BO Halwe kennis Halwe waarheid

Halwe Kennis, Halwe Waarheid 

Die Boere-Oorlog

Deel 1

“’n Oorlog in Suid-Afrika sou een van die ernstigste oorloë wees wat moontlik gevoer kon word. Dit sou ‘n soort bugeroorlog wees. Dit sou ‘n lang oorlog, ‘n bitter oorlog en ‘n duur oorlog wees …Ná so ‘n oorlog sou sintels oorbly wat myns insiens geslagte later miskien nog nie utigedoof sal wees nie … om teen President Kruger oorlog te maak, om hervormings in die binnelandse sake van sy staat aan hom op te dwing, terwyl ons alle reg afgesweer het om ons daarmee te bemoei – om so ‘n koers in te slaan, sou ewe immoreel gewees het as onverstandig.” – Joseph Chamberlain, as Minister van Kolonies in die Laerhuis, Mei 1896

Hoofstuk-aanhef C, Laerhuis 8 Mei Hansard XL/914-15

— — —

Hoofstuk 2

Halwe Kennis, Halwe Waarheid

Londen, 22 November – Desember 1898

Vroeër daardie dag, 22 November, het die Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain, hom op Milner se besoek voorberei. Volgens getuienis het hy glad en doeltreffend in sy kantoor gewerk, soos ‘n verhewe masjien.

Sy biograaf het die Chamberlain van hierdie tydperk met groot ontsag vir ons geteken. Elke dag reis hy van sy huis in Princes Gardens per keb na die Departement. In die kamer van die Private Sekretaris – ‘n soort voorvertrek tussen die hoofgang en die blou baai-deur van Chamberlain se kantoor – wag drie of vier gedistingeerde here, in manelle geklee, sy aankoms af. Hulle vorm die hiërargie, hulle is die hoëpriesters van die Departement van Kolonies

Hulle verwarm hul hande by die koolvuur in die kaggel. Een van  hulle stap na die geelkoperrak op die mahonie-tafel en tel ‘n lêer op. Dit is met die spreekwoordelike rooi (eintlik pienk) lint vasgemaak en die memorandums daarin eindig met die voorletters “J.C.”. Nou lui die klok op die tafel en die blou baai-deur gaan oop. Die Meester het aangekom.

“Die masjien is reg vir nog,” sê hy vir sy privaatsekretaris, wat met die leggers ingeskuifel kom. Hy sê dit half-spottend, half-ernstig. “Sy vingers het die slapende stad gewek,” sou een van sy bewonderaards dit stel.(1)

(1)Garvin Chamberlain III, 10-14 Sir H. Wilson en Ly Lugard aangehaal. Sir R. Furse Aucuparius (Londen 1962) 22-3

Van agter sy lessenaar tuur Chamberlain die wêreld deur sy oogglas aan, en dit is geen wonder dat die wêreld sidder nie. Koningin Victoria is die simbool van die moederland, die vleesgeworde Empire. Joseph Chamberlain versinnebeeld die ander aspek van die Empire, die gees van die “dreadnought”, die gedugte grys slagskip.

Daar sit hy, die selfgemaakte man uit Birmingham, met ‘n tuisgekweekte orgidee in sy knoopsgat en ‘n diamantspeld in sy das, sy gesig so koel en elegant soos ‘n stuk van sy eie Birminghamse staal. Sy regterhand rus op die reusagtige bruin aardbol met sy spinnerak van kabelroetes en skeepslane. Dit is hierdie sterk regterhand wat die Empire moet regruk.(2)

(2)Garvin III, 11-12

Dit is die indruk wat Chamberlain graag oordra, en hy slaag skitterend daarin. Tog is daar ‘n ander Joe Chamberlain, beter bekend aan sy politieke kollegas as aan sy kantoorpersoneel of die publiek: emosioneel en impulsief, buierig en soms bedruk. Want die frustrasies van die afgelope twee en ‘n half jaar in die Departement van Kolonies het hom innerlik gekwes, om nie van die struwelinge in die Kabinet te praat nie – en natuurlik die versengende ondervinding van die inval.

Tog lê die sentrale trauma van Chamberlain se lewe nie hierin nie. Dit het twaalf jaar tevore gebeur, en dit spook nou nog by hom.

In 1886 was Chamberlain Minister van Handel in Gladstone se Kabinet, en sy vooruitsigte was skitterend. Hy het via ‘n suksesvolle nywerheidsloopbaan van die rotsbodem van die Britse middestand opgestyg en een van die hoogste vlakke in die politieke lewe bereik.(3) Kop en skouers bo sy mede-radikales kon hy ná Gladstone se aftrede verwag om die volgende Liberale Eerste Minister te word: miskien een van die grootste van alle Britse Eerste Ministers.

(3)DNB

Toe, in 1886, bars die buil van die Ierse Tuisbestuur-vraagstuk en verswelg die Liberale Party. Chamberlain ontdek dat hy ‘n vreemde hibride is, sowel radikaal as imperialis. Saam met Lord Harrington (later die Hertog van Devonshire) stig hy dieLiberale Unionisteparty en bly daarna nege lang jare in die wildernis.(4)

4)Sien ins. Balfour-Salisbury 31 Jul 1892, Sal E/Balfour, Garvin II, passimI

Vir Chamberlain het die opoffering na ‘n ramp gelyk. Soos hy later teenoor Lord Selborne, skoonskeun van Lord Salisbury, sou uitlap: sy “lewensdroom” was altyd om Eerste Minister te word; ter wille van beginsels het hy “al sy ambisisies,, al sy hoop, al sy drome opgeoffer … hulle is vir ewig die vergetelheid in”. Nou word hy aan die aanvalle van albei partye blootgestel, daar is “venynige en boosaardige aanvalle” van regs, uit die Tory-party, terwyl sy ou vriende onder die radikales hom so sleg gesê het soos “geen openbare figuur ooit voor hom nie”.

