Wurmtande

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Mammie het geweet dat iets verkeerd geloop het sodra Marta by die agterdeur ingekom het. Dit was of iets haar sommer vertel het dat die eksamenuitslae  uit was en dat Marta se naam nie daar was nie. Sy wou nie graag iets sê nie, want sy het gevrees vir wat mag gebeur.

"Enige nuus?" het sy versigtig gevra.

"Net slegte nuus," h et Marta gesê terwyl sy haar kop wegdraai en die trap opgaan.

'n Paar minute later het Mammie haar gevolg en - soos sy verwag het - het sy Marta hulende in haar kamer aangetref.

"Die eksamen?" het Mammie medelydend gevra.

Marta het haar kop geknik. "Ek het so hard probeer, dis vreeslik dat ek nie geslaag het nie. Wat sal ek tog doen? Ek voel dat ek alles wil opgee. Ek kan onmoontlik nie weer teruggaan skool toe nie." En toe het sy eers gehuil, so erg dat Mammie amper ook begin huil het.

Na 'n rukkie het Mammie gesê "Marta, jy moet dit nou nie so vreeslik aantrek nie. Ek weet dat jy baie hard gewerk het en dis baie jammer dat jy nie deurgekom het nie. Maar dis nie almal wat 'n eksamen sommer die eerste keer deurkom nie. As almal altyd maklik sou deurkom, sal hulle die eksamens baie swaar maak sodat daar altyd maar iemand sal wees wat die eerste keer uitsak. Kyk, moet nou nie meer huil nie. Volgende keer sal jy seker deurkom."

"Ek wil nie weer probeer nie," het Marta mistroostig gesê, "ek sal maar altyd te sleg wees."

"Nee jy moenie so praat nie. Weet jy dat sommige van die beroemdste manne en vroue van die wêreld baie swaar gekry het om hul eksamens op skool deur te kom. Sommige van hulle het keer op keer uitgesak. Dit is nie die feit  dat mens druip wat van belang is nie, maar of 'n mens opgee omdat jy gedruip het. As ons na elke mislukking die wilskrag het om weer te probeer, dan is die oorwinning vroeër of later verseker en niks sal vir ons onmoontlik wees nie."

Maar Marta het aangehou huil. "Dit sal tog nie help nie," het sy gesnik, "ander mense mag dit gedoen het, maar ek kan nie."

Skielik het Mammie van taktiek verander en gesê: "Marta, het jy al ooit van wurmtande gehoor?"

"Wurmtande?" het sy gevra en toe het daar so 'n effense glimlaggie om haar mond verskyn. "Wurmtande? Wat bedoel Mamma? En wat het dit met h ierdie nare ou eksamen te doen?"

"Wag net so 'n bietjie," sê Mamma terwyl sy na die 41ste hoofstuk van Jesaja gesoek het.

"Luister nou mooi, ek sal eers vers tien lees. Daarin het ons 'n heerlike belofte wat baie sal help wanneer 'n mens moedeloos voel. 'Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou, kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.'

"Is dit nie mooi nie? In vers 13 staan hierdie vertroostende woorde: 'Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou'. Blykbaar was God hier besig om Sy volk moed in te praat om nie op te gee of moedeloos te word omdat dinge verkeerd geloop het nie.

"En nou in verse 14 en 15 kry ons die snaakse uitdrukking: 'Wees nie bevrees nie, wurmpie van Jakob... Kyk, Ek maak vir jou 'n skerp nuwe dorsslee wat baie tande het - jy sal berge dors en fynmaal en heuwels maak soos kaf.' "

"Nou sien ek die wurmtande," het Marta glimlaggend gesê.

"Ja," sê Mammie, "is dit nie 'n baie aanmoedigende belofte nie? God het geweet dat Sy volk nietig en waardeloos gevoel het soos 'n wurm en gedink het dat h ulle niks kon doen nie. En toe het Hy aan hulle gesê Skep nuwe moed! Vertrou op My en probeer weer en Ek sal vir jou tande gee wat sterk genoeg is om berge fyn te kou!"

"Ek het dit nog nooit voorheen in die Bybel gesien nie," het Marta uitgeroep. "Dit is baie aanmoedigend, is dit nie?"

"Dit is en ek glo dat dit daar staan om ons hierdie oomblilk nuwe moed te gee. God lei ons soms deur moeilike plekke om ons te toets, maar nie om ons moedeloos te maak nie. Hy wil hê dat ons alle moeilikhede moet oorwin. Na elke oorwinning wat ons behaal, sal ons sterker wees. Ons sal sulke sterk tande kry dat ons deur die grootste berge van moeilikheid sal kan byt, sê Mammie.

"Mamma," sy haar in die rede geval, "weet Mams wat ek nou op hierdie oomblik dink?"

"Nee, maar ek kan raai, maar ek is darem nie seker nie."

"Wel, ek wens dat ek sommer more weer die eksamen kan skryf!"