Jare gelede het ek die stad Londonderry in die noorde van Ierland besoek. dit is 'n pragtige ou stad, met sy mure en poorte, sy pragtige katedraal, en die aandenkings van die geskiedkundige beleg.
Daar is iets bekoorliks omtrent die ou ommuurde stede - iets wat ons moderne stede nie het nie. Dink byvoorbeeld aan Chester, of York - hulle hoë ou mure voer 'n mens eeue terug na die tyd toe ridders in volle wapenrusting hulle poorte binnegery het, gevolg deur die boogskutters in hul groen klere.
Elkeen van hierdie ou stede het hulle eie bekoring, veral die ou stad Derry. Die sterk vestings met hulle ou kanonne laat 'n mens dink aan die groot ideale waarvoor die mense van lankgelede geveg en gesterf het.
Daar is iets in die ou katedraal van daardie stad waarin die kinders veral sal belangstel. Ek het dit dadelik besef. In een van sy vensters van gekleurde glas word daar 'n toneel voorgestel - kyk daarna as julle die plek ooit besoek. Dit is 'n voorstelling van dertien jong seuns wat die stad, en miskien ook die Protestantse saak gered het sowat twee eeue gelede.
In daardie tyd het 'n vyandige lëer die stad genader en die owerheid kon nie besluit of hulle maar die stad sou oorgee, of verdedig nie. Daar was voorstelle en teenvoorstelle; in die tussentyd het die vyand al nader gekom, en daar was nie meer veel tyd om tot 'n besluit te graak nie. Op daardie kritieke oomblik, toe die stadsvaders nog beraadslaag het, het die jongmense gesvoel dat hulle iets moes doen. Hulle het gevoel dat dit 'n ramp sou wees om die stad sommer oor te gee, en toe het hulle na die poorte gehardloop en hulle in die gesig van die vyand gesluit. Dit het die deurslag gegee, en die stadspoorte is na die beleg eers oopgemaak.
Daardie venstertoneel het my skielik laat dink aan hoe Nehemia die poorte van Jerusalem gesluit het. Het julle geweet dat hy dit gedoen het? Wel, hier is die verhaal:
"En in die dae het ek in Juda gesien mense wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring inbring en op esels laai, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed en dit op die sabbat in Jerusalem inbring: ...En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot na die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbat mag inkom nie. Neh. 13: 15-19.
In die tyd van Nehemia was dit nie 'n vyandelik leër van gewetenlose handelaars wat geen gesag vir God of sy heilige Sabbat gehad het nie. In 'n sin was dit net so 'n gevaarlike vyand, en Nehemia het baie verstandig gehandel om die poorte teen hulle te sluit.
Om die waarheid te sê, verg dit moed om poorte te sluit; en dit is vandag miskien meer as nog ooit tevore nodig om die poorte van die Sabbat te sluit. Daar is so baie vyande wat wil inkom om ons aandag af te trek en die vrede en stilte te verbreek wat God wil hê dat ons op Sy heilige dag moet geniet. Dit sou baie goed wees as julle almal, die volgende keer as julle in die versoeking kom om die Sabbat te ontheilig, sal onthou wat Nehemia gdoen het, en die poorte ook sluit!
Dan is daar hekke wat julle nie net op die Sabbat moet sluit nie, maar op elke dag van die week.
"Maar," sê julle, "ek het geen hekke nie." O, ja, julle het; ek bedoel die hekke tot julle verstand: die oor-hek, die oog-hek en die mond-hek.
Hoe moeilik gaan dit soms om die oor-hek te sluit, en tog moet ons dit kan doen. Wanneer 'n vyand julle vesting nader om binne te kom deur 'n onaangename sotrie, onbetaamlike taal, of 'n bose gedagte, moet julle dink aan Nehemia, en daardie seuns van Derry, en julle moet die hekke toemaak!
As 'n vyand aankom om deur die oog-hek toegang te verkry deur onbetaamlike prente - bioskoop prente en ander - moet julle dadelik handel en daardie hek toemaak!
En wanneer 'n vyand deur die mond-hek wil inkom deur middel van verkeerde gebruik van die tong - deur bitsige woorde - maak dan dadelik daardie hek toe!
Deur sulke besliste optrede sal julle die vesting van julle siel veilig bewaar, en so sal julle die oorwinning behaal.
Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell