Tienuur

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

 Doreen het die komberse teruggestoot en haar oë gevryf. Dit was nog heeltemal donker, maar sy was darem wakker genoeg om te besef dat die groot dag waarna sy so lank uitgesien het, eindelik aangebreek het.
Sy het in die kamer rondgekyk. Daar was geen fiets en geen pophuis nie. "Miskien is die goed onder," het sy vir haarself gesê.

Sy het haar  hand uitgesteek en gevoel op die stoel langs haar bed. O, wat is dit? Op die stoel was 'n vierkantige pakkie met 'n toe vasgevind. Sy het die pakkie by haar in die bed geneem en was baie opgewonde. Maar Doreen het nie die pakkie oopgemaak nie. Sy het besluit dat sy dit maar sou vashou totdat dit lig is. In die tussentyd het sy probeer raai wat daarin kon wees.

Sy was seker dat dit die juwelekissie was wat sy so graag wou hê - dit was omtrent die regte grootte. In haar verbeelding het sy reeds die skitterende diamante, smaragde en ander mooi juwele daarin gesien. Sy het die pakkie geskud enverwag dat sy die steentjies binne sou hoor ratel. Maar sy het niks binne hoor skommel nie. "Natuurlik," het sy toe in haar enigheid gesê, "hoe dom is ek tog! Hulle sal mos sulke pragtige stene in sagte papier toedraai, of hulle sal op fluweelkussinkies gemonteer wees.

Eindelik was dit lig. Doreen het haastig opgestaan en aangetrek en haar oë het maar altyd op die pakkie gebly. Sy het besluit om te wag met die oopmaak daarvan totdat sy eers onder in die eetkamer was.

Sodra sy haar klere aangehad het, is sy die trap af eetkamer toe. Daar het sy geen fiets of pophuis gesien nie. Mammie het seker a die geld bestee aan die juwelekissie, het Doreen gedink.

Knip, knip! en die tou was af en baie gou ook die bruinpapier. Maar die kissie was in nog 'n stuk papier gewikkel en daarop het iets geskryf gestaan. Opgewonde het die sy die volgende woorde daarop gelees: "DOREEN SE JUWELEKISSIE".

"Hoera!" het sy geskree terwyl sy vinnig die papier afskeur. 'n Baie mooi groen kartondoos het tevoorskyn gekom. "Hoe pragtig!" het sy uitgeroep en versigtig die deksel gelig...en binnekant geloer. En toe het daar iets gebeur.

"Ag!" het Doreen uitgeroep en met haar voet op die vloer gestamp en die dosie gegooi dat dit daar waai. "Dit is nie 'n juwelekissie nie! Dit is nie 'n juwelekissie nie!"  Met die gegooi het sy 'n blompot van die tafeltjie  laat aftuimel.

"Wat makeer nou?" het Mammie gevra toe sy die lawaai hoor.

"Dis nie 'n juwelekissie nie, dis nie 'n juwelekissie nie!" het Doreen snikkend gesê, "en Mammie het gesê dat dit 'n juwelekissie was. Dit is nie, dis sommer 'n lelike ou kartondoos en 'n lelike ou boek. Ek hou nie van boeke nie en ek wil ook nie 'n boek hê nie. Mamme het gesê dat dit 'n juwelekissie is en dit is nie....
, en...en..."

"Kom nou, kom nou, Doreen. Jy moenie so aangaan nie. Jy het seker met die verkeerde voet uit die bed geklim en dit nogal op jou verjaarsdag!"

"Maar Mammie het gesê dat ek 'n juwelekissie gaan kry...."

"En ons het jou een gegee," antwoord Mammie.

"Mammie het nie, dis sommer 'n slegte, lelike ou boek! het sy tekere gegaan.

"Nee wag, Doreen. Het jy al gekyk wat daarin is?"

"Nee."

"Dan het jy te gou gehuil. Jy sal vind dat dit 'n pragtige juwelekissie is, vol van die mooiste edelgesteentes."

Doreen het haar oë afgevee.

"Pappie en ek het baie vir hierdie juwelekissie betaal. Dit is baie mooi en baie sterk gemaak. Eendag, wanneer jy 'n ou dame is, as die einde nie voor die daardie tyd kom nie, sal jy nog aan mense vertel van die pragtige juwelekissie wat jy as verjaarsdaggeskenk ontvang het."

"Maar waar is die juwele?" het Doreen gevra.

"Jy sal na hulle moet soek, ek sal jou help om sommige van hulle later te vind."

Doreen se belangstellilng is gewek en sy het die groen doos gaan optel...en wat sal sy vind?  (Word vervolg)