Inleiding
Thomas Pakenham, vertaal deur Leon Rousseau, Protea Boekhuis
— — —
“Kyk terug oor die bladsye van die geskiedenis; bedink hoe ons nou voel oor oorloë wat ons voorvaders op hulle dag gesteun het … kyk hoe kragtig en dodelik is die bekoring van hartstog en trots.” – W.E. Gladstone, 26 November 1879, ter veroordeling van die eerste anneksasie van Transvaal
— — —
INLEIDING
Die oorlog wat die Boere op 11 Oktober 1899 verklaar het, het die Engelse ‘n onvergeetlike les geleer – “no end of a lesson”sou Kipling dit in ‘n beroemde frase noem. Die Britse publiek het verwag dat dit teen Kersfees sou verby wees. Op die ou end was dit die langste (twee jaar en nege maande), die duurste (meer as £200 miljoen), die bloedigste (minstens 22 000 Engelse, 25 000 Boere- en 12 0900 nie-blanke lewens) en die vernederendste oorlog waaraan Brittanje in die eeu tussen 1915 en 1914 deelgeneem het.
Ek het besluit om die verhaal van hierdie laaste groot (of berugte) imperiale oorlog te vertel met behulp van die eerstehandse, en grotendeels ongepubliseerde, berigte van tydgenote.
Dit was ‘n ambisieuse gedagte om die boek grotendeels op handgeskrwe (en mondelinge) bronne te baseer. Dit was sewentig jaar laas gedoen. In die dekade ná 1902 is die publiek met boeke oor die Boere-oorlog bestook. Hierdie fusillade het uitgeloop op ‘n bombardement deur grofgeskut, ‘n mens kan maar sê deur Long Toms: die sewe boekdele van die Times History of the War in South Africa (1906-1910) onder redaksie van Leo Amery, en die agt boekdele van die amptelike History of the War in South Africa (1906-1910) onder redaksie van genl. Maurice en ander. Sedertdien oorheers hierdie twee massiewe werke alle navorsing i.v.m. die Boere-oorlog, en hulle sal vir die geskiedkundige onmisbaar bly. Hulle vat ‘n magdom oorspronklike materiaal saam, dikwels anoniem.
Aangesien albei 70 jaar gelede voltooi is, is dit verstaanbaar dat hulle gebreke het.
Mettertyd het ek die vertroulike lêers van die Britse Departement van Oorlog begin lees – dié van hulle wat ‘n bisarre besluit van die jare vyftig oorleef het om hulle “uit te dun” – die lêers waarop Amery en Maurice se werke grotendeels gebaseer is. Ek was ook gelukkig genoeg om, dikwels op eienaardige plekke, die private geskrifte op te diep van die meeste van die generaals en politici aan Britse kant.
Daar was dus geen tekort aan nuwe boustowwe nie. So het ek afgekom op die verlore argiewe van Sir Redvers Buller, Britse Opperbevelhebber in 1899 – krygsbriewe deur Buller wat onder die biljarttafel in Downes, sy huis in Devon, verberg gebly het, en in Lord Lansdowne se aktekamer in Bowood. Ek het Lord Roberts se dokumente gefynkam – die trommels en trommels vol wat die National Army Museum uit die sorg van sy mees onlangse biograaf, David James, kon red (die man wat hom daarop beroem dat hy persoonlik verantwoordelik was vir die verbranding van elke stukkie papier wat Lord Roberts ooit aan sy vrou geskryf het).
Ek het afgekom op ‘n Secret Journal van die oorlog, byna ‘n miljoen woorde lank, wat deur die Inligtingsdiens van die Departement van Oorlog opgestel is. Ek het die private papiere van die Minister van Oorlog, Lord Lansdowne, e.a. lede van Lord Salisbury se Kabinet gesien. Ek het meer as honderd stelle dagboeke en briewe opgespoor deur Britse offisiere en manskappe geskryf wat aan die oorlog deelgeneem het. Hierdie dokumente is gulhartig deur hul nasate aan my geleen.
Ek was ook bevoorreg om op my bandopnemer die herinneringe van 52 manne te kon vaslê wat werklik nog in die oorlog geveg het. Die jongste van hulle was 86 toe ek hom eindelik kon opspoor.
Hierdie ekspedisies na die verlede was op sigself opwindend en die moeite werd. Deur hulle het ek geleide die, na my mening, belangrikste beperkinge van Amery se Times History en Maurice se Official History begin insien.
Die Times se geskiedenis sê te veel. Amery se boekdele (veral die eerste drie, waarvan hy self ‘n groot deel geskryf het) bied ‘n welsprekende relaas van die oorlog, maar stel ook wat hy “’n argument” noem – ‘n veelfasettige argument, maar een waarin hy steeds kant kies. Amery was ‘n dissipel van Milner, die man wat hoofsaaklik vir die uitbreek van die oorlog verantwoordelik was.
Amery was ook betrokke by die beweging om die Britse Weermag te vorm. En hy het kant gekies in die stryd tussen die twee groepe in die Britse Weermag (die Roberts-Ring en die Wolseley-Ring) wat teen die Boere geveg het wanneer hulle nie met mekaar slaags was nie.
