BO Botha se strooptog

Botha se Strooptog

Suid-Natal, 9-30 November 1899

“Ek wou in 1899 na Durban kom om piesangs te eet, maar Joubert het my gekeer.”

Louis Botha op ‘n banket in Durban, 1908

Hoofstuk-aanhef Botha aangehaal Barnard 41

— — —

Hoofstuk 15

Intussen sit die Boere oorgehaal om Britse gebied nog dieper binne te ruk. Maar hul oogmerke is veel beperkter as wat Milner in sy obsessie met hul militêre en ideologiese bedreiging ooit sou kon verstaan. As Milner in daardie eerste tien dae van November ‘n spioen in kmdt.-genl. Joubert se laer sou kon hê, soudit wondere vir sy moreel verrig het.

Die arme Joubert dra swaar aan die las van sy eie oorwinnings: ‘n ou man, siek en moeg, wat daagliks met ‘n  menigte probleme moet worstel. Geen hoefysters vir die perde nie, swak en ontoereikende voorrade, die helfte van die burgers oorgehaal om Durban aan te val, die ander helfte reg om die stryd te laat vaar en huis toe te gaan.(1)

(1)Breyt I, 346-7, 362-3

Dit is skaars ‘n oordrywing. En van Kruger en die Uitvoerende Raad kom daar baie min hulp of bemoediging i.v.m. die oorweldigende strategiese vraagstuk: hoe moet die Boere hul oorwinnings eksploiteer ten einde hul eie grense beter te beskerm.(2)

(2)Breyt I, 458-62

Jong burgers soos Deneys Reitz, seun van Kruger se Staatsekretaris, het Joubert tereg as “swak en weifelend” beskou omdat hy nie gewillig was om die vyand aan te val nie.(3) Maar dit is ‘n ope vraag of ‘n jong en briljante generaal soos Louis Botha, wat as Joubert se regterhand ontpop het, in dié stadium veel anders as Joubert sou kon gehandel het, die beslissings van die Boere-politici en die praktiese militêre probleme in ag geneem. Want wat Reits (en trouens ook Milner, Amery en latere Britse historici)(4) nie kon begryp nie, was dat, t.s.v. die aandrang van entoesiaste soos Smuts, die strategie waartoe die twee republikeinse regerings ooreengekom het, ‘n verdedigingstrategie was, nie ‘n aanvalstrategie nie.

(3)D. Reitz 17, 35-6. Viljoen 71

(4)TH II, 48. OH I, 121

Kruger se belangrike politieke oogmerk was ‘n nuwe skikking met Brittanje wat die ZAR ongekwalifiseerde onafhanklikheid sou gee. ‘n Nuwe militêre oorwinning in Natal – ‘n tweede Majuba – sou dit kon bereik, maar in hierdie stadium is die eerste prioriteit, soos dit in 1881 was, om land en volk te verdedig. Vandaar die deurslaggewende feit dat die oogmerk van die 45 000 Boere in die veld by die uitbreek van die oorlog slegs was om die vyand se aanvalle af te slaan.(5)

(5)Breyt I, 153-5. Hy beaam dat slegs 32 000-35 000 Boere by die uitbreek van die oorlog in die veld was

Dit is waar dat Kruger se plan waagmoedig was. Hy en Steyn het aanval as die beste vorm van verweer gekies. Maar hul voorkomende aanslae was nie daarop gemik, soos ‘n werklike offensiewe strategie sou gewees het, om die vyand op syswakste punt te tref nie. Inteendeel. Die oogmerk was om die vyand se sterkste punte te vind en hulle te verwoes.

In hierdie “defensief-offensiewe” strategie moes koloniale gebied om twee redes binnegeval word. Eerstens moes hulle die onmiddellike militêre bedreiging die hoof bied. Dit is nou in sowel Natal as die Kaapkolonie bereik. Hulle het White en sy 12 000 in Ladysmith vasgekeer, Baden-Powell in Mafeking en Rhodes in Kimberley. In dietweede plek moes hulle die beste strategiese posisies aangryp om die verwagte Brtise teenaanval af te weer.

