BO Is om lamsakke of helde?

Is ons lamsakke of helde?

 Ladysmith, 2 November – 6 Januarie 1900

“Wanneer ek huis toe kom, wil ek in my klere onder die kombers in die tuinpaadjie slaap. As dit nie reën nie, moet iemand af en toe water uit ‘n gieter oor my gooi. En die tuinier moet snags elke uur of wat uitkom en ‘n skoot vuur. …”

Majoor Robert Bowen, 60th Rifles, aan sy vrou, kort voor hy op 6 Januarie 1900 gesneuwel het

Hoofstuk-aanhef maj. R. Bowen-vrou 4 Des 1899 aangehaal K. Griffith Thank God We Kept the Flag Flying 147

.— — —

Hoofstuk 23

Ses weke vroeër het kanonnier Netley van die 13de Battery lughartig met ‘n pers pen in die oefeningboek begin skryf wat hy in sy knapsak hou – sy eie relaas van die beleg van Ladysmith:

Do 2 Nov: …die beleg het begin. Die Boere begin met hul artillerie op die dorp skiet, maar gelukkig sonder om skade aan te rig. … Sat 4 Nov: Vyand marsjeer glo in rigting van dorp, en die troepe gaan hulle tegemoet en ons kan kanonvuur uit die rigting van Action (Acton) Holmes hoor. Die 69 (ste) Battery vuur by die Boerekamp in terwyl hulle ontbyt eet en natuurlik kry hulle nog ‘n bietjie van ons hoesmedisyne. … Son 5 Nov: Alles stil hier rond, maar ons hou dop of iets beweeg.

Do 9 Nov: Staan tot dagbreek wag, om 5.20 vm. begin die Boere al om ons met grofgeskut lostrek, hulle bestook die kamp en dorp, skiet die hele tyd baie vinnig. Om 7.30 vm. val ‘n groot klomp boere King’s Hill aan; maar ons gee hulle ‘n warm ontvangs en slaan hulle drie keer met verliese af, toe val hulle Ceazers (Caesar’s) Hill aan met dieselfde gevolg. … Die Naval Brigade vuur ‘n koninklike saluut (vir die Prins van Wallis se verjaardag) met lewende koeëls. … Boereverliese word geskat op 850 dood en gewond … ons verliese is ses perde en een muil, ná 300 Boere-koeëls op ons afgeskiet is. …

Sat 11 Nov: ‘n Paar skote van Long Tom waarop ons manne in blou (die Naval Brigade) antwoord en hulle bly gou stil. Son 12 Nov: Staan wag en kerkparade. Maan 13 Nov: Boere sê goeie môre met Long Tom… Dins 14 Nov: Soos gewoonlik om dagbreek begin die vyand se kanonne stadig skiet … dit hou tot die aand aan toe hulle al hulle kanonne afskiet as ‘n soort  finale. Verwag versterkings van Colenso.

Woens 15 Nov: ‘n Paar kanonkoeëls vanoggend m aar dit reën en daar is “not much ado about Nothing” soos Shakespeare sê; nog geen nuus van versterkings nie. … Sat 18 Nov: Staan soos gewoonlik tot dagbreek wag en Johny Dutchman mors nog altyd sy ammunisie. Son 19 Nov: Staan wag maar alles stil … kerkparade. …

Maan 20 Nov: (Boere) gryp ‘n pantsertein (by Frere) … met ‘n eskort berede infanterie wat wegkom. … Dins 21 Nov: Hulle skiet ‘n skoot af wat van Gun Hill na ons maar  jy moet ‘n ekstra sterk verkyker hê om uit te vind watter skade hulle aanrig. … 23 Nov: Twee van die Gloucesters dood aan tifus, vandag begrawe. … 24 Nov: Een bom val reg in die middel van die Liverpools se Ko D, 1 dood 9 gewond. …

25 Nov: Vroeg op; bou ‘n skuiling van ou dwarslêers en klippe. … 28 Nov: Alles baie stil teen dagreek hulpkolonne vermeld van P(ieter) M(aritz) Berg het sterk mag van vyand ontmoet en hulle afgeslaan. … 29 Nov: Die Boere se artillerie is vanoggend baie stil en ons doen ditto. … nog ‘n groot geveg naby Colenso glo. Boere weer afgeslaan. Boere se verliese geskat op 1 400 dood en gewond en 300 gevangenes. …

1 Des: Die Boere sê soos gewoonlikmet ‘n paar skote môre, maar niks ongewoons gebeur nie. … 2 Des: Weer die ou speletjie met Long Tom. Son 3 Des: Alles stil – kerkparade. Krieket. Maan 4 Des: Ons ou vriend Long Tom groet ons soos gewoonlik. … Berig ontvang genl. Gatacre verslaan Boere drie keer. Vyand omtrent 8 000 sterk. Ons hulpkolonne verdryf vyand noord van Tugela.

Dond 7 Des: Long Tom praat weer maar dieselfde ou Praatjies. … Son 10 Des: Boere begin vuur met Long Tom No. 2 van Umbulwana Kerkparade soos gewoonlik. … Sat 16 Des: Hoor gister groot geveg tussen Ladysmith en Colenso. Gewone Long Tom skietery maar niks skade. Genl. Gatacre het in gister se geveg algehele oorwinning behaal … (die ramp by Stormberg).

Son 17 Des: Alles stil Kerkparade. Maan 18 Des: Staan wag van 2.30 vm. tot 7.30 vm. en is reg vir ‘n aanval maar ons geluk bly uit.(1)

(1)Kanonnier Netley se dagboek 22 Nov-18 Des 1899, PV, Vgl. dagboek van Britse soldaat beskryf deur Nevinson 121

“Ons geluk bly uit.” Kanonnier Netley laat dit klink asof die garnisoen ‘n twede Boere-aanval sou verwelkom het as afleiding van die eentonigheid van die beleg. Die eerste aanval – op 9 November, toe hulle King’s Post in die Noorde en Platrand in die suide stormgeloop het – is sonder moeite, hoewel met verliese, afgeslaan.

Dié kanonnier Netley was ‘n merkwaardige kêrel. Sy stewels was verslete, sy klere aan flarde; teen dié ses weke in ‘n gat in die grond. Jare later sou hy beken dat die beleg van Ladysmith in werklikheid die ergste ontbering van sy lewe was.(2) Tog skryf hy in sy dagboek van kerkparades, krieketwedstryde en sy ou vriend Long Tom, asof alles vertroud en beskaaf is. Die waarheid was heelwat ingewikkelder – en meer demoraliserend.

(2)Netley-bandopnames, PV

Teleurstelling en vernedering. As Swart Week die meeste patriotiese Engelse in Engeland laat ril het, hoeveel skerper was die pyn vir die garnisoen van 13 745 blanke soldate en 5 400 burgers (met inbegrip van 2 400 nie-blanke bediendes en Indiese kampvolgers)(3) wat die afgelope ses weke sit en wag dat Buller hul tronkdeur moet kom oopsluit?

(3)”21 000 monde” vlgs White, SD I, 236. OH II, 538 601 (NB 249 siek en gewond nie by 21 300 “siele” gereken nie)

Die verpletterende hou, waarna kanonnier Netley nie eens in die verbygaan verwys nie, is die nuus dat hulp aan die beleërdes uitgestel is. Ses weke lank verwag die soldate al hulp sodra die Leërkorps aankom.(4)

(4)Kapt. Stevenson dagboeke Nov-Des 1899, Stea. Kapt. J. Gough dagboeke Nov-Des 1899, Gou. Nevinson 176. Stuart/140, 221 Picture of War

Nou, op 17 September, word ‘n klein, troostelose Natalse veldmagbevel op die bataljon se prikborde vasgesteek. Buller se “eerste poging by Colenso het misluk”.(5) Hulp moet etlike weke uitgestel word – minstens tot ná Kersfees.