In April 1895 het hy dit ernstig oorweeg om hom aan die politiek te onttrek. Op die ou end het hy hom natuurlik bedink; hy was impulsief. Buitendien was die Tories angstig om hom te paai.(5) ‘n Paar maande later ontwikkel die los ooreenkoms tussen die Liberale Unioniste en die Konserwatiewe in ‘n formele koalisie.

(5)Selborne-Salisbury 7 Apr 1895, Sal E/Selborne

En op een Junie-middag verdwyn die Liberale rom, o.l.v.Lord Rosebery se parlementêre meerderheid, in ‘n rookwolkie (dit was in werklikheid gedurende ‘n debat oor die verskaffing van kordiet, ‘n soort kruit). Chamberlain het tuis gekom. Lord Salisbury, die Konserwatiewe Eerste Minister, bied hom nou feitlik enige portefeulte aan wat hy verlang: Finansies, Buitelandse Sake, Verdediging. Die hele veld lê vir hom oop. Hy kies Kolonies. Die aanstelling word verwelkom.(6)

(6)Garvin III, 4-5

Tog verras dit diegene, soos Salisbury, wat gedink het dat hy niks meer as ‘n “teoretiese imperialis” is nie, of wat hom as te ambisieus beskou het om sy besluit te laat val op wat tot dusver ‘n mindere Kabinetspos was.(7) Die vennootskap wat hieruit gespruit het, het voorspelbare vrugte afgewerp: ‘n mate van welslae en volop frustrasie vir almal.

(7)Salisbury-Selborne 30 Jun 1895, Sel Kis 5/31

Ná sy oorname het Chamberlain ontdek dat die Departement van Kolonies feitlik ‘n parodie, ‘n bespotting van ‘n Britse staatsdepartement is. Agter die imposante Romeinse fasade, in opdrag van Lord Palmerston uitgevoer, is die plek ongelooflik vaal: myle bruin-geverfde muurpanele en lood-gevoerde trappe.

“Ons moet die hele plek opknap,” het Chamberlain sy privaatsekretaris meegedeel terwyl hy deur sy oogglas na die verslete tapyt en die mankolieke mahonie-meubels in sy kamer tuur. ‘n Klompie verf is eindelik uit die Departement van Openbare Werke gepers en elektriese ligte is geïnstalleer om die kerse te vervang en die gaslampe aan te vul.(8)

(8)Garvin (haal H. Wilson aan) III, 15. Sien eietydse foto-album van DK in die FCO-biblioteek

Tog bly die kantore saai en verbeeldingloos vir ‘n romantikuks soos Chamberlain, wie se eie huis in Highbury, ‘n voorstad van Birmingham, vonkel en gloei met Morris-glas en Burne-Jones tapisserieë.(9)

(9)I.v.m. Highbury sien verslag in Edward Hamilton se dagboek 22 Jan 1899, BM 48764

Nog negatiewer as die atmosfeer van die gebou, vind Chamberlain, is die gees van sy bewoners. Soos Milner glo Chamberlain dat die nuwe imperialisme Brittanje voor ‘n dubbele taak stel: om die blanke Empire in ‘n groter Brittanje te skep en om die swarte te ontwikkel. Maar hoe kan ‘n mens enigiets bereik met ‘n kantoorpersoneel van 99 man (met inbegrip van die bodes) almal geswore ondersteuners van die Tesourie se besparingswoede?(10)

(10)Sien C-Selborne 14 Okt 1896, Sel Kis 8

Die waarheid is dat die Tesourie se toekenning vir die Empire (Indië en Egipte uitgesonderd) uiters karig is – ‘n luttele £130 000 toe Chamberlain oorgeneem het.(11) Geen wonder nie dat die Departement se personeel hul taak met ‘n sekere sinisme beskou en dat hoogdrawende praatjies oor die magtige Empire bra hol klink.(12)

(11)Statesmen’s Yearbook DK-syfers vir 1895-6

(12)Garvin III, 19-20 Haal C aan in Times 24 Aug 1895. Vg;/ Lucas History passim

Chamberlain se kollegas in die Kabinet verwelkom sy toesprake oor imperial eenheid.(13) Hulle lyk minder gretig om praktiese stappe in die rigting van sy ideale te doen – veral as sulke stappe geld kos. En die tweede gedeelte van die imperiale taak – die ontwikkeling van die swart Empire – sal allesbehalwe goedkoop wees.

(13)Times 7 Nov 1895

Mettertyd het Chamberlain daarin geslaag om ‘n verhoogde begroting van £600 000 aan die Departement van Kolonies toegesê te kry, maar die geld is grotendeels aan die “pasifikasie” van Uganda en ‘n projek in Ciprus bestee.(14) Dit is ‘n skokkende feit, soos Chamberlain in die openbaar beken het, dat die groot meerderheid van die swart colonies vir wie Brittanje regstreeks verantwoordelik is, ná ‘n eeu nog steeds geen werklike voordeel uit hul lidmaatskap van die Britse Empire getrek het nie.(15

14)Statesmen’s Yearbook DK-syfers vir 1899

(15)C 22 Aug 1895 Hansard XXXVI/641-2. Garvin III, 20

Tog moet Chamberlain se eie frustrasies in dié tydperk nie oordryf word nie. Hy moet beken dat hy sowel Lord Salisbury as Arthur Balfour, sy neef en adjunk, uiters hoflik vind. Hulle besef dat sy imperiale ideale ‘n plaasvervanger vir sy verlore droom van ‘n groot radikale premierskap is.

Op hul lome, aristokratiese manier vlei hulle hom deur hom daaraan te herinner wat ‘n onontbeerlike rol hy in die patrybondgenootskap speel – hoewel dit net deels vleitaal is. Hulle beskerm hom tot sekere hoogte teen die suinigheid van Sir Michael Hicks Beach, Minister van Finansies. Bowenal het hulle hom gered toe dit gelyk het asof daardie tornado uit Suid-Afrika – die Jameson-inval – sy loopbaan ontydig sou wegvee.