Hierdie teenaanval sou waarskynlik die vorm aanneem van ten minste twee hulpekspedisies, asook van ‘n Britse inval in die Vrystaat langs die klaarblyklike roete uit die suide. Dit is deel van hierdie tweede opgawe waarmee Joubert en Botha nou in Natal worstel: hoe kan hule die ekspedisie wat White kom help, die beste vaskeer?(6)

(6)Breyt I, 153, 166 e.v. Barnard 32-3

Op die middag van 9 November hou die kommandante van die ZAR se Weermag krygsraad in die skaduwee van Joubert se tente by Modderspruit, enkele myle oos van Ladysmith. Daar moet bestek opgeneem word. Die oorlog is nou al ‘n maand aan die gang, en uit sekere oogpunte was hulle welslae skitterend.

Daardie wilde massa ongereelde troepe wat op Krugerdag by Volksrust na Joubert se tent gegalop en hulself hees geskree het van vreugde oor die berig van die ultimatum – hierdie manne het nou die room van die Britse Weermag in ‘n oop oorlog verslaan.

Waarskynlik het hulle Joubert nog steeds toegejuig wanneer hy die rondte doen om die stuk of twintig Boerekampe te inspekteer wat in ‘n groot kring om Ladysmith lê. Die nederlae by Talana en Elandslaagte het die moreel byna glad nie beïnvloed nie, om die eenvoudige rede dat so ‘n klein getal burgers betrokke was.(7)

(7)Reitz 45-7. Sien Viljoen 55-6, 67. Hulle nederlaag is aan lafhartigheid toegeskryf

En tog het Joubert alle rede om hierdie eerste krygsaksies as rampe te beskou, in terme van sowel lewensverlies as verlore geleenthede. By Dundee het genl. Lucas Meyer die eerste groot geleentheid van die oorlog verknoei, nl. om Symons vas te keer. Het Meyer maar een dag gewag voor hy Talana beset het, kon hy aangesluit het by genl. Erasmus se kommando, wat Joubert na die Impati-berg gestuur het. Hoe sou Symons se vier bataljons ‘n aanval uit albei hierdie rigtings kon afgeslaan het?(8)

(8)Breyt I, 233-4. Viljoen 57

Die strategiese dwaling is deur genl. Kock se foute by Elandslaagte vererger. Joubert het Kock beveel om op Biggarsberg vir Symons se mag te lê en wag. Kock het koppig na Elandslaagte opgeruk, waar hy hom roekeloos aan White se aanval blootgestel het.(9) Vandaar Joubert se onvermoë – al sou hy die selfvertroue gehad het om so iets te onderneem – om Symons se mag vas te keer terwyl dit onder bevel van Yule terugval, ‘n oorwinning wat Majuba in die skaduwee sou gestel het.

(9)Breyt I, 260-3. Viljoen 55

En vandaar die buitengewoon hoë koste van hierdie vroeë aksies: 607 burgers dood, gewond of gevange. Hierdie ongevalle (meer as die helfte van hulle die gevolge van Kock se dwaasheid(10)) verteenwoordig, in die woorde van Joubert se amptelike verslag aan Kruger, “’n totale nederlaag so groot as enige wat nog deur die Afrikanervolk gely is”.(11)

(11)Joubert-Reitz 22 Okt 1899, aangehaal Breyt I, 465

Tog is alle oorloë in die laaste instansie ‘n kompetisie in flaters, en Joubert is meer dank aan Sir George White verskuldig as aan sy eie generaals dat al hierdie Britse troepe nou by Ladysmith vasgekeer is. Die vraag is hoe om die verwagte teenaanval te verydel.