(5)Kol. Rawlinson dagboek 17 Des 1899, Rawl 7/1

Drie dae lank het die garnisoen gehoor hoe Buller by Colenso losbrand, die gerammel van sy kanonne het weerklink oor die geel, met doringboom bedekte reeks heuwels wat die uitsig van Ladysmith suid na die Tugela versper. Na die klanke te oordeel, rig Buller baie uit.

Daardie hele skroeiend warme Vrydag, die dag van die slag, sit die Engelse in die gate en slote wat hulle  uit die klewerige swart klei van die dorp se tuine moes grawe, of bo-op die rooi rotse van die 14 myl lange kring skanse om die dorp. Al wat hulle kan doen, is om vir die nuus te wag.(6)

(6)Steavenson dagboek 15-17 Des 1899, Stea

Dit het die Saterdag gekom: die sprokie dat Buller ‘n groot oorwinning behaal het. “Drieduisend Boere dood en gewond.”(7) Nou, terwyl die manne hul Sondagmaal eet – T.O. (trekosse) en klinkers (harde beskuit) – kom die naakte waarheid. Ladysmith se Perskorps – byna ‘n dosyn oorlogskorrespondente van Britse en koloniale koerante – word buitengewoon bevoorreg: ‘n perskonferensie met White se inligtingsoffisier, maj. Altham.

(7)Ibid 16 Des

Hy wys hulle die Natalse Veldmagbevel. Die generaal “betreur” Buller se teenspoed. Hy verwag dat die garnisoen sal voortgaan om, soos tevore, die “Ladysmith-gees” aan die dag te lê. Verdere besonderhede word die Perskorps geweier. Al wat hulle mag doen, is om gesensoreerde heliogramme van 30 woorde na die buitewêreld te stuur.

Hulle word ook meegedeel dat dit hulle plig is om “die dorp opgewek te hou”.(8) Dit is ‘n plig wat hulle in die afgelope ses weke van die beleg tot hul beste vermoë uitgevoer het, deur ‘n belegkoerant, die Ladysmith Lyre (“Liar”), uit te gee waarin sowel oom Paul as White se hoofkwartierstaf gehekel word.(9)

(8)Nevinson 176-7. Pearse 130. MacDonald How we Kept the Flag Flying 171. James 139. McHugh Siege of Ladysmith 139-40

(9)Ladysmith Lyre

In werklikheid wis die hoofkwartierstaf weinig meer van Buller se situasie as wat hulle die Perskorps meedeel. Kommunikasie is wisselvallig. Daar is Swartes dapper genoeg om hul lewens te waag deur die spitsroede van die Boerelinies te loop; die heliograaf by Weenen flits wanneer die son skyn; wanneer dit donker is, skryf Frere se soekligte spookagtige boodskappe op die wolke. En tog, drie dae ná Colenso, het die hoofkwartierstaf nog geen idee van watter ernstige ongevalle Buller se mag gely het nie.(10)

(10)Rawlinson dagboek 16 Des 1899, Rawl 7/1

Toe hulle Buller se bedrukte telegramme op die 16de en 17de ontvang, besef hulle nog nie waarom hy so voel nie. Dit verklaar die uitbarsting deur selfs ‘n koelkop soos kol. Rawlinson, assistent-adjudant-generaal. Die staf aanvaar verkeerdelik dat Buller te bang was om by Colenso te probeer deurbreek en hulle nou aanraai om oor te gee sodat hy nie self hoef te veg nie.(11)

(11)Ibid 17 Des 1899

‘n Mens kan hul gevoelens verstaan. Die wortel van hul bitterheid teenoor Buller was ‘n oorweldigende vernedering. Die hemel weet, soos Rawlinson dit sou stel, hulle het min genoeg gedoen om hulleself te help. Die vernederende feit van almal is deur die  hoofkwartierstaf geheim gehou: ná Botha se mag vertrek het, is daar in werklikheid veel meer Engelse in Ladysmith as Boere daarbuite: miskien meer as twee keer soveel.(12)

(12)Ibid

Onder die gewone regimentele offisiere laat die berigte van Buller se terugslag bolippe tril. “Almal verslae. … almal se moed op nul,” sê kapt. Steavenson, die adjudant van die Liverpools.(13)

(13)Steavenson dagboek 17 Des 1899, Stea

”Buller is getref,” skryf Kapt. John Gough van die Rifle Brigade. “Dis te aaklig vir woorde. … 12 kanonne verlore … ons het geen idee hoe dit gebeur het nie.” Daar is bitterheid, maar meer teenoor die hoofkwartierstaf as teen Buller. “Wat my die kwaadste maak,” sê Gough, “is om die stafoffisiere in hul pragtige klere te sien pronk, blink laarse, wit krae ens., en dan te hoor hoe hulle oor hul ontberings kla.”(14)

(14)Kapt. J. Gough dagboek 19 Des 1899, Gou

“Aan ons kant,” sê chirurg-kapt. Holt, “is ons propvol stafoffisiere met rooi lussies en die (vyand) is net doodgewone verslonste boere … en tog hou hulle vir ons kers vas. … almal sê die staf van bo tot onder sleg.”(15)

(15)Chir-kapt. Holt dagboek Nov 1899, Holt 6309/42

Teen Kersfees – krismispoeding in die loopgrawe vir regimentele offisiere met modderige laarse, en modderwater i.p.v. sjampanje; ‘n sesgangmaal vir die uitverkore staf in Convent Ridge(16) – begin die “Ladysmith-gees” ‘n bietjie uitrafel.

(16)Rawlinson dagboek 25 Des 1899, Rawl 7/1

Hulle moes hulleself in die aangesig staar, hierdie Britse offisiere. Dit was ‘n “beskaafde oorlog”; ‘n oorlog van die Rooi Kruis en die ander ridderlikhede van die Geneefse Konvensie. En dit begin baie leersaam blyk. “Hoe langer die beleg voortduur,” skryf John Gough, “hoe meer wonder ek waarin die pret en glorie van oorlog lê.”(17)

(17)Kapt. J. Gough dagboek Jan 1900, Gou

Natuurlik het hy nie gespog nie. Vir die Britse offisiere was daar pret en glorie in daardie “barbaarse oorloë”. Nou moet hulle hul beroep in oënskou neem, en hulle hou nie van wat hulle sien nie.

‘n Beleg is ‘ n oorlog in mikrokosmos. Verveling, ongerief, angs, vrees,moed, hoop, vernedering – bo alles ongerief en verveling. Dit was die wisselende ritmes van die bleg van Ladysmith – soos dié van die meeste werklike oorloë. Die dorp self is deur die Boere se grofgeskut omring.

Hier het die “ystervingers” van Joubert se leër hulle vasgevat, skryf George Steevens, die lughartigste van die oorlogskorrespondente.(18) En die verdedigers moes nie alleen die dorp beheer nie. Hulle moes ‘n afslytingsoorlog teen hul eie emosies veg, met weinig polo, krieket of sjampanje ter ondersteuning.

