Die ligte van Kimberley
Die Westelike Front, Kaapkolonie, 20-28 November 1899
“Aan die onwrikbare wil van die Voorsitter van hierdie Maatskappy (Cecil Rhodes), wie se onblusbare ywer uiting gevind het in die uitdink van maniere … om honger vroue en kinders van voedsel te voorsien … het Kimberley sy behoud te danke.”
De Beers se 12de Jaarverslag, Desember 1900
Hoofstuk-aanhef De Beers se 12de Jaarverslag, Desember 1900, Beer
— — —
Hoofstuk 16
Luit.-genl. Lord Methuen lyk asof hy in sy element is. Hy dra ‘n “Boere-hoed” – ‘n boshoed wat hy êrens op sy omswerwinge raakgeloop het – ‘n kakiebroek, ‘n hemp en pantoffels: “Beslis die mees verslonste man in die kamp,” beweer hy in ‘n brief wat hy huis toe skryf.(1)
(1)Methuen-vrou 19 Nov 1899, Meth
Dit is 20 November. Lord Methuen sit by sy lessenaar in die hoofkwartiertent naby die Oranjerivier. Hy skryf eindelose rapporte en telegramme, hy ondervra sy offisiere oor elke onderwerp onder die son. Muilwaens vir kos en ammunisie, 190 daarvan; perde vir oorlogskorrespondente, vier vir agt van die koerantmanne; bokke vir die stafmenasie, ses. Die telegramme gons, net soos die vlieë wat in die tent rondvlieg.(2)
(2)Ibid 20 Nov 1899, Battersby In the Web 25
Hy werk met ongeveinsde plesier. Buller, die gawe Buller, het hom nie net die 1ste Divisie gegee nie, maar ‘n veldmag. “Methuen se Mag” word dit nou genoem. ‘n Britse generaal het agt jaar laas so ‘n pragtige kommandement gehad. Hier by die Oranjerivier beskik hy oor 8 000 man – die Guards Brigade en die 9th Brigade.
Die Highland Brigade is agtergelaat om sy kommunikasielinies te beskerm. Hy moes sy hoofkolonne 74 myl oor die sanderige veld laat marsjeer. Dit is alles “uiters interessant”. Hulle vertrek die volgende oggend voor dagbreek. Dit sal waarskynlik ses dae duur, en minstens een veldslag kos. Met onkenmerkende grootpratery voeg hy by: “Ek sal Maandag in Kimberley ontbyt.”(3)
(3)Methuen-vrou 18-21 Nov 1899, Meth. OH I, 214
Anderkant die hoofkwartiertente, anderkant die eindelose rye regimentele kloktente, lê wit sand, mul en diep, waarin ‘n mens met elke tree kan wegsak; nog verder die helder blougroen van die wilgerbome wat die Oranjerivier self aandui. Alle ander voorwerpe is net so vaal soos Methuen se kakiebroek, vaal van die stof: die kliphutte van die spoorwerkers, die wildealsbosse en kameeldorings wat die veld spikkel, die akkedisse, die miere, die gesigte van die swart muildrywers – alles is met ‘n digte stoflaag bedek.
Selfs in die lente is die veld hier op die westelike front baie anders as dié in Natal. Die veld is groen, en oral groei madeliefies; hier is dit ‘n wildernis.(4) Methuen ken dit self goed. Hy was al tevore hier, in 1885-1866, toe hy ‘n afdeling van die Light Horse byeengebring het om met genl. Warren in Betsjoeanaland te gaan veg.(5)
(4)Ralph Towards Pretoria 94-7, 151-7. Battersby17-19, 24-5
(5)DNB
Die vorige week het hy sy herinneringe aan die Groot Karoo verfris vanuit die trein wat hom van Kaapstad af gebring het: ‘n klipperige strand, 400 myl breed, die ene ronde plat koppies soos sandkastele. Die verlate landskap strek tot aan die Oranje. Maar daardie dag het dit “soos ‘n stortbad” begin reën – ‘n “heerlike” donderstorm.
Wat ‘n Godgawe, dink Methuen. Voorlopig hoef hy hom nie meer te bekommer oor water vir die manne of weiding vir die diere nie. “Hierdie een maal glo ek dat ek opgewonde is,” skryf hy terwyl die warm reén teen die wande van sy tent plas.(6)
(6)Methuen-vrou 18-21 Nov 1899, Meth
Opwinding is nie ‘n emosie wat Methuen goed ken nie. Hy is iets van ‘n alleenloper. Hy is ‘n groot Engelse landheer. Sy kinderdae het hy in Corsham Court in Wiltshire deurgebring, te midde van die gloed van Rubens- en Reynolds-portrette. Niemand het ooit beweer dat hy ‘n groot generaal is nie. “Nougeset” is die woord wat sy vriende i.v.m. hom gebruik.(7)
(7)L-Buller 10 Nov 1899, Lan
Hy is lank, grof gebou, met ‘n hang-moestas, en hy is geneig om krom te loop. Hy is nie een van Roberts se Indiërs of een van Wolseley se Afrikane nie, ondanks sy diens in Af;rika; hy is te afgetrokke – ‘n sobere, swygsame man. Sy soldate het hom weerklinkend toegejuig toe die Moor elf dae tevore in Kaapstad vasgemeer het, maar dit was, in sy eie woorde, “omdat ek gedurende die hele vaart met feitlik niemand gepraat het nie”.(8)
(8)Methuen-vrou 12 Nov 1899, Meth
Een van sy voordele is sy invloedryke vriende, met inbegrip van sy buurman en mede-magnaat, Lord Lansdowne, die Minister van Oorlog. Maar Lansdowne het onlangs vertroue in hom verloor. Hy het hom betrap dat hy in Augustus i.v.m. die Ierse maneuvers “Boer praat”.(9) Soos Buller, daardie ander Engelse landheer-generaal, het Methuen ‘n sagte plekke vir die Boere van die veld, hoewel hy die skuld vir die oorlog op daardie “skelms in Pretoria” pak.(10)
(9)Sien nota 7
(10)Methuen-vrou 20 Nov 1899, Meth
Lansdowne keur dié houding nie goed nie. Hy is ook bewus van Wolseley se twyfel i.v.m. Methuen. “Paul Methuen is ‘n groot vriend van my,” het hy Buller meegedeel, “en ek het hom nog altyd as ‘n bekwame … soldaat beskou.” Hy twyfel egter of hy “mans genoeg is … om sake in die Kaap gedurende Buller se afwesigheid in Natal aan die gang te hou”.(11)
(11)Sien nota 7
Gelukkig vir Methuen se moraal weet hy nie van Wolseley of Lansdowne se ongunstige kritiek nie. Hy weet net dat drie puik infanterie-brigades aan hom toegesê is en dat dit sy opdrag is om Kimberley te ontset. Sy taak is nie om dit self te beset nie. Hy moet ‘n klompie troepe en kanonne daar plaas, met genoegsame voorraad, en daardie inwoners verwyder wat volgens berigte moeilikheid maak: die vroue en kinders, 10 000 swartes en een noemenswaardige Engelsman, Cecil Rhodes.(12)
(12)Methuen-vrou 21 Nov 1899, Meth. Methuen se get RCSAW III, Q 14147
Buller het Methuen en Clery ontmoet kort ná die Moor in Kaapstad vasgemeer het en hulle meegedeel hoe White se flater en die gevolglike beleg van Ladysmith al sy planne vir die opmars na Bloemfontein verongeluk het. Methuen was uitermate verbaas. Toe hy in Oktober uit Engeland vertrek het, was hy “byna seker dat daar baie min gevegte sal wees”.
Hy het gelag vir genl. Gatacre, die energieke bevelhebber van die 3de Divisie, wat die hele dag memo’s vir sy staf op die tikmasjien sit en uithamer. “’n Mens sou dink,” was sy woorde, “ons is op pad na ‘n tweede Spaanse Seksessie-oorlog.”(13)
(13)Methuen-vrou 22 Okt 1899, Meth
Toe kom hy in die Kaap aan en verneemm van White se ramp. “Almal het baie bedruk gevoel oor die toestand,” rapporteer Methuen aan sy vrou, “maar Redvers (Buller) was puik. Hy het Clery en my in ‘n halfuur meegedeel hoe sake staan: White doodbang, Ian Hamilton mal en French in orde.” French het dieselfde storie teenoor hom herhaal, met gepaste beskeidenheid.(14)
(14)Methuen-vrou 12 Nov 1899, Meth
Terwyl Methuen hier by die Oranjerivier sit, is sy basiese probleem – dit was White se probleem in Natal, dit is die probleem wat die oorlog oorheers – inligting: waar is die vyand en hoe sterk is hy? Hoe sterk is die onsigbare staaldraad wat die pad tussen Kimberley en die Oranje versprer?
Die Oranje: in die reëntyd 200 voet breed, maar nou skaars 70, en so modderig soos die Teems by Windsor. Bo die rivier strek die Oranjerivierspoorwegbrug. Dit is ‘n lomp bouwerk van houtplanke en pas geverfde rooi staal-latwerk. Dit voer die enkelspoorlyn, die Wes-Kaap se lewenslyn, na Kimberley, Mafeking en Rhodesië.
Op een of ander manier het hierdie lewensbelangrike brug in die eerste maand van die oorlog ongeskonde bly staan, hoewel slegs ‘n handjievol Engelse troepe dit bewaak het. Niks toon duideliker hoe beperk die Boere se offensiewe strategie was as dit nie: die Vrystaatse kommando’s is nooit beveel om die brug te beset nie.(15)
(15)Ralph a.w. 139-40. Wilson With the Flag I, 150, 130. Breyt I
Nou is dit veilig; die volle gewig van Methuen se veldmag beskerm dit. Maar die Vrystaatse kommando’s bly daar, êrens in die hittewalms tussen die blougrys heuwels anderkant die rivier. Waar is hulle nou?
Die eerste skermutseling van die oorlog opMethuen se front het ‘n paar dae voor sy aankoms hier plaasgevind. Julian Ralph, korrespondent van die Daily Mail, beskryf dit grafies. Hy het ‘n perdekar gehuur en moedig in die rigting van die veldslag gery.
Hy vind die stasie op die suidelike oewer van die Oranjerivier half verlate; offisiersperde aan die houtreling vasgemaak, tente in tuine opgeslaan, langs die ou paraffienblikke vol blomme (dalk petunias); in die middel van die straat werk ‘n aantal soldate met ‘n heliograaf – iets wat lyk na ‘n skeerspieël wat met ‘n Morse-kode-sleutel verbind is. Daar is omtrent geen ander soldate te sien nie.
Wat beteken dit? “Ons het verneem dat die patrollie deur ‘n groot Boeremag afgesny is, en man en muis op hierdie plek – veldbatterye, infanterie en al – het hulle per trein gaan help.”
Hele swart families staan buite hul hutte, hou hul pienk handpalms op om hul oë te beskerm en tuur oor die rooiwarm veld.(16) Ralph ry anderhalf myl deur die kamp, klater oor die groot rooi spoorwegbrug en bestyg toe ‘n koppie, waarvandaan hy glo alles sou sien.
(16)Ralph a.w. 134-9
Hy sien niks. Of liewer, hy sien ene maj. Hall van die Royal Munster Fusiliers wat lyk asof hy regstreeks uit ‘n Londense voorkamer by hierdie godverlate plek, ‘n koppie vol vuil sandsakke, aangekom het: nie ‘n kriesel stof op sy ongekreukelde leerkamaste nie, elke ster en knopie en gespe blink soos ‘n dame se juwele.
Langs hierdie geheimsinnige verskynsel staan ‘n dosyn soldate, soos die sandsakke is hulle vol vaal stof. Langs hulle staar nog ‘n figuur oor die vlakte, ewe intens, ewe professioneel, ewe fier en regop: ‘n mak volstruis.(17)
(17)Ralph a.w. 139-45
Ook die veld het sy verskynsels, sy spoke. Noord rol dit 50 myl ver, aan en aan, byna tot by Kimberley, met hier en daar vreemde tregtervormige stofwolke wat soos waterdamp daaruit opstoom, dan ‘n galoppende grys perd wie se kop en stert, deur die donker liggaam van die ruiter vanmekaar geskei, soos vlerke op en neer klap. ‘n Spooktrein verdwyn in ‘n onsigbare skeurin die grond.(18)
(18)Ralph a.w. 146-7
Van die werklike skermutseling het Ralph alleen hierdie fantome gesien. Tog het hy e.a. korrespondente die een ding waargeneem wat elke veldslag van die oorlog sou oorheers: onsigbaarheid. Soos hul kollegas in Natal begin hulle besef dat dit in die aard van die nuwe soort oorlogvoering lê – die oorlog van die ruwe rooklose langafstand-masjiengeweer.
Die bestek van daardie geweer het die slagveld vyf of tien myl lank gemaak. Dit en die feit dat die ammunisie rookloos is, maak konvensionele verkenning onmoontlik. Die vyand is ‘n spookleër. En tog maak die vyf patrone in die Mauser se magasyn – en die tien in die magasyn van die Engelse Metford en Lee-Enfield – die gevegte dubbel werklik.(19)
(19)Ralph At Pretoria 29-34. Sien ook G. Henderson Science of War 371-2
Dit was daardie dag so. Toe die treine oor die Oranjerivierbrug terugrammel, sien Ralph hoe ongevalle van kol. George Gough se verkenningspatrollie afgelaai word: lt.-genl. Falconer met ‘n koeël deur sy kop; lt. Wood sterwend; twee ander offisiere en twee manskappe gewond. Dit is die eerste keer dat Ralph die kleur van die oorlog sien – die donker kol op die kakie-unieforms. Dit is ook opvallend dat vier van die ses ongevalle offisiere is.
