaan nie, sê hy, al wat hy kan dink, is dat dr. Leyds, Smuts se voorvanger as Staatsprokureur en tans die ZAR se reisende buitengewone afgesant in Holland, Frank en Duitsland, afgejak is met woorde soos “hoekom bereik julle nie ‘n ooreenkoms met dié mense nie?”. Maar om presies dieselfde rede as Fitzpatrick, glo Wernher dat “niks van die toenadering sal kom nie”.(10)

(10)Selborne se notule 9 Mrt 1899, DK 417/259/561. Marais 250-1

Die volgende stap is om eenstemmigheid te bereik met die ander groot Randse firmas, veral Rhodes se firma, Consolidated Goldfields, waarvan die hoofkantoor, soos dié in Londe is. Soos Milner verwag het, is dit Rhodes se firma wat Fitzpatrick die grootste hoofpyn gee. Die maatskappy het hulle ingenieur, Wybergh, afgedank weens die rol wat hy in die Edgar-kwessie as voorsitter van die S.A. League gespeel het. En toe die voorsitter van die firma, Lord Harris, Chamberlain ‘n paar dae ná Wernher se besoek aan Selborne in Londen kom spreek, is die atmosfeer kil. 

Vroeër daardie jaar het Rhodes dit oorweeg om ‘n lening aan Kruger toe te staan. Nou deel Lord Harris Chamberlain mee dat, wat hulle betref, hulle genieg is om die voorwaardes van die Great Deal te aanvaar. Chamberlain antwoord kortaf: hulle kan dit natuurlik doen; dis hul eie saak; maar Lord Harris behoort te weet wat die Britse publiek sal sê – die finansiers het hul saak en hul landgenote verkoop, en goedkoop verkoop. …”(11)

(11)M-C 11 Mrt en C se notule 14 Mrt 1899, DK 417/259. Marais 252-3

Intussen het Fitzpatrick die fondamente van sy veldtog verbreed. Om die groot massa Uitlanders agter die kapitaliste saam te snoer, spreek hy ‘n byeenkoms van 24 vooraanstaande Johannesburgers, met inbegrip van die leiers van die S.A. League, by ‘n private ete toe en verduidelik die verloop van die onderhandelinge.(12)

(12)Greene-M 18 Mrt 1899 en tikskrif van toespraak Mil 13 (SA 27). Marais 253

Miskien was dit die politieke steun wat hy sodoende vertoon het, wat die skaal t.g.v. Fitzpatrick laat swaai het toe hy met die verteenwoordigers van die ander Randse kapitaliste moes onderhandel, met inbegrip van eertydse ondersteuners van Kruger soos J.B. Robinson. Teen 27 Maart het hulle tot ‘n gesamentlike besluit ooreengekom. 

Die hoeksteen hiervan was die eis dat die oorspronklike vyfjaar-stemreg herstel word; dit moet terugwerkend wees – dadelik aangebied word aan alle Uitlanders wat kan bewys dat hulle al vyf jaar of langer in die land woon. Ondanks teenstand van Rhodes se plaaslike bestuurder word die nuwe “Deklarasie van Regte” aan die Regering van die ZAR oorhandig deur die drie firmas wat namens die Rand onderhandel – voor Fitzpatrick die onderhandelinge netjies in duie laat stort.

So lui die ware verhaal van die  opkoms en ondergang van Kruger se Great Deal. Vir Milner is hierdie besonderhede ‘n onthulling: nie slegs die feit dat Fitzpatrick volgens presies dieselfde beginsels as hy te werk gaan nie, maar dat Beit en Wernher hom in elke stadium gesteun het. Milner, op sy beurt, speel oop kaarte met Fitzpatrick. 