Op 9 November se krygsraad lê Joubert die drie hoof-opsies aan sy kommandante voor. Hulle kan die dorp probeer stormloop voor hulp opdaag. Hulle kan hul eie magte verdeel en hulleself al langs die Tugela ingrawe. Hulle kan Natal dieper binnedruk en verdedigingstellings nader aan Durban verken. Joubert self gee die voorkeur aan die derde opsie.(12)

(12)Joubert-Prinsloo 9 Nov 1899, KG 346 (V)/16-17. Engelenburg Botha 28. Barnard 33. Breyt I, 362

Dit kan verbasend klink. Joubert is nog steeds erg bekommerd dat White uit die strik kan losbreek. Op die tweede nag ná die slag van Modderspruit op 30 Oktober was daar ‘n enigsins lagwekkende oomblik toe Joubert, wat nie besef het hoe totaal hy die moreel van White se troepe verbrysel het nie, sy offisiere beveel het om “op hulle hoede” te wees vir ‘n nagaanval; en om halfeen daardie oggend het hy self uit sy tent gekom “om alles vir die stryd in orde te bring”.(13)

(13)Joubert aangehaal Barnard 32. Breyt I, 343

Sedertdien het die sterkte van sy eie troepe gekwyn namate burgers op eie houtjie huis toe is. Wanhopig kabel Joubert aan Pretoria: “Als die H Ed. Regeering mij nu geen steun kan geven, dan moet de zaak op nul uitlopen. …”

“De menschen komen bij stroomen mij vragen verlof voor huislijk belang en ofschoon ik weiger eenig verlof te geven, smelt het getal burgers toch weg. Zelfs geven officieren – om maar een te noemen, V.C. Glas – een voorbeeld van die neiging om naar huis te gaan. Heden morgen komen zulke ernstige klachten over het wegsmelten der burgermacht en gebrek aan burgers mij ter oore, die mij doen beven over onzen toestand.

“Als niet een order van de Regeering uitgaat om alle teruggekeerde burgers onmiddellijk naar hier terug te zenden, dan sal hier binnen kort geen commando meer zijn; en ik verwacht elk oogenblik een nieuwen aanval, daar een groote versterking van troepen aangekomen zijn – 6 tot 7 treinen per dag.

“Ik kan niet anders dan ten strengste aandringen op een onmiddellijke en krachtdadige werk van de Regeering. Ik moet die hulp  hebben en reken dat daarvoor ok 6 tot 7 sneltreinen per dag van Pretoria en elders kunnen komen.”(14)

(14)Joubert-Reitz 1 Nov 1899, Leyds 710. Breyt I, 346-7

Pretoria handel onmiddellik. Die burgers word beveel om na die front terug te keer en die spoorwegowerheid word verbied om passasiers te aanvaar wat sonder vakansiepasse huis toeg aan. Maar veldsiek burgers bly ‘n probleem, en die onvoorspelbare wisselinge in die grootte van Joubert se weermag bly een van die belangrikste bonne van sy swakheid.(15)

(15)Ibid

Waarom het Joubert ondanks sulke probleme so ‘n waaghalsige maneuver as ‘n aanslag op Suid-Natal oorweeg? In die eerste plek het hy dit as baie minder gevaarlik beskou as die eerste opsie, nl. om Ladysmith te storm, wat ‘n “baie riskante besigheid met ‘n erg twyfelagtige uitslag” sou wees.(16) Vroeër op daardie selfde dag was daar trouens ‘n mislukte poging om die Britse linies aan te val. Dit is vir Joubert ‘n bewys dat die burgers nòg oor die organisasie nòg die lus vir so ‘n onderneming beskik.

(16)Joubert-Prinsloo 9 Nov 1899, KG 346 (V). Breyt I, 362

Nietemin is die plan om die Tugela suidwaarts oor te steek, glad nie so ‘n eenvoudige saak nie. Eerstens het die manne se perde nog nie van die spanning van die veldslae herstel nie. Die Vrystaatse kommandante het botweg geweier om suid tetrek. Hulle het hul eie krygsraad gehou en Marthinus Prinsloo, hul kommandant-generaal, het Joubert op 11 November meegedeel dat die Vrystaters veiligheidshalwe noord van die Tugela wou bly.

Ten derde het Joubert berigte ontvang (korrekte berigte) dat die Engelse besig was om die vertraging van tien dae sedert die slag van Modderspruit, te eksploiteer deur versterkings na Natal te bring.(17)

(17)Breyt I, 362-7

Maar hierdie keer bly Joubert vasberade. Met 1 500 Transvalers – al wat bymekaargeskraap kan word sonder om die beleg van Ladysmith gevaarlik te verswak – en 500 Vrystaters wat ondanks Prinsloo se besluit saam is, bereik hy op Maandag 13 November die groot kloof van die Tugela en steek die volgende dag die rivier oor. Die Boere lê dinamiet onder die brug by Colenso ingeval dit later nodig word. Daarna ry Joubert en sy kavalkade oor die gelyk veld, al met die spoorweg op pad na Pietermaritzburg en Durban.(18)

(18)Breyt I, 367-8. Barnard 33-5. Vgl. OH I, 265

Langs Joubert ry Louis Botha. Botha is ongetwyfeld die dryfkrag agter hierdie inval in Suid-Natal. Van al die Boereleiers wat in die loop van die oorlog te voorskyn sou kom, blink die 37-jarige Louis Botha uit. Aan moederskant stam hy van die Voortrekker-adel af; sy oupa, Gerrit van Rooyen, was een van Andries Pretorius se luitenante. Sy pa was ‘n veeboer in Vrede in die noordoostelike Vrystaat.

Louis Botha self is ‘n uiters suksesvolle boer en ‘n puik ruiter. Maar sy opvoeding is gering en sy ondervinding van die openbare lewe beperk. As junior lid van die Volksraad het hy Joubert en die Progressiewe gesteun in hul pogings om Kruger te dwing om meer versoenend teenoor Brittanje en die Uitlanders op te tree. Botha was glo een van die lede wat gestem het teen Kruger se voorstel om die oorlog te presipiteer.

Maar noudat die oorlog daar is, blyk sy natuurlike gawes as ‘n kryger. By Talana het hy hom as een van Lucas Meyer se kommandante onderskei. Ná die slag van Modderspruit is Meyer as invalide huis toe gestuur en deur Botha vervang. Nou is Botha, ‘n seun tussen die patriarge, met sy violet oë en jeugdige lag, die senior veggeneraal onder Joubert se bevel.

(19)Barnard 1-16, 32. Jones Life 34-5, 43-7. Rompel Heroes 127

Teen die aand van die 14de bereik die kavalkade die buitewyke van Chieveley, sowat 20 myl noord van Estcourt. In Estcourt, verneem Joubert, lê ‘n garnisoen van 3 000 Britse troepe, gesteun deur twee groot veldkanonne en vier of vyf kleineres. Dit is minder as wat Joubert gevrees het.(20)

(20)Breyt I, 367

(In hierdie stadium is die meeste van die versterkings wt Buller na Ntal bring, nog op hoë see. Vroeg in November tel die totale Britse mag tussen Ladysmith en die kus 2 300 man, van wie die meeste by Estcourt lê.)(21)

(21)Buller 6 Nov 1899, aangehaal S|J 6 Nov. OH I, 264-5. TH II, 300-2

Maar met ‘n ewe sterk aanvalsmag en minder kanonne is dit nie Joubert of Botha se plan om Estcourt aan te val nie. Hul eerste taak is om die wêreld te verken. As daar onverwags ‘n ryp pruim in hul skoot val, goed en wel. En die volgende oggend gebeur dit. Die pruim is ‘n pantsertein en onder sy passasiers is die jong Winston Churchill.

“Onvoorstelbare dwaasheid,” is Buller se kommentaar toe hy die nuus van die ramp verneem.(22) Die verwysing is na die optrede van die kommandeur van die garnisoen in Estcourt, kol. Charles Long. Op 3 November het die Britse garnisoen wat die uiters belangrike brug oor die Tugela by Colenso moes bewaak, na die veiligheid van Estcourt teruggeskarrel.(23)

(22)Buller-L 16 Nov 1899, VT no 25

(23)SJ 3 Nov 1899. OH I, 263-4

Botha, wat voor in sy kolonne ry, vryf sy oë (so stel mens jou voor). Kort ná dagbreek op 15 November sien hy die trein – 150 man in drie pantsertrokke aan weerskante van die pantser-lokomotief, met ‘n 7-pond-skeepskanon in een van die openinge sigbaar – noord na Chievely stoom. Botha het gou sy planne agtermekaar. Chieveley lê 10 myl noord van die dorpie Frere.

Drie myl verder, net anderkant die brug oor die Bloukransrivier, swenk die spoor regs en gaan teen ‘n helling uit. Dit is hier dat Botha se geselskap van sowat 500 man; uit die Wakkerstroom- en Krugersdorp-kommando die trein dophou (en in werklikheid ook deur die Engelse gewaar word). Toe die trein verby is, rol hulle rotse op die spoor en wag.(24)

(24)Kapt. Haldane 3 Jan 1900, SD  I, 121-3. Botha-vrou 16 Nov 1899, Ley 710 (b). W. Churchill Ladysmith 76-93, My Early Life 257-8

Dit is ‘n belewenis om die stoomtreine te hoor en te sien wat vandag nog hul vragte (nou meestal swart mynwerkers ondrweg na die Rand) oor die deinende veld in hierdie deel van Natal vervoer.

‘n Wolkie bruin rook, ‘n musikale geblêr in die verte en dan die hygende asemhaling van die trein self, telkens gedemp soos dit deur uitgrawings stoom. Daardie oggend, 15 November 1899, was daar ‘n digte mis, maar Botha moet die soet geluide van die pantsertrein kort ná agtuur gehoor het soos dit van Chieveley terugkom en suidwaarts stoom. Hy wag tot dit naby die draai by Bloukransrivier is.

Toe trek sy kanonniers vlugtig op die pantsertrein los. Soos verwag kon word, ry die trein vinniger. Toe swaai dit om die draai en bots honderstebolder teen die rotse op die spoor. Die pantsertrein bly half op die spoor, maar al drie trokke word ontspoor. Die eerste trok, waarin ‘n aantal ongelukkige spoorwegwerkers ry, word heeltemal in die veld geslinger.(25)

(25)Barnard 35-8. Naudé Vechten en vluchten 51-6. OH I, 267-8. TH II, 305-8. Breyt I, 368-9. PPW 152-6

Die skermutseling wat volg, val so reg in Botha se smaak. Van byna ‘n myl ver bestook sy manne die gestrande staal-walvis met kanon- en Mauser-koeëls. Die Engelse skeepskanon word spoedig die swye opgelê. Die omgekeerde trokke bied vir die Engelse weinig skuiling. Party van die soldate vlug oor die veld weg. Hulle word opgespoor en teruggebring. Net die pantserlokomotief slaag daarin om weg te kom, ná ‘n aantal Engelse ‘n halfuur lank heldhaftige pogings aangewend het om die spoor te ontruim. Vyftig oorlewendes (die meeste gewond) en die verhaal van die ramp stoom na Frere terug.(26)

(26)Ibid. Haldane Soldier’s Saga 139-44. Churchill tap

Ná die geveg kabel Botha uitbundig na Pretoria terug. “Ons kanonne was gereed en kon die pantsertrokke gou deurboor. Die lokomotief het weggebreek en swaar beskadig teruggekeer. Vyandelike verliese vier dooies, veertien gewondes en 58 gevangenes, ook ‘n bergkanon (die skeepskanon). … Ons verliese vier lig gewond. … Bloed oral sigbaar. Baie reën. Verkeer in goeie gesondheid. Publiseer. Groete.”27)

