Die Kolonnes ruk op
Magersfontein, 9 – 12 Desember 1899
Such was the day for our regiment / Dread the revenge we will take. / Dearly we paid for the blunder – / A drawing-room General’s mistake. Why weren’t we told of the trenches? / Why weren’t we told of the wire? / Why were we marched up in column / May Tommy Atkins enquire …
“The Battle of Magersfontein”, vers deur manskap Smith van die Black Watch, Desember 1899
Hoofstuk-aanhef Vers deur manskap Smith herdruk in Morning Leader, 10 Feb 1900
— — —
Hoofstuk 18
Op Saterdag 9 Desember, elf dae ná die slag van die Tweeriviere, ry genl. Andrew Wauchope, bevelhebber van die Highland Brigade, op die noordelike wal na Methuen se hoofkwartier. Hy is lank, kaal geskeer, gretig; hy kom sy krygsbevel haal. Methuen wil daardie Sondag ‘n nagmars aanpak. Die hoofkwartier is die Crown and Anchor Hotel, oorkant die hotel aan die ander kant van die rivier waar Cronjé en De la Rey minder as 14 dae tevore nog was.(1)
(1)Methuen se berig SD I, 130. OH I, 311 en Kaart |Deel I
Nou wemel die Crown and Anchor van Britse ordonnanse en stafoffisiere. ‘n Krat sjampanje (‘n geskenk aan Lord Methuen van Lord |Rothschild) het in die plek gekom van die leë gin-bottels wat die Boere laat lê het.(2)
(2)Methuen-vrou Nov 1899, Meth. Ralph Towards Pretoria 193
Ná sy onderhoud met Methuen bly Wauchope ‘n oomblik by die deur staan. “Ek hou nie van die gedagte van ‘n nagmars nie,” sê hy aan kol. Douglas, die nuwe hoofstafoffisier.(3) Wauchope skrik nie maklik nie. Daar word gesê dat hy nog in elke aksie waaraan hy deelgeneem het, gewond is.(4)
(3)OH I, 311
(4)DNB. Wilson With the Flag I, 178
Nou dring Douglas by hom aan om na Methuen terug te keer en sy bedenkinge te verduidelik. Om die een of ander rede keer Wauchope nie terug nie. Somber ry hy op die rivierwal na die brigadekamp waar die Highlanders byeen is. Voorskote word oor die rokkies vasgemaak, blink knope en gespes word vaal geverf om hulle vir die slag voor te berei.(5)
(5)OH I, 311. TH II, 397
Die gedagte van ‘n nagmars – wat deur ‘n aanval om sonop gevolg sou word – is bepaald riskant, maar minder riskant as die alternatiewe. Dit is Methuen se mening en hy weeg die moontlikhede nou al byna 14 dae, sedert die slag van Tweeriviere, teen mekaar op. Methuen is in die kort, skerp oorloë van Afrika geskool en dit is sy natuurlike inklinasie om die Boere-stellings onmiddellik ná die slag aan te val – voor hulle kan reorganiseer. Maar hy het besluit om sy ongeduld te beteuel.(6)
(6)Methuen SD I, 130. Methuen-vrou 10 Des 1899, Meth
Sy eie vleeswond het ‘n week geneem om te heel; ná hul drie veldslae het sy manne ‘n respyt nodig; nuwe stafoffisiere moet na die front gebring word; en die laaste van sy versterkings – met inbegrip van Wauchope se Highland Brigade, ‘n ekstra kavallerie-regiment, nog veldkanonne, houwitsers en ‘n 4.7-duim-vlootkanon – sal Modderrivier eers die volgende dfag, 10 Desember, bereik.(7)
(7)Methuen SD I, 130. SJ 9 Des 1899. OH I, 308
Ten slotte beskou hy dit as waansin om op te ruk voor die verwoeste Modderrivier-spoorwegbrug herstel is. Dit is ‘n wond in sy eie leër se lewenslyn. Dit is ook ‘n stukkende sport in die reddingsleer wat hy nodig het om Buller se opdragte uit te voer: om Kekewich in Kimberley van nuwe voorrade te voorsien en om daardie lede van die garnisoen te verwyder wat ‘n las is – die vroue en kinders, die 10 000 swart myners en hul werkgewer, Cecil Rhodes.
