Dick was alweer omgekrap. Om die waarheid te sê, raak hy kort-kort omgekrap oor iets. As hy nie gedurig sy sin kry nie, gedra hy hom baie onmanierlik. Wanneer hy tereggewys word oor iets, antwoord hy gewoonlik bitsig terug, of hy stap suurgesig weg.
Wanneer hy in sulke slegte buie is, loop hy gewoonlik dreigemente en mompel dat hy sal wegloop. Hy was maar net tien jaar oud, maar hy het 'n baie hoë dunk van homself gehad en was heeltemal seker dat hy sy eie potjie kon krap. Dat hy sy ouers dank verskuldig was vir alles wat hulle al vir hom gedoen het, daaraan het hy nooit gedink nie. Hy wou maar altyd loskom van al die beperkings en weggaan na 'n plek waar hy kan maak soos hy wil.
Hy was nou juis besig met sulke gedagtes. Pappie het hom gevra om die grasperk te sny juis toe hy op die punt gestaan het om te gaan voetbal speel. Hy het dit gehaat om daardie grasperk te sny! Waarom moet juis hy dit sny? Hy het die hele grasperk verwens. Hy het gewens dat hy nooit weer een sien nie. Maar hy moes dit sny en terwyl dit doen, het hy gekook van binne.
Daardie middag het daar nog ander dinge gebeur wat hom verder omgekrap het. Hy was baie parmantig en die uiteinde was dat hy 'n pak slae gekry het en bed toe gestuur is. Hy het gaan slaap sonder om te bid en pleks van slaap, het hy planne gelê en uitdink om weg te loop. Hy sou stilletjies opstaan wanneer almal slaap, dan sou hy die huis stilletjies verlaat en baie, baie ver weggaan. Hy was nie heeltemal seker waarheen hy sou gaan en wat hy sou maak as hy daar kom nie. Sy een brandende begeerte was net om weg te kom van die ou grasperk, waar hy nie dinge sou moet opgee vir sy broers en susters nie en waar hy nie bevele sal hoef uit te voer nie.
Eindelik, toe alles stil was en hy seker was dat almal aan die slaap was, het hy sy plan begin uitvoer. Hy het stil opgestaan, sy klere aangetrek, sy beursie geneem - hy was baie groots op daardie beursie, want daar was 'n volle vyf sjielings in - en stilletjies die kamer verlaat.
Toe hy sy klein boetie se bedjie verbygaan, het dit hom skielik binnegeskiet dat hy nooit weer sy boetie sou sien nie en daarom het hy hom 'n sagte soentjie gegee en toe het daar 'n snaakse knop in sy keel gekom. Hy het sy boetie weer gesoen en toe die kamer verlaat. Toe hy verby sy Mammie en Pappie se kamer gaan, het hy gevoel dat hy sy Ma ook graag wil groet. Vir Pa het hy nie omgegee nie, want dit was hy wat hom altyd die grasperk laat sny het. Maar hy kon darem sy Ma sommer so verlaat om haar nooit weer te sien nie.
Hy het toe begin wonder of hy regtig moet wegloop, maar die rebelse gees het weer die oorhand gekry en hy is die trap. Onder het hy sy jas en handskoene aangetrek. Toe het hy die voordeur oopgemaak en was buite in die koue naglug.
Toe het hy vasgesteek. Dinge was darem nie soos hy verwag het nie. Vereers was dit te donker en dan ook was dit te koud. Hy het begin dink aan sy lekker warm bed - miskien moet hy liewer maar weer tergugaan. Nee! Hy sal nie teruggaan nie. Toe hy die voordeur toemaak, het die knip toegeklap en hy het besef dat hy nie nou meer sal kan teruggaan nie, al wou hy ook. Dit was vir hom glad nie 'n lekker gedagte nie. Hy het gewens dat hy homself maar liewer nie uitgesluit het nie.Maar dit was nou te laat, hy sal moet gaan. Hy is toe deur die hekkie en die straat in. Hy het niemand gesien nie, alles was doodstil. Behalwe vir die straatligte, was die nag baie donker. Dit het vir Dick afgeskrik en hy was glad nie op sy gemak nie. As die deur nie gesluit was nie, het Dick in sy enigheid gedink, sou hy maar weer teruggegaan het bed toe.
Hy het 'n end met die straat af gestap en namate die koel naglug hom tot besinning gebring het, het hy meer en meer die dwaasheid van sy stap besef. "As die seuns by die skool hiervan moet hoor, sal hulle nooit ophou om my te terg nie," het hy gedink. Net die gedagte daaraan dat sy skoolmaats daarvan te hore mag kom, het Dick laat omdraai huis toe.
Maar hy het nie te ver gestap nie toe hy byna uit sy vel spring soos hy skrik. Iemand het 'n hand op sy skouer gelê en 'n vreemde streng stem het met hom gepraat.
"Wat soek jy op straat so laat in die nag?" het die konstabel gevra.
Dick het hom lam geskrik, dit het hy nie verwag nie! Hy kon geen woord uitkry nie en het probeer om los te ruk.
"Jy sal saam met my moet kom, dit lyk vir my jy het kwaad gedoen," het die polisieman gesê.
"Ek het nie, ek het nie," het Dick hygend gesê, "ek het 'n fout begaan, asseblief meneer."
"Ek sou dink jy het 'n fout begaan om hier eenuur in die oggend rond te stap. Jy kan maar by die polisiestasie alles verduidelik." "U gaan my tog nie na die polisiestasie neem nie?" het Dick dood van die angs uitgeroep, "laat staan my, ek wil huis toe gaan!"
"O jy sal huis toe gaan, maar nie voor ons eers 'n bietjie gesels het nie."
En so het die arme Dick homself dan vir die eerste maal in sy lewe in 'n aanklagkantoor bevind! Daar het hulle hom in tien minute meer vrae gevra as wat sy onderwyser hom nog ooit by die skool gevra het. Toe dit verby was, het hulle hom 'n harde matras gegee om op te lê met net 'n ligte kombers oor hom tot dit lig was. Maar hy het glad nie geslaap nie. Hy was te bang en het gelê en wonder wat die konstabel met hom gaan maak en wat Pappie sou sê!
Hoe het hy nie nou gewens dat hy nooit hierdie dwaasheid aangevang het nie! Hoe lekker kon hy nie nou in sy eie bedjie gelê het nie. Hy het gedink aan sy klein boetie wat in dieselfde kamer slaap as hy en aan Mammie wat altyd so gou gekom het wanneer hy geroep het. Dit was 'n vreeslike nag!
Eindelik het dit lig geword en toe het die konstabel hom gesê om op te staan en aan te trek. Saam het hulle huis toe gestap. Hoe verleë het Dick nie gevoel nie! Wat sou sy mense by die huis sê, het hy gewonder.
Pappie, nog in sy nagklere en ongeskeer, het die deur kom oopmaak. "Wat de drommel gaan nou aan!" het hy begin.
Die konstabel het kortliks verduidelik en Dick het in sy Pa se arms gespring. Daar is nie veel gepraat nie, maar hulle twee is die trap op na Mammie om haar alles te vertel.
Vir ontbyt daardie oggend het almal - behalwe pap - ook nog 'n eier gekry. Mammie het boonop nog 'n groot pot lemoenkonfyt op tafel gesit, want sy het gesê dat haar verlore seuntjie weer teruggekom het en daarom is die vetgemaakte kalf geslag.
Dit het belowe om nooit weer weg te loop nie en dat hy ook nooit weer sal dreig om dit te doen nie - daarvoor het hy 'n te duur en goeie les geleer.
Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell