BO Dit is my land wat julle wil he

Dit is my land wat julle wil hê 

  Deel 1

“Die konferensie vorder bra moeisaam … intussen sal ons Uitlanders geduld verloor en die spel bederf. Ons probeer hulle leer om geloof in my hoof te hê en om tot ‘n tyd ná die konferensie geduldig te bly …”

Maj. Hanbury Williams (Milner se Militêre Sekretaris) aan die Britse Militêre Intelligensiediens, uit Bloemfontein, 31 Mei 1899

Hoofstuk-aanhef Maj. H. Wo;;oa,s-DMI 31 Mei 1899, DK 417/275/363

— — —

Hoofstuk 6

“Dit Is My Land Wat Julle Wil Hê”

Die Oranje-Vrystaat, 30 Mei – 6 Junie 1899

Die spesiale trein verlaat die syspoor in Kroonstad ‘n paar uur voor dagbreek op Dinsdag 30 Mei. Die reis word hervat, suidwaarts, al met die enkelspoor, tot in die hart van die Vrystaat. Voor dit die Sandrivier bereik, kom die son uit die newels op, skilder die lappies mielies roesgeel en blaas die wit ryp van die metaal-dwarslêers af.

Dit is ‘ n winter-dagbreek, en die veld ril soos ‘n Kanadese prêrie. ‘n Stil landskap, afgesien van die gesis en gerammel van die staalwiele en die lokomotief se deurdringende gefluit. Ook ‘n leë landskap, behalwe die onvermydelike swart kindertjies wat die trein sien verbygaan: twee houtwaens en ‘n lint vaal rook wat van die hoë skoorsteen en die baanruimer tot by die gesigseinde strek.(1)

(1)Volkstem 31 Mei, Express (Bloemfontein) 2 Jun, Cape Times (weeklikse uitgawe) 3 Jun, Standard & Diggers” News 30 Mei 1899

‘n Mens kan sien dis nie ‘n gewone spesiale trein nie. Die lokomotief voer drie vlae: groen strepe aan weerskante van die baanruimer, oranje op die ketel. Hulle is ondferskeidelik die strepe van die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse vlag. Dieselfde vlae wat die trein op elke stasie in, selfs die kleinste haltetjie.(2)

(2)Volkstem 31 Mei 1899

In die eerste wa, geklee in sy gebruiklike loshangende swart pak, sit President Kruger en sy personeel, met inbegrip van die Staatsprokureur, Jan Smuts, agter geslote blindings. Kruger se oë knip pynlik agter sy klein goue brilletjie. Wanneer hulle Bloemfontein bereik, sal hy ‘n wa nodig hê  wat die koue wind uithou.(3)

(3)Fischer Kruger 218-19 haal Rompel aan Uit den Tweeden Vryheidsoorlog

In Vereeniging, die grenspos, het hulle die vorige aand ‘n afskeidsrede van lede van die ZAR se Uitvoerende Raad ontvang. Kruger het met een van sy landelike vergelykings geantwoord. Die huidige stemwet, sê hy, is soos van daardie plaasdamme wat net skoon water deurlaat. “Die skoon water is die betroubare Uitlanders en deur ons wette sal hulle by ons kom aansluit en die vuil water, die onbetroubare Uitlanders, sal buite bly.” Kruger het met klem herhaal dat hy vrede wil hê, nie oorlog nie, en dat hy “uit sy hart verlang dat die konferensie wat nou gehou gaan word om vrede te verseker, nie sal misluk nie”.(4)

(4)Volkstem 31 Mei 1899 (oorspronklike in indirekte rede)

Die President kon nog altyd op ‘n krisis reageer. Nou is hy soos ‘n ou strydros wat die slagveld ruik. Hoewel hy Pres. Steyn se uitnodiging aanvaar het om die konferensie in Bloemfontein te gaan bywoon, voel hy swartgallig oor die uitslag daarvan. Dit is nie dat die waarheid i.v.m. Milner nou al deur die Boere of ander Afrikaners geraai word nie. Die brandende “Helote-verslag” is nog agter slot en grendel in Chamberlain se rooi kis in die Departement van Kolonies.

Maar Kruger wantrou Chamberlain en Milner is een van Chamberlain se manne. Kruger onthou die geleentheid,f in 1877, toe hy Sir Bartle Frere, destydse Britse Hoë Kommissaris, ontmoet het. Hy het toe ontdek, so sou hy later vertel, dat daar twee aparte mense met die naam Frere is: een die sjarmante diplomaat met wie hy gepraat het, die ander Frere, die man wat Transvaal wou onderkry. Nou in 1899, soos Smuts dit sou stel, kan dieselfde vraag i.v.m. Milner gevra word as i.v.m. Sir Bartle Frere: “Watter Milner bedoel u?”(5)

(5)Smuts-Hofmeyr 10 Mei 1899, SP I, 233-5

In die huidige krisis leun Kruger swaar op sy jong Staatsprokureur. Sover Smuts kan oordeel, glo Kruger nou dat “oorlog onafwendbaar is of binnekort sal wees – nie omdat daar ‘n rede is nie, maar omdat die vyand onbeskaamd genoeg is om nie vir ‘n rede te wag nie”. Smuts, daarenteen, meen dat die Engelse waarskynlik nie dom genoeg sal weesd om ‘n “ongemotiveerde” oorlog te begin nie. “As Engeland sonder ‘n formeel goeie ekskuus met die Afrikanerdom in die kryt tree,” skryf hy aan sy ou vriend en politieke beskermheer in die Kaap, Jan Hofmeyr, “sal dit klaar wees met sy sake in Suid-Afrika.”(6)

(6)Ibid

Hy glo nie dat die Uitlander-stemreg Engeland ‘n moontlike casus belli bied nie. Volgens sy insig is Engeland besig om onrus op die Rand “te stook” ten einde “ons van stryk te bring en ons verkeerd te laat optree”. Chamberlain is verstaanbaar beangs oor die rivier van Afrikaner-volkseenheid wat oor die hele subkontinent stroom. Tog vind hy die algemene situasie baie “duister en raaiselagtig”.(7) Hy smeek sy Afrikaner-bondgenoot in die Kaap om die Britse regering te laat afsien van hul teistering van die ZAR.

(7)Smuts-Leyds 30 Apr 1899, SP I, 227-9

In werklikheid was Smuts, en nie Milner nie, die teiken van die Kaapse Afrikaners se oorredingspogings. Weke lank smeek hulle Smuts al om die Britse Regering te paai deur toegewings aan die Uitlanders te maak. “Probeer tog, my liewe broer,” skryf William Schreiner, Eerste Minister van die Kaap sedert Rhodes se party in 1898 verslaan is, “om redelike toegewings te verkry. As jy dit gedoen het, sal dit ‘n geweldige diens aan Suid-Afrika wees. Stel jou voor met hoeveel vreugde Rhodes en Kie. dit sal verwelkom as die President en die Volksraad getart moet word tot ‘n houding waarin hulle weier om redelik op te tree. …”(8)

(8)Schreiner-Smuts 6 Mei 1899, SP  I, 229-30

Van Jan Hofmeyr het Smuts per kabel ‘n stortvloed advies ontvang: “Tyd om olie op die stormsee te giet en nie op die vuur nie. Moenie uitstel nie … situasie is ernstig en tyd kosbaar.” Hofmeyr het Smuts ook gewaarsku: hy moet “geen illusies oor die kolonie koester nie”. Hofmeyr het bedoel dat Smuts ingeval van ‘n oorlog nie moet verwag dat die Kaapse Afrikaners “die wapens en masse sou opneem nie, veral aangesien “die meeste van hulle niks i.v.m. die dra van wapens weet nie”.(9)

(9)Hofmeyr-Smuts, 6, 10, 15 Mei 1899, SP I, 230, 236-7

Terwyl Smuts rondgeslinger word tussen die versoenende bui van sy Kaapse vriende en sy eie bejaarde leier se neerslagtigheid, verhewig die twee Kaapse staatsmanne hul vredesoffensief. Schreiner pleit by Smuts om by die konferensie “eindelose geduld” te beoefen. Hy moet Kruger oorreed om sy aanbod te verbeter; Kruger het die Uitlanders onlangs die stemreg ná nege i.p.v. 14 jaar beloof.(10) Smuts stem in om te probeer. Maar bedenkinge oor Chamberlain se ware motiewe spook nog steeds by hom.

(10)Schreiner-Smuts 19 Mei 1899, SP  I, 237-9

Sê nou die hele konferensie is ‘n bedrogspul, ‘n stukkie politieke toneelspel wat Chamberlain ten bate van sy tuisgehoor en dié in die kolonies gereël het? As dit so is, waarom sou hulle hulself verneder deur toegewings te maak? Hulle het hulself reeds verneder. Ingevolge die Londense Konvensie het Engeland spesifiek onderneem om hom nie met die binnelandse sake van die ZAR te bemoei nie. Nou stuur hy Milner na Bloemfontein om Kruger oor sy beweerde mishandeling van die Uitlanders te betig.

Weer keer Smuts Smuts na die oorweldigende vraag terug: is Chamberlain werklik van plan om Transvaal te probeer herannekseer, ongeag die openbare mening? Gaan dit oorlog wees? Dan “hoe gouer hoe beter”. Sy gevoelens kook oor. “Ons volk dwarsdeur Suid-Afrika moet met die doop van bloed en vuur gedoop word voor hulle hul plek onder die groot volke van die wêreld kan inneem.” En hulle sal wen. “Ons sal òf uitgewis word òf ons sal oorwin … en as ek dink aan ons volk se vegvermoëns, kan ek nie sien waarom ons uitgewis sal word nie.”(11)

(11)Smuts-Hofmeyr 10 Mei 1299, SP I, 231-5

Maar toe die spesiale trein die Bloemfonteinse stasie daardie oggend stiptelik om tienuur binnestroom, lyk ‘n oorlog baie ver. Die hele dorp vier fees, asof die krisis verby is. Oor die hoofstraat is ‘n triomfboog gespan. ‘n Reusagtige wit banier teen die stasiegebou verkondig: “God leide uwe beraadslagingen”. Op die ereplek langs die Transvaalse vierkleur wapper die Union Jack.(12)

(12)Volkstem 31 Mei 1899

Kruger skuifel uit die trein, tuur deur sy goue bril en begin op die verwelkomingsrede antwoord. Ernstig herhaal hy sy woorde. Hy sal “alles, alles, alles” vir vrede gee. “Maar as hulle aan my onafhanklikheid torring, sal ek weerstand bied.”(13)

(13)Cape Times (weeklikse uitgawe) 3 Jun, Standard & Diggers News 30 Mei 1899

Toe Kruger se spesiale trein daardie oggend om dagbreek suidwaarts na Bloemfontein gestoom het, het ‘n tweede spesiale trein, met twee Union Jacks langs die baanruimer, noordwaards na dieselfde bestemming gereis.(14) Sir Alfred Milner het ‘n halfuur vroeër ná ‘n onrustige nag in die voorste wa wakker geword. Hy kyk op sy horlosie. Dit is nog maar sesuur, die lug is nog feitlik net so donker as die veld, maar reeds is hulle naby De Aar, ‘n belangrike spoorwegknoop.

(14)Sien nota 1

Daar het Milner ‘n geheime afspraak met H.C. Hull, ‘n Uitlander-prokureur, een van Percy Fitzpatrick se intiemste politieke bondgenote aan die Rand. Milner is van plan om Hull gerus te stel. Hierdie keer is die Ryksregering werklik van plan om die poppe te laat dans.(15

(15)M se dagboek 30 Mei 1899, Mil (dep 69). M-C 25 Mei 1899, Mil 14 (SA 28)

Wat is Chamberlain se eie oogmerke in die krisis wat voorlê? Dit is ‘n kwessie waaroor Milner en sy Uitlander-bondgenote net soveel tob as Kruger en Smuts – en wat selfs vandag raaiselagtig bly. Milner ken die amptelike (hoewel private) antwoord. Sedert daardie deurslagewende Kabinetsvergadering op 9 Mei staan sowel Chamberlain as die Regering by Milner in sy beleid van imperiale intervensie ten behoewe van die Uitlanders.(26) Die “skroef moet aangedraai word” tot die ou President “van sy perdjie afklim”.(17)

(16)C-M 10 Mei 1899, K 9345 226-31

(17)I.v.m. “skroef” sien M-C 8 Mei 1899, DK 417/261 en M-Gell 533

Maar wat het Chamberlain met “afklim” bedoel? Die Britse eise – die herstel van die vyfjaar-stemreg met ‘n groter minderheid Randse setels in die Volksraad – sal die Britse uitlanders individuele  politieke gelykheid gee. Dit sal hulle nie onmiddellik kollektiewe oppergesag gee nie. Niemand weet hoeveel Britse Uitlanders daar in die ZAR is of hoeveel van hulle Transvaalse burgerskap sal kies nie.(18)

(18)Sien Marais 1-3, Wilde 112-13. Vgl. Balfour-C 6 Mei 1899, Cham 5/5/39

Dit beteken dat die vreedsame oorname van die ZAR  namens die Britse Ryk eers oor jare verwesenlik kan word – eers ná Milner se termyn as Hoë Kommissaris verstryk het. Sal Chamberlain Milner toelaat om strenger eise te stel? Nee, glo Milner, nie as Kruger die vyfjaar-stemreg toestaan nie. Chamberlain beoog ‘n diplomatieke coup vir homself, maar slegs ‘n beperkte skikking vir die Uitlanders. Dit is al wat die Britse openbare mening sal aanvaar.(19)

(19)Selborne-M 7 Okt 1899, Mil 17 (SA 31)

Dit is Chamberlain se afhanklikheid van die openbare mening wat Milner uitermate frustreer, byna wanhopig maak. Dit is natuurlik nie Chamberlain se skuld nie, dit weet hy. Joe is “manjefiek”, verseker hy ‘n Kabinetslid – ‘n ware “imperiale staatsman”.(20) Maar die Britse partypolitiek, soos hy aan ander, nog intiemer vriende beken, is “verrot”.(21)

(20)M-Gell 9 Aug 1898, Gell 511

(21)M-Dawkins 4 Jan 1902, Mil 28 (SA 46)

“Selfs met die sterkste regering,” verduidelik hy, “as dit by die regtige groot en deurslaggewende sake kom, moet die swakheid en die kkompromieë wat dit (partypolitiek) meebring, enige skikking verongeluk”.(22) Milner self het geen voorneme om ‘n kompromis met Kruger aan te gaan nie. Hy het hom “hart en siel” by die Uitlanders geskaar. Die spel is die “groot spel om baasskap in Suid-Afrika”.  Hy is van plan om dit te wen.(23)

(22)M-Bertha Synge 19 Des 1901, Mil 28 (SA 46)

(23)M-C 8 Jul 1898, MP I, 267

Sy plan is om die ZAR te annekseer. Hy sal dit as ‘n Kroonkolonie bestuur, min of meer soos sy ou hoof, Cromer, Egipte bestuur. Dit is alles deel van die goter spel waarvolgens die blanke Ryk gefedereer moet word. Hy sal “’n plek in die geskiedenis beklee so groot soos die man wat die Amerikaanse Grondwet opgestel het, of die skeppers van die Verenigde Duitsland”.(24)

(24)M-Dawkins 4 Jan 1902, Mil 28 (SA 32)

Dit is Milner se lewensdrome, en hy sien geen rede om hulle nou ter wille van een koppige (en uitgediende) ou man in Suid-Afrika te laat vaar nie. Maar hoe moet hy voorkom dat Chamberlain “begin weifel” en alles deur kompromieë verongeluk? ‘n Fyn taktiese plan waarvan Chamberlain ewe min moet weet as Kruger, begin reeds in Milner se gedagtes vorm aanneem.

Chamberlain wil hê Kruger moet “van sy perdjie afklim” ten einde ‘n skikking te bereik. Milner wil ‘n oorlog hê wat op anneksasie uitloop. Maar hierdie teenoorgestelde strategieë kan deur dieselfde taktiek gedien word. Chamberlain sal Milner toelaat om die skroef ál vaster te draai tot Kruger afklim. Milner sal betoog dat hule ter wille van ‘n vreedsame skikking eers genoeg troepe moet uitstuur om Kruger bang te maak. Saam  sal die twee skroewe – verhoogde politieke eise en vergrote Britse garnisoene – die oorlog presipiteer. Dit is wesenlik die scenario wat Milner opgestel het.(25)

(25)Daar is alleen omstandigheidsgetuienis dat Milner reeds ‘n oorlog wou hê. Sien ins. M-Bertha Synge 20 Apr 1898 Mil 8 (SA 45). “Die Boereregering is vir die hele SA te ‘n groot vloek om bestaansreg te hê, was dit nie dat ons te besig is vir die aansienlike oorlog wat noodsaaklik sal wees om dit af te takel nie.” Vgl. M-Selborne 17, 24 Mei 1899, MP I, 384-5. 400-3

Die Bloemfonteinse konferensie was dus nie, soos baie mense later sou glo, ‘n stukkie politieke toneelspel deur Milner nie, ‘n skyn-konferensie wat beplan was om te misluk. Inteendeel, dit was Milner se eerste stap, in ooreenstemming met sy afspraak met Chamberlain, in die “opskroef” (Milner se frase) van Kruger.(26)

(26M-Gell 18 Jun, Gell 533

In dié stadium sal Milner se eise beskeie genoeg wees – hy sal “duidelik gematig” wees, soos hy Chamberlain beloof het. Maar as hy Kruger eers so ver het dat hy in die openbaar ‘n skikking probeer bereik, sal die klem verby die punt van menslike uithouvermoë vasgekroef word.

Dit is Milner se planne. Dit is ‘n lot waaruit ou Kruger net d.m.v. ‘n hopelose oorlog sal kan ontsnap – tensy, aaklige gedagte, Kruger die aanbod van die vyfjaar-stemreg aanvaar en op die plek wil skik.

Teen hierdie tyd lê De Aar lankal agter hulle. Nou sukkel die trein opdraand na Noupoort, op Noord-Kaapland se belangrike waterskeiding, byna 5 000 voet bo seespieël. Toe hy laas in hierdie wêreld was – op ‘n reis na Basoetoland – was die Groot Karoo groen van die reën.(27) Maar kyk hoe lyk die veld nou! Son en ryp het die gras grys geskroei; daar sal nie voor September weiding vir die burgers se perde wees nie. Ook maar goed. Geen oorlog sonder weiding nie – in elk geval geen inval deur die Boere nie.

(27)M se dagboek 3 Apr 1898, Mil (dep 68)

Van Colesberg af is dit tot by die Oranjerivier en die grens die hele pad afdraand. Die trein stoom om vyfuur daardie middag by Bloemfontein in, presies op tyd. Pres. Steyn verwelkom  hulle min of meer soos hy Pres. Kruger sewe uur tevore verwelkom het: met ‘n saluut van 21 slagdoppies onder die spore, en “God Save the Queen”.

Milner spring van die trein af, skoon geskeer, opgewek in sy streepbroek, grys manel en pluiskeil. Dit lyk asof Suid-Afrika aan sy voete lê. Hier is die man, sê die regeringskoerante, wat in die geskiedenis as “die grootste” onder die Engelse onthou sal word. Hy sal Suid-Afrika “vrede met eer” bring.(28)

(28)Sien M-Selborne 24 Mei 1899, MP I, 400. Express (Bloemfontein) 2 Jun 1899

In hierdie tyd is Bloemfontein ‘n verruklike plek, met jakarandas langs die hoofstraat en ‘n skilderagtige ou Britse fort op ‘n koppie. Die dorp se rykdom is gebou op die enkelbaan-spoorweg van die Kaap na die Rand wat in 1892 voltooi is.(29) Dit is dus vanpas dat die konferensie langs die stasie sal plaasvind – in die enigste saal met ‘n ronde tafel wat groot genoeg is vir die dosyn lede van die twee afvaadigings.(30)

29)TH I, 102-3

(30)Express (Bloemfontein) 2 Jun 1899

Toe die verrigtinge op Woensdag, 31 Mei, begin, lyk die voortekens gunstig. Pres. Steyn maak ‘n grappie, miskien nie doelbewus nie. Toe hy die twee manne aan mekaar bekend stel, sê hy “dit, Sir Alfred, is meneer Kruger, van wie u waarskynlik in die koerante gelees het. …” Kruger doen wat van hom verwag word; hy skeer die gek en pomp Milner, volgens die koerante, “met menige skor betuiging van welwillendheid en respek” in die ribbes.(31)

(31)Standard & Diggers’ News 31 Mei 1899

Maar ondanks Steyn se goeie wil, Kruger se goeie humeur en Milner se goeie maniere, sou die afgevaardigdes mekaar nie in Blom,efontein vind nie. Die konferensie, volgens Milner se Militêre Sekretaris, was soos ‘n “palawer met ‘n weerbarstige hoofman”.(32) Dit is nie soos Milner dit sou beskryf het nie.

(32)Maj. Hanbury-Williams-DO 31 Mei 1899, DK 417/275/363

Milner hom miskien in ander opsigte misreken, maar hy wens homself daarmee geluk dat hy die ou man aan die ander kant van die ronde tafel nie onderskat het nie. Kruger is ‘n anachronisme – en ‘n reus. Milner is van plan om die reus met die stemreg te ondermyn. Hy sal Kruger dwing om die Uitlanders se politieke mag “onmiddellik en aansienlik” uit te brei. Dan, en ook maar vir ‘n kort rukkie, sal die ou ondier toegelaat word om weer op sy voete te kom.

Gedurende die eerste dag van die konferensie speel Milner sy rol uitmuntend. Hy wil nie “skuld toesê” in hierdie “betreurenswaardige situasie” waarin die twee lande hulself bevind nie. Maar dit is sy “persoonlike mening” dat die toenemende spanning tussen die regerings deur die ZAR se beleid teenoor die Uitlanders veroorsaak word. Ruim dié probleem uit die weg, dan sal ander uitstaande kwessies vriendskaplik geskik kan word. Hy lê sy hand op sy hart.

Brittanje het geen voorneme om die ZAR sy onafhanklikheid te ontneem nie. Verre daarvan. As die ZAR die Uitlanders net beter sal behandel, sal die Uitlanders ophou om Brittanje om intervensie te vra. Dit sal “die Republiek se onafhanklik versterk” en bowendien die “hartlike betrekkinge wat ons so verlang”, herstel.(33)

(33)K 9404/14-15

Kruger beloof om bondig te praat en bestee die grootste deel van die Woensdagmiddag aan sy antwoord. (Milner daardie aand aan Chamberlain: die ou heer het “vreeslik gedwaal”.)(34) Die kern van Kruger se betoog  is dat die Uitlanders se politieke eise met die ZAR se nasionale regte bots. In ander lande is daar geen gevaar dat nuwe burgers ou burgers oorstem nie. Met gelyke stemreg sal “dié wat ingebring word, binnekort die wette onderstebo keer en doen wat hulle wil en daarmee sal my onafhanklikheid val”. Hy moet die nuweling dus geleidelik inlaat: “As ons hulle môre die stemreg gee, kan ons ewe goed die republiek laat vaar.”

(34)M-C 31 Mei DK 417/261/13894

Weer verseker Milner die vergadering van sy opregtheid. Hy wil die ZAR se onafhanklikheid nie bedreig nie. “Ek wil u bevolking nie verswelg nie,” verklaar hy in ‘n frase wat sy vyande later sal onthou; al wat hy vra, is ‘ n “onmiddellike stem” vir die Uitlanders.(35)

(35)K 9404/15-19

Op Donderdag, die tweede dag, volg die verrigtinge dieselfde patroon: Milner, hoflik en gul, loop oor van opregtheid; Kruger gee niks toe en wen niks nie. Weliswaar teken Kruger punte aan toe iemand na militêre voorbereidings verwys. Wie kan die burgers kwalik neem dat hulle hulself ná die Jameson-inval bewapen het? vra hy. Sy Eksellensie kan hul spoor sedert die Groot Trek volg. Hulle was nooit aanvallers nie, altyd verdedigers. Hulle leef volglens die Woord van God: “ Vervloek is hy wat sy buurman se baken wegneem”.(36) (Maj. Hanbury Williams aan die Intelligensiedepartement: “Die ouo man het regte krokodiltrane oor die Inval gehuil!”)(37)

(36)K 9404/20-1

(37)Maj. Hanbury-Williams-Inligt. Afd. C. 1 Jun 1899, DK 417/275

Maar Milner bring die besprekings spoedig na die stemreg terug en speel nou sy eerste troef. Hy vra Kruger om die Uitlanders se vyfjaar-stemreg terug te gee en dit terugwerkend te maak. Enigeen wat hom voor 1894 in die ZAR gevestig het en genoeg eiendom besit om te k walifiseer – volgens Kruger tussen 60- en 70 000 mans – sal dus die stemreg kry as hy dit wil hê. Kruger antwoord met die ou refrein: die vyfjaar-stemreg is volstrek onmoontlik; dit sal politieke selfmoord van die volk wees.(38)

(38)K 9404/25-7

Op die derde dag, Vrydag, begin die President skiet gee en dit lyk asof die onderhandelinge kan begin. Kruger bring ‘n verrassing. Hy wil Milner sover moontlik i.v.m. die stemreg tegemoetkom, sê hy, en oorhandig “’n volledige hervormingswetsontwerp en al sy klousules en sub-klousules” (soos Milner aan Londen berig) wat hy “die hele tyd in sy sak” moet behad het.(39)

(39)M aangehaal MP I, 418

In ruil hiervoor vra hy Milner se tegemoetkoming op drie belangrike kwessies: skadevergoeding vir die Jameson-inval, die Boere se beheer oor Swaziland en – belangrikste – arbitrasie oor die verskillende vertolkings van die Londense Konvensie van 1884. Nie sonder patos nie, voeg hy by dat hy aan sy burgers moet dink: “As ek moet teruggaan en hulle van sake moet oortuig, moet ek vir hulle kan sê dat iets aan my gegee is in ruil vir wat ek gegee het.”(40)

(40)K 9404/34

As Milner met Kruger wou onderhandel, was dit die gulde geleentheid. Chamberlain het hom ‘n merkwaardig vrye hand gegee. Hy kon Kruger beslis iets aangebied het om sy burgers te gaan wys. Chamberlain het in beginsel ingestem dat die Chartered Company aansienlike skadevergoeding vir die inval moes betaal. Die bedrag moet nog bepaal word. Die ZAR eis £1 677 938 3s. 3d., met inbegrip van £1 miljoen vir “morele en intellektuele skade”.(41) (In werklikheid sou Beit en Rhodes die geld uit hul eie sakke moet betaal, aangesien die Chartered Company sedert die Matabele- en Masjona-opstande feitlik bankrot was.)(42)

(41)TH I, 186-7

42)Selborne vertr. Notule 17 Feb 1898, Sel Kis 9/8

Sowel Swaziland as die arbitrasie-kwessie is ingewikkelder. Maar ook hier sou Milner die President beslis kon gehelp het. Chamberlain het Milner truens spesifiek gemagtig om Kruger i.v.m. arbitrasie te paai.(43)

(43)C-M 5 Jun 1899, DK 417/262 (Af 572/84). Cham het hom vererg. Sien Wilde 110-11

In ruil hiervoor is Kruger se stemregvoorstelle – soos Milner privaat beken het – ‘n “groot vordering””.(44) Kruger is gewillig om die woonkwalifikasie van 14 jaar met die helfte te verminder, tot sewe jaar. Weliswaar opper Milner allerlei soorte besware oor die manier waarop die voorstel in die praktyk sal werk. Dit gee die Uitlanders nie die “aansienlike en monmiddellike” verteenwoordiging wat hy verlang nie. Dit is net gedeeltelik terugwerkend, en die vertraging wissel volgens ‘n glyskaal. Daarby bied Kruger die goudmyndistrikte net vyf uit die 28 setels in die Volksraad aan, teenoor Milner se minimum van sewe.(45)

(44)M-C DK 417/262/14169

(45)Ibid

En tog, kon daardie kloof tussen die twee nie oorbrug geword het nie: vyf jaar vir die stemreg teenoor sewe; sewe setels in die Raad teenoor vyf? Dit kon ongetwyfeld, as dit nie Milner se oogmerk was om Kruger “op te skroef” nie maar om met hom te onderhandel.(46)

(46)Sien H.W. Just se notuele, 4 Jul 1899, DK 417/262

Milner vee Kruger se hervormingsvoorstelle opsy. Dit is ‘ n “Kaffertransaksie”, sê hy – “a Kaffir bargain “. En hy bied ‘n teenvoorstel aan wat die ou man briesend moet gemaak het: wat van ‘n soort selfbestuur vir die Rand?(47) Kruger weet genoeg van Engelse politiek om die ironie hiervan te sien.

(47)K 940438-41

Chamberlain het sy verbintenis met die Liberale verbreek omdat hy in beginsel geweier het om tuisbestuur vir Ierland te aanvaar; nou wil hy tuisbestuur aan die Rand probeer opdwing. Geen wonder Kruger het die aanbod van die hand gewys nie. Die Uitlanders is “soos stout kinders”, sê hy. “As jy hulle ‘n vinger gee, wil hulle die hele hand hê, dan  ‘n arm, dan ‘n kop, en dan kou hulle die hele lyf stukkie vir stukkie op.”(48)

(48)MP I, 418-19

Dit is nou Saterdag, die vierde dag van die konferensie, en dit is nog steeds skaakmat. Milner het tot die vroeë oggendure gesit en werk aan ‘n eindelose lys besware teen Kruger se voorgestelde hervormings. Hy plak dit op die tafel neer en die konferensie word tot Maandag verdaag. Daardie middag kabel hy na Londen: “Dit lyk asof die konferensie gaan misluk … ek was so versoenend as moontlik …”(49)

(49)M-C 4 Jun 1899, DK 417/262

Die volgende dag woon Milner en sy personeel in burgerdrag ‘n diens in die Anglikaanse katedraal by. Die deken se teksvers  is “Geseënd is die vredemakers”. Vir die groot Afrikaner-publiek lyk die konferensie nog steeds na ‘n triomfantlike sukses. “Vrede verseker – Sir A. Milner se staatsmanskap”, lui die opskrifte i n die Standard and Diggers’ News. “Doemprofete verkeerd.”(50)

(50)Standard  Diggers’ News 3 Jun 1899

In werklikheid is Milner teen dié tyd uitgeput deur die spanning van die afgelope paar dae. Hy kon Kruger nie “opskroef” nie, maar ewe min is hy self uitgemaneuvreer. Hy sal die konferensie die volgende dag moet beëindig tensy Kruger skielik alles toegee. Want daar is altyd die gevaar dat Kruger ander skyntoegewings kan aanbied.

“As ons ál langer aangehou het,” beken hy later aan Chamberlain, “sou ons miskien nóg ‘n bietjie en nóg ‘n bietjie gekry het, en elke toegewing sou as baie groot voorgestel gewees het, en dan het ons dit dalk ná so baie toegewings onmoontlik gevind om die verrigtinge te beëindig en tog ontdek dat ons ‘n hol skema het.”(51)

(51)M-C 14 Jun 1899, MP I, 423-4

Milner se waarskuwing dat hy die konferensie moontlik sal moet beëindig, bereik Chamberlain eers die Sondag. Chamberlain kabel onmiddellik terug: “Ek hoop u sal nie haastig onderbreek nie. Boere verstaan nie vinnige besluite nie. … ek is allesbehalwe oortuig dat die President sy laaste aanbod gedoen het, en u moet besonder geduldig wees en baie gekibbel toelaat voor u die spel eindelik laat vaar.”(52)

(52)C-M 5 Jun 1899, DK 417/262 (Af Suid 572/83-4)

Maar voor die kabel Milner kan bereik, het die gordyn reeds in Bloemfontein gesak. Met trane in sy oë het Kruger vir die laaste keer daar gestaan en weer gesê: “Dit is my land wat julle wil hê!”(53) Milner het die verrigtinge afgesluit met woorde wat ingeligte mense sou laat koud word het: “Hierdie konferensie is absoluut verby, en geen verpligting vir enige kant spruit daaruit nie.”(54)

(53)MP I, 407 uit M se aantekeninge oor konferensie. Dié woorde staan nie in K 9404 nie

(54)K 9404/44

Watter lesse het die deelnemers hulle saamgedra toe hulle aan boord van die twee treine terugkeer, die een  noord, die ander suid?

In Milner se oë is die les duidelik. Hy kon Kruger nie vaskeer nie omdat hy hom nie bang genoeg kon maak nie. Nou moet hulle die “oorlogsklem” vasdraai.(55)

(55)M-Gell 18 Jun 1899, Gell 533

Voor die konferensie het hy Selborne privaat gewaarsku dat hulle dit moontlik sou moes doen:

“As ek misluk, sal dit jou beurt wees … gaan onmiddellik tot die diplomatieke offensief oor en rugsteun dit met ‘n sterk (militêre) magsvertoon. … Al die Afrikaners en al die draadsitters sal vir ons gil. … Ek gee nie om nie. My siening is dat [1] absoluut onverbiddelike vasberadenheid plus ‘n groot tydelike magstoename sal verseker dat Kruger afklim. Dit is 20 teen 1. En [2] dat, as dit nie gebeur nie en daar geveg word, dit beter sal wees om nou te veg as oor vyf of tien jaar wanneer Transvaal, tensy aansienlike getalle Uitlanders ingeneem kan word, sterker en vyandiger as ooit sal wees. Brawe woorde, sal jy sê. Maar onthou, ek waag self baie – trouens alles.”(56)

(56)M-Selborne 17 Mei 1899, MP I, 384-5 (wesenlike” fout vir “militêre”?)

Wat wou Milner presies hê? Hy wou hê die Departement van Verdediging moet geneneraal Butler as Opperbevelhebber vervang. Hy wou hê dat ‘n klompie bevoegde offisiere gestuur moet word om Kaapse grensdorpe soos Mafeking en Kimberley te organiseer. Hy wou ook hê ‘n oorweldigende mag – militêre deskundiges sou die presiese getal moes bepaal, maar na sy mening kon dit tot 10 000 man wees – moet in die gevaarlike noordelike Natalse driehoek ingestoot word, waar genl. Colley op Majuba verslaan is, sowel om ‘n Boere-aanval af te wend as om as ‘n “onweerstaanbare” politieke hefboom te dien.

Tensy die regte militêre voorsorgmaatreëls voor die krisis getref kon word, kon Engeland nie alleen “in ‘n groterige oorlog betrokke raak nie, maar in veel burgerlike onenigheid daarna”. “Ten spyte van al daardie lawaai,” hou hy nietemin vol dat “ons met algehele vasberadenheid sonder ‘n oorlog of met ‘n skynoorlog sal wen.”(57)

(57)M-Selborne 24 Mei 1899, MP I, 400-2

Milner se advies aan Londen kom kortom neer op gedetailleerde raad i.v.m. drie deurslaggewende militêre kwessies. Ten eenste, hoeveel soldate gestuur moet word om die Kaap en Natal te bewaak. Tweedens, wie hulle moet organiseer en lei. Derdens, hoe ver vooruit hulle gestasioneer moet word. As sy raad gevolg word, verseker hy die Kabinet – allesbehalwe naïef – sal daar geen oorlog wees nie.(58)

(58)Selborne-M 25 Jun 1899, MP I, 445-6

Voorspelbaar genoeg is Kruger minder gerus. Sy wantroue jeens Chamberlain is versterk deur wat hy in Bloemfontein gesien het. Gelukkig is sy millitêre voorbereidings feitlik klaar – afgesien van ‘n belangrike besending Creusot-veldkanonne, 72 van hulle, wat Joubert eers in Julie sou bestel (toe dit klaar te laat was vir hulle om afgelewer te word).(59)

(59)DMI se verslag oor dokumente m.b.t. Schreider se bevele waarop beslag gelê is, DK 417/335/96-113 (Spelfout? Dalk Schreiner?)

Hy weet hy sal ‘n oorweldigende voordeel hê as hy eerste moet toeslaan. Die strategiese sleutel bly egter die Vrystaat. Soos die Kaapse Afrikaners het Steyn by Kruger daarop aangedring om die Uitlanders gul te behandel. Tog twyfel Kruger nie daaraan dat die Vrystaat in geval van oorlog skouer aan skouer met die ZAR sal veg nie. Om hulle ‘n bietjie aan te moedig, stuur hy die Vrystaters nou ‘n halfmiljoen Mauser-patrone.(60)

(60)Hofmeyr-Smuts 17 Jun 1899, SP I, 254-6, MP I, 449, 502

Tog, hoewel hy nou sekerder as ooit is dat ‘n botsing met Engeland onvermydelik geword het, staan die President Smuts nie in die weg nie. En Smuts dink heeltemal anders oor die saak. Dit is kenmerkend van Smuts dat sy ondervindings in Bloemfontein hom nog hewiger tussen sy hoop op vrede en sy instinktiewe aanvoeling van ‘n dreigende oorlog laat rondslinger het.

Die politikus in hom verklaar nou dat oorlog nog voorkom kan word. “Brittanje sal nooit oorlog maak as sy eers weet hoe die koloniale Afrikaners werklik dink nie,” deel hy Hofmeyr mee. ‘n Vertoon van Afrikaner-eenheid – wat  terselfdertyd diskreet genoeg moet wees om nie “grondige” aanklagte van ontrou te regverdig nie – kan die Britse Regering dwing om sy aggressiewe oogmerke jeens die ZAR te laat vaar.

Want ‘n oorlog kan alleen uit die Kaapkolonie gevoer word, en as die Kaapse Regering en die meerderheid van sy bevolking teen die oorlogspoging gekant is, sal ‘n oorlog onmoontlik wees. Buitendien het Smuts alle hoop dat hy Kruger sal oorreed om guller stemreghervormings voor te stel as dié in Bloemfontein. Dit sal die tapyt onder die Engelse oorlogstokers se voete uitruk.(61)

(61)Smuts-Hofmeyr 13 Jun 1899, SP I, 248-9

En tog, in dieselfde tyd waarin hierdie koel, diplomatieke menings teenoor sy vriende aan die Kaap uitgespreek word, laat die hartstogtelike kant van Smuts se aard sigself geld. “Milner is heuningsoet,” krabbel hy gedurende die konferensie in ‘n briefie aan Lappie (sy troetelnaam vir sy vrou), “maar daar is iets in sy buitengewoon intelligente oë wat my sê dat hy baie gevaarlik is.”(62)

(62)Smuts-“Lappie” (S.M. Smuts 1 Jun 1899, SP I, 242

Later, toe die konferensie verby is, begin die stukkies van die legkaart inmekaar pas. Die leidraad is Milner – Milner, wat die konferensie minagtend beëindig het, Milner, “veel gevaarliker as Rhodes”. Speel hy hierdie rol in opdrag van Chamberlain of is hy die dryfkrag? Smuts beken dat hy nie weet nie.(63)

(63)Smuts-Hofmeyr 13 Jun 1899, SP I, 245-50

Maar hy sien onheilspellende parallelle tussen die huidige situasie en dié aan die vooraand van Brittanje se eerste anneksasie van Transvaal in 1877: dieselfde “leuenagtige petisies”  om imperiale intervensie, dieselfde uitwendige magte wat oorlog wil bewerkstellig om “die werk van die tyd te verydel”. Dit vervul hom met verontwaardiging om te dink dat hierdie “akademiese niets”, hierdie man wat homself as ‘n “groot imperiale staatsman” beskou, in ‘n oogwenk alles probeer vernietig wat hulle probeer opbou het.(64)

(64)Smuts-Merriman 18 Jun 1899, SP I, 257-8 (“nulle” in oorspr.)

Nou ja, Milner moet op die ou end die prys betaal. Hy het “die gees van die Afrikanerdom” beledig. Dit sal Smuts persoonlike bevrediging gee as hy Chamberlain kan dwing om Milner in oneer terug te roep, soos daardie ander groot Engelse prokonsul, Sir Bartle Frere.(65)

(65)Smuts-Hofmeyr 9 Jul 1899, SP I, 264-5

—oOo—