Die Official History sê te min. Al die politieke hoofstukke is in die konsep-stadium deur die Minister van Kolonies, Alfred Lyttelton, verwyder uit vrees dat hulle die oud-vyand, die Boere, sou aanstoot gee – d.w.s. uit vrees dat “die versoeningsproses belemmer kan word”, soos hy dit in ‘n vertroulike minuut gestel het. En uit vrees dat hulle hul vriende sou aanstoot gee, het die personeel van die Departement van Oorlog dit ewe onmoontlik gevind om reguit te skryf oor baie van die “betreurenswaardige voorvalle” in die oorlog.
Die Times History en die Official History deel bowendien een sentrale swakheid. Baie min bronne van die Boerekant, amptelik of privaat, was aan die samestellers beskikbaar.
Ek was besonder gelukkig in die hulp wat ek van moderne Suid-Afrikaanse historici ontvang het. Ek is veel verskuldig aan Godfrey le May se indringende studie British Supremacy in South Africa, 1899-1907. Ek het ook vryelik geleen uit die Afrikaanse werk deur die Transvaalse Staatsargivaris, dr. J.H. Breytenbach, wat tot dusver vier boekdele van sy monumentazle Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, gebaseer op argiefstukke, voltooi het. Ek het baie ander werke in Afrikaans geplunder, veral dr. J.A.Mouton se studie van Joubert en prof. Johann Barnard se seminale werk oor Botha, Botha op die Natalse Front, 1899-1900.
Van die nuwe temas in die verhaal wil ek graag veral vier beklemtoon.
Eerstens, daardie dun goue draad wat deur die hele verhaal loop, ‘n draad wat deur die “goudkewers” geweef is: die Randse miljoenêrs wat in beheer was van die wêreld se rykste goudmyne. Geskiedkundiges het tot dusver aanvaar dat geeneen van die goudkewers regstreeks by die uitbreek van die oorlog betrokke was nie. Tog was hulle.
Danksy die groot gulheid van Sir Alfred Beit en direkteure van die Johannesburgse firma Barlow-Rand het ek vrye toegang gehad tot die politieke geskrifte van Ecksteins, die Randse maatskappy wat ten tyde van die Boere-oorlog deur Alfred Beit en Julius Wernher beheer is. Ek het hier getuienis gevind van ‘n informele bondgenootskap tussen Sir Alfred Milner, die Britse Hoë Kommissaris, en die firma Wernher-Beit, die belangrike Randse mynhuis. Dit was na my mening hierdie geheime bondgenootskap wat Milner die krag gegee het om die oorlog te presipiteer.
Ten tweede is daar in die verhaal ‘n breër draad wat in verband staan met Sir Redvers Buller. Hierdie man is in die volkskunde van Brittanje opgeneem as die simbool van alles wat in die laat Victoriaanse Britse Weermag dwaas en verspot was. “Niemand by sy sinne,” skryf ‘n gesiene moderne geskiedkundige, Julian Symons, “kan Buller se militêre optrede gedurende die Natalse veldtog moontlik probeer goedpraat nie.” Ek het hierdie poging aangewend. Ek glo ten minste vandag dat Buller se teenslae – en foute – in die verband van die vete tussen Roberts-Ring en die Wolseley/Buller-Ring gesien moet word.
Sir John Brodrick, wat in 1900 die Britse Minsiter van Oorlog geword het, sou die geskil tussen Lord Roberts en Sir Redvers Buller later vergelyk met dié tussen Lord Lucan en Lord Cardigan, wat op die rampsalige stormloop van die Light Brigade sou uitloop. Hierdie verbysterende vete in die Britse Departement van Oorlog aan die einde van die 19de eeu verklaar in elk geval veel wat andersins onbegryplik sou wees i.v.m. Brittanje se verknoeide voorbereidsels op die oorlog. En op die ou end was dit – tot sy krediet – Buller wat die nuwe taktieke moes uithaal wat ‘n 19de-eeuse weermag nodig gehad het om ‘n 20ste-eeuse oorlog te voer.‘n Derde draad in die storie het betrekking op die onsigbare meerderheid van Suid-Afrikaners: die nie-blankes. Tydgenote het die Boere-oorlog as ‘n “witmansoorlog” en “’n oorlog tussen here” – ‘n “gentleman’s war” – bestempel. Geen veralgemening kan meer misleidend wees nie. Opgrawings in die lêers van die Britse Departement van Oorlog se gesprekke met oud-gediendes laat ‘n mens besef wat ‘ n belangrike rol nie-blankes in die oorlog gespeel het. Amptelik het geen nie-blanke aan die oorlog deelgeneem nie. In werklikheid is miskien tot honderdduisend in diens geneem om sowel die Britte as die Boere te dien – as arbeiders, drywers, gidse, ens.
Teen die einde van die oorlog was daar byna tienduisend gewapende nie-blankes in die Britse magte. Baie nie-blankes wat geen aktiewe rol in die oorlog gespeel het nie, is deur die boere afgeransel of doodgeskiet. In Mafeking alleen is meer as tweeduisend lede van die nie-blanke garnisoen onder bevel van Baden-Powell deur die Boere doodgeskiet of deur Baden-Powell aan ‘n hongersnood oorgelaat. Oor die algemeen was dit die nie-blankes wat die hoogste prys in die oorlog en sy nadraaie moes betaal.