Die Inval. Ook Chamberlain het dit ‘n merkwaardige affêre gevind. En as Milner in die duister is oor die rol wat Chamberlain gespeel het, is dit niks in vergelyking met Chamberlain se eie gevoelens nie. Terwyl die openbare ondersoeke aan die gang was, het Chamberlain ook sy eie hart ondersoek, en tog: ná 18 maande moes hy nog steeds aan ‘n bewonderaar beken: “Die feit is dat ek skaars kan sê hoeveel ek geweet het en hoeveel nie.”(16)

(16)C0-Flora Shaw haal Garvin III aan, 82-3

Tog is die getuienis daar, of Chamberlain dit wil weet of nie, in daardie rooi trommels in sy kantoor toegesluit. En vandag, 80 jaar later, is dit duidelik dat die publikasie van daardie getuienis Chamberlain tot ‘n val sou gebring en miskien die verloop van die geskiedenis kon verander het.(17)

(17)Van der Poel 261-2

Die dilemma waarvoor Chamberlain te staan gekom het toe hy in 1895 Kolonies oorgeneem het, was delikaat. Hy het saamgestem met Milner se siening van die vroeëre Britse beleid in Suid-Afrika. Uit Britse standpunt was dit een lang reeks flaters. Hy onthou ‘n bietjie verdrietig dat hy ‘n lid van Gladstone se Kabinet was, die Kabinet wat die flaters van Majuba, die Pretoriase en Londense Konvensies en “vrede ná nederlaag” begaan het. Hy het, net soos Milner, ‘n afkeer van Rhodes en die boekanier-tegnieke van die Chartered Company.(18)

(18)C-Salisbury 13 Nov 1895, Sal E/Chamberlain. Selborne-C 6 Okt, C-Selborne 14 Okt, Sel-C 18 Okt 1896, Sel Kis 8/91 ens. C-Harcourt 4 Sept, C-Ellis 14 Okt 1897, Cham JC 5/38/2261 JC 105/1/62. Sien ook nota 40

Maar van Lord Ripon, uittredene Liberale Minister van Buitelandse Sake, het hy ‘n passiewe beleid vir Suid-Afrika geërf wat veronderstel is om na federasie te lei. Hierdie beleid kom neer op: Laat dit aan Rhodes oor. Kort ná Chamberlain sy intrek by Kolonies geneem het, het Rhodes aangedring op nuwe onderhandelinge. En hier was die dilemma. Chamberlain het gehoor dat ‘n Uitlander-staatsgreep, gereël deur Rhodes en Beit, in Johannesburg verwag word.

Kon die Britse Regering die hantering van die hele situasie met veiligheid aan hierdie twee manne oorlaat? Sê nou die greep loop uit op ‘n Uirtlander-republiek onder sy eie vlag? Paradoksaal genoeg sou dit vir Brittanje nog erger wees as ‘n Boererepubliek, want dit sou die moontlikheid van ‘n Britse federasie van Suid-Afrika, gebou op die basis van Transvaal se goud, tot in die oneindige kon vertraag.(19)

(19)Wilde Archives Year Book I, 1956, 9-18. Drus Documents 49

Chamberlain se antwoord op die dilemma was ‘n stukkie politieke opportunismr: hy sou sorg dat hy “nie te veel weet nie”. As die komplot misluk, kan hy amptelike onkunde pleit; as dit slag, kan hy (nie-amptelik) die lof met Rhodes en Beit deel.(20) Maar dit was meer as politieke opportunisme; dit was ook uiters gevaarlik. Om oor kennis te beskik sonder om by die sameswering betrokke te wees, sou gelykstaan aan ‘n morele en politieke koorddans. En dit kos ‘n dapper man (of ‘n gek) om op dieselfde koord as Cecil Rhodes te verskyn.

(20)Van der Poel passim ins. 27-30, 34-6, 47-51, 54-6. Wilde 19

Op daardie noodlotsdag toe Jameson op sy opmars vertrek het, het Chamberlain angstig in sy huis in Birmingham op nuus i.v.m. die staatsgreep gewag.(21) Kenmerkend genoeg het hy die Eerste Minister en Balfour feitlik volkome in die duister gehou. Dit lyk trouens asof die Eerste Minister tot ‘n week voor die beoogde opstand niks daarvan geweet het nie. Toe het Chamberlain hom meegedeel dat ‘n opstand om die draai is en dat hulle “die verloop moet dophou” aangesien dit “vir hulle ‘n voordelige wending kan neem”.(22)

(21)Garvin III, 88-9

(22)C-Salisbury 29 Des 895, Sal E/Chamberlain

Enkele dae later het Chamberlain hom in kennis gestel dat die opstand gaan “uitbrand” – deels a.g.v. die vervelige manier waarop die Uitlanders weier om ‘n Boererepubliek vir ‘n Britse beleid te verruil.(23) Twee dae later ontvang Chamberlain die ongelooflike nuus dat Jameson tog gaan opruk. Dit is die aand van die bediendebal in Highbury en hy was besig om hom vir die dinee aan te trek toe die spesiale boodskapper opdaag. “As dié ding slaag, sal dit my loopbaan verwoes,” sou hy sy gesin meegedeel het terwyl hy sy hande saamslaan. “Ek gaan Londen toe om dit te keer.”(24) Om middernag die aand is hy soos die held uit ‘n roman deur Ouida in ‘n keb van die bediendebal weg.

(23)C-Salisbury 29 Des 1895 ibid

(24)Garvin III, 89

Toe Rhodes van sy koord val, het hy Chamberlain trouens byna met hom saamgesleep. Die beleid van amptelike doofheid het onwerkbaar geblyk. Aan albei die operasie-eindpunte – in Londen en Kaapstad – het lede van Chamberlain se personeel volle inligting van Rhodes en die samesweerders ontvang, en stappe gedoen om Rhodes te help, stappe wat op medepligtigheid neerkom. Chamberlain het self in die web van halwe kennis en halwe waarheid verstrengel geraak. As sy betrokkenheid ooit  nthul word, sou dit hom in ‘n baie swak lig stel.(25)

(25)Sien nota 20

Op een deurslaggewende oomblik het hy ook persoonlik inegryp. Dit was die tyd van ‘n krisis oor Venezuela. Chamberlain het Rhodes aan die internasionale situasie herinner en ‘n kabel is gestuur om “sake te bespoedig”.(26) En kort ná die opening van Bobby Whte se trommel het die hele wêreld gegons van stories oor die Britse Regering se medepligtigheid.(27)

(26)Maguire-Rhodes 20 Des haal Van der Poel aan 66-72. Drus Report 49-50

(27)K 8380 Aanh. 168 oorgedruk uit Green Ble no 2 van Transvaal

Chamberlain se rol in die groot verdoeselingspoging ná die Jameson-inval – Jameson se inbraak, sou mens kon sê – is nie ‘n voorval waarop hy met baie groot trots terugkyk nie. Aan Lord Salisbury skryf hy ‘n lang memorandum, in die trant van ‘n verontregte onskuldige party.(28) In die Parlement oorheers hy die situasie met sy gewone kalmte, trou aan die spotprenttekenaars se beeld van Pushful Joe. Op aanvalle loods hy teenaanvalle. Tog beken hy aan sy intiemste vriende dat hy met sy rug teen die muur veg, “Ek gee nie ‘n duiwel vir julle spul om nie,” sê hy.(29)

(28)C se memo Junie 1896, Drus Report 47-8

(29)Garvin III, 106-8

Maar hoe moet die getuienis wat voor die Parlementê komitee vir ondersoek dien, onderdruk of geneutraliseer word? Op die ou end toon Lord Salisbury sy vertroue in sy Minister van Kolonies deur daarop aan te dring dat hy self in die komitee moet dien.(30) Daarby word sekere ander reëlings getref wat sy bas effektief red.

(30)Verslag van Gekose Komitee van Laerhuis House Paper 311

Ten eerste kom Chamberlain tot ‘n verstandige ooreenkoms met Rhodes, Beit en hulle manne. Chamberlain lê in die gheim in die tronk by Jameson besoek af en Jameson hou sy mond.(31) Rhodes en Beit stem in om die sg. “vermiste telegramme” nie in die hof bekend te maak nie. Hierdie kabels is van Rhodes se Londense kantoor na Kaapstad gestuur en is die mees verdoemende getuienis teen Chamberlain, behalwe die dokumente in sy eie rooi trommels. In hulle word die verloop van sy onderhandelinge met die Departement van Kolonies uitgespel. Hulle bevat ook die ”opskud”-telegam, wat Chamberlain veral betrek.(32)

(31)E. Longford Victoria RI 684 (Pan uitgawe 1976)

(32)Van der Poel 259. Sien Lockhart & Woodhouse 343-4. Let op feitlike gebreke aan inligting oor Inval nou in DK 417/152, 160, 177-80 en DK 879/44 ens.

In Ruil vir Rhodes en Jameson se diskresie onderneem Chamberlain om nie met die oktrooi van die Chartered Company te lol nie. Die oktrooi kon op grond van die onthullings i.v.m. Rhodes se aandeel in die inval herroep gewees het.(33)

(33)Van der Poel 195-6

In die tweede plek vind Chamberlain iemand in die personeel van die Departement van Kolonies wat gewillig is om homself as sondebok aan te bied. Hy is Sir Graham Bower, die Ryksekretaris aan die Kaap, wat persoonlik in beheer van die onderhandelinge met die samesweerders was. Op patriotiese gronde – hy noem dit “vlootstandaarde” – stem hy in om voor te gee dat hy sy hoofde niks i.v.m. Jameson se planne gesê het nie. Sy belonging bly nie lank uit nie: ‘n teregwysing deur die komitee en die verwoesting van sy loopbaan.(34)

(34)Van der Poel 227, 234, 244-8

Chamberlain het ook ‘n ander moontlike sondebok oorweeg: Bower se teenhanger, Edward Fairfield, wat die onderhandelinge aan die Londense kant gevoer het, met inbegrip van die “opskud”-telegram. Maar blykbaar was Fairfield nie lus om opgeoffer te word nie. Ook maar ‘n goeie ding vir alle betrokkenes dat hy kort daarna aan ‘n toeval dood is.(35)

(35)Fairfield-Bower 31 Okt 1896, Bower-Ommaney 11 Mei 1906, Bower-Rose Innes 3 Feb 1932 haal Van der Poel aan 189-95

Al  hierdie faktore stel Chamberlain in staat om voor die Londense ondersoek te verskyn en met sy hand op sy hart te sê: “Ek het nie in daardie stadum … en het nooit enige kennis gehad, of, ek dink dit was die dag voor die werklike inval plaasgevind het, die geringste agterdog gehad dat ‘n vyandige of gewapende inval van Transvaal beplan word nie.” En hy vervolg met ‘n welsprekende huldeblyk aan die arme Fairfield; hoe treurig is dit nie, kan hy met ‘n vroom gesig sê, dat Fairfield sy opdragte verkeerd verstaan het, maar dan, die man was so besonder doof.(36)

(36)C se get voor die Gekose Komitee van Ondersoek Q6223-7 ens.

In werklikheid sou Chamberlain se eie welsprekendheid, Fairfield se beroerte, Bower se kwiksotiese selfopoffering en die ooreenkoms met Rhodes en Beit nie genoeg gewees het om die Minister van Kolonies te red nie. Sy vyande moes hom red.