(18)Steevens 133

Van die eerste dag af was vernedering die ondertoon van die beleg. “Aaklig … die hele affêre is ‘n skandaal,” sê chirurg-kaptein Holt ná Mournful Monday. “Ontsettend … te ontsettend vir woorde, ons is in die skande gesteek en ons sal dit nie gou te bowe kom nie,” sê kapt. Gough. (19)

(19)Chir-kapt. Holt dagboek 1 Nov 1899, MS sit. Kapt. J. Gough dagboek 30 Okto 1899, Gou

Verveling vreet ewe diep. “Weary, stale, flat, unprofitable the whole thing,” skryf George Steevens in ‘n berig vir die Daily Mail. “Aanvanklik was dit opwindend om beleër en gebombardeer te word; toe ‘n grap; nou is dit niks as sat, sat, sat verveling nie. Al wat ons doen, is eet en drink en slaap – die hele lewe is net ‘n triestige bestaan”. “Die oggend onderbroke bombardering. Die middag reën dit – Ladysmith ploeter dieper as ooit. … Ontset ons, in hemelsnaam, goeie landgenote, of ons sterf van tamheid.”

Die meeste van die oorlogskorrespondente woon in aangename baksteenhuise op die dorp se buitewyke en lei in die bombardement geen ongevalle nie. Hoewel die arme Steevens nie van tamheid sal doodgaan nie, sterf hy kort ná Kersfees aan ingewandekoors.(20)

(20)Steevens 125, 122-4. James 133-5, 144-7. Sien McHugh 68-73, Pearse 16-8

Die bombardering stel wel hoë eise aan die soldate wat in gate al langs die skans-grens woon, of op die oop vlakte kampeer.(21) Heel moontlik het dit die manskappe pret verskaf om te sien hoe offisiere op hul gesigte moet plat val as die bombardement begin.

(21)Luit. Jelf 3 Nov 1899, Jelf. Vir oorlogskorrespondente sien Stuart 104

In ontblote sektore word wagte geplaas om te waarsku. Almal k en spoedig die roetine. ‘n Wolk rook van Bulwana Tom of Puffing Billy; die kanonne vuur ‘n swart kruit, teenoor die rooklose bomme van die houwitsers, “Silent Susan” en “Weary Willy”. Die brandwag blaas sy beuel of slaan op ‘n ghong.(2)

(22)James 134

Dertig sekondes om te skuil. Op Cove Redoubt vuur “Lady Anne” – die Naval Brigade se 4.7-duim, een van die enigste twee kanonne wat vir die Boere s’n kan kers vashou – op Bulwana Tom terug. Twintig sekondes om te skuil. Verksrikte swartes nael  oor die oop veld. Nou is die vlakte leeg. Die dorpenaars sit in hul eie bomskuilings.

Nog vyf sekondes. Lady anne se antwoord-koeël, wat vinniger trek as Long Tom s’n, slaan vyf myl daarvandaan ‘n pluimwolk uit die grond naby Bulwana Tom se reuse-skans, wat met talle sandakke versterk is. Dan, met ‘n gil en die geluid van ‘n geweldige botsing, daag Tom op.

Die koeël van 94 pond bars in ‘n haelreën van staalskerwe wat sekondes lank ná die ontploffing nog soos voëls deur die lug fluit.(23) Hoe belaglik. Geen ongevalle nie. Of miskien nie so belaglik nie; miskien lê iemand êrens dood, met sy kop afgeskiet of sy bene vergruis.(24)

(23)Steevens 93, 103-4. James 134-5. McHugh 98-102

(24)McHugh 71 en Nevinson 105-6 beskryf die dood van dr. Stark

Die garnisoen om te ontdek dat die Boere, in hul bombardering, soos in soveel ander militêre sake, geen erkenbare reëls gehoorsaam nie. In die begin was hulle verstandhouding dat die Sabbat vir albei kante ‘n rusdag sou wees: kerkdienste vir die Boere, kerk- en baai-parades vir die Engelse.(25) Maar teen dagbreek op Sondag 12 November begin die Boere hul bombardement, en van toe af is daar geen tyd van die dag of nag wanneer die garnisoen veilig kan voel nie.(26)

(25)Netley dagboek Nov 1899, PV. Nevinson 156

(26)Chir-kapt. Hol 12-13 Nov 1899 MS sit. Steavenson dagboek 19 Nov – 25 Des 1899, Stea. Vgl. Nevinson 156

Selfs op Kersdag gaan Long Tom voort, blykbaar met gemengde gevoelens, want onder die groot aantal bomme wat afgevuur word, is een (dis later opgegrawe sonder dat die ontplof het) met ‘n krismispoeding in ‘n Union Jack toegedraai en ‘n briefie: “Compliments of the season”.(27) Vir party Engelse vererger hierdie onsekerheid oor hoe om te reageer (is dit erns of luim?), die spanning en vernedering van die uitgerekte ondervinding.

(27)MacDonald 156. Vgl. Jeans 230-1

Daar is dae, soos 24 November, wanneer Long Tom hoegenaamd nie die gek skeer nie. Kort ná 6.00 die aand plons twee bomme tussen die Liverpoolse Kompanie D neer. Die Engelse het op die heuwel saamgedrom gestaan, sou kapt. Steavenson vertel. Almal dog die dag se bombardement is oor. Maar ‘n skrapnel rammel op die offisiersmenasie se sinkdak neer en toe dit verby is, lê nege Engelse teen die helling, vyf van hulle dood of noodlottig beseer.(28)

(28)Steavenson dagboek 24 Nov 1899, Stea

Vrydag, 22 Desember, is vir die Gloucesters ‘n nog swarter dag. Hulle het nie ‘n brandwag gepos nie en daardie oggend omtrent 7-uur skenk Long Tom, wat voorheen die dorp bestook het, sy aandag aan die klipskuilings van Kompanie F. Lt. Hickie sien die ontploffing en nael vorentoe. ‘n Skrikwekkende toneel wag hom in: “By die skuiling lê ‘n stapel van ons manne dood of sterwend – ‘n verbryselde massa.” ‘n Enkele bom wat in daardie eng ruimte ontplof het, het agt man gedood en nog nege gewond.

Daarna sorg ook die Gloucesters dat ‘n Kakie met ‘n teleskoop Long Tom gedurig dophou.(29) Die mees demoraliserende van alles is ‘n trefskoot op die Stadhuis op 30 November. Tien pasiënte en dokters van die 18de Veldhospitaal, wat daar ingekwartier is, word gedood of gewond.(30)

(29)Luit. C. Hickie dagboek 22, 23 Des 1899, Hick. Vgl. OH I, 553, meld 9 dooies

(30)Maj. Donegan 30 Nov 1899, PV

By ander geleenthede tree Long Tom soos ‘n regte krieketspelende heer op. Op die dag van die groot wedstryd waarna Netley verwys (tussen die Devons en ‘n klompie kanonniers), is almal maar bra senuweeagtig: hulle verwag die Boere gaan die spelers deur die teleskope gewaar. En waarlik, binnekort word ‘n salvo aangekondig. Die kolwer hardloop vorentoe, asof hy die kanonkoeël wil kolf. Dit val tollend ‘n paar voet voor sy kolf op die grond, maar ontplof nie.(31)

(31)Rawlinson dagboek 1-3 Des 1899. Rawl 7/1. Luit. C. Hickie dagboek 3 Des 1899, Hick

Oor die algemeen is hierdie 6-duim-kanonne van die Boere nie besonder doeltreffende militêre wapens nie: d.w.s. as dit hul regstreekse taak is om te dood en te verwoes. Die afstand is so groot – 6 000 tot 12 000 tree – dat hulle nie skrapnel met tydlonte kan vuur nie, die soort koeëls gebruik, wat in werklikheid nie bars as hulle op sagte grond val nie; statisties gesproke is etlike honderde kanonkoeëls dus nodig om een Engelse soldaad te dood.(32)

(32)Kol. Coxhead PRAI XXVII 437 E.V. Rawlinson-K & R Rawl 6/. Kapt. Lambton se get RCSAW III, Q 19102-12

Maar deur die garnisoen vas te pen, transformeer hulle die beleg. Sonder die twee Long Toms sou daar elke dag krieket en polo gewees het; soldate sou op die gesondste dele van die vlakte gekampeer het en nie, soos nou, die helfte van die dag moes bly sit nie. En met ‘n beter kosvoorraad – die meeste daarvan is vee op die hoef – sou hulle nie so gou begin honger ly het nie.(33)

(33)Coxhead tap

Kortom, die moreel sou oneindig beter gewees het. Gelukkig vir die Engelse is daar ‘n teenmiddel vir die sielkundige uitwerking van die Long Toms in die vorm van Lady Anne en haar tweelingsuster, die ander vlootklanon van 4.7 duim, “Princess Victoria”.

