Vader van ons Veldmagte

As "Uncle George" besiel genl. Brink sy manne, maar deurskou ook militêre situasies met die skerp oog van 'n professionele soldaat

Onder Suid-Afrika se voorste militêre leiers in Wêreldoorlog II staan vier manne kop en skouers bo die ander uit. Hulle is lt.-genl. G.E. Brink en maj.-genl. F.A. Theron, D.H. Pienaar en W.H.E. Poole - almal beroepsoldate. Waar Frank Theron, 'n bobaas-administrateur en diplomaat in uniform, net 'n kort rukkie in 'n gevegspos was terwyl hy die bevelvoerder van die 2de S.A. Divisie afgelos het, was die ander drie almal bevelhebbers van divisies in operasies teen die vyand. Uit 'n breë militêre oorpunt en wat betref ervaring en insig in die globale militêre probleme wat Suid-Afrika die h oof moes bied, was George Brink, ' n Vrystater van geboorte, moontlik uniek. Ander was miskien swieriger op die slagveld of skouspelagtiger in aksie, maar geeneen kon vir sy begrip vir die Suid-Afrikaanse militêre organisasie die kers vashou nie.

George Brink, seun van 'n eertydse l anddros en myninspekteur op Jagersfontein, is op 27 September 1898 gebore. Een van sy helderste herinneringe aan sy kinderdae was 'n besoek van die orkes van die Cape Town Highlanders. Hy was net 10 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 uitbreek. Ná 'n rukkie in Boemfontein het hy dertien maande van sy ontvanklike jeug deurgebring in 'n konsentrasiekamp by Vredefortweg, nou Greenlands. Daar het hy by een geleentheid tydens 'n besoek van genl. Christiaan de Wet 'n rukkie dié beroemde boereleier se perd o pgepas - iets wat 'n blywende indruk op hom sou laat.

Sy ervarings in die konsentrasiekamp het geen spoor van bitterheid in die jong Brink se hart gelaat nie en ná die vrede is die familie terug na Bloemfontein, waar hy sy skoolopleiding in 1908 aan Greykollege voltooi het. Ná skaars vier maande in die Vrystaatse Departement van Opvoeding, word die 19-jarige Brink in april 1909 aangestel as private sekretaris van die kolonies se kommissaris van polisie. 'n Jaar later bedank hy egter en sluit hom aan by die personeel van die Diamantmynmaatskappy Voorspoed in die distrik Kroonstad. Drie jaar later - met Uniewording agter die rug - word 'n Staande Mag op die been gebring en in Au gustus 1913 sluit Brink hom by die Departement van Verdediging aan as stafklerk vir kol. Ben Bouwer op De Aar.

'n Jaar later breek Wêreldoorlog I uit en in Oktober 1914 word Brink tot offisier bevorder en opgeneem in die staf van die bevelvoerende offisier, Suidelike Mag, met die hoofkwartier op Upington. In aktiewe diens neem hy deel in operasies teen genl. J.C. Kemp se rebelletroepe en dien 'n rukkie in die staf van kol. (later lt.-genl. sir Jacobus) Van Deventer, vir wie hy as k ind by Jagersfontein l eer ken het. Vroeg in 1915 word Brink staf-kaptein in die 10de Berede Brigade onder kol. Bouwer, wat aan die hoof van een van Van Deventer se vyf kolonnes na Suidwes opgeruk het. Nadat hy tot brigade-majoor van die formasie bestaande uit 'n paar kommando-eenhede bevorder is, word Brink deel van gel. Smuts se Suidelike Mag wat Keetmanshoop beset. Hy word eervol vermeld en met die Franse Croix de Guerre (avec palme) vir sy dienste vereer.

Ná sy terugkeer uit Suidwes op 12 April 1916, sluit hy hom aan by die 1ste S.A. Berede Brigade as stafkaptein van brig.-genl. Manie Botha, 'n veteraan van die Tweede Vryheidsoorlog wat Van Deventer opvolg toe laasgenoemde in Maart 1916 bevelvoerder van die 2de S.A. Divisie word. Hy neem deel aan genl. Smuts se Oos-Afrika-veldtog, wat uitloop op die besetting van die Sentrale Spoorweg tot by Kissaki in September 1916. Toe die Suid-Afrikaanse troepe uit Oos-Afrika onttrek word, keer Brink as brigade-majoor ná versekeie malaria-aanvalle met siekteverlof na Suid-Afrika terug.

Later word lt.-genl. Van Deventer aangestel as bevelvoerder van al die geallieerde troepe in Oos-Afrika en word Brink GSO II in sy staf. Hy dien in hierdie hoedanigheid tot die finale operasies teen genl. Von Lettow-Vorbeck se magte.

