Die sleutel draai
Die Tugela-linie en Ladysmith, 12 – 28 Februarie 1900
There once was a general who said: ‘If to Ladysmith you would be led / The key’s in my pocket / The door I’ll unlock it.’ / – But he went back to Chieveley instead
Generaal-majoor Horace Smith-Dorrien se dagboek, 18 Februarie 1900
Uit die dagboek van luitenant Alford, Februarie 1900
Hoofstuk-aanhef Luit. Alford 8 Feb 1900, Alf85
.— — —
Hoofstuk 29
Buller se leër het die Tugela in die teenoorgestelde rigting oorgesteek. Hulle is weer in Chieveley, weer in Frere – die ellendige, bakkende Frere. Weer bloei ‘n tentestad langs die kakie water van die Bloukransrivier en die wrak van die pantsertrein, rooi van die roes ná die somerreën.(1)
(1)Dundonald 138. Treves 92-3. Regt. Dagboek 2nd Devons 11 Feb 1900 Devon & Dorset Regimental Museum. Manskap Key dagboek 11 Feb 1900, (sy) PV
Die kamplewe het sy voordele ná 14 dae se harde beskuit en boeliebief en nagte op die kaal grond. Selfs vir die generaals was daar geen tente nie; en die manskappe kon nooit van onderklere verwissel of selfs hul stewels uittrek nie.(2)
(2)Hubert Gough dagboek Jan-Feb 1900, Gou. Manskap Kennedy dagboek 10-11 Feb 1900, (sy) PV. Manskap Pegum dagboek 10-13 Feb 1900, (sy) PV
Nou is daar regte militêre rantsoene, en Zoeloes kan ‘n deel van die vuil werk doen.”Oem-beng-wei,” sing hulle stadig terwyl hulle blokke hout uit ossewaens gooi. (“Te veel oem-blerrie-wei aan daardie kêrels,” sê ‘n sersant.)(3)
(3)Alford, MS sit. 72-3
‘n Klompie matrose van die Vlootbrigade wat die tyd wou omkry, het die nuwe pantsertrein versier deur dit van skoorsteen tot wiele in ‘n sluier wollerige toue te hul; die offisiere noem dit die Russiese poedel, die manne “Hairy Mary”. Maar op daardie Maandag, 12 Februarie, klink sulke grappies ‘n bietjie flou. Twee maande van bloedige gevegte. En hulle is terug waar hulle begin het – of erger.(4)
(4)Treves 93. Manskap Kennedy dagboek 8-12 Feb 1900, (sy) PV. Sers. Galley dagboek 3-9 Feb 1900, (sy) PV
Drie dae tevore om dagbreek het ‘n gehawende optog Frere binnegestrompel. Hulle was byna 2 000 sterk, geklee in verfomfaaide kakie-uniforms en ‘n vreemde versameling hoede: helms, hardebolkeise en tam-o’shanters. Hulle is die lykgrypers: Uitlandervlugtelinge en Dundee se Indiërs wat as baardraers gewerf is. Hulle moes die laaste gewondes terugbring: 150 ernstige gevalle onder bruin komberse, met hul spesiale toebehore, stewels, knapsak en miskien ‘n fles konfyt en ‘n hom ingemaakte vleis onder die draagbaar se kap.
Die meeste van die gewondes is te geskok of te swaar verbind om te praat. Maar soms tuur ‘n kop by die kap uit en kyk na sy buurman. “Nie verwag om jou hier te sien nie, Tom.” “Dog jy’s oor die wal.” Baie van die manne yl. Een skree dat hy gaan “opgee” en rol onmiddellik van die baar af. Nog een babbel oor die oes en hoe lekker dit is om weer tuis te wees.(5)
(5)Treves 77-83
Hierdie manne is die laaste besendign van die 3 400 ongevalle wat die South Natal Field Force in die afgelope drie maande gely het.(6) Ná Spioenkop het Buller sy troepe meegedeel dat hulle hom die sleutel tot Ladysmith gegee het. Maar waarheen het die deur gelei?
(6)OH I, 268, 470, II, 597-8
Op 5 Februarie het Buller ‘n aanval op Vaalkrans geloods, ‘n reeks koppies langs die Tugela ‘n paar myl oos van Spioenkop. Die ry koppies was ‘n doodloopstraat: daar was geen ruimte om kanonne na die kruin te sleep nie. Op die derde dag van die slag het Buller ‘n krygsraad belê. Al sy generaals het saamgestem dat hulle maar op ‘n ander plek moet probeer. Toe moes Buller, die veerman, sy leër vir die derde keer oor die Tugela teruglei.(7)
(7)Buller SD I, 253. OH II, 408-22. Lyttelton-vrou 1900, Lyt
Die manne wat oor die verslete houtsparre van die pontonbrug stap, het bitter opmerkings oor hul generaal. Ten beste van tye is ‘n leër gesteld op sy vryheid om te kla – in ‘n sekere sin marsjeer ‘n leër op klagtes. Nou voel almal gedemoraliseer.(8) Hulle voel dat al die opofferinge verniet was. Maar om in Buller vertroue te verloor, beteken nog nie dat hulle hul veglus verloor het nie.
(8)Churchill Ladysmith 362
Op 12 Februarie gee Buller die bevel om te begin met die vierde – en vermoedelik finale – poging om Ladysmith te ontset. Die soldate het weinig aanmoediging nodig; hulle is nog “oorgehaal om hierdie ellendige affêre om te kry,” soos sers. Galley dit sou stel. Wat Buller en die sleutel tot Ladysmith betref, “Ek hoop tog hy kry die deur en gebruik dit en probeer nie meer oor die muur klim nie”.(9)
(9)Galley, 3, 9 Feb 1900, (sy) PV
Die vreemde skakel wat Buller, die edelman uit Devonshire, tussen hom en die gewone soldate gesmee het, is miskien deur teenspoed – en foute – verswak. Maar wanneer dit nodig word, hou die ketting nog. Hulle is jammer vir hulself; hulle is ook jammer vir hom. In hul harte glo hulle dat Buller ‘n feitlik onmoontlike taak gekry het. “Buller het nie die manne gehad om die werk te doen nie. … Lord Roberts het hulle almal na die Oranjerivier geneem.”(10)
(10)Bandopnames, PV
So klink die stemme van Engelse oud-gediendes wat meer as ‘n halfuu ná sy dood nog op bandopnames hul trou teenoor Buller wou betuig. En Winston Churchill se opregte mening in daardie tydperk (hoewel hy later van mening sou verander): “Veel is onbegryplik, maar ‘n mens kan veilig sê dat as Sir Redvers Ladysmith nie met sy huidige mag kan red nie, ons van geen ander offisier in die Britse diens weet wat dit waarskynlik sal regkry nie.”(11)
(11)Churchill Ladysmith 366. Vgl. My Earley Life 336
Onder die offisiere is daar baie wat met hierdie mening verskil. Reeds ná Spioenkop het Bron Herbert, korrespondent van die Londense Times, aan sy vader, Buller se neef, geskryf om te sê dat die manne vertroue in Redvers begin verloor.
“Hy is wonderlik dapper en hy is altyd gewillig om die volle verantwoordelikheid vir sy rampe te aanvaar selfs wanneer hulle, soos by Colenso, grotendeels die skuld van ander was. Maar selfs genl. Lyttelton, wat ons hier as die beste brigadier beskou, het ná Spioenkop gesê: ‘My vertroue in Buller lê aan skerwe.’ Moet niemand hiervan vertel nie.(12)
(12)B. Herbert-Dodds 29 Jan 1900, Herb
Herbert kon nie ‘n enkele ordentlike onderhoud met Buller kry nie en is deur Lyttelton onder beskerming geneem, die sjarmante, ambisieuse Lyttelton, Buller se grootste kritikus. Niemand het Herbert geglo dat die taak wat aan Buller opgedra is, onmoontlik was.(13)
(13)B. Herbert-Dodds 25 Jan 1900, Herb. Sien ook Dundonald 138
En selfs Lyttelton het saamgestem dat Buller twee maal soveel soldate sou moes hê om werklik ‘n goeie kans te staan.(14)
(14)Lyttelton-vrou 9 Feb 1900, Lyt 554d
Lyttelton se brigade-majoor, Henry Wilson (later die beroemde veldmaarskalk), het dit ná die aftog van Vaalkrans in sy dagboek gestel: “Arme Sir R.B., dit moet vir hom bitter werk wees, en hulle sal nie by die huis daarvan hou nie, maar Buller is reg. Ek is in my eie gemoed seker dat as ons hier voortveg, ons waarskynlik die wapens sal moet neerlê. Met 15 000 man is dit heeltemal onmoontlik om 8, 10 of 12 000 man uit soveel ritse loopgrawe en slote uit te haal. Ons het minstens 50 000 nodig.”(15)
(15)Wilson dagboek aangehaal Callwell I, 33-4
Ongelukkig vir Buller se reputasie het moderne skrywers hierdie siening van sy probleme oor die hoof gesien en vergeet dat geen ander Britse generaal in die oorlog so ‘n moeilike taak gehad het nie. Hedendaagse skrywers het Leo Amery se siening in The Times History of the War gevolg, ‘n gewigtige, skitterende maar eensydige werk. Amery was ‘n militêre hervormer, ‘n selferkende propagandis, wat Buller gekies het om in sy relaas as simbool te dien van alles wat in die onhervormde Victoriaanse leër belagtig was.
Van Buller se probleme by die Tugela skryf hy: “Byna enige betreklik goedbeplande aanval op enige plek langs die tugela sou geslaag het as dit met die minste spoed en kragdadigheid deurgevoer is” – ‘n asembenewende oordeel deur ‘n 28-jarige verslaggewer wat nooit een van Buller se veldslae kon aanskou of enige verantwoordelikheid in ‘n oorlog gehad het nie.(16)
(16)TH III, 301-2, 549-52
In ‘n oorlog is daar min kortpaaie. Wat die Engelse nou op die Tugela moet hê, is ‘n antwoord op die nuwe en ingewikkelde probleme wat Botha se skitterende defensiewe taktiek en strategie aan hulle gestel het. En Buller, al tas hy ‘n bietjie onbeholpe rond, begin die antwoord vind.
Toe Buller homself daardie dag, 12 Februarie, weer in die stasiemeesterhuis op Frere inrig, voel hy heeltemal opgewek. Die huis is nou versterk met sandsakke en staalplate om die vensters en stoep te beskerm.(17)
(17)Treves 43-4
Ná Vaalkrans, soos ná Colenso, het sy emosies vinnig bedaar. Soos ons gesien het, het hy Roberts per kabel om versterkings gevra.(18) Roberts het hom ‘n afjak gegee. “Ek moet dus vra dat u wel ‘n aggressiewe houding handhaaf maar streng defensief handel. … Die herhaalde verlies van soldate op die Tugela sonder bevredigende gevolge is iets wat ons klein leërtjie nie na kan mik nie.”(19)
(18)Buller-R 9 Feb 1900, RCSAW III, 628
(19)R-Buller 10 Feb 1900, RCSAW III, 629
Miskien het die afjak Buller as’t ware geïnspireer. Hy het in elk geval – tereg – geglo dat ‘n “streng defensiewe” houding vir die Ladysmithse garnisoen noodlottig kon wees. En hy besluit om sy vierde poging via Platrand aan te wend, die rant, in Boerehande, wat Colenso aan die Britse kant van die rivier oorheers.
Die nuwe plan het eenvoudig genoeg geklink.(20) In werklikheid was dit ‘n waagmoedige poging in grotendeels ongekaarte gebied, sowel geografies as takties.
(20)Buller-White 7 Feb 1900, SD I, 505
Die ware sleutel tot Ladysmith was ‘n nuwe stelsel van offensiewe oorlogvoering: die offensiewe teenhanger van die Boere se defensiewe taktiek. Hulle het besef dat die outydse veldslag – dire bedrywe in die loop van ‘n enkele dag – deur die kombinasie van die loopgraaf en die magasyngeweer morsdood gemaak is.
Om ‘n hedendaagse geveg te wen, moes soldate ‘n reeks aaneengeskakelde skermutselinge verduur wat nie alleen oor ‘n groot afstand maar ook oor ‘n groot aantal dae of selfs weke versprei is. Nuwe infanterietaktieke het begin verskyn: die doeltreffende gebruik van die terrein, meer individuele inisiatief, beter maniere van skuil.
Die rol van die artillerie is gerevolusioneer. Die kanonniers kon nie meer net die eerste bedryf van die drama lewer nie. Nee, hulle moes dag ná dag ‘n kruipende bombardement voor die oprukkende infanterie opwerp. Buller was nie al wat die betekenis van hierdie dramatiese venuwings in offensiewe taktiek herken het nie.
Hildyard (die stafkollege-deskundige), Warren (die sappeur) en veral die jonger artilleriebevelhebbers soos kol. Parsons, het Buller se siening gedeel: hulle het trouens gekla oor die traagheid waarmee Buller hierdie teorieë in die praktyk toepas. En almal was dit eens dat die ware “sleutel” tot Ladysmith in die verbetenheid van die Britse voetsoldaat lê.(21)
(21)Buller SD I, 253 para 3. Hildyard get RCSAW III, 247. Warren get RCSAW III, 223-4. Kol. Parsons PRAI XXVIII 503-20. Die beste verslag van nuwe taktieke in ‘n 14-daagse “slag” is verstrek deur maj. A. Hamilton-Gordon PRAI XXVII, 347-64
In die eenvoudige geografiese sin was daar nie soseer ‘n sleutel nie as ‘n dubbele kombinasieslot. Die eerste syfers van die kombinasie was ‘n koppie wat die Engelse “Monte Cristo” noem, aan die Engelse kant van die Tugela.
