Toe die Leeu ontsnap het

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Dit was tydens die vakansie en die Brown-gesin het by 'n heerlike vakkelluur in hul voorkamer gesit.

"Wie het vanaand vir ons 'n ware verhaal om te vertel?" het Pa gevra. Niemand het geantwoord nie, want almal het verwag dat Pa self die storie sal vertel.

"Laat ons almal probeer om te dink aan die beste diereverhaal wat ons al gehoor het. Hier is een omtrent 'n leeu," het hy gesê.

"Omtrent 'n leeu," het klein Ronnie gevra, met sy oortjies gespits. "Vertel dit Pappie."

"Dit is nie 'n verhaal van Afrika of Indië nie, maar dit is 'n verhaal van 'n leeu in Birmingham."

"Seker 'n leeu in 'n hok,"  het Ellie gesê.

"Nee," het Pappie gesê "en dit is juis waar die storie begin. Die leeu was in 'n hok, op 'n tentoonstelling, maar toe die hok oopgemaak is, het hy ontsnap. Voor die oppassers hom kon keer, het hy uitgespring en die straat af gehardloop."

"Hoe vrees, sê nou dit was in ons straat!" het Mammie gesê.

"Dit was vreeslik," het mnr. Brown gesê, "hoe sal julle daarvan hou om 'n leeu teë te kom wat briesend in die hoofstraat rondhardloop?"

"Wat het toe gebeur?" het Ronnie gevra.

" 'n Hele paar dapper manne het hom agternagesit tot hy in 'n kerkhof skuiling gesoek het. Hy het iets in sy bek gehad en die dapper leeutemmer, 'n mnr. Lawrence, menende dat dit 'n kind was, het die leeu gepak om die kind te red. Die leeu het hom lelik gekrap, maar hy het daarin geslaag om die leeu te vang en hom te dwing om die bondel wat hy in sy bek gehad het, te los."

"Was dit 'n kind?" het Mammie benoud gevra.

"Nee, dit was sommer 'n klomp ou lappe."

"O!," het Mammie verlig gesê.

"Maar hy was darem baie dapper om die leeu te pak," het Ronnie gesê.

"Hy was, en ons moet almal probeer om net so dapper te wees soos hy, al hoef ons nou nie juis leeus te vang nie. Wie het nou nog 'n storie," het Pappie geantwoord.

"Ek het," het Ronnie aangebied. "Toe ons nou die dag in die dieretuin was, het ons iets baie snaaks gesien. In een van die tenks was daar 'n groot seekoei met 'n kalfie.

"Dit was die grootste kalfie wat ek nog ooit gesien het," het Ellie opgewonde gesê.

"Moet my nie in die rede val nie," het Ronnie gesê. "Net toe die seekoei en haar kalfie die lewe lekker begin geniet het, het hulle buurman, 'n kameelperd, oor die hoë ystertalies geloer. Ek weet nie wat hy gesê het nie - seker "Goeiemore Mevrou Seekoei, hoe gaan dit met jou'."

"Dit sou regtig interessant wees om te weet of diere regtig met mekaar kan gesels," het Pappie gesê. "Die Here het darem baie soorte diere gemaak!"

"Van die dieretuin gepraat," het Oom gesê, "laat my dink aan 'n storie oor 'n olifant."

"Vertel dit," sê Pappie.

Oom het voortgegaan. "Soos julle weet,kom meeste olifante van Indië of Afrika en min mense weet hoe moeilik dit is om hulle so ver te gaan haal. Hulle is so groot en lomp dat dit baie moeilik is om hulle te hanteer."

"Hoe swaar is 'n olifant, Oom?" wou Ronnie weet.

"Hulle weeg van vier tot ses ton en selfs meer. Die een waarvan ek nou vertel, het vier en 'n half ton geweeg. Haar naam was Minnie en sy het altyd 'n groot lawaai gemaak wanneer hulle haar van 'n skip afgelaai het. Daar is sterk toue om haar gebind en dan is sy met 'n hyskraan deur die lug geswaai. Minnie het glad nie daarvan gehou nie. Sy het hard getrompeteer, geskop en geworstel sodat sy naderhand net aan een tou gehang het. Almal het verwag dat die tou sou breek en dat sy sou dood val. Maar net toe die hyskraan haar vinnig grond toe laat sak het sy met haar kop teen die ystertralies geval."

"Was sy erg beseer?" wou Ellie weet.

"Nie te veel nie, want 'n olifant het 'n baie dik vel. Dit was ook maar goed so, want olifante vergeet nie gou nie - hulle sal vriendelike dade, of wrede behandeling onthou wanneer almal dit al vergeet het. Natuurlik wou niemand vir Minnie eintlik seermaak nie, maar hoe kon sy dit geweet het. Dit betaal altyd om goed te wees vir diere, veral olifante."

"Ek het ook 'n dierestorie," het Mammie gesê.

"Goed," het almal gesê. "Vertel dit asseblief," het Ronnie gesê.

"Dit is omtrent 'n kat en 'n hond. Gewoonlik is katte en honde gebore vyande. Nog verlede week het ek gesien hoedat 'n klein katjie sy rug krom vir 'n hond en die hond wou maar net speel. Die hond se tong is stukkend gekrap.

"Maar hierdie storie is omtrent 'n ware vriendskap tussen 'n hond en 'n kat. Die twee het saam grootgeword en hulle was altyd bymekaar. Wat die een gekry het, het die ander gekry - net soos kinders. As die een iets lekkers kry, dan moes die ander dit ook hê. Hulle nooi het gewoonlik een-twee-drie getel en dan moes hulle opspring daarvoor. Eendag het sy stoeltjies by 'n tafel in die tuin vir hulle geplaas en daar is kos vir hulle in borde, op 'n wit tafeldoek, gesit. Daar was natuurlik nie vir hulle messe en vurke nie en sover ek weet,  het nie een van hulle gedank voor die ete nie. Die kat was 'n bietjie ongepoets, want sy het albei haar pote op die tafel gesit, maar miskien het sy gedink dat hulle hande skoon was. Die hond het hom baie goed gedra, hy het stilgesit en sy kos baie fatsoenlik opgeëet."

"Kan ons nie ook so maak nie?" het Ronnie gevra.

"Sal Mamma vir ons 'n tafeldoek leen?" het Ellie gevra.

"Wag, laat Mammie haar storie klaar vertel," het Pappie gesê.

"Wel, al wat ek nog verder wil sê, is dat hierdie wêreld 'n baie gelukkige plek sou wees as al die seuns en dogters sou leer om vir mekaar net so vriendelik te wees as daardie kat en hond!