Brink, wat vlot Engels kon praat, word onmisbaar as Van Deventer se tussenganger met sowel sy senior staf as sy bevelvoerder en in die proses kry hy 'n insig in die metodes van hoë bevelvoering - iets wat 'n betreklik junior offisier selde te beurt val. Hy word deur Smuts en Van Deventer eervol vermeld en met die Distinguished Service Order vir sy dienste vereer. In  hierdie diens raak hy vertroud met 'n soort oorlogvoering waarmee Suid-Afrikaanse troepe eers 'n geslag later weer te kampe sou hê.

Nadat hy met die planne vir demobilisering gehelp het, word Brink einde 1919 na Engeland gestuur op 'n kursus aan die Imperial Staff-kollege by Camberley, ongetwyfeld indertyd die voortreflikste instelling van sy soort ter wêreld. Daar is sy hoofinstrukteur sir John Dill, wat later veldmaarskalk, Hoof van die Imperiale Generale Staf en die Britse verteenwoordiger in die Komitee van Gekombineerde Stafhoofde in Washington gedurende Wêreldoorlog II sou word. Hy het die lesingsale gedeel met manne soos die latere veldmaarskap Montgomery, dié se seëvierende voorganger in Noord-Afrika, sir Richard O'Connor, en 'n toekkomstige opperbevelvoerder in die Midde-Ooste, genl. sir Bernard Paget. Om militêre probleme met manne van hierdie kaliber te bespreek, was beslis 'n benydenswaardige voorreg.

In die geselskap van die knapste militêre van sy tyd het George Brink dus 'n ruimheid van blik ontwikkel wat beswaarlik deur ander Suid-Afrikaanse offisiere oortref sou kon word. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1921 word hy adjudant en instrukteur in administrasie aan die Suid-Afrikaanse Militêre Kollege te Roberts Heights (later Voortrekkerhoogte).

'n Kort dienstydperk in die staf van lt.-genl. Van Deventer volg gedurende die Opstand aan die Rand in 1922, maar vir die daaropvolgende dertien jaar dien Brink by die Mililtêre Kollege, waar honderde offisiere en onderoffisiere in die Staande Mag en Burgermag uit sy aansienlike militêre kennis en ervaring kon put. Hy was vir nege jaar instrukteur in taktiek en het 'n diepgaande invloed uitgeoefen op die toekomstige bevelvoerders van duisende Suid-Afrikaners. In 1933 word hy bevelvoerder van die Kollege en sy intieme kennis van die vermoëms en tekortkominge van die Suid-Afrikaanse magte en van die persoonlikhede van die land se beste offisiere sou moeilik oortref kon word.

Vroeg in 1933 stig die energieke nuwe Minister van Verdediging, mnr. Owald Pirow, die Spesiale Diensbataljon op 'n kritieke tydstip in die land se geskiedenis toe werkloosheid weens die Depressie dringende aandag verg. Op 1 Mei 1933 word hierdie nuwe eenheid van die Staande Mag op die been gebring met  lt.-kol. George Brink as sy eerste bevelvoerende offisier. In hierdie hoedanigheid sou hy die fondamente lê van een van die beste gereelde eenhede in die land.

Geen Suid-afrikaanse beroepsoffisier sedert Wêreldoorlog I sou in 'n beter posisie wees om eerstehandse regimentservaring met infanterie op te doen nie. In sy daaropvolgende swe maande waak hy, benewens sy ander verpligtinge, oor die ontwikkeling van hierdie voortreflike bataljon. Ná 'n kort rukkie onder die bevel van lt.-kol. Piet de Waal kry die S.D.B. 'n nuwe bevelvoerder in die persoon van maj. W.H.E. Poole, wat 'n paar jaar later ook roem souo verwerf.

Ein de 1933 word kol. Brink na Kaapstad verplaas as bevelvoerende offisier van die Kaapse Kommandement, waar sy kennis en aangebore vermoë om wedersydse begrip te bewerkstellig, 'n groot rol sou speel in die skep van goeie verhoudinge met die Britse Vloot by Simonstad, waar noue samewerking binnekort belangriker as ooit sou wees.

In Februarie 1937 word een van die belangrikste take waarmee enige Suid-Afrikaanse offisier ooiot te kampe gehad het, aan Brink toevertrou. Hy word na Europa verplaas in 'n stadium toe internasionale betrekkinge reeds op breekpunt was weens Italië se besetting van Abessinië, die burgeroorlog in Spanje en die opkoms van Nazi-Duitsland. Sy taak in Europa is om die organisasie, toerusting en opleidingsmetodes van die leërs van Brittanje, Duitsland, Italië, Frankryk en Denemarke te bestudeer en daaroor verslag te doen.

Op 2 April 1937 vertrek Brink uit Engeland na Berlyn. Ná 'n paar ongemaklike vrae oor Suid-Afrika se moontlike politieke motiewe, word Brink se sending verwys na veldmaarskalk Werner von Blomberg, Hitler se Minister van Verdediging, wat binne 'n paar maande verantwoordelik sou wees vir die opstel van "Plan Groen", die meesterplan vir 'n verrasingsaanval op Tsjeggo-Slowakye. In Hamburg is hy verbonde aan die 69ste Infanterieregiment, waarvan die veteraan Von Lettow-Vorbeck die ere-kolonel was. Hy probeer Duits so goed as moontlilk onder die knie kry, besoek die infanterieskool by Doberitz, woon H itler se verjaardagparade by en is in byna daaglikse kontak met die offisiere, onder-offisiere en maskappe van die Wehrmacht. Hy verlaat Duitsland met 'n veel deegliker kennis van die Duitse militêre metodes en organisasie as enige ander Suid-Afrikaner tot op datum.

Binne twee jaar - waartydens tevergeefs probeer is om Suid-Afrika militêr paraat te kry - raak Brittanje en Frankryk in 'n oorlog teen Duitsland betrokke. Drie dae later sluit Suid-Afrika hom by hulle aan. George Brink word brigadier-generaal, Direkteur van Leërorganisasie en Opleiding en Assistent-stafhoof van maj.-genl. Pierre van Ryneveld, wat- al sy ander vermoëns ten spyt - hoofsaaklik 'n lugmagman sou bly, hoewel uiters gewigtige pligte as opperbevelvoerder van die Unie-Weermag aan hom opgedra is.

Die Staande Mag was in dié stadium net 3 353 offisiere en manskappe sterk, met inbegrip van sowat 800 lugmag-vakmanne en 1 720 jeugdiges in die S.D.B. wat te jonk vir aksie aan die front was. Net vier uit die meer as 300 offisiere was ten volle as stafoffisiere opgelei en Brink was een van die vier. Hy was verantwoordelik vir vyf onderafdelings i n beheer van leëropleiding, met inbegrip van kusverdediging, veldartillerie-opleiding, infanterie-opleiding en die ingenieur- en seindienste. Daarby moes hy die mobilisering en stigting van die toe nog nie-bestaande Mobiele Veldmag koördineer.

Die Aktiewe Burgermag se veronderstelde 27 bataljons het uit 13 490 manskappe bestaan, sowat 12 400 minder as oorlogsterkte. Die skame Reserwemag was minder as 14 000 man sterk. met die uitsondering van gewere, was daar 'n belaglike tekort aan toerusting. Hoewel 648 mortiere vereis is, was net 23 beskikbaar. Daarby was daar 'n tekort van 833 Bren-masjiengewere en het die weermag net twee uitgediende tenks en twee eksperimentele pantserwaens ghad. Van moderne kanonne was daar geen sprake nie.

Op hierdie wankele fondament moes brig.-genl. Brink dus 'n opgeleide leër bou, terwyl Pretoria hom reeds toenemend begin kwel het oor 'n aanval op die Rand deur 'n vyandelike mag wat moontlik by Lourenço Marques, soos Maputo destryd bekend gestaan het, kon land. Aan Brink is die taak opgelê om ' n plan uit te werk vir die besetting van dié Portugese hawe as dit nodig sou wees, maar sy "Z"-plan was só geheim dat byna niemand - selfs lank nadat dit oorbodig geblyk het - daarvan geweet het nie.

Teen Maart 1940 was Brink en sy staf reeds vier maande lank hard aan die werk met die opstel van 'n program vir 'n mobiele veldmag en die skepping van eenhede, waarvan baie nog in die vormingstadium was. Toe word Suid-Afrika deur die Britse Departement van Oorlog, wat uiteindelik die moontlikheid van Italiaanse aggressie ingesien het, meegedeel dat Kenia so gou as moontlik versterk moet word. Genl. sir Archibald Wavell, hoofbevelvoerder, Midde-Ooste, vra vir minstens 'n Suid-Afrikaanse brigade en lugsteun.

Soos verwag is, het Mussolini, wat ná die val van Frankryk die oorlogsbuit met Duitsland wou deel, sy gewig agter sy Nazi-trawante ingegooi. Op 11 Junie 1940 verklaar Suid-afrika amptelik oorlog teen Italië en agt dae later neem kol. D.H. Pienaar die bevel van die 1ste S.A. Infanterie-brigade oor. Op 24 Julie bereik hulle Mombassa en op 30 Augustus 1940 word die 1ste S.A. Divisie gevorm onder brig.-genl. George Brink met die 1ste, 2de en 5de S.A.Brigades onder sy bevel. Lt.-kol. W.H.E. Poole is die divisie-bevelvoerder se senior stafoffisier (GSO I). Kort daarna is Poole weer as bevelvoerder van die Militêre Kollege aangestel en hy is opgevolg deur kol. S.J. Joubert, 'n man wat Brink as 'n uiters bekwame stafoffisier beskou het. Steve Joubert het self kort tevore 'n lang strafkursus aan Camberley voltooi, was ook aan die Duitse Weermag verbonde en het 'n rukkie in Italië deurgebring. 'n Beter kombinasie was beswaarlik moontlik.

Die Minister van Verdediging (nou genl. Smuts), die Hoof van die Generale Staf en die Advieskomitee vir Verdediging het almal gevoel dat die land, met sy 115 000 militêr beskikbare blankes, twee divisies in die veld kan stoot. In die lig hiervan is die 2de en 3de S.A. Divisie gevorm en 'n Berede Kommando-divisie is ook byeengebring. Brink het openlik gemeen Suid-Afrika se vermoëns word hopeloos oorskat, maar sy menings is steeds veronagsaam. Uiteindelik sou bly dat hy reg was.

Eers op 20 Oktober 1940 word Brink bevorder tot generaal-majoor - iets wat al lank moes gebeur het. Daarop vlieg hy na Oos-Afrika, waar die 1ste S.A. Brigade deur 'n kolonel, pleks van 'n brigadier, aangevoer word. Omdat die meeste van die hulptroepe uit Suid-Afrika en die twee plaaslike Afrika-divisies beswaarlik van dieselfde kaliber was, wou leiding van die Oos-Afrika-mag graag dié magte met Suid-Afrikaanse eenhede versterk en teen 25 Oktober staan genl.-maj. Brink reeds voor die sombere moontlikheid dat hy die 1ste S.A. Brigade uit sy eie divisie moes afstaan.

Einde Oktober is lt.-genl. Alan Cunningham aangestel as bevelvoerder van die Oos-Afrika-mag. Hy daag saam met genl. Smuts in Nairobi op ná 'n konferensie in Khartoem. Dáár is besluit om nou aktief in Oos-Afrika op te tree en op 11 November land genl.-maj. Brink se hoofkwartier van die 1ste S.A. Divisie in Mombassa aan. Die 1ste S.A. Brigade bly egter aan een van die twee Afrika-divisies verbonde. Die 2de en 5de S.A. Brigades word oos van die Rudolf-meer ontplooi en die onopgeleide 25ste Oos-Afrika-brigader met net twee bataljons ten weste daarvan.

Destyds is dit as byna onmoontlik beskou om Addis Abeba deur die onherbergsame en barre Italilaanse Somaliland te bereik. Met Djiboetji in die hande van die Vichy-Franse en derhalwe ontoeganglik vir die Geallieerdes, was daar geen regstreekse toegang uit die ooste n ie. Genl. Wavell se plan was dus om die Abessiniese guerrillas op te stook, gepaardgaande met 'n stoot uit Kenior noord en noord-oos van die Rudolf-meer.

Hierdie belangrike front het genl. Cunningham toevertrou aan Brink, wie se mag hy as die belangrikste faktor in die noordwaartse opmars na Addis Abeba beskou het. Ander operasies is ondergeskik beskou. Brink, wie se ervaring, troepe en toerusting vir mobiele operasies in Oos-Afrika ongeëwenaard was, het dadelik aan die werk gespring. Tot sy beskikking het cunninham altesame 77 000 manskappe gehad, van wie 27 000 Suid-Afrikaners was. Saam met kleiner magte in die Soedan, moes hulle meer as 291 000 aan Italilaanse kant die hoof bied.

brink se taak, wat in die lig van die daaropvolgende dramtiese gebeure byna vergeet is, was inderdaad een van die grootste kombinasies van administrasie en gevegspogings wat duer 'n Suid-Afrikaner op eie houtjie uitgevoer moes word. Dié taak het die beweging van duisende manskappe en voertuie met al hul toerusting, ammunisie en voorrade oor honderde kilometers ongekarteerde land behels. Op die grootste deel van die tgerrein wat hy moes oorsteek, het 'n motorvoertuig nog nooiot 'n spoor gelaat nie. Alles moes van opslagplase ver van sy agterhoede gebring word oor paaie en roetes wat tot en met sy opmars nog nooit behoorlik verken is nie. Hierdie groot bedrywigheid wat in toestande van versengende hitte en stortende reën plaasgevind het, was alleen moontlik deur die vernuf van George Brink en sy staf.

Middel Desember 1940 is die buitepos El Wak ten ooste van die 1ste S.A. Divisie aangeval, maar dit het min uitwerking gehad op Brink se front, waar hy meer verpligtinge as 'n gewone divisie-bevelvoerder op sy kerfstok gehad het. Maar ná oorleg met genl. Cunningham op 9 Januarie 1941 het hy sy eerste operasie-bevel vir 'n inval in Suid-Abessinië uitgereik. Daar was geen ondervinding of behoorlike feite waarop hy sy oordele en besluite kon baseer nie. Daarby het die inval 'n paar voorbereidende stappe geverg in 'n land waaroor daar nog nooit tevore geveg is nie.

El Jibo en El Sardu is beset. 'n Groot armada troepdraers geskuts en voorradevoertuie het Abessinië oor die golwende grasvlaktes en boswêreld binne gerol. Banno is beset nadat die 2de en 5de S.A. Brigader Gorai, El Gumu en Hobok platgevee het. ' n Ongelukkige misverstand of foutiewe interpretasie van Brink se bevele het daartoe gelei dat die aanval van die 2de S.A. Brigade op die vesting Mega nie net laat was nie, maar ook uit 'n verskillende rigting as dié waaruit die 5de S.A. Brigade dit verwag het. Desondanks het die Suid-Afrikaners ná 'n stryd in die bitter koue en reën die vesting teen 18 Februarie verower. Terselfdertyd het die 1ste S.A. Brigade verskeie kilometer suidooswaarts daarvan begin met die oorsteek van die Juba-rivier in die operasies naby Kismayu.

Teen 24 Februarie 1941 - die dag waarop genl. Wavell genl. Cunningham beveel het om die 1 290 km na Harar op te ruk en, indien moontlik, die verbindingsllinie tussen addis Abeba en Djiboeti af te sny - was Brink se troepe reeds in Mojale. Die Italilaners se belangrikste vestings aan die Suid-Abessiniese front oos van die Rudolfmeer is voor die begin van die reënseisoen in die hande van die Oos-Afrika-magte. Dus was die 1ste S.A. Divisie, net toe genl. Wavell 'n desperate behoefte aan versterkings in die Midde-Ooste gehad het, vir verdere operasies beskikbaar.

'n Gulde geleentheid vir 'n verdere oopmars in Oos-Afrika het nou op genl. Cunningham gewag en hy het dit alreeds begin oorweeg om al drie Suid-Afrikaanse brigades onder Brink te gebruik vir 'n opmars deur Italiaans-Somaliland na Harar voor die reën begin. Die 1ste S.A. Brigade, wat by die 12de Afrika-divisie ingedeel is, is in reserwe gehou en op 27 Februarie 1941 vlieg Brink self van Kunchurro na Mogadisjoe om verdere planne met genl. Cunningham te bespreek voor sy oorleg met genl. Smuts en lt.-genl. sir Pierre van Ryneveld in Nairobi. Teen 4 Maart, toe Brink weer na sy eie hoofkwartier terugkeer, is bevele reeds gegee vir voorbereidende bewegings deur die 2de en 5de S.A. Brigades, terwyl die Oos-Afrika-divisie die Mega-Moyale-sektor oorgeneem het.

Drie dae later word 'n beraad in Kaïro gehou tydens een van die krisisse wat die lot van so baie mense gedurende die oorlog sou bepaal. Rommel en die Duitse Afrika-korps het in Cirenaika aangeland. Op 7 Maart 1941 ontmoet genl. Wavell mnr. Tnhony Eden, Britse Minister van Buitelandse Sake, genl. Dill, opperbevelvoerder van die Imperiale Generale Staf, genl. Cunningham en genl. Smuts en tydens hierdie ontmoeting word die opmars van die 1ste S.A. Divisie afgestel. So het die noodlot Brink beroof van die roem wat hy kon verwerf het deur die weg na Addis Abeba en daarvan na die Rooi See te baan.

Omdat petrolvoorrade by Mogadisjoe gebuit is, kon die noordwaartse opmars deur Italiaans-Somaliland dadelik begin. In plaas daarvan dat die 1ste S.A. Brigade egter weer by sy moeder-divisie aansluuit, word dit geplaas onder die bevel van genl.-maj. H.E. de R. Wetherall van die 11de Afrika-divisie. Wetherall ruk o p, beset Addis Abeba en stuur die 1ste S.A. Brigade noordwaarts om aan te sluit by die Soedan-mag by Amba Alagi. Die strategiese doelstelling van die Oos-Afrika-veldtog was hierdeur bereik: Die roete oor land na Massawa uit die suide is oopgestel en die laaste bedreiging vir Geallieerde skepe in die Rooi See is uit die weg geruim.

Begin Mei kom Brink se divisie-hoofkwartier en die 5de S.A. Infanterie-brigade uit Mombassa in Egipte aan. Dit was in 'n tyd toe rommel Tobruk vergeefs beleër het.

Van al die destydse Suid-Afrikaanse offisiere was Brink moontlik al een wat die ervare Britse senior bevelvoerders op gelyke voet k on ontmoet, maar hy vind die toestande in Egipte baie verskillend van dié in Suid-Abbessinië. Kort voor lank laat hy sy troepe intensiewe woestynopleiding ondergaan om hulle vir hul nuwe rol toe te rus. Dit sou baie tyd verg om nie net die individuele soldate nie, maar ook eenhede en hele brigades en die divisie op te lei in woestynoorlogvoering, wat ingrypend verskil het van alles wat hulle tevore geleer het.