(27)Botha-vrou 16 Nov 1899, Ley 710 (b)/541

Nòg hy nòg Joubert verwys na wat later die beroemdste aspek van die skermutseling sou word: dat Winston Churchill een van die gevangenes was. Later het Churchill begin glo dat hy deur Botha in eie persoon gevange geneem is. Hoewel dit nie letterlik waar kon gewees het nie – die man wat hom gevange geneem het, was blykbaar ‘n veldkornet, ene Oosthuizen, bekend as die “Rooi Bul van Krugersdorp”(28) – was Churchill miskien spoedig baie dankbaar dat Botha hom die geleentheid gegee het om roem te verwerf.

(28)Barnard 37-8 haal tel Theron-Reitz 28 Nov1899 aan. Vgl. R. Churchill Churchill I, 461-74. W. Churchill My Early Life 266-71, Ladysmith 96-7

En miskien moes Botha dank aan Churchill verskuldig gewees het. Want dit was blykbaar Churchill se brandende begeerte om ‘n slag te aanskou wat die offisier in bevel van die pantsertrein, Churchill se ongelukkige vriend kapt. Aylmer Haldane, help oorreed het om verder te ry toe hulle op die heenreis die eerste tekens van Botha se strik gewaar.(29)

(29)Sien hoofst. 24 nota 13. Sien ook kol. Long se telegram ingesluit in die verslag van Clery-Buller 17 Nov 1899, Bull (Crediton) kode tels Kis

Hoe ook al, spoedig is Botha en Joubert weer in die rigting van Durban op pad, met ‘n wye draai om Estcourt om die 3 000 man te ontwyk wat glo daar lê en wag. As die Boere wis hoe bedenklik die moreel van kol. Long se manne geword het, sou hulle miskien aggressiewer gewees het. Want dieselfde digte neuwels het die inligtingsdienste val balbei kante benewel – newels wat nooit wegrol nie, hoe helder die son ook al skyn.

In die oë van die Britse soldate – en van latere Britse historici – is Joubert se 2 000 man met twee kanonne opgeblaas tot ‘n ekspedisie van 7 000, met talryke kanonne wat Durban self bedreig. (30) Op 14 November het Long in werklikheid sy tente laat opslaan en sy kanonne op spoortrokke laat laai ten einde haastig pad te gee.(31)

(30)Sien Buller 2 Des 1899, SD I, 21. OH I, 268-70. TH II, 304

(31)TH II, 304-5. Amery Days of Fresh Air 140-1

Hy kon nie weet dat Joubert versigtigheidshalwe sy mag in twee kolonnes verdeel het nie: 500 man onder hom en Botha, 600 onder sy neef, Dawid. Die twee kolonnes moet van weerskante op die spoorlyn suid van Estcourt toesak en die garnisoen van sy basis afsny. Hulle wil daarmee maak soos met Ladysmith.(32)

(32)Barnard 38-9. Breyt I, 372-3

Daardie dag, 16 November, reën dit aanhoudend. Joubert ry in ‘n ligte kapkar ‘n “spaaider”. Dit is so koud, nat, ellendig en modderig dat hy dit oorweeg om die hele ekspedisie af te las. Maar dis onmoontlik om met sy neef Dawid se kolonne te kommunikeer, en hy wil hom nie in die steek laat nie. Somber ry hy voort.

Die 19de is ‘n Sondag, en die Boere bring die grootste deel daarvan in aanbidding deur. Sowoon die manne van die Heidelbergse kommando byvoorbeeld vier dienste by. Op Dinsdag, 21 November, sien Joubert se kolonne eindelik ‘n dun strepie telegraafpale oor die veld marsjeer. Hulle het die spoor bereik. Nadat die spoor verwoes is, word die voorste tente op ‘n koppie naby Willow Grange opgeslaan, ‘n klein dorpie enkele myle suid van Estcourt waarvandaan die spoor sigbaar is. Joubert is dankbaar om by sy neef se kolonne te kan aansluit.(33)

(33)Ibid

Joubert is nog intens bekommerd, en in werklikheid het hy rede om dit te wees. Sonder dat hy dit weet, het sy klein groepie, 2 000 man met twee kanonne en twee Maxims, tussen twee Britse brigades onder genl.-majs. Hildyard en Barton ingeglip, ‘n totaal van 9 700 man met 24 veldkanonne,(34) en dit is nog maar die voorhoede van Buller se leërkorps.

(34)OH I, 269-70, 477

Op 12 November het die Roslyn Castle in Durban vasgemeer. Van toe af stroom Engelse troepie by die loopplanke van die skip af, word in veetrokke gepak, rol in ‘n ononderbroke stroom na die front.(35)

(35)Vir landingsdatums sien SJ 12 Nov 1899, e.v. OH I, 473-6

Die klaarblyklike gevaar is nou dat die twee Britse brigades by mekaar kan aansluit en Joubert en Botha kan uitwis. Maar Barton en Hilyard, wie sebrigades sowat 20myl van mekaar lê, vind kommunikasie onmoontlik terwyl die Boere die spoorlyn beheer.(36)

(36)OH I, 269-70

Die Britse aanval op die aand van 22 November brand dus uit soos ‘n vuur in die reën. In werklikheid is daar daardie aand ‘n woeste donderstorm. Weerlig en hael eis die lewe van een Boer en ses perde, meer as wat die Lee-Metfords kon doodmaak.(37)

(37)Vlgs. Botha het nog een Boer gesneuwel, vlgs. Joubert twee. Joubert-Reitz (no 10) 25 Nov 1899, Ley 711 (b). OH I 271-2. Hildyard se verslag 24 Nov 1899, SD I, 22-3. PPW 166-7. Barnard 40-1. Viljoen 71

Hildyardse mag, daarenteen, het 86 ongevalle by Willow Grange gely (met inbegrip van Percy Fitzpatrick se broer, George, wat as lid van die Imperial Light Horse gesneuwel het.) Met  hul glkroter beweeglikheid en beter gebruik van die terrein, het die Boere ‘n taktiese oorwinning behaal.(38)

(38)Botha-vrou no 39 28 Nov 1899, Ley 711 (c). Barnard 41

Die strategiese vraag is: Wat doen ons nou? In die vreugde van sy oorwinning wou Botha blykbaar na Durban opruk (“om piesangs te gaan eet”, soos hy sy Durbanse gehoor nege jaar later sou meedeel).(39) Maar voor ‘n krygsraad die volgende dag kan vergader, is daar ‘n ongeluk, ‘n ongeluk met verreikende gevolge. Joubert se perd gooi hom af. In hierdie ongeluk doen hy inwendige beserings op waarvan hy nooit ten volle sou herstel nie.(40)

(39)Botha in ‘n toespraak op ‘n banket in Durban 1908. Aangehaal Barnard 41

(40)Joubert-Reitz (no 51) 28 Nov 1899, Ley 711 (c). Barnard 41-2. Davitt Boer Fight for Freedom 250

Daar is nou ‘n algehele ommekeer in die situasie. Ook Joubert se moreel het seergekry. Hy stel onmiddellike terugval voor, anders sal hulle “totaal oorweldig word”.(41) Hy doen nog meer. Hy stuur ‘n merkwaardige, wanhopige kabel aan Kruger: Hulle moet nou op die een of ander manier met die  vyand vrede maak.(42)

(41)Barnard 41

(42)Joubert-Reitz (nos 11 ens.) 25 Nov 1899, Ley 711 (b)