Hulle kan nie verhinder dat die Long Tom skiet nie; nog minder kan hulle Boere doodmaak; en teen Kersfees het hulle maar ‘n paar honderd koeëls oor. Maar dit is gerusstellend as die vrolike bloubaadjies met groot lawaai op Cove Redoubt en Junction Hill lostrek. Die garnisoen is ten minste nie heeltemal hulpeloos nie.(34)

(34)Rawlinson-K & R Rawl 6/157-8. Kapt. Lambton se get RCSAW III, Q 19112-27 haal andere aan

Dit is die traagheid en onverskilligheid van die verdedigers, gepaard met die toenemende sterfgevalle van siekte, wat die intelligenter offisiere die meeste bekommer.(35) Hierdie bekommernis lê aan die wortel van hul bitter gevoelens teenoor Sir George en sy staf.

(35)Rawlinson-K & R 25 Nov 1899, Raw; 6/92. Steavenson dagboek 20 Nov 1899, Stea. Vgl. Stuart 233, Nevinson 105-6

Waarom, waarom, vra kapt. Gough, word ons nie toegelaat om die vyand se linies te plunder nie? “Die Here weet, ons het ‘n sukses nodig.:(36) Die vraag word deur baie van die Natalse vlugtelinge in die dorp herhaal. Toe die beleg begin het, was hulle al bitter wrewilig teenoor die Britse owerheid; Milner se pragtige belofte om Natal – “met die hele mag van die Ryk” – te verdedig, vorm ‘n skelle kontras met die belaglik klein aantal troepe wat Joseph Chamberlain met die uitbreek van die oorlog na Natal gestuur het.

(36)Kapt. J. Gough dagboek 30 Nov 1899, Fou

Die Ladysmith Bombshell, die Lyre se tweelingsuster, wat die koloniale mening weerspieël, ontplof met hierdie reëls: The hard times we have had to bear / We’ll slate Great Britain right and left / We’ll curse the British Parliament / Of friends and property bereft / We’ll show to all the world we meant / To demonstrate the sad delay / That’s caused our misery today.  Confound J-C(37)

(37)Ladysmith Bombshell

Een van die Natalse vlugtelinge, ene Willis, ‘n boer, is die eienaar van die grond waarop die Boere Bulwana Tom opgerig het. Willis het vir sy groot gesin skuilings in die walle van die Kliprivier uitgegrawe en daar bly hy, soos baie ander burgers, die grootste deel van die dag. Op 6 Desember skenk sy vrou die lewe aan ‘n fris seun, wat hulle lojaal Harry Buller Siege Willis doop.

Maar Willis voel minder lojaal teenoor Sir George White. “Ek kon hom baie foute vergewe,” sou hy later skryf, “behalwe een … dat hy die Boere kon toelaat om Umbolwan (Bulwana Hill) te beset en groot beleg-kanonne daar op te rig. Dit was ‘n jammerlike militêre flater wat skade en lewensverlies veroorsaak het en verantwoordelik was vir die meeste van die siekte en ellende wat sou volg.”

Vroeg in Desember dring Willis by die owerheid aan om Bulwana te probeer stormloop ten einde die kanonne stil te maak. Enkele dae later verskyn daar in die dorp ‘n skerp bewoorde plakkaat waarin White se veglustigheid veroordeel word.(38)

(38)Teks van Willis-brief goedgunstiglik deur mnr. Christopher van Ladysmith verskaf. Sien ook MacDonald 161

In ‘n sekere sin is die houding van die burgerlikes in Ladysmith die teendeel van dié in Kimberley. In Kimberley het Cecil Rhodes en sy kornuite gedreig om die dorp aan die Boere oor te gee tensy hulp opdaag. Hier in Ladysmith dit die burgerlikes wat op aktiewe verdediging aandring. Die rede is waarskynlik die teenwoordigheid van daardie kontingent van die Imperial Light Horse – die Uitlander-vrywilligers uit Johannesburg.

Andersyds is daar in Ladysmith ook drie noemenswaardige (moontlik berugte) burgerlikes wat blykbaar ‘n uiters power rol in die beleg gespeel het: dr. Jameson, Sir John Willoughby en Cecil Rhodes se broer Frank. Soos ons gesien het, het hierdie drie helde van die inval nog opdringerig op Ladysmith toegesak ten einde onder die eerstes te wees wat die Uitlander-vlag in die triomftog na Pretoria voer. Nou moet hulle noodgedwonge weer gevangenes wees.

‘n Mens moet toegee dat Frankie Rhodes wel af en toe nuttige werk doen. So verskyn hy strategiese krygsmateriaal, soos sjampanje, aan ‘n uitgesoekte groepie offisiere, onder wie kol. Ian Hamilton. Maar die werklikhede van die oorlog is vir dr. Jim te veel. Sy gesondheid gee in, soos  ná Doornkop. Hy kry ingewandskoors en moet sy bed opsoek.(39)

(39)Hutchinson Frank Rhodes 133-5. Colvin Jameson II, 191-2. Pearse 42-3/ Stuart 221, 290. Rawlinson dagboek tap. Sampson & Hamilton Anti-Commando 122-3

Wanneer burgerlikes soos Willis, of regimentele offisiere soos Gough, die lafhartigheid van Sir George White se strategie veroordeel het, kon hulle seker nie raai hoe heelhartig die twee mees bevoegde manne was genl.-maj. Sir Archibald Hunter en kol. Sir Henry Rawlinson, later beroemd as “Rawly”, genl. Lord Rawlinson.

Geeneen van hulle was ‘n tipiese lid van White se span nie. Die meeste van die offisiere met rooi lussies was rompslompers van die ou skool, behep met die reëls en regulasies van vredestyd. Die kavallerie-brigadier, Brocklehurst (ironies bekend as “Pogglehurst”), het nòg “die swier nòg die verstand” om in bevel van die ruitery te wees – so sou Rawlinson getuig.(40)

(40)Rawlinson-K & R 19 Des 1899, Rawl 6/121

Niemand kan met die bevelhebber van die sappeurs oor die weg kom nie; hy is te koppig. Hy weier om mynvelde voor die Britse perimeter te laat lê; dit staan nie in sy regulasieboek nie.(41) Ook weier hy dat die sinkhutte wat voor die oorlog in Ladysmithse kamp gebruik is, uitmekaar gehaal en gebruik word om die bomskuilings te versterk.(42)

(41)Ibid

(42)Kapt. J. Gough dagboek Nov 1899, Gou

Die bevelhebber van die artillerie het al die “weergalose geleenthede” wat die Boere hom gegee het, verknoei; dit was hy wat nagelaat het om die Gordons by Elandslaagte aanhoudende dekvuur te gee, met die gevolg dat die Boere hulle in die stormloop groot lewensverlies berokken het.(43)

(43)Rawlinson-R 19 Des, 13 Nov 1899, Rawl 6/121, 39

Ten slotte kan die hoofgeneesheer, lt.-kol. Richard Exham, van wie die gesondheid van die siekes en die gewondes afhang, nie – om dit sag te stel – die mas opkom nie.(44) Dit was Exham se koppige besluit om die gewondes in die Stadhuis te hou, waar ‘n klein Rooi Kruis-vlag hulle glo moes beskerm, wat tot die ramp van die 18de Veldhospitaal gelei het.(45)

(45)Sien nota 30

Al hierdie kritiek het van Rawlinson selfr gekom, in vertroulike verslae aan sy magtige beskermhere, Lord Roberts en Lord Kitchener. Oor Sir George White se strategie het hy nog onvleiender kommentaar. Hulle het genoeg kos tot Januarie, miskien vroeg in Februarie. En tog – hy stel dit so taktvol as moontlik – kon ons meer gedoen het”.(46) In die vierde week van die beleg skryf hy: “… Sir George is nie van plan om te roer voor hy weet of daar hulpkolonnes naby is nie.”