Die Boere “veg nie volgens die reëls nie”, sê een van die soldate. Ralph kom tot ‘ n ander gevolgtrekking. Daardie blink kentekens, die sterre en knopies en gespes van die beroepsoldaart hoort in die voorkamer. In die helder sonskyn van die veld flits hulle soos heliograwe. Teen ‘n onsigbare vyand is die Britse offisiere byna so opvallend soos rooibaadjies.(20)
(20)Ralp Towards Pretoria 147-8. S.J. 10 Nov 1899. OH I, 213. March Phillipps 7
Dit was die rampspoedige einde van kol. Gough se verkenning van die Boerestellings net voor Methuen se aankoms by die Oranjerivier. Die onmiddellike gevolg was nog groter ontsteltenis by Milner vir die veiligheid van die Britse stellings, selfs so ver suid as die belangrikste spoorwegknoop, De Aar.(21)
(21)M-C 9 Nov 1899, MP II, 25. OH I, 213-4
En Buller het by Methuen aangedring: “In hemelsnaam, volg Symons se voorbeeld in atal en laat die offisiere soos manskappe aantrek. En wees ekstra versigtig by verkenningstogte.” Vandaar die nuwe vaal voorkoms van Methuen se offisiere.(22)
(22)Buller-vrou Nov 1899, Bull (Crediton). SJ 16 Nov 1899
Kol. Gough self sou binnekort in skande na Stellenbosch, die Kaapse hoofbasiskamp, teruggestuur word; die eerste van ‘n lang reeks bevelhebbers met wie dit gebeur (vandaar die frase wat spoedig sou ontstaan, “to be Stellenbosched”). ‘n Mens kan net byvoeg dat Gough die skande nie kon verduur nie. Hy het sy harsings met sy pistool uitgeblaas.(23)
(23)R-L Apr 1900 H & O I, 87-8: “Dit is ‘n baie treurige geval, maar ek hoor Gough het al in 1885 tekens van kranksinnigheid getoon”
Milner se vrese het ongegrond geblyk. Die Vrystaatse kommando’s het nie hul welslae opgevolg nie. En noudat Methuen hier is, waar is die Boere?
Die ontoereikende inligtingsverslae en die ewe ontoereikende kaarte wat in Kaapstad aan hom gegee is, het Methuen laat glo dat die vyand in een van twee posisies sou stelling inneem. Die eerste is ‘n klompie koppies by Belmont, 20 myl verder, waar hulle ‘n laer van ‘n geskatte 1 500 tot 2 00 man het.
Die tweede posisie is oorkant die Modderrivier by die reeks koppies tussen Magersfontein en Spytfontein, 60 myl verder – d.w.s. sowat 10 myl suid van Kimberley. Die vyandelike hoofmag word verwag om by hierdie tweede posisie te wees. Buller het Methuen gewaarsku dat 9 000 man Kimberley beleër. Dit is duidelik dat party van hulle suid sal beweeg om sy opmars te stuit.(24)
(24)Methuen-vrou 18 Nov 1899, Meth. Methuen get RCSAW III, Q 14142. SJ 13 Nov 1899
Ná Gough se ramp het Methuen verskeie patrollies uitgestuur. Sy beste verkenners is die Tigers. Hulle vorm deel van ‘n unieke korps van 200 koloniale verkenners o.l.v. maj. Mike Rimington, een van die spesiale diensoffisiere wat in Julie uitgestuur is. Hulle is Rimington Tigers – Rimington se Tiere – genoem na die tiervelband wat hulle op hul Boere-hoede dra.
Daar is weinig meer as die stukkie vel (en werklikheid luiperdvel) wat hulle van die Boere onderskei, want hulle is òf Afrikaans òf “Kaffer” magtig, en party van hulle ken die distrik so goed soos enige trekboer.(25)
(25)Rimington get RCSAW III, 26-7. March Phillipps 4-5. Chester Master MSS, Ches
Maar alle verkenning word nog steeds deur die langafstand-Mauser belemmer. Op gelyk terrein is konvensionele verkenning trouens onmoontlik, want die beste verkenner in die wêreld kan op ‘n afstand van meer as ‘n myl deur die vyand afgepik word.(26) Methuen het dus slegs die vaagste idee van die vyand se stelling en sterkte.(27)
(26)Burnham Scouting 290-301
(27)Methuen-vrou 18-20 Nov 1899, Meth
Sy tweede probleem (en – weer – een wat Buller in Natal sou teister) is ‘n tekort aan trekdiere. Hy het die spoorweg, en van die spoorweg hang alles af. Op daardie enkele verroeste spoor, 500 myl lank, het elke krat en baal hierdie plek bereik: alles van die grootste veldkanon tot die kleinste geheime wapen, die eksperimentele Marconi-draadloos.
Om ten volle beweeglik te wees, het hy trekdiere nodig om waens oorland te trek. Hy het 190 muilwaens i.p.v. die 367 wat beloof is. Osse het hy glad nie. Osse sal die front nie voor Kersfees bereik nie, want dit is nog maar drie maande sedert die Departement van Oorlog “die knoppie gedruk het”.(28)
(28)SJ 10 Des 1899. Methuen get RCSAW II, Q 1417-52
Methuen het ook ‘ n tekort aan berede troepe. Ook dit is die prys wat hy betaal omdat hy die ekspedisie meer as ‘n maand voor die beplande datum begin het. Buller kon vir Methuen minder as 1 000 ruiters bymekaarskraap: die Tigers, die 9th Lancers en ‘n klompie berede infanterie.(29) Daar is nie baie vlerke in Methuen se sg. “vrieënde kolonne” nie.
(29)Methuen tap Q 14159-12. OH I, 214
Dit is die hindernisse – swak inligting, beperkte beweeglikheid. Methuen baseer sy aanvalsplan op hierdie hindernisse en op die noodsaaklikheid om onmiddellik te begin beweeg. ‘n Wye ompad is sonder die ossewaens buite die kwessie.
Buller het aanbeveel dat hy tot by die Modderrivier langs die spoor bly. Vandaar Methuen se voorneme om ál langs die spoor tot by Kimberley te trek. Die manne sal oorjasse, gewere, kos en ammunisie dra. Die ingenieurs moet die spoor herstel so ver soos hulle gaan. Dan kan die treine swaar voorrade, versterkings en die kos vir Kimberley agterna bring.
As hulle in die nag aanval, sal hulle kompasse gebruik.(30) Die verrassingselement – die wapens waarmee die Britse infanterie in koloniale oorloë al soveel oorwinnings behaal het – moet hulle laat seëvier. Verrassing en Britse moed.(31)
(30)Methuen tap Q 14142-3. OH I, 211-13
(31)Methuen-Buller 2 Des 1899. Bull (PRO) DO 132/15
Daardie aand, Dinsdag 21 November, Rammel Methuen se kolonne, meer as drie myl lank, oor die brug en kampeer op die rivier se noordelike wal. Dit is ‘n helder aand, en koud ná die donderstorm. Die manne kry vure aan die brand. Hulle gebruik die stapels doringtakke wat daardie middag afgekap en daar opgestapel is. Die skerp, aromatiese blourook van doringhoutvure sweef oor die rivier, oor die modderige water wat tussen die sandwalle opgedam het.(32)
(32)TH II, 323-4
Die manskappe sit om die vure en sing. Dit is tradisionele Engelse soldateliedjies, sentimenteel, soms gewaag, soms ironies, soos: “Hiding in the ammunition van / Midst the shot and shelI I’ve been / While my comrades fought as comrades ought / I was nowhere to bee seen / Tarara….(33)
(33)C. Rose-Innes With Paget’s Horse 97 e.v.