Hoe lank kan Kekewich nog uithou? Tot Methuen se verligting het hy op die vierde, in antwoord op sy eie soekligseine, ‘n kodesinjaal van Kekewich ontvang: die garnisoen, het die boodskap gelui, het nog genoeg kos vir veertig dae.(8) Teen die 8ste is die spoorwegbrug uiteindelik herstel – om meer presies te wees, die ingenieurs het tydelike konstruksie van pylers en hout langs die verwronge staalbalke opgerig.(9) Op die aand van die 10de sal die Highland Brigade met hul opmars onderweg na die aanval begin.
(8)Kekewich dagboek 4 Des 1899, Kek. OH I, 304. SJ 9-10 Des 1899
(9)I.v.m. probleme met spoorweg sien Sir P. Girouard Railways. Luit. Lang-moeder 4 Des 1899, (sy) PV
“Die werk moet gedoen word,” het methuen op Buller se vraag gesê.”(10) Hy wil dieselfde werktuie as tevore gebruik. Soos gewoonlik kan sy verkenners hom maar ‘n baie sketsmatige indruk van die vyand se linies gee. Dit lyk asof hulle dieselfde stelling as by Belmont ingeneem het: ‘n ry koppies. Nou ja, dan sal hy Belmont-taktieke teen hulle gebruik.
(10)Methuen-Buller 2 Des 1899, Bull (PRO) DO 132/15
Die sleutel tot die vyand se stelling, so glo hy, is die Magersfontein-koppie.(11) Van sy kamp by die Modderrivier lyk dit na die boeg van ‘n slagskip.(12) By nadere ondersoek blyk dat dit ‘n doodnormale Suid-Afrikaanse koppie is, vol grysbruin rotse en vaal bossies. Dit is ses en ‘n half myl van die kamp, hoewel dit op die noen na 10 myl lyk wanneer dit in die hittewalms dryf, en skaars ‘n myl wanneer die son soggens opkom.(13)
(11)SD I, 120. OH I, 312-15
(12)March Phillipps 100
(13)EGO
Die Highlanders se werk is om hierdie sterktepunt teen dagbreek met gevelde bajonette storm te loop, om Cronjé hier dieselfde, kort, skerp stoot toe te dien as wat die Grenadiers Prinsloo bo Belmont toegedien het.
Teen omstreeks drie-uur daardie Sondagmiddag begin die vyf artillerie-batterye oor die vlakte wegrammel. Die Hooglanders stap agterna: 3 500 manne in kakie;(14) kakievoorskote om die kleurige rokkies te verberg, geen sporrans, slagswaarde of blink baadjieknope nie. Maar van agter is hulle steeds onmiskenbaar Skots: donkergroen tartan-rokke vir die drie voorste bataljons, die Black Watch, Seaforth en Argylls; kakiebroeke vir die reserwe-bataljon, die Highland Light Infantry.(15)
(14)SD I, tap
(15)Meegedeel deur mej. F. Barbour
Hoewel dit Desember is, begin ‘n koue reën val. Geeneen van die manne het jasse nie, net ‘n kombers en ‘n grondseil, een vir elke koppel manne, aan hul rûe vasgegespe.(16)
(16)OH tap. Luit. B. Lang-moeder 14 Des 1899, (sy) PV
Omtrent drie myl van die koppie word halt geroep. Hier gaan hulle oornag: op die kaal veld, met kos nòg skuiling. Tog is die manne opgewek.(17) Wauchope ry terug om met Methuen en Colvile, bevelhebber van die Guards Brigae, oorleg te pleeg. Methuen gee sy finale opdragte terwyl; sy beseerde been op ‘n wakis rus.
(17)Lang MS sit. Wilson With the Flag I, 180
Die Guards en die 9th Brigade moet in reserwe gehou word. Wauchope lyk tevrede met die opdragte – so sou Methuen later sê.(18) Maar toe die vergadering verdaag, merk Wauchope teenoor Colvile op: “Sake ontwikkel nie altyd soos van hulle verwag word nie. Jy sal miskien nie lank in reserwe bly nie.”(19)
(18)Colvile 14. SD I, 132 para 31
(19)Colvile 14
Intussen kry die Boere ‘n dosis Britse kanonkoeëls uit die bekke van 24 veldkanonne, vier houwitsers en die Britse antwoord op Long Tom – Joe Chamberlain self, die 4.7-duim-vlootkanon. Die bombardement, een van die grootste sedert Sebastopol, lyk vir die oorlogskorrespondente ontsagwekkend. Behalwe die gewone grys pofbolletjies skrapnel is daar nou ook reuse-wolke rooi aarde en rotse wat deur ‘n kragtige plofstof, lidiet, in die lug geslinger word.
Die vlootkanonniers deel die toeskouers mee dat Old Joey alles binne 150 tree van die plek waar sy koeëls inslaan, sal doodmaak.(20) Mits, natuurlik, die vyand op die plek is waar Old Joey skiet: d.w.s. op die heuwel. Hiervan is daar geen werklike getuienis nie.
(20)March Phillipps 30-5. Ralph a.w. 210-11
Later sou Methuen, wat in dié opsig maar net Buller se bevele nagekom het, beken: al wat die artillerie-“voorbereiding” bereik het, was om die Boere op die Britse aanval voor te berei.(21)
(21)Pemberton 85. I.v.m. sy vroeëre vertroue in die 4.7 duim sien Methuen-vrou 10 Des 1899, Meth
Nou is dit donker en op die verre rant sterf die vuurwerk weg. Die wind kom sterker op. Die ysige reën val nog steeds. Die bevele is: niemand mag rook of vuur maak nie. In die Highlanders se kamp sak die manne se moed. Wauchope eet ‘n bieftoebroodjie en gaan lê weer in sy slaapsak. Hy is ontsteld oor die verlies van ‘n mes en ‘n kompas wt sy vrou hom present gegee het. Hy besluit om sy ou claymore saam te neem, sy slagswaard, in weerwil van Methuen se bevele.(22)
(22)TH II, 398. Vgl. OH I, 312-15
Wauchope se staf wek hom omstreeks middernag. Dit is ‘n Shakespeareaanse stormnag: maanloos, met ‘n gierende wind uit die noordweste en ‘n rammelende, flitsende Suid-Afrikaanse donderstorm in die verte. “Kwartkolom.” Die vier bataljons groepeer in die mees kompakte formasie in die drilboek: 3 500 man 30 kompanies, 90 rye, almal saamgedruk in ‘n kolonne van 45 tree wyd en ongeveer 160 tree lank.
Nietemin is dit byna onmoontlik vir die rye om met mekaar in verbinding te bly. Die Black Watch en die Argylls gebruik lang toue, met ‘n knoop elke tien voet. Die Seaforths en die Highland Light Infantry, daarenteen, sukkel so goed as hulle kan vooruit. Links van die voorste ry van kompanie A, die Black Watch – d.w.s. in die voorste linkerhoek van die groot, strompelende deinende massa – marsjeer Wauchope met sy claymore. Langs hom loop sy aide-de-camp en maj. Benson, ‘n stafoffisier wat ‘n kompas in elke hand dra.(23)
(23)SD I, 130 para 13-17. OH I, 316. TH II, 397-9
Om op ‘n nagmars met ‘n kompas koers te hou, is ‘n delikate en gevaarlike maneuver. In Egipte, waar ‘n mens onder ‘n sterrehemel oor ‘n sandtapyt loop – soos Wauchope die nag voor die slag van Omdurman geloop het – is dit nie ‘n probleem nie. Maar dit gaan heeltemal anders op hierdie vlakte onder die skaduwee van Magersfontein, vol klippe en miershope en doringbosse, op die aand van ‘n storm!
Nietemin, ondanks die weerlig wat blou op die rotse flits en die reën wat dreig om die kompas te verdrink, hou maj. Benson ‘n koel kop. Hy swenk links, hy swenk regs, maar op die ou end bring hy die brigade op feitlik die plek wat Methuen aangedui het. Toe die hemel begin ligter word, bevind die brigade homself sowat duisend tree van die rand af.(24)
24)Meegedeel deur mej. F. Barbour
Die storm is verby en op die papieragtige lug voor hulle is die boegvormige silhoeët van Magersfontein-koppie afgeteken.
Daar was baie redes vir die ramp wat die Britse infanterie nou tegemoet sou gaan. Bo alles was daar Methuen se onkunde i.v.m. die Boerestellings. Hierdie fout is nie volkome verskoonbaar nie. As Methuen nog ‘n dag by die Modderrivier deurgebring het, kon hy lugverkenning gereël het. Hy kon die oorlogsballon wat Buller op die vooraand van die slag per spoor laat kom het, losgelaat en die Boere se loopgraaflinies probeer opspoor het.(25)
(25)Sien J.H. Cuthbert 17. Ná ‘n helikoptervlug oor die loopgraaf op ballon-hoogte is mej. F. Barbour egter skepties
Maar nee, hy het sy Higland Brigade koelkomkommer beveel om in die strik te trap wat De la Rey by Magersfontein vir hulle gestel het, net soos hy sy leër by die Modderrivier in die strik laat trap het.