Volens ‘n nota wat Fitzpatrick daardie week aan Wernher skryf, het Milner hom meegedeel dat hy “in u en meneer Beit ‘n nuwe en heel verrassende soort miljoenêr gevind het – manne met ‘n hoër visie as die opgaar van geld”. Milner wens Fitzpatrick geluk met die “volslae staatsmanskap” waarmee hy die onderhandelinge gehanteer – en laat skipbreuk ly – het. Selfs in sy “hoopvolste oomblikke” beken hy, het hy dit nie moontlik geag dat hulle eenparig “so ‘n sterk houding” sou kon aanneem nie.(13)

(13)Fitzpatrick-Wernher 6 Apr 1899, Fitz. Sien M-Fiddes 1 Apr 1899, MP I, 331. Sien ook M se vroeëre kommentaar in M-Selborne 8 Mrt 1899, MP I, 324-5; en later M-Selborne 14 Jun 1899, MP, 437

Hierna lê Milner sy hart aan Fitzpatrick bloot op ‘ n manier wat die Uitlander verstom – en vergesigte laat sien. Milner verduidelik dat die volgende fase van hul veldtog by die Pers in Brittanje sal lê. Butler se v erwerping van die eerste petisie wat ‘n “ontsettende fout”, waaruit Fitzpatrick en sy vriende deur ‘n “onvolprese poging die beste moontlike munt geslaan het. Nou hang alles af van die behandeling wat die (tweede) petisie kry, en daar het die Pers ‘n deurslaggewende rol te speel”. Hy smeek Fitzpatrick om hom in dié opsig te steun. 

En nou herhaal hy teenoor Fitzpatrick wat hy tot dusver nog net aan sy intiemste vriende gesê het: “My grootste werklike vrees is dat Chamberlain die indruk kan kry dat ek hom wil aanjaag.” As Milner self die Pers “probeer lei”, kan Joe dié indruk kry, en dan “kan ek verdomp doen wat ek wil, hy sal nie ‘n vinger verroer nie”. Dit sal dus aan Fitzpatrick oorgelaat word om “die Pers te doen”; hy moet die “massa verdoemende getuienis in die petisies aan die Laerhuis en die publiek voorlê. … Jy moet die petisie nie toelaat om  uit te brand nie”.(14)

(14)Fitzpatrick-Wernher 6 Apr 1899, Fitz

Nou bespreek Milner die Britse Regering se moontlike reaksies. As die nuwe petisie verwerp word, sal hy onmiddellik bedank; maar gelukkig hoef hierdie moontlikheid nie oorweeg te word nie. Aan die ander uiterste is die kans dat die Britse Regering ‘n krygsultimatum sal uitreik; maar dit sal slegs gebeur as die publikasie van die “openbare mening so verhit dat daar geen ander uitwerg is nie”. Die derde moontlikheid is die waarskynlikste. Chamberlain sal die petisie aanvaar, maar ‘n ultimatum uitstel ten einde Kruger meer tyd te gee om terugkrabbeling te oorweeg.(15)

(15)Ibid

Milner smeek Fitzpatrick om ‘n “heldhaftige poging” aan te wend om sy nuwe Reform Movement bymekaar te hou tot h ulle gereed is vir die “groot dag van afrekening”. Dit kan tyd verg om die Britse Regering “in beginsel so ver te bring”. En dan moet hulle reg wees om toe te slaan, “binne vier en twintig uur – snel en oombliklik”. Wat die Uitlanders ook al doen – of  hulle nou protesvergaderings hou of wat ook al – hulle moet binne die wet bly.

Milner eindig met ‘n laaste ontwapenende indiskresie. “Onthou, dit is die geleentheid van ‘n leeftyd. Jy het nou iets wat jy miskien n ooit weer sal hê nie – ‘n man hier wat hart en siel by jou staan – so vurig as die vurigste van julle. Ek het pas briewe van Fiddes en Green ontvang (die Imperiale Sekretaris en die Britse Agent in Pretoria) – baie opgewonde. … Ek moet koue water op hul geesdrif giet en dit breek hul harte. Hulle dink ek is nie geesdriftig genoeg nie, maar dit is nie dit nie – ek gaan Joe nie laat dink dat ek hom aanjaag nie.”(16)

(16)Ibid. Vgl. M-Fiddes 3 Jan 1899, Mil 45 (SA 37)

Die volgende vyf weke is vir Milner ‘n senutergende tyd. Soos hy voorspel het, raak die Britse openbare mening nie rasend opgewonde oor die Uitlanders nie. Dit is waar dat die Britse Pers in breë trekke teen Kruger stelling inneem – selfs die Liberale Daily Chronicle, bekend om sy anti-imperialistiese siening. Maar Suid-Afrikaanse aangeleenthede bly nie lank in enige party se koerante groot nuus nie.

En elke Dinsdag, wanneer die posboot die Londense koerante van drie weke tevore in Kaapstad aflaai, moet Milner teensinnig toegee dat die ding wat vir hom en sy personeel ‘n “allesoorskaduende nagmerrie” is – die bedreiging vir die Britse oppergesag in Suid-Afrika – in Engeland nog maar “baie weinig aandag trek”. Hoe vreemd, deel hy Selborne mee, dat dit so moet wees. 

Die mense moet dink aan die “enorme materiële waarde van wat op die spel staan” (vermoedelik die belangrikheid van die £700 miljoen van Suid-Afrika se goudbedryf vir die Britse ekonomie) en ook die “duidelikheid van die morele kwessies”.(17) Maar so sy dit. Waarskynlik sal Chamberlain uiteindelik ‘n Blou Boek met al die verdoemende getuienis teen die Boere publiseer –met inbegrip van sy eie openbare verslae.

(17)M-Selborne 5 Mei 1899, MP I, 348

Al wat Milner intussen kan doen, is om die Uitlanders “aan die kolf” te hou. “Die spel is tot dusver pragtig gespeel,” deel hy Greene mee, “en met gestadige volharding” kan die Uitlanders verwag om “byna universele steun” in Brittanje te verwerf.(18) Dit kom in werklikheid daarop neer dat Greene die pot aan die Rand aan die kook moet hou en sorg dat die koerante op die hoogte bly.

(18)M-Greene 3 Apr 1899, MP I, 345-6

Op grond hiervan moedig Greene Fitzpatrick aan om die Uitlanders se griewe in ‘n openbare protes te kanaliseer – en Fitzpatrick het geen aanmoediging nodig nie. Van die middel van April af word monstervergaderings op myne oor die hele Witwatersrand gehou om die herstel van die ou vyfjaar-stemreg te eis, en Fitzpatrick beoog om afvaardigings na ‘n “Uitlander-parlement” te bring, nie om ‘n skikking te probeer bereik nie, maar om nog meer publisiteit vir hul droewige lot te verkry.(19)

(19)Greene-M 5 Mei 1898, K 9345, Marais 257, 263-4. Fitzpatrick Transvaal 360, 364

Weer kom die gevaarlikste bedreiging vir hierdie massiewe oefening in openbare betrekkinge van Cecil Rhodes en sy firma, Consolidated Goldfields. Hoewel hulle met Wernher-Beit saamgestaan het in hul verwerping van Kruger se Great Deal en dus in sekere sin onderneem het om neutraal te bly, neem die plaaslike direkteure van die firma ‘n besluit waarin ‘n mynersvergadering in die ontspanningsaal van die Village Main Reef-myn veroordeel word.

Hulle is openlik gekant teen Fitzpatrick se beleid om die onrus aan die kook te hou; en hulle skryf aan die direkteure van die Jubilee-myn met die versoek dat hulle hul eie sakebestuurder moet betig omdat hy een van die mynersvergaderings toegespreek het. “Lieflike monstertjie,” skryf Fitzpatrick bitsig aan Wernher en Beit in Londen.(20)

(20)Fitzpatrick-Wernher I, 8 Mei 1899, Fitz

Ook uit Londen kom daar nuwe stories van Rhodes se persoonlike manewales; by ‘n dinee wat deur Arthur Balfour bygewoon is, het hy die hele aand Kruger se lof besing, volgens een van Milner se ou kollegas in Whitehall, en Kruger ‘n puik ou man genoem wat sy “paaltjies teen almal verdedig het”.(21)

(21)E. Hamilton se dagboek 1899, BM 48764/99-102

Behalwe om “dinge plaaslik ‘voorwaartser’ te kry”, moet Milner die druk op die Britse Kabinet verhoog ten einde hulle te oorreed om die tweede petisie te aanvaar. Vandaar dat die posboot elke Woensdag kiste vol geheime verslae aan Joe Chamberlain na Engeland dra. Hulle is meesterlike dokumente, in elk geval die eerste stel.Uit hierdie urbane en onbetrokke verslae sou niemand die intensiteit van Milner se sug na Britse intervensie kon raai nie.