Natuurlik vind Kruger dit ondenkbaar en hy kabel onmiddellik terug dat hulle “lewend of dood” moet volhard.(43) Maar toe die krygsraad op 25 November byeenkom, is die vergadering se besluit ‘n uitgemaakte saak. Joubert moet met ‘n geleide huis toe keer, en die hele Boeremag moet na die Tugela terugval.(44)

(43)Kruger-Joubert (no 25) 25 Nov 1899, Ley 711 (b)

(44)Sien nota 42. Barnard 41. Vgl. TH II, 214

Teen Sondag 26 November het die kavalkade, nou 2 000 perde en beeste sterker – diere wat uit Natal se ryk weivelde gebuit is – Weenen bereik, die nedersetting waar die Zoeloes gedurende die Groot Trek ‘n aantal Voortrekkers in ‘n slagting vermoor het. Baie van die burgers woon die diens in die plaaslike kerk by.(45) Dit is ‘n plegtige oomblik.

(45)Naudé 66-8. Barnard 41

As ‘n reeks taktiese operasies was die strooptog op Suid-Natal ‘n skitterende sukses. Maar die Boere se defensiewe en strategiese posisie is niks beter nie. Hiervoor moet hulle staatmaak, soos Prinsloo en die Vrystaatse kommando’s nog altyd gesê het, op die buitengewone natuurlike hoedanighede van die Tugela as ‘n verdedigingslinie. Die rivier se noordelike walle is een rooi terras op die ander. Op so ‘n plek kan die haas vir die skilpad lê en wag; of, om dit op Kruger se manier te stel, hulle kan nogmaals wag tot die skilpad sy kop uitsteek en dit dan afkap.

Terwyl Joubert met ‘n geleide na Volksrust terugkeer, gebroke in liggaam en gees, neem Botha die opperbevel oor die leër op die Tugela oor. As ‘n koninkryk ooit deur ‘n perd gered is, was dit Kruger s’n. Want noudat hulle hul 68-jarige kommandant-generaal verloor het, ten beste ‘n swak en gedemoraliseerde leier, het die Boere hul mees kritieke operasies toevertrou aan die jongste en mees energieke van al hul generaals, die man wat homself in sy strooptog op Suid-Natal ook as die oorlog se briljantste taktikus bewys het.(46)

(46)Mouton 246-7. Barnard 42-3

Geesdriftig begin Botha die Tugela versterk. Dit is ‘n ontsaglike onderneming, selfs vir ‘ n leër wat oor ‘n onuitputlike voorraad gedwonge swart arbeid beskik – soos by die Boere die geval is.(47) Oor ‘n afstand van 15 myl word geweer- en kanonkuile uit daardie rooi, klipperige terrasse gekap, en oor ‘n afstand van 15 myl word hulle beskerm deur fop-loopgrawe en vals kanonstellings.

(47)P. Warwick tap. Sien ook sendelinge se verslae oor opgekommandeerde naturelle in SPG

Vauban en die groot militêre ingenieurs van Europa sou in hul graf omgedraai het as hulle Botha se onwetenskaplike benadering kon aanskou. Tog is die Tugela-lyn, toe Botha eers daarmee klaar is, ‘n kunswerk. Vyfduisend skutters, gesteun deur 10 veldkanonne, sal die loopgrawe beman. En die Engelse sal binne skietafstand wees voor hulle besef dat ‘n enkele burger daar lê en wag.(48)

(48)Barnard 47

Dit is die einde van November. Die gebeurtenisse van die afgelope maand het die Suid-Afrikaanse oorlogskaart ingrypend verander. As ‘n aanvalsmag het die Boere hul geleentheid gehad. Nou gaan die verskillende afdelings van die Engelse leërkorps ‘n beurt kry om te probeer aanval.

Op die westelike grens het Lord Methuen reeds met 6 000 voetsoldate, 1 000 ruiters en 12 kanonne na Kimberley vertrek. En in die diamantstad is Cecil Rhodes, die Leeu van die Britse Ryk, besig om soos ‘n esel te balk.

—oOo—