Verdwaal in die Reent

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Het julle al ooit verdwaal? Nog nooit? Wel dan sal julle ook nie 'n idee kan vorm hoe vreeslik dit is nie.

Miskien het julle al gewonder wat julle sou doen as julle miskien eendag verdwaal. Wel, Anna en haar suster Rita het eendag verdwaal en ek is seker dat julle daarvan sal wil hoor.

Presies hoe oud hulle destyds was, weet ek nie. Sover ek weet, was Anna omtrent agt jaar en Rita vyf. Anna wat dus drie jaar ouer was as Rita, het gedink dat sy 'n grootmens was en dat sy baie goed kon kyk na haar sustertjie.

Albei van hulle was baie lief vir blomme en hulle het een agtermiddag besluit om vir Mammie te gaan blomme pluk in die bos.

Aangesien die bos nie te ver van die huis af was nie, het hulle gemeen dat hulle nie lank sou weg wees nie, daarom het hulle ook aan niemand gesê waar hulle heengaan nie - en wat meer is, hulle wou Mammie verras met die blomme.

Anna is toe daar weg met Rita aan die hand. Dit was ook nie lank nie of hulle het heerlik gehuppel daar in die bosse. Maar die kreupelhout het al digter geword en hulle moes agtermekaar loop in die nou kronkelpaadjie. Verder en verder het hulle gegaan en heeltyd net hul oë oopgehou vir blomme. Hier het hulle 'n klompie gesien en dan weer daar en so is hulle al dieper die bos in met die hoop om nog nog mooier en beter blomme te kry.

Hulle was so bly dat hulle heeltemal alleen kon gaan blomme pluk dat hulle nooit opgemerk het hoe ver hulle loop nie en hoe vinnig die tyd verbygegaan het nie. Ook het hulle nie geweet dat die weer opgesteek het nie, maar dit het.

Eindelik, nadat hulle sowat twee myl ver geloop het, het Rita deur die bome opgekyk. "Hoe donker het dit geword," sê sy.

"Dit het Rita, ek het dit nie voorheen opgemerk nie. Kyk n et daardie swart wolke in die lug! en dit reën - voe jy dit Rita?"

Rita het haar handjie uitgesteek en die reëndruppels het daarop geval. Toe - skielik! - was daar 'n weerligstraal en 'n harde donderslag.

"O!" roep altwee tegelyk en hou mekaar se hande styf vas. "Daar gaan 'n storm wees," sê Anna.

"En ek hou glad nie van storms nie, hulle maak my so bang," roep Rita uit.

Weer was daar 'n helder blits en nog 'n donderslag en toe het die wind gewoed deur die bome asof dit die bome wou omwaai. 'n rukkie later het die reën begin neerplas. En dit het gereent! rita het nou nie meer haar handjie uitgesteek om die reën te voel nie. Sy het nou natgereëm - Anna ook - en naderhand was hulle papnat, hulle hare, hulle klere, hulle kouse en skoene.
"Ons moet dadelik teruggaan huis toe!" sê Anna, vreeslik bang, "Laat ons hardloop!"

Hulle het al plassend deur die modder gehardloop, anna voor en Rita agter. Hulle het sowat vyf minute in die reën gehardloop en kort-kort was daar 'n donderslag. Toe steek Anna vas:  "Waar is ons?" vra sy ontsteld. "Ons het verdwaal. Ek weet nie met watter paadjie ons gekom het nie. O, wat sal ons nou doen, wat sal ons doen?

Toe het hulle albei begin huil dat die trane langs hul wange afstroom. Vir twee of drie minute het hulle daar gestaan en snik. Toe onthou Rita wat Mammie eendag vir haar gesê het.

"Anna, Mammie het gesê dat ons altyd moet bid wanneer ons in die moeilikheid beland en God vra om ons te help. Laat ons nou bid," sê sy vir haar ouer suster.

"Nou ja, goed, laat ons sommer hier kniel en die Here vertel dat ons verdwaal het, miskien sal Hy iets vir ons doen."

Toe het die twee liewe dogtertjies daar neergekniel, papnat en bibberend van die koue en hulle het God gevra om hule weer die pad uit die bos te wys. Toe hulle opstaan, wys anna na 'n sekere krom boom 'n endjie daarvandaan.

"Kyk Rita, is dit nie snaakse boom wat ons gesien het toe ons die bos ingegaan het nie?"

Rita sê dat dit baie daarna lyk en die twee is dadelik daarheen. Daar, by die boom, het hulle die paadjie gevind wat hulle uit die bos gelei het. Sommer baie gou was hulle weer tuis langs die lekker warm kaggelvuur.

"Mamma," sê Rita met 'n glans in haar blou ogies, "ons sou nooit die pad terug gevind het as Jesus dit nie vir ons gewys het nie."