So, in die verslag waarin hy die tweede Uitlander-petisie verwelkom, asook die gelyktydige “herlewing van die Hervormingsbeweging” wat tydelik deur die inval uitgeblus is, spreek hy sy verbasing uit dat die herlewing so gou plasgevind het. Dit is “nog te vroeg om te sê of dit ‘n verbygaande en min of meer denkbeeldige agitasie is dan wel die uitdrukking van ‘n diep en wydverspreide volksgevoel”. 

Hy prys “die staatsmanskap van die mynmagnate”, maar voeg beskeie by dat hul leier aan hom onbekend is, hoewel hy voel dat daar “’n verstandige kop of koppe agter hul dade sit”.  Al wat hy vra, is dat die Reform Movement nie ontmoedig word deurdat Brittanje haar uitspreek teen eventuele toekomstige inmenging ingevolge haar morele regte as ‘n grootmoondheid nie.(2)

(22)M-C 29 Mrt 1899, DK 417/260/9383-5, 9398-9

In sy volgende geheime verslag gryp  hy die slagspreuk “stemreg eerste” aan as die een punt waaroor al die Reformers dit eens is. Milner weet baie goed dat ‘n tydbom onder Kruger geplaas sal word deur op die stemreg aan te dring, aangesien dit op die ou end die einde van die Afrikanermeerderheid in die ZAR sal beteken.(23)

(23)M-Hely Hutchinson 8 Mei 1899, MP I, 358: “voor die bom bars”

Maar in sy verslae, waarin hy die saak amptelik aan Chamberlain stel, gee Milner voor dat hierdie hervorming miskien net sal meebring dat “’n liberaler soort Boereleier”  in die Volksraad verkies sal word, en dat dit “ewe nuttig en miskien nuttiger” sal wees as die verkiesing van Uitlanders. Die Uitlander-stemreg  is egter, voeg hy by, “’n aangrypende strydkreet” wat mense in alle dele van die Ryk sal roer – anders as die griewe van Kaapse Kleurling-kebdrywers, Indiese handelaars e.d.m., dinge waarin dit “onmontlik sal wees om die wêreld in die algemeen te laat belang stel”.(24)

(24)M-C DK 417/260/9969

Teen die middel van April, toe die Britse publiek nog steeds geen belangstelling in enige Suid-Afrikaanse kwessie – selfs die stemreg – toon nie, word Milner se verslae ‘n bietjie minder onbetrokke. Hy vestig die aandag op die openbare vergaderings deur Uitlanders van die werkerstand wat oral op die Rand gehou word. Hy waarsku Chamberlain dat dit ‘n “ernstige, miskien onherstelbare fout (kan wees) as ons hierdie geleentheid laat verbygaan om ons dubbelsinnig by die Hervormers te skaar”. 

Hy gee toe dat die gevaar van oorlog bestaan. Aan die ander kant sal die Boere voor “niks minder (swig) as die dreigement van oorlog nie, m iskien nie eens dáárvoor nie…. (Maar) as ons slaag, sal ons hierdie nagmerrie vir ewig uit die weg ruim”. En hy rig ‘n uitdaging tot Chamberlain (met ‘n suggestie van afdreiging): “Wat het van die Hoë Kommissaris se tussenkoms geword … wat ten tyde van die Jameson-inval bepaald beoog is, indien nie volstrek  beloof en wat my voorganger toegelaat is om uit te stel maar nooit beveel is om te laat vaar nie?”(25)

