Verdwaalde Honde

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat daar honderde en honderde honde moet wees wat van hul huise af weggedwaal het, want ek kry so baie briewe van seuns en dogters wat aan my skryf om te vertel hulle hondjie weg is en op wonderbaarlike wyse weer teruggekom  het.

Miskien sal julle sommige van hierdie interessante stories wil hoor wat die kinders aan my vertel het van hulle honde. Die eerste storie is getitel "Hoe Baas Huis Toe Gekom  Het".

Bert, agt jaar oud, was die eienaar van 'n klein bont brakkie met die naam van Baas. Hy het die hondjie baie liefgehad. Eendag, so 'n rukkie 'n sy Pa werk toe is, het Baas besluit om hom te volg. Vir myle het hy gedraf met 'n bergpad na 'n opening in die bos waar Bert se Pa besig was om 'n nuwe huis te bou. Toe hy omkyk, sien hy dat Baas hom gevolg het.

"En toe Baas, wat soek jy hier? Jy moes my nie gevolg het nie, jy moet dadelik terug huis toe," het Pa gesê.

Maar Baas wou nie huis toe gaan nie. Hy het met smekende oë na Pa gekyk.  "Huis toe!" het Pa kwaai gesê.
Baas het toe stert tussen die bene in die rigting van die huis gedraf. Pa het toe met sy werk aangegaan en skoon vergeet van Baas totdat hy laat daardie aand by die huis gekom het.

"Het Pappie vir Baas gesien?" het Bert gevra toe hy hom tegemoet gehardloop het. " Hy was die hele dag nie hier nie."

Toe het Pappie onthou.  "Ja, hy het my vanmore na die berg gevolg, maar ek het hom teruggejaag. Het hy nog nie huis toe gekom nie?"

"Nee Pa, ons het hom glad nie gesien. Miskien het hy seergekry daar in die bos, of moontlik het hy verdwaal."

Bert het hom vreeslik oor die hondjie bekommer en Pappie ook, want die nagte was bitter koud, ver te koud vir 'n hond om buite te slaap. 

Toe Bert gaan slaap, het hy vir Baas gebid. "Liewe Jesus, sorg asseblief vir arme Baas. Hou hom tog warm daar op die koue berg en bring hom veilig terug na my toe."

Die anderdagmore - toe Bert wakkerskrik - het hy 'n geblaf daar onder sy kamervenster gehoor. Bert het uit die bed gespring, die trappies afgehardloop ondertoe. En daar was Baas, heeltemal gesond- 'n mens sou nooit sê dat hy verdwaal het nie.