Die vierde en laaste draad wat ek graag wil beklemtoon, het betrekking op die burgerlikes aan Boerekant – mans, vroue en kinders – wat in die guerrilla-oorlog opgevang is. Om die guerrillas voedsel en inligting te ontsê, het Lord Roberts die Britse Weermag beveel om die veld skoon te vee. Plase is afgebrand, vee doodgesteek en vroue en kinders in konsentrasiekampe al langs die spoorlyn geplaas. Tussen 20 000 en 28 000 mense – meestal voue en kinders – is aan epidemies in hierdie “konsentrasiekampe” dood.
Ek het veel nuwe getuienis gevind dat Kitchener se gevegsmetodes, soos die meedoënlose metodes wat baie moderne leërs teen guerrillas volg, selfverydelend was. Die verwydering van vroue en kinders het die guerrillas net nog bitterder gemaak. Dit het hulle ook bevry van die verantwoordelikheid om hul gesinne te voed en te beskerm.
Maar of Kitchener se metodes as ‘n militêre beleid suksesvol was of nie, ‘n reusagtige politieke flater was hulle wel. Die gewete van die Britse publiek is aangegryp deur die uitwissing in die kampe, net soos die Amerikaanse gewete deur die uitwissing in Viëtnam aangegryp is. En hoewel die Suid-Afrikaanse guerrillas die oorlog verloor het, het hulle die vrede gewen.
Ná agt jaar se tweedehandse oorlogvoering is dit ‘n plesier om my dank uit te spreek vir die gulheid van die talle mense in Suid-Afrika en Brittanje watmy gehelp het om uiteindelik vrede te sluit.
Ek is diepe dank verskuldig aan die volgende eienaars van belangrike familiestukke (die verwysings verskyn agter in hierdie boek) wat my toegelaat het om aan te haal uit ongepubliseerde materiaal, dikwels nog onder kopiereg, onder hulle sorg: die Markies van Lansdowne, die Markies van Salisbury, graaf Haig, Lord Allenby, Lady Lucas, Lord Methuen, wyle kapt. Michael Buller, wyle mej. Daisy Bigge, brig. Shamus Hickie, Myles Hildyard, Owen Keane, maj. Trotter, Harry Oppenheimer, mev. Rosemary Parker, mev. Frances Pym (gen. Gough), mev. Mackeson-Sandbach en mev. Mackie Niven (geb. Fitzpatrick).
Ek is ook dank verskuldig aan meer as honderd ander wat my toegelaat het om kosbare familie-oorkondes te gebruik – en vir onvergeeflik lang tydkerpe te leen. Party van hul name verskyn ook agter in hierdie boek. Ek bly baie bewus van hul gulheid en geduld.
Twee-en-vyftig oud-gediendes, drie van hulle Suid-Afrikaners (met inbegrip van een swarte) het my toegelaat om hul ooorlogsherinneringe op te neem. Ek wil graag my diepe dankbaarheid aan hulle almal betuig – helaas meestal postuum. Ek was besonder gelukkig om soveel aanmoediging te ontvang in openbare biblioteke, museums, registrasiekantore e.a. geriewe in Brittanje en in Suid-Afrika (waar ek in 1972 en 1977 materiaal ingesamel het).
Ek wil graag my dank uitspraak teenoor die personeel en trustees van die volgende instansies wat my toegelaat het om aan te haal uit manuskripte waarvan die name agterin die boek verskyn.
In Brittanje was hulle: die Ogilby-Trust van die militêre musieums (Spencer Wilkinson), Bodleian Library, die Universiteit van Birmingham ( (Chamberlain), die Britse Museum (Balfour, Campbell-Bannerman e.a.), Christ Church (Lord Salisbury), Devon and Dorset Regimental Museum, Household Brigade Museum, Hove Central Library (Wolseley), die museum van die ou Departement van Indiese Sake (White), King’s College, Londen (Hamilton, ens.), Museum Liverpool (Steavenson), Openbare Biblioteek, Manchester, New College (Milner), National Army Museum (Baden-Powell e.a.), National Library, Skotland (Haldane e.a.), North Lancs. Regimental Museum, Sherwood Foresters Regimental Museum (Smith-Dorrien), Public Record Office (Ardagh e.a.), Rhodes House (Rhodes), John Rylands Library (Bronley Davenport), Scottish Record Office (Dundonald), Society for the Propagation of the Gospel in Foreign Parts, University of St. Andrews (Alford), Biblioteek van die Britse Departement van Verdediging, Westfield College (Lyttelton).
In Suider-Afrika: die Africana-museum, die Kaapse Argief, die Natalse Argief, die Vrystaatse Argief, die Nasionale Argief van Rhodesië, die Transvaalse Argief, die De Beers-argief, die Killie Campbell-museum, Universiteit van die Witwatersrand. In Austalië: die National Library.
Ek wil ook die volgende mense bedank vir die lees van my manuskrip of dele daarvan. Baie van hulle het voorstelle van onskatbare waarde gemaak en in baie gevalle het ek dié voorstelle gevolg. Die mense is: my ouers, Fiona Barbour, prof. Johann Barnard, Brian Bond, Janet Carleton, Laurence en Linda Kelly, dr. Shula Marks, Godfrey le May, Richard Mendelsohn, Kevin Nowlan, Julian Symons, Anthony Sampson en Dennis Kiley.
Ek is veral diep dank verskuldig aan lg. wat my Nederlands en Afrikaans help leer en die peil van my vertalings verhoog het. Ek wil ook dr. Zac de Beer, Donald en Anita Fabian, Tertius Myburgh en al die lede van die Camerer-familie bedank. Hulle het my op honderd maniere gehelp terwyl ek in Suid-Afrika was.