Die feit dat die rivier ‘n ses myl lange kloof deur die heuwels oos van Colenso sny en die Boere se linkerflank sodoende op die rivier se suidelike oewer isoleer, het vir die Engelse lank aanloklike moontlikhede ingehou. Platrand, die eerste kop suid van hierdie kloof, is in die slag van Colenso taamlik halfhartig deur Dundonald se berede brigade aangeval.
Buller het die moontlikheid van ‘n ernstige aanval op Platrand oorspronklik veral om twee redes verwerp. In die eerste plek was die landskap hier in die ooste heeltemal anders as die oop heuwels in die weste: Platrand is vol skeure en klowe en is in ‘n kombers van doringbome gehul. In die tweede plek is dit maar 500 voet hoog en word dit op sy beurt deur ‘n reeks bosryke rande na die oorse oorheers. Met die 1 000 voet hoë rant van Monte Cristo as hoogtepunt.(22)
(22)Buller get RCSAW III. 174. Sien ook kapt. H. Wilson, 95
Waarom sou hierdie oostelike rante dan nie op hul beurt aangeval word nie?
Sekere historici het later beweer dat dit altyd die klaarblyklike uitweg was. In werklikheid het niemand – selfs nie die slim jong manne soos Winston Churchill of Bron Herbert of ervare generaals soos Lyttelton – in daardie tyd veel hoop in so ‘n moontlikheid gesien nie. Die Engelse was daarvan bewus dat die Boere sedert die slag van Colenso hul loopgraaflinies hier in die ooste aansienlik versterk en uitgebrei het.
Op die 9de skryf Lyttelton pessimisties aan sy vrou: “Wat gaan ons nu doen? … Waarskynlik ‘n aanval van Chieveley op Hlangwane (Platrand), wat suksesvol sal wees, maar ons niks sal help nie.”(23)
(23)Lyttelton-vrou 9, 13 Feb 1900, Lyt 554b, d
Buller se antwoord was: wat kan ons anders doen? Hulle het die frontaanval by Colenso probeer. ‘n Flankaanval uit die ooste is die laaste “ydele hoop” as hulle Ladysmith wil bereik voor die Boere dit inneem.
Hulle moet op hul geweldige oorwig van grofgeskut staamaak, hou Buller vol, en op die nuwe taktiese bedrewenhede van sowel kanonniers as infanterie. Die Boere moet stap vir stap, koppie vir koppie, uitgedruk word. Hul linies moet van Hussar Hill na Cingolo gebreek word, van Cingolo na Monte Cristo, van Monte Cristo na Platrand.
Dit is ‘n logge manier van veg – en foute sou dit nog logger maak. Maar die styl self was ongetwyfeld korrek: dit was die pynlike prototipe van enige moderne oorlog.(24)
(24)Sien genl. Langlois Lessons HMSO (1909)
Hussar Hill se bruin, grasbedekte hellings golf in die veld sowat vier myl noord van Chievely. Dit is genoem na ‘n groepie van die 13th Hussars wat ses weke tevore daar betrap is en twee manskappe verloor het.(25) Die eerste stap is nou gewapende verkenning. Ondanks die groot verbetering in sy veldinligting, waarvoor lt.-kol. Arthur Sandbach (Sandbags) en 40 goed betaalde swart agente verantwoordelik was, twyfel Buller nog oor die beste rigting om op te ruk.(26
(25)Churchill Ladysmith 371
(26)Kol. Sandbach-moeder 3 Mrt 1900, Sand
Op Maandag, 12 Februarie, om agtuur stuur hy ‘n groepie van Dundonald se ongereelde troepe, met inbegrip van lt.-kol. Julian Byng se S.A. Light Horse, om Hussar Hill te verower. Teen die noen volg hy hulle self, neem die wêreld flegmaties deur sy teleskoop waar en beveel die hele mag toe om na Chieveley terug te keer.(27)
(27)Churchill Ladysmith 371-2. Dundonald 139-40. DO Tel SA 3177B aangehaal SJ 12 Feb 1900
Onder hierdie Kaapstadse vrywilligers (die Cockyolibirds, ook genoem “Bingo’s Own”) is ook daardie gedugte jong soldaat/verslaggewer Winston Churchill. Hy ry saam met die kolonel in die agterhoede. Agter hulle bewe die grond van springende stof; die Mausers kan nie so ver skeit nie.
Toe sien Winston dat een van die handjievol ongevalle sy eie jonger broer, lt. John Churchill is, Johan wat, vurig patrioties, per skip na Suid-Afrika gereis en die front daardie oggend bereik het.(28) (“Dit lyk asof hy sy broer se skulde betaal het,” lewer John Atkins kommentaar.(29)
(28)Churchill Ladysmith 372-6
(29)Atkins 270
Gelukkig het John Churchill maar ‘n ligte voetwond opgedoen. Baie verlig om hom buite gevaar te kan kry, stuur Winston hom na Durban, waar hul moeder, Lady Randolph, pas haar tydige opwagting in die Amerikaans-gesteunde hospitaalskip Maine gemaak het.(30)
(30)Churchill Ladysmith 376. R. Churchill I, 511. Manskap Kennedy dagboek 16 Feb 1900, (sy) PV
In die volgende sewe dae word die aanval hervat, teruggeslaan, hervat. Toe die Engelse op die 16de hoor dat French Kimberley ontset het, skree hulle luidrugtig hoerê.(31) Die vertragings in hierdie veldtog word veral veroorsaak deur ‘n gebrek aan water en die buitengewone hitte – 100gF in die skaduwee.(32) Die manne kla oor die hitte, die offisiere oor die vertragings. Soos gewoonlik lyk dit asof Buller hom hoegenaamd nie aan sy kritici steur nie; hy volg sy eie pas.(33)
(31)Buller SD I, 253-4. OH II, 441. SJ 14, 17 Feb 1900, haal Natalse leërstaf-dagboek aan
(32)Luit. Alford 13 Feb 1900, Alf
(33)Maar let daarop dat Lyttelton weens hitte ‘n vertraging gevra het. Lyttelton-vrou 22 Feb 1900, Lyt 555a
Op Woensdag, 14 Februarie, herower die Engelse Hussar Hill nadat Dundonald se manne die kruin bestorm het. Op Donderdag gee Buller sy regterhaakhou: hy stuur Lyttelton se divisie by Green Hill op, die rant tussen Hussar Hill en Cingolo. Grofgeskut word by Hussar Hill opgesleep, en weldra dui die wit rookbolle die voetvolk se vordering aan.
Daar is 34 kanonne op daardie enkele koppie met inbegrip van twee nuwe vyfduimkanonne van die Royal Garrison Ar;tillery wat inderhaas van Engeland gebring is. Algesame het buller 50 swaar kanonne en veldkanonne op die Tugela, teenoor die Boere se agt.(34)
(34)Buller SD I, 254. SJ 12-19 Feb 1900. OH II, 437-46, 429. Treves 92-3. LW ook 6 bergkanonne en 22 masjiengewere
Om die spel ‘n bietjie meer sportief te maak, neem een van die Engelse kanon-offisiere, maj. Callwell, sy stelling langs een van die vyfduim-kanonne in ‘n dekstoel in.(35) Gedurende ‘n Boere-bombardement bad genl. Warren in die opelug; hy kom met ‘n handdoek om die middel uit die bad om van Buller besoek te ontvang.(36) Sulke manewales geen ‘n bietjie kleur aan die kamplewe.
(35) Atkins 272-3
(36)Warren se verslag aangehaal W.W. Williams 354
Teen die Saterdag het die Engelse se houvas op Hussar Hill ‘n stewige greep op vier myl rante oos van Colenso geword: “’n reusagtige regterarm”, in Churchill se frase, “met sy elmboog op Hussar Hill, sy hand op Cingolo, sy vingers, die ongereelde kavalleriebrigade, agter Cingolo”.(37) Nou lê Monte Cristo nog voor.
(37)Churchill Ladysmith 383. Sien ook (Birdwood se) verslag aangehaal Dundonald 142
Welslae is betreklik saai, merk Atkins op. Die stryd om Monte Cristo, wat op die 18de plaasvind, ‘n Sondag, vertoon nie die soort magtelose heldhaftigheid van Colenso en Spioenkop nie. En dit het niks gemeen met die selfmoordaanval op Paardeberg wat Kitchener dieselfde dag 300 myl na die weste loods nie.
Atkins hou die slag van agter dop. Hy hoor die gehate pom-pom. Hy sien silhoeëtte teen die horison. Dit is Hildyard se 2de Brigade – die West Yorks, die East Surreys en die Queens. Teen die oorkantste rant, Green Hill, beweeg Barton se (6de) Fusilier Brigade oor die gebroke en pokdalige grond op die maat van die Scots Fusiliers se doedelsakke. Daar is ‘n yl gejuig, wat deur die manne op Monte Cristo beantwoord word. Hulle het die kop ingeneem.(38)
(38)Atkins 279
Op MonteCristo self gaan dit moeiliker. Lt. Crossman, in bevel van H-kompanie van die voorste bataljon, die West Yorks, het daardie dag sy 23ste verjaardag gevier. Hy skryf:
“Die kop was vreeslik steil en bo-op was daar omtrent 40 of 50 tree regaf krans. Toe ons na die voet van die heuwel aankom, kom Kitchener (die Sirdar se jonger broer, nou in bevel van die 5de Brigade in Natal) na my aan en sê: twee van ons kompanies is byna bo. Julle moet hulle inhaal … anders sal die Boere hulle omkap. … Dit was ‘n aaklige klim. Die hele pad groot rotse en pang, pang, gaan die koeëls en whizz-boem-bur soos ‘n granaat oor jou en daar val ‘n man tot ons dank die Vader eindelik naby die kruin is. Nou toe ek daar kom, word die arme ou Berney dwarsdeur die kop geskiet en Porch kry ‘n kophou.
Daar lê ons toe ‘n ruk en skiet na die Boere wat laat vat. … Toe beweeg ek na die plek waar Gretton geval het en verbind hom. … Die granaat wat sy mond beseer het, het ons albei kop onderstebo gestamp terwyl ek sy hand skud en hom geluk wens dat hy veilig bo gekom het.
“Arme ou slangbek! Hy was woedend dat hulle hom geskiet het en het die vreeslikste taal gebruik. … Op pad ondertoe het ek gaan staan om te kyk hoe hulle arme ou Berney in sy graf sit.”(39)
(39)Luit. G.L. Crossman dagboek 18 Feb 1900, Cros
Twee dae later staan Buller self op die kruin van daardie koppie en kyk deur sy teleskoop na die rye, rye heuwels. Die verowering van hierdie rante, met Monte Cristo as hoogtepunt, het hom baas van die suidelike oewer van die Tugela gemaak. Hy beskik nou oor die hele ses myl lange boog oos van Colenso.
Die Boere het oornag oor die rivier gevlug en alles agtergelaat: pom-pom-koeëls, sakke meel, Statebybels. Die verowering van Monte Cristo op die 18de het die loopgraaflinies by Platrand omgetrek; die verowering van Platrand op die 19de, en die swaar kanonne wat op sy kruin geplaas is, open die weg na Colenso.
Dit is ‘n stewige taktiese oorwinning, al het Buller – miskien verkeerdelik – dit nie gewaag om sy voorste troepe te stuur om die vlugtende Boere af te sny nie.(40)
(40)Buller SD I, 253-4/ OH II, 447-53. Warren se verslag W.W. Williams 357. Vgl. Lyttelton-vrou 22 Feb 1900 tap
Die moreel skiet die hoogte in. “Sukses is nou eindelik ‘n besliste moontlikheid,” kabel Churchill aan die Morning Post.(41) Buller stuur vir White ‘n heliogram. Vyftien infanteriebataljons, vuil van die stof en met verflenterde uniforms, belaai met ketels en vuurmaakhout vir hul kamp, skarrel soos insekte oor die doolhof van koppies en valleie wat hulle so lank gefnuik het. Dit is soos ‘n droom.(42)
(41)Churchill Ladysmith 396
(42)Buller-White 21 feb 1900, SD I, 508. OH II, 453. W. Williams 355 haal Barton se verslag aan
Die eerste gedeelte van die kombinasieslot het met ‘n geklang oopgespring. Die probleem is nou hoe om die tweede deel van die slot te laat oopgaan – die gebied tussen die Tugela en Ladysmith. Op Maandagoggend, 19 Februarie, marsjeer twee infanteriekompanies sonder teenstand by die dorp Colenso in en die volgende dag plons Thorneycroft se Uitlanders oor die Tugela en beset die koppies by Fort Wylie. Daardie aand tjoek treine weer deur Colenso se stasie.(43)
(43)Buller-DO tel no 3347D SJ 20 Feb 1900. Dundonald 145. Romer & Mainwaring 59
Nege weke is verby sedert die slag daar plaasgevind het. die geraamtes van kol. Long se artillerie-perde, nog steeds aan mekaar vasgetuig, lê 800 tree van die rivierwal. Soldate wys na die doringboom by die vlak donga waarheen die noodlottig gewonde Freddy Roberts gesleep is.(44)
(44)Treves 106, 104 (foto)
Daar is nou geen teken van die Boere nie, behalwe dat hulle wel af en toe ‘n paar granate afskiet. Maar as hulle die Engelse se opmars wil keer, is albei paaie van Colenso na Ladysmith ideaal daarvoor, sowel die nuwe pad na die noordweste as die ou pad na die noordooste langs die spoorweg. Albei loop tussen hoë heuwels deur, met rye terrasse wat natuurlik verdedigingslinies bied.
Dit was waarom Buller ná die slag van Colenso aan sy vrou geskryf het: “Ek dink heeltemal tussen jou en my dat ek gelukkig was dat ek nie ingekom het nie, want ek sou nie geweet het wat om daarna te doen nie.”(45)
(45)Buller-vrou 18 Des 1899, Bull (Crediton)
Waarom dan na Colenso teruggaan? – ‘n “granaatlokval”, soos John Atkins dit noem.(46) Toe Buller op die 14de van Chieveley weg is, sou hy verby Colenso trek.(47) Van die kruin van Monte Cristo, vyf myl noordoos, kon hy uiteindelik Ladysmith sien wink: die lappie bloekombome en sinkdakke net links van Bulwana.(48)
(46)J. Atkins 287
(47)Sien nota 20
(48)Churchill Ladysmith 395-6
Kol. à Court, een van sy stafoffisiere, het by Buller aangedring om noordwaarts op te ruk: òf noordoos om Monte Cristo òf deur die groot kloof na die noordweste.(49) Buller was maar alte gewillig om een van hierdie roetes te volg. Maar sy inligtingsoffisier, kol. Sandbach, ‘n opgeleide ingenieur, het hulle gaan verken en bevind dat albei buite die kwessie is.(50) Die enigste oorblywende uitweg was om na Colenso terug te keer.
(49)Repington 234-5. Churchill My Eraly Life 227-8
(50)Sandbach MSS Sand
Op die 21ste span die sappeurs weer die pontonbrug oor die rivier – dieselfde hout- en seilkonstruksie wat die leër al vier maal oor die Tugela gedra het – en anker dit bo die snelle stroom waar die Tugela noord om Platrand swenk. Op die 22ste gaan die opmars voort.
Genl.-maj. Arthur Wynne en die Lancashire Brigade (die 11de) word beveel om die koppies drie myl noord van Colenso en ‘n myl bo die val te verower. Volgens White is die vernaamste Boerestelling by Pieterskop, twee myl verder noord, en anderkant Pieters is dit die hele pad na Ladysmith afdraand.(51)
(51)Buller get RCSAW III, 181. SJ 21 Feb 1900 haal Buller se tel no 3373 aan. White-Buller 22 Feb 1900, SD , 509
Kol. à Court is nie oortuig nie. “Nog drie dae se dônerse gevegte in ‘n gat,” merk hy teenoor Sandbach se ondergeskikte op. En aan Winston Churchill, wat ‘n storie vir die Morning Post soek, deel hy die vrolike nuus mee: “Jy kan net sowel in die Colosseum gaan sit terwyl mense uit elke ry sitplekke na jou skiet.”(52)
(52)Churchill My Early Life 338
Die meeste mense glo teen dié tyd egter dat Buller, bygestaan deur Roberts se welslae in die Vrystaat, Botha uiteindelik aan die hardloop het. Roberts self kabel met die nuus dat “klompe spesiale treine” die burgers van Natal na die Vrystaat e.a. dele van die westelike front neem.(53)
(53)Buller RCSAW III, 181
Volgens White se staf het al die Vrystaters nou vertrek. Vandaar Sandbach se optimistiese voorspellinge op die 22ste: baie Boere het die belegmag om Ladysmith verlaat en die kring is nou kleiner … nog net een groot slag, dan is ons in Ladysmith.”(54)
(54)Sandbach-moeder 22 Feb 1900, Sand
Een groot slag. Selfs dit lyk vir Buller te pessimisties want die vorige dag het hy ‘n opgewekte heliogram aan White gestuur. “Ek ruk nou via Pieterskop op. Ek dink daar is net ‘n agterhoede voor my. Die Boerelaer onder Bulwana het vannag getrek. Ek hoop om môreaand by u te wees.”(55)
(55)Buller-White 21 Feb 1900, SD I, 508
*** *** ***
Hulp teen môreaand. Vir die manne van die garnisoen op Ladysmith lyk dit na ‘n onmoontlike droom. Ondanks die reeks bemoedigende heliogramme wat hulle sedert die middel van Februarie van albei fronte ontvang het – ook afskrifte van Roberts se verslae dat hy Kimberley ontset en Cronjé vasgekeer het – is daar ‘n vermoeide, uitgeputte atmosfeer in die garnisoen.
Miskien het almal by die bevelhebber van die garnisoen, Sir George White, aangesteek – onsigbare White, noem hulle hom, omdat hy al so lank in Convent Ridge wegkruip.(56)
(56)C. Hickie dagboek 19, 21, 22 Feb 1900, Hick. Stuart 194, 247, 233-r. Veldmag-bevele Jan-Feb 1900, Ham
“Die beleg duur nou al langer as die beleg van Parys … byna so lank soos dié van Troje,” skryf een van die offisiere. Veertien dae tevore het hulle die beleg se honderste dag gevier. Die volgende dag stuur ‘n Boereheliografis ‘n boodskap van Bulwana: “101 nie uit nie”, en die Manchesters se seiner antwoord blitsvinnig: “Ladysmith kolf nog.”(57)
(57)MacDonald 248
Maar die meeste grappies het flou geword, soos die garnisoen self. Hul emosies is so rou soos die rûe van die uitgehongerde perde en muile. Vier maande lei hulle nou al ‘n “pendule-bestaan” (Violet Cecil se frase);(58) terwyl Buller pogings aanwend om hulle te red, slinger hulle gedurig tussen hoop en teleurstelling. “Buller is ‘n mite,” skryf een man in sy dagboek.(59)
(58)Ly E. Cecil-“Tim” 16 Nov 1899, Sal (Hat)
(59)Kapt. J. Gough dagboek 21 Feb 1900, Gou
“As hy nie gou kom nie, sal hier niemand oor wees om te red nie,” skryf verskeie ander min of meer. Die soldate skryf lankal nie meer opgewekte briewe huis toe nie. “Ons het baie swaar gekry,” sê manskap Steinberg van die 60ste reguit. “Ly feitlik honger. En die stewels en klere is omtrent op en wat oorbly, is gaar.”(60)
(60)Manskap Steinberg Feb 1900, (sy) PV
Selfs kanonnier Netley vertel nie meer stories oor sy “ou vriend Long Tom” nie. Sy dagboek is nou net so saai soos die lewe wat hulle lei: “Dag verby sonder dat iets gebeur het” … “om 3.30 vm. aangetree … alles wel.”(61) Die meeste ander Engelse is selfs minder optimisties. “Die manskappe is nie baie opgewek nie,” sê kol. Rawlinson op 8 Februarie/ “Dit maak my seer om hul treurige, uitgehongerde gesigte te sien. …”(62)
(61)Netley dagboek 1-25 Feb 1900, PV
(62)Rawlinson 8 Feb 1900, Rawl 7
Baie van die offisiere kan dit bekostig om die vleis- en broodrantsoen met duur luukses soos eiers en aartappels aan te vul. Hulle het maar onlangs eers begin honger ly. Maar hulle ly lankal aan vernederingspyne. Teenoor Buller en Buller se leër is daar ‘n bitterheid wat met elke Engelse terugslag eb en vloei.