Lord Methuen lê in sy tent. Hy hou nie van die gesingery nie. Dit hou hom wakker. Buitendien hou hy daarvan dat soldateliedere patrioties moet wees. ‘n Oorlog moet ‘n hoë morele toon hê. In sy eie tent lê en lees hy Shakespeare se Henry IV, Deel I. Hy is byna by prins Hal se oomblik van glorie: die veldslag.(34)
(34)Methuen-vrou 26 Nov, 2 Des 1899, Meth
Om 4.00 vm., net toe die donker lug begin verbleek, verlaat Methuen se 8 000 hul tente, stapel nog doringtakke op die kampvure om die indruk te wek dat hulle nog in die kamp is en begin noordwaarts deur die sagte wit sand na Kimberley stap.(35)
(35)TH II, 323-4. Foto in J. Cuthbert Scots Guards 3-5
Op daardie oomblik is lt.-kol. Robert Kekewich, bevelhebber van die Kimberley-garnisoen, besig om by die 155-voet hoë leër van die uitkyktoring op te klim. Deur sy teleskoop tuur hy na die suide. Op die veld word alles geleidelik duideliker sigbaar. In die vyf weke van die beleg kom hy elke oggend voor dagbreek hierheen – tensy hy ‘n vinnige aanval teen die Boerestellings moet organiseer.(36)
(36)Kekewich dagboek passim, Kek. O’Meara Kekewich 20, 38
Die uitkyktoring bestaan uit steiers. Dit is bo-op die reuse-staalwiel van Kimberley se belangrikste diamantmyn, De Beers, gebou. Kekewich slaap meermale in ‘n houthut, so groot soos ‘n skeepskajuit, wat hy aan die voet van die toring laat oprig het.(37)
(37)Ibid 20, 64. Wilson With the Flag II, 371
Van heel bo af kan hy tot anderkant die doringdaad sien wat die Vrystaatse grens vier myl na die ooste aandui; na die suide onderbreek die reeks koppies by Spytfontein en Magersfontein, sowat 10 myl verder langs die spoorweg, die uitsig in die rigting van die Oranjerivier, reg onder hom lê die geometriese lyne van Kimberley se vededigingslinies, dertien en ‘n half myl in die omtrek.
Sandsakke beskerm die skanse op hierdie linie. Elke skans is telefonies met die uitkyktoring verbind. ‘n Mens het taai senuwees nodig om daar in die kraaines te staan. Die toring bied ‘n manjifieke uitsig. Dit bied ook ‘n manjifieke teiken vir die boere se 9-ponders. Kekewich het sterk senuwees.(38)
(38)Kekewich get RCSAW III, Q 21889 OH II, 52
Kekewich het feitlik per ongeluk bevel oor die garnisoen aanvaar. Hy is ‘n blote bataljon-bevelhebber, dié van die 1ste Loyal North Lancashire Regiment; ‘n aangename, gesette, onopdringerige kaalkop-kêrel van 45 wat aan die klein oorloggies van die jare tagtig en negentig deelgeneem het sonder om veel aandag te trek. Soos Methuen is hy ‘n ernstige, nougesette soldaat.
Daarby het hy reeds die diplomatieke talente aan die dag gelê watin die volgende maande aan sulke streng toetse onderwerp sou word. Milner het hom in Augustus gestuur om in die geheim verslag oor Kimberley se weerbaarheid te doen; dit is die grootste en rykste stad in die kolonie ná Kaapstad self, en dit lê maar vier myl van die Vrystaatse grens.(39)
(39)DNB. O’Meara 13-15. Kekewich get RCSAW III, Q 218543, 56-61
Kekewich het per telegram laat weet: Kimberley is volkome weerloos.(40) Ondanks dwarsboming deur Schreiner se Kabinet het Milner op grond hiervan gelas dat die dorp deur Britse gereelde troepe versterk word. Kekewich het ‘n halwe bataljon van sy eie North Lancashires gekry; asook ses gedeeltelik verouderde 2-1/2-duim kanonne.(41)
(40)O’Meara 17. Kekewich tap Q 21863
(41)SD I, 160-1. OH II, 47
Drie weke later het die oorlog uitgebreek. In die daaropvolgende dae het die Vrystaatse kommando’s oor die grens gestroom en sowel die spoorweg as die telegraaflyne afgesny.(42) Teen daardie tyd het die plek onder Kekewich se leiding ‘n transformasie ondergaan. Hy voel nie gelukkig oor alle aspekte – en lede – van die garnisoen nie. Maar hy is nou gerus dat Kimberley nie meer weerloos is nie.(43)
(42)SJ 12-18 Okt 1899
(43)Kekewich tap Q 21866-70
Dit is ten beste van tye ‘n kloustrofobiese plek. Soos baie dorpe en stede waarvan die rykdom uit die grond onder hulle kom, is Kimberley se bogrondse ligging maar power. Daar is geen rivier, geen bosse, geen heuwels nie – net ‘n koppie in die sanderige landskap wat die platheid van die veld nog verder beklemtoon.
Die dorp het ‘n klimaat van uiterstes, selfs volgens Suid-Afrikaanse standaarde: in die somer waai stofstorms uit die Kalahari-woestyn in die noordweste; op ‘n winternag kan die wind so koud wees dat ‘n man in die veld kan verkluim. Hier, na hierdie godverlate plek, het die delwers uit alle dele van die wêreld gekom en Suid-Afrika se eerste “boom”-dorp gebou.
Die diamantstormloop het in 1870 begin. Nege en twintig jaar later was daardie koppie ‘n gat; die grootste mensgemaakte gat in die wêreld. Teen hierdie tyd het 90 persent van die wêreld se diamante – ter waarde van £5 miljoen per jaar – uit Kimberley gekom. Dit was weliswaar veel geringer as die £20 miljoen wat die Randse goudmyne elke jaar oplewer, maar Kimberley was die rots waarop die nuwe selfbesturende Kaapkolonie gebou is.(44)
(44)Diamond Fields Advertiser 17 Jul 1971 (Eeufees-bylae)
Dertig jaar lank word die blink blomme nu al hier gepluk. Die groot gat word dieper, die mynhope hoër, die inwoners welvarender en waardiger. Kimberley het ‘n plek van 20 000 blankes en 30 000 swartes en Kleurlinge geword – die prototipe van ‘n kommensiële oase in die woestyn, met ‘n stadhuis in die klassieke styl en ‘n weelderige hotel-sanatorium.(45) Tog is Kimberley in sekere sin maar ‘n skaduwee van wat dit in die dae van die diamantstormloop was.
(45)Lockhart & Woodhouse 46-7, 73-8 ens.
Hoe dieper die diamante uitgegrawe moes word, hoe meer masjinerie, kapitaal en deskundige kennis was nodig. Individuele delwers het dus aan die diamantmaatskappye uitverkoop, en lg. beheer nou sowel produksie as bemarking. Die meeste van die fisieke werk word nou deur swart myners gedoen wat onder kontrak uit alle dele van Suid-Afrika daarheen gebring word.
‘n Parallelle proses, aangepas by die tegniese en finansiële eise van goudontginning op diep vlakke, het ook op die Rand plaasgevind. Maar in Kimberley is die proses ‘n stap verder gevoer. Anders as die Rand, wat deur verskillende groepe buitelandse maatskappye beheer word, het Kimberley in die hande van ‘n enkele finansië reus beland, De Beers.
Op dié manier het De Beers bereik wat die Randse maatskappye die graagste wou hê: algemene beheer oor die betaling en lewenstoestande van hulle swart kontrakarbeid. Hierdie swart myners word byna soos slawe in reuse-kampongs aangehou, met ‘n dak van maasdraad. Vandaar, vir sowel blankes as swartes, die besondere kloustrofobiese aard van die plek.
En daar is meer as die jammerlike kampongs en die mynhope.(46) Daar is ook die skaduwee van die kolos. As besturende direkteur van De Beers (hoewel slegs ‘n minderheidsaandeelhouer) maak Rhodes asof die stad aan hom behoort.
(46)Moffat het die kampong-stelsel egter bo gebrek daaraan op Rand verkies. Sien SA Native Races Committee (dr)
Die skaduwee van Rhodes spook al sedert vroeg September by Kekewich; Rhodes in eie persoon sedert die dag toe die oorlog begin het. Rhodes verskyn by verskeie geleenthede in die openbaar, asof hy die vlag vertoon. Hy maak telkens seker dat hierdie geleenthede die wydste publisiteit kry.
So ry hy te perd na sy groentetuin in Kenilworth. Hy wys sy perde aan die kornuite wat hy van Kaapstad met hom saamgebring het: dr. Smartt en mnr. en haar Edele mev. Rochfort Maguire. Hy dring verby die straat-barrikade en inspekteer die buitenste verdedigingsline, opvallend in sy wit broek, asof hy die Boere-skeprskutters uitdaag om hom af te pik.(47)
(47)Ashe Besieged by the Boers 14-15. Mev. Maguire in Times weeklikse uitgawe Apr 1900. Meintjes De la Rey 102
Aanvanklik is sy verhouding met Kekewich nie onvriendelik nie. En De Beers verskaf, blykbaar met Rhodes se seën, talle dienste aan die garnisoen.(48)
(48)O’Meara 58
Die stad se waterwerke, by Riverton, lê ver anderkant Kimberley se verdigbare buitegrens. En die Boere sny spoedig die pyp deur. De Beers se meganiese ingenieur, ‘n lewendige Amerikaner, George Labram, verbind die stad se voorraad aan die diep fonteine wat aan die maatskappy behoort.(49)
(49)OH II, 53
Daar word geskat dat die stad se voedselvoorraad 70 dae sal hu; deel hiervan is opgegaarde kos in De Beer se besit. Teen hierdie tyd, die middel van November, bestaan die stad se garnisoen uit ‘n indrukwekkende totaal van 4 606 man. Van hulle is 596 soldate, 352 lede van die Kaapse Polisiemag en die res plaaslike vrywilligers(50) vir wie De Beers perde en muile help vind het.
(50)Kekewich dagboek 15 Nov 1899, Kek. SD I, 164-6, 207-10
De Beers se myne oorheers die verdedigingwerke. Dit was Labram wat die kraaines bo-op De Beer se skagtoring opgerig het; en die mensgemaakte topografie van die mynhope dien as vestingwerke, snags verlig deur boogligte.
Daarby bring De Beers, miskien enigsins verleë, ‘n klompie nuttige aandenkings van die Jameson-inval te voorskyn: 422 gewere, ses masjiengewere en 700 000 patrone wat in 1895 na Kimberley gestuur is om vir die opstand in Johannesburg gereed te hou.(51)
(51)O’Meara 19
Oor die eerste drie weke van die beleg kan Kekewich nie kla nie. Alles verloop glad. Die Boere bly in hul laers en Rhodes bly in syeie private laer, die luukse-sanatorium. Kekewich plaas die berede troepe onder die bevel van lt.-kol. Scott-Turner, een van die drie spesiale diensoffisiere wat in Julie na die stad gestuur is. Scott-Turner onderneem ‘n paar uitvalle.
Die pantsertrein stoom by die kort stukkie spoorweg op en af. Die Boere reik ‘n proklamasie uit waarvolgens Kimberley by die Vrystaat ingelyf word. Kekewich reik ‘n teenproklasie uit.(52)
(52)SD I, 162-3, 173. SJ Okt 1899, passim
Die stad is vol vlugtelinge uit die omgewing. Daar is ook afdelings van die Kaapse Polisiemag wat aan afgeleë poste onttrek is. Maar die beleg self het as ‘n lughartige affêre begin.(53) Die enigste ongeval was kapt. Scott, die pligsgetroue bevelhebber van die polisiegarnisoen wat by Vryburg oorgegee het. Scott het sy harsings uitgeblaas toe hy die wit vlag sien.(54)
(53)O’Meara 48-9. SD tap
(54)SJ 17 Okt 1899, SD I, 162
Op 6 November begin die Boere ‘n halfhartige bombardement met hul 9-ponders. Die geleentheid is die verwerping van die Boerekommandant se ultimatum dat Kimberley moet oorgee; alternatief, dat vroue en kinders na ‘n veilige afstand van die stad verplaas word, ‘n voorstel wat in die praktyk onuitvoerbaar geblyk het.(55)
(55)Kekewich dagboek 5-6 Nov 1899, Kek. O’Meara 51-5. SD I, 163, 171-2
Aanvanklik veroorsaak die gebulder van die kanonne ontsteltenis onder die inwoners en die onaardse driedubbele getoet van die myn se stoompype veroorsaak byna paniek. Maar in dié stadium is baie van die k anonkoeëls dowwerds en die mynhope keer die meeste van die ander weg.
Die bevolking begin die bombardement spoedig aanvaar. Party mense grawe bomskuilings in hul tuine. Ander maak staat op die geluid van die kanonkoeël om te gaan skuil. “Jy hoor die kanon bulder,” skryf die plaaslike arts, dr. Ashe, in sy dagboek, “en ‘ n paar sekondes later die gezoem van die koeël, en dan spring jy agter ‘n muur of wal in … dan bars die koeël, en onmiddellik storm almal in die omgewing daarop af om die skerwe op te tel, waarvoor daar ‘n goeie mark is en goeie skerwe … haal van £1 tot £2.”
In hierdie stadium is die ongevalle lig – afgesien van ‘n swart vrou wie se kop op die elfde afgeblaas is toe sy verby die Kimberley Club stap.(56)
(56)Ashe (Londense uitgawe) 43, 38. SD I, 173
Teen dagbreek op die dag ná die begin van die bombardement is daar ‘n ontstellende voorval. Kekewich het soos gewoonlik sy uitkyktoring bestyg en in die halflig sien hy “’n lewende massa” manne na een van die skanse, die Crusher Redoubt in die noordooste, aankom. Die Britse veldkanonne begin trompskote skiet. Namate die lig verbeter, besef Kekewich skielik dat die manne ongewapende “mynkaffers” is.
Hy gryp sy telefoon en gelas dat die bombardement gestaak moet word. Op die ou end blyk dat dit 3 000 Basoeto’s was wat sonder ‘n woord aan die militêre owerheid deur De Beers uit die mynkampongs losgelaat is. Die Kimberleyse myne is gesluit toe die beleg begin het, en Rhodes ongelukkig bevin voel oor die 10 00 swartes wat in die kampongs toegesluit is.