Ek moet ook die bedrewenheid en geduld van vier navorsingsassistente erken: Jane Hirst en Anna Collins in Brittanje, Enid de Waal en Elaine Katz in Suid-Afrika. En ek moet verwys na die ongelooflike opgewektheid en geduld van Alexa Wilson en Maria Ellis, wat die skrywer se gekrabbel in ‘n getikte drukkersmanuskrip verander het.
Vir die uitmuntende foto’s i n hierdie boek, waarvan die meeste vir kenners van historiese fotografie nuut sal wees, is ek dank verskuldig aan Mary Cresswell-Turner, Sibylla Jane Flower en Dorothy Girouard, en aan Kevin McDonnell.
Ek is ook veel verskuldig aan die subredakteur van die manuskrip, Michael Graham-Dixon, wat onwrikbare onverskrokkenheid onder vuur aan die dag gelê het.*
*In die oorspronklike Engelse uitgawe is die pleknaamspellings van die Official History gebruik. In die vertaling gebruik ek die moderne Afrikaanse vorme soos hulle op die landkaarte van die Staatsdrukker verskyn. Ek het ook nie geskroom om, in gevalle waar twee vorme bestaan, die Afrikaanse naam te gebruik i.p.v. die een wat Thomas Pakenham gebruik nie – veral waar ‘n episode uit die Boere-oogpunt vertel word. ‘n Voorbeeld: deurgaans Boskop i.p.v. Hlangwane.
Ek is maar te bewus van hoeveel ek aan al my vriende by Weidenfeld verskuldig is – veral Gila en Christopher Falkus en George Weidenfeld – asook aan Joe Fox van Random House.
Ten slotte wil ek my vrou, Valerie, bedank. Sy het al die woorde wat ek geskryf het, gelees en behendig gerediger. Deur my “interessante paragrawe” uit te sny, kan sy aanspraak maak (soos Lord Salisbury aan Lord Curzon gesê het, nadat hy sy boek, Persia, versnipper het), dat sy “’n negatiewe bydrae tot ‘n groot werk gelewer het”.
— o0o —
NOTA OOR DIE GESKIEDENIS
Die krisis in die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek, oftewel Transvaal) teen die einde van die 19de eeu was die hoogtepunt van twee en ‘n half eeue van Afrikaner-uitbreiding en botsings met swartes en Engelse.
In 1652 het die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie ‘n verversingstasie aan die Kaap die Goeie Hoop gestig. Aanvanklik het die kolonie arm gebly. Ná vyftig jaar was daar nog nie eens tweeduisend blanke setlaars nie. En uit die staanspoor was daar minder blankes as die nie-blankes (met ingegrip van ingevoerde slawe) van wie se hande-arbeid die blankes afhanklik was. Die koloniste was hoofsaaklik Nederlandse Calviniste, met ‘n suurdeeg van Duitse Protestante en Franse Hugenote.
Hierdie pelgrimvaders het ‘n tradisie van meningsverskil en ‘n erfenis van wrewel teenoor Europa na Afrika gebring. Hulle het hulself Afrikaners genoem, of Afrikanders (die mense van Afrika), en ‘n algemene taal gepraat, ‘n variasie van Nederlands wat later Afrikaans genoem is. Die armstes maar ook die onafhanklikstes van hulle was die trekboere, wie se soektog na nuwe weiding hulle ál dieper na die binneland van Afrika geneem het.
In 1806, gedurende die Napoleontiese oorloë, het die Britse regering die kolonie permanent in besit geneem. Brittanje se doel was strategies. Die Kaap was ‘n vlootbasis op die seeroete na Indië en die Ooste. Maar die kolonie was te bar om baie Britse immigrante te lok. Die Afrikaners het in die meerderheid gebly – van die blankes. Die meeste van hulle was gewillig om hulle aan die Britse Kroon te onderwerp, maar ‘n republikeinsgesinde minderheid, die grensboere, het hulle versit teen Britse imperiale inmenging, veral i.v.m. hul belandeling van die nie-blankes.
In 1834 het Brittanje die slawe in alle dele van die ryk laat vrystel. Dit het gelei tot die Groot Trek, ‘n uittog in die jare 1835-1837 toe sowat 5 000 boere (met ongeveer ewe veel Kleurlingbediendes) oor die Oranje- en die Vaalrivier anderkant die noordoostelike grense van die kolonie getrek het. Die Voortrekkers het onder mekaar gestry, maar oor een ding was hulle dit eens: politieke regte moes van die swartes en die Kleurlinge weerhou word.
Vir die volgende 60 jaar was die Britse Regering in sy onderhandelinge met die Boere erg wisselvallig. In 1843 het Brittanje ‘n tweede kolonie geskep deur die anneksasie van Natal, een van die gebiede waarin die Voortrekkers hulle in aansienlike getalle gevestig het. Maar in 1852 en 1854 het Brittanje die onafhanklikheid van die twee nuwe Bopererepublieke, Transvaal en die Oranje-Vrystaat, erken.
Toe, as die eerste stap in ‘n poging om ‘n federale Suid-Afrika tot stand te bring, het Brittanje Transvaal in 1877 geannekseer. Hierdie anneksasie is in 1881 deur die Eerste Vryheidsoorlog ter syde gestel, ‘n oorlog wat uitgeloop het op die Britse nederlaag by Majuba. Transvaal het sy onafhanklikheid teruggekry, onderworpe aan voorwaardes, waaronder Britse toesig oor sy buitelandse beleid.