(25)M-C 19 Apr 1899, DK 417/260/11467. Wilde 102-3

Gelukkig vir Milner reageer Joe nie op hierdie skimpe nie, want teen die tyd dat die verslag Londen 14 dae later bereik, moet ‘n nuwe fase van die stryd juis begin. Teen dié tyd is selfs Chamberlain omgekrap oor die gebrek aan openbare belangstelling in sy Suid-Afrikaanse beleid, en hy stuur Milner ‘n dringende versoek om ‘n verslag wat in Chamberlain se Blou Boek gepubliseer kan word.(26)

(26)MP I, 347-8, Wilde 97-8. Marais 266

Dit is die kans waarvoor Milner gewag het. Nie verniet was hy vroeër assistent-direkteur van die Pall Mall Magazine nie. ‘n Paar dae later kabel hy een van die mees flambojante verslae wat ooit deur ‘n Onderkoning gestuur is, later bekend as die “Helote-verslag”. “Die saak vir tussenkoms is oorweldigend. … Die skouspel van duisende Britse onderdane wat blywend in ‘n helote-toestand gehou word … tevergeefs by Haar Majesteit se Regering smeek om regstelling … ‘n eindelose stroom kwaadaardige leuens oor die oogmerke van die Britse Regering.”(27)

(27)K 9345209-12 geredigeerde weergawe. MP I, 349-53 gee die volledige teks

Maande lank smag Milner al om “’n bietjie vitrioel” in een van sy openbare verslae te vryf;(28) maar die rol wat hy gedwing is om te speel, het dit onmoontlik gemaak. Nou is dit sy taak om “die porselein te breek”, soos hy Philip Gell meedeel, al lyk dit na ‘n vreemde metamorfose dat die “kalm en versoenende diplomaat” nou as “stokebrand” die Britse publiek tot dade aanspoor. Hy sien geen keuse nie. Alles hang daarvan af dat die publiek gewek word; die “weifelaars moet gestut word”.(29)

(28)M-Selborne 5 Apr 1899, MP I, 348

(29)M-Gell 18 Jun en s.j. 1899, Gell 533, 534. M-Selborne 24 Mei 1899, MP I, 400

Net hy kan die taak behartig. Deur sy eie vlag aan die mas te spyker, sal hy ook die Regering aan sy beleid vasspyker. Daar word verwag dat die Britse Kabinet op 9 Mei sal besluit of hy hom met intervensie gaan vereenselwig. Milner se personeel in Government House is al dae lank op hete kole. Juis op hierdie oomblik het Government House se riolering onklaar geraak. Dit en die eindelose koue reën – want die Kaapse winter het aangebreek – maak dit ‘n moeilike tyd.

Milner kan skaars ‘n oomblik van die eindelose geswoeg by die amptelike dokumentekoffers wegbreek. Die blote omvang van die werk is “werklik te aaklig vir woorde”, verklaar die troue Ozzy, sy privaat-sekretaris.(30) Die hoof moet ontslae raak van ‘n renperd wat hy in ‘n euforiese oomblik gekoop en later Chamberlain gedoop het (omdat ‘n mens hom nie kan aanjaag nie); daar sal beslis nie tyd vir wedrenne wees nie.(31) En die fiets wat Milner per skip uit Engeland saamgebring het (deur Cécile vir hom uitgesoek), staan soos ‘n droewige herinnering in Government House weggebêre.(32)

(30)O. Walrond-Gell 26 Apr 1899, 1 Mrt 1898. Gell 502, 529, 530

(31)Walrond-M 28 Des 1898, Mil 31 (SA 25)

(32)M se dagboek 13 Apr 1897, Mil (dep 67). Geen dagboekverwysings in 1899

Milner self beken aan sy dagboek dat die stremming van hierdie afgelope paar dae hom “taamlik katswink” gemaak het. Hy slaap nie behoorlik nie; sy hart lol. Tog het hy moedig met ‘n nuwe sport begin – boogskiet. Hy o ntvang ‘n paar lesse van mev. Hanbury Williams, die vrou van sy Militêre Sekretaris, w at haarself as ‘n goeie boogskutter beskou. 