Maar ook Wauchope sou ‘n roekeloosheid aan die dag lê wat Methuen se dwalinge vererger het. Sy brigade is nou binne duisend tree van die koppie waar die Boere glo lê – 900 tree van die lyn loopgrawe waar hulle werklik lê.
Benson halt en draai na Wauchope. “Dis so ver as wat dit veilig is om te gaan, Generaal, in massa.” “Ek is bang my manne verloor die koers. Ek dink ons gaan nog ‘n bietjie verder,” antwoord Wauchope.(26)
(26)A.G. Wauchope Black Watch 154-6
Wat Wauchope bedoel het deur “koers verloor”, is onmoontlik om te raai. Die lug word nou vinnig ligter. As gevolg van die storm is hulle reeds laat – ‘n volle uur later as wat die plan was. Om die 90 rye manne wat skouer aan skouer marsjeer, te herrankskik tot drie rye manne vyf tree vanmekaar, sal ten minste tien minute in beslag neem.
Nou is die tyd: wanneer die manne reeds goed genoeg ;kan sien om die maneuver uit te voer en voor die vyand goed genoeg kan sien om met hul Mausers los te trek. Dit is nie alleen Benson se mening nie, mar dié van minstens twee van die bataljonbevelhebbers. Die kolonne marsjeer in massa vooruit, Wauchope en sy aide-de-camp alleen vooraan.(27)
(27)Ibid. Hughes Hallett se verslag 13 Des 1899, Bull (PRO) DO 132/14. Gardyne Gordons III, 97
Die Boere wag in hul verborge loopgraaflinie tot die voorste rye – A en B kompanies van die Black Watch – sowat 400 tree ver is. Miskien hoor hulle die vertraagde bevel: “Oop orde, marsjeer!” Miskien sien hulle die geflikker van bajonnete. ‘n enkele skoot van die koppie af.(28)
(28)OH I
Toe bars ‘n vlammerivier uit die loopgrawe los “asof iemand ‘n knoppie gedruk en ‘n miljoen elektriese ligte aangeskakel het”, sou een sersant van die Argylls later sê. En daar is ‘n “enorme gebulder in ‘n mens se ore, asof ‘n damwal gebreek het”.(29)
(29)Dunn-Pattison 91st 272. Pemberton 91-2
Selfs nou is die stryd vir Methuen nie verlore nie. Die oorlogskorrespondente, wat nou nog in die kamp slaap(30), of in die halflig van die dagbeek deur die fusillade gewek word, so gedemp soos reën wat op ‘n vensterruit ritsel, sou later skryf dat die slag in die eerste wilde oomblikke van daardie fusillade verloor is.(31)
(30)Luit. Lang-moeder 2 Feb 1900. (sy) PV
(31)Ralph a.w. 214-15. Wilson With the Flag I, 187-8. Conan Doyle 103
Maar dit was nie so nie. Die meeste van die Boere het te hoog geskiet. In die Britse kolonne is daar ‘n oomblik van verlamming – ‘n nagmerrie wat volgens party waarnemers minute lank geduur het. In werklikheid was dit maar ‘n paar sekondes. Toe ‘n gebabbel van bevele: vooruit, val terug, links, regs – enigiets: en party begin ‘n stormloop agtertoe.(32)
(32)TH II, 400-1. Wilson a.w. 183
Ná hierdie stuiptrekkings laat militêre dissipline hom nogmaals geld. Wauchope bly kalm staan. Teenoor sy aide-de-campe, sy neef, lt. A.G. Wauchope, merk hy op: “Dis nou baklei, A.G.” Hy beveel die Black Watch om na regs uit te brei. Hul kolonel val dood neer. Maar die meeste van kompanies, A, B en C begin vorentoe kruip; dan slaag hulle daarin om een of ander soort skuiling agter rotse en miershope te vind.
Ook die Argylls verloor hulle kolonel, maar kry dit reg om te ontplooi. Die Seaforths is hopeloos deurmekaar met die Argylls, maar in hierdie stadium is daar min ongevalle. Die bevelhebber van die Highland Light Infantry word in die stormloop vertrap, maar hul bataljon hergroepeer.(33)
(33)Wauchope 155-6. Kelham se verslag, Kel. Dunn-Pattison tap. SD I, 131
In die volgende nege uur vind ‘n tweegeveg plaas wat baie aan die vorige veldslag herinner. Methuen wou Belmont-taktieke op Cronjé en De la Rey uithaal; hulle het daarin geslaag om Modderrivier-taktiek op hom uit te haal. Toe die son opkom, is die Highlanders op die vlakte vasgepen, net soos die Guards voor die Rietrivir vasgepen is.(34)
(34)OH I, 4-101-2
‘n Handbeweging, die flits van ‘n kosblik, selfs ‘n enkel wat skielik roer wanneer ‘n mier byt – die prys word in Mauser-koeëls betaal.(35) Weer eens word die Britse infanterie deur Britse grofgeskut gered. Die kanonniers bring hul veldkanonne ruim binne geweervuurafstand – minder as 1 400 tree – van die Boere. Daardie oggend is daar geen opposisie van die Boere se eie kanonne nie, afgesien van drie pom-poms.(36)
(35)Gardyne III, 101
(36)SD tap OH; I, 321
In hul afwesigheid en in die kalm sonnige weer laat Methuen sy lugverkenningsmag opstyg: die ballonne, beman deur kapt. Jones en ‘n aantal ingenieurs, en per kabel en telefoon met Methuen se veldhoofkwartier verbind.
Om die een of ander rede het Cronjé ‘n gaping van sowat 1 500 tree in die oostelike gedeelte van die Boerelinie gelaat – d.w.s. tussen die einde van die groot loopgraaf aan die voet van Magersfontein-koppie en die begin van die verdedigingswerke aan die rante wat na die rivier afloop.(37)
(37)Meegedeel deur mej. F. Barbour. SD I, 130, para 24. OH I, 329
Daar is gesê dat Methuen en sy leër selfs nou nog ‘n soort verknoeide oorwinning kon behaal het. In ‘n sê-nou-oorlog is feitlik alles moontlik. Methuen moes sy reserwetroepe deur die gaping laat jaag het, m.a.w., die Guards moes ‘n gat in die Boere se linkerflank gepons het net soos Pole-Carew se brigade hul regterflank by die Modderrivier gebreek het. So lui die sitkamer-scenario.(38)
(38)TH II, 408-10
Maar Methuen moes ‘n werklike stryd stry. Hy kon nie geweet het hoe groot die gaping is nie. En by Magersfontein was daar baie hindernisse. In die tweede plek het die Transvalers meer as 6 000 skutters gemonster – nie 2 000 soos by Modder nie.(39)
(39)Breyt II, 224-15
Ten slotte, hoewel Methuen nou drie brigades i.p.v. twee gehad het, het hy gevoel dat die derde gereed gehou moes word om aanslae teen sy kamp af te weer. Dit het net die Bordons en die Buards Brigade vry gelaat om deur die gaping te glip.
‘n Mens kan sê dat Methuen ‘n kans misgeloop het, maar die ballon het bevestig dat dié kans in elk geval kortstondig was. Voor baie van die Guards kon opgeruk het, het kapt. Jones ‘n aantal Boere (wat heel toevallig daar opgedaag het) na die gaping sien galop om dit af te sluit.(4)
(40)OH I, 328-9
Daardie dag is Methuen byna soos ‘n toeskouer van sy leër se vernedering. Hy sit op ‘n perdekar in die skaduwee van die ballon op sy hoofkwartier-koppie. Hy het nooit gedink wat hy sou maak as die Highlanders se aanval misluk nie. Al wat hom nou bekommer, is hoe om te voorkom dat hulle teruggewerp word.
In hierdie poging slaag hy byna. Hy stuur ‘n aantal Gordons vooruit om die sentrum te versterk;(41) terwyl die Guards gebruik word om die Boere aan die oostekant te keer. Daar is wel ongevalle, maar minder as 20 sneuwel. Lt.-kol. Alfred Codrington, bevelhebber van die Coldstream Guards, word in die regterenkel getref.(42)
(41)SD tap paras 26-7. Gardyne III, 100-2
(42) Methuen-vrou 14 Des 1899, Meth
Brittanje se eerste markies, maj. Lord Winchester, word doodgeskiet. Later sou gesê word dat hy sy rug na die vyand gekeer het om na die ballon te kyk.(43) Maar Cronjé, soos Methuen, gryp nie sy geleentheid nie.(44) Die skaduwees word korter.(45) ‘n Ramp verander in skaakmat. Manne raak oor hul gewere aan die slaap. Angs wyk nogmaals vir verveling.(46)
(43)Ibid
(44)Sien Kol. Crabbe get RCSAW III, Q 19761
(45)Luit. B. Lang-moeder 14 Des 1899, (sy) PV
(46)TH II, 410-11
En toe, soos ‘n uitgerafelde staalkabel, breek die Highlanders se senuwees skielik.
Tot hierdie oomblik het die meeste van hulle hul ontbering stoïsyns verduur. Sowat 200 man van die Black Watch en die Seaforths het selfs die oostekant van die Magersfontein-koppie bereik, waar hulle gevange geneem, geskiet of deur hul eie kanonkoeëls getref is.
(Enkele groepies het selfs heeltemal toevallig deur die werklike gaping in die Boerelinies gedwaal, waar hulle afkom op sewe Boere, o.l.v. van Cronjé self, wat in die storm verdwaal het. “Skiet, kêrels, skiet hulle,” bulder Cronjé en die Higlanders word aangekeer.(47) Nou, ná nege uur van vrees en verveling, nege uur sonder water in daardie skroeiende son, kan die Higlanders nie meer verder nie.
(47)Breyt II, 139
Omstreeks eenuur stel lt.-kol. James Hughes-Hallett, die Seaforths se bevelhebber, vas dat ‘n aantal Boere om sy regterflank probeer beweeg. Hy beveel twee kompanies om ‘n paar honderd tree terug te kruip.(48) Lt.-kol, George Downman, die Gordons se bevelhebber, gee soortgelyjke bevele.(49) Maar die maneuver word ‘n vloed, en die vloed ‘n stortvloed.
(48)Gardyne III, k103-4, 429-30. Hughes-Hallett se verslag tap OH I, 327
(49)Gardyne III, 103-4
Een van die offisiere beskryf dit so. “Ek het gesien wat ek hoop om nooit weer te sien nie: manne van die Highland Brigade wat die rieme neerlê vir al wat hulle werd is, ander wat vreesbevange onder bossies skuil, agter die kanonne, party het onder hul komberse gelê, offisiere het met rewolwers in die hand jrondgeloop en gedreig om te skiet, party aangespoor, ander geskop; stafoffisiers wat rondgalop en onverstaanbare en onuitvoerbare bevele skree.”(50)
(50)Roger Poore aangehaal Pemberton 105
Die doedelsakke blêr, die offisiere vloek. Die manne, gehoorsaam aan hul instinkte, smelt in die veld weg. Toe die ambulansmanne die volgende dag die dooies en gewondes gaan haal – 902 aan Britse kant, 236 aan Boere-kant – vind hulle Wauchope dood, binne 200 tree van Cronjé se loopgrawe.(51) Maar die meeste van sy brigade het met hul rug na die vyand gesterf.
(51)Gardyne III. OH; I, 327-9, 429-30, 469. Breyt II, 170-4
Van sy hoofkwartier-koppie aanskou Methuen die verwoesting van die Highlanders oënskynlik onbewoë. Miskien het sy eie drome van militêre glorie saam met Wauchope gesterf. Methuen is bitter, maar stoïsyns. Net teenspoed, glo hy – en Wauchope – het hom die oorwinning gekos. Nou “moet daar ‘n sondebok wees”, skryf hy. “Dus moet ek my lot soos ‘n man aanvaar en my mond hou.”(52)
(52)Methuen-vrou 14 Des 22 1899, Meth
Selfs nou is daar ‘n greintjie hoop: die Boere kan dalk gedurende die nag terugval, soos hulle ná die dag by Modderrivier teruggeval het.
Kort ná dagbreek die volgende dag styg die ballon weer op, sy reuse-skulp pienk en goud in die sonlig toe dit die skaduwees verlaat. Kapt. Jones se telefoonboodskap verdryf Methuen se laaste illusies. Die Boere, meesters van die nuwe oorlogstaktiek aan die westelike front, bly in hul loopgrawe sit.(53)
(53)SD tap paras 36-8. OH I, 329-30
—oOo—