Op 15 Mei word "Operasie Brevity" van stapel gestuur deur eenhede onder brig. W.H.E. Gott. Dit misluk egter en teen 21 Mei, toe voorgestel word dat die 5de S.A. Brigade na Mersa Matruh verskuif word om by die 6de Britse Divisie aan te sluit, loop Brink weer eens die gevaar dat sy divisie verbrokkel word. Gedagtig aan wat in Oos-Afrika gebeur het, skop Brink vas: in so ' n geval sal hy 'n kabelgram aan veldmaarskalk Smuts - wat pas bevorder is - stuur en voorstel dat sy hele divisiestaf herroep word.

Nadat die saak uiteindelik verwys is na die Geallieerde opperbevelvoerder in die Midde-Ooste, is Brink se hele divisiena Mersa Matruh verskuif, waar hy die bevelvoerder van die vesting word, met nie net sy eie troepe nie, maar ook die Onafhanklike Poolse Karpatiese Brigade en die 2/2 Australiese Masjiengeweer-bataljon onder sy bevel. Was dit nie vir hierdie besluit nie, sou die Suid-Afrikaanse magte waarskynlik geen noemenswaardige rol speel in die Modde-Ooste nie, waar "Uncle George", wat die belange van sy divisie met hand en tand beskerm het, al gou groot respek onder sy troepe begin afdwing het.

In Junie 1941 word Brink se divisie verder versterk deur die 2de S.A. Brigade uit Berbera. Brig. W.H.E. Poole, wat aanvanklik dleur Brink self as sy senior stafoffesier gekies is maar hoegenaamd geen gevegservaring gehad het nie, neem die bevel van die brigade oor.

In daardie stadium was die amptelike getalsterkte van Brink se eie divisie 24 108, van wie 13 073 blankes. Dit was die mees ervare gevegsformasie wat Suid-Afrika tot nog toe in Wêreldoorlog II in die veld gestoor het, hoewel die nie-blankes maar swak opgelei was.

Binne drie weke skryf Brink aan sy eie opperbevelvoerder en eerste minister, veld. Smuts. Hierdie stap sou skaars moontlik wees vir enige Britse divisie-bevelvoerder, wat 'n klein ratjie in 'n enorme militêre masjien was. Brink se oordeel van die situasie in die woestyn en van Suid-Afrikaanse troepe in die besonder was 'n klassieke konstatering van feite, waarvan te laat en te min nodisie geneem is.

"I am of the opinion," het genl. Brink verklaar, "that two South African Support Groups would be of infinitely greater practical value up here than our two big infantry divisions." Met verwysing na die mislukte "Battleaxe"-offensief, wat 'n maand ná die mislukking van "Brevity" van stapel laat loop is, wys hy daarop dat dit "failed to succeed for one reason only, and that was because the enemy threw a superior armoured force against ours while he had in reserve sufficient armoured  unites to carry out a wide flanking movement...

"To put my meaning in a nutshell, it is futile to put bare-chested infantry against armour or against highly organised defensive positions such as we have in this theatre."

Nadat Brink verneem het van 'n aantal amerikaanse tenks wat weldra in die Midde-Ooste verwag is, het hy veldmaarskalk Smuts aangeraai om aan te dring op die vorming van gepantserde eenhede op die destydse Britse patroon.

Teen die tyd dat daarwerklike stappe gedoen is met die toepassing van hierdie wyse raad te begin, het genl. sir Claude Auchinleck genl. Wavell in die Midde-Oosterse hoofkwartier vervang. Genl. Cunningham, wat pas uit Oos-Afrika teruggekeer het, was in bevel van die pas gevormde 8ste Leër , en die 1ste S.A. Divisie is in November 1941 by die "Crusader"-offensief betrek. Brink self het heeltemal tereg gevoel dat sy swak toegeruste divisie steeds nie goed genoeg opgelei was vir so 'n operasie nie. Sy dilemma het egter in dié keuse gelê: Hy kon hulle òf in aksie bring, òf daarvan beskuldig word dat hy 'n gebrek aan veggees onder die Suid-Afrikaners goedkeur. In albei gevalle sou hy verantwoordelik gehou word. Ná drie ekstra dae vir opleiding tree die divisie met twee brigade-groepe tot die stryd toe.

Teen 23 November 1941 is die 5de S.A. Brigade so te sê uitgewis by Sidi Rezeg, waar hulle onder die bevel van genl.-maj. Gott was. Gott het sy pantsers wat die Duitse Afrika-korps moes vernietig, verdeel en daarmee hul lot beseël.