Volgens hom sou hierdie “bende barbare” die lewens van die blankes bedreig. Buitendien eet hulle De Beers se kos op. Hy het hulle dus na Basoetoland probeer terugstuur. Maar hulle was skaars weg, of die Boere het hulle na die Britse linies teruggedryf.(57)
(57)O’Meara 55-6. Maar vgl. Kekewich dagboek 7 Nov 1899, Kek
(Op die ou end het Rhodes ‘n minder gewelddadige oplossing gevind, nl. om die swartes met noodlenigingswerk besig te hou. Hulle het ‘n reuse-wingerdlaning begin bou, ‘ n myl lank, wat later ‘n monument tot die beleg sou wees.(58))
(58)P. Jordan Cecil Rhodes (Londen 1911) 119-20. Foto in H. Wilson With the Flag II, 393
Twee dae later is daar ‘n trompskoot op Kekewich se hoofkwartier – in die vorm van ‘n telegram van die opperbevelhebber, Sir Redvers Buller. Teen omtrent middernag op die 9de isdaar ‘n klop aan die deur van die hut onder uitkyktoring. Kekewich slap, maar ‘n onderoff ier maak die deur oop. Hy bring ‘n swart boodskapper wat die Boere-patrollies in die donkerte ontwyk het. Die telegram is bruusk: “Inwoners van Kimberley beweer die toestand is ernstig. Het niks hieroor van u verneem nie. Stuur dadelik taksering van die situasie.”(59)
(59)O’Meara 58. Kekewich dagboek 9-10 Nov 1899, Kek
Kekewich is verstom. Wie is hierdie “inwoners”? Wat het hulle Buller meegedeel? Hy sself stuur al sedert die middel van Oktober boodskappe met swart hardlopers uit. Volgens hierdie boodskapper was alles we. Hy besef dat Rhodes agter sy rug alarmistiese boodskappe moet uitgestuur het.(60)
(60)O’Meara 59
Hy kan maar net sy lip byt en die onvermydelike konfrontasie met Rhodes probeer uitstel. Daardie selfde nag stuur hy ‘n swart boodskapper terug. Sy antwoord is versigtig: die situasie is beslis nie kritiek nie, hoewel dit kritiek kan word as die vyand swaar kanonne begin gebruik of as die verdediging se 2-1/2-duim-kanonkoeëls opraak.(61)
(61)Ibid 59-61. Kekewich dagboek, MS sit
In die volgende tien dae doen swel Rhodes as De Beers dinge wat Kekewich as ‘n gemengde seën moet beskou. Die ammunisie-probleem word wonderbaarlik opgelos. Labram het in die kraaines by Kekewich begin aansluit om hom geselskap te hou. Op ‘n dag deel Kekewich hom mee dat sy kanonkoeëls begin min raak. Waarom giet ons hulle nie in De Beers se werkwinkels nie? Vra Labram. So gesê, so gedaan, met skitterende gevolge.(62)
(62)Ibid 62-4. SD I, 169
Wat Rhodes betref, hy handel nog steeds volgens sy beroemde gebrek aan konsekwentheid. Net ‘n week ná hy gekabel het dat Kimberley op die punt staan om te val, verklaar hy teenoor Kekewich dat die garnisoen heeltemal sterk genoeg is om berede troepe – sowat 800 van hulle – te spaar wat dan 220 myl noord moet ry om Baden-Powell in die verdediging van hul suster-garnisoen in Mafeking te gaan help.
Kekewich probeer die werklikhede verduidelik. In die eerste plek is hulle hier nodig. In die tweede plek sal die veel groter Boeremagte, met grofgeskut gewapen, hulle afsny. Hy sou tereg kon bygevoeg het dat dit alles in nog ‘n slag van Doornkop sou eindig, maar hoewel hy hierdie gevaarlike woorde verswyg, verloor Rhodes sy humeur en begin hom uitskel. “Jy’s bang vir ‘n handjievol Boere,” skree hy in sy vreemde, skril stem. “Julle noem julleself die soldate van ‘n empire-bouende volk. Julle sal nog skrik vir twee besemstokke in ‘n broek. Los dit uit. Los dit uit.”(63)
(63)O’Meara 64-6. Keke dagboek, tap
Ná ‘n paar dae kom Rhodes Kekewich weer spreek. Die skaal het nou met mening teruggeslaan. Rhodes is ernstig ontsteld oor die gebrek aan berede troepe in die garnisoen. Waarom kan hulle nie 2 000 ekstra troepe in die Kaapkolonie werf en hulle op Kimberley “gooi” nie? Hy sal alles self betaal; hy kan dit bekostig.
Kekewich deel hom mee dat die skema tyd sal verg. Dit sal nie billik wees as hy dit by Buller aanbeveel nie. Rhodes moet die voorstel self regstreeks na Kaapstad. Buller is in volle beheer van die hele militêre situasie. “Militêre situasie,” skree Rhodes by een van hierdie geleenthede. “Julle verdomde soldate is so lojaal aan mekaar dat julle seker sal weier om God Almagtig uit die moeilikheid te help as dit julle verdomde militêre situasie belemmer.”(64)
(64)O’Meara 66-7, 11
Op 21 November, die dag toe Methuen se opmars begin, is Kekewich nog steeds in die duister oor Buller se planne om hom te ontset en Rhodes uit sy pad te kry.(65) Twee dae later bring ‘n boodskapper die lankverwagte kodetelegram: “Greenish manures hydrometer avec swarm gabbler,” begin dit – “Generaal vertrek op 21 November hiervandaan met sterk mag en arriveer Kimberley 26ste, tensy by Modderrivier vertraag. Wag vir soekligseine…”(66)
(65)Kekewich dagboek 20-22 Nov 1899, Kek
(66)O’Meara 68-9 (plaat IV)
Vir Kekewich lyk dit asof hierdie berig bevestig word deur ‘ n roering in die Boere-laers. Uit die kraaines kon hy sien hoe groot groepe Boere suid na die Modderrivier trek. Kekewich moet alles in sy vermoë doen om die hulp-ekspedisie by te staan. Maar wat kan hy doen?(67)
(67)O’Meara 70
Hy het ‘n jammerlike klein getal berede troepe tot sy beskikking – twintig gereeldes en sowat 800 polisiemanne en vrywilligers – teen ‘n geskatte 8 000 berede Boere tussen Kimberley en die Modderrivier; en daar is gerugte dat genl. Piet Cronjeg van Mafeking gaan laat vaar en suid gaan ry om Kimberley aan te val.
Kekewich het geen idee hoe groot die hulp-ekspedisie gaan wees nie. Hy ken nie eens die naam van die bevelhebber nie, hoewel hy inligtingsverslae na die Oranjerivier gestuur het om te wys op die gevare van die direkte roete langs die spoorlyn noord van die Modderrivier; die Boere kan hulself dalk op die rante by Magersfontein en Spytfontein ingrawe.
Kekewich besluit dus dat dit roekeloos sou wees om by die hulp-ekspedisie te probeer aansluit – die beleid wat Rhodes nou met alle geweld voorstaan, terwyl hy hom smalend uitlaat oor die lafharigheid van die Engelse soldaat. Kekewich luister met sy gebruiklike hoflikheid en steur hom soos gewoonlik nie aan Rhodes nie.
Hy besluit om ‘n afleidingstaktiek toe te pas; ‘n kragtige uitval deur Scott-Turner se berede troepe teen Carter’s Ridge, die sterktepunt waar die Boere ‘n aantal van hul 9-ponders opgestel het.(68)
(68)SD I, 207-8. O’Meara 70-2. Kekewich dagboek 24-5 Nov 1899, Kek
Die eerste aanval, op die 25ste, is redelik suksesvol. Hierdie keer sien Kekewich nie die dag uit die kraaines breek nie. Hy bevind homself op een van die skanse, Reservoir Redoubt, waarvandaan hy Carter’s Ridge dophou. In die donker kruip Scott-Turner se manne vooruit. Toe die lug verbleek, storm hulle die rant, dood of wond 28 Boere en neem 32 gevange. Hul eie verlies is sewe dooies en 25 gewondes.(69) Scott-Turner word deur die inwoners toegejuig toe hy na die Kimberley Club terugkeer.
(69)SD I, 180-1, 165. O’Meara 71, 174. Kekewich dagboek, MS sit
Die volgende dag ry een van die Boere se mediese offisiere by die stad in en vra verlof om medisyne te koop. Die galante Kekewich staan die versoek toe en die offisier bevestig dat sy kant swaar verliese gely het. Scott-Turner het egter nie ‘n enkele 9-ponder buitgemaak nie. Op die 27ste begin die bombardement van Carter’s Ridge.(70)
(70)O’Meara 71-3
Die tweede aanval, wat die volgende oggend gelanseer word, is ‘n suiwer ramp. Dit is nou Woensdag, twee dae ná die verwagte eenkoms van die hulp-ekspedisie. Die ekspedisie het vordering gemaak – sigbare vordering. Die vorige aand het die straal van ‘n soeklig in die naghemel verskyn; dit het gelyk asof die soeklig êrens naby die Modderrivier-stasie is.
Stadig spel die weifelende ligstraal die lewensbelangrike boodskap uit: “Lord Methuen bedank die handelaars van Kimberley vir die sigare wat hulle hom geskenk het. Hy rook nie. Hy het hulle aan sy soldate gegee.”(71) Al wat die bekommerde Kekewich kan uitmaak, is dat die hulp-ekspedisie gestuit is. Hy besluit om ‘n derde van sy garnisoen in die veld te stoot in ‘n poging om soveel Boere as moontlik noord van die rivier te hou.
(71)Vgl. SJ 17 Nov 1899. OH II
Miskien het Rhodes se uittarting hom op hierdie riskante onderneming laat besluit. Maar voor Scott-Turner vertrek, neem hy hom opsy en gee hom ‘n finale waarskuwing: “My liewe kêrel, onthou ek wil nie hê jy moet Carter’s Ridge aanval … tensy daar so min Boere op is dat ‘n oorwinning feitlik seker is nie.”(72)
(72)O’Meara 74-5
Enkele ure later lê Scott-Turner se lyk op Carter’s Ridge. Die stelling was swaar verdedig. Scott-Turner het dit met roekelose waagmoed bestorm. Drie en twintig lede van die garnisoen het saam met hom gesneuwel, nog 32 is gewond. Toe die soekparty die lyke kom haal, is hulle erg vermink. Die boere moet die gewondes van die gras af gemaak het, sê die Engelse. Die inwoners van die stadjie is woedend, maar ook ontsteld. Die vroeëre optimisme het verdwyn. Daar word gemompel dat Kimberley oorrompel gaan word.(73)
(73)Kekewich dagboek 27 Nov 1899, Kek. SD I, 181-6. SJ 27 Nov 1899. O’Meara 74-5
Rhodes mompel nie. Hy slaan toe – soos net die kolos dit kan doen. Met ‘n asembenemende gebrek aan konsekwentheid beskuldig hy Kekewich van roekeloosheid, dat hy die lewens van die vrywilligers weggegooi het. “Onthou,” hoon hy, “ jy is nie nou in bevel van ‘n klomp Tommies nie.”
Kekewich antwoord nie. Hy voel dat dit dislojaal teenoor Scott-Turner sou wees om die skuld vir die ramp op hom te pak. Hy keer terug na sy sombere waak op die kraaines, waar ‘n lig geïnstalleer is, reg om boodskappe na die hulp-ekspedisie te sein.(74)
(74)O’Meara 77-8
Die eensame soekligstraal suid van die Modderrivier flikker op die wolke. Wat het van Methuen geword?
*** *** *** ***
Om te sê dat sy oorwinnings Methuen verpletter het, stel dit skaars te sterk. Ná sy leër die Oranjerivier verlaat het, het hy twee klein oorwinninkies behaal – by Belmont op die 23ste, by Graspan op die 25ste. Die hoë koste van hierdie oorwinnings het hom siek laat voel. Hy “verag oorlog”, skryf hy aan sy vrou. “Die mense wens my geluk. Dit lyk asof die manne my as hul vader beskou, maar hoe meer ek van oorlog sien, hoe meer verag ek dit.”
Daardie woorde is op die aand van die oorwinning by Belmont geskryf. Dit was ‘n “treurige dag”. Hue het reeds twee offisiere en 13 man begrawe. Buite sy tent kan hy nou “’n arme kêrel hoor kreun en sterf, deur die bors geskiet; hy swyg uiteindelik, miskien het God hom verlos.”(75)
(75)Methuen-vrou 23-6 Nov 1899, Meth
Ook Methuen se o ffisiere deins voor die werklikhede van die slagveld terug. Dit is ‘n outydse oorlog, in al sy aakligheid. “Ek sal jou nie met die besonderhede van die slagveld belaai nie,” skryf kapt. Geral Trotter van die Grenadiers aan sy moeder. “Dit is te aaklig. Toe ek die verskillende regimente van die brigade na die kamp terugmarsjeer, het dit my herinner aan ‘Ná Inkerman’, Lady Butler se skildery …. ook die hospitaal was ‘ n grusame gesig.”(76)
(76)Geral Trotter-moeder 26 Nov 1899, Trot
Trotter se regiment, die Genadiers, het 137 ongevalle gely – 36 dood of dodelik gewond – die hoogste van enige eenheid wat betrokke was.(77)
(77)OH I, 227, 466
By die bittere nadraaie van oorwinnings kom nou bewerings – soos dwarsdeur die oorlog – van Boere-wandade. Daar word beweer dat die Boere die wit vlag opsetlik misbruik het.”(78) “Ons het ‘n moeilike tydjie gehad,” skryf Trotter, “met ‘n paar kêrels wat die wit vlag gehys en twee van die Yorkshires … en ‘n korrespondent (Knight van die Morning Post) baie lelik geskiet het, toe brand ons maar op hulle los tot een van hulle te voorskyn kom. Ek dink hulle het hom by Belmont opgehang voor ons verder gemarsjeer het.”
(78)PPW 204-14
Daar is ook stories dat die Boere 12 Engelse met dum-dum-koeëls geskiet het.(79) By wyse van weerwraak word aan ‘n aantal Boere geen genade betoon nie.(80)
(79)Gerald Trotter, MS sit
(80)Sien PPW 221-5
Methuen se ongevalle was 297(81) – dood, gewond of vermis – teenoor die Vrystaatse Boere se verlies van minder as 150.(82) Wat het verkeerd geloop?
(81)OH I, 466
(82)Breyt II, 53. Vgl. SD I, 28
Hierdie eerste Britse oorwinnings aan die westelike front was ewe duur as die eerste Britse oorwinnings in Natal. En die meeste van die taktiese foute kan herlei word tot dieselfde basiese gebreke: swak inligting en ‘n gebrek aan beweeglikheid.
Methuen en sy 8 000 man het van die Oranjervier opgeruk en die Boere by Belmont aangetref in ‘n stelling wat hulle self gekies het. Hy kon nie óm hulle gaan nie. Hy moes die vyand van sy kommunikasielyn, die spoorweg, verwyder.
Maar daar was geen manier waarop hy die vyandelike stelling by Belmont bevredigend kon takseer nie. Sy amptelike inligtingskaarte het geen kontoere aangedui nie en was van baie weinig nut. Methuen moes ‘n ingewikkelde aanvalsplan baseer op ‘n ruwe skets van die Boerestelling wat die dag voor die veldslag gemaak is – ‘n gevaarlike prosedure, soos sou blyk.(83)
(83)Methuen get RCSAW III, Q 14147-51, 14376-9, 14453. Colvile Ninth Division 2. OH I, 216
Daar was min Vrystaatse Boere, m aar hul stelling was uitstekend: ‘n ongelyke terrein en drie sterkpunte bo-op koppies.Methuen se plan was dat sy twee infanteriebrigades die eerste twee koppies gelyktydig van die westelike flank moes aanval, in die donker, en dan na die derde koppie moes vorder.(84) Maar die sketsie was baie gebrekking. Tot sy verskrikking sien Methuen dat die twee brigades verbrokkel het en dat die Garde onderweg is na die voet van ‘n skurwe koppie.
(84)SD I, 26-8. OH I, 218-22
“’n Aaklige oomblik,” sê hy later. “Geen aftog moontlik nie, en ‘n dapper vyand gereed om ons te vernietig. Ek het nie die kluts kwytegeraak nie. Ek het gesien dat ‘n frontaanval onvermydelik was, en ek stuur toe die een aide-de-camp om die Garde in orde te kry en nog een om die 9de Brigade te gelas dat hulle by die Garde moet bly. Alles is binne tien minute gereël, en toe kom daar ‘n pragtige stukkie werk vir die Garde, die kanonne bestryk die toppe met skrapnel, die manne gaan by die een krans na die ander op. …”(85)
(85)Methuen-vrou 26 Nov 1899, Meth
Die slag van Belmont was in werklikheid merkwaardig baie soos die slag van Talana: ‘n kortstondige, kru, bloedige skermutseling, ‘n sg. “soldateslag” waarin al die verfyninge van strategie ondergedompel is in die eenvoudige, oorweldigende drang om ‘n koppie te verower en die vyand uit te wis. Hulle verower die koppies een na die ander. Toe sien Methuen wat die oorwinnende Britse troepe by Talana gesien het: honderde Boereruiters wat oor die veld wegdraf, ongedeerd.(86)
(86)Methuen-vrou 23 Nov 1899, Meth. Trotter MS sit. March Phillipps 12-14. Ralph Towards Pretoria 165-6. PPW 18
Twee dae later, by die slag van Graspan, word die patroon op ‘n kleiner skaal herhaal. Methuen verdryf die vyand uit die volgende ry rante, maar dit geskied teen ‘n hoë koste. Die vyandelike verliese is ongeveer honderd. Weer eens moet Methuen kyk hoe die meeste van die Boere op hul perde oor die veld wegdraf. Nòg die uitgeputte 9th Lancers nòg sy eie veldkanonne kan iets aan hulle doen.(87)
(87)Methuen-vrou 25 Nov 1899, Meth. OH I, 229-42. Breyt II, 53
Ná nog twee dae verby is, word dit die nag van 20 November, die nag waarin Kekewich daardie weifelende soekligstraal teen die wolke gesien het. Methuen se leër het nou 50 van die 74 myl na Kimberley afgelê. Hy is nog maar ‘n paar myl suid van die Modderrivier. Hy is van plan om die volgende oggend ‘n flankmars aan te pak. Ondanks die skokke wat hy by Belmont en Graspan gely het, het sy selfvertroue begin terugkeer.
Hy gaan die Boere met die vrees van die Here vervul, deel hy een van sy offisiere mee. Methuen dink dat die Boere na die Spytfontein-koppies teruggeval het, oorkant die rivier en in beheer van die pad en spoorweg na Kimberley. Sy plan is om die vyand se linkerflank te laat omtrek deur die spoorweg te verlaat en in ‘n breë boog 25 myl na die ooste te marsjeer.(88)
(88)SD I, 45 OH I, 245-6. Pemberton Battles 62-5
Daardie nag bring Rimington se Tigers en die Lancers berigte wat hom sy plan vir die flankopmars laat kanselleer. ‘n Aantal Boere is besig om hulle al langs die walle van die Modder- en die Rietrivier aan weerskante van die spoorwegbrug in te grawe. Hulle het die brug pas opgeblaas. Die stasiemeester, ‘n lojalis, berig dat hulle “soos konyne” grawe.
Maj. Little van die Lancers stel die Boere se sterkte op tot 4 000, Methuen betwyfel dit. Maar hy besluit dat dit gevaarlik gaan wees om hierdie mag by die Modderrivier te laat waar dit die verbindingslyn beheer. Hy gaan die flankopmars uitstel tot hy hierdie stelling verower het.(89)
(89) OH 246-7. Meegedeel deur mej. F. Barbour
Methuen begin byna uitbundig voel. Hy het alle vertroue dat maj. Little die getal Boere wat hulle in die rivierwal ingegrawe het, grootliks oordryf het. Daar is waarskynlik maar 600 van hulle.(90) Die meeste van die 8 000 moet reeds weer by Spytfontein wees. Hy sal toeslaan voor hulle hom verwag. ‘n Oorweldigende frontaanval.(91)
(90)Luit. B. Lang-moeder 4 Des 1899, (sy) PV. Lang bandopname, PV
(91)Methuen SD I, 45-6
“Sover ek kan oordeel,” skryf hy aan Buller, “begin ons die Boere onderkry. Dis maar ‘n kwessie van moed. Ons het baie hindernisse, en ek verstaan hierdie land was al die begraafplaas van menige soldaat se reputasie. Die kaarte is van weinig waarde, die inligting wat ‘n mens kan kry, nog minder, aangesien die oop aard van die landskap plus Mauser-gewere verkenning ontmoontlik maak.
“Mense praat van omweë, of dat jy ‘n brigade om ‘n flank moet stuur, maar dit help nie veel om te praat as jy agduisend ruiters, ‘n rivier en ‘n onomdraaibare stelling voor jou het nie. Die taak moet afgehandel word. …(92)
(92)Methuen-Buller 2 Des 1899, Bull (PRO) DO 132/15
“Net ‘n kwessie van moed.” Moed en die verrassingselement. Methuen het bepaald die moed. Maar dit is die Boere wat die verrassingselement bemeester het.
Vroeg die volgende oggend begin die manne van die twee infanterie-brigades oor die oop veld stap na die klompe bome wat die Modderrivier se walle aandui. Die offisiere het hulle meegedeel dat hulle by die rivier ontbyt gaan kry.
Stilte, afgesien van die geritsel van stewels in die kort, stekelrige gras, en die “hoe-hoe” van die dikkoppe.(93)
(93)Ralph Towards Pretoria 179-80
“Hulle is nie hier nie,” sê Methuen aan genl.-maj. Sir Henry Colvile, en wys na die hoë populierbome op die rivierwal minder as ‘n myl vorentoe.
“As hulle is, Generaal, sit hulle ongewoon vas,” antwoord Colvile.(94)
(94)Colvile 5-6. TH II, 350 (afskrif in Cordsham met “ja” in kantlyn deur Ld Methuen)
Voor die Engelse, in ‘n reeks natuurlike aardvestings al langs die Moddeririver, in elke gat en skeur, vier myl ver langs die kronkelende rivierwal, lê 3 000 Boereskutters gereed om met die intensiefste geweervuur-aanval van die oorlog te begin.(95)
(95)Breyt II, 57, 61. Meegedeel d eur mej. F. Barbour. Vgl. OH I, 248
—oOo—