In 1895 het twee multimiljoenêrs, Cecil Rhodes en Alfred Beit, saamgesweer om Transvaal vir hulself en die Britse Ryk oor te neem. Die uitslag van hul sameswering vorm die proloog tot hierdie boek. Teen dié tyd het twee groot mineraal-ontdekkings die politieke landkaart omgekeer. Die diamantstormloop na Kimberley, op die grens van die Kaapkolonie, het in 1870 begin. Die diamantrykdom berei die weg voor vir die Kaapkolonie se suksesvolle selfbestuur binne die Britse Ryk. Diamante maak ook Rhodes en Beit skatryk. Rhodes word Eerste Minister van die Kaapkolonie en saam met Beit stig hy ‘n nuwe Britse kolonie, in die gebied noord van Transvaal en herdoop dit Rhodesië.
In 1886 begin die goudstormloop na die Witwatersrand,maar dit maak die pad vir Transvaal nie makliker nie. Hoewel goud dit in die rykste en op militêre gebied in die magtigste land in Suider-Afrika verander, maak dit Rhodes en Beit – veral Beit – nog veel ryker as tevore. En dit lei tot ‘n botsing tussen die Boere en die Uitlanders: die nuwe immigrante, meestal uit Brittanje, wat met die goudstormloop op die Rand kom woon het.
Die Uitlanders se geval was uniek. Daar is geglo dat daar meer Uitlanders as Boere is. Tog hou die Boere politieke regte d.m.v. ‘n nuwe stemwet, meer beperkend as dié van Brittanje of Amerika, van hulle weg. Teen 1895 is dit die politieke honger van die Uitlanders – gesteun deur Rhodes en Beit se miljoene – wat lyk asof dit Brittanje die geleentheid gee om Transvaal nogmaals van die Boere af te neem.
—o0o—
PROLOOG
RHODES SE “GROOT IDEE”
Pitsani-kamp (grens van Betsjoanaland), Mafeking (grens van Kaapkolonie) en die ZAR, 29 Desember 1895 – 2 Januarie 1896
“Johannesburg is gereed … (dit is) die groot idee wat Engeland in Afrika oorheersend maak, trouens Engeland die Afrikaanse vasteland gee.” – Geheime brief van Cecil Rhodes aan Alfred Beit in Augustus 1895, toe hulle besig was met planne om ‘n opstand in Johannesburg te bewerkstellig, gerugsteun deur ‘n inval uit Pitsani in Mafeking o.l.v. dr. Jameson
— — —
Op hierdie warm Sondagmiddag, 29 Desember 1895, is Johannesburg nie gereed nie. Dit is die boodskap van die laaste ses kodetelegramme aan dr. Jameson. Hulle het sy vrese bevestig. Hierdie vrese word verder bevestig deur ‘n mondelinge verslag deur maj. Heany, ‘n spesiale boodskapper van die Johannesburgse “Reform Committee”, leiers van Rhodes en Beit se revolusionêre beweging in die Transvaal. Die “flotasie”,soos hulle die opstand noem waarin hulle Johannesburg wil oorneem, gaan misluk. Die revolusionêre het koue voete. “Volkome daarteen gekant … fiasko ….moenie beweeg nie… teaaklig … baie jammer …Ikabod.”(1)
(LW: Aantekeninge: In die genommerde aantekeninge kry ongepubliseerde bronne (met inbegrip van vertroulike afdrukke van die Britse regering) afkortings van twee tot vier letters. Kursief word slegs vir gepubliseerde bronne gebruik.)
(1)Tels nos 73, 77, 79, 80, 81, 82, 26-28 Des. 1895, K 8380/195-8
Jameson laat Heany in die wit kloktent op Pitsani, sy kamjp in Betsjoanaland, binne enkele myle van die grense van sowel die Kaapkolonie as Transvaal. Heany self het nooit aan Jameson se reaksie getwyfel nie. Hy het die komitee gewaarsku: “Hy gaan inkom, so seker as wát.” Nou, op daardie warm middag, stap Jameson twintig minute lank in die sand buite die tent heen en weer. Toe roep hy na Heany.
Hy gaan deur, ten spyte van alles, verdomp! Hy gaan “die burgers oor die hele Transvaal op hul baadjie gee”. As die ouens in Johannesburg nie met die opstand wil begin soos afgespreek is nie, moet hul hand gedwing word. Dit is die kans van ‘n leeftyd. In elk geval gaan hy nie ‘n dag langer op Pitsani Potlucko(2) deurbring nie.
(2)Jameson se get., House Paper 311 nos 4513, 4518, 4594-60. Garrett ens. African Crisis 86 (sien ook 76)
“Opsaal!” Stof dwarrel oor die rooi grond. Die lede van die Rhodesiese Polisiemag in hul grys uniforms enslaop hoede kom op parade. “Links … rig! Beuel!” Uitdagend sketter die klanke van die beuel oor die paradeterrein, weerklink teen die blikmure van die enkele winkel in Pitsani en dryf oor die drie myl leë wit veld tussen Pitsani en die onsigbare Transvaalse grens. Stilte, behalwe vir die geskuifel van die manne se perde – elkeen met die brandmerk “C.C.” op die boud – en die gesuis van die wind in die enkele telegraafdraad.(3)
(3)Verslae deur manskappe in Times 24,25 Feb. 1896. E.G.O.
