BO Die Walvis en die Vis

Die Walvis en die vis

 Die Walvis en die Vis

SS Dunottar Castle en die Kaap – 26 November 1899

“My skat, die krisis – dis byna te veel om te verduur – hoe daardie wonderlike Milner dit nog volhou, kan ek my nie voorstel nie, maar hy doen dit en hy behou sy humorsin, wat nou so nodig is, tot die troepe opdaag…”

Lady Edward (Violet) aan Cecil aan Lady Cranborne uit Kaapstad, herfs 1899

— — —

Hoofstuk 14

Die vaart was net so vervelig soos almal verwag het.(1) Die Dunottar Castle het op Saterdag (14 Oktober) ná Kruger se roekelose ultimatum uit Southampton vertrek, te midde van wilde jolyt en wilde gerugte van veldslae.(2) Nou is die passasiers hier op die promenade-dek in rottangstoele, van die wêreld afgesny, die toonbeeld van frustrasie.

(1)J. Atkins Relief of Ladysmith 28

(2)W. Churchill London to Ladysmith 3-4. A. Pollock Seven Generals 1-2

Die Illustrated London News se spesiale kunstenaar skets die toneel: die generaal, Buller, sy massiewe kop onder ‘n seiljag-pet, praat met sy aide-de-camp, Algy Trotter, wat ‘n gestreepte kleurbaadjie dra; agter hulle, ook in ‘n seil-pet, probeer die Morning Post se jeugdige oorlogskorrespondent wenke en inligting uit Buller se staf tap.(3)

(3)Illustrated London News 1899 684-5

Hy is die jong Winston Churchill, en hy vind die vaart “verfoeilik”. “Veertien dae is in tyd van oorlog baie lank,” skryf hy aan sy moeder, “veral in die begin.(4) Sê nou die Dunottar Castle kom in Kaapstad aan en die gevegte is verby, soos baie soldate vrees?(5)

(4)W. Churchill a.w. 2. W.Churchill-moeder 25 Okt 1899, aangehaal in R.S. Churchill se kommentaar by W.S. Churchill II, 1055-6

(5)Repington Vestigia 196. W. Churchill My Early Life 249

Dit was nie Churchill se eie verwagting nie. Hy het nie gedink die Boere sou ná die eerste nederlaag inkalwer nie. Hy het geglo (en hy het dit “op die beste moontlike gesag” verneem) dat Buller se Leërkorps nie voor Kersdag met die veldtog sou begin nie en Pretoria vroegstens teen die einde van Februarie via Bloemfontein sou bereik. Hy self verwag dus nie om voor die lente tuis te wees nie. Maar hy sal darem nog goed betyds wees vir die Derby.(6)

(6)W. Churchill-moeder 25 Okt 1899, MS sit.

By Madeira word die Dunottar Castle vasgemeer – soos haar susterskip die Tantallon Castle, waarop Sir George White drie weke vroeër geseil het – om steenkool in te neem en passasiers af te laai. Daar is ook oorlogskabels uit Engeland: die Boere het albei kolonies binnegeval. In Natal het hulle suid na Dundee opgeruk. In die Kaapkolonie het hulle Cecil Rhodes in Kimberley vasgepen. Die nuus is nie onverwags nie. Buller lyk kalm en afgetrokke.(7)

(7)Dickson Biograph in Battle 2-6. W. Churchill My Early Life 249

Vir Konserwatiewe politici, geakkrediteerde oorlogskorrespondente en selfs Buller se eie  hoofkwartierstaf aan boord – die sg. “brein van die Weermag” – lyk die generaal se afsydigheid byna na arrogansie.(8) Dit is ‘n gles in sy karakter – hewel ‘n mens dit dikwels genoeg as ‘n soort skuheid teenkom – en ‘n gles wat neig om vyande in hoë kringe te maak.

(8)Repington 201, 208. Sien J. Symons Buller in Natal 133

Wat sulke mense miskien veral irriteer, is dat hy by vreemdelinge en veral in die geselskap van gewone werkende mense glad nie teruggetrokke is nie. “As jy  my kan vang, is dit goed, maar ek gaan nie vir jou poseer nie,” het hy spelerig aan die man met die “mutograph” (‘n prototipe van die rolprentkamera) gesê, die man wat die ekspedisie namens die nuwe Biogrlaph Film Company meemaak.

Daarna het Buller die man toegelaat om hom herhaaldelik te “vang”, een keer terwyl hy met sy strikdas en strooihoed onderweg na die barbier oor die dek stap. Hy het selfs die kaptein van die skip, kapt. Rigby met sy wit snor, voor die kamera ingestuur sodat hy ook ‘n beurt kan kry.

“Die generaal is ‘n heer, meneer,” sou die haarkapper die kameraman later meedeel. “Dink net hoe lekker het hy met my gesels.Ja, die hele tyd ek sy hare sny, en toe ‘n man inkom om ‘n pyp te koop en ek hom vra om later terug te kom, sê die generaal: ‘Ag nee, gee hom sy pyp, ek is nie haastig nie.’”(9)

(9)Dickson 10-11, 17 (insl. foto)

So gaan die vaart verby, in die “swaar stilte” van die see, soos Churchill dit noem.(10) Daar is die gewone skeepspele. En vir dié wat (letterlik) die maag daarvoor het, reël kapt. Hughs, Buller se arts, inenting teen ingewandskoors. Afgesien van hierdie afleidings gebeur net twee ander noemenswaardige dinge op die reis. In die eerste plek gewaar die passasiers ‘n walvis wat deur kleur vissies agternagesit word(11) – ‘n ontstellende voorteken vir die Leërkorps.

(10)W. Churchill Ladysmith 3

(11)Repington 195

Die tweede voorval gebeur op Sondag, 29 Oktober, twee dae voor hulle Tafelbaai moet bereik. Voor hulle verlaat ‘n klein vlagskippie – later sou blyk dat sy die Australasian was – die Kaapse waters. Sy verander van koers en kom dig by die Dunottar Castle verby.

Die skippie is seker drie dae tevore uit Kaapstad weg. Sy moet nuus hê. Almal storm na die relings. Buller self kom uit sy private salon op die benededek te voorskyn. Die Biograph kry hom vir die derde keer toe hy sy verkyker na sy oë bring. Daar is groot opwinding aan boord. Wat sal dit wees: Oorlog, ‘n wapenstilstand, oorgawe deur die Boere?(12)

(12)Dickson 15-16. Atkins 33-5. Pollock 4

Terwyl die Australasian teen onverminderde spoed verbybruis, sien die mense op die Dunottar Castle ‘n reuse-swartbord aan haar toulere hang. Daarop het iemand met kryt tamaai letters geskryf: “BOERE VERSLAAN – DRIE VELDSLAE – PENN SYMONS SNEUWEL.” ‘n Geskokte stilte hang op die Dunottar Castle(13) want albei stukkies nuus is sleg: die dood van die generaal en die moontlikheid dat die oorlog verby sal wees wanneer hulle aankom.(14)

(14)Churchill My Early Life 251. Pollock 4

Die tweede bekommernis word spoedig uit die weg geruim. Om 9.15 die Maandagaand, in gietende reën, stoom die Dunottar Castle die Kaapse hawe binne. Terwyl Churchill en die ander oorlogskorrespondente rondskarrel op soek na ‘n Kaapse koerant, word die geheime oorlogskabels in die halfdonker van die dek aan party lede van Buller se staf voorgelees. Onder hulle is White se rapporte. Die fiasko van die slag van Ladysmith en die verpletterende ramp by Nicholsonsnek het maar ‘n paar uur tevore plaasgevind.(15)

(15)Churchill Ladysmith 16-19. Repington 196. Pollock 5

Kort ná nege-uur die volgende oggend, ná die ontskeping, ry Buller in ‘n optog na Government House om Sir Alfred Milner te gaan spreek. Die berigte oor die Natalse rampe is nog nie gepubliseer nie, en die strate van Kaapstad, soos dié van Southampton sestien dae vroeër, hang vol Union Jacks en linte. Weer lyk dit na die tuiskoms van ‘n seëvierende generaal.

Buller speel die rol wat van hom verwag word. Hy ry in ‘n oop landau –genl. Sir Redvers Buller, VC, ‘n dambord van medaljelinte op sy bors, John Buller in eie persoon. Genl. Bulldog. Kaapstad bied hom ‘n Romense triomftog.(16)

(16)Cape Times 31 Okt, 1 Nov 1899

Toe is die spel verby. Om tienuur bereik die optog Government House. Buller word na ‘n klein, streng gemeubileerde studeerkamer vol boekrakke gebring, waar Sir Alfred, sy gesig die kleur van ivoor, hom inwag. White se ontsyferde kabels met vollediger besonderhede van die Natalse rampe word aan Buller oorhandig.(17)

(17)Buller se get RCSAW III, 171. M. Se dagboek 31 Okt 1899, Mil (dep 69)

In die eerste private wat hy ná die landing aan Lansdowne skryf, meld Buller: “Oor die algemeen word gevrees dat die Hollanders (in die Kaapkolonie) binne die afsienbare toekoms in opstand gaan kom. In ons onverdedigbare toestand sal ons feitlik geen weerstand kan bied nie. Ek hoop en glo dat die gevaar aan ons sal verbygaan.”(18)

(18)Buller-L 7 Nov 1899, Lan IV

Het Buller oordryf? Was hy die prooi van ‘n neerslagtigheid wat rampspoediger kon wees as die verbeelde gevare self? So sou dit in die jare wat voorlê vir baie mense lyk, veral vir Milner se bewonderaars.(19) Tog blyk twee feite uit ongepubliseerde dokumente.

(19)Sien TH II, 280-1

In die eerste plek was die gevare volkome werklik. In die tweede plek was dit nie Buller wat swakheid en neerslagtigheid aan die dag gelê het nie. Inteendeel:  Buller het nuwe moed in die bibberende Kaapse garnisoen kom blaas.(20))

(20)Sien Buller-L, 7, 14 Nov, 4 Des 1899, Lan IV. Buller-M c. 5, 7 Nov 1899, Mil 12 (SA 92)

Dit was Milner wat hom nou in ‘n toestand van neerslagtigheid, byna paniek , bevind het. “Dit gaan van kwaad tot erger,” skryf hy in sy dagboek. “Die situasie lyk besonder duister … die swartste van swart dae … alles loop verkeerd.”(21) Aan Chamberlain: “Ek skryf hierdie woorde met bewing, want ons vrees elke uur vir Kimberley.”(22

(21)M se dagboek Okt-Nov 1899, Mil (dep 69)

(22)M-C 9 Nov 1899, MP II, 25

Waarom sou juis Milner, die vuurvreter, terugdeins vir die eerste vlamme van die brand wat hy gestig het? Een verklaring is dat Milner se moreel, altyd in ‘n fyn ewewig, aan die soort skok onderwerp is wat hy die moeilikste aanvaar: vernedering. Sy voorspellings is verkeerd bewys, absoluut verkeerd.(23)

(23)Ibid

Elke nuwe posboot bring nog briewe van gelukwensing van Milner se imperialistiese dissipels. Die oorlog sal die Britse Ryk tot nuwe hoogtes voer. Dit sal die “smeltkroes” wees waarin daardie vier swak stawe Britse metaal in Suid-Afrika – die Kaapse lojaliste, die Natalse lojaliste, die Johannesburgse Uitlanders en die Rhodesiërs – tot imperiale staal saamgegiet sou word, sou saamsmelt met sterker metale uit die vaderland.(24)

(24)Parkin-M 31 Okt 1899, Mil 17 (SA 31). Sien ook Wyndham-M 13, 27 Okt 1899, Mil 17 (SA 31)

Maar in Milner se politieke chemie was daar min ruimte vir foute. Om te slaag, moet die staal gou klaar gegiet word.(25) Nou sien Milner niks as maande van rampe voor hom uitstrek nie.

(25)Sien Le May British Supremacy 36-7

Die gedagte dat White se garnisoen, wat in Ladysmith vasgekeer is, gedwing kan word om oor te gee, is vir hom skrikwekkend. Selfs as hulle kan uithou, dink hy, staan die Boere ‘n baie goeie  kans om Durban te bereik.Enige van die twee gebeure sal Britse prestige ontsettende skade berokken en ‘n skokgolf deur die wêreld stuur.

Tog is Milner nog meer ontsteld oor die gevare in die Kaapkolonie self. Die dag wat hy in sy briewe as die “swartste van swart dae” beskryf het, was 4 November. Dit was toe hy gehoor het dat die Boere hulle nie gaan tevrede stel met die beleëring van grensdorpe nie. Mafeking in die verre noorde en Kimberley sou nie genoeg wees nie. Hulle het die Oranjerivier oorgesteek en ruk nou na die hart van die Kaapkolonie op, die platteland.(26)

(26)M se dagboek 4 Nov 1899, Mil (dep 69)

Waarom was Milner meer ontsteld oor die inval in die Kaapkolonie as oor die bedreiging van Natal se hoofstad, Durban, en die moontlikheid dat die Boere die hele kolonie tot by die see kon verower? ‘n Geslaagde inval van die Kaap kon ‘n politieke ramp wees wat nie weer ongedaan gemaak sou kon word nie. Nege tiendes van die Natalse setlaars was Engels; hulle trou kon nie verower word nie, selfs al sou die Boere hul land beset.

In die Kaap, daarenteen, was lojaliteit veel verwikkelder. Twee derdes van sy blanke bevolking was Afrikanners. As hulle die kans sou kry, het Milner geglo, sou hulle by die Boere-invallers aansluit. Die ander derde was Engelse, maar nie volbloed-Engelse soos die meeste Natallers nie. In die dae voor die Jameson-inval, toe Cecil Rhodes Eerste Minister was, was hul houding teen Brittanje byna so verdag as dié van die Afrikaners.

Natuurlik het die inval dit verander. En sedertdien het Milner ‘n ongesproke verbond met die Kaapse lojaliste gesluit: hulle moet hulle in sy hande plaas, hulle liggaam en siel aan hom oorgee, en in ruil daarvoor sou hy hulle met die “ganse mag van die Ryk” verdedig.

Die “ganse mag van die Ryk”. Dit was in werklikheid ‘n frase wat Milner uitgedink het om die versterkings te beskryf wat Natal toe gestuur sou word, genl. White se 10 000.(27) Maar wat het hy vir die Kaap gedoen? Toe die oorlog uitbreek, was daar maar omtrent 7 000 Engelse troepe aan die Kaap.(28)

(27)M-Hely-Hutchinson Kb 43. MP I, 461-2

(28)L se memo 3 Okt 1899 aangehaal RCSAW  I, 37

Nou het die Boerekommando’s die twee belangrikste dorpe, Mafeking en Kimberley, ingeperk en bedreig hulle die Engelse gemeenskappe in die oostelike gedeelte van die kolonie.(29) ‘n Mens kan jou Milner se gevoelens voorstel. Sentraal in sy nagmerrie is die woord wat die eerste Britse setlaars in Transvaal ná die Majuba-skikking in 1881 gebruik het: verraad!

(29)SJ 1-6 Nov 1899

Die probleem van Rhodes vererger Milner se ellendes. Die Boere-inval het Kimberley tot simbool van imperiale weerstand in die Kaap gemaak. Kimberley is Rhodes se diamant-hoofstad en Rhodes het hom soos ‘n besetene daarheen gehaas, oënskynlik vasbeslote om alles te verongeluk.

Dit is kenmerkend van die man dat wanneer die verhoog vir ‘n beleg berei word, hy daarheen moet draf; dat hy hom in sy nuwe rol as die aarts-imperialis by wyse van spreke in die Engelse vlag moet wikkel en dat hy – wanneer die oomblik van waarheid aanbreek – daardie vlag moet verraai.

Dit is die waarheid, en Milner vind dit erg ontstellend.(30) Sedert die begin van die beleg bereik ‘n stroom kabels hom uit Kimberley. “My mening,” kabel Rhodes op 5 November, “is dat u Kimberley sal verloor as u nie dadelik van die Oranjerivier  opruk nie.” “Dringende ontsetting nodig,” kabel die burgemeester dieselfde dag.“As lewe van die inwoners gespaar moet word, moet hulp onmiddellik opdaag.”

(30)I.v.m. versekering Buller-M 7 Nov 1899, Mil 12 (SA 92) “Ek skep moed …” En sien Ly E. Cecil-“Tim” 6 1899 Sal (Hat)

“Burgerwag,” kabel een van die finansiers, “kan nie meer langer uithou nie … enkeles reeds oorlede … groot opwinding onder naturelle.” “Jy moet toegee dat die val van Kimberley erg rampspoedig sou wees a.g.v. politiek,” kabel Rhodes op die 7de.(31)

(31)Rhodes-M 5, 7 Nov burgemeester-M 5 Nov, Kimberley MLA 7 Nov 1899 DK 879/62/135-40)

In sy antwoord aan Rhodes probeer Milner hom kalmeer met die soort taal wat Britse offisiere glo vroeër teenoor hul manskappe gebruik het – “U moet volstrek nog ‘n rukkie langer uithou. Dis aaklig om deur kanonne bestook te word. Maar … ek hoop u sal die inwoners se moed opgeskroef hou en nie enkele klaers toelaat om die res te demoraliseer nie. Ontsetting van Kimberley gaan die keerpunt in die hele affêre wees.”(32)

(32)M-Rhodes 7 Nov 1899, DK 879/62/136

Maar Milner wys Buller daarop dat die algemene strekking van Rhodes se afdreiging volkome duidelik is. As hulle nie dadelik ‘n ekspedisie stuur nie, sal hy Kimberley aan die Boere oorgee.

Soos Milner dit sien, word die strategiese situasie dus deur drie faktore oorheers: die gevaar dat Kimberley oorgee; dat die Boere die Britse gemeenskappe van die Noordoos-Kaap aanval; en van ‘n algemene Afrikaneropstand in die Kolonie. Hysmeek Buller om sy Leërkorps in die Kaap te hou, en daarmee bedoel hy al drie infanterie-divisies en die kavallerie-divisie, ens., ens., ‘n totaal van 47 000 man, om die Kaap te verdedig en Cecil Rhodes te red.

In werklikheid, soos ons gesien het, was dit die Departement van Oorlog se plan dat die Leërkorps in die Kaapse hawens moet ontskeep en dan onweerstaanbaar oor die veld na Bloemfontein en Pretoria rol. Wat Milner nou van Buller vra, is:  bly by u oorspronklike plan, maar slaan eers ‘n inval af voor u met ‘n inval begin.(33)

(33)M-Hely-Hutchinson aangehaal 1 Nov 1899 SJ. M-C 23 Nov 1899, DK 879/56/437

Redelik genoeg, op die oog af. Maar wesenlik defaitisties. Volgens hierdie plan was Milner gewillig om nie alleen die garnisoen op Ladysmith op te offer nie, maar die hele Natal behalwe Durban. Want as die Leërkorps in die Kaap moes bly, sou geen versterkings vir Natal gespaar kon word nie. Selfs as ‘n geslaagde opmars na Bloemfontein mettertyd hulp vir die garnisoene in Natal sou bring, is dit skaars denkbaar dat Buller Bloemfontein voor Januarie kan bereik; dit sal waarskynlik langer duur.

Ladysmith het voorrade vir 60 dae – tot die einde van Desember. En die boerekommando’s kan enige oomblik na Suid-Natal opruk, wat deur slegs twee bataljons verdedig word.(34) Hierop was Milner se antwoord: “Ek dink die tyd het aangebreek om (in Natal) roekeloos te wees en alles aan militêre noodsaak op te offer.”

(34)OH I, 196-205. TH II, 286-8

In werklikheid het hy die teendeel bedoel. Sy voorstelle het neergekom op die opoffering van 12 000 Engelse soldate – die gereelde troepe van White se garnisoen – aan die politieke noodsaak om die Kaapse lojaliste te beskerm en bowenal om Cecil Rhodes en sy mede-finansiers uit hul karnaval in Kimberley te red.(35)

(35)M-Buller (c. 5 Nov 1899), Mil 12 (SA 92)

Wat moes Buller van Milner se werkwaardige voorstelle dink? Agter daardie hoekige kaak en die ystergrys moestas was Buller ‘n intens emosionele mens, net so hartstogtelik as Milner self. In ‘n brief wat hy kort ná sy eerste onderhoud in Government House aan sy jonger broer, Tremayne, skryf, bars hy los: “Ek is in die grootste penarie waarin ek my nog ooit bevind het, en die ergste is dat ek in geen opsig self daarvoor verantwoordelik is nie.”(36)

(36)Buller-(broer) Tremayne 3 Nov 1899, DO 132/6/841

Wat staan hom nou te doen? Moet hy na Bloemfontein opruk soos oorspronklik beplan is? Moet hy sy hele leër Natal toe neem? Of moet hy die middeweg volg, die Leërkorps verbrokkel en sy bataljons stuur waar die nood op sy hoogste is?

Teen 4 November het Buller tot ‘n besluit gekom. Hy gaan die Leërkorps verbrokkel. Dit is ‘n pynlike besluit – maar dit was tog seker die korrekte. Buller kon Ladysmith en Natal nie aan hul lot oorlaat nie, en die twee bataljons in Suid-Natal kon die Kolonie nie red nie.(37)

(37)Buller-L 4 Nov VT no 8. Buller-L 7, 14 Nov 1899, Lan IV. Sien Henderson Science o f War 368

Teen dié tyd het ‘n finale kabel van White bevestig dat hy nie meer uit Ladysmith kan losbreek en anderkant die Tugela kan terugval nie. White se kabel bevat ‘n beroep – nie ‘n gekef soos Rhodes s’n nie, maar tog ‘n beroep –om hulp.(38)

(38) White-Buller 1 Nov 1899, Whi 56B

Enkele dae later ontvang Buller volledige besonderhede van Ladysmith se bedenklike toestand. Die rapport word in eie persoon deur genl. French en  kol. (soos hy teen dié tyd was) Douglas Haig afgelewer. Op Buller se versoek het hulle een van die laaste treine gehaal wat die beleërde dorp verlaat het. In die proses is hulle byna doodgeskiet.

Daar is genoeg kos en perdevoer vir twee maande, berig hulle, maar die garnisoen het te min ammunisie vir die vlootkanonne – die enigste kanonne wat by die Boere se LongToms kan kers vashou. Erger nog, die kroepe se moreel is onbetroubaar sedert die nederlae in die veldslae van Ladysmith en Nichlsonsnek, nou  gesamentlik bekend as “Mournful Monday”. Hy gee ook ‘n pynlike uiteensetting van White se mengsel van swakheid en onbesonnenheid.(39)

(39)Sien aanhangsel tot Duff Cooper Haig (Londen 1935) I, 381-2

Intussen het die owerheid in Londen gesnap wat ‘n ontsettende strategiese dwaling White begaan het deur hoegenaamd noord van die Tugela te gaan. Wolseley deel Lansdowne mee dat White afgedank moet word. Op 1 en 3 November kabel Lansdowne aan Buller om te vra of hy die besluit dalk wil steenstaan.(40) In sy antwoord op die eerste kabel weifel Buller: “Ek is nie meer bevoeg om te oordeel as u nie, trouens minder, aangesien ek nie die Natalse rapporte gesien het nie.(41)

(40)L-Buller I, 3 Nov 1899, VT nos 2G en 3C

(41)Buller-L 2 Nov 1899, VT no 3A

Eers op 8 November verneem Buller die volle omvang van Whie se geknoei. Op dieselfde dag kabel hy aan Lansdowne: “French is hier, gesprek bevestig my twyfel oor White se bevoegdheid. Afgesien van klaarblyklike gebrek aan militêre voorsorgmaatreëls lyk dit asof  White swak en weifelend was, sterk onder die invloed van (Ian) Hamilton, ‘n gevaarlike adviseur.(42)

(42)Buller-L 8 Nov 1899, VT no 15B

In ‘n private brief waarin hy hierop antwoord, bevestig Lansdowne dat hy nou met Wolseley saamstem: White moet gaan.(43) Intussen het die beleg van Ladysmith natuurlik begin. White moet dus eers gered word voor hulle hom kan afdank.

(43)Buller-L 11 Nov 1899, Lan IV/25

Hoe vinnig kan ‘n hulpekspedisie Natal bereik? Dit hang van die Leërkorps af, en geen enkele skip van die groot vloot wat dit na Suid-Afrika moet bring, het nog in Suid-Afrika vasgemeer nie, mer uitsondering van die Dunottar Castle. Soos vroeër vermeld, het die beplanning van hierdie luisterryke ekspedisie tot eindelose binnegevegte tussen Lansdowne en Wolseley gelei, en tot neerhalende kommentaar van Lansdowne se eie kollegas in die kabinet.

Die “skandaal”, soos die Eerste Minister dit genoem het, was die verwagte vertraging van vier maande tussen die “druk van die knoppie” en die oomblik wanneer die Leërkorps gereed sou wees om die Boere-republieke binne te val. Nog ses weke is verspil deurdat muile en osse ter waarde van £645 uit alle dele van die wêreld bestel moes word.(44)

(44)Sien hoofst 8. En sien Wolseley se woedende brief W-Ardagh 23 Sep 1899, Ard 30/40/3

Die knoppie is nie voor 22 September gedruk nie. Indien die Departement van Oorlog se rekenkunde betroubaar is, sal die Leërkorps dus nie voor 22 Desember kan beweeg nie.(45) Byna die helfte van die troepe is egter nou op hoë see en, mobiel of nie, hulle sal voor die einde van die maand in Kaapstad wees. Die eerste twee troepeskepe, die Rosling Castle en die Moor moet trouens op 8 en 9 November in Kaapstad vasmeer.(46)

(45)SJ 22 Sep 1899

(46)SJ 9 Nov 1899

Die voorste brigade vam die Leërkorps sal Durban teen die 15de bereik. Daarna sal die res van die 2de Infanteriedivisie volg, o .l.v. lt.-genl. Sir Francis Clery. Dit is die rooster soos Buller dit op 5 November aan Milner uiteensit. En hy voeg enigsins verdrietig by: “Tien dae lyk na ‘n lang wagtyd in so ‘n krisis, né? Vir my lyk dit na ‘n leeftyd.”(47)

(47)Buller-M 5(?) Nov 1899, Mil 12 (SA 92)/86

As Milner nog altyd paniekerig voel oor Kimberley en m aar half oortuig is van die wenslikheid van Buller se plan om Natal self met die 12  000 man te gaan red, lyk die betrekkinge tussen die twee manne verbasend hartlik. ‘n Oorlog bring vreemde bedgenote. Mens sou jou skaars twee manne kan voorstel wat in voorkoms en gedrag meer uiteenlopend is – die generaal, met sy rooi gesig, flegmatig, bruusk, van wie elke sware tred vertroue inboesem; Milner, wat iets van die kloostes en die akademie aan hom het, sy ivore gelaat strak van spanning.

Buitendien het Milner daardie week ‘n private waarskuwing ontvang om lig te loop vir Buller. Een van sy kornuite in die Departement van Oorlog, Fleetwood Wilson, het geskryf om hom te waarsku dat genl. Buller “ontstellend deur (genl.) Butler beïnvloed word. Verb sap*”.(48) *Afkorting van die Latynse frase verbum sapienti: “’n Woord aan die wyse”, d.w.s. “Vir die wyse man is ‘n wenk genoeg”.

(48)Fleetwood Wilson-M 14 Okt 1899, Mil 17 (SA 31)

En tog het Milner en Buller belangrike hoedanighede gemeen. Onder hul heeltemal verskillende uniforms lê sowel patriotisme as ambisie verskuil. Buller en Butler, daarenteen, verskil hemelsbreed, in elk geval in hul optredes.

Butler het elke verdedigingsplan probeer verydel en die kant van Schreiner se Afrikanerbond gekies in hul dwarsboming van Milner se pogings om die Kaap te bewapen. Buller, daaarenteen, het hom hart en siel in sy taak gewerp, in so ‘n mate dat Milner begin vrees het dat sy onomwondenheid ‘n politieke krisis by die militêre rampe sou voeg.(49)

(49)Buller get RCSAW III, 171

Die verdediging van die Kaap word in Milner se oë deur twee verwante feite beduiwel. In die eerste plek neem Schreiner se kabinet ten beste ‘n neutrale houding teen die oorlog aan; in die tweede plek is die meeste van die binnelandse bevolking Afrikaners wat maar te traag by die Republikeinse Boere sou aansluit as hulle die kolonie eers binnegeval het.

In hierdie delikate situasie moet Milner ‘ n “werklik sonderlinge eierdans” (sy eie worode) uitvoer. Hy maak op Schreiener se kabinet staat om die voornemende rebelle in toom te hou. Hy maak op die Kaapse lojaliste staat om die fort te hou en tot die Engelse troepe stelling ingeneem het. Hy moet dus lg. bewapen sonder om eg. te vervreem.

In die praktyk beteken dit dat die koloniale vrywilligers slegs in ‘n paar gebiede uitgeroep kan word – gebiede waar wapens nie in die verkeerde hande kan val nie – en om Engelse troepe nie eens toe te laat in daardie distrikte waar die Afrikaners die waarskynlikste in opstand kan kom nie.(50)

(50)M-Selborne 18 Okt 1899, MP II, 24

Maar sy daaglikse “eierdans” met Schreiner is byna meer as wat Milner kan verduur. In sy hart wens hy hy kan ‘n krisis uitlok en Schreiner dwing om te bedank. Maar hy weet – en hierin steun Chamberlain hom – dat hy voorlopig nie so ‘n handelwyse kan bekostig nie.(51)

(51)M-Selborne 26 Okt 1899, MP II, 25. M-C 11 Okt 1899, MP II, 18

Op die ou end kon Buller en Milner oor die meeste van hul gemeenskaplike probleme tot ‘n vergelyk kom. Die ergste struwelinge met Schreiner gaan oor koloniale vrywilligers, krygswet en naturelle – veral dié in die naturellegebiede en Griekwaland-Oos (vandag Transkei).

Sowel Milner as Buller wil hierdie inboorling van hul eie ontwil bewapen; Boerekommando’s het reeds die naturelledistrikte van Zoeloeland en gedeeltes van Betsjoeanaland binneval en voorrade buitgemaak, o.m. vee. Maar Schreiner hou by die beginsel dat dit uitsluitend ‘n “witmansoorlog” moet bly.(52

(52)M-Buller 6 Nov 1899, MP II, 21. I.v.m. frase “witmansoorlog” sien TH II, 138-40

Bitter skryf Milner aan Chamberlain: “Dit lyk my hy sal liewer sien dat die hele land oorval moet word as dat naturelle hulleself teen blankes moet kan beskerm.”(53)

(53)M-C 24 Nov 1899, DK 879/Af 629/46

Uiteindelik stem Schreiner in dat hierdie naturellegebiede onder Buller se oorkoepelende bevel geplaas word, en Buller reël ‘n ooreenstemmende verhoging in die naturellebelasting.Schreiner laat hom ook oorreed, vir wat dit werd is, om toe te stem tot die proklamasie van krygswet in distrikte wat werklik na die vyand oorgeloop het.(54)

(54)M-Buller 6 Nov 1899, MP II, 21

Met ander delikate politieke kwessies behaal Buller minder welslae. Hy wil hê die Britse vloot moet ‘n algehele embargo – op die invoer van sowel kos as wapens na die Boererepublieke – by die Portugese hawe in Delagoabaai afdwing. Milner steun hom. Maar die Britse kabinet wil alleen tot ‘n wapen-embargo instem en dit lyk maklik om te omseil. Buller wil ook graag nuussensuur in die kolonies instel; hierdie poging word deur Schreiner gefnuik.(55)

(55)Buller get RCSAW III, 171, MP II, 33

In wanhoop stel Buller planne op om die bekendste Boere-agente aan die Kaap te arresteer en hulle per skip na Durban te stuur, ná die kaptein bevele ontvang het om ‘n maand op see deur te bring i.p.v. die gebruiklike drie dae. Maar ná die agente aan boord gebring was en die skip gereed lê om te vertrek, trek Milner kleinkoppie. Die manne word vrygelaat en hervat hul spioenasie.(56)

(56)Buller get RCSAW tap

Dis nou 8 November en toe Milner daardie middag wil uitgaan, hoor hy ‘n gerug dat die Roslin Castle reeds in Tafelbaai vasgemeer het. In werklikheid sien hy geen teken daarvan nie en hy bring ‘n ellendige nag deur (Allerlei angste begin  my meer as ooit tevore ry,” skryf hy in sy dagboek). Die volgende dag laat hy sy perd opsaal.(57)

(57)M se dagboek 9 Nov 1899, Mil (dep 69)

Waarskynlik het hy teen die hange van Leeukop uitgery. Voor hom kan hy die groot boog van Tafelbaai sien lê en agter sy rug, anderkant Tafelberg, die veld, wat 500 myl noordoos na die Oranje strek. Van die rivier tot by die see staan die deur wyd oop – vir die Boere. Dit is die nagmerrie wat deur hierdie moeilike dae op Milner se bors kom sit het.

Maar vandag, soos ‘n skipbreukeling wie se hart in hom opspring wanneer hy ‘n seil op die gesigseinder gewaar, kyk Milner neer op die rooi skoorstene van die Roslin Castle, wat onder hom in Tafelbaai voor anker lê.(58) En aan boord van die Roslin Castle, weet hy, is die No.3 Veldhospitaal en die No.4 Draerskompanie.

(58)M se amptelike dagboek 9-14 Nov inlae M-C 16 Nov 18909, DK 879/ Af 629/136. SJ 9 Nov 1899

Die Roslin Castle is die eerste van die armada wie se maste en skoorstene en takelwerk weldra soos ‘n woud in Tafelbaai sou staan. Suid-Afrika het nog nooit so baie soldate of so baie lynskepe gesien nie. En die Britse Vloot, wat die armada gereël het, het nog nooit so ‘n groot taak onderneem sedert hul seilskepe Lord Raglan en sy 30 000 in 1854 na Scutari in die Krim moes bring nie.

Elke dag wanneer Milner gaan ry, kan hy die nuwe aankomelinge tel. Hy sien die transportskepe wat die tweede infanteriedivisie bring, onder bevel van Sir Francis Clery en onderweg na Natal; daar is die Moor, die Yorkshire, die Lismore Castle, die Harlech Castle, die Manila, die Gurkha, ens. Wat ‘n Homeriese skepelys! Teen 16 November het hulle almal reeds na Durban vertrek.(59)

(59)SJ 9-16 Nov 1899. Sien datumlys OH I, 471-6

Nog bemoedigender, uit Milner se oogpunt, is die aankoms van lt.-genl. Lord Methuen se 1ste Infanteriedivisie, lt.-genl. Sir William Gatacre se 3de Infanteriedivisie en ‘n kavalleriedivisie – almal bestem om die Kaap te kom verdedig.(60)

(60)Ibid

Op 13 November begin die suidoostewind sterk waai (“byna ‘n stormwind”, noem Milner dit), en hy is erg bekommerd oor die transportskepe ter see of dié wat in die hawe voor anker wieg. Die wind waai vier dae lank, maar geen skepe vergaan nie.(61)

(61)M se amptelike dagboek inlae M-C 16 Nov 1899, MS sit

Teen 18 November – nege dae ná die aankoms van die Roslin Castle – het meer as ‘n derde van die 47 000 man van die Leërkorps reeds in Kaapstad ontskeep of na Durban vertrek. Daardie dag besluit Buller dat hy sterk genoeg is om Sir William Gatacre se 3de Infanteriedivisie weer by Noupoort in die noordoostelike gedeelte van die Kolonie te plaas, van waar hulle vroeër onttrek is.(62)

(62)OH I, 285-7. SJ 18-19 Nov 1899

Vir die eerste keer sedert Oktober skryf Milner opgewekte woorde in sy dagboek: “Nogal ‘n opwindende dag. Generaal vasbeslote om na Noupoort terugte jaag. Dit is laat in die nag gedoen.”(63) Milner kan die gode dank. Miskien nog nie in Natal nie, maar beslis in die Kaapkolonie het die Leërkorps die invalsvloed begin stuit.

(63)M se dagboek 18 Nov 1899, Mil (dep 69)

Intussen het Buller in sy hoofkwartier, ‘n klein, onpretensieuse huisie wat hy in Gravestraat gehuur het, wondere verrig.(64) Om ‘n halfdosyn verskillende kommandemente uit vier divisies te improviseer – dit is maar die begin van sy probleme. Genl.-maj. French se kavalleriedivisie word min of meer ongeskonde in die Kaap gelaat.

(64)Kapt. Algy Trotter-moeder 8, 15, 21 Nov 1899, Trot

Maar in die infanteriedivisies moet Buller nie alleen die brigades herindeel nie, maar ook die bataljons binne die brigades, volgens die dae van hul aankoms en volgens sy taksering van die strategiese bedreiging in elke gebied.

Sy leër se tekortkominge, ontdek Buller, is die gevolg van Wolseley se bedenklike beplanning. En dit is bedenklik: ‘n leërkorps wat nog nooit ‘n dag op parade was nie, maar slegs op papier bestaan.(65) Hoe anders kon dit nie gewees het as Buller toegelaat was om vroeër in die jaar na Suid-Afrika te gaan en die veld te berei nie.

(65)Buller se get RCSAW III, 172

Daar is een oorweldigende – en trouens  unieke – kenmerk van ‘n oorlog teen die Boere. Die Boere is feitlik almal berede infanteriste. Die Departement van Oorlog het hom feitlik glad nie aan hierdie feit gesteur nie. Teen 50 000 Mausers in die hande van ongereelde Boerekommando’s was hulle van plan om ongeveer 50 000 Lee-Metfords in die hande van Britse gereelde troepe te plaas. Hieruit, en uit die geweld van Britse grofgeskut, sou die Departement van Oorlog se “stoomroller” bestaan.

Maar die rekenkunde lyk totaal anders as ‘n mens voete tel en nie gewere nie. Die Boere het ses voete – twee vir ‘ n man, vier vir ‘n perd – agter elke Mauser. Daarenteen is slegs ‘n agste van die Engelse berede troepe.(66) Dit gaan dus ‘n mobiele oorlog wees, maar van ‘n vreemde, ongelyke soort: die oorlog van ‘n walvis, soos die een wat van die dek van die Dunottar Castle gewaar is, teen die klein vissies wat dit agtervolg het.

(66)Volgens Buller se raming had hy 54 000 “parate manne” m.i.v. kavalleriste en kanonniers. Buller-L 4 Des 1899, Lan IV. I.v.m “stoomroller” sien TH II, 289

Op sy eie manier besef Buller hierdie feite. Sy plan, toe hy Kaapstad aan die einde van die vorige maand bereik het, was trouens om die Leërkorps algehele nuwe beweeglikheid te gee. Sy plan was om groot getalle ongereelde koloniale troepe te monster – manne wat net so goed soos die Boere kan perdry en skiet – en om sy Leërkorps in die nuwe beginsels van die veldoorlog op te lei.

Intussen moet die osse en mule egter nog aankom (in werklikheid sou hulle nie voor Januarie opdaag nie). Toe kom die rampe: Rhodes in Kimberley vasgekeer, White op Ladysmith. Buller moes alles laat los en gaan  help – die walvis op ‘n reddingstog.(67)

(67)Buller se get RCSAW III, 171-3. Buller-L 14, 21 Nov 1899, SD I, 12-16

“Vandat ons hier aangekom het,” sê hy aan een van sy staflede voor hy op 22 November na Natal vertrek, “was ons nog altyd soos ‘n man wat ‘n lang dagtaak voor hom het, maar verslalap en dus die hele dag vir alles te laat is.”(68)

(68)Buller-Forestier-Walker 20 Nov 1899, aangehaal OH I, 209

Die woorde was raak. Daar w as geen tyd om enigiets deeglik te doen nie. Alles moet geïmproviseer word: kanonne, transport, voorrade en veral staf. Buller se eie hoofkwartierstaf het soos die wind weggedwarrel, soos die Leërkorps self.

Lt.-kol. Charles à Court, wat, as Charles Repington, later ‘n beroemde militêre historikus sou word, is gestuur om die nuwe berede korps – die South African Light House – uit Uitlander-vlugtelinge aan die Kaap saam te stel.(69)

(69)Repington 198-200

Hy het hom uitmuntend van sy taak gekwyt, hoewel Buller ontsteld was om te ontdek dat hy en Villiers, ‘n man wat saam met Jameson aan die inval deelgeneem het, as kolonel aangestel is. Kol. Herberg Miles, die asst.-adj.-genl., word in bevel geplaas van die lewensbelangrike spoorwegknoop De Aar, van waar Lord Byng Methuen se hulpsekspedisie moet vertrek. Maj. Julian Byng, later Lord Byng van Vimy, word uitgestuur om nog ruiters te werf.(70)

(70)Melville Buller II, 66. Buller se get RCSAW III, 173

Toe Buller op die 22ste na Natal vertrek, beskik hy dus nog net oor sy persoonlike staf – sy aide-de-camp en sy militêre sekretaris – vir wat, soos hy reeds besef, die grootste worsteling van sy loopbaan gaan word. Trouens, dit is byna ‘n “onbegonne taak” om White met sy beperkte troepe en tyd tot hul beskikking te red, so het Buller gedink.(71)

(71)Buller-vrou 18 Des 1899, Bull (Crediton)

Ná Buller weg is, versink Milner weer in ‘n depressie. In sy drie weke aan die Kaap het Buller “wondere verrig”, gee Milner self teenoor Chamberlain toe. Hy aanvaar, hoewel teensinnig, Buller se besluit om ‘n derde van die Leërkorps na Natal te stuur. Maar hy wens Buller het nie besluit om die Natalse hulpmag self te lei nie. ‘n Militêr van Buller se talente is nodig om dinge aan die Kaap reg te hou. Wanneer hy weg is, sal hulle maar weer begin “dryf”.(72)

(72)M-C 22 Nov 1899, DK 879/ Af572/437

In werklikheid het Buller se vertrek saamgeval met die verbetering in Brittanje se posisie in Suid-Afrika wat hy so optimisties voorspel het. Die wedren om die invalsvloed te stuit, is feitlik gewonne. In Natal is twee van die drie brigades van Clery se 2de Divisie – sowat 8 000 man – reeds by Estcourt en Mooirivier. Hulle behoort Pietermaritzburg teen die Boere se suidelike opmars te kan verdedig.

Op die westelike grens van die Kaapkolonie het Lord Methuen op 20 November uit sy basis in De Aar vertrek. Hy is nou reeds oor die Oranjerivier, met kos vir vyf dae, en daar word gehoop dat hy binne ‘n week in Kimberley sal wees.

In die middellandse en oostelike distrikte van die kolonie vorder die Boere weliswaar nog steeds. Maar ook hier is die Britse skild net betyds voorgehou. Gatacre se 3de “divisie” – in werklikheid nog nie ‘n brigade nie – slaag sonder moeite daarin om Queenstown te verdedig.

Die ruiterdivisie, o.l.v. French, wat nou weer op die front is, handhaaf die lyn by Colesberg. Die Boere kan miskien deur die bresse glip; dit is vir Milner ‘n nuwe bron van angs. Maar slegs ‘n pessimis sal ontken dat die strategiese situasie dramaties verbeter het.(73)

(73)OH I, 269-70, 215-16, 285-7. Buller-L 14 Nov 1899, Lan IV/31-6 “sake verloop nou beter”

Milner bly ‘n pessimis.(74) Sy humeur word verder versleg deur ‘n aantal klein maar irriterende gebeurtenisse in sy private lewe.

(74)M se dagboek 22 Nov e.v. 1899, Mil (dep 69). Vgl. Buller-L 4 Des 1899, Lan IV en Buller-vrou 2 Des 1899, Bull (Crediton)

Een van sy intiemste vriendinne, mev. Richard Chamberlain, wat onlangs haar man deur die dood verloor het, het pas in Kaapstad aangekom. Normaalweg sou hy verheug gewees het. Mev. Chamberlain is ‘n lewendige vrou, net wild genoeg om haar vir Milner baie aantreklik te maak. Sy is ook ‘n hartstogtelike imperialis (sy het in die hof geboer toe dr. Jameson in Londen verhoor is) en – nog belangriker – sy is die Britse Minister van Kolonies se skoonsuster.

Sy het Milner op verskillende maniere bygestaan. Meermale het sy hom in Londen gaan spreek en die helfte van die nag tête-a-tête in sy kamers in Duke Street omgeklets.(75) Maar sedert haar man haar ontval het, het die intensiteit van haar gevoel vir Milner ‘n ernstige verleentheid geword. Sy ander vriendinne, veral Margot, keur mev. Chamberlain nie goed nie. “Moet tog asseblief, asseblief nie met daardie vrou trou nie – beloof my dit,” skryf Margot.(76)

(75)Moontlik het sy as tussenganger by C opgetree toe M as Hoë Kommissaris aangestel is. M se dagboek 19 Apr, 25 Nov 1896, 15 Mrt 1897 ens., Mil (dep 66,7)

(76)Margot Asquith-M 9 Julie 1900, Mi 29 (SA 32)

Milner verkondig openlik dat hy geen huweliksvoornemens het nie, wat heeltemal waar is. Die berig dat sy hom na Kaapstad agtervolg het, ontstel hom veral omdat party lede van die Chamberlain-familie vermoed dat sy ontrou aan haar man was. Milner stuur vir Joe Chamberlain ‘n private kabel in kode om sy predikament te verduidelik. Hy het haar besoek “nooit in die vooruitsig gestel nie”; hy keur dit af.(77)

(77)Chamberlain, inligting deur familie, PV M-C kodeboodskap s.j., Mil

Terselfdertyd het Violet Cecil, die “Godsgawe”, soos Milner haar genoem het, hom in die steek gelaat. In Oktober het sy Government House verlaat en na Groote Schuur verhuis, waar Cecil Rhodes altyd enige invloedryke Britse besoeker gul ontvang. Sedert Rhodes se gedwonge afwesigheid in Kimberley, tree sy as sy gasvrou op, maar Milner sien har byna elke dag. Gewoonlik daag sy ná tee daar op, en dan gaan hulle lang ente stap. Soms speel hulle tennis (Milner het daarmee begin toe hy as boogskutter nie juis kon vorder nie). Soms gaan hy en Violet saam op die Kaapse Vlakte ry.(78)

(78)M se dagboek 26, 28 Sep, 2, 3, 6, 7, 8, 11, 13, 17, 19 Okt 1899, Mil

Maar daar skort iets in hul verhouding. ‘n Deel van die probleem is Violet, byna 20 jaar jonger as Milner en besonder aantreklik, nie die styfheid van die diplomatieke lewe kan veel nie. Daar was ‘n aaklige aand met Milner en die buitelandse militêre attachés. Almal moes ure lank bly staan. Op die ou end het sy vir Alfred ‘n gesig getrek. Hy het verstaan wat sy bedoel. Sy maak geen geheim daarvan dat sy die diplomatieke lewe verafsku nie.(79)

(79)Ly Milner 4 Des 1899, aangehaal Picture Gallery 149

Daarby het sy pas nog ‘n lastige aspek van haar aard laat blyk – ‘n aanleg vir skinderpraatjies wat minstens ewe verstommend is as Margot s’n.Toe Buller na Natal vertrek het, is daar blykbaar met Milner afgespreek dat so min mense as moontlik van sy bestemming moet weet. Vandaar Milner se verbasing toe Violet op die aand van Buller se vertrek by Government Huse aangesit kom en Milner die opwindende nuus meedeel.

“Jy maak ‘n fout,” is sy eerste kommentaar. Toe vertel sy hom dat sy die nuus by ‘ n jong stafoffier gehoor het. “Nou ja, moet dit nie verder verkondig nie,” antwoord hy kortaf.(80) Hoe kenmerkend van Violet dat sy die mees dig bewaarde geheim van die oorlog uitgevroetel het.

(80)Ibid 146-8. Sien ook MP II, 27 (geïnspireer deur Ly Milner). Ly Milner, aanvaar ek, het M verkeerd verstaan. Sy proteste maak dit duidelik dat hy van Buller se vertrek bewus was. Sien ook M se dagboek 23 Nov 1899, Mil (dep 69)

Enkele dae tevore het Milner ‘n deprimerende stukkie nuus uit Natal gekry i.v.m. een van die jong manne wat hy graag in sy loopbaan wil help: Winston Churchill. Milner het twee welsprekende briewe oor Churchill ontvang – die een van Chamberlain (“hulle sê hy is verwaand. Help hom op die regte spoor…”)(81) en die ander van George Wyndham, die Britse Onderminister van Oorlog. “Hy is ‘n baie pientere knaap en hy bring ‘n onbevooroordeelde gemoed na Suid-Afrika,”(82) het Wyndham geskryf.

(81)C-M 5 Okt 1899, Cham JC 10/9/70

(82)Wyndham-M 13 Okt 1899, Mil 17 (SA 31)

Waarskynlik was daar niks wat Milner meer plesier sou gegee het as om die jong Churchill iets te vertel van daardie hoekie van die imperiale skaakbord waar hulle hul albei bevind nie, hoewel Churchill miskien die meeste van die praatwerk sou gedoen het. Daar was nooit kans daarvoor nie. Churchill het geen dag in Kaapstad verspil nie, maar dadelik na Natal vertrek in ‘n poging om Ladysmith te bereik voor die beleg begin. En nou, ná ‘n onvoorstelbaar dwase voorval waarby ‘n pantsertrein betrokke was(83), is hy as krygsgevange na Pretoria weggevoer.

(83)SJ 15 Nov 1899

Voorlopig het Churchill se belowende loopbaan as oorlogskorrespondent dus blykbaar in ‘n ramp geëindig; terwyl Milner die kans verloor het om aan daardie “onbevooroordeelde gemoed” die agtergrond te verduidelik van die “groot Afrikanersameswering”  om die hele Suid-Afrika in te neem, ‘n sameswering wat die Boere-inval nou skyn te bevestig.(84)

(84)Vir die “sameswering” sien Le May 31-4

—oOo—