Vyf Minute voor Tien

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Nog net een week dan is dit Doreen se verjaarsdag - dink net! Dan sal sy tien jaar oud wees. Mammie het gesê dat sy omtrent "vyf minute voor tien" oud is.

Doreen het gevoel dat sy sommer al groot was en dat sy nou presente moes kry wat pas by "grootmense". Sy het almal ook sommer goed laat verstaan wat sy verwag.

"Sien, Mammie," het sy gesê, "my driewiel is ook nou heeltemal te klein vir my - ek moet nou regtig 'n meisiefiets kry.

En toe, 'n rukkie later het sy gesê, "Mammie, wanneer ek tien is, behoort ek 'n pophuis te hê wat groot genoeg is sodat ek daarin kan gaan, 'n regte huis met deure, 'n trap, 'n kaggel en elektriese ligte."

Verder het sy gesê "En o ja, Mams, my groot pop moet nuwe klere hê - alles van sy hierdie keer."

Mammie het maar geduldig na alles geluister en toe gesê dat sy hirdie jaar regtig nie die geld het nie en dat alles nodig was om die hele gesin te voed en te kleed. Maar dit het gelyk of Doreen dit nie eens gehoor het nie.

"Weet Mammie, wanneer ek tien is, behoort ek ook 'n mooi juwelekissie te hê met pêrels daarin."

"Wat sal jy nie nog alles vra nie, waar kry jy daardie snaakse idee?" het Mammie uitgeroep.

"Wel, Kittie Naylor het 'n string pêrels wat sy aansit wanneer sy na partytjies gaan en grootmense en prinsesse dra mos pêrels."

"Wel Doreen, dit is nie die juwele wat mense prinsesse maak nie," het Mammie geantwoord. "En die pêrels wat Kittie dra, is sommer van plastiek gemaak."

'Wel, dan kos hulle tog seker nie veel nie," het Doreen geantwoord.

"Dit mag wees, maar my ou dogtertjie wil tog seker nie rondstap met sulke valse goed aan nie. Daar is niks wat 'n meisie so goedkoop laat lyk as nagemaakte juwele nie."

"Maar kan ek dan nie 'n string regte pêrels kry nie?"

"My liewe kind, hulle sal meer kos as alles in hierdie huis. Pêrels is baie duur goed. Maar afgesien van die baie geld wat hulle kos, dra mense wat Jesus regtig liefhet, nooit pêrels nie."

"Waarom nie?"

"Omdat die Bybel sê hulle moenie." (1 Tim. 2:9)

"O liewe land," het Doreen gesug. "Dit lyk vir my dat ek nou niks kan hê nie. Ek wens sommer dat ek glad nie 'n verjaarsdag gaan hê nie."

"Ag nee, moenie so praat nie," het Mammie gesê. "Ek sou glad nie verbaas wees as daar tog iets gebeur voor jou verjaarsdag nie."

"My nuwe fiets?" het Doreen gretig uitgeroep.

"Ek glo nie dit sal 'n fiets wees nie, dit sal te veel kos. Maar laat ek nou sien: jy wil baie graag 'n juwelekissie hê, ek mag met Pappie daaroor praat."

"Ag doen dit, Mamma, ek sou baie graag een wil hê" het sy opgewonde gesê.

"Wel, ons sal sien wat gedoen kan word," het Mammie met 'n glimlag gesê.  (Word vervolg)