Byna 400 lede van die Rhodesiese Berede Polisie – en dit beteken dienaars van Rhodes se Chartered Company – is hier by Pitsani byeen. Dit is die maatskappy, die skepping van Cecil Rhodes en Alfred Beit, wat die nuwe Britse kolonie Rhodesië ingevolge ’n oktrooi vir die Britse Kroon bestuur. Baie van die polisiemanne lyk na kolonialers. Hulle sit los in die saal, met ‘n sekere swier. Wanneer hulle ry, wieg die karabyn op die heupsaam.(4)
(4)Phillipps With Rimington 2-6
Jameson het nog 120 vrywilligers 25 myl daarvandaan op Mafeking bymekaar gemaak, net binne die grense van die Kaapkolonie. Dit bring die Chartered Company se troepemag op ongeveer 600 te staan (die bruin perdeknegte uit die Kaap bygetel).(5)
(5)Garrett 90. Hole Jameson Raid 291. Colvin Life of Jameson II, 64
Jameson wou Transvaal oorspronklik met 1 500 man binneval.(6) Seshonderd man laat dit ‘n bietjie moeilik lyk: een regiment teen die hele ZAR se Weermag. Maar Jameson en die Rhodesiese troepe het al tevore teen ‘n hulpelose oormag te staan gekom. Toe hulle Lobengula, koning van die Matebeles, in 1892 vermorsel het, was hulle 600 teen 6 000 Matebeles. Hierdie nuwe ekspedisie, so het Cecil Rhodes hulle verseker, gaan “makliker as Matebeleland”(7) wees.
(6)Fitzpatrick Transvaal 98. Phillips Some Reminiscences 141-2
(7)Colvin I, 266, 272-282: Rhodes-Beit Aug. 1895 PV
Ná ses maande se werk het Jameson ses Maxim-masjiengewere, twee bergkanonne van sewe pond en ‘n 12-1/2-pond-veldkanon byeengeskraap en op Pitsani besorg.(8) Ander verfyninge lê op die waens langs sir John Willoughby en die personeel se swart bliktrommels opgestapel: ‘n vat Kaapse dop-brandewyn vir die manneen kratte sjampanje vir die offisiere.(9) Met dié uitsonderings reis hulle so lig as moontlik. Hulle is van plan om Johannesburg binne drie dae te bereik, voor die Boerekommando’s kan mobiliseer. Ongelukkig het gerugte oor die opstand – die inligting is uitgelap, kla Jameson – reeds die plaaslike koerante bereik. Dit is dus nou of nooit.(10)
(8)Willoughby se amptelike verslag. Fitzpatrick Transvaal 411-421
(9)Standard & Diggers’ News 18 Jan. 1896 K 8380/175, 273
(10)Jameson se get. House Paper 311 nos 4513 en 4596. Hole Jameson Raid 145-7
“Oë front!” Op die skroeiende sand van die paradeterrein sien die troepe dr. Jameson voor hulle verskyn. Dit is die groot doktor Jim, baanbrekende Administrateur van die Chartered Company in Rhodesië, en Cecil Rhodes se regterhand. In sy reebruin baadjie is hy ‘n kort, bra effense mannetjie met ‘n bleek gesig, senuweeagtige bruin oë en ‘n seunsagtige glimlag. Maar sy stem is ‘n magneet.(11)
(11)Colvin I, 13-14
Hy spreek die manne min of meer as volg toe: “Party van julle kêreld dink miskien ons gaan Linchwe en sy Kaffers aanval.” Linchwe is die plaaslike Betsjoeana-opperhoof wat vermetel genoeg was om tot in Whitehall protes te gaan aanteken teen die anneksasie van sy stukkie grond deur die Chartered Company. “Wel, dis ‘n klomp twak. Ons gaan Transvaal toe om die Uitlanders te help.”(12)
(12)Uit Coventry se toespraak op Mafeking. Dié van Jameson is soortgelyk. Sien Standard & Diggers’s News 4, 11 en 18 Jan. 1896
Jameson haal ‘ n verfomfaaide stuk papier uit sy sak en begin met sy senuweeagtige stem daaruit voorlees. Dit is ‘n uitnodigingsbrief van die Uitlanderskomitee in Johannesburg wat deur Rhodes en Beit geoganiseer is – die uitvoerende beamptes van mynmaatskappye, myners e.a. waaruit die Britse en buitelandse sakegemeenskap van Transvaal bestaan.
“Al die elemente wat vir gewapende botsing nodig is … die een ding wat die mense hier wil hê, is regverdigheid … Duisende ongewapende mans, vroue en kinders van ons volk sal teen goed gewapende Boere weerloos wees.(13)
Party van die Jameson se offisiere voel miskien ‘n bietjie verleë. Dit is dramatiese goed, dié van die vroue en kinders, maar nie die hele waarheid nie, dit weet hulle. Die brief is ‘n maand tevore geskryf en ongedateer gelaat. Die plan is om dit te ghebruik ná die opstand in Johannesburg begin het.(14)
(13)K 8380 (no 61) 191-2. Times; 1 Jan. 1896. Hole 222-3
(14)Hole 223-4
Tog is dit miskien ‘n verstandige voorsorgmaatreël van Jameson om die brief as ‘n soort paspoort saam te neem. Dit sal hulle dek by sowel die Chartered Company as die Britse Regering ingeval lastige vrae gestel word. Daarsonder kan hulle miskien soos rowers lyk.
