Wat God met klein dingetjies kan doen 

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel EEN

deur Arthur S. Maxwell

Oom Attie se Slaaptydstories

Dit is regtig verbasend wat die Here met die kleinste dingetjies kan doen. Hy neem 'n klein akkertjie en maak daarvan 'n groot akkerboom. Van 'n klein saadjie maak Hy 'n appelboom wat genoeg appels dra vir 'n huisgesin. Van 'n klein babatjie maak Hy 'n man wat oor miljoene regeer en groot dade verrig.

En laat ek julle nou vertel van drie klein dingetjies waarvan ons in die Bybel lees wat die here geneem en op 'n merkwaardige wyse gebruik het. Hulle was 'n man se kierie, 'n weduwee se spens en 'n klein seuntjie se ete.

Eerste omtrent die man se kierie. Dit het aan 'n man met die naam van Aäron behoort en dit word in die Bybel Aäron se staf genoem. Waarskynlik het dit soos 'n herder se kierie gelyk, maar dit was maar net 'n stukkie droë hou soos enige ander stok.

Maar eendag toe die mense rusiemaak onder mekaar en begin murmureer teen Moses en Aäron, het die Here hierdie stukkie hout geneem om die getwis te beëindig.

Hy het Moses beveel om die stawwe van die stamme van Israel te neem - twaalf in getal - en hulle saam met Aäron se staf in die tabernakel te plaas en gesê dat indien iets merkwaardigs met een van die stawwe gebeur voor die volgende oggend, dit 'n teken sou wees dat die Here die eienaar van daardie staf erken as die leier van Sy volk.

En wat dink julle het gebeur? Toe Moses die volgende môre in die tabernakel gaan, vind hy dat daar bloeisels en blomme en amandels aan die een staf groei. Hy was seker baie verbaas om dit te sien, want daar het nog nie so iets gebeur nie. Hy sien toe dat dit Aäron se staf is wat die bloeisels en amandels dra Die droë hout het oornag vrugte voortgebring! (Num. 17:6-8)

Moses neem toe al die stawwe uit na die mense toe en wys hulle en dadelik het hulle geweet dat die Here Aäron uitverkies het.

Nou skyn dit vir my dat as die Here 'n droë stuk hout kn neem en dit oornag laat bloei en vrugte dra, Hy sekerlik tog die domste en swakste kinders kan neem en hulle laat vrugte dra in Sy diens - n ie so nie? Ek glo Hy kan!

--- --- ---

Maar nou omtrent die vrou se spens. Daar was byna niks in nie. Al wat sy gehad het, was 'n handvol meel en 'n klein bietjie olyfolie in 'n kan. Dit het vir meer as drie jaar nie gereën nie en daar was dus geen oeste nie en die mense het van honger omgekom. Sy was net van plan om 'n laaste ete van die meel en olile te maak, toe die profeet Elia haar ontmoet het. Hy was ook baie honger en het haar om kos gevra.

Die arme weduwee het geantwoord dat sy omtrent niks oorgehad het nie, dat haar spens feitlik leeg was en met die bietjie wat sy nog gehad het, wou sy vir haar en haar seun 'n laaste ete maak.

Toe vra Elia haar om 'n groot opoffering te maak. Hy het gesê "Maak eers vir my 'n broodkoekie." Dit klink nie mooi van hom nie, maar hy sou dit sekerlik nie gesê het as hy nie vas vertrou het dat die Here die arme weduwee daarvoor sou beloon nie. Hy het haar beloof en gesê "Die meel in die kruik sal nie opraak en die olile in die kan sal nie minder word nie tot op die dag dat die Here reën op die aarde sal gee."

Sy was 'n edele vrou. alhoewel op die punt om van honger om te kom, het sy haar bietjie kos aan 'n ander gegee Die Here het Sy belofte - deur Elia gemaak - gehou. Iets het in die spens gebeur. Ek weet nie wat dit was nie, maar elke keer wanneer die weduwee na die kruik en die kan toe gegaan het, het sy genoeg vir hulle behoeftes gekry. Die kruik was nooit leeg en die kan nooit droog nie. Ek dink die engele moes dit geniet het om hulle weer vol te maak wanneer die vrou nie gekyk het nie!

Maar dink net daaraan - te midde van 'n groot droogte en tussen mense wat van honger omkom,  is die goeie vrou en haar seun van kos voorsien totdat die volgende oes ingesamel is - en dit net omdat sy die Here eerste gestel en alles aan Hom gegee het!

En dink julle nie dat as die Here vir daardie vrou gesorg het, Hy ook vandag vir seuns en dogters kan sorg nie? Natuurlik kan Hy. Maar dan moet ons Hom eerste stel en Hom alles gee wat ons besit...en veral ons harte!

--- --- ---

Maar nou wil julle seker van die seuntjie se ete hoor. Dit is die merkwaardigste verhaal van almal.