(46)Rawlinson-R 25 Nov 1899, Rawl 6/89-90

“Dit is nie aangenaam of goed vir die moreel van die troepe nie. Dié het reeds sekere skade gely. Ons moet nou ‘n paar suksessies hê net om nuwe lewe in hulle te blaas. … Ek sou die Boere elke nag met klein groepies van sê half-kompanies of seksies lastig geval het – hulle kon die Boere-brandwagte bekruip het, wat nie baie ver is nie … in elk geval, ek sou die Boere geen rus gegun het nie – dan sou ek offisiere toegelaat het om uit te gaan en party van die kanonne te probeer verwoes, wat snags nie baie moeilik sou wees nie, want hulle word baie traag bewaak – ek het self aangebied om een van die groot kanonne te gaan pak en baie ander het dieselfde gedoen, maar nie een keer het ons die belegmag op enige manier lastig geval nie en daarenteen toegelaat dat hulle ons daagliks bestook …”(47)

(47)Ibid. Sien ook genl. Hunter se get RCSAW III, Q 14583

Wat Rawlinson verswyg, miskien weens persoonlike trou, is die trae en onverskillige manier waarop die Engelse hulle eie verdedigingslinies versterk het. Die verklaarde oogmerk was om Ladysmith in ‘n Plewna te verander, die Turkse fort wat in 1877 soveel maande lank teen die Russe kon uithou. Maar sodanige poging is alleen op die noordelike kant van die perimeter aangewend. Hier, in sektor A, op ‘n natuurlik-swak-gedeelte van die linie, is diep loopgrawe en groot skanse aangebring. Die bevelhebber, kol. William Knox, het die Plewna-vestingwerke self bestudeer.(48)

(48)Ibid Q 14540. Kol. W.G. Knox dagboek oor beleg Nov 1900 Bobs Kis Varia

In sektor C is ‘n selfs nog swakker gedeelte van die linie weerloos gelaat, op ‘n paar skanse en sangars (klipskuilings) na. Dit was Platrand (die Engelse se “Caesar’s Camp”/Wagon Hill), die erkende sleutel tot Ladysmith se hele suidelike verdediging. Die offisier in bevel is kol. Ian Hamilton, Lord Roberts se toespraakskrywer en protégé, White se vriend, die veteraan van Majuba, die oorwinnaar van Elandslaagte.

Hamilton is ‘n digter en grapjas, debonair, opwindend en briljant, maar ‘n bietjie afgeleef. Waarskynlik vind hy die grawe van skuilgate in slote bra vervelig. Hy word selde in sektor C gesien; hy gaan tuis in die gerieflike dorpshuis waar kol. Rhodes sjamjane uitdeel.(49) Miskien gebruik hy ook onbewus kanonnier Netley se frase – “ons geluk bly uit” – en wens hy dat die Boere Platrand weer moet probeer aanval.(50

(49)Kol. W.G. Knox dagboek 6 Jan 1900, Bobs Kis Varia. Rawlinson-R 10 Mrt 1900, Rawl 6/. Kapt. J. Gough dagboek 7 Jan 1900. Vgl. OH II, 534-6. 555-7

(50)Sien nota 1

Intussen, in die week voor Colenso, pluk Rawlinson eindelik die vrugte van sy veldtog om sy hoof tot dade aan te spoor.

White se buie is wisselvallig, maar opgewek is hy nooit. Miskien gelukkig vir die garnisoen verskyn hy selde buite sy hoofkwartier. Uur ná uur bly hy somber en melancholies in sy kamertjie sit. “Mens kan verstaan,” merk een van die ander op, “wat generaal Gordon moet deurgegaan het, met niemand om mee te praat nie. …”(51)

(51)Hutchinson Frank Rhodes 137. Rawlinson-R 8 Des 1899 Raw; 6/106-8

Die skande van Mournful Monday het in sy siel gebrand: daardie wit vlae. Wel, hy het verwag om van sy bevel onthef te word en hy glo dat hy dit verdien. Maar die beleg het vir hom ‘n meer verfynde soort foltering bewaar.

Nou slinger sy gedagtes tussen Rawlinson en die staf se verskillende kontingensieplanne: om na die suide uit te breek; om na die noorde uit te breek; om die Long Toms aan te val. Aangesien Buller nou binne die volgende tien dae verwag word, word hy eindelik oorreed om ‘n aanval op die kanonne te magtig.(52)

(52)Rawlinson dagboek 6-7 Des 1899, Rawl 7/1

In die vroeë ure van 8 Desember,  ná ‘n vreedsame dag waarin hy Botha se waens op die Tugela deur ‘n teleskoop dopgehou het, wandel Rawlinson na die Convent Ridge en gaan staan waar hy die dowwe silhoeët van Lombardskop vier myl na die ooste kan sien.Dit is ‘n droë, maanlose aand, ideaal vir aanval.

Seshonderd man van die garnisoen – die Uitlanders van die Imperial Light Horse en die kolonialiste van die Natal Carbineers, o.l.v. Engelse offisiere – is gestuur om die twee Boere-kanonne op Gun Hill, ‘n voorwaartse helling van Lombardskop, te gaan verwoes. ‘n Tyd lank kan Rawlinson die Boere se ligte teen die berghelling sien beweeg. Toe, om 3.17 vm., hoor hy die gerammel van drie ontploffings.(53)

(53)Ibid

Alles verloop presies volgens Rawlinson se planne. Daar is twee groot kanonne teen die laer hellings – ‘n 4,5-duim-houwitser en een van die Long Tons, ‘n Creusot, albei beskerm deur ‘n sandsakvesting van meer as 30 voer dik.

Die Engelse het hul perde laat staan en o.l.v. genl. Hunter en swart gidse vooruit gekruip. Die helling was feitlik onbewaak. Een Boere-brandwag het hulle voorgekeer.

In dié stadium bulder maj. Karri Davies, bevelhebber van die afdeling: “Vel bajonette en storm die (bokkers)!” In werklikheid gebruik die Imperial Light Horse, te  perd of andersins, nooit bajonette nie. Maar vir die Boere is dit genoeg. Hulle laat vat. Die aanvallers stel albei kanonne met skietkatoen in die lope buite aksie.

As trofeë neem hulle die sluitstukke van al die kanonne, die sponse en die Long Tom se visier – wat vir ‘n afstand van tot agt myl ingestel i s – na Lydysmith terug, waar hulle voor dagbreek aankom(54) Hierdie triomf word deur een ding bederf. Daardie selfde oggend stuur White die kavallerie-brigade op patrollie na Nicholsonsnek, waar ou Pogglehurst, die knoeier, 24 man verloor.(55)

(54)Ibid. Stuart 142-51 (erelid van ILH). Nevinson 143-50 (gebaseerj op maj. Henderson se weergawe ens.). OH II, 546-7. Rawlinson-R 11 Des 1899 tap. Breyt II, 437-43. MacDonald 118-19. Pearse 103-17. McHugh 109-27. TH III, 167-9

(55)Rawlinson tap. Ongevalle soos aangegee in OH II, 548

‘n Triomf vir Hunter en die Uitlanders van die ILH. Drie aande later is dit die gereeldes se beurt om die Boere-kanonne aan te val. Hul doelwit is die 4.5-duim-houwitser op Suprise Hill en die aanvallers is vyf kompanies van die Rifgle Brigade, met inbegrip van kapt. John Gough se kompanie. Rawlinson gaan na King’s Post, aan die noordekant van die perimeter, om die aanslag dop te hou.