Milner toon geen besondere belofte nie. Maar wanneer die pyle oor Government House se grasperke sing en die rooi, wit en blou konsentriese kringe van die strooiteikens binnedring, kry hy ten minste ‘n bietjie vars lug. Dit is die lang ure by sy lessenaar wat “hom regtig doodmaak”.(33)

(33)M se dagboek 28 Apr, 1, 2, 5 Mei 1899, Mil (dep 69)

Sê nou Chamberlain kan die Kabinet nie ooreed om die Uitlanders se versoek om intervensie te aanvaar nie? “Ek sal waag – groot waag – maar nie dwaas waag nie,” het Milner ‘n maand tevore vertroulik aan Fitzpatrick gesê. Ás ek verongeluk … het ek iets om na terug te keer.”(34)

(34)Fitzpatrick-Wernher 6 Apr 1899, Fitz Miskien begin hy reeds dink aan wat hy sal doen as hy teruggeroep word, soos daardie vroeëre dissipels van ‘n voorwaartse beleid in Suid-Afrika Miskien sal hy die politiek geheel en al laat vaar – hy het nou reeds genoeg gespaar om van te leef – en ‘n lewe van “bepeinsing” lei, byna ‘n kluisenaarsbestaan. Dit is een van sy groot lewensambisies, soos hy jare gelede ná sy verwerping deur Margot Asquith besluit het toe hy Anthene aangedoen en alleen aan die voet va die Parthenon gedwaal het.(35)

(35)M se dagboek Apr-Mei 1891, Mil (dep 59)

Op die oggend toe Milner verwag om die Kabinetsbesluit te verneem, neem  hy sy aide-de-camp, die sjarmante Bendor Belgrave met sy pienk wange, saam om van Cecil Rhodes se arendsnes, Groote Schuur, teen die hange van Tafelberg uit te ry. Die eendeweer van die afgelope paar dae het skielik verdammp.(36)

(36)M se dagboek 9 Mei 1899, Mil (dep 69)

‘n Koue suidoostewind vee die berg se grys flanke skoon. Onder hulle lê die hele Kaapse Skiereiland uitgestrek. Rhodes kom baie graag hier; dit is die soort plek waar ‘n man homself vir ‘n reus kan aansien. Toe hulle terugkeer, lê Chamberlain se kodekabel en wag: “Die verslag word goedgekeur. Ons het u voorstel aanvaar.”(37) So bot en onomwonde is dit.

(37)C-M (tel) 8 Mei 1899, Mil 14 (SA 28)

Hy het dus tog daardie ronde gewen. Die Kabinet het ingestem om aan die kant van die Uitlanders tussenbeide te tree, voorlopig vreedsaam. Maar Milner kry geen respyt nie. Twee weke later hoor hy van nog ‘n vreedsame intervensie: deur Kruger se bondgenote. Hofmeyr en Schreiner, leiers van die Kaapse Afrikaners, stel voor dat Milner Pres. Kruger moet gaan spreek om sake van aangesig tot aangesig te probeer uitpraat.

Pres. Steyn bied Bloemfontein, hoofstad van die Oranje-Vrystaat, as vergaderplek aan. Milner beskou die konferensie as voorbarig. Hy wag gretig op die publikasie van die Blou Boek met Chamberlain se amptelike antwoord op die Uitlandwers se tweede petisie – en op sy eie “Helote-verslag”. Wat hom betref, wil hy nie onderhandel voor hierdie Blou Boek verskyn het en sowel die Britse publiek as Kruger die erns van die situasie besef nie.

Nou is dit die Blou Boek wat uitgestel sal moet word. As hulle Steyn se uitnodiging van die hand wys, “kon dit heel moontlik tot die beskuldiging gelei het, hier en in Engeland, dat ons oorlog wou hê”. 

Milner beloof Chamberlain om in Bloemfontein ‘n “duidelik gematigde” houding in te slaan. Maar hy skryf byna triomfantlik aan Philip Gell. Wanneer die “Helote-verslag” eers verskyn het, “sal niemand hom ooit weer van diskresie beskuldig nie”.(38)

(38)M-Gell 22 Mei 1899, Gell

—oOo—