‘n Paar dae ná die inval began die Duitse Kaiser ‘n byna ewe kolossale flater as Rhodes, Beit en Jameson. Hy stuur ‘n telegram om Kruger met sy hantering van die inval geluk te wens. Dit verhef die inval onmiddellik tot die status van ‘n internasionale voorval. In Engeland lei dit tot ‘n uitbarsting van anti-

Duitse gevoelens. Watter vermetelheid, sê die mense, van die Kaiser (Wilhelm II) om in ons invloedsfeer te kom lol.

Koningin Victoria wys ‘n berispende vinger na haar parmantige kleinseun Willie. En almal skaar hulle skielik by die Regering. Selfs die vloot word gemobiliseer voor die skielike stom gaan lê. En Jameson – die verwagte geterg oor sy wit voorskootvlag bly uit. Inteendeel: hy is die held van die uur.

Uit sy tronksel verneem hy dat sy opmars getoonset is. “Then, over the Transvaal border / And gallop for life or death,” sing Alfred Austin, die hofdigter.(37) Jameson se standbeeld word in klei gemodelleer en gegiet. Verbete op sy swart ros ry hy oor ‘n duisend kaggelrakke.

(37)E. Pakenham Jameson’s Raid 97-101, 64. Garvin III, 92-7

Ook Chamberlain trek voordeel uit die bewondering vir Jameson. Dit bemoeilik sake in elk geval nog verder vir Chamberlain se vernaamste politieke vyande – die radikale vleuel van die Lliberale Party. Hoe ver kan hulle gaan in hul beskuldigings dat Chamberlain medepligtig was? Die openbare bui is sodanig dat hulle dalk op gevaarlike terrein kan beweeg. Daar is buitendien allerlei ander soorte redes waarom die Liberale sku is om te veel te sê.

Die leidende Liberale imperialis, Lord Rosebery, het glo heeltemal te vroeg vir Rosebery se eie beswil van Rhodes self i.v.m. die inval gehoor. Die leidende radikaal, Sir William Harcourt, is ‘n persoonlike viend van Joe. Buitendien is daar oorwegings van patriotisme. Wie wil Engeland se vuil wasgoed voor die wêreld was?(38)

(38)Vir gerugte i.v.m. Rosebery sien C-Selborne 30 Des 1896, Sel Kis 8/144

E so verskyn Joseph Chamberlain dan voor die Parlementêre ondersoek en word met ‘n bombardement van stilte bestook. Later sou die ondersoek bekend raak as die “Lying-in State at Westminster” – Leues in Staatsie.(39)

(39)Morley se frase aangehaal Van der Poel 230

Watter uitwerking het hierdie twee jaar se ontbering op Chamberlain gehad? Sy intense gevoel van ongemak het hom bepaald nie liewer vir Kruger gemaak nie. Hy het nou ‘n persoonlike vete met die ou man – “;n onkundige, vuil, geslepe en koppige mens wat weet hoe om homself finansieel te bevoordeel en om al sy familie en afhanklikes te verryk”.

Maar ook sy gevoel vir Kruger se teenstanders – die Uitlanders – is nie deur die inval verhoog nie. Hy vind hulle ‘n “klomp lafhartige, blatante, selfsugtige spekulante wat hul siel sal verkoop vir die mag om die mark te manipuleer”. En hul leier, Cecil Rhodes? Chamberlain het Rhodes altyd heimlik gewantrou. Nou beskou hy hom nie alleen as “’n knoeier” wat die Kaapse Afrikaners vervreem het nie, maar as ‘n “afperser” wat gedreig het om die vermiste telegramme bekend te maak as die oktrooi herroep word.

“Wat is daar in Suid-Afrika,” vaar hy uit, “wat rampokkers maak van almal wat iets met politiek te doen kry?” Tog is dit die mense wat sedert die inval Brittanje se enigste bondgenote in Suid-Afrika was.(40)

(40)C se notule 15 Apr 1896, Drus Documents 160-2. E.. Pakenham 248-9

‘n Mens kan jou Chamberlain se frustrasie maklik voorstel. Hy is baie lus om Transvaal by te kom, nou nog meer as voor die inval. Maar die vervreemding van die Kaapse Afrikaners het hom die middele ontneem om dit te bereik. Kortom, die gevolge van die inval herinner aan die uitwerking van drank op die geslagsvermoë, soos die deurwagter in Macbeth beskryf: “Dit lonk uit en dit ontlont; dit verhoog die drang en sy die vermoë af.”(41)

(41)Shakespeare Macbeth Bedryf II toneel 3 reëls 33-5

Om 2.30 nm. Op 22 November ontvang Chamberlain die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika in sy kantoor agter die blou baai-deur. Milner stel sy saak. Hulle moet ‘n krisis prober bewerkstellig, sê hy.(42) Daar ;is geen oorkonde van die onderhoud in die leers van die Departement van Kolonies nie, maar ons wewet hoe die twee mans gedink het. Daar is nog steeds net so ‘n groot gaping tussen hulle as ooit.

(42)M se dagboek 22, 30 Nov 1898, Mil (dep 68)

Die tyd veg aan die kant van die vyand, sê Milner. Ná sy herverkiesing as President het Kruger nog “meer outokraties en meer reaksionêr as ooit” geword. Op die oomblik bewapen hy sy mense vir die worsteling met Brittanje wat voorlê. “Hy het ontsaglike geldelike reserwes en net soveel ammunisie as wat hy kan nodig hê, en hy voeg nog steeds meer by.” Hy “ly waarskynllik aan grootheidswaan”.

Maar òf die regering – ‘n rasse-oligargie” – òf die Uitlanders moet in Transvaal regeer, en Milner sien geen teken dat Kruger se regering gaan terugstaan nie. Trouens, as Brittanje met sy Europese mededingers by ‘n oorlog betrokke sou raak, kan Kruger dalk die geleentheid aangryp om die Kaap aan te val.(43)

(43)M-Selborne 9 Mei 1898, MP I 232-5. M-Fiddes 3 Jan 1899, Mil 8/28-33

In antwoord herhaal Chamberlain sy oortuiging; die enigste beleid wat nou gevolg kan word, is ‘n beleid van geduld. In die eerste plek omdat rekening gehou moet word met die politieke gevolge van daardie “vervloekte inval”. Dit het die land in ‘n “valse posisie” geplaas; die Kaapse Afrikaners is vervreem; hy moet wag tot hulle weer vertroue in hom kry. Ten tweede is daar besliste voordele in ‘n wagspel. Die Britse invloed neem gedurig toe. Binnelandse verset teen Kruger moet d.m.v. reaksie ontwikkel en Kruger self word nie  jonger nie.

Derdens en vierdens is daar die argument teen oorlog. Chamberlain glo dat militêre oorwinnings selfverydelend sal wees. Hul einddoel is ‘n unie, in elke sin, in Suid-Afrika. ‘n Oorlog sou alleen haat verwek en ‘n erfgenis van bitterheid agterlaat. As daar ‘n oorlog moet wees, moet Kruger die aggressor wees, met die Kaapse Afrikaners – of minstens ‘n groot deel van hulle – aan die kant van die Empire. ‘n Oorlog sou in Brittanje “uiters ongewild” wees tensy Kruger se gedrag “verregaande” en blatant en duidelik verkeerd is. Om dit te doen, sal hy ‘ n “ernstige verbreking” van die Londense Konvensie moet pleeg.(44)

(44)C-M 16 Mrt 1898; MP I 227-9. Vgl. Selborne-M 23 Mrt, MP 1229-31

Wat Chamberlain sê, kom daarop neer dat Kruger genoeg tou moet kry.(45) Waarop Milner min of meer antwoord dat die ou President glad te geslepe is om enigiemand op te hang, wat nog  homself.

(45)Sien C-Selborne 3 Mrt 1897, Sel Kis 11/162: sa; om “selfvernietiging eindig”

*** *** ***

Toe Milner na sy kamers in Duke Street terugkeer, lyk dit asof sy b áesoek aan Chamberlain in ‘n antiklimaks geëindig het. Tog voel hy nie bedruk nie. Hy het van Joe afgelei – miskien niks meer as van die knik van die kop of ‘n wink van die oog nie – dat Londen se gevoel teen oorlog nie Kaapstad of Johannesburg se hande bind nie. Om “dinge deur my eie handelinge en voorwaartser te kry”, is hoe hy sy beleid ná die onderhoud beskryf.(46) Dit is in Suid-Afrika dat ‘n manier om ‘n krisis te bewerkstellig, gevind sal moet word.

(46)M-Selborne 31 Jan 1899, MP I, 301-2 (klousules omgekeer)

Intussen wy hy hom heelhartig aan die taak om die openbare mening in Londen sag te maak, deur “rooskleurige illusies i.v.m. Suid-Afrika” te vertrap. Dit is ‘n vreeslike gejaag. En ‘n delikate taak ook, want hy moet “by al die vooraanstaande politici en persmanne uitkom – sonder om dit te laat lyk asof ek agter hulle aanloop”.(47)

(47) M-Fiddes 23 Des 1898, MP I, 299-300

Gelukkig kan Milner op sy netwerk van vriendskappe staatmaak – daardie fyn web wat van Balliol tot by die kamer van die Kabinet strek, via The Times in Printing House Squae, Brook’s Club en Panshanger. By sy eerste politieke huisparty daardie maand, ‘n naweek by Lord en Lady Cooper op Panshanger, ontmoet hy Arthur Balfour, Adjunk-Premier, George Curzon (dit is 14 dae voor Curzon Engeland sou verlaat om Onderkoning van Indië te gaan word) en St John Brodrick, Adjunk-Minister van Buitelandse Sake.

Curzon en Brodrick was saam met Milner op Balliol, saam met ‘n derde, Willlie Selborne, en Austen Chamberlain; hulle was die “Arthuriane” (soos die jong Winston Churchill hulle sou noem, die manne wat weldra die Tory-party onder Balfour se leierskap sou oorheers.(48)

(48)M se dagboek 24-6 Nov 1898, Mil (dep 68). W. Churchill-Rosebery 13 Aug 1903, Ros. B-Selborne 16 Aug 1898, Sel Kis 2

Nou reeds is hulle ‘n harde, helder kern binne die party. Geen wonder dat Milner die naweek op Panshanger geniet nie, al verkies hy die lang politieke besprekings oor die port bo party speletjies – soos die “waarheidspel”, wat so ‘n “gevaarlike” kenmerk van ‘n Panshanger-naweek is.(49)

(49)M se dagboek 24-6 Nov 1898, Mil. Sien ander besoeke aan Panshanger 20-22 Apr, 18-21 Nov 1895, Mil 258

Onder die naweekgaste is Margot en Henry Asquith. Dit is nou nege jaar sedert Margot Milner se huweliksaanbod verwerp het en die littekens het lankal geheel. (50) Die Margot wat hy langs die piramides die hof gemaak het (hoe “sierlik en poëties het sy nie die pas seul op Lady Barin se Kersparty gedans nie), is nou Margot die politieke gasvrou, die Margot wat almal skok deur op die trappies van die Laerhuis sigarette te rook, die Margot wie se “kolossale indiskresies” haar so ‘ n verruklike gesellin maak.(51)

(50)M se dagboek Des 1891, Mil 252/161-6

(51)M-Gel 17 Apr 1892, Gell 290

Spoedig word sy weer een van sy intiemste vriendinne. Sy begin by sy kamers in Duke Street inval wanneer hy in Londen is en vertoef dan ure daar om te skinder. Dit is natuurlik alles vorkome onskuldig, maar wat Milner betref, hoegenaamd nie doellose skinderpraatjies nie. Ná Campbell-Bannerman is Henry Asquith nou die leidende Liberaal in die party en as Milner die Liberale wil wen, moet hy Henry Asquith se guns behou. En nie net Henry en die Liberale s’n nie. Want Milner se doel is om die Suid-Afrikaanse boodskap so wyd as moontlik te versprei. En as jy iets van die dakke verkondig wil hê, hoef jy dit maar net in streng vertroue aan Margot te vertel.

Dit was ‘n “verruklike” uitstappie, sou Milner later beken, daardie naweek op Panshanger. Dit het die toon vir die res van Milner se besoek aan Engeland aangegee. Hy sien George Buckle van The times en Spencer Wilkinson van The Morning Post.(52) (In teenstelling met hulle vind hy die “wankele Liberale” van die Manchester Guardian ”erg verrot”.)(53) Hy word elders uitgnooi: na die Roseberys van Mentmore, die Rothschilds van Tring, om nie van die Koningin, die Eerste Minister en die Prins van Wallis te praat nie. Ook hierdie besoeke vind hy “verruklik”.(54)

(52)MP I, 301. M se dagboek 18 Nov-Jan 27 1898-9, Mil (dep 68)

(53M-Gel 19 Jun 1899, Gell 534

(54) )Sien nota 52

Aan sy vriende vra hy om verskoning dat hy hulle met sy “vervelige tirade” lastig val. “U dink miskien ek draaf eindeloos voort,” deel hy Lord rosebry, die leidende Liberale Imperialis, mee, “maar ek wil  u graag ‘n paar dinge i.v.m. daardie hoekie van die imperiale skaakbord meedeel waarby ek veral betrokke is. Dit trek nie op die oomblik veel aandag nie. Dank die Vader!”

En dan verduidelik hy vir die honderdste keer die gevaar van “Krugerisme”; hoe hy wonder of die Britse Regering se “geduldsbeleid” die Afrikaanse sweer ooit kan genees, en tog hoe hy self alles in sy vermoë sal doen om vrede te soek.(55)

(55)M-Rosebery 12 Des 1898, Rose 75/160-4. M-Selborne 23 Jan 1899, MP I, 301

Natuurlik verklap Milner nie sy ware beleid – om ‘n krisis te bewerkstellig – aan Margot en die Liberale nie.(56) Net enkele vertrouelinge, soos Philip Gell, ken hierdie arcana imperii.

(56)Sien Margot-M 9 Jul 1900. Mil 29 (SA 32)

Ook ‘n ander geheim i .v.m. met Milner se karakter sou geslagte lank in sy private dokumente opgesluit bly.

Hierdie teruggetrokke, akademiese mens lyk miskien onvanpas in die hoë Britse kringe, in die uitbundige wêreld van sitkamers en geweerkamers, maar sulke jolligheid was ‘ n aanvaarde neweproduk van die Victoriaanse ampslewe. Baie meer onvangpas – en veel onveiliger – was Milner se vriendskap met ‘n meisie, ene Cécile, vir wie se verblyf in Brixton hy betaal het.

Die verhaal van hierdie vreemde verhouding is nog nooit vertel nie. Daar was nog nooit eens ‘n suggestie van nie. Maar ‘n noukeurige ondersoek van Milner se ongepubliseerde dagboek toon dat hy Cécile in ‘n huis naby, maar nie te naby nie, sy kamers in Duke Street geïnstalleer het. Dit is ‘n vurige vriendskap wat ten tyde van Milner se besoek aan Londen reeds nege jaar aan die gang is en Milner (teen ‘n gemiddelde van £450 per jaar) omtrent ‘n kwart van sy vrye inkomste gekos het.(57)

(57)M se dagboek 1891-1901. “CD” woon tot 1893, in Norwood, toe Croydon tot 1896, daarna Brixton. Sy het M £392 in 1893, £359 in 1894, £378 in 1895, £354 in 1896 gekos, maar £600 in 1901

Saam ry hulle met fietse oor die South Downs; hulle gaan roei op die teems en bly van Vrydag tot Maandag in ‘n hotel in Marlow oor; hulle speel piket en whist wanneer hy in haar verblyfplek tuis gaan. Een klaarblyklike reëling moet nagekom word: Cécile kom hom nooit in sy kamers besoek nie; nog minder ontmoet sy hom in die openbaar. Dit lyk asof sy nooit een van sy vriende ontmoet het nie.(58) Miskien het nie eens Philip Gell van Cécile se bestaan geweet nie.

(58)Sien M se dagboek 1891-7, 98-9, Mil (dep 60-69)

Uit Milner se dagboek is dit duidelik dat sy vriendskap met Cécile een van die oorheersende temas van sy lewe was, selfs gedurende daardie werkvakansie in engeland. In die eerste week van Desember – die bedrywigste fase van sy Engelse toer, toe hy net ‘n paar uur op ‘n slag kon afknyp om Chamberlain in Birmingham te sien, Salisbury in Hatfield en koningin Victoria in Windsor – verdwyn Milner ses dae lank op ‘n fietstog met Cécile.(59)

(59)M se dagboek 1-2 Des 1898 (Windsor), 4-5 Des (Highbury), 5-6 Des (Hatfield), 6-11 Des met “CD”, Mil (dep 68)

Dit kan vandag ‘n bietjie belaglik klink: ‘n middeljarige Onderkoning, sy minnares, en twee fietse wat op ‘n midwinter-toer van die South Downs vertrek en die Suid-Afrikaanse krisis ‘n week lank aan homself oorlaat. Maar in daardie dae was daar niks plebejies aan ‘n fiets nie. Inteendeel, dit was die sportmotor van die jare negentig, die sport-simbool van die eeu.

(Dit verleen nie alleen ‘n avontuurlike geurtjie aan die minnespel nie, maar ook aan die politiek. Kabinetsministers soos Balfour – die “divine Arthur” van die Panshanger-kliek – jaag per fiets na Hatfield om die Eerste Minister te gaan spreek. Dit is op sy fiets dat Pom McDonnell, Salisbury se urbane privaat sekretaris, op een sonnige naweek in 1895 van Hatfield na Osterley gejaag het om die heerlike nuus aan Arthur oor te dra: die Liberale regering het geval.)(60)

(60)Gravin van Jersey Fifty-one Years of Victorian Life (Londen 1923) bl.370

Op hul winteruitstappie vertoef Milner en Cécile in ‘n hotel in Hampshire. Hoewel hulle ‘n private sitkamer het waar hulle “tot slaaptyd piket speel” (soos Milner nogal sedig in sy dagboek aanteken),(61) moes die gevaar van ‘n onthulling aansienlik gewees het. ‘n Skandaal kon Milner se loopbaan verwoes het. Dit is waar dat die Victoriaanse gemeenskap die aanhou van minnaresse deur manne van die wêreld oor die hoof gesien het. Maar Onderkonings moes elke sweem van ‘n skandaal vermy.

(61)M se dagboek 8 Des 1898, Mil (dep 68)

En die besondere sedelike en intellektuele posisie wat Milner vir homself opgebou het – die sobere “burgerlike soldaat van die Ryk”,(62) die toegewyde filosoof-koning – sou soos ‘n wolkie rook verdwyn het. Sy vyande, wat hom as preuts beskou het, sou hom as ‘n huigelaar afdgeskryf het. Sy vriende sou ‘n gevaarlike insig in sy karakter verkry het – daardie boheemse aspek van sy geaardheid wat hy so hard probeer beheer.

(62)M se credo, Times 27 Jul 1925

Miskien was dit juis die gevaar van onthulling, die gevoel dat hy op ‘ n afgrond beweeg, wat die avontuur vir hom des te pikanter gemaak het. Die ongerymdheid van die situasie, soos in ‘n droom, moet in elk geval een van die kenmerke van die week gewees het wat Milner die sterkste aangevoel het. Watter ander groot Victoriaanse prokonsul kon sy Koningin in die Wndsor-paleis verlaat en in ‘n sjofele agterstraatjie van Brixton langs sy minnares opduik?

Op die vierde dag van die week gebeur trouens iets merkwaardigs. Milner moet vir ‘n paar uur na die ampswêreld terugkeer om aan ‘n groot hooroosh deel te neem, ‘n afskeidsgeselligheid vir George Curzon. Hy laat sy fiets by die Vauxhall-stasie en haal ‘n keb na sy kamers in Duke Street. Eers handel hy die opgehoopte ampsbriewe haastig af. Toe klee hy hom in aanddrag, met wit das en al; ‘n uur later sit hy in die hotel Cecil tussen haar Ed. Mev. Maguire en Lady Ulrica Duncombe aan die Hertog van Marlborough se tafel.

“Dit was ‘n skitterende geselligheid en ek het dit geweldig geniet,” skryf hy in sy dagboek.(63) Om elfuur die aand begin die gaste vertrek. Terwyl sy vriende weswaarts na Mayfair ry, stap Milner alleen oor die Waterloo-brug. Toe alles veilig lyk, haal hy ‘n keb en keer na die ander wêreld suid van die rivier terug.

(63)M se dagboek 9-10 Des 1898, Mil (dep 68)

Dit staan alles in sy dagboek – in die styl van ‘n oujongnooi wat ‘n piekniek beskryf. “In die pragtigste weer,” skryf hy op 8 Desember, “ry ons verby die Devil’s Punch Bowl van Milford na Liphook, nuttig ‘n laat middagete in die Royal Hants Hotel en bereik Liphook teen sononder. Dit was werklik ‘n wonderlike dag, meer soos ‘n sagte herfs as winter, en die uitsig van Hind Head af was verruklik.”(64)

(64)M se dagboek 8 Des 1898, Mil (dep 68)

Maar Milner moes ander verruklike uitsigte in ag neem – o.m. die uitsig van Government House in Kaapstad. Miskien wis Milner toe reeds in sy hart dat dit sy laaste avontuur met Cécile sou wees. Op 23 Januarie, twee dae voor hy na Suid-Afrika sou terugkeer, skryf hy in sy keurige handskrif: “Na Brixton om C te sien.” Toe voeg hy enkele woorde by, vreemd emosionele woorde in daardie korrekte, droë feiterelaas, haal hulle deur en kras hulle weer in die kantlyn: “…om afskeid te neem.”(65)

(65)M se dagboek 23 Jan 1898, Mil (dep 68)

Intussen het ‘n nuwe politieke strategie ná die onderhoud met Chamberlain in Milner se gedfagtes vorm begin aanneem. Die beleid van “geen oorlog” bind  hom nie. Alles hang van die Britse onderdane in die ZAR af. As hulle “opgebeur” kan word en bevoegde leierskap kry; as hy Wernher, Beit en die ander goudkewers ook aan sy kant kan kry; as albei groepe se griewe in die regte l ig aan die Britse publiek voorgehou kan word; kortom, as die Uitlanders in ‘n posisie gemaneuvreer kan word waarin hulle reg is en Kruger verkeerd, dan kan h ulle “Kruger nog steeds opskroef”.(66) M.a.w., as Milner die plan en die perd verskaf, kan daardie “idioot” Jameson weer ry.

(66)M-Fiddes 3 Jan 1899, Mil 45 (SA 37). M-Gell 27 Mei-18 Jun 1899, Gell 531, 533

Om dit alles self te reël, sal hy moet wag tot hy in Kaapstad terugkeer. Intussen moet hy die Hoër Hand bid dat genl. Sir William Butler, die waarnemende goewerneur, met diskresie sal handel en dat ‘n krisis nie in sy afwesigheid ryp gedruk word nie.

—oOo—