Die Boere het naby hierdie plek ‘n soeklig opgestel. Die ligstrale tas die hellings af, maar vind geen aanvallers nie. Die houwitser word opgeblaas, maar die skietkatoen wou die eerste keer nie afgaan nie. Dit het die Boere tyd gegee om die aanvallers af te sny en hulle moet hul pad met bajonette oopveg. In die proses (glo die Engelse) sneuwel minstens 30 Boere. Die Engelse ongevalle is nege dooies en 52 gewondes.(56)

(56)Rawlinson-R rap. OH II, 548-9. Nevinson 158-64. McHugh 128-38. MacDonald 130-6

Gough, wat 24 man uit sy eie kompanie verloor het, sou die aksie beskryf: “Die kolonel skree, ‘Vel bajonette en storm’, en daar gaan ons. … toe die kanon opgeblaas is, val ons van links terug … die vyand was reg rondom ons, ek was nog nooit in my lewe in so ‘n hoek nie. … ek is so bly die Rifle Brigade het eindelik ‘n kans gekry.”(57)

(57)Kapt. J. Gough dagboek 7 Des 1899, Gou

Ook Rawlinson is tevrede. Hulle eie verliese is swaar, maar die morele gevolge “sal nie aan die Boere verbygaan nie”.(58)

(58)Rawlinson-R 11 Des 1899, Rawl 6/

Nog ‘n week gaan verby, vol botsende planne vir offensiewe. Die arme White kan nog steeds geen vaste besluit neem oor hoe hy Buller die beste kan bystaan nie. “Die hele saak moes al dae lank opgelos gewees het,” skryf Rawlinson op 15 Desember moeg.(59)

(59)Rawlinson dagboek 15 Des 1899. Raw; 7/1

Dit is die dag van Colenso. Toe kom die nuus van Buller se terugslag, met sy verpletterende morele uitwerking op die ganisoen van Ladysmith. Die garnisoen sak in skynbare hulpeloosheid terug.(60) Boweal is daar die knaende vrees van wat die Britse publiek van hulle dink. Soos lt. “Dodo” Jelf van die 60ste huis toe skryf: “Is ons lamsakke of helde?”(61)

(60)Steavenson 17 Des 1899, Stea. James 140-1

(61)Luit “Dodo” Jelf-ouers 4 Des 1899, Jelf. Vir ander weergawes sien luit. Harold Fisher 3 Des 1899 “lamsakke of helde” (sy) PV. James 140. Pearse 136-7

*** *** ***

Ten minste een van die onsekerhede word daardie Saterdag, 6 Januarie, opgelos. Dit is weer ‘n maanlose nag – die nag waarop die Boere, in oorleg met Kruger, besluit het om ‘n harde hou teen Platrand te slaan.

Iets is aan die gang. So het Rawlinson die vorige aand besluit. Daar is ‘n spookagtige stilte in die boerelinies.(62) Teen omstreeks middernag hoor party van die brandwagte op Wagon Hill hoe die boere daaronder psalms sing. Vreemd: psalms om middernag.

(62)Rawlinson dagboek 5 Jan 1900, Rawl 7/1

Rawlinson self glo dat al die Boere, behalwe die kanonniers en die brandwagte, miskien suid getrek het. As dit so is, moet hulle Botha gaan help het om Buller te fnuik in sy tweede poging om die Tugela met geweld oor te steek, ‘n poging wat binnekort moet begin.

Rawlinson smeek White om kavallerie-patrollies uit te stuur. Hamilton smeek White om hom toe te laat om ‘n plaashuis in ‘n vallei anderkant Platrand te beset. White weier albei versoeke.(63)

(63)TH III, 182 (voetnoot)

Hy kan nog steeds nie besluit of en wanneer hy Buller moet help nie. Maar hy besluit om twee 12-pond-vlootkanonne en die 4.7-duim, die Lady Anne, op Wagon Hill te verskuif, gereed ingeval hy genoeg moed bymekaarskraap om voort te gaan met die lankvertraagde uitbraak na die suide.(64)

(64)OH II, 558. TH III, 181

Om 2.40 vm. in daardie koel, sterbesaaide nag, laat 13 vlootkanonniers, bygestaan deur 25 sappeurs, met ‘n eskort van 70 Gordons, Lady Anne se hout-kanonplatform op die klipskans by Wagon Point sak, die mees suidwestelike deel van Platrand. Die kanon self het voorlopig in die ossewa onderaan die heuwel bly lê terwyl twee ander waens, met die groot platformbalke en die sappeurs se gereedskap, by die helling opgesleep is.(65)

(65)Ibid. Jeans 218-9

Die sappeurs se lanterns werp ‘n spookagtige lig. Lady Anne beweeg teen die helling op. Die nag is vol geluide: die geknars van die manskappe, swartes wat die osse aanjaag. Skielik ‘n nuwe geluid: klap-klop, klap-klop: die geluid van geweerkoeëls wat die rotse om hulle tref.(66)

(66)Jeans 196, 219-20/ TH III, 183-4

“Wat de hel? Die geknal van gewere. Ons skop die lampe uit en gryp ons gewere en hol by die sangar in. ‘n Paar arme duiwels raak die kluts kwyt – hulle kan nie hul gewere kry nie en begin hardloop. Jong Digby- Jones spring op ‘n rots … pluk sy rewolwer uit en sê (aan die vlugtende sappeurs) ‘Die eerste man wat hier verbygaan, skiet ek dood.’”(67)

(67)Sappeur G. Hall aangehaal K. Griffith 214. Hall bandopname, PV

Teen dié tyd is Wagon Hill ‘n verwarde massa skreuende manne. Daar is ‘n kris-kras van geweervuur; koeëls spat met ‘n vonkreën van die rotse af. Die brandwagte wat hierdie lewensbelangrike randlyn mot beskerm, is minder as honderd man van die Imperial Light Horse. Hulle dra dieselfde slap hoede as die Boere, wat die verwarring vererger.

Teen die gloed van die Boere se soeklig, wat op die een of ander manier in werking gestel is, stroom verskeie honderd Vrystaters oor die rant en oorrompel die brandwagte. Gelukkig vir die garnisoen het die ILH ‘n klein “fortjie” gebou: ‘n klipmuur, ongeveer 20 voet in die omtrek, waarin openinge vir skietgate gelaat is.(68)

(68)OH II, 558-9. TH III, 185

Dit is die sangar waarby lt. Digby-Jones en party van die sappeurs invlug. Ander skuil in die kanonskans wat vir een van die 12-ponders berei is. Hier verhoog ‘n vlootkanonnier, ene Sims, die onwerklikheid van die toneel deur die manne te nommer asof hulle op parade is Miskien laat dit hulle kalmer voer: “Een, twee, drie, vier, vyf. Nommers 1 tot 8 sal die regter-halfseksie wees; nommers 9 tot 15 die linker-halfseksie. … Kom nou, manne, gereed? Reg, halfseksie, reg, vuur!”

Die koeëls vlieg, manne kreun en gil. Op die plat heuweltop, waar die drywers hulle gelos het, staan die spanne osse geduldig aan die nat gedoude gras en vreet.(69)

(69)Jeans 200. OH II, 558-9. TH III, 185

Twee en ‘n half myl daarvandaan, aan die oostekant van dieselfde dubbelrant, speel ander wilde tonele hulle af. Hier, by Caesar’s Camp, kry die Engelse ‘n volle kwartier waarskuwing voor ‘n Transvaalse mag oor die rant storm. Maar Hamilton se verdediging in sektor C is so power dat daar vir die boere geen werklike hindernis is nie; hulle neem die lewensbelangrike rant in.

Hamilton het sy verdedigingsplan gebaseer op ‘n ry “klipforte” ‘n ent agtertoe aan die binnekant van die plato. Daar is dus geen steun deur loopgrawe nie. Geen forte kyk oor die heuwel se oostelike hang nie. Die belangrikste van alles, Hamilton het nie aangedring op die verwydering van die bossies waaragter die aanvallers nou skuil nie. Gevolglik neem dié Transvalers nie alleen die rant oor nie, maar verras die Manchesters se brandwagte van agter en skiet hulle by die vleet (menigte) neer.(70)

(70)OH II, 559-60. TH III, 186-8

Toe die dag breek, is die hele kop in die Boere se besit.(71)

(71)TH III, 189

Twee myl verder noord, by Convent Ridge, word Rawlinson en Hunter, die stafhoof, deur die geluid van kanonvuur gewek. Die hoofkwartier is telefonies met elke seksie van die verdedigingslyn verbind. Spoedig bereik verbasende berigte hulle. Die Boere het hul konvensionele taktiek voorlopig vaarwel gesê en loop nou alle kante van die perimeter storm, onder dekvuur deur elke kanon wat hulle het.(72)

(72)Rawlinson dagboek 5 Jan 1900, Rawl 7/1. Genl. Hunter se get RCSAW III, tap. OH II, 560-1, 563

Die Engelse in kol. Knox se miniatuur-Plewna in seksie A is veilig. Daar is ‘n meer vasberade aanval op kol. Francis Howard se seksie B by Observation Hill, maar ook dit word afgeslaan. Hoewel die Engelse feitlik geen verliese ly nie, bly 20 Boere teen die heuwel lê. By Wagon Hill en Caesar’s Camp vaar die Boere beter. Daardie oggend kan die arme White skaars uit sy bed beweeg. Koors het hom verswak.

Hunter stel ‘n aantal lede van die Natalse Polisiemag aan om vir hom ‘n pad uit die dorp te baan asx die hoof-garnisoen dalk tot oorgawe gedwing word.(73) Die verantwoordelikheid om Ladysmith te red, rus daardie dag op Hunter se skouers, asook op dié van Rawlinson.

(73)Hunter tap. OH II, 562

Die Boere sou hul stelling op die bboste, rotsbedekte suidelike hange van Caesar’s Camp nooit kon ingeneem het as die engelse ‘n fort op die regt plek gebou het nie. Nou, besluit die Engelse, moet hulle weer daar verdryf word. In die vroeëmore-sonskyn draf die ses kanonspanne van maj. Abdy se battery, die 53de, na Intombi Camp (die hospitaalkamp anderkant die verdedigingslinie) en haak in die skuiling van ‘n aantal bome los.

Bulwana Tom stoot ‘n rookpluim uit en rammel. Die swaar koeëls bars naby die Engelse battery. Princess Victoria slinger ‘n aantal van haar kosbare 4.7-duim-koeëls na Bulwana Tom en Abdy se ses veldkanonne begin die suidoostelike hange van Caesar’s Campmet skrapnel bestook; elke kanon vuur 20 vinnige skote. Kort ná 6.00 vm. is daar nog net dooie en gewonde Boere teen die hange.(74)

(74)Jeans 222-3. OH II, 562-3

Maar die veldkanonne kan nie die suidelike rant of die hange aan die ander kant bereik nie. Om die vyand uit hierdie stellings terug te dryf, sal infanterie nodig wees. Omstreeks 8.00 vm. bereik ses kompanies van die Rifle Brigade die toneel. Hierdeur word die sterkte van die garnisoen wat daar is – die Manchesters en die Gordons – meer as verdubbel. Een van die kompanie-bevelhebbers is kapt. Gough(75).

(75)OH II, 565

Later sou hy in sy dagboek skryf: “Toe ons daarkom, kry ons niemand in bevelnie en niemand weet hoegenaamd wat aangan nie. … Eers word Sydney Mills vorentoe geskuif om Piket no. 5 te versterk. Hy weet nie waar dit is nie en niemand kan hom sê of die Boere op die rant is of nie. … Sydney is platgeskiet, en ‘n hele klomp manne naby hom….

“…Kompanie D kom van links af en al drie offisiere word onmiddellik platgeskiet. … Kompanie B kom toe van links om en beweeg na die flank, terwyl Stevens meer as een maal val en George Thesiger, wat by sy kompanie probeer kom, deur die nek geskiet word. … Ná Thesiger getref is, was ek die senior Rifle Brigade-offisier onder vuur, en ek kon nie uitmaak wat die owerheid van plan is om aan ons uiters benarde posisie te doen nie … bevele het ontbreek.”(76)

(76)Kapt. J. Gough dagboek 5 Jan 1900, Gou

Die man wat vir hierdie verwarring, vir die verminkende verliese van die Rifle Brigade en inderdaad vir die hele debakel verantwoordelik was, was Ian Hamilton. Toe die gevuur hom wek, het hy dadelik na Wagon Hill galop, sonder om iemand in Caesar’s Camp in bevel te laat.

Hy doen nou egter sy bes om skuld met persoonlike waagmoed te delg. By Wagon Hill is die situasie ewe verward, maar nog meer kritiek, aangesien die “forte” daar nog lendelammer is en geen hulp verwag kan word van veldkanonne wat uit die flank vuur nie.

Kort ná dagbreek bereik die eerste versterkings die top van die heuwel. Die res van die Imperial Light Horse, wat aangegalop km, spring van hul perde af en werp hulle in die vuurlinie op die grond neer. Op dieselfde oomblik marsjeer twee reserwe-kompanies, Gordons o.l.v. maj. Miller-Wallnut, van hul kampeerterrein ‘n myl na die noorde.

Om sewe-uur sluit agt kompanies van die 1st en 2nd 60th onder maj. Campbell by hulle aan. ‘n Stuk of 2 000 man lê nou in die vuurlinie plat – 250 Vrystaters onsigbaar tussen rotse aan die suidwestelike rant van die heuwel en agt keer soveel Britse infanterie. Op plekke is daar maar ‘n paar tree tussen die twee vyandelike groepe.

En nooit is die vuurkrag van die magasyngeweer – en die Britse offisiere se onvermoë om dit te besef – beter gedemonstreer nie. Drie keer storm ‘n klein groepie manne onder aanvoering van ‘n offisier op die verskuilde Boere af, en elke keer word hulle uitgewis (een van die moedige offisiere wat sneuwel, is maj. Robert Bowen van die 60ste).

Eindelik gelas Hamilton hierdie selfmoord-aanvalle af. Die Engelse sal ander maniere moet vind om met die Boer af te reken. En wonderbaarlik, die geweervuur sterf weg terwyl die Boere in die gras wegsak. Teen 11.00 vm. het Hamilton genoeg vertroue om ‘n aantal manne by die heuwel te laat afmarsjeer. Dit is bitter warm, en dit is tyd vir middagete.(77)

(77)OH II, 563-4. TH III, 185-96. Jeans 223-4. Vir Bowen sien aanhaling bo-aan hoofstuk

Omstreeks eenuur verbreek die Boere vir die tweede keer op daardie merkwaardige dag al hul eie taktiese reëls. Lt. Digby-Jones en maj. Miller-Wallnut sit onder ‘n seil naby Lady Anne se kanonstelling by Wagon Point; Ian Hamilton het pas by hulle aangesluit. Hulle sien nie hoe ‘n groep boere oor die rug storm en die Britse linies paniekerig laat terugval nie.