“Vieslike nuus,” skryf kapt. Gough van die Rifle Brigade ná Spioenkop. “Hoe op aarde kan manne wat hulleself Engelse noem, toelaat dat ‘n spul Hollandse boertjies hulle van ‘n heuwel afskop.”(63)”Dit maak mens siek om daaraan te dink,” sê Dodo Jelf van die 60ste, “dat al daardie lewensverlies en uitstekende werk absoluut weggesmyt moet word omdat ‘n vieslike bangbroekregiment eenvoudig weghardloop. Teen dié tyd is hul bevelhebber waarskynlik voor ‘n krygsraad gedaag en ek hoop vir lafhartigheid geskiet. …”(64)
(63)Kapt. J. Gough dagboek 30 Jan 1900, Gou
(64)Luit. Jelf 29 Jan 1900, Jelf
Dit was die slag om Spioenkop wat die slinger van hoop en wanhoop die kragtigste heen en weer laat swaai het.(65) Van Ladysmith se belanrikste uitkykpunte – Convent Ridge, Observation Hill en Wagon Hill – kan ‘n mens oor die rûe van die omringende heuwels sien, byna soos die skuins blik wat jy uit die coulisse van ‘n teater kry. Die toneelspelers op die verhoog, Buller en sy leër, is hoorbaar maar onsigbaar. “Ek hoor daar word geveg,” skryf kanonnier Netley op 7 Januarie, “dis seker om hulpkolonne wat sy pad deurveg.”(66)
(65)Nevinson 1 Feb 1900, Ladysmith 255-6. 272-3. MacDonald 227-8. Pearse 214-15
(66)Netley dagboek 17 Jan 1900, PV
“Te oordeel na die lawaai wat Buller dag en nag met sy kanonne maak, kry hy groot dinge reg,” sê kapt. Steavenson twee dae later.(67) Op die 23ste skryf Netley: “Sien ons hulpkolonne se soeklig omtrent 25 myl ver die aand – verwag enige oomblik hulle moet opdaag.”(68)
(67)Steavenson 19 Jan 1900, Stea
(68)Netley dagboek 23 Jan 1900, PV. Nevinson Ladysmith 245
Volgens Nevinson, wat teen die bleek blou van die Drakensbergse kranse daarna gekyk het, het Buller se ballon, wat agter Swartkopstyg, “skaars groter as ‘n aasvoël” gelyk. Op die 24ste bestyg Nevinson e.a. korrespondente Observation Hill vir die soveelste keer daardie week om die bombardement van Spioenkop en die rante aan weerskante te aanskou.
Hulle kan die granate tussen die Boeretente aan die voet van die kop sien ontplof, nie net bruin grondfonteine van die langafstandvlootkanonne nie, maar wit donsies skrapnelvuur wat duidelik van Engelse veldkanonne kort agter die rant kom.
In die middag sien Nevinson wat na Wagon Hill gestap het, “’n reeks swart punte” in ‘n verspreide formasie teen die hellings van Spioenkop opkruip.(69) Hulle is duidelik Engelse. Ander korrespondente sien Boere om hul lewens vlug, wavragte vlugtelinge, ambulanse vol Boeregewondes.(70)
(69)MacDonald 225. Nevinson Ladysmith 255
(70)MacDonald 228. Pearse 215
Die volgende dag is daar ‘n vreemde kalmte op Spioenkop. Aanvanklik is dit mistig; dan breek die son deur, maar daar is geen gerusstellende heliograafflitse nie. Deur die teleskope kan die Engelse uit Ladysmith weer swart puntjies sien en dié keer lyk dit asof hulle ongehinderd loopgrawe grawe.
“Ons weet omtrent nie wat om te dink nie,” skryf Nevinson. Teen die middag is daar al heelwat swartgalligheid en teen die volgende dag kan niemand ontken wat dit alles beteken nie. Die Boere se wit tente is op Spioenkop terug.(71)
(71)Nevinson 257
Buller se terugslae by Spioenkop en Vaalkrans en White se eie pessimisme het wel een onverwags goeie gevolg vir die Engelse gehad. White gee nou nie meer voor dat Ladysmith ‘n “veldmag” – ‘n mobiele slaanmag – is nie. Hy aanvaar nou dit is ‘n beleërde garnisoen. Dit kan vreemd lyk dat White hierdie nogal klaarblyklike feit eers na meer as honderd dae wou toegee.
Maar ‘n beleg – en ‘n nederlaag – kan ‘n eienaardige sielkundige uitwerking hê. White het vasgeklou aan die hoop dat hy die rampe van Mournful Monday deur die een of ander groot militêre prestasie kon herstel. Vandaar al die baie foute wat gedurende die beleg gemaak is: die besluit om Bulwana nie in die perimeter in te sluit nie; die besluit om die kavallerie-perde op mielis te voer wat vir die garnisoen ‘n uiters belangrike voedselbron kon gewees het.(72)
(72)Sien Stuart 220-2. White-Buller 28 Jan 1900, SD I, 502
Rawlinson self is verlig om op 30 Januarie van White se hartsverandering te hoor; sielkundig en strategies is dit die keerpunt van die hele beleg. Rawlinson en genl. Hunter het altyd geglo dat dit roekeloos en futiel sou wees om die siekes en gewondes in die dorp te laat en om hul pad uit Ladysmith te probeer oopveg.
Ná Buller se derde terugslag neem White Rawlinson opsy en deel hom mee: “(dat) hy besluit het om die mieliemeel vir die manne te hou en dit nie meer aan die perde te gee nie, dat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat Buller se volgende poging by Bulwana (die vierde poging om Ladysmith te ontset|) sal misluk en dat ons hier sal moet uithou solank as ons voorrade hou.
“Hy het die gedagte van die vlieënde kolonne en die mobiele artillerie laat vaar – ek is baie bly hy besef uiteindelik wat vir my van die begin af duidelik was, nl. dat Ladysmith op sy kos en sy verdediging moet vertrou en dat die garnisoen by hul siekes en gewondes moet bly en dat dit rampsalig kan wees om uit te marsjeer voor ons kanonne en Buller s’n saam kan skiet.”(73)
(73)Rawlinson dagboek 30 Jan 1900, Rawl 7
White se nuwe beleid het twee onmiddellike en dramatiese gevolge vir die garnisoen se kosvoorraad. Die mielies – d.w.s. die oorblyfsels van die oorspronklike miljoen pond – kan aan die manne uitgedeel word. En ook die meeste van die perde kan nou geëet word.(74) Hieroor is die kavalleriebrigade natuurlik erg ontsteld – nie soseer oor die eet van hul perde nie as dat hulle voortaan op dieselfde vlak as die infanterie sal moet veg.
(74)White SD I, 236. White se brief 3 Feb 1900, Whi
Maar wie kan die dwingende rekenkunde van hierdie nuwe reëlings ontken? Hou die kavalleriebrigade, dan moet die garnisoen teen die middel van Februarie weens gebrek aan kos oorgee. Raak daarvan ontslae en hulle kan minstens nog ‘n maand uithou, miskien selfs tot in April.(75)
(75)Gore 104-7. McHugh 199-200. Gilbert dagboek I, 3 Feb 1900, Gil. Sien illustrasie in Nevinson 276
Die garnisoen eet geesdriftig aan hul taai nuwe rantsoene. “Kry elke dag ‘n uitmuntende perdesteik,” skryf kapt. Gough in sy dagboek, “waaraan ek heerlik smul. Het omtrent twee maande laas enige soort groene geproe.”(76) Kapt. Steavenson verkies selfs die nuwe steiks bo die vorige vleisrantsoen: “Niks is so taai soos ‘n ou T.O. (trekos) nie.”(77)
(76)J. Gough dagboek 21 Feb 1900, Gou
(77)Steavenson dagboek 29 Jan 1900, Stea
Daar is meer as perdevleis op die spyskaart. In die spoorwegwerkwinkel stig lt. McNalty van die Army Service Corps ‘n vernuftige fabriek waarin ‘n soort Bovril van perdevleis gemaak word. Hy noem die “Superior Ladysmith Chevril”. Op die etiket verskyn ‘n tekening van ‘n trein met die woorde “Iron Horse”; die etiket bevat ook ‘n nog onheilspellender woord, “Resurgam”. Maar sterk gegeur soos dit is, hou die meeste mense dit binne.(78) Die mieliebrood is minstens so eetbaar as die klinkers wat die manne tot dusver by gebrek aan brood moes inwerk.
(78)Griffith 286. Veldmag-bevele 30-1 1900, Ham
Ongelukkig vir die garnisoen het White nie alleen besluit om die perde op te offer en mielies beskikbaar te stel nie, maar ook om die rantsoene te besnoei. Sodoende kan hy die voorraad tot April rek. Die nuwe basiese rantsoen is een pond perdevleis, maar slegs ‘n halfpond beskuit of mieliebrood, een ons suiker en een-sestiende ons tee.(79)
(79)Vgl. Hickie dagboek 31 Jan 1900, Hick
Dit maak almal mismoedig. “Hulle berei hulle voor,” sê kapt. Steavenson op 30 Januarie, “dat die kos nog 42 dae moet hou. Dit klink hopeloos.”(80)
(80)Steavenson dagboek 30 Jan 1900, Stea
Die moreel sak tien dae later nog ‘n hele ent laer toe White die rantsoene nogmaals verminder, ná Buller se terugslag by Vaalkrans. “Ons verwag om nog drie weke hier te wees,” skryf Steavenson op 10 Februarie, “dan is dit Buller of ‘n hongerdood.”(81)
(81)Steavenson dagboek 10 Feb 1900, Stea
Maar in Ladysmith is daar ook ander maniere om dood te gaan, veral deur siekte. Tifus, disenterie en die ander tradisionele siektes van karige kos en onsindelike toestande doen nou vir die Boere hul werk. Sedert November styg die sterftesyfer elke week en teen Januarie is dit by Intombi, die Britse hospitaalkamp in die niemandsland anderkant seksie D van die perimeter, tien tot 20 per dag.
Elke dag neem die hospitaaltreine vragte slagoffers daarheen – en kom leeg met hul wapperende wit vlae terug. Inwoners vertel ontstellende stories oor Intombi. Dit is moeilik om hierdie gerugte te werlê of te bevestig, want ingevolge die oorspronklike afspraak met Joubert mag geen dorpenaar terugkeer as hy eens na Intombi vertrek het.
“Ek hoor mense slaap op sakke op die grond. Dit moet verskriklik wees,” skryf Gilbert, ‘n plaaslike onderwyser. “Hulle sê daar is ‘n groot loopgraaf en sodra iemand doodgaan, word hy ingegooi en ‘n bietjie sand oor hom gesprinkel.”(82)
(82)White SD I (berig-bylae). Gilbert dagboek 17 Jan 1900, Gil
‘n Natalse vrywilliger wat van Intombi teruggekeer het, is weinig gerusstellender. “Toe sit hulle my in ‘n tent in die veldhospitaal waar daar 40 soldate is en maak my omtrtent net daar dood. Die hospitaal is gebou vir 300 en toe ek daar was, was daar 1 400 pasiënte, met 15 verpleegsters om hulle te versorg. Kos en medisyne was albei baie skaars en die son het soos ‘n bol vuur deur daardie tent gebrand. Dit was hel op aarde. … Hoe dit nou moet lyk (15 Januarie) met 2 000 pasiënte daar kan ek my skaars voorstel.”(83)
(83)H.L. Norton-Smith-neef 15 Jan 1900, Killie Campbell Biblioteek, Durban
Hoe sleg was die geneeskundige reëlings werklik gedurende die beleg? Binne die dorp self was daar drie veldhospitale, die 11de, 18de en 24ste, behalwe die groot hospitaal by Intombi. Statistiek, in elk geval, is goed bygehou. In die vier maande tussen November en Februarie is 10 688 gevalle 13 500 soldate – daar behandel; 55 mense is in dié tyd tragies dood.(84)
(84)White SD I, tap
In die laaste twee maande, toe daar ‘n tifusepidemie was, was omstandighede vanselfsprekend erger. Maar hulle was baie erger as wat nodig was. Geneesmiddels en geneeskundige toerusting is opsetlik van Intombi weggehou. Alle tifuspasiënte moes soontoe gaan. Geen wonder enige kranke wat enigsins kon, het liewer in een van Ladysmith se hospitale gebly.
En om te voorkom dat die pers te veel sien, is besluit dat ‘n siek joernalis (Nevinson is vroeg in Februarie deur die koors platgetrek), toegelaat moet word om in die dorp te bly.(85)
(85)Nevinson 285-90. Donegan 19 Feb 1900, PV
Selfs in die hospitale binne Ladysmith was toestande onnodig sleg. In die middelpunt van hierdie skandaal was kol. Exham, die mediese hoof-offisier, die man wat in die laaste instansie vir die hele garnisoen se gesondheid verantwoordelik was. ‘n Gedetailleerde beskrywing van die beleg deur maj. Donegan, in bevel van die 18de veldhospitaal, bevat die hele saak teen Exham.
Tot in Januarie is Donegan toegelaat om die siekes met jammerlike klein hoeveelhede sago, araroet en brandewyn te troos, maar in daardie maand gelas Exham hom mondeling om niks meer uit te deel nie. Donegan maak beswaar. Dit is fantastiese bevel. Kan hy dit op skrif kry? “U sal van beheer oor u hospitaal onthef word as u weer bevele vra,” antwoord Exham.
Donegan het geglo dat Exham die volgende motief gehad het vir sy beleid om die manne te laat verhonger. “Hy wil graag ‘n bietjie medisyne en geneeskundige middels voorradig hê wanneer die hulpkolonne opdaag en dan voorgee dat hy die (situasie) skitterend gehanteer het, terwyl hy in werklikheid die manne laat verhonger en nie omgee nie. Soos ‘n mens kan sien … is Exham gesteld op die voorkoms en die skyn, niks anders nie.”(86)
(86)Donegan 20 Feb 1900, PV
Exham wou aan die einde van die beleg ‘n oulike lysie voorrade vertoon. Terselfdertyd kon Exham op dié manier van die hospitaalvoorrade onder sy kornuite onder die inwoners, joernaliste en invloedryker offisiere uitdeel.
Exham het Donegan gedwing om hoeveelhede sago en heelparty bottels brandewyn te laat “uitklaar”; dié is dan deur mense in burgerdrag afgehaal, hoewel dit uit die hospitaal se oorkondes gelyk het asof hulle dáár gebruik is.(87)
(87)Ibid
Op 28 Januarie is daar ‘n kenmerkende woordewisseling tussen Donegan en Exham, wat eg. neerskryf ten einde ‘n formele klag by ‘n senior offisier in te dien. Exham: Ek was al self drie of vier maal in die hospitaal rond en die plek lyk nie netjies nie. Donegan: Dis altyd skoon as ek rondstap. Exham: Dis nie netjies nie. Donegan: ‘n Mens kan nie verwag dat ‘n plek met 40 disenterie-pasiënte altyd silwerskoon moet wees nie. Exham: Die manne se uniforms was nie netjies onder hul beddens opgevou nie en hul stewels het rondgelê. Donegan: ‘n Mens kan nie eintlik veel meer verwag nie. Exham: Genl. Buller sal oor ‘n dag of twee hier wees en dan sal hy al dié dinge ondersoek. Donegan: Hy sal in die eerste plek vra of die manne genoeg te eet kry. Exham: Hulle kry genoeg. Donegan: U vergeet, kolonel, dat u my gelas het om die pasiënte geen geneesmiddels te gee nie, maar om dit aan u gunstelinge uit te deel.(88)
(88)Ibid 28 Jan 1900, PV
“Genugtig!” sê Donegan ná een van hierdie onderhoude, “ons het vier dokters vir 120 pasiënte wat oor drie kerke en 36 tente versprei lê, en al wat Exham wil weet, is of die manne stewels in rye staan. Waarom kan die hoofkwartierstaf nie tussenbeide tree nie?”(89)
(89)Ibid 22 Jan 1900, PV
Maar Sir George White wys nooit eens sy gesig in die hospitale nie. En as Hunter, die stafhoof, op inspeksiebesoeke wil gaan, word hy woedend, want vir hom is dit ‘n manier om sy gesag te ondermyn. “Ek is bly om te kan sê dat Hunter vanoggend in die hospitale rond is,” skryf Rawlinson op 11 Februarie, “maar die hoof word so jaloers op hom dat hy dit nie waag om veel van dié soort ding te doen nie.”(90)
(90)Rawkubsib dagboek 11 Feb 1900, Rawl
Soos Exham het White gedurende die beleg in sy eie wêreld teruggekeer, ‘n wêreld wat steeds minder ooreenkomste met die werklikheid toon. Hy praat nog van die vlieënde kolonne, hoewel hy nou al meer as ‘n maand gelede ingestem het dat die perde geslag kan word. Die manne kan skaars vyf myl marsjeer. Maak nie saak nie. Op die ou end sal hulle met vlieënde vaandels uitmarsjeer. As hy sterf, sal sy dood die vernederinge van die beleg help uitwis. Hy is nie van plan om gevange geneem te word nie.(91)
(91)Ibid
Vroeg in die laaste wee van Februarie klink Buller se kanonne nader. Elke aand stuur hy heliogramme om te bevestig dat die vordering wel stadig is, maar tog seker. Een vir een laat die pessimiste in Ladysmith hulself oorreed – of half oorreed – dat hulp nou wel nader kom.
Onder die gewone soldate is daar op 22 Februarie ‘n dramatiese verbeterin in die moreel toe White die volle broodrantsoen herstel: een pond mieliebrood of beskuit.(92)
(92)Gilbert dagboek 14-22 Feb 1900, Gil. Netley, Hickie en Jelf dagboeke 22 Feb 1900 tap
Toe die pendule vir die vierde keer terugswaai, begin die jammerlike, hulpelose blik wat Rawlinson in die soldate se oë gewaar het, plek maak vir ‘n flou glimlag. “Ons lê maar net hier,” sê een van die sterwende tifus-pasiënte by Intombi, “ek dink aan al die lekker kos wat kom.”(93)
(93)Dan Deeves 26 Feb 1900, Deev
White bly diep pessimisties en hou aan om van sy vlieënde kolonne te praat. Op 27 Februarie – in werklikheid die dag van Buller se laaste groot geveg – plaas hy die manne weer op halfrantsoen.(94) Genl. Gordon van Ladysmith omgord sy lendene vir die Laaste Weerstand.
(94)Veldmag-bevele 27 Feb 1900, Ham
—oOo—