Een oggend het 'n moeder in 'n deur in Galilea gestaan en vir haar seun wat die dag in die veld sou deurbring, totsiens gewuif. Sy het vir hom ete ingesit - vyf broodjies en twee vissies.

Speel-speel het hy voortgestap op soek na iets wat hom vir die dag sou besig hou. Skielik bemerk hy 'n klomp mense wat vinnig voortbeweeg het. By sommige van die mense het hy verneem waarheen  hulle op pad was. Toe hoor hy dat die groot Leermeester en Heelmeester, Jesus, na die oorkant van die meer gevaar en dat die mense nou om die meer gehardloop het om Hom daar te ontmoet.

Die seun het besluit om saam met die ander te hardloop, want hy wou graag vir Jesus sien en kyk hoe Hy die siek mense gesond maak. Toe hulle naby die plek kom waar Jesus gestaan het,  het die seun hom tussen 'n baie groot klomp mense bevind. Almal was gretig om so naby Jesus as moontlik te kom. Na 'n groot gesukkel het dit hom geluk om 'n paar tree van Hom af te kom.

Eindellik het hy 'n plek bereik waar hy kon sien wat gebeur en kon luister na wat Jesus sê. So, dit is die Jesus van wie hy so baie gehoor het! Hoe bly was hy nie om Hom te sien nie! Watter sterk dog vriendelike gesig! Watter diep oë!

Verbaas en verskriklik opgewonde het die seun gesien hoe siekes, dowes, stommes en blindes gesond gemaak is en hy het na die lieflike stem van Jesus geluuister. Sy liefde vir hierdie Man is dadelik opgewek.

"Dit is seker die Messias op wie ons so lank gewag het," het hy gedink. "As ek tog maar net met Hom kon praat of Sy hand kon aanraak of vir Hom iets kon doen!" (As hy maar net kon weet!)

Op daardie oomblik sien hy hoe Jesus Hom omdraai na een van die manne naby hom. "Filippus," het Jesus gesê, "waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?" Jesus het die mense jammer gekry.

Dadellik het dit deur die seuntjie se gedagte geflits dat Jesus dalk honger kon wees en dat Hy miskien vergeet het om kos saam met Hom te bring. Hy het aan sy ete gedink. Durf hy? Durf hy?

Net toe sien Andreas die seun gelukkig raak en dit was of hy dadellik geweet en verstaan het waarmee die seun se gedagtes besig was.

"Kyk," het hy vir Jesus gesê, "hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het."

Jesus het na die seun gekyk en gesien dat hy sy ete aanbied. Ek is seker dat Jesus se hart op daardie oomblik aangeraak was, want Hy weet hoe baie seuns van hulle kos hou. Sover dit die seuntjie betref, was hy meer as beloon deur die glimlag van waardering op Jesus se gesig.

Tot die seun se verbasing het Jesus nie die kos geëet nie. In plaas daarvan het Hy dit in Sy hande gehou terwyl hy die mense vra om te sit vir ete.

"Hy gaan tog sekerlik nie probeer om al hierdie mense van my bietjie kos te gee nie," het die seun vir homself gesê.

Maar Jesus was nie in die minste bekommerd oor die menigte wat Hy vir ete gevra het nie. Nadat al die mense dan ook gaan sit het, het Jesus Sy hand opgelig en Sy Vader gevra om die kos te seën. Toe begin hy die garsbroodjies te breek en gee die stukke aan Sy dissipels om aan die mense uit te deel.

Die seun het die broodjies gekyk en hy was verbaas om te sien dat hulle nie dadelik opgeraak het nie - hoe meer Jesus gebreek het, hoe meer het hulle geword. En uiteindelik was daar so baie dat al vyfduisend mense gevoed is. Toe lê daar nog baie stukke op die gras rond wat die dissipels weer in mandjies bymekaargemaak het. En elkeen het 'n mandjie gelykvol krummels opgetel - twaalf mandjies vol!

Hoeveel kos het daardie seuntjie se ete nie geword nie! Wie sou dit ooit kon dink? Nie alleen die seuntjie nie, maar al die mense was versadig. En hoe het dit gebeur? Net deurdat 'n seuntjie sy ete in die hande van Jesus geplaas het.

Miskien het jy nie veel wat jou eie is nie. Miskien het jy nie eens 'n ete wat jy Hom kan aanbied nie, maar jy kan hiervan seker wees: dat dieselfde Jesus wat daardie vyfduisend mense gevoed het, in staat is om alles wat jy Hom wil gee, 'n duisendvoud te kan vermenigvuldig om ander mense te seën.

Probeer net en kyk. Sê nou aan Jesus:

"Neem my lewe, laat dit, Heer / Toegewy wees aan U eer / Neem my hande, maak hul sterk / Vir U reinde liefdeswerk.

"Neem my liefde, dierb're Heer / Aan U voete lê 'ek dit neer / Neem my soos ek tot U kom / En maak my U eiendom."

--- --- ---