Later sou blyk dat twee moedige Vrystaatse veldkornette, De Villiers en De Jagers, die Vrystaters aangevoer het. Die eerste wat Hamilton hiervan weet, is toe een van die sappeurs in die kanonstelling langs hom neerval. ‘n Koeël uit ‘n geweer wat oor die sandsakke gestoor is, het hom n oodlottig gewond.

Digby-Jones spring op en skiet De Villiers met sy rewolwer. Iemand anders skiet De Jagers uit die kanonstelling.(78) Laer teen die helling af hoor kanonnier Sims die skote en die krete; die massa Engelse kom vlugtend en halsoorkop na hom aan. “Naval Brigade,” bulder hy, “ruk op … voorwaarts.”

(78)Jeans 224

Nogmaals is dit kanonnier Sims en Digby-Jones wat die situasie red. Die 13 kanonniers storm met gevelde bajonette terug. Bo-op die kruin sien hulle hoe Ian Hamilton sy rewolwer op ‘n Boer met ‘n grys baard gerig hou. “Kom terug, manne!” skree hy. “Alles onder beheer. Laat kom reserwes!”

Die paniek gaan lê en die handjievol Boere wat die heldhaftige veldkornette gevolg het, word neergeknal of verjaag, hoewel sowel Digby-Jones as Miller-Wallnut, twee van die Britse dapperes, in die skermutseling hul lewens verloor.(79)

(79)Ibid. OH II, 565-7. TH III, 196-7

Die berigte oor die skermutselinge in sektor C is intussen aanhoudend telefonies aan die hoofkwartier oorgesein. Vir almal is dit senuweetergende ure. Sir George White stuur vir Buller ‘n half moedelose telegram waarin hy hom smeek om by Colenso ‘n afleiding te veroorsaak.(80) Feitlik al die reserwetroepe is reeds toegedeel. Hunter en Rawlinson bly kalm.

(80)White-Buller 9.30 vm 6 Jan 1900, SD I, 494 (no 45)

Om 2.00 nm., ná De Villiers en De Jagers se aanval op Wagon Point afgeslaan is, skryf Rawlinson self in sy dagboek: “Posisie min of meer onveranderd. … Groot getalle Boere … kom in die spruit af … waarskynlik probeer die klomp van Glagstones-spruit ons kommunikasies met Wagon Hill, wat oor die oop vlakte lê, afsny. …”(81)

(81)Rawlinson dagboek 6 Jan 1900, Rawl 7/1

‘n Uur of wat later ontvang hy ‘n brawe potlood-briefie van Ian Hamilton: “My liewe Rawley. Wat ‘n dag het  ons. … Waarskynlik die eerste keer bekend dat ons die Boere op dié manier kon uitboer. … Ek hoop jy is fiks en vrolik. … Je. Ian H.(82)

(82)Ibid

Teen 4.00 nm. is dit vir Hamilton duidelik dat albei Boere-aanvalle misluk het. Hy glo dat die Boere wat nog aan die kruin vasklou, net vir di donker wag om te vlug. En hierdie keer is Hamilton volkome reg. Maar op daardie oomblik tree Sir George White tussenbeide – en hy oorreageer heftig, soos net ‘n swakkeling kan. Die Boere moet voor donker van die kruin afgeslaan word. Dit is sy besluit.

Die finale infanterie-reserwes, drie kompanies Devons, moet hulle met bajonette daar wegwerk. Hamilton deel die vrolike nuus aan die bevelhebber van die Devons, lt.-kol. Park, mee. Kan hy die kruin stormloop? “Ons kan probeer,” antwoord Park lakoniek.(83)

(83)TH III, 197-9/ OH II, 568

Daardie hele dag het die skroeiende Natalse son die kop bestryk, die bakkende klippe waaragter albei kante skuil. Maar nou – net soos by Elandslaagte, toe die Gordons gestorm het – word die lug indigo en breek ‘n woedende donderstorm oor die terrein los.(84) By die hoofkwartier kan Hunter en Rawlinson omtrent niks bo die gedonder hoor nie. Ten einde nie doodgeskok te word nie, moet hulle alle telefone afsny.(85)

(84)Pearse 203. Nevinson 216

(85)Rawlinson dagboek 6 Jan 1900, Rawl 7/1

Dertig myl daarvandaan sien Buller se seiners die heliograaf-flitse in die duister verdof: “Val weer aan, baie moeilike situasie. …” So eindig die boodskap wat Buller (en die Britse publiek) vir meer as ‘n dag in gespanne afwagting sou laat.(86)

(86)White-Buller 3.15 nm 6 Jan 1900, SD I, 495 (no 47)

Op Wagon Hill trek die storm reeds verby toe kol. Park die beuelblaser aansê om die teken te blaas. “Vooruit!” Die gekletter van drie rye bajonette en ‘n wilde gejuig. Toe storm hulle oor daardie 130 tree wye strook gras, wat reeds voor die reën nat en glibberig was.

Mausers knetter van die kruin af. Drie van die offisiere het reeds geval. Die Devons weifel feitlik nie. Maar toe hulle die kruin bereik, is daar geen kans om hulle bajonette te gebruik nie. Die Boere het eenvoudig ‘n nuwe stelling tussen ‘n aantal rotse ingeneem en vuur nou verder. So woed die geveg tot die aand voort, ewe verward en bloederig as wat dit begin het.(87)

(87)Kol. Park dagboek 6 Jan 1900, Dorset & Devon Regt. Museum. OH II, 568-9. TH III, 197-201

Die volgende oggend is daar ‘n skietstilstand sodat die dooies en gewondes versamel kan word. Die soektog is buitengewoon makaber. Die gesneuwelde Boere aan die suidoostekant van Caesar’s Camp is so deur skrapnel vermink dat baie van hulle op die plek begrawe moet word. Op die betreklik plat heuwelkruin tel kapt. Gough 52 dooie Boere.(88)

(88)H. Gough Soldiering On 72

Sy regimentele sersant-majoor lê hulle langs mekaar op die grond, bebaarde ou manne in ruwe klere, uiteindelik in die ordelike rye wat die samajoor kan verstaan: voete en koppe in parallelle rye. Die totale getal Boere-dooies, so word geglo, is heelwat hoër.(89)

(89)Ibid. Sien Breyt II, 57vir ander beramings van Boere-gesneuweldes

Aan die Engelse kant is die verliese presies bekend: 424. Sewentien offisiere is dood of sterwend, 28 gewond; 158 manne is dood (meer as by Colenso), 221 gewond. Die Manchesters, die Imperial Light Horse en die Devons, wat in hul moedige stormloop elke offisier behalwe die kolonel verloor het, het die ergste gely.(90)

(90)OH II, 569-70. Kol. Park dagboek tap

Toe Rawlison die volgende dag na die heuwel gaan kyk, keer hy geskok terug. Hy was in Omdurman saam met Kitchener, waar 14 000 Derwisje ná die slag in die sand dood gelê het, maar hierdie toneel is anders.

“Wit lyke is … veel afstootliker as swartes,” merk hy op.(91) Kapt. Steavenson kyk nadie verskrikkinge en skryf in sy dagboek: “Beskaafde oorlog is aaklig.”(29)

(91)Rawlinson dagboek 7 (?) Jan 1900, Rawl 7/1

(92)Steavenson 6-12 Jan 1900, Stea

—oOo—