My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Toe almal gehelp het

"Ek wens", het Vader aan die ontbyttafel gesê, "dat ek al daardie hout gesaag kan kry. Daardie boom lê nou al vir weke daar in die agterplaas, en dit lyk glad nie mooi nie."

"O, ek wil tog nie vandag hout saag nie," het Bert gesê. "Ek het die Jones-seuns beloof om te gaan tennis speel."

"En ek kan ook nie vandag saag nie," het Bill gesê, "want my arm is seer en -"

"Maar dis mos jou linkerarm wat seer is," het Vader hom reggehelp.

"Ja, dit is, het Bill gesê, "maar my regterarm is ook seer."

"Ek haat hout-saag", het Harry gesê. "Daar is geen werk waarvan ek minder hou nie."

Toe het die jongste seun, Jerry, gesê: "As niemand wil help om hout te saag nie, dan gaan ek nie alleen saag nie."

"Dis baie jammer dat julle almal so dink," het Vader gesê; "Ek het gehoop dat julle die hout vir my vandag sou saag, veral waar julle vakansie op 'n end is. Maar, gaan speel maar. Moeder en ek was van plan om julle vanmiddag strand toe te neem na die hout klaar gesaag is, maar ons sal dit moet uitstel."

"Ek wonder of Vader regtig ernstig bedoel het wat hy gesê het," het Bert vir Bill later in die tuin gefluister.

"Hy het seker," het Bill gesê. "Hoekom?"

"Wel, dit sal lekker wees by die strand," het Bert gesê. "Ek kan maar op 'n ander dag gaan tennis speel. " "Hoe voel jou arm?
"Dit is heeltemal beter," het Bill gesê.

Toe het Harry gesê: "Ek is nou nie meer so moeg nie. Wat sê julle, sal ons nie maar gou die hout saag nie - al saag ons nie alles nie?"

"Dis miskien 'n goeie plan," het Bert gesê.

"Kom laat ons gaan kyk hoeveel daar te doen is," het Bill gesê; "miskien is dit nie so 'n groot werk as wat ek gedink het nie."

"Ek sal ook help," het Jerry gesê.

Hulle het toe gaan kyk na die boom wat omgewaai het. "Weet julle kêrels, as ons aan die werk spring, kan ons die hele boom binne twee uur op saag."

"Kom laat ons probeer," het Bill gesê.

Toe het hulle almal na die werkswinkel gegaan. Na 'n rukkie het elkeen met 'n saag teruggekom, en dit was nie lank nie of hulle het gesaag dat dit gons. Vader het by die badkamervenster uitgekyk, en wat hy gesien het, het hom aangenaam verras.

"Moeder," het hy gesê, "ons moet maar die kos inpak; as die seuns so aanhou, sal hulle binne 'n uur klaar wees.

En hulle was ook.

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 
 
 
 
Mail
Call