Nou reeds is die drie senior offisiere – kolonels Johanny Willoghby, Raleigh Grey en Bobby White – bekommerd dat hulle miskien hul sluimerende offisierskappe in die Britse Weermag kan verloor. Jameson het hulle met ‘n handgebaar gerusgestel, en hulle het afgelei dat Joseph Chamberlain (die Minister van Kolonies) en die Britse Regering op die hoogte moet wees.(15)
(15)Willoughby se get. House Paper 311 5512-5548
‘n Laaste voorsorgmaatreël: hulle moet alle verbindinge met die Kaap verbreek. Nie dat Jameson hom besonder baie aan bevele per telegram gesteur het terwyl die kabellyne nog oop was nie. Die laaste paar jaar, toe hulle in Rhodesië vir Rhodes gewerk het, het Jameson en Willoughby geleer wanneer om opdragte te ignoreer. Altyd mits die bevele nie deur Rhodes persoonlik onderteken is nie.
En een ding moet Jameson i.v.m. die fiasko van die afgelope paar dae opgeval het. Elke stadium van die instorting van die beweging in Johannesburg is via Rhodes se kantoor aan hom oorgesien, maar geen enkele telegram is met die naam “Rhodes” afgesluit nie.(16) Hy het steeds die finale besluit aan Jameson oorgelaat.
(16)K 8380/185-8
Wel, daar sal voorlopig nie meer opdragte uit Pitsani ontvang word nie. ‘n Paar van die berede polisie kap die telegraafpale af, sny ‘n lang stuk van die enkele koperkabel af en begrawe dit in die sand langs die pale. Jameson se ander kontingent doen naby Mafeking dieselfde. Om te voorkom dat die Boere gewaarsku word, sal die Boere-lyn na Pretoria by Malmani, dertig myl anderkant die grens, afgesny word.(17)
(17)K 8380 nos 863-90, 906-26 en aanhangsel bl. 198. Hole 125-6, 137, 151-2
Natuurlik is dit ‘n wilde dobbelspel, dié stormloop na Johannesburg. Maar dit geld immers veel van die werk wat Rhodes se Chartered Company gedoen het, en trouens ‘n groot deel van die geskiedenis van die Britse Ryk. “Clive sou dit gedoen het,” het Jameson aan ‘n vriend gesê. Hy is seker daarvan.(18)
(18)Garrett 28-9
As Jameson se dobbelspel slaag – as hulle die Johannesburgers kan dwing om in opstand tekom en die ZAR met geweld kan oorneem – sal die onreëlmatighed hulle vergewe word.(19) As die dobbelspel misluk – wel, die gebruiklike straf is die dood. Die dood, maar nie noodwendig nederlaag nie.
(19)Jameson se get. House Paper 311/4605
Dit is een van die lesse van die geskiedenis dat ‘n ramp nodig is om die Engelse in hul Ryk te laat belang stel. Dit is byna asof hulle dooie generaal bo lewendes verkies; hulle wreek die generaals deur hul werk te voltooi. Minstens die helfte van die Ryk is deur dooies verower. ‘n Mens kan die proses in die Soedan aan die werk sien. Binnekort, eintlik enige dag, gaan die Engelse Gordon wreek deur die Madhi se land geheel en al in te neem. Dieselfde proses is reeds in die ZAR aan die gang – 14 jaar lank al, sedert Genl. Coley en 400 man in die slag van Majuba verpletter is.(20)
(20)Sien bv. kol. Sandbach, genl. Chapman 23 Nov. 1899 in Sand
Jameson weet hoe sy stafoffisiere oor Majuba voel. Hulle kom almal uit behoorlike regimente: Johnny Willoghby uit die Horse Guards, Grey uit die Inniskillings, Bobby White uit die Welch Fusiliers.(21) Dit is Britse offisiere soos dié wat Majuba as ‘n persoonlike nederlaat aanvoel. Nie net die herinnering aan daardie dapper kêrels wat dood is nie: ook die skande van die ander wat die wit vlag gehys het. Vir die Britse Weermag is Majuba “onafgehandelde sake”, iets wat van die lei afgevee moet word.(22)
(21)Hole 15-16, 79, 45-6
(22)Heany se get. House Paper 3115898. Willoughby se amptelike verslag tap. Hole 154-5
Terwyl die skemer daal, sketter ‘n beuel weer. Kapt. Lindsell en ‘n dosyn verkenners galop in die uitgeryde wapad af. Toe draai hulle oos na die donkerte. Daar kan nou nie meer teruggekeer word nie. Jameson klim op ‘n swart hings. Hy haal sy vilthoed af, en drie maal word uitbundig vir die Koningin hoerê geskree. Toe draf die perde met hul ruiters uit Pitsani, gevolg deur die agterryers en die muilkarre. Die maanlig glinster op die sinkmure van die gehuggie se geboue en op die geelkoper en staal van die Maxims. Toe verdwyn die kolonne in ‘n wolk stof. Oor die grensry die 600 Transvaal binne.
— — —
Vier dae het verbygegaan. Op die oggend van 2 Januarie kom Jameson se kolonne naby die wit gekalkte mure van ‘n plaashuis suid van ‘n koppie tot stilstand. Die plek is Doringkop, in die bruin grasheuwels van die Rand. Van die grens af het hulle al 170 myl gery, byna sonder slaap. Die polisie wieg vermoeid in hul saals heen en weer en offisiere en manskappe ry deurmekaar.(23)
(23)Manskap J. Acton-Adams se dagboek, The Critic Des. 1933 – Jun. 1934 (National Archives, Zimbabwe)
Voor hulle lê hul bestemming,Johannesburg, die Goudstad net ‘n paar uur se ry daarvandaan. Toe die dag breek, kan hulle die eindelose rye hoë ysterskoorstene sien, die reusagtige wiele bo die mynskagte en die glans van die myne se uitskot, die goue slaksand in daardie landskap van die maan. En hul bestemming kon ewe goed die maan gewees het, so min kans het hulle om dit te bereik.
Verraad, dit is die enigste woord daarvoor. Johannesburg het nie in opstand gekom nie. Hul vriende het vrede gemaak met Pres. Kruger en sy Boere. Twee boodskappers op fietse het die berig na Jameson gebring. Geen enkele gewapende vrywlliger het uitgery om by sy kolonne aan te sluit nie.(24) Nou word Jameson en sy manne deur ‘n meedoënlose en onsigbare vyand voorgekeer.
(24)Manskap Acton-Adams tap
Die afgelope twee dae is Jameson al in ‘n lopende geveg teen die kommando’sgewikkel. Die Boere het onmiddellik van die inval gehoor. Jameson se manne het die Boere-tegraafdraad by Malmani deurgesny, maar te laat. (Later is beweer dat dit die skuld van ‘n paar dronk konstabels was wat die heiningdraa deurgesny het i.p.v. die telegraafkabel.)
In die begin het die Boere op hul spoor gebly en afgedwaaldes afgepik. Jameson se manne het teruggeveg soos hulle geleer het omteen die Zoeloe-impi’s te veg: met die gerammel van Maxims, die gebulder van Veldkanonne en dodelike stormlope. Maar die enigste dooies is Engelse. Hoe kan hulle teen blote rookwolkies veg?
Die vorige aand het hulle met ammunisiekarre, ambulanswaens en perde ‘n ruwe vierkantige laer getrek en daarbinne geskuil. Die troepe het oor hul saals in die donker ingeskiet.(25) Teen dagbreek stuur Jameson vir die mense in Johannesburg ‘n laaste lakoniese boodskap. Hoewel hulle in twee “skermutselinge” betrokke was, is alles nog in orde; maar hulle sal ‘n bietjie hulp verwelkom as dit gespaar kan word.(26)
(25)Willoughby se amptelike verslag tap. Hole 172-9
(26)Manskap Acton-Adams tap. Standard & diggers’ News 4, 11, 18 Jan. 1896
As g;een hulp o pdaag nie, weet Jameson en sy offisiere baie goed wat Engeland van hulle verwag. Dit is die oomblik waarvoor hulle al sedert hul kinderdae voorberei word. Dit is die skildery van die laaste skans, die laaste weerstand, wat bo die kaggel hang: in die klaskamer, in die menasie, in die pastorie. Die Gatling, vuurwarm geskiet, het vasgeslaan. Die kolonel slaan sy oë op,gryp die die geves van sy swaard stewiger vas. Die klein groepie sing “God Save the Queen”; een een vir een val hulle.(27)
(27)Hole 179
Teen agtuur daardie oggend i s 65 van Jameson se klein groepie dood of gewond. Inspekteur Cazalet het ‘n borswond opgedoen, maj.Coventry is in die ruggraat geskiet, kapt. Barry lê op sterwe.(28) En toe breek die werklikheid eindelik op Jameson se skynwêreldjie. Iemand hys ‘ n wit vlag – nie ‘n baie goeie wit vlag nie, maar die beste wat hulle in die omstandighede kan doen: die wit voorskoot van ‘n swart bediende.(29)
(28)Sedert Wilson se dood op die Sjangani-patrollie in 1892 het Jameson hierdie toneel besonder goed geken
(29)Willoughby se amptelike verslag tap 418
Die skote hou op. Oral om hulle kom die Boere uit die grond orent, “soos miere” het een offisier dit gestel.(30) Die meeste van die boere dra gewone bruin werkklere, maar ‘n paar het reguit van die Nuwejaarsfeeste na die slagveld gekom en dra hul roers en bandeliers oor hul swart kispakke.
(30)Hole 188 Standard & Diggers’ News 4, 11, 18 Jan. 1896
Die Boere ontwapen die Engelse, help die gewondes en lê op die voorrade beslag.In Bobby White se swart bliktrommeltjie kry hulle die kodetelegramme wat Rhodes uit die Kaap en die ander samesweerders uit Johannesburg gestuur het. Daar is ‘n duplikaat van die brief oor die “vroue en kinders”, en die kodeboek wat die kodetelegramme vergesel.(31) Dié lê tussen die leë sjampanjebottels.(32)
(31) K 8390/170. Standard & Diggers’ News 22 Feb. 1896
(32)Standard & Diggers’ News 18 Jan. 1896
Die laaste vernedering breek aan toe die dooies voor hul teraardebestelling gestel word. Die Britte het 16 verloor, die boere een man – een minder as op Majuba.
Wenend word Jameson in ‘n perdekar na die gevangenis in Pretoria gebring.(33)
(33)Jameson’s Heroic Charge 25. DK 879/501/927. Hole 292
— — o0o — —