Die verplettering van hierdie brigade-groep was 'n harde slag vir Brink, wie se een brigade - die 2de onder Poole - reeds sonder sy amptelike medewete uitgestuur is na Mersa Matruh om die 2de S.A. Divisie by te staan in dié se lustelose operasies teen geïsoleerde vyandelike garnisoene.

Gelukkig is die vyandelike magte kort daarna tot by El Agheila teruggedryf.

Teen Januarie 1942 was die toetrede van Japan en Amerika nie net 'n voldonge feit nie, maar was Rommer se Panzergruppe Afrika, wat binnekort as die Panzerarmee bekend sou staan, weer besig om die 8ste Leër op te keil. Selfs op die Egiptiese front is koorsagtige pogings aangewend om die vyand se hernieude opmars te stuit. Die situasie was al erg kritiek toe Brink beveel is om 'n brigade-groep en 'n verkenningsbataljong uit te stuur. Op 27 Januarie verlaat hy Mersa Matruh met sy eie hoofkwartier, die 1ste S.A. Brigade, die 3de Verkenningsbataljon en ander troepe. 'n Groot tekort aan vervoer kniehalter hom. Twee dae later meld hy by XIII Korps aan, op 'n tydstip dat die triomfantelike vyandelilke magte reeds vinnig na Tobruk opruk.

Brink se opdrag was om defensiewe posisies voo te berei in 'n linie, 18 km lank, van die platorand wes van die Gazala-inham tot by Alam Hamza en daarna 'n agterhoede-posisie 20  km verder o os. Brink se  unieke deeglikheid blyk uit die wyse waarop hy hierdie opd5rag uitgevoer het, want daarmee het hy die fondamente gelê van wat die sterkste bastion van die Gazala-linie sou word. Dit was 'n reeks posisies wat nooit deur die Duitse of Italiaanse magte deurdrin kon word nie, hoewel dit uiteindelik op bevele van bo ontruim is.

Met stabilisering van die situasie in Cirenaika en lt.-genl. W.H.E. Gott se oorname van XIII Korps, is die Suid-Afrikaanse sektor beset deur die 1ste S.A. Brigade in die noorde, die Vrye Franse en die Poolse Onafhanklike Karpatiese Brigade - almal onder Brink se bevel. Dit was beslis die mees kosmopolitaanse mag en tot toe die moeilikste bevel wat aan enige Suid-Afrikaner opgedra is. Die 5de S.A. Brigade was steeds besig by Mersa Matruh om te herorganiseer, toe die 2de S.A. Brigade opruk en die kusstrook tussen Gazala en Acroma beset. Terselfderty is die Vrye Franse aan Brink se bevel onttrek om 'n geherorganiseerde Gazala-linie tot stand te bring.

Op 27 Februarie 1942 skryf die bevelvoerder van die 8ste Leër ná 'n besoek aan die Gazala-posisies soos volg aan genl. Auchinleck: "I found Brink in very good order and quite differend in every way from what I have seen him before. They all seem supremely confident of being able to hold their position and have organised so in depth that it would certainly be a tough proposition for any number of tanks to attack." 

Buitengewone eise is in dié tyd gestel aan Brink, wat die ontberings in die woestyn goed getrotseer het vir 'n man van oor die 52 wat reeds twee oorloë meegemaak het. Op 5 Maart 1942 beseer Brink weer sy rug en word hy opgevolg deur brig. D.H. Pienaar, wat tot generaal-majoor bevorder word. Pienaar neem die bevel van die 1ste S.A. Divisie oor.

George Brink was terug in Suid-Afrika en het net van sy besering herstel, toe die Geallieerde situasie in Junie 1942 'n krisispunt bereik. Selfs die bastion wat Brink so goed beplan het, moes ontruim word. Tobruk val met die verlies van 35 000 man, van wie 10 722 Suid-Afrikaners, en genl. Auchinleck neem self bevel van die 8ste Leër oor om Rommel se opmars by El Alamein te stuit. In Suid-Afrika was daar groot besorgdheid oor ' n moontlike bedreiging van die Japanners. In die lig hiervan neem Brink op 1 Julie 1942 die bevel oor van die sg. "Inland Area" met sy hoofkwartier in Johannesburg. Die 3de Pantserdivisie, een deeltydse divisie en 'n reserwedivisie word onder sy bevel geplaas met 'n samestelling wat deurentyd verander. Gelukkig het die Japanse bedreiging nie gematerialiseer nie, maar die organisatoriese en opleidingsprobleme was legio. As sodanig het Brink se besondere vernuf, wat veral gerig was op die langsame oplossing van ingewikkelde probleme , eerder as die snelle kap-en-steek-bewegings van mobiele gevegte, goed tot sy reg gekom.

Intussen skryf genl.-maj. Theron persoonlik aan veldmaarskalk Smuts en stem met Brink saam dat Suid-Afrika moeilik twee divisies in die veld kan onderhou. Hy stel voor dat die verskille tussen Sir Pierre van Ryneveld, hoof van die generale staf en die voormalige bevelvoerder van die 1ste S.A. Divisie - "iets wat in die leër algemene kennis is" - nou opgelos moet word.

Brink is beslis professioneel aan bande gelê deur die houding van Van Ryneveld, maar tog moes hy die verantwoordelikhede van 'n korpsbevelvoerder met wyd verspreide troepe dra. Teen die einde van die jaar was sy deeltydse eenhede so wyd versprei soos Barberton, Lyttelton, Ladysmith, Premier-myn, Piet Retief, Potchefstroom, Carolina, Ermelo en Middelburg. Desondanks bly het net 'n generaal-majoor en word sy weldeurdagte menings oor veral mannekrag grootliks veronagsaam.

Toe volg generaal Montgomery se groot oorwinning by El Alamein aan die einde van 1942 en Pienaar se tragiese dood onderweg na Suid-Afrika. Die 2de S.A. Divisie word vir herorganisering teruggetrek as een van die twee gepantserde divisies wat steeds hardnekking deur die verdedigingshoofkwarteen teen Brink se vermanings nagestreef word. Dit gaan boomskraap met die werwing van mannekrag en die sogenaamde "Inland Area" moes reeds twee gemotoriseerde bataljons van die Kaapse Korps inspan by gebrek aan blanke vrywilligers.

By 'n historiese beraad in Pretoria op 23 Maart 1943 erken die hoof van die generale staf uiteindelik dat dit onmoontlik is om twee divisies te onderhou, selfs al word dit in gepantserde eenhede omskep om die getalle te besnoei. 'n Keerpunt is bereik in die Suid-Afrikaanse oorlogorganisasie. Die enigste pantserdivisie in die veld sou voortaan die 6de S.A. Pantserdivisie wees onder die bevel van brig. W.H.E. Poole. Die 1ste Pantserbrigade sou onder Brink se bevel in Suid-Afrika bly as 'n reserwemag.

Nadat hy reeds 'n "Commander of the British Empire" vir sy dienste in Abessinië en Libië geword het, word Brink nou 'n "Knight Commander of the Order of St. John" en in 1943 word hy deur die koningin van nederland aangestel as 'n Groot-offisier in die Orde van Oranje-Nassau.

Geen verdere bedreigings vir Suid-Afrika doem op nie en teen Julie 1943 doen Brink as voorsitter van 'n spesiale komitee wat deur veldmaarskalk Smuts aangestel is, aanbevelings vir die instelling van 'n ná-oorlogse Suid-Afrikaanse Vloot en Vloot-kollege. Met die skrif vir die Duitsers aan die muur word hy in September 1944 gevra om bevel oor te neem van die demobilisasie en kort voor lank word hy die voorsitter van 'n komitee wat verreikende demobiliseringsplanne sou opstel. Teen April 1945, met die triomf van die Geallileerdes, is hy direkteur van demobilisering en in beheer van 325 komitees oor die hele land.

Demobiliseringskantore word in al die hoofsentrums gestig om die ontslag van altesame 145 668 vrywilligers te reël. Meer as 72 000 het reeds die mag verlaat en aan 155 330 word werk verskaf voordat Brink se ampstermyn verstryk. Hy word uteindelik luitenant-generaal en is vir alle praktiese doeleindes in beheer van die ontbinding van die Suid-Afrikaanse Leër aan die einde van Wêreldoorlog II.

Lt.-genl. George Brink word later voorsitter van die Keurraad vir Immigrante, maar sy dienste aan sy oorlogskamerade is lank nog nie verby nie. Van 1948 tot 1951 dien hy as die nasionale voorsitter van die "War Memorial Health Foundation". In 1961 word hy voorsitter van die S.A. "War Histories Action Committee", wie se laaste band eers in Oktober 1982 verskyn het. Hy was ook voorsitter van die raad wat nou as die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis in Johannesburg bekend staan en 'n lid van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte.

Ná sy aftrede by St. Michael's-on-Sea in Natal  ná sy 80ste verjaardag, dwing George Brink net soveel bewondering af vir sy onvermoënde welsynwerk as vir sy diepgaande militêre kennis en inspirerende leierskap. Hy het 'n vooraanstaande vaderfiguur vir sy geslag van soldate gebly, watter politieke party ook al aan bewind was. Op 30 April 1971 sterf die 81-jarige generaal in Port Shepstone-hospitaal en rou tienduisende oud-gediendes en vroue wat hom altyd as "Uncle George" sal onthou, oor sy dood. Die Staatspresident en voormalige minister van verdediging, mnr. Jim Fouché, het hom tereg bestempel as 'n "briljante soldaat en 'n groot Suid-Afrikaner".

Neil Orpen

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0